Biologie Woordelys

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Biologie Woordelys

January 5, 2024 Biologie 0

Aalwurms is rondewurms-plantpeste,  Sien: Rondewurms.

Aambeeld of inkus is die tweede oorbeentjie of oorossikel in die middeloor van soogdiere.  Dit is tussen die hamer (malleus) en die stiebeuel (stapes) geleë.  Dit het vanuit die reptiel-kaakskarnierbeentjie, die kwadraat, ontstaan.

Aanhangsel is enige struktuur soos ‘n been, arm, vlerk of vin wat gewoonlik in pare aan die sykante van die liggaam van ‘n dier vasgeheg is.

Aapmens word hier op dieselfde manier gebruik as wat Raymond Dart en Robert Broom, die pioniers van paleoantropologie, daarna verwys het.  Aapmense van die genus Australopithecus het aan mensagtiges van die genus Homo oorsprong gegee.  Daar is egter ook ander aapmense soos Paranthropus, Ardipithecus en Kenyanthropus.

Aardvark – sien Erdvark.

Aartappelroes (potato blight) of Phytophthora infestans is ‘n patogeniese Waterskimmel wat landplante aanval.  Dit was vir die Ierse Hongersnood van 1845-1849 verantwoordelik.

Aasvreter is ‘n dier wat karkasse van dooie diere vreet.  Aasvreters sluit werwediere soos hiënas en jakkalse in, maar ook talle ongewerweldes soos maaiers van brommers, aaskewers, slakke, krappe, krewe en selfs duisendpote in.  In die geval van insekte en baie klein ongewerweldes soos nematode gebruik ons meer dikwels die terme detrivoor en detrivorie.

Abdominale holte is die vloeistofgevulde holte waarbinne die organe in die buik of abdomen van ‘n werweldier voorkom.  Dit word deur die viserale peritoneum omhul.

Abses is ‘n pynlike, ontsteekte holte in die liggaam wat met sug gevul is.  Dit ontstaan gewoonlik weens bakteriële besmetting.

Absorbtiewe selle kom in die lewer (linker spysverteringsklier) van meeste weekdiere voor.  Die hoordoel van die absorbtiewe selle is om voedingsdeeltjies intrasellulêr te verteer.  ‘n Voedselvakuool word rondom die voedseldeeltjie gevorm en met behulp van lisosome in die sel verteer.  Die onverteerde reste word weer deur die sel uitgeskei en na die maag vervoer.

Acariformes of Actinotrichida is die mees diverse mytgroep op Aarde.  Daar is reeds meer as 32 000 spesies benoem en beskryf, maar daar word vermoed dat daar tot tussen ‘n half miljoen tot net onder ‘n miljoen onbekende spesies mag wees.  Die Acariformes word in twee hoofgroepe, die Sarcoptiformes en die Trombidiformes verdeel.  Die Sarcoptiformes, wat mikroherbivore, fungivore en detrivore insluit, vreet vaste kos.  Sommige Sarcoptiformes, soos die Psoroptidia, sluit die stofmyte, jeukmyte, graan-, veer- en haarmyte in.  Die Trombidiformes sluit ‘n hele paar plantparasiete soos rooispinnekop in, maar daar is ook fungivore, dierparasiete en karnivore soos die rooi fluweelmyt en Demodex, die follikelmyte, wat lede van die Trombidiformes is.

Acarina is die oorspronklike subklas waaronder die myte geplaas was.  Genetiese navorsing het egter bewys dat die Acarina nie ‘n natuurlike monofiletiese groep is nie, maar uit twee taksa, die Acariformes en die Parasitiformes bestaan, wat elkeen nader aan ander aragniedgroepe as aan mekaar verwant is.  Beide groepe myte het ‘n sakagtige lyf, die idosoma, en agt pote.

Actinopterygii of straalvinvisse is ‘n klas (of sublas volgens sekere klassifikasies) onder die klas (of superklas volgens sekere klassifikasies) Osteichthyes of beenvisse.  Straalvinvisse is die grootste groep werweldiere en bevat meer as helfte van alle werweldierspesies (27 000 ekstante spesies).  Die uitstaande kenmerk van hierdie groep is die dun been en kraakbeenstafies in hul vinne wat die vin versterk.  Actinopterygii word in twee subklasse – die Chondrostei en Neopterygii verdeel.  Die Neopterygii word verder in die infraklasse Holostei en Teleostei verdeel waarvan laasgenoemde meer as 26 000 spesies bevat wat dit die grootste werweldiergroep maak.  Hulle kom in alle oseane en in baie varswaterhabitatte voor.  Die straalvinvisse het in die Laat Siluur ongeveer 420 Mjg ontstaan.

Adenosientrifosfaat – sien ATP.

Adrenalien of epinefrien is ‘n hormoon wat deur die byniere vervaardig word wanneer mens bedreig word, veral wanneer mens dit tydens die veg of vlug respons benodig.  Dit verhoog die bloedvloei na spiere, hartklop, suikervlakke en vergroot die pupille.  Dit kom in talle diere en selfs in sommige protiste voor.

Aerobies verwys na suurstofryke omstandighede of ‘n proses waarby suurstof gebruik word of ‘n lewenswyse wat suurstof benodig.

Afbraak verwys na die opbreek van iets in kleiner onderdeeltjies.  Organiese materiaal soos kompos sal deur die ensieme van swamme en die vertering van bakterieë in al hoe kleiner organiese verbindings afgebreek word, totdat die oorspronklike molekules waaruit die organiese materiaal opgebou is, weer aan ander organismes vir opname beskikbaar gestel word.

Afferente bloedvate, senuwees, nierbuisies verwys na hierdie strukture wat iets soos bloed, senuweeimpulse of uriene na ‘n orgaan vervoer.

Afknopping wat na knopvorming plaasvind, is ‘n algemene manier van ongeslagtelike voortplanting wat veral in gisse voorkom.  Knopvorming verwys na die kopie van die sel (in die geval van enkelsellige organismes) of ‘n nuwe meersellige organisme (in die geval van plante en diere) wat deur die oorspronklike organisme gevorm word.  Hierdie nuwe sel of organisme wat so gevorm word, word deur afknopping vrygestel.

Aflatoksien (aflatoxin) is ‘n giftige karsinogeniese en mutageniese verbinding wat sommige swamme, wat in die grond, verottende plantmateriaal, hooi, neute en graan voorkom, vervaardig.  Aflatoksien is een van die sterkste karsinogeniese stowwe bekend.  Kroniese (langdurige) blootstelling aan lae dosisse van aflatoksien kan kinders se groei beperk en lewerskade en lewerkanker veroorsaak.  Akute blootstelling, dit wil sê blootstelling aan groot hoeveelhede, veroorsaak akute lewernekrose en neurlogiese skade en kan dodelik wees.

Afrika bosrot (Aethomys chrysophilus), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Afrika olifant (Loxodonta africana), familie: Elephantidae, orde: Proboscidea, Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Afrika siwet (Civettictis civetta), subfamilie: Viverrinae, familie: Viverridae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Afrika suid van die Sahara is ‘n algemene term wat gebruik word om na die Afrika-deel van die Afrotropiese Soögeografiese Wyk (voorheen Ethiopis of Ethiopiese Soögeografiese Wyk), te verwys.

Afrosoricida – ‘n soogdierorde wat die tenreks van Madagaskar en kruipmolle of goue molle van Afrika suid van die Sahara bevat. Soögeografiese wyk: Ethiopis.

Afrotropiese Soögeografiese Wyk is die gebied suid van die Sahara, die suidelike twee derdes van die Arabiese Peninsula, Madagaskar en die kleiner eilande rondom Afrika.  Dit word gekenmerk aan ‘n spesifieke samestelling van diere wat slegs in hierdie gebied voorkom, of wat weinige verteenwoordigers in ander soögeografiese wyke het.  Hierdie gebied word onder andere gekenmerk aan die grootste verskeidenheid boksoorte en die grootste versameling lede van die Afrotheria naamlik dassies, aardvark, klaasneuse, tenreks en goue molle.  Amper helfte van die wêreld se primaatspesies kom in die vorm van lemurs in Madagaskar voor.  Van die unieke voëls wat hier voorkom is die volstruis, sekretarisvoël, tarentale, suikerbekkies en muisvoëls.  Die Sahara Woestyn vorm ‘n bykans onoorbrugbare hindernis, tussen die Etiopiese en Palearktiese Soögeografiese Wyke, waaroor diere nie kan migreer nie. Derduisende jare gelede was dit nog moontlik vir diere om oor hierdie gebied te migreer, want eens op ‘n tyd was die Sahara soos die Bosveld en daar was weiding en water vir diere.  Dit is hoe olifante wereldwyd vanuit Afrika versprei het, en hoe perdagtiges vanaf Noord Amerika, waar hulle ontstaan het, oor Eurasië en tot in Afrika gemigreer het en katte (insluitende leeus) se voorouers, wat in Asië ontstaan het, tot in Afrika gemigreer het.

Afskeiding is die proses waardeur nuttige stowwe (gewoonlik vloeistowwe) soos feromone, hormone, olies, melk, sweet, trane, mukus deur die liggaam vrygestel word.  Dit verskil van uitskeiding wat die uitwerping van afvalstowwe behels.

Agaricomycotina is een van die bekendste groepe swamme wat onder die Basidiomycota val en sluit die paddastoele, sampioene, rakswamme, pofballe en trilswamme in.  Hulle is hoofsaaklik landlewend alhoewel ‘n paar spesies waterlewend is.  Hulle is hoofsaaklik saprofities, maar daar is sommige wat patogene is terwyl sommige simbiotiese verhoudings deur middel van mikorrisa met plante vorm en ‘n paar spesies as ligene voorkom.

Aghulas Seestroom is die warm seestroom wat langs die Ooskus van Suid-Afrika van die trope af vloei.  Die Aghulas en Benguela Seestrome, en dus die Indiese en Atlantiese Oseane, ontmoet mekaar by Kaappunt.

Agnatha of kaaklose visse het in die Ordovisium Periode ontstaan, in die Siluur Peiode vermeerder en in die Devoon Periode hul hoogtepunt in getalle en diversiteit bereik en het in oseane regoor die Aarde voorgekom.  Vandag word hierdie groep deur slegs sowat 120 spesies verteenwoordig – die lampreie en slympalings wat ook in sekere klassifikasies Cyclostomata genoem word.  Die oudste fossiele van die kaaklose visse is in Kambriese rotse gevind.  Hierdie visse het ronde, kaaklose monde, geen aanhangsels, mae of werwels nie.  Hulle het egter ‘n notochoord en meer pare kiewe as wat kaakvisse het.  Kaaklose visse van die oertyd sluit konodonte en Ostracodermi in.

Agterlyf of abdomen verwys, in dié boek, na die agterste deel van ‘n geleedpotige se liggaam.  In die geval van insekte en spinnekopagtiges, het hierdie deel gewoonlik nie ledemate nie.

Agterste of longitudinale flagellum verwys na die lang flagellum waarmee die dinoflagellate swem.  Dit is rond in deursneë en verskil van die dwars- of transversale flagellum wat ook op dinoflagellate voorkom.  Hierdie verskil in flagellumtipes word as kenmerkende eienskap van die takson Heterokonta van die Koninkryk Chromista beskou.

Akkedis – sien Lacertilia.

Aknee of acne vulgaris is ‘n velontsteking wanneer dooie velselle en sebum die velporieë verstop en deur Cutibacterium acnes-bakterieë ontsteek word.

Akritarge is ronde mikrofossiele wat in sedimentêre rotse vanaf ongeveer 2150 miljoen jaar gelede (Mjg) voorkom.  Hulle beskermende doppe bestaan uit kerogeen.  Dis nog onseker wat die biologiese verwantskappe van akritarge is en die voorstelle wissel vanaf eiers van klein metazoa, tot groenalg-kiste, of dat verskillende akritargsoorte eintlik die verskillende lewensstadiums van die voorouers van dinoflagellate was.  Akritarge het dikwels haaragtige stekels.

Aktomiosien is ‘n proteïenmolekule wat talle rolle in die sel en weefsels speel – vanaf seldeling, die saamtrekbare eienskappe van spiere, tot by die integriteit van die selmembraan.

Alge verwys losweg na ‘n polifiletiese groep primitiewe see- en varswaterplante wat fotosintetiseer.  Alge word in bruinalge, rooialge en groenalge verdeel.  Hierdie groepe is slegs baie verlangs aan mekaar verwant en behoort trouens aan verskillende Koninkryke: groenalge behoort aan die Koninkryk Plantae (plante), rooialge behoort aan die Koninkryk Protista en bruinalge behoort aan die Koninkryk Chromista.

Alkaliniteit is water se vermoë om suur te neutraliseer.

Alkaloïede is ‘n klas natuurlike organiese stikstofverbindings wat hoofsaaklik ook koolstof en waterstof bevat.  Dit kan ook suurstof en swael bevat en in ‘n paar gevalle ook chloor, broom en fosfor.  Alkaloïede, wat deur ‘n wye verskeidenheid organismes, insluitende bakterieë, swamme, plante en diere, vervaardig word, word gekenmerk aan hulle bitter smaak.  Alkaloïede het ‘n sterk invloed op die metabolisme van diere wat daaraan blootgestel word en word dikwels as gifstowwe deur plante en swamme aangewend om hul vyande af te weer.  Sommige alkaloïede kan sterk farmakologiese uitwerkings op mense hê en word in medisynes gebruik om malaria, kanker en asma te bestry. Kaffeïen, nikotien, kokaïen en opium is bekende alkaloïede.

Alkohol is ‘n organiese koolwaterstofverbinding met die kenmerkende hidroksielgroep (-OH) wat aan ‘n koolstofatoom verbind is, en die algemene formule CnH2n+1OH of CnH2n+2O het.  Die sosiaal-aanvaarbare dwelm etanol (etiel alkohol) kom in drank voor.  Ander vorms van alkohol soos metanol is nog giftiger as etanol.

Allergeen is ‘n stof wat ‘n allergiese reaksie in ‘n mens of dier ontketen.  Die immuniteitstelsel van sommige mense oorreageer soms op vreemde stowwe wat die liggaam binnedring, en vervaardig spesifieke teenliggaampies, om die liggaam teen die allergeen te verdedig.  Hierdie reaksie van die liggaam veroorsaak allergiesimptome in mense wat aan allergieë ly.  Dit is egter normaal vir ‘n mens of dier, om groot hoeveelhede teenliggaampies te vervaardig, om hulle teen parasiete te verdedig.

Allergie is die oorvervaardiging van teenliggaampies deur sommige mense se immuunstelsel, wanneer dit deur die teenwoordigheid van allergene gestimuleer word.

Alveolata is ‘n groep eensellige eukariote wat aan die Koninkryk Chromista hoort.  Dit sluit die Ciliophora en die Myzozoa in.  Een van die kenmerkende eienskappe van die Alveolata is die voorkoms van kortikale alveoli, wat saam met die selmembraan, die buigbare pellikel vorm.  Harde plate kom in die gepantserde dinoflagellate se alveoli voor.  Alveolata bevat die enigste giftige spesies onder die eensellige eukariote – soos die dinoflagellate wat rooigety veroorsaak.

Alveolus (alveoli meervoud) van die werweldierlong is die mikroskopiese holtetjies in die long waar gaswisseling plaasvind – koolsuurgas ontsnap vanuit die bloed in die bloedhaarvate, wat die alveolus omring, terwyl suurstof uit die ingeademde lug deur die bloed in die bloedhaarvate opgeneem word.  Alveoli kan ook na die plat sakkies, wat net onder die selmembraan van die eensellige Alveolata geleë is, wat saam met die selmembraan, die buigbare pellikel vorm, verwys.

Alveolus in weekdiere is die voorste kamer van die belemnietskulp wat deur die pro-ostrakum omring is, waarbinne die liggaam van die belemniet gesetel was.

Alzheimersiekte is ‘n progressiewe neurodegeneratiewe siekte wat gekenmerk word aan ‘n agteruitgang van denkprosesse wat ‘n toename in geheueverlies, spraakprobleme, ruimtelike disoriëntasie, inkontinensie, gebrek aan oordeel en verwarring insluit.

Amasone verwys na die streek waar die wêreld se grootste tropiese tot subtropiese klam breëblaar reënwoud voorkom.  Hierdie woud bedek bykans die hele Amasonekom wat ongeveer 7 000 000 km2 van die noordelike deel van Suid Amerika weerskante van die ekwator beslaan.  Hierdie gebied is bekend vir sy biodiversiteit.

Amastigoot verwys na ‘n Protista wat nie ‘n sigbare flagellum of silia besit nie.  Dit verwys ook spesifiek na die lewenstadium wat tripanosome aanneem wanneer hulle binne die gasheer se selle leef.  Dit word ook, veral in Amerika, waar die siekte leishmaniose voorkom, die leishmania verskynseltipe genoem.

Amblyomma hebraeum – sien Suid-Afrikaanse bontbosluis.

Amblyomma variegatum – sien Tropiese bontpootbosluis.

Amebe – sien Amoeba.

Amebe-agtig of amoeba-agtig verwys na ‘n eensellige organisme of ‘n sel in ‘n meersellige organisme (soos ‘n witbloedsel) wat soos ‘n amebe voorkom en met pseudopodia voortbeweeg en voedseldeeltjies of kleiner organismes soos bakterieë deur fagositose kan opneem.

Amebiese disentrie of amoebose word deur die besmetting van Entamoeba histolytica veroorsaak, mense kan geen, ligte tot erge simptome toon.  Simptome sluit in: moegheid, gewigsverlies, dermswere, buikpyn, diarree en bloederige diarree.  Mense word dikwels deur Entamoeba geparasiteer, wanneer hulle besmette water drink.  Ongeveer 55 000 mense het wêreldwyd in 2010 van amebiese disentrie gesterf.  Alhoewel E. histolytica die mees algemene oorsaak van amebiese disenterie is, is daar talle ander Entamoeba spesies wat ook daarvoor verantwoordelik kan wees.

Amebosiete is selle wat gewoonlik met die bloedsirkulasie geassosieër word en wat in meeste diere as teenliggaampies dien (in werweldiere word dit as een van die witbloedliggaampies geklassifiseer).  Amebosiete beweeg tussen weefsel rond om sekere funksies te verrig soos om bakterieë te verorber.

Ameridelphia is ‘n superorde van buideldiere wat in Noord- en Suid-Amerika voorkom.  Hierdie superorde sluit 108 spesies opossums, wat aan die orde Didelphimorphia hoort en 7 spesies muisopossums, wat aan die orde Pucituberculata hoort, in.  Die enigste buideldier, wat ten spyte van die feit dat dit in die Amerikas voorkom, saam met die Australiese buideliere geklassifiseer word omdat dit naasverwant aan die voorouer van die Australiese buideldiere is, is die klein Monito del Monte van die woude van Suid-Amerika.

Amerikaanse haakwurm – sien Nuwe Wêreldse haakwurm.

Amfibieë is tetrapode wat aan die klas Amphibia hoort.  Hierdie groep, wat vanuit die lobvinvisse ontstaan het, se fossiele verskyn vir die eerste keer in die Devoon, ongeveer 390 Mjg.  Hierdie eerste landlewende werweldiere, wat ons ook die basale tetrapode noem, het waarskynlik oorspronklik net op land gekom om te jag terwyl hulle die res van die tyd in mere, moerasse en riviere geleef het.  Mettertyd het meeste van hul nasate permanent op land geleef en net na die water teruggekeer om daar voort te plant.  Hulle is dan ook die enigste tetrapode wat ‘n larwale stadium in hulle ontwikkeling het.  Amfibieë het:

  • Naakte, klierryke velle wat hulle saam met ‘n verskeidenheid van organe soos longe, kiewe (in larwes en sekere volwassene diere soos die Axalotl), vel van die mond vir respirasie gebruik.
  • Drie hartkamers om die dubbele bloedsirkulasie meer effektief te fasiliteer en sintuie wat aangepas is om buite water te funksioneer.
  • Skelette wat aangepas is om hul gewig buite die water te ondersteun,
  • Aanhangsels, heup- en skouergordels aangepas vir beweging op land
  • Ribbekaste om hul interne organe te beskerm.
  • Eerste werweldiere wat nekke ontwikkel het. Nekke laat kopbeweging toe.
  • Meeste bly in klam gebiede en het gedragspatrone ontwikkel om uitdroging te keer en om uithongering te voorkom – hulle is dus meestal naglewend en bly in gate of ander skuilplekke in die dag en hiberneer in die winter.

Amfibieë was in die Karboon Periode die dominante werweldiergroep op land maar was in die Perm Periode deur die sinapsiede as dominante werweldiergroep vervang wat amfibieëdiversiteit erg geraak het – die subklasse Anthracosauria en Temnospondyli het verdwyn en slegs die subklas Lissamphibia (wat die moderne amfibieë insluit) het oorgebly.  Moderne amfibieë hoort aan die orde Anura (paddas en skurwepaddas), die orde Urodela en die orde Gymnophiona (rubbersalamanders).  Daar is tans ongeveer 7 000 ekstante spesies bekend.

Aminosure is die boublokke van proteïene.  Aminosure en proteïene saam vorm die boublokke van lewe.  Aminosure is organiese verbindings wat uit ‘n amino (-NH2) en karboksiel (-COOH) funksionele groepe saam met ‘n syketting (R-groep) bestaan.  Die R groep is uniek aan elke aminosuur.  Daar is ongeveer 500 aminosure bekend, alhoewel slegs 20 in die genetiese kode voorkom.  Aminosure speel ook ‘n rol in talle lewensprosesse soos neurotransmissie en biosintese.  Aminosure word deur lewende organismes vervaardig, maar kan ook elders spontaan in die natuur ontstaan en selfs in die ruimte vorm (sien: https://wereldomons.co.za/2021/05/22/die-ontstaan-van-lewe/ vir meer oor die ontstaan van lewe).

Ammoniet is ‘n tipe uitgestorwe kefalopood (Subklas Ammonoidea, Orde Cephalopoda) wat vanaf die Devoon tot met die K-T uitsterwing in oseane wêreldwyd voorgekom het.  Ammoniete het, danksy die gasgevulde kamers in hul doppe, in die oop water van oseane rondgedryf – met ander woorde hulle het ‘n pelagiese bestaan gevoer.  Die harde doppe versteen goed en die verskillende spesies word as indeksfossiele in biostratigrafie en geochronologie gebruik.

Amnionmembraan is die membraan wat die embrio van die amniote (reptiele, voëls en soogdiere) omring.  Die funksie van die membraan is om die embrio te beskerm en die amniotiese vloeistof, waarin die embrio gebaai word, te omsluit.  Die amniotiese vloeistof keer dat die embrio uitdroog en dat weefsel, wat aan mekaar raak, vasgroei.

Amniote sluit die reptiele, voëls en soogdiere in.  Dit is landlewende diere (alhoewel sommiges later weer seelewend geword het) wat eiers buite die water lê (d.w.s. voor plasentale soogdiere ontstaan het).  Die amnioot-eier het ‘n amnionmembraan wat die embrio omhul.  Hierdie eiers het leeragtige of kalkagtige doppe wat die inhoud van die eier teen uitdroging beskerm en word dus buite die water gelê.  Die dooier binne die eier dien as kosbron wat die embrio onderhou.  In die geval van amfibieë moet die larwes op ‘n baie vroeë stadium van hul ontwikkeling uitbroei om hul eie kos te vind.  Amniote het dus nie ‘n larwale stadium in hul ontwikkeling nie.  Lewendbarende amniote (soos buideldiere en plasentale soogdiere) het eiers met ontwikkeling in die baarmoeder vervang.  Die oudste onbetwisbare reptiel (en dus amnioot) waarvan ons weet is Hylonomus wie se spore in 315 miljoen jaar oue Karboon lae in Nova Scotia in die VSA ontdek is.  Die skelet van Hylonomus dui daarop dat hierdie akkedisagtige diertjie insekte gevreet het.

Amoeba of ameba is ‘n eensellige eukariotiese organisme wat die vermoë het om van vorm te verander.  Amoebas word as enkelsellige organismes onder die Koninkryk Protista geklassifiseer.  Hulle is vormloos en kan hul selmembrane uitstulp om pseudopodia te maak, en kan deur middel daarvan rondseil en ook voedseldeeltjies en eensellige organismes soos ander protiste en bakterieë daarmee omvou, om dit in die sel op te neem.  Amoebavormige selle kom egter wydverspreid onder swamme en diere voor.  Die sperms van die nematode, die witbloedselle van diere en die argeosiete van sponse is almal amoebavormig.  Amoebas en amoebavormige selle beweeg met behulp van pseudopodia wat uitstulpings van die selmembraan is.

Amoebozoa is ‘n filum van eensellige eukariote waaraan die amebe behoort.  Hulle word gekenmerk aan hul gebruik van pseudopodia vir voortbeweging en voeding deur fagositose.  Die pseudopodia is uitstulpings van die sel wat met endoplasma gevul is.

Amphioxus is die naam van die ikoniese voorbeeld van die Cephalochordata wat in Dierkunde handboeke en praktiese klasse gebruik word.  Hierdie ongeveer 25-80mm lange diertjie, lyk amper soos ‘n deursigtige smal vissie.  Hulle begrawe hul sterte en tot so twee derdes van hul lyf tussen die sand op die seebodem in en voed dan op mikro-orgnismes en voedseldeeltjies wat in die water dryf.  Daar is 30-35 spesies wat aan die genusse Branchiostoma en Epigonichthys hoort.  Die genusnaam Branchiostoma het mettertyd die oorspronklike genusnaam Amphioxus vervang, maar Amphioxus was so welbekend dat dit nou as gewone noemnaam vir lede van die Cephalochordata gebruik word.  Die Cephalochordata is die sustergroep naasverwant aan die werweldiere en al die chordaatkenmerke kom in die lede van die Cephalochordata van embrionale ontwikkeling tot en met hul dood voor.  Cephalochordata het m.a.w. ‘n notokoord, kiefsplete, post-anale stert, hol dorsale senuweekoord en ‘n endostiel lewenslank.

Amphisbaenia of wurmakkedisse is ‘n groep van meer as 200 ekstante reptiele met verlengde liggame en wat hul ledemate verloor het.  Die lede van die genus Bipes het hul arms behou, maar al die ander wurmakkedisse is pootloos.  Omdat hulle met hul koppe grawe en ondergronds bly is die elemente van hul skedel vergroei en versterk.  Hulle oë is rudimentêr en is met vel en skubbe bedek maar kan nog steeds lig wat deur die vel skemer met die retina waarneem.  Die ore se oorkanale het verdwyn.  Om ruimte in hul smal lywe te bespaar word slegs die regterlong ontwikkel, in teenstelling met slange waar slegs die linkerlong ontwikkel.  Wurmakkedisse woon ondergronds waar hulle op miere en termiete en ander klein ongewerweldes voed.  Hulle het een tandjie in die middel van die bokaak en meeste spesies het pienk liggame en hul skubbe is in ringe om hul lywe gerangskik wat hulle soos erdwurms laat lyk.  Meeste spesies is onder 15 cm lank.  Meeste spesies kom in die suidelike halfrond voor en kom wydverspreid in Afrika en Suid-Amerika voor.  Hulle kom egter ook op die Karibbiese Eilande, in die Midde Ooste, in Morokko en Spanje en in klein gebiede van die heel westelike en oostelike gebiede van Noord Amerika voor.

Ampullas kom op die eindpunte van die drie halfmaanvormige kanale in die werweldier se binneoor voor.  Elke halfmaanvormige kanaal sluit by ‘n ronde blasie, dubbel die deursneë van die kanaal, aan.  Hierdie blasies staan as die voorste, odemagterste en horisontale ampullas bekend.  In elke ampulla is daar ‘n trossie gevoelshaartjies wat met ‘n jellieskede of koppie (capula) omhul is.  Wanneer die kop in enige rigting in ruimte gedraai word, buig die versnellingstraagheid of inersie hierdie gevoelshaarties wat dan inligting ten opsigte van die rigting van rotasie na die brein stuur.

Anaerobies verwys na omstandighede waar daar geen of min suurstof is, of geen suurstof in ‘n biologiese proses gebruik word nie, of ‘n lewenswyse wat nie suurstof kan verdra nie.  Anaerobiese organismes verwys na organismes wat geen of baie min suurstof kan tolereer of metaboliese prosesse wat sonder die teenwoordigheid van molekulêre suurstof plaasvind.  Meeste bakterieë en baie protiste kan nie in suurstofryke omtandighede leef nie en kom in anoksiese plekke soos op die seevloer, in die dermkanaal van organismes of diep onder die grond voor.

Anafalaktiese skok of anafalakse is ‘n hewige allergiese reaksie wat binne minute tot ure kan plaasvind en die dood van ‘n persoon kan veroorsaak.  Dit sluit tipies ‘n jeukende veluitslag, die opswel van die tong en keel, kortasem, braking, lighoofdigheid en lae bloeddruk in.  Dit kan deur byte en steke van geleedpotiges soos insekte en aragniede, kos en medikasie veroorsaak word.

Analoë kenmerke is kenmerke wat deur konvergerende evolusie ontstaan het, wanneer twee verlangs verwante organismes soortgelyke kenmerke ontwikkel het om soortgelyke omgewings-uitdagings te bowe te kom.  Soos die vlerke van voëls, vlermuise en pterosauriërs of die liggaamsvorm en vinne van visse, dolfyne en igtiosauriërs (of Ichthyosauria vir die mense wat meer konformisties dink).  In hierdie voorbeelde het nie een van hierdie groepe diere die kenmerk by een van die ander of ‘n gemeenskaplike voorouer oorgeërf nie.  Met ander woorde vlermuise is nie voëls nie al kan beide vlieg en dolfyne is nie visse nie al kan beide swem.

Anaplasma is ‘n bakterie wat aan die orde Rickettsiales behoort.  Soos ander Rickettsiales bakterieë, dring dit die gasheer se rooibloedselle binne wat tot die siekte anaplasmose lei.  Hierdie siekte kom meestal in tropiese en subtropiese gebiede voor waar dit deur geleedpotige parasiete soos bosluise en sekere bloeddrinkende vlieë versprei word.

Anaplasmose is ‘n siekte wat deur die Anaplasma bakterie veroorsaak word wat deur verskeie bosluisspesies na mense en diere oorgedra kan word.  Die bakterieë dring rooibloedliggaampies binne en voed daarop.  Dit lei tot gewigsverlies, diarree, bleekheid, hemolitiese anemia, aggressie en hoë koors.

Anapsida is ‘n subklas van die reptiele wat, anders as die ander subklasse, die Synapsida en Diapsida, geen temporale vensters (openinge in die slaapwyk agter die oogkas) in die skedel het nie.  Daar was talle anapsiedgroepe in die Karboon en die Perm Periodes, maar meeste het teen die einde van die Perm uitgesterf.  Alhoewel primitiewe anapsiede postkaniene tande gehad het, het meer gevorderde anapsiede soos die Dicynodontia grotendeels hul tande, buiten die slagtande in die bokaak, verloor en het ‘n horingagtige bek gehad.

Anastome in swamkunde verwys na die saamsmelting van hifes.

Anastomerende bedoel saamsmeltende, aansluitende of saamvloeiende.  Dit is die teenoorgestelde van vertakkende.  Mens kan dit gebruik om na hifes of riviere of bloedvate, wat by mekaar aansluit, te verwys.

Anatomie is die studie van die struktuur van organe en organismes.

Anchieta se vlermuis (Hypsugo anchietae), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Ancylostoma duodenale – sien Ou Wêreldse haakwurm.

Ancylostomose duodenale is die siektetoestand wat deur die Ou Wêreldse haakwurm veroorsaak word.  Die simptome sluit: naarheid, buikpyn en ongerief, diarree, bloed in die stoelgang en ystergebrek-bloedarmoede in.

Angiosperme – sien blomplante.

Angola langhaarvlermuis (Cistugo seabrai), subfamilie: Myotinae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Angola losstertvlermuis (Mops condylurus), familie: Molossidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Angoni se vleirot (Otomys angoniensis), subfamilie: Otomyinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Angulêre been is ‘n beenelement wat agter op die tetrapood se onderkaak onder die artikulêre been voorkom.  Die agterste rand van die angulêre been van soogdieragtige reptiele is uitgehol en het die trommelvlies gehuisves.  Die timpaniese ring wat in soogdiere die trommelvlies vasanker het uit die angulêre been ontstaan.

Annelida – sien Gesegmenteerde wurms.

Anneliede – sien Gesegmenteerde wurms.

Anomalokariede – sien Radiodonta.

Anomocephaloidea is ‘n primitiewe groep anomodontiërs wat in Gondwanaland tydens die Middel Perm voorgekom het.  Slegs twee spesies is bekend van hierdie groep nl. Anomocephalus africanus van Suid-Afrika en Tiarajudens eccentricus van Brasilië.  Hulle was herbivories en het groot lywe gehad.  Anders as die latere anomodontiërs, die Dicynodontia, het anomokefaloidiërs baie tande gehad.   Hulle tande het dig teen mekaar gesluit en was aangepas om plante te eet. Tiarajudens het ook twee reusagtige lang slagtande vir verdediging of vertoon gehad.

Anomodontia is ‘n groep herbivoriese therapsiede (therapsiede staan deesdae bekend as die Neotherapsida) wat wêreldwyd in die Perm en Trias Periodes voorgekom het.  Die anomodontiërs het die groepe soos Venyukovioidea, Dromasauria en die Dicynodontia ingesluit.  Slegs die Dicynodontia het tot in die Laat Perm Periode oorleef.  Die Dicynodontia was die volopste landlewende herbivore van die Laat Perm en Trias Periodes en het verskeie herbivoriese nisse gevul.  Hulle het in grootte vanaf olifant-grootte diere tot klein tonnelgrawers gewissel.  Meeste van die Dicynodontia het tydens die Perm-Trias uitwissing uitgesterf maar die wat oorleef het, het aan groot bonkinge herbivore oorsprong gegee wat tot aan die Laat Trias voorgekom het.  Primitiewe anomodonte soos die Anomocephaloidea, Venyukovioidea en Chainosauria het baie tande gehad.  Meeste lede van Dicynodontia het egter al hul tande buiten hul boonste slagtande verloor (sommige spesies het selfs dit ook verloor) en het snawelagtige bekke soos skilpaaie gehad.

Anomodontiërs – sien Anomodontia.

Anomokefaloidiërs – sien Anomocephaloidea.

Ansorge se losstertvlermuis (Chaerephon ansorgei), familie: Molossidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Antarktiese minkewalvis (Balaenoptera bonaerensis), subfamilie: Balaenopterinae,  familie: Balaenopteridae, suborde: Mysticeti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Antarktiese pelsrob (Arctocephalus gazella), familie: Otariidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora.  Kom rondom die Suid-Afrikaanse kus voor.

Antennas, wat ook as antennes of voelers bekend staan, kom op die voorste een of twee segmente van sekere geleedpotiges (insekte, duisendpote, honderdpote en skaaldiere) voor.  Daar is net soveel verskillende vorms van antennas as die verskillende funksies wat hulle moet verrig.  Insekte het tipies twee antennas en, buiten vir ‘n handjievol uitsonderings, het skaaldiere twee paar antennas, terwyl die ander geleedpotiges hierbo genoem, een paar het.  Spinnekopagtiges het nie antennas nie.  Antennas is hoofsaaklik sensoriese organe en, afhangende van die spesifieke geleedpotige, kan dit vir gevoel, lugbeweging, hitte, vibrasies (insluitende klank) en veral vir smaak, reuk en feromoon-waarneming, gebruik word.  Sommige geleedpotiges gebruik hulle antennas tydens paring, eiers uitbroei, om te swem en selfs die diertjie self vas te anker.

Antheridium is die manlike voortplantingsorgaan van Sakswamme.  Dit versmelt met die naasliggende askogonium van ‘n ander stam.  Die kerne van die antheridium beweeg deur die trigogeen na die askogonium.

Anthracosauria is ‘n uitgestorwe subklas van groot reptielagtige basale tetrapode wat vanaf die Karboon tot vroeë Perm Periodes voorgekom het.  Die antrakosauriërs is nader aan die amniote as aan die ekstante lisamfibieë, soos paddas en salmanders, verwant.

Antibiotika of antibiotikums is organiese verbindings wat bakterieë doodmaak of inhibeer.  Natuurlike antibiotika soos penisillien is chemiese stowwe wat swamme vervaardig in hul stryd teen bakterieë, waarmee hulle vir kos en lewensruimte moet meeding.  Deesdae is daar egter ook sintetiese antibiotika, wat in laboratoriums vervaardig word.

Antieke Griekeland is die gebied wat tydens die 12de eeu vC tot die einde van die Klassieke Tydperk 600 nC deur mense van ‘n sekere kultuur en taalgroep bewoon was.  Hulle het hulself nooit Grieke genoem nie – die benaming was vir hulle deur Romeine gegee – maar het eerder na hulself as Atheners, Spartane of Akkadiërs, volgens die stadstaat waar hulle gewoon het, verwys.  Die stadstate was tydens die heerskappy van Alexander die Grote in die vierde eeu vC in ‘n enkele politieke gebied gekonsolideer.  Die filosowe en wetenskaplikes van Antieke Griekeland was verantwoordelik vir die grondlegging van Westerse filosofie, kuns en wetenskap.

Antikoagulant – sien Teenstollingsmiddel.

Antioksidante is stowwe wat okidasie van molekules in die sel deur vry radikale inhibeer (sien Oksidatiewe stres).  Askorbiensuur is ‘n voorbeeld van ‘n antioksidant.

Antorbitale venster is ‘n opening voor die oogkas op die snoet van meeste argosauriërs se skedels.  Buiten vir die krokodille, kan mens dit op die skedels van thekodontiërs, dinosauriërs en voëls sien.

Anura (ἀνούρα, “sonder stert” in Antieke Grieks) is ‘n amfibieëorde wat paddas en skurwepaddas insluit.  Anura kom in alle kontinente buiten Antarktika voor.

Apeks predator – sien Spitsroofdier.

Apicomplexa is ‘n groot filum van verpligte selparasiete.  Daar is reeds meer as 5 000 bekend, maar daar is waarskynlik honderde duisende wat nog nie ontdek is nie.  Hierdie groep parasiteer ‘n groot verskeidenheid werweldiere en ongewerweldes. Hulle unieke kenmerke sluit poolringe, mikrotubules onder die selmembraan, die apikale kompleks, roptrieë en mikroneme in, wat hulle in staat stel om gasheerselle binne te dring.  Meeste Apikomplexa het ‘n plastied, wat nie meer fotosintetiseer nie, maar nou vir ander belangrike metaboliese funksies aangewend word.

Apikale kompleks is ‘n struktuur wat op die voorpunt van sekere Apicomplexa soos Toxoplasma en Plasmodium voorkom.  Dit bestaan uit spiraal gerangskikte mikrotubules wat die konoïed vorm, die roptrieë wat proteïene afskei en een of meer apikale poolringe.  Die apikale kompleks is betrokke by die afskeiding van proteïene wat die gasheermembraan verander sodat die parasiet die gasheersel binne kan dring.

Apikale membraan antigeen 1 is ‘n proteïen wat Plasmodium merosoïete in staat stel om die gasheer se rooibloedselle binne te dring.

Apikale papilla verwys na die puntjie wat voor op die mirasidium voorkom.  Dit bevat sintuie waarmee dit die varswaterslak, wat as gasheer gaan dien, soek.  Daar is ook gomkliere wat gom afskei waarmee die mirasidium aan die gasheer vasplak en kliere wat ensieme afskei om rondom die punt van aanhegting, die gasheer se vel op te los om sodoende ‘n gat te maak, waardeur die mirasidium in die gasheer kan binnedring.  Die apikale papilla stulp in, om ‘n suier bo-oor die gom te maak, waarmee dit aan die slak se vel vassuig.

Apikale ring is die ring wat aan die voorpunt van Apicomplexa selle voorkom en wat deel van die apikale kompleks is.  Dit is verantwoordelik vir die organisasie en vashegting van mikrotubuli wat onder die selmembraan geleë is.

Apikale sel is die sel op die punt van ‘n hife.  Die hife groei deur middel van seldeling van die apikale sel.

Aplacophora sluit die Klas Caudofoveata en die Klas Solenogastres in.  Die aplakofore is weekdiere wat geen skulpe het nie, maar huide, wat met kalkagtige stekels bedek is, besit.  Die teenwoordigheid van ander unieke weekdieragtige organe soos die radula en genetiese bewyse dui egter op aplakofore se verwantskap aan die ander weekdiere.  Die eerste weekdiere kon moontlik soos die aplakofore gelyk het.

Aplakofore – sien Aplacophora.

Apoda – sien Wurmsalamanders.

Apokriene kliere bestaan uit gekronkelde buisies wat op die kontak tussen die dermis en subkutaneuse vet voorkom, en strek van daar as reguit buisies, tot by die onderpunt van haarfollikels.  Die gekronkelde deel vervaardiging olies of was wat dan deur die reguit buisie, tot in die haarfollikel, langs die haar, tot op die vel afgeskei word.  Hierdie olies en wasse, bevat feromone wat vir chemiese kommunikasie tussen lede van dieselfde spesies verantwoordelik is.  In soogdiere kom apokriene kliere wydverspreid oor die liggaam, en selfs in die urienwegstelsel voor, terwyl ekkriene kliere tot hulle palms en sole beperk is.  By die mens is apokriene kliere weer tot die armpitte, tepels, ooglede, neusvleuels, rondom die anus en op die geslagsorgane beperk, terwyl ekkriene kliere op die res van die menslike liggaam voorkom.  Die waskliere in die oorkanaal en melkkliere is gespesialiseerde apokriene kliere.

Apothekium (apothecium) is die bakkievormige askokarp wat in baie Sakswamme voorkom.  Dit kan miljoene askusse of sporedosies bevat wat elk agt askospore het.

Arabiere is ‘n groep mense wat oorspronklik van Noord Afrika (die Magreb, Levant, dele van die Sahara en die Horing van Afrika) en die Arabiese Peninsula na die res van die wêreld, veral die Midde Ooste en die Weste, versprei het.  Die hoofkenmerk wat mense gebruik om hierdie groep te identifiseer is die feit dat hulle Arabies praat en hoofsaaklik Moslem is. Arabiere het ‘n geweldige groot impak op die wêreldgeskiedenis gemaak en was die leiers in wetenskap, wiskunde, regte, medisyne en landbou tydens die Middeleeue.  Hulle nalatenskap in hierdie gebiede, is tot vandag nog opmerklik – soos die feit dat ons Arabiese syfers gebruik, wiskunde van regs na links doen, getalle van regs na links lees en algebra doen.  Danksy die Arabiere het ons nog die werke van Griekse filosowe soos Aristoteles, Sokrates en Hippokrates, want hulle het die Klassieke Grieke en Romeine se geskrifte in hul biblioteke bewaar, terwyl geskrifte wat “nie-Christelik” was, tydens die Middeleeue in Europa verbrand is.

Arachnida – sien: Spinnekopagtiges.

Aragniede – sien Spinnekopagtiges.

Aragoniet word uit ‘n spesifieke oriëntasie van kalsiumkarbonaatkristalle (CaCO3) deur biologiese en anorganiese prosesse in ‘n vars- of seewater omgewing gevorm en vorm saam met kalsiumkarbonaat, die belangrikste boustene van die weekdier se skulp.  Aragoniet kan, wanneeer dit tot meer as 300°C verhit word, in kalsiet verander.

Arbovirus (afgelei van: arthropod borne virus) is ‘n virus wat deur geleedpotiges na plante, swamme of diere versprei word.  Dit sluit virusse soos die Dengue en geelkoors virusse, wat deur die Aedes muskiet oorgedra word, die Japannese enkefalitis, Wes-Nyl en Slenkdal virusse, wat deur Culex muskiete oorgedra word, in.

Archaea is ‘n groep mikroskopiese prokariote wat meestal net soos bakterieë lyk.  Oorspronklik was hulle dus ook as bakterieë geklassifiseer, maar biochemiese en genetiese inligting dui daarop dat Archaea nader aan eukariote as aan bakterieë verwant is.  Archaea kom oral voor, maar is veral volop in die see.  Archaea kom selfs in omgewings voor wat gekenmerk word aan hul uiterste temperature, hoë soutkonsentrasies of giftigheid en waar geen ander organismes kan leef nie.  Sekere Archaea vorm deel van die mikrobiota van alle organismes en kom in die derms, mond en op die vel van diere, insluitend die mens, voor.

Archaeopteryx is ‘n evolusionêre skakel tussen die dinosauriërs en die voëls.  Dit kom in die Laat Jura-ouderdom gesteentes van Duitsland voor.  Archaeopteryx word soms beskryf as die oudste voël (Urvogel in Duits), maar hulle skelette het weinig verskil van enige ander lid van die theropood-dinosauriër groep, die Eumaniraptora.  Ten spyte van Eumaniraptora se dinosauriërkenmerke soos skerp tande, lang sterte, drie vinger hande met kloue en antorbitale en mandibulêre vensters, was die Eumaniraptora ook warmbloedig en het vere gehad.

Archaeplastida sluit die rooiwiere en plante in en in sekere klassifikasies word dit as die oorkoepelende groep beskou wat alle plante en wiere en fotosintetiserende eenselliges insluit.  In hierdie boek verwys ek na die eensellige lede van die Archaeplastida, wat verstaanbaar deur baie mense as protiste beskou word.  Ongelukkig is hierdie benadering baie simplisties en vorm die eensellige lede van die Archaeplastida deel van die takson Rhodophyta en die Koninkryk Plantae wat talle meersellige lede bevat.  Die kenmerkende eienskap wat alle lede van die Archaeplastida deel, is die teenwoordigheid van chloroplaste, wat ‘n dubbelmembraan besit.  Die enigste moontlike verklaring hiervoor is, dat alle lede van die Archaeplastida vanaf ‘n gemeenskaplike voorouer gestam het, wat oorspronklik op sianobakterieë gevoed het, wat uiteindelik binne die sel as ‘n endosimbiont geleef het.  Die selle van die Archaeplastida stoor voedsel in die vorm van stysel, het geen sentriole nie en het ‘n selwand, wat uit sellulose vervaardig is.

Archamoebae is eensellige eukariote wat dierparasiete en -kommensialiste insluit.  Hulle kenmerkende eienskap is dat hulle nie mitochondrions besit nie en aanvanklik het mense gedink dat hulle ontstaan het voordat die mitochondrion in die selle van die eerste eukariote opgeneem was.  Intussen het navorsers ontdek dat daar chemiese verbindings in Archamoebae-selle voorkom, wat slegs van mitochondria afkomstig kon wees, en het afgelei dat Archamoebae hul mitochondria verloor het.  Navorsers het ook ontdek dat die mitosome wat in sekere lede van die Archamoebae voorkom, die oorblyfsels van mitochondria is. Verskeie lede van die Archamoebae het ook flagellas, wat uniek onder amebe is.

Archosauria of argosauriërs, kan van ander diapsiede onderskei word omdat hulle verskeie unieke kenmerke, wat hulle van ‘n gemeenskaplike voorouer oorgeërf het, deel.  Hierdie kenmerke is: tande wat in tandkaste gesetel is – vandaar die naam thekodontiër, antorbitale vensters op die snoet voor die oogkaste, wat help om die gewig van die skedel te verminder, mandibulêre vensters in die onderkaak (mandibel) en ‘n vierde troganter (knobbel) op die binneste oppervlak van die dybeen.

Archosauriformes of argosauriformiërs is ‘n groep diapsied reptiele wat ongeveer 250 miljoen jaar gelede uit ‘n Archosaurimorpha-voorouer in die Perm Periode ontstaan het.  Dit word gedefinieër as die groep wat vanuit die laaste gedeelde voorsaat van die Proterosuchidae en die Archosauria ontstaan het.  Hierdie groep bevat die Proterosuchidae, Erythrosuchidae, Euparkeriidae en die argosauriërs.

Archosauromorpha was nader aan die Archosauriformes as aan die Lepidosauria (die groep waaronder die slange en akkedisse val) verwant.  Argosauromorfiërs het in die Middel Perm ontstaan.  In die Trias Periode was hulle divers en het algemeen voorgekom.  Die argosauromorfiërs sluit ‘n diverse groep reptiele in, onder andere: die allokotosauriërs, rhyngosauriërs, argosauriformes, Protosaurus en Prolacerta.  Alle argosauromorfiërs word gekenmerk deur laminae op die werwels, ‘n posterodorsale proses op die premaksilla, ‘n afwesigheid van notokoord kanale en die verlies van die entepikondilêre foramen van die humerus.

Arends se kruipmol (Chlorotalpa arendsi), subfamilie: Amblysominae, familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis, endemies aan Zimbabwe.

Argasidae – sien Sagte bosluise.

Argeïkum Eon (Archaean Eon) (4.54 – 2.50 Ga).  Dit is die tydperk toe die Aarde se kors begin afkoel het, kontinente begin vorm het en die eerste lewe en ‘n suurstofryke atmosfeer ontstaan het.

Argosauriërs – sien Archosauria.

Argosauriformiërs – sien Archosauriformes.

Argosauromorfiërs – sien Archosauromorpha.

Aristoteles (384-322 vC) was ‘n Griekse filosoof en veeltalentige man tydens die Klassieke Tydperk van Antieke Griekeland.  Hy was onder andere bekend daarvoor dat hy die Lyceum, die eerste universiteit, gestig het, en dat hy alles wat oor die volgende vakke wat in daardie tydperk bekend was, bemeester het, en daartoe bygedra het: fisika, dierkunde, biologie, geologie, weerkunde, sielkunde, taalkunde, digkuns, musiek, ekonomie, politiek, etiek, filosofie (retoriek, etiek, metafisika, logika) regeringskunde.  Sy invloed kan tot vandag toe nog in filosofie en wetenskap bespeur word.

Armadillos is diere wat aan die orde Cingulata van die superorde Xenarthra hoort.  Hulle het in Suid Amerika tydens die Senosoïkum ontstaan.   Sommige oer-armadillos het daarin geslaag om via die landbrug – die Panama Landlengte – wat 4 miljoen jaar gelede ontstaan het, van Suid Amerika tot in Noord Amerika te versprei.  Armadillos word gekenmerk aan die pantserplate wat hulle lywe en kop beskerm, en hul grawende aanpassings soos sterk arms en bene en groot kloue waarmee hulle mier- en termietneste kan oopgrawe, en hulle lang tonge waarmee hulle termiete en miere kan vang.  Danksy konvergerende evolusie lyk armadillos soos erdvarke en ietermagôe, maar armadillos is eintlik baie nader aan die luidiere en miervreters van Suid Amerika verwant.

Arms van seekatte word ook tentakels genoem (sien Tentakel).

Arnoux se snoetneuswalvis (Berardius arnouxi), familie: Ziphidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Atlantiese stompneusdolfyn (Tursiops truncatus), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Arthritis is die ontsteking van gewrigte.  Simptome sluit pyn, ontsteking en swelling van weefsels rondom die gewrigte, maar ook soms elders in die liggaam, stramheid, skade aan die tendons, kraakbeen en bene van die gewrig en verbrokkeling en vergroeiing van die gewrig.

Artikulêre been vorm die agterste deel van die onderkaak van meeste werweldiere, insluitende die beenvisse, amfibieë, reptiele en voëls.  In meeste van hierdie diere is die artikulêre been aan die superangulêre en die angulêre been vas.  Dit ontstaan deur die verbening van die agterste gedeelte van die Meckel kraakbeen wat die embrionale onderkaak vorm.  Die artikulêre been artikuleer met die kwadraat wat die agterste deel van die skedelbasis vorm.  Die artikulêre been word die hamer (malleus) in die middeloor van soogdiere.  Mens kan in soogdierembrios sien hoe die agterste deel van die Meckel kraakbeen afknoop en dan in die middeloor inbeweeg om die hamer te vorm.

Arterie – sien Slagaar.

Arteriële sinusse in ongewerweldes is oop areas tussen weefsel waarin suurstofryke hemolimf van die slagare ontvang word, voor dit na die omliggende weefsel gepomp word.

Arthropoda of arthropode – sien Geleedpotiges.

Ascomycota – sien Sakswamme.

Aselomaat verwys na bilateraal simmetriese diere wat nie ‘n seloom het nie.  Platwurms is die bekendste en grootste groep aselomate.

Asemhaling is ‘n woord wat ek spesifiek gebruik om die werking van longe te beskryf.  Soogdiere, voëls, reptiele en amfibieë asem of adem lug met behulp van hul longe in en uit.  Dit is wat ek onder asemhaling verstaan.  Dit is verwarrend om dieselfde woord vir gaswisseling deur kiewe of deur die blare van plante te gebruik waar diffusie van suurstof en koolsuurgas oor membrane heen (soos wat trouens in die alveoli van longe gebeur) die geval is.  Ek gebruik in hierdie stuk die woord gaswisseling wanneer ek na die waterlewende weekdiere (met kiewe natuurlik) verwys, maar na asemhaling wanneer ek na die lugasemende lede van die landslakke met longe verwys.  Alhoewel ek dit so gebruik, kan mens tog my daarvoor kritiseer omdat daar nie ‘n aktiewe asemhalingsaksie in Pulmonata plaasvind nie, maar eerder diffusie soos wat trouens in alveoli van die soogdierlong gebeur.

Asemhalingsopeninge – sien Spirakels.  Daar is baie tipes asemhalingsopeninge, maar die tipe wat ons in hierdie boek konsentreer, is die tipe wat in insekte en spinnekopagtiges voorkom wat spirakels genoem word.

Ascariose – sien Dermrondewurmbesmetting.

Ascomycota – sien Sakswamme.

Aseptate of ongesepteerde hifes (aseptate hyphae) is hifes waarin daar geen of min septums voorkom.

Asetaat is ‘n sout wat die organiese anioon CH3CO2 bevat.  Dit is een van die algemeenste boustene wat tydens biosintese gebruik word.

Asetielcholien (C7H16NO2+) is die hoof senuwee-oordragstof, wat in die parasimpatetiese senuweestelsel voorkom, wat verantwoordelik is vir die sametrekking van gladde spiere, ooprek van bloedvate, die vermeerdering van liggaamsekresies en vertraging van hartklop.

Asidokalkisome is organelle wat kalsium, polifosfaat en suur stoor en wat vanaf bakterieë, plant, dier en tot in mensselle voorkom.  Dit is die enigste organel wat in beide die prokariote en eukariote voorkom.  Asidokalkisome speel waarskynlik ‘n rol in osmoregulasie.

Askogonium van Sakswamme word tradisioneel as ‘n vroulike orgaan beskryf omdat dit die kerne van die naasliggende antheridium (en dus by implikasie die manlike orgaan) van die ander stam ontvang.  Die askogonium en antheridium is die voortplantingsorgane van Sakswamme.

Askokarp of askoma is die Sakswam se vrugliggaam of sporokarp waarbinne askusse voorkom.  Dit kan in ‘n verskeidenheid vorms voorkom – sommige is bekervorming, knuppelvorming, aartappelagtig, sponsagtig, saadagtig, koraalagtig en balvormig. Die askokarpe kan enkel of in groepe voorkom.  Hulle voorkoms kan vlesig, leeragtig, steenkoolagtig, rubberagtig, jellieagtig, poeieragtig of spinnerakagtig wees terwyl hulle kleure van rooi, oranje, geel, swart, bruin, en alhoewel seldsaam, tot groen of blou kan wissel.  Dit bestaan uit dig aanmekaar-geweefde hifes waarin daar miljoene askusse voorkom waarin daar in elk gewoonlik agt askospore gevorm word.  Askomas kom meestal in die vorm van bakkievormige apothekiums voor, maar kan ook in die vorm van flesvormige perithekiums of geslote sferiese kleistothekiums voorkom.

Askoma – sien Askokarp.

Askospore (ascospores) is die haploïede spore wat in die askus van ‘n Sakswam gevorm word.

Askus (ascus) is ‘n buisvormige sporedosie (sporangium) wat in Sakswamme of Ascomycota voorkom.  Daar word gewoonlik agt askospore deur meiose in die askus gevorm.  Askusse kan in sekere swamspesies as enkele strukture gevorm word en bo die substraat uitsteek terwyl die miselium binne die substraat is.  Askusse word egter meestal in veelsellige makroskopiese askokarpe of askomas gedra.

Askushake (crozier) is die kenmerkende U-vormige voortplantingstrukture wat op die boonste punte van die vrugbare hifes van die Sakswamme gevorm word.  Hierdie hake vorm sodat die punt van die hife terugbuig op homself.  Kariogamie vind in die topsel van die askushaak voor om ‘n diploïede kern te vorm.  Meiose vind dan plaas en daarna mitose om agt haploïede askospore te vorm terwyl die topsel verleng om ‘n askus te vorm.

Asma is ‘n siektetoestand wat veroorsaak dat die sagte weefsel van ‘n mens se lugweë ontsteek raak en opswel wat veroorsaak dat die lugweë vernou en dikwels oortollige slym afskei en die lugweë verstop.  Dit veroorsaak dat dit moeilik raak om asem te haal en die pasiënt sal na sy asem begin hyg, hoes en borspyn kry.  In erge gevalle kan dit ‘n mens se lewe kos.  Dit word dikwels deur allergieë veroorsaak.

Aspergillose is die naam van die groep siektes wat deur Aspergillus swamme veroorsaak word.  Die mees algemene voorkoms van Aspergillus in mense is swamme wat in die paranasale sinusholtes groei.  Aspergillus kan ook in mense se lugweë voorkom, hifebolle (aspergillomas) in mens se longe vorm en selfs regdeur mense se lywe versprei.

Aspergillus behoort aan die sakswamme (filum Ascomycota) en kom oral oor in die natuur voor – veral in klam plekke waar daar hoë vlakke van suurstof en osmotiese druk voorkom.  Hulle is dus goed aangepas om in plekke te leef waar daar suiker en stysel voorkom, maar kom ook as die swart smet op klam plafonne, mure en teëls in huise voor.  Aspergillus spore en hifes kom in die miljoene in kussings voor.  Hulle kan ook mense en diere besmet en soms hifebolle in liggaamsholtes vorm (sien: https://wereldomons.co.za/2020/04/16/sakswamme-of-askusswamme-ascomycota/#page-content vir meer oor sakswamme).

Astrobleem verwys na die verweerde oorblyfsels van ‘n meteoriet-impak.

Asthenosfeer is die beweeglike, plooibare boonste deel van die Aarde se mantel.  Dit lê onder die litosfeer op ‘n diepte van ongeveer 80-200 km.  Die asthenosfeer is amper solied, alhoewel sekere dele in ‘n gesmelte toestand mag verkeer.

Atmosfeer is ‘n laag of lae gas wat ‘n hemelliggaam soos ‘n planeet omring en deur daardie hemelliggaam se gravitasieaantrekkingskrag in plek gehou word.  Die Aarde se atmosfeer bestaan uit 78% stikstof, 21% suurstof, 0.9% argon, 0.04% koolsuurgas en ‘n paar ander spoorelemente.  Eukariotiese organismes benodig suurstof vir respirasie, stikstof word deur nitrifiserende bakterieë gebind, ammoniak wat vir die produksie van nukleotiede en aminosure gebruik word, word deur weerlig in die atmosfeer vervaardig, koolsuurgas word deur plante, chromiste en sianobakterieë vir fotosintese gebruik.  Die atmosfeer beskerm organismes teen ultraviolet bestraling, sonwind en kosmiese strale.  Die samestelling van die huidige atmosfeer is die produk van miljarde jare se biochemiese verandering van die paleoatmosfeer deur organismes.

Atmosferiese CO2 verwys na die hoeveelheid koolsuurgas daar in die atmosfeer is.  Die hoeveelheid daarvan styg en daal weens sekere invloede soos vulkanisme en uitlaatgasse.

ATP of adenosientrifosfaat is ‘n energieryke organiese verbinding wat grootliks deur mitochondria binne die sel deur die sitroensuursiklus vervaardig word.  Dit word ook die Krebs-siklus na Hans Krebs wat dit in 1937 ontdek het, vernoem.  Pers bakterieë vervaardig ook ATP.  Weens die ooreenkomste in die DNS en fisiologie van pers bakterieë en mitochondria en hierdie unieke vermoeë om ATP te vervaardig, is ons oortuig daarvan dat mitochondria vanuit pers bakterieë ontstaan het.  ATP is ook ‘n voorloper van RNS en DNS en word as ‘n koënsiem gebruik.

Atrium – sien Aurikel.  Oorspronklik was die atria van die hart – insluitend dié van die mens aurikels genoem.  Later was die woord met atrium (enkelvoud) en die meervoud atria (Latyn) atriums (Afrikaans) vervang wanneer daar na werweldierharte verwys word.  Die term aurikel word egter nog steeds vir hierdie struktuur in weekdiere gebruik.

Atrofeer verwys na die verdwyning, inkrimping, uitdroging of opskrompeling van ‘n orgaan.

Aurikels kan as ‘n paar of pare, of as ‘n enkele aurikel, in weekdiere voorkom.  Dit is soortgelyk aan die atrium in werweldiere.  Sommige outeurs gebruik die term atrium (enkelvoud) of atria (meervoud) in plaas van aurikel/aurikels in weekdiere.  Die weekdierhart besit een of meer pare aurikels wat die suurstofryke bloed van die kiewe (een aurikel vir elke kief) ontvang en wat dit dan na die ventrikel toe pomp.  Die aurikels het ook ‘n uitskeidingsfunksie en help met die uitfiltrering van metaboliese afvalstowwe waarvandaan dit in die seloom as uriene gestort word.

Australidelphia is ‘n buideldier-superorde wat onder die infaklas Marsupialia voorkom.  Al die buideldiere van Australië val onder die Australidelphia.  Daar is egter een klein buideldiertjie wat in Suid-Amerika voorkom: die Monito del Monte, wat geneties die naaste aan die Australidelphia is, en dus saam met hulle as ‘n lid van die Australidelpia geklassifiseer word.  Benewens die Monito del monte van die orde Microbiotheria, sluit die Australidelphia ook die 2 spesies marsupiaal-molle van die orde Notoryctemorphia, 71 spesies buidelmuise, buidelmarters, buidelmiervreters en Tasmaniese duiwel van die orde Dasyuromorphia, 21 spesies buideldasse van die orde Peramelemorphia, 117 spesies (wombats, kuskusse, koala, possums, vlieënde suiker-eekhorings,  kangeroes, rotkangaroes en bettongs) van die orde Diprotodontia.  Net om vir jou ‘n idee te gee hoeveel marsupiaal spesies daar is: daar is 335 buideldierspesies teenoor slegs 91 bokspesies op Aarde.

Australopithecus afarensis is ‘n hominien wat ongeveer 2 tot 3 miljoen jaar gelede in Oos Afrika voorgekom het.  Dit is naverwant en waarskynlik die voorouer van ons eie Australopithecus africanus.

Australopithecus africanus is ‘n hominien wat ongeveer 2-3 miljoen jaar gelede in Suid-Afrika voorgekom het.  Australopithecus afarensis van Oos Afrika was waarskynlik A. africanus se voorsaat terwyl A. africanus die voorsaat van Homo habilis was.  Raymond Dart en Robert Broom het die eerste Australopithecus fossiele beskryf.

Averkulus is ‘n plat koppievormige struktuur waarbinne die konidiofore van sekere parasitiese Sakswamme gerangskik is wat onder die gasheerplant se kutikulum vorm.

Baar is ‘n korter uitdrukking vir geboorte skenk.  Dit klink laf om te sê dat tsetsevlieë geboorte skenk.  Baar klink soveel beter en dit pas mooi in by woorde soos lewendbarend.  Mense is geneig om die uitdrukking geboorte gee te gebruik wat ‘n anglisisme is.

Baardmos (beard moss) is ‘n tipe frutikose ligeen wat op die takke van bome as ‘n epifiet groei en water van mis en reën ontvang.  Usnea is die genusnaam wat vir die baardmosse wêreldwyd gebruik word.

Babesia is ‘n protosoïese parasiet wat deur besmette bosluise na diere en mense wêreldwyd oorgedra word.  Daar is reeds meer as 100 Babesia spesies bekend.  Babesia besmet die gasheer se rooibloedselle en veroorsaak die siekte babesiose.

Babesiose, abesiose of piroplasmose is ‘n siekte wat deur ‘n protosoïese parasiet, tipies ‘n Babesia of Theileria spesie, veroorsaak word.  Hierdie parasiete word dikwels deur bosluise na mense en diere wêreldwyd oorgedra.  Hierdie parasiet kan ook met behulp van besmette bloed tydens ‘n bloedoortapping na iemand oorgedra word, of deur ‘n ma na haar baba oorgedra word.  Helfte van kinders en ‘n kwart van volwassenes met babesiose is asimptomaties.  Een tot vier weke na ‘n byt, of een tot nege weke na ‘n oortapping met besmette bloed mag ‘n besmette  persoon simptome soos koors en hemolitiese anemia toon.  Daarna sal tamheid, sweet en koors ontwikkel.

Bacillota of Firmicutes is ‘n filum dikwandige kokke en basille.  Talle Bacillota spesies is weerstandig teen uitdroging en kan uiterste omstandighede oorleef.  Hulle kom in allerlei omgewings in die natuur, en in diere se spysverteringstelsels, voor.  Daar is verskeie berugte patogene wat aan hierdie groep hoort.

Bacteroidetes – sien Bacteroidota.

Bacteroidota of Bacteroidetes is ‘n filum van anaerobiese en aerobiese basille wat wydverspreid in die natuur – op land, see, varswater, grond en in diere se spysverteringstelsels en velle – voorkom.  Alhoewel sommige lede van die Bacteroidota opportunistiese patogene kan wees, is talle spesies spesiaal aangepas om as simbionte in die spysverteringskanaal te leef.  Bacteroides bakterieë kom volop in die spysverteringskanaal voor en daar kan tot meer as ‘n 1000 bakterieë per tiende van ‘n gram derminhoud voorkom.  Bacteroides bakterieë is vir lewensbelangrike metaboliese prosesse, soos die afbraak van proteïene en komplekse suikerpolimere, verantwoordelik.

Bakoor-losstertvlermuis (Otomops martiensseni), familie: Molossidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Bakoormuis, (Malacothrix typica), subfamilie: Dendromurinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Bakoorvos (Otocyon megalotis), familie: Canidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora.  Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Bakterieë is ‘n groep prokariote en sluit van die eerste lewe op Aarde waarvan ons weet in.  Hulle lyk soos die archaea, maar vorm geneties ‘n aparte taksonomiese groep.  Bakterieë is die volopste organismes op Aarde en kom in elke denkbare ekostelsel voor.  Die ekologie hang grootliks van die bestaan van bakterieë af.  Sonder bakterieë sou ander organismes, veral eukariote, nie kon bestaan het nie.  Sianobakterieë was verantwoordelik vir ons suurstofryke atmosfeer.  Bakterieë is, saam met archaea en swamme, verantwoordelik vir die afbraak van organiese materiaal en die vorming van grond.  Bakterieë het oorsprong aan mitochondria en chloroplaste gegee.

Bakteriofage is organismes wat op bakterieë teer.

Balanoïed Sone is die sone wat rondom die kuslyn op rotsagtige strande in die intergetysone onder die Littorina Sone en bo die Cochlear-Argenvillei-Sone langs die Suid- en Weskus van Suid-Afrika  voorkom, word volgens die tipe seepokke wat daarin voorkom, in ‘n Boonste Balanoïedsone en Onderste Balanoïedsone verdeel.  Die Boonste Balanoïedsone word deur die voorkoms van die seepok Chthamalus dentatus gekenmerk.  Die Boonste Balanoïedsone is slegs vir ‘n paar uur twee keer per dag onder water gedurende hooggety.  Die Onderste Balanoïedsone word deur die voorkoms van die seepok Octomeris angulosa langs die Ooskus van Suid-Afrika gekenmerk.  Die Onderste Balanoïedsone is meestal deur water bedek, maar word tydens laaggety vir ‘n paar uur twee keer per dag aan lug blootgestel.

Balantidium coli is ‘n eensellige eukarioot wat aan die Ciliophora hoort.  Dit is vir die siekte balantidiase verantwoordelik, wat erge diarree, maagpyn en disenterie veroorsaak.  Dit kom algemeen in varke, maar selde in mense voor.

Barbour se dwergklipmuis (Petromyscus barbouri), subfamilie: Petromyscinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Barnsteen staan ook as amber bekend.  Barnsteen is gefossilifiseerde boomgom en kan in die fossielrekord gevind word.  Daar is soms oorblyfsels van insekte en spinnekopagtiges wat in die boomgom vasgevang word, wat saam met die boomgom versteen het.

Bartonella bacilliformis is ‘n bakterie wat algemeen deur geleedpotiges soos Lutzomyia sandvlieë, katvlooie en bosluise in die Amerikas na mense oorgedra word.  Dit kan ook deur byte en krappe van diere na mense oorgedra word.  Bartonella besmetting veroorsaak die siekte bartonellose.

Bartonellose is die siekte wat deur die bakterie Bartonella bacilliformis veroorsaak word.  Hierdie bakterie word deur die bloeddrinkende sandvlieg Lutzomyia tussen mense in die Amerikas oorgedra.  Bartonellose simptome sluit in: koors, hoofpyn, tamheid, aptytsverlies, spierpyn, geswolle kliere op die kop, nek en arms.

Basaalkorrel – sien Basaalliggaam.

Basaalliggaam, basaalkorrel of kinetosoom (bleferoplas in ouer verwysings) is die struktuur wat op die onderkant van ‘n flagellum voorkom.  Dit is verskillende name in verskillende organismes oor jare genoem, maar is eintlik dieselfde struktuur met dieselfde funksies.  Hierdie struktuur organiseer die mikrotubuli, wat die kern van die flagellum vorm, in ‘n negevoudige simmetrie.  Die basaalliggaam is struktureel identies aan sentriole, wat vir die vorming van die spindel tydens seldeling verantwoordelik is.

Basale amniote, stamreptiele of protoreptiele was die heel eerste werweldiere wat eiers, met doppe en ‘n amnionmembraan om die embrio, op land gelê het, in die Karboon Periode ontstaan. Basale amniote was die heel eerste amniote wat ongeveer 312 Mjg uit die reptielagtige amfibieë (ook bekend as reptiliomorfe tetrapode) soos Seymouria ontstaan het.  Basale amniote het ‘n mengsel van plesiomorfiese (primitiewe) basale tetrapood en nuwe reptielagtige kenmerke gehad en was so goed vir lewe op land aangepas dat hulle waarskynlik net na die water teruggekeer het om daar voor te plant.  Soos wat mens kan verwag met oorgangsvorme, is dit is baie moeilik om te bepaal watter diere reptielagtige amfibieë is en watter amfibieëagtige reptiele is.  Aanvanklik het ons gedink dat Seymauria ‘n stamreptiel was totdat daar bewys is dat Discosauriscus eintlik Seymauria-larwes is, en dat hulle dus, ten spyte van die volwassenes se reptielagtige voorkoms, amfibieë moet wees.  Van hierdie reptielagtige amfibieë soos Westlothiana lyk soveel soos moderne akkedisse dat mens na die skedelelemente moet kyk om te bevestig dat hulle eintlik amfibieë is.  Dit is natuurlik ontmoontlik om te bepaal wanneer die eerste tetrapode eiers op land gelê het en wie dit gelê het aangesien die eerste eierdoppe sag en leeragtig soos dié van akkedisse was i.p.v. kalkagtig soos voëls en dinosauriërs s’n was en dus nie maklik gefossileer het nie.  Die oudste amnioot kan moontlik Casineria wees, wat nog steeds ‘n temnospondiel was en dus die fisiese kenmerke van ‘n reptiliomorfe amfibieë gehad het maar eiers op land kon lê.  Die oudste onbetwisbare reptiel (en dus amnioot) waarvan ons weet is Hylonomus wie se spore in 315 miljoen jaar oue Karboon lae in Nova Scotia in die VSA ontdek is.  Die skelet van Hylonomus dui daarop dat hierdie akkedisagtige diertjie insekte gevreet het.

Basale diapsiede is die eerste diapsied reptiele wat vanuit die stamreptiele in die Karboon Periode ontstaan het.  Die oudste voorbeeld hiervan is die 302 miljoen jaar oue Petrolacosaurus wat in Kansas, VSA ontdek is.

Basale sinapsiede (wat oorspronklik as die pelikosauriërs bekend gestaan het) was die eerste sinapsied reptiele wat vanuit die stamreptiele in die Karboon Periode ontstaan het.  Die oudste voorbeelde hiervan is Asaphestera, Archaeothyris en Clepsydrops, van die Karboon Periode (323–299 mjg) van Noord Amerika.  Die basale sinapsiede het egter ook eienskappe gehad wat hulle uniek gemaak het – soos die enkele slaapwyk venster wat kleiner as die meer evolusionêr gevorderde sinapsiede s’n is. Die basale sinapsiede sluit lede van die families Eothyrididae, Caseidae, Varanopidae, Ophiacodontidae, Edaphosauridae en Sphenacodontidae in.  Weens die feit dat fossiele van hierdie groepe nogals skaars is, is die presiese verwantskappe tussen hierdie groepe nog nie duidelik nie.  Meeste van hierdie fossiele kom in die VSA, Kanada en Rusland voor.

Basale ring is ‘n struktuur wat aan die agterkant van die selle van Apicomplexa voorkom.  Dit speel waarskynlik ‘n rol in die organisasie van die mikrotubuli wat onder die selmembraan voorkom.

Basale tetrapode of stam-tetrapode – sien Amfibieë.

Basidiokarpe of basidiome is ‘n tipe sporokarp wat in die Steeltjieswamme (Basidiomycota) voorkom.  Die grootte wissel van piepklein dakkies wat maar ‘n paar millimeter in deursneë is tot reusagtig groot soos in Phellinus ellipsoideus wat ‘n paar meter in deursneë kan wees en tot 500 kg kan weeg.

Basidiomycota – sien Steeltjieswamme.

Basidiospore is die spore wat deur meiose in die basidium van die Steeltjieswamme gevorm word.

Basidiums kom as apikale selle op die eindpunt van dubbelkernige lughifes van die Basidiomycota voor.  Die basidium vorm gewoonlik vier eksterne spore op steeltjies of sterigma.  Die spore wat deur meiose gevorm word word meiospore genoem maar dit staan ook as basidiospore bekend omdat dit deur ‘n basidium gevorm word.

Basil (meervoud basille) is ‘n sillinder- of staafvormige bakterie.  Streptobasille kom in stringe voor.  Sommige basille het flagellums.

Basispaar verwys na die neukleotiede guanien en sitosien wat aanmekaar gebind word en adenien en urasiel of adenien en timien wat aanmekaar verbind word, wat die grootste deel van die DNS en RNS molekules opmaak.

Bastergemsbok (Hippotragus equinus), subfamilie: Hippotraginae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Bauriamorpha – sien Baurioidea.

Baurioidea is ‘n superfamilie van therokefaliër therapsiede wat roofdiere soos Regisaurus en Bauria insluit.  Bauriamorpha is ‘n junior sinoniem van Baurioidea en dus kry laasgenoemde voorrang en word dit eerder in klassifikasie gebruik.

Beaufort Groep is een van die hoof-onderafdelings van die Karoo Supergroep wat die volledigste terrestriële Karboon Periode tot Jura Periode afsetting ter wêreld is.  Hierdie groep gesteentes,bestaan hoofsaaklik uit opeenvolgende lae moddersteen en sandsteen wat vanaf die Laat Karboon Periode tot die Vroeë Jura Periode afgeset is en tydens die Vroeë Jura (182 mjg.) met ‘n dik laag lawa bedek is en met doleriete deurdring is.  Die fossiele van, onder andere, die laaste basale tetrapode en stamreptiele, sinapsiede, argosauriërs en plantfossiele soos Glossopteris, Equisetales kom hierin voor.  In die Karoo-kom bedek die Beaufort Groep die ouer Ecca Groep, terwyl dit om die beurt deur die jonger Stormberg Groep bedek word.  Die gesteentes van die Beaufort Groep het gevorm toe sedimente vanuit die riviere, wat vanuit die bergreeks in die suide in die Karookom ingevloei het, die Karoo-oersee begin opvul het.

Bedluis – sien Weeluis.  Bedluis is van die Engelse woord bedbug afgelei.  Ons noem dit weeluise in Afrikaans.

Been is harde strukture van kalsiumfosfaat wat in diere hoofsaaklik as ondersteuningstelsel voorkom.  Been is die hoofbestanddeel van skelette.  Die oudste vorm van been het in konodonte voorgekom waar dit as getande stafies en ander strukture in die keel as deel van hul voedingsapparaat voorgekom het.

Beenselle is die selle waaruit bene bestaan.  Beenweefsel word deurgaans hermodelleer deur afbraak en hernuwing.  Die selle wat hierby betrokke is, is osteoklaste wat been herabsorbeer of resorbeer, osteoblaste wat been vorm en osteosiete wat as meganosensore optree en in beheer van die hermodellering van been is.  Beenbedekkingselle is plat selle wat op die oppervlaktes van ‘n been voorkom.  Die beenbedekkingselle, osteoblaste en osteoklaste word deur ‘n tipe mesenkiemselle – die progenitorselle – gevorm.

Beenvisse – sien Osteichthyes.

Beesbrommer (Chrysomy bezziana) is ‘n groen of blou brommer met ‘n geel kop wat algemeen in die tropiese en subtropiese dele van Asië en Afrika voorkom.  Dit staan ook as die skroefwurm bekend (maaiers en ruspes is nie eintlik wurms nie, maar die larwes van insekte).  Die brommer kies oop wonde en nat oppervlaktes van soogdiere om haar eiers in te lê eerder as verrottende vleis of mis soos ander vlieë.  Beesbrommerlarwes verkies lewendige vleis en tonnel dan al dieper in die vleis van hulle slagoffer in totdat die dier vrek.

Beeslintwurm (Taenia saginata) is die lintwurm wat beeste en bokke meestal as hul tussengasheer gebruik.  Die lintwurm dring as heksakantembrios in die tussengasheer se organe en weefsels in waar hulle dan sistiserkusse vorm.  Wanneer die tussengasheer se vleis of organe deur die eindgasheer soos ‘n mens geëet word, stulp die protoskoleks van die sistiserkus uit om die skoleks te vorm.  Die sistiserkus gebruik sy skoleks om aan die eindgasheer se dermwand vas te klamp en daar in ‘n volgroeide lintwurm te ontwikkel wat geslagtelik kan voortplant.

Beeste is ‘n baie belangrike deel van ons verwysingsraamwerk.  Ongelukkig is ons so op die algemene produkte van beesboerdery soos vleis, melkprodukte en leer ingestel dat ons traak-my-nie-agtig die groter prentjie oor die hoof sien.  Eerstens was beeste uit wilde beeste van Asië, meer as 10 000 jaar gelede gedomestiseer, en van daar het beeste en beesboerdery deur die res van die wêreld versprei.  Beeste, soos buffels en bisons is lede van die familie Bovidae – of te wel die bokke.  Boerdery met diere het ‘n geweldige groot impak op die geskiedenis van die mensdom gehad, want nie net was hierdie plaasdiere ‘n betroubare bron van kos en produkte nie, maar die begin van soönotiese siektes soos pokke, masels, griep en tering wat bykans die helfte van die mense van Eurasië oor die millenia uitgewis het.  Die oordrag van virusse van Europa na die Nuwe Wêreld en Australië het tot die grootskaalse uitwissing van die inheemse mense, wat nie aan duisende jare se natuurlike seleksie deur soönotiese siektes, blootgestel is nie. (sien: https://wereldomons.co.za/2021/05/12/virusse-2-pandemies/ vir meer oor virusse).

Belemniete was ‘n inkvis-tipe kefalopode wat vanaf die Laat Trias tot die Laat Kryt bestaan het.  Die belemniete het, anders as ander weekdiere, ‘n interne keëlvormige skulp gehad wat hul liggame ondersteun het en 10 arms met 100-800 hakies aan en twee vinne weerskante van die liggaam gehad.  Fossiele van hul skulpe kom wêreldwyd in Mesosoïkum gesteentes voor.  Belemniete het saam met die ammoniete met die K/T uitsterwingsgebeurtenis uitgesterf.

Benguela Seestroom is die stroom koue water wat van Antarktika na die Weskus van Suid-Afrika vloei.

Bennetitales is ‘n uitgestorwe saadplantorde wat in die Perm verskyn het en teen die einde van die Kryt wêreldwyd uitgesterf, buiten in Tasmanië en Oos Australië, waar hulle tot in die Oligoseen oorleef het.  Oorspronklik het mense gedink dat hulle broodbome was omdat hul blare ooreenstem met dié van broodbome maar Bennetitales het, anders as broodbome, blomagtige voortplantingsorgane gehad.

Bentiese sone is die ekologiese streek wat in die diepste dele van ‘n watermassa voorkom – met ander woorde die seevloer, die bodem van ‘n meer of rivierbodem.  Die organismes wat daarin voorkom word gesamentlik die bentos of bentiese organismes genoem.

Bergvleirot (Otomys laminatus), subfamilie: Otomyinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Bergwaaiersterteekhoring (Xerus princeps), tribus: Xerini, subfamilie: Xerinae, familie: Sciuridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Beroerte is ‘n siektetoestand wat ontstaan wanneer daar ‘n skielike verlies van funksie in ‘n deel van die brein voorkom weens die verlies van bloedtoevoer na daardie deel van die brein.  Dit kan tot permanente skade weens seldood in daardie deel van die brein, of selfs die dood, lei.  Oorsake van beroerte sluit in: rook, hoë bloeddruk, hoë cholestrol, vetsug en suikersiekte.

Besmet verwys na die indringing en vestiging van bakterieë, virusse en ander parasiete in die liggaam of selle van ‘n gasheer.  Die gasheer kan ‘n mens, dier, swam, plant of eensellige organisme wees.

Bestuiwers is organismes wat vir bestuiwing van blomme verantwoordelik is.  Hierdie rol word grootliks deur insekte soos bye, vlinders en motte gedoen, maar ook deur ander insekte soos vlieë, muskiete en miere.  Vrugtevlêrmuise en sekere buideldiere wat nektar drink, tree ook as bestuiwers op.

Beursswamme (Volvariella volvacea) is deel van die Basidiomycota.  Beursswamme se vrugliggame kom as sampioene voor.  Dit word veral in die Ooste gekweek om te eet.  Mense met gekompromitteerde immuunstelsels, word soms selfs deur beursswamme besmet.

Bevrugting verwys na die samesmelting van gamete.  Bevrugting in diere, mosse, varings en verskeie ander primitiewe landplante, vind plaas wanneer die sperm en die eiersel versmelt.  In keëldraende plante en blomplante vind bevrugting plaas wanneer ‘n stuifmeelkorrel met die eier versmelt.  Bevrugting vind in swamme, protiste en alge plaas wanneer hulle isogamete versmelt.

Bewapende-perdepapievlieë (Gasterophilus intestinalis) parasiteer hoofsaaklik perde en donkies, maar kan soms ook ander soogdiere, insluitende die mens, parasiteer.  Hierdie vlieg, wat ‘n bietjie soos ‘n by lyk, voltooi gewoonlik sy larwale ontwikkeling binne die spysverteringstelsel van die gasheer.  Die wyfies gom hulle eiers aan diere se hare vas, waar die dier dit sal aflek en dit sodoende insluk.  Die eerstelarwe grawe in die slymvliese van die mond, tong of tandvleis in en beweeg met die volgende ontwikkelingsfases al verder in die spysverteringstelsel af, terwyl hulle op die maag- en dermwande van die gasheer voed.  Uiteindelik word hulle as papies uitgemis.

Beweeglike koppeling is die verbinding wat tussen ‘n lid van die Apicomplexa en die gasheer vorm.  Die parasiet skei proteïene vanuit sy apikale kompleks af, wat die gasheer se selwand rondom die koppeling oplos en daarmee bind.  Die parasiet vervaardig ‘n nuwe membraan met behulp van sy eie afskeidings, wat met die gasheer se selmembraan verbind en dit oorneem.  Hierdie nuwe membraan groei rondom die parasiet soos wat hy deur die opening, wat deur die beweeglike koppeling omring word, tot binne die gasheersel beur.  Na ‘n paar sekondes, wanneer die parasiet ten volle binne die sitoplasma van die gasheersel is, is hy met die nuutgevormde membraan omhul om ‘n sogenaamde parasitoforiese vakuool te vorm.

Biarmosuchia is die mees basale of primitiewe groep therapsiede.  Biarmosugiërs het in die Perm Periode bestaan.  Hulle was hond-grootte roofdiere met kenmerkende slagtande wat die skakel tussen die heel primitiefste soogdieragtige reptiele – die pelikosauriërs – en die evolusionêr meer gevorderde therapsiede vorm.  Die Burnetiamorpha, wat gekenmerk word aan knopagtige skedel-versierings, beslaan die grootste en mees bekende groep biarmosugiërs.

Biarmosugiërs – sien Biarmosuchia.

Bifidobacteria is ‘n genus van bakterieë wat wydverspreid en in groot getalle in die spysverteringskanaal in soogdiere, insluitende die mens, voorkom.  Die spesies van hierdie genus is voordelig vir hul gashere, want hulle besit ‘n unieke vermoë om koolhidrate te fermenteer.

Bilateraal simmetriese diere is diere wat uit ‘n linker- en regterhelfte bestaan, wat spieëlbeelde is.  Dit sluit meeste diere in.  Diere wat nie bilateraal simmetries is nie, is die netelhuidiges of holtediere soos kwalle en see-anemone wat radiaal simmetries is, en sponse wat asimmetries is.

Bilharzia of schistosomiase is ‘n siekte wat ongeveer 240 miljoen mense in veral Afrika, Asië en Suid Amerika affekteer en vir die dood van derduisende mense jaarliks verantwoordelik is.  Dit word veroorsaak deur parasitiese platwurms, of suigwurms, van die genus Schistosoma, wat deur die vel van hul gasheer indring en dan deur die liggaam versprei.  Die urienwegstelsel en spysverteringstelsel word meestal deur hierdie parasiet besmet.  Simptome van bilharzia sluit buikpyn, maagwerkings, bloed in die ontlasting of in die uriene in.  Mense wat vir lank deur schistosome besmet is, kan lewerskade, nierskade, onvrugbaarheid en blaaskanker opdoen.  Kinders wat aan bilharzia ly, se groei en neurologiese ontwikkeling kan daardeur belemmer word.  Die schistosome gebruik varswaterslakke as tussengashere voordat hulle na soogdiere, insluitende die mens, versprei.

Bindweefsel is die weefsel wat alle ander weefsels in die liggaam konnekteer of skei en ondersteun.  Bindweefsel sluit been, kraakbeen, senings, fyn vesels en bloed in.

Binnegoed is ‘n goeie Afrikaanse woord vir viserale massa.

Binneoor is die deel van die gehoorsintuig wat die vestibulêre stelsel (ampullas, halfmaanvormige kanale, utrikulus) en slakkehuis (koglea) in soogdiere of lagena, in reptiele en voëls, insluit.

Binneste membraan van ‘n plastied verwys na die binnste van die twee membrane wat die plastiede (en mitochondrions) omring.  Die rol van die binneste membraan is om die stroma (die vloeistof binne die plastied) van die plastied te omring, die deurgang van sekere skadelike molekules te keer en om vetsure, lipiede en karotenoïede te vervaardig.

Binneste membraankompleks verwys na die plat reghoekige dubbelmembraan sakke, of te wel die alveoli, wat net onder die selmembraan van sekere Apicomplexa soos Plasmodium en Toxoplasma voorkom.

Binomiale nomenklatuur of benaming (binomial nomenclature) is die stelsel waarvolgens elke spesie ‘n genus (tipe) en unieke soort of spesienaam het.  Die mens is Homo sapiens en nie sapiens nie.  Dit is soos ‘n van en naam.  So kry mens Anilios broomi, Ramphotyphlops broomi, Parapapio broomi, Makapania broomi en Aloe broomii om maar net ‘n paar voorbeelde te noem van organismes wat na die bekende Suid-Afrikaanse paleontloog Robert Broom vernoem is.  Hierdie voorbeelde sluit reptiele, fossiele en selfs ‘n plant in.  As jy dus net broomi sê sal niemand weet wat jy bedoel nie, maar Parapapio broomi is ‘n spesifieke uitgestorwe bobbejaanspesie.

Biodiversiteit bestaan uit verskillende vlakke van lewe – dit begin met genetiese diversiteit, dan spesiediversiteit, dan gemeenskappe van spesies en uiteindelik die interaksie van lewe met die fisiese wëreld wat hele ekostelsels soos woude, koraalriwwe, woestyne, grasvelde en poolgebiede vorm.

Bioindikator is ‘n term wat in omgewingstudies gebruik word, waar die aan- of afwesigheid van sekere organismes in ‘n omgewing of die gesondheidstoestand van sekere organismes gebruik word om die moontlike teenwoordigheid van besoedeling te bepaal, voor verdere studies gedoen word.

Bioom is die versameling organismes wat in ‘n sekere habitat leef.  ‘n Mikrobioom verwys na die versameling mikroskopiese organismes wat in ‘n habitat voorkom.

Biosintese is ‘n proses waartydens eenvoudige organiese boustene gebruik word om al hoe meer komplekse produkte binne ‘n organisme te vervaardig.

Biosone is ‘n eenheid wat in biostratigrafie gebruik word.  ‘n Biosone word gekenmerk aan die hand van sekere fossielspesies wat daarin voorkom eerder as die litologie.  Dit verskil van ‘n litostratigrafiese eenheid wat op grond van litologiese eienskappe geïdentifiseer word.  As ‘n sekere fossielspesies tot ‘n spesifieke biostratigrafiese eenheid beperk word en dit vir die doeleindes van biostratigrafie gebruik kan word, word dit ‘n indeksfossiel genoem.  Die grens tussen twee duidelik identifiseerbare biostratigrafiese eenhede word ‘n biohorison genoem.  Die rangskikking van biostratigrafiese eenhede in ‘n opeenvolging van oud na jonk word biosonasie genoem.

Biostratigrafie is die identifisering van geologiese lae op grond van die kenmerkende fossiele wat daarin voorkom.  Soos met litologiese stratifikasie word biosones van oud (onder) na jonk (bo) gerangskik.

Bipolêre gedragsversteuring word gekenmerk aan tydperke van depressie wat deur tydperke van abnormale geluk afgewissel word.  Hierdie tydperke kan dae tot weke lank duur.  Dit kan gepaard gaan met letargie, selfmoordneigings en die behoefte om te slaap, wanneer die persoon in ‘n depressiewe staat is.  Wanneer die persoon in ‘n vrolike staat is, is die persoon energiek, optimisties en het min slaap nodig.

Bisamswyne is lede van die familie Tayassuidae en vorm saam met hul naasverwante die varke (familie Suidae), die suborde Suina.  Bisamswyne speel dieselfde ekologiese rol as varke en is omnivore in bebosde gebiede in die Amerikas.

Bissale drade of bissus is drade van keratien en ander proteïene wat deur die bissusklier van tweekleppiges afgeskei word om die dier aan die rotse vas te heg soos in die geval van mossels.  Sommige spesies soos seepenne gebruik dit om hulself in die sand vas te anker.  Vanaf duisende tot honderde jare gelede was die bissale drade van die seepenne geoes om ‘n baie skaars en duur sy – seesy – van te maak.

Bivalvia – sien Tweekleppiges.

Blaaswurm – sien Sistiserkus.

Blainville se snoetwalvis (Mesoplodon densirostris), subfamilie: Hyperoodontinae, familie: Ziphidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Blefaritis is die ontsteking van die ooglid.  Dit kan deur verskeie siektetoestande veroorsaak word, insluitende die aanwas van follikelmyte.

Bleferoplas – sien basaalliggaam.

Blesbok (Damaliscus pygargus phillipsi), subfamilie: Alcelaphinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Blesmol (Georychus capensis), familie: Bathyergidae, suborde: Hystricognathi, orde: Rodentia (knaagdiere) ), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Blink bruinbosluise (Rhipicephalus simus) is Afrotropiese driegasheer bosluise wie se larwes en nimfe meestal op knaagdiere gevind word, maar wat op talle soogdierspesies kan teer.  Volwasse blink bruinbosluise is al op lede van die Carnivora en Primata gevind.  Hulle sal ook sporadies op mense voorkom.   Die blink bruinbosluis is die vektor van die bakterieë Coxiella burnetti wat Q-koors veroorsaak en Rickettsia conori wat bosluistifus veroorsaak en die protosoïese parasiete Anaplasma en Babesia wat onderskeidelik vir die siektes anaplasmose en babesiose verantwoordelik is.

Bloed is die liggaamsvloeistof wat in die bloedvatstelsel van werweldiere voorkom.  Die rol van bloed is om nutriënte en suurstof na die res van die liggaam te vervoer en om opgelosde afvalstowwe en koolsuurgas uit die liggaam te verwyder.  Die witbloedselle in die bloed is verantwoordelik vir die verdediging van die liggaam teen bakterieë, swamme en ander parasiete.  Bloed bestaan uit rooibloedselle, witbloedselle en bloedplaatjies, wat deur bloedplasma in suspensie gehou word.  Bloedplasma, wat ongeveer 55% van bloed opmaak, bestaan uit 92% water en die res is opgelosde glukose en proteïene, minerale, hormone en koolsuurgas.  Die rooibloedselle bevat ‘n reuse hemoglobienmolekule wat ‘n ysteratoom bevat.  Die ysteratoom verbind met suurstof wat die rooibloedsel in staat stel om suurstof deur die liggaam te vervoer.  Die bloedplaatjies speel ‘n belangrike rol in bloedstolling.

Bloedbotte is parasitiese suigwurms van die genus Schistosoma wat bilharzia veroorsaak en wat varswaterslakkies as tussengashere gebruik.

Bloedgroep – daar is vier bloedgroepe A, B, AB en O wat volgens die aan- of afwesigheid van antigene buite op die rooibloedselle, geklassifiseer word. Daar is ook ander antigene in bloed soos die Rhesus-antigene.  Meeste mense het Rhesus antigene en word dan as Rhesus positief geklassifiseer, maar daardie mense waarin dit nie voorkom nie word as Rhesus negatief gekassifiseer.

Bloedstolling vind plaas wanneer bloed vanaf ‘n vloeistof in ‘n gel verander om bloedverlies deur ‘n beskadigde bloedvat te verhoed.  Die bloedplaatjies in die bloed, saam met die neerlegging van fibrien, vorm ‘n prop wat die gat in die bloedvat stop, waarna die weefsel van die bloedvatwand herstel word.  Teenstollingsmiddels, wat bloedsuiende parasiete in hul gasheer se lyf spuit, keer juis bloedstolling, sodat hulle ongehinderd hulle bloedmaal kan nuttig.

Bloedvatstelsel van werweldiere sluit die hart, al die bloedvate (are, slagare en bloedhaarvate) en die bloed in.  Die bloedvatstelsel is hoofsaaklik ‘n vervoerstelsel wat voedingstowwe, gasse, hormone, witbloedliggaampies, bloedplaatjies en afvalstowwe deur die liggaam vevoer.  Werweldiere se bloedvatstelsel, soos dié van gesegmenteerde wurms (filum Annelida) is geslote.  Geleedpotiges (filum Arthropoda) en weekdiere (filum Mollusca) het ‘n oop bloedvatstelsel.

Bloedvatvernouing is die verskynsel wanneer die spiertjies in die wande van bloedvate saamtrek, en die bloedvate vernou wat veroorsaak dat bloed stadiger deur die bloedvat kan vloei.  Bloedvatvernouing vind plaas wanneer beserings plaasvind of weens siektetoestande of emosionele omstandighede.

Bloedvatverslappers werk bloedvatvernouing wat tydens beserings, soos die byt van ‘n insek of bosluis plaasvind, teë.

Blombos Grot naby Stilbaai was ongeveer 80 000 jaar gelede deur oermense bewoon. Hierdie oermense het soos Strandlopers geleef en seekos geëet.

Blomplante of angiosperme is plante wat met behulp van blomme voortplant.  Angiosperme (bedeksadiges) word volgens die saadlobbe in die sade in twee- of eensaadlobbiges verdeel.  Spesiegewys kom daar meer blomplante op Aarde as enige ander groep plante voor.  Meeste blomplante benodig bestuiwers, meestal insekte, om hulle te bestuif, ander is windbestuiwers.

Blou-aap (Chlorocebus pygerythrus), familie Galagidae, superfamilie Lorisoidea, parvorde: Catarrhini, infraorde: Lemuriformes, orde Primata.  Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Bloubok (Hippotragus leucophaeus), subfamilie: Cephalophinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla.  Uitgesterf.  Oorspronklik endemies aan Suid-Afrika.

Bloubosluise (Rhipicephalus decoloratus) het ‘n Afrotropiese verspreiding en is ‘n algemene parasiet van beeste, bokke, zebras en perde.  Dit is ‘n enkelgasheer bosluis en sal gewoonlik hulle hele lewensiklus van nimf tot volwassene op die gasheer deurbring en die wyfie sal slegs die gasheer verlaat, wanneer sy eiers in die grond gaan lê.  Bloubosluise dien as vektore vir Rickettsia conori wat vir die siekte bosluistifus verantwoordelik is en die protosoïese parasiete Anaplasma en Babesia wat onderskeidelik vir die siektes anaplasmose en babesiose verantwoordelik is.

Blouduiker (Cephalophus monticola), subfamilie: Cephalophinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Blouwalvis (Balaenoptera musculus), subfamilie: Balaenopterinae, familie: Balaenopteridae, suborde: Mysticeti, orde: Cetacea.  Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Blouwildebees (Connochaetes taurinus), subfamilie: Alcelaphinae, familie: Bovidae, orde:Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Bobbejaan (Papio ursinus), familie: Cercopithecidae (Ou Wêreldape), superfamilie: Cercopithecoidea, infraorde: Simiiformes, suborde: Haplorhini, orde Primata. .  Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Boggelrugdolfyn (Sousa plumbea), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Boggelwalvis (Megaptera novaeangliae), subfamilie: Megapterinae, familie: Balaenopteridae, suborde: Mysticeti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Bokke is ‘n algemene benaming vir diere wat in die familie Bovidae van die infraorde Pecora voorkom.  Dit sluit die bokke van Afrika, maar ook buffels, bisons, muskusosse en beeste in.  Dit sluit nie die takbokke (familie Cervidae) in nie.

Bolkopdolfyn (Peponocephala electra), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Bontebok (Damaliscus pygargus pygargus), subfamilie: Alcelaphinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Bontsebra (Equus quagga), familie: Equidae, orde: Perissodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Boomdassie (Dendrohyrax arboreus), familie: Procaviidae, orde: Hyracoidea, Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Boomeekhoring (Paraxerus cepapi), tribus: Protoxerini, subfamilie: Xerinae, familie: Sciuridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Boommuis (Thallomys paedulcus), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Borrelia recurrentis is die spirokeetbakterie wat epidemiese weerkerende koors veroorsaak.  B. recurrentis kom slegs in mense voor, maar word deur die lyfluis van ‘n besmette mens na onbesmette mense oorgedra.  Miljoene mense het oor die millenia, veral in Europa, van hierdie siekte gesterf.

Borselstert-haarpootnagmuis (Gerbillurus vallinus), subfamilie: Gerbillinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Borselwurms (klas Polychaeta) is waterlewende gesegmenteerde wurms wat baie kitien borseltjies op elke segment het.  Borselwurms kom wêreldwyd op elke vlak in die see vanaf die plankton tot in die diepste seetrôe voor.  ‘n Handjievol kom ook in varswater voor.

Bosbok (Tragelaphus scriptus), subfamilie: Bovinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Boskaroorot (Otomys unisulcatus), subfamilie: Otomyinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Bosklaasneus (Petrodromus tetradactylus), familie: Macroscelididae, orde: Macroscelidea. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Bosluisbytkoors (Afrika-bosluisbytkoors) is ‘n bakteriële besmetting wat deur die speeksel van bosluise na mense oorgedra word, wanneer die bosluis mens byt.  Die simptome van hierdie siekte is hoofpyn, spierpyn, koors en ‘n uitslag.  Die bosluisbytplek is gewoonlik rooi en opgehewe, met ‘n donker kol in die middel.  Die simptome ontwikkel gewoonlik eers 4 tot 10 dae na die byt.  Die bakterieë wat bosluisbytkoors veroorsaak is Rickettsia africae.  Mense wat dikwels aan bosluisbyte blootgestel word, ontwikkel mettertyd ‘n weerstand teen bosluisbytkoors.

