Aplacophora – die Klas Caudofoveata en Klas Solenogastres
Die Aplacophora, of aplakofore, is klein wurmagtige weekdiertjies wat in en op die seevloer (dieper as 20 m onder seevlak) reg rondom die wêreld voorkom. In sommige klassifikasies word die aplakofore as ‘n klas primitiewe doplose wurmagtige weekdiere beskou. Ander malakoloë beskou die aplakofore egter as ‘n parafiletiese takson waarvan die sowat 320 spesies inderwaarheid in twee klasse verdeel moet word naamlik die Klas Solenogastres of Neomeniomorpha en die Klas Caudofoveata of Chaetodermomorpha.
Die eerste aplakofoor, ‘n koudofoveaat, was in 1844 deur die Sweedse dierkundige Sven Ludvig Lovén beskryf, maar was deur hom as ’n lid van die filum Echinodermata geklassifiseer. Aplakofore was eers in 1875 as weekdiere geïdentifiseer. Aplakofore se uitwendige anatomie lyk nie soos ander weekdiere s’n nie, maar hul interne anatomie en embriologie dui aan dat hulle wél weekdiere is.
Daar is verskeie kenmerke wat die twee groepe in gemeen het en wat hulle van ander weekdiere laat verskil:
- Hulle het nie doppe het nie,
- Die kitienryke vel is met kalkagtige stekels bedek,
- Tydens larwale ontwikkeling vorm die wurmagtige liggaam deurdat die mantelholte opkrul sodat die koaak, wat agter op die liggaam voorkom, al is wat daarvan oorbly,
- Die kop is rudimentêr en het geen oë of tentakels nie.
- Eenvoudige, reguit dermkanaal.
- Hulle het ook nie die tipiese voet wat mens in buikpotiges, Monoplacophora en Polyplacophora aantref nie, dit is afwesig in die Caudovoveata en baie verklein in die Solenogastres.
- Besit geen nefridiums nie.
- Sintuie agter bo-op liggaam.
- Series-gerangskikte spiere.
Die buisvormige pseudoseloom van die aplakofore is in gonades, die perikardium en gonodukte verdeel, maar nefridiums ontbreek in beide die solenogasters en koudofoveate. Die groot perikardium, waarbinne die hart geleë is, kom in die agterste deel van die liggaam voor en die gonodukte open daarin. Die bloed sirkuleer deur die liggaam via die oop bloedvatstelsel. Die bloedpigment hemosianien kom in verskeie koudofoveaatspesies voor maar is afwesig in die solenogasters.
Die voortplantingstelsel is baie soortgelyk in beide die solenogasters en koudofoveate, maar verskil van ander weekdiere in dié dat die gonades in die voorste deel van die perikardiale holte deur middel van ‘n paar gonodukte open. Die gamete verlaat die perikardium weer deur middel van U-vormige gametodukte wat in die mantelholte open.
In die afwesigheid van nefridiums, skei aplakofore metaboliese afvalstowwe deur die epidermis uit.
Die senuweestelsel van beide groepe is volgens ‘n tetraneurale plan soortgelyk aan dié van die Monoplacophora en Polyplacophora s’n gerangskik: daar is gepaarde serebrale ganglionsa waarvandaan daar vier hoofsenuwees na agter deur die liggaam loop – gepaarde ventrale (onderste) en laterale (sy) senuwees. Hierdie senuwees is met senuwees, wat dwarsverbindings vorm, verbind wat dit soos lere laat lyk.Dit was moeilik om die taksonomiese posisie van hierdie vreemde weekdiere te bepaal en hulle was dus oorspronklik as seekomkommers in die Filum Echinodermata geklassifiseer weens hul liggaamsvorm en die stekels op die huid. Hulle posisie binne die weekdiere word bepaal deurdat hulle ‘n radula het wat baie kenmerkend en uniek aan die weekdiere is, en dat hullle sekere kenmerke van die komplekse spysverteringstelsel met ander weekdiere in gemeen het.
