Klas Bivalvia – die Tweekleppiges
Die tweekleppiges het in die vorige eeue as die Lamellibranchiata of die Pelycopoda bekend gestaan. Daar is ongeveer 15 000 spesies wat wêreldwyd hoofsaaklik in seewater maar ook in varswater kan voorkom. Die tweekleppiges sluit mossels, oesters, kamoesters, kokkels en talle ander tweekleppige families in. Tweekleppiges verskyn vir die eerste keer in die Kambriese Periode ongeveer 500 miljoen jaar gelede. Die grootste ekstante tweekleppige families is die Tellinidae, Lucinidae, Veneridae en Unionidae. Die grootte van hierdie diere verskil geweldig en daar is tweekleppiges soos Condylonucula maya, wie se skulpies 0.52 mm in lengte is, terwyl ander soos die reuse-oester Tridacna gigas (in Nederlands: Doopfontschelp) se skulpe tot meer as 1.2 meter lank kan wees en die dier tot 200 kg kan weeg. Daar is egter ‘n oertweekleppige Platyceramus wat skulpe van tot 3 m lank gehad het.

Die tweekleppiges is ‘n baie suksesvulle groep weekdiere wat wêreldwyd in akwatiese habitatte aangetref word. Alhoewel sommige in varswaterhabitatte leef, het geen tweekleppige soos slakke die vermoë ontwikkel om lug te asem en op land te leef nie. Meeste leef binne die sediment op die seebodem of die bodem van riviere, mere of moerasse. Sommige leef permanent vasgeheg aan rotse, terwyl ander stadig op die seebodem rondbeweeg. Groot getalle en verskeidenheid van tweekleppiges leef in die intergetysone en onder die laagwatermerk. Selfs op strande wat andersins leeg en leweloos lyk, mag daar honderde duisende tweekleppiges in 1 000 vierkante meter onder die sand in die intergetysone in sekere gebiede voorkom. Tweekleppiges kom in die trope, gematigde streke en poolstreke – selfs onder die ysplate by die pole – voor. Hulle kom langs hidrotermiese bronne op die seevloer en selfs in die diepste seetrôe voor. Daar is ook tweekleppiges vanaf riviermondings, riviere, mere, tot in moerasse. Die saaloester Enigmonia aenigmatica leef bo die hooggetymerk onder manglietblare op eilande in Suidoos Asië.
Klassifikasie
Die klassifikasie van die tweekleppiges het deur die eeue kenners hoofbrekens besorg. Daar is met verskeie klassifikasies vorendag gekom, maar uiteindelik, veral met die hulp van genetiese studies, is daar op ‘n klassifikasie met vier subklasse ooreengekom (Carter et al., 2011).
Klas Bivalvia
Subklas Protobranchia bevat die mees primitiewe ekstante tweekleppiges soos die baie klein seemossels van die ordes Nuculanida, Nuculida en Solemyida.wat eenvoudige kiewe besit. Sekere lede van hierdie klas vang kos met tentakeltjies.
Subklas Heteroconchia bevat talle uitgestorwe ordes en families, maar van die ordes wat nog bestaan is kokkels (orde Carditada), gieterskulpe (orde Pholadomyida), skeepswurms en swaannekmossels (orde Myida), chemosintetiese mossels (orde Lucinida), venusmossels (orde Venerida).
Subklas Palaeoheterodonta bevat talle uitgestorwe ordes en families, maar die twee ordes wat nog bestaan is die varswatermossels (orde Unionida) en seemossels van die orde Trigoniida.
Subklas Pteriomorphia bevat die arkskulpe (orde Arcida), ware oesters (orde Ostreida), kamoesters (orde Pectinida), vylskulpe (orde Limida), mossels (orde Mytilida) en pêreloesters (orde Pteriida).

In sekere gespesialiseerde spesies soos die skeepswurms is die skulpe as klein grawende organe omskep, terwyl die liggaam soos dié van ‘n wurm lyk. Die meer tipiese tweekleppiges se afgeplatte liggaam, kom tussen die twee skulpe voor.