Bosluise hoort aan die suborde Ixodida van die superorde Parasitiformes van die Klas Arachnida.  Hulle is uitwendige parasitiese bloedsuiers.  Die volwassenes is 3-5mm groot voor hulle ‘n bloedmaal genuttig het.  Die oudste bewys van bosluise dateer 100-120 mjg terug (Kryt Periode).  Anders as ander aragniede wie se liggame uit ‘n kopborsstuk en ‘n agterlyf bestaan, bestaan die liggaam van die bosluis uit ‘n enkele saamgestelde eenheid – die idiosoma.  Bosluise word in die harde bosluise (familie Ixodidae), sagte bosluise of tampans (familie Argasidae) en die familie Nuttalliellidae wat slegs ‘n enkele spesies – Nuttalliella namaqua – bevat, verdeel.  Weens hulle bloeddrinkende lewenswyse, is bosluise die vektor van talle ernstige siektes wat hulle van besmette gashere na onbesmette gashere deur middel van hul speeksel oordra.

Bosluislarwes broei, twee weke of twee maande nadat die eiers gelê is, uit.  Weens hulle grootte – hulle is swart-bruin en is skaars groter as ‘n halwe millimeter – word hulle peperbosluise genoem.  Hulle besit slegs ses pote.  Nadat die larwe gevoed en gegroei het, sal dit vervel om aan die nimf oorsprong te gee.

Bosluistifus – sien Rickettsia conori.

Bosluisverlamming vind plaas wanneer ‘n volwasse wyfiebosluis vir dae aaneen aan die gasheer vasgeheg bly en aanhoudend senuweegif in jou lyf inpomp wat jou mettertyd van onder af na boontoe verlam.  Na twee tot sewe dae word jou bene verlam en dan jou borskas en dan jou arms en laastens jou kop en wanneer jou asemhalingstelsel verlam raak, sterf mens.

Bosnagaap (Otolemur crassicaudatus), familie Galagidae, superfamilie Lorisoidea, parvorde: Catarrhini, infraorde: Lemuriformes, orde Primata. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Bosskeerbek (Myosorex varius), subfamilie: Myosoricinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Bosvark (Potamacoerus larvatus) Subfamilie: Suinae, familie: Suidae, orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika. Kom in die bosse, woude en op rivieroewers in Afrika suid van die Sahara voor.

Bosveldklaasneus (Elephantulus intufi), familie: Macroscelididae, orde: Macroscelidea. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Bosveldnagmuis (Tatera leucogaster), subfamilie: Gerbillinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Bosveld-saalneusvlermuis (Rhinolophus simulator), subfamilie: Rhinolophinae, familie: Rhinolophidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Boswaaierstertmuis (Graphiurus murinus), subfamilie: Graphiumurinae, familie: Gliridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Botswana-langoorvlermuis (Laephotis botswanae), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Bottersuur of butanoësuur (C4H8O2) word deur sekere bakterieë uit andersins onverteerbare vesels in die dermkanaal vervaardig.  Dit word veral as energiebron, deur die mitochondria in die dikdermwand gebruik, daarsonder sterf die epiteelselle wat die dikderm uitvoer.

Botvlieë kom in Noord Amerika voor en is deel van die familie Oestridae.  Hulle staan daar ook as warble flies, heel flies, en gadflies bekend.  Hulle lewenswyse is baie soorgelyk aan dié van die tumbuvlieg, want hulle lê dikwels hulle eiers op die velle van diere waana die larwe binne die vel inboor en daar voed en groei tot dit reg is om te pupeer, waarna dit uit die vel kruip en op die grond val om ‘n papie in die grond te vorm.  Botvlieglarwes kan ook in die dermkanaal van die gasheer ontwikkel as die gasheer die eiers insluk.  Botvlieë gebruik ook dikwels tussengashere wat na mense aangelok word, soos huisvlieë, muskiete en selfs ‘n sekere spesies bosluis, om hulle eiers op te lê.  Die botvlieg doen dit om potensiële gashere, wat weghol, sodra hulle ‘n botvlieg hoor en sien nader kom, te fnuik.

Brachiopode behoort aan die filum Brachiopoda.  Dit is ‘n groep filtervoeders wat twee harde skulpagtige doppe bo en onder die liggaam vir beskerming het.  Hierdie doppe lyk soos die skulpe van Tweekleppiges (Bivalvia, Mollusca) maar in meeste spesies is die boonste dop ietwat groter as die onderste een.  Hierdie doppe is aan die agterkant met ‘n skarnier aanmekaar gekoppel eerder as aan die kant soos dié van tweekleppiges.  Brachiopode word in twee groepe verdeel nl. die beweeglike groep wat hul doppe met ‘n skarnier kan oopmaak en die onbeweeglike groep wat hul doppe met ‘n komplekse stelsel van spiere en bindweefsel in plek hou.  In meeste spesies word die liggaam net ‘n steelagtige pedikel aan ‘n rots of koraalrif vasgeanker.  Hulle voed m.b.v. ‘n lofofoor wat ‘n terugtrekbare gesilieërde tentakelkroon rondom die mond is.

Brachiozoa is ‘n lofotrogosoïese takson wat uit die snorwurms (filum Phoronida) en die lanternskulpe (Brachiopode) bestaan.

Bradisoïete is die ontwikkelingstadium van Apicomplexa wat binne spier- en senuweeweefsel voorkom.  Na herhaaldelike tweedeling binne die gasheerweefsel, vorm bradisoïete rustende kiste, wat lewenslank in die gasheerweefsel kan bly.  Dit kan nie met antibiotika uitgewis word nie.  Bradisoïete kan weer in ekstrasellulêre beweeglike tagisoïete omskakel.

Brakwater is ‘n mengsel van vars- en soutwater.  Dit kom soms in bronne of boorgate voor, waar sekere minerale die grondwater verbrak.  Brakwater word ook in riviere gevind soos in die Groot Brakrivier in die Wes Kaap of in strandmere waar die see inspoel en met varswater van riviere meng.  Panne soos dié in die westelike Vrystaat en naby Kimberley kan ook verbrak, soos wat die water verdamp en opgeloste soute daarin begin konsentreer en selfs neerslaan.

Brant se fluitrot (Parotomys brantsii), subfamilie: Otomyinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Brandskimmels hoort aan die orde Ustilaginomycotina van die Steeltjieswamme.

Brant se klimmuis (Dendromus mesomelas), subfamilie: Dendromurinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Breinkas is die holte in die skedel waarbinne die brein gesetel is.  Daar is ‘n groot opening of foramen magnum agter in die skedel waardeur die rugstring met die brein verbind is en kopsenuwees wat deur middel van foramina in die skedelwand na buite strek.

Breinvlieskontsteking of meningitis is die ontsteking van die vliese wat die brein en rugmurg bedek.  Breinvliesontsteking word deur virusse en bakterieë veroorsaak.  Bakteriële breinvliesontsteking kan dodelik wees.

Brommer is ‘n algemene benaming vir ‘n groot vlieg en word baie lukraak gebruik, want sekere groot vlieë soos tsetsevlieë, perdevlieë en seekoeivlieë word vlieë genoem.

Bronkors (Nasturtium officinale) (Engels: watercress) is ‘n waterplant wat in Eurasië voorkom.  Geënkisteerde lewerbotlarwes of metaserkarieë kom op waterplante voor.  Dit is die mees algemene manier hoe groenslaai-etende Eurasiërs, lewerbotte inkry.

Broodbome (orde Cycadales, klas Cycadopsida, divisie Cycadophyta, filum (deesdae word dit bloot as ‘n klade geklassifiseer, maar as dierkundige haat ek die besluiteloosheid daarvan en hou ek van die ou klassifikasie waar dit as filum geklassifiseer is) Gimnospermae) is naaksadige saadplante.  Hulle word anders as baie ander naaksadiges nie met behulp van wind bestuif nie, maar word met spesifieke gespesialiseerde bestuiwers, meestal kewers, bestuif.  Broodbome was in die oertyd baie meer volop en divers as die 300 spesies van drie families wat tans voorkom.  Hulle het gewoonlik ‘n kort houtagtige stam met ‘n kroon van harde en stywe geveerde blare.  Hulle is eenhuisig – m.a.w. individue is of manlik, of vroulik.  Hulle groei stadig en kan baie oud word.

Bruin oorbosluise (Rhipicephalus appendiculatus) kom in Afrika suid van die Sahara voor.  Dit is ‘n drie-gasheer bosluis wat dien as vektor vir die bakterie Rickettsia conori wat vir die siekte bosluistifus verantwoordelik is en die protosoïese parasiete Anaplasma en Babesia, wat onderskeidelik vir die siektes anaplasmose en babesiose verantwoordelik is.

Bruinrot (Rattus norvegicus): Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Ingevoer.

Bruinwier of kelp is bruin- tot goud-groenkleurige wiere wat in die see en varswater voorkom.  Ondanks die oppervlakkige ooreenkomste met plante, is kelp nie plante nie, maar lede van die Chromista en is aan diatome, dinoflagellate en die malariaparasiet Plasmodium verwant.  Sekere kelpspesies kan tientalle meter lank word en in ondersese woude groei, waar hulle ‘n tuiste vir duisende spesies skep wat tussen hulle bly en voed.  Kelp word ook deur mense as kos, as ‘n bron vir chemikalieë en selfs as bemesting gebruik.

Brukkaros-dwergklipmuis (Petromyscus monticularis), subfamilie: Petromyscinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Bryde se walvis (Balaenoptera edeni), subfamilie: Balaenopterinae, familie: Balaenopteridae, suborde: Mysticeti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Bryozoa – sien mosdiertjies.

Buffel (Syncerus caffer), subfamilie: Bovinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Buideldier of marsupiaal hoort aan die superorde Marsupialia (of Metatheria) van die klas Mammalia.  Meeste van hierdie besondere soogdiere wat in die Amerikas (superorde Ameridelphia) en Australië (superorde Australidelphia) voorkom, het ‘n buidelsak waarin die kleintjies na geboorte verder ontwikkel voordat hulle onafhanklik van die ma kan leef.  Daar is ongeveer 130 spesies in die Amerikas en 200 spesies in Australië en nabygeleë eilande.

Buikpotige of gastropood (klas Gastropoda) is die grootste groep weekdiere op Aarde en bevat meer as 85 000 spesies wat slakke, rotsmossels, perlemoer en naakslakke insluit.  Dit sluit die lede van die Pulmonata, of landslakke, in wat die enigste weekdiere is wat lug kan inasem.  Meeste buikpotiges het doppe.  Torsie van dop en organe kom voor.  Buikpotiges is die volopste groep weekdiere en kom in die see, varswater en op land voor en maak ongeveer 80% van alle weekdiere op. Buikpotiges word op grond van morfologiese en genetiese bewyse die subklasse Caenogastropoda, Heterobranchia, Neritomorpha, Patellogastropoda en Vetigastropoda verdeel.

Builepes, ook bekend as die Swart Dood, word veroorsaak deur die bakterie Yersinia pestis wat Oosterse rotvlooie, of builepesvlooie besmet.  Hierdie vlooie springs soms van die rotte, wat hulle voorkeurgasheer is, af om op mense te voed.  Miljoene mense het weens builepes gesterf.

Builepesvlooie of Oosterse rotvlooie (Xenopsylla cheopis) is die vlooie wat dikwels met die pesbakterie Yersinia pestis besmet word.  Hierdie vlooie voed dikwels opportunisties op mense en dra sodoende die pesbakterie na mense oor.  Die vlooie voed verwoed en aanhoudend, omdat die pesbakterie hulle spysverteringskanaal verstop en hulle nie versadig kan raak nie en dus honger bly.  Die pesbakterie word saam met speeksel van die vlooi na die werweldiergasheer oorgedra.

Buitenste membraan verwys na die membraan wat die buitenste van die twee membrane is, wat die dubbelmembraan vorm wat rondom mitochondria en plastiede voorkom.  Die buitenste membraan reguleer die deurgang van molekules tussen die sel en die binnekant van die organel.

Byniere is twee klein endokriene kliere wat bo-op die niere van alle soogdiere voorkom.  Byniere is verantwoordelik vir die produksie van adrenalien en noradrenalien wat ‘n mens in veg of vlug staat laat oorgaan, sodat mens vinniger kan hardloop en harder kan veg.  Die byniere vervaardig ook kortisoon, wat in baie verskillende steroïedhormone omskep word en wat vir verskeie funksies aangewend word.

Bytende muggies is grys en 45 mm lank.  Hulle vlerke het vlekke op dansky die hare daarop.  Nes met muskiete, drink die bytende muggiewyfies bloed en nektar, terwyl die mannetjies nektar drink.  Mens sal hulle in klam kompos en modder en die sand rondom riviere, mere en panne kry.  Die wyfie benodig bloed om eiers te kan vorm.  Die wyfie lê haar eiers in water of in klam plekke.  Bytende muggies tree as vektore vir filariale nematode op wat die gasheer se liggaam binnedring, en wat dan tot ‘n verskeidenheid siektetoestande lei.  Sommige filariale nematode besmet die vel, ander die limfkliere en nog ander die liggaamsholtes.

Caenogastropoda is die grootste en ekologies mees diverse en wydverspreide subklas van die Gastropoda en sluit ‘n groot en diverse groep seeslakke, sekere varswaterslakke en selfs sekere landslakke in.  Die Caenogastropoda verteenwoordig die meerderheid buikpotiges (ongeveer 60%).

Candida is ‘n gis wat die siektetoestand candidiase veroorsaak.  Dit vorm deel van die normale mikrobiota, maar kom in beperkte getalle voor.  Wanneer die bakteriële komponent van die mikrobiota, deur die gebruik van antibiotika byvoorbeeld, ingeperk word, sal gisse soos Candida oorneem en patogenies word.  Gewoonlik word die mond, keel en geslagsorgane eerste deur candidiase getref, maar dit kan ook na ander dele van die lyf, soos na die vel, hart, longe, dermkanaal en brein, versprei, veral in mense met ‘n gekompromitteerde immuunstelsel.

Carnivora is ‘n orde soogdiere van ongeveer 279 spesies, wat hoofsaaklik vleis eet, alhoewel sommige, soos die panda, hoofsaaklik bamboes eet.  Carnivora kom op elke kontinent en in ‘n verskeidenheid habitatte voor – vanaf die noordelike poolkap, tot woestyne, grasvelde, woude en oseane.  Carnivora word in twee hoofgroepe verdeel – die katagtige Feliformia (grootkatte, katte, hiënas, muishonde en sivetkatte) en die hondagtige Carniformia (honde, bere, wasbere, wesels en robbe).

Caseidae is ‘n uitgestorwe familie van basale soogdieragtige reptiele wat van die Laat Karboon Periode tot die Middel Perm Periode (300-265 mjg) bestaan het.  Hulle was in ou klassifikasies onder die pelikosauriërs ingesluit.  Kaseïed-fossiele kom in die VSA, Europa en Suid-Afrika as Eunotosaurus as lid van die kaseïediërs ingesluit word.  Kaseïede kom in ‘n verskeidenheid van vorms en groottes voor – die oudste spesies was klein insektivore en omnivore maar later het groot herbivore, wat tot 7 m lank geword het, ontstaan.  Die heel groot herbivoriese tipes het ‘n besondere klein koppie en kort nek op ‘n groot ronde lyf met langer voorbene as agterbene gehad.

Caudofoveata is ‘n klas wat onder die Mollusca val.  Hierdie 0.5 – 140 mm lang doplose wurmagtige weekdiere lyk baie soos die solenogasters.  Maar anders as die solenogasters is die liggaam van koudofoveate in drie dele verdeel en dat hulle ‘n sensoriese mondskild, twee kiewe en ‘n maag besit.  Daar is sowat 130 spesies bekend.  Hulle begrawe hul liggaam vertikaal in die sediment op die seebodem en voed op foraminifera en organiese detritus wat verbyspoel.  Instede van ‘n voet, besit koudofoveate skubbe en kalkryke stekels wat skeriete genoem word, wat hulle vir voortbeweging aanwend.

Cephalochordata s die sustersgroep van werweldiere en het talle eienskappe in gemeen.  Die enigste rede hoekom die kefalokordate nie as werweldiere geklassifiseer word nie is dat hulle nie kraakbeenelemente in die liggaam het nie.  Daar is geen twyfel dat hierdie langwerpige visagtige seelewende diertjies die voorouers van die werweldiere is nie.  Trouens, die larwes van die lamprei, ‘n tipe primitiewe kaaklose vis, was oorspronklik as kefalokordate geklassifiseer.  Daar is ‘n interessante verwarring rondom die naam – κεφαλή “kefale” bedoel kop in Antieke Grieks en dus is die letterlike vertaling van kefalokordate die diere met ‘n “notokoord in die kop” en dit is alles behalwe waar, want die enigste rede hoekom die notokoord tot voor in die liggaam strek is omdat spesifiek Amphioxus, die enigste ekstante kefalokordate, NIE ‘n kop het nie.  Die oerkefalopode het, nes die werweldiere, koppe gehad, maar dit het in die ekstante groepie mettertyd so verklein dat daar net ‘n blasie voor aan die senuweekoord i.p.v. ‘n brein voorkom.  Meeste van die kopsintuie het ook dermate verklein en verdwyn.  Die kefalokordate was baie meer volop in die oertyd maar het mettertyd al hoe minder geword soos wat die verskeidenheid en getalle van visse (die eerste en steeds grootste groep werweldiere) begin toeneem het.  Sien – Amphioxus.

Cephalopoda – sien Koppotiges.

Cestoda – sien Lintwurms.

Chaga se siekte, of Amerikaanse tripanosomiase, is ‘n tropiese siekte wat deur die protosoïese parasiet Trypanosoma cruzi veroorsaak word, wat deur die byt van roofwantse van die subfamilie Triatominae, wat daar as “kissing bugs” bekend staan, na mense oorgedra word.  Die simptome sluit gewolle limfkliere, hoofpyn en koors in, maar kan later ‘n vergrote slukderm en dikderm en hartskade veroorsaak wat mettertyd tot hartversaking kan lei.

Chainosauria is ‘n groot en spesieryke groep van therapsiede wat die groot groep dikuonodontiërs en hul verwante insluit.  Die benaming Chainosauria het in onbruik verval toe die term Anomodontia dit vervang het.  Later was die term Chainosauria weer gebruik kladistiese groeperings om die verwantskap tussen die dikuonodontiërs en dromosauriërs aan te dui en om ‘n onderskeid te tref tussen die venjukovoïede van Laurasië en die chainosauriërs van Gondwana.

Chainosauriërs – sien Chainosauria.      

Charles Darwin was ‘n Britse natuurkundige wat wêreldwyd bekendheid verwerf het vir sy boek Origin of species.  Ongelukkig bestaan die wanpersepsie dat Charles Darwin die “Vader van Evolusie” is.  Aangesien Darwin se oupa Erasmus Darwin oor evolusie voor Charles se geboorte geskryf het, maak dit Charles Darwin nie eerder die “Kleinseun van Evolusie” nie?  Net om dinge behoorlik om te klits: het jy geweet dat die enigste kwalifikase wat Charles Darwin gehad het ‘n BA graad in teologie was?  Maak dit hom nou die “Dominee van Evolusie”?  Maar wag ‘n bietjie – Darwin haal die werk van die Franse evolusiekundige Jean-Baptiste Lamarck talle kere in sy boek aan en dus is dit tog duidelik dat Lamarck Darwin voorafgegaan het.  Lamarck haal weer die werk van Georges-Louis Leclerc, Comte de Buffon aan.  Trouens die Antieke Griekse filosowe soos Plato, Aristoteles, Sokrates en Hippokrates het reeds twee en ‘n half duisend jaar gelede die Leer van die Lewe waarvolgens voorouerlike primitiewe organismes aan meer gevorderde nasate oorsprong gee en dat mense en ape verwant aan mekaar is, bespreek.  Charles Darwin was egter die eerste persoon wat alles wat in die negentiende Eeu oor evolusie bekend was, in verstaanbare Engels opgeskryf het.  Hy het ook saam met Alfred Russell Wallace ‘n meganisme van evolusie voorgestel naamlik dat die oormaat van individue, wat effens van mekaar verskil, wat ‘n spesie genereer, aan natuurlike seleksie blootgestel word, wat veroorsaak dat sekere individue, wat meer geskik is om onder daardie omstandighede te oorleef, geselekteer word terwyl die ander sterf.  Charles Darwin het nooit die kerk of godsdiens (soos wat baie mense dink) aangeval nie en is trouens in die vloer van Westminster Abdy, naby Isaac Newton se graf, begrawe.

Chelicera: sien Kloukaak.

Chelicerata is een van die hoofonderafdelings van die filum Arthropoda – die geleedpotiges.  Die Chelicerata sluit die spinnekoppe, seespinnekoppe, perdeskoenkrappe en die uitgestorwe seeskerpioene in.  Volgens die fossielrekord het die Chelicerata in die Kambriese Periode ongeveer 508 miljoen jaar gelede ontstaan.  Chelicerata het gesegmenteerde liggame met gelede pote, wat met ‘n eksoskelet van chitien bedek is.  Chelicerata se liggaam bestaan uit twee tagmata – die prosoma en die opsithosoma (buiten vir myte waar daar geen onderskeid tussen liggaamsdele is nie).  Die chelicerae of kloukake – waarvan die groep se naam afgelei is – kom voor die mond van hierdie diere voor.  In meeste groepe bestaan dit uit eenvoudige knypers waarmee die dier kos hanteer, in sonspinnekoppe het dit in skêre verander om prooi op te sny en in spinnekoppe het dit in giftande verander waarmee gif in die prooi ingespuit word.  Chelicerate was oorspronklik almal predatore, maar die groep het intussen aangepas om op allerlei maniere kos in die hande te kry en wissel van predatore, herbivore, parasiete, aasdiere tot detrivorie.

Chemo-organotrofiese voeders bekom hulle voedingstowwe op een van drie wyses: saprofities, osmotrofies en deur fagositose.  Hierdie groep word ook heterotrowe genoem.  Chemo-organiese organismes sluit nie-fotosintetiserende protiste, swamme en diere in wat chemiese energiebronne en organiese molekules as elektron-, waterstof- en koolstofbronne benut.

Chemoresepsie is die sintuiglike waarneming van chemiese stowwe, wat in vloeistowwe en gasse (soos lug) voorkom.  Dit word gewoonlik as smaak (die waarneming van chemiese stowwe wat in vloeistof opgelos is), of reuk (die waarneming van chemiese stowwe in lug) beskryf.  Chemoresepsie sluit ook die waarneming van feromone in.  Verskillende organe word vir chemoresepsie in verskillende diere gebruik – in werweldiere sluit dit organe soos die olfaktoriese of reukepiteel in die neusholte, die smaakpapille op die tong en die vomeronasale orgaan in die verhemelte en die vloer van die neusholte in.  In ongewerweldes kan chemoreseptore op die vel, pote, voelers ens. voorkom.  In sommige gevalle is die onderskeid tussen smaak, reuk en feromoonwaarneming so moeilik in sekere diere dat mens dan bloot daarna as chemoresepsie verwys.

Chemoreseptore is sensoriese organe wat chemiese verbindings kan waarneem.  Reuk- en smaaksintuie is tipiese chemoreseptore wat in algemeen in diere voorkom.  Die voorste tentakels op die kop van weekdiere, die arms van koppotiges en die subradula orgaan van monoplakofore en kewerslakke het ‘n chemosensoriese funksie.

Chemotropies is die respons van ‘n organisme op chemiese prikkels in sy omgewing en wat gewoonlik die organisme noop om in daardie rigting te groei.  Dit kom veral in bakterieë, swamme en plante voor.

Cheyletus is ‘n predatoriese myt wat op ander myte en klein geleedpotiges voed.  Hulle kom wêreldwyd voor.

Chicxulub-meteorietimpakkrater is ‘n impakkrater, van ongeveer 150 km wyd en 20 km diep, wat onder die see, op die seevloer langs die Yucatán Skiereiland van Meksiko voorkom.  Dit was gevorm toe ‘n meteoriet van 10 – 15 km in deursneë die Aarde ongeveer 66 miljoen jaar gelede getref het.  Hierdie impak het ‘n geweldige effek op die Aarde se klimaat gehad en was verantwoordelik vir die einde van die Kryt Periode wat gekenmerk word aan die uitwissing van tot ongeveer 75% van alle plant en dierspesies, insluitende die reuse reptiele soos dinosauriërs, pterosaurërs en mosasauriërs verdwyn het.

Chikungunya is ‘n siekte wat deur die Chikungunya virus veroorsaak word.  Aedes muskiete van Afrika en Asië dra die virus van besmette na onbesmette knaagdiere, voëls of mense oor.  Die simptome van Chikungunya is soortgelyk aan dié van dengue of Zika en sluit koors, gewrigpyne, swelling en veluitslag in.  Die gewrigpyne mag vir maande tot jare voortduur.  Die siekte is selde dodelik.

Chimpansee – sien Sjimpansee.

Chimpanseeluis (Pediculus shaeffi) – sien Pediculus.

Chitien of kitien (C8H13O5N)n is ‘n langketting-polimeer van N-asetielglukoamien wat ‘n derivaat van glukose is.  Dit is ‘n besondere sterk, weerstandbiedende stof wat in die strukture en liggaamsdele van talle organismes voorkom – vanaf die radula van molluske, seekat- en inkvis-snawels, visskubbe, eksoskelette van geleedpotiges en die selwande van fungi.  Die woord word “sjitien” uitgespreek en nie “kaaitin” soos in Engels nie.  Dit kom van die Franse woord chitine af wat dit van die Griekse woord χιτών (chiton) wat bedekking beteken, afgelei het.

Chiton – sien Kewerslakke.

Chlamydomonas is ‘n baie bekende enkelsellige, fotosintetiserende, dubbelflagella groenwier.  Dit word allerweë as enkelsellige lede van die planteryk beskou.  Primitiewe meersellige groenwiere bestaan uit kolonies van Chlamydomonas-agtige selle.

Chlamydospore (chlamydospores) is die rustende spore wat deur Konjugasieswamme, Sakswamme en Steetjieswamme gedurende ongunstige tye soos droogte of warm toestande vervaardig word.  Chlamydospore (wat soos die hife haploïed is) vorm binne of op die punt van die hife en word vrygestel wanneer die hife vergaan.  Die chlamydospoor het ‘n dik gepigmenteerde selwand en is weerstandbiedend teen slegte toestande soos ‘n wisseling van temperatuur, uitdroging en fisiese aanraking.

Chlorofil a is die blou-groen fotosintetiserende pigment wat in die chloroplaste van meeste plante, chromiste en sianobakterieë voorkom en die belangrikste pigment, wat vir fotosintese noodsaaklik is.  Chlorofil a absorbeer lig in die ligspektrum van tussen 429-659 nm, met ‘n piek van effektiwiteit in die rooi spektrum rondom 642 nm en tot ‘n mindere mate in die blou spektrum rondom 372 nm, met geen absorpsie in die groen deel van die ligspektrum tussen die twee effektiwiteitspieke nie.

Chlorofil b is ‘n geel-groen bykomstige pigment, wat saam met chlorofil a in meeste fotosintiserende plante voorkom.  Chlorofil b help met die versameling van ligenergie in die oranje-rooi spektrum met ‘n golflengte van tussen 392-626 nm en oorhandig die energie aan chorofil a.

Chlorofil c is die groen-blou fotosintetiserende pigment wat saam met chlorofil a net in die plastiede van fotosintetiserende Chromista (bv. bruinwiere, diatome en dinoflagellate) voorkom.  Dit absorbeer blou-pers lig met ‘n golflengte tussen 447-452 nm.  Alle bewyse dui aan dat dit vanuit die rooiwier pigment ontstaan het.

Chlorofil d is die fotosintetiserende pigment wat in sianobakterieë en rooiwiere voorkom.  Rooiwiere se chloroplaste bevat chlorofil a en d.  Chlorofil d absorbeer lig in die diep rooi tot infrarooi deel van die spektrum, met ‘n effektiwiteitspiek rondom 710 nm.  Dit laat sianobakterieë toe om in redelike diep water, waar daar nie baie lig deurdring nie, te kan fotosintetiseer.

Chloroplas is die dubbelmembraanorganel wat in groen plante, bruinwiere, rooiwiere en sekere protiste voorkom wat vir fotosintese verantwoordelik is.  Dit bevat chlorofilpigmente wat in membraanpakkies, die tilakoïede, binne die chloroplas voorkom.  Dit plant, soos bakterieë, met behulp van tweedeling voort en besit DNS. Dit het ontstaan vanuit sianobakterieë waarop eensellige plante se voorsate gevoed het.  Hierdie sianobakterieë het mettertyd weerstand teen die verteringsensieme van die gasheer-sel gebied en het as endosimbionte in die sel begin leef en so oorsprong aan chloroplaste gegee.

Choana – is die Latynse woord vir neusgat.  Interne choana verwys na die binneste opening van die neusgat.

Cholesterol is ‘n sterol (gemodifiseerde steroïed) wat ‘n tipe lipied is. Alle dierselle vervaardig cholesterol, wat ‘n baie belangrike onderdeel van diere se selmembrane opmaak.

Chondrichthyes of kraakbeenvisse is ‘n klas visse wat gekenmerk word aan die feit dat hulle skelette van kraakbeen het, maar meer nog – hulle het nie ‘n dermatokranium nie.  Die verlies van die dermatokranium het sekondêr plaasgevind en is nie ‘n primitiewe kenmerk nie.  Die voorsate van die Gnathostomata, waaronder die Chondrichthyes val, het ‘n goedontwikkelde dermatokranium gehad wat oorsprong aan die skedels van al die ander Granthostomate gegee het.  Dit is ook belangrik om te weet dat die steurvis, wat onder die beenvisse (Osteichthyes) val, se skelet van kraakbeen is, maar soos ander beenvisse het dit ‘n dermatokranium.  Due kraakbeenvisse het natuurlik nie ‘n operkulum of kiefdeksel nie, want dit is deel van die dermatokranium – dus is hul kiefsplete nie bedek nie maar vyf tot sewe oop splete elke kant agter die kop.  Daar is egter ook soms ‘n gat of spirakel voor die kiefsplete wat die oorblyfsel van ‘n ekstra kiefspleet is.  Kraakbeenvisse het ook nie swemblase soos beenvisse nie.  Daar is twee subklasse kraakbeenvisse – die Elasmobranchii wat die haaie, rôe, vlete en saagvisse insluit en die Holocephalii wat die rotvisse of kimeras insluit.  Die Elasmobranchii het ‘n werwelkolom van kraakbenige werwels, maar die Holocephalii behou die notokoord as volwassene soos die primitiewe kordate.  Aangesien hulle nie beenmurg het nie word rooibloedselle in die milt en in die epigonale weefsel – wat rondom die gonades voorkom – gevorm.  Die vel van kraakbeenvisse (buiten die rotvisse) is met plakoïedskubbe, wat soos mikroskopiese emaljebeklede tandjies lyk, bedek.  Meeste kraakbeenvisse het heteroserkale sterte waar die boonste lob groter as die onderste lob is.  Bevrugting is inwendig en meeste kraakbeenspesies is ovivivipaar en skenk dus geboorte terwyl die res ovipaar is en dus eiers lê.

Chordata of kordate is ‘n filum van diere met ‘n notokoord, kiefsplete, ‘n stert agter die anus, boonste hol senuweekoord en ‘n endostiel of ‘n skildklier, in plek van die endostiel, op die bodem van die farinks op ‘n sekere stadium van die organisme se bestaan.  In sekere organismes verskyn hierdie kenmerke slegs in die embrio of in die larwe, maar in ander bestaan hierdie kenmerke regdeur die organisme se lewe.  Diere wat in hierdie groep val is die subfilums Urochordata, Cephalochordata en die Vertebrata of werweldiere.  Hierdie kemerke word gebruik om te bepaal dat organismes, wat so wyd van mekaar verskil soos rooiaas en mense, aanmekaar verwant is.

Chromatofoor is ‘n sel in die vel wat verantwoordelik is vir die velkleur en veranderings in die velkleur van koppotiges.   Die stervormige chromatofoor bevat ‘n elastiese sakkie met ‘n pigmente van ’n sekere kleur.  Die omgewingsomstandighede of die emosionele toestand van die koppotige, veroorsaak dat die selle groter of kleiner word en dat die kleure wat daarbine voorkom, helderder of minder opvallend word.  Daar is xantofore (geel pigment), eritrofore (rooi pigment), leukofore (wit pigment), melanofore (swart/bruin pigment), sianofore (blou pigment) en iridofore (weerspieëlende chromatofore) in die vel.

Chromiste is lede van die Koninkryk Chromista.  Die bekendste lede van die chromiste is die bruinalge, wat oorspronklik as deel van die plante (Koninkryk Plantae) beskou was.  Die meer as 180 000 bekende Chromista-spesies word in die Heterokonta, Haptophyta en Cryptomonada ingedeel.  Die Chromista word gekenmerk aan die feit dat hulle plastiede bevat, wat deur vier membrane omhul is en chlorofil c bevat.  Hierdie plastiede is soortgelyk aan dié wat in rooialge voorkom.  Alles dui daarop dat die Chromista se plastiede verkry is deur die opname van enkelsellige rooialge deur die groter sel, net soos wat sianobakterieë deur die enkelsellige plantvoorouers opgeneem is.  Chromista het gewoonlik twee flagella besit wat verskillend lyk.  Chromiste het ‘n groter variasie in liggaamsvorme en lewenswyses as die planteryk en bevat meer filums as die Koninkryke Fungi of Protista.  Slegs die Koninkryke Animalia (diere) en Bacteria (bakterieë) het meer filums as die Koninkryk Chromista, maar geen Ryk kan kers vashou met chromiste se ongelooflike verskeidenheid van liggaamsvorme en lewenswyses nie, wat wissel vanaf bruinwiere, wat langer as ‘n blouwalvis kan wees, tot eensellige parasiete soos Toxoplasma, wat in tot soveel as ‘n derde van die mensdom se breins leef, en sekere dinoflagellate wat koraalriwwe help bou, en foraminifera, wat die wit kranse van Dover in Engeland vorm, tot haptofitiese plankton, wat die talrykste enkelsellige fotosintetiserende organismes in die oseane is.

Chrysomy bezziana – sien Beesbrommer.

Chrysops is ‘n vlieggenus wat onder die familie Tabanidae (steekvlieë) van die orde Diptera val.  Chrysops kom wydverspreid op alle kontinente buiten Antarktika voor.  Die wyfies van die sowat 250 bekende spesies is bloeddrinkende parasiete van veral soogdiere, insluitende die mens.  Die mannetjies voed op stuifmeel en nektar.  Talle spesies tree ook as vektore vir bakterieë en parasitiese nematode op.

Chytridiomycota – sien Potjieswamme.

Chytridiomycosis is ‘n verskriklike siekte wat paddabevolkings wêreldwyd vernietig.  Dit word deur die Potjieswam Batrachochytrium dendrobatidis veroorsaak.

Ciliophora of siliate is deel van die koningkryk Chromista, maar aangesien hulle eensellige eukariote is, word daar dikwels na hulle as protosoë of protiste verwys.  Ciliophora word gekenmerk aan die groot getal silia wat oor hul selle voorkom en wat hulle gebruik om te beweeg, vas te heg, te voed en vir sensasie.  Daar is ongeveer 4 500 bekende spesies wat in varswater, seewater en in die grond voorkom.  Die meerderheid is vrylewende eensellige predatore, maar daar is ook endosimbiotiese organismes en parasiete onder hulle.  Die enigste bekende lid van die Ciliophora wat mense parasiteer, is Balantidium coli.

Cimex hemipterus – sien Tropiese weeluis.

Clostridioides difficile is anaerobiese basille wat in pare of in kort kettings voorkom.  Hulle vorm soms deel van die mikrobiota in die dikderm, sonder nadelige gevolge.  Hulle selle kan soms bottelvormig wees weens ‘n spoor, wat aan die een kant van die sel vorm.  Die spore kan ekstreme omstandighede oorleef, wat die volwasse nie kan hanteer nie.  C. difficile kan onder sekere omstandighede, soos voedselvergiftiging en die misbruik van purgeermiddels, patogenies word, veral weens die feit dat dit gifstowwe vervaardig.

Clostridium-spesies kom wydverspreid in grond voor en is ‘n algemene komponent van die mikrobiota in ‘n mens se dermkanaal en die vroulike geslagsorgane.  Clostridium is ook ‘n bekende patogeen wat vir verskeie siektes soos botulisme en klem in die kaak verantwoordelik is.  Sekere spesies is verantwoordelik vir diarree.  Clostridium bakterieë is staafvormig, maar selle met endospore is bottelvormig.

Cochlea – sien Slakkehuis.

Cochlear-Argenvillei-Sone kom op rotsagtige strande langs die Suid- en Weskus van Suid-Afrika voor en word deur die voorkoms van die klipmossels Scutellastra cochlear en Scutellastra argenvillei gekenmerk.  Hierdie sone, wat tussen die Onderste Balanoïedsone en die Subgetysone voorkom, is meestal onder water, buiten tydens spring-laaggety wanneer dit aan lug blootgestel is, wat twee keer per maand, twee keer in 23.5 uur, vir ‘n paar uur duur.  Die bruinmossel Perna perna en die swartmossel Choromytilus meridionalis kom ook in hierdie sone voor.

Coleoidea – sien Koleoïdea.

Conodonta is ‘n uitgestorwe groep klein wurmagtige mariene diertjies wat aan werweldiere verwant is.  Sommige taksonome beskou hulle as werweldiere en hulle word dus onder die klas Conodonta, in die superklas Agnatha, in die subfilum Vertebrata van die filum Chordata ingedeel.  Konodontiërfossiele het vir die eerste keer in die Kambrium verskyn.  Konodontiërfossiele bestaan meestal uit getande stafies en kort gepunte elemente van kalsiumfosfaat.  Kalsiumfosfaat is die boustof van been en konodontiërs was dus die eerste organismes wat been gehad het.  Aangesien konodontiërfossiele uit been bestaan wat maklik fossiliseer en wêreldwyd in rotse van die Kambruim tot die Vroeë Jura gevind word, kan dit dus as indeksfossiele vir biostratigrafiese doeleindes gebruik word.  Buiten vir die Suid-Afrikaanse konodontfossiele, waarvan sommige elemente tot 10 mm lank is, is die res wat wêreldwyd voorkom, baie klein en wissel tussen 0.3 en 3 mm in lengte.  Hierdie getande stafies en beenelementjies wat saam met dit voorkom, was vir lank ‘n enigma en niemand kon raai hoe die eienaar van hierdie struktuurtjies gelyk het nie.  Die eerste leidraad was dat hierdie elemente soms in groepies voorgekom het wat ‘n duidelike bilaterale simmetrie getoon het – m.a.w. daar was linker- en regterkantse elemente wat as spieëlbeelde van mekaar in bondels gerangskik is.  In 1983 was die eerste konodontdier ontdek toe ‘n fossiel van ‘n 10 mm lange wurmagtige diertjie in Edinburgh in Skotland gevind is.  Die konodont apparaat was in die wande van die diertjie se farinks ingebed en was duidelik deel van sy voedingsapparaat.  Die konondont dier het ook ‘n notochoord, spierbundels, kiewe en stertvin gehad.  Konodontiërs het uitermate groot oë gehad wat saam met die seevloersedimente waarin hulle aangetref word getuig daarvan dat hulle diepseebewoners was.  Konodontiërdiversiteit het aan die einde van die Kambrium afgeneem toe talle konodontiërfamilies met die Kambrium-Ordovisium massa-uitsterwing uitgesterf het.  Die laaste konodontiërs het nog tot aan die einde van die Trias voorgekom maar het heeltemal na die Trias-Jura massa-uitsterwing verdwyn.

Copepoda is ‘n skaaldier-subklas.  Hulle is klein en kom algemeen in die see en varswater voor.  Copepoda kom in baie verskillende habitatte in die see, brakwater en varswater voor.  Sommige spesies is planktonies, ander leef in die seevloer.  Meeste is vrylewend, maar sommige is parasities.  Daar is selfs spesies wat landlewend is en in moerasse, tussen mosse en in woude onder die verrottende blare voorkom.

Cordylobia anthropophaga – sien Tumbuvlieg.

Corynebacterium is ‘n bakterie wat baie algemeen in die natuur voorkom en ook opportunisties op jou vel leef.  Meeste van die Corynebacterium spesies is nie siektevormend nie, maar sommige soos Corynebacterium diphtheriae, veroorsaak witseerkeel, wat in sekere erge gevalle mens se dood kan veroorsaak.

Coxiella burnetti is ‘n bakterie wat ‘n intrasellulêre patogeen is en wat Q-koors veroorsaak.  Dit is soorgelyk aan Rickettsia bakterieë, maar met die verskil dat dit hoë temperature, hoë druk en ultraviolet lig kan weerstaan en meeste gewone ontsmettingsmiddels kan oorleef.

Crohn se siekte is kroniese dermwandontsteking wat benewens buikpyn, diarree, gewigsverlies, bloedarmoede en moegheid, ook lewensbedreigende komplikasies soos die risiko van kolonkanker kan verhoog.  Sommige mense wat aan Crohn se siekte ly, toon geen tot ligte simptome, terwyl ander erge kroniese simptome toon wat nooit weggaan nie, maar wat trouens vererger.  Crohn se siekte is ongeneeslik en die simptome word met steroïede en immuniteit-onderdrukkers behandel.

Crustacea – sien Skaaldiere.

Cryptococcus is ‘n swam wat algemeen in die grond voorkom en onskadelik is, maar daar is sekere spesies soos C. neoformans, C. laurentii en C. albidus wat ernstige infeksies in mense en diere kan veroorsaak.  Die spore word gewoonlik ingeasem en veral mense met ‘n immuniteitsprobleem (HIV lyers, kankerlyers wat chemoterapie ontvang en rumatoïede artritis lyers wat immuniteitsonderdrukkers neem) word dikwels baie siek daarvan, omdat die spore in hulle liggaam posvat en begin voed en aanwas.  Mense wat deur Cryptococcus besmet is, het koors, is ligsensitief en kry hoofpyne en nekstyfheid wat al hoe erger word soos wat breinvliesontsteking posvat.

Ctenidiums – sien Kiewe.

Culicoides spesies – sien Bytende muggies.

Cutibacterium acnes is ‘n bakterie wat op olierige veloppervlaktes en in jou haarfollikels leef en is een van die bakterie-spesies wat puisies veroorsaak.

Cuvier se snoetwalvis (Ziphius cavirostris), familie: Ziphidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Cyclops is ‘n lid van die skaaldiersubklas Copepoda.  Hierdie klein (0.5 – 5mm) skaaldiertjie kom algemeen in varswater voor. Cyclops het vyf paar pote en twee paar antennas en een oog wat swart of rooi kan wees.  Cyclops eet verrottende dier- en plantmateriaal en klein rondewurms en tree as tussengasheer vir die guineëwurm op.

Cyclostomata – sien Agnatha.

Cynodontia is ‘n gevorderde theriodontklade wat in die Laat Perm Periode ongeveer 260 miljoen jaar gelede ontstaan het.  Mens hoort eintlik hierdie naam as kuonodont uit te spreek omdat die naam van die Grieks κύων (kúōn, “hond”) en ὀδόντος (odóntos, “tand”) kom.  Dit is dus allesbehalwe “Sinodont” soos Engelse dit uitspreek.  Hulle het die Perm/Trias uitwissing oorleef en in die Trias Periode gediversifiseer om as karnivore, omnivore en herbivore ‘n verskeidenheid nisse te vul.  Hierdie groep, wat die moderne soogdiere insluit, het reeds vanaf die Trias Periode regoor Pangea versprei.

 

Dacrymycetes – sien Trilswamme.

Damaraland duinemol (Cryptomys damarensis), familie: Bathyergidae, suborde: Hystricognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Damara wolhaarvlermuis (Kerivoula argentata), subfamilie: Kerivoulinae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Darling se saalneusvlermuis (Rhinolophus darlingi), subfamilie: Rhinolophinae, familie: Rhinolophidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Dassierot, (Petromus typicus), familie: Petromuridae,  orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

DDT (dichloordifenieltrichlooretaan) is ‘n kleurlose en amper reuklose insekgif, wat in 1874 deur Othmar Zeidler van Oostenryk in 1874 ontdek is.  Paul Hermann Müller van Switserland het in 1939 die effektiwiteit daarvan as insekgif bewys, waarvoor hy die Nobelprys in Fisiologie of Geneeskunde in 1948 ontvang het.  Dit was as baie effektiewe teenvoeter teen die lyfluise, wat vir die tifusplaag onder soldate tydens die Tweede Wêreldoorlog verantwoordelik was, aangewend.  Die gebruik van DDT het wêreldwyd versprei, waar mense dit as pesbestryding in huise, publieke geboue, dierhokke, riviere, mere, moerasse, plantasies en landerye gebruik het.  Die gebruik van DDT was deur die Stockholm Konvensie op Langlewende (Persisterende) Organiese Gifstowwe van 2004 verban, weens die skadelike effek wat DDT op mense se endokriene stelsels het, die hoeveelheid nie-teiken organismes wat dit dood, en weens die feit dat dit slegs oor ‘n baie lang tyd afbreek (dit kan tot 30 jaar in grond voorkom voor dit afbreek) en dus in die natuur opbou, wat ‘n groot bedreiging vir die ekologie en mense se gesondheid inhou.  Ontwikkelende lande, wat deur malaria geteister word, het egter toestemming gekry om DDT vir malariabeheer toe te pas.  Indië is die grootste vervaardiger van DDT, terwyl China in 2004 die vervaardiging daarvan gestaak het.  Ongeag die negatiewe impak op die natuur en die endokriene afwykings wat dit in mense veroorsaak, glo die regerings van derdewêreldlande wat DDT gebruik, dat malaria nog ‘n groter bedreiging vir mense inhou.

Decapodiformes is een van die twee ekstante Coleoidea superordes wat aan hul tien arms of tentakels gekenmerk word. Die Decapodiformes het mettertyd agt korter arns en twee lang arms (armpaar IV) ontwikkel.

Demodex is ‘n tipe myt wat op soogdiere se velle voorkom.  Dit staan ook as follikelmyte of wimpermyte bekend.  Hierdie 0.3-0.4 mm lange myte bly binne haarfollikels, waar hulle op olie en bakterieë voed, maar sal in die nag uitkom en op die vel rondloop om te paar en na nuwe areas te versprei.  Die twee spesies wat op mense voorkom is Demodex folliculorum en Demodex brevis.

Dengue of denguekoors is ‘n virusontsteking wat van besmette tot onbesmette mens deur middel van ‘n muskiet oorgedra word.  Die denguevirus word hoofsaaklik deur Aedes muskiete in tropiese gebiede versprei.  Denguekoors simptome sluit ‘n hoë koors, hoofpyn, braking, spier- en gewrigpyne en ‘n kenmerkende veluitslag in.  Soms kan dit tot erge hemorrargiese koors oorgaan, wat bloeiing en verlaagde bloedplaatjietellings kan veroorsaak en tot gevaarlike lae bloeddruk lei.

Dentale been is die tanddraende been van die onderkaak.  In reptiele is dit een van die sewe bene aan elke kant van die onderkaak waarop die tande gedra word, terwyl die twee dentale been die hele onderkaak van die soogdier vorm.  Dit is ‘n dermale element wat tydens embriologiese ontwikkeling van werweldiere die kraakbeen van Meckel as onderkaak vervang.

Dent se saalneusvlermuis (Rhinolophus denti), subfamilie: Rhinolophinae, familie: Rhinolophidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Depressie is ‘n neurologiese toestand wat gekenmerk word aan ‘n negatiewe lustelose gemoedstoestand.  Depressie beïnvloed ‘n mens se denke, gedrag, gevoel en sin van welstand.  Depressie kan deur verskeie faktore veroorsaak word, insluitende: oorgeërfde kenmerke, traumatiese ervarings en neurologiese versteurings, wat deur interne biologiese prosesse, die blootstelling aan chemikalieë of deur toksoplasmose veroorsaak word.

Derdelarwe is die lewenstadium van invertebrate wat die tweedelarwe opvolg.  Die derdelarwe in talle vliegspesies vorm die papie.  In ander insekte gaan hulle ontwikkeling nog verder en volg ‘n vierdelarwe en vyfdelarwe nog op die derdelarwe.  In sekere groepe insekte is daar nog talle ander lewenstadiums wat op die vyfdelarwe volg.  In talle parasitiese nematode is dit die aansteeklike lewenstadium wat die gasheer binnedring.

Derivaat is ‘n chemiese verbinding wat gevorm word vanuit ‘n ander verbinding of verbindings.

Derm of intestinum is die dun lang buis wat die maag aan die rektum koppel.  Dit is vir die vervoer van afvalstowwe wat as mis uitgeskei sal word.

Dermale been is bene wat uit die vel, wat die kop van werweldiere bedek, ontstaan.  Hierdie bene staan as die dermatokranium bekend.

Dermatokranium is die plat bene wat in die embrionale vel van werweldiere (buiten vir die kaaklose visse en kraakbeenvisse) ontstaan en wat die werweldier se kop bedek.  Die grootste deel van die buitekant van die skedel bestaan uit hierdie bene.  Die dermatokranium van soogdiere bestaan uit die 2 maksillas, 2 premaksillas, 2 nasale bene, 2 lakrimale bene, 2 prefrontale bene, 2 jugale of sigomatiese bene, 2 skwamosums, 2 frontale bene, 2 pariëtale bene, 2 postpariëtale bene, 2 palatiene bene, 2 dentale bene, 2 pterygoïed bene, 2 timpaniese ringe en 1 vomer.  Reptiele het nog 2 postfrontale bene, 2 postorbitale bene, 2 prefrontale bene, 2 kwadratojugale bene, 2 supratemporale bene, 2 tabulêre bene en 2 postpariëtale bene daarby en die timpaniese ringe van die soogdierskedel is die angulêre bene van die onderkaak in reptiele.  Hierdie beenelemente was oorspronklik die benige skubbe wat die Ostracodermi se koppe bedek het.

Dermbloedbot (Schistosoma mansoni) is die bloedbot wat die dermkanaal aanval.  Die gekoppelde volwassenes van hierdie spesie beweeg binne bloedvate van die lewer tot by dermkanaal, waar die wyfie uit die mannetjie se ginekofoorkanaal kruip om in die klein bloedvate waarin sy kan pas, so naby as moontlik aan die dermwand te kom, waar sy dan haar duisende eiers lê.

Derm-brein spil is die tweerigting chemiese, fisiologiese en neurlogiese interaksie wat tussen die spysverteringskanaal en die sentrale senuweestelsel bestaan.  Hierdie wisselwerking sluit egter ook die rol van dermmikrobiota, die enteriese senuweestelsel, die limfvatstelsel en die endokriene stelsel in.

Dermis – sien Vel.

Dermmikrobioom is die gemeenskap spesies van mikroskopiese organismes wat in mense en diere se dermkanaal voorkom, dit sluit ook die interaksie tussen hierdie spesies, en tussen hierdie spesies en hulle gasheer in.  Daar is ‘n chemiese en fisiese wisselwerking tussen die gasheer en die mikrobioom wat beide bevoordeel.  Die mikrobioom dra grootliks by tot die gasheer se gesondheid, fisiologie en gedrag.  Die ko-evolusie tussen die gasheer en sy dermmikrobioom het diere in staat gestel om by ‘n groot verskeidenheid habitatte en voedseltipes aan te pas en om ‘n groot verskeidenheid lewenswyses te handhaaf.

Dermrondewurm of dermspoelwurm (Ascaris lumbricoides) is die mees algemene rondewurmparasiet wat mense besmet.  Ongeveer een miljard mense wêreldwyd is tans met dermrondewurms besmet.  Dit is ook ‘n besondere groot rondewurm in vergeleke met ander rondewurmspesies waarvan meeste minder as ‘n millimeter lank is, en tot 49 cm lank kan word.  Die volwasse dermrondewurm drink nie bloed of voed op mens se vleis nie, maar leef bloot in jou derms en eet jou derminhoud.  In hierdie gesellige dermhuis paar die mannetjie met die wyfie.  Sy stel ongeveer 200 duisend eiers per dag, vir 12 tot 18 maande van haar lewensduur, vry.  Hierdie eiers word saam met die gasheer se feses na buite uitgeskei.  Die dermrondewurmeiers wat mens insluk, broei in mens se derms uit en dan boor die larwes deur die dermwand, om in die bloedvate of limfvatstelsel langs die dermkanaal te kom.  Die larwes word met die bloedstroom deur die hart tot in die longkapillêrbed vervoer.  Die larwe boor dan, gewoonlik snags, deur die alveoli van die longe en word deur die lugpyp tot in die keel opgehoes.  In die keel word hulle gewoonlik dan weer in die slukderm afgesluk.

Dermrondewurmbesmetting word ascariose genoem.  Die simptome sluit: bloederige speeksel, hoes, koors, buikpyn en dermsere in.

Detorsie vind in sekere buikpotiges plaas waar die torsie van die organe, wat in buikpotiges voorkom, terugdraai.  Detorsie veroorsaak dat die anus en kiewe en geassosieërde organe, wat deur torsie tydens die vroeë ontwikkeling van die slak vorentoe gerig word, in sekere buikpotiges terugdraai sodat hulle senuweestelsels, spysverteringstelsels en kiewe dieselfde oriëntasie as dié van primitiewe weekdiere, die aplakofore, monoplakofore en kewerslakke, het.

Detritus is verrottende organiese materiaal wat onder meer op die bodem van mere, die see, moerasse en op en in die grond aangetref word.

Detritusvoeder – sien Detrivoor.

Detrivoor is ‘n dier wat verrottende organiese materiaal vreet (detrivorie).  Erdwurms, talle weekdiere, insekte soos kakkerlakke en duisendpote is detrivore.

Detrivorie verwys na die voeding op afval wat dooie dier- en plantmateriaal en mis insluit. Talle diere is detritivore.  Bakterieë, protiste en fungi, wat afbrekers van afval is, word nie as detritivore beskou nie omdat hulle nie hele stukke afval inneem deur om dit te vreet soos wat detritivore dit doen nie maar eerder afval uitwendig afbreek en die afbraakprodukte op molekulêre vlak opneem.

Deuteromycota of Fungi Imperfecti is ‘n polifiletiese groep swamme waarvan die geslagtelike voortplanting onbekend is wat die klassifikasie van hierdie swamme bemoeilik.  Genetiese studies het dit moontlik gemaak om verskeie swamspesies wat oorspronklik as Deuteromycota geklassifiseer is na die Sakswamme en Steeltjieswamme te verskuif.

Devoon Periode is ‘n geologiese tydvak wat van 419.2 tot 358.9 miljoen jaar gelede geduur het.  Die tydperk word gekenmerk aan die vestiging van lewe op land.  Plante ontwikkel vanaf die eerste eenvoudige landplante tot die eerste saaddraende vaatplante in hierdie tydperk – wolfskloue, perdesterte, varings en saaddraende plante en bome verskyn.  Die eerste sakswamme verskyn.  Landlewende geleedpotiges, insluitende insekte verskyn.  Tandskulpe en visse met kake – die placoderms verskyn.  Lobvinvisse, straalvinvisse en primitiewe haaie – heers in die see terwyl die kaaklose visse en trilobiete al minder word.  Die eerste longvisse en basale tetrapode verskyn aan die einde van hierdie tydperk.

De Winton se kruipmol (Cryptochloris wintoni), subfamilie: Chrysochlorinae. familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Diabetes – sien Suikersiekte.

Diafragma is die spierlaag wat die vloer van die borskas vorm, wat verantwoordelik is vir 70% van die vergroting van die ruimte binne die borskas, wanneer dit tydens inaseming in soogdiere saamtrek.  En as jy wonder wat vir die oorblywende 30% van die vergroting  van die borskas in soogdiere tydens asemhaling verantwoordelik is – dit is die ribbekas en die spiere daartussen – die interkostale spiere.

Diapsida is die grootste groep reptiele waaronder die akkedisse, slange, Sphenodon (die laaste oorlewende lid van die Rhynchocephalia) en Archosauria (krokodille, dinosauriërs, voëls) val.  Die kenmerk wat hierdie diere deel is twee vensters in die slaapwyk aan elke kant van die skedel.  Die akkedisse het egter die onderste stafie van die onderste slaapwykopening verloor en slange het daarby die middelste stafie, wat die twee vensters skei, ook verloor, maar hulle word nog steeds as diapsiede beskou.

Diaspore in swamkunde en plantkunde verwys na die verspreidingseenheid wat uit ‘n spoor of ‘n saad bestaan wat bykomstige weefsel rodom it het wat help om dit te versprei – die vrug rondom ‘n pit of die vlerkies van ‘n raasblaarsaad is goeie voorbeelde hiervan.

Diastase is een van ‘n groep ensieme wat verantwoordelik is daarvoor om stysel in maltose op te breek.

Diastema is die gaping in die tandry – soos in die kake van lede van die Carnivora voorkom om ruimte van die slagtand van die teenoorgestelde kaak te maak sodat die dier sy bek kan toemaak.  In bokke en perde is daar groot diastema tussen die voorste tande en die kiestande agter.

Diatome of kieselwiere (klas Bacillariophyceae) is ‘n groot groep eensellige mikroalge wat aan die Chromista hoort wat in oseane, varswater en selfs klam grond voorkom.  Diatome vervaardig 20-50% van die suurstof in die atmosfeer per jaar, terwyl dit ongeveer 6.7 miljard ton silikon uit die water verwyder om hul eksoskelette te vervaardig.  Dooie diatome kan lae van tot 800m diep op die oseaanvloer vorm.  Die White Cliffs of Dover bestaan uit diatoom eksoskelette wat in die oertyd op die seevloer neergeset was.  Die Amasonekom word jaarliks deur 27 miljoen ton diatoomstof, afkomstig vanuit die Saharawoestyn, en wat deur Transatlantiese winde soheentoe gedra word, bemes.  Die unieke kenmerke van diatome is dat hul enkelsellige liggaam met ‘n silika eksoskelet – die frustule – bedek word en dat hulle groengeel of goudbruin plastiede besit.

Dicynodontia of dikuonodontiërs is een van die grootste sinapsiedgroepe.  Die naam is saamgestel uit: di (twee) cyno (hond) dont (tand).  Ongelukkig is dit ook erg verwarrend want soos gewoonlik volg mense die reël om die oorspronklike biologiese naam of term in Grieks te skep en dit dan te Latiniseer en dan vanuit ‘n Engelse bron die uitspraak aan te leer en dis ‘n resep vir chaos.  Eerstens word die Griekse letter K (kappa) na C in Latyn oorvertaal.  C word K in Latyn uitgespreek en nie S soos wat Engelse dit doen nie.  Die naam is van die Grieks κύων (kúōn, “hond”) en ὀδόντος (odóntos, “tand”) afgelei en moet dus dikuonodont uitgespreek en gespel word en allesbehalwe as “diesienodont” soos Engelse dit uitspreek.  Die dikuonodontiërs was herbivoriese diere en dus het hulle die grootste gedeelte van die werweldiere in die Perm en Trias opgemaak.  Hulle het hoofsaaklik varings, Glossopteris, perdesterte en briofiete geëet.  Hulle was die prooi van die theriodontiërs en later van die argosauriërs.  Hulle grootte het gewissel van die weselgrote Cistecephalus van die Perm van Suid-Afrika tot die olifantgrote Lisowicia van die Laat Trias van Poland wat saam met die eerste herbivoriese dinosauriërs bestaan het – wat ook waarskynlik die rede was hoekom hulle so groot geword het.  Dikuonodontiërs het ‘n kenmerkende snawelagige snoet met ‘n skilpadagtige keratienbedekte bek gehad waarmee hulle dele van plante afgebyt het.  Meeste soorte het ook twee slagtande gehad waarvan hulle naam afgelei is.  Die slagtande was soos dié van olifante en seekoeie vir vertoon of verdediging gebruik en nie om mee te eet nie.  Hulle bonkige lywe was vaatjie- tot sillindervormig.

Dientamoeba fragilis is ‘n lid van die Excavata wat in die spysverteringstelsel van mense, gorillas en varke voorkom en diarree veroorsaak.

Diere is meersellige eukariotiese heterotrowe, wat aan die Koninkryk Animalia hoort.  Diere se selle het ook nie selwande wat hul selmembrane omring nie – ‘n kenmerk wat hulle van swamme (wat ook eukariotiese heterotrowe is) onderskei.  Die oudste diere is mikroskopiese sponse.  Daar is reeds meer as 1.5 miljoen ekstante dierspesies bekend, maar daar is na berekening moontlik meer as 7 miljoen tot dusver onbekende dierspesies – veral nematode en insekte.  Diere wissel in grootte van Myxobolus shekel, ‘n parasitiese holtedier van 8.5 mikrometer, tot die blouwalvis

Differensiëring van die gebit verwys na die spesialisering van tande in sny-, slag- en kiestande (lg. word verder in voormaal- en maaltande verdeel) om verskillende funksies soos knaag, skeur, maal ens. te kan verrig.  Hierdie verskynsel word heterodontie genoem, die teenoorgestelde toestand is homodontie waar al die tande dieselfde vorm het.

Diffusie is die beweging van atome of molekules van ‘n area met ‘n hoër konsentrasie na ‘n area met ‘n laer konsentrasie daarvan.

Difiodont is die verskynsel waar soogdiere ‘n stel voormaaltande het wat deur ‘n stel permanente tande vervang word.  Die woord bedoel twee stelle tande.

Difiserkale stert kom in lobvinvisse soos die selekant voor.  Dit is ‘n tipe stertvorm waar die ruggraat verby die boonste en onderste lobbe strek en die middelste deel van die stertvin ‘n punt maak wat verder agtertoe strek as die boonste en onderste lobbe van die stertvin.

Digte granules is gespesialiseerde organelle wat proteïene en ander stowwe sekreteer.  Dit kom wydverspreid in eukariotiese selle voor.  In die Apicomplexa skei dit proteïene af, wat vir die vorming van die membraan van die parasitoforiese vakuool verantwoordelik is.

Dikarioties verwys na die dubbelkernige toestand wat in die Dikarya of Hoër Fungi (Sakswamme en Steeltjieswamme) voorkom.  Dit is nie ‘n diploïede toestand nie want kariogamie of kernversmelting het nie plaasgevind nie.  Dit word as n + n aangedui.  Septums vorm tussen die kernpare in dikariotiese hifes.

Dikderm verwys na die laaste deel van die spysverteringskanaal in meeste werweldiere.  Dit is die deel van die spysverteringskanaal wat verantwoordelik is vir die absorbsie van water.  Dit is ook waar die feses gestoor word, voor dit deur ontlasting uitgeskei word.  Die dikderm bestaan uit die: sekum, kolon, rektum en anale kanaal.  Die kolon vorm die grootste gedeelte van die dikderm.

Dikarya is ‘n Subkonkingkryk onder die Koninkryk Fungi.  Dit staan ook as die Hoër Fungi bekend.  Dit bestaan uit die Filums Basidiomycota en Ascomycota.  Een van hul belangrikste kenmerke, en ook die kenmerk wat aanleiding tot die naam gegee het, is die feit dat hulle selle twee kerne kan bevat.

Dikuonodontiërs – sien Dicynodontia.

Dinocephalia is, buiten vir die Bairmosuchia, die mees primitiewe groep therapsiede.  Fossiele van dinokefaliërs (“Verskriklike koppe”) kom hoofsaaklik in die Perm Periode gesteentes van Afrika, Rusland en China voor.  Daar was karnivoriese, omnivoriese en herbivoriese dinokefaliërs.  Alhoewel sommige van die kleiner dinokefaliërs maar net oor ‘n meter lank was, was sekere dinokefaliërs ook die grootste landlewende werweldiere wat in die Perm geleef het.  Tapinocephalus en Titanosuchus het tot 4.5 m lank geword en kom tot soveel soos 2 ton geweeg het.  Sommige karnivore soos Titanophoneus en Anteosaurus was so groot soos renosters en het skedels van tot 80 cm lank gehad.  Dinokefaliërs het van die primitiewe kenmerke van hul voorouers behou.  Dit sluit ‘n kleinerige slaapwyk venster en dentale been in.  Dinokefaliërs het egter ook meer gevorderde kenmerke gehad soos die vergroting van die ilium (die boonste van die drie bene wat die pelvis opmaak), ‘n enkele slagtand in elke kaak soos dié van die biarmosuchiërs gehad en het ‘n hoër stand as die basale sinapsiede gehad.  Meeste dinokefaliërs het ook ‘n verdikte skedeldak gehad.  In die geval van Struthiocephalus was dit ‘n allemintige 15 cm dik!  Dit is duidelik dat hierdie diere, net soos bokke, koppe gestamp het.  Die dinokefaliërs het onverklaarbaar in middel van die Laat Perm skielik uitgesterf.

Dinoflagellate behoort aan die Filum Dinoflagellata van die Infrakoninkryk Alveolata wat deel van die Koninkryk Chromista vorm.  Dinoflagellate vorm deel van die mariene plankton, maar kom ook algemeen in brak- en varswater voor.  Hulle verspreiding en getalle hang van die seeoppervlak-temperatuur, soutgehalte en diepte van die water af.  Meeste dinoflagellate besit plastiede en kan dus fotosintetiseer, maar die meerderheid is miksotropies, want hulle verkry voeding van fotosintese en die ingestie van prooi deur middel van fagotropie en musokitose.  Dinoflagellate is een van die grootste groepe mariene eukariote en vorm ‘n groot deel van plankton.  Sommige spesies kom as endosimbionte binne die weefsel van mariene blompoliepe (Filum Cnidaria: Klas Anthozoa) voor en speel ‘n belangrike rol in koraalbou.  Sekere dinoflagellate, veral dié wat hul plastiede verloor het (dit staan ook as ongepigmenteerde dinoflagellate bekend) en dus nie kan fotosintetiseer nie, is predatore van protiste, terwyl ander parasiete geword het.  Dinoflagellate besit twee flagella wat van mekaar in vorm en grootte verskil.  Sekere dinoflagellate kan in groot massas in die see voorkom wat die see rooi verkleur en as rooigety bekend staan.  Hierdie tipe dinoflagellaat kan diere soos mossels en ander skulpdiere vergif en so mense laat sterf as hulle die vergiftigte skulpdiere eet.  Sekere dinoflagellate vervaardig lusiferien wat blou-groen gloei as dit met suurstof verbind en onder sekere omstandighede die see in die nag laat gloei – die verskynsel word bioluminisensie genoem.  Soos meeste ander chromiste, het dinoflagellate twee flagellas wat van mekaar verskil.  Die twee flagellas kom op verskillende plekke op die dinoflagellaat voor en het verskillende funksies.  Die agterste of longitudinale flagellum is rond in deursnee en maak stadige golfbewegings.  Die dwars-flagellum of transversale flagellum, wat in ‘n groef rondom die sel voorkom, maak vinnige kronkelbewegings al langs die lengte af.  Die dwars-flagellum is plat met fyn haartjies aan die een kant.

Dinokefaliërs – sien Dinocephalia.

Dinosauria is lede van die Archosauria wat tussen 240-65 miljoen jaar gelede geleef het.  Strenggesproke het dinosauriërs nie uitgesterf nie aangesien voëls ook dinosauriërs is.  Ons praat deesdae van die uitsterwing van die “nie-voël dinosauriërs” (non-avian dinosaurs) aan die einde  an die Kryt.  Die dinosauriërs is ‘n diverse groep reptiele wat in die Mesosoïkum bestaan het wat die Ordes Ornithischia en Saurischia insluit.  Dinosauriërs het in die Jura die dominante landlewende werweldiere geword.  Dinosaurër fossiele kom wêreldwyd in Mesosoïkum ouderdom sedimentêre gesteentes, wat op land afgeset is, voor.  Daar is reeds meer as ‘n duisend nie-voël dinosauriër spesies bekend.  Hierdie diere het in grootte gewissel van piepklein mossie-grootte diertjies tot reuse diere waarvan sommige tot  40 m lank geword het en ander wat 18 m hoog gestaan het.  Hulle het baie terrestriële nisse beset en sommige was karnivore, insluitende die top-predatore, aasdiere, plantvreters en omivore.  Hulle kon egter nie vlieg soos die pterosauriërs of in die see swem soos die plesiosauriërs nie.  Die pterosauriërs is verlangs aan dinosauriërs verwant.

Dinosauriërs – sien Dinosauria.

Diploïed verwys na die chromosoomgetal, wat gewoonlik in protiste, bruinalge, plante en diere voorkom, waar die individu diploïede selle besit.  Met ander woorde elke kern bevat twee stelle chromosome – een stel chromosome wat dit van elke ouer verwerf het.  Die diploïede toestand word deur middel van meiose gehalveer om die haploïede sperm en eierselle te vorm en in die geval van swamme die kerne wat normaalweg in hifes voorkom.  Wanneer die haploïede sperm en eiersel versmelt, word die diploïede sigoot (bevrugte eier) gevorm wat dan in ‘n diploïede individu ontwikkel.  Daar is egter ‘n hele reeks poïedieë soos monoploïed, triploploïed, tetraploïed, mixoploïed ens.  Haploïed en diploïed is bloot die mees algemene toestande bekend.

Diptera is die tweevlerkiges en word soms losweg vlieë of vliegagtiges genoem.  Dit is ‘n insekorde waarvan meeste lede twee vlerke het, wat redelik uniek onder die insekte is, want meeste gevleuelde insekte het vier vlerke.  Hierdie insekte vlieg met die twee voorste vlerke, terwyl die agterste paar in twee halters verander.   Die Diptera sluit vlieë, brommers, al die verskillende muggies, muskiete, hangvlieë, tsetsevlieë en die vlerklose vlermuisvlieë in.  Die vlooie (orde Siphonaptera) is naasverwant aan Diptera.

Dipylidium caninum – sien Hondlintwurm.

Disbiose is die siektetoestand wat deur enige versteuring van die mikrobioom, deur die wanbalans van mikrobiota, veranderinge in hulle samestelling en aktiwiteite of verspreiding veroorsaak word.  Disbiose veroorsaak onder andere diarree, maagkrampe, hardlywigheid, gasserigheid en slegte spysvertering op die korte duur, maar lei tot veel erger siektes as daar ‘n langdurige versteuring van die dermmikrobiota is.

Disregulasie verwys na die afwesigheid of verlies van beheer van regulering.

Disselboom – die houtpaal vooraan ‘n koets of wa waaraan die perde of osse vasgemaak word om dit te trek.

Diurese is die afskeiding van oortollige vog.  Dit is ‘n siektetoestand in mense en ander soogdiere as daar oormatige uriene gevorm word, maar in die geval van insekte soos muskiete, is dit die normale manier om die rooibloedselle van die gasheer in die spysverteringstelsel van die muskiet te konsentreer, deur om van die oortollige plasma in die bloed ontslae te raak.

Diversifiseer verwys na die vermeerdering van taksons (spesies, genusse, families, ordes, klasse) binne ‘n groep wat met aanpassings by nuwe habitatte gepaard gaan.

Divisie is ‘n taksonomiese vlakbenaming in die Linneaanse Klassifikasiestelsel wat twee betekenisse kan hê: Divisie in plantkunde het dieselfde betekenis as Filum wat deur die res van die biologiese wetenskappe gebruik word.  Divisie word deur dierkundiges gebruik om die taksonomiese vlak onder Infraklas en bo Kohort aan te dui.

 

DNS is die afkorting vir deoksiribonukleïensuur (Engels: DNA).  DNS is die deel van die sel wat die meeste oorerflike of genetiese inligting van die organisme bevat.  DNS bestaan uit twee lang stringe nukleotiede wat in ‘n dubbelheliks gedraai is.  Die vier nukleotiede wat die DNS molekuul opmaak is adenien, timien, sitosien en guanien.  Hierdie neukleotiede word in pare verbind (adenien met timien en sitosien met guanien) om basispare te vorm.  Die genetiese inligting van die organisme word geënkodeer in die orde waarmee hierdie basispare in hul miljoene in ‘n DNS molekuul gerangskik is.  Die DNS kom in die kern van die selle van eukariote voor, maar in prokariote kom dit los in die sel

Docodonta is ‘n uitgestorwe orde van mammaliforme kuonodontiërs wat naaste aan die soogdiere verwant was en wat vanaf die Middel Jura tot Vroeë Kryt in Laurasië voorgekom het.  Dokodontiërs het kenmerkende komplekse maaltande, met krone wat in holtes in die teenoorstaande tande gepas het, gehad.  Dokodontiërs het ‘n verskeidenheid liggaamsvorme gehad wat molagtige en eekhoringagtige tipes ingesluit het, terwyl ander plat sterte en sterk ledemate soos otters gehad het.  Dokodontiërs het waarskynlik nes soogdiere gelyk en opgetree.  Die dentale been van dokodontiërs was vergroot en het alreeds soos dié van soogdiere s’n gelyk, buiten dat dit nog nie, soos soogdiere s’n, met die skedelbasis kontak gemaak het nie.  Die ander bene van die onderkaak was baie verklein en het in ‘n trog in die onderkaak ingepas.  Dokodontiërs het slegs een oorbeentjie, naamlik die stiebeuel, in die middeloor gehad en nie drie oorbeentjies soos soogdiere nie.

Dogterkerne is die twee kerne wat gevorm word wanneer die ouersel se nukleus verdeel.  Dieselfde geld vir die tweedeling van ‘n sel – die ouersel vorm twee dogterselle.

Dokodontiërs – sien Docondontia.

Donkerpootbosskeerbek (Myosorex cafer), subfamilie: Myosoricinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Domein of Superryk is die heel hoogste vlak in die Linnaeaanse-klassifikasiestelsel.  Dit is in 1990 deur die genetikus Carl Woese voorgestel toe hy lewende organismes in drie Domeine – die Eukarya, Bacteria en Archaea – onderverdeel het.

Dooier is die voedingstowwe wat in ‘n eier gestoor word, wat vir die groei van die embrio binne die eier aangewend word.  Dit is vol vitamines, minerale, lipiede en proteïene.

Dooierkliere vorm voedsel wat in bevrugte eiers vir die embrio se ontwikkeling ingesluit word.

Dooigety vind plaas wanneer die Son en die Maan ‘n 90° hoek ten opsigte van die Aarde vorm.  Die aantrekkingskrag van die Son en die Maan werk mekaar tee en dus styg en daal die seevlak nie so dramaties as tydens hooggety en laaggety nie.  Hierdie verskynsel gebeur twee keer per maand tydens halfmaan.  Natuurlik gebeur dit nie skielik nie, maar geleidelik.  Die seevlak sal van springety, wat ongeveer elke 14.5 dae die hoogste en laagste seewatervlakke aandui, stadig styg en daal na die hoog- en laagwatermerke en van daar stadig oorskuif na dooigety waar die styging en daling in seevlak die mins opmerklik is.  Van daar word die siklus natuurlik omgekeerd herhaal tot waar dit na 14.5 dae weer omkeer na gelang van die beweging van die maan.

Dopamien is ‘n neuromodulerende molekule wat belangrike rolle in die sel speel.  Dopamien vorm ongeveer 80% van die katecholamieninhoud van die brein.  In die brein tree dopamien as ‘n senuweeoordragstof op.  Dit tree as bloedvatverslapper in bloedvate op en dit verhoog die opname van natrium in die niere en die uitskeiding van uriene, dit verminder die vervaardiging van insulien in die pankreas, dit verminder die beweging binne die spysverteringstelsel en beskerm die slymvliese binne die dermkanaal.  Dopamien verminder ook die aktiwiteit van die witbloedliggaampies.  Met die uitsondering van die bloedvatstelsel, word dopamien deur elkeen van hierdie stelsels vervaardig, waar dit ‘n invloed op die weefsels, waar dit vervaardig word, het.

Dracunculiose is die siektetoestand wat weens Guineëwurmbesmetting ontstaan.  Die simptome sluit in: die vorming van ‘n voggevulde blaas op die oppervlakte van die vel, wat oopbars om ‘n oop seer op die vel te vorm.  Die besmette persoon ontwikkel ‘n swelling en erge pyn in die ontsteekte gebied, duiseligheid, diarree en koors van die gifstowwe wat die wurm afskei wanneer die wurm oor dae, tot weke, haar agterlyf deur die gat binne die oop seer begin stoot om haar larwes te baar.

Dracunculus medinensis – sien Guineëwurm.

Dragtig is die woord vir swanger in diere.

Driegasheer bosluise soos die bruin oorbosluis, blink bruinbosluis, hondehokbosluis en geel hondebosluis, parasiteer drie gashere gedurende hulle lewensverloop.

Drietand-bladneusvlermuis (Cloeotis percivali), subfamilie: Hipposiderinae, familie: Rhinolophidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Dromasauria is ‘n informele parafiletiese groepering van klein nie-dikuonodontiër basale anomodontiërs van die Middel tot Laat Perm Periode van Suid-Afrika.  Hulle is almal klein met smal ledemate en lang sterte met kort skedels en groot oogkaste.

Dubbelmembraan verwys na die twee membrane van verskillende herkoms, wat organelle soos die mitochondrion en plastiede, wat in eukariotiese selle voorkom, omring.  Die dubbelmembraan het ontstaan toe die voorouers van chloroplaste, en mitochondria naamlik sianobakterieë en pers bakterieë onderskeidelik, deur die oervoorouers van eukariotiese selle deur fagositose opgeneem is.  Die voedselvakuole wat so rondom hierdie bakterieë gevorm het, het aan die buitenste membraan oorsprong gegee.  Die binneste membraan behoort aan die oorspronklike bakterieë.

Dubbelmembraanorganelle in eukariotiese selle is volgens die endosimbiont-teorie van besondere energieryke bakterieë afkomstig.  Die mitochondrion het uit pers bakterieë, wat die eerste organismes was waarin die sitroensuursiklus voorgekom het, ontstaan.  Chloroplaste het uit sianobakterieë, wat die eerste fotosintetiese organismes was, ontstaan.  Elkeen van hierdie organelle plant deur tweedeling binne die sel voort en het hul eie DNS.

Duiker (Sylvicapra grimmia), subfamilie: Cephalophinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Duisendpote hoort aan die klas Diplopoda.  Hulle het lang veelsegmentige liggame met ‘n unieke kenmerk – meeste van die meer as 20 segmente bestaan uit twee saamgesmelte segmente met 2 paar pote, wat die inspirasie vir die klas se naam is. Die eerste segment het nie pote nie en die volgende drie het slegs een paar pote.  Duisendpote het, anders as wat hulle naam aandui, meestal net ‘n paar honderd pote.  In 2020 egter, was die duisendpoot Eumillipes persephone ontdek wat op dieptes van 15 m ondergronds in Wes Australië voorkom wat meer as 1 300 pote het!  Duisendpote is stadigbewegende detrivore wat meestal verrottende plantmateriaal vreet.

Dunderm is die langste deel van die spysverteringskanaal en kan, in die gemiddelde mens, ongeveer 6.5 m lank wees.  Die dunderm kom tussen die maag en die dikderm voor.  Dit is die deel van die spysverteringskanaal waar die meeste vertering en absorbsie van kos plaasvind.  Die dunderm ontvang pakreassap en gal om met die vertering van kos te help.  Die dunderm word in die deodenum, jejunum en ileum verdeel.

Duthie se kruipmol (Chlorotalpa duthieae), subfamilie: Chrysochlorinae. familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika. Endemies aan Suid-Afrika.

Dwars-flagellum of transversale flagellum is die afgeplatte harige gekronkelde flagellum wat in ‘n groef rondom dinoflagellate voorkom.  Die beweging van hierdie flagellum laat die sel in die rondte tol.

Dwarswand of skotwand – sien septum.

Dwergklipmuis (Petromyscus collinus), subfamilie: Petromyscinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Dwerglintwurms (Hymenolepis nana) kom wêreldwyd voor en is een van die mees algemene mensparasiete – tussen 50 en 75 miljoen mense, hoofsaaklik kinders, is wêreldwyd daarmee besmet.  Dit is selde langer as 40 mm en is maar 1 mm breed.  Die lintwurmeiers word deur vlooilarwes en kewertjies ingesluk waarna dit binne hierdie insekte uitbroei.  Muise en mense word deur die inname van eiers of van besmette insekte besmet, waarna die lintwurm die res van sy lewensiklus in die wand van die dermkanaal van muise en mense voltooi.  Dit is die enigste lintwurm spesie wat sonder gashere, van mens na mens aangesteek kan word.

Dwergmoordvis (Feresa attenuata), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Dwergmuis (Mus minutoides), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Dwergmuishond (Helogale parvula), familie: Herpestidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Dwergnoordkaper (Caperea marginata), familie: Neobalaenidae, suborde: Mysticeti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Dwergpotvis (Kogia breviceps), familie: Kogiidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Dwergskeerbek (Crocidura fuscomurina), subfamilie: Crocidurinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Echinodermata – sien Stekelhuidiges.

Ectasium Periode (1400 – 1200 Mjg) is die tweede Periode in die Mesoproterosoïese Era.  Hierdie tydperk word aan die uitbreiding van platformdekkings oor die kratoniese fondamente op land gekenmerk.  Die oudste bewys van geslagtelike voortplanting en eukariote kom in die fossielrekord aan die einde van hierdie tydperk voor.  Fossiele van die meersellige rooialg Bangiomorpha pubescens kom in die 1.2 Ga oue Hunting Formasie van Somerset Eiland in Kanada voor.  Rooialge is bekend daarvoor dat hulle geslagtelik voortplant.  Meerselligheid het saam met geslagtelike voortplanting ontstaan.

Edafosauriërs – sien Edaphosauridae.

Edaphosauridae is ‘n uitgestorwe familie van groot (3 m of langer) primitiewe plantvretende soogdieragtige reptiele wat in die Laat Karboon tot Vroeë Perm in Laurasië voorgekom het. Hulle was van die eerste herbivoriese tetrapode wat op Aarde voorgekom het.  Edafosauriërs het ‘n klein koppie met homodonte tande en ‘n groot bonkige lyf met ‘n seil op die rug gehad.  Dit is hoogs waarskynlik dat die seil gebruik was om die temperatuur van die dier te beheer deur om dit na die son in die oggend te draai om hitte van die son op te neem.  In die middag sal die son natuurlik van bo op die dunste deel van die seil skyn en die are in die seil sal die hitte van die liggaam na die seil neem waar dit vinnig met die wind wat verbywaai sou afkoel.

Ediacarium Periode (635-541 Mjg).  Die Ediacarium vorm die einde van die Proterosoïese Eon.  Die naam is van die Ediacara Heuwels in Suid-Australië afgelei.  Die eerste ediakariese biota is in die Enorama Spruit in die Flinders Berge van Suid-Australië ontdek.  Hierdie tydperk word gekenmerk aan die verspreiding van meersellige organismes en die verskyning van die eerste diere.

Ediakariese biota (Ediacaran biota) sluit die verskyning van die eerste diere in die vorm van sponse in.  Later verskyn klein trilobietagtige diertjies in die opeenvolging.  Fossiele van kwalle en talle vreemde sakagtige, skyfvormige en kwiltagtige organismes – die Ediakariese biota – verskyn wêreldwyd in sedimente van die Laat Proterosoïese Eon.  Tot dusvêr kon niemand hulle verwantskap aan lewende (ekstante) organismes bepaal nie en dit is moontlik dat hulle aan ‘n unieke meersellige Koninkryk bestaan het wat uitgesterf het.  Spoorfossiele van wurmagtige diertjies soos Trichophycus word ook in hierdie typerk gevind.

Eendagsvlieë is lede van die orde Ephemeroptera.  Hierdie primitiewe gevleuelde insekte is bekend daarvoor dat na ‘n lang tydperk (van twee weke tot ‘n paar jaar), van larwale ontwikkeling (waartydens hulle tot 50 keer kan vervel soos hulle groter word), hulle nie ‘n papie vorm nie, maar as ‘n subimago na die voorlaaste vervelling te voorskyn kom.  Na ‘n dag of twee, maar in sommige spesies, slegs na ‘n paar minute, vervel hulle ‘n laaste keer om as ‘n imago of volwassene te verskyn.  Die subimago en imago voed glad nie en die monddele is rudimentêr.  Die volwassene kan egter bietjie water drink, maar hulle sal nie voed nie.  Die mannetjies vrek na paring en die wyfies vrek ook, nadat hulle tussen 400 en 3000 eiers gelê het.

Eensellig verwys na organismes wat slegs uit een sel bestaan.  Dit sluit prokariote (bakterieë en archaea) en die eukariotiese protiste in.

Eenslagtig verwys na spesies waar mannetjies en wyfies as aparte geslagte voorkom.  Die teenoorgestelde hiervan is hermafrodities waar die individue beide manlike en vroulike geslagsorgane besit.

Eenstreepmuis (Lemniscomys rosalia), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Eenvoudige oog of osellus is ‘n tipe oog wat mens in geleedpotiges kry.  Dit verskil van die groot saamgestelde oë van die geleedpotiges en het nie ‘n retina nie, maar het gewoonlik ‘n lens.  Geleedpotiges soos insekte, het gewoonlik twee saamgestelde oë en ‘n paar eenvoudige oë.

Eerstelarwe verwys na die eerste lewenstadium van invertebrate.  Dit is die larwe wat uit die eier uitbroei.  Soos wat dit ontwikkel en swaarder word en opswel, word sy vel te klein en bars dit uit sy vel om aan die tweedelarwe oorsprong te gee.

Eerste voëls is ‘n groep vlieënde diere wat in die Jura Periode vanuit warmbloedige geveerde theropood dinosauriërs, genaamd die Paraves, ontstaan het.  Die benaming klas Aves, wat ons vir bykans ‘n eeu gebruik het, is nie meer ‘n geldige takson nie want die voëls word reeds vir die laaste paar dekades as dinosauriërs beskou wat natuurlik aan die klas Reptilia hoort.  Die eerste voëls het nog steeds tande, hande met kloue en lang gewerwelde sterte soos reptiele gehad.  Archaeopteryx lithographica is ‘n voorbeeld van so ‘n primitiewe voël.  Archaeopteryx het egter ook dekvere, donsvere en vlugvere net soos moderne voëls gehad.  As mens net na die vere kyk was Archaeopteryx ‘n voël, en as mens net na die skelet kyk was Archaeopteryx ‘n dinosauriër.

Efferente bloedvate, senuwees, nierbuisies verwys na hierdie strukture wat iets soos bloed, senuweeimpulse of uriene weg van ‘n orgaan vervoer.

Eggolokasie is wanneer ‘n dier klanke maak en met behulp van die klanke wat van voorwerpe af terugbons inligting ten opsigte van die landskap, kos en ander organismes te verkry.  Dolfyne, vlêrmuise en skeerbekmuise gebruik eggolokasie.

Egiptiese losstertvlermuis (Tadarida aegyptiaca), familie: Molossidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis en suidelike deel van Palearktis. Inheems aan Suid-Afrika.

Egiptiese vrugtevlermuis (Rousettus aegyptiacus), subfamilie: Pteropodinae, familie: Pteropodidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis en suidelike deel van Palearktis. Inheems aan Suid-Afrika.

Ehrlichia is ‘n genus van die orde Rickettsiales bakterieë wat na werweldiere deur bosluis vektore oorgedra word.  Ehrlichia is verpligte intersellulêre parasiete wat die siekte ehrlichiose veroorsaak.

Ehrlichiose is ‘n siekte wat deur die besmetting met die intersellulêre parasiet Ehrlichia veroorsaak word.  Ehrlichiose simptome sluit koors, kouekoors, erge hoofpyne, spierpyne, naarheid, braking, diarree, verlies van aptyt, verwarring en ‘n uitslag in.  In erge gevalle kan dit ernstige brein en senuweeskade, asemnood, onkeerbare bloeding, orgaanversaking en dood veroorsaak.

Eierlêend – sien Ovipaar.

Eierlêende soogdiere is die Monotremata of Prototheria.  Alhoewel hulle baie meer wydverspreid voorgekom het (monotreem fossiele is ook in Suid-Amerika gevind), kom hulle vandag slegs in Australië en Nieu-Guineë voor.  Die monotreme verskil van die buideldiere (Marsupialia of Metatheria) en die plasentale soogdiere (Plasentalia of Eutheria) veral omdat hulle eiers lê.  Hulle het ook verskeie ander unieke anatomiese en fisiologiese kenmerke. Monotreme het in sommige gevalle gifkliere – die mannetjie eendbekdier se gifspore op die agterbene.  Wyfie monotreme het nie tepels nie maar kolle met melkkliere op die pens waaruit melk drup.  Die babas suig die melk uit die hare op die pens uit.  Hulle het ook nie oorskulpe nie en die timpaniese ring is nog losweg aan die onderkaak gekoppel.  Hulle het ook verskeie ander unieke anatomiese en fisiologiese kenmerke.

Eierlewendbarend – sien Ovovivipaar.

Eindgasheer verwys na die gasheer wat die parasiet benut om die geslagtelike voortplantingsfase van sy lewenskilus te voltooi.  Die res van die parasiet se lewenskilus word in die tussengasheer of -here voltooi.  Soms word daar na die eindgasheer as bloot die gasheer verwys en na die tussengasheer as die vektor.

Ekkriene kliere is die volopste sweetkliere op die menslike liggaam.  Hulle kom regoor die liggaam voor, met die grootste konsentrasie wat op mens se palms en sole voorkom, terwyl die tweede meeste op die kopvel voorkom.  Ekkriene kliere is heelwat skaarser in ander soogdiere en kom hoofsaaklik op die palms, sole en tone voor.  Ekkriene kliere skei ‘n helder, reuklose vloeistof, wat hoofsaaklik uit water bestaan, op die vel deur sweetgaatjies uit.  Dit verdamp op die vel en help die mens om af te koel.  Ekkriene kliere is deur die simpatiese senuweestelsel van senuwees voorsien, wat veroorsaak dat mens se voete, hande en voorkop, sweet wanneer jy senuweeagtig of bang is.

Ekologie is die studie van die verhouding tussen organismes en hulle omgewing wat biotiese (lewende) en abiotiese (nie-lewende) komponente insluit.

Ekologiese nis is die posisie of status wat ‘n organisme in sy gemeenskap en ekostelsel beklee.  Hierdie posisie in die ekologie word gehandhaaf deur die organisme se strukturele aanpassings, fisiologiese reaksies en gedrag.  Die ekologiese nis word dus bepaal deur waar die organisme leef en wat dit daar doen.  Soos een ekoloog gesê het: die habitat is die organisme se adres en die nis is sy professie.

Ekologiese rol is ‘n soortgelyke begrip as ekologiese nis.  Mens gebruik hierdie uitdrukking wanneer mens die ekologiese rol van ‘n organisme as ‘n primêre produseerder (met ander woorde ‘n fotosintetiserende plant), herbivoor, omnivoor, parasiet, predator, ensovoorts wil beskryf.

Ekostelsel of ekosisteem is ‘n gemeenskap van lewende organismes wat tesame met die nie-lewende komponente in hulle omgewing as sisteem interaktief is.  Die biotiese (lewendige) en abiotiese (nie-lewendige) komponente van ‘n ekosisteem word deur middel van voedingsiklusse en energievloei gekoppel.

Ekseem is ‘n tipe dermatitis of velontsteking.  Ekseem is die ontsteking van die vel weens ‘n allergiese reaksie.  Dit word gekenmerk aan ‘n gejeuk, rooiheid en ‘n uitslag van die vel.  Soms sal daar selfs blasies vorm.

Eksflagelleer verwys na die uitstulping van die selmembraan wat die Plasmodium mikrogameet omring.  Elke uitstulping kom teenoor een van die agt dogterkerne van die mikrogameet voor.  Elkeen van hierdie dogterkerne beweeg in die uitstulping wat nou soos ‘n flagella voorkom in om ‘n mikrogametosiet te vorm.

Ekskresie is die uitskeiding van afvalstowwe soos feses deur die spysverteringskanaal of uriene deur die urienwegstelsel.

Eksokriene klier is ‘n klier wat afskeidings soos sweet, trane, speeksel, feromone, melk en spysverteringsappe deur ‘n buis na buite uitskei.  Dit sluit die sweetkliere, traankliere, speekselkliere, melkkliere, prostaatklier en die spysverteringskliere in die maag, pankreas en die dermkanaal in.  Dit verskil van endokriene kliere wat hormone in die bloedvatstelsel afskei.

Eksositose is die proses waardeur membraanomhulde vesikels of vakuole hul inhoud soos proteïene en neurotransmitters afgeskei word en afvalstowwe uitgeskei word.  Dit is die teenoorgestelde proses van endositose.

Eksoskelet is die harde dop van chitien wat ‘n geleedpotige omhul.  Dit bied beskerming, ondersteuning en aanhegting vir spiere aan die binnekant van die geleedpotige.  In sommige gevalle soos in die larwe se vel is die eksoskelet sag en velagtig en in sommige plekke, soos tussen die segmente, is die eksoskelet  membraanagtig.  Die eksoskelet kan nie groei nie en dus moet die geleedpotige vervel soos wat dit groter word.  Die eksoskelet bars dan oop, om die groter ontwikkelingstadium vry te laat.  Die nuwe ontwikkelingstadium nimf of larwe of volwassene se eksoskelet verhard na ‘n paar uur nadat dit uit die ou eksoskelet te voorskyn gekom het.

Ekstant bedoel bestaande.  Dit is die teenoorgestelde van uitgestorwe.  Mens moet nie ekstant met modern verwar nie.  Modern in biologiese of paleontologiese konteks bedoel om die kenmerke van moderne organismes te hê.  Daar is egter baie onlangs-uitgestorwe organismes met moderne kenmerke.

Ekstrasellulêr verwys na ‘n toestand buite die sel, soos in die geval van die tripanomastigoot lewenstadium van Trypanosoma, wat binne die bloedstroom, maar buite die sel voorkom.

Ekstrasellulêre spysvertering verwys na die afbraak van voedseldeeltjies met behulp van ensieme buite die sel soos wat in die weekdier se sekum in die maag plaasvind.  Die teenoorgestelde proses in intrasellulêre spysvertering waar die afbraak van voedseldeeltjies binne die sel plaasvind.

Ekstremofiele (extremophiles) is organismes wat bo of onder die mesofiliese standaard (20°- 45° C) bestaan.  Dit sluit ook organismes in wat in omgewings met uiterste suur of alkaliese toestande, droogte, ioniese radiasie en sout leef.

Ektakwatiese bevrugting vind plaas wanneer ‘n dier haar eiers in water vrylaat om daar ekstern bevrug te word.

Ektoderm is die buitenste laag weefsel in die vroeë embrio.  Dit is die weefsel wat, onder andere, oorsprong aan die vel en die senuweestelsel gee.

Ektoparasiete is parasiete wat op die buitekant van die gasheer leef – soos luise en vlooie wat bo-op die vel van die gasheer leef.

Ektoplasma is die helder deursigtige buitenste lagie van die sitoplasma wat onder die selmembraan voorkom.

Eland (Tragelaphus oryx), subfamilie: Bovinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Elefantiose – sien Limfatiese filariose.

Endoderm is die binneste laag weefsel in die vroeë embrio.  Dit is die weefsel wat, onder andere, oorsprong aan die binneste epiteellaag gee, wat die grootste deel van die spysverteringstelsel uitvoer.

Endokriene kliere is die buislose kliere wat hul produkte soos hormone, direk in die bloedstroom afskei.  Dit sluit die pineale klier, pituïtêre klier, tiroïedklier, paratiroïedklier, pankreas, lewer, ovaria, testes en byniere in.

Endokriene stelsel is die kliere van ’n organisme wat hormone in die bloedvatstelsel afskei, waarvandaan dit na teikenorgane gestuur word.  Dit verskil van eksokriene kliere wat homone na buite afskei.  Die endokriene stelsel word deur die hipotalamus beheer.  Buiten vir die hipotalamus, is die belangrikste endokriene kliere in die mens die skildklier en die byniere.  Van die ander endokriene kliere is die pituïtêre klier, die pankreas, eierstokke en testes.  Die skelet, niere, lewer en hart het sekondêre endokriene funksies en kommunikeer ook met die ander organe met behulp van hormone.

Endoparasiete is parasiete wat binne die gasheer leef.  Dit sluit platwurms en rondewurms in.  Gewoonlik vind mens hulle in die spysverteringstelsel, maar sekeres verkies die limfvatstelsel, bloedvatstelsel of spierweefsel.

Endoplasma is die sentrale digte, korrelrige massa van die sitoplasma.  Die endoplasma besit water, nuleïensure, aminosure, koolhidrate, lipiede, ione, ensieme en ander molekules.  Meeste van die metaboliese prosesse van die sel vind in die endoplasma plaas.

Endoplasmiese retikulum is ‘n versameling membrane wat in tekeninge soos langwerpige buisies lyk, maar in werklikheid driedimensionele lae is, wat soos die skille van ‘n ui rondom die selkern gerangskik is, maar wat tussen die lagies gekoppel is.  Die endoplasmiese retikulum is die plek waar proteïene gevorm word en wat die vervoerstelsel in eukariotiese organismes vorm.  Die endoplasmiese retikulum kom in eukariotiese selle, buiten rooibloedselle en sperms voor.  Daar is twee tipes endoplasmiese retikulum – die gladde endoplasmiese retikulum en die growwe endoplasmiese retikulum waarop ribosome voorkom.  Die gladde endoplasmiese retikulum is verantwoordelik vir die vervaardiging van lipiede, steroïed hormone en detoksifikasie en is volop in lewerselle.

Endosimbiose verwys na die insluiting van ‘n kleiner organisme in ‘n groter een.  Prokariote soos pers bakterieë, spirokeet bakterieë en sianobakterieë het deur endosimbiose oorsprong binne die gasheersel aan onderskeidelik mitochondria en flagella, en in plante en chromiste, ook chloroplaste gegee.  Hierdie selle met die endosimbiotiese mikroorganismes het uiteindelik die voorsate van eukariotiese organismes (swamme, chromiste, plante en diere) geword.  Sekere rooiwier en dinoflagellate was ook op soortgelyke wyse deur groter organismes geïngesteer en het onderskeidelik sekondêre en tersiêre endosimbionte geword.

Endostiel is ‘n geutagtige orgaan wat in die middel op die vloer van die farinks van die Chordata soos rooiaas, Amphioxus en die larwes van sekere visse voorkom.  Die embrionale struktuur wat aan die endostiel oorsprong sou gee, verander in die skildklier in die werweldiere.  Die trilhaartjies, op die binneste oppervlakte van die kiefstafies van Amphioxus en rooiaas, beweeg die kosbelade slym aan die binnekant van die farinks na die endostiel waar die slym in ‘n slymkoord opgerol word en m.b.v. die trilhaartjies in die endostiel na die slukderm vervoer word.  Die endostiel/skildklier is een van die vyf kenmerke wat alle kordate kenmerk.

Endoplasma is die sentrale digte, korrelrige massa van die sitoplasma.  Die endoplasma besit water, nuleïensure, aminosure, koolhidrate, lipiede, ione, ensieme en ander molekules.  Meeste van die metaboliese prosesse van die sel vind in die endoplasma plaas.

Endositose is die proses waardeur voedseldeeltjies in ‘n vakuool, wat deur die instulping van die selmembraan gevorm word, in die sel opgeneem word.  Sommige wetenskaplikes verkies om die term endositose te gebruik vir die opneem van klein deeltjies en gebruik die term fagositose om die ingestie van groter deeltjies soos klein organismes te beskryf.

Endostiel is ‘n geutagtige orgaan wat in die middel op die vloer van die farinks van die Chordata soos rooiaas, Amphioxus en die larwes van sekere visse voorkom.  Die embrionale struktuur wat aan die endostiel oorsprong sou gee, verander in die skildklier in die werweldiere.  Die trilhaartjies, op die binneste oppervlakte van die kiefstafies van Amphioxus en rooiaas, beweeg die kosbelade slym aan die binnekant van die farinks na die endostiel waar die slym in ‘n slymkoord opgerol word en m.b.v. die trilhaartjies in die endostiel na die slukderm vervoer word.  Die endostiel/skildklier is een van die vyf kenmerke wat alle kordate kenmerk.

