Gondwanaland

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Gondwanaland

March 2, 2020 Gondwanaland 0

Gondwanaland was die suidelike superkontinent wat tussen 550 en 180 miljoen jaar gelede bestaan het.  Dit was aan die noordelike superkontinent Laurasië gekoppel.  Die twee superkontinente saam staan as Pangea bekend.  Gondwanaland het ongeveer 200 miljoen jaar gelede begin opbreek en die kontinente Afrika, Suid-Amerika, Australië, Antarktika en Indië en die eilande Madagaskar en die Falklands was so gevorm, terwyl Laurasië in Noord Amerika en Eurasië opgebreek het.

Reeds vir eeue het bioloë soos Lamarck, Du Buffon, Cuvier, Wallace en Darwin bevestig dat elke landmassa sy eie spesiesamestelling het en dat mens baie selde dieselfde spesies plante en diere op twee verskillende landmassas vind.  In gevalle waar dit wel voorkom soos in die geval van wolwe, bere en takbokke, is daar ‘n goeie verduideliking – daar is landbrue waaroor die diere kan migreer.  In die geval van wolwe, bere en takbokke is dit moontlik om oor die yslaag, wat die gaping tussen Noord Amerika en Eurasië opvul, te beweeg.

Die suidelike kontinente het geologiese lae wat uit die Perm en Trias Periodes dateer wat duisende fossiele van onder meer Glossopteris, Lystrosaurus, Mesosaurus, Cynognathus en Dicroidium zuberi bevat.  Die voorkoms van dieselfde fossiele in verskillende kontinente is ‘n aanduiding dat hierdie kontinente in die oertyd aanmekaar vasgeheg was.

Die Vlaamse kaartmaker Abraham Ortelius het reeds in 1596 in sy boek Thesaurus Geographicus opgemerk dat die ooskus van Suid-Amerika soos ‘n legkaart teen die weskus van Afrika pas.  Maar dit was die Suid-Afrikaanse fossielrekord en paleontoloë wat ‘n sleutelrol in die bevestiging van hierdie hipotese en die ontdekking van Gondwanaland gespeel het.  Paleontoloë en geoloë soos Eduard Seuss en Alfred Wegener en die Suid-Afrikaners Alex du Toit en James Kitching het vanaf die 19de tot die 20ste eeu navorsing gedoen om hierdie ingewikkelde verskynsel van die verspreiding van dieselfde fossiele in verskillende kontinente te verklaar.

 

Abraham Ortelius se wêreldkaart van 1570

Die geologiese gemeenskap was aanvanklik traag om die bestaan van superkontinente en die kontinentale drywingsteorie van Alfred Wegener te aanvaar ten spyte van die oorweldigende paleontologiese bewyse daarvoor.  Hul grootste probleem was nie die gebrek van geologiese of paleontologiese bewyse nie, maar eerder dat die meganisme wat kontinente uitmekaar sou skeur en inmekaar sou laat bots toe nog onbekend was.

Die fondasie van die revolusionêre nuwe Tektoniese Plaat-teorie was reeds in die 1960’s gelê en toe James Kitching van WITS Universiteit in 1970 van Antarktika met fossiele terugkeer, het die laaste stuk van die legkaart in plek geval.  Hierdie Antarktiese fossiele was identies aan dié van die Karoo Supergroep van Suid-Afrika.  James Kitching het klinkklare bewys ontdek dat Antarktika in die oertyd teen Afrika se ooskus vasgeheg was, terwyl ons lankal geweet het dat Suid-Amerika teen Afrika se weskus vasgeheg was.  Tydens die Tweede Gondwana Konferensie in 1970, het die geologiese gemeenskap die bestaan van Gondwanaland aanvaar.

Die eerste bewys dat Afrika, Suid-Amerika en Indië aanmekaar gekoppel was, was deur die Oostenrykse paleontoloog Eduard Suess (1831-1914) ontdek toe hy agtergekom het dat blaarfossiele van dieselfde Glossopteris spesies op hierdie kontinente voorkom.  Hy het in 1861 hierdie prehistoriese superkontinent, waarop sy Glossopteris woud voorgekom het, Gondwanaland na die mitologiese Indiese Gond-mense vernoem.  Daarna was Glossopteris fossiele ook in Australië, Madagaskar, Suid-Amerika en Antarktika ontdek.

Die Duitse geograaf, klimatoloog en astronoom Alfred Wegener (1880-1930) het opgemerk dat die voorkoms van die klein akwatiese reptiel Mesosaurus in Suid-Amerika en Suid-Afrika bewys dat hierdie twee kontinente in die Perm vasgeheg was.  Hy het voorgestel dat Gondwanaland opgebreek het en dat die twee brokstukke van mekaar weggedryf het.  Hy het sy Kontinentale Drywingsteorie op die verspreiding van fossiele soos Glossopteris en Mesosaurus gegrond. 

