2. Belangrike Klimaatsverandering-vergaderings

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

2. Belangrike Klimaatsverandering-vergaderings

October 10, 2022 Afdelings Klimaatsverandering 0
  1. BELANGRIKE KLIMAATSVERANDERING-VERGADERINGS

François Durand

 

In die laat 1970’s en vroeë 1980’s het wetenskaplikes ontdek dat Klimaatsverandering twee keer vinniger plaasvind as wat hulle vroeër voorspel het en dat die effek daarvan binne hul eie leeftyd en dié van hul kinders reeds merkbaar gaan wees.  Dit het hulle genoop om die eerste Klimaatsverandering-vergadering bymekaar te roep.

In 1979 was die Eerste Wêreldklimaat-konferensie (World Climate Conference of WCC-1) in Geneve, Switserland gehou.  Dit was deur die World Meteorological Organization (WMO) in samewerking met die United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization (UNESCO), die Food and Agriculture Organization of the United Nations (FAO), die World Health Organization (WHO), die United Nations Environment Programme (UNEP), International Council for Science (ICSU) en ander medewerkers uit wetenskaplike kringe aangebied.  Hierdie konferensie was deur 350 spesialiste van 53 lande bygewoon.  Daar was kenners in die velde van landbou, waterhulpbronne, visserye, energie, ekologie, biologie, medisyne, sosiologie en ekonomie teenwoordig.

Die WCC-1 het die volgende gevolgtrekkings gemaak:

  • Dat die mensdom se kennis oor klimaat ten volle benut moet word;
  • Dat meer gedoen moet word om hierdie kennis verder uit te brei;
  • Dat die menslike impak op Klimaatsverandering wat die mensdom sal benadeel, voorsien en teëgewerk moet word.

Die WCC-1 het ‘n beroep op alle nasies gedoen om die voorgestelde Wêreldklimaatprogram (World Climate Programme) te ondersteun en het strategieë voorgestel wat regerings sou help om inligting oor klimaat meer effektief aan te wend vir sosiale en ekonomiese beplanning.

Na die afloop van die WCC-01 was die Wêreldklimaat-program in 1979, onder leiding van die WMO, op die been gebring.  Dit bestaan uit vier bene:

  • Die Wêreldklimaat-dataprogram (World Climate Data ProgrammeWCDP);
  • Die Wêreldklimaat-toepassingsprogram (World Climate Applications Programme);
  • Die Wêreldklimaat-navorsingsprogram (World Climate Research Programme -WCRP); en
  • Die Wêreldklimaat-impakstudieprogram (World Climate Impact Study Programme (WCIP).

Hierdie vier werksgroepe van die Wêreldklimaat-program het entoesiasties aan die werk gespring om die navorsing van kenners op kweekhuisgasse en Klimaatsverandering te befonds, te bevorder en te versamel.

In Oktober 1985 het die sameroepers UNEP, WMO en ICSU, ‘n konferensie in Villach, Oostenryk, aangebied wat die rol van koolsuurgas en ander kweekhuisgasse in Klimaatsverandering onder die loep geneem het.  Hierdie konferensie, wat as die Villach Konferensie bekend staan, was deur wetenskaplikes van 29 lande bygewoon.  Die gevolgtrekking van hierdie konferensie was dat die wêreld reeds teen die eerste helfte van die 21ste eeu ‘n groot styging in temperatuur gaan beleef.  Die Villach Konferensie het ‘n beroep op die regerings van die wêreld gedoen om hul lande se kweekhuisgas-vrystellings te beperk.

Vanaf die 1950’s het klimaatkundiges voorspel dat ongekende aardverhitting teen die jaar 2000 sal plaasvind.  Teen 1988, wat die warmste jaar tot op daardie tydstip in menseheugenis was, het dit duidelik geword dat hierdie wetenskaplikes se voorspellings bewaarheid word.  James Hansen, die direkteur van NASA se Goddard Institute for Space Studies (GISS) het op 23 Junie, 1988, in ‘n aanbieding by die Amerikaanse Kongres dit duidelik gemaak dat Klimaatsverandering besig is om plaas te vind en dat dit weens mensgemaakte kweekhuisgasse veroorsaak word.