Meeste tweekleppiges begrawe hulself in die sand of modder op die seebodem of heg hulself aan rotse, na ‘n vrylewende larwale stadium vas, en is dus sessiel. Die permanent sessiele spesies het nie voete nie, maar word aan die rots of ander oppervlakte met behulp van bissusdrade wat deur die bissusklier afgeskei word vasgeheg. Hierdie drade waarmee sommige spesies hulself in die sand vasanker was vir duisende jare geoes om ‘n baie skaars en duur sy van te maak en sodoende was sekere spesies amper uitgewis.
Daar is egter sekere tweekleppiges soos die kokkels en kamoesters wat vrylewend bly en stadig op die seevloer rondbeweeg of varswateroesters wat met hul voet oor die modder of alge rondkruip.

Benewens die beskermingsaspek, word tweekleppiges se skulpe ook gebruik om te voed en om van afvalstowwe ontslae te raak. Die twee skulpe word aan die een kant aan mekaar met behulp van ‘n beweeglike ligament vasgeheg. Die ligament, saam met tandagtige uitsteeksels op elkeen van die twee skulprande, wat inmekaar pas, werk saam om ‘n sterk skarnier te vorm wat die kleppe toelaat om oop en toe te gaan, maar nie sywaartse beweging toelaat nie. In meeste tweekleppiges is die skulpe spieëlbeelde van mekaar.
Die twee skulpe word deur twee sterk sluitspiere – die voorste en agterste sluitspiere – aanmekaar gekoppel. Dit is hierdie spiere wat die twee skulpe dig sluit om die weekdier teen roofdiere te beskerm. Wanneer die sluitspiere ontspan trek die ligament die twee skulpe oop. Dit gebeur wanneer die dier voed, suurstofryke water vir gaswisselingdoeleindes inneem, eiers of sperms vrystel of afvalstowwe uitskei.
Die mantel is net soos dié van meeste ander weekdiere ‘n dun membraan wat die liggaam bedek en in lobbe daarvandaan uitstulp. Hierdie mantellobbe skei die lagies kalsiumkarbonaat en aragoniet af waaruit die skulp opgebou word. Die mantel vorm in sommige tweekleppiges twee lang buise of sifons. Die sifon waardeur water ingeneem word, word die inlaatsifon genoem terwyl die een wat die water uitspuit die uitlaatsifon genoem word. Wanneer die skulpe sluit word die sifons in die palliaalsinus ingetrek.
Tweekleppiges word ook van ander weekdiere onderskei deurdat verskeie ander organe, wat tipies in ander weekdiere voorkom, ontbreek. Tweekleppiges besit nie ‘n kop nie en meeste het nie ‘n radula of odontofoor (die struktuur wat die radula ondersteun) nie.

Die meerderheid tweekleppiges is filtervoeders. Tweekleppiges is bilateraal simmetries en besit afgeplatte liggame. Sommige spesies, veral die vrylewendes, het ‘n lemvormige voet waarmee hulle in die sand of modder ingrawe om so die dier in die substraat gedeeltelik te begrawe en sodoende die dier vas te anker en teen roofdiere te beskerm. Sommige tweekleppiges gebruik die voet om oor die substraat te kruip, terwyl ander, soos die hartmossels, die voet gebruik om mee te spring.
In oesters en kamoesters, wat op een sy lê, het die voorste sluitspier verdwyn, terwyl die agterste sluitsspier na die middel van die liggaam oorgeskuif het. Die spesies wat swem deur om hul skulpe oop en toe te klap het ook net een middelste sluitspier.
Die Kambriese Ontploffing, waartydens al die groot dierfilums in die fossielrekord verskyn het (en mense dus verkeerd aflei dat hulle presies toe moes ontstaan het en nie vroeër nie), het tussen 540 en 520 miljoen jaar gelede plaasgevind. In hierdie tydperk verskyn fossiele van die eerste tweekleppiges en lede van die filum Brachiopoda, wat baie soortgelyk lyk, maar onverwant aan die filum Mollusca is, in die fossielrekord.