Lystrosaurus was een van die volopste plantvretende sinapsiede van die Trias Periode.  Hulle het langerige vaatjievormige lywe en kort bene gehad.  Hulle het ook skilpadagtige bekke gehad waarnee hulle stukke van harde plante kon afbyt.  Hulle het waarskynlik hulle twee kort boonste slagtande vir verdediging gebruik.  Alfred Wegener het ontdek dat Lystrosaurus fossiele in Suid-Afrika en Indië voorkom.  Daarna was Lystrosaurus ook in Antarktika ontdek.

Cynognathus fossiele kom in Trias-ouderdom rotse in Suid-Afrika en Suid-Amerika voor.  Hierdie hond-grootte karnivoriese sinapsiede was aan die groep waaruit soogdiere ontstaan het verwant en het al reeds meer soos soogdiere as reptiele gelyk.  Sinapsiede (die soogdieragtige reptiele) word as die evolusionêre brug tussen reptiele en soogdiere beskou.

Blaarfossiele van die saadvaring Dicroidium zuberi van die Trias Periode was in Suid-Afrika, Suid-Amerika, Indië en Australië ontdek.  Saadvarings was die dominante plantgroep op land in die Tri

as Periode na die uitsterwing van die Glossopteris flora aan die einde van die Perm Periode.

WOORDELYS

Glossopteris was ‘n genus plante wat tydens die Perm Periode die dominante landplante was.  Hulle het gewissel vanaf struike tot bome.  Daar is twee mooi ongeveer 30 m lang fossiel boomstompe wat mens kan sien – die een is voor die Transvaal Museum en die ander langs die Harrismith stadsaal.  Die NG Kerk in Senekal is ommuur met fossielboomstompe.   Dit blyk dat hierdie stompe aan Glossopteris behoort het.  Ons groot steenkoolafsettings was gevorm toe die koolstof van miljarde tonne Glossopteris blare in daardie lae behoue gebly het.  Mens kry regdeur die noordelike deel van die Karoo Supergroep fossielblare van Glossopteris.

Gondwanaland is die suidelike superkontinent wat vanaf 550 en 180 miljoen jaar bestaan het.  Dit het uit die gekombineerde landmassas wat vandag bekend staan as Afrika, Suid-Amerika, Indië, Madagaskar, Antarktika en Australië bestaan.  Gondwanaland was in die noorde, naby die ewenaar aan die noordelike superkontinent Laurasië gekoppel om tesame die superkontinent Pangea te vorm.

Karoo Supergroep is ‘n opeenvolging van hoofsaaklik sedimentêre gesteentes wat meer as die helfte van Suid-Afrika se oppervlakte bedek.

Kitching, James William (1922-2003).  Die grootste fossieljagter van alle tye.  Hy het by WITS Universiteit in die Bernard Price Instituut vir Paleontologie van sy twintigerjare tot en met sy aftrede gewerk.  Hy het sy loopbaan as tegnikus begin en dit as professor en hoof van die Bernard Price Instituut vir Paleontologie afgesluit.

Kontinentale Drywingsteorie was die eerste deur Abraham Ortelius geformuleer en later deur Alfred Wegener voortgebou op grond van die verspreiding van fossiele.  Die geologiese gemeenskap (met uitsondering van mense soos Dr Alex du Toit van die Geologiese Opname van Suid-Afrika) dit grootliks verwerp terwyl die paleontologiese gemeenskap dit grootliks aanvaar het.  Arthur Holmes het voorgestel dat konveksie van magma in die mantel die kontinentale plate laat beweeg en dit was die kern van die gedagte waarom die teorie van plaattektonika, wat vandag algemeen deur wetenskaplikes aanvaar word, gebou is.

Landmassa is enige stuk landoppervlakte soos kontinente en eilande.

Laurasië is die noordelike superkontinent wat in die Mesosoïese Tydperk bestaan het.  Dit was op sy suidpunt aan die suidelike superkontinent Gondwanaland vasgeheg.  Laurasië het saam met Gondwanaland Pangea opgemaak.  Laurasië het 215 tot175 miljoen jaar gelede opgebreek en oorsprong aan Noord Amerika en Eurasië gegee.

Mjg: Miljoen jaar gelede.

Ortelius, Abraham (oorspronklik Abraham Wortels) (1527-1598) was ‘n Flaamse kaartmaker en geograaf en het die eerste atlas van die wêreld geskep: Theatrum Orbis Terrarum (Teater van die Wêreld).  Hy was een van die stigters van die Nederlandse Skool vir Kartografie.  Hy was die eerste persoon wat geskryf het dat hy van opinie is dat die kontinente eens op ‘n tyd vas aan mekaar gekoppel was, opgebreek het en toe na hulle huidige posisies op die aardbol gedryf het.

