ARCHOSAURIA 1: Inleiding
ARCHOSAURIA 1: Inleiding
François Durand
Meeste van die hooftakke van die reptiele het reeds in die Karboon Periode ontstaan. Die sinapsiede of soogdieragtige reptiele het eerste vanuit die primitiewe stamreptiele reeds, ongeveer 312 miljoen jaar gelede ontstaan. Daarna het die Parareptilia (wat die anapsiede insluit) ongeveer 306 miljoen jaar gelede ontstaan. Laastens het die diapsiede ongeveer 300 miljoen jaar gelede ontstaan.
Die sinapsiede, of soogdieragtige reptiele, het die dominante werweldiergroep op land gedurende die Perm Periode geword en teen die einde daarvan, ongeveer 252 miljoen jaar gelede, het die sinapsiede reeds bykans hulle evolusionêre hoogtepunt bereik. Daar was egter ‘n massa-uitsterwing aan die einde van die Perm Periode – trouens, dit was die grootste massa-uitsterwing wat die lewe op die Aarde ooit getref het. Gelukkig het ‘n handjievol sinapsiede hierdie uitwissing oorleef (gelukkig – anders was ons nie hier nie), maar dinge was nooit weer dieselfde daarna nie. Baie dinge het na die massa-uitsterwing verander – daar was nou in die opvolgende tydperk, die Trias Periode, ‘n hele nuwe ekologie met nuwe groepe plante en diere. Die koms van een van hierdie nuwe diergroepe, die argosauriërs, of heersende reptiele, het die geskiedenis van lewe op Aarde onherroeplik verander.
Daar was ‘n groot diversifisering van reptiele in die Trias Periode en talle nuwe groepe het ontstaan. Die diapsiede het die grootste diversifisering en aanwas van al die reptielgroepe getoon. Diapsiede word gekenmerk aan twee temporale vensters (of fenestras in formele biologiese terminologie) in die sykant van die skedel agter die oogkas. Diapsiede verskil van die sinapsiede, wat net een venster agter die oogkas het, en die anapsiede wat geen openinge agter die oogkas het nie.

Die argosauriërs (Archosauria) het vanuit meer primitiewe of basale Archosauriformes (dit beteken letterlik “met die vorm van argosauriërs”), wat reeds in die Perm Periode bestaan het, ontstaan (lees meer oor die basale Archosauriformes in die volgende hoofstuk).
Die argosauriërs het in die Trias Periode vinnig aangewas en gediversifiseer en talle ekologiese nisse oorgeneem en sodoende na die sinapsiede, teen die Middel Trias, die heersende werwelgroep op land geword. Argosauriërs het die dinosauriërs en pterosauriërs ingesluit wat vir bykans 130 miljoen jaar, tot ongeveer 65 miljoen jaar gelede, ‘n reuse invloed op lewe op Aarde gehad het. Na die Kryt uitwissing, is argosauriërs, in die vorm van krokodille en voëls, nog steeds met ons. Daar is omtrent twee keer meer voëlspesies op Aarde as soogdierspesies.
Argosauriërs (Archosauria) kan van ander diapsiede onderskei word omdat hulle verskeie unieke kenmerke, wat hulle van ‘n gemeenskaplike voorouer oorgeërf het, deel. Hierdie kenmerke is:
- Tande wat in tandkaste gesetel is – vandaar die naam thekodontiër
- Antorbitale vensters wat help om die gewig van die skedel te verminder
- Mandibulêre vensters in die onderkaak (mandibel).
- ‘n Vierde troganter (knobbel) op die dybeen.




Dit is opsigtelik dat al die primitiewe Archosauriformes, net soos die eerste argosauriërs wat uit hulle onstaan het, karnivories was wat hulle in direkte kompetisie met karnivoriese sinapsiede sou gebring het. Hierdie karnivoriese Archosauriformes het verskillende nisse betree en sou weens hul grootte, krag en vlugvoetigheid, eenvoudig die karnivoriese sinapsiede uitgekompeteer het en ‘n mens sien dit in die fossielrekord met die afname van die karnivoriese sinapsiede tydens die Trias Periode.
Die herbivoriese sinapsiede het egter vir lank nog gedy en dis verstaanbaar. Geen voedselpiramiede kan bestaan as die top predatore al die herbivore opvreet nie. Die herbivoriese sinapsiede het egter vinnig verminder en uiteindelik ook uitgesterf na die eerste herbivoriese dinosauriërs op die toneel verskyn het.
