SINAPSIEDE 5: Woordelys
Aambeeld of inkus is die tweede oorbeentjie of oorossikel in die middeloor van soogdiere. Dit is tussen die hamer (malleus) en die stiebeuel (stapes) geleë. Dit het vanuit die reptiel-kaakskarnierbeentjie, die kwadraat, ontstaan.
Aasvreter is ‘n dier wat karkasse van dooie diere vreet. Aasvreters sluit werwediere soos hiënas en jakkalse in, maar ook talle ongewerweldes soos maaiers van brommers, aaskewers, slakke, krappe, krewe en selfs duisendpote in. In die geval van insekte en baie klein ongewerweldes soos nematode gebruik ons meer dikwels die terme detrivoor en detrivorie.
Actinopterygii of straalvinvisse is ‘n klas (of sublas volgens sekere klassifikasies) onder die klas (of superklas volgens sekere klassifikasies) Osteichthyes of beenvisse. Straalvinvisse is die grootste groep werweldiere en bevat meer as helfte van alle werweldierspesies (27 000 ekstante spesies). Die uitstaande kenmerk van hierdie groep is die dun been en kraakbeenstafies in hul vinne wat die vin versterk. Actinopterygii word in twee subklasse – die Chondrostei en Neopterygii verdeel. Die Neopterygii word verder in die infraklasse Holostei en Teleostei verdeel waarvan laasgenoemde meer as 26 000 spesies bevat wat dit die grootste werweldiergroep maak. Hulle kom in alle oseane en in baie varswaterhabitatte voor. Die straalvinvisse het in die Laat Siluur ongeveer 420 Mjg ontstaan.
Agnatha of kaaklose visse het in die Ordovisium Periode ontstaan, in die Siluur Peiode vermeerder en in die Devoon Periode hul hoogtepunt in getalle en diversiteit bereik en het in oseane regoor die Aarde voorgekom. Vandag word hierdie groep deur slegs sowat 120 spesies verteenwoordig – die lampreie en slympalings wat ook in sekere klassifikasies Cyclostomata genoem word. Die oudste fossiele van die kaaklose visse is in Kambriese rotse gevind. Hierdie visse het ronde, kaaklose monde, geen aanhangsels, mae of werwels nie. Hulle het egter ‘n notochoord en meer pare kiewe as wat kaakvisse het. Kaaklose visse van die oertyd sluit konodonte en Ostracodermi in.
Akkedis – sien Lacertilia.
Ameridelphia is ‘n superorde van buideldiere wat in Noord- en Suid-Amerika voorkom. Hierdie superorde sluit 108 spesies opossums, wat aan die orde Didelphimorphia hoort en 7 spesies muisopossums, wat aan die orde Pucituberculata hoort, in. Die enigste buideldier, wat ten spyte van die feit dat dit in die Amerikas voorkom, saam met die Australiese buideliere geklassifiseer word omdat dit naasverwant aan die voorouer van die Australiese buideldiere is, is die klein Monito del Monte van die woude van Suid-Amerika.
Amfibieë is tetrapode wat aan die klas Amphibia hoort. Hierdie groep, wat vanuit die lobvinvisse ontstaan het, se fossiele verskyn vir die eerste keer in die Devoon, ongeveer 390 Mjg. Hierdie eerste landlewende werweldiere, wat ons ook die basale tetrapode noem, het waarskynlik oorspronklik net op land gekom om te jag terwyl hulle die res van die tyd in mere, moerasse en riviere geleef het. Mettertyd het meeste van hul nasate permanent op land geleef en net na die water teruggekeer om daar voort te plant. Hulle is dan ook die enigste tetrapode wat ‘n larwale stadium in hulle ontwikkeling het. Amfibieë het:
- Naakte, klierryke velle wat hulle saam met ‘n verskeidenheid van organe soos longe, kiewe (in larwes en sekere volwassene diere soos die Axalotl), vel van die mond vir respirasie gebruik.
- Drie hartkamers om die dubbele bloedsirkulasie meer effektief te fasiliteer en sintuie wat aangepas is om buite water te funksioneer.
- Skelette wat aangepas is om hul gewig buite die water te ondersteun,
- Aanhangsels, heup- en skouergordels aangepas vir beweging op land
- Ribbekaste om hul interne organe te beskerm.
- Eerste werweldiere wat nekke ontwikkel het. Nekke laat kopbeweging toe.
- Meeste bly in klam gebiede en het gedragspatrone ontwikkel om uitdroging te keer en om uithongering te voorkom – hulle is dus meestal naglewend en bly in gate of ander skuilplekke in die dag en hiberneer in die winter.
Amfibieë was in die Karboon Periode die dominante werweldiergroep op land maar was in die Perm Periode deur die sinapsiede as dominante werweldiergroep vervang wat amfibieërdiversiteit erg geraak het – die subklasse Anthracosauria en Temnospondyli het verdwyn en slegs die subklas Lissamphibia (wat die moderne amfibieë insluit) het oorgebly. Moderne amfibieë hoort aan die orde Anura (paddas en skurwepaddas), die orde Urodela en die orde Gymnophiona (rubbersalamanders). Daar is tans ongeveer 7 000 ekstante spesies bekend.
Amnionmembraan is die membraan wat die embrio van die amniote (reptiele, voëls en soogdiere) omring. Die funksie van die membraan is om die embrio te beskerm en die amniotiese vloeistof, waarin die embrio gebaai word, te omsluit. Die amniotiese vloeistof keer dat die embrio uitdroog en dat weefsel, wat aan mekaar raak, vasgroei.
Amniote sluit die reptiele, voëls en soogdiere in. Dit is landlewende diere (alhoewel sommiges later weer seelewend geword het) wat eiers buite die water lê (d.w.s. voor plasentale soogdiere ontstaan het). Die amnioot-eier het ‘n amnionmembraan wat die embrio omhul. Hierdie eiers het leeragtige of kalkagtige doppe wat die inhoud van die eier teen uitdroging beskerm en word dus buite die water gelê. Die dooier binne die eier dien as kosbron wat die embrio onderhou. In die geval van amfibieë moet die larwes op ‘n baie vroeë stadium van hul ontwikkeling uitbroei om hul eie kos te vind. Amniote het dus nie ‘n larwale stadium in hul ontwikkeling nie. Lewendbarende amniote (soos buideldiere en plasentale soogdiere) het eiers met ontwikkeling in die baarmoeder vervang. Die oudste onbetwisbare reptiel (en dus amnioot) waarvan ons weet is Hylonomus wie se spore in 315 miljoen jaar oue Karboon lae in Nova Scotia in die VSA ontdek is. Die skelet van Hylonomus dui daarop dat hierdie akkedisagtige diertjie insekte gevreet het.
Amphioxus is die naam van die ikoniese voorbeeld van die Cephalochordata wat in Dierkunde handboeke en praktiese klasse gebruik word. Hierdie ongeveer 25-80mm lange diertjie, lyk amper soos ‘n deursigtige smal vissie. Hulle begrawe hul sterte en tot so twee derdes van hul lyf tussen die sand op die seebodem in en voed dan op mikro-orgnismes en voedseldeeltjies wat in die water dryf. Daar is 30-35 spesies wat aan die genusse Branchiostoma en Epigonichthys hoort. Die genusnaam Branchiostoma het mettertyd die oorspronklike genusnaam Amphioxus vervang, maar Amphioxus was so welbekend dat dit nou as gewone noemnaam vir lede van die Cephalochordata gebruik word. Die Cephalochordata is die sustergroep naasverwant aan die werweldiere en al die chordaatkenmerke kom in die lede van die Cephalochordata van embrionale ontwikkeling tot en met hul dood voor. Cephalochordata het m.a.w. ‘n notokoord, kiefsplete, post-anale stert, hol dorsale senuweekoord en ‘n endostiel regdeur hul lewe.
Amphisbaenia of wurmakkedisse is ‘n groep van meer as 200 ekstante reptiele met verlengde liggame en wat hul ledemate verloor het. Die lede van die genus Bipes het hul arms behou, maar al die ander wurmakkedisse is pootloos. Omdat hulle met hul koppe grawe en ondergronds bly is die elemente van hul skedel vergroei en versterk. Hulle oë is rudimentêr en is met vel en skubbe bedek maar kan nog steeds lig wat deur die vel skemer met die retina waarneem. Die ore se oorkanale het verdwyn. Om ruimte in hul smal lywe te bespaar word slegs die regterlong ontwikkel, in teenstelling met slange waar slegs die linkerlong ontwikkel. Wurmakkedisse woon ondergronds waar hulle op miere en termiete en ander klein ongewerweldes voed. Hulle het een tandjie in die middel van die bokaak en meeste spesies het pienk liggame en hul skubbe is in ringe om hul lywe gerangskik wat hulle soos erdwurms laat lyk. Meeste spesies is onder 15 cm lank. Meeste spesies kom in die suidelike halfrond voor en kom wydverspreid in Afrika en Suid-Amerika voor. Hulle kom egter ook op die Karibbiese Eilande, in die Midde Ooste, in Morokko en Spanje en in klein gebiede van die heel westelike en oostelike gebiede van Noord Amerika voor.