Daar was ‘n groot toename en diversifisering van tweekleppiges in die Vroeë Ordovisium Periode en die ontstaan van die spesifieke tandtipes wat vir klassifikasie van tweekleppiges gebruik word. Teen die Vroeë Siluur Periode het die kiewe reeds vir filtervoeding aangepas en gedurende die Devoon en Karboon Periodes verskyn die sifons, wat saam met die nuutgevormde spiervoet die tweekleppiges in staat gestel het om hulself in die sediment op die bodem van die see in te grawe.
Teen die Paleosoïese Tydperk, rondom 400 miljoen jaar gelede, was die tweekleppiges van die volopste filtervoeders in die oseane soos wat die 12 000 fossielspesies van daardie tydperk getuig. Teen die Perm-Trias uitwissingsgebeurtenis 250 miljoen jaar gelede, was die tweekleppiges besig om grootskaals te diversifiseer. Die uitwissingsgebeurtenis het hulle getalle erg teruggesnoei, maar hulle het dit oorleef en hulself hervestig en gedurende die Trias Periode gedy waarteenoor die bragiopode 95% van hul spesies tydens die uitwissingsgebeurtenis verloor het.

Van die evolusionêre aanpassings wat in die guns van tweekleppiges getel het was hulle vermoë om hulself in die sediment op die seevloer te begrawe en sodoende roofdiere te vermy, dat van hulle stekels op die dop ontwikkel het en sodoende in sagte sedimente kon dryf, ander het die vermoë ontwikkel om te swem, terwyl ander roofdiere en parasiete geword het.
Spysverteringstelsel en voeding
Meeste tweekleppiges is filtervoeders wat hul kiewe gebruik om kos uit die water te sif. Die primitiewe ekstante weekdiere, die protobrange, skraap detritus van die seevloer af en die vermoede bestaan dat die oertweekleppiges oorspronklik so gevoed het voor die kiewe vir filtervoeding aangepas is.
In filtervoedende tweekleppiges word water deur die inlaatsifon in die onderste deel van die liggaam ingeneem en oor die kiewe gespoel. Die water spoel deur die kiewe, wat suurstof uit die water opneem en koolsuurgas in die water, wat deur die kiefsplete spoel, afgee. Die water spoel dan deur die uitlaatsifon na buite.
Die kiewe het hoogs gespesialiseerd in die tweekleppiges geword omdat dit vir filtervoeding aangepas is. Kosdeeltjies – gewoonlik mikroalge – in die water word in die slym wat die kiewe bedek, vasgevang. Die trilhaartjies of silia op die kiewe, wat oorspronklik gebruik is om van die sediment op die kiewe ontslae te raak, is nou aangepas om die kosryke slym wat die kiewe bedek, na die mond te vervoer. Die kieffilamente van filtervoedende tweekleppiges is heelwat langer as dié van primitiewe tweekleppiges en is opgevou om ‘n groef te vorm waardeur die kosgevulde slym vervoer kan word. Die bou van die kiewe verskil van familie tot familie en word dus in die klassifikasie van die tweekleppiges gebruik.
Die labiale palpe bestaan uit verskeie blaaie en word deur epiteel met trilhare en slym-afskeidende selle bedek. In filtervoedende tweekleppiges beweeg die labiale palpe die deeltjies wat deur die kiewe uitgesif is en wat geëet moet word, na die mond toe en werp die ongewenste deeltjies uit. Die sedimentvoedende tweekleppiges soek met hul labiale palpe vir kos in die sediment terwyl die kiewe slegs vir respirasie gebruik word.
‘n Handjievol tweekleppiges is karnivories. Poromya granulata byvoorbeeld, vang klein diertjies met sy mantelvormige inlaatsifon wat hy vinnig na binne trek en omdop, wat die prooi tot by sy mond bring om geëet te word.
