Inleiding tot die weekdiere
Weekdiere is naas die geleedpotiges (filum Arthropoda) die grootste groep bekende dierspesies. Twee belangrike punte word in hierdie skynbaar onskuldige sinnetjie aangeraak: “meeste spesies” is nie dieselfde as “meeste diere” nie, dus kan mens nie die uitdrukking gebruik: “die tweede grootste groep diere” as jy eintlik na die tweede grootste groep bekende spesies verwys nie. Dit is soos om lank of vet met groot te verwar. Die tweede punt is dat “bekende spesies” na die feit verwys dat ons vermoed dat daar nog redelik baie onbekende spesies in ‘n groep is wat mettertyd ontdek sal word.

Die feit dat daar jaarliks nuwe weekdierspesies ontdek word, is nie die rede vir my versigtige bewoording nie, maar soos wat jy later in ’n hoofstuk oor die rondewurms gaan sien, dui genetiese navorsing daarop dat daar moontlik tot ‘n miljoen (meestal mikroskopiese) rondewurmspesies kan wees waarvan 90% nog nie ontdek is nie. Indien dit die geval is, dan sal die weekdiere tot derde plek in die diversiteitsrangleer afsak.
Die woord mollusk is van die Latyn molluscus afgelei wat van die Griekse woord μαλακός (malakós) afgelei is. Aristoteles, die beroemde Griekse filosoof en wetenskaplike, wat dierkunde as studiegebied gevestig het, het weekdiere as volg beskryf: τὰ μαλάκια (ta malákia of te wel “die sagtes”). Die studie van weekdiere word malakologie genoem.
Weekdiere het van die grootste verskeidenheid van liggaamsvorms as enige ander dierfilum – hulle wissel vanaf tuinslakke, bakkievormige klipmossels wat op rotse op die kus voorkom, tot tweekleppiges, tot sogenaamde skeepswurms wat in hout inboor, tot kewerslakke, tot seekatte. Weekdiere kom bykans in alle klam of nat habitat op aarde voor – die grootste diversiteit weekdiere kom natuurlik in die vlak water op die kontinentale bank (die neritiese sone) voor. Daar kom ook weekdiere op die kontinentale helling en selfs tot op die seevloer, kilometers diep onder die see-oppervlakte voor. Daar is selfs weekdiere onder die ysplate in die see rondom Antarktika, en op land in varswaterhabitatte soos moerasse, riviere, mere, vleie en klam habitatte op land, soos in tropiese woude en natuurlik in jou groentetuin.
Verskillende weekdierspesies verskil geweldig in grootte – vanaf 1 mm tot 10 m – wat terloops die grootste grootteverskil onder diere binne dieselfde takson op Aarde is. Hulle het ‘n wye diversiteit van vorms wat nie vreemd is nie want hulle is ook die mees diverse groep seelewende organismes op Aarde. Bykans ‘n kwart van alle bekende seelewende spesies is weekdiere. Onthou wat ek oor rondewurms gesê het: 90% van die diere wat in die modder op die seevloer voorkom, is rondewurms waarvan ons verreweg die meeste nog nie geïdentifiseer het nie.
Daar is natuurlik ’n goeie rede vir hierdie groot weekdierdiversiteit en dit is omdat hulle so ’n groot verskeidenheid ekologiese nisse vul. Weekdiere is hoofsaaklik seelewend (mense hou daarvan om die woord marien vir seelewend te gebruik), maar daar is ook groepies brakwater en varswaterlewende weekdiere en selfs een groepie landlewende weekdiere wat longe ontwikkel het en lug inadem, in plaas daarvan om kiewe soos hul verwante te gebruik. Aangesien meeste weekdiere plantvretend is, hou hulle in die vlakwaters om die kus, of in varswater wat selde baie diep is, om sodoende gebruik te maak van plante wat moet fotosintetiseer en wat dus nie in diep water, waar die lig nie kan indring nie, kan voorkom nie. Daar is ook ‘n hele spul karnivoriese weekdiere wat nie slegs ander weekdiere vreet nie, maar ook talle ander diere, en dan is daar ook aasvretende weekdiere, detrivore wat verottende organiese materiaal eet, houtvreters, filtervoeders, parasiete en nog baie meer.
Dit is duidelik dat weekdiere ‘n baie belangrike ekologiese rol vir die afgelope sowat 500 miljoen jaar gespeel het, want daar is tans ongeveer 73 000 lewende of ekstante spesies (Rosenberg, 2014), terwyl daar tussen 60 000 en 100 000 spesies uit die fossielrekord bekend is (daar is talle fossiele wat reeds ontdek is, maar wat nog nie beskryf en benoem is nie). Weekdiere se skulpe versteen maklik en dus word hulle baie goed in die fossielrekord met hulle miljarde fossielskulpe verteenwoordig en dit is dus moontlik om hulle diversifisering en verspreiding vanaf hul oorsprong na te vors. Die waarskynlike herkoms van weekdiere in die Kambriese Periode vanuit die Lophotrochozoa, waarmee hulle verskeie kenmerke deel, word nog druk bespreek (lees meer hieroor in Sigwart & Sutton, 2007) en die naaste verwante filum aan Mollusca blyk Brachiozoa te wees (Ponder et al., 2020).