Enkelgasheer bosluise parasiteer slegs een spesifieke dier tydens hulle lewensverloop en sal vanaf die larwe, nimf tot volwassene op die gasheer voorkom.  Die bloubosluis en die stekelrige oorbosluis is voorbeelde van enkelgasheer bosluise.

Enkisteer verwys na die vorming van kiste wanneer ‘n beskermende omhulsel rondom selle vorm om hulle teen nadelige omgewingstoestande soos droogte, koue of die afwesigheid van kos te beskerm.

Ensieme sluit beide proteïene en biologiese kataliste in wat chemiese reaksies versnel.  Ensieme verander substrate in produkte.  Ensiem-kataliste is noodsaaklik vir die effektiewe funksionering van ‘n sel.

Entakwatiese bevrugting vind plaas wanneer ‘n weekdier haar eiers in die mantelgroef hou om daar bevrug te raak.  Daar is monoplakofoorspesies waar die wyfie die larwes in die mantelgroef tot op ‘n sekere stadium van hulle ontwikkeling hou.

Entamoeba histolytica is ‘n anerobiese parasitiese lid van die Amoebozoa en is verantwoordelik vir die siekte amebiese disenterie of amoebose in mense en diere.  Ongeveer 35 tot 50 miljoen mense wêreldwyd is tans met E. histolytica besmet.

Enteriese senuweestelsel bestaan uit ‘n netwerk neurone wat die spysverteringstelsel beheer.  Dit word soms as ‘n tweede brein beskryf omdat, alhoewel dit met behulp van senuwees aan die sentrale senuweestelsel gekoppel is,  dit ook onafhanklik van die sentrale senuweestelsel kan funksioneer.

Enterobiose is die siektetoestand wat deur speldwurmbesmetting veroorsaak word.  Die hoofkenmerk van enterobiose is die gejeuk rondom die anus wat ‘n belangrike aspek van die verspreiding van hierdie parasiet is.

Enterobius sien speldwurm.

Entomoloog is iemand wat insekte bestudeer, en die studie van insekte (deesdae deel van die Heksapoda) is entomologie (ek het nog nie van ‘n heksoloog of heksologie gehoor nie).  Soms word mense, wat navorsing op ander geleedpotiges doen, ook breedweg onder entomoloë ingesluit, maar eintlik wil hulle graag eerder akaroloë (as hulle op myte en bosluise werk) genoem word, of aragnoloë (as hulle op spinnekoppe en skerpioene werk (ek vermoed hulle verkies eintlik om arachnoloë genoem te word, en nie aragnoloë of spinnekopagtige-kenners nie).  Dan kry mens ook ‘n karsinoloog, krustaseëoloog of krustaloog wanneer hullle op skaaldiere werk.  In die laaste groep is daar selfs malakostrakoloë, wat my herinner dat kenners van weekdierskulpe konkoloë is.  Daar is defnitief ook lepidopteroloë (kenners van vlinders en motte), dipteroloë (kenners van vlieë), ensovoorts, maar ek dink nie daar is genoeg honderdpootkenners of duisendpootkenners in die wêreld om vir hulself ‘n bendenaam uit te dink nie.  Mens kan natuurlik ook hierdie navorsers vlinderkenners, bosluiskenners, kewerkenners ensovoorts noem, maar dit sal al die pret uit hierdie naamgeëery wegneem.  Ek het ook nog nooit kenners van geleedpotiges teëgekom wat hulself as goggakenners voorgestel het nie.  Wat my herinner aan die keer toe ek myself aan ‘n ouer dame voorgestel het.  Sy vra my toe wat my beroep is.  Ek antwoord: “Ek is ‘n paleontoloog tannie”.  Sy vra: “Teoloog?”  Ek antwoord, “Nee tannie, fossielkundige!”  Sy vra: “Sielkundige?”  Van toe af vertel ek mense maar dat ek ‘n dinosourusman is en bodder nie met die spelling of uitspraak nie.

Entomopatogeniese swam (entomopathogenic fungus) is ‘n swam wat insekte aanval en verorber terwyl sommige alkaloïede vervaardig wat giftig vir insekte is.

Eon is die hoofeenheid wat in die Geologiese Tydskaal gebruik word.  Die Eons word in volgorde, van oudste na jongste, in die: Hadeïkum, Argeïkum, Proterosoïkum en Fanerosoïkum gerangkskik.  Die Eons word in eras onderverdeel.  Hierdie onderverdelings word op grond van groot geologiese en biologiese gebeure gebaseer.  Hoe meer wydverspreid in die wêreldgeologie hierdie verskynsels voorkom, hoe meer relevant en bruikbaar word dit vir die Geologiese Tydskaal.

Eoseen Epog (56-33.9 Mjg) is die tweede epog van die Paleogeen Periode van die Kainosoïkum Era.  Hierdie epog word aan die grootlikse afwesigheid van yskappe op die pole en ‘n hoë seevlak gekenmerk.  Ys begin weer aan die einde van hierdie epog in Antarktika opbou.  Oersoogdiere soos kreodonte floreer, verskeie moderne soogdierfamilies ontstaan en primitiewe walvisse diversifiseer in hierdie tydperk.  Die Indiese kontinentale plaat bots met Eurasiese kontinentale plaat en die Himalajas begin vorm.

Eosinofilie is die verhoging van die getal eosinofiele in die bloed.  Eosinofiele is ‘n tipe witbloedsel wat betrokke is by die bestryding van meersellige parasiete en ontsteking in ‘n gasheer.

Eothyrididae is ‘n uitgestorwe familie van baie primitiewe basale soogdieragtige reptiele.  Slegs drie spesies eotirididiërs is van die Perm Periode van Noord Amerika bekend.  Een van die kenmerkende eienskappe van hierdie klein (onder 1 m) insektivore is dat hulle reeds slagtande voor in die tandry van die maksilla gehad het, wat heelwat groter as die tande van die premaksilla was.

Eotirididiërs – sien Euthyrididae.

Epicoccum is swamme wat wêreldwyd meestal in die grond voorkom.  Daar was tot dusver nog geen opgetekende gevalle van Epicoccum-verwante siektes in die mens nie.  Dit het egter ‘n hoë temperatuurtoleransie en kan by temperature van tot 37°C voorkom, wat dit ‘n potensiële menspatogeen maak.

Epidemie verwys na die verskynsel waar ‘n siekte baie mense in ‘n gebied aantas (sien ook Pandemie).

Epidemiese tifus word deur die bakterie Rickettsia prowazeki veroorsaak. Tifusbakterieë word van ‘n besmette na ‘n onbesmette persoon deur lyfluise oorgedra, en was verantwoordelik vir meer sterftes as al die oorloë in geskiedenis saam.  Die feit dat tifusuitbrake juis onder soldate tydens oorloë plaasvind is ‘n baie interessante punt – dit blyk asof die gebruik van wapens tydens oorloë meer effektief is om lande te verarm en kultuurskatte te vernietig, terwyl die parasiete meer effektief is om mense te vernietig.

Epidemiese weerkerende koors word deur die spirokeetbakterie Borrelia recurrentis veroorsaak.  Borrelia recurrentis kom slegs in mense voor en luise (hoofsaaklik lyfluise) steek dit by die besmette mens aan en versprei dit na onbesmette mense.  Miljoene mense het oor die millenia, veral in Europa, weens hierdie siekte gesterf.

Epidermis – sien Vel.

Epifarinks is ‘n verlengde monddeel wat in sekere Diptera soos muskiete voorkom.

Epifiet is ‘n plant of ligeen wat bo-op ander plante leef maar dit nie parasiteer nie.

Epilepsie is die vierde mees algemene breindisfunksie in die wêreld.  Dit word veroorsaak deur skielike elektriese versteurings in die brein wat tot onverwagse en onwillekeurige spiersametrekkings lei.  Mense kan dikwels daarna bewusteloos word.  Sommige aanvalle is erger as ander en kan tot beserings lei.

Epimastigoot is die buite-sellulêre en nie-aansteeklike ontwikkelingstadium van Trypanosoma wat in die dermkanaal van parasitiese insekte voorkom.  Die epimastigoot word gekenmerk aan die plasing van die basaalliggaam van die flagellum voor die selkern en dat die flagellum in die middel van die sel uitsteek en aan die sel met ‘n golwende membraan vasgeheg is.

Epiplastiedmembrane is die buitenste membraan wat die plastied van die Myzozoa omring.  Dit is die oorspronklike voedselvakuoolmembraan wat deur fagositose ontstaan het toe die voorouer van die Chromiste ‘n rooialg geïngesteer het.

Epipubiese bene kom vandag slegs in buideldiere en eierlêende soogdiere voor, maar verskeie oerdiere insluitende sekere kuonodontiërs soos die tritylodontiërs en oersoogdiere soos die multituberkulate het ook epipubiese bene gehad.  Die plasentale soogdiere het dit mettertyd verloor en van die oudste soogdiere bekend soos Megazostrodon en Erythrotherium, het skynbaar nie meer epipubiese bene gehad nie, alhoewel die moontlikheid bestaan dat dit in nog as kraakbeenelemente teenwoordig kon gewees het en dit dus nie versteen het nie.

Epiteel is die lagie diggepakte selle wat die weefsel vorm wat die die buitenste oppervlaktes van organe bedek en die binneste oppervlaktes van buise soos die lugwegstelsel, bloedvatstelsel, limfvatstelsel en liggaamsholtes uitvoer.  Epiteelweefsel vorm saam met bind-, spier- en senuweeweefsel een van die vier basiese weefseltipes.  Alle kliere bestaan uit epiteelweefsel.

Epog is ‘n onderverdeling van ‘n Periode in die Geologiese Tydskaal.  Dit word weer in Etages onderverdeel.

Equisetales – sien Perdesterte.

Era is ‘n onderverdeling van ‘n Eon in die Geologiese Tydskaal.  Eras word weer in Periodes opverdeel.

Erdvark of aardvark (Orycteropus afer), familie: Orycteropodidae, orde: Tubulidentata. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Erdwurms hoort aan die filum Annelida.  Hulle bly in grond of water waar hulle verrottende organiese materiaal en die mikroörganismes daarbinne soos protiste, bakterieë, rotifere, nematode en fungi vreet.  Hulle langwerpige sillindriese liggame is gesegmenteerd.  Hulle respireer deur hulle velle en het ‘n geslote bloedvatstelsel wat aangewend word om voedselstowwe deur die liggaam te versprei.  Hulle is hermafrodities.

Ergot is swamme wat aan die genus Claviceps hoort. Ergot groei op hawer en koring en ander grane en vervaardig alkaloïede wat die siekte ergotisme in mense en diere wat die besmette graan eet, kan veroorsaak.  Van die kenmerke van ergotisme sluit gangreen, konvulsies, spasmas, maagwerkings, jeuk, psigose, hoofpyn, naarheid en braking in.  Ergotisme kan dodelik wees.

Ergotism – sien Ergot.

Eritrosiete – sien Rooibloedselle.

Eritrosugiërs – sien Erythrosuchidae.

Erythrosuchidae is ‘n groep argosauriformes wat in die Trias Periode ontstaan het.  Hulle het bonkinge lywe van tot 4.5 m lank gehad met groot koppe wat ongeveer ‘n kwart van hul liggaamslengte lank was.  Hul skedels en tande het soos dié van groot vleisvretende dinosauriërs gelyk.  Die eritrosugiërs het plantvretende soogdieragtige reptiele gevreet.  Voor die dinosauriërs vanaf die Jura Periode as spitsroofdiere oorgeneem het, was argosauriformes soos die eritrosugiërs die spitsroofdiere.

Escherichia coli is ‘n anaerobiese basil wat algemeen in die dikderm van warmbloedige diere voorkom.  Die skadelose tipe E. coli vorm deel van die mikrobiota van die dermkanaal en het ‘n mutualistiese verhouding met ons en is verantwoordelik vir die vervaardiging van vitamine K2 en help om te keer dat die spysverteringstelsel deur patogeniese bakterieë oorgeneem word.  Die skadelike tipe E. coli is soms vir voedselvergiftiging verantwoordelik.  Groot hoeveelhede E. coli word daagliks met feses uitgewerp.

Esters is organiese verbindings wat in karboksielsuur- en alkoholatome ontbind kan word.

Estete is eenvoudige sensoriese orgaantjies wat in die skulpplate en op die gordel van kewerslakke voorkom.  Daar is honderde tot duisende estete per skulpplaat en daar was al 4200 estete per vierkante millimeter ontdek.  Mikroporieë in die skulpplaat huisves mikrestete en makroporieë huisves megalestete en klein ogies.  Sekere gepigmenteerde estete word met mikroskopiese klein aragonietkristal-lensies bedek terwyl die onderliggende gepigmenteerde selle ‘n retina-agtige struktuur vorm.  Dikwels kom estete in trosse voor met ‘n groot esteet – die megalesteet in die middel met talle kleiner mikrestete wat vanuit ‘n gesamentelike senuwee, wat hulle deel, vertak.  Daar heers ‘n groot debat oor die funksie van estete en daar is aanduidings dat dit ook vir meganoresepsie, chemoresepsie en sekresies aangewend word.

Ethiopiese Soögeografiese Wyk of Ethiopis – sien Afrotropiese Wyk.

Eukariote is organismes wat aan die Domein Eukarya hoort.  Eukariotiese organismes se selle bevat dubbelmembraanorganelle (soos mitochondria en plastiede) en ‘n kern wat uit ‘n kernmembraan wat die DNS omhul bestaan.  Eukariotiese organismes sluit eensellige organismes soos protiste en sekere lede van die bruinalge en groenalge en meersellige organismes soos plante, diere en swamme in.

Eumaniraptoria – sien Paraves.

Euparkeriidae is ‘n uitgestorwe familie van klein (70 cm) karnivoriese argosauriformiërs wat vanaf in die Trias Periode in Gondwana voorgekom het.  Euparkeria kon op hulle lang en sterk agterbene rondhardloop en met hul klein skerp agtertoe-gekromde tande insekte vang.  Hierdie tweebenige vermoë was waarskynlik deur die dinosauriërs van argosauriformiër-voorouers oorgeërf.

Europese takbok (Dama dama), subfamilie: Cervinae, Familie: Cervidae, Orde: Artiodactyla. Ingevoer na Suid-Afrika.

Euselomaat is bilateraal simmetriese diere wat ‘n seloom besit.  Dit sluit meeste diere in, maar sluit die pseudoselomate soos rondewurms en aselomate soos platwurms uit.

Eutelie is die verskynsel waar al die individue, of ‘n sekere geslag van sommige spesies dieselfde getal selle het.  Al die mannetjies van die nematood Caenorhabditis elegans het byvoorbeeld 1033 selle.  Eutelie kom in Rotifera, Tardigrada, en in sekere van die kleiner nematoodspesies voor.

Eutheria – sien Plasentale soogdiere.

Eutheriodontia is ‘n groep therapsiede wat in die Middel Perm Periode verskyn het en wat die therokefaliërs, kuonodontiërs en soogdiere insluit.  Die eutheriodontiërs was saam met die dikuonodontiërs die enigste van twee therapsiedstamme wat die eind-Perm uitsterwing oorleef het en in die opvolgende Trias Periode weer aangewas en gediversifiseer het.  Die meerderheid van die eutheriodontiërgroepe het voor die Trias/Jura uitwissingsgebeurtenis verdwyn, buiten vir een kuonodont-stam wat aan die soogdiere oorsprong gegee het.  Die kenmerke wat eutheriodontiërs in gemeen het is ‘n sekondêre verhemelte, die verlies van die postorbitale boog, die verlies van palatiene tande, die verbening van die wand van die breinkas en die smal hoë saggitale kam wat tussen die groot slaapwykopeninge van voor na agter bo-oor die breinkas strek.

Eutheriodontiërs – sien Eutheriodontia.

Euthyneurale senuweestelsel is die toestand voor torsie waar die twee viserale senuwees parallel aan mekaar deur die liggaam loop.  Torsie veroorsaak dat ‘n streptoneurale senuweestelsel vorm waar die viserale senuwees oor mekaar in ‘n figuur 8 buig wat veroorsaak dat die pariëtale ganglions op verskillende hoogtes in die liggaam beland.  Detorsie veroorsaak dat die senuweestelsel tot ‘n euthyneurale toestand terugkeer.

Evolueer verwys na die evolusieproses wat die verandering in organismes se oorerflike eienskappe, wat na die volgende geslag oorgedra word, insluit.

Evolusie verwys na die verandering in organismes se oorerflike eienskappe wat na die volgende geslag oorgedra word. Verskeie faktore speel ‘n rol in evolusie en die tempo van evolusie naamlik lukrake mutasies in ‘n geenpoel en natuurlike seleksie wat deur die omgewing op ‘n organisme uitgeoefen word wat sal bepaal of die organisme sal oorleef of nie.

Excavata is protiste wat ‘n voedingsgroef besit met ‘n flagellum waarmee hulle ‘n stroom skep om klein voedseldeeltjies in te suig.  Anders as ander eukariote, besit talle lede van die Excavata nie mitochondria nie, en het net ‘n oorblyfsel daarvan wat ‘n mitosoom genoem word.  Benewens vir die gevreeste parasiete onder hulle, soos Trypanosoma en Leishmania is meeste van die Exavata, skadeloos vir mense.

Fagosiete – sien Witbloedselle.

Fagositose of fagotropie is die voedingswyse wat deur protosoë, witbloedselle en die selle wat die spysverteringskanaal van diere uitvoer, waar die sel se membraan die kospartikel of kleiner organisme verswelg en in ‘n fagositiese vakuool omsluit.  Die kospartikel of kleiner organisme word dan binne die fagositiese of voedingsvakuool deur middel van ensieme verteer.

Fagositose is die proses waardeur ‘n witbloedsel of ‘n protozoön soos

Fagotropie – sien Fagositose.

Fanerosoïkum of Fanerosoïese Eon is die huidige geologiese tydperk waarin ons bevind (ons leef natuurlik in die laaste sekonde van hierdie tydperk wat 542 miljoen jaar gelede aangebreek het).  Hierdie eon word gekenmerk aan die verskyning van diere met eksoskelette en talle dierfilums, waarvan meeste vandag nog bestaan.  Dit het in die Kambrium ongeveer 542 miljoen jaar gelede plaasgevind en word die “Kambriese Ontploffing” genoem.  Die evolusie van hierdie filums in uiteenlopende vorme, die ontwikkeling van komplekse plante, die evolusie van visse en die ontstaan van insekte en tetrapode vind in hierdie tydperk plaas. In dié tyd het al die kontinentemassas (wat nie dieselfde vorm as die huidige kontinente gehad het nie) na mekaar toe beweeg en een landmassa, Pangea, gevorm wat later weer opgebreek en so die huidige kontinente gevorm het.

Farinks is die deel van die keel wat die mondholte met die slukderm en die lugpyp (in lugasemende diere) verbind.  Dit is egter ‘n komplekse struktuur in sekere diere en kan perforasies (gate of splete) hê.  Die splete word allerweë kiefsplete genoem, maar word slegs vir respirasie in werweldiere gebruik terwyl in urokordate en kefalokordate dit slegs as kosfilter dien en nie vir respirasie aangewend word nie.  Daar is ook ‘n endostiel op die vloer van die farinks van urokordate en kefalokordate teenwoordig, terwyl daar ‘n skildklier in die plek daarvan in werweldiere voorkom.  Verskeie ander kliere soos die mangels en adenoïede kom ook in die farinks van tetrapode voor.

Fasciola hepatica – sien Lewerbot.

Fasciola gigantica – sien Lewerbot.

Fasciolose is die siekte wat deur lewerbotbesmetting veroorsaak word.

Fermenteer is ‘n proses waardeur bakterieë en gisse energie vanuit organiese stowwe in anaerobiese omstandighede verkry.  Tydens die fermentasieproses word ondere andere: suikers in alkohole deur ensiemwerking omskep, melksuur word gevorm en metaangas word as neweproduk vrygestel.  Fermentasie kom algemeen in diere se spysverteringstelsels voor.

Feromone is chemiese stowwe wat deur organismes (veral diere en fungi) uitgeskei of afgeskei word, wat ‘n fisiologiese en/of neurologiese reaksie in ‘n ander organisme, gewoonlik van dieselfde spesie, bewerkstellig.  Daar is onder andere: alarmferomone, toenaderingsferomone, aggressie feromone, kalmeringsferomone, paringsferomone, territoriale feromone, spoorferomone, ensovoorts.  Feromone word deur die vomeronasale orgaan, wat in die neusholtevloer en monddak in reptiele en soogdiere voorkom, waargeneem.  Die neurlogiese prikkel word na die limbiese stelsel gestuur, waar dit ‘n fisiologiese en/of neurlogiese reaksie ontketen. Desondanks die feit dat die waarneming van feromone (wat ook meestal in die lug gedra word) niks met reuk te doen het nie, gebruik mense dikwels terme soos: individuele reuke, nesreuk, reukkommunikasie, wanneer hulle na die afskeiding en waarneming van feromone verwys.

Feses – die Latynse naam vir ontlasting.  Dit word gewoonlik gebruik as mense op ‘n ordentlike manier na menslike ontlasting wil verwys, terwyl ons meestal dit mis noem as ons na dierlike ontlasting verwys.

Festoene is die duike op die agterste rand van bosluise se idiosoma.  Die teenwoordigheid, getal en grootte daarvan kan vir die uitkenning en klassifikasie van bosluise gebruik word.

Fibrien is ‘n sterk proteïen wat in lang kettings voorkom.  Dit vorm uit fibrinogeen wat in bloedplasma voorkom.  Wanneer ‘n persoon bloei word fibrinogeen by die wond deur thrombien, ‘n klottingsensiem, in fibrien omgeskakel.

Fibroblaste is selle wat in die liggaamsholte van weekdiere voorkom.  Dit vorm die kollageenvesels wat die hoofbestanddeel van bindweefsel vorm en dus ‘n groot deel van die liggaamstruktuur vorm.

Fibrose is die vorming van bindweefsel in beskadigde weefsel.

Filariale wurms of filariae is dun parasitiese nematode wat deur geleedpotige vektore oorgedra word.  Hulle leef binne die weefsels van die gasheer waar hulle aan larwes, wat mikrofilariae genoem word, oorsprong gee.  Hierdie mikrofilariae besmet geleedpotige parasiete, wanneer hulle die bloed van die besmette gasheer drink.  Die mikrofilariae ontwikkel dan tot aansteeklike larwes wat die geleedpotiges weer na gashere oordra.  Filariale wurms veroorsaak ernstige siektes in tropiese en subtropiese gebiede.

Filariase is die besmetting met een van die meer as 60 verskillende filariale nematoodspesies wat die vel, limfvatstelsels of liggaamsholtes van mense en diere aanval.  Filariale nematode word na mense en diere oorgedra deur vektore soos muskiete, bytende muggies, perdevlieë en buffel- of swartvlieë.

Filogenetika is die studie van die evolusionêre geskiedenis van organismes en die verwantskappe binne groepe organismes.  Hierdie verwantskappe word deur middel op DNS en morfologiese studies van organismes gegrond.  Die resultaat van hierdie studie is ‘n filogenetiese stamboom wat die verwantskappe tussen organismes uitbeeld.

Filum is ‘n vlak in die klassifikasie van organismes onder Koninkryk en bo Klas.  Dit is op dieselfde taksonomiese vlak as Divisie wat oorspronklik vir plante en swamme gebruik is.  Deesdae word Filum in die klassifikasie van alle organismes gebruik.

Foramen magnum is die groot gat agter in meeste werweldiere se skedels (onder in hominien-skedels) waardeur die rugstring strek om aan die breinstam te koppel.

Foramina is klein openinkies, veral in bene, waardeur bloedvate en senuwees strek, dit is kleiner as ander openinge wat foramens en vensters genoem word.

Fossiel is die versteende oorblyfsels van organismes of dele daarvan, soos been, skulpe, eksoskelette, hout, blare, of hul produkte soos spore, tonnels, mis, boomgom, stuifmeel ens.

Fossileer verwys na die verstening van organismes, hulle weefsel, uitskeidings (soos mis), maaginhoud, hulle aksies (voetspore, sleepsels, tonnels, vreetskade aan blare) ens.  Dit kan ook na die verharding van hars rondom ‘n organisme, om barnsteen te vorm, verwys.

Filum is ‘n vlak in die klassifikasie van organismes onder Koninkryk en bo Klas.  Dit is op dieselfde taksonomiese vlak as Divisie wat oorspronklik vir plante en swamme gebruik is.  Deesdae word Filum in die klassifikasie van alle organismes gebruik.

Fisiologie is die studie van die funksies en chemiese prosesse wat binne die sel, weefsel, organe, organisme en die ekologie plaasvind.

Fitoplankton is mikroskopiese alge soos diatome en ander eensellige alge wat in die see of varswater voorkom.

Flagellum of sweephaar, is ‘n lang sweepagtige struktuur wat sperms en eensellige organismes laat voortbeweeg.  Dit bestaan uit ‘n bundel mikrotubuli (lang proteïenkettings) wat gewoonlik in 9 pare in ‘n sirkel gerangskik met een paar in die middel, wat deur die selmembraan omsluit is.  Die flagellum waarmee meeste mense vertroud is, is die stert van ‘n sperm.

Flagellumsakkie is die sakkie rondom die basis van die flagellum in Trypanosoma.  Dit word deur ‘n instulping van die selmembraan gevorm.

Floeëm is die vaatweefsel wat onder andere verantwoordelik is vir die vervoer en verspreiding van hormone en suikers wat deur die plant se blare vervaardig word.

Fluweelwurm (filum Onychophora) is wurms wie se lywe met kitienskubbe bedek is wat hulle ‘n fluweelagtige weerskynglans gee.  Die ekstante 200 spesies is die laaste oorlewendes van ‘n groep diere wat oorspronklik seelewend was.  Dit is die enigste dierfilum wat geen ekstante seelewende lede meer oorhet nie. Die fluweelwurms het kenmerke wat hulle met die geleedpotiges en die gesegmenteerde wurms in gemeen het maar hulle het ook unieke kenmerke soos baie lang slymkliere wat deur die grootste deel van hul lywe strek en die feit dat hulle van die weinige ongewerweldes is wat ‘n uterus het en lewend baar.  Hulle het soos die gesegmenteerde wurm metameries-gerangskikte organe, maar nie inwendige segmentasie met septa soos die gesegmenteerde wurms nie.  Hulle het pote met kloue op elke poot soos die geleedpotiges, en anders as die geleedpotiges, maar soos die gesegmenteerde wurms, het hierdie aanhangsels nie litte nie.

Foliose ligeen is ‘n ligeen wat blaaragtige kartelende lobbe vorm.  Dit kom algemeen op boomstamme voor.

Follikelmyte of wimpermyte hoort aan die genus Demodex.  Twee spesies is op mense teenwoordig, terwyl bykans elke soogdier wat ondersoek is, hul eie unieke spesies Demodex-myte huisves.  Hierdie 0.3-0.4 mm lange myte bly binne haarfollikels waar hulle op olie en bakterieë voed.

Foraminifera – sien Foraminifere.

Foraminifere is lede van die filum Foraminifera van die takson Harosa van die Koninkryk Chromista.  Hulle is ameba-agtige protiste wat met behulp van lang dun die sitoplasma-gevulde membraanuitstulpings They move and catch their food with a network of thin extensions of the cytoplasm called reticulopodia, similar to the pseudopodia of an amoeba, although much more numerous and thinner. pseudopodia voedsel vang en beweeg, maar wat ook ‘n eksterne dop of test van verskillende materiale en vorms besit.  Die primitiewe lede van hierdie groep het doppe van chitien, terwyl die meerderheid doppe van kalk (kalsiumkarbonaat CaCO3) het.  Meeste foraminifere is marien en kom in en op die sediment op die seevloer voor, terwyl sommiges planktonies is en op verskillende dieptes in die water voorkom.  Nog ‘n kleiner groep leef in varswater of brakwater en die kleinste groep leef in klam sand en grond.  Meeste foraminifere is onder 1 mm lank, maar sommige oerspesies soos Nummulites het tot 150 mm groot geword, wat nogal ‘n besondere prestasie vir ‘n eensellige organisme was!

Forese is die verskynsel wanneer kleiner organismes op groteres klim om van plek tot plek te ry.

Fosfolipiede is enige fosfor-bevattende lipied.  Dit is die hoofbestandeel van membrane in selle.

Fossiele is die versteende oorblyfsels van organismes of dele daarvan soos been, skulpe, eksoskelette, hout, blare, of hul produkte soos spore, tonnels, mis, boomgom, stuifmeel ensovoorts.

Fossielrekord bestaan uit al die fossiele wat ontdek is en hul relatiewe ouderdomme soos bereken van die geologiese lae waarin hul voorkom.

Fotobiont is die fotosintetiserende simbiont van ‘n ligeen wat energie en koolstofryke produkte aan die ligeen deur middel van fotosintese verskaf.  Dit bestaan uit sianobakterieë en/of eensellige alge.

Foto-outotrofiese organismes soos sianobakterieë, rooiwiere, bruinwiere en plante vervaardig energieryke molekules deur middel van fotosintese.  Die woord foto verwys na lig en outotrofies verwys na die vermoë wat hierdie organismes het om onafhanklik van ander organismes voedsel te vervaardig.

Fotosintese is die proses waardeur plante, sianobakterieë, rooi- en bruinwiere en sekere protiste, ligenergie gebruik om koolsuurgas en water in suiker te omskep met suurstof as neweproduk.  Hierdie proses omskep ligenergie in chemiese energie.  Fotosintese is sekerlik, naas die ontstaan van lewe, die belangrikste biologiese proses wat ooit op aarde ontstaan het.  Plante en ander fotosintetiserende organismes word as primêre produseerders beskou en verskaf voedsel aan ‘n groot deel van die voedselweb asook die suurstof in die atmosfeer as neweproduk.

Fragmokeël is die middelste aragonietbevattende deel van die belemnietskulp waar die luggevulde kamers was.

Fraser se dolfyn (Lagenodelphis hosei), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Frutikose ligeen is ‘n ligeen wat bossieagtig is en nie plat op ‘n substraat soos die ander ligeenvorme groei nie.

Fungi – sien Swam.

Fungivoor is ‘n dier wat swamme eet.

Furongium (497- 485.4 Mjg) is die vierde en laaste onderafdeling van die Kambrium.  Die onderste grens word bepaal deur die eerste verskyning van die trilobiet Glyptagnostus reticulatus 497 Mjg en die boonste grens word bepaal deur die verskyning van die konodont Iapetognathus fluctivagus 485.4 Mjg.

Fynbos kruipmol (Amblysomus corriae), subfamilie: Amblysominae, familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Fyntandkamme is spesiale kamme met nou spasies tussen die dun tande wat spesifiek gemaak is om nete en luise uit hare te kam.

Ga is die afkorting van giga annum, m.a.w. miljard jaar gelede.

Galbuis is die buis wat gal vanaf die galblaas tot in die dermkanaal vervoer.

Galbulte of urticaria is erg-jeukende swelsels op die vel wat tydens ‘n allergiese reaksie gevorm word (sien ook Netelroos).

Galsure word in die lewers van werweldiere vervaardig en word saam met die gal afgeskei.  Sekondêre galsure word deur bakterieë in die dikderm veroorsaak.  Galsure speel ‘n belangrike rol in die vertering van vette en olies.

Gametangiums of gametangia is die geslagtelike voortplantingstrukture van Sakswamme.  Gametangiums wat uit progametangia vorm, ontstaan op die naasliggende hifes van twee verskillende Konjugasieswam-stamme.

Gametosiet is ‘n kiemsel wat in eukariotiese organimes voorkom.  Gametosiete verdeel deur middel van mitose (tweedeling) om nog gametosiete te vervaardig, of ondergaan meiose, in welke geval hulle haploïede gametosiete vorm.  Manlike gametosiete word spermatosiete genoem, en vroulike gamenosiete word oösiete genoem.

Gamma-aminobottersuur is die hoof inhiberende senuwee-oordragstof in die volwasse senuweestelsel.

Ganglion of senuweeknoop is ‘n bondel senuwees wat op verskeie plekke in werweldiere voorkom en senuweeprikkels na en van die sentrale senuweestelsel (brein en rugstring) dra.  In ongewerweldes kom ganglions op verskillende plekke in die liggaam voor – in baie gesegmenteerde organismes kom daar ‘n paar ganglions in elke segment – een ganglion op elk van die twee senuweekoorde voor, terwyl die groep ganglions, wat in die kop voorkom, die brein vorm.  In ander ongewerweldes kan ganglions op verskeie plekke in die liggaam voorkom.  Daar kom dikwels groter ganglions of ‘n groter konsentrasie van ganglions in die kop of serebrale area voor waar hulle ‘n belangrike rol in die senuweevoorsiening van sintuie speel.  In sekere organismes soos die lintwurm en rooiaas, is die senuweestelsel tot ‘n enkele ganglion, wat aan ‘n paar senuwees gekoppel is, gereduseer.

Gardnerella vaginalis is ‘n bakterie, wat normaalweg in die vagina saam met ander voordelige bakterieë voorkom en ‘n belangrike rol speel om die vagina teen die besmetting met skadelike bakterieë te beskerm.

Garingwurm (Strongyloides stercoralis) parasiteer verskeie soogdiere, insluitende die mens, in tropiese en subtropiese gebiede wêreldwyd.  Garingwurmbesmetting is baie algemeen in onderontwikkelde lande en ongeveer 370 miljoen mense is wêreldwyd met garingwurm besmet, maar in tropiese en subtropiese gebiede kan dit tot 40% van die bevolking insluit.  Garingwurmbesmetting veroorsaak die siekte strongyloidose.  Wyfiegaringwurms koloniseer die villi binne die dunderm van die gasheer en plant dan deur partenogenese voort.  Die eiers broei in die villi uit en kan met die gasheer se feses uitgeskei word of die gasheer herbesmet.  Garingwurms kan ook buite die liggaam in die grond vir ‘n ruk vrylewend wees, paar en eiers lê.  Die larwes wat uitbroei moet weer ‘n gasheer besmet om te kan oorleef.  Larwes boor deur die vel van die gasheer, gewoonlik deur die voetsole, om in die bloedstroom te kom, van waar hulle deur die hart na die longkapillêrbed vervoer word.  Van daar boor hulle deur die bloedhaarvaatjies, deur die alveoliwande tot in die longe van waar hulle tot in die keel opgehoes word, en dan in die spysverteringskanaal afgesluk word.

Garnale is ‘n tipe skaaldier.  Garnale hoort aan die orde Decapoda (bedoel 10-benig) van die klas Malacostraca van die subfilum Crustacea.  Hulle het langwerpige liggame en swem met behulp van hul swempote.  Hulle ontsnap gevaar deur om, met behulp van  vinnige bewegings van hul smal sterte, agteruit te swem.  Soos meeste Crustacea, het hulle ook twee paar antennas.  Garnale het besondere lang antennas.  Daar is duisende spesies garnale wat wêreldwyd in ‘n wye verskeidenheid habitatte in die see, brakwater en varswater (tot onder die yskap rondom die pole) voorkom.  Hulle speel ‘n baie belangrike rol in die ekologie en vorm ‘n belangrike kosbron vir talle ongewerweldes, visse, walvisse en mense.

Gasheer verwys na ‘n organisme wat as kosbron of selfs tuiste vir ‘n ander organisme dien.  Hierdie verhouding kan of parasities (weeluise en lintwurms in mense), kommensialisties (follikelmyte en stofmyte op mense) of mutualisties (dermflora in mens) wees.

Gasheerspesifiek verwys na verskillende spesies soos hertluisvlieë en vlêrmuisvlieë, wat slegs sekere gasheerspesies parasiteer.  Hierdie uitsoekerigheid word deur duisende jare se aanpassings by die gasheer se haartipes, teenliggaampies, ensieme en verdedigingsmeganismes bepaal.  Wanneer ‘n parasiet by hierdie spesifieke kenmerke van die gasheer aangepas het, is dit moeilik of onmoontlik om van gasheer te verander.

Gasheervoorkeur is die verskynsel waar ‘n parasiet soos ‘n kat- of hondvlooi opportunisties ook op mense kom voed, maar dan die mens weer moet verlaat om ten minstens een bloedmaal van sy voorkeurgasheer te nuttig voor die wyfie eiers kan vorm.  Sien ook Gasheerspesifiek.

Gasterophilus intestinalis – sien Bewapende-perdepapievlieg.

Gastroenteritis is dermontsteking wat met diarree, krampe, naarheid, braking en matige koors gepaard gaan.  Dit word dikwels deur bakterieë in besmette kos, water of kontak met besmette persone veroorsaak.

Gastropoda, gastropood – sien Buikpotige.

Gastrotricha is ‘n groep klein (0.06 – 3 mm) wurmagtige diertjies wat wêreldwyd in die see en varswater en waterige omgewings op land, hoofsaaklik op die detritus wat op die bodem lê, voorkom.

Gastrovaskulêre holte verwys na die sakvormige spysverteringstelsel wat in platwurms voorkom.  Daar is net een opening wat beide as mond en anus dien.  Die sakvormige sytakkies wat na die kante vertak word seka genoem.

Gaswisseling verwys na die opneem van suurstof en die uitskeiding van koolsuurgas.  Dit vind hoorsaaklik deur middel van een of twee kiewe in meeste buikpotiges of ‘n long in landslakke plaas.

Geartikuleerde brachiopood – sien Brachiopood.

Gebande muishond (Mungos mungo), familie: Herpestidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Gebande ystersteenformasies (banded ironstone formations, BIF) is kenmerkende Prekambriese geologiese formasies wat wêreldwyd voorkom.  ‘n Gebande ystersteenformasie bestaan uit herhalende dun lagies van ‘n paar millimeter tot ‘n paar sentimeter dik.  Die lagies bestaan uit donker persbruin tot swart magnetiet (Fe3O4) of hematiet (Fe2O3) en rooi tot wit yster-arm lagies skalie of chert.

Gebit is die stel tande wat in ‘n dier voorkom.

Geboorte gee of geboorte skenk – sien Baar.

Gedomestiseer verwys na diere of plante wat deur honderde en duisende jare deur mense geselekteer is om sekere eienskappe te verbeter (vir menslike gebruik natuurlik).  Wilde beeste, skape, bokke en varke was so vir hul vleis, melk en wol geselekteer sodat ons nou koeie het wat baie meer melk produseer as wat hul kalwers nodig het, skape wat meer wol produseer as wat hulle ooit nodig sou hê om hul teen die koue te beskerm, varke, beeste en hoenders wat so vet en swaar is dat hulle moeisaam beweeg, vir die ekstra vleis wat hulle vir ons gee.  Ons het uit grasse koring, mielies, rys en sorgum geskep.  Die sade is nou reusagtig groot in vergeleke met dié van die natuurlike spesies waaruit hulle gekweek is.  Vrugte is vandag plomp, sappig en vol suiker in vergeleke met hul harde, klein en effens soet voorsate.

Geel dakvlermuis (Scotophilus dinganii), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Geel-groenalge of die Xanthophyceae is ‘n groep binne die Heterokonta.  Hulle kom hoofsaaklik in varswater voor maar ‘n paar spesies kom in die see en klam grond voor.  Hulle kom as enkelsellige flagllate tot eenvoudige kolonies en filamentagtige talluse voor.  Geel-groenalge besit chlorofil a en chlorofil c en is naasverwant aan die Bruinalge.

Geel hondebosluise (Haemaphysalis leachi), kom in Afrika suid van die Sahara voor.  Dit is ‘n driegasheer bosluis wat dien as vektor vir die bakterie Rickettsia conori wat vir die siekte bosluistifus verantwoordelik is, en die protosoïese parasiet Babesia, wat vir die siekte babesiose verantwoordelik is.

Geelkoldassie (Heterohyrax brucei), familie: Procaviidae, orde: Hyracoidea, Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Geelkoors is ‘n virus wat deur muskiete soos Aedes na mense en ape in tropiese en subtropiese gebiede in Afrika en Suid Amerika oorgedra word.  Geelkoors-simptome sluit koors, kouekoors, aptytverlies, naarheid, hoofpyn en spierpyn, veral van die rugspiere, in.  In erge gevalle, gaan dit met buikpyn en lewerskade gepaard wat veroorsaak dat die vel en oë ‘n geel kleur ontwikkel weens die opbou van gifstowwe in die liggaam.  Tot helfte van die slagoffers, wat tot op hierdie stadium vorder, sterf daarvan.  Die siekte het in Afrika onstaan maar is weens slawehandel na die Amerikas toe uitgevoer.

Geelkruipmol (Calcochloris obtusirostris), subfamilie: Amblysominae, familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika, Mosambiek, Eswatini en Zimababwe.

Geel vrugtevlermuis (Eidolon helvum), subfamilie: Pteropodinae, familie: Pteropodidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Geflagelleerd – met flagella.

Gehoorbeentjies sien Oorbeentjies.

Gekompromitteerde immuunstelsel of immuniteitsgebrek is wanneer ‘n persoon se immuniteitstelsel op so ‘n manier beskadig of belemmer is dat dit nie meer die liggaam voldoende teen virusse, parasiete en kanker kan verdedig nie.  Faktore soos wanvoeding, besmetting met HIV en die neem van immuunonderdrukkers lei tot ‘n gekompromitteerde immuunstelsel en maak die persoon vatbaar vir virus en parasietbesmetting.  In sommige gevalle sal so ‘n persoon se weefsel en organe deur die aanwas van andersins skadelose swamme en bakterieë oorgeneem word.

Geldkaurie (Monetaria moneta) skulpe was vir duisende jare tot in die 19de Eeu in lande en eilande in die Stille Oseaan en Indiese Oseaan as ruilmiddel gebruik.  Die piktogram in China vir geld of handel is die teken vir kaurie貝.

Geleedpotiges behoort aan die Filum Arthropoda.  Dit is spesiegewys die mees diverse groep organismes op die planeet.  Dit sluit die honderdpote, duisendpote, skaaldiere, insekte en spinnekopagtiges in.  Geleedpotiges speel ‘n uiters belangrike ekologiese rol in elke denkbare omgewing op Aarde.

Geligeniseerde swamme is lede Sakswamme en die Steeltjieswamme wat mutualisties saam met alge en/of sianobakterieë leef om ligene te vorm.

Gemaskerde roofwantse (Reduvius personatus) is insekte wat aan die familie Reduviidae (die roofwantse) van die orde Hemiptera (halfvlerkiges) behoort.  Hulle is roofdiere wat op ander insekte, insluitende die weeluis, jag maak.  Hulle kom hoofsaaklik in die noordelike halfrond voor, maar word ook in Suid-Afrika gevind.  Die roofwantse ondergaan, net soos die ander Hemiptera, ‘n onvolledige metamorfose wat beteken dat die jongelinge, of te wel die nimfe, soos miniatuur volwassenes lyk.  Nimfe vervel soos wat hulle ouer en groter word, tot die laaste nimf na vervelling as volwassene (imago) verskyn.  Die volwassene is gewoonlik gevleueld.  Een van die interessante kenmerke van die gemaskerde roofwantse is dat die nimf se liggaam ‘n taai vloeistof afskei waaraan stof, sand of klippies vasplak om dit as kamoeflering te gebruik.

Gemeenskaplike voorouer verwys na die voorouer wat twee of meer individue of verwante groepe organismes deel.

Gemsbok (Oryx gazella), subfamilie: Cephalophinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Gemsbokmuis (Graphiurus ocularis), subfamilie: Graphiumurinae, familie: Gliridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Generaliste is organismes wat ‘n verskeidenheid van voedseltipes kan benut en in ‘n verskeidenheid omgewings of gashere kan bly.

Genetiese studies of genetika is die studie van DNS, gene, chromosome, genetiese variasie en oorerflikheid in organismes.  Die pionier van genetiese studies is Gregor Mendel, ‘n Augustiniese monnik wat in die 19de eeu in Brno in Tsjeggië gewerk het.

Genotoksien is ‘n giftige stof wat binne ‘n sel gevorm word, wat mutasies in die DNS kan veroorsaak en tot kanker kan lei.  Hierdie verandering van die DNS is oorerflik en kan na nasate oorgedra word.

Geochronologie is die datering van gesteentes d.m.v. verskeie tegnieke, o.a. radiometriese datering, biostratigrafie (opeenvolging van fossiellae) en paleomagnitisme.

Geofagiese bakterieë dit is bakterieë wat voedingstowwe uit rots verkry.

Geoffroy se saalneusvlermuis (Rhinolophus clivosus), subfamilie: Rhinolophinae, familie: Rhinolophidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Geologiese tydskaal is die rangskikking van geologiese lae volgens die kronologiese datering daarvan.  Dit dien as rekord van die vormingsgeskiedenis van die Aarde.  Die fossielrekord en radiometriese datering vorm deel hiervan.

Gepanserde kaaklose visse – sien Ostracodermi.

Gepanserde kaakvis – sien Placodermi.

Gesegmenteerde wurms of anneliede is lede van die filum Annelida.  Hierdie diere word gekenmerk aan die segmente wat die lyf onderverdeel.  Talle organe soos die uitskeidingsorgane, ganglions, spiere en aanhangsels kom herhalend op segmente voor.  Anneliede was van die eerste diere wat ‘n geslote bloedvatstelsel gehad het.  Erdwurms en bloedsuiers is voorbeelde van anneliede wat algemeen bekend is.

Geslagsbuis – sien Gonodukt.

Geslagsontwikkeling is die geslagtelike volwassewording van ‘n organisme.  Organismes word eers as volwassenes beskou wanneer hulle kan voortplant.  In sommige organismes vind hierdie laaste stap van ontwikkeling plaas eers nadat die liggaam volgroeid is.

Geslagsopening verwys na die opening waar gamete (sperms of eierselle), in of uit die liggaam beweeg.  Dit word ook gewoonlik vir paring gebruik in diere wat kopuleer.

Geslagsorgane is die organe wat vir geslagtelike voortplanting verantwoordelik is.  Afhangende van die organisme, sluit dit gewoonlik organe soos ‘n penis, hemipenis, testes, vagina, uterus en ovarium in diere in.  In plante sal dit die anteridium, argegonium, stuifmeeldrade, stuifmeel, vrugbeginsel en blomme insluit, maar nie spore of sporangia nie.

Geslagsryp verwys na die lewenstadium van ‘n organisme waartydens dit kan voortplant.  Die organisme word meestal dan ook as ‘n volwassene beskou.  Dit is ook gewoonlik die laaste lewenstadium van ‘n organisme.

Geslagtelike voortplanting is wanneer gamete (eiers of sperms) wat ‘n enkele stel chromosome (n) bevat, met mekaar versmelt om ‘n organisme met ‘n dubbele stel chromosome (2n) te vorm.  Meiose vind plaas om die diploïede selle (2n) in haploïede (n) gamete te omskep.

Gespes of klampe is die buisagtige struktuur wat in die steeltjieswamme (Basidiomycota) voorkom wat ‘n verbinding tussen die voorste twee selle in ‘n dubbelkern hife vorm.  Gespe- of klampselle kom net in sekondêre miseliums van Basidomycota voor.

Gevlekte dolfyn (Stenella attenuata), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Gevlekte hiëna (Crocuta crocuta), familie: Hyaenidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Gevleuelde – met vlerke.  Die insekte is naas sekere werweldiergroepe soos die voëls en vlêrmuise, die enigste gevleuelde diere op aarde.

Gewone dolfyn (Delphinus capensis), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Gewone spleetneusvlermuis (Nycteris thebaica), familie: Nycteridae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Giardia intestinalis of Giardia duodenalis is ‘n geflagelleerde anaerobiese parasitiese protist wat in die dunderm van soogdiere voorkom.  Dit veroorsaak die siekte giardiase wat met diarree gepaard gaan.  Mens kry dit van besmette water.  Dit kom wêreldwyd voor.

Gifpylpadda is ‘n algemene benaming van ‘n groep paddas van die familie Dendrobatidae wat in die reënwoude van Meso-Amerika en Suid Amerika voorkom.  Paddas van hierdie groep met helderkleurige velle skei ‘n dodelike gif af om roofdiere af te skrik.  Mense wat in hierdie gebied bly het hierdie gif aan hulle pyle gesmeer om prooi daarmee te jag.  Ander lede van die Dendrobatidae wat nie giftig is nie, het dowwe kleure wat met die omgewing insmelt.

Gimnosperme – sien Naaksadiges.

Ginekofoorkanaal is ‘n kanaal wat onderaan die mannetjie bloedbot voorkom waarbinne die lang, smal wyfie pas.  Die mannetjie skei ‘n spesiale proteïen in hierdie kanaal af wat die wyfie se ontwikkeling, om geslagsryp te word, bewerkstelling.

Gisse is enkelsellige swamme wat van meersellige voorouers ontwikkel het.  Dit verwys ook eerder na die enkelsellige voorkoms van hierdie swamme as verwantskappe, want beide die Sakswamme en die Steeltjieswamme het gisse onder hul lede.  Sekere spesies kan, afhangende van die omstandighede, van gis na hifes oorskakel en andersom.  Gisse plant ongeslagtelik deur afknopping voor.

Glaba truncatula is die waterslakkie wat meestal deur lewerbotte as tussengasheer in Afrika, Europa en soms in Asië en Suid-Amerika gebruik word.

Glikogeen is ‘n veeltakkige polisakkaried van glukose wat as die belangrikste kosbron binne diere, swamme en bakterieë voorkom.

Glimmerinkswamme (Caprinellus micaceus) is algemene paddastoelvormende swamme wat op verrottende bome in die noordelike halfrond groei.  Dit is ‘n populêre dis en word gewoonlik geëet voor dit volwasse word en tot smerige swart drelle disintigreer.

Glogidia is varswateroesters se parasitiese larwes.  Die vrywemmende glogidium heg vir ‘n tydperk aan visse se kiewe vas.  Wanneer hulle verder ontwikkel verlaat hulle die visse en sak na die rivierbodem af waar hulle tot volwasse kamoesters ontwikkel.

Glossopteris was ‘n genus plante wat tydens die Perm Periode die dominante landplante was.  Hulle het gewissel in grootte vanaf struike tot bome.  Daar is twee mooi ongeveer 30 m lang fossielboomstompe wat mens kan sien – die een is voor die Transvaal Museum en die ander langs die Harrismith Stadsaal.  Die NG Kerk in Senekal is ommuur met fossielboomstompe.   Dit blyk dat hierdie stompe aan Glossopteris behoort het.  Ons groot steenkoolafsettings was gevorm toe die koolstof van miljarde tonne Glossopteris blare in daardie lae behoue gebly het.  Mens kan regdeur die noordelike deel van die Karoo Supergroep fossielblare van Glossopteris vind.

Glukose is ‘n eenvoudige suiker met die formule C6H12O6.  Glukose word deur plante en sianobakterieë deur middel van fotosintese vervaardig.  Dit is die mees algemene koolhidraat in die natuur en word as die boublok vir die vervaardiging van stysels, sellulose en lignien gebruik.  Dit is ook die belangrikste bron vir energie in alle organismes.  Suikers word as ‘n polimeer in plante as stysel, en in diere in die vorm van glikogeen gestoor.

Glutamaat is ‘n aminosuur wat in omtrent alle lewende organismes voorkom. Dit is die volopste senuwee-oordragstof in werweldiersenuweestelsels.  Dit speel ‘n belangrike rol in die leerproses en geheue.  Dit is egter belangrik dat glutamaat in die regte konsentrasies in die brein voorkom vir optimale funksionering van die brein.  Te veel glutamaat vernietig breinselle.

Gnathosoma of kapitulum van bosluise bevat monddele (‘n paar kaaktasters, ‘n paar koukake en ‘n hipostoom) wat aangepas is om die vel te penetreer en bloed te suig.  Dit is egter nie die kop nie, want die oë is op die skild of skutum in harde bosluise, aan die kant van die idosoma in sagte bosluise en die brein is in die idiosoma.

Gnathostomata verwys na werweldiere met kake.  Dit sluit alle visse, buiten kaaklose visse (lampreie en slymprikke), en amfibieës, reptiele (insluitend voëls) en soogdiere in.  Kaakvisse is ‘n term wat ek vir “visse met kake” opgemaak het want dit is korter om te skryf of te sê en meer verstaanbaar as gnathostomaat-vis.  Dit klink egter vreemd want niemand het nog voorheen hierdie term gebruik nie.  Mens kan ook nie bloot die term gnathostomate losweg vir visse gebruik nie, aangesien alle werweldiere, buiten die Agnatha (die kaaklose visse), gnathostomate of “kaakdiere” is.  Kaakvisse word in die kraakbeenvisse (Chondrichthyes) en die beenvisse (Osteichthyes) verdeel.  Van die oudste kaakvisfossiele is in Siluur ouderdom gesteentes ontdek – die Placodermi en die Acanthodii.  Hierdie groepe het in die Devoon gediversifiseer en talryk geword.  Die voorouers van huidige kaakvisse het in die Laat Siluur Periode verskyn.

Gogga is ‘n populêre woord wat in Suid-Afrika vir enige geleedpotige gebruik word.  Soms sluit mense slakke en wurms hierby in.  Dit kom uit Khoekhoe, die taal van die Khoi.

Golfmembraan is die membraan wat tussen die flagellum en die res van die sel aan die een kant van Trypanosoma tripomastigote voorkom.  Dit word soos ‘n vin gebruik om in die bloedstroom tussen die rooibloedselle rond te swem.

Golgi-apparaat of Golgiliggaam is ‘n organel wat deur membrane gevorm word wat in die sitoplasma van meeste eukariotiese selle voorkom.  Die funksie van die Golgi-apparaat is om proteïene in membraangebonde blasies of vesikels te verpak wat van die rande daarvan afknop om deur die sel te versprei na plekke waar die proteïene daarin benut kan word.

Gonade verwys na die versamelnaam vir testes in mannetjies, ovariums in wyfies, of ovotestis in hermafrodiete.

Gondwanaland is die suidelike superkontinent wat vanaf 550 – 180 miljoen jaar gelede bestaan het.  Dit het uit die gekombineerde landmassas wat vandag bekend staan as Afrika, Suid-Amerika, Indië, Madagaskar, Antarktika en Australië bestaan.  Gondwanaland was in die noorde, naby die ewenaar aan die noordelike superkontinent Laurasië gekoppel om tesame die superkontinent Pangea te vorm.

Gonodukt of geslagsbuis is die buisie wat geslagselle (eiers of sperms) van die gonade (ovarium of testis of ovotestis) na die mantelholte vervoer en deur die gonoporie binne die mantelholte vrylaat.

Gonoporie is die opening van die gonodukt.

Gordel van kewerslakke is die taai gespierde ring wat rondom die voet van die kewerslak voorkom.  Die gordel het ‘n kitienryke epidermis waarop daar in sekere spesies skubbe, stekels, knoppe of haaragtige uitgroeisels voorkom wat vir verdediging of vertoon gebruik word.

Gorgonopsia is ‘n uitgestorwe theriodontiër-klade wat na die Griekse mitologiese monster die Gorgon vernoem is.  Gorgonopsiërs was die primitiefste theriodontiër groep wat vanaf die Middel tot die Laat Perm Periode (ongeveer 265-252 miljoen jaar) voorgekom het.  Gorgonopsiërs was hond tot beer-grootte sabeltandagtige predatore wat vinniger as die ander therapsiede van daardie tyd kon hardloop wat hulle in staat gestel het om die top-predatore op land te word totdat die basale argosauriërs hulle as top-predatore vervang het.

Gorgonopsiërs – sien Gorgonopsia.

Gorrilaluise (Pthirus gorillae) is ektoparasiete wat op gorillas voorkom.  Dis naasverwant aan die menslike pubiese luis (Pthirus pubis).

Goudogies is vlieënde insekte wat aan die familie Chrysopidae van die orde Neuroptera hoort.  Volwasse goudogies is skemer- en naglewend en voed op stuifmeel, nektar en heuningdou maar sal ook myte, plantluise en ander klein geleedpotiges vreet.  Sommige is slegs predatore van klein geleedpotiges en sommige drink slegs nektar.  Die larwes is predatore wat op ander geleedpotiges en hul larwes voed.

Grant se klipmuis (Aethomys granti), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Grant se kruipmol (Eremitalpa granti), subfamilie: Chrysochlorinae. familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika en Namibië.

Graptoliete is klein uitgestorwe diertjies wat as individuele sooïede in kolonies geleef het.  Hulle het aan die Subklas Graptolithina van die Klas Pterobranchia van die Filum Hemichordata gehoort.  Die harde liggaamsdele van die Graptoliete word in die fossielrekord bewaar en dit lyk soos krapmerkies op rotse – vandaar die naam van die groep (Grieks graptos = “geskryf”).  Hulle het in die Kambrium ontstaan en gediversifiseer.  Hulle wêreldwye verspreiding maak hulle baie nuttige indeksfossiele.  Geologiese lae van die Devoon en Siluur kan in verskillende biosones onderverdeel word op grond van die verskillende spesies en families van graptoliete wat daarin voorkom.  Die ystydperk aan die einde van die Ordovisium het meeste graptoliete, buiten vir die Superfamilie Neograptina, uitgewis.  Die Neograptina het tot in die Karboon oorleef.

Grasveldkruipmol (Chrysospalax villosus), subfamilie: Chrysochlorinae. familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Gray se snoetwalvis (Mesoplodon grayi), subfamilie: Hyperoodontinae, familie: Ziphidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Groen paddabrommers (Lucilia bufonivora) is parasitiese vlieë in die Noordelike Halfrond wat hul eiers in die neusgate van paddas lê.  Die maaiers eet dan eers die neus en mondholte, later die oë en die brein van die padda op.

Groenwiere is die primitiefste lede van die Koninkryk Plantae of te wel die groen plante.  Groenwiere is see- en varswaterlewend en kan as enkel selle tot groot meersellige organismes voorkom.  Hulle word as die voorsate van landplante beskou.  Die voorsate van Groenwiere het sianobakterieë in hul selle opgeneem waar dit in chloroplaste a en b omskep is.

Groot Amerikaanse Uitruiling of Groot Amerikaanse Fauna Uitruiling (Great American Interchange, Great American Faunal Interchange) was ‘n belangrike paleosoögeografiese gebeurtenis wat in die Laat Kainosoïkum, vanaf ongeveer 2.7 Mjg in die Amerikas plaasgevind het.  Hierdie gebeurtenis was voorafgegaan deur die Panama landengte wat tussen Noord- en Suid-Amerika deur orogenese en ‘n daling in die seevlak ontstaan het.  Hierdie landbrug het Noord- en Suid-Amerika gekoppel en soogdiere, reptiele, loopvoëls, amfibieës, varswater visse en geleedpotiges kon tussen die twee kontinente migreer.  In baie gevalle het dit tot die uitwissing van die swakker nis-kompeteerders gelei.

Grootape of hominiede hoort aan die Familie Hominidae.  Die hominiede het agt ekstante spesies: die Sjimpansee (Pan troglodytes), Pigmiesjimpansee (Pan paniscus), Westelike gorilla Gorilla gorilla, Oostelike gorilla Gorilla beringei, Borneo orangoetang (Pongo pygmaeus), Tapanuli orangoetang (Pongo tapanuliensis), Sumatra orangoetang (Pongo abelii) en die mens (Homo sapiens).  Die hominiede sluit natuurlik al die uitgestorwe spesies, wat aan hulle naverwant is, in.  Die Homininae, wat onder die Hominidae val, sluit die mens, oermense en aapmense in.

Groot growwe bontpootbosluise (Hyalomma rufipes) is ‘n tweegasheer bosluis wat in Afrika, die Midde-Ooste, Asië en Europa voorkom.  Hierdie bosluis parasiteer dikwels voëls en knaagdiere en dien as vektor vir die virus wat Kongokoors veroorsaak, bakterieë soos Rickettsia conori wat bosluistifus en Coxiella burnetii wat Q-koors veroorsaak.

Groot grysmuishond (Herpestes ichneumon), familie: Herpestidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis en Palearktis. Inheems aan Suid-Afrika.

Grootkolmuskeljaatkat  (Genetta tigrina), subfamilie: Viverrinae, familie: Viverridae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Groototter (Aonyx capensis), familie: Mustelidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Grootrietrot (Thryonomys swinderianus), familie: Thryonomyidae, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Groter dwergskeerbek (Suncus lixus), subfamilie: Crocidurinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Groter skeerbek (Crocidura flavescens), subfamilie: Crocidurinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Grotsiekte – sien Histoplasmose.

Grysbok (Raphicerus melanotis), subfamilie: Antilopinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Grysbruin vleiskeerbek (Crocidura silacea), subfamilie: Crocidurinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Grysklimmuis (Dendromus melanotis), subfamilie: Dendromurinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Guineëwurm (Dracunculus medinensis) is ‘n rondewurm wat as larwe die skaaldiertjie Cyclops, ‘n varswaterlewende lid van die Copepoda, parasiteer.  Die larwes word in die eindgasheer se spysverteringstelsel vrygestel wanneer ‘n dier of mens die water, met die besmette Cyclops in, drink.  Die wurm bly vir ‘n jaar in die gasheer se liggaam voordat sy deur die gasheer se weefsel ondertoe tonnel om gewoonlik in die voet, ‘n gat te maak waardeur sy haar agterlyf kan uitstoot om honderde duisende jong guineëwurmlarwes te baar.  Die siektetoestand wat deur guineëwurmbesmetting veroorsaak word, word dracunculose genoem.

Gunning se kruipmol (Neamblysomus gunningi), subfamilie: Amblysominae, familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Gymniophiona – sien Rubbersalamanders.

Haar – sien Hare.

Haarfollikels is epiteelbelynde buisies wat van die oppervlakte van die vel, deur die epidermis tot diep in die onderliggende dermis indring.  Die onderste punt van die haarfollikel vorm ‘n kappie bo-oor ‘n klompie gespesialiseerde dermale selle, die dermale papillae.  Die kappie bestaan uit matrysselle wat saam met die dermale selle die bol van die haarfollikel vorm wat deur haarvaatjies van bloed voorsien word. Die haarskag word gevorm deur die vermeerdering en differensiasie van die matrysselle wat deur die holte van die haarfollikel na buite groei.

Haarpootnagmuis (Gerbillurus paeba), subfamilie: Gerbillinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Haarvate of bloedhaarvate of bloedkapillêres is die kleinste bloedvate wat uit enkellaag epiteelbuisies bestaan.  Haarvate vorm ‘n netwerk van vate tussen die kleinste are – die venules – en die kleinste slagare – die arterioles.  Gaswisseling, voedselabsorpsie en metaboliese afval absorpsie vind deur middel van haarvate plaas.

Haarworteltjies is die kleinste, dunste worteltjies van ‘n plant.  Hulle hoofdoel is die absorpsie van minerale, organiese molekules en water.

Haarwurm (Wucheria bancrofti) kom in warm, klam en tropiese gebiede in hoofsaaklik sentraal Afrika, die Nyl Delta, Suid- en Meso-Amerika, suidoos Asië, Indië en die Stille Oseaan eilande voor, waar hulle ongeveer 120 miljoen mense besmet. Volwasse haarwurms bly in die limfvatstelsel van die gasheer, veral in die onderlyf, terwyl die larwes na die bloedstroom migreer.  Bedags bly die larwes in die diep geleë are maar beweeg snags na die perifere bloedvatstelsel, waar hulle deur Culex, Anopheles en Aedes muskiete saam met die gasheer se bloed opgesuig word, en wat dit daarna na ander mense toe oordra.  Haarwurmbesmetting is die hoofoorsaak van limfatiese filariose of elefantiose.  Volwasse wurms leef ongeveer vyf jaar voor hulle afsterf en binne die limfvate en bloedvate verkalk en dit in die proses vernietig.

Habitat verwys na die abiotiese (nie-lewende) en biotiese (lewende) eienskappe van ‘n gebied wat die oorlewing van ‘n spesie verseker.  Die abiotiese of fisiese faktore van ‘n habitat kan eienskappe soos grond, water, lug, temperatuur en ligintensiteit insluit.  Biotiese faktore sal die beskikbaarheid van voedsel, teenwoordigheid van predatore, parasiete en kompeteerders insluit.

Haemaphysalis leachi – sien Geel hondebosluis.

Halfmaanvormige kanale kom in die binneoor van werweldiere voor.  Die slymprikke het een in elke binneoor, die lamreie twee en al die ander werweldiere vanaf die res van die visse tot slange tot mense het drie halfmaanvormige kanale in elke binneoor.  Die halfmaanvormige kanale is in verskillende rigings georiënteer – die voorste en agterste halfmaanvormige kanale sit vertikaal in die skedel, terwyl die horisontale halfmaanvormige kanaal, wel – horisontaal – in die skedel sit.  Die rede vir die ruimtelike oriëntasie van die halfmaanvormige kanale is om die dier in staat te stel om gravitasiekrag in drie dimensies te kan waarneem.  Met ander woorde die dier sal presies weet waar bo en onder is en hoe sy lyf (of ten minstens sy kop) binne daardie ruimte georiënteer is.  Aantrekkingskrag word deur die drukking van die endolimf teen die gevoelshaartjies aan die binnekant van die halfmaanvormige buise waargeneem. Aantrekkingskrag word deur die drukking van die endolimf teen die gevoelshaartjies aan die binnekant van die halfmaanvormige buise waargeneem.  Dit is die sintuig wat die dier ‘n sin vir balans gee.

Halfvlerkiges (Hemiptera) is ‘n insekorde wat die sonbesies, plantluise, weeluise, stinkgoggas, waterskerpioene en roofwantse insluit.  Hulle het suiende monddele waarmee die herbivoriese halfvlerkiges plantsappe opsuig en die karnivoriese en parasitiese halfvlerkiges hulle prooi se hemolimf of gashere se bloed opsuig.  Halfvlerkiges is hemimetabolies en het, in plaas van larwes soos die holometaboliese insekte, nimfe wat soos miniatuur weergawes van die volwassenes lyk.

Haller se orgaan kom op die tweede lit van die voorste bene van bosluise voor.  Hierdie mikroskopiese orgaan stel bosluise in staat om die reuk van die gasheer se sweet en koolsuurgas, hitte van die gasheer se lyf en lugbewegings, wat deur die gasheer se bewegings veroorsaak word, waar te neem.

Halters is balansstruktuurtjies wat uit ‘n steeltjie met ‘n knoppie op die punt bestaan wat as ‘n gewiggie dien.  Hierdie halters beweeg in tandem met die vlerke op en af wanneer die muskiet vlieg.  Die beweging van die halters werk soos ‘n giroskoop om die liggaam tydens vlug te stabiliseer.  Halters kom ook in ander Diptera soos vlieë, hangvlieë en muggies voor.

Hamer (malleus) is die buitenste oorbeentjie van soogdiere, wat teen die binnewand van die oordrom vasgeheg is en met die aambeeld artikuleer.  Dit was oorspronklik die artikulêre been van die agterkant van die reptielkaak, terwyl die aambeeld oorspronklik die kwadraat van die reptielskedel was.

Haploïed verwys na die toestand waar ‘n kern, ‘n sel of ‘n organisme die helfte van die getal chromosome wat normaalweg in die organisme mag voorkom besit.  Gewoonlik (in protiste, bruinalge, plante en diere) besit die individu diploïede selle, met ander woorde een stel chromosome wat dit van elke ouer verwerf het.  Die diploïede toestand word deur middel van meiose gehalveer om haploïede sperm en eierselle te vorm.  Wanneer die haploïede sperm en eiersel versmelt word die diploïede sigoot (bevrugte eier) gevorm wat dan in ‘n diploïede individu ontwikkel.  Daar is egter ‘n hele reeks poïedieë soos monoploïed, triploploïed, tetraploïed, miksoploïed ens.  Haploïed en diploïed is bloot die mees algemene toestande.

Haramiyida was ‘n groep gevorderde mammaliaforme kuonodontiërs of oersoogdiere wat in die Trias Periode verskyn het en skynbaar tot in die Kryt Periode voorgekom het.  Hulle tande lyk baie soos dié van die multituberkulate en daar is ‘n groef in die dentale been waarin die oorbeentjies gesetel was, maar hul skedels blyk meer primitief as die van Morganucodon, die oersoogdier wat oorsprong aan die hedendaagse soogdiere gegee het, te gewees het.Harde bosluise (familie Ixodidae) word aan die verdikte skild of skutum agter die gnathosoma wat vorentoe soos ‘n bek uitsteek, gekenmerk.

Hare bestaan uit proteïenfilamente wat uit haarfollikels in die dermislaag van die vel groei.  Hare is een van die unieke kenmerke van soogdiere, maar daar is talle aanduidings dat hul voorsate, die therokefaliërs en kuonodontiërs reeds hare gehad het.  Hare het verskeie funksies – insulasie (veral in klein soogdiere wat maklik hitte kan verloor), kamoeflering en die tasssintuig van die vel.  Dit is waarskynlik dat hare oorspronklik as deel van die tassintuig van die vel ontstaan het want elke haar – van snorbaarde, die hare wat jou neusgate, ooropeninge belyn en die wimpers wat jou oë omring, tot die kleinste haartjie op jou lyf, met senuwees voorsien is.  Jy sal veel eerder ‘n vlooi oor jou voorkop voel loop as oor jou vingerpunt.  Hare was van die begin af aangewend om die soogdier inligting oor hul omgewing te gee en was later, in die vorm van pelse, vir insulasie aangewend.

Harosa is ‘n takson onder die Koninkryk Chromista. Voorheen was die lede van hierdie koninkryk onder ander groepe ingedeel – bruinwiere was as ‘n onderafdeling van die planteryk (Koningkryk Plantae) beskou, waterskimmels was as onderafdeling van die Koninkryk Fungi beskou, en die dinoflagellate en Apicomplexa was as lede van die Koninkryk Protista beskou.  Harosa bevat die taksa Stamenopila, Rhizaria en Alveolata.  Die naam Harosa is van die eerste letters van die name, van die groepe wat daaronder val, afgelei: Heterokonta, Alveolata, en Rhizaria +‎ -osa.  Talle Harosa spesies is parasiete, waarvan sommige van die mees gevreeste siektes en peste op Aarde veroorsaak.  Harosa sluit ‘n wye verskeidenheid eensellige en meersellige organismes in wat met behulp van chemo-organotrofie of heterotrofie, foto-outotrofie (fotosintese) en miksotrofie voed.  Fotosintetiserende lede van hierdie groep word dikwels alge of wiere genoem, terwyl die eensellige heterotrofiese lede protozoa genoem word. Die fotosintetiserende lede van die groep en hul nie-fotosintetisenrende plastied-bevattende verwante, bevat chloroplaste wat hulle van die rooialge deur fagositose en gevolglike endosimbiose in die sel opgeneem het.

Hartwurms (Dirofilaria immitis) is klein, smal, filariese rondewurms wat deur muskiete soos Culex, Anopheles en Aedes versprei word.  Hartwurm kom veral in honde, wolwe, jakkalse, coyotes, vosse, wesels, bere, robbe, seeleeus en katte voor.  In rare gevalle kom dit ook in mense voor.  Volwasse hartwurms leef in die longslagare en die hart.  Erge gevalle van besmetting kan tot die dood van die gasheer lei.  Die eerste- tot derdelarwes ontwikkel in die muskiet wat dan ‘n gasheer byt en die larwes onder die vel saam met speeksel inspuit.  Na ‘n week of twee vervel die hartwurmlarwes en verskyn as vierdelarwes wat na die spiere van die bors en buik migreer.  Ongeveer 45 tot 60 dae na infeksie vervel hulle weer om aan vyfdelarwes oorsprong te gee, en na 75 tot 120 dae na infeksie, beweeg hierdie larwes deur die bloedstroom tot in die longslagaar van die gasheer.  Die hartwurmlarwes groei vinnig oor die volgende drie tot vier maande en die wyfies word tot 30 cm lank en die mannetjies 23 cm lank.  ‘n Hartwurm kan tussen 5 en 7 jaar in ‘n hond oorleef.  Eerstelarwes – die mikrofilaria kan vir so lank as 2 jaar in die bloedstroom van diere leef waarvandaan hulle dan deur muskiete opgesuig word.

Haverse kanale is mikroskopiese buisies wat in kortikale been voorkom. Elke Haverse kanaal bevat een of twee bloedhaarvate en talle senuweevesels wat die osteosiete, wat in konsentriese sillindervormig lae of lamellae, rondom die Haverse kanale gerangskik is, van bloed en senuwees voorsien.  Minerale word tussen die osteosiete en bloedvate vervoer.

Heaviside se dolfyn (Cephalorhynchus heavisidii), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Hector se snoetwalvis (Mesoplodon hectori), subfamilie: Hyperoodontinae, familie: Ziphidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea.  Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Heksakantembrio (sommige bronne verwys nog steeds na hierdie lewenstadium as die onkosfeer) is die lewenstadium van die lintwurm wat die tussengasheer se weefsels binnedring.  Die heksakantembrio verskyn nadat die beskermende lae van die onkosfeer, deur die verteringsensieme in die tussengasheer se spysverteringskanaal, weggestroop is.  Die heksakantembrio heg aan die dermwand van die tussengasheer met sy ses hake vas en dring deur die dermwand met verteringsensieme tot binne die tussengasheer se bloedvatstelsel of limfvatstelsel waarna dit deur die are, hart, longe en lewer tot na bykans elke deel van die tussengasheer se liggaam vervoer word.  Meeste heksakantembrios word deur die lewer uitgefilter waar hulle dan verder kan oorleef, maar ander dring tot in die brein, oë, hart, longe, milt, spierweefsel of ander organe en weefsels in.

Heksapoda – is ‘n Subfilum onder die Filum Arthropoda wat al die insekte plus ‘n groep primitiewe, vluglose geleedpotiges met ses bene insluit.  Hierdie vluglose geleedpotiges is die Collembola (springsterte), Protura (keëlkoppe), Diplura (dubbelstert borselsterte), Archaeognatha (springende borselsterte) en Zygentoma (vismotte).  Hulle was oorspronklik as die Subklas Apterygota onder die Klas Insecta geklassifiseer, terwyl die insekte met vlerke (insluitende dié wat sekondêr hulle vlerke verloor het) onder die Subklas Pterygota geresorteer het.  Dit het onlangs verander en slegs die Pterygota word deesdae as die Klas Insecta beskou.

Helispiraal verwys na skulpe wat helispiraal na links of regs opgerol is.  Dit is tipies van die skulpe van buikpotiges.

Hematuria bedoel bloed in die uriene.

Hemimetaboliese ontwikkeling is die tipe ontwikkeling wat onder andere in die insekordes Hemiptera, Orthoptera (sprinkane en krieke), Mantodea (hottentotsgotte), Blattodea (kakkerlakke en termiete), Dermaptera (oorkruipers), Phasmatodea (stokgoggas), Odonata (naaldekokers en waterjuffers) en Ephemeroptera (eendagsvlieë) voorkom.  Hemimetaboliese insekte het nie larwale stadiums soos die holometaboliese insekte nie.

Hemoglobien is die bloedpigment wat in werweldiere maar ook sekere weekdiere soos die lede van die Planorbidae voorkom.  Hemoglobien bevat yster wat met suurstof verbind en so deur die liggaam te versprei en wat met koolsuurgas verbind om so dit uit die liggaam te verwyder.  Hierdie funksie word met behulp van die gaswisselingsorgane – kiewe of longe – of selfs die vel in sekere diere – uitgevoer.

Hemolimf is ‘n vloeistof, wat in diere met oop bloedvatstelsels soos geleedpotiges en molluske voorkom, wat ‘n soortgelyke rol as bloed in werweldiere speel.  Hemolimf word deur die hart deur die oop bloedvatstelsel van geleedpotiges deur die weefsel gepomp.  Hemolimf bestaan uit mineraalryke plasma waarin hemosiete gesuspendeer word.  Daar kom nie rooibloedselle in hemolimf voor nie, want die bloedvatstelsel van geleedpotiges is nie betrokke by respirasie nie.  Hemosiete is soortgelyk aan die witbloedselle van werweldiere en speel ‘n belangrike rol in die immuunstelsel van geleedpotiges.  Die hemolimf word vir die vervoer van voedingstowwe en metaboliese afvalstowwe aangewend.

Hemolitiese anemia is ‘n siektetoestand waartydens rooibloedliggaampies vinniger vernietig word as wat dit vervaardig word.  Dit lei tot bloedarmoede.

Hemoseel is die oop bloedvatstelsel wat in alle weekdiere buiten die koppotiges voorkom waar dit geslote is.  Die hemoseel omgewe die interne organe en baai dit in suurstofryke bloed.  Die hemoseel dien ook as ‘n hidrostatiese skelet.  Die hemoseel van weekdiere ontstaan vanuit die seloom.

Hemosianien is die bloedpigment wat in ongwerweldes soos meeste weekdiere en sekere skaaldiere voorkom.  Hemosianien bevat koper wat met suurstof verbind en so deur die liggaam te versprei en wat met koolsuurgas verbind om so dit uit die liggaam te verwyder.  Hierdie funksie word met behulp van die gaswisselingsorgane – kiewe of longe – of selfs die vel in sekere diere – uitgevoer.

Hemosiete kom in die oop bloedvatstelsel van weekdiere voor.  Daar is verskillende tipes hemosiete.  Hemosiete speel ‘n rol in wondherstel, skulpherste, voedselvertering en -vervoer, uitskeiding en immuniteit.

Hepatitis B is een van vyf hepatitis virusse wat die lewer aantas.  Simptome kan braking, geel vel, moegheid, donker uriene en buikpyn insluit.  Meeste mense wat kort na geboorte besmet word ontwikkel chroniese hepatitis terwyl 10% van die mense wat na 5 jaar daarmee besmet word chroniese hepatitis ontwikkel.  Ongeveer 25% van chroniese hepatitis-lyers ontwikkel sirrose van die lewer en lewerkanker.  Die virus word deur middel van besmette liggaamsvloeistowwe oorgedra.

Hepatosoönose is ‘n siekte wat deur die protosoïese parasiet Hepatozoon veroorsaak word.  Hierdie eensellige parasiete voed op rooibloedselle en kom in talle amfibieës, reptiele, voëls en soogdiere voor.  Dit kom egter ook in bloeddrinkende geleedpotiges (gewoonlik bosluise) voor wat beide as gashere en vektore vir hierdie parasiet optree.  Nadat die bosluis deur die werweldier gevreet word, beweeg die parasiet eers na die lewer, en dan na die bloedstroom van die werweldieri.  Die parasiet besmet dan bloeddrinkende geleedpotiges (gewoonlik bosluise) wat dan later weer deur werweldiere gevreet word.  Uiteraard besmet Hepatozoon nie mense nie want mense eet nie rou bosluise nie.

Herbesmetting is wanneer ‘n persoon wat van ‘n virus of parasitiese besmetting genees het, weer dieselfde siekte opdoen.

Herbivories – sien Plantvretend.

Hermafrodiet – sien Tweeslagtig.

Hertluisvlieë is lede van die familie Hypoboscidae van die orde Diptera.  Hulle kom in die Noordelike Halfrond voor.  Sekere hertluisvliegspesies is gevleuel, terwyl sommige ongevleueld is.  Hertluisvlieë parasiteer soogdiere en voëls.  Net soos met die ander lede van die Hypoboscidae, vind die ontwikkeling van ‘n enkele groot larwe binne die moedervlieg voor.  Die maaier gaan deur al drie van vervellingsstadiums binne die uterus van die moedervlieg, terwyl sy die larwe met behulp van melkkliere in die uterus voed.  Die larwe wat gebore word vorm ‘n papie.  Hertluisvlieë voed op die bloed van soogdiere en voëls en is ‘n vektor van Rickettsia, Borrelia en Bartonella bakterieë.

Heterobranchia (“anderster kiewe”) is ‘n weekdiertakson wat seelewende, varswaterlewende en landlewende slakke en naakslakke insluit.  Die heterobrange word in die primitiewe heterobrange (voorheen bekend as die Prosobranchia) wat meestal twee kiewe het, Opisthobranchia wat een kief het en Pulmonata wat een long het, verdeel.  Die kiewe van die buikpoot-voorouer was agter in die liggaam geleë soos dié van die kewerslakke en soos wat mens dit nog steeds in die vroeë ontwikkelingstadiums van die buikpotiges kan sien.  Torsie veroorsaak dat interne organe 180° draai en dat die kiewe voor in die liggaam opeindig.

Heterobrange – sien: Heterobranchia.

Heteroconchia is ‘n tweekleppige sublklas wat talle uitgestorwe ordes en families bevat.  Van die ekstante ordes wat aan die Heteroconchia behoort is kokkels (orde Carditada), gieterskulpe (orde Pholadomyida), skeepswurms en swaannekmossels (orde Myida), chemosintetiese mossels (orde Lucinida), venusmossels (orde Venerida).

Heterodont verwys na ‘n gebit wat in tande van verskillende vorms vir verskillende funksies verdeel is.  Daar is byvoorbeeld in talle soogdiere snytande, slagtande voormaaltande en maaltande.

Heterokariose vind plaas wanneer twee hifes van verskillende stamme van dieselfde spesie saamsmelt of anastomeer en kerne van die verskillende stamme (met + en – aangedui) saam in dieselfde sel voorkom.  Hierdie kerne kan later saamsmelt om ‘n diploïede kern te vorm.

Heterokonta of Stamenopiles is ‘n Infrakoninkryk wat onder die Koninkryk Chromista resorteer.  Die naam is van die twee verskillende flagella wat hulle selle besit afgelei.  Die reuse bruinwiere, diatome, Aartappelroes en Waterskimmel is lede van die Heterokonta.

Heteroserkale stert kom in meeste kraakbeenvisse (Chondrichthyes) voor, en veral in die Elasmobranchii.  Dit is wanneer die boonste deel van die stertvin groter as die onderste deel is en verder na agter uitsteek.

Heterothallies verwys na spesies waar geslagtelike voortplanting net tussen individue van verskillende stamme kan plaasvind.  Die hifes en kerne van twee hierdie twee verskillende individue of stamme word in die afwesigheid van geslagte as (+) en (-) aangedui.

Heterotrofie verwys na die behoefte van een organisme om op ander organismes of hulle produkte te voed.  Sien ook Chemo-organotrofiese voeders.

Heterotrowe is organismes wat op ander organismes of hul produkte voed.  Dit sluit hoofsaaklik diere en swamme in.  Parasitiese plante toon soos insekvretende plante aspekte van heterotrofie, veral as hulle nog kan fotosintetiseer.  Sekere plante het egter heeltemal hul vermoë om te fotosintetiseer verloor en is heeltemal afhanklik van hul voedingstowwe van ander plante en kan dus ook as heterotrowe geklassifiseer word.

Heuningdou is ‘n suikerryke vloeistof wat deur sekere ruspes en halfvlerkige insekte soos plantluise en dopluise afgeskei word wanneer hulle op plantsap voed.  Wanneer hierdie insekte se suigslurpe die floeëmlaag van ‘n plant binnedring, vloei plantsap vanuit die floeëm onder hoë druk deur die spysverteringskanaal van die insek deur die anus na buite.  Plantsap sal dikwels uit die gate, wat die suigslurpe van hierdie halfvlerkige insekte soos sonbesies en stinkgoggas in die floeëm gemaak het, bly uitvloei nadat die insek aanbeweeg het.  Heuningdou word dikwels deur insekte soos miere, perdebye, bye en muskiete as voedsel gebruik.

Heuningpaddastoel (Armillaria gallica) is lid van die Basidiomycota.  Een van hulle is, sovêr bekend, die grootste organisme op aarde.  Hierdie organisme wat in die Malheur National Forest in Oregon voorkom, se miselium beslaan ‘n gebied van meer as 15 hektaar en word net al hoe groter jaar na jaar.  Hierdie heuningpaddastoel het moontlik ‘n gewig van 10 000 kg en sy ouderdom word op 1 500 jaar beraam.

Hewitt se rooi klipkonyn (Pronolagus saundersiae), familie: Leporidae, orde: Lagomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Hibernering – sien Winterslaap.

Hidroskelet verwys na die verskynsel waar die liggaam van ‘n ongewerwelde dier verstewig word deur die drukking, wat deur die saamtrekking van die spiere van die liggaamswand, rondom die vloeistofgevulde ligaamsholte, uitgevoer word.  Die samewerking tussen hierdie twee stelsels veroorsaak dat die liggaam van die dier ferm maar buigbaar is en dat dit met spierbewegings, deur weefsel of die substraat kan dring.

Hidrotermale bron of uitlaat is ‘n opening op die seevloer waaruit verhitte, mineraalryke water stroom.  Die hitte en minerale dien as energiebron vir bakterieë wat in dik tapyte rondom hierdie bronne voorkom, wat om die beurt as kos vir ‘n verskeidenheid organismes dien.  Minerale slaan dikwels rondom hierdie bronne neer weens die kontak met die baie koue water op die seevloer wat veroorsak dat ‘n pyp uit minerale rondom die hidrotermale bron vorm.

Hifebolle bestaan uit miseliums, ontsteekte selle, fibrien, mukus en afgebreekte selle.  Aspergillus fumigatus is die swam wat vir meeste hifebolle in mense en diere verantwoordelik is.  Hifebolle vorm binne liggaamsholtes soos sinusholtes of in longe.

Hifes of swamdrade is lang vertakkende en anastomerende buisies wat in swamme, waterskimmels en actinobakterieë voorkom.  In die Laer Fungi het die hifes geen of min septums of dwarswande terwyl die hifes van die Hoër Fungi septums besit.  Dikwels het hierdie septums gate in wat die selmateriaal toelaat om tussen selle te beweeg.  Digte versamelings van hifes vorm die miselium of swamvlok van ‘n swam.  Vegetatiewe groei van swamme vind hoofsaaklik deur die uitbreiding van die miselium plaas.

Hildebrandt se saalneusvlermuis (Rhinolophus hildebrandti), subfamilie: Rhinolophinae, familie: Rhinolophidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Hiper-parasitisme is die verskynsel waar ‘n parasiet ‘n parasiet parasiteer – soos die malaria muskiet Anopheles wat deur Plasmodium protiste, Tsetsevlieë wat deur Trypanosoma protiste en Vlooie wat deur Rickettsia bakterieë geparasiteer word.  Daar is egter gevalle waar parasiete, parasiete, parasiete parasiteer – soos die klein wit skoenlapper Pieris rapae se ruspes, wat plantparasiete is, wat deur die larwes van die wespes Cotesia glomerata en C. rubecula geparasiteer word, wat om die beurt deur die wespes Lysibia nana en Gelis agilis geparasiteer word.

Hipodermis is die deel van die vel onder die dermis (sien Vel).

Hipofarinks in insekte help met die sluk van kos.  Dit is ‘n tongagtige stuktuur in die vloer van die mond, wat tussen die mandibels en maksillas geleë is.  In sommige insekte is dit membraanagtig en met die speekselkliere geassosieer.

Hipostoom is die wigvormige monddeel wat in bosluise voorkom wat tussen die  kloukake ingedruk word om die kloukake uit te sprei en binne die gasheer se vel vas te anker.

Hipotese is die voorgestelde verduideliking van ‘n verskynsel.  In wetenskap moet ‘n hipotese wetenskaplik getoets kan word.  Hipotese is dus nie sinoniem aan spesmaas, agterdog, vermoede of wilde veronderstellings nie.  Wanneer ‘n hipotese deur toetsing as wetenskaplik korrek bewys word, word dit as ‘n wetenskaplike teorie voorgelê.  Die begrip teorie in wetenskap bedoel dus ook nie spesmaas, agterdog, vermoede of wilde veronderstellings nie, maar die mees rasionele, feit-deurgronde verduideliking wat tot op daardie stadium tot ons beskikking is om ‘n wetenskaplike verskynsel te verklaar.  Teorie in die nie-wetenskaplike wêreld kan enigiets beteken.

Hipothalamus kom onder die werweldierbrein voor en is ‘n uitstulpsel van die limbiese stelsel wat aan die pituïtêre klier gekoppel is.  Die hipothalamus beheer sekere metaboliese prosesse van die liggaam en aktiwiteite van die outonome senuweestelsel.  Dit vervaardig en skei sekere neurohormone uit wat om die beurt die vervaardiging van hormone in die pituïtêre klier beheer.  Die hipothalamus beheer liggaamstemperatuur, honger, dors, slaap, moegheid, ouerskapinstink en sirkadiese ritmes.

Hipovolemiese skok is wanneer die verlies van bloed en vloeistowwe in ‘n siek persoon, dit onmoontlik maak om genoeg bloed deur die hart na die res van die liggaam te pomp en tot orgaanversaking kan lei.

Hippoboscoidea is ‘n superfamilie onder die subseksie Calyptratae van die seksie Schizophora van die orde Diptera  Die vlieë in hierdie superfamilie is verpligte bloedsuiende parasiete en sluit die tsetsevlieë (familie Glossinidae), hertluisvlieë (familie Hypoboscidae) van die Noordelike Halfrond en die twee vlermuisvliegfamilies (families Nycteribiidae en Streblidae) in.  Lede van die Hippoboscoidea lê nie eiers soos ander insekte nie, maar is eierlewendbarend en gee geboorte aan ‘n enkele massiewe maaier wat die moederinsek binne haar uterus met melk voed.  Die volgroeide maaier, wat gewoonlik groter as die moedervlieg is, grawe na geboorte dadelik in die grond in waar dit pupeer.

Hippokrates van die Eiland Kos (460 – 370 vC) was ‘n Griekse dokter tydens die Klassieke Periode.  Hy was die grondlegger van moderne medisyne en is bekend vir die Hippokratiese Eed, wat nog steeds die fondasie van mediese etiek vorm.  Hy het met die prognose en kliniese observasie van pasiënte en die sistematiese kategorisering van siektes begin.

Histamien is ‘n organiese molekule wat deur die liggaam vervaardig word en deur witbloedselle (basofiele en masselle) in die bloedstroom vrygestel word wanneer die immuunstelsel die liggaam teen ‘n potensiële allergeen soos sluifmeel of bygif, moet beskerm.  Die vrystelling van histamiene kan ‘n allergiese reaksie veroorsaak wanneer die liggaam aan potensiële allergene soos stuifmeel, swamme en sekere kosse blootgestel word.

Histoplasma capsulatum – sien Histoplasmose.

Histoplasmose of grotsiekte word deur die sakswam (afdeling Ascomycota) Histoplasma capsulatum veroorsaak.  Die spore van H. capsulatum, wat as bruin hifes in klam misbesmette grond voorkom, kan deur mense ingeasem word, en in hul longe en neusholtes ontkiem of selfs op die horingvlies van hul oë ontkiem.  Hoender- en duifboere en grotkruipers is veral blootgestel aan grotsiekte.

HIV – sien MIV.

Hoër Fungi (Higher Fungi) of Dikarya bestaan uit die Sakswamme (Ascomycota) en die Paddastoele (Basidiomycota).  Laer Fungi se hifes is ongesepteerd terwyl Hoër Fungi se hifes deur septums onderverdeel word.  Septums kom minder reëlmatig in die hifes van die Sakswamme (Ascomycota) voor terwyl die kerne van die Paddastoele (Basidiomycota) deur septums geskei word.  Dubbelkerne kom in sekere dele of sekere stadiums in die ontwikkeling van Hoër Fungi voor (sien Dikarya).

Hoëveldse kruipmol (Amblysomus septentrionalis), Amblysominae, familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems Suid-Afrika en Eswatini.

Hoëveldse nagmuis (Tatera brantsii), subfamilie: Gerbillinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Holocephali – die rotvisse of kimeras – is ‘n subklas kraakbeenvisse onder die klas Chondrichthyes.  Hulle verskyn in die Devoon Periode.  Die enigste ekstante groep is die rotvisse of kimeras van die orde Chimaeriformes.  Die rotvisse het groot pektorale vinne waarmee hulle swem en het lang, dun sterte – wat die rede vir hul naam is.  Rotvisse bly in die diepsee en voed op bentiese organismes wat in en op die seevloer leef.  Rotvisse het nie ‘n maag nie en die kos beweeg direk van die slukderm in die dermkanaal in.  Alhoewel meeste van die skelet as kraakbeenelemente voorkom, het hulle nie rugwerwels nie maar behou die voorouerlike notokoord.  Hulle monde is klein en met lippe toegerus.  Die stekel op die rug is in sekere spesies giftig.

Holoseen Epog (11 650 jaar gelede tot vandag).  Dit is die tydperk na die laaste ystydperk.  Die Holoseen en die voorafgaande Pleistoseen vorm saam die Kwartêre Periode.  Die Holoseen word gekenmerk aan die vinnige aanwas en verspreiding van mense wêreldwyd met die gepaardgaande uitbreiding van jag, boerdery en industriële ontwikkeling.  Industriële ontwikkeling, mynbou, bosbou, landbou en visserye het tot die uitwissing van tallose spesies en talle habitatte wêreldwyd veroorsaak.

Holtediere of neteldiere verwys na die lede van die Filum Cnidaria.  Hierdie diere is van die mees primitiewe diere naas diere soos sponse.  Holtediere hoort aan die Filum Cnidaria.  Hierdie groep sluit hidras, kwalle en seeanemone in.  Van die 11 000 spesies bekend is meeste seelewend maar daar is ook spesies wat in varswater voorkom en dan die Myxozoa wat parasities is.  Die Myxozoa is van die kleinste diere bekend omdat van hulle tipies maar 10-300μm lank word.  Daar is meer as 2 000 spesies Myxozoa bekend, maar daar word vermoed dat daar dalk soveel as 30 000 spesies mag wees.  Die name Cnidaria en neteldiere is afgelei van die feit dat hulle netelselle of knidosiste in die buitenste sellaag het.  Neteldiere is naas sponse die mees primitiewe diere op Aarde en van die eerste diere wat ontstaan het.  Hulle is radiaal simmetries, besit ‘n sakvormige spysverteringskanaal wat net ‘n mond het, terwyl geen anus voorkom nie.  Die netelselle kom in die vel van hul tentakels voor wat hulle met behulp van die gif daarin, vir beskerming of vir die dood of verlamming van hul prooi gebruik.

Holometaboliese ontwikkeling verwys na die tipe ontwikkeling wat in insekte wat aan die Endopterygota of Holometabola hoort, voorkom.  Die orde Coleoptera (kewers), Diptera (vlieë), Hymenoptera (bye, perdebye en miere) en Siphonaptera (vlooie) is bekende voorbeelde van die Endopterygota.  Hierdie insekte ontwikkel vanaf ‘n eier waaruit ‘n larwe uitbroei.  Die larwe, wat verskeie stadiums van ontwikkeling deurgaan, vorm ‘n papie wanneer dit volgroei is.  ‘n Volwassene of imago ontpop uit die papie.  Die larwe lyk glad nie soos die volwassene nie.  Voorbeelde hiervan is ruspes en vlinders of maaiers en vlieë.  Die volwasse insek het meestal vlerke, terwyl die larwe van hierdie diere soos ‘n wurm lyk – vandaar die woord sywurm.

Hominien verwys na enige lid (aapmense, oermense of moderne mense) wat gespruit het vanuit die gemeenskaplike voorouer wat ons met die genus Pan (chimpansees en bonobos) deel.

Homodont verwys na diere wie se tanda almal dieselfde lyk soos dié van dolfyne of reptiele.  Met ander woorde die tande is nie opgedeel in snytande, slagtande en maaltande soos dié van die meeste soogdiere nie (sien Heterodont).

Homo erectus was ‘n groep oermense wat tydens die Pleistoseen ongeveer 2 miljoen jaar gelede in Afrika verskyn het en ongeveer 1.5 miljoen jaar gelede na Eurasië versprei het.  Hulle was die hominienspesies wat naas H. sapiens die wydste verspreiding gehad het.  Die laaste populasie H. erectus het tot ongeveer 117 000 – 108 000 jaar gelede in Java in Suidoos Asië voorgekom.  Sommige paleoantropoloë verkies om die fossiele van hierdie groep in twee spesies op te deel en dié van Afrika Homo ergaster te noem terwyl hulle dié van Eurasië Homo erectus noem.  Homo erectus fossiele word met die Acheuliese Steenwerktuigindustrie en die gebruik van vuur verbind.  H. erectus die waarskynlikste voorsaat van H. antecessor en H. floresiensis. 

Homo habilis is ‘n oermensspesie wat ongeveer 2.1 tot 1.5 miljoen jaar gelede tydens die Vroeë Pleistoseen in Oos-Afrika voorgekom het.  Hulle word met die Oldowan Steenwerktuigindustrie verbind wat na die Olduvai Ravyn in Tanzanië vernoem is.  Talle H. habilis fossiele is deur Mary en Louis Leakey in die Oldovai Ravyn ontdek en was deur Phillip Tobias beskryf en vernoem.  Daar heers ‘n debat onder paleoantropoloë of Homo habilis van Australopithecus africanus of A. afarensis gestam het.  Sommige paleoantropoloë is van mening dat H. habilis die voorsaat van H. erectus / H. ergaster was.  Alhoewel H. habilis ouer as H. ergaster is, was hulle, ook saam met Paranthropus robustus, vir ‘n tyd lank tydgenote en word hulle fossiele in lae van dieselfde ouderdom gevind.

Homokarioties of monokarioties verwys na ‘n organisme of struktuur waar al die kerne geneties identies is.

Homoloë eienskappe is kenmerke wat twee organismes van ‘n gemeenskaplike voorouer verwerf het en al verskil die kenmerke nou weens aanpassings by verskillende omstandighede, wys die dieper struktuur van die kenmerk, of die embriologiese ontwikkeling van die kenmerk, ooreenkomste met die struktuur wat in die voorsaat vergekom het.  Homoloë kenmerke geniet prioriteit wanneer dit by klassifkasie kom.  Voorbeelde hiervan is die vlerk van ‘n vlermuis, die vin van ‘n dolfyn en die arm van ‘n mens wat dieselfde skeletelemente bevat. In elk van hierdie voorbeelde kan mens selfs nog die skeletelemente, spiere, senuwees en selfs die vyf vingers, wat van die oorspronkike voorouer oorgeërf is, sien, alhoewel die struktuur vir heeltemal verskillende funksies gebruik word en dus in vorm verskil.  ‘n Seekat se arms en insek se pote en ‘n wereldier se aanhangels het daarenteen uit verskillende voorouerlike strukture ontstaan maar het dieselfde funksie naamlik voortbeweging – dit is ‘n voorbeeld van analoë eienskappe.

Homo sapiens is die spesie waaraan die anatomies moderne mens behoort.  H. sapiens is die enigste oorlewende hominienspesies.  Die eerste anatomies moderne mense het ongeveer 300 000 gelede in Afrika onstaan.  Ons mees waarskynlike voorouer is Homo heidelbergensis waarvan fossiele in Europa en Afrika (insluitend Suid-Afrika) gevind is.  Ander paleoantropoloë dink dat Homo antecessor die waarskynlike voorouer van die H. sapiens mag wees.  H. sapiens is die enigste hominien wat ‘n kosmopolitiese verspreiding het.

Homothallies verwys na spesies waarin beide geslagte in dieselfde individu voorkom.  In swamme verwys dit na die vermoë van ‘n swam om sonder ‘n ander individu geslagtelik voort te plant.  Dit vind plaas wanneer twee haploïede kerne van twee selle van dieselfde individu met mekaar kan versmelt om ‘n diploïede kern te vorm.

Hondehokbosluise (Rhipicephalus sanguineus) word wêreldwyd aangetref, maar kom meer dikwels in warmer streke voor.  Hierdie monotropiese driegasheer bosluis verskil van ander, omdat hulle hul hele lewenskilus binneshuis kan voltooi.  Honger volwassenes is slegs tussen 2.3 en 3.2 mm lank.  Die hondehokbosluis is een van die belangrikste vektore van hondesiektes in die wêreld.  Alhoewel hulle verskeie gashere kan parasiteer, verkies hondehokbosluise honde.  Die hondehokbosluis kan as vektor vir Richettsia conori wat Mediterreense vlekkoors veroorsaak, Rickettsia richettsii wat Rocky Mountain-koors veroorsaak, Barbesia canis wat honde-babesiose veroorsaak en Ehrlichi canis wat hond-ehrlichiose veroorsaak, optree.