Die Toronto Conference on the Changing Atmosphere: Implications for Global Security was in Toronto, Kanada tussen 27 en 30 Junie 1988 aangebied.  Dit was deur 300 mense, insluitende beleidsmakers, internasionale wetenskaplikes, regeringsorganisasies, nie-regeringsorganisasies en Verenigde Nasie-verteenwoordigers bygewoon.  Die deelnemers van hierdie konferensie het ‘n waarskuwing uitgereik dat die mensdom onwetend veranderinge in die atmosfeer ontketen het wat as dit nie aangespreek word nie daar gevolge sal wees wat amper so erg soos ‘n globale kernoorlog sal wees.

Talle lande se politieke leiers het in die 1990’s die erns van Klimaatsverandering begryp en afgevaardiges van 150 lande het 3 -14 Junie 1992 in Rio de Janeiro in Brasilië vergader.  Hierdie vergadering, wat deur die Verenigde Nasies beroep was, staan bekend as die:i

  • Verenigde Nasies Konferensie of Omgewing en Ontwikkeling (United Nations Conference on Environment and Development (UNCED)),
  • Rio de Janeiro Aardeberaad (Rio de Janeiro Earth Summit),
  • Rio Beraad (Rio Summit),
  • Rio Konferensie (Rio Conference),
  • Aardeberaad (Earth Summit)

Die Aardeberaad was die enigste manier om samewerking tussen die lidlande te kry om ‘n poging aan te wend om die effek van Klimaatsverandering teë te werk, omdat  omvang van Klimaatsverandering so geweldig is dat meeste lande nie in staat is om dit op hul eie aan te pak nie.  Die beraad was deur ongeveer 50 000 mense bygewoon, wat meeste lande se staatshoofde ingesluit het.

Die sake wat aangespreek was, sluit in:

  • Die kritiese ondersoek na vervaardigingspatrone – veral die vervaardiging van gevaarlike produkte soos lood in petrol en radioaktiewe chemikalieë.
  • Alternatiewe energiebronne om die fossielbrandstowwe te vervang wat die hoofoorsaak van Klimaatsverandering is.
  • Die gebruik van publieke vervoer om uitlaatgasse te beperk.
  • Die groeiende behoefte aan water en die afname van waterhulpbronne.
  • Die beskerming van die oseane.

Die dokumente wat uit hierdie beraad voortgespruit het is die:

  • Rio Verklaring op die Omgewing en Ontwikkeling,
  • Agenda 21 (‘n aksieplan vir volhoubare onwikkeling),
  • Woudbeginsels (voorstelle vir bewaring en volhoubare gebruik van woude)
  • Konvensie op Biologiese Diversiteit,
  • Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering.

Die Eerste Sessie van die Konferensie van Partye (First Conference of Parties to the United Nations Framework Convention on Climate Change of COP 1) was in Berlyn in Duitsland van 28 Maart tot 7 April 1995 gehou.

Hierdie stad wat simbolies die skeiding tussen die Weste en Oos Blok lande aandui was gekies sodat 117 deelnemers en 53 toeskouers (wat buite stemming gebly het) van verskillende lande strategieë rondom die hantering van Klimaatsverandering kan bespreek.  Die deelnemers aan hierdie konferensie het wyd-uiteenlopende agendas gehad wat tot dae lange geredekawel gelei het.  Na dae se beraadslaging was daar uiteindelik konsensus bereik rondom ‘n aksieprogram wat na 2000 geïmplementeer sou word om die effek van Klimaatsverandering te bekamp, maar konsensus kon nie  oor die Rules of Procedure bereik word nie.  Instemming was bereik om die Sekretariaat van die Konferensie van Partye in Bonn in Duitsland te huisves.

Die Tweede Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Tweede Sessie van die Konferensie van Partye (COP 2) was in Geneve, Switserland 8-19 Julie 1996 gehou.  By hierdie vergadering was die bevindinge van die Inter-regeringspaneel oor Klimaatverandering (Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC)) aanvaar en bespreek.  Daar was ook besluit om die vervaardiging van kweekhuisgasse met behulp van wettig-bindende ooreekomste te beperk.

Die Derde Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Derde Sessie van die Konferensie van Partye (COP 3) was in Kioto in Japan van 1 tot 11 Desember 1997 aangebied.

Die doel van hierdie vergadering was om ‘n internasionale verdrag te sluit wat lande wettig sal bind tot die vermindering van mensgemaakte kweekhuisgasse wat die hoofoorsaak van Klimaatsverandering is.

Die Kioto Protokol of Kioto Verdrag is die implementering van die doelstelling van die die Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering om Klimaatsverandering te beperk deur om kweekhuisgasse (koolsuurgas (CO2), stikstofoksied (N2O), hidrofluorokoolstowwe (HFCs), perfluorokoolstowwe (PFCs), swaelheksafluoried (SF6) en stikstoftrifluoried (NF3), wat in die atmosfeer vrygestel word, te verminder.