Een van die oudste weekdierfossiele wat ‘n mengsel van voorouerlike kenmerke soos segmenteel-gerangskikte organe, en unieke weekdierkenmerke soos ‘n klein kalkryke dop en spieragtige voet besit, is die wurmagtige Calvapilosa kroegeri van die 478 miljoen jaar oue Fezouata biota van Morokko (Vinther et al., 2017). Dit is ook oortrek met stekels wat mens aan dié van die Aplacophora laat dink en dit het duidelik nog tekens van metameries gerangskikte spiere wat mens aan die Monoplacophora laat dink.

Die filum Mollusca word in agt ekstante (bestaande of lewende) klasse verdeel. Die Klasse Caudofauveata en Solenogasters word deur sommige navorsers saam in die Klas Aplacophora gegroepeer. Daar is ook drie klasse weekdiere (Rostroconchia, Helcionelloida en Cricoconarida) wat uitgesterf het en slegs as fossiele bekend is – hulle word nie hier bespreek nie. Die slakke (klas Gastropoda) is by verre die grootste groep weekdiere en beslaan ongeveer 80% van alle bekende weekdierspesies.
| Klas | Algemene naam | Kenmerke |
| Gastropoda | Buikpotiges soos slakke en naakslakke. | Grootste groep >70 000 spesies.
Sluit o.a. die Pulmonanta – die enigste groep weekdiere, wat op land kan leef, in. Meeste het doppe. Torsie van dop en organe kom voor. |
| Bivalvia | Tweekleppiges soos oesters en mossels. | 20 000 spesies
Twee skulpe (kleppe), geen kop |
| Polyplacophora | Kewerslakke, poliplakofore of chitons. | 1 000 spesies
Liggaam deur 8 plate bedek |
| Cephalopoda | Koppotiges soos inkvisse, seekatte, nautilus en ammoniete †*. | 900 spesies
Besit 8 tot 10 tentakels |
| Scaphopoda | Tandskulpe. | 500 spesies
Liggaam deur ‘n langwerpige, olifanttand-vormige skulp omhul wat aan altwee punte oop is. |
| Caudofoveata | Aplakofore. Wurmagtige molluske wat in die modder van die seevloer voorkom. | 130 spesies. Geen dop nie. Stekels kom op die vel voor. Geen kiewe of maag nie. |
| Solenogasters | Aplakofore. Wurmagtige molluske wat op die seevloer voorkom. | Geen dop nie. Stekels kom op die vel voor. Kiewe en maag kom voor. |
| Monoplacophora | Monoplakofore. Relatief onbekend omdat dit net in die diepsee voorkom en maar ‘n paar dekades gelede ontdek is. | 31 spesies. Plat oop skulp soos sekere Gastropoda maar met geen torsie van interne organe soos in Gastropoda nie. Soos alle weekdiere sonder segmente maar met segmentaal (metameries) gerangskikte organe. Voor 1952 slegs as fossiele bekend. |
| Rostroconchia† | Slegs bekend as fossiele. | Uitgesterf |
| Helcionelloida† | Slegs bekend as fossiele. | Uitgesterf |
| Cricoconarida† | Slegs bekend as fossiele. | Uitgesterf |
* († beteken uitgesterf)
Algemene kenmerke van weekdiere
Die eenvoudigste kenmerkende eienskappe van ‘n weekdier is dat dit:
- ‘n bilateraal simmetriese eusolomaat is,
- wat sy segmentasie verloor het,
- wat ‘n mantel besit met ‘n ruimte daarbinne wat vir asemhaling en uitskeiding gebruik word,
- ‘n spesifieke kenmerkende organisasie van die senuweestelsel besit,
- dat ‘n kalkryke skulp of dop in meeste groepe voorkom
- en dat ‘n raspertong of radula, wat uniek aan weekdiere is, in meeste weekdiere voorkom (met die uitsondering van tweekleppiges en ‘n paar ander wat dit sekondêr verloor het).