Hondlintwurms (Dipylidium caninum) wat ook die vlooilintwurm genoem word, kom wêreldwyd as endoparasiete in veral honde, tot ‘n mindere mate in katte en soms in mense voor.  Die volwassene word ongeveer 46 cm lank.  Die ryp segmente of proglottiede word uitgemis waar vlooilarwes en luise van die eiers kan insluk.  Die lintwurmeiers broei binne die insekte uit waar hulle in sistiserkoïede larwes ontwikkel.  Hierdie larwes besmet die soogdiergasheer wanneer die besmette luise of vlooie ingesluk word, wanneer die dier die irriterende insekte byt.  Die lintwurm ontwikkel tot volwassenes in die soogdier se dermkanaal.

Hondspoelwurm (Toxocara canis) kom wêreldwyd onder honde en hondagtiges voor.  Mense kan per abuis ook deur hierdie parasitiese rondewurm aangesteek word as hulle die eiers insluk.  Die eiers wat met die hond se mis uitgeskei word, plak dikwels aan die pote van vlieë vas, wat dit na kos kan oordra en so mens kan besmet.

Hondvlooie (Ctenocephalides canis) is ektoparasiete op honde en katte.  Hulle sal soms mense byt, maar wyfievlooie moet hond- of katbloed inneem om hulle eiers te kan vorm.

Hooggety is die gemiddelde hoogste punt wat die seewatervlak twee keer per dag, elke dag buiten springety of dooigety, langs die kus opstoot.  Die styging van seewater is te danke aan die aantrekkingskrag van die maan, en tot ‘n mindere mate die son.  Die styging in die watervlak vind op die punt naaste aan die maan plaas, maar ‘n soortgelyke styging in watervlak vind terselfdertyd ook aan die ander kant van die Aarde plaas.  Hierdie twee hoogtes in seevlak roteer saam met die beweging van die maan regom die Aarde.  Dit is hoekom mens hooggety gewoonlik twee keer per dag ervaar (sien – Laaggety, Dooigety en Springgety).

Hoogwater – sien Hooggety.

Hooikoors is die allergiese reaksie op stuifmeel, wat veral die neusholte, die keel en lugweë, maar ook die binnekant van die mond en die oë kan aantas.  Die slymvliese in hierdie dele raak ontsteek, opgeswel en vervaardig oormatige hoeveelheid histamiene en mukus.

Horingvlies of kornea is die buitenste laag wat die voorste deel van die oog (iris, pupil en voorste kamer van die oog) bedek.  Die horingvlies bestaan uit dun, deursigtige epiteel en endoteelselle en kollageenvesels.  Die horingvlies speel ‘n belangrike rol in refraksie van lig of ligbreking vir sig.

Hormone is seinmolekules wat in meersellige organismes, soos plante, diere en fungi, voorkom wat verantwoordelik is vir die chemiese kommunikasie om die fisiologiese werking van weefsels en organe oor ‘n afstand te koördineer.  In werweldiere, weekdiere, geleedpotiges en gesegmenteerde wurms word hormone meestal deur die bloedvatstelsel vervoer, en in plante word dit deur die vaatstelsel vervoer.  Hormone word in verskeie dele van die liggaam soos die endokriene stelsel, testes, ovaria en die wand van die dermkanaal vervaardig.  Hormone in diere is verantwoordelik vir die beheer van metabolisme, spysvertering, respirasie, sintuig-funksie, slaap, ekskresie, sekresie, groei, ontwikkeling, beweging, voortplanting en gedrag.

Horsels is vlieë wat aan een van die spesies onder die familie Oestridae hoort.  Aangesien hierdie vlieg nie in Suid-Afrika voorkom nie, het ek die naam van die Nederlands horzel afgelei.  In Engels staan dit as bot fly bekend.  Horsels is ‘n pes onder verskeie dierspesies in die Noordelike Halfrond.  Die mens is die voorkeur-gasheer van Dermatobia hominis.

Hottentotkruipmol (Amblysomus hottentotus), subfamilie: Amblysominae, familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika, Mosambiek en Eswatini.

Huismuis (Mus musculus), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Ingevoer.

Huismuskiete (Culex pipiens) is van die muskiete wat algemeen regoor die wêreld in tropiese en subtropiese gebiede voorkom.  Huismuskiete verkies menslike bloed, maar kan ook ander werweldiere soos voëls en ander soogdiere aanval.  Hulle is gewoonlik 3-7 mm lank, donkergrys en hou die liggaam parallel met die oppervlakte wanneer hulle in ‘n rustende posisie sit.

Huisrot (Rattus rattus) familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Ingevoer.

Huisstof bestaan uit verkrummellende insekte, vesels van klere, matte, gordyne en beddegoed, kos-krummeltjies, plastiekstukkies, stof wat van buite deur mense en diere ingetrap word of deur die vensters en deure inwaai, rookpartikels, swamme en mens- en diervelvlokkies.

Humus is die Latynse woord vir kompos (sien – Kompos).

Huttampans (Ornithodoros moubata) is sagte bosluise wat in Afrika voorkom.  Die huttampan het ‘n leeragtige vel wat plooie op die boonste oppervlakte het en het nie oë nie.  Die huttampan is ‘n vektor vir die hepatitis B virus en varkpesvirus en bakterieë soos Borrelia dutonni wat epidemiese weerkerende koors veroorsaak en Coxiella burneti wat Q-koors veroorsaak.  Die volwasse wyfie is ongeveer 10 mm lank en die volwasse mannetjie is ongeveer 8 mm lank.  Huttampans verkies mense as gashere, maar teiken ook hoenders en varke.  Huttampans sal elke keer na hulle op die gasheer se bloed gevoed het, op die grond neerval en daarin wegkruip, terwyl hulle die bloed verteer.  Die tampans sal weer uit die grond kom na hulle gegroei en vervel het, op soek na ‘n nuwe gasheer vir die volgende bloedmaal.

Hyalomma glabrum – sien Vaal bontpootbosluis.

Hyalomma rufipes – sien Groot growwe bontpootbosluis.

Hyalomma truncatum – sien Klein gladde bontpootbosluis.

Hylonomus is die oudste onbetwisbare reptielspesie (en dus amnioot) waarvan ons tot dusver weet. Hylonomus se spore is in 315 miljoen jaar oue Karboon Periode lae in Nova Scotia in die VSA ontdek.  Die skelet van Hylonomus dui daarop dat dit ‘n akkedisagtige diertjie was wat insekte gevreet het.

Hymenolepiose verwys na die besmetting met dwerglintwurms (Hymenolepis nana) of rotlintwurms (Hymenolepis diminuta).  Tiene van miljoene mense, hoofsaaklik kinders, is wêreldwyd met dwerglintwurms besmet, terwyl net ‘n paar honderd gevalle van rotlintwurmbesmetting bekend is.  Dwerglintwurms is uniek, omdat hulle nie ‘n tussengasheer nodig het om hul lewenskilus te voltooi nie en direk van mens na mens oorgedra kan word.  Die eiers word met die gasheer se feses uitgeskei en kan direk deur ‘n ander persoon geïngesteer word.  Aangesien mense groot getalle van tot meer as 2000 dwerglintwurms kan hê, is die kulminatiewe effek van hierdie miniatuur lintwurms (wat maar 1 mm breed en tot 40 mm lank kan word) merkbaar. Simptome van hymenolepiose sluit in: allergiese reaksies vir die uitskeidings van die lintwurms, enteritis, buikpyn, naarheid, braking, honger, duiseligheid, diarreë, rustelose slaap en prikkelbaarheid.

Hymenolepis diminuta – sien Rotlintwurms.

Hymenolepis nana – sien Dwerglintwurms.

Ichthyosauria was mariene reptiele wat baie soos visse gelyk het – net soos dolfyne, wat soogdiere is, ook soos visse lyk.  Igtiosauriërs het ongeveer 250 miljoen jaar gelede in die fossielrekord verskyn en het in die Mesosoïkum gediversifiseer.  Hulle was in die Jura Periode deur die plesiosauriërs as die top-mariene predatore vervang maar ten minstens een spesies het nog tot in die Laat Kryt Periode voorgekom.

Igtiosauriërs – sien Ichthyosauria.

Idiosoma is die unieke liggaamstruktuur wat in myte voorkom.  Ander aragniede se lywe is in twee tagmata verdeel, naamlik ‘n prosoma of kopborsstuk en ‘n opisthosoma of agterlyf.  In myte het hierdie onderverdeling verlore gegaan en een enkele tagmata, die idiosoma het oorgebly.  Die idiosoma dra die vier pare pote, monddele, geslagsopening en anus.  Die asemhalingsopeninge of stigmata en oë, in dié bosluise wat oë het, kom ook op die idiosoma voor.

Ietermagog (Manis temminckii), familie: Manidae, orde: Pholidota. Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Igtiosauriërs – sien ichthyosauriërs.

Imago verwys na ‘n volwasse insek wat aan die groep Endopterygota of Holometabola hoort.  Hierdie insekte word gekenmerk aan hul holometaboliese ontwikkeling wat die transformasie van ‘n larwe, na ‘n volwassene (imago) insluit.

Immuniteitsgebrek – sien Gekompromitteerde immuunstelsel.

Immuniteitsrespons is die verdedigingsreaksie van die immuunstelsel van organismes wanneer hulle deur patogeniese bakterieë, protiste, swamme of diere binnegedring of aangeval word  (sien ook Immuunstelsel).

Immuunstelsel is al die biologiese prosesse wat ‘n organisme teen siektes beskerm.  Dit bestaan uit ‘n opsporingstelsel wat ‘n groot verskeidenheid patogene vanaf virusse en bakterieë tot parasitiese protiste en wurms kan opspoor, maar wat ook kankerselle en vreemde materiaal soos houtsplinters of dorings in die liggaam kan opspoor en van die liggaam se eie selle kan onderskei.  Dan is daar ‘n dubbele verdedigingstelsel: die eerste is die basiese verdedigingstelsel wat outomaties op ‘n wye verskeidenheid stimuli en situasies reageer, en ‘n tweede verdedigingstelsel – die aanpasbare immuniteitsrespons – wat leer om sekere molekules te herken en dit dan met behulp van witbloedselle beveg sodra dit die molekules weer teëkom.  Die verdedigingstrategieë sluit die gebruik van chemiese stowwe en fagositose deur middel van witbloedselle in.

Indeksfossiel is ‘n fossiel van ‘n sekere spesie wat wydverspreid, maar vir ‘n beperkte tydperk, in die fossielrekord voorkom.  Die rotslaag waarin hierdie fossiele voorkom kan vir biostratigrafie doeleindes aangewend word.

Indiese of Asiese olifant (Elephas maximus) Familie: Elephantidae. Soögeografiese wyk: Oriëntalis.  Inheems aan Indië en suidoos Asië.

Indiese stompneusdolfyn (Tursiops aduncus), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Industiële CO2 is die koolsuurgas wat in die atmosfeer weens menslike aktiwiteite geplaas is, veral weens die gebruik van steenkool en olie as brandstof, ontbossing deur kap en brand en industriële ontwikkeling.

Ingesteer bedoel om in te sluk of te fagositeer.

Inkubasietyd verwys na die tydperk van ontwikkeling van ‘n embrio in ‘n eier, of die tydperk tussen besmetting met ‘n patogeen en die verskyning van siektesimptome in die gasheer.

Inkubeer verwys na die ontwikkeling van patogeniese organismes in die gasheer, die ontwikkeling van ‘n siekte, of die ontwikkeling van ‘n organisme binne ‘n eier.

Inkvis is afgelei van die verskynsel dat talle koppotiges die vermoë het om ink af te skei wanneer hulle van ‘n roofdier wil ontsnap.  Die inksak en ink kom in alle koppotiges, buiten die Nautilidae en sekere lede van die suborde Cirrina, voor.  Die ink, wat aanvanklik uit amper suiwer melanien bestaan, word met slym en water gemeng en by die sifon uitgespuit om die roofdier te verblind en te verwar sodat die koppotige kan ontsnap.

Innerveer verwys na die senuweevoorsiening na ‘n sekere orgaan of weefsel.

Inokuleer is wanneer ‘n plant of dier met ‘n mikro-organisme besmet word.  Wanneer dit aspris met ‘n minder aansteeklike vorm van ‘n patogeen gedoen word, noem ons dit inenting of immunisasie.

Insekte is lede van die Klas Insecta wat saam met die vluglose heksapode aan die Subfilum Hexapoda aan die Filum Arthropoda hoort.  Hulle word gekenmerk aan ‘n eksoskelet van chitien, ses paar gelede pote, saamgestelde oë, een paar antennas en ‘n drieledige liggaamsverdeling (kop, toraks en abdomen).  Meeste insekspesies het lede met vlerke en dié wat nie vlerke het nie, het dit verloor.  Daar is reeds meer as ‘n miljoen bekende spesies wat meer is as die somtotaal van al die ander spesies bekend op Aarde.  Daar word vermoed dat dit slegs die oortjies van die seekoei is en dat daar van ses tot tien keer meer insekspesies op Aarde is wat net nog nie ontdek is nie.

Insektivories – sien Insektvretend.

Insekvretend of insektivories verwys na die vreet van insekte.  Diere soos erdvarke en sekere vlêrmuise vreet slegs insekte, terwyl ander soos meerkatte en jakkalse onder andere insekte vreet.  Insekvretendheid is die mees algemene voedingswyse onder tetrapode.  Meeste amfibieë eet insekte as larwes en volwassenes, die meeste akkedisspesies eet insekte, die meeste voëls (insluitende saadvreters wat tydens die broeiseisoen hul kleintjies insekte sal voer) en ongeveer 45% van soogdierspesies, vreet insekte.

Intergetysone is die strook rondom die kus wat tussen die hoog en laagwatermerke lê.  Op rotsagtige strande word hierdie strook deur talryke ongewerweldes, hoofsaaklik seepokke en weekdiere en wiere, bewoon.

Interglasiale tydperk is die tydperk tussen twee ystydperke.  ‘n Interglasiale tydperk kan net soos ‘n ystydperk, derduisende jare duur.  Daar was reeds talle ystydperke op Aarde.  Tydens interglasiale typerke is die gemiddelde temperatuur warmer, die seevlak styg want minder water word in die vorm van ys op land gehou en die smeltwater vloei terug na die see, die poolkappe word kleiner terwyl die toendra verder noord en suid voorkom in die plekke waar daar voorheen ys was en woude die toendra vervang wat tydens die ystydperk in laer breedtegrade voorgekom het.

Integrale membraan proteïene vorm deel van membrane in die sel en buite-om die sel.  Integrale membraan proteïene is onder andere verantwoordelik vir die vervoer van sekere stowwe in en uit die sel.

Intersellulêr verwys na goed wat binne ‘n sel gebeur of gevind kan word.

Intersellulêre parasiete verwys na parasiete wat as parasiete binne ‘n gasheer se selle leef.

Intrasellulêre spysvertering verwys na die proses van die afbraak van voedseldeeltjies en die opname van voedingstowwe binne ‘n verteringsel.  Dit is die proses wat in die weekdier se lewer plaasvind.  Die alternatiewe proses is ekstrasellulêre vertering soos wat in die weekdier se sekum plaasvind.

Ivermectin is ‘n middel wat algemeen vir die behandeling van diere en mense gebruik word om invertebraat-parasiete te bestry.  Dit was oorspronklik gebruik om bosluise en rondewurms in diere te bestry, maar word deesdae vir die behandeling van ‘n verskeidenheid parasitiese besmettings gebruik. William Campbell en Satoshi Ōmura het in 2015 die Nobelprys vir Fisiologie of Medisyne vir die ontdekking van Ivermectin ontvang.

Invertebrate – sien Ongewerweldes.

Irisiderende verwys na die skynsel wat tipies van pêrels is, en die reënboogkleure wat van die binnekant van sekere skulpe soos perlemoen weerkaats.  Hierdie verskynsel word deur die breking van lig deur die deursigtige lagies kalsiumkarbonaat veroorsaak.

Jagluiperd (Acinonyx jubatus), subfamilie: Felinae, familie: Felidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis en Palearktis. Inheems aan Suid-Afrika.

Jameson se rooi klipkonyn (Pronolagus randensis), familie: Leporidae, orde: Lagomorpha.Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Japannese enkefalitis is die ontsteking van die brein deur ‘n virus wat deur muskiete in tropiese Suidoos Asië en Stille Oseaan eilande versprei word.  Die virus word ook in varke en voëls aangetref.

Jellievis – sien Kwal.

Jeukmyte (Sarcoptes scabiei hominis) is piepklein myte, tussen ‘n kwart en ‘n halwe millimeter lank wat binne die buitenste laag van die vel intonnel en daar voed, mis en hulle eiers lê.  Hierdie myte verteer die vel met behulp van verteringsensieme wat ‘n allergiese reaksie en ‘n onhoudbare gejeuk veroorsaak.

Jolliejeuk word deur die jeukmyt veroorsaak en is een van die algemeenste velsiektes in die wêreld wat meer as twee honderd miljoen mense tans affekteer.  Die Engelse woord vir hierdie siekte is scabies en is van die Latyn scabere (om te krap) afgelei.

Jukboog of sigomatiese boog is die staaf been wat die onderste grens van die slaapwykopening of temporale venster vorm.  Die voorste deel van die jukboog word deur ‘n uitgroeisel van die sigomatiese been (of wangbeen) gevorm en die agterste deel word deur ‘n uitgroeisel van die temporale been gevorm.  Die sigomatiese been van soogdiere word die jugale been in reptiele en voëls genoem.

Juliana se kruipmol (Neamblysomus julianae), subfamilie: Amblysominae, familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Jura Periode (201.3-145 Mjg) is die middelste tydperk van die Mesosoïkum Era.  Die tydperk begin net na die groot massa-uitsterwing wat die einde van die Trias aantoon.  Die Superkontinent Pangea het in die Jura Periode in twee landmassas begin opbreek – Laurasië in die noorde en Gondwana in die suide.  Die klimaat het wêreldwyd verander en die woestyne wat die Trias Periode gekenmerk het, was met reënwoude vervang.  Die thekodontiërs was in hierdie tydperk as dominante terrestriële karnivore met dinosauriërs vervang.  Die eerste voëls, akkedisse en plasentale soogdiere verskyn in hierdie tydperk.  Ichthyosauriërs en plesiosauriërs was die spitsroofdiere in die oseane en pterosauriërs was die dominante vlieënde werweldiere.

Kaaklose visse – sien Agnatha.

Kaakskarnier verwys na die beenelemente wat die gewrig tussen die onderkaak en die skedel vorm.  In reptiele bestaan die kaakskarnier uit die kwadraat en artikulêre been terwyl die dentale been en skwamosum die soogdiere se kaakskarnier vorm.

Kaaktasters (pedipalpi) is die tweede paar aanhangsels wat in Chelicerata voorkom.  Die kaaktasters kom langs die kloukake voor, en is voor die eerste paar looppote geleë.  Die kaaktasters wat in die verskillende Chelicerata-klasse voorkom, verskil baie van mekaar.  In spinnekoppe kom daar harde uitsteeksels op die koksa van elke kaaktaster voor.  Hierdie uitsteeksels, wat reg langs die mond voorkom, word soos kake gebruik wanneer spinnekoppe hul prooi vreet, terwyl die res van die eenvoudige beenagtige struktuur van die kaaktaster as sensoriese organe gebruik word wat soos insekte se antennas, kan ruik, proe en voel.  Die kaaktasters van skerpioene is tot groot knypers omvorm.  Die eerste segment van die ses segmente wat die kaaktaster van mannetjiespinnekoppe opmaak, word vir spermoordraging gebruik.  Die voorste segment van ‘n volwasse spinnekop se kaaktaster lyk heeltemal anders as dié van jong spinnekoppe.  Eers na die laaste vervelling van die spinnekop, wanneer hy as ‘n geslagsrype volwassene verskyn, het die voorste segment van die pedipalp in ‘n koppievorminge orgaan verander.  Die mannetjie stort sy sperms binne hierdie koppie en dra die sperms daarmee oor na die wyfiespinnekop se geslagsopening.

Kaakvisse of gnathostomaat visse, is ‘n term wat ek vir “visse met kake” opgemaak het want dit is korter om te skryf of te sê en meer verstaanbaar as gnathostomaat-vis.  Dit klink egter vreemd want niemand het nog voorheen hierdie term gebruik nie.  Mens kan ook nie bloot die term gnathostomate losweg vir visse gebruik nie, aangesien alle werweldiere, buiten die Agnatha (die kaaklose visse), gnathostomate of “kaakdiere” is.  Kaakvisse word in die kraakbeenvisse (Chondrichthyes) en die beenvisse (Osteichthyes) verdeel.  Van die oudste kaakvisfossiele is in Siluur ouderdom gesteentes ontdek – die Placodermi en die Acanthodii.  Hierdie groepe het in die Devoon gediversifiseer en talryk geword.  Die voorouers van huidige kaakvisse het in die Laat Siluur verskyn.

Kaapse bergsebra (Equus zebra), familie: Equidae, orde: Perissodactyla Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Kaapse dakvlermuis (Neoromicia capensis), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Kaapse duinemol (Bathyergus suillus), familie: Bathyergidae, suborde: Hystricognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Kaapse klipklaasneus (Elephantulus edwardii), familie: Macroscelididae, orde: Macroscelidea. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Kaapse kruipmol (Chrysochloris asiatica), subfamilie: Chrysochlorinae. familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Kaapse nagmuis (Tatera afra), subfamilie: Gerbillinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Kaapse pelsrob (Arctocephalus pusillus), familie: Otariidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora.  Kom rondom die Suid-Afrikaanse kus voor.

Kaapse saalneusvlermuis (Rhinolophus capensis), subfamilie: Rhinolophinae, familie: Rhinolophidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Kaapse stekelmuis (Acomys subspinosus), subfamilie: Deomyinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Kainosoïkum Era (66 Mjg tot vandag) is die era van die Fanerosoïkum Eon waarin ons nou leef.  Hierdie tydperk het na die K-T massa-uitsterwing, na die Chicxulub meteoriet die Aarde getref het, aangebreek.  Die Kainosoïkum staan ook as die soogdier-tydperk bekend aangesien soogdiere, na die uitwissing van die dinosauriërs, geweldig gediversifiseer en aangewas het.  Voëls het ook na die uitsterwing van die pterosauriërs, ‘n soortgelyke diversifisering en aanwas beleef.  Die kontinente het in hierdie tydperk na die posisies waar hulle nou is beweeg.

Kalabar-swelsels is die swelsels wat deur die oogwurms (Loa loa) veroorsaak word, wanneer hulle onderhuids voed, ontlas en rondbeweeg wat ‘n allergiese reaksie, ontsteking, swelling en pyn veroorsaak.

Kalkryk verwys na ‘n voorwerp soos ‘n skulp wat kalk of kalsiumkarbonaat bevat.

Kalsiet is ‘n polimorf van kalsiumkarbonaat (CaCO3) wat baie algemeen in die natuur voorkom.

Kalsiumkarbonaat (CaCO3) of kalk is een van die hoofbestanddele van skulpe.

Kambriese Ontploffing verwys na die skynbaar skielike verskyning van bykans al die dierfilums in die geologiese rekord.  Dit is egter net ‘n plaaslike verskynsel in die Europese geologiese rekord waar dit blyk dat die gesteentes, ouer as die Kambriese Periode, redelik fossiel-arm is.  Wêreldwyd was daar egter derduisende fossiele (soos die Ediacara fossiele) in gesteentes ouer as die Kambriese gesteentes gevind (sien ook Fanerosoïkum Era).

Kambrium Periode (541-485.4 Mjg) was die eerste periode van die Paleosoïese Era en die Fanerosoïese Eon.  Die Kambrium Periode word gekenmerk aan die besondere bewaring van ‘n groot diversiteit dierfossiele waarvan nie slegs die doppe en eksoskelette bewaar gebly het nie, maar in sekere gevalle ook van die sagte weefsel.  ‘n Mens kan ‘n geweldige vordering in kompleksiteit van liggaamsvorm en diversiteit van diere in die fossielrekord van die Kambrium Periode opmerk.  Hierdie oënskynlik skielike verskyning van verteenwoordigers van al die bekende dierfilums plus ‘n paar vreemdes wat sonder nasate uitgesterf het, word die Kambriese Ontploffing genoem.  Alhoewel lewe tydens die Kambrium Periode in die oseane gefloreer het, was daar benewens archaea, bakterieë en swamme op daardie tydstip geen landlewende plante of diere nie.  In hierdie tydperk verskyn die eerste monoplakofore, poliplakofore, buikpotiges en tweekleppiges in die fossielrekord.

Kameelperd (Giraffa camelopardalis), familie: Giraffidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Kamkwalle (filum Ctenophora) is seelewende diere wat aan die holtediere (filum Cnidaria) verwant is.  Een van die opmerklikste kenmerke van kamkwalle, en die rede hoekom hulle so genoem word, is die lengtelopende rye trilhaartjies op hul liggame waarmee hulle swem.  Hulle is ook die grootste diere op Aarde wat met behulp van trilhaartjies swem.  Volwasse kamkwalle wissel van ‘n paar millimeter tot 1.5 m in lengte.  Daar is sowat 150 bekende spesies.  Kamkwalle is meestal karnivories en afhangende van hul grootte sal hulle mikroskopiese larwes en rotifere, tot klein skaaldiere, tot ander kamkwalle jag.

Kamoefleer is die verskynsel waar ‘n organisme poog om onopsigtelik te wees deur om saam met die omgewing in te smelt, sodat sy predatore of sy prooi hom nie sien nie.  Kamoeflering kan verskillende strategieë insluit – soos die gebruik van kleure, vorm, gedrag en reuke.  Verkleurmannetjies en seekatte kan van kleur verander om met die omgewing in te smelt.  Sekere diere soos pofadders, katte en bisamswynbabas het patrone – soos die kolle en strepe op katte se pelse en velle om met die omgewing in te smelt.  Spinnekoppe en verkleurmannetjies beweeg hul liggame om blare en gras wat in die wind waai, na te boots.  Sekere insekte en visse gee reuke af wat soos die omgewing ruik om hul predatore en parasiete te fnuik.  Vorm word deur diere soos stokgoggas en blaarinsekte gebruik om stokke en blare na te boots terwyl die lemoenskoenlapper se eerste- en tweedelarwes soos soos voëlmis lyk.  Soms gebruik diere soos die gemaskerde roofwants, die sakwurmmot en die kluisenaarkrap ook items uit hulle omgewing om op hulle liggame te sit om met die omgewing in te smelt.

Kamoesters of mantels (familie Pectinidae) is tweekleppige weekdiere wat op die oppervlakte van die seevloer leef en nie in die seevloer ingrawe of hulself met bissale drade vasheg nie.  Hulle kan vir kort afstande swem deur om hul skulpe woes oop en toe te klap en water uit hul sifon te spuit.  Kamoesters het ook talle klein eenvoudige ogies rondom die mantelrand rondom die opening tussen die skulpe.  Kamoesters word soos mossels, oesters en kokkels deur mense as seekos geëet.

Kanker is ‘n siekte wat deur die abnormale groei en vermeerdering van selle veroorsaak word.  Hierdie selle dring ander dele van die liggaam binne en belemmer die funksionering van organe.   Daar is reeds meer as 100 tipes kanker in mense geïdentifiseer.

Kannibaal is ‘n organisme wat ‘n lid van sy eie spesie verorber.

Kapillêre bed is ‘n netwerk van bloedhaarvaatjies wat rondom sekere organe soos die dermkanaal en alveoli van die longe voorkom.  Dit is waar suurstof en koolsuurgas tussen die bloedvatstel en die longe beweeg en van die dermkanaal na die bloedvatstelsel beweeg.

Kapitulum – sien Gnathosoma.

Kaptakulas is miniatuur tentakeltjies wat op die kop van tandskulpe voorkom waarmee hulle hul prooi vang.

Karboksielsuur is ‘n organiese verbinding waarin die karboksielfunksionele groep (COOH) voorkom.  Asynsuur en miersuur is voorbeelde van karboksielsure.

Karbonaatrotse word deur dolomiet en kalksteen-afsettings gevorm.  Die kalksteen bestaan uit kalsiet of aragoniet (verskillende tipes CaCO3 kristalle) terwyl dolomiet uit CaMg(CO3)2) molekules bestaan.  Kalsiet kan, onder sekere omstandighede (pH, temperatuur en ioon-konsentrasies) deur grondwater opgelos of afgeset word.

Karboon Periode (358.9-298.9 Mjg) word, veral in die Noordelike Halfrond, in die onderste Mississipium en die boonste Pennsylvanium onderverdeel.  Hierdie tydperk word gekenmerk aan die amfibieë wat op daardie tydstip die dominante landlewende werweldiere was.  Geleedpotiges, veral insekte, het gediversifiseer en talryk geword.  Reuse woude, wat die steenkoolafsettings in die noordelike halfrond gevorm het, het die land bedek.  Die suurstofvlakke was die hoogste ooit – 35% teenoor die 21% van vandag wat veroorsaak het dat geleedpotiges besonder groot kon word.  Pangea vorm in hierdie tydperk.

Kariogamie (karyogamy) is die finale stap van die proses van bevrugting.  Eers vind plasmogamie plaas wanneer die sitoplasmas van twee haploïede selle saamsmelt en dan volg kariogamie wat na die samesmelting van twee haploïde kerne om ‘n diploïede kern te vorm verwys.

Karkas verwys na die lyf van ‘n dooie dier.  Dooie mense het lyke en dooie diere het karkasse, net soos wat mense eet en diere vreet, diere pense het en mense mae het, diere werpsels het en mense babas het en mense sterf en diere vrek.

Karnivoor, karnivories verwys na vleisvretende diere.  Dit sluit roofdiere en aasdiere in.  ‘n Karnivoor het ‘n karnivoriese dieët.

Karookom is die reuse bekken in die suide van Gondwanaland wat die grootste gedeelte van die hedendaagse Suid-Afrika, die suidelike deel van die hedendaagse Suid-Amerika en deel van die hedendaagse Antarktika bedek het.  Hierdie kom het oor miljoene jare met hoofsaaklik sedimentêre afsettings opgevul geraak om die Karoo Supergroep te vorm.  Ongeveer 510 mjg. het ‘n slenkdal oor suidelike Gondwanaland, suid van die hedendaagse Suid-Afrika gevorm wat tot in die huidige suidelike deel van Suid-Amerika en tot in die oostelike deel van die huidige Antarktika gestrek het, en selfs moontlik tot by Australië, wat eens die oostelike deel van Gondwana opgemaak het, gestrek het.  ‘n Agt kilometer dik laag sedimente, wat as die Kaapse Supergroep bekend staan, was op die vloer van hierdie slenkdal afgeset. Ongeveer 330 mjg. het ‘n subduksiesone (wanneer een kontinentale plaat onder die ander een indruk) suid van Suid-Afrika ontstaan.  Hierdie subduksie het tussen die Falkland Plato en die suidelike deel van Gondwana (en dus die stuk waaruit Suid-Afrika sou ontstaan) plaasgevind, wat die vorming van die Falklandbergreeks, wat so hoog soos die Himalayas was, noord van die subduksiesone, tot gevolg gehad het.  Die drukking het die Kaapse Supergroepsedimente in die proses opgestoot.  Die Kaapse plooiberge is die oorblyfsels van die voorberge wat langs die noordelike flank van hierdie reuse bergreeks gevorm het.  Die drukking van die subduksiesone het veroorsaak dat die landmassa ten noorde van die bergreeks oor miljoene jare bly sak het en sodoende was ‘n watergevulde voorlandbekken, bekend as die Karookom, gevorm.  Die Karookom was eers deur die tilliet van die smeltende gletsers en ys van die suidpoolkap gevul, daarna van die sedimente wat van Falklandberge in die suide verweer het, en later van sedimente wat deur riviere van die bergreekse op die omliggende landmassas in die noorde na die Karookom vervoer is.

Karoo Supergroep is die grootste terrestriële (landelike) afsetting in die wêreld, wat ‘n ouderdom van ongeveer 300 mjg. (Laat Karboon Periode) tot 195 mjg. (Jura Periode) verteenwoordig.  Hierdie kilometers-dikke laag gesteentes bevat ongeveer 70% van die wêreld se sinapsiede en selfs fossiele van die wêreld se oudste soogdiere.  Die Karoo Supergroep is die grootste geologiese eenheid in Suid-Afrika en bedek ongeveer die helfte van die oppervlakte van Suid-Afrika.  Dit bevat ook een van die grootste steenkoolreserwes op Aarde.  Die lae van die Karoo word, van onder tot bo, deur die Dwyka, Ecca, Beaufort, Stormberg en Drakensberg Groepe verteenwoordig.

Karotenoïede of tetraterpenoïede is geel, oranje en rooi organiese pigmente wat deur plante, alge, swamme en talle bakterieë vervaardig word.  Karotenoïede verleen die kenmerkende geel, oranje en rooi kleure wat mens in pampoen, wortels, mielies, tamaties, kanaries, flaminke, salm, skaaldiere en talle blomme sien.  Karotenoïede word uit vette en ander basiese organiese molekules deur al hierdie organismes vervaardig.  Daar is oor die 1 100 bekende karotenoïede.  Karotenoïede absorbeer pers en blou lig wat deur plante vir fotosintese gebruik word en daar is karotenoïede in die retina wat vir sig aangewend word.

Karsenogenies verwys na kankervormend.

Kaseïede – sien Caseidae.

Katecholamien is ‘n tipe senuwee-oordragstof.  Adrenalien, noradrenalien en dopamien is voorbeelde van katecholamiene.  Wanneer ‘n dier gestres word, word die katecholamien-hormone adrenalien en noradrenalien en die glukokortikoïed-hormone kortisol en kortisoon afgeskei.

Katspoelwurm (Toxocara cati) is ‘n rondewurm wat katte, insluitende wildekatte, wêreldwyd parasiteer.  Dit kan toevallig mense parasiteer wanneer mense van die mikroskopiese eiers insluk.

Kauries is predatoriese slakke het besondere gladde doppe wat in meeste spesies gedeeltelik tot heeltemal met die voet bedek word.

Keëlslakke is predatoriese slakke van die familie Conidae.  Hierdie slakke gebruik gif om hul prooi te verlam wat hulle met behulp van spesiale harpoenagtige giftande op hul radula, toedien. Die gif van keëlslakke bevat honderde verbindings wat konotoksiene genoem word en van spesie na spesie verskil.

Kefalokordate – sien Cephalochordata.

Kefalopode – sien Koppotiges.

Kelp – sien Bruinwier.

Kerogeen afsettings is soliede, onoplosbare, koolstofryke materiaal wat in sedimêre rotse voorkom.  Daar word bereken dat daar wêreldwyd 1016 ton koolstof in kerogeen voorkom wat dit die grootste organiese afsetting op Aarde maak.  Petroleum en natuurlike gas kan uit kerogeen verkry word.  Kerogeen was in lakustriene omgewings deur alge, in mariene ongewings deur plankton en in terrestriële omgewings deur plantmateriaal gevorm.  Kerogeen is ekonomies belangrik vir olie- en gasontginning.  Tydens kerogeenvorming word groot biopolimere soos proteïene en koolwaterstowwe gedeeltelik of heeltemal afgebreek (wat as die teenoorgestelde proses van fotosintese beskou kan word).  Hierdie afbraakprodukte kondenseer om geopolimere te vorm wat saam met sedimente soos modder, slik en sand, olieryke skalies vorm.  Die toenemende druk en temperatuur wat tydens sedimentasie plaasvind veroorsaak dat die organiese afsettings verder deur die verlies van waterstof, suurstof, stikstof, swael en ander stowwe die organiese verbindings isomeriseer en aromatiseer. Gedurende die aromatiseringsproses word die molekules in lae gerangskik wat die fisiese kenmerke van kerogeen bepaal.  Gedurende die termiese maturasieproses word kerogeen na produkte soos bitumen, olie en gas afgebreek.

Kewerslakke, poliplakofore of chitons (klas Polyplacophora) word gekenmerk aan die 8 skulpplate wat hul boonste oppervlakte bedek wat dit soos ‘n gesegmenteerde dier laat lyk.  Daar is ongeveer 1000 spesies bekend.  Meeste kewerslakke wissel van 5 tot 50 mm in lengte en kom wêreldwyd slegs in seewater vanaf die trope tot koue water voor waar hulle op en onder rotse of rotsskeure leef.  Hulle kom soms snags uit om op rotse in die onderste deel van intergetysone te voed.  Alhoewel meeste spesies in die intergetysone tot die subgetysone voorkom, kom daar ‘n paar spesies in diep water tot so diep as 7 000 m onder seevlak voor.

Khoikhoi is die eerste veeherder nasie wat iewers in die eerste eeu nC in Suid-Afrika kom vestig het.  Hulle het van dieselfde voorsate as Boesmans gestam.

Kiefharte of brangiale harte is die harte wat by die kiewe van koppotiges voorkom.  Koppotiges het ook ‘n sistemiese hart.

Kiefsplete is die splete wat in Cephalochordata en alle werweldierembrios se farinkswande vorm.  In waterlewende werweldiere soos visse en amfibieë se larwes word die kiefsplete volledig gevorm en perforeer die wand van die farinks wat die binnekant van die farinks met die water, wat die organisme omring, verbind.  Die kiefsplete van reptiel-, voël- en soogdierebrios vorm nie verder as induikings in die farinks nie.  Die kiefsplete word weerskante deur kiefstafies ondersteun.  In Urochordata is daar openinge eerder as splete in die farinks.

Kiemlaag is een van die eerste weefsellae wat tydens die ontwikkeling van ‘n embrio plaasvind.  Die bevrugte eier van ‘n euselomaat verdeel eers in ‘n klompie selle wat die blastula genoem word.  Aangesien die selle dig opmekaar gepak is word dit die stereoblastula (“soliede blastula”) genoem, daarna ontwikkel ‘n holte binne die blastula (blastoseel) en die selle skuif na die buitekant.  Hierdie embrionale stadium wat soos ‘n blasie lyk word die seloblastula genoem.  Volgende stulp die buitenste sellaag na binne om die gastroseel te vorm met ‘n opening – die blastopoor – wat die gastroseel na buite laat open.  Hierdie embrionale stadium word die gastrula genoem.  Die binneste sellaag van die gastrula wat die gastroseel se wand vorm word die kiemlaag genaamd die endoderm genoem.  Die buitenste sellaag van die gastrula word die kiemlaag genaamd die ektoderm genoem.  Die mesoderm, die derde kiemlaag vorm vanuit selle rondom die blastopoor en beweeg dan na binne tussen die ektoderm en endoderm en word die kiemlaag wat die mesoderm genoem word.  Elkeen van hierdie kiemlae – die ektoderm, mesoderm en endoderm gee oorsprong aan spesifieke weefsels en organe.

Kiewe of kieue is die respiratoriese organe wat mens in waterlewende diere vind.  Slakke het ook spesiale kiewe wat stenidia (ctenidia) genoem word.  In hierdie afdeling het ek die woorde kief en kiewe gebruik eerder as ctenidia, stenidia of kiefkamme om die oordrag van inligting te vergemaklik.  Dit is belangrik om te meld dat die kiewe van weekdiere onafhanklik van dié van werweldiere ontstaan het en dat dit dus analoë organe is wat dieselfde funksies verrig.  Die kiewe bestaan uit hol buisagtige filamente met dun wande vir gaswisseling.  Tweekleppiges gebruik hul kiewe (soos die Urochordata – rooiaas, salpe en ander) om ook kos uit die water te filtreer.  Weekdiere se kiewe kom oorspronklik agter in die liggaam voor soos mens in die aplakofore, monoplakofore en poliplakofore (kewerslakke) kan sien, maar het weens torsie in gastropode na vore gedraai.

Kimeras – sien Holocephali.

Kinetoplaste kom binne die groot mitochondria van sekere lede van die Excavata voor.  ‘n Kinetoplas is gewoonlik ‘n sirkelvormige struktuur, wat uit ‘n netwerk sirkelvormige DNS molekules bestaan, wat talle kopieë van die mitochondriese genoom bevat.  Kinetoplaste kom teenaan die basaalliggaam van die flagellum voor.

Kist is die dopbedekte rustende toestand van eierselle, embrios of mikroörganismes.  Onder slegte omstandighede soos droogte, honger of koue, vorm talle organismes kiste – die aksie word enkistering genoem.  Kiste vorm wanneer die organisme ‘n beskermende omhulsel vorm en sy metaboliese funksies drasties verminder word.  Kiste kan deur wind en water versprei word.  Die kist kan vir ‘n tydperk oorleef, todat die omstandighede verbeter, of in die geval van parasitiese spesies, die kist die gasheer bereik, waarna die organisme uit die kist kom.  In hierdie dormante vorm kan kiste omgewingsdruk soos koue, droogte en die gebrek aan kos oorleef.  Talle parasitiese protiste gebruik kiste om tussen gashere te reis.

Klaasneuse is klein insekvretende diertjies wat aan die orde Macroscelidea hoort en net in Afrika voorkom.  Hulle lyk soos muise met lang bene en lang snoete, maar is glad nie aan muise verwant nie.  Genetiese studies bewys dat hulle egter aan die Afrotheria, wat die olifante, erdvark, goue molle, die seelewende doegongs en manatees en die tenreks van Madagaskar insluit, verwant is.  Hulle het klein skerp tandjies en ‘n lang beweeglike snoet wat hulle in staat stel om insekte uit te snuffel en te vreet.

Klade is ‘n groepering van organismes wat ‘n sekere stel sinapomorfieë deel en dus nader aan mekaar verwant as ander organismes is.  Die hiërargiese klassifikasiestelsel van Linneaus word nie in kladistiek gebruik nie.

Kladistiek is ‘n afdeling van biologiese klassifikasie waarmee organismes in klade, volgens hulle laaste gemene voorouer, gerangskik word, eerder as in die tradisionele hiërargiese metode wat in die binominale klassifikasiestelsel van Linneaus gebruik word.  Sinapomorfiese eienskappe word gebruik om die klades te identifiseer.  Die doel van kladistiek is om die evolusionêre verwantskappe tussen klades te wys.

Klassieke Periode is die tydperk vanaf die agste eeu vC tot die sesde eeu nC waartydens die Griekse en Romeinse kulture rondom die Mediterreense See gefloreer het en groot invloed oor die mense van Europa, Noord Afrika en die nabye Ooste uitgeoefen het.  Dit begin met die oudste epiese Griekse gedigte van Homerus en eindig na die val van die Westelike Romeinse Ryk (vyfde eeu nC) met die verdwyning van die klassieke kultuur (250-750 nC) wat met die begin van die Vroeë Middeleeue (600-1000 nC) oorvleuel.  Die kultuur van die antieke Grieke, gepaard met invloede van die Nabye Ooste, het die grondslag van Europese kuns, filosofie, wetenskap, opvoedkunde en samelewing, gelê.  Die Romeine het hierdie kultuur aangeneem, bewaar en deur Europa versprei en later daartoe bygedra veral in die velde van tegnologie, landbou, politiek, reg, argitektuur, filosofie, oorlogvoering, wetenskap en kuns.

Klassifikasie of taksonomie in biologie is die metode wat gebruik word om organismes volgens hulle eienskappe in kategorieë te verdeel.  Slegs homoloë eienskappe kan hiervoor gebruik word aangesien analoë kenmerke nie die verwantskappe tussen organismes kan aandui nie.  Uiteindelik moet die klassifikasie van organismes ‘n aanduiding wees van hoe hulle aan mekaar verwant is (sien homoloë en analoë kenmerke).  Die eienskappe wat gebruik word is anatomie, fisiologie, selstruktuur en genetika.  Die sisteem wat deur die Sweedse bioloog Carl von Linné (Carolus Linneaus) in die agtiende eeu ontwikkel is, word tot vandag nog gebruik.  Organismes word in die koninkryke Monera (bakterieë en archea), protiste, plante, swamme en diere verdeel.  Daarna word elke koninkryk in filums verdeel.  Filums word dan in klasse, ordes, families, genera en spesies onderverdeel.  Wanneer ‘n groep baie groot is en baie taksa bevat, sal onderafdelings soos superorde, infraorde, superfamilie, subfamilie, tribus, subspesies gebruik word.

Klein gladde bontpootbosluise (Hyalomma truncatum) wat in Afrika suid van die Sahara voorkom, is die vektor van virusse soos dié wat Kongokoors veroorsaak, Rickettsia bakterieë wat vir anaplasmose verantwoordelik is, en Babesia protosoë wat vir babesiose in mense en diere verantwoordelik is.  Afhangende van die gasheerspesies, kan die klein gladde bontpootbosluis as ‘n tweegasheer of driegasheer bosluis optree.

Kleiner dwergskeerbek (Suncus infinitesimus), subfamilie: Crocidurinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Klein geel dakvlermuis (Scotophilus viridis), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Klein gekolde kat (Felis nigripes), subfamilie: Felinae, familie: Felidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Klein grotvlermuis (Miniopterus fraterculus), subfamilie: Miniopterinae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Klein grysmuishond (Herpestes pulverulentus), familie: Herpestidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Kleinkolmuskeljaatkat (Genetta genetta), subfamilie: Viverrinae, familie: Viverridae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis en Palearktis. Inheems aan Suid-Afrika.

Klein losstertvlermuis (Chaerephon pumila), familie: Molossidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Kleinoorwaaierstertmuis (Graphiurus microtis), subfamilie: Graphiumurinae, familie: Gliridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Kleinotter (Hydrictis maculicollis), familie: Mustelidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Klein rooiskeerbek (Crocidura hirta), subfamilie: Crocidurinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Kleinste dwergskeerbek (Suncus varilla), subfamilie: Crocidurinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Klein witstertmuishond (Paracynictis selousi), familie: Herpestidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Klein wolhaarvlermuis (Kerivoula lanosa), subfamilie: Kerivoulinae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Kleistothekium (cleistothecium) is ‘n vrugliggaam wat in die Ascomycota (sakswamme) voorkom waar die askusse in ‘n geslote sferiese askokarp gepak is.

Klem-in-die-kaak, of tetanus, word deur die gifstof tatanospasmin wat deur die bakterie Clostridium tetani afgeskei word, veroorsaak.  Die bakterie, wat in grond en mis voorkom dring die gasheer se liggaam deur ‘n wond binne.  Die senuweestelsel van die besmette persoon word die ergste deur die gifstof aangetas en veroorsaak pynlike spierspasmas in die kaak en nekspiere.  Dit kan so erg word dat die spasmas die besmette persoon se bene breek.  Ander simptome sluit hoofpyn, koors, sweet, hoë bloeddruk, vinnige hartklop en oormatige sweet in.  Die simptome tree na ongeveer drie tot 21 dae in, maar dit kan maande neem vir ‘n persoon om te herstel.  Ongeveer 10% van besmette persone sterf daarvan.

Klimaat verwys na die gemiddelde weerpatroon van ‘n streek wat tipies oor 30 jaar waargeneem is.  Dit sluit die gemiddelde van die meteorologiese veranderlikes (presipitasie (reën, hael, sneeu), temperatuur, humiditeit, lugdruk, wind) wat oor maande tot miljoene jare bepaal is.  Klimaat sluit hierdie elemente in die atmosfeer, hidrosfeer, kriosfeer (gebiede waar sneeu en ys voorkom), litosfeer en die biosfeer, en die interaksie van hierdie elemente tussen hierdie sfere in.

Klimaatsverandering verwys na die langtermyn wêreldwye verandering van temperature en weerpatrone.  Klimaatsverandering word veroorsaak deur die koolsuurgas wat vanaf die Industriële Tydperk, wat in die 1800’s begin het, in die atmosfeer vrygestel is.  Temperature het wêreldwyd saam met die toenemende persentasie koolsuurgas in die atmosfeer gestyg.  Die veranderende temperature in die atmosfeer en die oseane het grootskaalse veranderings in weerpatrone veroorsaak, met ‘n toename in frekwensie en grootte van storms, reënval en droogtes.  Die effek van Klimaatsverandering word vererger deur die afkap van bome in plekke soos die Amasone en die uitwissing van koraalriwwe wat weens die stygende seetemperatuur en besoedeling vrek, wat van hierdie oormatige koolsuurgas kon absorbeer het, en die ontdooiing van die bevrore grond en moerasse in die noorde van Kanada en Rusland wat massas metaangas vrystel wat nog ‘n erger effek op die atmosfeer as koolsuurgas het.

Klipdassie (Procavia capensis), familie: Procaviidae, orde: Hyracoidea, Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Klipklaasneus (Elephantulus myurus), familie: Macroscelididae, orde: Macroscelidea. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Klipmossels (subklas Patellogastropoda) is plantvretende buikpotiges met ‘n afgeplatte liggaam wat onder ‘n afgeplatte keëlvormige skulp voorkom.  Meeste van hierdie weekdiere kom op rotse in die see voor waar hulle styf teen die rotse met hulle breë mukusbedekte voete vasklou sodat hulle nie met strome en golfaksie van die rotse losgeskeur word nie en om uitdroging tydens laagwater te voorkom.  Dit is ook die manier hoe hul hulle lywe teen roofdiere beskerm.

Klipspringer (Oreotragus oreotragus), subfamilie: Antilopinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Klipwaaierstertmuis (Graphiurus platyops), subfamilie: Graphiumurinae, familie: Gliridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Kloaak is ‘n gemeenskaplike ruimte in die agterste deel van die liggaam waarin die spysverteringskanaal, uitskeidingskanale en gonodukte open wat om die beurt na buite die liggaam open.

Kloukaak (chelicera) is ‘n pootagtige aanhangsel wat langs die mond in die spinnekopagtiges geleë is.  In bosluise word dit gebruik om deur die gasheer se vel te penetreer en bloed te suig, in spinnekoppe dra dit die skerp gepunte hol tand wat aan die gifklier gekoppel is, in sonspinnekoppe dra dit skêragtige knypers en in skerpioene dra dit knypers.

Knaagdiere (Rodentia) is die grootste soogdiergroep – beide in aantal spesies en organismes.  Ongeveer 42% van soogdierspesies is knaagdiere.  Knaagdiere word gekenmerk aan hulle beitelvormige voortande wat tot twee boonstes en twee onderstes beperk is.  Hierdie tande is aangepas om te knaag.  Knaagdiere kom wêreldwyd voor waar hulle hoofsaaklik op grane (grassade) leef.  In ander lande, buiten Suid-Afrika, kom daar meer knaagdierspesies as vlêrmuisspesies voor.  Die grootste verskeidenheid knaagdiere kom in Suid Amerika voor.  Daar is tans meer as 500 knaagdierspesies in Suid Amerika bekend, maar as mens die fossielspesies en onlangs uitgestorwe spesies bytel, sal mens nog honderde moet byvoeg.

Knolswamme (“truffles”) is die sporokarpe van sekere ondergrondse swamme, hoofsaaklik Sakswamme.  Knolswamme kom in noue assosiasie met sekere bome se wortels voor waar hulle deel van die mikorrisa uitmaak.  Knolswamme is uiters gesog onder sekere fynproewers en omdat dit so skaars is, is dit een van die duurste kosse ter wêreld.

Koedoe (Tragelaphus strepsiceros), subfamilie: Bovinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Ko-evolusie vind plaas wanneer twee of meer spesies in respons op mekaar, evolusionêre aanpassings deurgaan.  Hierdie aanpassings kan voordelig vir mekaar wees soos wat mens in mutualistiese verwantskappe tussen spesies vind, soos in die geval van blomme en bestuiwers soos in plante wat ‘n blombuisie vorm wat presies so lank soos die slurpie van die vlinder of mot is wat daardie spesie se blomme bestuif.  In ander gevalle is dit ‘n antagonistiese verhouding tussen ‘n gasheer en ‘n parasiet byvoorbeeld waar die gasheer se vermoë om van die parasiet ontslae te raak uitgebalanseer word deur die parasiet se voortplantingsvermoë, of vasklouvermoë, of springvermoë ens.

Koglea – sien Slakkehuis.

Kognisie is die vermoë om kennis deur sintuiglike waarneming en denkprosesse te bekom.  Kognisie is belangrik vir probleemoplossing en besluitneming.

Kok (meervoud kokke) is ‘n sfeervormige tipe bakterie.  Sekere spesies kom as enkel selle voor, ander, die diplokokke, kom in pare voor en nog ander, die streptokokke, kom in stringe voor.

Kokkel is ‘n vrylewende tweekleppige van die orde Cardiida wat in die sand op die bodem van sanderige strande wêreldwyd voorkom.  Dit het kenmerkende ronde bolvormige geribte skulpe.  Kokkels word deur mense geëet.

Kokkobasillus is ‘n tipe prokarioot wat ‘n vorm tussen dié van ‘n kok en ‘n basil het.  Hulle is inderwaarheid baie kort prokariote.

Koksa in geleedpotiges is die eerste segment van ‘n been wat die been aan die liggaam vasheg.

Koksale kliere kom in sekere geleedpotiges voor.  Dit kom in alle spinnekopagtiges, buiten in sekere myte, voor.  Een paar koksale kliere kom op die koksa van hierdie diere voor.  Dit word hoofsaaklik vir die uitskeiding van uriene gebruik.  Die koksale kliere van die volwasse tampan Ornithodoros erraticus skei ook ‘n feromoon af om paringsmaats te lok.  Sagte bosluise gebruik die koksale kliere om ook oortollige vloeistof af te skei.

Koleoïed-koppotiges (subklas Coleoidea van die klas Cephalopoda) word deur seekatee en inkvisse en die uitgestorwe belemniete en ammoniete verteenwoordig.  Die voorouers van die Coleoidea, waaraan die meeste ekstante koppotiges hoort, het van die Nautiloidea-tak meer as 470 miljoen jaar gelede in die Ordovisiese Periode afgestam.  Die ekstante Coleoidea word in twee superordes – die Decapodiformes wat al die koppotiges met tien arms insluit, en die Octopodiformes wat al die koppotiges met agt arms insluit – verteenwoordig.  Die ekstante koleoïed-koppotiges se liggame word nie met skulpe bedek nie.

Kolhaas (Lepus saxatilis), familie: Leporidae, orde: Lagomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Kolitis is die ontsteking van jou dikderm of kolon.  Dit veroorsaak buikpyn en ongerief.

Kollageen is die proteïen waaruit bindweefsel soos tendons, ligamente, vel, kraakbeen en been opgemaak is.  Dit is die mees algemene proteïen in die soogdier se liggaam.

Kolon verwys na die deel van die dikderm tussen die sekum en die rektum.  Dit beslaan die grootste gedeelte van die dikderm.  Water en elektroliete word vanuit onvolledig verteerde derminhoud hier geabsorbeer.  Dit is die plek waar fermentasie deur middel van dermmikrobiota plaasvind.

Kolorektale kanker is ‘n kanker wat in die dikderm of in die rektum begin.  Meeste kolorektale kankers ontstaan weens ouderdom en lewenswyse en slegs ‘n klein persentasie is weens genetiese redes.

Kommensialisme verwys na ‘n langdurige interaksie tussen twee spesies waarin die een spesie voordeel trek, terwyl die ander spesie nie daaruit voordeel trek of benadeel word nie.

Kommetjiegatmuishond (Atilax paludinosus), familie: Herpestidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Kompos of humus is die afbraakproduk wat deur die verroting van plantreste deur bakterieë en swamme gevorm word.  Die voedingstowwe in plantmateriaal word sodoende aan die grond terugbesorg en kan weer deur plante en ander organismes opgeneem word.

Kompostering is die proses van komposvorming.

Kongiolien is die komplekse proteïene en polisakkariede waaruit die buitenste buigbare lagie van die skulp of periostrakum van ‘n weekdier opgebou is.  Dit verbind met die onderliggende aragoniet van die skulp.

Koglea – sien Slakkehuis.

Kongokoors, of Krim-Kongo hemorragiese koorssiekte, word veroorsaak deur ‘n virus wat deur besmette groot growwe bontpootbosluise (Hyalomma rufipes), vaal bontpootbosluise (Hyalomma glabrum) en klein gladde bontpootbosluise (Hyalomma truncatum) na die mens oorgedra word.  Tussen 30-50% van mense, wat hierdie siekte kry, sterf daarvan.  Hierdie siekte is endemies aan Afrika, maar het ook na Oos Europa en Asië versprei.  Die siekte begin met griepsimptome soos koors en lyfseer ‘n tydperk van een tot nege dae nadat die pasiënt gebyt is. Na ‘n paar dae begin die pasiënt gewoonlik inwendig bloei. Die pasiënt sterf wanneer multi-orgaanversaking intree.

Konidiofore is ‘n spesiale lughife waarop selle soos fialiede in sekere spesies voorkom en wat konidiums of konidiospore vorm.  Konidiofore kan enkel voorkom tot in trosse waar hulle dig teenmekaar gepak is.

Konidiospore – sien Konidiums.

Konidiums word ook konidiospore of chlamydospore genoem.  Die konidium bevat gewoonlik een kern.  Konidiums word deur mitose gevorm en staan dus ook as mitospore bekend.  ‘n Konidium se kern is geneties dieselfde as die kerne in die sitoplasma van die miselium.  Konidiums word meestal deur bottelvormige selle, die fialiede, op spesiale lughifes, die konidiofore, gevorm.

Konifere hoort aan die Divisie (wat nie-botaniste ‘n Filum sal noem) Pinophyta of Coniferae of Coniferophyta.  Daar is net een ekstante klas van hierdie groep oor – die Klas Pinosida – wat eens baie meer wydverspreid en divers was as wat hulle vandag is.  Hierdie groep is deel van die gimnosperme (naaksadiges) maar omdat hulle sade in keëls gedra word staan hulle as die konifere bekend.  Ekstante konifere kom meestal as bome en ‘n paar spesies as struike voor.  Sederbome, dennebome, geelhoutbome en die grootste bome op Aarde – die rooihoutbome – vorm deel van hierdie groep.

Koninkryk in biologie is die tweede hoogste taksonomiese vlak in die Linnaeaanse klassifikasiestelsel, net onder Domein.  Koninkryke word verder in Filums onderverdeel.  Die sewe Koninkryke is die Animalia (diere), Plantae (plante), Fungi (swamme), Chromista (bruinalge en verwante), Protista (eensellige eukariote), Archaea en Bacteria (bakterieë).

Konjugasieswamme of Jukswamme is die Filum Zygomycota en vorm deel van die Laer Fungi.  Hulle vorm kenmerkende sigosporangia met ‘n dik donker dop wanneer twee hifes versmelt en kariogamie tussen die kerne plaasvind.  ‘n Sigosporangium vorm haplo֝ïede sigospore deur meiose.  Konjugasieswamme is meestal saprobies alhoewel daar verskeie parasitiese spesies is en talle ook deur middel van mikorrisa in simbiose met plante bestaan.  Die Konjugasieswamme is in alle waarskynlikheid ‘n polifiletiese groep en word deesdae in twee filums: die Mucoromycota en die Zoopagomycota opgedeel.

Konjugeer om saam te smelt, soos wanneet twee hifes saamsmelt.

Konodontiiërs – sien Conodonta.

Konoïed verwys na ‘n unieke struktuur wat aan die voorkant van sekere Apicomplexa genera soos Toxoplasma en in ‘n rudimentêre vorm in Plasmodium voorkom.  Die konoïed vorm deel van die sitoskelet en bestaan uit antikloksgewys spiraalgedraaide filamente wat ‘n buisvormige keël vorm wat twee reguit mikrotubuli daarbinne omring.  Wanneer die parasiet aan die gasheermembraan vasheg, word die konoïed deur die apikale poolring na vore, teen die gasheer se selmembraan, gedruk en die proteïene wat deur die roptrieë en die digte granules afgeskei word, beweeg daardeur na die gasheersel se membraan.

Konotoksiene is die van keëlslakke wat hulle gebruik om hulself te verdedig en om prooidiere te dood.  Konotoksiene bevat honderde verbindings wat van spesie tot spesie verskil.  Die konotoksiene word deur spesiale tande op die radula, wat harpoentande genoem word, in die ander dier geskiet.

Kontinentale bank is die semi-horisontale na effens hellende deel van die kontinentale rand wat deur seewater bedek word.  Hierdie gebied word in mariene-ekologie die neritiese sone genoem.  Die neritiese sone strek vanaf die hoogwatermerk tot by die kontinentale helling, waarna die oseaniese sone van oopwater van die diepsee begin.

Kontinentale Drywing was ‘n teorie wat eerste deur Abraham Ortelius geopper is op grond van die vorm van die kontinente en later deur Alfred Wegener voortgebou is op grond van die verspreiding van fossiele.  Die geologiese gemeenskap (met uitsondering van mense soos Dr Alex du Toit van die Geologiese Opname van Suid-Afrika) dit grootliks verwerp terwyl die paleontologiese gemeenskap dit grootliks aanvaar het.  Arthur Holmes het voorgestel dat konveksie van magma in die mantel die kontinentale plate laat beweeg en dit was die kern van die gedagte waarom die teorie van plaattektonika, wat vandag algemeen deur wetenskaplikes aanvaar word, gebou is.

Kontinentale helling is die skerp hellende na vertikale kontinentrand wat vanaf die relatief vlak water van die kontinentale rand na die seevloer (gemiddeld 3-4 km diep) van die diepsee strek.  Klipmossels is die slakke wat algemeen op rotse rondom die kus voorkom.  Hulle het ‘n kenmerkende lae koniese skulp wat nie gedraai is nie alhoewel hul larwes se doppe soos ander slakke s’n gedraai is.  Hierdie windings verdwyn soos wat die larwes in volwassenes verander.

Kontraktiele vakuool is ‘n spesiale tipe vakuool wat in amebe en in eensellige wiere  voorkom.  Dit is betrokke by osmoregulasie deurdat dit die hoeveelheid water in daardie organismes beheer.

Konvergerende evolusie is wanneer dieselfde omstandighede (habitat, predatore, prooi) twee groepe organismes dwing om dieselfde evolusionêre aanpassings te verkry.  Goeie voorbeelde daarvan is die sterk, grawende arms met lang kloue en die lang tong en vermindering van tande wat in termietvretende miervreters van Suid-Amerika, mieregels van Australië, ietermagôe van die Ou Wêreld en die erdvark van Afrika voorkom.  Ondanks die feit dat dolfyne soogdiere is en dat ichthyosauriërs reptiele is, het beide groepe vaartbelynde visvormige lywe ontwikkel, die aanhangsels was tot vinne omskep en hulle het stertvinne ontwikkel.  Kaktusse van Amerika en euphorbias van Afrika is doringagtige vetplante, en het ondanks die feit dat hulle nie naverwant is nie, baie soortgelyke aanpassings deurgegaan het om in die woestyne van daardie kontinente te oorleef.  Hierdie kenmerke wat so ooreenstem word analoë kenmerke genoem.

Koolhidrate is organiese molekules wat uit koolstof, waterstof en suurstof bestaan met die algemene formule (CO2O)n en kom algemeen in organismes voor.  Die eenvoudigste koolhidrate is suikers wat uit vyf of ses koolstofatome bevat.  Stysels word uit verbindings van suikers gevorm, oligosakkariede word uit styselverbindings gevorm, oligosakkariedverbindings vorm sellulose, selluloseverbindings vorm lignien.  Suikers, stysels, oligosakkariede, polisakkariede, sellulose en lignien is dus almal koolhidrate.

Koolsuurgas (CO2) is ‘n gas wat uit molekules van een koolstof en twee suurstofatome bestaan.  Koolsuurgas kom in lae konsentrasies in die Aarde se atmosfeer voor en kom in baie hoë konsentrasies in Venus se atmosfeer voor.  Dit tree as ‘n kweekhuisgas op.  Koolsuurgas vorm ‘n belangrike deel van die koolstofsiklus.

Koors is wanneer mens se liggaamstemperatuur bo die gewone kerntemperatuur van 36-37°C styg.  Dit is die manier waarmee die immuunstelsel mens se liggaam teen patogeniese siektes beskerm aangesien talle patogeniese virusse, bakterieë, swamme en parasiete aangepas is om net by ‘n sekere temperatuur te oorleef.

Kopborsstuk of kefalotoraks of prosoma is die voorste liggaamsdeel (tagmata) wat in spinnekopagtiges voorkom.  Dit bestaan uit die versmelting van die kop waarop die oë en die monddele voorkom en die borsstuk waarop die pote voorkom.

Kopluis (Pediculus humanus capitis) – sien Pediculus.

Koppotiges of kefalopode (klas Cephalopoda) word gekenmerk aan 8 tot 10 tentakels of gryparms met suiers wat vir voeding, beskerming, beweging en paring gebruik word.  Die koppotiges word deur meer as 800 ekstante en 11 000 uitgestorwe spesies, wat seekatte, inkvisse, nautilus, belemniete en ammoniete insluit, verteenwoordig.  Die koppotiges het die grootste brein en van die mees komplekse oë van enige ongewerwelde en kan in kompleksiteit met dié van werweldiere vergelyk word.  Buiten vir een spesie wat in brakwater voorkom, kom hulle slegs in die see voor.  Koppotiges het meestal ‘n rudimentêre skulp wat binne die liggaam voorkom, alhoewel die Nautilus ‘n skulp het wat die liggaam bedek – soos wat die ammoniete van die oertyd gehad het.

Koproliet is versteende feses.

Kopsenuwee is ‘n senuwee wat vanuit die brein of breinstam van werweldiere ontspring.  In reptiele, voëls en soogdiere is daar 12 tot 13 paar kopsenuwees, terwyl daar in visse en amfibieës 10 pare kopsenuwees is.  Hierdie senuwees is verantwoordelik vir die innervering van sekere sintuie soos die oë, reukepiteel, gehoororgaan, balansorgane en smaakpapille en die vel op die gesig, die tong en die verhemelte.  Sekere kopsenuwees is verantwoordelik vir die senuweetoevoer tussen die brein en ander dele van die lyf.

Kopulasie verwys na paring in diere waar die mannetjie die wyfie met sy kopulatoriese orgaan penetreer om sperms na haar geslagstelsel oor te dra en interne bevrugting dus plaasvind.  Daar is egter talle diere waarby eksterne bevrugting plaasvind en waar kopulasie nie plaasvind nie.

Kopulatoriese orgaan of penetrerende orgaan is die geslagsdeel van ‘n mannetjie dier waarmee hy die wyfie se gesagsdeel penetreer om sperms na haar geslagstelsel oor te dra.  Dit word gewoonlik ‘n penis genoem, maar ander organe soos hemipenes (penes is meervoud vir penis) in reptiele en sommige voëls, gespesialiseerde pote in honderdpote en duisendpote wat gonopode genoem word, die pedipalp in spinnekoppe en die hektokotylus van kefalopode soos seekatte en inkvisse word ook gebruik.  Die penis van insekte word ook soms die aedeagus genoem.

Korale is poliepe wat aan die Klas Anthozoa van die Filum Cnidaria hoort.  Lede van die Anthozoa kom meestal in tropiese oseane in kompakte kolonies voor.  Hulle bou koraalriwwe d.m.v. die kalkryke buise wat hulle rondom hulle liggame, of poliepe, afskei. Elke poliep is ‘n sakvormige diertjie wat soos hidras en kwalle slegs een opening vir voeding en uitskeiding besit. Die Zooxanthellae is lede van hierdie klas wat simbioties met eensellige alge, wat in hul liggame voorkom, saamleef.

Kordaat – sien Chordata.

Kortketting vetsuur is ‘n vetsuur met twee tot ses koolstofatome.  Vetsure word deur bakterieë gevorm wanneer hulle vesels in kos fermenteer.

Kortneusklaasneus (Elephantulus brachyrhynchus), familie: Macroscelididae, orde: Macroscelidea. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Kortstertnagmuis (Desmodillus auricularis), subfamilie: Gerbillinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Kortvinloodswalvis (Globicephala macrorhynchus), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Korsmos – sien krustose ligeen.

Kosmopolitiese verspreiding bedoel wêreldwye.  Dit word meestal gebruik om na die verspreiding van mense en diere soos rotte en muise, wat saam met mense voorkom, te verwys.

Koudbloedig is ‘n eenvoudige term om ‘n verskeie fisiologiese toestande in diere te beskryf.  Die term koudbloedig sluit ektotermie, poikilotermie en bradimetabolisme in.  Ektotermiese diere kan nie hulle liggaamstemperatuur self handhaaf nie en moet in die son bak om genoeg liggaamshitte op te bou voor sekere funksies uitgerig kan word.  Poikilotermiese diere kan onder ‘n wye reeks temperature aktief wees.  Bradimetabolisme is die vermoë van sekere diere om hulle metabolisme by spesifieke temperature aan te pas om so te oorleef – soos wat mens in diere wat hiberneer aantref.  Diere soos visse, amfibieë en reptiele word tradisioneel as koudbloedig beskou en soogdiere en voëls as warmbloedig.  Daar is egter visse soos tuna en reptiele soos kuonodonte en theropood dinosauriërs wat warmbloedig was.  Warmbloedigheid, of die vermoë om ‘n liggaamstemperatuur wat hoër as die omgewingstemperatuur is, metabolies te handhaaf, word as teenoorstaande as koudbloedigheid beskou.

Koudofoveate – sien Caudofoveata.

Kouende monddele is die tipe monddele wat in sekere insekte soos sprinkane, krieke, hottentotsgotte, miere, perdebye, bye, termiete, kewers en ruspes voorkom.  Dit verskil van die suiende en stekende monddele wat in ander insekte voorkom en word gekenmerk aan ‘n stel getande kake wat teenoor mekaar beweeg om die kos meganies af te breek.

Kraakbeen is ‘n tipe bindweefsel wat uit chondrosiete opgemaak is.  Anders as been is dit buigbaar en kan druk hanteer maar is nie bros nie, daar is ook nie bloedvate en senuwees in kraakbeen nie.  Kraakbeen bedek die eindpunte van langbene en kom in gewrigte tussen bene voor.  Dit kom as strukturele elemente in die sternale ribbes van die borskas van tetrapode voor wat die borskas beweeglik maak wat asemhaling bemoontlik.  Kraakbeenringe kom in die lugpyp voor en kraakbeenskywe kom tussen die werwels voor.  Die neus en oorskulpe van soogdiere bestaan uit kraakbeen.  Die inwendige skelette van Agnatha en Chondrichthyes en steurvisse word deur kraakbeen opgemaak.  Die embrionale skelet, wat uit kraakbeen bestaan, verbeen soos wat die embrio ontwikkel.  Daar is drie tipe kraakbeen: hialiene, elastiese en veselryke kraakbeen.

Kraakbeenvisse – sien Chondrichthyes.

Krapvreterrob (Lobodon carcinophagus), familie: Phocidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora.  Kom rondom die Suid-Afrikaanse kus voor.

Kreb se vetmuis (Steatomys krebsii), subfamilie: Dendromurinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Krebssiklus of sitroensuursiklus is naas die ontstaan van lewe en fotosintese, die belangrikste biologiese proses wat ooit ontstaan het, en waarsonder eukariotiese organismes en meerselligheid waarskynlik nooit onstaan het nie.  Dit behels ‘n reeks chemiese reaksies wat suurstof-respirerende organismes gebruik om die energie wat in koolhidrate, vette en proteïene gestoor is deur oksidasie van asetiel-koënsiem A te ontsluit om adenosientrifosfaat (ATP) en koolsuurgas te vorm.

Krim-Kongo hemorragiese koorssiekte – sien Kongokoors.

Kriptosoïkum Era staan ook as die Prekambriese tydperk bekend.  Dit is die tydperk wat die Fanerosoïkum voorafgaan.  Voor die ontdekking van fossiele in hierdie baie ou lae, het die term verwys na geologiese lae wat volgens die beskikbare inligting bekend in daardie tyd, sonder fossiele was.  Die Kriptosoïkum is natuurlik vol fossiele maar dit is hoofsaaklik in die vorm van kerogeen en fossiele van bakterieë en stromatoliete.  Die eerste meersellige organismes, waarvan die Ediacara fossiele die bekendste is, verskyn aan die einde van hierdie era.   Die Kriptosoïkum verteenwoordig 88% van die geologiese geskiedenis van die Aarde.

Krokodille hoort aan die orde Crocodilia van die klas Reptilia.  Hierdie semi-akwatiese groep predatore het ongeveer 95 Mjg in die Laat Kryt Periode verskyn.  Hulle is, na die uitsterwing van die theropood dinosauriërs, die naaste lewende verwante aan voëls.  Krokodille en voëls het verskeie kenmerke in gemeen wat hulle van hul gemeenskaplike archosauriër voorsaat geërf het.  Beide het bv. ‘n mandibulêre opening en ‘n vierkamer-hart.  Die Pseudosuchia, wat die krokodille en hul uitgestorwe verwante insluit, het ongeveer 250 Mjg in die Vroeë Trias ontstaan en gediversifiseer en oorsprong aan die Phytosauria, die Ornithosuchidae en die Suchia gegee.  Die orde Crocodilia sluit al die ware krokodille (familie Crocodylidae), die alligators (familie Alligatoridae) en die gharial (familie Gavialidae) in.  Alhoewel meeste moderne krokodille semi-akwatiese varswater reptiele is, is daar ook mariene spesies.  In die oertyd was daar egter verskeie krokodilspesies wat op land gejag het en lang agterbene gehad het om vinnig te kan hardloop.  Die lede van die moderne krokodille behoort aan die subfamilie Crocodylinae van die familie Crocodylidae van die orde Crocodilia en kom hoofsaaklik in tropiese gebiede voor.

Kroongroep is ‘n term wat in filogenetika gebruik word.  Dit is ‘n versameling spesies wat die oorspronklike uitgestorwe voorouer, al die uitgestorwe nasate van daardie voorouer en al die lewende nasate van daardie voorouer insluit.

Kruisbesmetting verwys na die oordra van patogeniese organismes vanaf ‘n besmette organisme na ‘n onbesmette organisme.

Kruisbevrugting verwys na die uitruil van genetiese materiaal tussen twee individue.

Krustaseë – sien Skaaldiere.

Krustose ligene of korsmosse is ligene wat plat op rotse groei.

Kryt Periode (145 – 66 Mjg) is die laaste tydperk van die Mesosoïkum Era.  Hierdie tydperk was gekenmerk aan ‘n relatiewe hoë temperatuur en hoë seevlakke en talle vlak binnelandse seë bo-op kontinente.  Die oseane en seë was deur bevolkings van uitgestorwe mariene reptiele, ammoniete en rudistiese tweekleppiges bewoon terwyl dinosauriërs steeds die land en pterosauriërs die lug oorheers het.  Blomplante het in hierdie tydperk ontstaan en soogdiere en voëls het begin diversifiseer.  Hierdie tydperk eindig met die K-T massa-uitsterwing toe die Chichilub-meteoriet die Aarde getref het.

K-Pg is die afkorting vir Kreide (Duits vir Kryt) en Pg is die afkorting van Paleogeen.  Die Kryt Periode is die laaste tydperk van die Mesosoïkum, terwyl die Paleogeen die eerste tydperk van die Kainosoïkum is.  Die uitdrukking K-T is die meer algemeen bekende afkorting wat nog in omloop is.  Dit verwys na die massa-uitsterwing wat aan die einde van die Kryt Periode plaasgevind het wat aan die uitwissing van die dinosauriërs en talle ander reuse reptielgroepe en ander plante en diere gekenmerk word.  Dit dui ook die einde van die Mesosoïkum aan.  Die uitwissing was na alle waarskynlikheid deur ‘n reuse meteoriet veroorsaak.

K-T massa-uitsterwing staan ook as die Kryt-Paleoseen massa-uitsterwing bekend.  K-T is die afkorting vir Kreide-Tertiär wat die Duitse uitrukking vir Kryt-Tersiêr is.  Tersiêr is ‘n uitgediende geologiese term wat in die vorige eeu nog in gebruik was wat na die eerste typerk van die Kainosoïkum Era verwys het.  Alhoewel die moderne uitdrukking K-Pg deesdae deur sommige geoloë en paleontoloë gebruik word, bly K-T die meer bekende, en algemeen gebruikte, uitdrukking.  Dit verwys na die massa-uitsterwing ongeveer 66 miljoen jaar gelede, toe die reuse Chicxulub-meteoriet die Aarde getref het.  Hierdie meteoriet wat tussen 10-15 km in deursneë was, het die Atlantiese kus van Noord Amerika getref en ‘n impakkrater van 150 km wyd en 20 km diep op die seevloer langs die Yucatán Skiereiland van Meksiko nagelaat.  Die impak van die meteorietbotsing, die giftige iridium stof wat oor die Aarde neergesak het, die duisternis wat gevolg het weens die stof in die atmosfeer wat die son vir lank verdoof het, en die gevolglike klimaatsverandering, het tot die uitwissing van driekwart van plant- en dierspesies insluitende die dinosauriërs, pterosourërs en plesiosauriërs gelei.  Met die uitsondering van seeskilpaaie en die krokodil, het geen tetrapode swaarder as 25 kg hierdie massa-uitsterwing oorleef nie.  Hierdie gebeurtenis lui die einde van die Mesosoïkum en die aanvang van die Kainosoïkum in.  Die Die einde van die Kryt word in die geologiese rekord as ‘n dun iridiumryke moddersteen wêreldwyd aangetref.  Iridium is skaars in die oppervlakte van die Aarde maar volop in asteroïede.

Kuehneotheridiërs – sien Kuehneotheriidae.

Kuehneotheriidae is ‘n uitgestorwe familie van mammaliforme soogdieragtige reptiele.  Kuehneotheridiërs word slegs deur fossiele van hul tande verteenwoordig, maar dit wat ons het, dui daarop dat die vorm en funksie daarvan baie na aan dié van soogdiere s’n was.

Kuonodontiërs – sien Cynodontia.

Kwadraat is ‘n been agter en aan die kant van die reptielskedel waarmee die artikulêre been van die onderkaak artikuleer.  Die kwadraat en artikulêre been kombinasie vorm die kaakskarnier van reptiele, wat van die soogdiere se kaakskarnier, wat deur die dentale been en skwamosum gevorm word, verskil.  Die kwadraat van die reptiele word die aambeeld van die soogdierbinne-oor.

Kwal of medusa (Latyn) is die oorspronklike, korrekte woord vir jellievis.  Kwalle is holtediere (filum Cnidaria) wat van die mees primitiewe diere op Aarde, naas sponse, is.  Hulle het ‘n holte in die middel van hul liggame wat as spysverteringstelsel dien, met een opening wat daarin open.  Hierdie opening word die mond genoem, ondanks die feit dat dit benewens die ingestie van kos, ook die uitskeiding van afvalmateriaal hanteer.  Die kwal is gewoonlik ‘n plat of sambreelvormige jellieagtige deursigtige ronde skyf of medusa wat in die see ronddryf, op soek na prooi.  Sommige kwalle is maar ‘n millimeter in deursneë, terwyl ander tot meer as 2 m in deursneë kan word.  Kwalspesies vorm oorspronklik ‘n planulalarwe na hulle uit die eier uitgebroei het, wat iewers op ‘n rots vestig en dan ‘n poliep vorm.  Die volgroeide poliep begin dan skyfies afknop of strobileer.  Hierdie miniatuur ronde skyfies is klein kwalle wat mettertyd al hoe groter word soos hulle voed en ouer word, totdat hulle geslagsryp word en geslagtelik voortplant deur om sperms en eiers in die water vry te stel.  Kwalle is meestal karnivories en vang hul prooi met lang orale arms waarop daar talle netelselle (cnidaria) is.  Die gif in die netelselle verlam die prooi.

Kwartêr of Kwarternêre Periode (2.58 mjg, tot vandag) is die jongste geologiese tydperk in die geologiese tydskaal.  Die fossielgeskiedenis van die genus Homo val in hierdie tydperk, insluitende die verspreiding van Homo sapiens na alle kontinente.  Dit volg op die Neogeen Periode.  Die Kwartêr word in die Pleistoseen Epog (2.58 miljoen jaar gelede tot 11 700 jaar gelede) en die Holoseen Epog (11 700 jaar gelede tot vandag) verdeel.  Die Kwartêr word deur ‘n opeenvolgende reeks ystydperke en interglasiale tydperke gekenmerk.

Laaggety is die gemiddelde laagste punt wat die seewatervlak twee keer per dag, elke dag buiten tydens springety of dooigety, langs die kus daal.  Die daling van seewater is te danke aan die aantrekkingskrag van die maan, en tot ‘n mindere mate die son wat veroorsaak dat die watervlak op die punt naaste aan die maan plaasvind en ‘n soortgelyke styging in watervlak vind terselfdertyd ook aan die ander kant van die Aarde plaasvind.  Dit veroorsaak dat die watervlak tussen hierdie twee hoogtepunte daal wat die laaggety op hierdie plekke rondom die Aarde veroorsaak.  Hierdie laagte in seevlak roteer saam met die beweging van die maan regom die Aarde.  Dit is hoekom mens laaggety gewoonlik twee keer per dag ervaar (sien – Hooggety, Dooigety en Springgety).

Labium (labia meervoud) is die Latynse woord vir lip, en word vir die benoeming van ‘n verskeidenheid organe gebruik.  Een van die monddele wat algemeen in insekte voorkom word ook ‘n labium genoem.  Die labium is gewoonlik ‘n platterige reghoekige struktuur wat deur die saamgesmelte paar sekondêre maksillas gevorm word.  Die labium vorm die grootste deel van die vloer van die mond.  Die labium en die paar maksillas manipuleer kos, terwyl die insek kou.

Labrum verwys na ‘n flapagtige struktuur wat voor in die mond van omtrent al die geleedpotiges voorkom.  Dit is die sogenaamde bo-lip van insekte, terwyl die labium die sogenaamde onderlip vorm.  In muskiete vorm die labrum die hoofvoedingsbuis.

Lacertilia is ‘n suborde waarin die akkedisse val.  Daar is ongeveer 6000 bestaande akkedisspesies wat in alle kontinente buiten Antarktika voorkom.  Dit is ‘n parafiletiese groep wat die naasverwante wurmakkedisse (Amphisbaenia) en slange uitsluit.  Sekere akkedisse is nader aan wurmakkedisse, en ander is nader aan slange, as aan ander akkedisse verwant.  Hulle wissel in grootte vanaf dwerg-geitjies en verkleurmannetjies wat maar ‘n paar sentimeter lank is tot die drie meter lange Komodo Draak.  Meeste akkedisse is vierbenig, maar daar is verskeie groepe waar hulle hul bene verloor het.  Akkedisse is hoofsaaklik karnivories en meeste is insektivories.  Akkedisse en slange het ‘n beweeglike kwadraat wat hulle van die Rhynchocephalia onderskei.  Akkedisse het ook beweegbare tonge wat buite die mond uitgesteek kan word, sommige akkedisgroepe het gevurkte tonge soos die slange.  Akkedisse se velle is met skubbe, wat soos dakteëls oor mekaar pas, bedek wat hul velle waterdig maak.  Akkedisse sluit groepe soos die geitjies, verkleurmannetjies, koggelmanders, skinke en likkewane in.

Lactobacillus is ‘n genus van anaerobiese basille wat ‘n mate van suurstof kan hanteer.  Hierdie diverse groep bevat spesies wat ‘n verskeidenheid belangrike rolle in die ekologie en dier- en mensgesondheid speel.  Lactobacillus kom in die spysverteringskanale en vroulike geslagsorgane voor waar daar ‘n mutualistiese verhouding bestaan.  Lactobacillus beskerm die liggaam teen patogeenbesmetting en verskaf voedsel aan die gasheer.  Dit is een van die mees algemene bakterieë in ongegeurde, onversoete yoghurt wat nie met antibiotika gepreserveer is nie.

Laer Fungi bestaan uit die Potjieswamme (Chytridiomycota) en die Konjugasieswamme (Zygomycota).  Hierdie swamme het geen of weinig septums in hul hifes.  Hierdie hifes word aseptate of ongesepteerde hifes genoem en die sitoplasma in die hifes is senosities.

Lagena is die blaasvormige struktuur in visse, die keëlvormige struktuur in amfibieë en reptiele, tot die lang buisie van voëls in die binneoor, waarbinne die gehoorsenuwee-eindpunte geleë is.  In soogdiere het hierdie buise dermate verleng dat dit, om in die beperkte ruimte in te pas, opgekrul geraak het om die slakkehuis te vorm.  Die gehoorsenuwee strek van die lagena na die brein.

Lakustrien verwys na meer-omgewings.

Lander se saalneusvlermuis (Rhinolophus landeri), subfamilie: Rhinolophinae, familie: Rhinolophidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Landlewend of terrestrieël verwys na ‘n organisme wat op land leef en gewoonlik lugasemend is.  Diere wat beide op land en in die water (om die beurt) leef, word amfibies genoem (maar hoef natuurlik nie self ‘n lid van die Amphibia te wees nie).

Landlewende werweldiere – sien Tetrapode.

Langbene is tipies die bene wat in ledemate voorkom.  Dit sluit hoofsaaklik die boarmbeen, ellepyp, spaakbeen, dybeen, skeenbeen en speekbeen in.

Langsnoetdolfyn (Stenella longirostris), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Langstertboskeerbek (Myosorex longicaudatus), subfamilie: Myosoricinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Langstert-dakvlermuis (Eptesicus hottentotus), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Langvinloodswalvis (Globicephala melas), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Larwe verwys na die ontwikkelingstadium tussen die eier en die papie in holometaboliese insekte byvoorbeeld.  Talle ander diere soos gesegmenteerde wurms, weekdiere en amfibieës het ook larwes.  Larwes lyk meestal glad nie soos die volwassenes van daardie spesies nie en het dikwels heeltemal ander monddele en voedingswyses.  Larwes kan ook aangepas wees om in heeltemal ander omgewings as hulle volwassenes te leef – soos byvoorbeeld paddavissies en paddas, muskietlarwes en volwasse muskiete, ruspes en vlinders.  In sommige gevalle soos rooiaas en korsmossels is die larwes mobiel en die volwassenes sessiel.  In sommige gevalle soos in die geval van eendagsvlieë en sywurms sal die larwes voed terwyl die volwassenes, wat slegs bestaan om voort te plant, glad nie voed nie.

Laurasië is die noordelike superkontinent wat in die Mesosoïkum bestaan het.  Dit was op sy suidpunt aan die suidelike superkontinent Gondwanaland vasgeheg.  Laurasië het saam met Gondwanaland Pangea opgemaak.  Laurasië het 215 tot 175 miljoen jaar gelede opgebreek en oorsprong aan Noord Amerika en Eurasië gegee.

Layard se snoetwalvis (Mesoplodon layardii), subfamilie: Hyperoodontinae, familie: Ziphidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Leeu (Panthera leo), subfamilie: Pantherinae, familie: Felidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Leishmania is ‘n eensellige eukariotiese verpligte intersellulêre parasiet wat aan die orde Trypanosomatida hoort.  Sandvliegies van die genus Phlebotomus tree as vektor vir Leishmania parasiet in die Ou Wêreld op en die genus Lutzomia tree as vektor in die Nuwe Wêreld op.  Leishmania besmet die mens, dassies, lede van die hond-familie en knaagdiere en veroorsaak die siekte leishmaniose.

Leishmaniose is ‘n siekte wat deur die tripanosoom-parasiet Leishmania veroorsaak word.  Dit word van besmette tot onbesmette gasheer deur sandvlieë oorgedra wat werweldiere se bloed drink.  Die siekte kan op die vel, slymvliese of ingewande voorkom.  Velskade sluit sere en groot uitkalwings en letsels op die vel.  Slymvliesskade sluit sere rondom die mond en neus in – in sommige onbehandelde gevalle sal die protist groot gedeeltes van mens se gesig wegvreet.  Wanneer die besmetting tot by die ingewande versprei kan dit tot ‘n vergroting van die lewer en milt, koors en lae bloedtelling lei.  Ongeveer 6 miljoen mense in 98 lande is tans met Leishmania besmet.   Tussen 4 en 12 miljoen mense, in 98 lande, is tans met Leishmania besmet en tussen 20 000 en 50 000 mense sterf jaarliks daaraan.

Lepidosauria wat “geskubde akkedisse” in Grieks beteken is ‘n subklas of superorde (afhangende van die klassifikasie wat jy gebruik) waarin die ordes Squamata en Rhynchocephalia ingesluit is.  Die Squamata sluit die slange en akkedisse in en die Rhynchocephalia word vandag slegs deur die tuatara van Nieu Seeland verteenwoordig.  Die lepidosauriërs word as die sustersgroep van die argosauriërs beskou.

Lepidosauriërs – sien Lepidosauria.

Lesueur se langhaarvlermuis (Cistugo lesueuri), subfamilie: Myotinae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Leukosiete – sien Witbloedselle.

Leukositose is die verhoging in getalle witbloedselle in die bloed wat onder andere gesien word in organismes wat met parasiete besmet is.

Levant (“sonop” in Italiaans) verwys na die lande aangrensend aan die oostelike deel van die Middelandse See, oos van Italië.  Dit sluit die kusgebied van die Nabye Ooste, Libanon, Sirië, Jordanië, Israel, Palestina en Egipte in.

Lewendbarend of vivipaar.  Daar is ‘n baie klein groep diere wat viviparie as voortplantingstrategie aanwend.  Die voordeel van viviparie is dat die kleintjie wat gebore word, in sekere omstandighede ‘n groter kans vir oorlewing het as wat eiers sou hê.  Die getal kleintjies wat so voortgebring word is uiteraard baie minder as wat met eiers kon voortgebring word.  Diere soos die stertlose tenrek van Madagaskar kan tot 30 kleintjies op ‘n slag baar, terwyl ‘n mierkoningin tot 300 000 eiers per dag kan lê.  Viviparie kom in meeste soogdiere voor (daar is egter nog steeds eierlêende soogdiere soos die mieregel en die eendbekdier).

Lewensiklus is die verloop van ‘n organisme se lewe vanaf ‘n eier tot volwassene wat self voortplant deur om eiers te bevrug.  Dit is belangrik om te onthou dat selfs babas wat lewend gebaar word, eintlik as bevrugte eier die lewenspad begin het.  In talle diergroepe sluit die lewensiklus larwale stadiums in.

Lewenstadium verteenwoordig ‘n sekere ontwikkelingstadium van ‘n organisme se lewensiklus in.  Sien Lewensiklus en Ontwikkelingstadium.

Lewer of linker spysverteringsklier in weekdiere is nie homoloog aan werweldiere se lewer nie.  Die weekdierlewer speel ‘n baie belangrike rol in spysvertering maar op ‘n heeltemal ander manier as die werweldierlewer want benewens die verteringsensieme wat dit afskei absorbeer die weekdierlewer ook self kos intrasellulêr.  Daar is twee verskillende spysvertieringskliere in gastropode wat verskillende funksies verrig.  Die linker spysverteringsklier word meestal die lewer genoem terwyl die kleiner opgekrulde regter spysverteringsklier meestal bloot net dit genoem word.  Die lewer is met buisies aan die maag gekoppel.  Die langwerpige verteringselle in die lewer neem voedingstowwe op om intrasellulêr te verteer.  Die lewer is dus belangrikste plek waar voedingabsorbsie plaasvind.  Die verteringselle laat die onverteerde reste deur die lewerbuisies in die maag vry waar dit verder chemies verteer word of aanbeweeg om uitgeskei te word.  Die lewer is ook die belangrikste bron van ensieme vir ekstrasellulêre spysvertering.  Die regter spysverteringsklier skei verteringsensieme af wat deur middel van buisies na die maag oorgedra word.  Ekstrasellulêre vertering vind met behulp van hierdie ensieme in die maag plaas.

Lewerbot (Fasciola hepatica) of skaap-lewerbot is ‘n lid van die suigwurms wat ‘n parasietiese groep platwurms is.  F. gigantica is naasverwant aan F. hepatica en kan met hulle kruisteel.  Na beraming word meer as 50 miljoen mense wêreldwyd deur lewerbotte besmet.

Lewerpoortstelsel is die are wat die dermkanaal met die lewer koppel.  Dit is nie aan die res van die bloedvatstelsel gekoppel nie.

Lichtenstein se hartbees (Alcelaphus buselaphus lichtensteinii) subfamilie: Alcelaphinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Ligeen is die simbiotiese struktuur wat uit ‘n swam (mikobiont) en eensellige alge en/of sianobakterieë (fotobiont) bestaan.  Die swam verleen die struktuur en liggaamsvorm en verskaf water en minerale aan die ligeen terwyl die fotosinterende simbiont energie en metaboliete aan die ligeen deur fotosintese verskaf.

Liggaamsholte is ‘n algemene term wat baie mense gebruik wanneer mense na die abdominale holte verwys.  Die abdominale holte is die vloeistofgevulde ruimte in die buikarea waarbinne die interne organe, of binnegoed, voorkom.  Dit is egter ‘n verwarrende term, want liggaamsholte verwys eintlik na die seloom (sien Seloom en Peritoneum).

Liggaamshouding of postuur verwys na die positionering van die liggaam ten opsigte van ander liggaamsdele soos die aanhangsels en ondersteuningstrukture soos die skelet.

Liggaamstemperatuur verwys na die kerntemperatuur van ‘n warmbloedige organisme wat deur termoregulasie gehandhaaf word.

Liggaamswand in weekdiere is ‘n mantel (of pallium) wat ‘n meeste weekdiere ‘n kalkryke dop, stekels of plate afskei,

Lignien is ‘n groep komplekse organiese polimere wat die strukturele ondersteuningstelsels van vaatplante en sommige alge vorm.  Hout en bas bestaan uit lignien.

Limbiese stelsel word soms die paleosoogdierkorteks of die reptielbrein genoem.  Dit bestaan uit strukture wat in die middel van die brein voorkom en deur die serebrale hemisfere van die brein bedek word.  Dit is gekoppel aan die breinstam en daar is verskeie strukture soos die hipothalamus en die pineale orgaan wat deel daarvan uitmaak.  Die limbiese stelsel beheer primitiewe emosies wat vir oorlewing noodsaaklik is soos die veg- en vlugrespons, voortplanting en voeding, maar is ook verantwoordelik vir sirkadiese ritmes, langtermyn herinnering en die waarneming en vertolking van feromone.

Limfatiese filariose of elefantiose is die siektetoestand wat weens haarwurmbesmetting ontstaan.  Die simptome sluit: koors, kouekoors, pyn, hoofpyn, pynlike limfknope, eosinofilie en leukositose en die vergroting van sekere dele van die lyf, hoofsaaklik die bene, maar ook soms die skrotum of hand in.  Verdikking en verharding van die vel, van die geaffekteerde ledemaat, kom soms voor.

Limfosiete – sien Witbloedselle.

Limfvatstelsel is ‘n dreineringstelsel wat deel van die immunstelsel vorm en wat parallel aan die bloedvatstelsel funksioneer.  Die limfvatstelsel bestaan uit ‘n netwerk limfvate, limfknope, limfatiese organe en limfatiese weefsel.  Die helder vloeistof, of limf, wat deur die limfvatstelsel beweeg, vloei uiteindelik in die regter en linker limfatiese vate in wat in die subklaviese vena ledig en sodoende weer met die bloed gemeng word.  Anders as die bloedvatstelsel wat geslote is, is die limfvatstelsel oop.  Een van die hooffunksies van die limfvatselsel is om die vog, wat uit die bloed gefiltreer word en tussen die weefsels opbou, te versamel en te hersirkuleer.  Die tweede hooffunksie van die limfvatstelsel is om immuniteit aan die liggaam te verleen.  Wanneer limf in die limfvatstelsel versamel word, versamel dit ook allerlei afvalstowwe, proteïene, vet, bakterieë en virusse.  Limfosiete (‘n tipe witbloedliggaampie) wat oorspronklik in die beenmurg gevorm word, kom in groot getalle in limf voor.  Die limfosiete kan in B en T selle verdeel word.  Die B selle vervaardig teenliggaampies wat indringers aanval, terwyl T selle liggaamselle wat met bakterieë of virusse besmet geraak het of kankeragtig geword het, aanval en verteer.  Die grootste konsentrasies limfosiete kom in limfatiese organe soos limfknope, milt, timus en die mangels voor (sien – Witbloedliggaampies).

Linnaeaanse klassifikasiestelsel is die hiërargiese onderverdeling van organismes op grond van hul fisiese kenmerke.  Organismes word dat in spesie, Genus, Familie, Orde, Klas, Filum, Koninkryk en Domein verdeel.  Die binomeniale nomenklatuur is een van die mees bekende aspekte van hierdie klassifikasiestelsel.  Hierdie klassifikasiestelsel is reeds in die 18 eeu deur Carolus Linnaeus (Charl von Linné) ontwerp en alhoewel dit deur die eeue hersien is en voordurend aangepas en bygewerk word, bly dit steeds een van die nuttigste stelsels waarmee ons organismes taksonomies en filogeneties sorteer.

Lintwurms of sestode hoort aan die klas Cestoda van die filum Platyhelminthes. Lintwurms is lang, lintvormige, dun wurms wat uit ‘n skoleks (die kop), ‘n kort nek en die strobila (duisende “segmente” of proglottiede) bestaan.  Alle lintwurms is endoparasiete en kom meestal binne die spysverteringstelsels van werweldiere voor, terwyl die larwes meestal in werweldier of ongewerwelde tussengashere voorkom.  Sommige lintwurms is gasheerspesifiek, maar ander kan in verskeie gasheerspesies voorkom.  Daar is reeds meer as 6 000 lintwurmspesies bekend, maar dit is moontlik dat alle werweldierspesies deur ten minstens een lintwurmspesie besmet word.  Lintwurms gebruik die skoleks om aan die binnekant van die gasheer se spysverteringstelsel vas te anker.  Hulle besit nie monde of spysverteringstelsels nie en absorbeer kos direk deur hul vel.  Lintwurms is hermafrodiete en elke proglottied bevat ‘n manlike en vroulike  voortplantingstelsel.  Mense word dikwels met die beeslintwurm (Taenia saginata) of die varklintwurm (Taenia solium), of die vislintwurm (Diphyllobothrium spp.) besmet.

Lipiede is ‘n groep molekules wat onoplosbaar in water is.  Lipiede sluit vette, wasse, olies, hormone en die boustene van membrane in.

Lisamfibieë – sien Lissamphibia.

Lisosome is organelle wat in baie diere se selle voorkom.  Hulle is ronde blasies of vesikels wat ensieme bevat wat baie tipes organiese molekules kan afbreek. Lisosome is by talle prosesse wat in die sel plaasvind, betrokke, insluitende sekresie, membraanherstel, seldood, chemiese kommunikasie en energiemetabolisme.  Lisosome verteer materiaal wat in die sel opgeneem word en herwin intersellulêre materiaal.  Lisosome smelt met die membraan rondom voedselvakuole saam om hul ensieme binne die voedselvakuool vry te stel om die inhoud daarbinne op te los.  Meer as 60 verskillende tipes ensieme en meer as 50 tipes membraanproteïene kom in lisosome voor.

Lissamphibia is ‘n subklas van die Amphibia wat die ekstante amfibieë insluit.  Ekstante amfibieë hoort aan die Orde Anura (paddas en skurwepaddas), die Orde Urodela en die Orde Gymnophiona (rubberwurms).  Die volgende kenmerke kom in meeste lisamfibieë voor: dubbel oksipitale knobbels, twee tipes velkliere, vetliggaampies wat saam met gonades voorkom, groen stafies in die retina, ribbes wat nie rondom die torso strek nie, vermoë om die oogbal boontoe te lig, pomp-aksie respirasiestelsel, sillindriese sentra van die werwels, verlies van sekere agterste skedelbene.

Listeria is ‘n genus basille wat as intersellulêre parasiet in soogdiere voorkom.  Dit veroorsaak die siekte listeriose, wat veral pasgebore babas, swanger vrouens, ou mense en mense met gekompromitteerde immuunstelsels swaar tref.  Ongeveer 20% van mense wat listeriose opdoen, sterf daarvan. Hierdie bakterie kan sepsis, breinvliesontsteking en gastroenteritis veroorsaak. Mens kry Listeria bakterieë deur middel van besmette kos in.

Listeriose – sien Listeria.

Litologie verwys na die studie van die fisiese eienskappe van gesteentes – dit sluit die kleur, tekstuur, korrelgrootte en samestelling van die gesteente in.