Ampullas kom op die eindpunte van die drie halfmaanvormige kanale in die werweldier se binneoor voor. Elke halfmaanvormige kanaal sluit by ‘n ronde blasie, dubbel die deursneë van die kanaal, aan. Hierdie blasies staan as die voorste, odemagterste en horisontale ampullas bekend. In elke ampulla is daar ‘n trossie gevoelshaartjies wat met ‘n jellieskede of koppie (capula) omhul is. Wanneer die kop in enige rigting in ruimte gedraai word, buig die versnellingstraagheid of inersie hierdie gevoelshaarties wat dan inligting ten opsigte van die rigting van rotasie na die brein stuur.
Anapsida is ‘n subklas van die reptiele wat, anders as die ander subklasse, die Synapsida en Diapsida, geen temporale vensters (openinge in die slaapwyk agter die oogkas) in die skedel het nie. Daar was talle anapsiedgroepe in die Karboon en die Perm Periodes, maar meeste het teen die einde van die Perm uitgesterf. Alhoewel primitiewe anapsiede postkaniene tande gehad het, het meer gevorderde anapsiede soos die Dicynodontia grotendeels hul tande, buiten die slagtande in die bokaak, verloor en het ‘n horingagtige bek gehad.
Angulêre been is ‘n beenelement wat agter op die tetrapood se onderkaak onder die artikulêre been voorkom. Die agterste rand van die angulêre been van soogdieragtige reptiele is uitgehol en het die trommelvlies gehuisves. Die timpaniese ring wat in soogdiere die trommelvlies vasanker het uit die angulêre been ontstaan.
Anomocephaloidea is ‘n primitiewe groep anomodontiërs wat in Gondwanaland tydens die Middel Perm voorgekom het. Slegs twee spesies is bekend van hierdie groep nl. Anomocephalus africanus van Suid-Afrika en Tiarajudens eccentricus van Brasilië. Hulle was herbivories en het groot lywe gehad. Anders as die latere anomodontiërs, die Dicynodontia, het anomokefaloidiërs baie tande gehad. Hulle tande het dig teen mekaar gesluit en was aangepas om plante te eet. Tiarajudens het ook twee reusagtige lang slagtande vir verdediging of vertoon gehad.
Anomodontia is ‘n groep herbivoriese therapsiede (therapsiede staan deesdae bekend as die Neotherapsida) wat wêreldwyd in die Perm en Trias Periodes voorgekom het. Die anomodontiërs het die groepe soos Venyukovioidea, Dromasauria en die Dicynodontia ingesluit. Slegs die Dicynodontia het tot in die Laat Perm Periode oorleef. Die Dicynodontia was die volopste landlewende herbivore van die Laat Perm en Trias Periodes en het verskeie herbivoriese nisse gevul. Hulle het in grootte vanaf olifant-grootte diere tot klein tonnelgrawers gewissel. Meeste van die Dicynodontia het tydens die Perm-Trias uitwissing uitgesterf maar die wat oorleef het, het aan groot bonkinge herbivore oorsprong gegee wat tot aan die Laat Trias voorgekom het. Primitiewe anomodonte soos die Anomocephaloidea, Venyukovioidea en Chainosauria het baie tande gehad. Meeste lede van Dicynodontia het egter al hul tande buiten hul boonste slagtande verloor (sommige spesies het selfs dit ook verloor) en het snawelagtige bekke soos skilpaaie gehad.
Anomodontiërs – sien Anomodontia.
Anomokefaloidiërs – sien Anomocephaloidea.
Anthracosauria is ‘n uitgestorwe subklas van groot reptielagtige basale tetrapode wat vanaf die Karboon tot vroeë Perm Periodes voorgekom het. Die antrakosauriërs is nader aan die amniote as aan die ekstante lisamfibieë, soos paddas en salmanders, verwant.
Antorbitale venster is ‘n opening voor die oogkas op die snoet van meeste argosauriërs se skedels. Buiten vir die krokodille, kan mens dit op die skedels van thekodontiërs, dinosauriërs en voëls sien.
Anura (ἀνούρα, “sonder stert” in Antieke Grieks) is ‘n amfibieëorde wat paddas en skurwepaddas insluit. Anura kom in alle kontinente buiten Antarktika voor.
Apeks predator – sien Spitsroofdier.
Apoda – sien Wurmsalamanders.
Archaeopteryx is ‘n evolusionêre skakel tussen die dinosauriërs en die voëls. Dit kom in die Laat Jura-ouderdom gesteentes van Duitsland voor. Archaeopteryx word soms beskryf as die oudste voël (Urvogel in Duits), maar hulle skelette het weinig verskil van enige ander lid van die theropood-dinosauriër groep, die Eumaniraptora. Ten spyte van Eumaniraptora se dinosauriërkenmerke soos skerp tande, lang sterte, drie vinger hande met kloue en antorbitale en mandibulêre vensters, was die Eumaniraptora ook warmbloedig en het vere gehad.
Archosauria of argosauriërs, kan van ander diapsiede onderskei word omdat hulle verskeie unieke kenmerke, wat hulle van ‘n gemeenskaplike voorouer oorgeërf het, deel. Hierdie kenmerke is: tande wat in tandkaste gesetel is – vandaar die naam thekodontiër, antorbitale vensters op die snoet voor die oogkaste, wat help om die gewig van die skedel te verminder, mandibulêre vensters in die onderkaak (mandibel) en ‘n vierde troganter (knobbel) op die binneste oppervlak van die dybeen.
Archosauriformes of argosauriformiërs is ‘n groep diapsied reptiele wat ongeveer 250 miljoen jaar gelede uit ‘n Archosaurimorpha-voorouer in die Perm Periode ontstaan het. Dit word gedefinieër as die groep wat vanuit die laaste gedeelde voorsaat van die Proterosuchidae en die Archosauria ontstaan het. Hierdie groep bevat die Proterosuchidae, Erythrosuchidae, Euparkeriidae en die argosauriërs.
Archosauromorpha of argosauromorfiërs was nader aan die Archosauriformes as aan die Lepidosauria (die groep waaronder die slange en akkedisse val) verwant. Archosauromorpha het in die Middel Perm ontstaan. In die Trias Periode was hulle divers en het algemeen voorgekom. Die argosauromorfiërs sluit ‘n diverse groep reptiele in, onder andere: die allokotosauriërs, rhyngosauriërs, argosauriformes, Protosaurus en Prolacerta. Alle argosauromorfiërs word gekenmerk deur laminae op die werwels, ‘n posterodorsale proses op die premaksilla, ‘n afwesigheid van notokoord kanale en die verlies van die entepikondilêre foramen van die humerus.
Argosauriërs – sien Archosauria.
Argosauriformiërs – sien Archosauriformes.
Argosauromorfiërs – sien Archosauromorpha.
Artikulêre been vorm die agterste deel van die onderkaak van meeste werweldiere, insluitende die beenvisse, amfibieë, reptiele en voëls. In meeste van hierdie diere is die artikulêre been aan die superangulêre en die angulêre been vas. Dit ontstaan deur die verbening van die agterste gedeelte van die Meckel kraakbeen wat die embrionale onderkaak vorm. Die artikulêre been artikuleer met die kwadraat wat die agterste deel van die skedelbasis vorm. Die artikulêre been word die hamer (malleus) in die middeloor van soogdiere. Mens kan in soogdierembrios sien hoe die agterste deel van die Meckel kraakbeen afknoop en dan in die middeloor inbeweeg om die hamer te vorm.
Australidelphia is ‘n buideldier-superorde wat onder die infaklas Marsupialia voorkom. Al die buideldiere van Australië val onder die Australidelphia. Daar is egter een klein buideldiertjie wat in Suid-Amerika voorkom: die Monito del Monte, wat geneties die naaste aan die Australidelphia is, en dus saam met hulle as ‘n lid van die Australidelpia geklassifiseer word. Benewens die Monito del monte van die orde Microbiotheria, sluit die Australidelphia ook die 2 spesies marsupiaal-molle van die orde Notoryctemorphia, 71 spesies buidelmuise, buidelmarters, buidelmiervreters en Tasmaniese duiwel van die orde Dasyuromorphia, 21 spesies buideldasse van die orde Peramelemorphia, 117 spesies (wombats, kuskusse, koala, possums, vlieënde suiker-eekhorings, kangeroes, rotkangaroes en bettongs) van die orde Diprotodontia. Net om vir jou ‘n idee te gee hoeveel marsupiaal spesies daar is: daar is 335 buideldierspesies teenoor slegs 91 bokspesies op Aarde.