Die identifikasie van weekdiere word bemoeilik deur die onafhanklike ontwikkeling van soortgelyke kenmerke deur konvergerende evolusie deur onverwante groepe oor honderde miljoene jare, veral ten opsigte van die senuweestelsel en kalkryke dop aan die een kant, maar dan die verlies of verandering van sekere van hierdie kenmerke binne die weekdiere aan die ander kant – soos die afwesigheid van die dop in die klas Aplacophora en naakslakke en die ontwikkeling van ‘n komplekse senuweestelsel in die klas Cephalopoda, terwyl Bivalvia nie ‘n kop of radula besit nie.
Hier is ‘n meer gedetailleerde beskrywing van weekdiere:
- Hulle is ongesegmenteerd (dit is belangrik want hulle kom oorspronklik van gesegmenteerde organismes af en het dit dus deur evolusie verloor alhoewel oorblyfsels van segmentaal-tipe (metameriese) rangskikking van organe in fossiel-weekdiere en in Monoplacophora, een van die mees primitiewe ekstante weekdiere, voorkom).
- Hulle is bilateraal simmetries.
- Die boonste deel van die liggaamswand is ‘n mantel (of pallium) wat in meeste weekdiere ‘n kalkryke dop, stekels of plate afskei.
- Daar is ‘n ruimte onder die dop wat die mantelholte vorm.
- Die anus en geslagsorgane open in die mantelholte.
- Daar is twee paar onderliggende of ventrale senuweekoorde (wat eintlik nie uniek aan weekdiere is nie, want ander diere soos sekere platwurms, fluweelwurms en sekere geleedpotiges het ook twee ventrale senuweekoorde, en in die klas Bivalvia is daar drie ventrale senuweekoorde). In die weekdiere wat ‘n brein besit kom dit gewoonlik rondom die slukderm voor. In die koppotiges is die brein egter ‘n groot orgaan wat vergelykbaar in grootte en kompleksiteit is as dié van werweldiere. Meeste weekdiere het oë en in sommiges soos sekere tweekleppiges kan daar tientalle oë net binne die opening tussen die twee kleppe voorkom. Alle weekdiere het sensore wat chemiese prikkels, temperatuur, tas en vibrasies kan waarneem.
- In meeste weekdiere kom daar ‘n raspertong of radula voor (afwesig in die klas Bivalvia) wat gebruik word om hul kos af te skraap van die voorwerp waarop hulle voed. Die radula, wat uniek aan die weekdiere is, se oppervlakte bevat rye van skerp chitientandjies wat van agter af vervang word soos die voorstes verweer. Die slymkliere binne die mond skei mukus af waaraan kosdeeltjies vassit wat ‘n sogenaamde voedselstring vorm wat deur trilhaartjies in die mond en slukderm na die maag vervoer word. Groter voedseldeeltjies word deur trilhaartjies binne die dermkanaal na die sekum vervoer waar dit verder verteer word. Feses word deur die anus in die mantelholte uitgeskei waar dit deur die stroom water wat deur die mantelholte vloei, na buite vervoer word.
- Weekdiere besit ‘n seloom soos die gesegmenteerde wurms, fluweelwurms, geleedpotiges en werweldiere en word dus as Euselomate geklassifiseer. Die seloom is egter tot die ruimtes rondom die gonades en ‘n klein ruimte rondom die hart gereduseer wat deel van die hemoseel vorm.

