Swamme Woordelys
deur François Durand
Aalwurms – sien nematode.
Aartappelroes (potato blight) of Phytophthora infestans is ‘n patogeniese Waterskimmel wat landplante aanval. Dit was vir die Ierse Hongersnood van 1845-1849 verantwoordelik.
Afknopping wat na knopvorming (budding) plaasvind, is ‘n algemene manier van ongeslagtelike voortplanting wat veral in gisse voorkom.
Aflatoksien (aflatoxin) is ‘n giftige karsinogeniese en mutageniese verbinding wat sommige swamme, wat in die grond, verottende plantmateriaal, hooi, neute en graan voorkom, vervaardig. Aflatoksien is een van die sterkste karsinogeniese stowwe bekend. Kroniese (langdurige) blootstelling aan lae dosisse van aflatoksien kan kinders se groei beperk en lewerskade en lewerkanker veroorsaak. Akute blootstelling, dit wil sê blootstelling aan groot hoeveelhede, veroorsaak akute lewernekrose en neurlogiese skade en kan dodelik wees.
Agaricomycotina is een van die bekendste groepe swamme wat onder die Basidiomycota val en sluit die paddastoele, sampioene, rakswamme, pofballe en trilswamme in. Hulle is hoofsaaklik landlewend alhoewel ‘n paar spesies waterlewend is. Hulle is hoofsaaklik saprofities, maar daar is sommige wat patogene is terwyl sommige simbiotiese verhoudings deur middel van mikorrisa met plante vorm en ‘n paar spesies as ligene voorkom.
Alge (algae) verwys losweg na ‘n polifiletiese groep primitiewe see- en varswaterplante wat fotosintetiseer. Alge word in die Bruinalge, Rooialge en Groenalge verdeel. Hierdie groepe is slegs verlangs aan mekaar verwant en behoort trouens aan verskillende Koninkryke: Groenalge behoort aan die Koninkryk Plantae (plante), Rooialge behoort aan die Koninkryk Protista en Bruinalge behoort aan die Koninkryk Chromista.
Alkaloïede (alcaloids) is ‘n klas natuurlike organiese stikstofverbindings wat hoofsaaklik ook koolstof en waterstof bevat. Dit kan ook suurstof en swael bevat en in ‘n paar gevalle ook chloor, broom en fosfor. Alkaloïede, wat deur ‘n wye verskeidenheid organismes, insluitende bakterieë, swamme, plante en diere, vervaardig word, word gekenmerk aan hulle bitter smaak. Alkaloïede het ‘n sterk invloed op die metabolisme van diere wat daaraan blootgestel word en word dikwels as gifstowwe deur plante en swamme aangewend om hul vyande af te weer. Sommige alkaloïede kan sterk farmakologiese uitwerkings op mense hê en word in medisynes gebruik om malaria, kanker en asma te bestry. Kaffeïen, nikotien, kokaïen en opium is bekende alkaloïede.
Analoë eienskappe (analogous characteristics) is eienskappe van organismes wat oppervlakkig na mekaar lyk soos die vlerke van ‘n vlinder en dié van ‘n voël. Hierdie kenmerke dui egter op aanpassings om dieselfde funksie te verrig en nie op ‘n nabye verwantskap tussen voëls en vlinders nie en dus dat dit ‘n gemeenskaplike verworwe eienskap is nie. Vir dieselfde rede is ‘n dolfyn nie ‘n vis nie, ongeag hulle oppervlakkige ooreenkomste.
Anastome (anastomosis) in swamkunde verwys na die saamsmelting van hifes.
Antheridium (antheridium) is die manlike voortplantingsorgaan van Sakswamme. Dit versmelt met die naasliggende askogonium van ‘n ander stam. Die kerne van die antheridium beweeg deur die trigogeen na die askogonium.
Antibiotikum (antibiotic) is ‘n organiese verbinding wat bakterieë doodmaak of inhibeer. Natuurlike antibiotikums soos penisillien is chemiese stowwe wat swamme vervaardig in hul stryd teen bakterieë waarmee hulle vir kos en lewensruimte moet meeding. Deesdae is daar egter ook sintetiese antibiotikums wat in laboratoriums vervaardig word.
Apikale sel (apical cell) is die sel op die punt van ‘n hife. Die hife groei deur middel van seldeling van die apikale sel.
Apothekium (apothecium) is die bakkievormige askokarp wat in baie Sakswamme voorkom. Dit kan miljoene askusse of sporedosies bevat wat elk agt askospore het.
Archaea (archaea) lyk op die oog af soos bakterieë, maar het hul eie unieke genetika en biochemiese prosesse. Hulle kom in ‘n wye verskeidenheid anaerobiese habitatte voor, vanaf die menslike kolon tot habitatte wat gevaarlik vir ander organismes is en dit is hoekom sommige navorsers hulle ekstremofiele noem.
Aseptate of ongesepteerde hifes (aseptate hyphae) is hifes waarin daar geen of min septums voorkom.
Ascomycota – sien Sakswamme.
Askokarp (ascocarp) is die Sakswam se vrugliggaam waarbinne askusse voorkom. Dit kan in ‘n verskeidenheid vorms voorkom – sommige is bekervorming, knuppelvorming, aartappelagtig, sponsagtig, saadagtig, koraalagtig en balvormig. Die askokarpe kan enkel of in groepe voorkom. Hulle voorkoms kan vlesig, leeragtig, steenkoolagtig, rubberagtig, jellieagtig, poeieragtig of spinnerakagtig wees terwyl hulle kleure van rooi, oranje, geel, swart, bruin, en alhoewel seldsaam, tot groen of blou kan wissel.
Askogonium (ascogonium) van Sakswamme word tradisioneel as ‘n vroulike orgaan beskryf omdat dit die kerne van die naasliggende antheridium (en dus by implikasie die manlike orgaan) van die ander stam ontvang. Die askogonium en antheridium is die voortplantingsorgane van Sakswamme.
Askokarp – sien askoma.
Askoma (ascoma) of askokarp is ‘n tipe vrugliggaam of sporokarp wat in die Sakswamme voorkom. Dit bestaan uit dig aanmekaar-geweefde hifes waarin daar miljoene askusse voorkom waarin daar in elk gewoonlik agt askospore gevorm word. Askomas kom meestal in die vorm van bakkievormige apothekiums voor, maar kan ook in die vorm van flesvormige perithekiums of geslote sferiese kleistothekiums voorkom.
Askospore (ascospores) is die haploïede spore wat in die askus van ‘n Sakswam gevorm word.
Askus (ascus) is ‘n buisvormige sporedosie (sporangium) wat in Sakswamme of Ascomycota voorkom. Daar word gewoonlik agt askospore deur meiose in die askus gevorm. Askusse kan in sekere swamspesies as enkele strukture gevorm word en bo die substraat uitsteek terwyl die miselium binne die substraat is. Askusse word egter meestal in veelsellige makroskopiese askokarpe of askomas gedra.
Askushake (crozier) is die kenmerkende U-vormige voortplantingstrukture wat op die boonste punte van die vrugbare hifes van die Sakswamme gevorm word. Hierdie hake vorm sodat die punt van die hife terugbuig op homself. Kariogamie vind in die topsel van die askushaak voor om ‘n diploïede kern te vorm. Meiose vind dan plaas en daarna mitose om agt haploïede askospore te vorm terwyl die topsel verleng om ‘n askus te vorm.
Averkulus (averculus) is ‘n plat koppievormige struktuur waarbinne die konidiofore van sekere parasitiese Sakswamme gerangskik is wat onder die gasheerplant se kutikulum vorm.
Baardmos (beard moss) is ‘n tipe frutikose ligeen wat op die takke van bome as ‘n epifiet groei en water van mis en reën ontvang. Usnea is die genusnaam wat vir die baardmosse wêreldwyd gebruik word.
Bakterieë (bacteria) is mikroskopiese enkelsellige organismes wat in verskeie habitatte oorleef vanaf grond, oseaan tot in diere se derms. Bakterieë en Archaea, is van die kleinste en mees primitiewe organismes op aarde – hulle vorm saam die prokariote.
Basidiokarpe (basidiocarp) of basidiome is ‘n tipe sporokarp wat in die Steeltjieswamme (Basidiomycota) voorkom. Die grootte wissel van piepklein dakkies wat maar ‘n paar millimeter in deursneë is tot reusagtig groot soos in Phellinus ellipsoideus wat ‘n paar meter in deursneë kan wees en tot 500 kg kan weeg.
Basidiomycota – sien Steeltjieswamme.
Basidiospore (basidiospores) is die spore wat deur meiose in die basidium van die Steeltjieswamme gevorm word.