Basale amniote, stamreptiele of protoreptiele was die heel eerste werweldiere wat eiers, met doppe en ‘n amnionmembraan om die embrio, op land gelê het, in die Karboon Periode ontstaan. Basale amniote was die heel eerste amniote wat ongeveer 312 Mjg uit die reptielagtige amfibieë (ook bekend as reptiliomorfe tetrapode) soos Seymouria ontstaan het. Basale amniote het ‘n mengsel van plesiomorfiese (primitiewe) basale tetrapood en nuwe reptielagtige kenmerke gehad en was so goed vir lewe op land aangepas dat hulle waarskynlik net na die water teruggekeer het om daar voor te plant. Soos wat mens kan verwag met oorgangsvorme, is dit is baie moeilik om te bepaal watter diere reptielagtige amfibieë is en watter amfibieëagtige reptiele is. Aanvanklik het ons gedink dat Seymauria ‘n stamreptiel was totdat daar bewys is dat Discosauriscus eintlik Seymauria-larwes is, en dat hulle dus, ten spyte van die volwassenes se reptielagtige voorkoms, amfibieë moet wees. Van hierdie reptielagtige amfibieë soos Westlothiana lyk soveel soos moderne akkedisse dat mens na die skedelelemente moet kyk om te bevestig dat hulle eintlik amfibieë is. Dit is natuurlik ontmoontlik om te bepaal wanneer die eerste tetrapode eiers op land gelê het en wie dit gelê het aangesien die eerste eierdoppe sag en leeragtig soos dié van akkedisse was i.p.v. kalkagtig soos voëls en dinosauriërs s’n was en dus nie maklik gefossileer het nie. Die oudste amnioot kan moontlik Casineria wees, wat nog steeds ‘n temnospondiel was en dus die fisiese kenmerke van ‘n reptiliomorfe amfibieë gehad het maar eiers op land kon lê.
Basale diapsiede is die eerste diapsied reptiele wat vanuit die stamreptiele in die Karboon Periode ontstaan het. Die oudste voorbeeld hiervan is die 302 miljoen jaar oue Petrolacosaurus wat in Kansas, VSA ontdek is.
Basale sinapsiede (wat oorspronklik as die pelikosauriërs bekend gestaan het) was die eerste sinapsied reptiele wat vanuit die stamreptiele in die Karboon Periode ontstaan het. Die oudste voorbeelde hiervan is Asaphestera, Archaeothyris en Clepsydrops, van die Karboon Periode (323–299 mjg) van Noord Amerika. Die basale sinapsiede het egter ook eienskappe gehad wat hulle uniek gemaak het – soos die enkele slaapwyk venster wat kleiner as die meer evolusionêr gevorderde sinapsiede s’n is. Die basale sinapsiede sluit lede van die families Eothyrididae, Caseidae, Varanopidae, Ophiacodontidae, Edaphosauridae en Sphenacodontidae in. Weens die feit dat fossiele van hierdie groepe nogals skaars is, is die presiese verwantskappe tussen hierdie groepe nog nie duidelik nie. Meeste van hierdie fossiele kom in die VSA, Kanada en Rusland voor.
Basale tetrapode of stam-tetrapode – sien Amfibieë.
Bauriamorpha – sien Baurioidea.
Baurioidea is ‘n superfamilie van therokefaliër therapsiede wat roofdiere soos Regisaurus en Bauria insluit. Bauriamorpha is ‘n junior sinoniem van Baurioidea en dus kry laasgenoemde voorrang en word dit eerder in klassifikasie gebruik.
Beaufort Groep is een van die hoof-onderafdelings van die Karoo Supergroep wat die volledigste terrestriële Karboon Periode tot Jura Periode afsetting ter wêreld is. Hierdie groep gesteentes,bestaan hoofsaaklik uit opeenvolgende lae moddersteen en sandsteen wat vanaf die Laat Karboon Periode tot die Vroeë Jura Periode afgeset is en tydens die Vroeë Jura (182 mjg.) met ‘n dik laag lawa bedek is en met doleriete deurdring is. Die fossiele van, onder andere, die laaste basale tetrapode en stamreptiele, sinapsiede, argosauriërs en plantfossiele soos Glossopteris, Equisetales kom hierin voor. In die Karoo-kom bedek die Beaufort Groep die ouer Ecca Groep, terwyl dit om die beurt deur die jonger Stormberg Groep bedek word. Die gesteentes van die Beaufort Groep het gevorm toe sedimente vanuit die riviere, wat vanuit die bergreeks in die suide in die Karookom ingevloei het, die Karoo-oersee begin opvul het.
Been is harde strukture van kalsiumfosfaat wat in diere hoofsaaklik as ondersteuningstelsel voorkom. Been is die hoofbestanddeel van skelette. Die oudste vorm van been het in konodonte voorgekom waar dit as getande stafies en ander strukture in die keel as deel van hul voedingsapparaat voorgekom het.
Beenselle is die selle waaruit bene bestaan. Beenweefsel word deurgaans hermodelleer deur afbraak en hernuwing. Die selle wat hierby betrokke is, is osteoklaste wat been herabsorbeer of resorbeer, osteoblaste wat been vorm en osteosiete wat as meganosensore optree en in beheer van die hermodellering van been is. Beenbedekkingselle is plat selle wat op die oppervlaktes van ‘n been voorkom. Die beenbedekkingselle, osteoblaste en osteoklaste word deur ‘n tipe mesenkiemselle – die progenitorselle – gevorm.
Beenvisse – sien Osteichthyes.
Biarmosuchia is die mees basale of primitiewe groep therapsiede. Biarmosugiërs het in die Perm Periode bestaan. Hulle was hond-grootte roofdiere met kenmerkende slagtande wat die skakel tussen die heel primitiefste soogdieragtige reptiele – die pelikosauriërs – en die evolusionêr meer gevorderde therapsiede vorm. Die Burnetiamorpha, wat gekenmerk word aan knopagtige skedel-versierings, beslaan die grootste en mees bekende groep biarmosugiërs.
Biarmosugiërs – sien Biarmosuchia.
Binneoor is die deel van die gehoorsintuig wat die vestibulêre stelsel (ampullas, halfmaanvormige kanale, utrikulus) en slakkehuis (koglea) in soogdiere of lagena, in reptiele en voëls, insluit.
Biostratigrafie is die identifisering van geologiese lae op grond van die kenmerkende fossiele wat daarin voorkom. Soos met litologiese stratifikasie word biosones van oud (onder) na jonk (bo) gerangskik.
Breinkas is die holte in die skedel waarbinne die brein gesetel is. Daar is ‘n groot opening of foramen magnum agter in die skedel waardeur die rugstring met die brein verbind is en kopsenuwees wat deur middel van foramina in die skedelwand na buite strek.
Broodbome (orde Cycadales, klas Cycadopsida, divisie Cycadophyta, filum (deesdae word dit bloot as ‘n klade geklassifiseer, maar as dierkundige haat ek die besluiteloosheid daarvan en hou ek van die ou klassifikasie waar dit as filum geklassifiseer is) Gimnospermae) is naaksadige saadplante. Hulle word anders as baie ander naaksadiges nie met behulp van wind bestuif nie, maar word met spesifieke gespesialiseerde bestuiwers, meestal kewers, bestuif. Broodbome was in die oertyd baie meer volop en divers as die 300 spesies van drie families wat tans voorkom. Hulle het gewoonlik ‘n kort houtagtige stam met ‘n kroon van harde en stywe geveerde blare. Hulle is eenhuisig – m.a.w. individue is of manlik, of vroulik. Hulle groei stadig en kan baie oud word.
Buideldier of marsupiaal hoort aan die superorde Marsupialia (of Metatheria) van die klas Mammalia. Meeste van hierdie besondere soogdiere wat in die Amerikas (superorde Ameridelphia) en Australië (superorde Australidelphia) voorkom, het ‘n buidelsak waarin die kleintjies na geboorte verder ontwikkel voordat hulle onafhanklik van die ma kan leef. Daar is ongeveer 130 spesies in die Amerikas en 200 spesies in Australië en nabygeleë eilande.
Caseidae is ‘n uitgestorwe familie van basale soogdieragtige reptiele wat van die Laat Karboon Periode tot die Middel Perm Periode (300-265 mjg) bestaan het. Hulle was in ou klassifikasies onder die pelikosauriërs ingesluit. Kaseïed-fossiele kom in die VSA, Europa en Suid-Afrika as Eunotosaurus as lid van die kaseïediërs ingesluit word. Kaseïede kom in ‘n verskeidenheid van vorms en groottes voor – die oudste spesies was klein insektivore en omnivore maar later het groot herbivore, wat tot 7 m lank geword het, ontstaan. Die heel groot herbivoriese tipes het ‘n besondere klein koppie en kort nek op ‘n groot ronde lyf met langer voorbene as agterbene gehad.
Cephalochordata is die sustersgroep van werweldiere en het talle eienskappe in gemeen. Die enigste rede hoekom die kefalokordate nie as werweldiere geklassifiseer word nie is dat hulle nie kraakbeenelemente in die liggaam het nie. Daar is geen twyfel dat hierdie langwerpige visagtige seelewende diertjies die voorouers van die werweldiere is nie. Trouens, die larwes van die lamprei, ‘n tipe primitiewe kaaklose vis, was oorspronklik as kefalokordate geklassifiseer. Daar is ‘n interessante verwarring rondom die naam – κεφαλή “kefale” bedoel kop in Antieke Grieks en dus is die letterlike vertaling van kefalokordate die diere met ‘n “notokoord in die kop” en dit is alles behalwe waar, want die enigste rede hoekom die notokoord tot voor in die liggaam strek is omdat spesifiek Amphioxus, die enigste ekstante kefalokordate, NIE ‘n kop het nie. Die oerkefalopode het, nes die werweldiere, koppe gehad, maar dit het in die ekstante groepie mettertyd so verklein dat daar net ‘n blasie voor aan die senuweekoord i.p.v. ‘n brein voorkom. Meeste van die kopsintuie het ook dermate verklein en verdwyn. Die kefalokordate was baie meer volop in die oertyd maar het mettertyd al hoe minder geword soos wat die verskeidenheid en getalle van visse (die eerste en steeds grootste groep werweldiere) begin toeneem het. Sien – Amphioxus.