Die klein tweekleppige Entovalva leef as ‘n endosimbiont binne seekomkommers se slukderm. Wanneer seekomkommers sediment insuig om op organiese materiaal te voed, suig hulle soms niksvermoedend ‘n Entovalva-individu op wat dan vir die res van sy lewe binne die voorste deel van die seekomkommer se spysverteringskanaal leef. Entovalva voed dan uit die water wat verby sy kiewe stroom wanneer die seekomkommer water insluk. Entovalva heg homself met kollageendrade, wat byssusdrade genoem word, binne die seekomkommer se keel vas, sodat hy nie uitspoel nie. Dit doen geen skade aan die seekomkommer nie.
Die spysverteringstelsel van tipiese tweekleppiges bestaan uit ‘n mond, slukderm, maag, derm, rektum en anus, maar omdat hulle nie koppe het nie, ontbreek die radula en speekselkliere wat in ander weekdiergroepe voorkom. Van die mond beweeg die kosdeeltjies, gemeng met slym, na die maag deur die beweging van trilhaartjies in die slukderm.
Tweekleppiges se mae is komplekse organe en wissel van groep na groep afhangende van hul voedingswyses. Daar is gewoonlik ‘n sorteerarea, maagskild en stilussak met ‘n stilus en die verskille in die grootte, teenwoordigheid en oriëntasie hiervan, stel mens in staat om vyf hoof-maagtipes in die tweekleppiges te identifiseer.
Die stilussak van suspensie-voeders huisves ‘n slymagtige protostilus, terwyl die suspensie-voeders ‘n soliede kristallyne stilus besit. Die beweging van die trilhaartjies in die stilussak laat die stilus in die rondte draai wat die string slym met voedseldeeltjies vanuit die slukderm na die sorteerarea. Die slymbedekte stilus skuur en druk teen die maagskild wat die kosdeeltjies verder opbreek.
Die sorteerarea besit verskeie riwwe met trilhare. Tydens sortering word die fynste deeltjies na die lewerbuisies gestuur terwyl die groter dele na die derm gestuur word. Ensieme word ook in die sorteerarea afgeskei.
Die aanhoudende beweging van die stilus en trilhaartjies veroorsaak dat daar sortering van die kosdeeltjies agter in die maag plaasvind. Die fynste kosdeeltjies word na die lewerbuisies gestuur terwyl die groter deeltjies na die derm gestuur word.
Afvalmateriaal versamel in die rektum waar dit in miskorrels gekonsolideer word en deur die anus in die uitskeidingsifon uitgeskei word en van daar saam met oortollige water na buite uitgeskei word. Voeding en vertering is met dag/nag siklusse en getye gesinkroniseer.
Die verteringsklier van tweekleppiges, het net soos dié van buikpotiges talle blind-eindigende buisies of divertikulums in die linker verteringsklier of lewer. Die verteringselle wat hierdie buisies uitvoer is langwerpig en het talle lisosome, mikrovilli en sommige het trilhaartjies. Slymafskeidende selle kom ook hier voor. Die kosdeeltjies beweeg deur die lewerbuisies in die divertikulums in waar dit deur die membrane van die verteringselle in endositiese vesikels opgeneem word. Die endositiese vesikels beweeg deur die sel en smelt met lisosome saams om intrasellulêr verteer te word. Onverteerde deeltjies word in die lumen van die divertikulums deur die verteringselle uitgeskei waarvandaan dit deur die lewerbuisies in die maag uitgeskei word om saam met die ander groot deeltjies na die derm gestuur word.

Uitskeidingstelsel
Die uitskeidingsorgane van tweekleppiges bestaan uit ‘n paar nefridiums of primitiewe niere. Elkeen van die nefridiums bestaan uit ‘n lang klierryke buis wat in die perikardium (die ruimte rondom die hart) en ‘n blaas open waarin uriene gestoor word. Hulle besit ook perikardiale kliere binne die aurikels van die hart of wat aan die perikardium geheg is en wat as bykomende filtrasieorgane dien. Metaboliese afvalstowwe word van die blaas deur ‘n nierbuis in die voorste deel van die mantelholte vervoer van waar dit uitgeskei word.