Basidiums (basidia) kom as apikale selle op die eindpunt van dubbelkernige lughifes van die Basidiomycota voor. Die basidium vorm gewoonlik vier eksterne spore op steeltjies of sterigma. Die spore wat deur meiose gevorm word word meiospore genoem maar dit staan ook as basidiospore bekend omdat dit deur ‘n basidium gevorm word.
Binomiale nomenklatuur of benaming (binomial nomenclature) is die stelsel waarvolgens elke spesie ‘n genus (tipe) en unieke soort of spesienaam het. Die mens is Homo sapiens en nie sapiens nie. Dit is soos ‘n van en naam. So kry mens Anilios broomi, Ramphotyphlops broomi, Parapapio broomi, Makapania broomi en Aloe broomii om maar net ‘n paar voorbeelde te noem van organismes wat na die bekende Suid-Afrikaanse paleontloog Robert Broom vernoem is. Hierdie voorbeelde sluit reptiele, fossiele en selfs ‘n plant in. As jy dus net broomi sê sal niemand weet wat jy bedoel nie, maar Parapapio broomi is ‘n spesifieke uitgestorwe bobbejaanspesie.
Brandskimmels (smuts) hoort aan die Orde Ustilaginomycotina van die Steeltjieswamme.
Chemotropies (chemotropical) is die respons van ‘n organisme op chemiese prikkels in sy omgewing en wat gewoonlik die organisme noop om in daardie rigting te groei. Dit kom veral in bakterieë, swamme en plante voor.
Chitien (chitin) (C8H13O5N)n is ‘n langketting-polimeer van N-asetielglukoamien wat ‘n derivaat van glukose is. Dit is ‘n besondere sterk, weerstandbiedende stof wat in die strukture en ligaamsdele van talle organismes voorkom – vanaf die radula van molluske, seekat- en inkvis-snawels, visskubbe, eksoskelette van geleedpotiges en die selwande van fungi. Die woord word “sjitien” uitgespreek en nie “kaaitin” soos in Engels nie. Dit kom van die Franse woord chitine af wat dit van die Griekse woord χιτών (chiton) wat bedekking beteken, afgelei het.
Chlamydospore (chlamydospores) is die rustende spore wat deur Konjugasieswamme, Sakswamme en Steetjieswamme gedurende ongunstige tye soos droogte of warm toestande vervaardig word. Chlamydospore (wat soos die hife haploïed is) vorm binne of op die punt van die hife en word vrygestel wanneer die hife vergaan. Die chlamydospoor het ‘n dik gepigmenteerde selwand en is weerstandbiedend teen slegte toestande soos ‘n wisseling van temperatuur, uitdroging en fisiese aanraking.
Chloroplaste (chloroplasts) is die organel wat vir fotosintese verantwoordelik is en wat in groen plante se selle voorkom. Dit het ontstaan vanuit sianobakterieë waarop eensellige plante se voorsate gevoed het. Hierdie sianobakterieë het mettertyd weerstand teen die verteringsensieme van die gasheer-sel gebied en het as endosimbionte in die sel begin leef en so oorsprong aan chloroplaste gegee.
Chromista of die Bruinalge was oorspronklik as deel van die plante (Koninkryk Plantae) geklassifiseer maar nou word dit as ‘n aparte Koninkryk beskou. Die Chromista word in die Heterokonta, Haptophyta en Cryptomonada ingedeel. Die Chromista word gekenmerk aan die feit dat hulle plastiede bevat wat deur vier membrane omhul is. Hierdie plastiede is soortgelyk aan dié wat in Rooialge voorkom. Alles dui daarop dat die Chromista se plastiede verkry is deur die insluiting van enkelsellige Rooialge binne die sel net soos wat sianobakterieë deur die plantvoorouers binne hul selle opgeneem is. Chromista bestaan uit eensellige tot reuse meersellige organismes wat plastiede met chlorofil c besit en gewoonlik twee flagella besit wat verskillend lyk.
Chytridiomycota – sien Potjieswamme.
Chytridiomycosis is ‘n verskriklike siekte wat paddabevolkings wêreldwyd vernietig. Dit word deur die Potjieswam Batrachochytrium dendrobatidis veroorsaak.
Dacrymycetes – sien Trilswamme.
Detrivorie (detritivory) verwys na die voeding op afval wat dooie dier- en plantmateriaal en mis insluit. Talle diere is detritivore. Bakterieë, protiste en fungi, wat afbrekers van afval is, word nie as detritivore beskou nie omdat hulle nie hele stukke afval inneem deur om dit te vreet soos wat detritivore dit doen nie maar eerder afval uitwendig afbreek en die afbraakprodukte op molekulêre vlak opneem.
Deuteromycota of Fungi Imperfecti is ‘n polifiletiese groep swamme waarvan die geslagtelike voortplanting onbekend is wat die klassifikasie van hierdie swamme bemoeilik. Genetiese studies het dit moontlik gemaak om verskeie swamspesies wat oorspronklik as Deuteromycota geklassifiseer is na die Sakswamme en Steeltjieswamme te verskuif.
Devoon Periode (Devonian Period) is ‘n geologiese tydvak wat van 419.2 tot 358.9 miljoen jaar gelede geduur het. Die tydperk word gekenmerk aan die vestiging van lewe op land. Plante ontwikkel vanaf die eerste eenvoudige landplante tot die eerste saaddraende vaatplante in hierdie tydperk. Landlewende arthropode, insluitende insekte en die eerste longvisse verskyn ook in hierdie tydperk.
Diaspore (diaspores) in swamkunde en plantkunde verwys na die verspreidingseenheid wat uit ‘n spoor of ‘n saad bestaan wat bykomstige weefsel rodom it het wat help om dit te versprei – die vrug rondom ‘n pit of die vlerkies van ‘n raasblaarsaad is goeie voorbeelde hiervan.
Dier (animal) verwys na ‘n meersellige heterotroof. Die heel basiese verskil tussen plante diere en swamme is die manier waarop hulle voed en of daar selwande aanwesig is of nie en waaruit die selwande bestaan. Diere besit nie selwande om hul selle nie. Dit stel dierselle in staat om voedsel deur middel van fagositose of die uitstulping en omgolwing van voedseldeeltjies of kleiner organismes in te neem.
Diffusie (diffusion) is die beweging van atome of molekules van ‘n area met ‘n hoër konsentrasie na ‘n area met ‘n laer konsentrasie daarvan.
Dikarioties (dikaryotic) verwys na die dubbelkernige toestand wat in die Dikarya of Hoër Fungi (Sakswamme en Steeltjieswamme) voorkom. Dit is nie ‘n diploïede toestand nie want kariogamie of kernversmelting het nie plaasgevind nie. Dit word as n + n aangedui. Septums vorm tussen die kernpare in dikariotiese hifes.
Dikarya is ‘n Subkonkingkryk onder die Koninkryk Fungi. Dit staan ook as die Hoër Fungi bekend. Dit bestaan uit die Filums Basidiomycota en Ascomycota. Een van hul belangrikste kenmerke, en ook die kenmerk wat aanleiding tot die naam gegee het, is die feit dat hulle selle twee kerne kan bevat.
Diploïed (diploid) verwys na die chromosoomgetal wat gewoonlik in protiste, Bruinalge, plante en diere voorkom waar die individu diploïede selle besit. Met ander woorde elke kern bevat twee stelle chromosome – een stel chromosome wat dit van elke ouer verwerf het. Die diploïede toestand word deur middel van meiose gehalveer om die haploïede sperm en eierselle te vorm en in die geval van swamme die kerne wat normaalweg in hifes voorkom. Wanneer die haploïede sperm en eiersel versmelt word die diploïede sigoot (bevrugte eier) gevorm wat dan in ‘n diploïede individu ontwikkel. Daar is egter ‘n hele reeks poïedieë soos monoploïed, triploploïed, tetraploïed, mixoploïed ens. Haploïed en diploïed is bloot die mees algemene toestande bekend.
Dogterkerne (daughter nuclei) is die twee kerne wat gevorm word wanneer die ouersel se nukleus verdeel. Dieselfde geld vir die tweedeling van ‘n sel – die ouersel vorm twee dogterselle.
Domein (Domain) of Superryk is die heel hoogste vlak in die Linnaeaanse-klassifikasiestelsel. Dit is in 1990 deur die genetikus Carl Woese voorgestel toe hy lewende organismes in drie Domeine – die Eukarya, Bacteria en Archaea – onderverdeel het.
Dwarswand – sien septum.
Eensellig (unicellular of single-celled) verwys na organismes wat slegs uit een sel bestaan.
Ekologie (ecology) is die studie van die verhouding tussen organismes en hulle omgewing wat biotiese (lewende) en abiotiese (nie-lewende) komponente insluit.