Een van die beginsels van die Kioto Protokol is dat ontwikkelde lande, weens hul historiese aandadigheid, ‘n groter aanspreeklikheid t.o.v. die teenwoordigheid van  atmosferiese kweekhuisgasse as ontwikkelende lande het.  Ontwikkelde lande is vir meeste van die kweekhuisgasse in die atmosfeer verantwoordelik en moet dus volgens die verdrag meeste bydra om die vrystelling van kweekhuisgasse in die tydperk 2008-2012 te beperk terwyl ontwikkelende lande minder inperkings in die gesig staar1.

Alhoewel die begingsels van die Kioto Protokol goedbedoeld was, het daar weinig daarvan gekom want die grootste produseerders van kweekhuisgasse, naamlik VSA en China en die grootste uitvoerder van steenkool naamlik Australië, het geweier om die verdrag te teken.  Ten spyte van die feit dat die 36 lande wat die verdrag onderteken het, wel hul kweekhuisgas-vrystellings verminder het, was daar ‘n 32% toename in kweekhuisgas-vrystellings wêreldwyd tussen 1990 en 2010.

Die Vierde Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Vierde Sessie van die Konferensie van Partye (COP 4) was in Buenos Aires, Argentinië van 2 tot 14 November 1998 aangebied.

Die doel van hierdie vergadering was om die onopgeloste sake wat van die Kyoto-vergadering (COP 3) oorgestaan het, uit te sorteer.  Die sake kon nie uitgepraat word en daar was toe nie tot ‘n vergelyk gekom nie.  Die vergadering het instede met ‘n twee jaar Plan van Aksie vorendag gekom om meganismes in plek te stel om die Kioto Protokol uitvoerbaar te maak.

Die Vyfde Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Vyfde Sessie van die Konferensie van Partye (COP 5) was in Bonn in Duitsland van 25 Oktober tot 5 November 1999 aangebied.  Dit was ‘n vergadering wat hoofsaaklik tegniese sake bespreek het en daar was geen groot besluite geneem nie.

Die Sesde Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Sesde Sessie van die Konferensie van Partye (COP 6) was in Den Haag in Nederland van 13 tot 25 November 2000 aangebied.

By hierdie vergadering is hoofsaaklik op die groot politieke aspekte rondom Klimaatsverandering gefokus.  Die kontroversiële voorstel van die VSA om Klimaatsverandering-krediet aan lande, soos hulself, wat groot koolstofputte in die vorm van woude en landerye het, te gee.  Ondanks die feit dat ‘n groot hoeveelheid koolsuurgas in koolstofputte soos woude en gewasse vasgevang word, was dit ‘n slinkse poging van die wêreld se grootste kweekhuisgas-vervaardiger op daardie stadium om hul verpligtinge teenoor die res van die wêreld te ontduik.  Daar was ook ernstige meningsverskille oor sake soos wat die gevolge sal wees as lande nie hul kweekhuisgas-verpligtinge nakom nie en hoe ontwikkelende lande finansiële ondersteuning sal kry om hul kweekhuisgas-verpliginge na te kom en om die effek van Klimaatsverandering af te weer.

In die laaste ure van die vergadering het die Europese Unie die kompromieë tussen die VSA en EU lande verwerp en die vergadering het ontbind met die onderneming om dit later die volgende jaar in Bonn voort te sit.

Die tweede vergadering van die Sesde Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Sesde Sessie van die Konferensie van Partye (COP 6 bis) was in Bonn in Duitsland van 17 tot 27 Julie 2001 vervat om ‘n oplossing vir die doodloopstraat waarin die besprekinge in Den Haag vasgeval het, te kry.  Hierdie vergadering het plaasgevind nadat George Bush die president van die VSA geword het en die VSA afvaardiging het summier die Kioto Protokol se onderhandelings en ondernemings by die vergadering verwerp.  Al die ander deelnemende lande het die volgende besluite ondersteun:

  • Buigbare meganismes wat toelaat dat ontwikkelde lande ontwikkelende lande se kweekhuisgas-vermindering inisiatiewe finansier in ruil vir hul verpligte plaaslike kwota van kweekhuisgas-vermindering.
  • Die hoeveelheid koolsuurgas wat in koolstofputte in lande opgeneem word sal teenoor hul kweekhuisgas-vermindering kwota afgeskryf word. Dit sluit woud- en landboubestuur strategieë in.
  • Nakoming van kweekhuisgas-vermindering voornemens sal afgedwing word.
  • Finansiële hulp vir Klimaatsverandering-beperking strategieë sal deur middel van drie nuwe fondse verleen word.