- Die hemoseel is die oop bloedvatstelsel wat in alle weekdiere buiten die koppotiges voorkom, waar dit geslote is. Die hemoseel dien ook as ‘n hidrostatiese skelet. Die weekdierhart bestaan uit een of meer pare atria of aurikels wat die suurstofryke bloed van die kiewe ontvang en wat dit dan na die ventrikel toe pomp. Die bloed word dan van die ventrikel deur die kort aorta na die hemoseel gepomp. Die hemoseel omgewe die interne organe en baai dit in suurstofryke bloed. Die aurikels het ook ‘n ekskretoriese funksie en help met die uitfiltrering van metaboliese afvalstowwe waarvandaan dit in die mantelholte as uriene uitgestort word.
- Gaswisseling vind in meeste weekdiere deur middel van veervormige bladkiewe of stenidia (ctenidia) plaas. Meeste weekdiere het een paar kiewe, maar sommige het slegs een kief en monoplakofore kan tot ses paar kiewe hê. Elke kief het ‘n bloedvat wat bloed van die hemoseel na die kief vervoer en ‘n bloedvat wat bloed van die kief na ‘n atrium of aurikel van die hart vervoer. Landslakke gebruik die bloedvatryke mantelholte soos ‘n long om suurstof uit die lug op te neem. Die bloedpigment hemosianien wat koper bevat word in meeste weekdiere gebruik om die suurstof op te neem en deur die liggaam met behulp van die bloedvatstelsel te versprei. ‘n Paar spesies, soos landslakke, gebruik hemoglobien wat yster bevat, terwyl ander wat nie bloedpigmente het nie hul bloedplasma vir die vervoer van suurstof gebruik.
- Die spieragtige voet word deur meeste weekdiere gebruik om hulself aan oppervlaktes vas te heg, om mee rond te beweeg en om te grawe. ‘n Paar statosiste wat swaartekrag kan waarneem, kom in die voet voor. In klipmossels het die voet in ‘n suieragtige orgaan omvorm om aan rotse vas te kleef. Sommige tweekleppiges gebruik hul voet wat hulle ver buite die kleppe kan uitsteek om mee op die seebodem te spring. In die geval van koppotiges is die voet tot tentakels omvorm en in sommige soos tjokka word dit vir hul spuitaandrewing gebruik.

