1. Die Pioniers van Klimaatsverandering-studies

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

1. Die Pioniers van Klimaatsverandering-studies

October 1, 2022 Afdelings Klimaatsverandering 0

François Durand

Wie het eerste voorspel dat Klimaatsverandering gaan plaasvind?

Die Sweed Svante Arrhenius het reeds in 1896 voorspel dat koolsuurgas in die atmosfeer sal opbou weens die verbranding van steenkool en dat dit die temperatuur op aarde sal laat styg1. Arrhenius, wat as die vader van fisiese chemie beskou word, het in 1903 die Nobelprys vir Chemie ontvang.

Hierdie briljante wetenskaplike, wat in 1905 as die direkteur van die Nobel Instituut aangestel is, se voorspelling oor Klimaatsverandering weens die styging van koolsuurgas in die atmosfeer, was meestal met skeptisisme ontvang.  Sommige wetenskaplikes van die tyd het genoem dat dit onwaarskynlik sou wees dat die nietige mens iets groots soos die planeet se klimaatstelsel sal kan beïnvloed.

Die eerste waarnemings van Klimaatsverandering:

In die 1930’s het klimatoloë bewys dat die temperatuur van die VSA en die Noord Atlantiese gebied merkbaar oor die voorafgaande dekades gestyg het.  Die wetenskaplikes van die tyd het dit toegeskryf aan ‘n natuurlike weerverskynsel en dat dit waarskynlik net tydelik en streeksgebonde is, alhoewel hulle oor die oorsaak daarvan bespiegel het.

Een persoon, by name Guy Stewart Callendar, ‘n Britse stoomingenieur, het in 1938 bewys dat die styging van die aarde se temperatuur oor die voorafgaande 50 jaar met die toename in koolsuurgaskonsentrasies gekorreleer kan word2.

Hy het afgelei dat hierdie toename in temperatuur toegeskryf kan word aan koolsuurgas wat in die atmosfeer opbou.  Hy het voorspel dat dit ‘n kweekhuis-effek sal veroorsaak en was van mening dat dit eintlik ‘n goeie ding sal wees omdat dit die volgende ystydperk sal afweer.

Alhoewel talle wetenskaplikes skepties oor Callendar se gevolgtrekkings was, en sommige soos Sir George Simpson, die direkteur van die British Meteorological Society sy waarnemings aan toevallighede toegeskryf het, het sy waarnemings ‘n nuwe generasie wetenskaplikes geïnspireer om die navorsing op Klimaatsverandering voort te sit.

‘n Handjievol wetenskaplikes, insluitende die Amerikaner Charles Keeling, het in die 1950’s Callendar se gevolgtrekkings met moderner en meer akkurate instrumente gaan toets.

Keeling het ‘n klimaatsobservatorium op Mauna Loa in Hawaii, 3 km bo seespieël laat bou.  Die rede vir die keuse van hierdie eiland, in die middel van die Stille Oseaan, duisende kilometers van groot stede en fabrieke was juis om te verhoed dat ‘n enkele besoedelingsbron die waarnemings sal beïnvloed en sodat meer akkurate lesings van die koolsuurgas in die atmosfeer geneem kan word.  Atmosferiese koolsuurgasvlakke word vandag nog by die Mauna Loa Observatorium geneem.

Keeling het koolsuurgas-opnames by die Mauna Loa Observatorium in 1958 begin neem.  Teen 1960 het hy ontdek dat daar sterk seisoenale veranderings in koolstofdioksiedvlakke voorkom3.  Die hoogste vlakke van koolsuurgas kom in die laat winter van die noordelike halfrond voor en, nadat die plante in die lente en somer weer begin groei, en koolsuurgas uit die atmosfeer verwyder, daal die koolsuurgasvlakke weer.

Keeling se sorgvuldige waarnemings het Callendar se gevolgtrekkings bevestig – die atmosfeer se temperatuur het jaar na jaar in tandem met die toename van koolsuurgas gestyg het.  Die grafiek van die stygende koolsuurgasvlakke van die aarde se atmosfeer word die “Keeling Curve” genoem.

Gedurende die 1970’s het ander wetenskaplikes begin om navorsing te doen op die faktore wat Klimaatsverandering veroorsaak, versnel en vererger.  Ander wetenskaplikes het weer metodes ontdek om bewyse van Klimaatsverandering wat in die oertyd plaasgevind het, in yskerne in die poolkappe en in die fossielrekord op te spoor.  Hulle waarnemings het die skokkende feit openbaar naamlik dat katastrofiese Klimaatsveranderings in die verlede oor ‘n kort tydperk soos tot binne ‘n eeu of selfs dekades plaasgevind het.  Van daardie tyd was daar ‘n toenemende bewuswording en bekommernis oor die effek van Klimaatsverandering se impak op die ekologie en die welsyn van die mens.