Ekostelsel (ecosystem) is ‘n gemeenskap van lewende organismes wat tesame met die nie-lewende komponente in hulle omgewing as sisteem interaktief is. Die biotiese en abiotiese komponente is aan mekaar deur nutriëntsiklusse en energievloei geskakel.
Endosimbiose (endosymbiosis) verwys na die insluiting van prokariote in groter selle wat uiteindelik die voorsate van eukariotiese organismes sou word. Organelle soos mitochondrions, plastiede en flagellums het volgens hierdie teorie uit ingesluite prokariote soos pers bakterieë, sianobakterieë en spirokeet bakterieë ontstaan.
Ensieme (enzymes) is beide proteïene en biologiese kataliste wat chemiese reaksies versnel. Ensieme verander substrate in produkte. Ensiem-kataliste is noodsaaklik vir die effektiewe funksionering van ‘n sel.
Entomopatogeniese swam (entomopathogenic fungus) is ‘n swam wat insekte aanval en verorber terwyl sommige alkaloïede vervaardig wat giftig vir insekte is.
Epifiet (epiphyte) is ‘n plant of ligeen wat bo-op ander plante leef maar dit nie parasiteer nie.
Ergot (ergot) is swamme wat aan die genus Claviceps hoort. Ergot groei op hawer en koring en ander grane en vervaardig alkaloïede wat die siekte ergotisme in mense en diere wat die besmette graan eet, kan veroorsaak. Van die kenmerke van ergotisme sluit gangreen, konvulsies, spasmas, maagwerkings, jeuk, psigose, hoofpyn, naarheid en braking in. Ergotisme kan dodelik wees.
Eukariote (eukaryotes) is organismes wat aan die Divisie Eukarya hoort. Eukariotiese organismes se selle bevat ‘n kern wat met ‘n kernmembraan omhul is en dubbelmembraan organelle. Eukariotiese organismes kan eensellig soos protiste of sekere lede van die Bruinalge en Groenalge wees of meersellig soos plante, diere en fungi wees.
Fagositose (phagocytosis) is die proses waardeur ‘n witbloedsel of ‘n protozoön soos ‘n amoeba kosdeeltjies of bakterieë met hul selmembraan omring en in ‘n fagosoom of ‘n voedselvakuool omsluit en met behulp van ensieme van lysosome te verteer.
Feromone (pheromones) is chemiese stowwe wat deur organismes (veral diere en fungi) uitgeskei of afgeskei word wat ‘n fisiologiese en/of neurologiese reaksie in ‘n ander organisme, gewoonlik van dieselfde spesie, bewerkstellig.
Filum (phyum) is ‘n vlak in die klassifikasie van organismes onder Koninkryk en bo Klas. Dit is op dieselfde taksonomiese vlak as Divisie wat oorspronklik vir plante en swamme gebruik is. Deesdae word Filum in die klassifikasie van alle organismes gebruik.
Foliose ligeen (foliose lichen) is ‘n ligeen wat blaaragtige kartelende lobbe vorm. Dit kom algemeen op boomstamme voor.
Fossiel (fossil) is die versteende oorblyfsels van organismes of dele daarvan soos been, skulpe, eksoskelette, hout, blare, of hul produkte soos spore, tonnels, mis, boomgom, stuifmeel ens.
Fotobiont (photobiont) is die fotosintetiserende simbiont van ‘n ligeen wat energie en koolstofryke produkte aan die ligeen deur middel van fotosintese verskaf. Dit bestaan uit sianobakterieë en/of eensellige alge.
Fotosintese (photosynthesis) is die proses waardeur plante, sianobakterieë, Rooi- en Bruinalge, ligenergie gebruik om koolsuurgas en water in suiker te omskep met suurstof as neweproduk. Hierdie proses omskep ligenergie in chemiese energie. Fotosintese is sekerlik, naas die ontstaan van lewe, die belangrikste biologiese proses wat ooit op aarde ontstaan het. Plante en ander fotosintetiserende organismes word as primêre produseerders beskou en verskaf voedsel aan ‘n groot deel van die voedselweb asook die suurstof in die atmosfeer as neweproduk.
Frutikose ligeen (fruticose lichen) is ‘n ligeen wat bossieagtig is en nie plat op ‘n substraat soos die ander ligeenvorme groei nie.
Fungi – sien swam.
Gametangiums of gametangia (gametangia) is die geslagtelike voortplantingstrukture van Sakswamme. Gametangiums wat uit progametangia vorm, ontstaan op die naasliggende hifes van twee verskillende Konjugasieswam-stamme.
Geel-groenalge (Yellow-green algae) of die Xanthophyceae is ‘n groep binne die Heterokonta. Hulle kom hoofsaaklik in varswater voor maar ‘n paar spesies kom in die see en klam grond voor. Hulle kom as enkelsellige flagllate tot eenvoudige kolonies en filamentagtige talluse voor. Geel-groenalge besit chlorofil a en chlorofil c en is naasverwant aan die Bruinalge.
Geligeniseerde swamme (lichenised fungi) is lede Sakswamme en die Steeltjieswamme wat mutualisties saam met alge en/of sianobakterieë leef om ligene te vorm.
Geslagtelike voortplanting (sexual reproduction) is wanneer gamete wat enkele stel chromosome (n) bevat met mekaar versmelt om ‘n organisme met ‘n dubbele stel chromosome (2n) te vorm. Meiose vind plaas om die diploïede selle (2n) in haploïede (n) gamete te omskep.
Gespes of klampe (clamp connections) is die buisagtige struktuur wat in die Steeltjieswamme (Basidiomycota) voorkom wat ‘n verbinding tussen die voorste twee selle in ‘n dubbelkern hife vorm. Gespe- of klampselle kom net in sekondêre miseliums van Basidomycota voor.
Gisse (yeasts) is enkelsellige swamme wat van meersellige voorouers ontwikkel het. Dit verwys ook eerder na die enkelsellige voorkoms van hierdie swamme as verwantskappe want beide die Sakswamme en die Steeltjieswamme het gisse onder hul lede. Sekere spesies kan, afhangende van die omstandighede, van gis na hifes oorskakel en andersom. Gisse plant ongeslagtelik deur afknopping voor.
Glukose (glucose) is ‘n ‘n eenvoudige suiker met die formule C6H12O6. Glukose word deur plante en sianobakterieë deur middel van fotosintese vervaardig. Dit is die mees algemene koohidraat in die natuur en word as die boublok vir die vervaardiging van stysels, sellulose en ligeen gebruik. Dit is ook die belangrikste bron vir energie in alle organisme. Suikers word as ‘n polimeer in plante as stysel, en in diere in die vorm van glikogeen gestoor.
Groenalge (Green algae) is die primitiefste lede van die Koninkryk Plantae of te wel die groen plante. Groenalge is see- en varswaterlewend en kan as enkel selle tot groot meersellige organismes voorkom. Hulle word as die voorsate van landplante beskou. Die voorsate van Groenalge het sianobakterieë in hul selle opgeneem waar dit in chloroplaste a en b omskep is.
Grotsiekte (cave disease) word deur die swam Histoplasma capsulatum veroorsaak. Mense wat in klam gebiede soos moerasse bly, met duiwe of hoenders boer of in grotte rondklim kan histoplasmosis of grotsiekte van die swam kry wat op voël- en vlêrmuismis leef.
Haarworteltjies (root hair) is die kleinste, dunste worteltjies van ‘n plant. Hulle hoofdoel is die absorpsie van minerale, organiese molekules en water.
Haploïed (haploid) verwys na die toestand waar ‘n kern, ‘n sel of ‘n organisme die helfte van die getal chromosome wat normaalweg in die organisme mag voorkom besit. Gewoonlik (in protiste, Bruinalge, plante en diere) besit die individu diploïede selle, met ander woorde een stel chromosome wat dit van elke ouer verwerf het. Die diploïede toestand word deur middel van meiose gehalveer om haploïede sperm en eierselle te vorm. Wanneer die haploïede sperm en eiersel versmelt word die diploïede sigoot (bevrugte eier) gevorm wat dan in ‘n diploïede individu ontwikkel. Daar is egter ‘n hele reeks poïedieë soos monoploïed, triploploïed, tetraploïed, miksoploïed ens. Haploïed en diploïed is bloot die mees algemene toestande.
Heterokariose (heterokaryosis) vind plaas wanneer twee hifes van verskillende stamme van dieselfde spesie saamsmelt of anastomeer en kerne van die verskillende stamme (met + en – aangedui) saam in dieselfde sel voorkom. Hierdie kerne kan later saamsmelt om ‘n diploïede kern te vorm.
Heterokonta of Stamenopiles is ‘n Infrakoninkryk wat onder die Koninkryk Chromista resorteer. Die naam is van die twee verskillende flagella wat hulle selle besit afgelei. Die reuse bruinwiere, diatome, Aartappelroes en Waterskimmel is lede van die Heterokonta.