Die skulp
Die skulp is een van die opvallendste weekdierkenmerke. Die skulp word deur die mantel afgeskei. Die mantel bestaan uit ‘n huidplooi wat deel van die liggaam bedek en ‘n mantelholte omsluit.
- Die slakke (klas Gastropoda) het meestal ‘n dop wat die liggaam heeltemal of gedeeltelik bedek, die landnaakslakke het hul doppe grootliks verloor, maar daar mag nog steeds oorblyfsel daarvan oorbly, terwyl seenaakslakke (orde Nudibranchia) hul doppe heeltemal verloor het. Meeste slakke het ‘n gedraaide skulp, terwyl die bakkieslakke of klipmossels wat mens op rotse langs die see sien eenvoudige ovaalvormige vlak doppe het wat bo-oor die lyf pas.
- Die tweekleppiges (klas Bilvalvia) het twee skulpe of kleppe wat in meeste spesies die liggaam heeltemal bedek, terwyl die skeepswurms hulle gereduseerde kleppies as grawe gebruik om ‘n tonnel vir die wurmagtige lyf in hout in te grawe.
- Die koppotiges (klas Cephalopoda) het meestal ‘n rudimentêre skulp wat binne die liggaam voorkom, alhoewel die Nautilus ‘n skulp het wat die liggaam bedek – soos wat die ammoniete van die oertyd gehad het.
- Die tandskulpe (klas Scaphopoda) het ‘n verlengde buisvormige tandvormige skulp wat aan beide kante oop is waarbinne die liggaam voorkom.
- Die kewerslakke (klas Polyplacophora) het ‘n skulpbedekking wat uit agt plate bestaan wat soos segmente lyk wat die boonste oppervlakte van die liggaam bedek.
- Die klas Monoplacophora het ‘n dop wat baie soos dié van die rots-bewondende plat slakke lyk, wat die boonste deel van die liggaam bedek.
- Die wurmagtige lede van die takson Aplacophora (die Klas Caudofoveata en die Klas Solenogasters) het geen skulp nie.
Die skulp is reeds gevorm wanneer die weekdier uitbroei en dit hou aan om te groei soos die weekdier groei, deurdat die mantel aanhoudend nuwe lagies kalk rondom die rand van die skulp afskei. In somermaande of tye wanneer daar meer kos is, groei die slak vinniger en natuurlik andersom wanneer daar minder kos is. Dit veroorsaak strepies, soos die jaarringe in hout, wat mens op die dop kan sien.
Die skulp bestaan uit kitien en kongiolien, ‘n proteïen wat met kalsiumkarbonaat, die periostrakum (kalsiet of kalksteen) verhard is. Die buitenste deel van die skulp (dikwels gekleur), bestaan uit kitien, die middelste laag bestaan uit kolumnêre kalsiet en die binneste laag, bestaan uit lagies kalsiet. Die binneste deel van die skulp van talle slakke, tweekleppiges en koppotiges, het ‘n irisiderende pêrelagtige kleur wat perlemoer (die moeder van pêrels) genoem word. Dit is natuurlik hierdie stof waaruit pêrels gevorm word. Die afskeiding van hierdie lagies kalsiet is om die binneste deel van die skulp, naaste aan die liggaam, glad te hou om wrywing te voorkom, maar dit het ook ‘n verdedigingsfunksie. Wanneer die liggaam deur ‘n parasiet aangeval word of ‘n irritant, soos ‘n sandkorrel of skulpfragment, tussen die dop en die liggaam beland, word dit eenvoudig met lagies kalsiet bedek. In die geval van pêreloesters word hierdie al groter wordende ronde balletjie ‘n pêrel.
Die kalsietkristalle word op verskillende maniere in die verskillende weekdiergroepe neergelê en omdat dit sulke kenmerkende eienskappe is, word dit in klassifikasie gebruik (Hedegaard, 1997).

Die mantel
Die mantel is eintlik die unieke eienskap van weekdiere, want dit is die klierryke mantel wat die skulp vorm. Die mantelholte, wat deur ‘n plooi in die mantel gevorm word, beslaan ‘n redelike groot ruimte tussen die dop en die liggaam van die slak. Die mantelholte is deur epidermis belyn en word, afhangende van die slak se habitat, deur ‘n opening aan seewater, varswater of lug blootgestel. Dit blyk dat die voorouerlike weekdiere se mantelholtes agter op die lyf voorgekom het, maar nou kom die posisie van die mantelholte van verskillende groepe weekdiere op verskillende plekke op hul lywe voor. Die anus en nefridiums – primitiewe tipe niere, wat vir uitskeidings verantwoordelik is, open in die mantelholte. Die testes in mannetjies, ovaria in wyfies, of ovotestis in hermafrodiete, is binne die mantel geleë. Daar is ook ‘n paar chemiese sensore of osfradieë binne die mantelholte wat deurentyd die water in die mantelholte toets. Water beweeg vanuit ‘n agterste opening deur die mantelholte weens die beweging van die trilhaartjies op die kiewe en stroom by ‘n voorste opening uit. Wanneer ‘n chemiese irritant die mantelholte indring, neem die osfradieë dit waar wat die beweging van die trilhaartjies staak tot die irritant verdwyn. In die geval van tweekleppiges kom die hele liggaam binne die mantelholte voor.
Voortplanting
Weekdiere plant geslagtelik voort. Sekere weekdierspesies is eenslagtig (met ander woorde individue kom as ‘n mannetjie of ‘n wyfie voor), terwyl ander spesies se individue as hermafrodiete (tweeslagtig) voorkom. Hermafroditiese individue ruil sperms uit en bevrug mekaar se eiers terselfdertyd. Bevrugting kan inwendig of uitwendig wees.
Sekere weekdierklasse soos die primitiewe Aplacophora en kewerslakke (en waarskynlik ook die Monoplacophora), het soos die gesegmenteerde wurms (filum Annelida), trogofoor larwes. Meeste weekdierklasse het egter mettertyd ‘n veliger larwe wat uit die trogofoor larwe ontwikkel.
Die koppotiges het egter paralarwes wat soos miniatuur volwassenes lyk. Weekdierlarwes kom as deel van plankton voor, maar sodra dit groot genoeg word en te swaar word, veral wanneer die skulp begin vorm, sak hulle uit die plankton na die bodem van die see of varswaterstelsel af.
Larwes kom nie in landslakke voor nie, maar wel embrionale ontwikkeling binne die eierdop, sodat ‘n volledig ontwikkelde slakkie uit die eier kom.