Chainosauria is ‘n groot en spesieryke groep van therapsiede wat die groot groep dikuonodontiërs en hul verwante insluit. Die benaming Chainosauria het in onbruik verval toe die term Anomodontia dit vervang het. Later was die term Chainosauria weer gebruik kladistiese groeperings om die verwantskap tussen die dikuonodontiërs en dromosauriërs aan te dui en om ‘n onderskeid te tref tussen die venjukovoïede van Laurasië en die chainosauriërs van Gondwana.
Chainosauriërs – sien Chainosauria.
Charles Darwin was ‘n Britse natuurkundige wat wêreldwyd bekendheid verwerf het vir sy boek Origin of species. Ongelukkig bestaan die wanpersepsie dat Charles Darwin die “Vader van Evolusie” is. Aangesien Darwin se oupa Erasmus Darwin oor evolusie voor Charles se geboorte geskryf het, maak dit Charles Darwin dan nie eerder die “Kleinseun van Evolusie” nie? Net om dinge behoorlik om te klits: het jy geweet dat die enigste kwalifikase wat Charles Darwin gehad het ‘n BA graad in teologie was? Maak dit hom nou die “Dominee van Evolusie”? Maar wag ‘n bietjie – Darwin haal die werk van die Franse evolusiekundige Jean-Baptiste Lamarck talle kere in sy boek aan en dus is dit tog duidelik dat Lamarck Darwin voorafgegaan het. Lamarck haal weer die werk van Georges-Louis Leclerc, Comte de Buffon aan. Trouens die Antieke Griekse filosowe soos Plato, Aristoteles, Sokrates en Hippokrates het reeds twee en ‘n half duisend jaar gelede die Leer van die Lewe waarvolgens voorouerlike primitiewe organismes aan meer gevorderde nasate oorsprong gee en dat mense en ape verwant aan mekaar is, bespreek. Charles Darwin was egter die eerste persoon wat alles wat in die negentiende Eeu oor evolusie bekend was, in verstaanbare Engels opgeskryf het. Hy het ook saam met Alfred Russell Wallace ‘n meganisme van evolusie voorgestel naamlik dat die oormaat van individue, wat effens van mekaar verskil, wat ‘n spesie genereer, aan natuurlike seleksie blootgestel word, wat veroorsaak dat sekere individue, wat meer geskik is om onder daardie omstandighede te oorleef, geselekteer word terwyl die ander sterf. Charles Darwin het nooit die kerk of godsdiens (soos wat baie mense dink) aangeval nie en is trouens in die vloer van Westminster Abdy, naby Isaac Newton se graf, begrawe.
Choana is die Latynse woord vir neusgat. Interne choana verwys na die binneste opening van die neusgat.
Chondrichthyes of kraakbeenvisse is ‘n klas visse wat gekenmerk word aan die feit dat hulle skelette van kraakbeen het, maar meer nog – hulle het nie ‘n dermatokranium nie. Die verlies van die dermatokranium het sekondêr plaasgevind en is nie ‘n primitiewe kenmerk nie. Die voorsate van die Gnathostomata, waaronder die Chondrichthyes val, het ‘n goedontwikkelde dermatokranium gehad wat oorsprong aan die skedels van al die ander Granthostomate gegee het. Dit is ook belangrik om te weet dat die steurvis, wat onder die beenvisse (Osteichthyes) val, se skelet van kraakbeen is, maar soos ander beenvisse het dit ‘n dermatokranium. Due kraakbeenvisse het natuurlik nie ‘n operkulum of kiefdeksel nie, want dit is deel van die dermatokranium – dus is hul kiefsplete nie bedek nie maar vyf tot sewe oop splete elke kant agter die kop. Daar is egter ook soms ‘n gat of spirakel voor die kiefsplete wat die oorblyfsel van ‘n ekstra kiefspleet is. Kraakbeenvisse het ook nie swemblase soos beenvisse nie. Daar is twee subklasse kraakbeenvisse – die Elasmobranchii wat die haaie, rôe, vlete en saagvisse insluit en die Holocephalii wat die rotvisse of kimeras insluit. Die Elasmobranchii het ‘n werwelkolom van kraakbenige werwels, maar die Holocephalii behou die notokoord as volwassene soos die primitiewe kordate. Aangesien hulle nie beenmurg het nie word rooibloedselle in die milt en in die epigonale weefsel – wat rondom die gonades voorkom – gevorm. Die vel van kraakbeenvisse (buiten die rotvisse) is met plakoïedskubbe, wat soos mikroskopiese emaljebeklede tandjies lyk, bedek. Meeste kraakbeenvisse het heteroserkale sterte waar die boonste lob groter as die onderste lob is. Bevrugting is inwendig en meeste kraakbeenspesies is ovivivipaar en skenk dus geboorte terwyl die res ovipaar is en dus eiers lê.
Chordata of kordate is ‘n filum van diere met ‘n notokoord, kiefsplete, ‘n stert agter die anus, boonste hol senuweekoord en ‘n endostiel of ‘n skildklier, in plek van die endostiel, op die bodem van die farinks op ‘n sekere stadium van die organisme se bestaan. In sekere organismes verskyn hierdie kenmerke slegs in die embrio of in die larwe, maar in ander bestaan hierdie kenmerke regdeur die organisme se lewe. Diere wat in hierdie groep val is die subfilums Urochordata, Cephalochordata en die Vertebrata of werweldiere. Hierdie kemerke word gebruik om te bepaal dat organismes, wat so wyd van mekaar verskil soos rooiaas en mense, aanmekaar verwant is.
Cochlea – sien Slakkehuis.
Conodonta is ‘n uitgestorwe groep klein wurmagtige mariene diertjies wat aan werweldiere verwant is. Sommige taksonome beskou hulle as werweldiere en hulle word dus onder die klas Conodonta, in die superklas Agnatha, in die subfilum Vertebrata van die filum Chordata ingedeel. Konodontiërfossiele het vir die eerste keer in die Kambrium verskyn. Konodontiërfossiele bestaan meestal uit getande stafies en kort gepunte elemente van kalsiumfosfaat. Kalsiumfosfaat is die boustof van been en konodontiërs was dus die eerste organismes wat been gehad het. Aangesien konodontiërfossiele uit been bestaan wat maklik fossiliseer en wêreldwyd in rotse van die Kambruim tot die Vroeë Jura gevind word, kan dit dus as indeksfossiele vir biostratigrafiese doeleindes gebruik word. Buiten vir die Suid-Afrikaanse konodontfossiele, waarvan sommige elemente tot 10 mm lank is, is die res wat wêreldwyd voorkom, baie klein en wissel tussen 0.3 en 3 mm in lengte. Hierdie getande stafies en beenelementjies wat saam met dit voorkom, was vir lank ‘n enigma en niemand kon raai hoe die eienaar van hierdie struktuurtjies gelyk het nie. Die eerste leidraad was dat hierdie elemente soms in groepies voorgekom het wat ‘n duidelike bilaterale simmetrie getoon het – m.a.w. daar was linker- en regterkantse elemente wat as spieëlbeelde van mekaar in bondels gerangskik is. In 1983 was die eerste konodontdier ontdek toe ‘n fossiel van ‘n 10 mm lange wurmagtige diertjie in Edinburgh in Skotland gevind is. Die konodont apparaat was in die wande van die diertjie se farinks ingebed en was duidelik deel van sy voedingsapparaat. Die konondont dier het ook ‘n notochoord, spierbundels, kiewe en stertvin gehad. Konodontiërs het uitermate groot oë gehad wat saam met die seevloersedimente waarin hulle aangetref word getuig daarvan dat hulle diepseebewoners was. Konodontiërdiversiteit het aan die einde van die Kambrium afgeneem toe talle konodontiërfamilies met die Kambrium-Ordovisium massa-uitsterwing uitgesterf het. Die laaste konodontiërs het nog tot aan die einde van die Trias voorgekom maar het heeltemal na die Trias-Jura massa-uitsterwing verdwyn.
Cyclostomata – sien Kaaklose visse.
Cynodontia is ‘n gevorderde theriodontklade wat in die Laat Perm Periode ongeveer 260 miljoen jaar gelede ontstaan het. Mens hoort eintlik hierdie naam as kuonodont uit te spreek omdat die naam van die Grieks κύων (kúōn, “hond”) en ὀδόντος (odóntos, “tand”) kom. Dit is dus allesbehalwe “Sinodont” soos Engelse dit uitspreek. Hulle het die Perm/Trias uitwissing oorleef en in die Trias Periode gediversifiseer om as karnivore, omnivore en herbivore ‘n verskeidenheid nisse te vul. Hierdie groep, wat die moderne soogdiere insluit, het reeds vanaf die Trias Periode regoor Pangea versprei.