Die Sewende Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Sewende Sessie van die Konferensie van Partye (COP 7) was in Marrakesh in Morokko van 29 Oktober tot 10 November 2001 aangebied.

Die fokuspunt van hierdie vergadering was om onderhandelaars die geleentheid te gee om die Buenos Aires se Plan van Aksie af te handel wat meeste van die operasionele details van die Kioto Protokol in plek sit vir die lande om dit goed te keur en te onderteken.  Die besluite en ondernemings wat op hierdie kongres geneem is word die Marrakesh Ooreenkomste (Marrakech Accords) genoem.  Die VSA afvaardiging het by hierdie vergadering weereens slegs as waarnemers opgetree en het nie aan die onderhandelings deel geneem nie en wou niks onderteken nie.

Daar was besluit dat die Kioto Protokol in werking gestel sal word by die Wêreldberaad vir Volhoubare Ontwikkeling (World Summit on Sustainable Development) wat die volgende jaar in Johannesburg in Suid-Afrika gehou sou word.

COP 7 het hoofsaaklik op die regulasies, boetes en boekhouding rondom kweekhuisgas-vermindering kwotas en die uitruil van verpligtinge tussen lidlande gefokus.

Die Agste Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Agste Sessie van die Konferensie van Partye (COP 8) was in Nieu-Delhi in Indië van 23 Oktober tot 1 November 2002 aangebied.

Van die besluite wat daar geneem was is die aanvaarding van die Delhi Ministeriële Verklaring dat ‘n oordrag van tegnologie wat Klimaatsverandering beperk van ontwikkelde lande na ontwikkelende lande oorgedra moet word.

Die besluitnemingsproses was in die wiele gery deur Rusland se huiwering om hulself tot die vermindering van kweekhuisgasse te verbind op die vooraand van die implementering van die Kioto Protokol.  Die Kioto Protokol kon slegs geïmplementeer word as 55 lande, waaronder lande wat tesame vir 55% van die wêreld se koolsuurgas-vrystellings verantwoordelik is, dit bekragtig het.  In die lig van die feit dat die VSA wat vir meer as 36% van die wêreld se koolsuurgas-vrystellings verantwoordelik was en Australië (die wêreld se grootste steenkool-uitvoerder) geweier het om die protokol te onderteken, was Rusland, wat vir 17% van die wêreld se koolsuurgasvrystellings verantwoordelik is, se ondersteuning van die protokol allerbelangrik om dit in werking te stel.

Die Negende Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Negende Sessie van die Konferensie van Partye (COP 9) was in Milaan in Italië van 1 tot 12 Desember 2003 aangebied.

Hier was daar besluit om van die Aanpassingsfonds wat tydens COP 7 in 2001 op die been gebring is te gebruik om ontwikkelende lande by te staan om die impak van Klimaatsverandering teen te werk.  Die fonds was ook geoormerk om Klimaatsverandering-bekampingstegnologie van ontwikkelde lande na ontwikkelende lande oor te dra.

Die Tiende Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Tiende Sessie van die Konferensie van Partye (COP 10) was weer in Buenos Aires in Argentinië van 6 tot 17 Desember 2004 aangebied.

Hier was die vordering wat oor die voorafgaande tien jaar en toekomstige uitdagings ten opsigte van Klimaatsverandering bespreek.  Die Buenos Aires Aksieplan wat op die hulp aan ontwikkelende lande om die effek van Klimaatsverandering beter te hanteer was by hierdie vergadering aanvaar.  Strategieë om kweekhuisgas-vrystellings in die post-Kioto tydperk na 2012 te beperk, was bespreek.

Die Elfde Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Elfde Sessie van die Konferensie van Partye (COP 11) en die First Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 1)), was in Montreal in Kanada van 28 November tot 9 Desember 2005 aangebied.

Dit was die grootste inter-regeringskonferensie oor Klimaatsverandering ooit – hierdie vergadering was deur meer as 10 000 afgevaardiges bygewoon.  Die Montreal Aksieplan was saamgestel om die Kioto Protokol se doelstellings in die tydperk na 2012 voor te sit en groter vordering te toon ten opsigte van kweekhuisgas-inperkings.

Die Twaalfde Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Twaalfde Sessie van die Konferensie van Partye (COP 12) en die Second Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 2)), was in Nairobi in Kenia van 6 tot 17 November 2006 aangebied.