Spysvertering
Spysvertering in weekdiere vind gewoonlik in twee stappe plaas. Eerstens word ensieme deur speeksel- en spysverteringskliere in die lumen van die spysverteringstelsel afgeskei wat vir die ekstrasellulêre vertering van die voedseldeeltjies verantwoordelik is.
Tweedens word hierdie makromolekulêre produkte van die eerste fase van spysvertering deur gespesialiseerde selle, die absorbtiewe selle, in die lewer opgeneem om dit intrasellulêr met behulp van die lisosome in die sel, verder te verteer. Dit is dan die intrasellulêre deel van die spysvertering in weekdiere. Kleiner molekules soos eenvoudige suikers en aminosure word eenvoudig deur die membrane van die selle wat die spysverteringskanaal belyn opgeneem.
Die verteerde voedingstowwe word vanaf die absorbtiewe selle na die res van die weefsel aangestuur. Die intrasellulêre verteringsproses van weekdiere verskil van die spysverteringsproses van werweldiere (Lobo da Cunha, 2019).
Die ekologiese rol van weekdiere
Die spesiale kenmerke wat mens dikwels in weekdiere sien, is juis om hulle in staat te stel om sekere spesifieke habitatte te bewoon, kos te bekom en om van roofdiere te ontsnap wat alles met hul ekologiese rol te doen het.
Meeste weekdiere soos buikpotiges en kewerslakke is plantvretend en sal onder andere bruinwier vreet, of mikroskopiese filamentagtige alge uit die sand op die seevloer opskraap, of alge van rotse af vreet.
Die kelpslak Cymbula compressa se dop is smal, sodat die voet stewig rondom die kelpstingel pas terwyl die meerderheid klipmossels ‘n eenvoudige afgeplatte keëlvormige dop en sterk voet het waarmee hulle stewig aan rotse vaskleef, sodat hulle nie deur die branderaksie losgeruk word nie. Die dop is ook so ontwikkel dat golwe met min weerstand oor dit kan spoel, en in die geval van die klipmossels wat in die intergetysone (tussen die hoog- en laagwatermerk) voorkom, se doppe kan ook die hitte van die son hanteer en bestraling wegkaats. Scutellastra barbara, ‘n klipmossel wat op alge op rotse voed, se dop word deur sekere alge begroei wat die slak kamoefleer. Sommige van hierdie klipmosselspesies sal hul algtuintjie jaloers verdedig as daar ‘n ander slak daar opdaag om saam te wei, deur om die ander slak met die rand van hul dop weg te druk.

Ander weekdiere soos tweekleppiges filter voedseldeeltjies soos plankton, klein diertjies en kosreste uit die water met behulp van hul kiewe. Tweekleppiges kan soos mossels en sekere oesters permanent aan rotse vasgeheg wees, maar ander soos kokkels en mantels is verbasend beweeglik vir diere wat nie koppe het nie. Mantels of kammossels kan hul spiervoet, wat hulle hulself in die sand anker, gebruik om met ‘n skielike harde rukbeweging hulself van ‘n roofdier soos ‘n seester weg te skiet, terwyl ander spesies hulle twee skulpe oop en toe te klap om van ‘n seester (wat terloops baie lief vir oesters en mantels is) weghobbel.
Manglietslakke het ‘n baie interessante gedragspatroon. Hulle sal gewoonlik op die grond en wortelbeddings van die manglietwoude op detritus voed, maar wanneer die water veronderstel is om met hoogwater te styg, sal hulle soos een man teen die manglietbome se stamme opseil om bo die watervlak uit te kom. Wanneer die gety veronderstel is om te daal, sal almal weer na onder kruip en aangaan om te vreet. Dit is nog nie bekend hoe die slakkies dit doen nie, want hierdie gedrag het weinig te doen met of die hooggetywaters wel teenwoordig is of nie, want hulle doen dit selfs wanneer daar geen styging van die water is nie weens die feit dat die verbinding tussen die strandmeer, waar die manglietwoude voorkom, deur mense se toedoen van die see afgesny is.