Heterothallies (heterothallic) verwys na spesies waar geslagtelike voortplanting net tussen individue van verskillende stamme kan plaasvind. Die hifes en kerne van twee hierdie twee verskillende individue of stamme word in die afwesigheid van geslagte as (+) en (-) aangedui.
Heterotrofies (heterotrophic) is wanneer ‘n organisme soos ‘n dier of swam op ‘n ander organisme of sy produkte voed. Dit is die teenoorgestelde van outotrofies.
Heuningpaddastoel (honey mushroom) Armillaria gallica is lid van die Basidiomycota. Een van hulle is, sovêr bekend, die grootste organisme op aarde. Hierdie organisme wat in die Malheur National Forest in Oregon voorkom, se miselium beslaan ‘n gebied van meer as 15 hektaar en word net al hoe groter jaar na jaar. Hierdie heuningpaddastoel het moontlik ‘n gewig van 10 000 kg en sy ouderdom word op 1 500 jaar beraam.
Hifes (hyphae) of swamdrade is lang vertakkende en anastomerende buisies wat in swamme, waterskimmels en actinobakterieë voorkom. In die Laer Fungi het die hifes geen of min septums of dwarswande terwyl die hifes van die Hoër Fungi septums besit. Digte versamelings van hifes vorm die miselium of swamvlok van ‘n swam. Vegetatiewe groei van swamme vind hoofsaaklik deur die uitbreiding van die miselium plaas.
Hoër Fungi (Higher Fungi) of Dikarya bestaan uit die Sakswamme (Ascomycota) en die Paddastoele (Basidiomycota). Laer Fungi se hifes is ongesepteerd terwyl Hoër Fungi se hifes deur septums onderverdeel word. Septums kom minder reëlmatig in die hifes van die Sakswamme (Ascomycota) voor terwyl die kerne van die Paddastoele (Basidiomycota) deur septums geskei word. Dubbelkerne kom in sekere dele of sekere stadiums in die ontwikkeling van Hoër Fungi voor (sien Dikarya).
Homokarioties (homokaryotic) of monokarioties verwys na ‘n organisme of struktuur waar al die kerne geneties identies is.
Homoloë eienskappe (homologous characteristics) is kenmerke wat twee organismes van ‘n gemeenskaplike voorouer verwerf het en al verskil die kenmerke nou weens aanpassings by verskillende omstandighede, wys die dieper struktuur van die kenmerk, of die embriologiese ontwikkeling van die kenmerk, ooreenkomste met die struktuur wat in die voorsaat vergekom het. Homoloë kenmerke geniet prioriteit wanneer dit by klassifkasie kom. Voorbeelde hiervan is die vlerk van ‘n voël, die vin van ‘n lobvinvis en die arm van ‘n mens wat dieselfde skeletelemente bevat. ‘n Seekat se tentakels en insek se pote het daarenteen onafhanklik van werweldiere se aanhangsels ontwikkel en is ‘n voorbeeld van analoë eienskappe.
Homothallies (homothallic) verwys na spesies waarin beide geslagte in dieselfde individu voorkom. In swamme verwys dit na die vermoë van ‘n swam om sonder ‘n ander individu geslagtelik voort te plant. Dit vind plaas wanneer twee haploïede kerne van twee selle van dieselfde individu met mekaar kan versmelt om ‘n diploïede kern te vorm.
Humus – sien kompos.
Hymenium (hymenium) is die vruglaag binne die askokarp (die vrugliggaam van Sakswamme) waarop die askusse gevorm word.
Isidium (isidium), meervoud: isidiums of isidia in Latyn, is uitgroeisels op die boonste oppervlakte van die ligeentallus wat afbreek en so die ligeen vegetatief versprei.
Kariogamie (karyogamy) is die finale stap van die proses van bevrugting. Eers vind plasmogamie plaas wanneer die sitoplasmas van twee haploïede selle saamsmelt en dan volg kariogamie wat na die samesmelting van twee haploïde kerne om ‘n diploïede kern te vorm verwys.
Karsinogenies (carcinogenic) verwys na iets wat kankervormend is.
Keratien (keratin) is een van verskeie veselagtige struktuur-proteïene wat in werweldiere voorkom. Dit is die hoof-boustof waaruit naels, hare, naels, vere, horings, kloue, hoewe, eelte en die buitenste vellaag bestaan.
Klassifikasie (classification) of taksonomie in biologie is die metode wat gebruik word om organismes volgens hulle eienskappe in kategorieë te verdeel. Slegs homoloë eienskappe kan hiervoor gebruik word aangesien analoë kenmerke nie die verwantskappe tussen organismes kan aandui nie. Uiteindelik moet die klassifikasie van organismes ‘n aanduiding wees van hoe hulle aan mekaar verwant is (sien homoloë en analoë kenmerke). Die eienskappe wat gebruik word is anatomie, fisiologie, selstruktuur en genetika.
Kleistothekium (cleistothecium) is ‘n vrugliggaam wat in die Ascomycota (Sakswamme) voorkom waar die askusse in ‘n geslote sferiese askokarp gepak is.
Knolswamme (truffles) is die sporokarpe van sekere ondergrondse swamme, hoofsaaklik Sakswamme. Knolswamme kom in noue assosiasie met sekere bome se wortels voor waar hulle deel van die mikorrisa uitmaak. Knolswamme is uiters gesog onder sekere fynproewers en omdat dit so skaars is, is dit een van die duurste kosse ter wêreld.
Kommensialisme (commensalism) verwys na ‘n langdurige interaksie tussen twee spesies waarin die een spesie voordeel trek terwyl die ander spesie nie daaruit voordeel trek of benadeel word nie.
Kompos (compost) of humus is die afbraakproduk van die verotting van plantreste. Hierdie verotting word deur bakterieë en swamme bewerkstellig. Die voedingstowwe in plantmateriaal word sodoende aan die grond terugbesorg en kan weer deur plante en ander organismes opgeneem word.
Konidiofore (conidiophores) is ‘n spesiale lughife waarop selle soos fialiede in sekere spesies voorkom en wat konidiums of konidiospore vorm. Konidiofore kan enkel voorkom tot in trosse waar hulle dig teenmekaar gepak is.
Konidiospore (conidiospores) – sien konidiums.
Konidiums (conidiums) word ook konidiospore of chlamydospore genoem. Die konidium bevat gewoonlik een kern. Konidiums word deur mitose gevorm en staan dus ook as mitospore bekend. ‘n Konidium se kern is geneties dieselfde as die kerne in die sitoplasma van die miselium. Konidiums word meestal deur bottelvormige selle, die fialiede, op spesiale lughifes, die konidiofore, gevorm.
Koninkryk (Kingdom) in biologie is die tweede hoogste taksonomiese vlak in die Linnaeaanse klassifikasiestelsel, net onder Domein. Koninkryke word verder in Filums onderverdeel. Die sewe Koninkryke is die Animalia (diere), Plantae (plante), Fungi (swamme), Chromista (Bruinalge en verwante), Protista (eensellige eukariote), Archaea en Bacteria (bakterieë).
Konjugasieswamme (Conjugation Fungi) of Jukswamme is die Filum Zygomycota en vorm deel van die Laer Fungi. Hulle vorm kenmerkende sigosporangia met ‘n dik donker dop wanneer twee hifes versmelt en kariogamie tussen die kerne plaasvind. ‘n Sigosporangium vorm haplo֝ïede sigospore deur meiose. Konjugasieswamme is meestal saprobies alhoewel daar verskeie parasitiese spesies is en talle ook deur middel van mikorrisa in simbiose met plante bestaan. Die Konjugasieswamme is in alle waarskynlikheid ‘n polifiletiese groep en word deesdae in twee filums: die Mucoromycota en die Zoopagomycota opgedeel.
Konjugeer (conjugate) om saam te smelt, soos wanneet twee hifes saamsmelt.
Koolhidrate (carbohydrates) is organiese molekules wat uit koolstof, waterstof en suurstof bestaan met die algemene formule (CO2O)n en kom algemeen in organismes voor. Die eenvoudigste koolhidrate is suikers wat uit vyf of ses koolstofatome bevat. Stysels word uit verbindings van suikers gevorm, oligosakkariede word uit styselverbindings gevorm, oligosakkariedverbindings vorm sellulose, selluloseverbindings vorm lignien. Suikers, stysels, oligosakkariede, polisakkariede, sellulose en lignien is dus almal koolhidrate.
Kopulasie (copulation) in swamkunde verwys na die proses wanneer die hifes van twee stamme van dieselfde spesie bymekaar kom en die selle versmelt.
Korsmos – sien krustose ligeen.