Die VSA se National Academy of Sciences het in 1979 ‘n kommittee van kenners bymekaargebring om Klimaatsverandering te bestudeer.  Hulle het ‘n konsensus bereik dat as koolsuurgasvlakke tot dubbel dié van voorindustrële vlakke sal styg sal die klimaat met gemiddeld ongeveer 3°C styg4.  Die navorsers het ook tot die gevolgtrekking gekom dat Klimaatsverandering seestrome sal beïnvloed, die temperatuur van die see sal laat styg, wat weer grootskaalse impak op die klimaat en weerpatrone sal hê, wat weer storms, droogtes, bosbrande, abnormale koue en hittegolwe sal veroorsaak.  Hierdie abnormale weerpatrone sal die ekologie erg benadeel, tot massauitsterwing van spesies ly en die voortbestaan van die mens in gedrang bring.

Een van die onverwagte ontdekkings wat klimaatkundiges gemaak het was dat dit nie slegs die vlak van koolsuurgas is wat toeneem nie, maar dat die vlakke van metaan, chlorofluorokarbone en stikstofdioksied, wat veel erger kweekhuisgasse as koolsuurgas is, met rasse skrede in die atmosfeer toeneem5.  Dit was nou duidelik dat die temperatuurstyging nie die aarde in tienduisend jaar onbewoonbaar gaan maak soos wat Arrhenius voorspel het nie, maar dat dit binne die volgende paar dekades gaan gebeur.

In 2005 was die ontdekking aangekondig dat dit nie net die temperatuur van die atmosfeer is wat styg nie, maar ook die temperatuur van die see.  Die see het na gelang van tyd meer en meer hitte van die son geabsorbeer as wat dit terug in die ruimte uitgestraal het6.

Hierdie pioniers het die fondasie van Klimaatsveranderingstudies gelê.  Wêreldwyd het duisende wetenskaplikes by honderde navorsingsinstansies wêreldwyd oor die laaste vyf dekades hul stemme by dié van hierdie pioniers gevoeg en ‘n reuse hoeveelheid inligting versamel wat bewys dat Klimaatsverandering deur mensgemaakte kweekhuisgasse veroorsaak word.  Mense wat hierdie inligting ignoreer of teëstaan is of uitermatig moedswillig en beskerm wetend of onwetend kweekhuisgas-produserende industrieë, is aanhangers van regse Amerikaanse of Australiaanse politici wat kweekhuisgas-produserende industrieë beskerm, is slagoffers van hulle propoganda, of is verstommend oningelig.

Gelukkig het die waarheid lang bene en uiteindelik sal almal die werklikheid van Klimaatsverandering aanvaar wanneer hulle dit ervaar.  Ongelukkig sal dit dan te laat wees om iets daaromtrent te doen.

BRONNELYS:

  1. Arrhenius, S. (1896). On the influence of carbonic acid in the air upon the temperature of the ground. The London, Edinburgh, and Dublin Philosophical Magazine and Journal of Science 41(251):237–276.
  2. Callendar, G.S. (1938) The artificial production of carbon dioxide and its influence on temperature, Quarterly Journal of the Royal Meteorological Society 64(275):223 – 240.
  3. Keeling, C.D. (1960). The Concentration and Isotopic Abundances of Carbon Dioxide in the Atmosphere. Tellus 12(2):200–203.
  4. National Academy of Sciences (1979). Carbon dioxide and climate: a scientific assessment. Report of an Ad Hoc Study Group on Carbon Dioxide and Climate. https://geosci.uchicago.edu/~archer/warming_papers/charney.1979.report.pdf
  5. Jackson, R.B.; Saunois, M.; Bousquet, P.; Canadell, J.G.; Poulter, B.; Stavert, A.R.; et al. (2020). Increasing anthropogenic methane emissions arise equally from agricultural and fossil fuel sources. Environmental Research Letters, 15(7), 071002. https://doi.org/10.1088/1748-9326/ab9ed2
  6. Barnett, T.P.; Pierce, D.W.; AchutaRao, K.M.; Glecker, P.J.; Santer, B.D.; Gregory, J.M. & Washington, W.M. (2005). Penetration of Human-Induced Warming into the World’s Oceans. Science 309(5732):284-287.

NOG LEESSTOF:

Weart, S.R. (2008). The Discovery of Global Warming. Harvard University Press.

error: Content is protected !!