Klas Scaphopoda – die Tandskulpe

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Klas Scaphopoda – die Tandskulpe

January 3, 2024 Weekdiere 0

Die tandskulpe is ‘n unieke groep weekdiere waarin elemente van die buikpotige skulp, tweekleppiges se ontwikkeling en koppotige-tipe anatomie voorkom.  Die eerste lede van hierdie groep verskyn in die Devoon Periode waarna die groep algaande gediversifiseer en vermeerder het.  Daar is ongeveer 350 spesies wat in alle oseane vanaf die intergetysone tot op dieptes van meer as 7000 m voorkom.

Tandskulpe is bodembewonende organismes wat op foraminifere en ander ongewerweldes in die modder voed.  Die kop- en voetgedeeltes van die liggaam is in die modder begrawe, terwyl die agterste deel van die skulp uitsteek.

Die tandskulpe het ‘n buisvormige skulp wat die grootste deel van die liggaam bedek, sodat net die voet en kop met kaptakulas onder uitsteek.  Die skulp, wat meestal effens geboë is, lyk soos ‘n miniatuur-olifanttandjie, maar wat aan beide kante oop is.  Die mikrostruktuur van die skulp, wat uit prismatiese en kruislamellêre kalsietkristalle bestaan, is soortgelyk as die mikrostruktuur van tweekleppiges se skulpe.

Die kop en voet steek by die onderste opening van die skulp uit.  Die kop bevat kaptakulas wat miniatuur tentakeltjies is waarmee hulle hul prooi vang.  Die voet is kenmerkend en verskil tussen spesies en word as kenmerk in klassifikasie gebruik.  Die tandskulp gebruik die gespierde voet om in die modder in te grawe en die tandskulp daar vas te anker.  Die voet word ook gebruik om ‘n voedingsholte onder die mond in die modder te grawe waar die dier met die kaptakulas in die water in die holte kan rondvroetel om kos te versamel.

Tandskulpe besit verskeie unieke kenmerke wat ‘n langwerpige liggaam en die agtermekaar gerangskikte organe in die nou ruimte van die skulp insluit.  Water word deur die beweging van trilhaartjies in die wand van die mantelholte deur die boonste mantelholte-opening ingesuig en uitgepomp.  Daar is geen hart of kiewe nie.

Tandskulpe het ‘n U-vormige spysverteringskanaal met die maag en verteringsklier wat nie teen mekaar lê nie, maar wat met ‘n verteringsklierbuis met mekaar verbind is.  Die anus open in die mantelholte waar die mis met die waterstroom, wat deur die mantelholte uitvloei, uitgeskei word.

Die geslagte kom apart voor en die volwasse wyfies is groter as die mannetjies.  Die sperms of eiers word van die gonade (ovarium of testis) deur die geslagsbuis verby die nefridium vervoer.  Die eiers of sperms word saam met metaboliese afvalstowwe van die nefridium deur die gonopoor in die mantelholte uitgeskei van waar dit ook met die waterstroom deur die mantelholte na buite vervoer word.

Die ontwikkeling van tandskulpe sluit ‘n trogofoorlarwe in, maar nie ‘n veligerlarwe nie en die volwassene ontwikkel uit die trogofoorlarwe.

Tandskulpe het benewens hul unieke kenmerke, verskeie kenmerke in gemeen met verskillende weekdierklasse wat die klassifikasie van die tandskulpe bemoeilik.  Die mikrostruktuur van hul skulpe kom met dié van die tweekleppiges ooreen, maar anders as die tweekleppiges, het tandskulpe radulas.  Die spysverteringstelsel van die tandskulpe is U-vormig, soos dié van die koppotiges en buikpotiges en nie liniêr soos in die monoplakofore, kewerslakke en aplakofore se s’n nie.

error: Content is protected !!