Dentale been is die tanddraende been van die onderkaak. In reptiele is dit een van die sewe bene aan elke kant van die onderkaak waarop die tande gedra word, terwyl die twee dentale been die hele onderkaak van die soogdier vorm. Dit is ‘n dermale element wat tydens embriologiese ontwikkeling van werweldiere die kraakbeen van Meckel as onderkaak vervang.
Dermale been is bene wat uit die vel, wat die kop van werweldiere bedek, ontstaan. Hierdie bene staan as die dermatokranium bekend.
Dermatokranium is die plat bene wat in die embrionale vel van werweldiere (buiten vir die kaaklose visse en kraakbeenvisse) ontstaan en wat die werweldier se kop bedek. Die grootste deel van die buitekant van die skedel bestaan uit hierdie bene. Die dermatokranium van soogdiere bestaan uit die 2 maksillas, 2 premaksillas, 2 nasale bene, 2 lakrimale bene, 2 prefrontale bene, 2 jugale of sigomatiese bene, 2 skwamosums, 2 frontale bene, 2 pariëtale bene, 2 postpariëtale bene, 2 palatiene bene, 2 dentale bene, 2 pterygoïed bene, 2 timpaniese ringe en 1 vomer. Reptiele het nog 2 postfrontale bene, 2 postorbitale bene, 2 prefrontale bene, 2 kwadratojugale bene, 2 supratemporale bene, 2 tabulêre bene en 2 postpariëtale bene daarby en die timpaniese ringe van die soogdierskedel is die angulêre bene van die onderkaak in reptiele. Hierdie beenelemente was oorspronklik die benige skubbe wat die Ostracodermi se koppe bedek het.
Detrivoor is ‘n dier wat verottende organiese materiaal vreet (detrivorie). Kakkerlakke, erdwurms en duisendpote is detrivore.
Detrivorie verwys na die voeding op afval wat dooie dier- en plantmateriaal en mis insluit. Talle diere is detritivore. Bakterieë, protiste en fungi, wat afbrekers van afval is, word nie as detritivore beskou nie omdat hulle nie hele stukke afval inneem deur om dit te vreet soos wat detritivore dit doen nie maar eerder afval uitwendig afbreek en die afbraakprodukte op molekulêre vlak opneem.
Devoon Periode is ‘n geologiese tydvak wat van 419.2 tot 358.9 miljoen jaar gelede geduur het. Die tydperk word gekenmerk aan die vestiging van lewe op land. Plante ontwikkel vanaf die eerste eenvoudige landplante tot die eerste saaddraende vaatplante in hierdie tydperk – wolfskloue, perdesterte, varings en saaddraende plante en bome verskyn. Die eerste sakswamme verskyn. Landlewende geleedpotiges, insluitende insekte verskyn. Tandskulpe en visse met kake – die placoderms verskyn. Lobvinvisse, straalvinvisse en primitiewe haaie – heers in die see terwyl die kaaklose visse en trilobiete al minder word. Die eerste longvisse en basale tetrapode verskyn aan die einde van hierdie tydperk.
Diafragma is die spierlaag wat die vloer van die borskas vorm, wat verantwoordelik is vir 70% van die vergroting van die ruimte binne die borskas, wanneer dit tydens inaseming in soogdiere saamtrek. En as jy wonder wat vir die oorblywende 30% van die vergroting van die borskas in soogdiere tydens asemhaling verantwoordelik is – dit is die ribbekas en die spiere daartussen – die interkostale spiere.
Diapsida is die grootste groep reptiele waaronder die akkedisse, slange, Sphenodon (die laaste oorlewende lid van die Rhynchocephalia) en Archosauria (krokodille, dinosauriërs, voëls) val. Die kenmerk wat hierdie diere deel is twee vensters in die slaapwyk aan elke kant van die skedel. Die akkedisse het egter die onderste stafie van die onderste slaapwykopening verloor en slange het daarby die middelste stafie, wat die twee vensters skei, ook verloor, maar hulle word nog steeds as diapsiede beskou.
Diastema is die gaping in die tandry – soos in die kake van lede van die Carnivora voorkom om ruimte van die slagtand van die teenoorgestelde kaak te maak sodat die dier sy bek kan toemaak. In bokke en perde is daar groot diastema tussen die voorste tande en die kiestande agter.
Dicynodontia of dikuonodontiërs is een van die grootste sinapsiedgroepe. Die naam is saamgestel uit: di (twee) cyno (hond) dont (tand). Ongelukkig is dit ook erg verwarrend want soos gewoonlik volg mense die reël om die oorspronklike biologiese naam of term in Grieks te skep en dit dan te Latiniseer en dan vanuit ‘n Engelse bron die uitspraak aan te leer en dis ‘n resep vir chaos. Eerstens word die Griekse letter K (kappa) na C in Latyn oorvertaal. C word K in Latyn uitgespreek en nie S soos wat Engelse dit doen nie. Die naam is van die Grieks κύων (kúōn, “hond”) en ὀδόντος (odóntos, “tand”) afgelei en moet dus dikuonodont uitgespreek en gespel word en allesbehalwe as “diesienodont” soos Engelse dit uitspreek. Die dikuonodontiërs was herbivoriese diere en dus het hulle die grootste gedeelte van die werweldiere in die Perm en Trias opgemaak. Hulle het hoofsaaklik varings, Glossopteris, perdesterte en briofiete geëet. Hulle was die prooi van die theriodontiërs en later van die argosauriërs. Hulle grootte het gewissel van die weselgrote Cistecephalus van die Perm van Suid-Afrika tot die olifantgrote Lisowicia van die Laat Trias van Poland wat saam met die eerste herbivoriese dinosauriërs bestaan het – wat ook waarskynlik die rede was hoekom hulle so groot geword het. Dikuonodontiërs het ‘n kenmerkende snawelagige snoet met ‘n skilpadagtige keratienbedekte bek gehad waarmee hulle dele van plante afgebyt het. Meeste soorte het ook twee slagtande gehad waarvan hulle naam afgelei is. Die slagtande was soos dié van olifante en seekoeie vir vertoon of verdediging gebruik en nie om mee te eet nie. Hulle bonkige lywe was vaatjie- tot sillindervormig.
Differensiëring van die gebit verwys na die spesialisering van tande in sny-, slag- en kiestande (lg. word verder in voormaal- en maaltande verdeel) om verskillende funksies soos knaag, skeur, maal ens. te kan verrig. Hierdie verskynsel word heterodontie genoem, die teenoorgestelde toestand is homodontie waar al die tande dieselfde vorm het.
Difiodont is die verskynsel waar soogdiere ‘n stel voormaaltande het wat deur ‘n stel permanente tande vervang word. Die woord bedoel twee stelle tande.
Dikuonodontiërs – sien Dicynodontia.
Dinocephalia is, buiten vir die Bairmosuchia, die mees primitiewe groep therapsiede. Fossiele van dinokefaliërs (“Verskriklike koppe”) kom hoofsaaklik in die Perm Periode gesteentes van Afrika, Rusland en China voor. Daar was karnivoriese, omnivoriese en herbivoriese dinokefaliërs. Alhoewel sommige van die kleiner dinokefaliërs maar net oor ‘n meter lank was, was sekere dinokefaliërs ook die grootste landlewende werweldiere wat in die Perm geleef het. Tapinocephalus en Titanosuchus het tot 4.5 m lank geword en kom tot soveel soos 2 ton geweeg het. Sommige karnivore soos Titanophoneus en Anteosaurus was so groot soos renosters en het skedels van tot 80 cm lank gehad. Dinokefaliërs het van die primitiewe kenmerke van hul voorouers behou. Dit sluit ‘n kleinerige slaapwyk venster en dentale been in. Dinokefaliërs het egter ook meer gevorderde kenmerke gehad soos die vergroting van die ilium (die boonste van die drie bene wat die pelvis opmaak), ‘n enkele slagtand in elke kaak soos dié van die biarmosuchiërs gehad en het ‘n hoër stand as die basale sinapsiede gehad. Meeste dinokefaliërs het ook ‘n verdikte skedeldak gehad. In die geval van Struthiocephalus was dit ‘n allemintige 15 cm dik! Dit is duidelik dat hierdie diere, net soos bokke, koppe gestamp het. Die dinokefaliërs het onverklaarbaar in middel van die Laat Perm skielik uitgesterf.
Dinokefaliërs – sien Dinocephalia.
Dinosauria is lede van die Archosauria wat tussen 240-65 miljoen jaar gelede geleef het. Strenggesproke het dinosauriërs nie uitgesterf nie aangesien voëls ook dinosauriërs is. Ons praat deesdae van die uitsterwing van die “nie-voël dinosauriërs” (non-avian dinosaurs) aan die einde an die Kryt. Die dinosauriërs is ‘n diverse groep reptiele wat in die Mesosoïkum bestaan het wat die Ordes Ornithischia en Saurischia insluit. Dinosauriërs het in die Jura die dominante landlewende werweldiere geword. Dinosaurër fossiele kom wêreldwyd in Mesosoïkum ouderdom sedimentêre gesteentes, wat op land afgeset is, voor. Daar is reeds meer as ‘n duisend nie-voël dinosauriër spesies bekend. Hierdie diere het in grootte gewissel van piepklein mossie-grootte diertjies tot reuse diere waarvan sommige tot 40 m lank geword het en ander wat 18 m hoog gestaan het. Hulle het baie terrestriële nisse beset en sommige was karnivore, insluitende die top-predatore, aasdiere, plantvreters en omivore. Hulle kon egter nie vlieg soos die pterosauriërs of in die see swem soos die plesiosauriërs nie. Die pterosauriërs is verlangs aan dinosauriërs verwant.