Littledale se fluitrot (Parotomys littledalei), subfamilie: Otomyinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Littorina-Sone kom op rotsagtige kuste voor en is meestal droog en is slegs tydens springgety onder water.  Die organismes wat op hierdie vlak voorkom is baie goed aangepas om uitdroging te hanteer.  Hierdie sone, wat tussen die supragetysone (wat nooit onder water is nie) en die Boonste Balanoïedsone geleë is, word langs die Ooskus van Afrika tot by die KwaZulu-Natalse kus deur klein liggrys Littorina africana slakkies en langs die Suid- en Weskus van Suid-Afrika deur Afrolittorina knysnaensis slakkies gekenmerk.  Die Littorina-Sone is onder water gedurende springgety wat slegs twee keer per maand plaasvind.  Littorina africana en Afrolittorina knysnaensis slakkies voed op mikroskopiese alge.

Loa loa – sien Oogwurm.

Lobvinvisse – sien Sarcopterygii.

Longe is organe wat vir gaswisseling in lug as medium gebruik word.  Kiewe word meestal vir gaswisseling in water gebruik.  Die binnewand van longe is ryklik met bloedvate voorsien om gaswisseling oor die membrane tussen die binneste oppervlak van die longweefsel en die haarvatwande moontlik te maak.

Longitudinale flagellum verwys na die lang flagellum waarmee dinoflagellate swem.  Dit verskil van die transversale of dwars-fagellum deurdat dit rond in deursneë is, terwyl laasgenoemde afgeplat in deursneë is.

Longkapillêrbed is die netwerk van bloedhaarvaatjies wat die alveoli van die longe omring.  Dit is waar gaswisseling plaasvind.

Longman se snoetneuswalvis (Indopacetus pacificus), subfamilie: Hyperoodontinae, familie: Ziphidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Longontsteking verwys hoofsaaklik na die ontsteking van die alveoli van die longe wat gewoonlik deur ‘n besmetting van bakterieë of virusse veroorsaak word, maar wat soms ook deur ander mikroörganismes veroorsaak word.  Ongeveer 4 miljoen mense sterf jaarliks van longontsteking.

Loopgraafkoors word deur die bakterie Bartonella quintana veroorsaak wat deur lyfluise van ‘n besmette na ‘n onbesmette persoon versprei word.  Dit kom veral voor waar mense dig bymekaar onder onhigiëniese toestande moet bly.  Anders as tifus is loopgraafkoors selde dodelik.

Lophotrochozoa is ‘n groep verwante ongewerweldes wat dieselfde kenmerke deel wat hulle van ‘n gemeenskaplike voorouer oorgeërf het.  Die lofotrogosoïese filums het almal ‘n lofofoor – ‘n gespesialiseerde voedingsorgaan met ‘n kroon tentakels met trilhare op wat rondom die mond gerangskik is, en ‘n trogofoorlarwe.  Die Lophotrochozoa sluit die Bryozoa (filums Brachiopoda en Phoronida), weekdiere (filum Mollusca), gesegmenteerde wurms (filum Annelida saam met die slurpwurms (voorheen filum Echiura), spuitwurms (filum Sipuncula), wat deesdae by die Annelida ingesluit word), kelkwurms (filum Entoprocta), en snoerwurms (filum Nemertea) in.

Louis Pasteur (1822 – 1895) was ‘n Franse chemikus en mikrobioloog wat bekendheid verwerf het vir sy navorsing op inenting, fermentasie en pasteurisasie.  Sy navorsing op bakterieë as die oorsaak van siektes en inenting en pasteurisasie vir die voorkoming van siektes, het reeds miljarde mense se lewens gered.  Hy word as die vader van bakteriologie beskou.

Lugweg verwys na landlewende werweldiere se asemhalingstelsels.  Dit word gewoonlik verdeel in ‘n boonste (in mense) of voorste lugweg (in diere) wat die mond, neus, neusholte, sinusholtes, farinks en larinks insluit, en die onderste (in mense) of agterste lugweg wat die trachea, primêre bronchi, sekondêre bronchi, tertiêre bronchi en die alveoli van die longe insluit.

Luidiere is lede van die orde Xenartha en kom in Suid Amerika en Meso-Amerika voor.  Daar is ses luidierspesies wat tans nog bestaan en talle uitgestorwe spesies in die fossielrekord.  Luidiere is bekend vir hulle trae bewegings en stadige metabolisme.  Hulle hang met behulp van hulle lang arms en kloue onderstebo aan takke en eet blare.

Luiperd (Panthera pardus), subfamilie: Pantherinae, familie: Felidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis en Palearktis. Inheems aan Suid-Afrika.

Luiperdrob (Hydrurga leptonyx), familie: Phocidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora.  Kom rondom die Suid-Afrikaanse kus voor.

Luisbesmetting word pedikulose genoem.

Luise is die algemene naam vir enige van die ongeveer 5000 spesies van die geleedpotige groep Phthiraptera.  Luise is verpligte parasiete van warmbloedige diere soos voëls en soogdiere.  Luise is dikwels die vektore van siektes soos tifus.

Lumen is die ruimte wat binne ‘n orgaan voorkom – soos die ruimte in ‘n bloedvat, derm, nierbuis, spermbuis ens.

Lutzomyia – sien Sandvlieg.

Lycosuchidae was die eerste primitiewe therokefaliërfamilie wie se fossiele in die Middel Perm gesteentes van Suid-Afrika ontdek is.  Lykosugiërs was hond-grootte roofdiere het groot slagtande gehad en mens kry dikwels ‘n skedel met twee slagtande in die tandry, maar een is duidelik ‘n plaasvervanger van die ouer en kleiner een..

Lyfluis (Pediculus humanus humanus) – sien Pediculus.

Lyk of kadawer, is ‘n dooie mens se liggaam.  ‘n Dooie dier se liggaam is ‘n karkas.

Lykosugiërs – sien Lycosuchidae.

Lyme-siekte word deur die oordrag van die bakterie, Borrelia burgdorferi deur die swartpootbosluis Ixodes in die ooste van Noord Amerika, veroorsaak.  Simptome sluit koors, hoofpyn, tamheid en ‘n veluitslag in.

Lymnaeidae is ‘n familie slakkies wat in varswater voorkom en deur verskillende spesies lewerbotte as tussengashere gebruik word.

Maagskild is ‘n keratienplaatjie wat langs die stilussak in die maag van weekdiere voorkom. Die kosbevattende slym op die stilus draai en skuur teen die maagskild om dit verder meganies af te breek.

Maaiers is die algemene term wat vir vlieglarwes gebruik word.

Maaltande is die tande wat agter die voormaaltande in soogdiere voorkom.  Dikwels verwar mense maaltande met kiestande.  Kiestande sluit beide voormaaltande en maaltande in.  Maaltande is permanente tande wat heel laaste uitkom en het nie melktandvoorlopers wat hulle vervang nie.  Maaltande in meeste soogdiere het knobbels wat tussen spesies, genera, families en ordes verskil en dus dikwels in klassifikasie gebruik word.  Soos meeste tande is maaltande ook spesifiek by die dier se dieët aan te pas.  In meeste gevalle word maaltande gebruik om mee te kou, maar in ander soos in katte word die voormaaltand en maaltand-kombinasie gebruik om deur vleis te sny, terwyl dit klein koniese tandjies in aardwolwe is en skerp knobbels vir die kraak van insek-eksoskelette in skeerbekmuise het.

Macroscelidea – ‘n soogdierorde wat die klaasneuse of sengis bevat. Soögeografiese wyk: Ethiopis.

Madagaskar-grootlosstertvlermuis (Tadarida fulminans), familie: Molossidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Magnetiet is ‘n geoksideerde ysterverbinding wat algemeen in diere voorkom.  Dit word met die vermoë om die Aarde se magneetveld waar te neem, verbind.  Dit is bekend dat weekdiere wat magnetiet besit, kan rondbeweeg en na hul tuiste kan terugkeer.

Magreb of Maghreb (“plek van die onderganende son” of “weste” in Arabies) is die deel van Noord Afrika, aangrensend aan die Middelandse see vanaf die Atlasberge tot by die Nyl.  Die klimaatsomstandighede van die Magreb is soorgelyk aan dié van die suidelike deel van Europa en die plante en diere wat daar voorkom toon ook groot ooreenkomste wat dan ook die rede is hoekom hierdie gebied by die soögeografiese streek Palearktis ingesluit word.  Die Sahara, suid van die Magreb, vorm die soögeografiese buffer tussen die Palearktiese en Etiopiese Soögeografiese Wyke.

Makrofaag – sien Witbloedselle.

Makrogametosiet verwys in hierdie boek na die vroulike gametosiet van Plasmodium wat deur die manlike mikrogametosiet bevrug word om ‘n oökineet te vorm.  Hierdie lewenstadium kom in die spysverteringstelsel van ‘n wyfie Anopheles muskiet voor.

Maksilla is een van die beenelemente wat die bokaak van werweldiere opmaak.  In soogdiere bestaan die bokaak deur ‘n premaksilla wat die snytande huisves en ‘n maksilla wat die slagtand (oogtand in mense) en kiestande (voormaaltande en maaltande) aan elke kant.

Maksillas in insekte kom in pare voor en is onder die mandibel geplaas.  Die paar maksillas help insekte om kos te manipuleer en help met die kou van kos in insekte met kouende monddele.  Die mandibels het ook die vermoë om te voel (tas) en om te proe.

Makwassie-skeerbek (Crocidura maquassiensis), subfamilie: Crocidurinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Malakologie is die studie van weekdiere (filum Mollusca).

Malaria is die siekte wat deur die Plasmodium parasiet veroorsaak word (sien Plasmodium).  Hierdie eensellige organismes, wat op bloed teer, word deur muskiete na mense en diere oorgedra wanneer muskiete bloed drink.  Malaria-simptome sluit hoofpyn, koors, moegheid en braking in.  In erge gevalle kan dit tot geelsug, stuiptrekkings, koma en dood lei.  In 2020 was daar 241 miljoen malarialyers wêreldwyd en ongeveer 627 000 sterftes.  Ongeveer 95% van malariagevalle kom in Afrika suid van die Sahara voor.

Malariamuskiete (Anopheles arabiensis) is die muskiete wat as vektor vir die oordra van Plasmodium-parasiete na mense en diere, verantwoordelik is.

Malassezia is ‘n tipe swam wat natuurlik op die velle van baie diere, insluitende mense voorkom.

Mallemeule is ‘n merriegouround wat mens by karnavalle en skoue kry.  Daar is gewoonlik perdjies of karretjies wat op ‘n ronde platform gemonteer is wat op en af beweeg, terwyl die platform in die rondte draai.

Malleus – sien Hamer.

Maltose of moutsuiker is ‘n disakkaried (dubbel suiker) wat uit twee glukosemolekules bestaan.  Maltose word in sade en ander dele van plante aangetref wanneer stysel afgebreek word om suikers te verskaf, sodat nuwe lote gevorm kan word.

Mammaliformes, wat soogdieragtiges beteken, word gedefinieër as die klade wat die  laaste gemeenskaplike voorouer van die Morganucodontidae en Mammalia en al sy afstammelinge.  Docodonta en Kuehneotheriidae en moontlik die Haramiyidae word saam met die Morganucodontidae as Mammaliformes geklassifiseer.   Die Mammaliformes was die naaste verwante groep aan die soogdiere en het reeds meeste van die soogdierkenmerke buiten vir die getal beentjies in die binneoor en die samestelling van die kaakskarnier gehad.  Mammaliformes het slegs een beentjie – die stiebeuel (stapes) in die middeloor gehad terwyl soogdiere drie beentjies in die middeloor het, naamlik die stiebeuel, aambeeld en hamer.

Mandibels in insekte is die voorste van die drie stelle monddele wat in insekte se monde voorkom.  Die mandibels se funksies verskil van insek tot insek.  Mandibels word tipies aangewend om die insek se kos te gryp, fyn te maal of te sny.  Hierdie monddele word in sommige gevalle gebruik om die insekte teen predatore of kompeteerders te beskerm.  Die mandibels van insekte, wat eintlik aangepaste pote is, beweeg op ‘n horisontale vlak waarteenoor werweldiere se kake in ‘n vertikale vlak beweeg.

Manglietwoude kom in riviermondings voor waar varswater van riviere met seewater wat tydens hooggety in die riviermonding instoot, meng om brakwater te vorm.  Manglietbome is aangepas om die hoë soutvlakke en permanente onderdompeling van hul wortelbed te oorleef deurdat hulle die sout in spesifieke blare of takke konsentreer en dit dan afwerp, en dat hulle spesiale pneumatofore of lugwortels ontwikkel het om soos snorkels bo die water uit te steek om sodoende lug deur die wortels op te neem.

Manglietslakke is slakke wat in manglietwoude voorkom.  Hulle eet tussen getye detritus en mikroalge materiaal op die grond wat die wortelbed van die manglietwoud bedek.  Net voor die gety opstoot en die grond bedek, klim hulle teen die stamme van die manglietbome op om nie te verdrink nie.

Mangovlieg – sien Tumbuvlieg.

Mantel of pallium is die gespesialiseerde klierryke liggaamswand van weekdiere wat in meeste weekdiere ‘n kalkryke dop, stekels of plate afskei.  Die mantel bestaan uit ‘n huidplooi wat die boonste deel van die liggaam bedek en ‘n palliale of mantelholte omsluit.  Die kiewe van meeste weekdiere kom in die mantelholte voor en in landlewende slakke is die manteholte se wand met bloedvate voorsien om as long te dien.

Mantelgroef is ‘n geutvormige struktuur wat tussen die voet en die skulp van weekdiere soos monoplakofore en kewerslakke voorkom.  Sekere strukture en organe is met die mantelgroef geassosieër – in die geval van die monoplakofore is dit waar die kiewe gehuisves word en die voering van die mantelgroef dien as bykomstige respiratoriese orgaan.  Die nefridia open bo elke kief in die mantelgroef.  Die geslagbuisies open ook in die mantelgroef.

Mantelholte word deur ‘n plooi in die mantel gevorm.  Dit beslaan ‘n redelike groot ruimte tussen die dop en die liggaam van die slak.  In die geval van tweekleppiges kom die hele liggaam binne die mantelholte voor.  Die mantelholte is deur epidermis belyn en word, afhangende van die slak se habitat, deur ‘n opening aan seewater, varswater of lug blootgestel.  In die landlewende Pulmonata is dit ryklik met bloedvate voorsien en word dit as long vir gaswisseling gebruik.  In die res van die weekdiere kom die kiewe binne die mantelholte voor.  Die gonades kom in die mantelholte voor en die nefridia open in die mantelholte.

Marien verwys na oseane.

Marley se kruipmol (Amblysomus marleyi), subfamilie: Amblysominae, familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Marmotte (Cavia porcellus), is knaagdiere wat oorspronklik van die Andesberge afkomstig is.  Dit was oor duisende jare in die weste van Suid Amerika gedomestiseer om as vleisbron te dien.  Marmotte het in die Westerse wêreld as troeteldiere vanaf die 18de eeu bekend geraak en het ook in laboratoriums beland waar hulle vir biologiese studies en mediese eksperimente gebruik word.  Marmotte eet hoofsaaklik gras, maar moet ook vrugte eet, omdat hulle nie hul eie Vitamine C kan vervaardig nie.  Dit word algemeen in lande soos Bolivië, Kolombië, Ecuador en Peru geëet.

Marsupiale – sien Buideldiere.

Maskerroofwantse (Reduvius personatus) is lede van die orde Hemiptera.  Roofwantse is predatore en gebruik hulle proboskisse om op hul prooi te voed.  Die gemaskerde roofwants-nimfe bedek hulself met stof om hulself te kamoefleer en lyk letterlik soos wandelende stofbolle.  Die stof kleef selfs aan hul pote en antennas vas danksy die klewerige vloeistof wat hulle oor hul hele lyf afskei.  Gemaskerde roofwantse is van die belangrikste weeluispredatore.

Massa-uitsterwing is die uitsterwing van miljoene organismes, en dikwels hele groepe soos families, ordes en selfs klasse en filums wat op ‘n uitwissingsgebeurtenis soos ‘n meteoriet-impak volg.  Verskillende geologiese periodes word op hierdie manier deur middel van die verdwyning van sekere fossielgroepe in die geologiese rekord bepaal.  Daar het byvoorbeeld geen pterosauriërs, plesiosauriërs, pliosauriërs of dinosauriërs (buiten vir voëls) wat die K/T meteorietimpak oorleef het nie.  Die Perm/Trias uitwissing het weer tot die massa-uitsterwing van 57% biologiese families, 83% van genera, 81% van seelewende spesies en 70% van landlewende spesies gelei.

Matrysselle of matriksselle is die selle wat in bindweefsel tussen ander weefselselle, wat ‘n spesifieke funksie verrig, voorkom.  Dit verleen struktuur aan en ondersteuning vir die omliggende weefsels.

Meckel se kraakbeen is die kraakbeenelement van die skedel wat die oorspronklike onderkaak van die eerste werweldiere gevorm het.  Die embrios van alle lede van die werweldiere wat aan die Gnathastomata hoort, het ‘n onderkaak wat uit Meckel se kraakbeen bestaan.  Meckel se kraakbeen word tydens emrbionale ontwikkeling van tetrapode gewoonlik deur die bene, wat in die vel van rondom onderkaak vorm, vervang.  Hierdie dermale bene sluit die dentale, spleniale, preartikulêre, artikulêre, angulêre, surangulêre en koronoïed bene in.  In beenvisse kom daar ook ‘n mentomeckel been voor.  In kraakbeenvisse (Chondrichthyes) bestaan dermale bene nie en die Meckel se kraakbeen vorm die onderkaak van die volwasse diere.

Mediterreense vlekkoors (staan ook as Boutonneuse koors, Israeli bosluistifus, Astrakhan vlekkoors, Kenia bosluistifus en Indiese bosluistifus in verskillende gebiede bekend).  Dit word veroorsaak deur die oordrag van die bakterie Rickettsia conori deur die hondehokbosluis Rhipicephalus sanguineus.  Simptome sluit hoë koors, koue koors, hoofpyn, tamheid en veluitslag in.

Medulla of murglaag is die middelste laag van ‘n ligeen wat aan die losmasige rangskikking van hifes gekenmerk word.

Meeldou is Sakswamme van die Orde Erysiphales en vorm hoofsaaklik wit miseliums.  Sommige kom as parasiete voor, maar ander is saprobies en voed op ‘n wye verskeidenheid organiese materiaal.

Meelkewer (Tribolium castaneum), wat ook as die rooi meelkewer bekend staan, is ‘n lid van die familie Tenebrionidae van die orde Coleoptera.  Die 3-4 mm lange kewertjies is ‘n algemene pes wat in gestoorde grane en graanprodukte voorkom en wêreldwyd deur mense versprei is.  Die meelkewerlarwes voed ook op allerlei organiese materiaal, insluitende rotmis waar hulle die dwerglintwurmeiers ingesteer.  Meelkewers tree as vektore vir die verspreiding van dwerglintwurms op.

Meelmotte (Pyralis pictalis) is lede van die familie Pyralinae, wat oorspronklik in Asië voorgekom het, en deur mense wêreldwyd versprei is, se ruspes word dikwels in meel en gestoorde grane aangetref.  Hulle voed egter ook op die eiers van ander insekte soos weeluise s’n.

Meersellig verwys na organismes wat uit meer as een sel bestaan.  Die teenoorgestelde hiervan is eensellig.

Meersellig verwys na organismes wat uit meer as een sel bestaan.  Die teenoorgestelde hiervan is eensellig.

Megafauna is ‘n algemene term wat gebruik word om na besondere groot oerdiere te verwys, veral as hulle groter as moderne diere is – bv. mammoete, oerbere, reuse luidiere, reuse bewer, dinosauriërs, reuse lopende roofvoëls.

Mega-herbivoor is ‘n plantvreter wat 1000 kg of meer weeg.  Hierdie diere se grootte maak dit moeilik vir roofdiere om hulle te kan jag.  Hedendaagse voorbeelde is die olifant, renoster, seekoei, kameelperd.  In die oertyd was daar mammoete, grond-luidiere en die reuse wombat.  Oermense het al die megaherbivore buite Afrika gejag tot hulle uitgewis is.

Meganoreseptore neem vibrasies en verwringing van die vel van ‘n organisme waar.  Dit stel ‘n dier in staat om sy omgewing te verken en om aanraking te vermy.

Meiose is ‘n tipe seldeling wat in diploïede organismes voorkom wat geslagtelik voortplant.  Tydens meiose word die chromosoomgetal in voortplantingselle in twee gedeel sodat elke sperm of eiersel slegs een stel chromosome bevat.  Die sperms en eierselle is dus haploïed.

Meiosporangium is ‘n sporangium (soos ‘n sakswam se askus byvoorbeeld) waarbinne daar meiospore deur meiose gevorm word.

Meiospore is haploïede swamspore wat deur meiose gevorm word.  Dit is ‘n produk van die geslagtelike voortplantingsproses.

Melaats, wat ook as Hansen se siekte bekend staan, is ‘n siekte wat deur ‘n langtermyn besmetting met die bakterieë Mycobacterium leprae of Mycobacterium lepromatosis veroorsaak word.  Die bakteriebesmetting beskadig senuwees, die asemhalingstelsel, vel en oë.  Die senuweeskade kan veroorsaak dat mense gevoel in hul hande en voete verloor, wat tot aanhoudende beserings en besmetting en uiteindelik die verlies van die vingers en tone kan lei.  Meeste mense wat in kontak met die bakterieë kom, ontwikkel nie die siekte nie, maar ongeveer 5% kan dit deur kontak met ‘n siek persoon aansteek.  In sommige gevalle toon besmette persone melaatssimptome na ‘n jaar, maar in ander gevalle kan dit tot 20 jaar duur, voor hulle simptome toon.

Melatonien is ‘n hormoon wat hoofsaaklik snags deur die pineale klier afgeskei word om die slaap-wakker siklus en bloeddruk te beheer.  Dit speel ook ‘n belangrike rol in die regulering van sirkadiese ritmes in die metabolisme van werweldiere en help met die tydsberekening van nesbou, paringsrituele, verharing, migrasie en hibernering.  Melatonien speel ‘n rol in die beheer van oksidatiewe stres in plante en sekere fungi.

Melck se dakvlermuis (Neoromicia melckorum), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Melk is die vloeistof wat deur ‘n moederdier vervaardig word om haar kleintjie te voed.  Melk bestaan hoofsaaklik uit vette en proteïene wat in ‘n waterige medium gesuspendeer is.  Die hoeveelheid water kan wissel wat die loperigheid daarvan beïnvloed.  Melk kom in alle soogdiere, sekere voëls en sekere insekte voor.  Die samestelling van melk is verbasend soortgelyk in al hierdie onverwante groepe en het onafhanklik van mekaar ontstaan.  Melk word deur die melkkliere van soogdiere uitwendig, gewoonlik deur tepels, uitgeskei, maar in die geval van eierlêende soogdiere soos die eendbekdier en mieregel, word melk deur plekke op die pensvel van hierdie diere afgeskei waar hulle kleintjies dit uit die hare suig.  Melk word ook deur die melkkliere binne die uterusse van tsetsevlieë, botvlieë en vlêrmuisvlieë (superfamilie Hippoboscoidea) uitgeskei.  Die enkele reuse larwe, wat daarbinne uitbroei en ontwikkel, drink die melk binne die uterus.  Voëls se melk is ‘n dik pasta wat in die voorste deel van hulle spysverteringstelsel vervaardig word en in hulle kleintjies se monde uitgebraak word.  Duiwe vervaardig melk in hulle kroppe en flaminke en mannetjie keiserpikkewyne skei melk in hulle slukderm af.

Melkklier is die kliere wat in soogdiere voorkom wat melk vervaardig.  Dit kom gewoonlik vanaf die onderarm tot by die lies voor.  Dit is die enigste egte unieke soogdierkenmerk van die vyf sogenaamde soogdiereienskappe.  Alle lewende soogdiere het melkkliere – meeste het tepels maar die primitiewe eierlêende soogdiere van Australië het nie tepels soos ander soogdiere nie maar eenvoudige melkkliere op die pens wat melk afskei.  Die kleintjies lek en suig aan die melkdeurweekte hare daaromheen.  Die eendbekdier het twee sulke melkkliere op die pens en in die pennetjiesmiervreter kom die melkkliere in die broeisak (voorloper van die buidelsak) voor.

Melktande is die eerste stel tande wat ‘n difiodont soogdiere voorkom.  Hierdie tande word deur permanente tande vervang.  Sekere soogdiere soos olifante, manatees en kangaroes wat regdeur hul lewe hul tande vervang word as polifiodont beskou wat die begrip van melktande oorbodig maak.

Meller se muishond (Rhynchogale melleri), familie: Herpestidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Membraan verwys na ‘n dun laag weefsel of organiese materiaal wat strukture omring of van ander skei.  Selmembrane bestaan uit fosfolipiede wat mikroskopiese velle of sfere vorm wat die selmateriaal omring, terwyl membrane in ‘n liggaam uit ‘n spesiaal aangepaste weefsellaag bestaan.

Mensvlooie (Pulex irritans), ook bekend as huisvlooie of varkvlooie, hoort aan die orde Siphonaptera.  Mensvlooie voed op mensbloed, maar kan ook op ander diere soos varke leef.  Mensvlooie speel ‘n belangrike rol in die oordra van siektes.  Vlooilarwes eet rotmis en die eiers daarin, soos dié van die rotlintwurm Hymenolepiasis diminuta, die dwerglintwurm Hymenolepis nana en die hondelintwurm Dipylidium caninum.  Hierdie parasitiese sisteserkusse word dan na die gasheer, insluitende die mens, oorgedra as die gasheer ‘n besmette vlooi insluk.  Vlooie kan ook as vektore vir virale, bakteriële en protosoïese patogene optree.  Van die algemene patogene in vlooie, wat na die mens oorgedra kan word, sluit bakterieë soos Rickettsia typhi en Rickettsia felis, wat endemiese tifus veroorsaak, en Yersinia pestis wat vir builepes of die Swart Dood verantwoordelik was.

Merosoïete is die ontwikkelingstadium van Plasmodium wat in die lewer- of rooibloedselle van die soogdiergasheer voorkom.  Nadat ‘n sporosoïet ‘n lewersel of rooibloedsel binnedring, verdeel dit talle kere deur tweedeling om honderde tot duisende amebe-agtige merosoïete te vorm.  Die besmette lewer- of rooibloedsel bars oop om die merosoïete vry te laat wat dan nog ander lewer- of rooibloedselle besmet.

Mesoderm is die middelste laag weefsel in die vroeë embrio, tussen die ektoderm (buite) en die endoderm (binne), wat oorsprong aan onder andere die skelet, spiere, hart, bloedvate, uitskeidingsorgane en geslagsorgane gee.

Mesofilies dit is organismes wat matige temperature (20°- 45° C) benodig om te leef.

Mesosaurus, die oudste Suid-Afrikaanse reptiel-fossiel, het net soos die stamreptiele en skilpaaie geen slaapwyk-openinge gehad nie en word dus as ‘n parareptiel of anapsied geklassifiseer.  Mesosaurus het ‘n langwerpige akkedisagtige lyf gehad, maar aangesien dit ‘n seelewende dier was het dit ook lang agterpote, waarskynlik met webbe tussen die lang tone, en ‘n afgeplatte stert gehad om mee te swem.  Hulle het talle naaldvorige tande gehad.  Mesosaurus-fossiele was in Suid-Amerika en in die Karoo ontdek en was een van die fossiele wat gebruik was om te bewys dat die twee kontinente in die oertyd aanmekaar gekoppel was en dat Gondwanaland bestaan het.

Mesosoïkum Era (252 – 66 miljoen jaar gelede) word ook soms die Tydperk van Dinosauriërs of die Tydperk van keëlplante genoem.  Die Mesosoïkum word in drie dele van oudste na jongste: die Trias, Jura en Kryt Periodes verdeel.  Die Mesosoïkum volg op die Perm-Trias massa-uitsterwing en eindig met die K-T massa-uitsterwing.  Gondwanaland het in hierdie tydperk opgebreek.  Dinosauriërs, plesiosauriërs, igtiosauriërs, mosasauriërs, pterosauriërs, voëls, soogdiere en blomplante het in hierdie tydperk ontstaan.

Metaan (CH4) kom as ‘n natuurlike gas op Aarde voor en word dikwels vir brandstof gebruik.  Dit word deur geologiese en biologiese prosesse vervaardig en kom in die aardkors en onder die seevloer op plekke voor.  Dit word ook as ‘n neweproduk van fermentasie gevorm.  Atmosferiese metaan kom op Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus voor.

Metaboliet is ‘n tussenproduk of eindproduk wat deur metabolisme gevorm word wanneer die liggaam kos, ander chemikalieë, of sy eie selle afbreek.

Metaboliseer is die proses van metabolisme.  Organismes metaboliseer kos en ander chemiklalieë om sekere metaboliese funksies soos respirasie, voeding en voortplanting te verrig.

Metabolisme is die lewensonderhoudende chemiese reaksies in organismes.  Metabolisme bestaan uit twee prosesse – katabolisme of dissimilasie wat die afbreek van organiese materiaal is, en anabolisme of assimilasie wat die opbou van nuwe verbindings uit organiese voedingstowwe wat opgeneem is.  Die drie hooffunksies van metabolisme is:

  • om kos in energie te omskep om sellulêre prosesse te dryf;
  • om kos in boustene vir proteïene, lipiede, nukleïensure en sekere koolwaterstowwe te omskep;
  • en die eliminasie van metaboliese afvalstowwe.

Hierdie ensiem-gekataliseerde prosesse, wat meestal in die teenwoordigheid van suurstof plaasvind, stel organismes in staat om te groei, voort te plant, struktuurintegriteit te handhaaf en om op hul omgewing te reageer.  In kort: metabolisme is die somtotaal van al die chemiese reaksies wat in lewende organismes plaasvind.

Metamerisme verwys na die metameriese rangskikking van organe.  Dit gaan gewoonlik gepaard met segmetale rangskikking van organe, waar die organe in opvolgende segmente herhaal word.  Wanneer die skotwande of septums wat die segmente verdeel verdwyn, kom metameriese rangskikking van organe in talle diere steeds voor. Voorbeelde hiervan is die spiere, senuwees, kiewe en nefridia van monoplakofore en die kop- en rugsenuwees, maagspiere en werwels van werweldiere.

Metaserkarie verwys na die geënkisteerde lewerbotlarwe wat op ‘n blaar van ‘n plant, naby of in die water, vorm.  Dit is die lewenstadium wat deur mense en diere ingeneem word, wanneer hulle die plante in of langs die water eet, of plante wat met besmette water natgelei is, eet.

Metatheria – sien Buideldiere.

Methanobrevibacter smithii is die volopste archaea in die dermmikrobioom.  M. smithii speel ‘n belangrike rol in die vertering van polisakkariede deur om die eindprodukte van bakteriële fermentasie te verbruik.

Methanosphaera stadtmanae is ‘n kokkus-vormige archaea wat energie bekom deur om metanol in metaan om te skep.  Dit kom as deel van die mikrobiota in die dikderm voor.

Midas se losstertvlermuis (Mops midas), familie: Molossidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Middeloor is die deel van die gehoorapparaat of oor (in die breë konteks gesien), tussen die oordrom en binneoor.  Dit is die ruimte waarbinne die gehoorbeentjies geleë is.  In tetrapode buiten soogdiere, kom slegs die stapes in die middeloor voor.  In soogdiere kom daar egter ‘n hamer (malleus), aambeeld (incus) en stiebeuel (stapes) voor.  Klankgolwe word van die oordrom, deur die gehoorbeentjie of gehoorbeentjies na die ovaal venster van die binneoor, oorgedra.  Die eustachiese buis open ook in die middeloor.

Mierbrood verwys na die miseliumbol wat binne sommige termietneste gevind word en wat deur die termiete as kosbron benut word (natuurlik sou die term termietbrood meer akkuraat wees).

Migrasie is die beweging van organismes oor ‘n groot afstand.  Hierdie beweging vind gewoonlik seisoenaal plaas soos in die geval van swaeltjies, ooievaars en kolganse wat jaarliks tussen Suid-Afrika en Eurasië of die Midde Ooste pendel.  Dit kan ook na die beweging van organismes, soos die een keer in ‘n leeftyd migrasie van salm van die see terug na die riviere waar hulle self uitgebroei het, verwys.  Dit kan ook na die beweging van oermense, plante en diere, wat permanent van een kontinent na die ander beweeg, verwys.

Mikobiont is die swam-simbiont van ‘n ligeen.  Die swam vorm die tallus van die ligeen en verskaf die water en minerale aan die ligeen.

Mikologie: swamkunde.

Mikoloog: swamkundige.

Mikorrisa is die simbiotiese assosiasie van die miselium van een of meer swamme met die haarwortels van ‘n plant.  Spesiale hifes van sommige grondlewende konjugasieswamme, sakswamme en steeltjieswamme dring plante se haarworteltjies binne.  Aanvanklik sou hierdie interaksie sekerlik parasities van aard gewees het, maar ‘n mutualistiese toestand was tussen sekere spesies swamme en plante bereik waardeur beide organismes baat.  ‘n Digte netwerk van mikorrisa van die swam en haarworteltjies van die plant word in die sogenaamde risosfeer ondergronds gevorm.  In sekere gevalle is tot 15 verskillende mutualistiese swamspesies per plant gevind.  Die risosfeer bevat baie ander organismes en veral sekere bakterieë waarby beide plante en swamme baat.  Die plant verskaf suikers aan die bakterieë en swamme wat dan in ruil minerale en ander chemiese verbindings aan die plant verskaf.

Mikrobioom is die gemeenskap van mikroörganismes wat in enige spesifieke habitat, wat aan sekere chemiese en fisiese einskappe gekenmerk word, voorkom.  Die mikrobioom sluit ook die interaksie tussen hierdie spesies wat daarin voorkom, die produkte wat hulle vervaardig, en die wisselwerking tussen die mikrobiota en hulle gasheer in.  Die menslike mikrobioom sluit al die mikro-organismes op ons vel, melkkliere, oë, ore, spysverteringstelsel, asemhalingstelsel, voortplantingstelsel en weefsels in.

Mikrobiota is al die spesies (meestal bakterieë, maar ook archaea, swamme en virusse in die mens, en ook alge en klein protiste in ander organismes) wat in die mikrobioom voorkom.  Die diversiteit van mikrobiota is ‘n teken van gesondheid en ‘n laer verskeidenheid organismes word as ‘n teken van disbiose beskou (sien Disbiose).

Mikrogametosiet verwys in hierdie boek na die manlike gametosiet van Plasmodium wat die vroulike makrogametosiet in die spysverteringskanaal van ‘n wyfie Anopheles muskiet bevrug om ‘n oökineet te vorm.

Mikrokefalie verwys na ‘n afwyking waar iemand met ‘n besondere klein brein gebore word.  Dit is een van die simptome wat deur die zika virus veroorsaak word wanneer ‘n swanger ma deur ‘n muskiet met die zika virus gebyt word.  Mense met mikrokefalie is erg neurlogies gestrem.

Mikrometer of micron (μm) is een miljoenste van ‘n meter, of een duisendste van ‘n millimeter.  Die kleinste organismes soos bakterieë en archaea is 1-5 μm groot.

Mikron – sien Mikrometer.

Mikroneme is gespesialiseerde organelle wat in die voorste deel van die sel van lede van die Apicomplexa voorkom.  Mikroneme skei proteïene af wat die inval in die gasheersel begin deur om die gasheersel se membraan binne te dring.

Mikro-organismes is organismes wat te klein is om met die blote oog te sien.  Ons weet van die bestaan van mikro-organismes, omdat ons hulle onder die mikroskoop kan bestudeer.  Mikro-organismes sluit bakterieë, protiste, swamme, plante, chromiste en diere in.

Mikrotubuli (meervoud) is die proteïenkettings wat in lang spirale opgedraai is om buigbare strukture binne die sel te vorm.  Die mikrotubuli onder die selmembraan word aangewend om die sel te verstewig en die vorm te behou en word ook vir die beweging van die sel aangewend.  Dit word ook gebruik om die spindel tydens seldeling te vorm en dit vorm die kern van silia en flagella waar dit ‘n kenmerkende negevoudige rangskikkingspatroon het.  Mikrotubuli word ook in die sitoskelet saam met proteïenfilamente aangewend om die sel van binne te verstewig.

Miksotrofie is ‘n voedingswyse wat die benutting van verskillende bronne vir energie en koolstof insluit eerder as om energie en koolstof met behulp van of heterotrofie, of outotrofie, soos wat die geval in meeste ander organismes is, te bekom.  Meer as helfte van die organismes in plankton is miksotrowe wat voedingstowwe met behulp van fotosintese en predasie of aas bekom.  Miksotrofiese organismes sluit beide prokariote en eukariote in.

Milt is ‘n orgaan wat in bykans alle werweldiere voorkom.  In soogdiere kom aan die linkerkant langs die maag voor.  Dit het dieselfde struktuur as ‘n groot limfknoop en is deel van die limfvatstelsel.  Die milt se funksie is om die bloed te filtreer en witbloedselle te vervaardig en te vernietig.

Minerale is chemiese verbindings wat gewoonlik in rotse of presipitate voorkom.

Miniatuurpotvis (Kogia sima), familie: Kogiidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Minkewalvis (Balaenoptera acutorostrata), subfamilie: Balaenopterinae,  familie: Balaenopteridae, suborde: Mysticeti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Mioseen Epog (23.03 – 5.333 Mjg).  Die naam is afgelei van die Grieks μείων (meiōn, “minder”) en καινός (kainos, “nuut”) wat bedoel minder nuut omdat hierdie biostratigrafiese eenheid 18% minder fossiele van moderne seediere as die Plioseen het.  Die Himalajas het in hierdie tydperk nog hoër geword wat ‘n effek op die klimaat gehad het en wat die verskynsel van monsoenreëns veroorsaak het.  Die monsoenreëns het weer veroorsaak dat die Aarde begin afkoel het wat uiteindelik tot die daaropvolgende ystydperke sou lei.  Grasvelde het wêreldwyd uitgebrei terwyl woude se verspreiding verder gekrimp het.  Die ape het gedurende hierdie tydperk gediversifiseer en het wydverspreid oor die Ou Wêreld (Afrika & Eurasië) voorgekom.  Kelpwoude het vir die eerste keer in die see verskyn.

Mirasidium is die tweede ontwikkelingstadium in die lewenskilus van trematode soos die bloedbot Schistosoma.  Wanneer trematood-eiers in water kom, broei dit uit om mirasidiums in die water vry te stel.  Die mirasidium is bedek met ‘n dik laag silia waarmee hulle in die water rondswem op soek na ‘n geskikte gasheer, naamlik ‘n varswaterslakkie van ‘n sekere spesies.  Die mirasidium tonnel deur die slak se vel met behulp van ‘n apikale papilla en die ensieme wat hulle afskei.  Die mirasidium werp die silialaag af en groei ‘n nuwe vel en gee oorsprong aan die volgende ontwikkelingstadium – die sakagtige sporosist.

Mississippium Epog of Subperiode (358.9 – 323.2 Mjg) staan ook as die Vroeë Karboon bekend.  Die tipe-vindplek van hierdie geologiese biostratigrafiese eenheid is in die Mississippi Riviervallei.  In ander lande soos Europa is die oorgang van die lae van see na land meer gelykmatig en die verskille tussen die sedimentêre lae van die twee opeenvolgings is nie so duidelik soos in Noord Amerika nie en dus word hierdie sisteem nie dikwels buite Noord Amerika gebruik nie.  Gedurende die Mississipium het vlak seë dele van Noord Amerika bedek het en meeste van die fossiele in die Mississipium is dié van seediere en diere wat in riviermondings en moerasse geleef het.

Mirasidium is die tweede ontwikkelingstadium in die lewenskilus van trematode soos die bloedbot Schistosoma.  Wanneer trematood-eiers in water kom, broei dit uit om mirasidiums in die water vry te stel.  Die mirasidium is bedek met ‘n dik laag silia waarmee hulle in die water rondswem op soek na ‘n geskikte gasheer, naamlik ‘n varswaterslakkie van ‘n sekere spesies.  Die mirasidium tonnel deur die slak se vel met behulp van ‘n apikale papilla en die ensieme wat hulle afskei.  Die mirasidium werp die silialaag af en groei ‘n nuwe vel en gee oorsprong aan die volgende ontwikkelingstadium – die sakagtige sporosist.

Miselium of swamvlok is die massa hifes wat die tallus of vegetatiewe deel van ‘n indivdule swam opmaak.  Die miselium bestaan uit ‘n massa vertakkende en anastomerende hifes.  Die miseliums van landlewende swamme kom meestal in die grond en in verrottende plantmateriaal voor.  Sommige miseliums is mikroskopies klein tot ander soos die heuningpaddastoel wie se miselium etlike hektare beslaan.  Die miselium voed deur om ensieme deur porieë in die selwand op ‘n kosbron te sekreteer wat die kosbron in kleiner molekules opbreek wat dan weer deur die porieë in die selwand met behulp van diffusie en aktiewe vervoer deur die selmembraan in die hife inbeweeg.  Miseliums is baie belangrik in terrestriële en akwatiese ekostelsels waar dit hoofsaaklik plantmateriaal afbreek en koolsuurgas in die atmosfeer terugplaas.  Miseliums vorm saam met plantwortels ‘n simbiotiese verhouding in die vorming van ‘n mikorrisa wat beide die plante en swamme ten opsigte van voeding bevoordeel.  Miseliums dien ook as voedselbron vir talle grondbewonende ongewerwelde diere.

Miskruiers is kewers wat aan die superfamilie Scarabaeoidea hoort.  Hulle versamel mis van soogdiere en rol dit in bolle.  Die bolle word na geskikte plekke gerol waar die miskruier ‘n gat grawe om die bol in te begrawe.  ‘n Wyfiemiskruier sal eiers in ‘n misbol lê.  Die eiers broei uit en die larwes voed op die misbol ondergronds, totdat dit volgroeid is en papies vorm wat na ontwikkeling in miskruiers ontpop.

Misositose behels die uitsuig van inhoud van die gasheersel deur die strootjievormige konoïed wat op die voorkant van die selle van protiste van die takson Myzozoa voorkom.

Mitochondria (meervoud) is organelle wat in die selle van meeste eukariotiese organismes voorkom en speel ‘n allerbelangrike rol in selrespirasie en om energie deur middel van die sitroensuursiklus in die vorm van ATP aan die te sel verskaf.  Die getal mitochondria in ‘n sel kan wissel van organisme tot organisme en van orgaan tot orgaan en weefsel tot weefsel.  Meeste plant, dier en swamselle het verskeie mitochondria in elke sel, maar volwasse rooibloedligaampies in soogdiere het geen mitochondria nie, terwyl ‘n lewersel meer as 2000 in kan hê.  Die mitochondrion (enkelvoud) word deur ‘n dubbelmembraan omhul.  Die mitochondrion besit sy eie DNS (wat soos dié van ander bakterieë is, wat ons tot die slotsom laat kom het dat mitochondria inderwaarheid oorspronklik bakterieë was) en is verantwoordelik vir sy eie voortplanting wat deur middel van tweedeling plaasvind.

Mitose is die proses van seldeling waardeur twee dogterselle vorm wat geneties dieselfde as die oorspronklike sel is.  Haploïede selle vorm deur mitose haploïede selle en diploïede selle vorm deur mitose diploïede selle.  Dit is die tipe seldeling wat in die vegatiewe voortplanting of groei van ‘n organisme plaasvind.

Mitosome is die oorblyfsels van mitochondria.  Mitosome word slegs in anerobiese protiste soos Excavata, wat nie mitochondria besit nie, aangetref.  Mitosome het, net soos mitochondria, ‘n dubbelmembraan.  Die proteïene wat met mitosome geassosieër is, is soortgelyk aan dié wat met mitochondria geassosieër is.  Mitosome het egter nie DNS soos wat binne mitochondria voorkom nie.  Mitosome se DNS is in die DNS van die selkern opgeneem.

Mitospoor is ‘n spoor wat deur mitose gevorm word.  Dit kan haploïed of diploïed wees afhangende van die swamspesie.  Dit is ‘n vorm van ongeslagtelike voortplanting.

MIV is die Menslike Immuniteitsgebreksvirus, beter bekend in die media as HIV (“Human Immunodificiency Virus”) wat vir die verworwe immuniteitsgebreksindroom (VIGS) verantwoordelik is.  MIV is ‘n retrovirus wat die tru-transkriptase ensiem gebruik om kopieë daarvan met behulp van die DNS in menslike selle te maak.  Hierdie virus veroorsaak VIGS deur om die witbloedselle, wat vir die immuunstelsel se reaksie op siektes verantwoordelik is, vir hul voortplanting te gebruik en in die proses te vernietig.  Dit veroorsaak dat VIGS-lyers nie meer die natuurlike vermoë het om hulself teen virusse, bakterieë, swamme en parasiete te beskerm nie.  Suid-Afrika het die grootste gemeenskap VIGS-lyers ter wêreld.  Daar word vermoed dat tot 40% van die Suid-Afrikaanse bevolking tussen die ouderdomme van 15 en 49 MIV-positief kan wees.  Lees meer van virusse op: https://wereldomons.co.za/2021/05/13/virusse-1-die-ontstaan-van-virusse/

Mjg – Miljoen jaar gelede.  Dit word soms as Ma vir Mega annum aangedui, maar dit is te verwarrend om Ma in Afrikaans te gebruik en dus verkies ek Mjg.

Mobiel of motiel verwys na vrye beweging van ‘n organisme.  Dit is die teenoorgestelde van sessiel of ‘n sittende lewenswyse waar die organisme permanent vas op een plek leef.

Modderspringers is een van 32 spesies visse wat aan die familie Oxudercidae behoort.  Hierdie visse kan uit die water kom en vir rukkies op land leef.  Hulle het kenmerkende groot bolvormige oë bo-op hulle koppe en kan op hulle borsvinne, wat aangepas is om as pote te dien, rus en loop en klim.  Hierdie vissies hou suurstofryke water in hulle kiefkamers wanneer hulle buite die water rondbeweeg, maar, sodra die suurstof in die water opraak, gaan hulle terug in die water in om die suurstofarme water met suurstofryke water te vervang.  Mannetjie modderspringers bou dammetjies van modder waarbinne hulle wyfies lok om mee te paar.

Molekulêre studies verwys na analises van DNS, proteïene en ander organiese molekules om die verwantskappe tussen organismes te bepaal.

Mollusca – sien Weekdiere.

Mollusk is van die Latyn molluscus afgelei wat van die Griekse woord  μαλακός (malakós) afgelei is.  Aristoteles, die beroemde Griekse filosoof en wetenskaplike, wat dierkunde as studiegebied gevestig het, het weekdiere as volg beskryf: τὰ μαλάκια (ta malákia) of te wel “die sagtes”.  Sien – Weekdiere.

Mondholte is eenvoudig die holte agter die mondopening voor die farinks.  Daar is dikwels strukture soos ‘n tong en tande en openinge van speekselkliere in die mondholte teenwoordig.  In meeste tetrapode open die neusgate direk in die mondholte.  In krokodille en soogdiere en soogdiere se voorsate – die therokefaliërs en kuonodontiërs – word die mondholte van die neusholte deur ‘n verhemelte geskei wat die dier toelaat om asem te haal terwyl die mondholte vol kos of water is.  In diere wat nie ‘n verhemelte het nie, word daar net na ‘n mondholte verwys en nie na die neusholte nie.

Monofileties verwys na ‘n groep organismes wat almal van ‘n gemeenskaplike voorouer afgestam plus die voorouer.  Hulle sal ook tipies almal dieselfde verworwe eienskappe besit wat hulle van ander groepe sal onderskei.

Monokariotiese hifes verwys na hifes wat slegs een kern per sel het.  Die primêre miselium van Steeltjieswamme is monokarioties.

Monoplakofore (klas Monoplacophora) is ‘n relatief onbekende groep wat tans 31 bekende spesies bevat – dis die rede hoekom hierdie groep nie ‘n algemene naam het nie.  Die rede vir hierdie groep se relatiewe onbekendheid is omdat dit net in die diepsee op die seebodem voorkom en eers in 1952 ontdek is.  Monoplakofore het ‘n oop skulp soos sekere rotsmossels maar met geen torsie van interne organe soos in buikpotiges nie.  Soos alle weekdiere het monoplakofore geen segmente maar het wel segmentaal (metameries) gerangskikte organe.

Monotremate – sien Eierlêende soogdiere.

Monotropiese parasiete voed slegs op een gasheerspesie.

Moordvis (Orcinus orca), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Morelle is ‘n tipe sakswam of askusswam (Ascomycota) wat groot, eetbare sporokarpe, soortgelyk aan die paddastoele van die steeltjieswamme maak.  Morelle word gekenmerk aan ‘n netwerk van riffels en voue op die hoed.  Die hoed is ook meer langwerpig as paddastoele se hoedens wat meestal ‘n plat sambreelagtige struktuur het.

Morfologie is die studie van die verhouding van anatomiese strukture binne die organisme en tussen organismes.

Morganucodon is een van die oudste soogdierfossiele bekend – sien Morganukodontiërs.

Morganukodontiërs (Morganucodontidae) het reeds ongeveer 200 miljoen jaar gelede in die Laat Trias verskyn.  Hulle was die eerste diere wat ‘n dentale-skwamosum kaakgewrig gehad het wat alleen vir die artikulasie van die onderkaak verantwoordelik was.  Die oorspronklike reptiel-kaakgewig, wat deur die artikulêre been en die kwadraat gevorm was, het nie verdwyn nie maar was nou as die hamer en aambeeld slegs vir gehoordoeleindes aangewend.

Mos hoort aan die filum (divisie volgens sekere plantkundige klassifikasies) Bryophyta.  Mosse is klein vaatlose landplantjies wat tussen 0.2 mm – 50 cm in lengte wissel.  Mosse vorm die evolusionêre skakel tussen primitiewe Briophyta soos wolfskloue en varings.  Soos die res van die Briophyta het mosse ‘n dominante haploïede gametofietgenerasie en ‘n diploïede sporofietgenerasie wat verskil van vaatplante soos varings en saadplante waar die diploïede sporofietgenerasie dominant is.  ‘n Mosplantjie bestaan gewoonlik uit ‘n stingeltjie waaraan klein enkel-sellaag blaartjies gekoppel is.  Die stingel het vate wat water en voedingstowwe vervoer maar dit is nie in die vorm van gespesialiseerde vaatweefsel soos wat in vaatplante voorkom nie.  Die sporofiet vervaardig spore wat ontkiem om nuwe gametofiete te vorm.  Die gametofiete vorm sperms wat eierselle bevrug om nuwe sporofiete te vorm.

Mosambiek-woudmuis (Grammomys cometes), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Mosasauriërs is ‘n groep uitgestorwe mariene reptiele wat aan akkedisse verwant was.  Na die uitsterwing van die ichthyosauriërs en die pliosauriërs het die mosasauriërs as top mariene werweldiere oorgeneem.  Die mosasauriërs verskyn in die fossielrekord van die Laat Kryt en sterf uit met die K-T massa-uitsterwing.  Die mosasauriërs se ledemate het soos dié van die plesiosauriërs in vinne verander.

Mosdiertjies hoort aan die Filum Bryozoa.   Hierdie akwatiese invertebrate bestaan uit klein diertjies wat sooïede vorm wat elk ongeveer ‘n halwe millimeter lank is.  Buiten vir een spesie, kom sooïede in kolonies voor.  Hulle voed m.b.v. ‘n lofofoor wat ‘n terugtrekbare gesilieërde tentakelkroon rondom die mond is.  Meeste mariene spesies kom in tropiese waters voor maar sommige kom tot in die diep oseaantrôe en ander tot in die poolstreke voor en nog ander kom in brakwater en in varswater voor.  Mosdiertjies het ook eens as Endoprocta, Ectoprocta en Polyzoa bekend gestaan.  Sekere spesies produseer gemineraliseerde eksoskelette wat korse oor oppervlaktes vorm en tot koraalriwwe kan bydra.

Motiel bedoel beweeglik of selfaangedrewe.  Dit word gewoonlik deur middel van ‘n flagellum of flagellums of silia op ‘n eensellige organisme bewerkstellig.

Mrs Ples – sien Oertjie Ples.

Muf is ‘n lid van ‘n diverse groep swamme wat meestal tot die Sakswamme en Steeltjieswamme behoort.  Hulle word gekenmerk aan hul swart, grys of groen miseliums wat bo-op hulle kosbron groei.

Muggies is ‘n algemene naam vir klein vliegies wat na lede van omtrent 9 verskillende en verlangs-verwante families binne die Diptera (vliegagtiges) verwys.

Mukosa is die klierryke membraan wat talle holtes en strukture in die liggaam van organismes uitvoer.  Dit bestaan uit ‘n laag eptiteelweefsel wat ‘n laag bindweefsel onder dit bedek.  In soogdiere sal mens dit binne die ooglede, neusholte, lippe, spysverteringstelsel, dele van die geslagsorgane en oorkanaal kry.  Die mukosa skei slym af om hierdie oppervlaktes te benat om te keer dat die liggaam uitdroog.

Mukus is die gladde waterige afskeiding van slymvliese.  Mukus bestaan uit musien wat anorganiese soute, antimikrobiese ensieme, immunoglobuliene en glikoproteïene bevat.  Mukus beskerm die epiteelweefsel deurdat hulle dit moeilik maak vir patogeniese bakterieë, swamme en virusse om tot die epiteelweefsel deur te dring.  In werweldiere (buiten die kaaklose visse) word die grootste hoeveelheid mukus word deur die spysverteringskanaal vervaardig.

Multipotente selle is selle (soos stamselle) wat in verskeie verskillende tipes gespesialiseerde selle in verskillende weefsels en organe kan ontwikkel.

Musien is die hoofbestanddeel van mukus wat deur die slymvliese afgeskei word.  Die funksie van musien is om die slymvliese te bevogtig, ‘n chemiese buffer teen indringers te vorm en om seine tussen selle te dra.

Muskiete behoort aan die Familie Culicidae (steekmuggies) van die Suborde Nematocera (muggies) van die Orde Diptera (vliegagtiges).

Mutualisme is die simbiotiese verhouding tussen twee of meer organismes waarby elke betrokke spesies voordeel trek.  In sekere gevalle is die spesies heeltemal afhanklik van mekaar vir hul voortbestaan.

Murglaag – sien medulla.

Myiase is die siektes en simptome wat mens ontwikkel weens die besmetting met parasitiese vlieglarwes.

Myte is klein spinnekopagtiges (klas Arachnida) wat soos ander lede van hierdie groep, agt pote het en geen antennas het nie.  Myte het, anders as ander spinnekopagtiges, net ‘n enkele liggaamsdeel of tagmata wat die idiosoma genoem word. Die myte word in twee groot ordes verdeel naamlik die Acariformes en die Parasitiformes wat saam eens op ‘n tyd as die Acarina bekend gestaan het.  Genetiese navorsing het egter bewys dat die Acarina nie ‘n natuurlike monofiletiese groep is nie, maar dat dit uit twee taksa, die Acariformes en die Parasitiformes bestaan, wat elkeen nader aan ander aragniedgroepe as aan mekaar verwant is.  Ongelukkig verander die name van die diergroepe vinniger as wat die kundiges se benamings kan aanpas en dus noem ons nog steeds mytkundiges akaroloë, en navorsing op myte, akarologie – net soos wat mens beide die reptielkundiges en die amfibieëkundiges herpetoloë noem, want meer as ‘n eeu gelede was beide groepe as onderafdelings van die herpetofauna beskou.  So ook het ons onlangs agtergekom dat voëls eintlik dinosauriërs is, wat die ironiese en komieklike gevolg het naamlik, dat al het dinosauriërkenners wat hierdie verwantskap ontdek, hulself nog steeds as paleontoloë (fossielkenners) beskou en nie ornitoloë (voëlkenners) nie.  Meeste myte is baie klein en minder as 1 mm lank. Hulle kom in die natuur as parasiete (bv. bosluise, tampans en jeukmyte), predatore, plantvreters en komposteerders voor.  Meeste is skadeloos, maar sommige tree as vektore vir siektes op en sommige kan allergieë veroorsaak.

Myzozoa is ‘n spesifieke groep Alveolaat-protiste, wat die Dinoflagellata en Apicomplexa insluit.  Hierdie takson word dikwels die sel-vampiere genoem, omdat hulle deur misositose voed, of vanuit organismes, wat misositoties was, ontstaan het.

Naaksadiges (gimnosperme) saadplante wat sade in ‘n verskeidenheid van keëls of ander oop strukture dra.  Meeste word deur wind bestuif, alhoewel ander soos die broodboom deur kewers bestuif word.  Alle gimnosperme is houtagtig en meeste van hulle kom as bome voor.  Gimnosperme het in die Karboon Periode vanuit progimnosperme ontstaan.  Die ekstante gimnospermfilums is die Cycadophyta (broodbome), Ginkgophyta (ginkos), Gnetophyta (Welwitschia en verwante) en die Pinophyta (Dennebome, Sipresse, Rooihout, Geelhout en verwante) en die uitgestorwe Pteridospermales (saadvarings) en Cordaitales.  Die gimnosperme was tydens die Mesosoïkum die dominante landplante maar is na die K-T massa-uitsterwing deur blomplante as die dominante landplante vervang.

Nagana is die dierlike weergawe van tripanosomiase wat deur een van die tripanosome bloedparasiet Trypanosoma veroorsaak word.  Dit is ‘n siekte wat veral beeste, en tot ‘n mate perde, in tropiese en subtropiese gebiede in Afrika aantas.  Die siekte het intussen na Suid Amerika versprei.  Die tsetsevlieg is die vektor wat die tripanosome protiste van ‘n besmette na ‘n onbesmette dier oordra.  Nagana se simptome sluit lusteloosheid, bloedarmoede en gewigsverlies in en kan in erge gevalle waar die dier nie behandeling kry nie, dit laat vrek.

Nagapie (Galago moholi), familie Galagidae, superfamilie Lorisoidea, infraorde: Lemuriformes, orde Primata. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Namakwaland duinemol (Bathyergus janetta), familie: Bathyergidae, suborde: Hystricognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Namakwalandse klipmuis (Aethomys namaquensis), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Nanometer (nm) is een miljardste van ‘n meter, of een miljoenste van ‘n millimeter.  Molekules en die golflengte van kort elektromagnetiese golflengtes soos lig.word in nanometer gemeet.  Bakterieë is ongeveer 1000-5000 nm groot en dus meet ons dit eerder in mikrons of mikrometers, wat ‘n duisendste van ‘n millimeter is.  Bakterieë is dus 1-5 mikrometer, of mikron groot (sien – Mikrometer).

Nasturtium officinale – sien Bronkors.

Natalse grotvlermuis (Miniopterus natalensis), subfamilie: Miniopterinae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Natalse losstertvlermuis (Mormopterus acetabulosus), familie: Molossidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Natalse rooi klipkonyn (Pronolagus crassicaudatus), familie: Leporidae, orde: Lagomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Natalse vaalveldmuis (Mastomys natalensis), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Natuurlike moordselle of NK selle (“Natural Killer Cells”) is groot limfosiete of witbloedselle wat deel van die verworwe immuunstelsel is.  Dit speel ‘n rol in seldood en die uitskeiding van sitokiene wat teen patogene in die liggaam gebruik word.  Natuurlike moordselle beslaan ongeveer 5-20% van witbloedselle wat in die liggaam sirkuleer en word gewoonlik na ongeveer drie dae, nadat die gasheer met ‘n virus of ander intersellulêre patogeen besmet is, geaktiveer.  Natuurlike moordselle het die vermoë om siek selle te identifiseer en uit te wis.

Nautiloïede hoort aan ‘n groot en diverse groep van mariene koppotiges – die Subklas Nautiloidea van die Cephalopoda.  Hulle skulpe kom vanaf die Laat Kambrium in die fossielrekord voor.  Hulle het in die Vroeë Palaeosoïkum gediversifiseer en gedy – en word saam met ammoniete goed in die fossielrekord verteenwoordig.  Anders as die ammoniete het die nautiloïede die K-T massa-uitsterwing oorleef, maar hulle getalle en diversiteit het deur die Mioseen en Plioseen afgeneem.  Daar is ongeveer 2 500 nautiloïed-fossielspesies bekend terwyl daar net ‘n handjievol spesies van die genusse Nautilus en Allonautilus vandag nog bestaan

Neave se muis (Mus neavei), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Necator americanus – sien Nuwe Wêreldse haakwurm.

Necatorose is die siektetoestand wat volg op die besmetting met die Nuwe Wêreldse haakwurm.  Die simptome sluit naarheid, buikpyn en ongerief, diarree, bloed in die stoelgang en ystergebrek-bloedarmoede in.

Nefridium of die primitiewe nier is die uitskeidingsorgaan wat in alle weekdiere buiten die aplakofore voorkom.  Dit is nie heeltemal dieselfde as die niere wat in werweldiere voorkom nie aangesien die perikardiumwand ‘n groter rol in die vorming van die uriene speel as die nefridium.  Die nefridium is egter verantwoordelik vir die uitskeiding van die uriene wat van die perikardium deur renoperikardiale buisies ontvang word.  Nefridiums speel ook ‘n belangrike rol om die osmotiese balans en waterdruk van weekdiere te handhaaf.  Varswaterlewende buikpotiges herabsorbeer sout deur middel van die nefridium om die buikpotiges se osmotiese balans te handhaaf.

Nekrobioom is die gemeenskap spesies wat betrokke is by die ontbindingsproses van ‘n lyk.  Die ontbindingsproses begin met die thanatomikrobioom wat die lyk eerste begin verteer, maar kort voor lank sluit bakterieë, archaea, swamme, nematode, insekte en werweldiere vanuit die omgewing by hulle aan en dra tot die ontbindingsproses by.  Al hierdie organismes saam, en die omgewing waarin hulle aktief is, en hulle produkte en afvalstowwe, word die nekrobioom genoem.

Nektar is ‘n suikerryke vloeistof wat deur plante, gewoonlik in die blomme, vervaardig word, om sodoende bestuiwers soos bye, vlinders, motte, miere, vlieë, muskiete, perdebye, suikerbekkies en sekere vlêrmuise, aan te lok.  Nektar word ook  deur bye versamel om heuning te maak.

Nekton is die kategorie seediere, soos visse, wat sterk genoeg kan swem om, anders as plankton, onafhanklik van waterstrome te kan beweeg.

Nematode – sien Rondewurms.

Nematoloog is ‘n persoon wat nematode of rondewurms bestudeer.  Die studie van nematode is nematologie.

Neogeen Periode  (23.03 – 2.58 Mjg).  Dit is die tydperk net voor die Kwartêr en word in twee epogs verdeel: die Mioseen en die Plioseen.  Soogdiere en voëls het in hierdie tyd hulle moderne vorms begin aanneem en die eerste hominiene het in Afrika verskyn.  Die landengte van Panama wat Noord- en Suid-Amerika koppel het in hierdie tydperk gevorm wat die warm seestrome van die Stille Oseaan na die Atlantiese Oseaan afgesny het.  Dit het ‘n groot impak op die klimaat aan die einde van daardie tydperk gehad wat tot die ystydperke in Kwartêr gelei het.

Neotherapsida is ‘n voorgestelde saamgroepering van anomodontiërs en theriodontiërs.

Neritiese sone of sublittorale sone is die vlak deel van die see op die kontinentale bank tot op die oorgang na die kontinentale helling tot ‘n diepte van 200 m.  Die neritiese sone strek vanaf die hoogwatermerk tot by die kontinentale helling, waarna die oseaniese sone van oopwater van die diepsee begin.  Weens die feit dat lig tot op ‘n sekere vlak in die neritiese sone kan deurdring, is dit ook ‘n gebied wat wemel van lewe en wat plante, diere, chromiste, fungi en talle eensellige mikro-organismes huisves.  Dit is waar mens kelp-woude, korale, skole visse en ‘n groot verskeidenheid van spesies kry.

Neritimorpha is ‘n subklas van ongeveer 2000 spesies wat ‘n wye verskeidenheid liggaamsvorme besit wat in die kleine die hele buikpotige liggaamsdiversiteit eggo – daar is dié wat soos slakke lyk, ander lyk weer soos klipmossels en daar is selfs ‘n naakslak-tipe onder hulle.  Hulle kom ook in seewater, varswater en op land voor.

Nete is myteiers wat deur die wyfiemyte aan die gasheer se hare vasgelym word.

Neteldiere hoort aan die filum Cnidaria.  Hierdie groep sluit hidras, kwalle en seeanemone in.  Van die 11 000 spesies bekend is meeste seelewend maar daar is ook spesies wat in varswater voorkom en dan die Myxozoa wat parasities is.  Die Myxozoa is van die kleinste diere bekend omdat van hulle tipies maar 10-300μm lank word.  Daar is meer as 2 000 spesies Myxozoa bekend, maar daar word vermoed dat daar dalk soveel as 30 000 spesies mag wees.  Die name Cnidaria en neteldiere is afgelei van die feit dat hulle netelselle of knidosiste in die buitenste sellaag het.  Neteldiere is naas sponse die mees primitiewe diere op Aarde en van die eerste diere wat ontstaan het.  Ongelukkig is almal van hulle, buiten die korale, swak in die fossielrekord verteenwoordig omdat hulle sagte liggame nie maklik fossiliseer nie.

Netelroos of galbulte, is jeukende pienkrooi bulte wat op die vel verskyn, dikwels as allergiese reaksie op iets wat geëet is, medisyne, of in reaksie op sekere virusse, parasiete, byte of steke van geleedpotiges of selfs stres.  Dit verdwyn gewoonlik vanself na ‘n ruk.

Netelselle of nematoblast of knidoblast verwys na die gespesialiseerde selle wat mens in holtediere (filum Cnidaria) aantref.  Dit bestaan uit ‘n sel met ‘n stekel binne-in wat uitskiet sodra iets aan die snellerhaartjie bo-op die sel raak.  Die gifstof (gewoonlik ‘n neurotoksien) binne die sel spuit deur die hol filament, in die gasheer in.  Nematosiste is ook klewerig en word deur holtediere gebruik om aan voorwerpe vas te kleef.

Neuroaktiewe molekules verwys na molekules soos seratonien, melatonien, dopamien, histamien, wat ‘n effek op mens se senuweestelsel, gesondheid en gemoedstoestand het.  Gefermenteerde kosse het baie van hierdie molekules in wat deur bakterieë vervaardig word.

Neurodegenerasie verwys na die agteruitgang van die senuweestelsel.  Dit is te wyte aan veroudering, maar dit kan dramaties deur die inname van chemikaliee soos dwelms (insluitende alkohol), medisyne en gifstowwe en deur dieët versnel word.

Neurohormoon is ‘n hormoon soos noradrenalien wat deur die senuweeselle vervaardig en in die bloedstroom vrygestel word, om deur die liggaam versprei te word.

Neuromodulering is die proses waartydens ‘n neuron een of meer chemikalieë gebruik om die werking van groepe neurone te reguleer.  Chemikalieë wat vir neuromodulering gebruik word sluit dopamien, serotonien, asetielcholien, histamien en noradrenalien in.

Neurone of senuweeselle is elektries-geaktiveerde selle wat elektrone deur ‘n neurale netwerk van aaneengekoppelde senuweeselle stuur.  Neurone is die boustene van die senuweestelsel.

Neuropsigiatriese afwykings is ‘n versamelnaam vir ‘n wye reeks van neurologiese en sielkundige afwykings wat veroorsaak word deur siektes wat die sentrale en perifere senuweestelsel affekteer.

Neurotransmitter – sien Senuwee-oordragstof.

Neusgate (choana in Latyn), is die openinge vooraan die snoet van werweldiere.  In meeste diere is daar twee sodat die reukepiteel waarmee die neusgate (of neusholtes in sommige diere) uitgevoer is, die rigting waar ‘n reuk vandaan kom kan bepaal.  In sommige werweldiere soos die kaaklose visse (slymprikke en lampreie) en sommige kraakbeenvisse soos die rotvisse is daar egter net een neusgat.  In werweldiere soos meeste visse (buiten slymprikke en lobvinvisse) is die neusgate bloot blinde sakkies wat slegs vir reuk aangewend word.  Neusgate het egter in lobvinvisse en die tetrapode allerbelangrik vir asemhaling geword.  Die verskuiwing van die reukepiteel na die neusholte het met lugaseming gepaard gegaan waar lug deur die neusgate in die mondholte en van daar deur die farinks, lugpyp en longe geadem is.

Neusholte is die holte in die skedel tussen die neusgat en die nasofarinks bo die verhemelte.  In die geval van die mens, vorm die voorste deel van die breinkas, die dak van die neusholte.  Dit is hier waar die reukepiteel in die dak van die neusholte en die septum, wat die neusholte in twee deel, se epiteel voorkom.  In diere is die neusholte in die snoet gehuisves.  Die neusholte bevat die turbinate, die gekronkelde dun beenplate wat met klam epiteel bedek is, wat die ingeademde lug verhit en vogtig maak.  Die reuksenuwees steek deur die sifbeen, bo in die dak van die neusholte, uit.

Nimf verwys na ‘n onvolwasse bosluis of hemimetaboliese insek wat deur ‘n reeks ontwikkelingstadiums moet gaan om volwassenheid te bereik.  Anders as in die holometaboliese insekte se larwe, lyk die hemimetaboliese insekte se nimfe soos kleiner en vlerklose weergawes van die volwassenes.  Inseknimfe pupeer ook nie en die laaste stadium vervel om aan die gevleuelde (in gevleuelde spesies) volwassene oorsprong te gee.  Bosluisnimfe verander ook uiteindelik in die volwassene.

Nis verwys na die plek, fisiese omstandighede, die aard, funksie en nut van ‘n organisme binne die ekologie.  Sekere diere is byvoorbeeld bestuiwers, maar sommige is nog meer spesifiek – soos ‘n sekere pylstertmot wat spesifiek blomme met lang kelke met ‘n spesiale lang slurptong in die nag besoek en bestuif en soms deur vlermuise gevang word.  Daardie pylstertmot vul die nis van ‘n naglewende langkelkblom bestuiwer en kos vir vermuise en het dus vir ‘n baie spesifieke nis.  Sekere nisse is selfs meer eksklusief waar sekere organismes net een spesifieke ding kan doen – soos ‘n parasiet wat slegs in een gasheer en een tussengasheer kan leef.  Ander diere vul meer algemene nisse soos vlakvarke wat op die savanna leef en alles vreet wat hulle voedsaam vind en deur ‘n verskeidenheid roofdiere gevang en gevreet sal word.

Njala (Tragelaphus angasii), subfamilie: Bovinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

nm is die afkorting vir nanometer.  Sien – Nanometer.

Noradrenalien of norepinefrien is ‘n tipe katecholamien wat in die brein en die liggaam beide as ‘n hormoon en ‘n senuwee-oordragstof werk.  Die funksie van noradrenalien is om die liggaam en die brein te mobiliseer.  Noradrenalien is op die laagste vlak tydens slaap, en styg wanneer mens wakker word, en skiet die hoogte in wanneer mens onder stres, of in gevaar verkeer, om die veg-of-vlug respons te ontketen.  In die brein verhoog dit waaksaamheid en opgewondenheid, dit bevorder geheue en help mens om te fokus.  In die liggaam verhoog noradrenalien hartklop en bloeddruk, verhoog bloedvloei na skeletspiere, verlaag bloedvloei na die spysverteringstelsel en inhibeer blaaslediging.

Nothosauriër hoort aan die Orde Nothosauroidea van die Klas Reptilia.  Nothosauriërs was mariene reptiele wat in die Trias geleef het.  Hulle het in die oseane gejag maar kon nes robbe op land kom.  Hulle het ongeveer 3 m lank geword en het ‘n gewebde pote en ‘n lang liggaam en stert gehad.

Notokoord is ‘n buigbare stafie van bindweefsel wat in die boonste deel van die liggame van talle waterlewende werweldiergroepe soos kaaklose visse (lampreie en snotvisse of slymprikke) en Cephalochordate soos Amphioxus voorkom.  Dit word mettertyd gedurende die evolusie van kraakeen- en beenvisse met die werwelkolom vervang.  Die notokoord speel dieselfde rol as die werwelkolom en dien as ondersteuning vir die liggaam en as aanhegtingsplek vir spiere.

Nukleotiede is guanien, adenien, urasiel en timien.  Nukleotiede vorm die boustene van RNS en DNS.  Nukleotiede word vanuit kos verkry en word in die lewer vervaardig.  Nukleotiede speel ook ‘n belangrike rol in selmetabolisme, omdat hulle chemiese energie aan talle van die chemiese reaksies, wat energie nodig het, verskaf.  Nukleotiede neem deel aan intersellulêre kommunikasie en in sekere ensiemreaksies.

Nukleus – sien Selkern.

Nuttalliellidae bevat slegs ‘n enkele spesies: Nuttalliella namaqua wat in Afrika suid van die Sahara voorkom.  Hierdie bitter skaars bosluisie het kenmerke wat in beide die harde en sagte bosluise voorkom, soos ‘n vorentoe-gerigte gnathosoma soos in die harde bosluise en ‘n leeragtige vel met die afwesigheid van ‘n skild soos in sagte bosluise.  Dit word as die naaste lewende nasaat van die oorspronklike bosluis, wat aan die ander twee families oorsprong gegee het, beskou.

Nuwe Wêreld is die naam wat die Spanjaarde, Italianers, en daarna die res van Europa, aan die Amerikas in die 16de eeu gegee het.  Dit was daarna in soögeografie gebruik om die verspreiding van sekere diere as Ou Wêreld (Afrika en Eurasië) en Nuwe Wêreld (Noord en Suid Amerika) te tipeer.

Nuwe Wêreldse haakwurm of Amerikaanse haakwurm (Necator americanus) kom wêreldwyd voor waar hulle, saam met die Ou Wêreldse haakwurm, bykans 500 miljoen mense besmet.  Hierdie parasitiese rondewurm se larwes boor deur mens se voetsole wanneer mens kaalvoet in ‘n gebied loop waar mense, met haakwurmbesmetting, op die grond ontlas of waar mensfeses vir bemesting in landerye gebruik word.  Die larwes boor deur die mens se vel tot binne die bloedvatstelsel en beweeg dan hiermee deur die hart tot by die longe, waar hulle in die longkapillêrbed vasgevang word.  Hiervandaan boor hulle deur die alveoliwande tot in die longe, waarvandaan hulle tot in die keel opgehoes word.  Hulle word dan van hier in die spysverteringskanaal afgesluk.  Die haakwurmlarwes ontwikkel gedurende die migrasieproses tot hulle in die dunderm aan jong wurms oorsprong gee.  Die jong wurms heg aan die villi van die dunderm vas om op die bloed van die gasheer te voed tot hulle volwasse word en paar.  Die bevrugte Ou Wêreldse haakwurmwyfie lê ongeveer 10 000 eiers per dag wat saam met die gasheer se feses uitgeskei word.  Necatorose is die siektetoestand wat deur die Ou Wêreldse haakwurm veroorsaak word.

Nyika klimmuis (Dendromus nyikae), subfamilie: Dendromurinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Obligate parasiet – sien Verpligte parasiet.

O bloedgroep – sien Bloedgroepe.

Obsessief-kompulsiewe gedrag word gekenmerk aan onredelike gedagtes en vrese wat tot kompulsiewe, dikwels ritualistiese, herhalende, gedrag kan lei.  As die persoon verhoed word om sy kompulsiewe gedrag uit te leef, kan dit tot erge angs en ontsteltenis lei.

Oertjie Ples (“Mrs. Ples”) is die wêreldbekende aapmens skedel wat Robert Broom in 1947 by Sterkfontein Grotte ontdek het.  Dit was die eerste onverwronge bykans-volledige volwasse aapmens skedel wat tot op daardie tydstip ontdek is.  Ek het die naam Oertjie geskep wat ek hier in die plek van Grootjie gebruik.  Dit is ook ‘n ongeslagtelike verwysing omdat ons nie seker van die geslag van hierdie aapmens is nie. Oertjie Ples was ‘n lid van Australopithecus africanus wat nog slegs in Suid-Afrika gevind is.

Octopodiformes is een van die twee ekstante Coleoidea superordes wat aan hul agt arms of tentakels gekenmerk word.  Die voorouerlike Octopodiformes het hul armpaar III verloor het wat veroorsaak het dat hul nasate slegs agt arms het.

Ofiakodontiërs – sien Ophiacodontidae.

Oksidatiewe stres vind plaas wanneer daar ‘n wanbalans tussen vrye radikale en antioksidante in die liggaam is.  Oksidasie is ’n chemiese reaksie waartydens vrye radikale voortgebring word, maar soms lei dit tot kettingreaksies binne die sel wat die sel kan beskadig wanneer daar nie genoeg antioksidante is om dit te keer nie.  Oksidatiewe stres word onder andere met kanker, Altzheimers en outisme geassosieër.

Oksipitale knobbels is die knobbels heel agter in die skedel, onder of weerskante van die foramen magnum waardeur die rugstring gaan.  In reptiele en voëls is daar slegs een oksipitale knobbel onder die foramen magnum, maar in lisamfibieë en soogdiere is daar twee.  Die enkel oksipitale knobbel split na gelang van tyd in twee knobbels gedurende die evolusie van die karnivoriese soogdieragtige reptiele.

Olifant (Loxodonta africana) Familie: Elephantidae. Soögeografiese wyk: Ethiopis.  Inheems aan Suid-Afrika.

Oligosakkariede (langketting suikers) – sien Suikers.

Oligoseen (33.9 – 23 Mjg).  Die klimaat van die Oligoseen toon ‘n oorgang vanaf die tropiese toestande wat in die Mioseen geheers het tot die  klimaatstoestande van vandag.  ‘n Yskap vorm oor Antarktika.  Die grasvelde brei uit terwyl woude na ekwatoriale gebiede terugskuif.  Soogdiere en moderne blomplante diversifiseer en versprei.

Omlope is ringvormige, rooi en opgehewe besmettings van die vel wat deur ongeveer 40 swamspesies van hoofsaaklik die genera Trichophyton, Microsporum of  Epidermophyton veroorsaak word.  Die term omloop verwys bloot na die swam-ontsteekte vel en nie na ‘n spesifieke swam nie.

Omnivoor verwys na ‘n dier wat ‘n verskeidenheid voedseltipes kan eet, maar hoofsaaklik vleis en plante.  Sommige omnivore het egter baie spesifieke diëte en sal byvoorbeeld verskeie tipe vleis maar slegs sekere plante vreet, of andersins ‘n klein verskeidenheid vleisprodukte vreet en ‘n groter verskeidenheid plantmateriaal vreet, of andersins hoofsaaklik vleis vreet en nou en dan plantmateriaal soos vrugte vir vitamiene C inkry.  Die woord allesvreter is nie die korrekte sinoniem vir omnivoor nie.

Onderhuids bedoel onder die vel.

Onderkaak of mandibel het sewe bene (die dentale, spleniale, angulêre, koronoïed, surangulêre, artikulêre en preartikulêre bene) aan elke kant in reptiele.  Die onderkaak van soogdiere bestaan uit twee dentale bene aan elke kant.

Ongeartikuleerde brachiopood – sien Brachiopood.

Ongesepteerde hifes of aseptate hifes is hifes waarin daar geen of min septums voorkom.

Ongeslagtelike voortplanting is wanneer die organisme voorplant deur afknopping, die afbreek van stukke van die liggaam of tallus wat elders kan groei, uitbreiding van die liggaam of tallus of miselium of wortelstelsel van die organisme of verspreiding deur middel van mitospore of chlamydospore.

Ongewerwelde diere verwys na diere wat nie skelette het nie, m.a.w. alle diere buiten die werweldiere van die subfilum Vertebrata.  Dit is egter ‘n baie lukrake en onwetenskaplike term en is eintlik betekenisloos buiten vir werweldiere, soos ons, vir wie dit op subjektiewe vlak baie beteken.  Om te illustreer: daar is 36 filums diere op Aarde waarvan almal invertebrate is, buiten vir EEN van drie subfilums binne die filum Chordata waarvan die ander twee subfilums invertebrate bevat.  Dan moet jy nou ook in gedagte hou dat drie visklasse binne die subfilum Vertebrata – die lampreie, slympalings en rotvisse, ten spyte daarvan dat hulle nie werwels het nie, as werweldiere geklassifiseer word.  As mens die ongeveer 70 000 werweldiere sover bekend, met die ongeveer 1.5 miljoen bekende spesies ongewerweldes vergelyk, en in gedagte hou dat daar tussen 6-10 miljoen tot dusver onontdekte insekspesies mag wees, moet mens erken dat ons eintlik maar net van diere moet praat.  Trouens, daar is meer slakspesies as werweldierspesies op Aarde – en dit is ‘n nederige gedagte.

Onkosfeer is die lewenstadium van lintwurms wat verskyn na die eierdop van die eier oopgebreek het nadat die lintwurmeier in die tussengasheer se spysverteringskanaal beland het.  Die onkosfeer bevat beskermende membrane wat die heksakantembrio daarbinne omhul.  Talle ander navorsers tref geen onderskeid tussen die onkosfeer en die heksakantembrio nie.

Ontpop verwys na die verskyning van ‘n volwasse insek vanuit ‘n papie.  Mens kan nie die term uitbroei gebruik nie, want dit verwys na wanneer ‘n larwe of nimf uit ‘n eier uitbroei.

Ontwikkelingstadium verwys na ‘n spesifieke stadium binne die lewensiklus van ‘n organisme.  Dit gaan meestal met vervelling en selfs anatomiese en fisiologiese veranderings gepaard.

Oögamie is ‘n algemene manier van voortplanting waar die sessiele vroulike gameet heelwat groter as die motiele manlike gameet is.  Die manlike gameet moet dan gewoonlik na die vroulike gameet swem om dit te bevrug.  Hierdie tipe bevrugting kom in Potjieswamme, sekere Bruinalge, Laer plante en diere voor.

Oogwurmbesmetting se simptome sluit in: kiste wat in die bindweefsel rondom tendons ontstaan, kroniese absesse wat rondom dooie en sterwende wurms vorm, en wanneer daar oogwurms in die sklera van die besmette persoon se oë verskyn.  Die wurms veroorsaak erge ongerief, pyn en ontsteking in die oë en kan in sekere gevalle tot blindheid lei.  Volwasse wurms kan ook in die penis, testes, tepels, neusbrug, niere en hart inwurm.

Oogwurms (Loa loa) se larwes word deur bloeddrinkende steekvlieë van die genus Chrysops na mense in die reënwoude van sentraal Afrika oorgedra.  Die oogwurmlarwes ontwikkel in volwassenes, sodra hulle in die mens se weefsel beland.  Die bevrugte wyfie gee geboorte aan derduisende larwes wat die gasheer se weefsel binnedring.  Die larwes bly meestal in die gasheer se liggaamsvog soos die spinale vog in die ruggraat, uriene en speeksel in die speekselkliere, maar bedags sirkuleer talle van hulle ook in die bloedstroom waar bloeddrinkende vlieë hulle kan opsuig.  Sommige van hulle vestig ook in die vaskulêre bed rondom die longe, veral snags.  Die siektetoestand wat deur oogwurmbesmetting veroorsaak word is loiose. Loiose simptome verskyn jare, soms ‘n dekade na mens deur ‘n besmette steekvlieg gebyt is.  Die mees opvallende simptoom van oogwurm besmetting is wanneer die wurms in die sklera van die gasheer se oog verskyn.

Oökinete onstaan vanuit die sigoot wat na bevrugting ontstaan.  Hierdie beweeglike lewenstadium van die Plasmodium parasiet dring van binne die Anopheles muskiet se dermkanaalwand, om aan die buitekant van die dermkanaalwand vas te heg en ‘n oösist te vorm.

Oop bloedvatstelsel – sien Hemoseel.

Oop verhemelte verwys na diere soos amfibieë, reptiele (buiten krokodille en gevorderde soogdieragtige reptiele) en voëls waar die neusgate (interne nares) binne die mondholte open.  Diere soos krokodille en eutheriodontiërs, het geslote verhemeltes.

Oorbeentjies of oorossikels is die beentjies in die middeloor van tetrapode wat die klankgolwe van die oordrom na die binneoor vervoer.  In meeste tetrapode (amfibieë, reptiele en voëls) is daar net een oorbeentjie in die middeloor, naamlik die stapes of stiebeuel.  In soogdiere is daar egter drie oorbeentjies – die hamer (malleus), aambeeld (incus) en die stiebeuel (stapes).  Hierdie beentjies is die kleinste beentjies in ‘n werweldier se skelet.

Oorbietjie (Ourebia ourebi), subfamilie: Antilopinae, familie: Bovidae, orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Oordrom of timpanum is die vlies aan die einde van die oorkanaal in amniote, of buite teen die kop van amfibieë, wat met klankgolwe vibreer.  Hierdie vibrasies word na die oorbeentjies oorgedra.

Oorkanaal is die buis in skedel, of kraakbeenbuis langs die skedel, wat die ooropening met die trommelvlies in amniote verbind.

Oorossikels – sien Oorbeentjies.

Oorskulpe is die kraakbenige strukture langs die kop waar die oorkanaal open wat algemeen as ore bekend staan.  Die oor is egter ook die hele oorapparaat vanaf die oorskulp en oorkanaal (wat saam as die buite-oor bekend staan), die middeloor en die binneoor.

Oop verhemelte verwys na diere soos amfibieë, reptiele (buiten krokodille en gevorderde soogdieragtige reptiele) en voëls waar die neusgate (interne nares) binne die mondholte open.  Diere soos krokodille en eutheriodontiërs, het geslote verhemeltes.

Oösiste vorm nadat Plasmodium oökinete van binne die dermkanaal, deur die dermkanaalwand van die Anopheles muskiet dring, om aan die buitekant van die dermkanaalwand vas te heg. Die inhoud van die oösist verdeel verskeie kere om aan sporosoïete oorsprong te gee.  Oösiste vorm deel van die lewensiklus van lede van die Apicomplexa.  Mens kan toksoplasmose ontwikkel na die inneem van Toxoplasma oösiste wat in katmis uitgeskei word en die grond besmet.

Oosterse rotvlooi – sien Builepesvlooi.

Operkulum:

  • ‘n deksel wat talle slakke – veral dié met gedraaide skulpe besit, om die skulpopening te sluit om uitdroging te verhoed en vyande uit te sluit.
  • die kiefdeksel in beenvisse (Actinopterygii) wat die kiewe bedek. Dit is ‘n dermatokraniale element.

Ophiacodontidae is ‘n uitgestorwe familie van basale soogdieragtige reptiele wat eens as pelikosauriërs geklassifiseer was.  Die ofiakodontiërs het van die Karboon tot die Perm Periode in Laurasië voorgekom.  Van die groter spesies kon tot 3.6 m lank word.  Hulle liggaamsvorm was soortgelyk aan dié van likkewane met hul wydsbeenstand, maar ofiakodontiërs het groot, langwerpige koppe en baie sterk skouergordels gehad.

Opisthobranchia is buikpotiges wat een kief het. Die Opistobranchia sluit hoofsaaklik seelewende slakke in, wat een kief besit en detorsie ondergaan het en alhoewel meeste doppe besit, is sommige doploos.

Opportunistiese roofdiere vreet enige ander dier wat hulle kan vang en doodmaak.  Dit is die teenoorgestelde van spesialis roofdiere wat net ‘n sekere tipe prooi sal jag.

Ordovisium Periode (485.4 – 443.8 Mjg). In hierdie tydperk was weekdiere en geleedpotiges die dominante diere in die oseane terwyl visse verder ontwikkel het.  Die einde van die Ordovisium Periode word gekenmerk aan die Ordovisium – Siluur massa-uitsterwing.  Daar was ‘n groot toename en diversifisering van tweekleppiges in die Vroeë Ordovisium Periode.

Orgaan in biologie is ‘n versameling van weefsels wat as eenheid ‘n gemeenskaplike doel het.  ‘n Versameling organe vorm ‘n orgaansisteem – soos die bloedvatstelsel, spysverteringstelsel of die senuweestelsel.

Organelle is die strukture, wat spesifieke funksie het, wat binne ‘n sel voorkom.  Organelle sluit membraan-omhulde strukture soos die selkern, dubbelmembraan-organelle soos chloroplaste en mitochondria, membraan-organelle soos die endoplasmiese retikulum en die golgi apparaat in.  Nie-membraan omhulde organelle sluit ribosomes, die sitoskelet, die selwand (in plant- en swamselle), sentrosome en sentriole in.  Stukture soos silia en flagella wat buite die sel uitsteek word ook as organelle geklassifiseer.

Organiese verbindings kom as kool-waterstofbevattende gasse, vloeistowwe en vastestowwe voor.  Danksy koolstof se vermoë om kettings met ander koolstofatome te vorm is daar letterlik miljoene bekende organiese verbindings.

Organisme is ‘n wese wat al, of meeste van die eienskappe van lewe besit – dit is groei, homeostase, voortplanting, organisasie, metabolisme, aanpassing, voeding en stimulasierespons.  Virusse word nie as organismes geklassifiseer nie, omdat hierdie kenmerke, met uitsondering van voortplanting en organisasie, ontbreek. Organismes sluit eensellige wesens soos archaea, bakterieë en protiste in en meersellige wesens soos chromiste, fungi, plante en diere in.

Ornithodoros moubata – sien Huttampan.

Ornithodoros savignyi – sien Sandtampan.

Oseaniese sone is die deel van die oop seewater vanaf die kontinentale helling op ‘n diepte van 200 m tot die diepsee en wat deur die seevloer op ‘n gemiddelde diepte van 3 km onderlê word.

Osellus – sien Eenvoudige oog.

Osfradieë is die chemiese sensore wat binne die mantelholte van weekdiere voorkom wat heeltyd die water wat in die mantelholte inkom toets.  Wanneer ‘n chemiese irritant die mantelholte indring, neem die osfradium dit waar wat die beweging van die trilhaartjies binne die mantelholte staak tot die irritant verdwyn.

Osmoregulasie is die aktiewe regulasie van die osmotiese druk in ‘n organisme se liggaamsvloeistowwe wat onstaan as daar ‘n hoër konsentrasie van opgeloste molekules, soos soute, aan die een of die ander kant van ‘n selektief-deurlaatbare membraan voorkom.

Osmose is die spontane beweging van molekules in ‘n waterige oplossing deur ‘n selektief-deurlaatbare membraan vanaf ‘n hoër konsentrasie na ‘n laer konsentrasie in ‘n poging om die konsentrasies van die opgeloste molekules weerskante van die membraan te balanseer.

Osmotrofiese voeding verwys na die absorbsie van oplosbare voedingstowwe deur sekere protiste.

Osteichthyes of beenvisse is ‘n diverse superklas wat meer a 28 000 spesies bevat, wat dit die grootste groep ekstante welweldiere maak.  Beenvisse se skelette bestaan meestal uit been, maar daar is uitsonderings soos die steurvis waar die skelet (soos dié van die Chondrichthyes of kraakbeenvisse) uitsluitlik uit kraakbeen bestaan.  Beenvisse word in die straalvinvisse (Actinopterygii) en die lobvinvisse (Sarcopterygii) verdeel.  Beenvisse het ongeveer 425 miljoen jaar gedurende die Laat Siluur Periode ontstaan.  Beenvisse het ‘n swemblaas vanuit die slukderm ontwikkel wat uiteindelik aan die longe in tetrapode oorsprong gegee het.  ‘n Dekplaat – die operkulum – beskerm die 4-5 paar kiewe daaronder en help om water deur die kiewe te pomp.  In kraakbeenvisse is die 5 kiefsplete, weerskante van die kop, oop.  Verskillende groepe beenvisse het ook verskillende tipes skubbe (sikloïed, stenoïed en ganoïed) en twee hoofvorms van die stert nl. difiserkaal (in lobvinvisse) of homoserkaal (in straalvinvisse).

Ostracodermi of gepantserde kaaklose visse het wêreldwyd in die oseane tydens die Paleosoïkum Era voorgekom.  Die term Ostracodermi word nie meer in moderne klassifikasie van visse gebruik nie want dit het duidelik geword dat hierdie groep parafileties of polifileties is en dus nie in klassifikasie gebruik kan word nie.  Die benaming bly egter populêr maar dit word net informeel gebruik.  Die gepanserde kaaklose visse was die eerste diere wat nie hul kiewe vir filtervoeding gebruik het nie, maar vir respirasie.  Die kop van hierdie visse was omhul met ‘n beenplaat vir beskerming en die res van die lyf was met harde beenskubbe bedek wat as beweeglike pantser gedien het.  Alhoewel die lyf buite-om met ‘n beenpantser bedek was, was daar ‘n buigbare notochoord in plek van ‘n kraakbeen of benige rugstring.  Hulle het in die Siluur Periode ontstaan en teen die einde van die Devoon Periode uitgesterf, waarskynlik omdat hulle nie teen die kaakvisse (Gnatostomata) kon kers vashou nie.

Ostrakood vorm die Klas Ostracoda van die Subfilum Crustacea van die Filum Arthropoda.  Daar is reeds ongeveer 70 000 spesies ontdek waarvan 13 000 spesies ekstant is en die res fossiele van uitgestorwe spesies is.  Hulle is gewoonlik omtrent 1 mm lank, maar kan van 0.2 mm – 30 mm in grootte wissel.  Hulle is skyfvorming met ‘n chitien of kalkagtige eksoskelet wat die rede is hoekom hulle so algemeen in die fossielrekord voorkom.  Hulle is meestal seelewend en kan deel van die soöplankton vorm terwyl ander deel van die bentiese organismes in die seevloer vorm, ander spesies is varswaterlewend en daar is selfs spesies wat in klam grond in die oerwoude van Suid-Afrika, Australië en Nieu Seëland voorkom.  Hulle kan karnivore, herbivore, aasdiere of filtervoeders wees.

Otobius megnini – sien Stekelrige oorbosluis.

Outisme is ‘n neuro-ontwikkelingsafwyking wat die persoon wat daaraan ly se vermoë om sosiaal te skakel, kommunikeer en te integreer belemmer.  Hulle toon dikwels herhalende en obsessiewe gedrag en bereik stadiger of minder van hul ontwikkelingsmylpale as ander mense, maar kan ook ander mylpale baie vroeër bereik.

Outoimmuun-siektes word veroorsaak deur ‘n abnormale immuunrespons van die liggaam op ‘n sekere deel van die liggaam.  Die liggaam se immuunstelsel kan nie die verskil tussen indringers soos virusse, bakterieë en parasiete en die liggaam onderskei nie en die liggaam self aanval.  Daar is tans reeds meer as 80 tipes outo-immuunsiektes bekend wat bykans alle dele van die liggaam aantas soos: rumatoïede artritis, lupus, veelvuldige sklerose, Tipe 1 diabetes mellitus ens.

Outonome senuweestelsel is die deel van die senuweestelsel wat sommige van die onwillikeurige liggaamfunksies soos dermbewegings, bloeddrukbeheer, harttempo, klierafskeidings, pupilvergroting en -verkleining, urienvorming en – uitskeiding, sweet-, traan- en speekselafskeiding en geslagsorgaanfunksies beheer.  Die outonome senuweestelsel word in twee dele – die simpatiese en parasimpatiese senuweestelsels verdeel.

Outotroof verwys na organismes wat hul eie kos kan vervaardig.  Die meeste plante is outotrowe of primêre vervaardigers.  Outotrofiese organismes vervaardig komplekse organiese stowwe soos koolhidrate, vette en proteïene deur middel van koolsuurgas, water en ligenergie (fotosintese).

Ou Wêreld verwys na die die wêrelddele wat eerste deur mense beset was – Afrika en Eurasië.  Die Nuwe Wêreld, daarenteen, verwys na Noord- en Suid Amerika.

Ou Wêreldse haakwurm (Ancylostoma duodenale) kom wêreldwyd voor waar hulle, saam met die Nuwe Wêreldse haakwurm, bykans 500 miljoen mense besmet.  Hierdie parasitiese rondewurm se larwes boor deur mens se voetsole wanneer mens kaalvoet in ‘n gebied loop waar mense, met haakwurmbesmetting, op die grond ontlas of waar mensfeses vir bemesting in landerye gebruik word.  Die larwes boor deur die mens se vel tot binne die bloedvatstelsel en beweeg dan hiermee deur die hart tot by die longe waar hulle in die longkapillêrbed vasgevang word.  Hiervandaan boor hulle deur die alveoliwande tot in die longe, waarvandaan hulle tot in die keel opgehoes word.  Hulle word dan van hier deur die lugpyp tot in die keel uitgehoes en dan in die spysverteringskanaal afgesluk.  Die haakwurmlarwes ontwikkel gedurende die migrasieproses tot hulle in die dunderm aan jong wurms oorsprong gee.  Die jong wurms heg aan die villi van die dunderm vas om op die bloed van die gasheer te voed tot hulle volwasse word en paar.  Die bevrugte Ou Wêreldse haakwurmwyfie lê ongeveer 30 000 eiers per dag wat saam met die gasheer se feses uitgeskei word.  Ancylostomose duodenale is die siektetoestand wat deur die Ou Wêreldse haakwurm veroorsaak word.

Ovarium is ‘n orgaan wat eiers vervaardig.  Dit kom in wyfieorganismes en hermafroditiese organismes voor.

Ovipaar of eierlêend.  Meeste dierspesies is eierlêend.  Die embrio ontwikkel binne die eier tot dit uitbroei.

Ovotestis is die gonades wat om die beurt eiers en sperms in hermafroditiese spesies vervaardig.

Ovovivipaar of eierlewendbarend – die eier broei binne die moeder uit en sy gee geboorte aan ‘n kleintjie.  Sekere brommers, plantluise, guppies en pofadders is eierlewendbarend.  Dit is ‘n baie skaars voortplantingstrategie – verreweg meeste diere is eierlêend, terwyl ‘n paar diergroepe lewendbarend (vivipaar) is of te wel geboorte skenk en net ‘n handjievol eierlewendbarend (ovovivipaar) is.

Paddastoele, wat ‘n spesifieke tipe vrugliggaam is wat in sekere swamme voorkom, bestaan uit massas diggepakte hifes. Paddastoele het tipies ‘n groot plat tot bolronde, tot lang geronde hoed op ‘n steel.  Kiewe of porieë waaruit die spore vrygestel word, kom op die onderste oppervlakte van die hoed voor.

Palaeoheterodonta is ‘n tweekleppige subklas wat  talle uitgestorwe ordes en families bevat.  Dit bevat ook twee ekstante ordes naamlik die varswatermossels (orde Unionida) en seemossels van die orde Trigoniida.

Palearktiese Soögeografiese Wyk is Europa en Rusland, maar sluit ook die Magreb (die gebied suid van die Middelandse See vanaf die Atlasberge tot by die Nyl) en die Levant (die gebied aangrensend aan die oostekant van die Middelandse See) in.  Die klimaat van die Levant en Magreb is soortgelyk as dié van Europa rondom die noordelike deel van die Middelandse See en die plante en diere wat in die Magreb en Levant voorkom is dus soortgelyk aan dié wat in die suide van Europa voorkom.  Die Palearktiese Soögeografiese Wyk word deur die Sahara Woestyn van die Etiopiese Soögeografiese Wyk ten suide daarvan geskei.

Paleoantropoloog is iemand wat die herkoms van die mens en die anatomie, evolusie en verwantskappe van die mensagtiges bestudeer (en as jy ooit vir ‘n goeie voorbeeld van ‘n triftong gesoek het kyk weer na die woord paleoantropoloog).

Paleontoloog is ‘n fossielkenner en ‘n persoon wat die anatomie van fossiele, die prosesse van fossilering en die verspreiding van fossiele bestudeer.

Paleogeen Periode (66 – 23.03 Mjg) staan ook as die Vroeë Tertiêr bekend.  Alhoewel die term Tertiêr algemeen gebruik word, word nie meer formeel gebruik nie.  Soogdiere en voëls diversifiseer in die Palaeogeen na die uitsterwing van die dinosauriërs en pterosauriërs.   Die diversifisering van soogdiere sluit die ontwikkeling van vlug met die ontstaan van vlêrmuise in.  Dolfyne, walvisse en Sirenia is groepe soogdiere wat dit bemeester het om ‘n permanente akwatiese bestaan te voer.  Die terrestriële nisse van spitsroofdiere en megaherbivore word ook deur soogdiere gevul.  Meeste van die moderne plantgroepe, insluitende gras verskyn in hierdie tydperk.