Krebssiklus (Krebs cycle) of sitroensuursiklus is naas die ontstaan van lewe en fotosintese, die belangrikste biologiese proses wat ooit ontstaan het, en waarsonder eukariotiese organismes en meerselligheid waarskynlik nooit onstaan het nie. Dit behels ‘n reeks chemiese reaksies wat suurstof-respirerende organismes gebruik om die energie wat in koolhidrate, vette en proteïene gestoor is deur oksidasie van asetiel-koënsiem A te ontsluit om adenosientrifosfaat (ATP) en koolsuurgas te vorm.
Krustose ligene (crustose lichen) of korsmosse is ligene wat plat op rotse groei.
Laer Fungi (Lower Fungi) bestaan uit die Potjieswamme (Chytridiomycota) en die Konjugasieswamme (Zygomycota). Hierdie swamme het geen of weinig septums in hul hifes. Hierdie hifes word aseptate of ongesepteerde hifes genoem en die sitoplasma in die hifes is senosities.
Ligeen (lichen) is die simbiotiese struktuur wat uit ‘n swam (mikobiont) en eensellige alge en/of sianobakterieë (fotobiont) bestaan. Die swam verleen die struktuur en liggaamsvorm en verskaf water en minerale aan die ligeen terwyl die fotosinterende simbiont energie en metaboliete aan die ligeen deur fotosintese verskaf.
Lignien (lignin) is ‘n groep komplekse organiese polimere wat die strukturele ondersteuningstelsels van vaatplante en sommige alge vorm. Hout en bas bestaan uit lignien.
Linnaeaanse klassifikasiestelsel (Linnaean classification system) is die hiërargiese onderverdeling van organismes op grond van hul fisiese kenmerke. Organismes word dat in spesie, Genus, Familie, Orde, Klas, Filum, Koninkryk en Domein verdeel. Die binomeniale nomenklatuur is een van die mees bekende aspekte van hierdie klassifikasiestelsel. Hierdie klassifikasiestelsel is reeds in die 18 eeu deur Carolus Linnaeus (Charl von Linné) ontwerp en alhoewel dit deur die eeue hersien is en voordurend aangepas en bygewerk word, bly dit steeds een van die nuttigste stelsels waarmee ons organismes taksonomies en filogeneties sorteer.
Medulla of murglaag (medulla) is die middelste laag van ‘n ligeen wat aan die losmasige rangskikking van hifes gekenmerk word.
Meeldou (mildew) is Sakswamme van die Orde Erysiphales en vorm hoofsaaklik wit miseliums. Sommige kom as parasiete voor, maar ander is saprobies en voed op ‘n wye verskeidenheid organiese materiaal.
Meersellig (multicellular) verwys na organismes wat uit meer as een sel bestaan. Die teenoorgestelde hiervan is eensellig.
Meiose (meiosis) is ‘n tipe seldeling wat in diploïede organismes voorkom wat geslagtelik voortplant. Tydens meiose word die chromosoomgetal in voortplantingselle in twee gedeel sodat elke sperm of eiersel slegs een stel chromosome bevat. Die sperms en eierselle is dus haploïed.
Meiosporangium (meiosporangium) is ‘n sporangium (soos ‘n Sakswam se askus byvoorbeeld) waarbinne daar meiospore deur meiose gevorm word.
Meiospore (meiospores) is haploïede swamspore wat deur meiose gevorm word. Dit is ‘n produk van die geslagtelike voortplantingsproses.
Mierbrood verwys na die miseliumbol wat binne sommige termietneste gevind word en wat deur die termiete as kosbron benut word (natuurlik sou die term termietbrood meer akkuraat wees).
Mikobiont (micobiont) is die swam-simbiont van ‘n ligeen. Die swam vorm die tallus van die ligeen en verskaf die water en minerale aan die ligeen.
Mikologie (micology): swamkunde.
Mikoloog (micologist): swamkundige.
Mikorrisa (micorrhiza) is die simbiotiese assosiasie van die miselium van een of meer swamme met die haarwortels van ‘n plant. Spesiale hifes van sommige grondlewende Konjugasieswamme, Sakswamme en Steeltjieswamme dring plante se haarworteltjies binne. Aanvanklik sou hierdie ineraksie sekerlik parasities van aard gewees het, maar ‘n mutualistiese toestand was tussen sekere spesies swamme en plante bereik waardeur beide organismes baat. ‘n Digte netwerk van mikorrisa van die swam en haarworteltjies van die plant word in die sogenaamde risosfeer ondergronds gevorm. In sekere gevalle is tot 15 verskillende mutualistiese swamspesies per plant gevind. Die risosfeer bevat baie ander organismes en veral sekere bakterieë waarby beide plante en swamme baat. Die plant verskaf suikers aan die bakterieë en swamme wat dan in ruil minerale en ander chemiese verbindings aan die plant verskaf.
Miksotrofies (mixotrophic) verwys na die vermoë van ‘n organisme om ‘n mengsel van energie- en voedselbronne te gebruik. Miksotrofie is anders as outotrofie en heterotrofie waar organismes al hulle voedsel en energie op hoofsaaklik een wyse verkry. Meeste van die planktoniese organismes is miksotrofies.
Minerale (minerals) is chemiese verbindings wat gewoonlik in rotse of presipitate voorkom.
Miselium (mycelium) of swamvlok is die massa hifes wat die tallus of vegetatiewe deel van ‘n indivdule swam opmaak. Die miselium bestaan uit ‘n massa vertakkende en anastomerende hifes. Die miseliums van landlewende swamme kom meestal in die grond en in verottende plantmateriaal voor. In sommige Dikarya kom daar primêre, sekondêre en tersiêre miseliums voor. Sommige miseliums is mikroskopies klein tot ander soos die Heuningpaddastoel wie se miselium etlike hektare beslaan. Die miselium voed deur om ensieme deur porieë in die selwand op ‘n kosbron te sekreteer wat die kosbron in kleiner molekules opbreek wat dan weer deur die porieë in die selwand met behulp van diffusie en aktiewe transportering deur die selmembraan in die hife inbeweeg. Miseliums is baie belangrik in terrestriële en akwatiese ekostelsels waar dit hoofsaaklik plantmateriaal afbreek en koolsuurgas in die atmosfeer terugplaas. Miseliums vorm saam met plantwortels ‘n simbiotiese verhouding in die vorming van ‘n mikorrisa wat beide die plante en swamme ten opsigte van voeding bevoordeel. Miseliums dien ook as voedselbron vir talle grondbewonende invertebrate.
Mitose (mitosis) is die proses van seldeling waardeur twee dogterselle gevorm wat geneties dieselfde as die oorspronklike sel is. Haploïede selle vorm deur mitose haploïede selle en diploïede selle vorm deur mitose diploïede selle. Dit is die tipe seldeling wat in die vegatiewe voortplanting of groei van ‘n organisme plaasvind.
Mitospoor (mitospore) is ‘n spoor wat deur mitose gevorm word. Dit kan haploïed of diploïed wees afhangende van die swamspesie. Dit is ‘n vorm van ongeslagtelike voortplanting.
Monofileties (monophyletic) verwys na ‘n groep organismes wat almal van ‘n gemeenskaplike voorouer afgestam plus die voorouer. Hulle sal ook tipies almal dieselfde verworwe eienskappe besit wat hulle van ander groepe sal onderskei.
Monokariotiese hifes (monokaryotic hyphae) verwys na hifes wat slegs een kern per sel het. Die primêre miselium van Steeltjieswamme is monokarioties.
Morfologie (morphology) verwys na die anatomie, of te wel die vorm en struktuur van ‘n organisme. Morfologie word in klassifikasie gebruik.
Motiel (motile) bedoel beweeglik of selfaangedrewe. Dit word gewoonlik deur middel van ‘n flagellum of flagellums bewerkstellig.
Muf (mould) is ‘n lid van ‘n diverse groep swamme wat meestal tot die Sakswamme en Steeltjieswamme behoort. Hulle word gekenmerk aan hul swart, grys of groen miseliums wat bo-op hulle kosbron groei.
Murglaag – sien medulla.
Mutualisme (mutualism) is die simbiotiese verhouding tussen twee of meer organismes waarby elke betrokke spesies voordeel trek. In sekere gevalle is die spesies heeltemal afhanklik van mekaar vir hul voortbestaan.
Nematode (nematodes) of aalwurms of rondewurms is van die volopste diertjies op aarde en hoort aan die Filum Nematoda. Hulle kom in bykans alle habitatte op aarde voor – vanaf woestyne tot die diepste trog op die seevloer waar hulle spesie- en getalgewys meeste ander organismes oordonder. Volgens een berekening is daar sowat 60 miljard nematode vir elke mens op aarde. Hulle lewenswyses wissel vanaf parasities tot vrylewend. Daar was onlangs nematode in ‘n Suid-Afrikaanse myn, wat een van die diepste myne op aarde is, op ‘n diepte van 3.6 km ondergronds ontdek.