Paleontologie is die studie van fossiele en die prosesse wat daarby betrokke is.

Pangea beteken “alle aarde” in Grieks.  Dit is die naam wat ons vir die superkontinent gee wat vanaf 335 miljoen tot 175 miljoen jaar gelede bestaan het toe al die huidige kontinente in een landmassa saamgesnoer was.

Perm Periode (251.9 – 251,9 Mjg) dit is die tydperk wat na die Karboon Ystydperk volg en wat eindig met diei uitwissing van 95% van alle plante en diere.  Dit was die grootste uitwissing ooit.  Die tipiese plante wat in die Karboon Periode op land oorheers het, word nou deur keëldraende gimnosperme (die eerste ware saadplante) en eerste ware mosse verplaas.  Brachiopode, tweekleppiges, foraminifere en ammoniete kom algemeen in die oseane voor.  Vlieë en kewers verskyn.  Parareptiele, temnospondiele en sinapsiede kom wydverspreid op die superkontinent Pangea voor.

Saadvaring (seed fern) is ‘n lid van die Pteridospermatophyta wat bestaan uit verskeie groepe plante wat sade gevorm het maar soos varings gelyk het.  Die vroegste bewyse vir saadvarings kom uit die Devoon (ongeveer 400 mjg).  Hulle het gediversifiseer en gefloreer gedurende die Karboon tot die Perm en alhoewel hulle grootliks teen die einde van die Kryt (ongeveer 65 miljoen jaar gelede) uitgesterf het, was daar nog ‘n oorblyfsel wat op die eiland van Tasmanië tot in die Eoseen (ongeveer 56 -34 miljoen jaar gelede) oorleef het.

Sinapsiede (die soogdieragtige reptiele) word as die evolusionêre brug tussen reptiele en soogdiere beskou omdat hulle beide soogdier en reptiel eienskappe het. Oor ‘n 100 miljoen jaar verander hulle vanaf diere met baie primitiewe reptielagtige kenmerke tot diere wat mens beswaarlik van ‘n soogdier kan onderskei.

Spesiesamestelling (species composition) is die groep spesies wat ‘n gemeenskap van organismes in ‘n gebied opmaak.

Suess, Eduard (1831 – 1914) was ‘n Oostenrykse geoloog en ‘n kenner van die geografie van die Alpe.  Hy het eerste opgelet dat dieselfde Glossopteris fossiele in Suid-Afrika, Suid-Amerika en Indië voorkom en voorgestel dat ‘n superkontinent, wat hy Gondwanaland genoem het, in die oertyd bestaan het.  Hy het ook voorgestel dat die Tethys Oseaan aan die noorde van Gondwanaland geleë was.

Superkontinent is die reuse kontinentale massa wat gevorm word wanneer twee of meer van die huidige kontinente teen mekaar vasgedruk is.

Tektoniese plaat-teorie of Plaattektonika is die teorie wat beskryf hoe die kontinentale plate op die oppervlakte van die aarde deur middel van konveksiestrome in die mantel van die aarde losskeur, beweeg oor die oppervlakte van die aarde en later uiteindelik in mekaar weer vasbots.  Dit beskryf ook hoe bergreekse soos die Himalajas, Rockies en Andesberge vorm, hoekom tsunamis plaasvind en hoekom daar vulkane en aardbewings rondom die Stille Oseaan plaasvind.  Die Kontinentale Drywingsteorie is met die Tektoniese plaat-teorie vervang.

Trias Periode (251,9 – 201,3 Mjg): Archosouriërs soos dinosouriërs op land en pterosouriërs in die lug, word dominant in hierdie tydperk terwyl reptiele soos ichthyosouriërs en nothosouriërs in die see heers.  Ammoniete kom in al die oseane voor.  Die karnivoriese soogdieragtige reptiele word al hoe kleiner en meer soogdieragtig in hierdie tydperk totdat die eerste soogdiere verskyn.  Die moderne krokodille verskyn ook in hierdie tydperk.  Groot temnospondiele (basale tetrapode) en Dicroidium saadvarings kom algemeen voor. Moderne korale, teleost visse en meeste isekordes verskyn ook in hierdie tydperk.

Wegener, Alfred Lothar (1880 – 1930) was ‘n Duitse poolnavorser, geofisikus en weerkundige.  Hy het in 1912 sy teorie van kontinentale drywing (Kontinentalverschiebung in Duits) gepubliseer.  Hy het sy mening op die voorkoms van tipies Suid-Afrikaanse fossiele wat in ander lande voorkom gegrond.

 

error: Content is protected !!