Paleoseen Epog (66 – 56 Mjg) is die oudste epog van die Kainosoïkum.  Hierdie epog volg na die K-T massa-uitsterwing.  Alhoewel Laurasië en Gondwanaland besig was om op te breek, was daar tydens hierdie tydperk nog steeds landbrûe tussen die noordelike kontinente asook tussen die suidelike kontinente wat plante en diere toegelaat het om nog heen en weer tussen die landmassas te versprei.  Noord- en Suid Amerika was nog nie gekoppel nie en Indië het toe pas met Eurasië gebots.  Die klimaat het warmer na die K-T impak geword en die poolkappe het gesmelt en gevolglik was daar woude regoor die wêreld tot selfs by die pole.  Soogdiere diversifiseer en die marsupiale en plasentale soogdiere ontstaan in hierdie tydperk.  Straalvinvisse word die dominante werweldiergroep in die oseane (sien https://wereldomons.co.za/2020/05/06/die-geologiese-tydskaal/ vir meer inligting oor geologiese tydperke).

Paleosoïkum Era (541 – 251.902 Mjg) is die eerste van die drie geologiese eras wat die Fanerosoïkum opmaak.  Dit word, van oud na jonk, in die Kambrium, die Ordovisium, Siluur, Devoon, Karboon en Perm verdeel.  Meersellige lewe het gediversifiseer en al die dierfilums het in hierdie tydperk ontstaan.  Lewe het van see tot op land versprei en teen die einde van hierdie tydperk was daar amfibieës en reptiele, groot insekdiversiteit en woude op land.  Die Paleosoïkum eindig met die grootste uitwissing van lewensvorme op Aarde wat veroorsaak het dat diversiteit van terrestriële organismes eers 30 miljoen later herstel het.  Die tweekleppiges was die volopste filtervoeders in die oseane tydens die Paleosoïkum soos wat die 12 000 fossielspesies van daardie tydperk getuig.

Pallium – sien Mantel.

Pandemie is wanneer ‘n siekte oor verskeie kontinente versprei en wat ‘n groot hoeveelheid mense siek maak en waarvan baie mense sterf (sien ook Epidemie).

Pangea beteken “alle Aarde” in Grieks.  Dit is die naam wat ons vir die superkontinent gee wat vanaf 335 miljoen tot 175 miljoen jaar gelede bestaan het toe al die huidige kontinente in een landmassa saamgesnoer was.  Pangea het later in die superkontinente Gondwana en Laurasië opgebreek.

Pankreas vorm deel van werweldiere se spysverteringstelsel en endokriene stelsel.  Die pankreas kom onder die lewer voor.  Die endokriene funksies van die pankreas sluit in: die beheer van bloedsuiker in die liggaam, die afskeiding van die hormone insulien, glukageen, somatostatien en pankreatiese polipeptiede.  Die eksokriene funksies van die pankreas sluit in: die afskeiding van pankreassap, met behulp van ‘n buisie, in die dermkanaal wat help met die afbraak van proteïene, vette en koolhidrate in die kos wat van die maag in die dermkanaal inkom.

Papie is die lewenstadium van sekere insekte (die holometaboliese insekte) wat tussen die larwale stadiums en die volwassene of imago voorkom.  Wanneer ‘n larwe (dikwels die derdelarwe) ‘n papie vorm noem mens dit pupeer, die papiedop word ook die puparium genoem en wanneer die volwassene uitkom noem mens dit ontpop en nie uitbroei nie.  Die volgroeide larwe gaan met pupering in ‘n tydperk van rus in en die eens plooibare eksoskelet verhard om ‘n harde papiedop of puparium te vorm.  Soms word die papie deur ‘n kokon omring, wat die larwe voor pupering spin.  Die papiestadium kan vir dae tot jare duur en word deur die behoeftes van die spesie en omgewingsfaktore soos seisoene, temperatuur, vogtigheid en beskikbaarheid van kos bepaal.

Papiedop of puparium is die harde, gewoonlik swart, rooi of bruin dop wat rondom die papie gevorm word.  Dit beskerm die ontwikkelende insek daarbinne.

Papilla is ‘n langwerpige vlesige struktuur of uitgroeisel op ‘n dier.

Parafileties is ‘n tipe klassifikasie wat nie al die afstammelinge van ‘n gemeenskaplike voorsaat insluit nie.  Dit is nie wenslik om parafiletiese groeperings in klassifikasie te gebruik nie, want dit beeld nie die verwantskappe tussen organismes korrek uit nie.  ‘n Tipiese voorbeeld van parafiletiese klassifikasie was die klassifikasie van voëls (klas Aves) as ‘n aparte groep buite die klas Reptilia.  Deesdae word voëls monofileties as deel van die klas Reptilia ingesluit aangesien voëls gespesialiseerde dinosauriërs is.

Paralarwes is koppotige larwes se larwes wat baie  soos miniatuur-weergawes van volwassenes lyk en wat van kleins af met hul piepklein tentakels, bekke en gifkliere jag.

Parareptiele hoort aan die subklas Parareptilia van die klas Reptilia.  Oorspronlik was hierdie groep die subklas Anapsida genoem.  Hierdie groep sluit talle uitgestorwe primitiewe reptiele en die skilpaaie in.  Die eerste parareptielfossiele kom in die gesteentes van die Laat Karboon voor.  Al die parareptielgroepe buiten die Procolophonoidea en die voorouers van die moderne skilpaaie het tydens die massa-uitsterwing aan die einde van die Perm verdwyn.  Die Procolophonoidea het teen die Laat Trias ook uitgesterf.

Parasiet verwys na ‘n organisme (plant, dier, swam of eensellige organisme) wat op ‘n ander organisme voed terwyl die organisme leef, of op sy nageslag voed of op produkte, wat vir homself of sy nasate bestem is, voed.  Die term parasiet word dikwels met patogeen gesinonimiseer.  Die parasiet leef in of op sy gasheer en is meestal spesiaal aangepas om hierdie lewenswyse te handhaaf.  Dit is ‘n tipe simbiotiese verhouding waar die parasiet slegs baat en gewoonlik tot die gasheer se nadeel is.  Ongeveer 80% van alle bekende spesies op aarde is parasiete.

Parasimpatiese senuweestelsel bestaan eerstens uit sekere senuweeselle wat in die brein geleë is en waarvan die uitlopers saam met sekere kopsenuwees na organe soos die oog, traankliere, speekselkliere en ander dele van die kop gaan en die uitlopers wat saam met die Vagus senuwee na die hart, maag en boonste deel van die dermkanaal gaan.  Die tweede deel van die parasimpatiese senuweestelsel verlaat die onderste deel van die rugmurg en vorm ‘n netwerk senuwees in die heuparea waarvandaan senuwees na die onderste deel van die derm, die blaas en die geslagsorgane loop.  Asetielcholien is die senuwee-oordragstof wat in die parasimpatiese senuweestelsel aangetref word.

Parasitoforiese vakuoolmembraan is ‘n spesiale membraan wat vanuit die gasheer se selmembraan deur die afskeidings van gespesialiseerde organe (die mikroneme, roptrieë en digte granules) gevorm word om die intersellulêre Apicomplexa parasiet te omhul soos dit die gasheersel binnedring.  Die nuutgevormde membraan sluit agter die parasiet toe soos dit in die gasheersel se sitoplasma inbeweeg het en so word die parasitoforiese vakuool gevorm.  Die doel van die parasitoforiese vakuool is om te verhoed dat die gasheer se verdedigingsmeganismes die parasiet kan identifiseer en aanval.

Parasitiformes, word in drie families verdeel: die Ixodidae (harde bosluise), Argasidae (sagte bosluise) en Nuttalliellidae.  Daar word vermoed dat daar tot tussen 100 000 en 200 000 Parasitiformes spesies mag wees, waarvan tans slegs meer as 12 000 bekend is.  Die oudste bekende lede van die Parasitiformes kom as fossiele in 100 miljoen jaar oue amber van die Kryt Tydperk voor.

Parasitoloog is iemand wat parasiete bestudeer.

Paraves (voorheen Eumaniraptoria) is ‘n groep theropood dinosauriërs wat in die Middel Jura Periode ontstaan het.  Dit sluit die dromaeosauriërs, troodontiërs, angiornitidiërs en die avalaniërs in.  Die avalaniërs sluit die meer as 10 000 spesies ekstante voëls en al hul uitgestorwe verwante in.  Basale lede van die paraviërs het ‘n groot slagklou op die tweede toon gehad, wat in die lug gehou was (om dit skerp te hou), wanneer hulle (soos wat mens in versteende voetspore kan sien) op die derde en vierde tone geloop het.  Soos in ander theropood dinosaurërs was die eerste toon rudimentêr en het in onbruik verval en was dus baie kleiner as die ander tone en het nie aan die grond geraak nie, later in die evolusie van die boomlewende voëls het dit weer nuttig geword en agtertoe geroteer om die agtertoon van voëls te vorm wat gebruik word om aan takke vas te klou.  Soos alle theropood dinosauriërs het paraviërs op hul agterbene geloop.  Paraves was meestal roofdiere alhoewel van die eerste paraviërs omnivories kon wees.  Soos baie theropood dinosauriërs het paraviërs vere gehad.  Meeste paraviërs het lang vlerkagtige arms met drie-vinger hande gehad.  Mettertyd het die vingers smaller geword, verstyf en vergroei soos wat die arms in sekere gevorderde groepe meer vlerkagtig geword het.  Die vermindering van gewrigsbeentjies het daartoe gelei dat slegs een halfmaanvormige gewrigsbeentjie oorgebly het wat toegelaat het dat die hand deur ‘n baie groot rotasie tot teen die voorarm kan terugbeweeg.  Die lang vlugvere op die arms en in Microraptor, ook op die agterbene dui daarop dat sekere klein Paraves kon vlieg.

Pariëtale of pineale oog is in die pariëtale foramen in die middel van die skedeldak van visse, amfibieë en meeste reptiele geleë.   Die pariëtale foramen, en dus die pariëtale oog, het mettertyd al hoe kleiner in die theriodontiërs geword soos wat hulle al hoe meer soogdieragtige kenmerke ontwikkel het, totdat dit in die kuonodontiërs, die direkte voorsate van die soogdiere, verdwyn het.  Diesefde het met die archosauriërs gebeur wat sal verklaar hoekom krokodille en voëls ook nie ‘n pariëtale oog het nie.  Soogdiere, krokodille en voëls het egter nog steeds ‘n pineale klier al het hulle nie ‘n pariëtale oog nie.  Die pariëtale oog stuur inligting oor die intensiteit van die son en die lengte van daglig na die pineale orgaan deur middel van ‘n senuwee wat die twee strukture verbid.  Die pinele klier is verantwoordelik vir die metaboliese reaksies en gedrag wat die sirkadiese ritmes van die dier beheer.

Pariëtale perintoneum is die epiteelweefsel van mesodermale oorsprong wat die binneste liggaamswand van die buik en pelvis uitvoer.

Partenogenese is die voortplantingstrategie wat in groepe organismes voorkom waar daar slegs wyfies is.  Die wyfie vervaardig eiers deur mitose in plaas van meiose en het dus nie ‘n sperm van ‘n mannetjie nodig om haar eier te bevrug nie.

Patellogastropoda – sien Klipmossels.

Patogeen is enigiets wat ‘n siekte kan veroorsaak.  Siektes kan ook deur virusse en ‘n groot verskeidenheid organismes veroorsaak word – vanaf bakterieë, protiste, swamme tot ‘n groot verskeidenheid diere.  Patogeniese diere word meer dikwels parasiete genoem.

Patogenies bedoel siektevormend.

Pediculus is ‘n luisgenus wat algemeen as ektoparasiete op primate voorkom.  Die mens is die gasheer van Pediculus humanus wat naasverwant aan Pediculus shaeffi  die sjimpansee- en bonoboluis is.  Hierdie luise drink die bloed van hul gashere en plak hul eiers aan die hare van hul gashere vas.  Die uitsondering is die lyfluis-subspesie Pediculus humanus humanus wat hul eiers in mense se klere lê.  Die kopluis Pediculus humanus capitis kom tussen die kophare van mense voor.

Pedikulose is die siektetoestand wat veroorsaak word deur lyf-, kop- of pubieseluis-besmetting.  Pedikulose gaan gepaard met ontsteekte vel wat erg jeuk weens die allergiese reaksie van die vel op die ensieme in luisspeeksel en die sekondêre bakteriese infeksie van die bytplekke en krapmerke.

Pedipalp – sien Kaaktaster.

Pelagies bedoel bloot die oop see vanaf die hoogwatermerk van die Neritiese sone tot die Oseaniese sone wat tussen die kontinente strek.

Pelikosauriërs – sien Pelycosauria.

Pellikel is ‘n beskermende lagie wat rondom meeste protiste se selle voorkom.  Dit verleen ook die struktuur van sekere protiste en is, in meeste spesies, buigbaar om beweging en vervorming van die sel toe te laat.  In sekere protiste soos die Ciliophora en Apicomplexa, bevat die pellikel diggepakte vesikels wat alveoli genoem word.  In ander protiste bestaan die pellikel uit proteïnstroke wat spiraalsgewys om die sel gedraai is, en in nog ander kom daar hakies op die pellikel voor wat hulle gebruik om spirokeet bakterieë te vang en mee vas te heg wat hulle dan vir voortbeweging gebruik.

Pelvis of heupbeen bestaan oorspronklik uit drie bene aan elke kant van die heupgebied of sakrale deel van die ruggraat.  In die amfibieë en reptiele is hierdie bene – die ileum, ischium en pelvis – nog drie individuele bene aan elke kant van die ruggraat.  In soogdiere en voëls is hierdie bene nog in die embrio sigbaar, maar vergroei tydens ontwikkeling om een enkele been aan elke kant van die pelvis te vorm.

Pelycosauria was die eerste soogdieragtige reptiele of sinapsiede.  Die term Pelycosauria word nie meer in klassifikasie gebruik nie omdat dit polifileties is, maar word nog steeds informeel gebruik om na die basale sinapsiede te verwys.  Soogdieragtige reptiele was die eerste groep reptiele wat in die Laat Karboon van die stamreptiele gestam het en het verskeie baie primitiewe kenmerke behou soos ‘n klierryke vel en ‘n lae, wydsbeen-stand soortgelyk aan wat ons in amfibieë vind.  Die pelikosauriërs het die amfibieë as die dominante werweldiere op land in die Laat Karboon Periode en Vroeë Perm Periode verplaas.  Teen die Laat Perm Periode was die pelikosauriërs deur hul nasate die therapsiede as dominante landlewende werweldiere verplaas.  Pelikosouriërfossiele word in die noordelike kontinente gevind wat te verwagte is aangesien Gondwanaland tydens die Karboon Periode baie ver suid geleë was en Suid-Afrika, as deel van die suidelike deel van Gondwanaland, was reg op die suidpool geleë.  ‘n Groot yskap het dus ‘n groot deel van Gondwanaland tydens die Karboon Periode bedek.  Die noordelike deel van Pangea was op die ekwator geleë en die pelikosauriërs het in die tropiese woude daar voorgekom.  Ten spyte van hulle relatiewe primitiewe aard, het pelikosauriërs sekere soogdieragtige kenmerke gehad soos die enkele temporale venster in die slaapwyk van die skedel en sommige karnivoriese pelikosauriërs het ‘n vergroting van die tweede tand op die maksilla waar die soogdierslagtand later sal voorkom.

Penisillien is ‘n natuurlike gifstof wat deur die Sakswam Penicillium vervaardig word in hul stryd om bakterieë, waarmee hulle vir lewensruimte en kos kompeteer, dood te maak.  Dit was die eerste antibiotikum wat mense ontdek het.

Pennsylvanium (323.2 – 298.9 Mjg) staan ook as die Laat Karboon bekend en is ‘n nuttige biostratigrafiese eenheid waarmee die Karboon in die Noordelike Halfrond onderverdeel word.  Die Pennsylvanium bestaan hoofsaaklik uit terrestriële afsettings en het verskeie geologiese strata met plantfossiele en steenkool.

Peperbosluise – sien Bosluislarwes.

Peptidase of protease of proteïnase is ‘n ensiem wat die afbraak van proteïene in kleiner dele (kleiner polipeptiede of enkel aminosure) versnel (kataliseer) en vir die vervaardiging van nuwe proteïenprodukte verantwoordelik is.

Perdekoors word deur die Wes-Nylvirus, wat deur Culex muskiete oorgedra word, veroorsaak.

Perdesterte is plante wat aan die genus Equisetum hoort wat lede van die Familie Equisetaceae is.  Die perdesterte is die enigste oorlewende genus van die Orde Equisetales.  Die Equisetales was ‘n ekologies belangrike groep in die Devoon en van die spesies het as groot bome in woude voorgekom.  Die stamme van hierdie oer-perdesterte het lengtelopende ribbes vir versterking gehad net soos wat mens op die ekstante perdestertstingels vind.

Pêrel is die struktuur wat gevorm word wanneer ‘n weekdier se liggaam deur ‘n parasiet aangeval word of ‘n irritant, soos ‘n sandkorrel of skulpfragment, tussen die dop en die liggaam beland, en dit met lagies irisiderende kalsiet bedek word.

Peridole is voortplantingstrukture wat in die koppies van Voëlnesswamme (familie Nidulariaceae) voorkom.  Peridole is ronde, ietwat afgeplatte strukture waarbinne basidia voorkom wat basidiospore vorm.  Die peridole skiet uit die koppie wanneer dit deur ‘n reëndruppel getref word.

Perifere verwys na die area op die rand van die liggaam, onder die vel.  Voorbeelde hiervan is die perifere senuwees en perifere bloedvate.

Perikalimma larwe is kenmerkend van die solenogasters.  Die trogofoorlawe gee oorsprong aan die sampioenvormige perikalimma larwe wat later in die wurmvormige solenogaster verander.

Perikardiale kliere, wat bokant die hart in die liggaamsruimte van meeste gastropode buiten landslakke voorkom en in die maag open, speel ook ‘n rol in ekskresie.

Perikardiale ruimte word gebruik om gefiltreerde stikstofbevattende afvalstowwe te vervaardig.  Saamtrekkings van die perikardium dra waarskynlik tot eksresie van metaboliese afvalstowwe by deurdat dit die perikardiale vloeistof rondspoel en die ultragefiltreerde stowwe daarin deur die nefrostome weerskante van die perikardium deur die renoperikardiale buise na die nefridiums vervoer word.

Periode is ‘n geologiese tydperk wat in die Geologiese Tydskaal gebruik word.  Eras word in periodes verdeel terwyl periodes in epogge verdeel word.  Die rotsformasies wat tydens ‘n periode gevorm word, word ‘n sisteem in stratigrafie genoem.

Periostrakum is die buitenste lagie van die skulp of periostrakum wat uit kongiolien bestaan.

Periplastiedmembraan verwys na die tweede membraan van buite van die plastiede wat in Harosa voorkom.  Dit het vanuit die rooiwier-voorouer wat deur die Harosa-voorouer geïngesteer is, en later ‘n endosimbiotiese organel geword het, se buitenste membraan ontstaan.

Peristalse is ‘n sametrekking van die onwillekeurige spiere wat rondom die slukderm, dunderm en dikderm voorkom en wat sodoende eers die kos en dan die feses deur die betrokke derm forseer.

Perithekium is ‘n vrugliggaam in die Ascomycota (sakswamme) waar die askusse is in ‘n flesvormige askokarp, met ‘n opening na bo, gepak is.

Peritonale holte is die ruimte tussen die pariëtale en viserale peritoneum.  Dit is een van die oorblyfsels van die oorspronklike embrionale seloom.

Peritoneum is ‘n membraan wat die kante van die abdominale holte uitvoer en wat die buik en pelviese organe bedek.  Die peritoneum bestaan uit twee lae – die pariëtale en die viserale lae met die peritoneale holte of seloom tussenin.

Perlemoer is die binneste deel van die skulp het in talle slakke, tweekleppiges en koppotiges, het ‘n irisiderende pêrelagtige kleur wat perlemoer (die moeder van pêrels) genoem word.  Dit is natuurlik hierdie stof waaruit pêrels gevorm word.  Die afskeiding van hierdie lagies kalsiet is om die binneste deel van die skulp, naaste aan die liggaam, glad te hou om wrywing te voorkom, maar dit het ook ‘n verdedigingsfunksie.

Permanente tande is die stel tande wat die melktande in difiodonte soogdiere vervang.  In polifiodonte soogdiere soos olifante, manatees en kangaroes word die tande regdeur die dier se lewe vervang en daar word dus nie na permanente tande in hierdie diere verwys nie.

Perm Periode (251.9 – 251,9 Mjg) is die tydperk wat na die Karboon Ystydperk volg en wat met die uitsterwing van 95% van alle plant- en dierspesies op Aarde eindig.  Dit was die grootste uitwissing van lewe ooit.  Die tipiese plante wat tydens die Karboon Periode op land geheers het, word nou deur keëldraende gimnosperme (die eerste ware saadplante) en eerste ware mosse verplaas.  Brachiopode, tweekleppiges, foraminifere en ammoniete kom volop in die oseane voor.  Vlieë en kewers verskyn.  Parareptiele, temnospondiele en soogdieragtige reptiele kom wydverspreid op die superkontinent Pangea voor.

Perm-Trias uitwissing wat 250 miljoen jaar gelede deur massiewe vulkanisme in Noordelike Pangea veroorsaak is, uitgesterf.  Reusagtige hoeveelhede kweekhuisgasse is deur die vulkane in die atmosfeer ingestuur.  Die gevolglike 8-10°C styging van die temperatuur by die ekwator het veroorsaak dat die Aarde uitgedroog het.  Daar sou weens die vulkaniese gasse in die atmosfeer suurreën met ‘n pH van 2 tot 3 tydens uitbarstings uitgesak het en die pH wêreldwyd tot so laag soos 4 laat daal het.  Dit het tot die agteruitgang van die woude wêreldwyd vir die volgende 10 miljoen jaar gelei.  Gedurende hierdie tyd het die Glossopteris flora wat die dominante terrestriële plante gedurende die Perm was uitgesterf.  Daar was gereëlde veldbrande weens die hoë temperatuur en die uitdroging van die plante en ‘n moontlikheid dat die osoonlaag in hierdie tydperk vir ‘n kort tyd vernietig was, wat veroorsaak het dat die Aarde aan massiewe hoeveelhede UV bestraling blootgestel was.

Perse verwys na mense van die antieke kultuur wat vanaf die sewende eeu vC in die Midde Ooste (hedendaagse Iran en omgewing) geleef het.  Die Perse en hulle onderdane van omliggende lande het ‘n geweldige groot kulturele en wetenskaplike bydrae tot die beskawing gelewer.  Die Antieke Persiese Ryk het uitgebrei en uiteindelik die Midde Ooste, Oos Europa, Sentraal Asië, die Kaukasus gebied en die noordelike deel van Indië ingesluit.  Die Persiese Ryk is in 330 vC deur die Alexander die Grote verower.  Die Persiese Ryk het met Europa, Afrika en Asië handel gedryf.

Pes is ‘n lekebenaming vir enige dier, plant of swam wat skadelik vir mense of hul belange is, of bloot ‘n irritasie is.  Mense sal na muskiete en vlieë wat hulle pla as peste verwys, maar ook na snuitkewers in hulle koring, termiete wat hulle dakbalke vreet, die stronkboorders wat hulle mielies vreet, bosluise wat hulle beeste parasiteer, ensovoorts.  Sommige van hierdie pesspesies dra siektes na mense, diere en plante oor.  ‘n Voorbeeld hiervan is builepes wat vir die dood van miljoene mense verantwoordelik was.

Peters se kortneusklaasneus (Elephantulus fuscus), familie: Macroscelididae, orde: Macroscelidea. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Malawi en Mosambiek.

Peters se witkolvrugtevlermuis (Epomophorus crypturus), subfamilie: Pteropodinae, familie: Pteropodidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Phlebotominae – sien Sandvlieë.

Phlebotomus – sien Sandvlieë.

Piesangvlermuis (Neoromicia nanus), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Piknidium is ‘n sak of flesvormige struktuur in sekere Sakswamme waarvan die binnewand deur konidiofore uitgevoer is.

Piktogram is ‘n prentjie of ‘n teken wat ‘n woord of uitdrukking verteenwoordig.  ‘n Smiley is ‘n moderne piktogram terwyl die piktogram vir kameel Λ in Fenesies was.  Dit was ‘n prentjie van die homp van ‘n kameel.  Dit word nog steeds ghimel in Hebreeus genoem en wat nog steeds kameel beteken.  Dit het ג in Hebreeus geword,  Γ in Grieks geword en die letter G in die Latynse alfabet geword.

Pineale orgaan of epifise is ‘n sensoriese orgaan wat in werweldiere bokant die midbrein voorkom.  In meeste werweldiere vanaf visse, amfibieë en meeste reptiele is daar ‘n senuweeverbinding tussen die pineale orgaan en die pariëtale oog wat in die pineale foramen van die middel van die skedeldak voorkom.  In voëls en soogdiere het die foramen gesluit maar die pineale orgaan kom nog steeds tussen die twee breinhelftes bokant die midbrein voor.  Daar is senuweevesels van die optiese chiasma in voëls en soogdiere wat met die pineale orgaan verbind is.  Wanneer die pineale orgaan deur prikkels van die pariëtale oog of senuweevesels in visse, amfibieë en meeste reptiele vanaf die optiese chiasma van soogdiere of voëls geprikkel word, word ‘n reeks hormone binne die pineale klier afgeskei wat sirkadiese ritmes van die dier beheer wat met seisoene en dagligintensiteit en -lengte te doen het, soos seisoenale paringsgedrag, hitteregulering en aktiwiteit.

Piretroïede is ‘n natuurlike insekgif wat deur die blomme van krisante vervaardig word.  Piretroïede word nou sinteties vervaardig om as kommersiële en huishoudelike insekgif te dien.  Soos ander insekgiwwe, maak dit talle invertebrate dood en nie net die teikenorganismes nie.  Dit lei tot die ineenstorting van akwatiese en terrestriële voedselwebbe waar dit kommersieël gebruik word.

Pituïtêre klier is ‘n endokriene klier wat omtrent so groot soos ‘n ertjie is.  Dit kom op die onderpunt van die hipothalamus, in die middel, onder die brein voor.  Die pituïtêre klier beheer stres, groei, voortplanting en melkproduksie.  Die hormone wat die pituïtêre klier vervaardig beheer onder meer groei, bloeddruk, energiebestuur, funksionering van die geslagsorgane, die skildklier, metabolisme, sekere aspekte van swangerskap, kindergeboorte, borsvoeding, en ook sout en waterkonsentrasies in die niere.

Plaattektoniek is die studie van die beweging van die sewe groot en talle kleiner tektoniese plate wat die aardkors opmaak.  Die teorie van plaattektoniek het op die teorie van kontinentale verskuiwing voortgebou.  Plaattektoniek verklaar die beweging van kontinente, orogenese, vulkanisme, aardbewings, die ontstaan van oseaanriwwe en die sprei van die seevloer.

Placodermi, of die gepantserde kaakvisse, was die van eerste visse met kake.  Placodermi het, soos die Ostracodermi, vanaf die Siluur Periode tot die Devoon Periode in oseane wêreldwyd voorgekom.  Hulle koppe was met geartikuleerde beenplate bedek en sekere spesies het skubbe gehad terwyl ander naak was.  Gepanserde kaakvisse was die eerste visse wat pelviese vinne en tande ontwikkel het.

Planispiraal verwys na skulpe wat op ‘n vertikale vlak opgerol is.  Dit is tipies van die skulpe van kefalopode.

Plankton is die wye verskeidenheid van organismes wat in die vars- of seewater voorkom (deesdae verwys mense ook na lug-plankton) wat te klein of swak is om teen die strome in die water, soos nekton, te kan voortbeweeg.  Plankton sluit bakterieë, alge, protosoë en drywende diere (dikwels larwes) en kwalle (wat nie onafhanklik van strome kan beweeg nie) in.

Plante hoort aan die Koninkryk Plantae wat enkel of meersellige eukariotiese en fotosintetiese organismes insluit.  Plante sluit die groenalge (Charophyta), geel-groen alge (Chlorophyta), horingblad (Anthocerotophyta), lewermosse (Marchantiophyta), wolfskloue (Lycopodiophyta), mosse (Bryophyta), varings (Pteridophyta), gimnosperme soos broodbome (Cycadophyta), die gingko (Ginkgophyta), Welwitschia (Gnetophyta) en denne, sipresse, geelhoutbome (Pinophyta) en die angiosperme of blomplante (Magnoliophyta) in.  Rooi- en bruinalge word nie meer as plante beskou nie.  Buiten vir parasitiese spesies verkry die oorgrote meerderheid plante hul energie en vervaardig suiker deur fotosintese met behulp van chloroplaste a en b.  Chloroplaste het vanuit sianobakterieë ontstaan.  Plante se selwande bevat sellulose.  Plante word ook gekenmerk aan die feit dat hulle geslagtelik voortplant met ‘n afwisseling van ‘n sporofiet en gametofiet generasies.  Sommige plante kan ook vegetatief voortplant.  Plante speel as primêre produsente ‘n allerbelangrike rol in die ekologie.  Dit blyk dat vroeë meersellige fotosintetiserende organismes reeds ‘n miljard jaar gelede in varswaterhabitatte op land teenwoordig was.  Die eerste bewys van embriofitiese landplante dateer van die Middel Ordovisium (ongeveer 470 Mjg).  Teen die Middel Devoon (ongeveer 390 Mjg) het plante strukture soos blare en wortels ontwikkel wat vergelykbaar met dié van ekstante plante is.  Teen die Laat Devoon (ongeveer 370 Mjg) het sekere van die spoordraende plante sekondêre houtagtige vaatweefsel gehad en het as bome in woude voorgekom.  Die eerste bekende saadvormende plante – die saadvarings – verskyn teen die Laat Devoon.  Die eerste blomplante verskyn in die Trias ongeveer 200 Mjg en diversifiseer in die Kryt en die Paleogeen.  Grasse was die laaste groep plante wat verskyn het.  Grasse, wat aangepas is om onder lae koolsuurgasvlakke en warm en droeë toestande te leef, het van ongeveer 40 miljoen jaar gelede ekologies dominant geraak.  Fossielblare, -hout, -stuifmeel en -spore kom algemeen in die fossielrekord voor en word vir litostratigrafiese doeleindes aangewend.

Plantvretend of herbivories verwys na ‘n organisme (gewoonlik ‘n dier) wat plante vreet.  Natuurlik doen baie ander organismes soos swamme en bakterieë dit ook, maar dan verwys mens gewoonlik na saprofiete (in die geval van swamme) en patogene (in die geval van bakterieë).  As mens dieper in biologie, dierdiversiteit, diergedrag, anatomie en ekologie begin belangstel kom mens agter dat daar verskillende tipes herbivore soos vrugtevreters, grasvreters, blaarvreters, vrugtevreters, saadvreters ens. is.

Plasentale soogdiere of Eutheria hoort aan die Superorde Placentalia van die Klas Mammalia.  Die plasentale soogdiere verskil van die ander soogdiersuperordes Marsupialia en Monotremata omdat hulle embrios slegs in die plasenta ontwikkel terwyl die ander buidelsakke en eiers gebruik.  Die fetus van plasentale soogdiere word tot op die finale stadium van embrionale ontwikkeling in die plasenta gedra terwyl die marsupiale hul fetusse ook in plasentas dra, maar net tot op ‘n baie vroeë ontwikkelingsvlak, waarna dit gebore word.  Die marsupiaalbaba moet self sy weg na die buidel vind om daar die res van sy ontwikkeling te voltooi.  Die plasentale soogdiere het waarskynlik in die Laat Kryt, ongeveer 90 Mjg verskyn maar die oudste fossiele dateer van die Vroeë Paleoseen ongeveer 66 Mjg.  Die plasentale soogdiere het in die Paleoseen in die verskillende moderne vorme gediversifiseer om die ekologiese nisse, wat deur die uitgestorwe dinosauriërs nagelaat is, te vul.  Soogdierfossiele is nuttig om die vorming en verdwyning van landbrue, wat hulle interkontinentale verspreiding moontlik maak of verhoed, te bestudeer.

Plasma in hierdie boek verwys na bloedplasma.  Plasma is ‘n helder vloeistof met ‘n ligte oranje kleur.   Dit is basies bloed sonder die bloedliggaampies (wit- en rooibloedselle).  Plasma beslaan omtrent 55% van die totale bloedvolume, maar kom ook tussen selle in die res van die liggaam voor.  Plasma bestaan uit 95% water, opgeloste proteïene, glukose, stollingsfaktore, hormone, koolsuurgas, suurstof en elektroliete.  Bloedserum is bloedplasma sonder die stollingsfaktore.

Plasmalemma – sien Selmembraan.

Plasmamembraan – sien Selmembraan.

Plasmodium is ‘n lid van die Apikomplexa en is ‘n eensellige eukarioot wat ‘n verpligte intersellulêre parasiet van werweldiere en sekere spesies Anopheles muskiete is.  Plasmodium gebruik bloeddrinkende insekte as vektore om hulle na werweldiere te versprei wanneer hulle ‘n bloedmaal nuttig.  Plasmodium gebruik die werweldiergasheer se rooibloedselle en lewerselle en die insekgasheer se spysverteringstelsel en bloedvatstelsel om sy lewensiklus te voltooi.  Die vernietiging van rooibloedselle in die werweldiergasheer veroorsaak die siekte malaria.  Daar is meer as 200 spesies Plasmodium bekend wat verskeie spesies werweldiere en sekere spesies Anopheles muskiete parasiteer.  Die Plasmodium spesies wat mense parasiteer is: P. falciparum, P. vivax, P. malariae, P. ovale, en P. knowlesi.  Honderde duisende mense sterf jaarliks aan malaria.  In meeste gevalle is P. falciparum daarvoor verantwoordelik.

Plasmogamie vind plaas wanneer die sitoplasmas van die selle van twee stamme versmelt.

Plastiede is dubbelmembraan organelle wat in die selle van eukariotiese organismes soos plante, rooi- en bruinalge en sekere protiste voorkom.  Hulle het vanuit die sianobakterieë ontstaan en leef nou endosimbioties binne die ander organismes se selle.   Plastiede sluit chloroplaste, chromoplaste en leukoplaste in en kom in plante, meeste chromiste en sekere protiste voor.  Chloroplaste vervaardig suiker wat beide vir energie en as boustof gebruik word, chromoplaste word onder andere vir die vervaardiging van kleurpigmente soos karoteen aangewend, en die kleurlose leukoplaste stoor stysels, lipiede en proteïene.  Chloroplaste kan in chromoplaste omskep word soos wat met die rypwording van vrugte gebeur wat van groen na geel, oranje of rooi verander.

Platkop-losstervlermuis (Sauromys petrophilus), familie: Molossidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Platwurms is lede van die filum Platyhelminthes.  Platwurms is ‘n groep primitiewe meersellige organismes wat vrylewende en parasitiese spesies bevat.  Die platwurms word in die Turbellaria, wat meestal vrylewende predatoriese spesies insluit, en die parasitiese groepe – die Cestoda (lintwurms), Trematoda (suigwurms) en die Monogenea (hoofsaaklik ektoparasiete van visse), opgedeel.  Intussen het navorsers agtergekom dat die Turbellaria nie monofileties is nie, en dus word die klassifikasie hersien.  Hulle het nie asemhalingsorgane of bloedvatstelsels nie.  Dit veroorsaak dat die diere baie plat moet wees, sodat hulle suurstof en koolsuurgas deur die vel met die omgewing kan wissel.  Hierdie plat vorm help die parasitiese platwurms wat nie spysverteringstelsels het nie, om kos deur hulle liggaamswand te kan absorbeer.  Die spysverteringstelsel van dié platwurms wat wel een het, bestaan uit ‘n vertakkende sak, en die mond word vir voeding en ekskresie gebruik.  Lintwurms se liggame bestaan uit ‘n kop – die skoleks wat suiers en hake het waarmee dit aan die dermkanaal van die gasheer vasheg, ‘n kort nek en dan ‘n reeks proglottiede wat soos segmente lyk.  Hierdie is egter nie ware segmente nie, maar eerder ‘n reeks individuele lintwurms wat elkeen met ‘n goed-ontwikkelde voortplantingstelsel toegerus is.  Die senuweestelsel van lintwurms is erg gereduseer.  Lintwurms en suigwurms het komplekse lewensiklusse wat behels dat dit in die liggame van tussengashere (dikwels ongewerweldes) tydens hulle vroeë lewenstadiums voorkom en as volwasse parasiet in die spysverteringstelsel van ‘n werweldiergasheer voorkom.

Platyhelminthes – sien Platwurms.

Pleistoseen Epog (2 580 000 – 11 700 jaar gelede), hieridie epog staan ook as die Paleolitiese tydperk in argeologie bekend en word gekenmerk aan ‘n reeks ystydperke wat op mekaar gevolg het.  Tydens die Pleistoseen was tot 30% van die Aarde se oppervlakte met ys bedek wat in sommige plekke ‘n dikte van tot meer as 3 km gehad het.  Aangesien soveel water op land as ys versamel het en nie gesmelt het en dus na die see teruggevloei het nie, was die seevlak ongeveer 100 m laer as vandag.  Die diere van die Pleistoseen het grotendeels aan dieselfde families en genusse as die ekstante diere behoort alhoewel hulle meestal deur verskillende spesies as die huidige spesies verteenwoordig was.  Daar was ook baie meer megafauna soos mammoete, mastodons, aurochs, kortsnoetbere, reuse luidiere, reuse predatoriese voëls in die Pleistoseen as vandag.  Die erge klimaatsveranderings wat tydens die ystydperke plaasgevind het, het ‘n reuse impak op die ontstaan en verspreiding van nuwe spesies en die uitsterwing van ander gehad soos wat kos en ruimte minder geword het en die temperatuur gedaal het.  Groot dele van die noordelike kontinente het heeltemal onbewoon geraak soos plante en diere se verspreiding al hoe meer suidwaarts geneig het sodat hulle van die koue en honger kon ontsnap.  Die ystydperke het ook ‘n groot impak op die verpreiding van oermense gehad.  Die moderne mens (Homo sapiens) het aan die einde van hierdie tydperk in Afrika ontstaan en van daar na ysvrye gebiede wêreldwyd versprei en daar met van die oermense wat buite Afrika onstaan het, soos Homo neanderthalensis en Denisovians, ondertrou.

Plesiomorf verwys na ‘n voorouerlike of primitiewe ontwerp.

Plesiosauria is ‘n uitgestorwe orde wat onder die superorde Sauropterygia van die Klas Reptilia val.  Plesiosauriërs verskyn in die fossielrekord in die boonste deel van die Laat Trias, ongeveer 203 Mjg en het baie volop in die Jura geword.  Hulle was nog volop tot die einde van die Kryt maar het toe saam met die res van die reuse reptiele tydens die K-T massa-uitsterwing verdwyn.  Plesiosauriërs het ‘n breë plat lyf gehad met ledemate wat in vier groot en sterk verlengde vinne verander het.  Sommige plesiosauriërs het besondere lang nekke en klein koppe gehad terwyl ander – die pliosauriërs – korter nekke en groter koppe gehad het.  Die pliosauriërs wat vinnig kon swem, was die spitsroofdiere in die see en het tot 17 m lank geword.

Plesiosauriër – sien Plesiosauria.

Pliosauria is ‘n uitgestorwe orde wat onder die superorde Sauropterygia, onder die klas Reptilia val.  Lede van die genus Pliosaurus word in die Laat Jura gesteentes van Europa en Suid Amerika gevind is.  Pliosauriërs was die vinnigste en gevaarlikste reptiele wat in die see geleef het.  Pliosauriërs het besondere groot koppe met groot kake en groot driehoekige tande gehad en was die top seeroofdiere wat op vis, koppotiges en seelewende reptiele jag gemaak het.

Pliosauriër – sien Pliosauria.

Plioseen Epog (5.333 – 2.58 Mjg) vorm die tweede en jongste epog van die Neogeen Periode van die Kainosoïkum Era.  Die organismes van daardie tydperk is baie soortgelyk aan dié van vandag, alhoewel ietwat meer primitief.  Die eerste hominiene – die aapmense – verskyn in Afrika gedurende hierdie tydperk.  Die botsing van kontinente veroorsaak orogenese wat o.a. die Panama Landengte vorm wat Noord- en Suid-Amerika verbind wat die Groot Amerikaanse Uitruiling van soogdiere bemoontlik het.  Die Panama Landengte sny die warm seestrome van die Stille Oseaan na die Atlantiese Oseaan af wat daartoe gelei het dat die Aarde begin afkoel het en wat die ystydperke van die Kwartêr veroorsaak het.

Podosietselle kom in die peredikardiumwand voor.  Podosiete speel ‘n belangrike rol in die ultrafiltrasie van die hemolimf om uriene te vorm.  Podosiete het lang voetprosesse wat pedikels genoem word.  Die pedikels kronkel om bloedhaarvate met klein gapings tussen die windings wat ‘n sif vorm waardeur die hemolimf gefiltreer word.

Poliep in hierdie woordelys verwys na die ongeslagtelike lewenstadium van sekere holtediere.

Polifileties verwys na ‘n takson wat impliseer dat daar verskeie voorouers vir daardie takson sal moet wees.  Dit is natuurlik onmoontlik dat ‘n takson vanuit verskeie voorouers sal kan ontstaan en dus kan dit nie in klassifikasie gebruik word nie.  ‘n Voorbeeld hiervan is die sogenaamde Pachydermata wat ‘n takson was wat sowat 200 jaar gelede geskep is wat die renosters, seekoeie en olifante op grond van hulle dikvelligheid ingesluit het.  Hierdie drie groepe is slegs verlangs aan mekaar verwant en inderwaarheid aan drie verskillende soogdierordes verwant.

Polifiodont verwys na diere soos olifante, manatees en kangaroes wie se tande regdeur hul lewens vervang word.  Dit verskil van difiodonte soogdiere wie se melktande met ‘n stel permanente tande vervang word.

Polifosfaat is fosfaatmolekules wat aanmekaar geskakel is.  Dit kom in ATP voor en is dus onder andere betrokke by die storing van energie in die sel.

Polimeer is ‘n baie groot molekule of makromolekule wat uit talle herhalende verbindings, of monomere, bestaan.  Voorbeelde hiervan is DNS en proteïene, maar ook polistireen en plastiek.

Polimorfie verwys na die verskynsel waar organismes, soos Trypanosoma, verskillende vorms deur hul leeftyd kan aanneem.

Polipeptied is talle aminosure wat deur middel van peptiedverbindings aanmekaar geheg is om ‘n enkelketting-verbinding te vorm.

Polyplacophora – sien Kewerslakke.

Poolring is ‘n kenmerkende struktuur wat in al die lede van die Apicomplexa voorkom.  Poolringe kom as apikale en basale ringe voor.  Die apikale poolring kom aan die voorkant (voedende) deel van die sel voor en die basale ring kom aan die agterkant voor.  Die poolringe dien as mikrotubuli-organiserende strukture in die sel en die mikrotubuli word ewe ver uit mekaar aan die poolringe gekoppel.

Poortstelsel is ‘n stel are wat bloed van een orgaan na die ander vervoer sonder dat dit direk aan die res van die bloedvatstelsel gekoppel is.  Die twee poortstelsels wat in soogdiere voorkom is die lewerpoortstelsel en die nierpoortstelsel.

Postkaniene tande is die keëlvormige kiestandjies agter die slagtand van primitiewe soogdieragtige reptiele.  In die kuonodontiërs neen kiestande die plek van die postkanine tande in.

Posttraumatiese versteuring is ‘n gemoedstoestand wat deur ‘n traumatiese ervaring veroorsaak word.  Die toestand kan vir maande of selfs jare duur, waartydens die traumatiese ervaring keer op keer in gedagtes en drome herleef word en wat ‘n intense negatiewe emosionele en fisisiese effek op die persoon mag hê.

Potjieswam is die Filum Chytridiomycota en vorm saam met die Konjugasieswamme die Laer Fungi.  Die Potjieswamme besit mikroskopiese potjie-vormige sporangiums, waarin die enkel-flagella soöspore gevorm word.  Potjieswamme is hoofsaaklik saprobies en leef in water of in waterdeurdrenkte grond.

Potvis (Physeter macrocephalus), familie: Physeteridae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Predator – sien Roofdier.

Predatories verwys na ‘n lewenswyse van ‘n roofdier wat ander doodmaak om te eet (sien Roofdier).

Prekambrium – sien Kriptosoïkum.

Premaksilla is die been wat gewoonlik heel voor op die snoet, voor die maksilla voorkom.  Die snytande van die bokaak kom op die twee premaksillas voor.

Preserveermiddel is ‘n chemikalieë of ‘n natuurlike middel wat gebruik word om te keer dat voedsel, drank, verf, leer, hout, grimering, biologiese monsters of medisyne verrot.  Preserveermiddels word hoofsaaklik gebruik om te keer dat bakterieë en swamme die substans wat gepreserveer word, afbreek.  Natuurlike  preserveermiddels soos sout, suiker, heuning, olie, asyn, sitroensuur en alkohol was vir duisende jare al gebruik om kos te bewaar.  Oor die laaste eeu was talle chemiese perserveermiddels ontwikkel om die kleur, geur en samestelling van kos te bewaar en om te keer dat dit verrot.  Ongelukkig kan van hierdie chemikalieë op die lange duur vir die gebruiker nadelig wees.

Presipitaat is ‘n chemiese produk wat uit ‘n oplossing neerslaan.  In geologiese terme verwys dit na ‘n mineraal wat uit ‘n waterige oplossing in holtes in rotse neerslaan.

Prevotella is ‘n genus bakterieë wat deel van die orale, vaginale en dermmikrobiota opmaak.  Dit kom soms in die lugweg voor waar dit tot sinusitis, longontsteking en boonste lugweginfeksies bydra.  Dit kan ook vir urienweginfeksies, breinabsesse en mondabessse verantwoordelik wees.  Prevotella kom ook in ontsteekte bytplekke voor.  Die dermmikrobiota bestaan hoofsaaklik uit bakteriespesies wat aan die filums Bacillota en Bacteroidota hoort.  Die Bacteroidota bestaan hoofsaaklik uit spesies wat aan die genera Prevotella en Bacteroides hoort.  Prevotella is die dominante bakteriegenus in die derms van bevolkings wat ‘n plantryke dieët het terwyl mense wat baie vleis en vette eet, meer Bacteroides bakterieë as deel van hul dermmikrobiota het.

Primaat – sien Primata.

Primata is ‘n soogdierorde waaraan die nagapies, lemurs, ape en grootape hoort (Homo sapiens is ‘n grootaap en dus lys ek nie dit apart nie).  Primate kom in die tropiese en sub-tropiese streke van Sentraal en Suid Amerika, Afrika, Madagaskar en Suidoos Asië voor.  Hulle word gekenmerk aan vyf vingers en tone, ‘n teenoorstaande duim, ‘n groot breinkas, geslote oogkaste, oë wat vorentoe kyk, vier snytande in die bokaak en vier in die onderkaak en twee borstepels.  Die primate het volgens genetiese studies reeds 85 miljoen jaar gelede, in die Kryt Periode, ontstaan.

Primêre miselium vorm na die ontkieming van die basidiospoor van ‘n Steeltjieswam.  Die hifes wat vorm is oorspronklik kenmerkend eenkernig en dit word die monokarion stadium genoem.  Die swamdrade van die primêre miselium, wat ook as die senobium of senoblast bekend staan, het aanvanklik nie septums nie en verskeie kerne kom in ‘n sinsitium voor.  Mettertyd ontstaan daar selwande en so word enkelkernige selle gevorm.

Primêre produsent verwys na ‘n organisme wat kan fotosintetiseer.  Dit sluit plante, sianobakterieë, rooialge en sekere chromiste in.

Primêre sporosist is die derde ontwikkelingstadium wat in trematode soos Schistosoma voorkom.  Die primêre sporosist wat uit die mirasidium ontstaan, is langwerpig.  Dit verdeel binne die slak se lewer in baie sekondêre sporosiste.

Primitiewe haaie het ongeveer 450 Mjg verskyn.  Terwyl ander visse soos die kaaklose visse en die gepanserde visse se diversiteit toegeneem en afgeneem tot hul verdwyn het, het haaispesies in hul duisende vir amper ‘n halfmiljard jaar bestaan.  Die eerste haaie het tydens die Siluur vanuit die Acanthodiërs of stekelhaaie ontstaan toe die oseane reeds met beenvisse gevul was.  Haaie het geen dermale bene in hulle skedels nie en hulle het kraakbeenskelette.  Oerhaaie het teen die Devoon meer soos moderne haaie begin lyk.

Primitiewe heterobrange (voorheen bekend as die Prosobranchia) is buikpotiges wat meestal twee kiewe het.  Die primitiewe heterobrange bevat seelewende en varswaterlewende slakke met doppe wat sekondêre openinge besit.  Voorbeelde van primitiewe heterobrange sluit die perlemoen en gathorings in.  Die Opisthobranchia en die Pulmonata het vanuit een van die primitiewe heterobrange, wat een kief besit het, ontstaan.

Primitiewe voëls is voëls wat in die Mesosoïkum bestaan het.  Hulle was die eerste voëls en het soos dinosauriërs steeds vingers met kloue op en tande gehad.  Sommige soos Archaeopteryx het ook nog lang gewerwelde sterte soos dinosauriërs s’n gehad.  Hierdie groep het in die Kainosoïkum, na die uitsterwing van die pterosauriërs, geradieër en aan die moderne voëls oorsprong gegee.

Probainognathidae is ‘n uitgetorwe familie van skeerbekmuis-grootte (6-7 cm) kuonodontiërs wat vanaf die Middel tot Laat Trias Periode geleef het.  Die gebit van probainognathiërs soos Diarthognathus en Probainognathus dui daarop dat hulle insekvretend was.  Hulle het besondere groot slaapwyk-openinge gehad en maksillêre bydrae tot die benige verhemelte is groter as dié van die palatine bene.  Hulle kiestande het trikonodont krone gehad.Probainognathiërs – sien Probainognathidae.

Probainognathiërs – sien Probainognathidae.

Proboscidea – ‘n soogdierorde wat die olifante – die Afrikaanse olifant (Loxodonta africana), die Woudolifant (Loxodonta cyclotis) en die Indiese olifant (Elephas maximas) bevat.

Proboskis verwys na die langwerpige buisagtige struktuur wat vanuit die kop van ongewerweldes vorentoe uitsteek waarmee die dier voed.  In die geval van werweldiere verwys dit gewoonlik na ‘n neus wat langwerpig is soos in die geval van proboskisape, die tapir of die olifant.

Progimnosperme is ‘n uitgestorwe groep houtagtige spoordraende vaatplante met veervormige blare van die Klas Progymnospermopsida of in ander klassifikasies die Divisie (die plantkundige taksonomiese sinoniem vir Filum) Progymnospermophyta.  Die progimnosperme het in die Middel Devoon verskyn.  Progimnosperme het as struike en bome, waarvan sommige tot 12 m lank was, voorgekom.  Die saadvarings het in die Laat Devoon vanuit hierdie groep ontstaan en in die Karboon het die gimnosperme uit hierdie groep ontwikkel.

Proglottiede is die “segmente” wat konstant onder aan die kort nek van die skoleks van die lintwurm gevorm word.  Die lang string van duisende proglottiede wat so in die gasheer se dermkanaal gevorm word, word die strobila genoem.  Elkeen van hierdie plat, reghoekige proglottiede, bevat ‘n manlike en vroulike voortplantingstelsel en is in werklikheid ‘n individuele organisme.  Die afgeplatte liggaam veroorsaak dat die veloppervlakte vergroot is wat die organisme in staat stel om kos deur die vel of tegument te absorbeer.  Die tiene van duisende eiers in die volwasse proglottied se ovarium kan deur selfbevrugting of kruisbevrugting bevrug word.  Na bevrugting atrofeer die res van die organe binne die proglottied buiten die uterus, met die duisende eiers daarin, wat veroorsaak dat die proglottied basies in ‘n sak vol eiers omskep word.  Die bevrugte proglottiede breek van die strobila af, en word met die feses van die gasheer uitgeskei.

Prokariote is mikroskopiese eensellige organismes wat geen selkern of dubbelmembraan organelle bevat nie – die genetiese materiaal dryf in stringe los in die sitoplasma rond en in die afwesigheid van organel-membrane vind meeste biochemiese reaksies op die selmembraan plaas.  Die prokariote is die oudste en primitiefste organismes op aarde en sluit die Domeine (of Superryke) Archaea en Bacteria in.

Promastigoot ontwikkelingstadium van Trypanosoma kom in die dermkanaal van sandvlieë voor.  Promastigote word gekenmerk deur ‘n basaalliggaam van die flagellum wat voor die selkern voorkom en dat die flagellum nie andersins aan die sel vasgeheg is nie.

Pro-ostrakum is die voorste tongvormige deel van die belemnietskulp waar die kop en tentakels van die belemniet uitgesteek het.

Propionaat is ‘n kortketting vetsuur wat vir verskeie belangrike funksies in die ligaam aangewend word.  Dit word deur Bacteroidetes bakterieë in die dermkanaal vervaardig.

Proteïene is ‘n komplekse molekule wat vir spierbou noodsaaklik is maar wat ook in ander biologiese prosesse gebruik word.  Dit word algemeen in dierprodukte gevind maar ander bronne soos neute en peulgewasse is ook ryk aan proteïene.

Proterosoïkum Eon (2500 – 541 Mjg) is die typerk tussen die verskyning van suurstof in die Aarde se atmosfeer tot net voor die diversifisering van diere soos korale en trilobiete.  Meersellige organismes soos plante, swamme en diere en die Ediacara organismes het aam die einde van hierdie Eon verskyn.

Proterosuchidae is ‘n uitgestorwe familie van basale argosauriformes wat van die Laat Perm tot die Vroeë Trias Periode.  Proterosugiërs het langwerpige, vaartbelynde krokodilagtige liggame gehad en was medium tot groot (1.5 – 4 m).  Hulle het ‘n primitiewe wydsbeenstand gehad en ‘n kenmerkende haakvormige ondertoe-gebuigde premaksilla.

Proterosugiërs – sien Proterosuchidae.

Protiste (Koninkryk Protista) verwys na eensellige eukariotiese organismes.  Dit is al vir dekades bekend dat Protista nie ‘n monofiletiese groep is nie, maar uit die eensellige lede van vier groot, nie-naverwante taksa bestaan.  Daar is meer as 64 000 bekende protiste wat in die Excavata, Amoebozoa (wat aan die diereryk verwant is en soms protosoë genoem word), Archaeplastida (wat aan die planteryk verwant is) en Harosa (wat aan die Koninkryk Chromista verwant is) verdeel word.  Plante, diere en fungi het vanuit protist-voorouers ontstaan.  In sommige klassifikasies word protiste soos Chlamydomonas as eensellige alge in die Koninkryk Plantae ingedeel, en eensellige gisse word in die Koninkryk Fungi ingedeel.  Aan die ander kant van die enkelsel/meersellige spektrum word rooiwiere en slymswamme as protiste beskou, ten spyte daarvan dat kolonies van hierdie eensellige organismes makroskopiese strukture vorm.

Protobrange (voorheen bekend as die subklas Protobranchia) is die mees primitiewe ekstante tweekleppiges bevat wat eenvoudige kiewe besit.  Sekere lede van hierdie klas vang kos met tentakeltjies. Die baie klein primitiewe seemossels van die ordes Nuculanida, Nuculida en Solemyida.

Protoconch is die oorspronklike embrionale skulp wat mens in veliger larwes kan sien.

Proto-Indo-Europees (4500 vC tot 2500 vC), een van die oudste taalfamilies waarvan ons weet wat in Oos Europa ontstaan het en aan ander tale oorsprong gegee het soos dit tydens die Laat Steentydperk tot die Bronstydperk na al die uithoeke van Europa en Indië versprei het.

Protoskoleks is die kop van die lintwurm sistiserkus.   Dit is ingedop binne die vloeistofgevulde blasie van die sistiserkus wanneer dit in die tussengasheer se weefsel voorkom, maar dit dop uit sodra dit aan die verteringsensieme in die gasheer se dermkanaal blootgestel word om die skoleks te vorm.

Protosoön is die enkelvoud van die woord Protosoë (Protozoa in Latyn).  Dit is die algemene naam vir eensellige eukariotiese organismes, veral dié wat mense meer met diere as met plante of swamme assosieer weens die feit dat hulle rondbeweeg en predatories is en nie, soos plante en swamme, nie selwande rondom hulle membrane besit nie.  Protozoa was tot in die vorige eeu, as ‘n onderafdeling van die Koninkryk Protista beskou, maar deesdae word dit as algemene benaming gebruik om na eensellige eukariotiese organismes, wat op ander organismes voed, te verwys.

Prototheca is ‘n parasitiese alg wat sy chloroplas verloor het.  Dit kom in riool en klam grond voor en veroorsaak die siekte protothekose in honde, beeste en mense.

Prototheria – sien Eierlêende Soogdiere.

Pseudohifes is die nuutgevormde selle wat deur afknopping in gisse vorm.  Dit lyk oppervlakkig soos die hifes wat mens in swamme kry, maar anders as in hifes, is elke sel in die pseudohife ‘n eie geslote sillindervormige eenheid, terwyl die wande of septa wat oorspronklik die selle in hife-vormende swamme van mekaar skei uiteindelik verdwyn of, waar daar selwande voorkom, daar perforasies in is, wat die selmateriaal toelaat om tussen selle te beweeg.

Pseudopodia (meervoud) is die tydelike uitstulpings wat in membraan-omhulde eukariotiese selle gebruik word om voedseldeeltjies te omring en in ‘n voedselvakuool te omsluit, of om mee voort te beweeg.  Dit vorm deur die stroming van die verskillende dele van die sitoplasma – die waterige ektoplasma en die korrelrige, digte endoplasma met die samewerking van die sitoskelet.  Dit is ‘n algemene verskynsel in amebe-agtige selle.

Pseudoseel is die vloeistofgevulde ruimte tussen die liggaamswand en die spysverteringstelsel wat in pseudoselomate soos rondewurms voorkom. Pseudo bedoel skyn, of vals en seloom of -seel verwys na ‘n liggaamsholte.  Die pseudoseel speel ‘n belangrike rol as deel van die hidroskelet en, in die afwesigheid van ‘n bloedvatstelsel, vir die vervoer van voedingstowwe, respiratoriese gasse en afvalstowwe.

Pseudoselomaat is ‘n dier met ‘n pseudoseel.  Diere van die filum Nematoda, Rotifera, Gastrotricha, en die klas Sipunculida van die filum Annelida het peudosele.

Pseudoskerpioene behoort aan die orde Pseudoscorpiones of Pseudoscorpionida van die klas Arachnida of spinnekopagtiges.  Hierdie klein geleedpotige predatore voed op kleremotruspes, miere, klein vliegies en myte.  Pseudoskerpioene lyk soos skerpioene buiten vir die afwesigheid van ‘n lang stert met ‘n gifangel agterop.  Hulle is ook bekend vir die gebruik van forese om te reis – dit is wanneer kleiner organismes op groteres klim om van plek tot plek te ry.

Pseudothekium is ‘n vrugliggaam in die Ascomycota (Sakswamme) wat soortgelyk aan ‘n perithekium is maar die askusse is nie netjies op ‘n hymenium gepak soos in ‘n perithekium nie.  Daarbenewens is die askusse tweekernig met ‘n dubbelwand.

Psigose is ‘n erge sielkundige versteuring wat onder andere tot skisofrenia, hallusinasies, delusies, verwarring en angs kan lei, sonder dat die persoon bewus is van hulle gedrag.

Pteriomorphia is ‘n tweekleppige subklas wat die arkskulpe (orde Arcida), ware oesters (orde Ostreida), kamoesters (orde Pectinida), vylskulpe (orde Limida), mossels (orde Mytilida) en pêreloesters (orde Pteriida) bevat.

Pterosauriërs hoort aan die uitgestorwe Orde Pterosauria wat vanaf die Laat Trias tot aan die einde van die Kryt bestaan het.  Hulle was die eerste vlieënde werweldiere waarvan ons weet.  Hulle skelette was liggewig en hulle het enorme vlerke in verhouding tot hul liggaamvolume gehad.  Die vierde vinger, wat ongeveer twee derdes van die voorste raam van die vlerk gevorm het, was uitermate vergroot en verleng.  Die vlerk het uit ‘n  membraan bestaan wat aan die vierde vinger, die binneste rand van die arm, langs die torso en aan die kant van die been vasgeheg was.  Meeste pterosauriërs het groot, langwerpige skedels gehad.  Pterosauriërs het eerder gesweef as om hulle vlerke te klap want hulle het nie soos voëls besondere groot borsspiere gehad nie.

Pthirus pubis – sien Pubiese luis.

Pubiese luise (Pthirus pubis) is menslike ektoparasiete wat in mense se pubiese hare en soms onderarmhare, baard en wimpers voorkom.  Dit is naasverwant van Pthirus gorillae, die luis wat gorillas parasiteer.

Pucciniomycotina is die roese wat hoofsaaklik plante en diere parisiteer.  Sekere roes-spesies soos stamroes in koring vorm tot vyf verskillende spoor-tipes en moet hul lewensiklus deur middel van twee verskillende gasheerplantspesies voltooi.

Pulex irritans, die mensvlooi, staan ook as huisvlooie of varkvlooie bekend.  Sien Mensvlooie.

Pulicidae is ‘n vlooifamilie binne die orde Siphonaptera.  Daar is 181 bekende spesies in hierdie familie.

Pulmonata sluit varswaterlewende slakke, die meeste landlewende slakke en naakslakke, en ‘n klein groepie seeslakke in.  Die mantelholte van die pulmonate is aangepas om as long te dien.  Detorsie het ook in hierdie groep plaasgevind wat veroorsaak het dat die senuweestelsel simmetries gerangskik is en nie oormekaar gevou is nie.  Meeste pulmonate het nie ‘n operkulum nie en is hermafrodities.

Puparium – sien Papiedop.

Q-koors word deur die bakterie Coxiella burnetii veroorsaak.  Mens en diere word deur bakterieë wat in die lug ronddryf, kontak met die melk, uriene, mis of liggaamsvloeistowwe van siek diere, of die byt van ‘n besmette bosluis,  besmet. Die bakterie is ‘n intersel parasiet en die simptome sluit skielike koors, kouekoors, tamheid, erge sweet en hoofpyn, spierpyn, gewrigspyn, aptytverlies, respirasieprobleme, droeë hoes, verwarring, maagkrampe, braking en maagwerkings in.  Helfte van die mense wat daaraan ly, toon geen simptome nie, maar ander slagoffers kan in erge gevalle daaraan sterf.

Radiodonte of anomalokariede behoort aan die Orde Radiodonta van die Filum Arthropoda.  Hulle was deel van die groot verskeidenheid mariene diere wat in die Burgess Skalies in Kanada ontdek is.  Die radiodonte, wat wêreldwyd in Kambriese fossielryke gesteentes voorkom, was die eerste groot predatore op Aarde.

Radiolarieë (subfilum Radiolaria) is protosoë van 0.1-0.2 mm in deursnit.  Soos diatome het hulle mineraalskelette van silika.  Radiolarieë word egter as soöplankton geklassifiseer terwyl diatome as fitoplankton geklassifeer word.  Alle diatome fotosintetiseer terwyl radiolarieë heterotrofies is.  Sommige radiolarieë het egter fotosintetiese endosimbionte en word as miksotropies beskou.

Radiometriese datering is ‘n tegniek waar die tempo van radioaktiewe verval van radioisotope gebruik word om die ouderdom van ‘n voorwerp of ‘n geologiese laag te dateer.  Radiometriese datering word saam met biostratigrafie, sedimentologie en paleomagnetisme gebruik om die Geologiese Tydskaal saam te stel.  Die verhouding van ‘n radioaktiewe element in die gesteente of voorwerp tot die dogterproduk wat deur radioaktiewe verval gevorm word, word bepaal.  Aangesien die tempo van radioaktiewe verval konstant is, kan hierdie verhouding gebruik word om die ouderdom van die voorwerp of gesteente te bepaal.

Radula of raspertong is uniek aan die weekdiere.  Die radula is aan die beweeglike odontofoor vasgeheg.  Die radula se oppervlakte bevat rye van skerp chitientandjies wat van agter af vervang word soos die voorstes verweer.  Die radula is egter volgens die dieët en voedingswyse van die spesifieke spesies aangepas en wissel van die eenvoudigste radulas wat in klipmossels en perlemoer, wat alge op rotse vreet, voorkom, tot die gespesialiseerde radula waarmee wulke deur die skulpe van hul prooi boor om op die sagte, weerlose weefsel van hul prooi te voed.  Die radula is met tande toegerus wat vanaf 16 tot duisende in verskillende spesies kan wissel.  Hierdie tande is so uniek in elke spesie dat dit dikwels vir klassifikasiedoeleindes aangewend word.  Hierdie tande kom in rye op die radula voor en verskil in meeste gevalle in vorm, afhangende van die posisie op die radula waar dit voorkom.  In sommige buikpotiges is daar 6 tande in ‘n ry, terwyl daar tot 750 mikroskopiese tande in ‘n ry op die radula van ander spesies kan voorkom.  Die tande van keëlslakke is omvorm in giftige harpoenagtige pyle waarmee hulle hul prooi steek.

Raspertong – sien Radula.

Ratel (Mellivora capensis), familie: Mustelidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora Soögeografiese wyk: Ethiopis en Palearktis. Inheems aan Suid-Afrika.

Redia is langwerpige tot ovaalvormige, sakvormige lewerbotlarwes wat deur middel van tweedeling binne die sporosist vermeerder, totdat die sporosist oopbars om hulle vry te stel.  Die eerste stel redias vaar die spysverteringstelsel van die slak binne en gee aan ‘n volgende stel redias oorsprong, wat op die slak se spysverteringsklier of lewer voed.  Die tweede stel redias gee om die beurt aan serkarieë en nog redias oorsprong.

Reënwoude word gekenmerk aan ‘n digte groepering van immergroen bome met ‘n aaneenlopende blaredak.  Reënwoude kom in tropiese en gematigde dele van die wêreld voor, waar dit gereeld reën.

Rektale prolaps verwys na die uitpeul van deel van die dermkanaal deur die anus.  Dit gebeur wanneer die spiere wat die rektum ondersteun verswak of beskadig word.

Rendall se dakvlermuis (Neoromicia rendalli), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Renoperikardiale stelsel van weekdiere is in werklikheid die uitskeidingstelsel van weekdiere, waarvan die nefridia net ‘n onderdeel van is.  Suurstofarm hemolimf met metaboliese afvalstowwe versamel in die veneuse sinusse in die voet van die weekdier en word van hier na die perikardium vervoer waar die urienfiltraat gevorm word.  Die urienfiltraat word deur die ultrafiltrasie van die hemolimf deur die podosietselle in die epikardiale wand van die aurikel in die perikardiale ruimte gevorm.  Die urienfiltraat word dan na die nefridia deur renoperikardiale buisies vervoer waar oortollige water geherabsorbeer word.  Die uriene word deur nierbuisies na die mantelhote vervoer word en deur nefridioporieë, wat in die mantelholte open, uitgeskei.  Die hemolimf dreineer van die nefridia deur are na die kiewe of long.

Renostervoëls is twee spesies wat aan die familie Buphagidae hoort en wat in die teenwoordigheid van groot grasvretende soogdiere in die savanna van Afrika suid van die Sahara voorkom.  Mens sien hulle gereeld op die rûe of sye van diere soos beeste, bokke, seekoeie, kameelperde en zebras waar hulle bosluise, insekte en larwes van insekte soos dié van tumbuvlieë oppik.  Renostervoëls sal ook die groot soogdier se bloed drink, veral wanneer daar ‘n rou bytplek is.

Reptiele hoort aan die klas Reptilia van die subfilum Vertebrata van die filum Chordata.  Die moderne reptiele (skilpaaie, akkedisse, slange, krokodille, wurmslange en die Tuatara) en verskeie uitgestorwe reptielgroepe (pterosauriërs, plesiosauriërs, igtiosauriërs, dinosauriërs en die res van die nie-skilpad parareptiele, sinapsiede en stamreptiele) hoort aan hierdie groep.  Volgens kladististiese beginsels moet al die nasate van reptiel-voorouers ook in hierdie groep ingesluit word en dit sluit dus soogdiere in wat van die sinapsiede ontstaan het en die voëls wat uit die dinosauriërs ontstaan het.  Sommige werweldierkenners is van mening dat die woord reptiel sy taksonomiese betekenis verloor het en dat ons eerder na die amniote moet verwys om hulle van die nie-amniotiese tetrapode – die amfibieë te onderskei.  Die reptiele is die grootste groep landlewende werweldiere en alhoewel hulle op land ontstaan het en vir meer as 300 miljoen jaar die dominante werweldiere op land was, het hulle ook die lug as pterosauriërs en die see in die vorm van ichthyosauriërs, plesiosauriërs en mosasauriërs oorheers.  Reptieldiversiteit het sy hoogtepunt in die Mesosoïkum bereik toe reptiele die mees diverse vorms en groottes bereik het en diverse habitatte bewoon het.  Selfs vandag na die K-T massa-uitsterwing is daar steeds amper twee keer meer ekstante reptielspesies (10 700) as soogdierspesies (5 400), en as jy die ongeveer 10 000 spesies voëls, as die nasate van dinosauriërs by tel, is soogdiere as een vyfde van die amniote en glad nie meer die dominante groep werweldiere op land nie.  Die eerste reptiele het ongeveer 312 Mjg in die Karboon uit reptieliomorfe tetrapode ontstaan (sien stamreptiele).  Die amnioneier was die belangrikste evolusionêre innovasie wat werweldiere van hul afhanklikheid van water gespeen het.  Die reptieliomorfe tetrapode was reeds goed vir lewe op land aangepas en was amper identies in liggaamsvorm en gedrag aan reptiele buiten vir hul afhanklikheid van water vir voortplanting wat hulle dan as amfibieë klassifiseer.  Die openinge in die slaapwyk van die reptielskedel word gebruik om reptiele as Anapsiede, Sinapsiede en Diapsiede en Eurapsiede te klassifiseer.

Reptiel-kaakgewrig is die skarnier wat deur die artikulêre been wat agter op die onderkaak, en die kwadraat wat op die onderkant agter op die skedel voorkom, gevorm word.  In die oorgang na soogdiere sien mens hoe die artikulêre been en die kwadraat van die soogdieragtige reptiele in die hamer en die aambeeld van die binneoor omvorm word.

Reptiliomorpha is die tetrapode wat die Antracosauria en hul nasate, die Amniota, insluit.  Met ander woorde, die reptiliomorfe sluit alle tetrapode buiten die basale tetrapode in.  Dit is belangrik om in ag te neem dat, alhoewel die antrakosauriërs in meeste opsigte soos reptiele (wat die grootste deel van die amniote opmaak) lyk, hulle akwatiese larwes gehad het en dus as amfibieë geklassifiseer word.  Die amniote het nie larwes gehad nie, maar lê eiers met doppe buite die water.  Die amnioot-embrio ontwikkel binne die eier.

Reservoir verwys na ‘n dier wat dieselfde parasiet kan huisves as wat mense besmet.  ‘n Vektor (gewoonlik ‘n bloedsuiende geleedpotige) wat op beide die vektor en die mens voed, kan dan hierdie parasiet van die reservoir na die mens toe oordra.

Resilien is ‘n elastiese proteïen wat in vlooie se bene voorkom.  Hierdie proteïen word soos ‘n muisval se veer, met die stadige terugbeweging van die vlooi se agterbene, opgewen.  Wanneer die vlooi wil spring, word die opgebergde krag in ‘n breukdeel van ‘n sekonde vrygestel, wat die merkwaardige sprong tot gevolg het.

Retina is ligsensitiewe selle wat agter in ‘n oog voorkom.  Oë van verskillende ontwerpe en verskillende vlakke van effektiwiteit kom in ‘n verskeidenheid diere voor.  Van die mees komplekse oë in die diereryk kom in werweldiere en in koppotiges voor.  Dit is een van die beste voorbeelde van konvergerende evolusie waar amper identiese ontwerpe in twee onverwante groepe ontstaan het, maar met verskillende bouplanne.  Die werweldierretina is ‘n uitstulping van die brein, met ander woorde die ligsensitiewe selle van werweldier se retina lê onder lae van ander ondersteunende selle wat mens elders in die senuweestelsel kry terwyl die senuweevesels, wat uit elke senuweesel spruit, bo-oor die retina lê.  Die lig moet met ander woorde deur hierdie ander selle en senuweevesels skyn om by die retinaselle uit te kom.  Al die senuweevesels versamel in die oogsenuwee by die blinde vlek waar daar nie retinaselle is nie – en dus blind is.  In ongewerweldes is die retinaselle direk aan die lig blootgestel en die senuweevesels versamel agter die retina as die oogsenuwee.  Die retina van ongewerweldes is dus ook baie sensitief vir lig en kan onder lae ligintensiteit funksioneer.

Reuk is die vermoë om luggedraagde molekules waar te neem (sien ook Chemoresepsie).  Daar is egter baie verwarring wanneer mense tussen smaak (die vermoë om molekules in vloeistof), die vermoë om feromone waar te neem en reuk te onderskei.  Meeste van die smake wat mens waarneem is inderwaarheid reuke wanneer molekules agter in jou keel tot in jou neusholte deurdring en daar deur die olfaktoriese senuwees waargeneem word.  In werweldiere is reuk ‘n funksie wat deur die frontale lobbe van die brein beheer word, terwyl feromone deur die vomeronasale orgaan in die neusholtevloer en monddak van reptiele en soogdiere waargeneem word en wat dan na die limbiese stelsel gestuur word (sien Feromone).

Reuse-kruipmol (Chrysospalax trevelyant), subfamilie: Chrysochlorinae. familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Reuserot (Cricetomys gambianus), subfamilie: Cricetomyinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Rhipicephalus decoloratus – sien Bloubosluis.

Rhipicephalus evertsi evertsi – sien Rooipootbosluis.

Rhipicephalus sanguineus – sien Hondehokbosluis.

Rhipicephalus simus – sien Blink bruinbosluis.

Rhizaria sluit ‘n wye verskeidenheid, meestal enkelsellige, eukariote in.  Hulle kom as deel van plankton in seewater en varswater voor.  Rhizaria is deel van die Harosa en bevat organismes wat van fotosintetiserende voorouers (waarskynlik dinoflagellate) ontstaan het, maar in meeste gevalle hul vermoë om te fotosintetiseer verloor het en vir ‘n predatoriese, simbiotiese of parasitiese lewenswyse verruil het.  Die Rhizaria sluit foraminifera, radiolaria en slymswamme in.  Hierdie groep bevat lede wat ameba-agtig is en die Foraminifera wat ‘n kalkryke of silikaryke dop besit.  Sommige kan in kolonies leef wat tot ‘n meter lank kan word.  Hulle voed deur om hul prooi met pseudopodia te omhul en in voedelvakuole te ingesteer.

Rhodophyta – sien Rooiwiere.

Rhodotorula is ‘n steeltjieswam (Basidiomycota) van die familie Sporidobolaceae wat in gisvorm voorkom.  Rhodotorula gisse kom wêreldwyd voor en word in grond, water en lug aangetref waar dit op stikstofryke verbindings leef.  Dit vorm dikwels oranje-rooi kolonies as dit in groot groepe voorkom. Sekere Rhodotorula spesies kan mense met gekompromitteerde immuunstelsels, besmet.

Rhyacium (2300 – 2050 Mjg).  Die Bosveldstollingskompleks vorm in hierdie tydperk.  ‘n Ystydperk wat vir 100 miljoen jaar duur vind plaas gedurende hierdie tydperk.

Rhynchocephalia is ‘n bykans uitgestorwe orde, wat saam met die orde Squamata, die superorde Lepidosauria vorm.  Die ringokefaliërs het in die Middel Trias Periode ongeveer 240 miljoen jaar gelede ontstaan.  Daar is net een spesie van hierdie primitiewe akkedisagtige reptiele oor en dit is die Sphenodon punctatus of tuatara van Nieu Seeland.  Gedurende die Mesosoïkum was die ringokefaliërs baie meer divers en talryk en het in talle vorms, geskik vir verskeie ekologiese nisse, voorgekom.  Met die opkoms van akkedisse in die Kryt Periode, het die ringokefaliërs se getalle en diversiteit erg begin afneem.  Daar is talle sinapomorfiese kenmerke wat hulle met akkedisse in gemeen het, en op ‘n tyd was die ringokefaliërs as ‘n akkedisfamilie beskou.  Daar is egter kenmerke soos die volledige onderste beenstafie (jugale, kwadratojugale en die kwadraat) in tuatara, wat die onderste slaapwykvenster afbaken, wat die Squamata verloor het.  Ander kenmerke wat in die ringokefaliërs voorkom, maar nie in die Squamata nie, is die gastralia in die buikgebied, versmelte frontale bene en ‘n dubbel tandry in die bokaak met een ry tande op die maksillêre been, en ‘n tweede, parallel daaraan, op die palitiene been.  Kenmerke wat in Squamata, maar nie in die tuatara voorkom nie, is die spleniale been in die onderkaak, die lakrimale been voor en op die rand van die oogkas en tandwortels. Die tuatara het van die oudste ouderdomme van geslagsrypheid onder reptiele – ‘n individu word eers geslagsryp na 9 tot 13 jaar.  Aan die ander kant kan hulle tot ongeveer 100 jaar oud word.  Die tuatara is ongeveer 35 cm (wyfies) en 43 cm (mannetjie) lank. Oer-rigokefaliërs het tot 1.5 m lank geword.

Ribosome kom in alle selle voor waar hulle proteïene uit aminosure vervaardig.  Hulle kom op die buitenste selkernmembraan en op die grootste deel van die endoplasmiese retikulum voor, wat dan weens die korrelrige aard van ribosome die growwe of rowwe endoplasmiese retikulum genoem word.  Ribosome kom ook in mitochondria en plastiede voor.  Ribosome bestaan uit ‘n spesiale tipe RNS wat as rRNS (vir ribosomale RNS) bekend staan en proteïene.

Richard Owen (1804-1892) was ‘n Britse bioloog, vergelykende anatoom en paleontoloog.  Hy het geweldig baie navorsing gedoen en gepubliseer en het onder andere die terme Dinosauria en Synapsida geskep.  Hy was ook ongelukkig een van Darwin se grootste teenstanders en alhoewel hy evolusie aanvaar het, hy nie die nuwe gedagtes rondom die meganisme van evolusie aanvaar nie.  Hy was ook onpopulêr onder sy kollegas omdat hy blykbaar krediet vir ander mense se werk geneem het.  Owen was egter ook die dryfveer om die Britse Natuurhistoriese Museum op die been te bring en om dit vir die publiek in 1881 oop te stel.

Rickettsia africae is die bakterie wat bosluisbytkoors veroorsaak.  Dit word in die speeksel van besmette Suid-Afrikaanse bontbosluis en Tropiese bontpootbosluis na die mens toe oorgedra.  Die simptome sluit hoë koors, koue koors, tamheid, hoofpyn, geswolle limfkliere, spierpyne en ‘n uitslag in.

Rickettsia conori is ‘n bakterie wat ‘n siekte veroorsaak wat in verskillende gebiede as bosluistifus, Mediterreense vlekkoors, Boutonneuse koors, Israeli bosluistifus, Astrakhan vlekkoors, Kenia bosluistifus en Indiese bosluistifus bekend staan.  Vektore wat hierdie bakterie na mense en diere oordra sluit die geel hondebosluis, bruin oorbosluis, rooipootbosluis, hondehokbosluis, blink bruinbosluis, bloubosluis, groot growwe bontpootbosluis, vaal bontpootbosluis, tropiese bontpootbosluis en Suid-Afrikaanse bontbosluis in.

Rickettsia felis is een van die bakterieë wat endemiese tifus veroorsaak.  Dit besmet mens deurdat besmette vlooimis deur krapplekke in die vel in die bloedstroom kom.

Rickettsiales is ‘n orde bakterieë waaronder die genus Rickettsia val.  Rickettsia bakterieë is intersellulêre parasiete wat binne die gasheer se selle voed en voortplant.  Rickettsia bakterieë word deur protiste, bloedsuiers en verskeie geleedpotiges soos bosluise, vlooie en luise na gashere oorgedra.  Rickettsiales bakterieë word in drie groepe verdeel – die vlekkoors groep, die tifus groep en bossietifus wat deur die bakterie Orientia tsutsugamushi veroorsaak word.

Rickettsia prowazeki is die bakterie wat vir epidemiese tifus verantwoordelik is.  Hierdie bakterie word deur lyfluise onder haglike toestande, wanneer mense in opgeknopte, onhigiëniese toestande leef, tussen mense oorgedra.  Miljoene mense het al van epidemiese tifus gesterf.

Rickettsia typhi is een van die bakerieë wat vir endemiese tifus verantwoordelik is.  Hierdie bakterie kom van vlooie af.  Die bakterie word uit vlooimis deur krapplekke in die vel na die bloedstroom oorgedra.

Rietbok (Redunca arundinum), subfamilie: Reduncinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Ringokefaliërs – sien Rhynchocephalia.

Ringwurm is ‘n anglisisme.  In Afrikaans noem ons dit omlope (sien Omlope).

Risoïede (rhizoids) lyk soos haarworteltjies en kom onder aan swamme en primitiewe plante voor.  Dit anker die swam of plant maar absorbeer ook voedingstowwe vanuit die onderliggende substraat.  Risoïede groei reguit ondertoe in die substraat in.

Risosfeer is die laag in die grond wat deur die sekresies van die organismes, wat die wortelmikrobioom vorm, beïnvloed word.  Die risosfeer bevat baie bakterieë, protiste, swamme en invertebrate wat op dooie plantselle en die proteïene en suikers wat deur plantwortels vrygestel word, voed.  Hierdie komplekse wisselwerking tussen die verskillende organismes kan plantgroei, kompetisie vir hulpbronne, weerstand teen siektes en sirkulasie van voedingstowwe beïnvloed wat die verspreiding en sukses van talle spesies bepaal.

Risso se dolfyn (Grampus griseus), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Rivierkonyn (Bunolagus monticularis), familie: Leporidae, orde: Lagomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Rivieroewers verwys na ‘n baie spesifieke habitat wat, alhoewel redelik klein in vergeleke met grasvelde, woestyne en woude is, ‘n baie belangrike ekologiese rol speel.  Rivieroewers is bekend vir hul spesiediversiteit en kan in plekke wat baie droog is, die grootste getal spesies in daardie gebied bevat.  Dit is ook ‘n baie sensitiewe ekotipe en is, saam met riviermondings en vleilande, van die mees bedreigde ekotipes in Suid-Afrika, waar boere riviere leegpomp en op ander plekke gifstowwe in die riviere laat afloop.  Afloop van myne het ook ‘n groot negatiewe impak op rivieroewerbosse.

RNS of ribonukleïensuur is, soos DNS, draers van genetiese inligting.  RNS kom in die selle van alle organismes voor.  Die RNS molekule bestaan uit lang stringe nukleotiede, wat opgevou word en as ‘n dubbelheliks gedraai is.  Guanien en sitosien vorm ‘n basispaar en adenien en urasiel (in plaas van timien soos in DNS) vorm ‘n basispaar.

Robert Broom (1866-1951) was ‘n Skot wat in 1897 Suid-Afrika toe gekom het.  Hy het as mediese dokter in 1895 gekwalifiseer en ‘n DSc in geologie in 1905 van die Universiteit van Glasgow verwerf.  Hy was as professor in dierkunde en geologie by die Victoria College in Stellenbosch (wat later die Universiteit van Stellenbosch sou word) van 1903-1910 aangestel.  Daarna was hy as werweldierpaleontoloog in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad werksamig.  Hy het later as dokter in die Karoo gewerk waar hy ook fossiele opgegrawe het.  Hy het die eerste studie van die biostratigrafie van die Karoo Supergroep gedoen en gepubliseer.  Een van sy belangstelligs was die soogdieragtige reptiele wat die evolusionêre oorgang van reptiele na soogdiere boekstaaf.  Hy het in sy leeftyd duisende fossiele opgegrawe en het meer soogdieragtige fossielspesies as enige ander paleontoloog ontdek en benoem.  Hy was in sy 60’s toe hy ‘n pos as paleontoloog in 1934 by die Transvaal Museum in Pretoria aanvaar het.  Tydens sy tyd by die Transvaal Museum het hy talle aapmensfossiele ontdek, waaronder Paranthropus robustus in 1937 en die eerste volwasse Australopithecus africanus fossiele, en onder andere Oertjie Ples (“Mrs. Ples”) in 1947.

Robuuste kruipmol (Amblysomus robustus), subfamilie: Amblysominae, familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Rocky Mountain-koors of Rocky Mountain vlekkoors word deur die bakterie Rickettsia rickettsii veroorsaak wat deur die Amerikaanse bosluise oorgedra word.  Die simptome begin met koors en ‘n hoofpyn.  Na ‘n paar dae verskyn ‘n uitslag rondom die gewrigte en enkels, waarvan die kolletjies bloei.  Ander simptome mag spierpyn en braking insluit.  Soms kan slagoffers uiteindelik deel van ‘n arm of ‘n been verloor en aan permanente gehoorverlies ly.

Rodentia – sien Knaagdiere.

Roese is swamme wat aan die Subdivisie Pucciniomycotina hoort.  Meeste is plantparasiete, maar sommige is swamparasiete en ander insekparasiete.

Roeskleurklimmuis (Dendromus mystacalis), subfamilie: Dendromurinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Roeskleurvlermuis (Pipistrellus rusticus), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Rondeoorklaasneus (Macroscelides proboscideus), familie: Macroscelididae, orde: Macroscelidea. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Rondewurms of nematode is die volopste diertjies op aarde (80% van alle diere is rondewurms) en hoort aan die Filum Nematoda.  Hulle kom in bykans alle habitatte op aarde voor – vanaf woestyne tot die diepste trog op die seevloer waar hulle spesie- en getalgewys meeste ander organismes oorheers. Volgens een berekening is daar sowat 60 miljard nematode vir elke mens op aarde. Hulle lewenswyses wissel vanaf parasities tot vrylewend.  Daar was onlangs nematode in ‘n Suid-Afrikaanse myn (een van die diepstes op aarde), op ‘n diepte van 3.6 km ontdek. Meeste ronodwurmspesies wissel van mikroskopies klein tot sowat een millimeter lank, maar sommige is egter sentimeters lank en ‘n paar tot meters lank.  Die kortste bekende nematood, Greeffiella oxycaudata, is 0.08 mm lank, terwyl die langste, Placentonema gigantissima, wat walvisse parasiteer, agt meter lank, of 100 000 keer groter is.  Dit is die grootste grootteverskille binne ‘n filum waarvan ons weet, en dit is bloot ‘n aanduiding van hoe groot die diversiteit van hierdie filum is, wat weer ‘n aanduiding is van hoe groot en belangrik hulle ekologiese rol is.  Rondewurm plantparasiete word aalwurms genoem.

Roofdier of predator is ‘n dier wat ander diere (prooidiere) vang, doodmaak en vreet.  Dit verskil van parasiete wat gewoonlik nie die gasheer doodmaak nie en dit lewendig vreet.  Dit verskil ook van ‘n aasdier wat nie sy prooi doodmaak nie.  Die woord karnivoor (vleisvreter) en predator is nie sinoniem nie.  Alle predatore is vleisvreters, maar alle vleisvreters is nie predatore nie – soos aasvreters byvoorbeeld.

Roofwantse is insekte wat aan die familie Reduviidae van die orde Hemiptera of halfvlerkiges hoort.  Die meeste roofwantse is landlewende predatore en die res is ektoparasiete wat bloed drink.  Roofwantse is kort en stewig gebou en het ‘n groot krom proboskis wat hulle onder teen hul borsstuk hou tot hulle dit wil gebruik.  Die “kissing bug” roofwants van die Amerikas is die vektor van die tripanosoom parasiet Trypanosoma cruzi wat Chaga se siekte veroorsaak wat die hart, spysverteringstelsel en die senuweestelsel beskadig.

Rooibloedselle, rooibloedliggaampies of eritrosiete is spesiale selle wat ‘n allerbelangrlike rol in gaswisseling in werweldiere speel.  Elke rooibloedsel bevat ongeveer 270 miljoen ysterbevattende hemoglobienmolekules, wat die vermoë het om losweg met suurstof te verbind, wat dan maklik in die longe opgeneem word en in weefsel afgegee word.  Dieselfde, maar omgekeerde proses, vind in die geval van koolsuurgas plaas.  Die rooibloedselle ontstaan uit die rooi beenmurg in bene vanuit spesiale stamselle wat hemositoblaste genoem word.  Die hemositoblaste besit kerne, maar die rooibloedliggaampies van meeste werweldiere verloor hulle kerne en meeste organelle om plek te maak vir die miljoene hemoglobienmolekules daarbinne.  Die feit dat die normale selfunksies hierdeur gekompromitteer word, is hoofsaaklik die rede hoekom ‘n rooibloedsel gemiddeld net vir 100-120 dae leef voordat dit deur witbloedselle verteer word.  Tussen 40% en 45% van bloedvolume word deur rooibloedselle opgemaak.

Rooibok (Aepyceros melampus), subfamilie: Aepycerotinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Rooiduiker (Cephalophus natalensis), subfamilie: Cephalophinae, familie: Bovidae, orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Rooieekhoring (Paraxerus palliatus), tribus: Protoxerini, subfamilie: Xerinae, familie: Sciuridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Rooigety word veroorsaak deur die skielike aanwas van sekere dinoflagellate wat so talryk rondom die kuslyn word dat die see rooi verkleur.  Weens die gifstowwe wat hulle vervaardig, vergif hulle miljoene der miljoene seediere – vanaf weekdiere, skaaldiere en visse.  Mense kan sterf as hulle hierdie vergiftige diere eet.

Rooigrysskeerbek (Crocidura cyanea), subfamilie: Crocidurinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Rooihartbees (Alcelaphus buselaphus caama) subfamilie: Alcelaphinae, familie: Bovidae, orde: Artiodactyla

Rooijakkals (Lupulella mesomelas), familie: Canidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Rooikat (Caracal caracal), subfamilie: Felinae, familie: Felidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis en Palearktis. Inheems aan Suid-Afrika.

Rooikolmuskeljaatkat (Genetta maculata), subfamilie: Viverrinae, familie: Viverridae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Rooi langhaarvlermuis (Myotis bocagii), subfamilie: Myotinae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Rooipootbosluise (Rhipicephalus evertsi evertsi) is ‘n tweegasheer bosluis wat in tropiese en subtropiese streke in Afrika suid van die Sahara voorkom.  Dit is die vektor van die bakterie Rickettsia conori wat bosluistifus veroorsaak en die protosoïese parasiete Anaplasma en Babesia wat onderskeidelik vir die siektes anaplasmose en babesiose verantwoordelik is.

Rooiribbok (Redunca fulvorufula), subfamilie: Reduncinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Rooiwiere behoort aan die takson Rhodophyta en is een van die oudste groepe eukariotiese wiere.  Daar is reeds meer as 7 000 rooiwierspesies bekend, wat dit een van die grootste wiergroepe maak.  Die meerderheid rooiwiere is meersellig en kom in die see voor, terwyl die oorblywende 5% varswaterlewend is.  Rooiwiere is uniek, omdat hulle selle nie soos dié van ander eukariote flagella of sentriole bevat nie.  Hulle chloroplaste is nie deur die endoplasmiese retikulum omhul nie en die thylakoïede is nie opmekaar gestapel nie.  Daar is fikobileen en rooi karoteen in die selle wat rooiwiere hul kenmerkende rooi tot pers kleur gee.  Hulle chloroplaste bevat groen chlorofil a wat saam met die fikobileen en rooi karoteen, hulle in staat stel om die lig van ‘n groter deel van die spektrum, insluitende blou lig te kan absorbeer.  Dit stel hulle ook in staat om onder baie lae ligintensiteit nog steeds te kan fotosintetiseer.  Dit verklaar hoekom rooiwiere dieper as ander wiere in die see – tot dieptes van 75 m – kan voorkom.  Meeste rooiwiere is meersellig en plant geslagtelik en ongeslagtelik voort.

Roptrieë is langwerpige spuitvormige buise wat as deel van die apikale kompleks in amper al die lede van die Apicomplexa voorkom.  Die punte van die roptrieë is in ‘n ring rondom die apikale kompleks gerangskik.  Die getal roptrieë verskil van spesie tot spesie.  In Plasmodium falciparum kom daar twee roptrieë voor, terwyl daar in Toxoplasma gondii tussen 8 en 12 roptieë voorkom.  Die roptrieë vervaardig proteïene wat afgeskei word om die parasiet teen die gasheersel vas te koppel  Die roptrieproteïene vorm dan saam met die mikroneem- en digte granule-afskeidings ‘n beweeglike koppeling tussen die parasiet en die gasheer waarmee hulle die parasitforiese membraan vervaardig.  Die afskeidings van die roptrieë inhibeer die gasheersel se eerste verdedigingsmeganismes wat met die aanslag op die selmembraan geaktiveer raak.

Rosacea is kroniese velontsteking van die gesig wat deur bakterieë, swamme, follikelmyte of allergiese reaksies veroorsaak word.  Dit veroorsaak dat die vel branderig en jeukerig voel en rooi-pienk voorkom, soms kom daar ook suggevulde knoppies voor.

Rostrum is die agterste spiesvormige deel van die belemnietskulp.  Hierdie kalsietryke deel van die skulp wat meestal in die fossielrekord behoue gebly het.

Rothschild Vlooiversameling is die grootste versameling van vlooie in die wêreld wat deur die Britse bankier Charles Rothschild versamel is en na sy dood aan die Natural History Museum in London geskenk is.  Hierdie versameling wat as die Rothschild Collection bekend staan bevat ongeveer 260 000 voorbeelde wat ongeveer 73% van die 2 587 spesies vlooie, wat aan die wetenskap bekend is, opmaak.

Rotifera of wieldiertjies of raderdiertjies, is ’n filum van klein tot mikroskopiese  (0.05 – 2 mm lange) pseudoselomate wat wêreldwyd in varswateromgewings voorkom.  Daar is egter ook ‘n paar seelewende spesies.  Hulle is van die eerste mikroskopiese diertjies wat met behulp van die eerste mikroskoop deur Antonie van Leeuwenhoek beskryf is.

Rotlintwurms (Hymenolepiasis diminuta) kom wêreldwyd as rotparasiete voor, maar slegs ‘n paar honderd mense was, volgens mediese rekords, met hierdie parasiet besmet.  Die rotlintwurm se eiers en proglottiede is groter as dié van die dwerglintwurm (H. nana).  Die rotlintwurm dring werweldiere se spysverteringskanaal binne wanneer hulle rotlintwurm-besmette insekte, soos vlooie, per ongeluk insluk.  Rotlintwurms word 20-60 cm lank.

Rotlongwurm Angiostrongylus cantonensis is ‘n parasitiese rondewurm wat eosinofiliese breinvliesontsteking in Suidoos Asië en die Stille Oseaan Eilande veroorsaak.  Die rondewurm woon in die lugweg-slagare van rotte wat aanleiding tot die algemene naam gegee het.  Slakke is die tussengashere waarin die rotlongwurmlarwes huisves.  Rotte is die hoofgashere van hierdie parasiet terwyl mense is die insidentele gashere is.  Mense word deur larwes van die rotlongwurm geparasiteer wanneer mense rou of half-rou slakke eet, water drink waarin die parasiet voorkom of rou groente. wat met die besmette water natgelei is. eet.

Rotvisse – sien Holocephali.

Rotvlooie, builepesvlooie of Oosterse rotvlooie (Xenopsylla cheopis), het die builepesbakterie Yersinia pestis na mense oorgedra.  Miljoene mense het van builepes, of die Swart Dood, omgekom.

Rudimentêr verwys na ‘n orgaan of struktuur wat nie meer ‘n funksie het nie en, na gelang van tyd, besig is om te verklein en uiteindelik heeltemal verdwyn.

Rudistiese tweekleppiges hoort aan die Orde Hippuritida wat in die Laat Jura ontstaan het. Hierdie groep het in die Kryt gediversifiseer en ‘n belangrike rol in rifbou tot hul uitsterwing aan die einde van die Kryt, gespeel.  Anders as meeste tweekleppiges, het rudistiese tweekleppiges twee skulpe met verskillende vorms gehad – die een skulp het ‘n deksel gevorm terwyl die ander skulp ‘n verlengde keëlvormige buis van ‘n paar sentimeter tot oor ‘n meter lank gevorm het.

Rüppell se saalneusvlermuis (Rhinolophus fumigatus), subfamilie: Rhinolophinae, familie: Rhinolophidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Rüppell se vlermuis (Pipistrellus rueppelli), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis en suidelike deel van Palearktis. Inheems aan Suid-Afrika.

Ruspe is die larwe van motte en vlinders (orde Lepidoptera).  Hulle lyk oppervlakkig soos gesegmenteerde wurms en mense noem hulle dikwels wurms – soos in die woord sywurms.

Saadplante word ook die spermatofiete of Spermatophyta genoem.  Daar is vyf filums (of divisies as jy ‘n plantkundige is) van ekstante saadplante.  Hulle is die: gimosperme of naaksadiges – Cycadophyta (broodbome), Ginkgophyta (ginkgo), Pinophyta (denne, sipresse en verwante), die Gnetophyta (Wilwitschia en verwante) en die Magnoliaphyta (angiosperme of blomplante).  Die fossielrekord van saadplante dateer van ongeveer 360 Mjg maar hulle was klein plantjies wat aanvanklik ‘n klein ekologiese rol in die woude van die Devoon en Karboon gespeel het.  Saadplante het eers in die Perm, toe die klimaat droeër geword het, die dominante plantgroep geword.  Verskeie uitgestorwe saadplantgroepe word in die fossielrekord gevind.  Die uitgestorwe saadvarings (Pteridospermae) was een van die eerste suksesvolle groepe landplante wat in woude in die Laat Paleosoïkum voorgekom het.  Glossopteris, ‘n saadvaring-genus, was die dominante plantgroep in Gondwanaland en het reuse woude van bome en struike in die Perm Periode gevorm.  Die saadvarings het grotendeels in ekologiese belangrikheid teen die Trias Periode afgeneem en was ekologies deur perdesterte en sekere gimnosperme vervang.  Moderne gimnosperme het gediversifiseer en was dominant tot teen die einde van die Kryt waarna die blomplante gediversifiseer en dominant geword het. Saadplante word van primitiewe spoorvormende plantgroepe onderskei op grond van hul vermoë om sade te vorm. ‘n Saad is ‘n embrio wat deur voedingsweefsel omring is en deur ‘n saadomhulsel omring is.  Die embrio is ‘n diploïede sporofiet wat uit die sigoot ontwikkel het terwyl ‘n spoor ‘n haploïede sel is wat aan ‘n gametofiet oorsprong gaan gee.

Saadvaring is ‘n lid van die Pteridospermatophyta wat bestaan uit verskeie groepe plante wat sade gevorm het maar soos varings gelyk het.  Die vroegste bewyse vir saadvarings kom uit die Devoon (ongeveer 400 Mjg).  Hulle het gediversifiseer en gedurende die Karboon tot die Perm gedy en alhoewel hulle grootliks teen die einde van die Kryt (ongeveer 65 miljoen jaar gelede) uitgesterf het, was daar nog ‘n oorblyfsel van hulle wat op die eiland van Tasmanië tot in die Eoseen (ongeveer 56 – 34 Mjg) oorleef het.

Saamgestelde oë kom in geleedpotiges soos insekte en sekere skaaldiere voor.  Dit bestaan uit ‘n versameling van tot duisende kleiner oë of ommatidia.  Dit kom gewoonlik in ronde uitstulpings voor en is dig teenmekaar gepak.  Elke ogie of ommatidium bevat sy eie kornea, lens en fotoreseptorselle wat tussen lig en donker, kleur en beweging kan onderskei.