Bloedvatstelsel
Tweekleppiges het soos ander weekdiere ‘n oop bloedvatstel wat die organe in bloed baai. Die hart besit drie kamers – twee aurikels wat bloed van die twee kiewe ontvang en ‘n enkele ventrikel. Die gespierde ventrikel pomp die hemolimf deur die aorta deur artikulêre sinusse na die res van die liggaam. Sommige tweekleppiges het ‘n enkele aorta, maar meeste het ‘n tweede kleiner aorta wat hemolimf na die agterste dele van die liggaam vervoer. Met die uitsondering van die lede van die karnivoriese genus Poromya wat hemolimf met amebosiete met hemoglobien besit en dus rooi hemolimf het, het die hemolimf van die res van die tweekleppiges nie ‘n respiratoriese pigment nie.
Gaswisseling
‘n Paar kiewe of stenidia kom agter in die liggaam voor. Die kiewe bestaan uit hol buisagtige filamente met dun wande vir gaswisseling. Weens die sessiele lewenswyses van tweekleppiges is hul respiratoriese behoeftes laer as dié van ander weekdiere. Sommige varswaterspesies sal hul skulpe effens oopmaak wanneer hulle aan lug blootgestel word om sodoende hul kiewe aan suurstof in die lug bloot te stel.
Senuweestelsel
Tweekleppiges hoef nie hul prooi te jag of vir alge te gaan soek om te vreet nie, maar het saam met hul filtervoedende lewenswyse sessiel geword. Hierdie sessiele lewenswyse gaan ook deur die verlies van die kop en ‘n komplekse brein en eenvoudiger sintuie as dié wat in ander weekdiere voorkom, gepaard. Die senuweestelsel van tweekleppiges bestaan uit ‘n senuweenetwerk en gepaarde ganglions of ganglionsons. In al die tweekleppiges, buiten die heel primitiewes, kom daar serebropleurale ganglions weerskante van die slukderm voor. Die serebrale ganglions beheer die sintuie, terwyl daar senuwees van die pleurale ganglions na die mantelholte toe gaan. Die pedale of voetganglions beheer die senuweevoorsiening van die voet. Die viserale ganglions, wat nogals groot in swemmende tweekleppiges is, is onder die agterste sluitspier geleë en is met senuwees aan die serebropleurale ganglions verbind. Tweekleppiges met besondere lang sifons het ook sifon-ganglions om die gevoel en beweging daarvan te beheer.
Sintuie
Die tweekleppige se sintuie is hoofsaaklik op die agterste mantelrand gesetel. Hierdie sintuie is hoofsaaklik beperk tot meganoreseptore en chemoreseptore wat in sommige gevalle op kort tentakels voorkom.
Die osfradium, wat die water chemies toets en die troebelheid daarvan waarneem, bestaan uit ‘n kol van sensoriese selle wat onder die agterste saamtrek- of sluitspier geleë is. Tweekleppiges besit ook statosiste wat die Aarde se aantrekkingskrag waarneem waarmee hulle hul liggaamsoriëntasie kan bepaal.
Die inlaatsifon van tweekleppiges van die orde Anomalodesmata is omring deur vibrasiesensitiewe tentakels waarmee hulle prooi kan waarneem.
Meeste tweekleppiges het nie oë nie, maar dié wat het, soos ‘n handjievol spesies van die ordes Arcoidea, Limopsoidea, Mytiloidea, Anomioidea, Ostreoidea en Limoidea het eenvoudige oë wat al om die mantelrand gerangskik is. Hierdie oë bestaan uit ‘n koppie van ligsensitiewe selle en ‘n lens. Kamoesters het die mees komplekse oë met ‘n lens, ‘n dubbel-laag retina en konkawe spieël. Alle tweekleppiges besit egter ligsensitiewe selle in die mantel wat tussen lig en donker kan onderskei en dus die skaduwee van ‘n dier, wat op die tweekleppige val, sal kan waarneem.