Dinosauriërs – sien Dinosauria.
Docodonta is ‘n uitgestorwe orde van mammaliforme kuonodontiërs wat naaste aan die soogdiere verwant was en wat vanaf die Middel Jura tot Vroeë Kryt in Laurasië voorgekom het. Dokodontiërs het kenmerkende komplekse maaltande, met krone wat in holtes in die teenoorstaande tande gepas het, gehad. Dokodontiërs het ‘n verskeidenheid liggaamsvorme gehad wat molagtige en eekhoringagtige tipes ingesluit het, terwyl ander plat sterte en sterk ledemate soos otters gehad het. Dokodontiërs het waarskynlik nes soogdiere gelyk en opgetree. Die dentale been van dokodontiërs was vergroot en het alreeds soos dié van soogdiere s’n gelyk, buiten dat dit nog nie, soos soogdiere s’n, met die skedelbasis kontak gemaak het nie. Die ander bene van die onderkaak was baie verklein en het in ‘n trog in die onderkaak ingepas. Dokodontiërs het slegs een oorbeentjie, naamlik die stiebeuel, in die middeloor gehad en nie drie oorbeentjies soos soogdiere nie.
Dokodontiërs – sien Docondontia.
Dromasauria is ‘n informele parafiletiese groepering van klein nie-dikuonodontiër basale anomodontiërs van die Middel tot Laat Perm Periode van Suid-Afrika. Hulle is almal klein met smal ledemate en lang sterte met kort skedels en groot oogkaste.
Edafosauriërs – sien Edaphosauridae.
Edaphosauridae is ‘n uitgestorwe familie van groot (3 m of langer) primitiewe plantvretende soogdieragtige reptiele wat in die Laat Karboon tot Vroeë Perm in Laurasië voorgekom het. Hulle was van die eerste herbivoriese tetrapode wat op Aarde voorgekom het. Edafosauriërs het ‘n klein koppie met homodonte tande en ‘n groot bonkige lyf met ‘n seil op die rug gehad. Dit is hoogs waarskynlik dat die seil gebruik was om die temperatuur van die dier te beheer deur om dit na die son in die oggend te draai om hitte van die son op te neem. In die middag sal die son natuurlik van bo op die dunste deel van die seil skyn en die are in die seil sal die hitte van die liggaam na die seil neem waar dit vinnig met die wind wat verbywaai sou afkoel.
Eerste voëls is ‘n groep vlieënde diere wat in die Jura Periode vanuit warmbloedige geveerde theropood dinosauriërs, genaamd die Paraves, ontstaan het. Die benaming klas Aves, wat ons vir bykans ‘n eeu gebruik het, is nie meer ‘n geldige takson nie want die voëls word reeds vir die laaste paar dekades as dinosauriërs beskou wat natuurlik aan die klas Reptilia hoort. Die eerste voëls het nog steeds tande, hande met kloue en lang gewerwelde sterte soos reptiele gehad. Archaeopteryx lithographica is ‘n voorbeeld van so ‘n primitiewe voël. Archaeopteryx het egter ook dekvere, donsvere en vlugvere net soos moderne voëls gehad. As mens net na die vere kyk was Archaeopteryx ‘n voël, en as mens net na die skelet kyk was Archaeopteryx ‘n dinosauriër.
Eierlêende soogdiere s die Monotremata of Prototheria. Alhoewel hulle baie meer wydverspreid voorgekom het (monotreem fossiele is ook in Suid-Amerika gevind), kom hulle vandag slegs in Australië en Nieu-Guineë voor. Die monotreme verskil van die buideldiere (Marsupialia of Metatheria) en die plasentale soogdiere (Plasentalia of Eutheria) veral omdat hulle eiers lê. Hulle het ook verskeie ander unieke anatomiese en fisiologiese kenmerke. Monotreme het in sommige gevalle gifkliere – die mannetjie eendbekdier se gifspore op die agterbene. Wyfie monotreme het nie tepels nie maar kolle met melkkliere op die pens waaruit melk drup. Die babas suig die melk uit die hare op die pens uit. Hulle het ook nie oorskulpe nie en die timpaniese ring is nog losweg aan die onderkaak gekoppel. Hulle het ook verskeie ander unieke anatomiese en fisiologiese kenmerke.
Ekologie is die studie van die verhouding tussen organismes en hulle omgewing wat biotiese (lewende) en abiotiese (nie-lewende) komponente insluit.
Endostiel is ‘n geutagtige orgaan wat in die middel op die vloer van die farinks van die Chordata soos rooiaas, Amphioxus en die larwes van sekere visse voorkom. Die embrionale struktuur wat aan die endostiel oorsprong sou gee, verander in die skildklier in die werweldiere. Die trilhaartjies, op die binneste oppervlakte van die kiefstafies van Amphioxus en rooiaas, beweeg die kosbelade slym aan die binnekant van die farinks na die endostiel waar die slym in ‘n slymkoord opgerol word en m.b.v. die trilhaartjies in die endostiel na die slukderm vervoer word. Die endostiel/skildklier is een van die vyf kenmerke wat alle kordate kenmerk.
Eothyrididae is ‘n uitgestorwe familie van baie primitiewe basale soogdieragtige reptiele. Slegs drie spesies eotirididiërs is van die Perm Periode van Noord Amerika bekend. Een van die kenmerkende eienskappe van hierdie klein (onder 1 m) insektivore is dat hulle reeds slagtande voor in die tandry van die maksilla gehad het, wat heelwat groter as die tande van die premaksilla was.
Eotirididiërs – sien Euthyrididae.
Epipubiese bene kom vandag slegs in buideldiere en eierlêende soogdiere voor, maar verskeie oerdiere insluitende sekere kuonodontiërs soos die tritylodontiërs en oersoogdiere soos die multituberkulate het ook epipubiese bene gehad. Die plasentale soogdiere het dit mettertyd verloor en van die oudste soogdiere bekend soos Megazostrodon en Erythrotherium, het skynbaar nie meer epipubiese bene gehad nie, alhoewel die moontlikheid bestaan dat dit in nog as kraakbeenelemente teenwoordig kon gewees het en dit dus nie versteen het nie.
Equisetales – sien Perdesterte.
Eritrosugiërs – sien Erythrosuchidae.
Erythrosuchidae is ‘n groep argosauriformes wat in die Trias Periode ontstaan het. Hulle het bonkinge lywe van tot 4.5 m lank gehad met groot koppe wat ongeveer ‘n kwart van hul liggaamslengte lank was. Hul skedels en tande het soos dié van groot vleisvretende dinosauriërs gelyk. Die eritrosugiërs het plantvretende soogdieragtige reptiele gevreet. Voor die dinosauriërs vanaf die Jura Periode as spitsroofdiere oorgeneem het, was argosauriformes soos die eritrosugiërs die spitsroofdiere.
Eumaniraptoria – sien Paraves.
Euparkeriidae is ‘n uitgestorwe familie van klein (70 cm) karnivoriese argosauriformiërs wat vanaf in die Trias Periode in Gondwana voorgekom het. Euparkeria kon op hulle lang en sterk agterbene rondhardloop en met hul klein skerp agtertoe-gekromde tande insekte vang. Hierdie tweebenige vermoë was waarskynlik deur die dinosauriërs van argosauriformiër-voorouers oorgeërf.
Eutheria – sien Plasentale soogdiere.
Eutheriodontia is ‘n groep therapsiede wat in die Middel Perm Periode verskyn het en wat die therokefaliërs, kuonodontiërs en soogdiere insluit. Die eutheriodontiërs was saam met die dikuonodontiërs die enigste van twee therapsiedstamme wat die eind-Perm uitsterwing oorleef het en in die opvolgende Trias Periode weer aangewas en gediversifiseer het. Die meerderheid van die eutheriodontiërgroepe het voor die Trias/Jura uitwissingsgebeurtenis verdwyn, buiten vir een kuonodont-stam wat aan die soogdiere oorsprong gegee het. Die kenmerke wat eutheriodontiërs in gemeen het is ‘n sekondêre verhemelte, die verlies van die postorbitale boog, die verlies van palatiene tande, die verbening van die wand van die breinkas en die smal hoë saggitale kam wat tussen die groot slaapwykopeninge van voor na agter bo-oor die breinkas strek.
Eutheriodontiërs – sien Eutheriodontia.
Evolusie verwys na die verandering in organismes se oorerflike eienskappe wat na die volgende geslag oorgedra word. Verskeie faktore speel ‘n rol in evolusie en die tempo van evolusie naamlik lukrake mutasies in ‘n geenpoel en natuurlike seleksie wat deur die omgewing op ‘n organisme uitgeoefen word wat sal bepaal of die organisme sal oorleef of nie.