‘n Vyf jaar aksieplan was tot stand gebring om bystand aan ontwikkelende lande te verleen met die implementering van strategieë, soos skoon ontwikkeling, om die impak van Klimaatsverandering op hierdie lande te verminder.  Hierdie inisiatiewe was deur die Aanpassingsfonds befonds.

Die Dertiende Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Dertiende Sessie van die Konferensie van Partye (COP 13) en die Third Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 3)), was in Nairobi in Bali in Indonesië op 3-15 Desember 2007 gehou.

Hier was ‘n post-2012 kweekhuisgas-vermindering program opgestel wat as die Bali Aksieplan bekend staan.

Die Veertiende Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Veertiende Sessie van die Konferensie van Partye (COP 14) en die Fourth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 4)), was in Proznań in Poland op 1-12 Desember 2008 gehou.

Hier was die befondsing van hulp aan die armste lande wat met die impak van Klimaatsverandering worstel, en die behoud van woude as teenvoeter vir kweekhuisgasse bespreek.  Die onderhandelinge vir ‘n opvolger van die Kioto Protokol was die hooffokus van hierdie vergadering.

Die Klimaatkwesbare Forum (Climate Vulnerable Forum (CVF)) was deur die regering van Maldive in 2009 in die lewe geroep.  Die doel van die forum is om die belange van kleiner, polities kwesbare lande, wat min kweekhuisgasse vrystel maar die ergste deur die impak van Klimaatsverandering getref gaan word, te verteenwoordig.  Elf regerings van Afrika, Asië, die Amerikas en die Stille Oseaan is lede van hierdie forum.  Een van die hoofdoelstellings van hierdie forum is om geïndustrialiseerde lande te oorreed om verantwoordelikheid vir kweekhuisgas-vrystellings te neem.  Hierdie forum is voor die COP 15 kongres in Kopenhagen gestig juis om die stem van kleiner lande meer hoorbaar te maak.

Die Vyftiende Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Vyftiende Sessie van die Konferensie van Partye (COP 15) en die Fifth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 5)), was in Kopenhagen in Denemarke op 7-18 Desember 2009 gehou.

Die doel van hierdie vergadering wat deur meer as ‘n honderd staatshoofde en leiers van verskeie lande bygewoon is, was om ‘n ooreenkoms op die vrystelling van kweekhuisgasse na 2012 te bewerkstellig.  Die besprekinge was volgens die media erg antagonisties, deurmekaar en swak polities gemotiveerd en alhoewel daar ooreengekom is dat alles gedoen moet word om te verhoed dat die temperatuur tot en met 2°C styg was die Kopenhagen Ooreenkoms nie wettig bindend nie.  Die Kopenhagen Ooreenkoms was deur die VSA en vier ander lande naamlik: China, Indië, Suid-Afrika en Brasilië, opgestel.  Die interessante feit is dat hierdie lande ook van die lande is wat meeste kweekhuisgasse vrystel.  Dit was ook die eerste keer dat China aan ‘n Klimaatsverandering-vergadering deelgeneem het.  Jacob Zuma het Suid-Afrika verteenwoordig.

Die Ambro Verklaring was by die Tawara Klimaatsverandering Konferensie wat op 10 November 2010 in Kiribati Eilandgroep in die Stille Oseaan gehou is, uitgereik.  Die kongres was deur afgevaardiges van Australië, Nieu Seëland, Brasilië, China, Kuba, Fiji, Japan, Kiribati, Maldives, Marshall Eilande, Solomon Eilande en Tonga bygewoon.  Benewens dat die verklaring ‘n desperate wekroep van klein lande wat die kwesbaarste vir die effek van Klimaatsverandering is, het die verklaring geen wettige status nie en is nie bindend nie.  Die verteenwoordigers van die VSA, VK en Kanada wat die konferensie bygewoon het, het geweier om die verklaring te teken.

Die Sestiende Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die Sestiende Sessie van die Konferensie van Partye (COP 16) en die Sixth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 6)), was in Cancún, Meksiko van 29 November tot 10 Desember 2010 gehou.