Voortplantingstelsels en voortplanting
Meeste tweekleppiges is eenslagtig en kom as mannetjies of wyfies voor, maar tweeslagtige of hermafroditiese spesies kom ook voor. Selfbevrugting kom selde voor, want die eiers en spermselle word meestal nie terselfdertyd ryp of vrygestel nie. Die gonades (testis of ovaria) open in die nefridiums of in ‘n ruimte bo die kiewe. By verre meeste tweekleppiges stel sperms en eiers buite die liggaam vry en dus vind uitwendige bevrugting plaas. ‘n Trogofoorlarwe kom uit die eier en ontwikkel mettertyd in ‘n veligerlarwe wat na die seebodem afsak en waar dit tot ‘n volwasse individu ontwikkel.
Voortplanting vind anders in varswatermossels plaas. Die wyfie suig ‘n mannetjie se sperms deur haar inlaatsifon in en bevrugting van haar eiers vind inwendig plaas. Die eiers wat sy vrystel broei as glogidia larwes uit. Die vryswemmende glogidium heg vir ‘n tydperk aan visse se kiewe vas. Wanneer hulle verder ontwikkel verlaat hulle die visse en sak na die rivierbodem af waar hulle tot volwasse individue ontwikkel. Meeste tweekleppiges se larwes voed op diatome en ander fitoplankton in die water.

Die varswatermosselfamilie Unionidae het ‘n ongewone voortplantingstrategie ontwikkel. Die wyfie se mantel, wat soos ‘n klein vissie lyk en wat selfs met strepies en oogvlekke toegerus is, peul tussen haar skulpe uit. Hierdie lokaas beweeg saam met die beweging van die water en trek die aandag van regte visse. Sommige visse sien hierdie lokaas as moontlike prooi, terwyl ander dit as dieselfde spesie erken en daarna gelok word. Wanneer hierdie vis na die lokaas toe swem, stel die mossel reuse getalle parasitiese larwes bo-oor die niksvermoedende vis vry wat die slymvliese van die vis se mond en farinks en kiewe binnedring en wat veroorsaak dat blasies rondom die parasiete vorm. Die parasiet sal dan van die vis se weefsel in die blasie vreet tot dit uiteindelik groot genoeg is, uitbreek en op die rivierbodem val om verder as tweekleppiges te ontwikkel.
Ekologiese belang van tweekleppiges
Tweekleppiges is hoofsaaklik herbivories en meeste spesies voed op mikroalge. In ruil word hulle deur ‘n groot verskeidenheid roofdiere gevreet. Hul mis word ook as voedsel deur ‘n verskeidenheid mikro-organismes benut.
Omdat tweekleppiges filtervoeders is, is hulle kwesbaar vir besoedeling en sal metale en gifstowwe versamel wat na roofdiere oorgedra word (Al-Madfa et al., 1998). Dieselfde gebeur met gifstowwe wat hulle van rooigety-dinoflagellate verkry. Talle mense het al van die eet van vergiftigde tweekleppiges gesterf.

Tweekleppiges met ‘n grawende lewenswyse vermy roofdiere deur om in die sand of modder op die seebodem of rivierbodem weg te kruip. Skeermes-oesters wat normaalweg op die seevloer leef, kan hulself binne 7 sekondes in die sand begrawe om van roofdiere te ontsnap. Kokkels en kamoesters wat op die seevloer leef sal probeer om van seesterre, wat hulle jag,te ontsnap – dan sal hulle in skielike rukbewegings hul skulpe oop en toe klap en so van die seester wegswem of oor die seevloer wegskarrel. Kokkels en hartskulpe kan die voet gebruik om van gevaar weg te spring. Tweekleppiges met sifons sal die sifons tot tussen die skulpe terugtrek wanneer hulle bedreig word. In sommige gevalle kan ‘n roofdier ‘n sifon beetkry wat veroorsaak dat die sifon afbreek, wat daarna weer teruggroei.