Farinks is die deel van die keel wat die mondholte met die slukderm en die lugpyp (in lugasemende diere) verbind. Dit is egter ‘n komplekse struktuur in sekere diere en kan perforasies (gate of splete) hê. Die splete word allerweë kiefsplete genoem, maar word slegs vir respirasie in werweldiere gebruik terwyl in urokordate en kefalokordate dit slegs as kosfilter dien en nie vir respirasie aangewend word nie. Daar is ook ‘n endostiel op die vloer van die farinks van urokordate en kefalokordate teenwoordig, terwyl daar ‘n skildklier in die plek daarvan in werweldiere voorkom. Verskeie ander kliere soos die mangels en adenoïede kom ook in die farinks van tetrapode voor.
Filogenetika is die studie van die evolusionêre geskiedenis van organismes en die verwantskappe binne groepe organismes. Hierdie verwantskappe word deur middel op DNS en morfologiese studies van organismes gegrond. Die resultaat van hierdie studie is ‘n filogenetiese stamboom wat die verwantskappe tussen organismes uitbeeld.
Foramen magnum is die groot gat agter in meeste werweldiere se skedels (onder in hominien-skedels) waardeur die rugstring strek om aan die breinstam te koppel.
Foramina is klein openinkies, veral in bene, waardeur bloedvate en senuwees strek, dit is kleiner as ander openinge wat foramens en vensters genoem word.
Fossiel is die versteende oorblyfsels van organismes of dele daarvan, soos been, skulpe, eksoskelette, hout, blare, of hul produkte soos spore, tonnels, mis, boomgom, stuifmeel ens.
Fossileer verwys na die verstening van organismes, hulle weefsel, uitskeidings (soos mis), maaginhoud, hulle aksies (voetspore, sleepsels, tonnels, vreetskade aan blare) ens. Dit kan ook na die verharding van hars rondom ‘n organisme, om barnsteen te vorm, verwys.
Gebit is die stel tande wat in ‘n dier voorkom.
Gehoorbeentjies sien Oorbeentjies.
Gepanserde kaaklose visse – sien Ostracodermi.
Gepanserde kaakvisse – sien Placodermi.
Gimnosperme – sien Naaksadiges.
Glossopteris was ‘n genus plante wat tydens die Perm Periode die dominante landplante was. Hulle het gewissel in grootte vanaf struike tot bome. Daar is twee mooi ongeveer 30 m lang fossielboomstompe wat mens kan sien – die een is voor die Transvaal Museum en die ander langs die Harrismith Stadsaal. Die NG Kerk in Senekal is ommuur met fossielboomstompe. Dit blyk dat hierdie stompe aan Glossopteris behoort het. Ons groot steenkoolafsettings was gevorm toe die koolstof van miljarde tonne Glossopteris blare in daardie lae behoue gebly het. Mens kan regdeur die noordelike deel van die Karoo Supergroep fossielblare van Glossopteris vind.
Gnathostomata verwys na werweldiere met kake. Dit sluit alle visse, buiten kaaklose visse (lampreie en slymprikke), en amfibieërs, reptiele (insluitend voëls) en soogdiere in. Kaakvisse is ‘n term wat ek vir “visse met kake” opgemaak het want dit is korter om te skryf of te sê en meer verstaanbaar as gnathostomaat-vis. Dit klink egter vreemd want niemand het nog voorheen hierdie term gebruik nie. Mens kan ook nie bloot die term gnathostomate losweg vir visse gebruik nie, aangesien alle werweldiere, buiten die Agnatha (die kaaklose visse), gnathostomate of “kaakdiere” is. Kaakvisse word in die kraakbeenvisse (Chondrichthyes) en die beenvisse (Osteichthyes) verdeel. Van die oudste kaakvisfossiele is in Siluur ouderdom gesteentes ontdek – die Placodermi en die Acanthodii. Hierdie groepe het in die Devoon gediversifiseer en talryk geword. Die voorouers van huidige kaakvisse het in die Laat Siluur Periode verskyn.
Gonade verwys na beide testes en ovaria.
Gondwanaland is die suidelike superkontinent wat vanaf 550 – 180 miljoen jaar gelede bestaan het. Dit het uit die gekombineerde landmassas wat vandag bekend staan as Afrika, Suid-Amerika, Indië, Madagaskar, Antarktika en Australië bestaan. Gondwanaland was in die noorde, naby die ewenaar aan die noordelike superkontinent Laurasië gekoppel om tesame die superkontinent Pangea te vorm.
Gorgonopsia is ‘n uitgestorwe theriodontiër-klade wat na die Griekse mitologiese monster die Gorgon vernoem is. Gorgonopsiërs was die primitiefste theriodontiër groep wat vanaf die Middel tot die Laat Perm Periode (ongeveer 265-252 miljoen jaar) voorgekom het. Gorgonopsiërs was hond tot beer-grootte sabeltandagtige predatore wat vinniger as die ander therapsiede van daardie tyd kon hardloop wat hulle in staat gestel het om die top-predatore op land te word totdat die basale argosauriërs hulle as top-predatore vervang het.
Gymniophiona – sien Rubbersalamanders.
Halfmaanvormige kanale kom in die binneoor van werweldiere voor. Die slymprikke het een in elke binneoor, die lamreie twee en al die ander werweldiere vanaf die res van die visse tot slange tot mense het drie halfmaanvormige kanale in elke binneoor. Die halfmaanvormige kanale is in verskillende rigings georiënteer – die voorste en agterste halfmaanvormige kanale sit vertikaal in die skedel, terwyl die horisontale halfmaanvormige kanaal, wel – horisontaal – in die skedel sit. Die rede vir die ruimtelike oriëntasie van die halfmaanvormige kanale is om die dier in staat te stel om gravitasiekrag in drie dimensies te kan waarneem. Met ander woorde die dier sal presies weet waar bo en onder is en hoe sy lyf (of ten minstens sy kop) binne daardie ruimte georiënteer is. Aantrekkingskrag word deur die drukking van die endolimf teen die gevoelshaartjies aan die binnekant van die halfmaanvormige buise waargeneem. Aantrekkingskrag word deur die drukking van die endolimf teen die gevoelshaartjies aan die binnekant van die halfmaanvormige buise waargeneem. Dit is die sintuig wat die dier ‘n sin vir balans gee.
Hamer (malleus) is die buitenste oorbeentjie van soogdiere, wat teen die binnewand van die oordrom vasgeheg is en met die aambeeld artikuleer. Dit was oorspronklik die artikulêre been van die agterkant van die reptielkaak, terwyl die aambeeld oorspronklik die kwadraat van die reptielskedel was.
Haramiyida was ‘n groep gevorderde mammaliaforme kuonodontiërs of oersoogdiere wat in die Trias Periode verskyn het en skynbaar tot in die Kryt Periode voorgekom het. Hulle tande lyk baie soos dié van die multituberkulate en daar is ‘n groef in die dentale been waarin die oorbeentjies gesetel was, maar hul skedels blyk meer primitief as die van Morganucodon, die oersoogdier wat oorsprong aan die hedendaagse soogdiere gegee het, te gewees het.
Hare bestaan uit proteïenfilamente wat uit haarfollikels in die dermislaag van die vel groei. Hare is een van die unieke kenmerke van soogdiere, maar daar is talle aanduidings dat hul voorsate, die therokefaliërs en kuonodontiërs reeds hare gehad het. Hare het verskeie funksies – insulasie (veral in klein soogdiere wat maklik hitte kan verloor), kamoeflering en die tasssintuig van die vel. Dit is waarskynlik dat hare oorspronklik as deel van die tassintuig van die vel ontstaan het want elke haar – van snorbaarde, die hare wat jou neusgate, ooropeninge belyn en die wimpers wat jou oë omring, tot die kleinste haartjie op jou lyf, met senuwees voorsien is. Jy sal veel eerder ‘n vlooi oor jou voorkop voel loop as oor jou vingerpunt. Hare was van die begin af aangewend om die soogdier inligting oor hul omgewing te gee en was later, in die vorm van pelse, vir insulasie aangewend.
Haverse kanale is mikroskopiese buisies wat in kortikale been voorkom. Elke Haverse kanaal bevat een of twee bloedhaarvate en talle senuweevesels wat die osteosiete, wat in konsentriese sillindervormig lae of lamellae, rondom die Haverse kanale gerangskik is, van bloed en senuwees voorsien. Minerale word tussen die osteosiete en bloedvate vervoer.
Herbivories – sien Plantvretend.
Heterodont verwys na ‘n gebit wat in tande van verskillende vorms vir verskillende funksies verdeel is. Daar is byvoorbeeld in talle soogdiere snytande, slagtande voormaaltande en maaltande.
Heteroserkale stert kom in meeste kraakbeenvisse (Chondrichthyes) voor, en veral in die Elasmobranchii. Dit is wanneer die boonste deel van die stertvin groter as die onderste deel is en verder na agter uitsteek.