In ‘n poging om die fiasko van die Kopenhagen Ooreenkoms te vermy was daar voorvergaderings tussen partye met konflikterende belange gehou sodat COP 16 glad kan verloop en dat daar tot ‘n vergelyk tussen deelnemende lande kon kom.  Die eerste drie vergaderings was in Bonn in Duitsland in April, Junie en Augustus gehou.  Hierdie vergaderings is almal as mislukkings beskou.  Ongeag die feit dat die VSA en China nie tot ‘n vergelyk by die vierde vergadering wat in Tianjin in China gehou is, het Christina Figueres die Uitvoerende Sekretaris van die Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie van Klimaatsverandering gesê: “This week has got us closer to a structured set of decisions that can be agreed in Cancun … This is the greatest societal and economic transformation that the world has ever seen.”

Ban Ki-moon, die Sekretarisgeneraal van die Verenigde Nasies was minder optimisties en het by die opening van COP 16 genoem dat hy twyfel of die ledelande ‘n algemeen aanvaarbare bindende ooreenkoms sal bereik en dat inkrementele stappe tot kweekhuisgasvermindering ‘n meer pragmatiese benadering sal wees.

By hierdie vergadering was die volgende punte bevestig:

  • Dat Klimaatsverandering ‘n dringende en potensieël onomkeerbare bedreiging vir beskawing en die planeet inhou.
  • Dat Klimaatsverandering een van die grootste uitdagings is wat die mensdom ooit in die gesig gestaar het.
  • Dat alle lande moet saamwerk om die effek van Klimaatsverandering te beperk.
  • Dat die vergadering die wetenskaplike bewyse wat Klimaatsverandering bevestig aanvaar en dat die hoofoorsaak van Klimaatsverandering die effek van mensgemaakte kweekhuisgasse in die atmosfeer is.
  • Dat die vermindering van kweekhuisgas-vrystellings die belangrikste vereiste is om te keer dat die aarde se temperatuur tot 2°C hoër as voorindustriële vlakke styg.

Een van die belangrikste besluite wat by die vergadering geneem was is dat ‘n Groen Klimaatsfonds (Green Climate Fund) van ongeveer $100 miljard op die been gebring word om armer lande by te staan om hul Klimaatsverandering-mylpale te bereik.  ‘n Tweede besluit was om ‘n Klimaatstegnologie Sentrum en Netwerk (Climate Technology Centre and Network) tot stand moet kom sodat tegnologie en kundigheid oor die vermindering van kweekhuisgas-vrystellings tussen lande gedeel kan word.  Daar was ook ‘n poging om deelnemers aan ‘n tweede verbintenis tot die Kioto Protokol te verbind en om kweekhuisgas-vrystellings tussen 25-40% onder 1990 vlakke teen 2020 te verminder.

Daar kon egter nie tot ‘n vergelyk kom oor hoe die Kioto Protokol te verleng nie, hoe die $100 miljard vir die Groen Klimaatsfonds gegenereer sal word nie of ontwikkelende lande tot vermindering van kweekhuisgasse moet verbind word, of dat ontwikkelde lande eerste hulle kweekhuisgas-vrystellings moet verminder.  Alhoewel die verteenwoordigers almal met die gevolgtrekkings saamgestem het, was daar min afdwingbare besluite geneem.

Die Sewentiende Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Sewentiende Sessie van die Konferensie van Partye (COP 17) en die Seventh Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 7)), was van 28 November tot 11 Desember 2011 in Durban in Suid-Afrika gehou.

Die hoofdoel van hierdie kongres was weereens om ‘n ooreenkoms te bereik om opnuut na 2012 mylpale en strategieë in plek te stel om kweekhuisgas-vrystellings te beperk.  Die deelnemers het eers op die laaste dag van die kongres, na ‘n maraton beraadslaging van 60 uur, tot ‘n vergelyk gekom.

In die verdrag, wat as die Durban Platform bekend staan, onderneem die deelnemende lande om hulself tot ‘n wetting-afdwingbare ooreenkoms te verbind wat teen 2015 gedefinieër sal word en wat teen 2020 in werking gestel sal word.  Een van die belangrikste deurbrake van hierdie kongres is dat hierdie dokument deur die VSA, China en Indië, die wêreld se grootste kweekhuisgas-vervaardigers, wat nie die Kioto Protokol wou onderteken nie en nie hulself voorheen aan sulke ooreenkomste wettig wou verbind nie, onderteken is.

Daar was ook vordering met die totstandkoming van die Groen Klimaatsfonds.  Wetenskaplikes en klimaatsveranderingkundiges het egter gewaarsku dat hierdie ooreenkoms nie genoeg sal wees om die styging van aardverhitting onder 2°C te hou nie.

Die Agtiende Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Agtiende Sessie van die Konferensie van Partye (COP 18) en die Eighth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 8)), was in Doha, Katar van 26 November tot 7 Desember 2012 gehou.