Sagte bosluise of tampans (familie Argasidae) is ‘n tipiese myt met ‘n sakagtige lyf of idiosoma en agt pote, maar het nie ‘n skild oor die boonste deel van sy lyf soos die harde bosluise nie, maar eerder ‘n leeragtige vel met korreltjies of knoppies op.  Hulle monddele is onder die lyf geplaas, in plaas van voor aan die liggaam, soos in die geval van die harde bosluise s’n.  Die oë van die sagte bosluise wat oë het, kom aan die kant van die lyf voor.  Sagte bosluise druk nie hulle gnathostoma in die gasheer se lyf in nie, maar sal eerder ‘n snit in die gasheer se vel maak en die bloed, wat uitsyfer, vir ongeveer 30 minute lank drink.  Gewoonlik sal hierdie bosluise in die tonnels, neste of grotte, waar hulle gashere woon, bly.

Sagte verhemelte  is die deel van die verhemelte wat agter die harde verhemelte voorkom en uit sagte weefsel bestaan.

Sahara Woestyn is die grootste warm woestyn in die wêreld.  Die woord Sahara is “woestyn” in Arabies, so ons sê eintlik “woestyn woestyn” wanneer ons Sahara Woestyn sê, net soos die Engelse “berg berg” sê wanneer hulle “Drakensberg Mountain” sê.  Dit beslaan die grootste deel van Noord Afrika buiten vir die vrugbare stook al langs die Middelandse See, die Magreb, wat vanaf die Atlas Berge in die weste tot by die Nyl Vallei in die ooste strek.  Dit strek vanaf die Rooi See in die ooste tot by die Atlantiese Oseaan in die weste.  Die Sahara word in die suide deur die Sahel begrens.  Dit is die semi-droë strook savanna wat vanaf die Niger Rivier Vallei tot Sudan voorkom.

Sakkulus is ‘n sakagtige struktuurtjie in werweldiere se binneoor.  Op die binnewand van die sakkulus kom ‘n vertikaal-georiënteerde langwerpige kol gevoelshaartjies voor wat met die otolitiese membraan bedek is.  Kalsiumfosfaatkorreltjies word op die oppervlak van die otolitiese membraan vasgelym wat die membraan swaarder maak.  Die verhoogte gewig dra tot die inersie (traagheid om te versnel) daarvan by, sodat die gevoelshaartjies tydens vertikale beweging weg van die rigting van beweging sal ombuig en sodoende inligting na die brein stuur ten opsigte van die vertikale rigting van beweging.

Sakswamme of askuswamme is die Filum Ascomycota.  Die sakswamme het gesepteerde hifes (met ander woorde daar is septums of dwarswande binne die hifes) wat soms tweekernige selle bevat.  Die sakswamme vervaardig geslagtelike askospore in mikroskopiese askusse en nog kleiner ongeslagtelike spore, of konidia. Sakswamme kom van enkelsellige gisse tot miseliums wat ons muf noem tot ondergrondse miseliums met groot bogrondse sporokarpe soos morelle voor.  Die oorgrote meerderheid sakswamme is landlewend maar sommige is see- of varswaterlewend.  Die filum Ascomycota is die grootste groep onder die Koninkryk Fungi en besit reeds meer as 64 000 bekende spesies.  Ascomycota vorm saam met die Basidiomycota die Hoër Swamme of die Subkoninkryk Dikarya.  Die naam Ascomycota en die algemene naam sakswamme is afgelei van die Griekse woord ἀσκός (askos), wat sak beteken.  (Vir meer oor sakswamme gaan na: https://wereldomons.co.za/2020/04/16/sakswamme-of-askusswamme-ascomycota/)

Salamanders is ‘n tipe amfibieë van die orde Urodela.  Salamanders lyk op die oog af soos akkedisse met klam skublose velle.  Salamanders se velle is inderdaad klierryk en klam en hulle kan deur dit respireer of asemhaal.  Hulle kom glad nie in Afrika suid van die Sahara, Australië of Antarktika voor nie.  Hulle hou van klam plekke en vermy skerp sonlig.  Hulle plant voort in water en die wyfies lê eiers in die water.  Die eerste deel van hulle lewensiklus word in die water as paddavisagtige larwes voltooi.  Wanneer ‘n salamander ‘n poot of ‘n stert verloor, sal hy dit weer kan vervang.

Salmonella is ‘n geflagelleerde basil van die familie Enterobacteriaceae.  Salmonella is intersellulêre parasiete wat mens inneem waneer jy kos eet wat met hierdie bakterie, wat in feses voorkom, besmet is.  Salmonella bongori, wat salmonellose veroorsaak, word van dier na mens of van mens na mens oorgedra en affekteer hoofsaaklik die spysverteringstelsel.  Die meer dodelike Salmonella enterica wat ingewandskoors veroorsaak word van mens tot mens oorgedra, en kan die bloedstroom binnedring en verskeie orgaanstelsels besmet.  Die toksiene wat hulle afskei kan tot hipovolemiese en septiese skok lei en die dood van die besmette persoon veroorsaak.

Salp is ‘n vryswemmende lid van die filum Urochordata (subfilum Thaliacea).  Salpe is deursigtig en lyk soos deursigtige vaatjies met ‘n oop voor- en agterkant.  Die voorste of boonste opening is die inlaatsifon en die agterste of onderste sifon is die uitlaatsifon.  Salpe beweeg deur die water deur om water deur hul liggame met behulp van hierdie sifons te stroom.  Hulle wissel van ‘n paar millimeter tot etlike sentimeter in lengte.  Sekere spesies kom as enkellopende individue voor terwyl ander in meters lange kolonies deur die seewater dryf.  Hulle is filtervoeders wat hul kiefmandjies gebruik om kos uit die water te filtreer.

Samango aap (Cercopithecus albogularis), familie: Cercopithecidae (Ou Wêreldape), superfamilie: Cercopithecoidea, infraorde: Simiiformes, suborde: Haplorhini, orde Primata. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Sambokwurm of sweepwurm (Trichuris trichiura) word gekenmerk aan die besondere lang, dun voorste deel van die lyf.  Sambokwurmeiers word deur die mond ingeneem en beweeg in die dermkanaal af.  Kontak met die mikrobioom van die dunderm, stimuleer die larwes om uit te broei.  Die larwes boor in die villi van die dunderm in en bly daar om te voed en te groei.  Die jong sambokwurm verlaat die dunderm en migreer na die sekum van die dikerm waar hulle in die mukosa met hulle lang voorlywe binnedring en bly, totdat hulle volwasse wurms word en paar.  Die sambokwurm voed op die weefselafskeidings eerder as op bloed.  Sambokwurmeiers word saam met die feses uitgeskei.  Die siektetoestand wat deur sambokwurmbesmetting veroorsaak word, word trichuriose genoem.

Sandtampans (Ornithodoros savignyi) is ‘n sagte bosluis met ‘n knopperige vel wat in warm, droeë streke in Afrika, die Midde-Ooste, Indië en Asië voorkom.  Dit veroorsaak bosluisverlamming en tampan toksikose.  Die sandtampan parasiteer soogdiere, insluitende die mens en voëls en voed op verskeie gashere in hul leeftyd.  Dit is ‘n vektor vir die bakterie Borrelia en sekere hemorragiese koorsvirusse.

Sandvlieë is ‘n algemene naam wat mense vir enige vlieg, wat in sanderige gebiede voorkom, gee maar in hierdie boek verwys dit na lede van die familie Phlebotominae wat klein (1.25 – 3.5 mm) donkergrys vliegies is wat in warm, klam gebiede voorkom en as vektore vir tripanosoom-parasiete optree.  Beide mannetjies en wyfies drink nektar en plantsappe, maar die wyfie het ‘n bloedmaal nodig vir die vorming van eiers.  Sandvlieë van die genus Phlebotomus kom in Afrika en Eurasië voor en tree as vektor vir die tripanosoom-protist Leishmania op, terwyl sandvlieë van die genus Lutzomyia vektore vir die bakterie Bartonella bacillioformis in die Amerikas optree.

Sandvlooie (Tunga penetrans) hoort aan die klein insekfamilie Hectopsyllidae van die orde Siphonaptera.  Sandvlooie is die kleinste bekende vlooie en die mannetjies en onbevrugte wyfies is minder as 1 mm lank.  Beide sandvlooimannetjies en -wyfies drink bloed.  Die wyfie dring egter die gasheer se vel binne tot net haar agterent by ‘n gaatjie in die gasheer se vel uitsteek, sodat die mannetjie haar kan bevrug.  Na bevrugting verander die sandvlooiwyfie in ‘n lewende eiersak van tot 10 mm in deursneë onder die gasheer se vel.  Die honderde eiertjies wat sy vorm peul by die gat in die gasheer se vel uit om so te versprei wanneer die gasheer rondloop.

Saprobiese organisme verwys na ‘n organisme wat op dooie organiese materiaal voed.

Saprofitiese organismes is organismes wat op dooie plantmateriaal voed deur om ensieme af te skei en die opgeloste voedingstowwe deur die selmembraan te absorbeer.

Sarcopterygii of lobvinvisse is ‘n subklas in die klas Osteichthyes of beenvisse.  Die lobvinvisse het vlesige, gelobde vinne met spiere en bene in teenstelling met die straalvinvisse (subklas Actinopterygii) wat dun stafies van been en kraakbeen in hulle vinne het.  Lobvinvisse het ook ‘n difiserkale stert waarin die ruggraat tot agter in die stertvin voorkom eerder as wat dit soos in straalvinvisse in ‘n kaudale pedunkel eindig waaraan die stertvin vasgeheg is.  Die pektorale vin in die lobvinvisse is met ‘n enkele been (die humerus) proksimaal aan die skedel vasgeheg en die pelviese vin is met ‘n enkele been (die femur) proksimaal aan die liggaam vasgeheg.  Die humerus is distaal aan twee bene – die ulna en radius – vasgeheg wat om die beurt distaal aan beenelemente wat verder in die pektorale vin uitsprei, vasgeheg is.  Die femur is distaal aan twee elemente – die tibia en fibula – vasgeheg wat om die beurt distaal aan beelelemente wat verder in die pelviese vin uitsprei, vasgeheg is.  Die skeletelemente in die basale tetrapode se aanhangsels het vanuit dié van die lobvinvisse ontwikkel.  Lobvinvisse het twee dorsale vinne teenoor die een wat in straalvinvisse voorkom.  Die oudste lobvinvisfossiele kom in die boonste lae van die Siluur, wat ongeveer 416 Mjg oud is, voor.  Lobvinvisse het in die Vroeë tot Middel Devoon (416-385 Mjg) in varswaterhabitatte gevestig geraak terwyl die gepanserde kaakvisse die oseane as top-predatore oorheers het.  Die vroeë lobvinvisse het tydens die Vroeë Devoon (385-299 Mjg) aan twee hoofgroepe, die selekante en die rhipidistiërs, oorsprong gegee.  Die rhipidistiërs sluit twee hoofgroepe in: die Poroleptiformes en die Dipnoi.  Die Poroleptiformes het aan die tetrapode oorsprong gegee terwyl die Dipnoi aan die longvisse oorsprong gegee het.  Die diversiteit van lobvinvisse het na die Mesosoïkum afgeneem en daar is vandag slegs twee selekantspesies en ses longvisspesies oor.

Saunders se vleirot (Otomys saundersiae), subfamilie: Otomyinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Savanna is ‘n gemengde grasveld-bos ekostelsel wat gekenmerk word deur grasveld waarin bome voorkom wat so ver uit mekaar groei dat daar nie ‘n aaneenlopende blaardak gevorm word nie.  Daar is dus ‘n aaneenlopende grondbedekking wat hoofsaaklik uit gras bestaan, omdat die sonlig tot op die grond kan deurdring.  In sekere gebiede soos op die savanna van Suid Amerika, kom daar groter hoeveelhede bome voor as in ander plekke soos op die savanna in Afrika.  Die Bosveld is die Suid-Afrikaanse weergawe van die savanna ekotipe.  Een van die kenmerke van savannas is dat daar seisoenale reënval is met nat en droë tydperke.  Savannas kom dikwels tussen ekotipes voor soos tussen grasveld en oerwoud, of tussen woude en woestyn.  Ongeveer 20% van die Aarde se oppervlakte word deur savannas bedek.  Hominiene het in die Afrika savanna ontstaan.

Savannahaas (Lepus microtis), familie: Leporidae, orde: Lagomorpha.Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Scaphopoda – sien Tandskulpe.

Schistosoma is ‘n genus van platwurms wat aan die Klas Trematoda van die filum Platyhelminthes behoort.  Hulle word ook bloedbotte genoem.  Hierdie groep parasitiese platwurms veroorsaak schistosomiase of bilharzia wat miljoene mense besmet en, naas malaria, die ernstigste parasitiese siekte op aarde is.

Schistosoma haematobium – sien Urienwegbloedbot.

Schistosoma mansoni – sien Dermbloedbot.

Schistosoma mattheei, die wild- en veebloedbot wat in Afrika voorkom, parasiteer ook soms die mens.

Schistosomiase – sien bilharzia.

Schlieffen se vlermuis (Nycticeinops schlieffeni), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis en suide van Palearktis. Inheems aan Suid-Afrika.

Sclater se dwerg bosskeerbek (Myosorex sclateri), subfamilie: Myosoricinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Sclater se kruipmol (Chlorotalpa sclateri), subfamilie: Chrysochlorinae. familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Scylacosauridae of skylakosauriërs soos Pristerognathus, was van die eerste primitiewe therokefaliërs wat in die Perm Periode in die suide van Gondwanaland voorgekom het.  Hierdie primitiewe karnivoriese soogdieragtige reptiele was so groot soos honde en het lang skerp slagtande gehad.

Sebum is ‘n olierige, wasagtige produk van die liggaam se seemskliere.  Dit bedek, bevog en beskerm diere, insluitende die mens, se vel.  Mens se vel droog uit as mens heeltyd dit afwas.  Dan kry mens skilfers.  Dan gooi mense net nog chemikalieë op hul koppe om dit te hanteer.  Dan split mense se hare.  Dan gooi mense net nog chemikalieë op hul koppe om dit te hanteer.  Dan kry mense ‘n veluitslag, of ekseem, of wat ook al… en so aan…

Sedimentêre gesteentes of afsettingsgesteentes is gesteentes wat uit sediment onstaan het wat oorspronklik in die vorm van modder, slik, sand, gruis of organiese materiaal in laagliggende gebiede op land of onder water afgeset is.  Gesteentes wat vorm uit vulkaniese as of uit minerale wat uit oplossing op die seevloer presipiteer word ook as sedimentêre gesteentes geag.  Sediment word gevorm deur die verwering van die moederrots, wat uit stollings-, metamorfe of sedimentêre gesteetes bestaan.  Verwering vind deur chemiese, fisiese of biologiese prosesse plaas.  Die sediment word dan deur water, wind, ys of gravitasie na die plek van afsetting vervoer.  In die afwesigheid van ‘n atmosfeer (en dus wind en presipitasie) is gravitasie een van die belangrikste natuurkragte op die maan wat vir die vervoer van sedimente soos regoliet verantwoordelik is.  Sedimentêre rotse vorm deur die kompaktering en sementering van hierdie afgesette sedimente oor miljoene jare.  Sedimentêre gesteentes vorm ‘n dun laag wat oor stollings- en metamorfe gesteentes afgeset is en wat ongeveer 73% van die Aarde se landoppervlakte bedek.  Sedimentêre gesteentes is die belangrikste bron van inligting oor die vormingsgeskiedenis van die aardoppervlakte, biostratigrafie, paleoklimatologie, paleogeografie, paleontologie en evolusie.  Sedimentêre gesteentes is ook die bron van steenkool, olie, aardgas en drinkwater.

See-anemone is holtediere wat naasverwant aan korale en kwalle is.  Hulle is aan rotse en koraalriwwe vasgeheg en gebruik hul tentakels, met netelselle op, om prooi te vang.

Seekatte is koppotiges wat tot die orde Octopoda hoort.  Hulle het soos die ander lede van die superorde Octopodiformes agt tentakels of gryparms, maar ook die grootste breins van alle ongewerweldes en komplekse oë wat met dié van soogdiere vergelyk kan word.  Hulle het gif en inkkliere soos ander koppotiges.  Hulle gebruik hul sifon waardeur hulle water spuit om te swem, maar andersins loop hulle met behulp van hul tentakels.  Die Nederlanders noem die Sepia inkvis ‘n seekat en wat ons die seekat noem, noem hulle ‘n octopus.  Seekatte kom op koraalriwwe, rotsagtige kuste, pelagies in die seewaters en op die seevloer voor waar hulle skaaldiere, weekdiere en visse vang en vreet.

Seekoei (Hippopotamus amphibius), familie: Hippopotamidae, orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Seekomkommers is lede van die klas Holoturoidea van die filum Echinodermata.  Seekomkommers is stadig-bewegende detritus-voeders wat op die seevloer in alle oseane voorkom.  Hulle het ‘n langwerpige liggaam met ‘n dik leeragtige vel.

Seekos is ‘n algemene term wat ‘n verskeidenheid vis, weekdiere (let op ek gebruik nie die woord skulpvis hier nie, want dit word reeds saam met die calamari en seekatpootjies deur die term weekdiere gedek) en skaaldiere (krap, garnale en kreef) insluit wat mense eet.  Dan kry mense soms ‘n allergiese reaksie hierop.

Seelelies behoort aan die Klas Crinoidea van die Filum Echinodermata (die stekelhuidiges).  Die Crinoidea wat m.b.v. ‘n steel aan die onderliggende substraat vasgeheg is, word seelelies genoem tewyl die wat sonder stele in die water ronddryf veersterre genoem word.  Crinoidea, het soos die res van die echinodermate, ‘n vyfvoudige (pentaradiale) simmetrie maar hulle het tentakels in veelvoude van vyf m.a.w. tien of meer veeragtige tentakels.  Seelelies was baie volop in die oertyd en fossiele van hul stele is wêreldwyd in die fossielrekord teenwoordig.  Sekere kalksteenafsettings wat uit die Middel tot Laat Paleosoïkum dateer, bestaan slegs uit seeleliesteelbrokstukke.

Seelewend verwys na organismes wat in die see leef (mense hou daarvan om die woord marien vir seelewend te gebruik),

Seemskliere is kliere wat, buiten vir die voetsole en handpalms, oral op die vel, op die ooglede, rondom tepels, op die geslagsdele, op mens se lippe, op die tandvleise en in die binnewang voorkom, maar in die grootste getalle op die gesig en kopvel voorkom.  Hierdie kliere skei verskillende vloeistowwe af wat wissel van vloeistowwe soos trane, tot olies tot wasagtige sekresies.  Haarfollikels word omring deur seemskliere wat hare soepel en glad hou en keer dat dit bros word.

Seenaakslakke (orde Nudibranchia) het heeltemal hul doppe verloor.  Meeste seenaakslakke het kiewe, wat soos pluimvere lyk, op hul rue.

Seepampoentjies behoort aan die Klas Echinoidea van die Filum Echinodermata.  Seepampoenties is gewoonlik ronde diertjies met stekels rondom.  Hulle kom in alle oseane en op alle dieptes (tot 5 000 m onder seevlak) voor.  Hul lywe is omhul deur ‘n harde kalkagtige test met gaatjies in vir die buisvoetjies om deur te steek.  Hierdie gaatjies kom in rye voor wat in vyf groepe gerangskik is wat van die orale (aan die kant van die mond) na die aborale (die teenoorstelde kant van die mond) kante van die test strek.  Hulle beweeg stadig m.b.v. die buisvoetjies en soms ook met hul stekels.  Seepampoentjies voed hoofsaaklik op alge maar soms ook op stadigbewegende of sessiele diertjies.  Hulle fossiele verskyn vir die eerste keer in die Ordovisium ongeveer 450 Mjg.

Seesterre behoort aan die klas Asteroidea van die filum Echinodermata.  Seesterre toon soos die res van die echinodermate vyfvoudige simmetrie (pentaradiale simmetrie) maar word gekenmerk aan hul vyf vlesige tentakels.  Mense sluit dikwels die slangsterre (klas Ophiuroidea) by die seesterre in as hulle oor die algemeen na seesterre verwys.  Seesterre kom in alle oseane van die pole tot die trope voor.  Hulle het gewoonlik ‘n sentrale skyf waaraan die vyf vlesige arms gekoppel is.  Seesterre het, soos al die ander echinodermate, nie ‘n brein nie en die aborale (boonste, of aan die teenoorgestelde kant van die mond) oppervlakte kan glad, korrelagtig of stekelrig wees.  Soos ander echinodermate het hulle ‘n buisvoetstelsel waarmee hulle beweeg.  In die geval van seesterre kom die buisvoete in rye aan die onderkant (orale kant, of aan dieselfde kant as die mond) van die tentakels voor.  Hulle is opportunistiese voeders en is meestal predatore van bentiese diertjies.  Fossiele van seesterre verskyn in die fossielrekord tydens die Ordovisium ongeveer 450 Mjg.

Seesy was ‘n gesogte item duisende tot honderde jare gelede – dit was van die bissale drade van tweekleppiges – spesifiek die penskulp (Pinna nobilis) gemaak.  Weens oorgebruik van hierdie skaars bron het dit die bevolkings van seepenne erg benadeel.

Seetrôe is diep, lang induikings in die seevloer.  Dit kan dikwels vanaf 50 tot 100 km breed en tot tiene van duisende kilometers lank wees.  Seetrôe vorm waar tektoniese plate subduksie ondergaan.  Die diepste seetrog wat tot dusver ontdek is is dele van die Marianatrog wat meer as 11 km onder seevlak is (Mount Everest is 8.8 km bo seevlak in vergelyking).

Segmentasie is die verdeling van die liggaam in ‘n reeks segmente.  Septas of skotwande skei die segmente van mekaar.  Daar is ‘n herhaling van organe in naasliggende segmente.  Die eerste organismes wat segmetasie getoon het was die Annelida.

Seisoenale riviere of nie-standhoudende riviere is riviere wat slegs in die reënseisoen water in het.

Seiwalvis (Balaenoptera borealis), subfamilie: Balaenopterinae, familie: Balaenopteridae, suborde: Mysticeti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Sekondêre miselium is die miselium van Steeltjieswamme wat  dubbelkernige hifes besit.  Die sekondêre miselium is gewoonlik meer lewenskragtig as die enkelkernige primêre miselium en groei vinniger en neem die kosbron oor.  Sommige van hierdie sekondêre miseliums kan vir eeue voortbestaan.

Sekondêre sporosiste is die vierde ontwikkelingstadium van Schistosoma wat uit die primêre sporosist ontwikkel.  Sekondêre sporosiste verdeel weer en weer om altesaam tot ‘n halfmiljoen serkarieë te vorm.  Na ‘n maand bars die sporosist oop en stel die serkarieë vry.

Sekresie is die afskeiding van nuttige stowwe soos vloeistowwe en olies.  Dit verskil van ekskresies wat die uitskeiding van afvalstowwe is.  Speeksel wat ons gebruik om kos in nat pasta te verander, sodat dit deur die slukderm kan beweeg sonder om vas te sit, trane wat die oë benat, sodat die ooglede pynloos daaroor kan gly, mukus wat die neusholte bevogtig en goggawerende was in die oorkanaal is voorbeelde van sekresies.

Sekum is die deel van die dikderm waaraan die blindederm geheg is.  Die sekum lê aan die regter onderkant van mense se buikholte (regs agter in ander vierpotige soogdiere) se buikholte.  Dit is die sakagtige deel van die dikderm wat derminhoud van die dunderm ontvang en word as die eerste deel van die dikderm beskou. In weekdiere lê die sekum langs die maag en derm.  Dit is waar meeste van die ekstrasellulêre vertering in weekdiere plaasvind.

Seldood is die verskynsel wanneer ‘n sel vergaan.  Seldood vind plaas wanneer ‘n sel aan die einde van sy leeftyd kom en deur nuwes vervang word of wanneer ‘n sel beseer of besmet is en nie meer sy funksies kan verrig nie, of wanneer die organisme, waarvan die sel deel is, vrek.  Daar is egter ‘n verskynsel wat as geprogrammeerde seldood bekend staan wat deur die sel se DNS beheer word.  Dit vind dikwels plaas wanneer weefsels moet differensieër om verskillende funksies te verrig, soos die dood van die selle wat in ‘n embrio tussen die vingerbeentjies voorkom sodat die vingers gevorm kan word.

Selekteer is die proses wat in die natuur vookom waar sekere organismes weens sekere voordelige kenmerke eerder as dié waarin hierdie kenmerke nie voorkom nie, oorleef.

Selfbevrugting verwys na die proses waartydens die eierselle in ‘n hermafroditiese organisme deur die sperms van dieselfde organisme bevrug word.

Selkerne, kern of nukleus kom in meeste selle voor, en dié wat nie selkerne het nie, soos die rooibloedliggaampies van meeste soogdiere, het een tydens hul ontwikkeling gehad.  Die selkern is rond of ovaalvormig en is die grootste organel in dierselle.  In die geval van swamme waar selmembrane tussen selle in sekere groepe ontbreek en die sitoplasma aaneenlopend is, en in die geval van plantselle waar groot vakuole in voorkom, is hierdie verhouding tussen sitoplasma- en kernvolumes natuurlik anders.  Die waterige inhoud van die selkern, die kernplasma of nukleoplasma, word deur ‘n dubbele membraan, die kernmembraan, omring wat aan die endoplasmiese retikulum, wat buite-om die selkern in lae gerangskik is, koppel.  Ribosome kom meestal, soos op die growwe endoplasmiese retikulum, op die buitenste kernmembraan voor.  Daar is ‘n kernmatriks, soorgelyk aan die sitoskelet, wat uit proteïenfilamente bestaan, wat die struktuur van die selkern in stand hou, en vir die organisasie van die strukture binne die kern verantwoordelik is.  Klein porieë in die kernmembraan verbind die kernplasma met die omliggende sitoplasma.  Die DNS van die organisme dryf in die kernplasma in lang stringe rond (die DNS stringe word as chromosome voor en tydens seldeling verpak).  Daar is ook in meeste gevalle, een of meer ovaalvormige nukleolusse of kernliggame, wat uit nukleïensure bestaan, binne die selkern teenwoordig.

Selle is die kleinste boublokke van lewe.  Selle bestaan uit sitoplasma wat deur ‘n dubbelmembraan van fosfolipiede omring is.  Binne die sel is die RNS of DNS wat die genetiese materiaal van die organisme bevat, ‘n membraanskelet en talle organelle.  In plante en swamme word die selmembraan deur ‘n selwand omring.  Diere, plante en swamme se selle verskil fundamenteel van mekaar – dierselle het nie selwande nie, terwyl plant- en swamselle het.  Plante se selwande bestaan uit sellulose, terwyl swamme s’n uit chitien bestaan.  Plantselle het groot vakuole en chloroplaste, terwyl dier- en swamselle dit nie het nie.

Sellulose bestaan uit honderde tot duisende koolhidraatmolekules wat in plante se selwande voorkom.  Diere kan nie sellulose verteer nie maar sekere bakterieë en veral swamme kan wel sellulose verteer.

Selmembraan staan ook as die plasmamembraan of plasmalemma bekend.  Dit is die membraan wat die sitoplasma van ‘n sel met al die organelle daarbinne omhul en beskerm.  Die selmembraan bestaan uit ‘n dubbele fosfolipiedlaag met proteïene plek-plek daarin.  Die selmembraan beheer deur middel van hierdie membraan-proteïene die beweging van water, ione en organiese molekules in en uit die sel.

Seloom is die liggaamsholte tussen die epiteelweefsel wat die dermkanaal omring (die viserale peritoneum) en die epiteellaag wat die binnekant van die liggaamswand (die pariëtale peritoneuem) uitvoer.  Die peritoneale ruimte van werweldiere is ‘n oorblyfsel van die oorspronklike embrionale seloom.  Die seloom kom in diere soos gesegmenteerde wurms, weekdiere, geleedpotiges en werweldiere voor.

Selwand is die laag wat die kernmembraan in sekere organismes soos plante en fungi omring.  Dit is ferm en meestal buigbaar en verskaf strukturele ondersteuning en beskerming aan die sel.  Dit bestaan uit sellulose in plante en chitien in die geval van fungi.

Senobium – sien Primêre miselium.

Senoblast – sien Primêre miselium.

Senosities verwys na ‘n meerkernige sel wat gevorm word wanneer kerndeling plaasvind maar sonder sitokinese en die gepaardgaande vorming van selmembrane tussen die kerne.

Sensiteer is die proses waartydens ‘n mens sensitief vir ‘n sekere allergeen raak.

Sentrale senuweestelsel is die deel van die senuweestelsel wat hoofsaaklik uit die brein en rugmurg bestaan.

Senuweegif is ‘n stof wat skade aan die senuweeweefsel verrig.  Van die bekendste senuweegiwwe is lood, drank, stikstofmonoksied en glutamaat, maar talle bakterieë, diere, swamme en plante vervaardig ook senuweegif.

Senuweeknoop is die Afrikaanse woord vir ganglion.

Senuweekoord of rugstring is ’n buisvormige versameling senuweevesels en steunselle van die breinstam tot die pelvis- of lendestreek strek.  Die brein en rugmurg vorm die sentrale senuweestelsel.  Die senuweekoord strek van die breinstam deur die foramen magnum, deur die neurale kanaal van die nek-, bors-, lende en heupwerwels.  Die senuweekoord eindig in die heupwerwels en strek nie so ver soos die stuitjiewerwels nie.

Senuwee-oordragstof of neurotransmitter is ‘n seinmolekule wat deur ‘n neuron vervaardig word om met ‘n naasliggende sel (senuweesel, spiersel of kliersel) te kommunikeer.  Meer as ‘n 100 senuwee-oordragstowwe is al in mense geïdentifiseer.  Van die mees bekende oordragstowwe is glutamaat, asetielcholien, dopamine, serotonien en noradrenalien.

Sepsis word veroorsaak wanneer die chemikalieë wat jou liggaam vervaardig om ‘n besmetting te beveg, nog wydverspreide ontsteking regdeur die liggaam veroorsaak.  Sepsis kan ‘n kettingreaksie in die liggaam veroorsaak wat verskeie orgaansisteme kan beskadig wat tot orgaanversaking en die dood kan lei.  Simptome sluit koors, asemnood, lae bloeddruk, vinnige hartklop en verwarring in.

Septumporie is die opening in die middel van meeste septums in swamme.  Die sitoplasma van naasliggende selle is aaneenlopend deur middel van die septumporieë en organelle en selfs kerne kan deur die porieë beweeg.

Septums of dwarswande kom in Hoër Fungi of die Dikarya se hifes voor.

Serebrale ganglion is ‘n ganglion of senuweeknoop wat in die kop van ‘n dier voorkom.

Serebrovaskulêr verwys na die bloedvate en bloedvoorsiening in die brein.

Serialia is die voorgestelde takson waaronder die monoplakofore en poliplakofore val.

Serkarieë is die vyfde ontwikkelingstadium van Schistosoma wat die slak verlaat en in die water, met behulp van ‘n gevurkte stert, rondswem op soek na ‘n soogdiergasheer.  Serkarieë verwys ook na die lewenstadium van die lewerbot wat uit die redias binne die redia ontstaan.  Hulle beweeg na buite deur die geboorteporie aan die kant van die redia se liggaamswand en boor dan deur die slak se vel of ontsnap deur sy asemhalingsopening na buite.  Die serkarieë swem dan met behulp van hul sterte rond op soek na plante naby die wateroppervlakte waar hulle kan vasheg, hul sterte afwerp en enkisteer en sodoende metaserkarieë vorm.

Serotonien is ‘n senuwee-oordragstof wat talle funksies het – dit help om gemoedstoestand, kognisie, beloning, leer, geheue en fisiologiese prosesse soos vomering en vasokonstruksie te beheer.  Serotonien word hoofsaaklik in die enteriese senuweestelsel, wat met die spysverteringstelsel geassosieër is, gevind – 90% van die liggaam se serotonien kom hier voor.  Ongeveer 8% van serotonien word in bloedplaatjies gevind en ‘n klein hoeveelheid (1-2%) serotonien word in die sentrale senuweestelsel gevind.  Serotonien beheer gemoedstoestand, aptyt, slaap, geheue en leer.

Sessiel of sittend verwys na ‘n dier wat permanent, veral as volwassene, op ‘n rots of koraalrif of in ‘n tonnel vasgeanker is en nie daarvandaan kan wegbeweeg nie.  Voorbeelde van sessiele diere is sponse, anemone, rooiaas, buiswurms en korsmossels.  Hulle larwes is gewoonlik mobiel of motiel – dit bedoel beweeglik.

Sestode is ‘n groep parasitiese lintwurms wat aan die klas Cestoda van die filum Platyhelminthes behoort.  Sien Lintwurms.

Seymouria – sien Basale amniote.

Sfenakodontiërs – sien Sphenacodontidae.

Sharpe se grysbok (Raphicerus sharpei), subfamilie: Antilopinae, familie: Bovidae, orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Shepherd se snoetneuswalvis (Tasmacetus shepherdi), familie: Ziphidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Shortridge se boommuis (Thallomys shortridgei), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Sianobakterieë of blougroen bakterieë is fotosintetiserende bakterieë wat saam met plastiede aan die filum Cyanophyta hoort.  Sianobakterieë kom as vrylewende organismes in die see, vars water en nat grond voor.  Sommige kom in ligene as simbionte saam met swamme voor.  Hulle is van die eerste organismes op Aarde wat gefotosintetiseer het om suikers (glukose) te vervaardig en suurstof as neweproduk uitgeskei het.  Chloroplaste het vanuit hulle ontstaan.

Siderium Periode (2500 –  2300 Mjg). ‘n Toename in die afsetting van gebande ystersteen formasies vind in hierdie tydperk plaas.  Dit was veroorsaak deur die suurstof wat sianobakterieë as neweproduk van fotosintese in hierdie tydperk vrygestel het.  Hierdie suurstof het met yster in die oseane verbind om magnetiet (Fe3O4) te vorm wat in lagies op die seebodem neergelê is.  Dit word vermoed dat toe daar uiteindelik nie meer yster oor was om met die suurstof in die water te verbind nie, die suurstof uit die water in die atmosfeer ontsnap het en so het ons suurstofryke atmosfeer gevorm.

Siektevormend – sien Patogeen.

Sifilis is ‘n siekte wat deur die besmetting met die bakterie Treponema pallidium veroorsaak word.  Die simptome van sifilis wissel na gelang van die tydperk van besmetting en word as primêre, sekondêre, latente en tersiêre sifilis geklassifiseer.  Tydens die primêre stadium kom daar een pynlose, nie-jeukende seer van ongeveer 1 – 2 cm, gewoonlik op die geslagsdele, voor.  Die sekondêre stadium word gekenmerk aan ‘n uitslag oor die liggaam, insluitende op die palms en sole.  Daar kan ook sere in die mond en vagina wees.   Die simptome verdwyn in die latente stadium, wat vir jare kan duur.  In die tersiêre fase verskyn sagte nie-kankeragtige vergroeisels, neurologiese en hartprobleme.  Wêreldwyd het tiene van miljoene mense sifilis onder lede.  Dit word meestal deur geslagsomgang oorgedra, maar kan ook mense besmet soos wanneer iemand in aanraking met ‘n besmette persoon se sere kom.

Sifons kom in meeste waterbewondende buikpotiges voor, veral in dié wat ‘n grawende lewenswyse het.  Dikwels kom daar ‘n sifonkanaal in die skulp voor waarin die sifon geleë is.  Die sifon stel die buikpotige in staat om water in hul mantelkanaal op te suig en die water oor die kief of kiewe te laat spoel.  Die sifon word ook gebruik om die water te “proe” wat hulle in staat stel om tussen kos of roofdiere te onderskei.  Sifondraende buikpotiges is gewoonlik roofdiere of aasvreters.  In- en uitlaatsifons kom in meeste tweekleppiges voor en die sifon wat in koppotiges voorkom word vir spuitaandrywing gebruik.

Sigofoor is chemotropiese lughifes wat die geslagsorgane van meeste Konjugasieswamme is.  Twee sigofore van twee miseliums sal, danksy die feromone wat hulle afskei, na mekaar toe groei.

Sigoot is die eerste sel wat gevorm word wanneer twee haploïede selle soos ‘n sperm- en eiersel versmelt.  Die sigoot kan in swamme enkisteer onder slegte toestande (hitte, koue, droogte) deur om ‘n harde doppie rondom te vorm.

Silia – sien Trilhare.

Siliate – sien Ciliophora.

Siluur Periode (443.8 – 419.2 Mjg) was deel van die Paleosoïkum.  Die onderste grens van die Siluur word bepaal deur die reeks uitsterwings aan die einde van die voorafgaande Ordovisium Periode waartydens ongeveer 60% van seediergenusse verdwyn het.  Die Siluur word gekenmerk aan die diversifisering van kaakvisse en beenvisse.  Meersellige lewe word op land gevestig.  Die eerste landplante verskyn – hierdie klein mosagtige plantjies groei langs mere, strome en strande.  Geleedpotiges verskyn in hierdie tydperk ook op land.

Silwervos (Vulpes chama), familie: Canidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Simbiont – sien simbiose.

Simbiose verwys na enige nabye en langtermyn interaksie tussen twee verskillende organismes.  Dit sluit mutualistiese, kommenialistiese of parasitiese verhoudings in.  Die organismes of simbionte in hierdie verhouding kan aan dieselfde of verskillende spesies hoort.

Simpatiese senuweestelsel vorm deel van die outonome senuweestelsel.  Die enteriese senuweestelsel word deur sommige navorsers as deel van die outonome senuweestelsel beskou.  Die simpatiese senuweestelsel word as die teenoorgestelde van die parasimpatiese senuweestelsel beskou, want dit fasiliteer die voeding en voortplantinggedrag in mense en diere, terwyl die parasimpatiese senuweestelsel die veg-en-vlug respons in mense fasiliteer.  Noradrenalien is die senuwee-oordragstof wat in die simpatiese senuweestelsel voorkom.

Simptoom is ‘n verskynsel waaraan iets herken kan word.  ‘n Siektesimptoom is ‘n aanduiding van ‘n sekere siekte.

Sinapomorfiese kenmerke is unieke kenmerke wat slegs deur twee of meer verwante groepe gedeel word wat hulle van ‘n gedeelde voorouer geërf het.

Sinapsiede – sien Soogdieragtige reptiele.

Singanglion is die breintjie wat in bosluise voorkom.  Dit kom op die vlak van die tweede stel pote in die idosoma voor. Die singanglion was gevorm deur die samesmelting van die breinganglions en die abdominale senuweekoord om ‘n enkele massa te vorm.

Sinsitium is die aaneenlopende sitoplasma wat in sekere organismes gevind word wanneer die selmembrane tussen aangrensende selle verdwyn en die sitoplasma aaneenlopend word.  Daar is gewoonlik baie kerne wat in hierdie sitoplasma ronddryf.  Dit kom algemeen in sekere swamme voor, maar ook in die hipodermis van die rondewurms.

Sintetiseer verwys na die vervaardiging van komplekse molekules vanuit eenvoudiger voorlopers deur middel van ensieme binne organismes.

Siphonaptera is die insekorde waaronder die vlooie val.

Sipunculida of spuitwurms is ‘n klas wat onder die filum Annelida val.  Hierdie rare groep van ongeveer 160 spesies seelewende wurms voed op afval tussen die sand en modder en onder klippe in vlak water of in krake in rotse.  Anders as die ander Annelida is hulle nie gesegmenteerd nie en was eens as ‘n aparte filum beskou.  Spuitwurms is onder 10 cm lank

Sirkadiese ritme is ‘n natuurlike interne proses wat die slaap-wakker ritme reguleer.  Hierdie patroon wat ongeveer elke 24 uur herhaal word, was in ander diere, plante, swamme en siaanbakterieë opgemerk.  Die sirkadiese ritmes van plante, diere en swamme, word deur daglengte en temperatuur bepaal.

Sirrus is die kopulatoriese orgaan wat in platwurms voorkom.

Sist is die Engelse weergawe van kist.  Dit kom van die Latynse woord cist.  Ongelukkig het Engelse ‘n probleem met die uitspraak van c en het vergeet dat die Latynse c as ‘n k uitgespreek moet word dus kry mens woorde soos circus waar die c as ‘n k en ‘n c uitgespreek word.  Romeine sou heeltemal verward gewees het as hulle na Engelse moes luister, veral as hulle na Julius Caesar verwys want caesar moet keiser uitgespreek word.  Dus, volg dit logies dat as jy keiser kan sê, dit net so maklik sal wees om kist te sê.

Sistiserkoïede larwes kom in sekere lintwurms voor.  Dit lyk soos ‘n sistiserkus behalwe dat die skoleks deur ‘n kist omring is.  Die voorvoegsel sist- is natuurlik van die Latynse cist– afgelei wat deur eeue deur Engelse as sist uitgespreek is en nie kist nie.  Die verkeerde uitspraak het so deel van die woorde wat toentertyd in ander Germaanse tale geskep is, geword.

Sistiserkose is die siektetoestand wat volg wanneer heksakantembrios deur die liggaam versprei en in sistiserkusse of blaaswurms binne organe of die weefsel van die tussengasheer ontwikkel.  Sistiserkusse in spierweefsel veroorsaak pyn en styfheid en knoppe op plekke wat mens onder die vel kan voel.  Sistiserkusse in die oog kan retina-loslating en wasige sig veroorsaak.  Sistiserkusse in die brein en rugmurg veroorsaak stuiptrekkings, hoofpyne, sielkundige versteurings, balansversteurings en die dood.  Die simptome van sistiserkose ontstaan wanneer die heksakantembrios in sistiserkusse ontwikkel.

Sistiserkus of blaaswurm is die lewenstadium van lintwurms van die genus Taenia wat in die weefsel van die tussengasheer voorkom.  ‘n Sistiserkus ontstaan vanuit heksakantembrio wat deur die bloedstroom tot in organe soos die lewer, milt, hart, longe, oë, brein of spiere vervoer is.  Dit is ‘n klein sakagtige blasie wat met vloeistof gevul is waarbinne ‘n ingedopte protoskoleks voorkom.  Sistiserkus besmetting word sistiserkose genoem.  Wanneer die eindgasheer die tussengasheer eet, kom die sistiserkusse in die eindgasheer se dermkanaal.  Die protoskoleks stulp uit wanneer die sistiserkus aan die verteringsensieme in die dermkanaal blootgestel word.  Afhangende van die lintwurmspesies, heg die protoskoleks met behulp van kleefkliere, hake en/of suiers, aan die binnekant van die dermkanaal vas.

Sitokinese is die deel van die seldelingsproses wanneer die sitoplasma van die ouersel tydens mitose of meiose in twee dogterselle verdeel.

Sitoplasma  is die kleurlose vloeistof binne die sel wat deur die selmembraan omhul word.  Hierdie vloeistof bestaan uit omtrent 80% water en die jelagtige vloeistof sitosol.  Die organelle soos ribosome, mitochondria, chloroplaste en vakuole (in plante) en die nukleus word deur die sitoplasma binne die sel omhul.  Meeste van die sel se chemiese prosesse vind binne die sitoplasma plaas.

Sitoskelet is ‘n komplekse, dinamiese netwerk van ineengeskakelde proteïenfilamente en mikrotubuli wat in die sitoplasma van alle eukariotiese selle voorkom.  Die sitoskelet strek van die selkern na die selmembraan en onderhou die vorm en interne organisasie van die sel.  Dit kan ook silia en flagella vorm en speel ‘n rol in spindelvorming tydens seldeling.

Sitroensuursiklus of Krebs-siklus is ‘n reeks chemiese reaksies, wat in die mitochondrion plaasvind, wat energie in die vorm van ATP vrystel.  In die proses word suurstof gebruik en koolsuurgas as neweproduk vrygestel.

Sjimpansee of chimpansee (Pan troglodytes) is grootape wat in die tropiese woude en savannas van Afrika voorkom.  Die sjimpansee se naaste verwant is die bonobo of dwergsjimpansee (Pan paniscus).  Genetiese navorsing en fossiele bewys dat sjimpansees en bonobos aan hominiene verwant is.

Skaaldiere of krustaseë is geleedpotiges van die takson Crustacea.  Dit sluit krappe, krewe, garnale, amfipode, isopode, kopepode en korsmossels in.  Skaaldiere is die naaste verwant aan insekte en dit blyk dat insekte vanuit die skaaldiere ontstaan het.  Daar is tans meer as 67 000 bekende spesies wêreldwyd.  Meeste skaaldiere is seelewend, alhoewel daar ook varswaterspesies en selfs landlewende skaaldiere, soos die houtluis, voorkom.  Hulle verskil van ander geleedpotiges op verskeie maniere – hulle het onder andere tweetakkige aanhangsels en kiewe.  Skaaldiere se larwes verskil ook van ander geleedpotiges s’n.  Meeste skaaldiere is vrylewend, maar sommige, soos die korsmossels, is sessiel of sittend.

Skaalbome behoort aan die uitgestorwe Lepidodendron genus wat boomagtige vaatplante was.  Hulle was aan die wolfskloue verwant.  Hulle het in die  Karboon gedy en het in woude voorgekom waar verteenwoordigers van hierdie genus tot oor die 30 m lank geword het.  Hierdie plante het ‘n belangrike deel van die ekologie gevorm tot en met die Laat Trias ongeveer 205 Mjg, toe hulle uitgesterf het.

Skaaldiere of krustaseë is lede van die klas Crustacea.  Voorbeelde sluit in: krappe, krewe, garnale en seepokke.  Hulle word gekenmerk deur tweetakkige aanhangsels en kiewe.  Meeste skaaldiere is seelewend, alhoewel daar ook varswaterspesies en selfs landlewende skaaldiere, soos die houtluis, voorkom. Skaaldiere se larwes verskil ook van ander geleedpotiges s’n.  Meeste skaaldiere is vrylewend, maar sommige, soos die seepokke, is sessiel of sittend.

Skaap-lewerbot – sien Lewerbot.

Skaapneusvlieë (Oestrus ovis) kom wêreldwyd voor waar skaapneuvlieglarwes hoofsaaklik skape, takbokke, bokke en soms beeste parasiteer.  Daar is ook gevalle van perd-, hond- en mensbesmetting.  Volwasse vlieë is 10-12 mm lank en het ‘n gestreepte donkergrys kleur en ‘n dowwe geel kop en bene.  Die wyfies is ovo-vivipaar en sal larwes binne-in die gasheer se neusgat baar.  Die eerstelarwe kruip dan in die neusholte op tot by die nasale sinus.  Die tweedelarwe sal in die nasale sinus aanhou ontwikkel tot dit ongeveer 20 mm lank is, en sal dan deur die neusholte afbeweeg tot dit deur die neus, op die grond uitval om uiteindelik daar ‘n papie te vorm.

Skeepswurms is van die vreemdste tweekleppiges wat hul wurmagtige lywe in hout of ander materiaal inboor met behulp van hul klein halfmaanvormige beitelagtige skulpe.  Die skeepswurms gebruik die organiese verbindings wat die simbiotiese bakterieë in hul kiewe uit waterstofsulfied vervaardig.  Die ensieme wat die bakterieë verwaardig word deur die skeepswurm gebruik om die houtweefsel in sy spysverteringskanaal te verteer.  Skeepswurms voed ook op plankton wat hulle deur hul inlaatsifon saam met water insuig en met hul kiewe uitfiltreer.  Sekere spesies bly in en voed op sandsteen.

Skeermes-oesters (familie Pharidae) het lang, effe krom, reghoekige skulpe wat mens aan ‘n outydse skeerlem laat dink, kom in seesand voor.

Skeerbekmuise is klein soogdiertjies wat aan die familie Soricidae van die orde Eulipotyphla hoort.  Hulle lyk oppervlakkig soos muise met spitsneuse wat aanleiding tot die algemene naam spitsneusmuise gegee het.  Skeerbekmuise is egter glad nie aan muise, wat knaagdiere is, verwant nie, maar eerder aan molle en krimpvarkies wat ook lede van die Eulipotyphla is.  Skeerbekmuise het dan, nes die ander Eulipotyphla baie tande wat skerp krone het waarmee hulle insekte vreet.  Skeerbekmuise het 26 tot 32 tande, terwyl krimpvarkies 44 tande het.  Knaagdiere daarenteen het slegs 16 tande: 12 maaltande en vier snytande wat aangepas is om te knaag.  Skeerbekmuise is van die weinige landlewende soogdiere wat eggolokasie gebruik en wat giftige speeksel het.

Skemerlewend verwys na diere wat aktief is net nadat die son ondergegaan het of net voor die son opkom.  Diere wat skemerlewend is sluit sekere vlêrmuise, hamsters, konyne, rotte, tierboskatte, bere, hiënas en talle soorte buideldiere in.

Skerpioenvlieë is een van 600 spesies wat aan die orde Mecoptera hoort.  Die naam word afgelei van die mannetjies van die Panorpidae, die grootste familie van hierdie orde, wie se vergrote geslagsdele agter oor die rug krul en soos ‘n skerpioen se stert lyk.  Die skerpioenvlieë is die naaste lewende verwante van die vlooie en tweede naaste aan die vlieë verwant.  Skerpioenvlieë lyk bietjie soos vlieë met lang lyfies en vier smal, deursigte vlerke.  Hulle larwes lyk egter soos ruspes en nie maaiers nie.  Skerpioenvlieg larwes voed op plantmateriaal, terwyl die volwassenes predatore is of op karkasse voed.

Skild of skutum is die verharde plaat wat op die bokant van die idiosoma, net agter die gnathosoma in harde bosluise voorkom.  Die oë van die bosluise, wat oë het, kom op die kante van die idiosoma bokant die tweede stel bene voor.

Skildklier is ‘n endokriene klier wat in die farinks of die keel van werweldiere aangetref word.  In mense is die skildklier ‘n tweelobbige struktuur net onder die larinks en daarby die grootste endokriene klier van die liggaam.  Die skildklier skei drie hormone af: tri-joodtironien, tirosien en kalsitonien.  Die skildklierhormone beïnvloed die metaboliese tempo en proteïensintesie en groei en ontwikkeling in kinders.  Kalsitonien beheer die kalsium homeostase in die liggaam.  Die skildklier is homoloog aan die endostiel van die urokordate en kefalokordate en die larwes van visse en amfibieë.

Skimmel – sien Swam.

Skisofrenie is ‘n langtermyn gemoedsversteuring wat gekenmerk word aan die verlies van begrip, emosie en gedrag wat veroorsaak dat die persoon ‘n gebrek aan insig, onvanpaste gedrag en gedagtes toon.  Die persoon onttrek ook van die werklikheid en persoonlike verhoudings en verval in ‘n gedagtewêreld van drome en delusie.

Skisont verwys na ‘n sel wat vanuit die trofosoïet vorm gedurende die lewensiklus van Plasmodium.  Die skisont ondergaan tweedeling om ‘n sinsitium van honderde tot duisende selkerne binne ‘n gesamentlike sitoplasma te vorm.  Merosoïete ontstaan uit hierdie sinsitum wanneer ‘n selmembraan rondom elke kern en die sitoplasma daaromheen vorm.  Die skisont bars oop om die merosoïete vry te stel.

Sklera is die wit van die oog.  Dit bestaan uit digte kollageen bindweefsel wat die buitenste laag van die oog vanaf die pupil tot by die optiese senuwee vorm.

Skleriet is ‘n deel van die eksoskelet van geleedpotiges, soos ‘n plaat aan die kant van die toraks of die agterlyf. In weekdiere is skleriete die kalkryke stekels wat op aplakofore se lywe voorkom wat vir voortbeweging gebruik word.  Die skleriete wat solied of hol is, kom plat teen die vel in sekere spesies voor, kan regop soos borsels staan of kan binne die vel, reghoekig teenoor mekaar gerangskik wees om ‘n tipe skelet te vorm.

Skoleks is die kopgedeelte van ‘n lintwurm.  Dit dra vier groot suiers of hake rondom ‘n voorste uitsteeksel of rostellum wat in sekere spesies ‘n ring of ringe hakies rondom het.  Die skoleks se doel is om binne die gasheer se dermkanaal vas te heg sodat ‘n string proglottiede, of skoleks, daaragter met voeding en voortplanting kan voortgaan.   Daar is geen mond of opsigtelike sintuie op die gespierde skoleks nie.

Skraal bosskeerbek (Myosorex tenuis), subfamilie: Myosoricinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Skroefwurmvlieg – sien Beesbrommer.

Skrotum is die sak waarbinne die testes buite die liggaam in meeste soogdiere voorkom.  Sekere soogdierspesies soos olifante, dassies, dolfyne en walvisse se testes is inwendig.

Skulp of dop is een van die opvallendste kenmerkende eienskappe van weekdiere. Die skulp bestaan uit kitien en kongiolien (‘n proteïen wat met kalsiumkarbonaat, die periostrakum (kalsiet of kalksteen) verhard is).  Die buitenste deel van die skulp (dikwels gekleur), bestaan uit kitien, die middelste laag bestaan uit kolumnêre kalsiet en die binneste laag, bestaan uit lagies kalsiet.  Sekere (maar die minderheid) weekdiere het sekondêr die dop verloor (dit bedoel dat hul voorouers doppe gehad het), terwyl ander soos die Aplacophora se liggame met kalkryke stekels eerder as ‘n kalkryke dop bedek is.  Die vorm van die dop en die manier hoe die kalsietlagies van die dop neergelê is, word in weekdierklassifikasie gebruik.  Die skulp word deur die mantelrand afgeskei.

Skwamate – sien Squamata.

Skwamosums is breë bene wat onder en weerskante van die breinkas voorkom.  In reptiele huisves dit die kwadraat waarmee die onderkaak artikuleer, maar in soogdiere artikuleer die skwamosum direk met die dentale been van die onderkaak.  Daar is ‘n uitsteeksel van die skwamosum na die kant en vorentoe, wat deel van die jukboog vorm.

Slaapsiekte, of tripanosomiase, word deur die protosoïese parasiet Trypanosoma brucei veroorsaak wat deur die speeksel van die tsetsevlieg aan mense oorgedra word.  Die dierlike ekwivalent van slaapsiekte is nagana.  Die parasiet dring die bloedvatstelsel en limfkliere binne wat koors, swakheid, moegheid, gewrigspyne, bloedarmoede en gewigverlies veroorsaak.  In gevalle waar die siekte nie behandel word nie, dring die parasiet die senuweestelsel binne wat verwarring, swak koördinasie, lamheid en die dood veroorsaak.

Slaapwykopening of temporale venster is die opening in slaapwyk van die skedel agter die oogkas waarin die kaaksluitspiere vasgeheg word.  Sinapsiede het een paar slaapwykopeninge gehad, diapsiede het twee pare slaapwykopeninge gehad en anapsiede het geen slaapwykopeninge nie.

Slagaar is ‘n bloedvat wat suurstofryke bloed van die hart na die liggaam pomp, maar kan ook na ‘n bloedvat verwys wat suurstofarme bloed van die hart na die longe of kiewe pomp.

Slagtande is een van die eienskappe wat reptielagtige soogdiere kenmerk.  Die ontstaan van slagtande lui die differensiëring van die gebit in.  Tande word in reptiele agter in die tandry gevorm en groei algaande groter.  Reptieltande het hoofsaaklik eenvoudige koniese vorms en nie die ingewikkelde krone wat mens in soogdiere aantref nie.  ‘n Reptiel se tande skuif, vanaf die tandvormingsarea in die agterkant van die tandry, vorentoe en wanneer ‘n tand uitbreek, word dit eenvoudig met die opvolgende tand vervang wat in die ou tand se plek inskuif.  Hierdie metode werk goed vir reptiele wat ook aanhoudend groei en nie ‘n beperkte grootte het nie, want daar sal altyd meer en meer tande wees om die tandry te vul en die tande word al hoe groter saam met die dier wat groter word.  Tanddifferensiëring het met drie tandvervangingssentrums onstaan – een vir die postkanine tande agter die slagtand, die een vir die slagtand en een vir die snytande.  Slagtande het besonder groot en sterk in sekere reptielagtige soogdiere geword en het in beide plantvreters en vleisvreters voorgekom.

Slak – sien Weekdiere.

Slakkehuis of koglea van soogdiere ontstaan uit die kort keëlvormige lagena van die soogdieragtige reptiele.  Soos wat soogdiere se gehoorvermoë verskerp het, het die lagena al hoe langer geword tot dit begin oprol het omdat daar min ruimte in die skedel vir ‘n lang (tot 34 mm lank in mense) lagena is.  Die opgerolde buis lyk soos ‘n slak se dop wat die rede is hoekom dit ‘n slakkehuis (cochlea in Latyn) genoem word.  Vibrasies word deur middel van die gehoorbeentjies na die lagena of slakkehuis oorgedra.  Die vibrasies beweeg deur die stapes se voet, wat die ovaal venster bedek, deur na die slakkehuis waarbinne die Orgaan van Corti, waarbinne die gehoorsenuwee-eindes voorkom, geleë is.

Slange (suborde Serpentes) vorm saam met die akkedisse (suborde Lacertilia) en die wurmakkedisse (suborde Amphisbaenia) die orde Squamata.  Ekstante slange het nie bene nie, maar daar is sekere fossiele van oerslange wat nog rudimentêre beentjies gehad het.  Slange het uit akkedisagtige voorouers ontstaan.  Slange het talle unieke kenmerke wat nog veel interessanter as hulle gif is – eerstens het alle slange nie gif nie en tweedens is gif nie uniek aan slange nie.  Slange se ooglede het deursigtig geword sodat hulle daardeur kan sien en mettertyd versmelt.  Dus lyk dit asof slange net staar en nie hul oë knip nie, maar eintlik is hul oë permanent geknip.  Die deursigtige ooglid, wat in grawende akkedisse voorkom, wat ‘n venster genoem word, het ontstaan om die die se oë teen die skuur van sandkorrels oor die oogbal te beskerm.  Slange het ook nie ore nie maar hulle kan die vibrasies in die grond hoor as hulle met hul kop op die grond lê.  Slange se reukorgaan is baie klein maar hul vomeronasale orgaan is aan die ander kant baie goed ontwikkel.  Slange tel molekules in die lug op die klam oppervlakte van hul gevurkte tong op en druk dan die punte van die tong in die holtes van die vomeronasale orgaan in die dak van die mondholte, wat soortgelyke funksies as ‘n reukorgaan vervul.  Meeste slange kan hul onderkake disartikuleer sodat hulle prooi kan insluk wat breër as hul lyf is.

Slangmuishond (Poecilogale albinucha), familie: Mustelidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Sloggett se vleirot (Otomys sloggetti), subfamilie: Otomyinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Slukderm of esofagus is die buis wat die farinks met die maag verbind.

Sluitspiere is die twee sterk spiere – die voorste en agterste sluitspier – wat die twee skulpe of kleppe van die tweekleppiges saamtrek om die skulpe dig teenmekaar te laat sluit om die weekdier teen roofdiere te beskerm of om uitdroging te voorkom.  Wanneer die sluitspiere ontspan trek die ligament van die skarnier die twee skulpe oop.  Dit gebeur wanneer die dier voed, suurstofryke water vir gaswisselingdoeleindes inneem, eiers of sperms vrystel of afvalstowwe uitskei.  In sekere tweekleppiges is net een van die twee sluitspiere behou.

Slymswamme behoort aan die Filum Mycetozoa.  Slymswamme is ‘n algemene benaming vir ‘n polifiletiese groep eensellige organismes wat onder sekere omstandighede bymekaar kan kom om ‘n makroskopiese meersellige geslagtelike voortplantingsstruktuur te vorm.  Hulle was eens as swamme geklassifiseer, maar word deesdae as lede van die Protista beskou.

Slymvliese is die epiteellaag wat die respiratoriese-, spysverterings- en urogenitalestelsels, oorkanale en binnekant van die oogkaste en ooglede uitvoer.

Smaak is die vermoë om opgeloste chemiese verbindings met behulp van smaakorgane waar te neem (sien ook Chemoresepsie).  Smaakorgane kom in bykans alle diere voor.  Dit verskil van die reuksintuig wat chemiese verbindings in die lug optel.  Diere se smaakorgane kom op verskillende plekke op hul lywe voor – in mense en ander werweldiere kom dit op die tong, verhemelte en keel voor, maar in vlieë kom dit op die voete en proboskis voor.

Smith se klipklaasneus (Elephantulus rupestris), familie: Macroscelididae, orde: Macroscelidea. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Smith se rooi klipkonyn (Pronolagus rupestris), familie: Leporidae, orde: Lagomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Snaweldolfyn (Steno bredanensis), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea.  Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Snoerwurms (filum Nemertea) is smal wurms wat op die seevloer bly.  Snoerwurms het ‘n proboskis wat bo die mond uitstulp om hul prooi met gif te verlam.  Hulle wissel van ‘n paar millimeter lank tot omtrent 1 m lank.  Die meerderheid is ongeveer 20 cm lank en ‘n paar millimeter breed.

Snorbaarde kom op die snoet van soogdiere voor.  Van die foramina op die snoete van soogdieragtige reptiele soos kuonodontiërs en therokefaliërs kan mens aflei dat hulle ook snorbaarde gehad het.  Dit dui daarop dat hare reeds 260 jaar gelede ontstaan, lank voor soogdiere ontstaan het.  Die senuwees wat die snorbaarde se basisse van gevoel voorsien het sou deur hierdie foramina gestrek het.  Snorbaarde dien spesifiek as sensoriese organe waarmee diere soos robbe, katte, skeerbekmuise hul weg deur die donker kan vind.

Snyplate kom rondom die bekke van haakwurms voor.  Hulle byt weefsel daarmee om daarop te voed en deur dit te tonnel.  Die vorm van die plate is uniek en kan gebruik word om tussen spesies te onderskei.

Snytande is die tande voor die slagtande in soogdieragtige reptiele en soogdiere.  Snytande kom in die bokaak op die premaksilla voor.  Snytande het verskillende vorms in verskillende diere.  In soogdieragtige reptiele is dit gewoonlik skerp gepunt.  In soogdiere kan dit in verskeie vorme voorkom en kan dit van gepunt tot beitelagtig in vorm wees.

Soekend verwys na die gedrag wat honger bosluise toon wanneer hulle op die punte van grashalms sit met hulle wyd-oopgespreide voorpote in die lug, sodat hulle aan ‘n gasheer kan vasgryp wat teen die grashalm verbystap.

Soeni (Neotragus moschatus), subfamilie: Antilopinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Solenogaster is ‘n lid van die klas Solenogastres wat onder die Aplakofore val.  Hierdie wurmagtige molluske leef op die seevloer voorkom waar hulle op detritus voed.  Hulle het geen dop nie maar eerder stekels op die vel.

Somali-dakvlermuis (Eptesicus somalicus), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Somerslaap of estivering is wanneer ‘n dier in ‘n staat van verlaagde metaboliese aktiwiteit gaan om voedselreserwes in sy liggaam te reserveer.  Dit is algemeen in woestyngebiede of plekke wat seisoenaal droogtetye beleef en kos skaars is.  Die dier sal in ‘n diep slaap verval om sodoende so min as moontlik van sy voedselreserwes te gebruik.

Soogdieragtig verwys na kenmerke wat mens met soogdiere verbind soos warmbloedigheid, melkkliere, hare en lewendbarendheid.  Die term word gewoonlik gebuik om ‘n dier wat nie ‘n soogdier is nie, maar sekere kenmerke wat soogdieragtig is, besit, te beskryf.

Soogdieragtigessien Mammaliformes.

Soogdieragtige reptiele – sien Synapsida.

Soogdiere hoort aan die klas Mammalia van die subfilum Vertebrata van die filum Chordata.  Die eerste soogdiere het in die Laat Trias Periode ongeveer 227-201 Mjg ontstaan.  Daar was oorspronklik verskeie groepe soogdiere waarvan meeste (o.a. Morganucodonta, Docodonta, Kuehneotheria, Symmetrodonta, Multituberculata) uitgesterf het tot net drie groepe die plasentale, marsupiale en eierlêende soogdiere oorgebly het.  Soogdiere word van die ander sinapsiede onderskei op grond van die feit dat alle soogdiere drie oorbeentjies (hamer, aambeeld & stiebeuel) in die middeloor het.  Soogdiere het ook ‘n geslote verhemelte wat die mondholte van die neusholte skei, ‘n kakebeen wat uit twee dentale bene bestaan (die oorspronklike reptielkaak bestaan uit tot soveel as 14 bene) en dat die dentale been met die skwamosum been van die skedel artikuleer, die breinkaswand is verbeen en nie meer kraakbeen nie, hulle het ‘n diafragma en daarom het hulle nie buikribbes nie en hulle het twee oksipitale knobbels waarmee die skedel met die ruggraat artikuleer.  Dit is ‘n hele klomp kenmerke wat jy nie op skool geleer word nie – op skool leer mens dat soogdiere gekenmerk word aan warmbloedigheid, lewendbarendheid, soging, uitwendige oorskulpe en hare.  Ongelukkig is dit amper alles nonsens of ten minstens baie misleidend.  Wanneer mens kenmerkende eienskappe vir ‘n groep organismes uitsoek dan moet al die organismes daardie kenmerk hê en dit moet uniek aan daardie groep wees.  Voëls is nie slegs warmbloedig nie maar handhaaf ‘n meer konstante temperatuur en teen hoër temperature as soogdiere.  Daar is eierleêende soogdiere en lewendbarende nie-soogdiere.  Dolfyne en walvisse het grootliks (buiten vir gespesialiseerde snorbaardjies op die snoet as tassintuie) hul hare verloor terwyl pterosauriërs met hare bedek was.  Talle soogdiere soos dolfyne en walvisse, molle, echidnas, eendbekdiere en walrusse het nie uitwende oorskulpe nie.  Maar soogdiere en slegs soogdiere soog – vandaar die naam soogdier.  Ongelukkig fossileer melkkliere nie en kan dit nie in die fossielrekord opgespoor word nie.  Aangesien soogdiere in die oertyd ontstaan het is dit baie beter om skeletkenmerke as kenmerkende eienskappe te kies wanneer ons moet besluit of mens van soogdiere praat aldan nie.  Daar is ongeveer 5 400 ekstante soogdierspesies bekend.Soogdieragtig verwys na kenmerke wat mens met soogdiere verbind soos warmbloedigheid, melkkliere, hare en lewendbarendheid.  Die term word gewoonlik gebuik om ‘n dier wat nie ‘n soogdier is nie, maar sekere kenmerke wat soogdieragtig is, besit, te beskryf.

Soögeografie is die studie van die geografiese verspreiding van diere.  Die verspreiding van diere (en ander organismes) is grootliks deur kontinentale drywing (die beweging van tektoniese plate), die tydelike isolasie van kontinente as eiland kontinente soos Australië en Antarktika vandag en Afrika en Suid Amerika in die oertyd, die ontstaan van landbrue soos die Panama Landlengte tussen Noord en Suid Amerika en die Bering Landlengte tussen Eurasië en Noord Amerika en die Noordelike Poolkap wat diere in staat gestel het om tussen kontinente te beweeg.

Sooïede is ‘n enkele diertjie wat deel van ‘n kolonie vorm.  Daar is verkeie Filums waarvan sommige spesies soos korale, bloublasies, mosdiertjies om maar ‘n paar te noem, kolonies van sooïede vorm.

Soönose is siektes wat mens van diere kry.  Malaria, builepes, varkgriep, tering, pokke, masels en Corona virusse is almal voorbeelde daarvan.

Soösporangium is ‘n tipe sporangium wat in fungi en protiste voorkom wat soöspore vervaardig.

Soöspore is ongeslagtelike spore wat in sommige fungi, protiste en bakterieë voorkom wat hulself deur middel van een of meer flagellas versprei.  Die flagella word gebruik om deur water te swem.

Soöxantellas is dinoflagellate, wat simbioties in korale, kwalle en see-anemone leef en, met behulp van fotosintese, energie aan hul gasheer verskaf.

Soralium, meervoud: solariums of solaria in Latyn, is ‘n spesiale opening in die boonste korteks van ‘n ligeentallus waardeur sorediums vrygestel word.

Soredium, meervoud: sorediums of soredia in Latyn, is die kleinste voortplantingstruktuur van ‘n ligeen wat bestaan uit ‘n alg-sel wat in hife-fragmente omhul is.

Soutmoerasse kom in kusgebiede voor waar soutwater van die see deur riviermondings binnelands inspoel en soms met varswater van riviere meng.  Hierdie tussengetysone het water wat tussen sout tot brakwater wissel, afhangende van die bydrae van riviere tot hierdie ekostelsel.  Soutmoerasse word gekenmerk aan digte bosse van sout-bestande plante wat kruie, grasse, riete en struike insluit.  Soutmoerasse speel ‘n baie belangrike rol ten opsigte van die voeding en huisvesting van talle dierspesies en die stabilisering van die kuslyn en riviermondings.

Soutsuur (HCl) is ‘n baie kragtige suur met ‘n pH van 1 wat deur die maagwand afgeskei word om kos chemies te verteer.

  1. Is die afkorting vir spesie. Dit word gebruik as mens na ‘n onbepaalde spesie van ‘n genus verwys, soos wanneer mens na die genus van ‘n spesie wil verwys, maar die spesifieke spesie onbelangrik is.

spp. Is die afkorting vir spesies.

Speeksel is ‘n vloeistof wat deur speekselkliere rondom die mondholte gesekreteer word.  In mense bestaan speeksel uit 98% water wat elektroliete, slym, witbloedselle en epiteelselle, ensieme en antibakteriële verbindings bevat.  Speeksel benat kos sodat dit as ‘n pasta of vloeistof gesluk kan word (onthou dat alle lewe uit water kom en alles wat in-en-uit ons lywe gaan moet in ‘n pasta of vloeistof omskep word anders gaan dit iewers vassit).  Die ensieme in speeksel begin met die verteringsproses deur om kos in eenvoudiger komponente af te breek.  Die gif in die bekke van slange en sekere akkedisse kom uit aangepaste speekselkliere waar daar gewoonlik giftige proteïene in die speeksel opgelos word.  Sekere swaeltjies gebuik hulle taai speeksel om neste te bou.  Die sy wat inseklarwes spin kom uit aangepaste speekselkliere.  Die speeksel van parasitiese insekte bevat gewoonlik verdowingsmiddels, ensieme en antistollingsmiddels.

Speekselkliere is die kliere wat speeksel vorm.  Dit sit gewoonlik binne of rondom die mond in verskillende diergroepe.

Speldwurms besmet beide ongewerweldes en werweldiere.  Die speldwurm Enterobius vermicularis parasiteer mense en Enterobius anthropopitheci parasiteer sjimpansees, terwyl Enterobius lerouxi gorillas parasiteer.  Net soos wat die primaatspesies naverwant is, is hierdie speldwurms wat hulle parasiteer, naasverwant.  Speldwurmeiers word ingeasem of ingesluk.  Die larwe broei in die dunderm uit en beweeg dan in die rigting van die dikderm waar hulle tot volwassenheid ontwikkel en paar.  Speldwurms voed op die gasheer se derminhoud.  Die dragtige wyfie kom snags deur die gasheer se anus om haar eiers rondom die anus te lê en ‘n slym af te skei wat die gasheer se vel irriteer sodat dit ondraaglik jeuk wat die hoofkenmerk van die siekte enterobiose is.

Spermateka is ‘n orgaan in wyfiediere (veral in geleedpotiges, weekdiere en gesegmenteerde wurms) waar sperms gestoor en gevoed word om later te gebruik, wanneer die wyfie se eiers reg is om bevrug te word.  Dikwels gaan die geleedpotige mannetjies van hierdie betrokke spesies dood of word gevreet, nadat hy sy sperms aan die wyfie oorgedra het.

Sperms is manlike voortplantingselle of gamete.  In baie organismes (plante en diere) is daar ‘n groter vroulike voortplantingsel wat die eier of makrogameet genoem word en manlike mikrogamete wat sperms, spermatia en stuifmeel insluit.  Die rede hiervoor is dat die makrogameet voedingstowwe vir die ontwikkeling van die embrio in die vorm van dooier stoor.  Die mikrogameet moet dan na die makrogameet beweeg om dit te bevrug, en dit word gewoonlik deur middel van ‘n flagellum, wat agter die kop van die spermsel geplaas is, gedoen.  Die flagellum draai in die rondte, wat dit in staat stel om deur waterige vloeistowwe te kan swem en deur die selmembraan in te boor.  Die flagellum van die sperms van sekere groepe organismes soos nematode, blomplante en swamme het verdwyn.  Nematode se sperms lyk soos amebas.  Blomplante en sekere keëldraende plante het stuifmeel terwyl swamme en sommige rooiwiere spermatia het.  Ander plante soos mosse en varings het nog steeds sperms.

Spesialiste verwys na organismes wat net op ‘n sekere kostipe, of sy lewensiklus, of deel daarvan, in ‘n sekere gasheer kan voltooi, of ‘n spesifieke lewenswyse kan handhaaf.

Sphenacodontidae is ‘n uitgestorwe familie van basale soogdieragtige reptiele wat oorspronklik as die Pelycosauria geklassifiseer is.  Hierdie karnivore van Laurasië was oorspronklik klein (60 cm) in die Karboon Periode toe hulle ontstaan het en het algaande groter geword tot hulle teen die Middel Perm Periode langer as 3 m was.  Die slaapwykopening van hierdie basale soogdieragtige reptiele was klein en die tande op die premaksilla wat as snytande geklassifiseer word was lank en gepunt.  Die tande op die maksilla begin klein en dan word dit skielik baie lank en slagtandagtig en van daar word dit algaande kleiner agtertoe.  Hierdie lang tande op die maksilla word die slagtand in die nasate van die sfenakodontiërs.  Die sfenakodontiërs het ook ‘n primitiewe wydsbeenstand gehad.  Van die groot Perm Periode verteenwoordigers het groot seile, wat deur verlengde neurale spinas van die rugwerwels ondersteun is, op die rug gedra.  Hierdie seile, wat soortgelyk aan dié van die edafosauriërs was, was vir termoregulasie gebruik.

Spiermae kom in voëls, krokodille, en het volgens alle aanduidings, ook in sekere dinosauriërs voorgekom.  Hierdie diere sluk klippe (krokodille, volstruise en dinosauriërs) tot klippies of gruis (voëls) in, wat in hul spiermae versamel.  Deur die sametrekking van die sterk, dik spierwand van die koumaag word die kos daarbinne deur die klippe daarbinne stukkend gemaal.  Dit is veral handig in diere wat nie maaltande het nie.  Die klippe wat gastroliete genoem word, word mettertyd glad gepoleer weens die geskuur teen mekaar.  Mens kry dikwels dinosauriërskelette met ‘n klomp gastroliete op ‘n bondel waar die spiermaag oorspronklik was.

Spikulum (spikula meervoud) is ‘n skerp uitsteeksel wat in sekere diere voorkom.

Spinale vog is die vloeistof wat die brein en rugstring omhul.

Spinnekopagtiges of aragniede is die lede van die klas Arachnida van die filum Arhtropode of geleedpotiges.  Spinnekopagtiges word van ander geleedpotiges onderskei op grond van: vier paar gelede pote (ander het minder of meer), die afwesigheid van antennas of vlerke en ‘n liggaam wat gewoonlik in ‘n kopborsstuk (waaraan die aanhangsels geheg is) en agterlyf ingedeel is.  Meeste van die spinnekopagtiges spin en word soms ook die spinagtiges genoem.  Die sluit die spinnekoppe (orde Aranae), skerpioene (orde Scorpiones), bosluise en sekere myte (orde Parasitiformes) en ander myte (orde Acariformes) in.  Ander kleiner groepe wat minder bekend is, is die pseudoskerpioene (orde Pseudoscorpiones), sweepskerpioene (orde Thelyphonida), die kortstert sweepskerpioene (orde Schizomida), mikro sweepskerpioene (orde Palpigradi) en stertlose sweepskerpioene (orde Amblypygi).  Laastens is daar nog ‘n paar klein groepies soos die hooiwaens (orde Opiliones) en mytspinnekoppe (orde Ricinulei).

Spirakels is die openinge wat in die agterlyf (abdomen) van insekte voorkom waardeur lug in die trageë van insekte kan vloei vir asemhaling.  Soortgelyke spirakels kom op die agterlyf van spinnekopagtiges voor waardeur lug na die boeklonge vloei.

Spiril (meervoud spirille) is ‘n spiraalvormige bakterie.  Talle van spirilspesies het een flagellum op een of beide ente, of talle flagella op beide ente.  Hulle is ook van die vinnigste swemmers onder die bakterieë.

Spitsroofdier, ook bekend as toppredator of apekspredator, is die spesie wat heel bo-aan die voedselpiramide voorkom.  Spitsroofdiere het geen natuurlike vyhande nie en sal enige ander roofdier kan doodmaak, verplaas om sy prooi ook te eet, of selfs vreet.  Voor de mens opgedaag het was moordvisse, leeus, bruinbere en ysbere voorbeelde van spitsroofdiere.

Spitssaalneusvlermuis (Rhinolophus blasii), subfamilie: Rhinolophinae, familie: Rhinolophidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Sponse behoort aan die Filum Porifera.  Sponse is die primitiefste diere wat bestaan en hulle was die eerste diere wat in die Ediacarium verskyn.  Hulle is meersellig maar hulle liggame bevat geen weefsel nie en bestaan uit massas saamgepakte selle.  Daar is porieë en kanale wat deur die liggaam strek waardeur water met kospartikels en klein organismes vloei waarop die spons voed.

Spongivories verwys na die vermoë om sponse te eet.

Spoorfossiel of ignofossiele van die Grieks ἴχνος (“ignos”) wat “spoor” beteken, is ‘n tipe fossiel wat deur ‘n organisme agtergelaat is wat nie oorblyfsels van die dier of plant self is nie.  Dit sluit gefossiliseerde tonnels, vreetmerke op fossielblare, -bene of -hout, spore en mis in.  Spoorfossiele gee mens baie inligting oor die gedrag van organismes – hoe hulle beweeg het, waar hulle geskuil het, hoe hulle gevoed en ontlas het.  Mens kry dikwels spore van ‘n groter verskeidenheid diere in versteende oeroppervlaktes as beenfossiele in dieselfde lae van die diere wat die spore gemaak het.  Spoorfossiele kan ook vir biostratigrafiese doeleindes gebruik word, bv. die verskyning van spoorfossiele van Treptichnus pedum dui die begin van die Kambrium aan.

Sporangiofoor is ‘n spesiale lughife wat verskyn na ‘n Konjugasieswam se spoor oopbars.  Die sporedosie vorm aan die bopunt van die sporangiofoor.

Sporangiospore is spore wat deur mitose in sporedosies gevorm word as deel van ‘n swam se ongeslagtelike voortplantingsproses.

Spore in biologie verwys na die kleinste eenheid wat die organisme vir geslagtelike of ongeslagtelike voortplanting vervaardig.  Spore is gewoonlik haploïed.  Spore kom in fungi, plante, Bruinalge en protiste voor.  Spore is meestal weerstandbiedend teen hitte, koue en uitdroging en word gebruik om die spesie in moeilike omstandighede te help oorleef.

Sporedosie is die Afrikaanse woord vir die Latynse sporangium.

Sporidiums bestaan uit een of meer algselle of bakterieë wat met hifes omhul is wat soos spore deur ligene vrygestel word.

Sporodokiums is klein kompakte strukture in sekere parasitiese Sakswamme waarin kort konidiofore, wat die konidia vorm, gerangskik is.

Sporokarp is die vrugligaam van swamme.

Sporosist is ‘n lewenstadium wat in lewerbotte voorkom.  Die sakvormige sporosist ontstaan uit die mirasidium.  Redia ontstaan deur tweedeling binne die sporosist wat later oopbars om hulle vry te stel.

Sporosoïete is die motiele, aansteeklike lewenstadium van Apicomplexa soos Plasmodium en Toxoplasma  Dit is die lewenstadium van Plasmodium wat na die muskiet se speekselkliere migreer en daar wag tot die muskiet sy volgende bloedmaal nuttig en saam met die muskiet se speeksel die mens binnedring en besmet.  Die oòsist van Toxoplasma gee oorsprong aan die sporosoïete wat vrygestel word en wat dan in tagisoïete verander wat nuwe gasheerselle binnedring.

Springbok (Antidorcas marsupialis), subfamilie: Antilopinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Springgety vind plaas wanneer die Son en die Maan saam in die ruimte ten opsigte van die Aarde lê, wat tydens Nuwemaan gebeur, maar dit gebeur ook wanneer die Son en die Maan teenoor mekaar ten opsigte van die Aarde lê, wat tydens Volmaan gebeur.  Die gesamentlike aantrekkingskrag van hierdie twee hemelligame veroorsaak dat die seevlak elke 14.5 dae tot op die hoogste punt styg en 6 ure later tot op die laagste punt daal.  Die proses word gedurende die volgende 12 ure weer herhaal.  Tydens spring-hooggety wat twee keer per maand plaasvind, word die Littoria Sone vir ‘n paar uur twee keer per dag met water bedek en tydens spring-laaggety word die Cochlear-Argenvillei-Sone (en natuurlik die Balanoïed Sones bo dit) aan die Suid- en Weskus van Suid-Afrika twee keer per dag ontbloot (sien ook – Hooggety, Laaggety en Dooigety).

Springhaas (Pedetes capensis), familie: Pedetidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Spysverteringskanaal – sien Spysverteringstelsel.

Spysverteringsklier verwys na die orgaan binne slakke se spysverteringstelsel wat hoofsaaklik vir spysvertering verantwoordelik is.  Die spysverteringsklier speel beide die rol van ‘n lewer en ‘n pankreas, terwyl die maag in slakke bloot net ‘n eenvoudige sak is.

Spysverteringstelsel is die stelsel wat verantwoordelik is vir spysvertering in diere.  Alle diere, buiten die heel primitiewe diere soos sponse en placozoa, en sekere parasiete soos lintwurms en Sacculina, het spysverteringstelsels.  Diere met sakagtige spysverteringstelsels sluit kwalle (jellievisse), see-anemone en sekere platwurms in.  Alle ander diere vanaf nematode tot by werweldiere het langwerpige buisvormige spysverteringstelsels met ‘n mond voor en ‘n anus agter, wat nou die spysverteringskanaal genoem word.  Deur miljoene jare se evolusie en spesiale aanpassings om die kos binne sekere habitatte te benut, was daar allerlei byvoegings tot die spysverteringskanaal wat spesiale organe soos die lewer, pankreas en milt insluit.  Sekere dele van die spysverteringskanaal was vergroot en bespierd om sekere spesialisfunksies te verrig – soos die ekstra mae (rumen, omasum en retikulum) wat uit die slukderm van herkouende hoefdiere (soos beeste), die krop wat uit die slukderm van voëls ontstaan het, die spiermaag wat in krokodille en voëls voorkom ensovoorts.  Ten spyte van al hierdie tierlantyntjies, bly die ontwerp van die spysverteringskanaal nog steeds dieselfde – dis ‘n buis wat deur die liggaam tussen die mond en die anus strek.  Die belangrikste deel van die spysverteringstelsel is die enkelllaag epiteelweefsel wat dele daarvan belyn, waardeur die kos geabsorbeer word.

Squamata bedoel skubagtig en sluit die grootste ekstante groep reptiele naamlik die meer as 11 500 spesies slange en akkedisse in.  Skwamate het horingagtige skubbe en moet gereeld vervel.  Skwamate het ook beweeglike kwadraatbene wat hulle in staat stel om hulle kake baie groot oop te maak.  Hulle groottes wissel van die dwerggeitjie wat 16 mm lank is, tot die uitgestorwe mososaurs van 14 m.  Die Squamata vorm saam met die Rhynchocephalia die Lepidosauria.

Stadium verwys na ‘n ontwikkelingstadium van ‘n larwe in holometaboliese insekte en ‘n nimf van die hemimetaboliese insekte.  Daar is gewoonlik drie ontwikkelingsstadiums in vlieë wat die eerstelarwe, tweedelarwe en derdelarwe genoem word.  Hemimetaboliese insekte se nimfe het gewoonlik vyf ontwikkelingstadiums, terwyl daar gewoonlik tussen vyf en sewe ontwikkelingstadiums in die larwes van holometaboliese insekte voorkom.  Die larwes en nimfe vervel tussen die verskillende stadiums soos hulle al groter word.  Die insek met die meeste ontwikkelingstadiums is die eendagsvlieg Stenacron interpunctatum canadense wat 47 ontwikkelingstadiums het!  Ander geleedpotiges soos spinnekoppe, skerpioene, skaaldiere, honderdpote en duisendpote het ook ontwikkelingstadiums waartydens hulle hul eksoskelet deur vervelling moet vervang soos wat hulle groei.  Spinnekoppe kan tipies sewe tot 12 ontwikkelingstadiums deurgaan, voordat hulle volwassenheid bereik.  Skerpioene kan ses of sewe keer vervel soos wat hulle groter word.  Skaaldiere gaan deur verskeie ontwikkelingsstadiums, voordat hulle volwasse word maar hou aan vervel soos wat hulle as volwassenes groter word. Honderdpote en duisendpote hou ook aan groei vir die res van hulle lewens en vervel eke paar weke soos wat hulle groter word.  Na elke vervelling kom ‘n honderdpoot en duisendpoot met ekstra segmente en pote te voorskyn.

Stam in miklologie verwys na ‘n individuele swam met ‘n unieke genetiese identiteit, wat van ander individue binne dieselfde spesies verskil, net soos wat elke dier en plant ‘n unieke genetiese entiteit is.  Kerne van twee hifes van verskillende stamme, wat in die afwesigheid van geslagte, met (+) en (-) aangedui word, moet met mekaar versmelt om geslagtelike voortplanting te bewerkstellig.

Stamenopila sluit die bruin- en geelwiere, diatome en waterskimmels in.  Die mees berugte lid van hierdie groep is die waterskimmels waarvan een, Phytophthora infestans vir die Groot Hongersnood in Ierland in die 1850’s verantwoordelik was.

Stamreptiele – sien Basale amniote.

Stam-tetrapood – sien Amfibieë.

Stapelvoedsel is ‘n kossoort wat die grootste deel van mense se dieët opmaak.  Dit wissel van land na land en selfs tussen kulture.  Stapelvoedsel is die kossoort wat die meeste geëet word, die maklikste verkrygbaar is en die goedkoopste is.  Dit kan die grootste deel van ‘n maaltyd opmaak of selfs meer as een keer ‘n dag geëet word.  In meeste gevalle is stapelvoedsels plantaardig en meestal styselryk.  Rys, koring, mielies, aartappels en patats is voorbeelde hiervan.  Dit kan egter ook vleis of vis in sekere gemeenskappe soos die Inuïet en Laplanders wees.

Stapes is ‘n middeloorbeentjie wat vir die oordrag van klankgolwe na die binneoor verantwoordelik is.  In alle tetrapode buiten soogdiere, met ander woorde in amfibieë, reptiele en voëls kom slegs die stapes in die middeloor voor.  Ander terme soos kolumella word vir die stapes in voëls en amfibieë gebruik, maar ek dink dit is nonsens net soos om ‘n hand ‘n voorpoot en ‘n arm ‘n voorbeen te noem.  Die woord stiebeuel is miskien aanvegbaar vir die stapes in alle diere buiten soogdiere, want die stapes in reptiele, voëls en amfibieë is letterlik ‘n stafie en lyk nie soos die stapes van soogdiere nie, wat wel soos ‘n stiebeuel lyk en dus so genoem is.  Die stapes is die kleinste beentjie in die ekstante tetrapoodskelet.  Die stiebeuel van soogdiere vorm die skakel tussen die aambeeld (inkus) en die ovaal venster van die slakkehuis.  Die stiebeuel vorm saam met die aambeeld en hamer die drie oorbeentjies van die middeloor van soogiere.

Staphylococcus is ‘n kokgenus wat anaerobiese en aerobiese toetstande kan benut.  Staphylococcus kom dikwels in bondels, wat mense aan druiwetrosse herinner, voor.  Hulle kom wydverspreid in die natuur voor en was selfs al in nektar en grond gevind.  Staphylococcus kom algemeen op die vel en slymvliese van die mens en ander diere voor, waar hulle normaalweg nie siektes veroorsaak nie.  Wanneer ‘n mens se immuniteit verswak is weens suikersiekte, bloedvatsiektes, kanker, dwelmgebruik of MIV, kan Staphylococcus skielik toeneem en ‘n ernstige gesondheidsprobleem word. Dit kan ook diep wonde besmet en ook tot puisie-vorming bydra.

Statherium Period (1800-1600 Mjg) Die eerste eukariotiese eensellige organismes (protiste) ontstaan.  Die eerste superkontinent Columbia vorm.

Statosist is ‘n orgaan wat in ongewerweldes voorkom wat swaartekrag gaan waarneem.  In sekere weekdiere kom dit in die voet voor.

Steeltjieswamme hoort aan die Filum Basidiomycota.  Steeltjieswamme het gesepteerde hifes wat meestal tweekernige selle bevat.  Die Basidiomycota is ‘n groot groep onder die Fungi en bevat tans meer as 31 500 bekende spesies.  Dit vorm saam met die Ascomycota die Subkoninkryk Dikarya of te wel die Hoër Fungi. Die Steeltjieswamme is van die bekendste swamme op grond van hulle vrugliggame – die paddastoele, sampioene, pofballe, stinkhorings, rakswamme, trilswamme, roes ens.  Soos die Sakswamme, vorm die meerderheid van die Steeltjieswamme miseliums wat uit hifes bestaan en hulle word dus as filamentagtige swamme beskryf.  Maar soos in die Sakswamme is daar egter ook Steeltjieswamspesies wat gisselle vorm.  Die naam van die groep Basidiomycota is van die knuppelvormige geslagtelike voorplantingsorgaan of sporangium, wat die basidium genoem word, verleen.

Steenbok (Raphicerus campestris), subfamilie: Antilopinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Steenkool is ‘n brandbare swart tot bruinswart sedimentêre gesteente wat in lae in die litosfeer voorkom.  Steenkool vorm deur die verkoling (karbonisasie) van plantmateriaal wat in die oertyd onder water neergeset is.  In die noordelike halfrond is die steenkool hoofsaaklik van die plantreste van gimnospermwoude wat in die Karboon Periode afgeset is afkomstig.  In die suidelike halfrond is die steenkool hoofsaaklik van blare van Glossopteris-woude wat in die Perm Periode afgeset is afkomstig.  Veen vorm in klam afsettingsomgewings vanuit hierdie plantreste.  Wanneer nog plantmateriaal en sedimente die lae ondertoe bedek, neem die druk en hitte in die onderste lae toe.  Dit veroorsaak dat  water, koolstofdioksied en metaan uit die veen afgedryf word terwyl baie van die oorspronklike koolstof agterbly en die veen oor miljoene jare in bruinkool verander.    Soos die druk en hitte oor mijoene jare toeneem en die koolstofinhoud nog verder gekonsentreerd raak verander die bruinkool in steenkool en mettertyd in antrasiet.

Stekel verwys na ‘n skerp uitsteeksel wat in diere voorkom.  Dit is dikker as hare en kan as beskerming of versterking van die liggaam dien en in sekere diere soos larwes en gesegmenteerde wurms kan dit vir voortbeweging gebruik word of om in die grond, vel, vleis of tonnel mee vas te anker as ‘n predator hulle probeer vang.

Stekelhuidiges of echinodermae (filum Echinodermata) sluit seesterre, seepampoentjies, seekomkommers, seelelies ens. in. Echinoderms verskyn vir die eerste keer in die Vroeë Kambrium.  Hulle vyfvoudige radiale (pentaradiale) simmetrie onderskei hulle van ander diergroepe. Danksy hul kalsiumryke liggaamsdele wat maklik fossiliseer en hul wêreldwye verspreiding, word hulle as indeksfossiele in biostratigrafie gebruik.

Stekelrige oorbosluise (Otobius megnini) is sagte bosluise wat in die Amerikas, Afrika en Indië voorkom.  Die stekelrige oorbosluis is ‘n enkel-gasheer bosluis.  Hierdie bosluis se larwes en nimfe is parasities, terwyl die volwassene nie voed nie.  Die larwes en nimfe bly binne die oorkanaal van ‘n verskeidenheid gashere – onder andere perde, beeste, bokke, skape, honde en soms, maar selde, mense.  Die rol van die stekelrige oorbosluis as potensiële vektor van bakterieë soos Coxiella burnetti wat Q-koors veroorsaak en Rickettsia rickettsii wat Rocky Mountain vlekkoors veroorsaak was nog nie bepaal nie.

Sterigmas is die steeltjies wat op ‘n basidium voorkom.  Daar is gewoonlik vier sterigmas per basidium.  Elke sterigma dra ‘n basidiospoor.

Sterol is ‘n steroïed met die formule: C17H28O wat in plante, diere en swamme voorkom.  Sekere bakterieë kan sterole vervaardig.  Die bekenste sterool is cholesterol wat allerbelangrik is vir die vervaardiging en instandhouding van selmembrane.  Sterole dien ook as voorloper vir vet-oplosbare vitamiene en steroïed hormone.

Stiebeuel – sien Stapes.

Stilette kom in insekte soos muskiete voor.  Dit is die langwerpige skerp struktuur wat uit die saamgegroepeerde mandibels en maksillas bestaan waarmee die muskiet deur die vel van die gasheer dring.

Stilus is ‘n langwerpige struktuur agter in die maag wat in ‘n stilussak in meeste weekdiere voorkom.  Die vorm en funksie van die stilus verskil tussen weekdiergroepe afhangende van hul lewenswyse en voedingsmetodes.  Die stilus is smal en langwerpig en dien as spindel waarop slym uit die voorste deel van die spysverteringskanaal opgerol word.  Die rol-beweging van die stilus word deur die beweging van trilhaartjies veroorsaak.  Die stilussak is langs die maagskild wat in meeste weekdiergroepe voorkom geleë.  Die rolbeweging van die stilus veroorsaak dat die kosdeeltjies, wat in die slym vasgevang is, teen die maagskild fyngemaal word.  In sekere weekdiere soos van die tweekleppiges is die stilus merkbaar verhard en word ‘n kristallyne stilus genoem.

Stinkgoggas hoort aan die familie Pentatomidae van die orde Hemiptera of halfvlerkiges.  Hulle voed op plantsappe deur middel van hulle strooitjie-agtige proboskis wat onder op hul lywe terugvou wanneer hulle dit nie gebruik nie.  Hulle skei ‘n stink gas af as verdedigingsmeganisme wanneer hulle gesteur word.

Stinkmuishond (Ictonyx striatus), familie: Mustelidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

St. Louis enkefalitis virus, wat aan die Japannese enkefalitis virus verwant is, veroorsaak koors en hoofpyn en in erge gevalle nekstyfheid, disoriëntasie, stupor, stuiptrekkings, koma en uiteindelik die dood van tussen 3 en 30% van die slagoffers.  Dit kom veral in Kanada, Meksiko en die Karribiese Eilande voor.  Hierdie virus word deur die huismuskiet Culex pipiens oorgedra.

Stof het twee betekenisse:

  • Die klein partikels wat plastiekbrokkies, vel-, veer- en haarvlokkies, spore, eiers, stuifmeel, swamme, koskrummels, mis en vervellings van myte kan insluit.
  • Die woord verwys ook na ‘n algemene term wat alle materie insluit wat as vastestowwe, vloeistowwe, gasse of plasma bestaan. Dit is die woord wat in die uitdrukkings soos “stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (onthou jy is 70% water), “stof tot nadenke”, “die stoffasie waaruit iemand gemaak is”, en in woorde soos chemiese stof, vloeistof en vastestof en waterstof voorkom.

Wanneer ek dus verwys na allergene as ‘n stof waarvoor jy allergies raak, verwys ek na die tweede betekenis en nie die eerste een nie, want jy kan net so maklik vir gasse en vloeistowwe as vir vastestowwe – soos stof – allergies raak.

Stofmytallergie is die allergie wat mens vir die mis van stofmyte ontwikkel.  Daar is die verteringsensiem soos peptidase in stofmyt-mis en tropomeiosien in die vervellingsdoppe van stofmyte wat ‘n allergiese reaksie in sekere mense se asemhalingstelsel se slymvliese veroorsaak, wanneer hulle dit inasem.  Die verteringsensieme in die mis word vrygestel, sodra dit met ‘n nat oppervlakte kontak maak – soos jou neus, keel en longe.

Stofmyte hoort aan die genus Dermatophagoides wat onder die nie-parasitiese myte, die spinnekopagtige familie Pyroglyphidae, val.  Hulle kom in die natuur in voëlneste en soogdiere se tonnels voor waar hulle op veer- en velreste voed.  Ander lede van hierdie groep eet ook stuifmeel, swamme en brokstukkies van dooie diere, gestoorde graan, kaas en hondekos.  Hulle lewe ewe gesellig saam met ons in ons huise waar ons ‘n paradys met ons tekstiele, klere, beddegoed en kos vir hulle geskep het.

Stokstertmeerkat (Suricata suricatta), familie: Herpestidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Straalvinvisse – sien Actinopterygii.

Strandjut (Parahyaena brunnea), familie: Hyaenidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Strandmeer of estuarium is ‘n meer langs die kus waarin ‘n rivier of riviere uitmond maar wat op tye ‘n verbinding na die see het.  Strandmere het gewoonlik brakwater, of op tye brakwater, hang af of die verbinding met die see toegespoel het, of die vlak van die water in die strandmeer te laag is om oor die sandbank tussen die strandmeer en die see te spoel.

Streepdolfyn (Stenella coeruleoalba), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Streepmuis (Rhabdomys pumilio), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Streptoneurale senuweestelsel is die toestand wat tydens torsie plaasvind wanneer die twee viserale senuwees, wat oorspronklik parallel aan mekaar is (die euthyneurale toestand), oormekaar gebuig word wat veroorsaak dat die viserale senuwees in ‘n figuur 8 buig wat veroorsaak dat die pariëtale ganglions op verskillende hoogtes in die liggaam beland.

Strobila verwys na die string proglottiede wat deur die nek van die skoleks gevorm word en daaraan vasgeheg is.  Die ryp proglottiede breek een vir een van agter af.

Strobileer is die proses waartydens strobila, of te wel miniatuur kwalletjies, vanaf ‘n poliep, as deel van die lewensverloop van sekere holtediere, afknop.

Stroma is die kleurlose, deursigte vloeistof binne ‘n chloroplas.

Stromatoliet is ‘n sedimentêre struktuur wat dikwels met kalksteen en dolomiet geassosieër is.  Dit was deur sianobakterieë-matte op die seevloer gevorm.  Dit vorm wanneer fyn sediment op die seevloer neersif en die bakterieë, wat in stringe voorkom, deur die sedimetêre lagie na die lig te beur om weer bo-op dit te leef en fotosintetiseer.  In die proses word die sedimente in mikroskopiese lagies gekompakteer en gesementeer en so dra dit tot die vertikale groei van die sedimentêre stuktuur by.

Strongyloides stercoralis – sien Garingwurm.

Strongyloidose is die siektetoestand wat deur garingwurms veroorsaak word.  Die simptome van strongyloidose sluit: ‘n jeukerige vel waar die larwes die vel (gewoonlik die voetsool) binnegedring het, buikpyn en slymerige diarree in.

Stuifmeel is die manlike mikrogamete wat in blomplante (angiosperme) en sekere naaksadiges (gimnosperme) voorkom.  Dit is homoloog aan sperms, maar het nie flagellums nie.  Stuifmeel word dikwels tussen blomme deur geleedpotige bestuiwers soos bye, motte, vlieë en kewers oorgedra.  In sekere gevalle word wind aangewend om stuifmeel van een plant na die ander oor te dra.  Stuifmeel word in die helmhokke van die stuifmeeldrade van blomplante vervaardig, terwyl manlike keëls van naaksadiges stuifmeel vervaardig.

Stysel is ‘n polisakkaried wat uit talle aaneengekoppelde glukosemolekules bestaan. Stysel word algemeen in plante vervaardig en word gestoor as kosbron of word vir boumateriaal aangewend.

Sub-antarktiese pelsrob (Arctocephalus tropicalis), familie: Otariidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora.  Kom rondom die Suid-Afrikaanse kus voor.