Menslike gebruik van tweekleppiges
Tweekleppiges is sekerlik benewens die buikpotiges, die weekdiere wat die meeste deur mense benut word. Oesters, mossels en kokkels word wêreldwyd geëet en selfs, van die Romeinse tyd, geteel om te eet. Tweekleppiges, en veral mossels, was vanaf die oertyd deur mense van die Stilbaaikultuur 120 000 jaar gelede geëet en mens kan nog die skulpe in hul kombuis-afval op plekke soos Blombos, Klasiesrivier en Stilbaai sien.
Die pêrelindustrie is op tweekleppiges, en spesifiek die pêreloester, maar ook varswateroesters gebou. Seesy was ‘n gesogte item duisende tot honderde jare gelede – dit was van die bissale drade van tweekleppiges – spesifiek die penskulp (Pinna nobilis) gemaak. Weens oorgebruik van hierdie skaars bron het dit die bevolkings van seepenne erg benadeel.
Fyngemaalde oester en kokkelskulpe word as voedselaanvulling, hoofsaaklik danksy die kalk in die skulpe, vir eierlëende hoenders gebruik.
Skeepswurms
Van die vreemdste tweekleppiges is die skeepswurms. Hierdie weekdiere boor hulself in hout in met behulp van hul skulpe, wat in klein halfmaan-vormige beitelagtige strukture verander het. Die liggame van hierdie skeepswurms is inderdaad, soos die naam aandui lank en wurmagtig en word nie deur die dop bedek nie. Die skeepswurms gebruik die organiese verbindings wat die simbiotiese bakterieë in hul kiewe uit waterstofsulfied vervaardig. Die ensieme wat die bakterieë vervaardig word deur die skeepswurm gebruik om die houtweefsel in sy spysverteringskanaal te verteer (Altamia et al., 2020). Skeepswurms voed ook op plankton wat hulle deur hul inlaatsifon saam met water insuig en met hul kiewe uitfiltreer. Skeepswurms veroorsaak erge skade aan houtskepe en kaaie. Sekere spesies bly in en voed op sandsteen (Shipway et al. 2019).

Skeepswurms grawe hulself in hout wat in die water beland het in. Sommige spesies boor selfs in sandsteen in terwyl ander in sand bly. Talle spesies skei ‘n kalkryke buis om hul liggame af waarbinne hulle bly. Gewoonlik is slegs die sifons van die skeepswurms, wat deur ‘n gat in die hout, sand of klip steek, sigbaar. Die inlaatsifon van die skeepswurm word gebruik om water op te suig, terwyl die uitlaatsifon gebruik word om water, feses, sperms en larwes uit te spuit.
In talle spesies kom kalkryke palette, wat in Bankia soos ‘n trossie stekeltjies op steeltjies lyk, tussen die sifons voor. Die vorm van die palette wissel egter van spesie tot spesie. Die palette word gebruik om die tonnel waardeur die sifons steek toe te stop wanneer die sifons teruggetrek word wanneer die skeepswurm gesteur word of die stuk hout, sagte klip of sand waarbinne hulle leef aan die lug blootgestel word.

Volwasse skeepswurms is tweeslagtig of te wel hermafrodities as volwassenes. Skeepswurmlarwes is almal manlik om mee te begin, maar ontwikkel vroulike geslagsorgane soos wat dit ouer word. Sekere skeepswurmindividue kan gereeld van geslagte verwissel, terwyl ander hermafrodiete deur die res van hulle lewe bly. Skynkoppeling vind plaas wanneer een skeepswurm sperms met behulp van sy uitlaatsifon in ‘n ander se inlaatsifon oordra waarna dit met die stroom water in die liggaam ingesuig word en die skenker se sperms die ontvanger se eiers inwendig bevrug. Naburige skeepswurms sal selfs met behulp van hulle uitlaatsifons veg om toegang tot ‘n ontvanger se inlaatsifon te verkry (Shipway et al., 2020).