Die VSA, een van die grootste kweekhuisgas-vrystellers is, het nie die Kioto Protokol, weens die wettig-bindende aard daarvan, bekragtig nie en China, wat toe reeds die grootste kweekhuisgas-produseerder was, het nie die Kioto vergadering bygewoon nie.  Dit was die hoofrede hoekom die internasionale klimaatsonderhandelings skipbreuk gelei het.  ‘n Stapel dokumente wat as die Doha Klimaatspoort (The Doha Climate Gateway) bekend staan, het die besluite wat tydens hierdie kongres geneem is, verwoord.

Die mislukking van die Kioto Protokol om die kweekhuisgas-vrystellings wêreldwyd hok te slaan, het tot die Doha Wysiging op die Kioto Protokol gelei.  Volgens die Doha Ooreenkoms is ‘n onderneming deur deelnemende lande onderteken dat kweekhuisgasse tussen 2013 en 2020 met 18% (gemeet teenoor 1990 vlakke) ingeperk sal word.  Stikstoftrifluoried is by die ander kweekhuisgasse ingesluit.  Belarus, Ukraïene en Rusland het die Doha Wysiging gekritiseer.

Die Negentiende Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Negentiende Sessie van die Konferensie van Partye (COP 19) en die Ninth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 9)), was in Warskou in Poland van 11 tot 23 November 2013 gehou.

Die enigste noemenswaardige bydrae van hierdie vergadering was die samestelling van die Warskou Raamwerk vir REDD-plus.  REDD-plus staan vir Reducing emissions from deforestation and forest degradation and the role of conservation, sustainable management of forests and enhancement of forest carbon stocks in developing countries.

Die Twintigste Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Twintigste Sessie van die Konferensie van Partye (COP 20) en die Tenth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 10)), was in Lima in Peru van 1 tot 12 Desember 2014 gehou.

By hierdie vergadering was die 192 ondertekenaars van die Kioto Protokol aangemoeding om die Doha Ooreenkoms te bekragtig. Teen 14 Mei 2015 het slegs 31 lande van die oorspronklike 192 ondertekenaars van die Kioto Protokol dit bekragtig.

Die Een-en-twintigste Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Een-en-twintigste Sessie van die Konferensie van Partye (COP 21) en die Eleventh Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 11)), was in Parys in Frankryk van 30 November tot 12 Desember 2015 gehou.

Die Parys Ooreenkoms was op 12 Desember 2015 bekragtig.  Die Parys Ooreenkoms het ten doel om nuwe Klimaatsverandering-inperkingsmaatreëls vanaf 2020 in te stel.  Die aanvaarding van die Parys Ooreenkoms het die werk van die Durban Platform van COP 17 afgehandel.

Die Twee-en-twintigste Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Twee-en-twintigste Sessie van die Konferensie van Partye (COP 22) en die Twelfth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 12)), was weer in Marrakesh in Morokko van 7 tot 18 November 2016 gehou.

Een van die hoofpunte wat by hierdie vergadering bespreek is is die verskynsel van waterskaarste, watergesondheid en waterverwante volhoubaarheid, wat veral in Afrika lande agteruitgegaan het.  “n Ander hoofpunt was die vermindering van kweekhuisgasse en die gebruik van lae koolstof-vrystellende energiebronne.  Daar was ook ‘n beroep om kweekhuisgas-vrystellings te verminder deur om die wêreld-ekonomie te transformeer.

Die Drie-en-twintigste Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Drie-en-twintigste Sessie van die Konferensie van Partye (COP 23) en die Thirteenth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 13)) en die Tweede Vergadering van die Partye van die Parys Ooreenkoms (CMA1.2), was weer in Bonn in Duitsland van 6 tot 17 November 2017 gehou.

Die hoofdoel van hierdie vergadering was om die implementering van planne om Klimaatsverandering hok te slaan te bespreek.  Die ontplooing van doelstellings van die Parys Ooreenkoms in 2020 was ook bespreek.  Die Talanoa Dialoog – ‘n proses wat lande bystaan om hul Klimaatsverandering-bekampingsdoelstellings teen 2020 in plek te kry, was tydens hierdie vergadering opgestel   Dit was die eerste COP vergadering nadat President Donald Trump die ontrekking van die VSA uit die Parys Ooreenkoms aangekondig het.

Die Vier-en-twintigste Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Vier-en-twintigste Sessie van die Konferensie van Partye (COP 24) en die Fourteenth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 14)), en die Derde Vergadering van die Partye van die Parys Ooreenkoms (CMA1.3),was in Katowitz in Poland van 2 tot 15 Desember 2018 gehou.