Subgetysone is die deel van die kusgebied onder die intergetysone wat altyd onder water is.

Subimago is die unieke ontwikkelingstadium wat in eendagsvlieë voorkom, voordat dit vir die laaste keer vervel om aan die imago of volwassene oorsprong te gee.  Die subimago is die eerste landlewende en gevleuelde lewenstadium van die eendagsvlieg.

Subklaviese vena is ‘n aar wat bo-oor die eerste rib en onder die sleutelbeen voorkom.

Subkutaneuse vet is die lagie vet wat onder die vel voorkom.  Dit is deel van die hipodermis, wat onder die dermis lê.  Dit kan natuurlik in sekere spesies soos walvisse, robbe en varke as baie dik vetreserwes voorkom wat vir energie en insulasie gebruik word.

Suborbitale venster is die unieke openinge wat onder die oogkaste agter en weerskante van die verhemelte van meeste therokefaliërs voorkom.

Subspesies word in biologiese klassifikasie gebruik om na een, twee of meer populasies te verwys wat ietwat van mekaar morfologies verskil.  Gewoonlik kom subspesies in verskillende gebiede voor.  Lede van twee naasverwante subspesies kan gewoonlik met mekaar kruisteel en vrugbare kruisings voortbring.

Substraatvoeding vind plaas wanneer ‘n dier grond, sand of modder inneem en op die voedingstowwe, wat daarin voorkom, voed.

Subtropies verwys na die gebiede noord en suid van die tropiese gebiede op Aarde.  Suid-Afrika is subtropies.

Sug is weefselvog wat uit ‘n wond lek.  As die wond met bakterieë of swamme ontsteek is sal dit ‘n geel, room of geelbruin kleur he.

Suid-Afrikaanse bontbosluis (Amblyomma hebraeum) kom in Suider Afrika en Madagaskar voor.  Dit is die vektor van die bakterieë Rickettsia conori wat bosluistifus in mense en soogdiere veroorsaak en Ehrlichia ruminantium wat ehrlichiose of hartwater in beeste en bokke veroorsaak.

Suid-Arikaanse krimpvarkie (Atelerix frontalis), subfamilie: Erinaceinae, familie: Erinaceidae, orde: Erinaceomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis.  Inheems aan Suid-Afrika.

Suidelike noordkaper (Eubalaena australis), familie: Balaenidae, suborde: Mysticeti, orde: Cetacea.

Suidelike noordkaperdolfyn (Lissodelphis peronii), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Suidelike olifantrob (Mirounga leonina), familie: Phocidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora.  Kom rondom die Suid-Afrikaanse kus voor.

Suidelike stompneuswalvis (Hyperoodon planifrons), subfamilie: Hyperoodontinae, familie: Ziphidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Suigwurms of botte is endoparasiete wat aan die klas Trematoda van die filum Platyhelmithes behoort.  Suigwurms parasiteer weekdiere en werweldiere deur middel van verskillende lewenstadiums.  Die mirasidium dring weekdiere, gewoonlik ‘n slak binne waar dit mettertyd in ‘n sporosist verander, wat honderdduisende serkarieë vervaardig.  Die serkarie dring die werweldier binne en verander in ‘n schistosomuul wat later in ‘n volwasse bot verander.  Die suigwurm gebruik die slak as tussengasheer vir ongeslagtelike voorplanting en die werweldier as eindgasheer vir die geslagtelike voortplanting.  Suigwurms sluit long-, lewer- en bloedbotte in.

Suikers is organiese molekules wat uit koolstof, waterstof en suurstof bestaan.  Eenvoudige suikers soos glukose, fruktose en galaktose word monosakkariede genoem en bestaan uit ‘n ringverbinding van vyf tot ses koolstofatome.  Verbindings tussen twee suikers word disakkariede genoem.  Gewone suiker of sukrose, wat ons algemeen gebruik, is ‘n disakkaried wat uit verbindings van glukose en fruktose bestaan.  Laktose of melksuiker bestaan uit verbindings van sukrose en galaktose.  Verbindings tussen drie tot ses monosakkariede word oligosakkariede genoem.  Polisakkariede soos stysel, glikogeen, sellulose en chitien bestaan uit nog langer kettings van monosakkariede.  Suikers word in plantweefsel gevind en is ‘n produk van fotosintese.

Suikersiekte of Diabetes mellitus in Latyn, is ‘n siektetoestand wat gekenmerk word aan ‘n langdurige hoë vlak van suiker in die bloed (hiperglikemie).  Suikersiektesimptome sluit in: die behoefte om gedurig te urineer, dors en verhoogde eetlus.  In erge gevalle kan suikersiekte tot versuring van die bloed, hartvatsiektes, beroerte, chroniese niersiekte, sere op die voete, senuweeskade, oogskade, kognitiewe agteruitgang en die dood lei.  Suikersiekte word veroorsaak deurdat die pankreas nie genoeg insulien kan vervaardig nie, of wanneer die liggaam nie behoorlik reageer op die insulien wat vervaardig word nie.  Ongeveer 500 000 000 mense ly aan suikersiekte wêreldwyd.  Suikersiekte is, naas tering, die hoofoorsaak vir dood in Suid-Afrika.  Wêreldwyd is dit die sewende grootste oorsaak van mensesterftes.

Sundevall se bladneusvlermuis (Hipposideros caffer), subfamilie: Hipposiderinae, familie: Rhinolophidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis en suidelike deel van Palearktis. Inheems aan Suid-Afrika.

Superkontinent is die reuse kontinentale massa wat gevorm word wanneer twee of meer van die huidige kontinente teen mekaar vasgedruk is.

Supragetysone is die deel van die kuslyn wat net bo die intergetysone voorkom en dus bykans nooit onder water is nie.

Sushi is ‘n tradisonele Japannese dis wat van rys, seewier, groente, garnale en rou vis gemaak word.

Suspensievoeder is ‘n dier wat voedseldeeltjies of klein organismes wat in water dryf vang om te eet.  Daar is verskeie meganismes wat deur verskillende diere aangewend word om hierdie voedsel te vang wat wissel van sifons wat water met die voedsel insuig, mukusbedekte kiewe om dit mee vas te vang, spesiaal aangepaste borselagtige tentakels tot die tentakels van lofofoor voedingsapparate.

Suurstofkatastrofe staan ook as die “Great Oxidation Event (GOE)” bekend.  Dit verwys na die tydperk (2.4 Ga) toe die Aarde se atmosfeer en die vlak oseane van destyds met ‘n reuse hoeveelheid suurstof verryk is.  Suurstof in die vorm van die molekule O2 het die Aarde se atmosfeer van ‘n reduserende tot ‘n oksiderende atmosfeer verander.  Hierdie gebeurtenis word gekenmerk aan  die verskyning van geoksideerde minerale, veral yster in die form yster(III)oksied, in rotsformasies (sien gebande ystersteenformasies) .  Hierdie suurstof word as ‘n neweproduk van fotosintese vrygestel.  Die organismes wat hiervoor verantwoordelik was, was die sianobakterieë, wat in daardie tydperk ontstaan het en in die oseane wêreldwyd versprei het.  Aangesien suurstof giftig is, het lewe, wat op daardie tydstip net uit anaerobiese prokariote bestaan het, wêreldwyd grootliks bykans uitgesterf.Swam of skimmel is ‘n organisme wat aan die Koninkryk Fungi behoort.  Hierdie een- tot meersellige eukariotiese heterotrofiese organisme het chitien in die selwande en nie sellulose soos plantselle nie en het meestal haploïede kerne.

Swam of skimmel is ‘n organisme wat aan die Koninkryk Fungi behoort.  Hierdie een- tot meersellige eukariotiese heterotrofiese organisme het chitien in die selwande en het meestal haploïede kerne.  Swamme bestaan uit ‘n wye verskeidenheid organismes wat wissel van eensellige tot meersellige organismes wat gis, muf, skimmel, roes, rakswamme en paddastoele en nog verskeie ander insluit.  Dit is onbekend hoeveel swamspesies daar werklik is – volgens ‘n konservatiewe skatting is daar dalk soveel as 1.5 miljoen swamspesies waarvan slegs sowat 5% geïdentifiseer en geklassifiseer is.  Swamme kom in groot getalle in die grond, lug en water, en trouens in amper elke denkbare ekostelsel, voor.

Swamdrade – sien hifes.

Swamvlok – sien miselium.

Swartkwasmuishond (Herpestes sanguineus), familie: Herpestidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Swartrenoster (Diceros bicornis), familie: Rhinocerotidae, orde: Perissodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Swartstert boommuis (Thallomys nigricauda), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Swartwildebees (Connochaetes gnou), subfamilie: Alcelaphinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Swartwitpens (Hippotragus niger), subfamilie: Cephalophinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Sweephaar – sien Flagellum.

Sweepwurm – sien Sambokwurm.

Sweetklier is die versamelnaam vir ekkriene kliere, apokriene kliere en seemskliere.  Sweetkliere kom in die vel voor en laat sweet en olies deur porieë op die vel uit.

Swinny se saalneusvlermuis (Rhinolophus swinnyi), subfamilie: Rhinolophinae, familie: Rhinolophidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Sykokon is ‘n kokon van sy wat deur ‘n inseklarwe gespin is.  Die insek vorm gewoonlik ‘n papie binne die sykokon.  Talle insekgroepe soos motte, vlooie, bye, miere en perdebye se larwes vervaardig sykokonne.

Synapsida of soogdieragtige reptiele, of sinapsiede, word as die evolusionêre brug tussen reptiele en soogdiere beskou, omdat hulle beide soogdieragtige en reptielagtige eienskappe het.  Oor ‘n 100 miljoen jaar verander hulle vanaf diere met baie primitiewe reptielagtige kenmerke tot diere, wat mens beswaarlik van ‘n soogdier kan onderskei, ontwikkel en uiteindelik het hulle oorsprong aan soogdiere gegee.  Strenggesproke is soogdiere, volgens kladistiese beginsels, steeds deel van die Synapsida. of te wel die soogdieragtige reptiele, word as die evolusionêre brug tussen reptiele en soogdiere beskou omdat hulle beide soogdieragtige en reptielagtige eienskappe het. Oor ‘n 100 miljoen jaar verander hulle vanaf diere met baie primitiewe reptielagtige kenmerke tot diere wat mens beswaarlik van ‘n soogdier kan onderskei en uiteindelik gee hulle oorsprong aan soogdiere.  Sinapsiede word gekenmerk aan die enkele temporale venster (slaapwyk-opening) agter die oogkas.  Sinapsiede was die eerste reptielgroep wat in die Karboon Periode uit die basale amniote (stamreptiele) ontstaan het en die dominante landlewende werweldiere in die Perm Periode maar was stelselmatig deur die argosauriërs tydens die Trias Periode as dominante werweldiere vervang.  Sinapsiede word in die basale sinapsiede (oorspronklik die Pelycosauria genoem) en therapsiede verdeel.  Uiteindelik onstaan die eerste soogdiere uit die gevorderde therapsiede in die Jura Periode.   Strenggesproke is soogdiere volgens kladistiese beginsels steeds deel van die sinapsiede.

Synapsida – sien Soogdieragtige reptiele.

Taenia saginata – sien Beeslintwurm.

Taeniase is die siektetoestand wanneer lintwurms van die genus Taenia mens se dermkanaal besmet.  Simptome van taeniase sluit gewigsverlies, verhoogte eetlus, naarheid, diarree en buikpyn in.

Taenia solium – sien Varklintwurm.

Tagisoïete is die krom, dikwels halfmaanvormige, lewenstadium van Toxoplasma wat gasheerselle deur middel van ‘n parasitoforiese vakuool binnedring.  Tagisoïete verdeel vinnig deur middel van tweedeling binne die parasitoforiese vakuool.  Tagisoïete verander mettertyd in ronde bradisoïete wat, na verdeling, in die gasheer se weefsel enkisteer.  Bradisoïete kan weer aan tagisoïete oorsprong gee.

Takbokke is lede van die familie Cervidae van die orde Artiodactyla.  Takbokke is, ondanks hul oppervlakkige ooreenkomste met bokke, slegs verlangs aan hulle verwant en is selfs nader aan varke, as aan bokke verwant.  Takbokmannetjies verloor hul horings of gewei in die wintertydperk en vorm nuwes vir die volgende lente se paarseisoen. Takbokke kom hoofsaaklik in Eurasië voor, terwyl ‘n paar verteenwoordigers in die Amerikas voorkom en slegs een spesie in Afrika, naamlik in die Magreb, voorkom.  Australië en Antarktika het uiteraard geen takbokke nie.

Takson is ‘n informele groepering van organismes wat verwant aan mekaar is.  Dit het nie ‘n spesifieke status soos Genus, Familie, Orde, Klas of Filum nie en word gebruik wanneer daar nog nie op ‘n taksonomiese status van ‘n groepering besluit is nie of wanneer die bioloog bloot na die verwantskap tussen organismes wil verwys eerder as na die klassifikasie van die organismes.

Tallus is ‘n woord wat algemeen gebruik word om die liggaam van swamme en ligene en primitiewe plante soos wiere en lewermosse te beskryf.  Benewens voortplantingsorgane kom daar nie gespesialiseerde organe soos takke, wortels, stingels en vaatbundels in die tallus voor nie.

Tanddraende been – sien Dentale been.

Tandskulpe (klas Scaphopoda) is bodembewonende organismes wat op foraminifere en ander ongewerweldes in die modder met behulp van miniatuur tentakeltjies – die kaptakula – voed.  Die lang, smal liggaam is in ‘n buisvormige skulp, wat aan beide kante oop is, omhul.  Die kop- en voetgedeeltes van die liggaam is in die modder begrawe terwyl die agterste deel van die skulp bo die modder uitsteek.  Daar is sowat 500 spesies tandskulpe bekend.

Tardigrada is ‘n filum wat die waterbeertjies bevat.  Waterbeertjies is slegs ongeveer ‘n halwe millimeter lank maar is amper onuitwisbaar.  Hulle kom wydverspreid op Aarde in water of klam omgewings – vanaf die seevloer tot bergpieke, vanaf poeletjies, tot tussen mosse en moddervulkane voor.  Hulle het agt bene met kloue en ‘n ronde bek met stekels waarmee hulle die selwande van plantselle stukkend steek om die sap te drink. Hulle sal ook klein ongewerweldes eet.  Hulle kan ekstreme temperature, bestraling, vakuum, hoë druk, uithongering en uitdroging oorleef.

Tas verwys na die sintuiglike waarnemingsfunksie van die vel.  Dit sluit die waarneming van prikkels soos druk, termperatuur, strekking en wrywing deur die vel in.

Teenliggaampie of immunoglobulien is ‘n groot Y-vormige proteïen wat deur die immuunstelsel gebruik word om virusse, bakterieë in die liggaam op te spoor, te identifiseer en te neutraliseer.  Teenliggaampies vorm, tesame met die limfosiete, die belangrikste deel van die aanpasbare immuniteitsrespons.

Teenstollingsmiddel of antikoagulant verwys na ‘n chemiese stof wat keer dat bloed stol.  Talle parasiete wat op bloed voed soos bloedsuiers, muskiete, bytende muggies, tampans, bosluise, vlooie, kopluise, lyfluise en pubiese luise, tsetsevlieë en Kongo vloermaaiers, spuit teenstollingsmiddels in hulle gasheer se vel in om te keer dat die bloed stol en hulle ongehinderd kan voed.

Tegument is die epidermis van lintwurms.  Voedsel word uit die gasheer se derminhoud deur die tegument geabsorbeer.  Gaswisseling vind deur die tegument plaas.  Die tegument is weerstandbiedend teen die verteringsensieme in die dermkanaal van die gasheer.

Teleost is ‘n vis wat behoort aan die Infraklas Teleostei wat die grootste groep van die Klas Actinopterygii (die Straalvinvisse) bevat.  Ongeveer 96% van alle lewende visspesies, m.a.w. ongeveer 26 000 spesies, is teleoste.  Dit is die grootste groep werweldiere op Aarde en kom van pool tot pool in alle oseane en in talle brakwater en varswater-habitatte op land voor.  Een van die grootste verskille tussen teleost visse en ander beenvisgroepe is die aanpassings in die spiere en die artikulasie van hul bokake wat hulle in staat stel om effektief te voed.  Een van die tegnieke wat talle visse gebruik is om hul bo- en onderkake vinnig vorentoe na hul prooi te beweeg en in die proses ‘n vakuum in die mond te vorm wat die kos in die mondholte insuig wanneer hulle hul monde oopmaak.

Teliospore is die dikwandige rustende spoor wat sekere swamme – veral roese en brandskimmels deur middel van teliums vorm om moeilike tye (droogte, koue of hitte) te oorleef. Mens kan dus die teliospoor ook as ‘n tipe chlamydospoor beskou.  Aangesien teliospore deur Steeltjieswamme vervaardig word besit dit dikariotiese selle.  Wanneer die teiospoor ontkiem vind kariogamie plaas en daarna word ‘n viersellige basidium met haploïede basiospore deur meiose gevorm.

Teliums is voortplantingstukture in roese en brandskimmels waarin teliospore deur mitose gevorm word.  Teliums vorm in sekere spesies makroskopiese geel of oranje lobbe wat op die oppervlak van die gasheerplant verskyn.  Die teliospore word vanaf die teliums deur middel van wind en water versprei.

Temminck se langhaarvlermuis (Myotis tricolor), subfamilie: Myotinae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Temnospondyli is ‘n uitgestorwe subklas van die Amphibia.  Die temnospondiele was groot basale tetrapode wat volop van die Karboon tot die Trias Periodes wêreldwyd voorgekom het.  ‘n Paar spesies het egter tot in die Laat Kryt Periode oorleef.  Hulle fossiele was op elke kontinent – selfs Antarktika – ontdek, maar hou in gedagte dat al die kontinente in hul leeftyd aanmekaar vas was om die superkontinent Pangea te vorm.  In die ongeveer 210 miljoen jaar van hulle bestaan het hulle aangepas om in ‘n verskeidenheid habitatte te oorleef vanaf die land, varswater en tot kusgebiede.  Aangesien hulle eiers in water gelê en ‘n larwale lewensstadium gehad het, was hulle genoop om naby water te bly.  Meeste spesies was egter ten volle terrestrieël en het waarskynlik net na die water gekom om te drink en hul eiers daar te lê.  Temnospondiele het, anders as ander amfibieë, skubbe en pantserplate op hul liggame gehad.  Temnospondiele kon baie groot word en was krokodilagtig in vorm en was duidelik roofdiere.  Hulle het skerp tande gehad en sommige spesies het tande gehad wat so groot was dat dit deur gate in hul skedel aan die bokant van die skedel uitgesteek het.Temporale venster – sien Slaapwykopening.

Temporale venster – sien Slaapwykopening.

Tendon verwys na die sterk, buigbare bindweefsel van kollageen wat spiere aan die skelet vasanker.

Tentakel is ‘n lang sensoriese aanhangsel wat op die kop van talle ongewerweldes voorkom.  In sekere gevalle kan dit ook vir beweging en vir die hantering van kos gebruik word soos in die geval van koppotiges en word dit dikwels ‘n arm genoem.

Tering of tuberkulose word deur Mycobacterium tuberculosis bakterieë veroorsaak.  Tering kom gewoonlik in die longe voor, maar dit kan na ander liggaamsdele versprei.  Ongeveer 10% van besmette mense sterf daarvan.  Daar word bereken dat ongeveer ‘n kwart van die bevolking deur hierdie bakterieë besmet is, maar dat meeste mense nie simptome toon nie.  Daar was ongeveer 10 miljoen mense in 2020 wêreldwyd wat merkbare simptome gehad het, en wat tot 1.5. miljoen sterftes gelei het.

Termitomyces is ‘n paddastoelspesie wat bekend daarvoor is dat dit van die grootste sampioene in die wêreld vorm met ‘n hoed wat tot meer as 1 m in deursneë kan vorm.  Hierdie swam word deur termiete in hulle neste gekweek om te eet.  Die swam en die termiet het ‘n mutualistiese verhouding.

Termofilies is organismes wat in warm habitatte (41°- 122° C) leef.  Baie termofiele is Archaea en dit is hoogs waarskynlik dat die eerste organismes op aarde termofieliese Archaea was.

Termoregulasie is die proses waarmee ‘n warmbloedige dier sy temperatuur beheer.

Terrestrieël verwys na land en landlewend.

Tersiêre miselium is die miselium waaruit die basidiokarp van die Steeltjieswamme gevorm word.

Tersiêre Periode verwys na die geologiese tydperk (66 – 2.6 Mgj.) wat op die Mioseen volg en die Kwartêr voorafgaan.  Alhoewel die term nog algemeen gebruik word, word dit nie meer formeel gebruik nie.  Die term Tersiêre Periode is deur die terme Neogeen en Paleogeen vervang.

Testes is die manlike gonades wat in meeste diere voorkom wat sperms vorm.

Tete klipmuis (Aethomys ineptus, subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Tetraneurale uitleg van die senuweestelsel kom in die primitiewe weekdiere soos die Aplacophora, Monoplacophora en Polyplacophora voor.  Dit is waar daar vier hoofsenuwees (die gepaarde ventrale (onderste) en laterale (sy) senuwees) van die gepaarde serebrale ganglions na agter deur die liggaam loop.  Dit is waarskynlik die oorspronklike uitleg van die senuweestelsel.

Tetrapode word ook dikwels landlewende werweldiere genoem en dit is meestal die geval, maar die term kan ook misleidend wees want dit sluit gewoonlik (bloot omdat mense nie daaraan dink nie) die varswatervisse uit.  Strenggesproke moet varswatervisse by die landlewende diere ingesluit word as mens alle diere in seelewende en landlewende diere wil opdeel.  Daarbenewens het talle tetrapode al hul aanhangsels verloor (soos slange) of hul bene (soos walvisse en sekere skinke en rubberwurms) maar word nog steeds as tetrapode beskou.  Dan is daar natuurlik tetrapode soos doegongs, manatees, walvisse en dolfyne wat permanent na die see teruggekeer het maar word nog steeds as tetrapode beskou, al is hulle nie landlewend nie.  Al hierdie uitsonderings trek die aandag af van die bedoeling agter die skepping van die woord tetrapood om tussen visse en die werweldiere wat aangepas het om op land te bly te onderskei.  Tetrapode het, soos die naam aandui, hul vinne vir vier aanhangsels (arms en bene) ingeruil waarmee hulle op die land kon rondloop.  Daar was natuurlik ‘n hele klomp ander aanpassings soos die ontwikkeling van longe en die verdwyning van kiewe, ‘n klierryke vel i.p.v. skubbe, ‘n versterkte skelet om die gewig van die dier buite die water te hanteer, ens.  Die eerste tetrapode wat uit die lobvinvisse ontstaan het, staan ook bekend as basale tetrapode of stamtetrapode.  Tetrapode vorm die Superklas Tetrapoda wat die landlewende werweldiere met vier bene insluit.  Dit sluit die amfibieë, reptiele (en dus dinosauriërs, en dus voëls) en soogdiere in.

Thanatomikrobioom is die gemeenskap van mikrobiota wat die interne organe van ‘n lyk beset en vir die aanvanklike interne ontbinding van die lyk verantwoordelik is.

Thaumarchaeota of Nitrososphaerota is ‘n Archaea filum wat wyd in die natuur, insluitende op mense se lywe, voorkom.

Thekodontiërs was reptiele wat in die Trias Periode geleef het.  Hulle was voorouers van die krokodille en dinosauriërs en dus ook van voëls en ‘n paar ander uitgestorwe groepe.  Een van hulle kenmerkende eienskappe is die feit dat hulle tande in tandkaste in die kake vasgeheg is – vandaar hulle naam.  Talle van die kenmerke wat mens in archosauriërs soos dinosauriërs, pterosauriërs, krokodille en voëls aantref, het in die thekodontiërs ontstaan.

Theileria is protosoïese parasiete wat naasverwant aan die malariaparasiet Plasmodium is.  Theileria kom in Afrika, die Midde Ooste en Asië voor en word veral na beeste, bokke, zebras en perde deur bosluise soos Rhipicephalus en Haemaphysalis oorgedra.

Theileriose is die siekte wat deur die protosoïese parasiet Theileria veroorsaak word.  Dit kom dikwels in beeste in Noord Afrika, Indië en China voor.  Mense kan ook aan theileriose ly.  Dit word deur die protosoïese parasiet Theileria annulata veroorsaak wat deur Hyalomma en Rhipicephalus bosluise oorgedra word.  Simptome sluit hoë koors, limfkliervergroting, bloedarmoede, geelsug en uiteindelik hartversaking in.

Thekodontiërs was reptiele wat in die Trias Periode geleef het.  Hulle was voorouers van die dinosouriërs en dus ook voëls en die krokodille en ‘n paar ander uitgestorwe groepe.  Een van hulle kenmerkende eienskappe is die feit dat hulle tande in tandkaste in die kake vasgeheg is – vandaar hulle naam.

Therapsida vorm die grootste en meer evolusionêr gevorderde groep soogdieragtige reptiele het ongeveer 275 Mjg in die Vroeë Perm uit die primitiewe pelikosauriërs ontstaan en het hulle as dominante terrestriële werweldiere verplaas.  Soogdiere vorm deel van hierdie groep.  Die naam is afgelei van die Grieks “therio” wat gedierte beteken en “aps” wat boog beteken.  Die boog verwys na die jukboog in die skedel wat die temporale venster van die skedel se onderste deel vorm.  Baie van die kenmerke wat ons met soogdiere assosieër het reeds in die therapsiede ontstaan.  Therapsiede word in die anomodonte (Anomodontia) en die theriodonte (Theriodontia) verdeel.  Die archosauriërs het grootliks die therapsiede as die dominante landlewende werweldiere in die Trias vervang maar nie voordat die soogdiere vanuit die gevorderde therapsiede – die kuonodontiërs – ontstaan het nie.  Die laaste oorlewende therapsiede het in die Vroeë Kryt, ongeveer 100 Mjg uitgesterf.

Therapsiede – sien Therapsida.

Theriodontiërs – sien Theriodontia.

Theriodontia het in die Middel Perm ontstaan.  Die theriodontiërs bestaan hoofsaaklik uit die gorgonopsiërs (Gorgonopsia), therokefaliërs (Therocephalia) en die kuonodontiërs (Cynodontia).  Die theriodontiërs het algaande deur die Perm, Trias, Jura en Kryt al hoe meer soogdieragtige kenmerke ontwikkel todat hulle aan die soogdiere oorsprong gegee het.  Buiten vir ‘n paar groot theriodontiërs, het die meerderheid theriodontiërs al hoe kleiner tydens die Trias geword totdat dié wat in die Jura en Kryt voorgekom het, so groot soos rotte en skeerbekmuise was.  Die theriodontiërs het waarskynlik hare gehad aangesien die snoetbene met klein foramina geperforeer was.  Hierdie foramina was vir senuwees wat die snorbaarde sou geïnnerveer het.  Hare was ook in koproliete (versteende mis) in Perm gesteentes ontdek wat aandui dat sekere prooidiere hare gehad het, of dat die diere hare sou ingekry het as hulle hulself gelek het.

Therocephalia (“dierkoppiges”) het reeds in die Middel Perm, uit ‘n gemeenskaplike voorouer wat hulle met die gorgonopsiërs deel, ontstaan.  Die fossielrekord van hierdie tydperk is maar baie effentjies en dus weet ons nie presies hoe hierdie voorouer gelyk het nie.  Die eerste primitiewe therokefaliërs, die Scylacosauridae (soos Pristerognathus) en die Lycosuchidae, verskyn ongeveer op dieselfde tyd as die gorgonopsiërs.  Die meeste en grootste verskeidenheid therokefaliërs kom in die gesteentes van die Karoo Supergroep van Suid-Afrika voor.  Therokefaliërfossiele kom egter ook in Rusland, China, Tanzanië, Zambië en Antarktika voor.  Therokefaliërs was waarskynlik spesialiste terwyl hulle tydgenote, die gorgonopsiërs, meeste ander karnivoriese nisse in die Perm gevul het.  Die kleiner spesies soos Olivieriasuchus en Ictidosuchops was waarskynlik insektivore, maar ander soos Theriognathus en Moschorhinus kon so groot soos bere word en was waarskynlik aasdiere of predatore van spesifieke groot prooispesies.

Therokefaliërs – sien Therocephalia.

Thomas se vlermuis (Scotoecus albofuscus), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Timpaniese ring is die beenring waarbinne die oordrom van soogdiere vasgeheg is.  Die timpaniese ring het vanuit die angulêre been van die onderkaak van soogdieragtige reptiele ontstaan.  In gevorderde soogdiere versmelt dit met die bulla wat weerskate onder op die skedel, agter die kaakskarnier, voorkom.

Tierboskat (Leptailurus serval), subfamilie: Felinae, familie: Felidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis en Palearktis. Inheems aan Suid-Afrika.

Tiflosool is ‘n trilhaar-bedekte rif wat binne tweekleppiges se derm voorkom.  Die tiflosool vergroot die binneste oppervlakte wat die absorpsie van voedingstowwe bevorder.

Tifus is ‘n infeksie wat deur een van ‘n paar verskillende Rickettsia bakterieë veroorsaak word.  Van die algemene simptome sluit hoofpyn, koors en ‘n veluitslag in.  Die bakterieë word deur bosluise, luise en vlooie na die gasheer oorgedra.  Tifus-uitbrake vind gewoonlik onder onhigiëniese toestande plaas.

Tilakoïede is membraan-gebonde kompartemente binne chloroplaste en sianobakterieë.   Chlorofilpigmente kom in pakkies binne die tilakoïede voor.

Tinea wat mens dikwels in mediese verwysings teenkom – soos tinea capitis (omlope op die kop), tinea pedis (atleetvoet), tinea unguium (swaminfeksie van die naelbed), tinea cruris (liesomlope) ensovoorts, verwys bloot na ‘n swaminfeksie van ‘n spesifieke gebied en nie na ‘n spesifieke swam nie.

Tiriese pers die purper-blou tot rooipers kleurstof wat vir duisende jare gebruik was om klere te kleur.  Dit was egter so skaars en gesog dat dit geweldig duur was en net die rykstes of hooggeplaasdes kon dit bekostig.  Die kleurstof kom uit die slymafskeiding van die hipobrangiale kliere van sekere predatoriese seeslakke soos Hexaplex trunculus en Murex brandaris van die familie Muricidae.

Tjokka (Loligo reynaudii) is ‘n 20-30 cm lange pylinkvis wat aan die familie Loliginidae hoort.  Dit kom in Suid-Afrikaanse seewaters voor en word gevang.  Dit is die bron van meeste van die kalamari wat in Suid-Afrika geëet word.

Toksien is ‘n gifstof wat deur ‘n organisme vervaardig word.

Toksoplasmose word deur Toxoplasma gondii veroorsaak.  Toksoplasmose begin met griepagtige simptome soos spierpyne, koors en seer limfkliere, maar dit kan vererger in mense wat ‘n swak senuweestelsel het wat hoofpyn, swak koördinasie, stuiptrekkings en longprobleme kan veroorsaak. Mens kan toksoplasmose kry deur om kos te eet waarin Toxoplasma bradisoïete voorkom en wat nie goed voorberei is nie, as mens met Toxoplasma oösiete in katmis in aanraking kom, en as ‘n besmette persoon dit aan ‘n baba tydens swangerskap oordra.  Bradisoïete gee aan tagisoïete oorsprong wat baie vinnig die liggaam binneval, verdeel en versprei. Bradisoïete oorleef in kiste in die gasheer se spier- en senuweeweefsel vir die res van die gasheer se lewe.  Toxoplasma kan in meeste warmbloedige diere voorkom, maar kan slegs in katte geslagtelik voortplant.  Omtrent helfte van die wêreldbevolking daarmee besmet, alhoewel meeste mense geen simptome toon nie, terwyl ander mense, weens die versteuring van die gasheer se senuweeoordragstowwe wat Toxoplasma veroorsaak tot depressieen ander neurologieseprobleme kan lei.

Top predator – sien Spitsroofdier.

Toxoplasma gondii is ‘n eensellige verpligte intersellulêre parasiet wat aan die Apicomplexa hoort.  Dit is verantwoordelik vir die siekte toksoplasmose wat wêreldwyd voorkom.  Ongeveer helfte van die wêreldbevolking is tans gashere van Toxoplasma gondii.  T. gondii se geslagtelike voortplanting vind in huiskatte plaas en hul eiers word in katmis uitgeskei.  T. gondi enkisteer binne spier en senuweeweefsel.  Daar is bewyse dat hierdie intersellulêre parasiet die gedrag van die gasheer deur hermodellering van neurone kan manipuleer.

Transvaalse losstertvlermuis (Tadarida ventralis), familie: Molossidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Traumatiese inseminasie verwys na die voortplantingstragegie in weeluise waar die mannetjie sy skerp inspuitingagtige penis deur die eksoskelet van die wyfie druk om sy sperms in haar liggaamsholte te spuit, in plaas daarvan om haar geslagsopening daarvoor te gebruik.  Dit los ‘n gapende wond in die wyfie wat dikwels nog met bakterieë en ander mikro-organismes besmet kan word.

Trematoda – sien Suigwurm.

Tremellomycetes is gisagtige swamme wat op plante, diere en mense parasiteer.

Trias Periode (251,9 – 201,3 Mjg) was ‘n geologiese tydperk in die Mesosoïkum.  In hierdie tydperk diversifiseer die archosauriërs wat in die Perm ontstaan het.  Primitiewe archosauriërs, die thekodontiërs, vervang die karnivoriese sinapsiede as top-predatore op land en gee later oorsprong aan die krokodille en dinosauriërs wat belangrike nisse op land oorneem en aan pterosourërs wat die lug oorheers.  Ander reptielgroepe wat in hierdie tydperk ontstaan en diversifiseer, is die ichthyosauriërs en nothosauriërs wat die top-predatore in die see word.  Ammoniete kom in al die oseane voor.  Die karnivoriese soogdieragtige reptiele word al hoe kleiner en meer soogdieragtig in hierdie tydperk totdat die eerste soogdiere verskyn.  Groot temnospondiele (primitiewe amfibieë) en Dicroidium saadvarings kom wydverspreid voor. Moderne korale, teleost visse en meeste isekordes verskyn ook in hierdie tydperk.  Aan die einde van hierdie tydperk begin Pangea om op te breek.  Die ekologiese ontwrigting wat met die massa-uitsterwing aan die einde van die Trias plaasgevind het, het veroorsaak dat talle spesies verdwyn wat die weg vir die dinosauriërs gebaan het en hulle die geleentheid gegee het om nog groter en meer gediversifiseerd te word.  Die naam Trias is afgelei van die feit dat hierdie geologiese stratigrafiese eenheid in drie duidelike lae in Europa verteenwoordig word – rooi rotslae onder, mariene kalsteen in die middel en ‘n laag van modder en sandsteenlae bo dit.

Tribolium castaneum – sien Meelkewer.

Trichomonas vaginalis is ‘n anaerobiese protist met flagellas wat die veneriese siekte trichomonase veroorsaak wanneer die protist deur omgang oorgedra word.

Trichuriose is die siektetoestand wat deur sambokwurmbesmetting veroorsaak word.  Simptome sluit in: kroniese disenterie, buikpyn, naarheid, hardlywigheid, winderigheid en netelroos.  Sekondêre bakteriële infeksies kan kolitis en rektale prolaps veroorsaak.

Trichuris trichiura – sien Sambokwurm.

Trigogeen is ‘n buisie wat deur die askogonium gevorm word en dan met die antheridium versmelt.  Die kerne stroom na die versmelting vanuit die antheridium deur die trigogeen na die askogonium.

Trikonodont is ‘n tipe kiestand wat in insektivoriese kuonodontiërs voorgekom het.  Die krone van trikonodonttande was langwerpig en het drie knobbels in ‘n ry gehad, nl. ‘n groot middelste knobbel en ‘n kleiner voorste en agterste knobbel.

Trilhare of silia is klein haaragtige strukture op die oppervlakte van die sel wat vir beweging verantwoordelik is.  Dit bestaan uit mikrotubuli wat in ‘n selmembraan-slopie omhul is.  Dit kan ook ‘n rol speel in voeding en respirasie deur om water verby die sel te laat beweeg.  Dit speel ook ‘n rol in uitskeiding van ontlasting en uriene en die beweging van geslagselle deur geslagsbuise.  Dit kan ook ‘n sensoriese rol in sekere selle speel.  Waarteenoor daar maar een of twee flagella in sekere selle voorkom kan daar tot honderde trilhare op ‘n sel voorkom.  Bakterieë en archaea het nie silia nie en met die uitsondering van nematode (wat ook nie flagella het nie), het meeste eukariotiese organismes trilhare.

Triljoen is 1 000 000 000 000 000 000 of 1018 en ‘n biljoen is 1000 000 000 000 en ‘n Miljard is 1000 000 000.  Dit is die stelsel wat vir eeue in Europa deur Britte, Nederlanders, Duitsers, Franse, Russies en baie ander volke gebruik was.  Amerikaners, aan die ander kant, noem ‘n miljard ‘n biljoen en ‘n biljoen ‘n triljoen.  Vreemd genoeg en ironies, is die VSA ook een van die weinige lande wat, ondanks hulle Vryheidsoorlog in die agtiende eeu teen Engeland, nog steeds die Imperiale Stelsel van myle, voete, duime, ponde en gallone gebruik, maar net nie miljarde, biljoene en triljoene onder die knie kon kry nie.

Trilobiete is ‘n uitgestorwe groep seediertjies van die Klas Trilobita van die Filum Arthropoda.  Hulle naam is afgelei van die feit dat dit lyk asof hulle liggame uit drie lengtelopende lobbe bestaan.  Trilobiete was die heel eerste groep geleedpotiges wat ontstaan het en hul verskyning in die fossielrekord word gebruik as die merker waarvolgens die aanvang van die Kambriese Periode 521 Mjg bepaal word.  Trilobiete het gedurende die Vroeë Paleosoïkum gediversifiseer en het wêreldwyd voorgekom.  Hulle eksoskelette fossiliseer maklik en hulle word goed in die fossielrekord wêreldwyd verteenwoordig.  Verskeie trilobietspesies word as indeksfossiele gebruik.  Al die trilobietordes buiten een – die Proetidae – het in die Devoon uitgesterf en dié het tydens die massa-uitsterwing aan die einde van die Perm Periode ook verdwyn.  Trilobiete het dus vir amper 300 miljoen jaar bestaan en kan dus as een van die mees suksesvolle dierklasse ooit beskou word.  Sommige spesies het in die seevloer vir kos gesoek terwyl ander in die see rondgeswem het om op plankton te voed.  Sommige was filtervoeders terwyl ander predatore en ander aasdiere was.

Trilswamme behoort aan die klas Dacrymycetes.  Die trilswamme se naam is van die jellieagtige aard van hulle vlesige onreëlmatige gelobde halfdeursigtige vrugliggame afgelei.

Tripanosome behoort aan die protosoïese genus Trypanosoma aan die orde Trypanosomatida, wat volgens sekere klassifikasies aan die filum Sarcomastigophora van die koninkryk Protista hoort, maar volgens nuwer klassifikasies word hulle saam met die dinoflagellate, as eensellige lede van die nuutgeskepte koninkryk Chromista beskou.  Trypanosome benodig meer as een gasheer om hul lewensiklus te voltooi en word gewoonlik deur bloedsuiende insekte, wat as vektore optree, na werweldiere oorgedra.  Tripanosome kom gewoonlik in die dermkanaal van die insekgashere, en in die bloedstroom van die werweldiergashere voor.  Tripanosome is verantwoordelik vir verskeie siektes waarvan die mees bekende menssiektes slaapsiekte is wat deur Trypanosoma brucei veroorsaak word en Chaga se siekte wat deur Trypanosoma cruzi veroorsaak word.

Tripanosomiasis is die wetenskaplike naam vir slaapsiekte en nagana.

Tripomastigote is die ekstrasellulêre lewenstadium van Trypanosoma wat in die bloedvatstelsel van die soogdiergasheer voorkom.  Die basaalliggaam kom in hierdie lewenstadium agter die kern in die agterste deel van die sel voor en behalwe vir ‘n klein deeltjie van die flagellum, wat by die voorste gedeelte van die sel uitsteek, is die hele flagellum teenaan die sel met behulp van die golwende membraan vasgeheg.

Trogofoor larwe is ‘n tipe vryswemmende larwe met rye trilhaartjies wat in die see voorkom.  Dit was al vir honderde jare as ‘n vrylewende diertjie in plankton waargeneem en eers toe dierkundiges dit in mariene akwariums begin aanhou en hul ontwikkeling bestudeer het, is daar ontdek dat hulle nie volwasse organismes is nie maar die larwale stadiums van weekdiere, gesegmenteerde wurms en verwante ander ongewerweldes wat aan die Lophotrochozoa hoort.

Tropies verwys na die gebied rondom die ewenaar of kenmerke van die organismes of klimaat van daardie streek.  Die organismes wat hier voorkom is aangepas om by hoë temperature en humiditeit te kan oorleef.

Tropiese bontpootbosluise (Amblyomma variegatum) kom oorspronklik van Afrika, maar het intussen wêreldwyd versprei.  Dit is ‘n drie-gasheer bosluis.  Die nimfe sal op reptiele, grondbewonende voëls en soogdiere voed, terwyl die volwassene groter soogdiere soos bokke en beeste verkies en dikwels mense byt.  Die tropiese bontpootbosluis is die vektor van bakterieë soos Rickettsia conori wat bosluistifus veroorsaak en Coxiella burnetti wat Q-koors veroorsaak.

Tropiese weeluis (Cimex hemipterus) – sien Weeluis.

Tropomeiosien is ‘n proteïen wat in stofmyte se vervellingsdoppe voorkom.  Dit veroorsaak allergiese reaksies in sommige mense.  Tropomeiosien is ‘n belangrike bousteen in die selstruktuur van meeste diere.

True se snoetwalvis (Mesoplodon mirus), subfamilie: Hyperoodontinae, familie: Ziphidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Trypanosoma is ‘n eensellige eukariotiese verpligte intersellulêre parasiet wat aan die orde Trypanosomatida hoort.  Trypanosoma is verantwoordelik vir erge siektes wat die mensdom teister soos slaapsiekte wat deur Trypanosoma brucei veroorsaak word en deur tsetsevlieë na die mens oorgedra word, Chaga se siekte wat deur Trypanosoma cruzi veroorsaak word en deur bloeddrinkende roofwantse in die Amerikas na mense oorgedra word, en leishmaniose wat deur verskeie Leishmania spesies deur sandvlieë na mense oorgedra word.

Trypanosomatida is ‘n orde van eensellige eukariotiese verpligte intersellulêre parasiete wat deur ‘n enkele flagellum gekenmerk word.  Lede van die Trypanosomatida is hoofsaaklik insekparasiete, maar ‘n paar genera het van ‘n tweede gasheer wat ‘n ander insek, ‘n plant of ‘n werweldier kan wees, afhanklik geraak.

Tsessebe (Damalicus lunatus lunatus), subfamilie: Alcelaphinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Tsetsevlieg is een van die 22 vliegspesies wat aan die genus Glossina van die familie Glossinidae van die superfamilie Hippoboscoidea hoort.  Hierdie vlieë is verantwoordelik vir die oordraging van die protosoïese parasiet Trypanosoma brucei in Afrika suid van die Sahara en Arabië, waar dit slaapsiekte en nagana veroorsaak.  Daar is savanna, woud en rivieroewer spesies.  Vier tsetsevliegspesies kom in Suider-Afrika voor naamlik: Glossina morsitans, G. austeni en G. pallidipes wat op die savanna voorkom en G. brevipalpis wat in droeë woude voorkom.  Die Suid-Afrikaanse tsetsevlieë voed op vlakvarke, bosvarke, seekoeie en verskeie bokspesies (koedoe, bosbok, eland, buffels, hartbeeste, duikers) en plaasdiere soos beeste en varke.  Tsetsevlieë elders in Afrika sal ook op olifante, renosters, kameelperde, voëls soos volstruise en kormorante en reptiele soos waterlikkewane en krokodille voed.  Die Hippoboscoidea (tsetsevlieë, hertluisvlieë en vlêrmuisvlieë) is bekend daarvoor dat hulle aan ‘n enkele reuse maaier, wat die moedervlieg met melk binne haar uterus voer, geboorte gee in plaas daarvan om honderde eiers, soos ander vlieë te lê,

Tuatara (Sphenodon punctatus) is akkedisagtige reptiele wat endemies aan Nieu-Seeland is.  Die tuatara is die laaste oorlewende spesie van die orde Rhynchocephalia wat in die Trias Periode ongeveer 250 miljoen jaar gelede ontstaan het.  Teen 60 miljoen jaar gelede het al die Rhynchocephalia buiten die voorsate van die tuatara uitgesterf.  Rhynchocephalia is die naaste lewende verwante van die akkedisse en slange. Tuatara mannetjies word gewoonlik ongeveer 61 cm lank terwyl die wyfies ongeveer 45 cm lank word.  Hulle het ‘n unieke kenmerk naamlik twee rye tande in die onderkaak wat bo-oor die enkele ry tande in die onderkaak pas.  Hulle het ook nie eksterne oorkanale nie maar kan hoor.

Tubulidentata – ‘n soogdierorde wat die erdvark bevat. Soögeografiese wyk: Ethiopis.

Tumbuvlieg (Cordylobia anthropophaga) of mangovlieg is geelbruin met twee breë strepe lengtegewys bo-oor die borsstuk.  Tumbuvlieë is inheems aan Afrika suid van die Sahara waar hulle op verrottende vrugte, karkasse en mis voed.  Hulle lê hul eiers in feses of uriendeurdrenkte grond, of op vuil doeke of klere wat buite hang, waar die eiers uitbroei.  Die maaiers soek na 9 tot 15 dae naarstiglik ‘n soogdiergasheer om hulle ontwikkeling te voltooi en kom uit die grond uit wanneer mense of ander soogdiere soos honde of knaagdiere naby kom.  Die maaiers tonnel pynloos in die vel van die gasheer in en begin daar vir twee tot drie weke op die gasheer se vleis onder die vel te voed.  Na ontwikkeling kruip die volgroeide maaier uit die gat in die gasheer se vel, val op die grond en tonnel in die grond in waar dit pupeer.  Die volwasse vlieg ontpop uit die ondergrondse papie.

Turbinate is die gekrulde fyn beenplate in die neusholte wat met slymvliese bedek is wat die lug verwarm wat ingeasem word.

Turgordruk is die krag binne die sel wat die plasmamembraan teen die selwand vasdruk.  Turgordruk kom in protiste met selwande, plant- en swamselle en in bakterieë voor, maar nie in dierselle nie.

Tussengasheer is ʼn gasheer wat ʼn parasiet huisves voor dit na die eindgasheer oorgedra word.  In baie gevalle voltooi die parasiet sekere lewenstadiums binne die tussengasheer voor dit na die gasheer oorgedra word en waar die parasiet se ontwikkeling voltooi word.  Tipies is die gasheer die dier waarbinne die parasiet geslagtelik voortplant en die tussengasheer is die dier waarbinne ongeslagtelike voortplanting plaasvind.  Tussengashere sluit talle geleedpotiges, weekdiere en werweldiere in.  Tussengashere is dikwels ook die vektor van die parasiet.

Tussenwande – sien septums.

Tweedelarwe is die tweede lewenstadium van invertebrate.  Hierdie is die lewenstadium wat op die eerstelarwe volg.  Die tweedelarwe sal uiteindelik groot en swaar en dik word en uit sy vel bars om aan die derdelarwe oorsprong te gee.

Tweedeling verwys na die proses waartydens ‘n sel in twee dogterselle verdeel.  Hierdie is ‘n vorm van ongeslagtelike voortplanting in eensellige organismes, maar dit kan ook na die vermeerdering van selle tydens die groei van ‘n meersellige organisme of die vervanging van dooie selle deur naburige selle in meersellige organismes verwys.

Tweegasheer bosluise is bosluise wat van twee gashere gedurende hulle leeftyd gebruik maak.  Voorbeelde van sulke bosluise is die groot growwe bontpootbosluis en die rooipootbosluis.

Tweekleppiges (klas Bivalvia) het twee skulpe, geen kop en meestal nie ‘n radula nie.  Voorbeelde: oesters, kokkels, kamoesters en mossels.  20 000 spesies. tweekleppiges (klas Bilvalvia) het twee skulpe of kleppe wat in meeste spesies die liggaam heeltemal bedek, terwyl die skeepswurms hulle gereduseerde kleppies as grawe gebruik om ‘n tonnel vir die wurmagtige lyf in hout in te grawe.  Tweekleppiges kom hoofsaaklik in mariene omgewings voor, maar daar is ook varswaterlewende spesies.  Hulle het afgeplatte liggame wat weerskante deur skulpe (ook kleppe genoem) bedek is.  Die tweekleppiges is filtervoeders en hul skulpe is met ‘n skanier van buigbare bindweefsel aanmekaar gekoppel sodat dit oop en toe gemaak kan word om hulle in staat te stel om te voed.  Die kiewe word vir respirasie maar ook as ‘n sif vir voeding gebruik.  Meeste tweekleppiges sement hulself aan ‘n substraat vas, of begrawe hulself in die sand, of wig hul voet in die substraat in, maar daar is sommiges wat deur die water kan beweeg en sommige wat selfs kan swem.  Die Klas Bivalvia is die tweede grootste taksonomiese groep van die Filum Mollusca naas die Klas Gastropoda.

Tweeslagtig of hermafrodities is wanneer ‘n organisme beide manlike en vroulike geslagsorgane besit.  Hermafroditiese diere sluit lintwurms, erdwurms en tuinslakke in.  Die grootste meerderheid plante is hermafrodities.  Swamme is ongeslagtelik maar kan deur middel van isogamete genetiese materiaal uitruil wat die doel van geslagtelike voortplanting is.

Tweevlerkiges – sien Diptera.

Uitskeiding of ekskresie is die proses waardeur afvalstowwe uit die liggaam verwyder word.  Dit is nie dieselfde begrip as afskeiding of sekresie nie.

Uitsluitingsbeginsel of Gause se Wet in ekologie, verwys na die verskynsel dat wanneer twee spesies vir dieselfde beperkte hulpbron kompeteer, dat hulle beide nie teen dieselfde bevolkingsgroottes sal kan voortbestaan nie.  Die een sal met ander woorde die ander uitkompeteer.

Ureters is die buise wat die niere met die blaas verbind.

Uretra is die buis wat die urinêre opening met die blaas verbind.  In wyfies word die uretra slegs vir die vervoer van uriene gebruik, maar in mannetjies word dit vir die vervoer van uriene en sperms gebruik.

Uriene is ‘n waterige metaboliese afvalproduk wat deur die urienwegsgstelsel uitgeskei word.  Uriene bevat o.a. water, urea (afvalproduk van die afbraak van proteïene), kreatinien (afvalproduk van spierwerking), urokroom en ammoniak.

Urienwegbloedbot (Schistosoma haematobium) is die bloedbot wat mense se urienwegstelsel, en spesifiek die blaas aanval.   Die gekoppelde volwassenes van hierdie spesie beweeg binne bloedvate van die lewer tot by blaas waar die wyfie uit die mannetjie se ginekofoorkanaal kruip om in die klein bloedvate waarin sy kan pas, om so naby as moontlik aan die blaaswand te kom, waar sy haar duisende eiers dan lê.

Urienwegstelsel of urinêre stelsel is die sisteem wat vir die produksie en uitskeiding van uriene verantwoordelik is.  Dit sluit die niere, ureters, blaas, uretra en urinêre opening in.

Urinêre stelsel – sien Urienwegstelsel.

Urochordata is ‘n subfilum onder die filum Chordata wat in drie klasse verdeel word, naamlik: Ascidiacea, Thaliacea en Appendicularia of Larvacea.  Die urokordate het al die kenmerke van die kordate naamlik ‘n postanale stert, kiefsplete, endostiel, hol dorsale senuweekoord en ‘n notokoord – op ‘n sekere stadium van hulle lewe.  In die geval van die Appendicularia en tot ‘n meerdere mate in die Thaliacea of salpe, kom hierdie kenmerke regdeur hul lewe voor, maar in die Ascideacea nie.  Mens kry egter al hierdie kenmerke in die Ascideacea, soos rooiaas, se larwe wat soos ‘n paddavissie lyk, maar wanneer die larwe met kleefkliere homself aan ‘n rots vasheg verander die liggaam heetemal en verloor hy sy stert, brein, sintuie, senuweekoord en notochoord terwyl die kiewe vergroot tot dit ‘n kiefmandjie omvorm met die endostiel wat onderaan voorkom.  Anders as Cephalochordata wat kopkordaat beteken, beteken Urochordata stertkordaat omdat die notokoord duidelikste in die stert van hierdie diertjies voorkom.

Urodela is ‘n amfibieërorde wat die salmanders en molge insluit.  Die urodele het ‘n akkedisagtige voorkoms en lyk glad nie soos paddas nie.  Paddas oorheers tans die amfibeë-diversiteit en getalle, maar is heeltemal uniek in hul voorkoms.  Oorspronklik het die basale tetrapode baie meer soos urodele gelyk.  Hierdie liggaamsvorm was deur die basale amniote oorgeërf en dus moet mens eerder sê dat akkedisse ‘n urodeelagtige voorkoms het, as andersom.  Urodele se larwes lyk soos paddavissies, maar wat dan natuurlik nie hul sterte verloor nie.  Meeste urodele word landlewend, maar sekeres soos die Axolotl behou hul kiewe as volwassenes en is permanent waterewend.

Uterus is die deel van die vroulike geslagsorgane waar die bevrugte eiers tydelik gestoor word.  In sommige diere broei die eiers in die uterus uit en die kleintjies word dan gebaar (eierlewendbarend), in ander gevalle word die bevrugte eiers na ‘n tydperk waartydens die embrio binne die eier ontwikkel, gelê, en in ander diere word die embrios aan die wand van die uterus vasgeheg waar hulle verder ontwikkel om later gebaar te word. In talle soogdierspesies (buideldiere, knaagdiere, hase) en akkedisse se wyfies kom twee uterusse voor.  Voëls het een funksionele uterus wat ook as die eierklier bekend staan.

Utrikulus is ‘n sakagtige struktuurtjie in die binneoor van werweldiere waar die ampullas bymekaarkom.  Die binnewand van die utrikulus bevat ‘n horisontaal-georiënteerde kol gevoelshaartjies wat met die otolitiese membraan bedek is.  Kalsiumfosfaatkorreltjies word op die oppervlak van die otolitiese membraan vasgelym wat die membraan swaarder maak.  Die verhoogte gewig dra tot die inersie (traagheid om te versnel) daarvan by, sodat die gevoelshaartjies tydens beweging weg van die rigting van beweging sal ombuig en sodoende inligting na die brein stuur ten opsigte van die rigting van horisontale beweging.

Uurglasdolfyn (Sagmatias cruciger), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Vaal bontpootbosluise (Hyalomma glabrum) kom in Afrika, Europa die Midde Ooste en Asië voor.  Die volwassenes verkies zebras en bokke as gashere in die somer, maar die larwes en nimfe verkies hase, knaagdiere en grondlewende voëls in die herfs en winter.  Hierdie bosluis kan as vektor vir die Kongokoors virus en Rickettsia bakterieë optree.

Vaalboskat (Felis lybica), subfamilie: Felinae, familie: Felidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Vaaldolfyn (Sagmatias obscurus), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Vaalmol (Cryptomys hottentotus), familie: Bathyergidae, suborde: Hystricognathi, familie: Bathyergidae, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Vaalribbok (Pelea capreolus), subfamilie: Peleinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Vaalveldmuis (Mastomys coucha), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Vaatplant of tracheofiete of Hoër Plante is organismes wat aan die Koninkryk Plantae hoort.  Hierdie plante besit vate vir die vervoer van water en minerale van die wortels af en metaboliete (hoofsaaklik suiker) wat deur fotosintese gevorm is van die blare af.  Vaatplante sluit wolfsklou, varings, naaksadiges en blomplante in.

Vagus senuwee is die tiende kopsenuwee wat ook as NX bekend staan (die N staan vir Nervus wat Latyns vir senuwee is, en X is die Latyns vir tien).  Die Vagus senuwee strek van die brein tot by die dermkanaal en is die langste senuwee van die outonome senuweestelsel in die mens.  Die Vagus senuwee bestaan uit sensoriese en motoriese senuwees wat ‘n koppelvlak met die parasimpatiese beheer van die hart, longe en spysverteringstelsel vorm.

Vakuole Twee tipes vakuole kom in protiste voor – die kontraktiele vakuool wat vir osmoregulering verantwoordelik is (amper soos ons niere) en fagositiese vakuole wat vir die inname en vertering van kos en die uitskeiding van afvalstowwe verantwoordelik is (amper soos ons spysverteringstelsels).

Valshaakwurm (Ternidens deminutus) is ‘n rondewurmparasiet wat gewoonlik primate soos bobbejane en ape besmet en toevallig soms ook mense.  Die vlashaakwurmeiers word met die feses uitgeskei waar die larwes in die grond leef tot dit mondelings deur die gasheer opgeneem word.  Valshaakwurmbesmetting veroorsaak die siekte ternideose wat gepaard gaan met buikpyn, bloederige diarree en bloedarmoede.

Valsmoordvis (Pseudorca crassidens), familie: Delphinidae, superfamilie: Platanistoidea, suborde: Odontoceti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Van Zyl se kruipmol (Cryptochloris zyli), subfamilie: Chrysochlorinae. familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Varanopidae is ‘n uitgesorwe familie van klein tot medium-grote primitiewe soogdieragtige reptiele wat voorheen onder die Pelycosauria ingedeel was.  Varanopiërs het baie soos likkewane gelyk het en het waarskynlik dieselfde ekologiese nis as likkewane gevul.  Hulle het in die Laat Karboon ontstaan en het tot die Middel Perm regoor Pangea voorgekom.  Die groter spesies was duidelik roofdiere terwyl die kleiner spesies insekvreters was.

Varanopiërs – sien Varanopidae.

Varings hoort aan die Divisie (nie-plantkundiges sal die vlakbenaming Filum hiervoor gebruik) Pteridophyta (Polypodiopsida of Polypodiophyta).  Varings is spoorvormende vaatplante.  Geslagswisseling kom in varings voor met ‘n dominante sporofietgenerasie (die varing soos wat jy hom ken) wat spore vorm en ‘n gametofietgenerasie wat uit ‘n klein tallus (3-10 mm) bestaan waarin geslagtelike voortplanting plaasvind.  Varings besit veervormige blare met die sporangia wat op die onderste oppervlakte voorkom.  Varings het ongeveer 360 miljoen jaar in die middel van die Devoon Periode verskyn.

Varklintwurm (Taenia solium) is die lintwurmspesie wat mees algemeen in mense voorkom.  Mense tree as ‘n eindgasheer van die varklintwurm op, terwyl varke as tussengashere optree.  T. solium kom meestal as lintwurms in mense voor, en as sistiserkusse in varke.  Soms kan T. solium ook as sistiserkusse in mense voorkom wanneer mense T. solium eiers insluk en as tussengasheer optree.  Varklintwurms word dikwels tot amper 2 m lank en kan duisende proglottiede besit.

Varkvlooie is ‘n ander naam vir mensvlooie of huisvlooie Pulex irritans.  Aangesien Pulex irritans meestal onder mense, die primêre gasheer, uitgewis is, kom die meerderheid van hierdie vlooie deesdae op varke voor en staan dit as varkvlooie bekend.

Varswater verwys na enige natuurlike liggaam van bevrore of vloeibare water wat lae konsentrasies opgeloste soute bevat.  Dit sluit seewater en brakwater uit.

Varswaterhabitatte sluit moerasse, riviere, mere, vleie en klam habitatte op land in.

Varswaterlewend of akwaties verwys na ‘n organisme wat in ‘n varswaterhabitat woon.

Veelvuldige sklerose is ‘n ernstige siektetoestand waar die beskermende meliënskede rondom die senuweeselle, wat dit insuleer, beskadig raak.  Dit veroorsaak dat die senuweestelsel se vermoë om elektriese seine te stuur of te ontvang ingeperk of versteur word.  Dit kan tot verlamming, blindheid en die dood lei.

Veereiers (Bubulcus ibis) is klein, wit reiers met oranje-rooi bekke, wat wêreldwyd in tropiese, subtropiese en warm-gematige streke voorkom.  Dit het oorspronklik ‘n Ou-Wêreld verspreiding gehad, maar het weens boerderyaktiwiteite in die vorige eeu ook in die Amerikas en Australië gevestig geraak.  Hulle vergesel bokke en beeste op savannas en grasvelde en vang dan die insekte wat deur die bokke se beweging versteur word en probeer wegkom.  Hulle sal ook vlieë en bosluise van die bokke en beeste afpik.

Vegetatief verwys na ongeslagtelike voortplanting of die deel van ‘n swam, plant of dier wat ongeslagtelik voortplant.  Dit vind gewoonlik deur middel van seldeling deur mitose plaas.  Dit is hoe groei, voortplanting deur mitospore, fragmentasie of afknopping plaasvind.

Vektore – draers van siektes

Vel is die uitwendige orgaan wat die liggaam van diere, insluitende mense bedek.  Dit bestaan uit drie lae: die boonste laag – die epidermis, die dermis en die onderste laag – die hipodermis.  Die epidermis dien as ‘n beskermingslaag teen ontsteking en beheer die hoeveelheid vog wat aan die omgewing vrygestel word.  Die dermis is die laag vel wat tussen die epidermis en die hipodermis voorkom.  Hierdie laag, wat hoofsaaklik uit digte onreëlmatige bindweefsel bestaan, verskaf meganiese sterkte aan die vel en bevat die meganoreseptore van die tassintuig en temperatuur-reseptore. Dit is ook die laag waar haarfollikels, apokriene-, ekkriene- en sebumkliere, limfkliere, senuwees en bloedvate voorkom. Die hipodermis wat ook as die subkutaneuse weefsellaag bekend staan bestaan uit losmasige bindweefsel en vetweefsel.  Dit bevat ook witbloedselle en groter bloedvate en senuwees as dié wat in die dermis voorkom.  Die vel bevat ook melanosiete wat die vel teen ultravioletstrale van die son beskerm en die kleur aan die vel verskaf.  Die vel speel ‘n rol in die sintese van vitamiene B en D.

Veliger larwe is die planktoniese larwe wat in verskillende tipes waterlewende slakke, tweekleppiges en tandskulpe voorkom.  Die trogofoor larwe gee oorsprong aan die veliger larwe.  Die veliger larwe het ‘n velum met trilhare waarmee dit swem en kos insamel en ‘n skulp wat die binnegoed omhul.

Vel-mikrobioom verwys na die organismes wat op mens se vel leef.  Daar is miljoene mikro-organismes, hoofsaaklik swamme, bakterieë en archaea wat die vel-mikrobioom opmaak.  Meeste van hierdie organismes leef simbioties op mens, maar van hulle is nuttig en beskerm die vel teen giftige stowwe en vreemde organismes.

Veneuse sinusse is die oop ruimtes tussen die weefsel van die kop en die voet van  weekdiere waar die suurstofarm bloed vanuit die weefsel heen dreineer om na die nefridium te vloei om van hier deur are na die kief of long gestuur word.

Venjukovioïede – sien Venyukovioidea.

Ventrikel is die hartkamer wat bloed van die are, wat die liggaam van suurstofarm bloed dreineer, ontvang en dit na die suurstofverskaffende organe (kiewe of longe) pomp.  Die ventrikel (enkel in meeste diere) ontvang om die beurt suurstofryke bloed van die longe of kiewe en pomp dit dan na die ligaam deur slagare en/of die hemoseel.

Venyukovioidea is ‘n uitgestorwe infraorde van anomodontiërs wat aan die dikuonodontiërs verwant was.  Venjukovioïede kom in die Perm-gesteentes van Rusland voor.  Die venjukovioïede se skedels met hul kort snoete, groot oogkaste en groot slaapwykopeninge lyk oppervlakkig soos dikuonodote s’n.  Hulle het egter ‘n kenmerkende beenpypie rondom die pineale foramen.  Anders as die dikuonodontiërs het die venjukovioïede baie tande gehad.  Hulle het nie duidelike slagtande gehad nie, maar hulle snytande was langer as die ander tande wat daarop dui dat hulle plantvreters was.

Verdowingsmiddel is ‘n chemiese stof wat die senuweestelsel van ‘n organisme aantas en in hierdie geval, verdoof sodat die organisme nie pyn voel nie.

Verhemeltes kom slegs in krokodille en soogdiere voor.  Die verhemelte sluit die mondholte van die neusholte af.  In krokodille laat dit die dier toe om met sy neusgate bo die water asem te haal terwyl sy bek met water gevul is (krokodille het nie lippe om die mondholte te seël nie).  ‘n Sagte verhemelte ontstaan reeds in die therokefaliërs.  In die kuonodontiërs kan mens sien hoe die benige verhemelte mettertyd die sagte verhemelte vervang.  Die verhemelte was reeds ten volle gevorm nog voor die soogdiere ontstaan het.  Die verhemelte word deur die maksilêre bene en palatiene bene gevorm.  Die belangrikste rede vir die ontstaan van die verhemelte in die therokefaliër – kuonodont – soogdier groep is om soging moontlik te maak.  Sonder ‘n verhemelte sou dit nie moontlik wees om ‘n vakuum vir soging te vorm nie.

Verkalk verwys na die mineralisering van die dooie parasiet se karkas met behulp van kalsiumkarbonaat of ‘n ander kalsium-bevattende mineraal binne die liggaam van die gasheer.

Verpligte of obligate parasiete is ‘n organisme wat nie op enige wyse sonder ‘n gasheer kan voortbestaan nie.

Verreaux se muis (Myomyscus verreauxii), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Verroting verwys na die afbraak van organiese materiaal deur middel van bakterieë, archaea en swamme, waartydens die oorspronklike struktuur van die organiese materiaal en die verbindings van komplekse molekules afgebreek word om weer deur ander organismes benut te word.

Versteen is die woord wat ons gebruik om die proses van fossielvorming te beskryf.  Die organiese materiaal word oor duisende jare heeltemal of gedeeltelik deur minerale in die grondwater vervang totdat ‘n versteende weergawe van die oorspronklike oerorganisme se been of stomp of skulp oorbly.

Vertebrate – sien Werweldiere.

Verteringsensieme is ‘n groep ensieme wat polimeriese makromolekules in hul kleiner boustene afbreek, sodat die organisme dit kan opneem.  Verteringsensieme kom in diere, swamme en karnivoriese plante voor.

Vervelling (sien ook Stadium) is die proses waartydens ‘n groeiende larwe, nimf of volwassene uit die ou eksoskelet, wat oopbars, te voorskyn kom om sodoende ontslae te raak van die ou eksoskelet wat te klein geword het.  Dit kan ook na die afwerping van ‘n ou, beskadigde of te klein vel van groeiende werweldiere, soos reptiele, verwys.  In die geval van soogdiere en voëls val die ou vel in vlokkies af soos wat die ou vel deur nuwe vel vervang word.

Vervellingsdop is die ou vel of eksoskelet wat agterbly na vervelling en die nuwe stadium van ‘n geleedpotige se larwe, nimf of volwassene te voorskyn gekom het.

Vestibulêre stelsel vorm saam met die slakkehuis die binne-oor.  Die vestibulêre stelsel bestaan uit die drie halfmaanvormige kanale, ampullas, utrikulus en sakkulus.  Die vestibulêre stelsel word deur die vestibulêre senuwee bedien.  Die slymprik het net een halfmaanvormige, die lamprei het twee halfmaanvormige kanale en die res van die werweldiere het drie halfmaanvormige kanale in elke binneoor.  Die halfmaanvormige kanale, wat in verskillende rigtings georiënteer is, is verantwoordelik vir die waarneming van gravitasie en word dus vir balans gebruik. Elke halfmaanvormige kanaal sluit by ‘n ronde blasie, dubbel die deursneë van die kanaal, aan.  Hierdie blasies wat as die voorste, agterste en horisontale ampullas bekend staan, neem die rotasie van die kop waar.  Die utrikulus en sakkulus neem versnelling en rigting van versnelling waar.

Vetigastropoda is ‘n groot groep primitiewe seeslakke wat honderde miljoene jare gelede ontstaan het.  Hulle kom wêreldwyd vanaf die intergetysone tot diepsee voor.  Hierdie subklas van ongeveer 18 000 spesies sluit die tulbandskulpe (familie Trochidae), gathorings (familie Fissurellidae) en perlemoen (familie Haliotidae) in.

Vetmuis (Steatomys pratensis), subfamilie: Dendromurinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Vetsug is ‘n mediese toestand waar ‘n persoon so vet geword het dat dit sy gesondheid negatief beïnvloed.  Die verkeerde dieet (nie bloot die inname van te veel kos nie, maar ook die verkeerde kos), gedrag (te min oefening en te min slaap), genetiese redes, endokriene probleme en disbiose kan vetsug veroorsaak.  Vetsug vergroot die risiko van hartsiektes, suikersiekte, sekere kankers, ostoarthritis, slaapapnee en asma.

Vetsure is een van die hoofbestanddele van lipiede en esters.  Vetsure maak ook ‘n belangrike bestanddeel in voedsel en word as energiebron en bousteen gebruik.

VIGS – sien MIV.

Villi (villus – enkelvoud) is die miljarde klein uitstulpings (0.5-1.6 mm lank) wat die dundermwand uitvoer.  Die epiteelselle van die endoderm vorm die buitenste laag van die buisvormige villus en bevat onder andere enterosiete (selle wat vir die asorbsie van water en elektroliete verantwoordelik is), bekerselle (skei mukus af), enteroendokriene selle (skei hormone af).  Daar is bloedhaarvaatjies binne die villus wat vir die opname van geabsorbeerde kos in die bloedvatstelsel verantwoordelik is.  Daar is ook ‘n limfkapillêre vaatjie, die lakteaal wat tussen die bloedvate in die middel van die villus voorkom, wat vir die opname van vette verantwoordelik is. ‘n Groot deel van die dermbioom kom tussen die villi voor.  Die Lieberkühnkripte, wat verteringsensieme afskei, kom tussen die villi voor.

Vinwalvis (Balaenoptera physalus), subfamilie: Balaenopterinae, familie: Balaenopteridae, suborde: Mysticeti, orde: Cetacea. Kom om die Suid-Afrikaanse kus voor.

Virus is ‘n mikroskopiese stukkie genetiese materiaal wat die vermoë het om slegs deur middel van ander organismes te kan voortplant.  Dit toon geen ander metaboliese funksies buiten voortplanting nie.  Die virus dring die gasheer se sel binne en vervaardig met behulp van die gasheer se sel nog baie replikas van homself.  Dit veroorsaak dikwels dat die geparasiteerde sel doodgaan wat natuurlik tot die siektesimptome van die gasheer bydra.

Visagie se kruipmol (Chrysochloris visagiei), subfamilie: Chrysochlorinae. familie: Chrysochloridae, orde: Afrosoricida. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Endemies aan Suid-Afrika.

Viserale peritoneum is die sak van epiteelweefsel van mesodermale oorsprong wat die organe in die buik en pelvis omhul.

Vismotte is klein, ongevleuelde insekte wat aan die orde Zygentoma behoort.  Hulle het lang silwer lyfies met lang antennas en drie lang stertfilamente.  Hulle vreet sellulose en klein geleedpotiges in die natuur en speel dus ‘n baie belangrike rol in kompostering.  Ongelukkig omring ons onsself met ‘n vismot-smorgasbord bestaande uit stofmyte en sellulose in die gedaante van boeke, matte, gordyne en klere (katoen is sellulose) en dan wonder ons waar kom die vismotte vandaan en wat doen hulle in ons huise?

Vitamien B is ‘n groep wateroplosbare vitamiene wat ‘n belangrike rol in selmetabolisme en die sintese van rooibloedselle speel.  Bakterieë in die dermkanaal vervaardig vitamiene B.

Vitamien K word vir die opname van kalsium in die skelet en ander weefsels aangewend, asook vir die modifikasie van sekere proteïene wat vir bloedstolling nodig is. ‘n Tekort aan vitamien K veroorsaak onkeerbare bloeding, osteoporose en die verkalking van slagare en sagte weefsel.  Vitamien K1 word deur plante vervaardig wat ons in die vorm van groen groente inneem, terwyl vitamien K2 deur melksuurbakterieë in die dermkanaal vervaardig word.

Vivipaar – sien lewendbarend.

Vlakhaas (Lepus capensis), familie: Leporidae, orde: Lagomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis en Maghreb deel van Palearktis, Inheems aan Suid-Afrika.

Vlakvark (Phacochoerus aethiopicus), Subfamilie: Phacochoerinae, Familie: Suidae, Orde: Artiodactyla Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Vleirot (Otomys irroratus), subfamilie: Otomyinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Vleiskeerbek (Crocidura mariquensis), subfamilie: Crocidurinae. familie: Soricidae, orde: Soricomorpha. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Vleisvretend – sien Karnivories.

Vleisvreter – sien Karnivories.

Vlermuisvlieë hoort aan die families Nycteribiidae en Streblidae, van die superfamilie Hippoboscoidea, van die orde Diptera (tweevlerkiges), en is vlieë wat vlêrmuise parasiteer.  Hierdie vlieë is verpligte bloedvoedende parasiete.  Die vlêrmuisvlieë is naasverwant aan tsetsevlieë en hertluisvlieë.  Die Hippoboscoidea lê nie eiers nie, maar baar ‘n enkele reuse larwe op ‘n keer, wat die moedervlieg binne haar uterus met melk voed.  Die vlêrmuisvlieë van die familie Nycteribiidae en sommige lede van die Streblidae het hul oë en vlerke verloor en lyk soos spinnekoppe wat met hul sterk wydgespreide bene oor die vlêrmuis dartel.  Die vlieë van die familie Mystacinobiidae parasiteer ook vlêrmuise, maar behoort aan die superfamilie Oestroidea.

Vlieg verwys breedweg na enige lid van die orde Diptera wat die vlieë, brommers, muskiete, muggies, steekvlieë, hangvlieë, sweefvlieë en ander insluit.  Vlieë (buiten sommige soos die vlêrmuisvlieë wat hul vlerke verloor het) het net twee vlerke.  Die tweede stel vlerke, wat in ander gevleuelde insekte voorkom, het in halters verander. Halters word gebruik om vlieë in staat te stel om draaibewegings te monitor en te beheer, wat hulle in staat stel om rats van rigting te verander.  Daar is ‘n geskatte 1 miljoen vliegspesies op Aarde waarvan slegs 125 000 al benoem en beskryf is.  Vlieë het beweeglike koppe, groot saamgestelde oë en suiende monddele wat in sommige groepe aangepas is om te kan steek.  Hulle is holometaboliese insekte met larwale ontwikkelingsstadiums wat maaiers genoem word.  Vlieë is naas bye, die belangrikste plantbestuiwers.  Weens parasitiese vlieë se vermoë om bloed te suig en dus verteringsensieme, verdowingsmiddels en antistollingsmiddels, en dan op die koop toe eensellige parasiete, in die gasheer se bloed te spuit, is muskiete, bytende muggies en tsetsevlieë ook van die bekendse parasiete wat die mens teister.

Vlindervlermuis (Glauconycteris variegata), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Vloedvlakte is ‘n plat stuk grond langs ‘n rivier.  Tydens ‘n vloed spoel modder in die vloedvlakte in wanneer die rivier oor sy banke stroom.

Vlooilintwurm – sien Hondlintwurm.

Vlooisirkusse was populêr in die armer dele van Europa in die 19de eeu en het mettertyd na die VSA versprei.  Die populariteit daarvan het in die 20ste eeu afgeneem en dit het nou bykans verdwyn.  Die geheim van vlooisirkusse was dat die vlooie geen “opleiding” gehad het nie, maar was bloot aan voorwerpe van dun papier of strootjies vasgeplak, en in ‘n poging om te ontsnap, het die vlooie se geskop die voorwerpe laat beweeg.  Soos die vlooie gevrek het, was hulle bloot met ander vervang.

Voedingstof verwys na enige materiaal – vastestof, vloeistof of gas wat ‘n organisme nodig het om te bestaan.  Plantvoedingstowwe sluit water, nitrate en minerale uit die grond en koolsuurgas uit die lug in.  Diere voed gewoonlik op ander organismes en sal hul voedingstowwe uit ander organismes verkry.  Meeste swamme voed op die voedingstowwe wat hulle uit verrottende plante verkry.

Voedselvakuole vorm wanneer ‘n selmembraan rondom ‘n voedseldeeltjie of kleiner organisme instulp om dit in die sel op te neem.  Lisosome koppel aan die voedselvakuool vas en skei ensieme af wat die kos verteer.  Die oorskot word in die voedselvakuool na die selmembraan vervoer en deur die proses van eksositose uitgeskei.

Voedselweb verwys na die direkte of indirekte verhouding van alle organismes wat of as vreter en/of voedsel in verhouding met die res van die web geskakel is.  Die voedselweb dui ook hoe energie vanaf die primêre produsente deur die res van die voedselweb vloei. ‘n Voedselweb is die aaneengeskakelde voedselkettings wat in ‘n gebied voorkom.  Dit bestaan gewoonlik uit plante, plantvreters, roofdiere en aasvreters.

Voëls het in die Jura Periode vanuit die warmbloedige, geveerde Paraves ontstaan.  Daar is meer as 11 000 ekstante voëlspesies waarvan die sangvoëls (Passeriformes) ongeveer 60% daarvan opmaak.  Voëls is een van die min diergroepe wat op alle kontinente voorkom aangesien pikkewyne selfs op Antarktika voorkom.  Aangesien sangvoëls saadvretend is, kan mens aflei dat meeste voëls saadvretend is, maar dan vergeet mens soms dat hulle insekte en ander ongewerweldes vang wat hulle vir hul kuikens tydens broeityd voed.  Meeste van die ander voëlspesies is omnivories, insekvreters of vleisvreters. Sien – Eerste voëls.

Voet – die spieragtige voet is een van die kenmerkende eienskappe van weekdiere en word deur meeste weekdiere gebruik om hulself aan oppervlaktes vas te heg, om mee rond te beweeg en om mee te grawe.  In koppotiges het dit tot tentakels omvorm.

Volvariella volvacea – sien Beursswam.

Volwasse verwys gewoonlik na die geslagsrype stadium van ‘n organisme se lewensiklus.  Volwassenes kan voortplant buiten in uitsonderlike gevalle soos in die Adactylidium myte waar larwes reeds binne die uterus van hulle ma voortplant.  In die geval van insekte het die volwassenes van gevleuelde spesies vlerke.  Dit het waarskynlik ontstaan om die eiers na nuwe habitatte te versprei om sodoende die spesies se voortbestaan te verseker.  In sommige spesies voed die volwassene glad nie, of sal op die meeste water of nektar drink.  Die mannetjies van hierdie spesies sterf gewoonlik na paring en die wyfie nadat sy die eiers gelê het.

Vomeronasale orgaan is ‘n sensoriese orgaan wat in die voorste deel van dak van die verhemelte en die vloer van die neusholte geleë is. Die vomeronasale orgaan tel feromone op.

Voorkeurgasheer is die gasheer wat die parasiet eintlik verkies en wat gewoonlik noodsaaklik is vir die voltooiing van die parasiet se lewensiklus.  Die kat is byvoorbeeld die voorkeurgasheer van die katvlooi, maar indien daar nie ‘n beskikbare kat is nie, sal ‘n katvlooi ook op ‘n hond of ‘n mens voed.  Die katvlooi kan egter nie eiers vorm as dit nie uiteindelik katbloed inkry nie (sien ook Gasheerspesifiek).

Voormaaltande is die eerste stel tande agter die slagtand.  In baie diere soos knaagdiere en olifante lyk die voormaaltande en maaltande eenders, maar in baie buideldiere en primate lyk die voormaaltande anders as die maaltande.  In sekere diere is die voormaaltande kleiner en het in sommige spesies skerper krone as die maaltande.  Voormaaltande van sekere spesies het een minder wortel as die maaltande.  Die voormaaltande in sekere spesies soos mense en ander grootape is wisseltande, terwyl die maaltande slegs as permanente tande uitkom.  Meeste soogdiere is difiodonte en het slegs een stel melktande wat deur volwasse tande vervang word.  Daar is egter polifiodont diere soos manatees en kangaroes, wat soos reptiele en die voorouers van soogdiere – die soogdieragtige reptiele, regdeur hul lewe tande wissel.  Omdat die getal tande in meeste ordes en families soodiere van mekaar verskil, word dit vir klassifikasiedoeleindes aangewend.  Die eerste plasentale soogdiere het 4 voormaaltande en 3 maaltande in elke kaak aan elke kant van die skedel gehad, wat mens nog in die groot haaregel van Suidoos Asië kan sien, terwyl in die eerste buideldiere daar 3 voormaaltande en 4 maaltande in elke kant in elke kaak van die skedel was, wat mens vandag nog in die opossum van Noord-Amerika aantref.  Voormaaltande en maaltande word saam kiestande genoem.

Voor-papie verwys na ‘n spesifieke larwestadium wat in sekere holometaboliese insekte voorkom.  Dit is gewoonlik in insekte waar die volgroeide larwes nie verder voed nie, maar hulself begrawe en dan ‘n tydperk van rus ingaan, voordat hulle papies vorm.  Voorbeelde van insekte waarin daar voor-papies (“prepupa” in Engels) voorkom is die swart soldaatvlieg en die tsetsevlieg.

Vrek verwys na die doodgaan van ‘n plant, dier, swam, protist of bakterie.  Mense sterf maar alles anders vrek.  Net so vreet diere, terwyl mense eet.  Diere het pense en pote, mense het mae, of beter nog, buike en arms en bene (ek los nou maar die kop/hoof, nek/hals vergelyking, want daardie slaggie is reeds verloor).  As ons nie die regte uitdrukkings gebruik nie klink ons soos kindertjies wat pas begin leer het om te praat en regverdig dit die Nederlandse opinie van Afrikaans as “Een erg leuke taaltje”.

Vrylewend verwys na ‘n dier wat nie binne ‘n ander organisme leef nie en wat ook nie sessiel (sittend) is nie.  Sekere diere soos die korsmossel en die rooi-aas, het ‘n vrylewende larwe, maar ‘n sessiele volwassene.

Vry radikale is suurstofbevattende molekules met ‘n ongelyke getal elektrone wat hulle in staat stel om maklik met ander molekules te reageer (sien – Oksidatiewe stres).

Vrystaatse dwergmuis (Mus orangiae), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Vulva is term wat gebruik word om na die buitenste opening van die vroulike geslagsorgane in sommige werweldiere en ongewerweldes te verwys.

Waaierstertgrondeekhoring (Xerus inauris), tribus: Xerini, subfamilie: Xerinae, familie: Sciuridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Waaiertjies (Schizophyllum commune) is swamme wat wêreldwyd op verrottende hout in die reënseisoen voorkom.  Hierdie swam vorm eetbare sampioene met oneweredige 1-4 cm wye sponsagtige hoede wat in trosse voorkom en bietjie soos korale van bo-af lyk.  Hulle gesplete kiewe is roomkleurig tot wit.  Dit word ook in medisyne gebruik.

Wahlberg se vrugtevlermuis (Epomophorus wahlbergi), subfamilie: Pteropodinae, familie: Pteropodidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Wallemiomycetes is ‘n Klas van die Basidiomycota wat slegs die xerofiliese skimmels, wat aan die genus Wallemia hoort, bevat.  Die klassifikasie van hierdie groep is nog nie heeltemal uitgesorteer nie.

Wangsakmuis (Saccostomus campestris), subfamilie: Cricetomyinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Warmbloedigheid, homeotermie of endotermie verwys na sekere diere wat ‘n liggaamstemperatuur hoër as dié van hulle omgewing kan handhaaf.  Die diere wat bekendheid hiervoor verwerf het is die soogdiere en voëls, maar dit is nie waar die storie eindig nie.  Daar is sekere reptiele soos die Argentynse swart en wit tegu en visse soos die tuna en haringhaai wat ook warmbloedig is.  Dinosauriërs en gevorderde soogdieragtige reptiele was ook warmbloedig.

Waterblommetjies (Aponogeton distachyos) is ‘n inheemse waterplant wat in geregte soos waterblommetjiebredie, sop of slaai gebruik word.

Waterbok (Kobus ellipsiprymnus), subfamilie: Reduncinae, familie: Bovidae, Orde: Artiodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Waterjuffers is vlieënde insekte wat aan die suborde Zygoptera van die orde Odonata hoort.  Hulle is naasverwant aan die naaldekokers, maar anders as in die naaldekokers wat met hul vlerke na die kante toe rus, hou rustende waterjuffers hul vlerke teen mekaar, bokant hulle agterlywe, skuins opwaarts in die lug.  Waterjuffers is ook kleiner as naaldekokers en waterjuffers se oë is aan die kant van die kop in plaas van om die hele kop te bedek soos in die geval van naaldekokers.   Hulle is delikate insekte met lang skraal agterlywe.  Verskillende spesies het verskillende kleure wat van pers, blou, groen, geel, rooi, swart of bruin kan wissel.  Waterjuffers lê nes naaldekokers hulle eiers in die water, waarna die larwe vir die grootste deel van die dier se lewe in die water leef.  Beide die larwes en volwassenes is predatore wat meestal op ander insekte jag maak.

Waterkolom is ‘n term wat in oseanografiese studies gebruik word om die fisiese (temperatuur, soutgehalte en ligvlak) en chemiese (pH, opgeloste suurstof en soute) wat sekere dieptes van die seewater kenmerk.  Sekere organismes kan slegs op sekere vlakke in die waterkolom voorkom.

Waterrot (Dasymys incomtus), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Waterskimmels (Oomycetes) is swamagtige, filamentvormende protiste.  Waterskimmels was oorspronklik as swamme geklassifiseer, maar deesdae behoort hulle aan die Filum Heterokontophyta van die Konkinkryk Chromista.  Die Chromista sluit die Bruinalge, dinoflagellate en die malariaparasiet Plasmodium in.  Hulle besit soöspore met twee verskillende flagellas – die een is sweepagtig en die ander lyk soos ‘n lang bottelskoonmaker.

Weddell se rob (Leptonychotes weddellii), familie: Phocidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora.  Kom rondom die Suid-Afrikaanse kus voor.

Weefsel is die organisatoriese vlak tussen selle en ‘n orgaan.  Dit bestaan uit ‘n versameling soortgelyke selle en die omliggende matrysselle wat ‘n sekere funksie verrig.  Organe word deur sulke weefsels opgebou.  Daar is vier hoofgroepe weefsels naamlik: epiteelweefsel, bindweefsel, spierweefsel en senuweefsel.

Weekdiere of molluske is lede van die Filum Mollusca.  Die weekdiere is die grootste dierfilum naas die geleedpotiges en daar is reeds ongeveer 85 000 ekstante spesies bekend, terwyl daar ongeveer dieselfde hoeveelheid in die fossielrekord voorkom.  Daar is egter talle ekstante spesies wat nog nie beskryf is nie.  Weekdiere kom hoofsaaklik in mariene omgewings voor maar daar is talle spesies wat aangepas het om in varswater en terrestriële habitatte te oorleef.  Die ekstante weekdiere word in 8 klasse opgedeel: die slakke (Gastropoda), die tweekleppiges (Bivalvia), die kewerslakke (Polyplacophora), die koppotiges (Cephalopoda), die tandskulpe (Scaphopoda) en primitiewe Monoplacophora wat op die seevloer leef en die doplose, wurmagtige Caudofoveata en Solenogasters. Daar is ook drie uitgestorwe klasse wat ons uit die fossielrekord ken.  Die weekdiere het in die Kambriese Periode verskyn.

Weeluise of tropiese weeluise (Cimex hemipterus) kom hoofsaaklik in tropiese klimaatstreke voor, maar kan ook in gematigde gebiede soos Suid-Afrika, Europa en Rusland voorkom.  Dit is ‘n lid van die Hemiptera of halfvlerkiges, maar het hul vlerke, en dus hul vermoë om te kan vlieg, verloor.  Weeluise is verpligte parasiete van mense en drink mensbloed met hul spesiaal aangepasde monddele wat ontwerp is om te steek en te suig.  Weeluise wissel 2.5-5.5 mm in lengte en het ‘n ovaalvormige afgeplatte liggaam wat dit in staat stel om bedags in smal krakies weg te kruip.

Welwitsch se langhaarvlermuis (Myotis welwitschii), subfamilie: Myotinae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Werweldiere of vertebrate hoort aan die Subfilum Vertebrata van die Filum Chordata.  Meeste van hierdie diere het werwels.  Die kaaklose visse of Agnatha (lampreie en slympalings) en die rotvisse van die subklas Holocephali van die klas Chondrichthyes het nie werwels nie, maar ‘n notochoord wat die liggaam ondersteun.  Hulle het egter kraakbeenelemente in die kop en kiewe wat as skelette beskou word.  Die Vertebrata bevat die kaaklose visse, kraakbeenvisse, beenvisse, amfibieës, reptiele (insluitende die voëls) en soogdiere.  Daar is na beraming meer as 66 000 werweldierspesies, maar as mens dit met die ongeveer 1.5 miljoen bekende spesies ongewerweldes vergelyk, en in gedagte hou dat daar tussen 6-10 miljoen, tot dusver onontdekte insekspesies, mag wees, moet mens herken dat ons eintlik maar net van diere moet praat.  Trouens, daar is meer slakspesies as werweldierspesies op Aarde.

Wes Nyl-virus word deur hoofsaaklik Culex muskiete tussen mense, soogdiere, reptiele, amfibieës en voëls versprei.  Dit is verwant aan die Japannese enkefalitis, Zika, dengue en geelkoors virusse.  Dit was eerste in 1937 in Uganda opgespoor, maar het intussen na ander wêrelddele versprei.  Die hoofgasheer van hierdie virus is voëls en meer as 300 voëlspesies is al as gashere van hierdie virus geïdentifiseer.

Wieg van die Mensdom (“Cradle of Humankind”) is ‘n dolomitiese gebied noord van Krugersdorp in Gauteng wat die grootste versameling hominien-fossiele in die wêreld het.  UNESCO (die Verenigde Volke se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele-Organisasie) het die gebied in 1999 as ‘n wêrelderfenisgebied verklaar.   Van die belangrikste fossielvindplekke wat ingesluit word is: Sterkfontein, Swartkrans, Kromdraai, Bolt’s Farm, Coopers, Minnaars, Plover’s Lake, Drimolen, Gladysvale, Haasgat en Gondolin.  Later was Taung in Noordwes en Makapansgat in Limpopo bygevoeg.

Wildehond (Lycaon pictus), familie: Canidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Wimpermyte (Demodex) – sien Follikelmyte.

Winterslaap of hibernering vind plaas wanneer sekere dierspesies se metabolisme as oorlewingsmeganisme in die wintermaande onderdruk word.  Indien die metaboliese onderdrukking in die somer plaasvind, word dit estivering genoem en as dit deur die dag plaasvind word dit torpor genoem.  Hierdie onderdrukking van metaboliese aktiwiteite vind plaas om te verhoed dat die dier se opgegaarde energiereserwes uitgeput raak in tye waar geweldig baie energie gebruik sal moet word om die dier se temperatuur te reguleer en om prooi te vang en te verteer.  Die ander probleem is dat kos nie geredelik beskikbaar in die winter is nie en as ‘n dier dan aktief moet wees, sal hy waarskynlik van honger doodgaan.  Hibernasie gaan gepaard met minimum aktiwiteit, ‘n lae liggaamstemperatuur, stadige asemhaling en hartklop.  Diere wat hiberneer eet besonder baie kos voor die tyd om hul vetreserwes op te bou om sodoende die wintermaande te oorleef.

Winton se langoorvlermuis (Laephotis wintoni), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Witbloedselle of leukosiete of fagosiete is die selle wat deel van die immuunstelsel van die liggaam opmaak.  Dit beskerm die liggaam teen aansteeklike siektes en vreemde voorwerpe wat die liggaam binnedring.  Witbloedselle word deur multipotente selle in die beenmurg gevorm en versprei van daar, met behulp van die bloed- en limfvatstelsels, deur die liggaam.  Witbloedselle het kerne wat hulle van soogdiere se rooibloedselle onderskei.  Witbloedselle lyk en reageer soos amoebas.  Witbloedselle word in granulosiete en agranulosiete verdeel.  Die granulosiete, wat meestal in bloed voorkom, word verder in neutrofiele, basofiele en eosinofiele verdeel, terwyl die agranulosiete, wat meeste in die limfvatstelsel, timus, milt en blindederm gevind word, maar ook in bloed voorkom, in limfosiete en monosiete verdeel word.  Monosiete vorm dendritiese selle en makrofage.  Limfosiete vorm T selle, B selle en natuurlike moordselle wat allerbelangrik vir die immuunstelsel is.  Neutrofiele en makrofage voed op organiese afval en bakterieë deur middel van fagositose.  Witbloedselle kom regdeur die diereryk voor, maar is hoogs gespesialiseerd in soogdiere.  Een liter menslike bloed bevat ongeveer 6 miljard fagosiete.  Ilya Ilyich Mechinikov het witbloedselle in 1882 ontdek en in 1908 die Nobelprys in Fisiologie en Geneeskunde daarvoor gekry.

Witkwasjakkals (Lupulella adusta), familie: Canidae, suborde: Caniformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Witkwasmuishond (Cynictis penicillata), familie: Herpestidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Witlyfvlermuis (Taphozous mauritianus), familie: Emballonuridae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Witrenoster (Ceratotherium simum), familie: Rhinocerotidae, orde: Perissodactyla. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Witseerkeel of difterie is die besmetting van die boonste lugweë deur die Corynebacterium diphtheriae bakterie.

Witstertmuis (Mystromys albicaudatus), subfamilie: Mystromyinae, familie: Nesomyidae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere). Soögeografiese wyk: Ethiopis, Endemies aan Suid-Afrika.

Witstertmuishond (Ichneumia albicauda), familie: Herpestidae, suborde: Feliformia, orde: Carnivora. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Woestyndwergmuis (Mus indutus), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Wolfskloue is vaatlose landlewende plante van die Filum (Plantkundiges gebruik die taksonomiese vlakbenaming Divisie) Anthocerotophyta.  Die sporofiet van die wolfskloue is langwerpig terwyl die gametofiet ‘n plat tallus vorm.  Wolfskloue groei in klam areas.

Wood se spleetneusvlermuis (Nycteris woodi), familie: Nycteridae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis. Inheems aan Suid-Afrika.

Woosnam se woestynrot (Zelotomys woosnami), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Woronin-liggaampies (Woronin bodies) kom in die sitoplasma van Sakswamme voor.   Wanneer ‘n hife skeur en die sitoplasma vinnig deur die septumporie na die stukkende deel van die hife begin wegvloei, seël die Woronin-liggaampies die septumporie om die verlies van die sitoplasma te verhoed amper net soos wat bloedplaatjies ‘n gat in ‘n aartjie sal verstop.

Woud is ‘n gebied wat deur bome oorheers word.  In sommige definisies word daar na boomdigtheid verwys, terwyl ander na die aaneenlopendheid van die blaredak verwys.  Die woord bos verwys na ‘n digte mengsel van bome, struike, kruide, grasse en varings.

Woudmuis (Grammomys dolichurus), subfamilie: Murinae, familie: Muridae, suborde: Sciurognathi, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Woudolifant (Loxodonta cyclotis), familie: Elephantidae, orde: Proboscidea, Soögeografiese wyk: Ethiopis. Kom in die tropiese reënwoude van Sentraal Afrika voor Wucheria bancrofti – sien Haarwurm.

Wurmakkedisse – sien Amphisbaenia.

Wurmlading verwys na die hoeveelheid wurms in ‘n gasheer.

Wurmsalamanders (orde Gymniophiona van die subklas Lissamphibia) of Apoda is ‘n groep pootlose, wurmagtige amfibieë wat ondergronds in klam grond of in die water in tropiese gebiede in Suid-Amerika, Afrika en Asië voorkom.  Wurmsalamanders het ‘n verkleinde linkerlong en ‘n groot regterlong soos slange.  Sommige wurmsalmanders het kleintjies wat met kiewe respireer maar dit word vroeg al in hul ontwikkeling verloor soos wat die longe ontwikkel.  Sommige spesies se oë is baie klein en in ander het dit heeltemal verdwyn.  Hulle velle is klam en voel rubberig.  Daar is spierringe rondom die lyf soos in die wurmakkedisse s’n.  Sommige spesies het ook skubbe wat uniek onder die amfibieë is.

Wydsbeenstand tref mens in basale tetrapode, amfibieë soos salamanders en reptiele soos akkedisse aan.  In hierdie diere wys die knieë en elmboë van die dier na buite met die tone skuins vorentoe en na binne gedraai is.  Die skouergordels is massief groot om die gewig van die dier te stut en om as aanhegtingspunt vir die spiere wat die dier regop te hou te dien.

 

Xenopsylla cheopis of Oosterse rotvlooi – sien Builepesvlooi.

Xylofories verwys na die vreet van hout.  Inderwaarheid is dit verottende hout en die gepaardgaande mikrobiese biofilm wat deur die dier gevreet word.

Yersinia pestis is ‘n bakterie wat builepes, ook bekend as die Swart Dood, veroorsaak.  Builepes word deur besmette rotvlooie van rotte na mense oorgedra. Miljoene mense het al van builepes gesterf.

Yskap of poolkap is die ysbedekking wat mens op die pole van ‘n planeet kry.  Dit kan, soos in die Noordpool op die seewater vorm met geen landmassa daaronder nie, of soos in die Suidpool waar die yskap op die kontinent Antarktika voorkom.  Die yskappe word geweldig groot tydens ystydperke en die noordelike yskap het dan groot dele van kontinente soos Noord Amerika en Eurasië bedek.

Ysplate is die ys wat rondom Antarktika en Groenland voorkom wat vanaf die landmassa tot oor die see strek.  Die stukke ys wat rondom die rand van die ysplate afbreek vorm ysberge.

Ystervark (Hystrix africaeaustralis), familie: Hystricidae, orde: Rodentia (knaagdiere), Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Ystydperk is ‘n tydperk van duisende jare waartydens die temperatuur wêreldwyd daal en yskappe suidwaarts van die Noordpool en noordwaarts van die Suidpool oor die oseane en kontinente uitbrei.

Zika virus word deur Aedes muskiete in tropiese gebiede in Afrika, Asië en Suid Amerika na mense versprei.  Zika virusse is aan die dengue, geelkoors, Japanese enkefalitis en Wes Nyl virusse verwant.  Die Zika virus veroorsaak gewoonlik baie ligte simptome, maar kan van swanger ma na haar ongebore baba oorgedra word.  So ‘n baba kan met mikrokefalie (‘n klein breintjie), vergroeiings van die brein en ander afwykings gebore word.

Zoeloelandse vlermuis (Neoromicia zuluensis), subfamilie: Vespertilioninae, familie: Vespertilionidae, orde: Chiroptera. Soögeografiese wyk: Ethiopis, Inheems aan Suid-Afrika.

Zombieswam (Ophiocordyceps unilateralis) is ‘n insekpatogeniese swam wat hoofsaaklik in tropiese gebiede voorkom.  Hierdie swam dring miere se liggame binne waar die swam beheer oor die mier se brein oorneem om sodoende die mier se gedrag te beheer.  Die mierspesies wat aan die Camponotini takson hoortk word deur die swam geteiken.  Hierdie miere maak neste en woon en voed in die blaardak van reënwoude.  Die swam veroorsaak dat die miere die blaardak verlaat en doelloos op die woudvloer rondloop.  Die warmer temperatuur en hoër humiditeit op die woudvloer bevoordeel die swam.  Dan dwing die swam die mier om eensklaps teen ‘n blaar op te klim en so hard as moontlik sy kake in ‘n groot aar op die blaar in te sink.  Die oomblik wat die mier krampagtig vasgeklem is, verstyf sy lyf en trek die bene hulpeloos saam, terwyl die mier vrek.  Een of meer swamdrade van die swam bars na ‘n paar dae deur die kop van die dooie mier en vorm sporangia wat later self oopbars om spore vry te stel.

Zygomycota – sien Konjugasieswamme of Jukswamme.

error: Content is protected !!