Oor die webwerf

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Hierdie webwerf het dit ten doel om biologie en die aard- en omgewingswetenskappe vir Afrikaanssprekendes toeganklik te maak.  Die inhoud van hierdie webwerf kan saam met die skoolkurrikulum gebruik word.

Hierdie webwerf poog om een van die groot probleme, wat deur die verwydering van Afrikaans uit meeste van ons tersiêre inrigtings veroorsaak is, aan te spreek.  Landwyd word Afrikaanssprekende onderwysstudente gedwing om in Engels klas te loop waar hulle al hulle lesings, vakdidaktiek en lesinhoud slegs in Engels ontvang.  Die onderwyser moet dan die klasse in Afrikaans vir Afrikaanssprekende kinders in ’n Afrikaanse skool aanbied maar sonder die noodsaaklike Afrikaanse vaktaal-agtergrond.

Die inligting op hierdie webwerf sluit die nuutste beskikbare inligting oor die onderwerpe in.  Tekortkominge en misverstande in die huidige skoolkurrikulum word ook hier aangespreek en reggestel.

Leerders, ouers en onderwysers kan gratis die inligting en prente aflaai en vir klasse en take gebruik mits erkennig gegee word aan die skrywer van die artikels en die kunstenaar wat die illustrasies geteken het of die fotograaf wat die fotos geneem het.

Die fotograaf wat die prent geteken het, of die foto geneem het, se teken verskyn in die hoek van elke prent of foto:

Francois Durand Rosa van Deventer Albert Durand

Hierdie teken is jou waarborg dat die fotos ons eie is en dat dit nie van elders af kom nie en dat ons jou die reg gee om dit vir jou eie gebruik te benut.  Dit is ook ‘n aanduiding dat ons verantwoordelikheid neem vir die akkuraatheid van die inligting in die tekeninge en fotos.

Dit is die minste wat ons van jou verwag – gebruik die materiaal vrylik maar moenie probeer om geld daaruit te maak nie, want ons wil dit gratis aanbied.

Moenie ons tekens uit die prentjies verwyder of afsny wanneer jy dit gebruik nie, want dit sal, soos plagiaat, sommer plein skelm, ondankbaar en ongeskik wees.

Materiaal mag onder geen omstandighede gebruik word in produkte wat verkoop word nie.

 

OOR DIE SKRYWER

Prof Francois Durand is ‘n dierkundige, paleontoloog en ekoloog.

Hy het vir tien jaar as paleontoloog by die Raad vir Geowetenskap gewerk voor hy as dosent in die Dierkunde Department van die Randse Afrikaanse Universiteit aangestel is. By RAU, later die Universiteit van Johannesburg, het hy vir meer as 25 jaar kursusse in dierdiversiteit, vergelykende morfologie en embriologie, evolusie, paleontologie, ekologie en wetenskapfilosofie aangebied. Sy navorsing sluit onderwerpe soos grot- en grondwaterekologie, ekologie van vleilande, paleontologie, evolusie, filosofie, onderwys, klimaatsverandering en die impak van mynwater op die ekologie in.

Dit is sy passie om wetenskap vir die algemene publiek te ontsluit en verstaanbaar aan te bied en hy was as beste lektor in die Fakulteit Natuurwetenskappe en die Universiteit van Johannesburg aangewys. Hy het vir jare die rubriek Fossielfokus in die wetenskaptydskrif Archimedes geskryf en was vir meer as 30 jaar op die radio ‘n deelnemer aan die wetenskapprogramme Hoe verklaar u dit op Afrikaans Stereo en later Ek wil weet op Radio Pretoria en Pretoria FM. Mens kan hom gereeld op TV en die radio hoor waar hy oor dierkunde, ekologie, paleontologie en klimaatsverandering gesels. Hy is ook ‘n wêreldbekende kunstenaar wie se kuns onder andere op posseëls en goue en silwer munte van die SA Munt verskyn het.

 

 

As jy graag meer oor ‘n onderwerp wil lees stuur jou navraag na:

mywereld01@gmail.com

error: Content is protected !!