Die hoofdoel van die vergadering was om ‘n volle implementering van die Parys Ooreenkoms te bekragtig.

Die vergadering volg op die afkondiging deur die Wêreld Meteorologiese Organisasie dat die atmosferiese koolsuurgasvlakke in 2017 die vlak van 405 dele per miljoen bereik is – die hoogste vlak in ongeveer 4 miljoen jaar.  In Oktober 2018, het die Inter-regeringspaneel oor Klimaatverandering die verklaring uitgereik dat die aarde se temperatuur reeds met 1.5°C gestyg het.

Die Vyf-en-twintigste Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Vyf-en-twintigste Sessie van die Konferensie van Partye (COP 25) en die Fifteenth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 15)), en die Partye van die Parys Ooreenkoms se Tweede Sessie (CMA2),was in Madrid in Spanje van 11 tot 22 November 2019 gehou.

Oorspronklik sou hierdie vergadering in Brasilië gehou gewees het maar nadat Jair Bolsonaro die verkiesing gewen het, het hy Brasilië se aanbod om gasheer te wees, onttrek.  Die besluit was toe geneem om die vergadering na Chile toe te verskuif, maar weens die opstande wat in 2019 uitgebreek het, het die Chileense President Sebastián Piñera Chile se aanbod om gasheer te wees, teruggetrek.  Spanje, die ou koloniale reus, wat Suid-Amerika eens beheer het, het toe die verantwoordelikheid aanvaar om dit in plek van sy oproerige telge aan te bied.

Die resultate van hierdie vergadering was teleurstellend veral in die lig van die dringendeheid van die effek van Klimaatsverandering wat al hoe meer merkbaar word.  Alden Meyer, direkteur van strategie en beleid van die Unie van Besorgde Wetenskaplikes (Union of Concerned Scientists) noem dat hy nog nooit so ‘n diskonneksie gesien tussen wat wetenskaplik vereis word om Klimaatsverandering hok te slaan en die Klimaatsverandering-onderhandelings wat by die vergadering plaasgevind het nie.  Die besprekings oor die koolstofmark en kweekhuisgas vrystelling-inperkings was in die wiele gery deur afgevaardiges van die VSA, Rusland, Indië, China, Brasilië en Saudi Arabië en moes oorstaan na die volgende jaar se vergadering.

Die Europese Unie het egter tot ‘n vergelyk gekom en die Groen Ooreenkoms (Green Deal) aanvaar waarin hulle ooreengekom het om hul kweekhuisgas-vrystellings tot zero teen 2050 te verminder.

Die Ses-en-twintigste Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Ses-en-twintigste Sessie van die Konferensie van Partye (COP 26) en die Sixteenth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 16)), en die Partye van die Parys Ooreenkoms se Derde Sessie (CMA3), was in Glasgow in Die Verenigde Koninkryk van 9 tot 19 November 2020 gehou.

Na beraadslaging tussen verteenwoordigers van 200 lande was die Glasgow Klimaatsverdrag (Glasgow Climate Pact) onderteken. Die verdrag sluit in:

  • ‘n Ooreenkoms om die inperking van die vrystelling van kweekhuisgasse by COP 27 in 2022 verder te bespreek om die Parys Ooreenkoms se doelstelling om aardverhitting tot 1.5°C bo voorindustriële vlakke te beperk, te bereik.
  • Die eerste verbintenis om die gebruik van steenkool wêreldwyd te verminder.
  • ‘n Verbintenis om ontwikkelende lande se klimaatsverwante uitgawes te finansier.

Die Sewe-en-twintigste Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Sewe-en-twintigste Sessie van die Konferensie van Partye (COP 27) sal in Sharm El Sheikh in Egipte in November 2022 aangebied word.

Die Agt-en-twintigste Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Agt-en-twintigste Sessie van die Konferensie van Partye (COP 28), ook bekend as die Eighteenth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 18)), sal in 2023 in Dubai in die Arabiese Emiritate aangebied word.

Die Nege-en-twintigste Verenigde Nasies se Raamwerk Konvensie oor Klimaatsverandering, ook bekend as die die Nege-en-twintigste Sessie van die Konferensie van Partye (COP 29), ook bekend as die Nineteenth Conference of the Parties serving as the Meeting of the Parties to the Kyoto Protocol (CMP 19)), sal in Australië en die omliggende eilandstate in 2024 aangebied word.

error: Content is protected !!