Talle gastropode is roofdiere, om net ‘n paar te noem: kauries, wulke en keëlslakke. Koppotiges is hoofsaaklik roofdiere. Die wulke gebruik hul radula om eenvoudig ‘n gat deur die doppe van hul prooi – dikwels tweekleppiges – te boor en dan op die weerlose binnegoed te voed. Mens kry dikwels skulpe wat die ronde voedingsgate toon.

Predatoriese keëlslakke gebruik gif om hul prooi te verlam. Keëlslakke se radula is aangepas dat dit harpoenagtige gifdraende strukture vorm wat radulatande genoem word. Die keëlslak stoot ‘n langwerpige proboskis na die prooidier toe uit en skiet dan een van sy hapoentande in die liggaam van die prooidier. Gif uit die gifsak wat aan die harpoentand gekoppel is, spuit in die prooidier in en dood of verlam dit onmiddellik. Die keëlslak trek sy prooi na sy mond toe met behulp van die harpoentand wat weer in die proboskis teruggetrek word. Na die prooi verteer is, braak die keëlslak al die oneetbare penne en skubbe saam met die gebruikte harpoentand uit. Die gif van keëlslakke bevat honderde verbindings wat konotoksiene genoem word. Die konotoksiene verskil van spesie na spesie. Hierdie pragtige slakke se doppe word natuurlik versamel, maar dit is gevaarlik om lewende keëlslakke te hanteer, want hulle sal ook hul giftige harpoentande vir verdediging gebruik. Dit is bekend dat harpoentande selfs duikpakke en rubberhandskoene kan deurdring. Die gif van ‘n harpoentand van kleiner keëlslakkies is nie erger as dié van ‘n bysteek nie, maar die groter keëlslakke soos Conus geographus, C. tulipa, C. striatus, C. pennaceus, C. textile, C. aulicus, C. magus en C. marmoreus kan dodelik wees en was al verantwoordelik vir verskeie sterftes onder mense. Van die simptome wat volg op ‘n keëlslak-steek is onder andere: intense gelokaliseerde pyn, swelling, verlies van gevoel, tingelings en braking. In erge gevalle sal dit gevolg word deur spierverlamming, sigversteuring, asemnood en dood.

Kauries het besondere doppe met ‘n baie smal opening wat dit moeilik vir roofdiere maak om hulle by te kom. Tog is daar ‘n paar roofdiere wat sekere krappe, seekatte en keëlslakke insluit wat op kauries voed. Conus texile verlam die kaurie met sy gif en stulp dan sy maag deur die opening van die kaurie se dop om die kaurie van binne te verteer, waarna die keëlslak sy maag terugtrek wanneer hy klaar gevoed het. Kauries voed weer op sponse, wat nie plante is nie maar diere. Dus is kauries ook op hulle beurt, roofdiere.