Daar is ‘n paar hipoteses oor die rede vir die sukses van die argosauriërs:
Sommige argosauriërs het op hul agterbene begin loop. Dit het hulle in staat gestel om baie vinniger as enige ander reptiel te beweeg. Dit is nogal iets wat mens in moderne argosauriërs – die voëls kan sien. Min mense weet dat die tweede vinnigste dier op land die volstruis is. Reptiele, soos akkedisse, swaai hulle lywe heen en weer wanner hulle beweeg. Dit is presies hoe visse en sekere amfibieërs soos salamanders beweeg. In water is dit baie suksesvol maar op land is dit ‘n baie energieverkwistende en lomp manier van beweeg. Wanneer ‘n reptiel sy bolyf en stert kan oplig word hierdie heen-en-weer sydelingse beweging uitgeskakel en kan die dier geweldig vinnig beweeg as hy sterk agterbene het – soos wat ons in sekere argosauriërs sien.
Argosauriërs kon waarskynlik beter aanpas by die droeë omstandighede wat die vroeë Trias Periode gekenmerk het wat dramaties van die nat Perm Periode verskil het. Diapsied reptiele het skubbe wat hul liggame verseël en het, anders as amfibieërs en soogdiere, nie klierryke velle nie en is dus beter bestand teen droeë, warm klimaatstoestande. Sinapsiede, waaruit die soogdiere ontstaan het, was die eerste groep wat vanuit die stamreptiele ontstaan het. Stamreptiele het waarskynlik steeds klierryke velle soos hul voorouers, die basale tetrapode (in leketaal: amfibieërs), gehad wat sal verduidelik hoekom amfibieërs en soogdiere die enigste werweldiere op land is wat klierryke velle het.
Moderne diapsiede soos akkedisse, slange, krokodille en voëls produseer uriensuur wat as ‘n pasta saam met die mis uitgeskei word. Dit is ‘n spesiale aanpassing van die niere om meer water te bespaar in vergeleke met uriene waar baie water uitgeskei word. Dit is logies om te aanvaar dat die Archosauriformes aanvanklik ook sulke aanpassings gehad het wat hulle in staat gestel het om in warm, droeë omstandighede te kan oorleef.
Die eindresultaat van hierdie kompetisie tussen die sinapsiede en Archosauriformes is dat die sinapsiede in getalle en diversiteit verminder het tot hulle uiteindelik uitgesterf het maar gelukkig nie voor hulle oorsprong aan soogdiere gegee het nie. Soogdiere en dinosauriërs verskyn ongeveer op dieselfde tyd in die fossielrekord. Argosauriërs was talryk en daglewend en soogdiere was min, klein en insekvretend en waarskynlik naglewend – soos wat die meerderheid van hulle nog steeds is.
* Die woord argosauriër is ‘n nuwe woord wat ek spesiaal vir hierdie webwerf geskep het. Die amptelike naam vir die groep is Archosauria. Die woord is van die Griekse woorde ἄρχων of “argoon” wat heerser beteken, en die woord σαῦρος of sauros wat akkedis beteken afgelei. Die woord ἄρχων is daarna na archon geromaniseer (dit bedoel om iets in Latyn om te skakel). Latyn het net die letter gamma in hulle alfabet wat soos die g in ghoen uitgespreek word en nie die g-klank soos in geel nie. Dus word die g klank van die Grieks argoon as ‘n ch in archon geskryf. Die Engelse kom nou in die storie waar hulle ch as tj soos in child of k soos in character uitspreek pleks van g soos in loch. Die arme Engelse het mos ‘n probleem met die uitspraak van c’s, k’s en ook ch’s en dus word die “g” klank van die Griekse χ as ‘n lekker kommin k klank deur hulle uitgespreek want hulle kan mos nie ‘n g-klank uitspreek sonder dat dit as gh uitkom nie. Maar ons hoef mos nie die wit- en swartrenoster twak op die res van natuurwetenskap oor te dra nie en dus hoef ons mos nie klanke wat ons Engelse meesters nie kan uitspreek na te boots nie. Ons kan gerus die Griekse uitspraak net so na Afrikaans oordra en so is die woord argosauriër gebore.
