Potjieswamme (Chytridiomycota)

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Potjieswamme (Chytridiomycota)

April 6, 2020 swamme 0

deur François Durand

Die naam is afgelei van die Griekse woord χυτρίδιον: chytridion wat potjie bedoel.  Dit verwys na die mikroskopiese potjie-vormige sporangium, wat die soöspore huisves.  Die Potjieswamme is die enigste swamme wat soöspore het.  Die Potjieswamme se soöspore het slegs een sweepagtige flagellum i.p.v. twee flagella soos wat in Waterskimmels (Koninkryk Chromista) voorkom.  Flagellas kan net in water of nat grond funksioneer en dit dui op die Potjieswamme se akwatiese lewenswyse.  Potjieswamme is die mees primitiewe swamme bekend (veral nadat die Slymswamme en Waterskimmels uit die Koninkryk Fungi verwyder is).

Potjieswamme is hoofsaaklik saprobies en voed op dooie organiese materiaal waartydens hulle sellulose, chitien en keratien afbreek.  Daar is ‘n paar parasitiese spesies wat veral alge en eensellige organismes aanval.

Die Potjieswam Batrachochytrium dendrobatidis veroorsaak die siekte chytridiomycosis wat tans paddabevolkings wêreldwyd uitwis.

Alhoewel die Potjieswamme nie deel van die Deuteromycota is nie, kom geslagtelike voorplanting net onder ‘n paar spesies voor.  Meeste Potjieswamme plant ongeslagtelik deur middel van soöspore voort.  Die Monoblepharidomycetes groep is van die weinige Potjieswamme wat geslagtelik deur middel van oögamie voortplant.  Die antheridiums vorm motiele manlike gamete wat dan na die sessiele vroulike gamete in die oögoniums swem om dit te bevrug om ‘n sigoot te vorm.  Onder slegte toestande (hitte, koue, droogte) kan die sigoot enkisteer waartydens ‘n harde weerstandbiedende doppie rondom die sigoot gevorm word.  Onder ander omstandighede word ‘n motiele oöspoor gevorm wat ‘n rustende spoor vorm wat later sal onkiem en aan talle nuwe soösporangiums oorsprong gee.  Wanneer die motiele (self-aangedrewe) soöspoor ‘n organiese substraat vind, begin dit te groei en vorm ‘n senositiese tallus.  Die tallus vorm nie ‘n tipiese miselium nie maar eerder risoïede wat soos haarworteltjies lyk wat reguit ondertoe in die substraat ingroei.

Potjieswamme is hoofsaaklik waterlewende (akwatiese) swamme maar daar is verskeie spesies wat in humus en tussen sandkorreltjies in nat grond leef.

Die oudste bewys vir die bestaan van Potjieswamme kom uit die Devoon-ouderdom Rhynie chert in Skotland.  Die fossielmateriaal van hierdie fossielvindplek is so perfek bewaar dat mens selfs die mikroskopiese strukture daarvan kan waarneem.

 

error: Content is protected !!