Omlope (ringworm) is die siekte dermatophytosis wat ‘n swaminfeksie van die vel is. Dit word gekenmerk deur ‘n jeukerige rooi ronde uitslag.
Ongesepteerde (aseptate) hifes of aseptate hifes is hifes waarin daar geen of min septums voorkom.
Ongeslagtelike voortplanting (asexual reproduction) is wanneer die organisme voorplant deur afknopping, die afbreek van stukke van die liggaam of tallus wat elders kan groei, uitbreiding van die liggaam of tallus of miselium of wortelstelsel van die organisme of verspreiding deur middel van mitospore of chlamydospore.
Oögamie (oogamy) is ‘n algemene manier van voortplanting waar die sessiele vroulike gameet heelwat groter as die motiele manlike gameet is. Die manlike gameet moet dan gewoonlik na die vroulike gameet swem om dit te bevrug. Hierdie tipe bevrugting kom in Potjieswamme, sekere Bruinalge, Laer plante en diere voor.
Organisme (organism) is ‘n wese wat al of meeste van die eienskappe van lewe besit – dit is groei, homeostase, voortplanting, organisasie, metabolisme, aanpassing, voeding en stimulasierespons. Virusse word nie as organismes geklassifiseer nie omdat hierdie kenmerke, met uitsondering van voortplanting en organisasie, ontbreek. Organismes sluit eensellige wesens soos archaea, bakterieë en protiste in en meersellige wesens soos fungi, plante en diere in.
Outotrofies (autotrophic) is wanneer ‘n organisme sy eie voedsel deur fotosintese vervaardig. Sulke organismes (plante en fotosinterende bakterieë) word primêre produseerders genoem. Dit is die teenoorgestelde van heterotrofies.
Paddastoel (mushroom, toadstool) is ‘n leketerm wat losweg na oneetbare Steeltjieswam sporokarpe verwys, maar mens moet dit nie vir klassifikasiedoeleindes gebruik nie. Dit word hoofsaaklik gebruik om die verskil tussen eetbare swamme soos sampioene en oneetbare swamme of paddastoele aan te toon. Paddastoele het tipies ‘n groot plat tot bolronde tot lang geronde hoed op ‘n steel. Kiewe of porieë waaruit die spore vrygestel word, kom op die onderste oppervlakte van die hoed voor.
Parasiet (parasite) verwys na ‘n organisme wat op ‘n gasheer of sy produkte teer. Die term parasiet word dikwels met patogeen gesinonimiseer. Die parasiet leef in of op sy gasheer en is meestal spesiaal aangepas om hierdie lewenswyse te handhaaf. Dit is ‘n tipe simbiotiese verhouding waar die parasiet slegs baat en gewoonlik tot die gasheer se nadeel is. Ongeveer 80% van alle bekende spesies op aarde is parasiete.
Patogeen (pathogen) is enigiets wat ‘n siekte kan veroorsaak. Siektes kan ook deur virusse en ‘n groot verskeidenheid organismes veroorsaak word – vanaf bakterieë, protiste, swamme tot ‘n groot verskeidenheid diere. Patogeniese diere word meer dikwels parasiete genoem.
Penisillien (penicillin) is ‘n natuurlike gifstof wat deur die Sakswam Penicillium vervaardig word in hul stryd om bakterieë, waarmee hulle vir lewensruimte en kos kompeteer, dood te maak. Dit was die eerste antibiotikum wat mense ontdek het.
Peridole (peridoles) is voortplantingstrukture wat in die koppies van Voëlnesswamme (Familie Nidulariaceae) voorkom. Peridole is ronde, ietwat afgeplatte strukture waarbinne basidia voorkom wat basidiospore vorm. Die peridole skiet uit die koppie wanneer dit deur ‘n reëndruppel getref word.
Perithekium (perithecium) is ‘n vrugliggaam in die Ascomycota (Sakswamme) waar die askusse is in ‘n flesvormige askokarp, met ‘n opening na bo, gepak is.
Piknidium (picnidium) is ‘n sak of flesvormige struktuur in sekere Sakswamme waarvan die binnewand deur konidiofore uitgevoer is.
Plante (plants) hoort aan die Koninkryk Plantae wat enkel of meersellige eukariotiese en fotosintetiese organismes insluit. Plante sluit die Groenalge, Seegras, Lewermosse, Wolfskloue, Mosse, Varings, Gimnosperme en Blomplante in. Rooi- en Bruinalge word nie meer as plante beskou nie. Buiten vir parasitiese spesies verkry die oorgrote plante hul energie en vervaardig suiker deur fotosintese met behulp van chloroplaste a en b. Chloroplaste het vanuit Sianobakterieë ontstaan. Plante se selwande bevat sellulose. Plante word gekenmerk aan die feit dat hulle geslagtelik voortplant met ‘n afwisseling van ‘n sporofiet en gametofiet generasies. Sommige plante kan ook vegetatief voortplant. Plante speel as primêre produsente ‘n allerbelangrike rol in die ekologie.
Plasmogamie (plasmogamy) vind plaas wanneer die sitoplasmas van die selle van twee stamme versmelt.
Plastiede (plastids) is dubbelmembraan organelle wat in die selle van eukariotiese organismes soos plante, Rooi- en Bruinalge en sekere protiste voorkom. Hulle het vanuit die sianobakterieë ontstaan (sien chloroplast).
Polifiletiese groep (polyphyletic group) is ‘n groep organismes wat op grond van ‘n kenmerk saam gegroepeer word maar wat nie ‘n nabye gemeenskaplike voorouer deel nie. Die gemeenskaplike voorouer is nie in die groep ingesluit nie.
Potjieswam (chytrids) is die Filum Chytridiomycota en vorm saam met die Konjugasieswamme die Laer Fungi. Die Potjieswamme besit mikroskopiese potjie-vormige sporangiums, waarin die enkel-flagella soöspore gevorm word. Potjieswamme is hoofsaaklik saprobies en leef in water of in waterdeurdrenkte grond.
Primêre miselium (primary mycelium) vorm na die ontkieming van die basidiospoor van ‘n Steeltjieswam. Die hifes wat vorm is oorspronklik kenmerkend eenkernig en dit word die monokarion stadium genoem. Die swamdrade van die primêre miselium, wat ook as die senobium of senoblast bekend staan, het aanvanklik nie septums nie en verskeie kerne kom in ‘n sinsitium voor. Mettertyd ontstaan daar selwande en so word enkelkernige selle gevorm.
Prokariote (prokaryotes) is mikroskopiese eensellige organismes wat geen selkern of dubbelmembraan organelle bevat nie – die genetiese materiaal dryf in stringe los in die sitoplasma rond en in die afwesigheid van organel-membrane vind meeste biochemiese reaksies op die selmembraan plaas. Die prokariote is die oudste en primitiefste organismes op aarde en sluit die Domeine (of Superryke) Archaea en Bacteria in.
Protiste (protists) behoort aan die Filum Protista. Protiste is eensellige eukariotiese organismes. Plante, diere en fungi het vanuit protist-voorouers ontstaan. In sommige klassifikasies word protiste soos Chlamydomonas in die Koninkryk Plantae en eensellige gisse in die Koninkryk Fungi ingedeel. Aan die ander kant van die enkelsel/meersellige spektrum word Rooialge en slymswamme in die Protista ingedeel alhoewel kolonies van hierdie eensellige organismes makroskopiese strukture vorm.
Pseudothekium (pseudothecium) is ‘n vrugliggaam in die Ascomycota (Sakswamme) wat soortgelyk aan ‘n perithekium is maar die askusse is nie netjies op ‘n hymenium gepak soos in ‘n perithekium nie. Daarbenewens is die askusse tweekernig met ‘n dubbelwand.
Pucciniomycotina is die roese wat hoofsaaklik plante en diere parisiteer. Sekere roes-spesies soos stamroes in koring vorm tot vyf verskillende spoor-tipes en moet hul lewensiklus deur middel van twee verskillende gasheerplantspesies voltooi.
Rakswam (bracket fungi) is Steeltjieswamme wat ‘n sekere groeiwyse het wat niks met hulle verwantskappe te doen het nie. Hulle kan harde en houtagtige tallusse vorm of dit kan sag en vlesig wees. Een van die kenmerke wat hulle almal in gemeen het is dat daar porieë op die onderste oppervlakte voorkom.
Risoïede (rhizoids) lyk soos haarworteltjies en kom onder aan swamme en primitiewe plante voor. Dit anker die swam of plant maar absorbeer ook voedingstowwe vanuit die onderliggende substraat. Risoïede groei reguit ondertoe in die substraat in.