Daar heers ook ‘n hele debat rondom die skynbaar primitiewe liggaamsbou van die aplakofore wat dan tot die gevolgtrekking gelei het dat hulle voorouerlik aan die res van die weekdiere moet wees. Genetiese navorsing dui egter dat aplakofore ‘n sustersgroep van die kewerslakke is en nie voorouerlik aan die kewerslakke nie. Die ontdekking van die fossiel Kulindroplax in 2012, het hierdie hipotese nog verder ondersteun aangesien Kulindroplax duidelik ‘n lid van die aplakofore is, maar met kewerslak-tipe dekplate. Dit dui daarop dat die aplakofore vanuit ‘n morfologies meer komplekse kewerslak-tipe voorouer ontstaan het (net soos die doplose slakke vanuit slakke met doppe ontstaan het).
Klas Solenogastres of Neomeniomorpha
Hierdie groep, wat algemeen die solenogasters genoem word (die letterorde van die laaste drie letters verskil tussen die wetenskaplike naam en die algemene naam en is nie ‘n spelfout nie), is klein (meeste is ongeveer 5 mm lank, maar kan van minder as ‘n millieter tot 300 mm in lengte wissel), wurmagtige, doplose weekdiere wat meestal in koraalriwwe voorkom en op die kontinentale bank gevind word, maar wat ook tot op die seebodem en by hidrotermale bronne op die seevloer gevind kan word. Daar is ongeveer 190 bekende solenogasterspesies wat benoem en bestudeer is, maar daar is nog baie wat benoem moet word.
Die vel is bedek met kalkryke stekels of skleriete wat vir voortbeweging gebruik word. Die skleriete wat solied of hol is, kom plat teen die vel in sekere spesies voor, kan regop soos borsels staan of kan binne die vel, reghoekig teenoor mekaar gerangskik wees om ‘n tipe skelet te vorm.
Solenogasters het ‘n smal voet maar sonder die spiere soos wat in ander weekdiere voorkom. Solenogasters het ook geen uitskeidingskliere of geslagsbuise nie. Ware stenidia of kiewe is ook afwesig maar in die plek daarvan kom gesilieërde voue of papillas op die respiratoriese oppervlakte op die dak van die mantelholte voor.
Solenogasters se senuweestelsel, is soos dié van platwurms, leergewys gerangskik.

Die meerderheid solenogasterspesies het ‘n radula, terwyl dit in 20% spesies verdwyn het. ‘n Unieke tassintuig, naamlik die vestibulum, kom bo die mond voor. Die ingewikkelde spysverteringskliere van elke spesie is uniek en word vir taksonomie gebruik. Solenogasters is karnivories en jag meestal stekelhuidiges (filum Cnidaria) en kamkwalle (filum Ctenophora) en sal soms gesegmenteerde wurms (filum Annelida) jag. Hulle voed deur om hul prooi se liggaamsvloeistowwe uit te suig of hulle te eet. Hulle gebruik egter nie hulle radula, soos ander weekdiere, om hulle prooi te rasper nie.
Solenogasters is tweeslagtig of hermafrodities. Bevrugting is inwendig. Trogofoor larwes gee later oorsprong aan perikalimma larwes.
Klas Caudofoveata of Chaetodermomorpha
Koudofoveate is (0.5 – 140 mm) doplose wurmagtige weekdiere. Daar is ongeveer 130 spesies wat beskryf en benoem is maar daar is nog baie wat bestudeer en benaam moet word. Instede van ‘n voet, besit koudofoveate skubbe en kalkryke stekels wat skeriete genoem word, vir hulle vir voortbeweging aanwend.
Die koudofoveate verskil verder van die solenogasters in dat hul liggaam in drie dele verdeel is, hulle ‘n sensoriese mondskild, twee stenidia of kiewe en ‘n maag besit.

Koudofoveate grawe met behulp van hul mondskild in die boonste 2-3 cm van sagte sediment op die seebodem in waar hulle hul liggame vertikaal plaas sodat die mond op die oppervlakte uitsteek om foraminifera en organiese detritus, wat verbyspoel, in hulle kake vang en met behulp van hulle radula vreet. Hulle kan tot op dieptes van 30 – 9000 m onder seespieël op die seebodem voorkom (Lobo da Cunha, 2019).
Geslagtelike voortplanting tussen mannetjies en wyfies vind plaas deur middel van die vrylating van sperms en eierselle wat uitwendig bevrug word. Trogofoorlarwes kom voor.