Koppotiges is roofdiere en het papegaaiagtige bekke waarmee hulle hul prooi uitmekaarskeur en verorber. ‘n Koppotige vang sy prooi met sy agt of tien tentakels waarmee hy die prooi na sy mond toe bring en dan stukke daarvan afhap. Meeste koppotiges het gifkliere wat hulle gebruik om hul prooi te verlam of te dood.
Weekdiere as intergetysone indikators op rotsagtige kuste
Die intergetysone (die strook langs die kus wat tussen die hoogwater en laagwatermerk voorkom) langs rotsagtige kuste word in sones opgedeel volgens die weekdiere en seepokke (tipe skaaldiere wat soos klein vulkaantjies lyk) wat daar voorkom. Die intergetysone is daardie deel van die kuslyn wat twee keer per dag deur seewater bedek word tydens hooggety en dan weer tydens laaggety ontbloot word. Verskillende weekdiere en seepokke is volgens hierdie tydperke van benatting en uitdroging aangepas en kom dus net in hierdie sones voor.
Die Littorina-Sone is meestal droog en is slegs tydens springgety onder water. Die organismes wat op hierdie vlak voorkom is baie goed aangepas om uitdroging te hanteer. Hierdie sone, wat tussen die supragetysone (wat nooit onder water is nie) en die Boonste Balanoïedsone geleë is, word langs die Ooskus van Afrika tot by die KwaZulu-Natalse kus deur klein liggrys Littorina africana slakkies en langs die Suid- en Weskus van Suid-Afrika deur Afrolittorina knysnaensis slakkies gekenmerk.

Wanneer springgety die Littorina-Sone bedek, voed die klein Littorina africana en Afrolittorina knysnaensis slakkies op mikroskopiese alge, paar en lê eiers. Wanneer die water ‘n paar uur later terugtrek, trek die slakkie in sy dop terug en sluit die opening met die operkulum om so vir die volgende twee weke op die rots in die son en atmosfeer deur te bring tot met die volgende springgety.
Alhoewel Littorina en Afrolittorina slakkies die mees weerstandbiedende seediertjies ten opsigte van uitdroging is, en dus die enigste diertjies in die Littorina-Sone is, kan hulle ook verder ondertoe tussen die Saccostrea cucullata klipmossels en die Chthamalus dentatus seepokke van die Boonste Balananoïedsone aangetref word.

Weens die verskil in temperatuur (die Benguela Seestroom bring koue water van Antarktika na die Weskus van Suid-Afrika, en die Aghulas Seestroom bring warm water langs die Ooskus van Suid-Afrika van die trope af) en die nutriënte in die water, verskil die voorkoms en samestelling van die rotslewende organismes in die intergetysones van die Suid- en Weskus en dié van die Ooskus.
Die Supragetysone is nooit onder water nie en kom net bo die intergetysone voor.
Littorina-Sone, die heel boonste deel van die intergetysone, word deur Littorina africana langs die ooskus van Suid-Afrika gekenmerk, terwyl Nodilittorina slakkies hierdie sone langs die Suid- en Weskus kenmerk. Die Littorina-Sone is onder water gedurende springgety wat twee keer per maand plaasvind.
Die Boonste Balanoïedsone kom net onder die Littorina-Sone voor en word deur die voorkoms van die seepok Chthamalus dentatus gekenmerk. Die Boonste Balanoïedsone is slegs onder water gedurende hooggety vir ‘n paar uur twee keer per dag.
Onderste Balanoïedsone word deur die voorkoms van die seepok Octomeris angulosa langs die Ooskus van Suid-Afrika gekenmerk. Die Onderste Balanoïedsone is meestal deur water bedek, maar word tydens laaggety vir ‘n paar uur twee keer per dag blootgestel.
Die Cochlear-Argenvillei-Sone langs die Suid- en Weskus van Suid-Afrika word deur die voorkoms van die klipmossels Scutellastra cochlear en Scutellastra argenvillei gekenmerk. Hierdie sone, wat tussen die Onderste Balanoïedsone en die Subgetysone voorkom, is meestal onder water buiten tydens spring-laaggety wat twee keer per maand vir ‘n paar uur duur. Die bruinmossel Perna perna en die swartmossel Choromytilus meridionalis kom ook in hierdie sone voor.

Scutellastra argenvillei voed op ‘n unieke wyse op bruinwier – die slak sal ‘n stuk van die blad van die bruinwier onder sy skulp vaspen deur om met die skulp daarop te druk, sodat die slak die stuk wier daaronder kan vreet. Scutellastra cochlear vreet hoofsaaklik rooiwier wat op rotse groei. Elkeen van hierdie klipmossels sal jaloers sy rooiwiertuintjie teen ander S. cochlear individue beskerm en indringers probeer wegjaag deur om teen hulle te druk.

Die grootste verskeidenheid weekdiere kom in die Subgetysone, wat altyd onder water is, voor.