Risosfeer (rhizosphere) is die laag in die grond wat deur die sekresies van die organismes, wat die wortelmikrobioom vorm, beïnvloed word. Die risosfeer bevat baie bakterieë, protiste, swamme en invertebrate wat op dooie plantselle en die proteïene en suikers wat deur plantwortels vrygestel word, voed. Hierdie komplekse wisselwerking tussen die verskillende organismes kan plantgroei, kompetisie vir hulpbronne, weerstand teen siektes en sirkulasie van voedingstowwe beïnvloed wat die verspreiding en sukses van talle spesies bepaal.
Roese (rusts) is swamme wat aan die Subdivisie Pucciniomycotina hoort. Meeste is plantparasiete, maar sommige is swamparasiete en ander insekparasiete.
Rotifera is klein diertjies wat veral in vars water voorkom alhoewel sekere spesies ook in klam grond en ander in die see kan voorkom. Rotifere is van die eerste organismes wat met behulp van die eerste mikroskoop deur Antonie van Leeuwenhoek beskryf is.
Rendiere (reindeer) is takbokke (Rangifer tarandus) wat ‘n sub-arktiese verspreiding het. In Noord Amerika staan hulle as caribou bekend.
Sakswamme (sac fungi) of Askuswamme is die Filum Ascomycota. Die Sakswamme het gesepteerde hifes (met ander woorde daar is septums of dwarswande binne die hifes) wat soms tweekerninge selle bevat. Die Sakswamme vervaardig geslagtelike askospore in mikroskopiese askusse en nog kleiner ongeslagtelike spore, of konidia. Sakswamme kom van enkelsellige gisse tot miseliums wat ons muf noem tot ondergrondse miseliums met groot bogrondse sporokarpe soos morelle voor. Die oorgrote meerderheid Sakswamme is landlewend maar sommige is see- of varswaterlewend. Die filum Ascomycota is die grootste groep onder die Koninkryk Fungi en besit reeds meer as 64 000 bekende spesies. Ascomycota vorm saam met die Basidiomycota die Hoër Swamme of die Subkoninkryk Dikarya. Die naam Ascomycota en die algemene naam Sakswamme is afgelei van die Griekse woord ἀσκός (askos), wat sak beteken.
Saprobiese organisme (saprobic organism) verwys na ‘n organisme wat op dooie organiese materiaal voed.
Saprofitiese organisme (saprohytic organism) is ‘n organisme wat op dooie plantmateriaal voed.
Sekondêre miselium (secondary mycelium) is die miselium van Steeltjieswamme wat dubbelkernige hifes besit. Die sekondêre miselium is gewoonlik meer lewenskragtig as die enkelkernige primêre miselium en groei vinniger en neem die kosbron oor. Sommige van hierdie sekondêre miseliums kan vir eeue voortbestaan.
Sellulose (cellulose) bestaan uit honderde tot duisende koolhidraatmolekules wat in plante se selwande voorkom. Diere kan nie sellulose verteer nie maar sekere bakterieë en veral swamme kan wel sellulose verteer.
Selmembraan (cell membrane) staan ook as die plasmamembraan bekend. Dit is die membraan wat die sitoplasma van ‘n sel met al die organelle daarbinne omhul en beskerm. Die selmembraan bestaan uit ‘n dubbele lipiedlaag met proteïene plek-plek daarin. Die selmembraan beheer deur middel van hierdie membraan-proteïene die beweging van water, ione en organiese molekules in en uit die sel.
Selwand (cell wall) is die laag wat die kernmembraan in sekere organismes soos plante en fungi omring. Dit is ferm en meestal buigbaar en verskaf strukturele ondersteuning en beskerming aan die sel. Dit bestaan uit sellulose in plante en chitien in die geval van fungi.
Senobium – sien Primêre miselium.
Senoblast – sien Primêre miselium.
Senosities (coenocytic) verwys na ‘n meerkernige sel wat gevorm word wanneer kerndeling plaasvind maar sonder sitokinese en die gepaardgaande vorming van selmembrane tussen die kerne.
Septumporie (septal pore) is die opening in die middel van meeste septums in swamme. Die sitoplasma van naasliggende selle is aaneenlopend deur middel van die septumporieë en organelle en selfs kerne kan deur die porieë beweeg.
Septums (septa) of dwarswande kom in Hoër Fungi of die Dikarya se hifes voor.
Sessiel (sessile) bedoel sittend of nie-beweeglik.
Sianobakterieë (cyanobacteria) of blougroen bakterieë is fotosintetiserende bakterieë wat saam met plastiede aan die Filum Cyanophyta hoort. Sianobakterieë kom as vrylewende organismes in die see, vars water en nat grond voor. Sommige kom in ligene as simbionte saam met swamme voor.
Sigofoor (zygophore) is chemotropiese lughifes wat die geslagsorgane van meeste Konjugasieswamme is. Twee sigofore van twee miseliums sal, danksy die feromone wat hulle afskei, na mekaar toe groei.
Sigoot (zygote) is die eerste sel wat gevorm word wanneer twee haploïede selle versmelt. Die sigoot kan in swamme enkisteer onder slegte toestande (hitte, koue, droogte) deur om ‘n harde doppie rondom te vorm.
Simbiont (symbiont) – sien simbiose.
Simbiose (symbiosis) verwys na enige nabye en langtermyn interaksie tussen twee verskillende organismes. Dit sluit mutualistiese, kommenialistiese of parasitiese verhoudings in. Die organismes of simbionte in hierdie verhouding kan aan dieselfde of verskillende spesies hoort.
Sinsitium (syncytium) word gevorm wanneer die selmembrane tussen die selle oplos en die selle so versmelt en die sitoplasmas vermeng. Die sinsitium is dus ‘n aaneenlopende massa sitoplasma met talle kerne daarbinne.
Sitokinese (cytokinesis) is die deel van die seldelingsproses wanneer die sitoplasma van die ouersel tydens mitose of meiose in twee dogterselle verdeel.
Sitoplasma (cytoplasm) is die kleurlose vloeistof binne die sel wat deur die selmembraan omhul word. Hierdie vloeistof bestaan uit omtrent 80% water en die jelagtige vloeistof sitosol. Die organelle soos ribosome, mitochondria, chloroplaste en vakuole (in plante) en die nukleus word deur die sitoplasma binne die sel omhul. Meeste van die sel se chemiese prosesse vind binne die sitoplasma voor.
Skimmel (mould) – sien swam.
Slymswamme (slime moulds) behoort aan die Filum Mycetozoa. Slymswamme is ‘n algemene benaming vir ‘n polifiletiese groep eensellige organismes wat onder sekere omstandighede bymekaar kan kom om ‘n makroskopiese meersellige geslagtelike voortplantingsstruktuur te vorm. Hulle was eens as swamme geklassifiseer, maar word deesdae as lede van die Protista beskou.
Soönose (zoonosis) is siektes wat mens van diere kry. Malaria, builepes, varkgriep, tering, pokke, masels en Corona virusse is almal voorbeelde daarvan.
Soösporangium (zoosporangium) is ‘n tipe sporangium wat in fungi en protiste voorkom wat soöspore vervaardig.
Soöspore (zoospores) is ongeslagtelike spore wat in sommige fungi, protiste en bakterieë voorkom wat hulself deur middel van een of meer flagellas versprei. Die flagella word gebruik om deur water te swem.
Soralium (solarium), meervoud: solariums of solaria in Latyn, is ‘n spesiale opening in die boonste korteks van ‘n ligeentallus waardeur sorediums vrygestel word.
Soredium (soredium), meervoud: sorediums of soredia in Latyn, is die kleinste voortplantingstruktuur van ‘n ligeen wat bestaan uit ‘n alg-sel wat in hife-fragmente omhul is.
Sporangiofoor (sporangiophore) is ‘n spesiale lughife wat verskyn na ‘n Konjugasieswam se spoor oopbars. Die sporedosie vorm aan die bopunt van die sporangiofoor.
Sporangiospore (sporangiospores) is spore wat deur mitose in sporedosies gevorm word as deel van ‘n swam se ongeslagtelike voortplantingsproses.
Spore (spores) in biologie verwys na die kleinste eenheid wat die organisme vir geslagtelike of ongeslagtelike voortplanting vervaardig. Spore is gewoonlik haploïed. Spore kom in fungi, plante, Bruinalge en protiste voor. Spore is meestal weerstandbiedend teen hitte, koue en uitdroging en word gebruik om die spesie in moeilike omstandighede te help oorleef.
Sporedosie (sporangium) is die Afrikaanse woord vir die Latynse sporangium.
Sporodokiums (sporodochia) is klein kompakte strukture in sekere parasitiese Sakswamme waarin kort konidiofore, wat die konidia vorm, gerangskik is.
Sporidiums (sporidia) bestaan uit een of meer algselle of bakterieë wat met hifes omhul is wat soos spore deur ligene vrygestel word.
Sporokarp (sporocarp) is die vrugligaam van swamme.
Stam (strain of mating type) in miklologie verwys na ‘n individuele swam met ‘n unieke genetiese identiteit, wat van ander individue binne dieselfde spesies verskil, net soos wat elke dier en plant ‘n unieke genetiese entiteit is. Kerne van twee hifes van verskillende stamme, wat in die afwesigheid van geslagte, met (+) en (-) aangedui word, moet met mekaar versmelt om geslagtelike voortplanting te bewerkstellig.
Stapelvoedsel (staple food / staple) is ‘n kossoort wat die grootste deel van mense se dieët opmaak. Dit wissel van land na land en selfs tussen kulture. Stapelvoedsel is die kossoort wat die meeste geëet word, die maklikste verkrygbaar is en die goedkoopste is. Dit kan die grootste deel van ‘n maaltyd opmaak of selfs meer as een keer ‘n dag geëet word. In meeste gevalle is stapelvoedsels plantaardig en meestal styselryk. Rys, koring, mielies, aartappels en patats is voorbeelde hiervan. Dit kan egter ook vleis of vis in sekere gemeenskappe soos die Inuïet en Laplanders wees.
Steeltjieswamme (club fungi) hoort aan die Filum Basidiomycota. Steeltjieswamme het gesepteerde hifes wat meestal tweekernige selle bevat. Die Basidiomycota is ‘n groot groep onder die Fungi en bevat tans meer as 31 500 bekende spesies. Dit vorm saam met die Ascomycota die Subkoninkryk Dikarya of te wel die Hoër Fungi. Die Steeltjieswamme is van die bekendste swamme op grond van hulle vrugliggame – die paddastoele, sampioene, pofballe, stinkhorings, rakswamme, trilswamme, roes ens. Soos die Sakswamme, vorm die meerderheid van die Steeltjieswamme miseliums wat uit hifes bestaan en hulle word dus as filamentagtige swamme beskryf. Maar soos in die Sakswamme is daar egter ook Steeltjieswamspesies wat gisselle vorm. Die naam van die groep Basidiomycota is van die knuppelvormige geslagtelike voorplantingsorgaan of sporangium, wat die basidium genoem word, verleen.
Sterigmas (sterigmas) is die steeltjies wat op ‘n basidium voorkom. Daar is gewoonlik vier sterigmas per basidium. Elke sterigma dra ‘n basidiospoor.
Suikers (sugars) is organiese molekules wat uit koolstof, waterstof en suurstof bestaan. Eenvoudige suikers soos glukose, fruktose en galaktose word monosakkariede genoem en bestaan uit ‘n ringverbinding van vyf tot ses koolstofatome. Verbindings tussen twee suikers word disakkariede genoem. Gewone suiker of sukrose wat ons algemeen gebruik is ‘n disakkaried wat uit verbindings van glukose en fruktose bestaan. Laktose of melksuiker bestaan uit verbindings van sukrose en galaktose. Verbindings tussen drie tot ses monosakkariede word oligosakkariede genoem. Polisakkariede soos stysel, glikogeen, sellulose en chitien bestaan uit nog langer kettings van monosakkariede. Suikers word in plantweefsel gevind en is ‘n produk van fotosintese.
Swam of skimmel (fungus or mould) is ‘n organisme wat aan die Koninkryk Fungi behoort. Hierdie een- tot meersellige eukariotiese heterotrofiese organisme het chitien in die selwande en het meestal haploïede kerne.
Swamvlok (miselium) – sien miselium.
Swamdrade (hyphae) – sien hifes.
Tallus (thallus) is ‘n woord wat algemeen gebruik word om die liggaam van swamme en ligene en primitiewe plante soos alge en lewermosse te beskryf. Benewens voortplantingsorgane kom daar nie gespesialiseerde organe soos takke, wortels, stingels en vaatbundels in die tallus voor nie.
Teliospore (teliospores) is die dikwandige rustende spoor wat sekere swamme – veral roese en brandskimmels deur middel van teliums vorm om moeilike tye (droogte, koue of hitte) te oorleef. Mens kan dus die teliospoor ook as ‘n tipe chlamydospoor beskou. Aangesien teliospore deur Steeltjieswamme vervaardig word besit dit dikariotiese selle. Wanneer die teiospoor ontkiem vind kariogamie plaas en daarna word ‘n viersellige basidium met haploïede basiospore deur meiose gevorm.
Teliums (telia) is voortplantingstukture in roese en brandskimmels waarin teliospore deur mitose gevorm word. Teliums vorm in sekere spesies makroskopiese geel of oranje lobbe wat op die oppervlak van die gasheerplant verskyn. Die teliospore word vanaf die teliums deur middel van wind en water versprei.
Termitomyces is ‘n paddastoelspesie wat bekend daarvoor is dat dit van die grootste sampioene in die wêreld vorm met ‘n hoed wat tot meer as 1 m in deursneë kan vorm. Hierdie swam word deur termiete in hulle neste gekweek om te eet. Die swam en die termiet het ‘n mutualistiese verhouding.
Tersiêre miselium (tertiary mycelium) is die miselium waaruit die basidiokarp van die Steeltjieswamme gevorm word.
Tremellomycetes is gisagtige swamme wat op plante, diere en mense parasiteer.
Trigogeen (trichogyne) is ‘n buisie wat deur die askogonium gevorm word en dan met die antheridium versmelt. Die kerne stroom na die versmelting vanuit die antheridium deur die trigogeen na die askogonium.
Trilswamme (Jelly fungi) behoort aan die Klas Dacrymycetes. Die trilswamme se naam is van die jellieagtige aard van hulle vlesige onreëlmatige gelobde halfdeursigtige vrugliggame afgelei.
Tussenwande – sien septums.
Uitsluitingsbeginsel (Exclusion principle) of Gause se Wet in ekologie, verwys na die verskynsel dat wanneer twee spesies vir dieselfde beperkte hulpbron kompeteer, dat hulle beide nie teen dieselfde bevolkingsgroottes sal kan voortbestaan nie. Die een sal met ander woorde die ander uitkompeteer.
Vaatplant (vascular plant) of tracheofiete of Hoër Plante is organismes wat aan die Koninkryk Plantae hoort. Hierdie plante besit vate vir die vervoer van water en minerale van die wortels af en metaboliete (hoofsaaklik suiker) wat deur fotosintese gevorm is van die blare af. Vaatplante sluit wolfsklou, varings, naaksadiges en blomplante in.
Vegetatief (vegetative) verwys na ongeslagtelike voortplanting of die deel van ‘n swam, plant of dier wat ongeslagtelik voortplant. Dit vind gewoonlik deur middel van seldeling deur mitose plaas. Dit is hoe groei, voortplanting deur mitospore, fragmentasie of afknopping plaasvind.
Verteringsensieme (digestive enzymes) is ‘n groep ensieme wat polimeriese makromolekules in hul kleiner boustene afbreek sodat die organisme dit kan opneem. Verteringsensieme kom in diere, swamme en karnivoriese plante voor.
Voedselweb (food web) verwys na die direkte of indirekte verhouding van alle organismes wat of as vreter en/of voedsel in verhouding met die res van die web geskakel is. Die voedselweb dui ook hoe energie vanaf die primêre produsente deur die res van die voedselweb vloei.
Wallemiomycetes is ‘n Klas van die Basidiomycota wat slegs die xerofiliese skimmels, wat aan die genus Wallemia hoort, bevat. Die klassifikasie van hierdie groep is nog nie heeltemal uitgesorteer nie.
Waterskimmels (Oomycetes) is swamagtige, filamentvormende protiste. Waterskimmels was oorspronklik as swamme geklassifiseer, maar deesdae behoort hulle aan die Filum Heterokontophyta van die Konkinkryk Chromista. Die Chromista sluit die Bruinalge, dinoflagellate en die malariaparasiet Plasmodium in. Hulle besit soöspore met twee verskillende flagellas – die een is sweepagtig en die ander lyk soos ‘n lang bottelskoonmaker.
Woronin-liggaampies (Woronin bodies) kom in die sitoplasma van Sakswamme voor. Wanneer ‘n hife skeur en die sitoplasma vinnig deur die septumporie na die stukkende deel van die hife begin wegvloei, seël die Woronin-liggaampies die septumporie om die verlies van die sitoplasma te verhoed amper net soos wat bloedplaatjies ‘n gat in ‘n aartjie sal verstop.
Zygomycota – sien Konjugasieswamme of Jukswamme.