Holocephali – die rotvisse of kimeras – is ‘n subklas kraakbeenvisse onder die klas Chondrichthyes. Hulle verskyn in die Devoon Periode. Die enigste ekstante groep is die rotvisse of kimeras van die orde Chimaeriformes. Die rotvisse het groot pektorale vinne waarmee hulle swem en het lang, dun sterte – wat die rede vir hul naam is. Rotvisse bly in die diepsee en voed op bentiese organismes wat in en op die seevloer leef. Rotvisse het nie ‘n maag nie en die kos beweeg direk van die slukderm in die dermkanaal in. Alhoewel meeste van die skelet as kraakbeenelemente voorkom, het hulle nie rugwerwels nie maar behou die voorouerlike notokoord. Hulle monde is klein en met lippe toegerus. Die stekel op die rug is in sekere spesies giftig.
Homodont verwys na diere wie se tanda almal dieselfde lyk soos dié van dolfyne of reptiele. Met ander woorde die tande is nie opgedeel in snytande, slagtande en maaltande soos dié van die meeste soogdiere nie (sien Heterodont).
Homoserkale stert kom in meeste straalvinvisse (Actinopterygii) voor. Dit is wanneer die boonste en onderste dele van die stertvin dieselfde lyk en dieselfde grootte is.
Hylonomus is die oudste onbetwisbare reptiel (en dus amnioot) waarvan ons tot dusver weet. Hylonomus se spore is in 315 miljoen jaar oue Karboon Periode lae in Nova Scotia in die VSA ontdek. Die skelet van Hylonomus dui daarop dat dit ‘n akkedisagtige diertjie was wat insekte gevreet het.
Ichthyosauria was mariene reptiele wat baie soos visse gelyk het – net soos dolfyne, wat soogdiere is, ook soos visse lyk. Igtiosauriërs het ongeveer 250 miljoen jaar gelede in die fossielrekord verskyn en het in die Mesosoïkum gediversifiseer. Hulle was in die Jura Periode deur die plesiosauriërs as die top-mariene predatore vervang maar ten minstens een spesies het nog tot in die Laat Kryt Periode voorgekom.
Igtiosauriërs – sien Ichthyosauria.
Insekte is lede van die Klas Insecta wat saam met die vluglose heksapode aan die Subfilum Hexapoda aan die Filum Arthropoda hoort. Hulle word gekenmerk aan ‘n eksoskelet van chitien, ses paar gelede pote, saamgestelde oë, een paar antennas en ‘n drieledige liggaamsverdeling (kop, toraks en abdomen). Meeste insekspesies het lede met vlerke en dié wat nie vlerke het nie, het dit verloor. Daar is reeds meer as ‘n miljoen bekende spesies wat meer is as die somtotaal van al die ander spesies bekend op Aarde. Daar word vermoed dat dit slegs die oortjies van die seekoei is en dat daar van ses tot tien keer meer insekspesies op Aarde is wat net nog nie ontdek is nie.
Insektivories – sien Insektvretend.
Insekvretend of insektivories verwys na die vreet van insekte. Diere soos erdvarke en sekere vlêrmuise vreet slegs insekte, terwyl ander soos meerkatte en jakkalse onder andere insekte vreet. Insekvretendheid is die mees algemene voedingswyse onder tetrapode. Meeste amfibieë eet insekte as larwes en volwassenes, die meeste akkedisspesies eet insekte, die meeste voëls (insluitende saadvreters wat tydens die broeiseisoen hul kleintjies insekte sal voer) en ongeveer 45% van soogdierspesies, vreet insekte.
Jukboog of sigomatiese boog is die staaf been wat die onderste grens van die slaapwykopening of temporale fenestra vorm. Die voorste deel van die jukboog word deur ‘n uitgroeisel van die sigomatiese been (of wangbeen) gevorm en die agterste deel word deur ‘n uitgroeisel van die temporale been gevorm. Die sigomatiese been van soogdiere word die jugale been in reptiele en voëls genoem.
Jura Periode 201.3-145 Mjg) is die middelste tydperk van die Mesosoïkum Era. Die tydperk begin net na die groot massa-uitsterwing wat die einde van die Trias aantoon. Die Superkontinent Pangea het in die Jura Periode in twee landmassas begin opbreek – Laurasië in die noorde en Gondwana in die suide. Die klimaat het wêreldwyd verander en die woestyne wat die Trias Periode gekenmerk het, was met reënwoude vervang. Die thekodontiërs was in hierdie tydperk as dominante terrestriële karnivore met dinosauriërs vervang. Die eerste voëls, akkedisse en plasentale soogdiere verskyn in hierdie tydperk. Ichthyosauriërs en plesiosauriërs was die spitsroofdiere in die oseane en pterosauriërs was die dominante vlieënde werweldiere.
Kaaklose visse – sien Agnatha.
Kaakskarnier verwys na die beenelemente wat die gewrig tussen die onderkaak en die skedel vorm. In reptiele bestaan die kaakskarnier uit die kwadraat en artikulêre been terwyl die dentale been en skwamosum die soogdiere se kaakskarnier vorm.
Kambrium Periode (541-485.4 Mjg) was die eerste periode van die Paleosoïese Era en die Fanerosoïese Eon. Die Kambrium Periode word gekenmerk aan die besondere bewaring van ‘n groot diversiteit dierfossiele waarvan nie slegs die doppe en eksoskelette bewaar gebly het nie, maar in sekere gevalle ook van die sagte weefsel. ‘n Mens kan ‘n geweldige vordering in kompleksiteit van liggaamsvorm en diversiteit van diere in die fossielrekord van die Kambrium Periode opmerk. Hierdie oënskynlik skielike verskyning van verteenwoordigers van al die bekende dierfilums plus ‘n paar vreemdes wat sonder nasate uitgesterf het, word die Kambriese Ontploffing genoem. Alhoewel lewe tydens die Kambrium Periode in die oseane gefloreer het, was daar benewens archaea, bakterieë en swamme op daardie tydstip geen landlewende plante of diere nie. In hierdie tydperk verskyn die eerste monoplakofore, poliplakofore, buikpotiges en tweekleppiges in die fossielrekord.
Karbonaatrotse word deur dolomiet en kalksteen-afsettings gevorm. Die kalksteen bestaan uit kalsiet of aragoniet (verskillende tipes CaCO3 kristalle) terwyl dolomiet uit CaMg(CO3)2) molekules bestaan. Kalsiet kan, onder sekere omstandighede (pH, temperatuur en ioon-konsentrasies) deur grondwater opgelos of afgeset word.
Karboon Periode (358.9-298.9 Mjg) word, veral in die Noordelike Halfrond, in die onderste Mississipium en die boonste Pennsylvanium onderverdeel. Hierdie tydperk word gekenmerk aan die amfibieë wat op daardie tydstip die dominante landlewende werweldiere was. Geleedpotiges, veral insekte, het gediversifiseer en talryk geword. Reuse woude, wat die steenkoolafsettings in die noordelike halfrond gevorm het, het die land bedek. Die suurstofvlakke was die hoogste ooit – 35% teenoor die 21% van vandag wat veroorsaak het dat geleedpotiges besonder groot kon word. Pangea vorm in hierdie tydperk.
Karnivoor, karnivories (carnivore, carniverous) verwys na vleisvretende diere. Dit sluit roofdiere en aasdiere in. ‘n Karnivoor het ‘n karnivoriese dieët.
Karookom is die reuse bekken in die suide van Gondwanaland wat die grootste gedeelte van die hedendaagse Suid-Afrika, die suidelike deel van die hedendaagse Suid-Amerika en deel van die hedendaagse Antarktika bedek het. Hierdie kom het oor miljoene jare met hoofsaaklik sedimentêre afsettings opgevul geraak om die Karoo Supergroep te vorm. Ongeveer 510 mjg. het ‘n slenkdal oor suidelike Gondwanaland, suid van die hedendaagse Suid-Afrika gevorm wat tot in die huidige suidelike deel van Suid-Amerika en tot in die oostelike deel van die huidige Antarktika gestrek het, en selfs moontlik tot by Australië, wat eens die oostelike deel van Gondwana opgemaak het, gestrek het. ‘n Agt kilometer dik laag sedimente, wat as die Kaapse Supergroep bekend staan, was op die vloer van hierdie slenkdal afgeset. Ongeveer 330 mjg. het ‘n subduksiesone (wanneer een kontinentale plaat onder die ander een indruk) suid van Suid-Afrika ontstaan. Hierdie subduksie het tussen die Falkland Plato en die suidelike deel van Gondwana (en dus die stuk waaruit Suid-Afrika sou ontstaan) plaasgevind, wat die vorming van die Falklandbergreeks, wat so hoog soos die Himalayas was, noord van die subduksiesone, tot gevolg gehad het. Die drukking het die Kaapse Supergroepsedimente in die proses opgestoot. Die Kaapse plooiberge is die oorblyfsels van die voorberge wat langs die noordelike flank van hierdie reuse bergreeks gevorm het. Die drukking van die subduksiesone het veroorsaak dat die landmassa ten noorde van die bergreeks oor miljoene jare bly sak het en sodoende was ‘n watergevulde voorlandbekken, bekend as die Karookom, gevorm. Die Karookom was eers deur die tilliet van die smeltende gletsers en ys van die suidpoolkap gevul, daarna van die sedimente wat van Falklandberge in die suide verweer het, en later van sedimente wat deur riviere van die bergreekse op die omliggende landmassas in die noorde na die Karookom vervoer is.
Karoo Supergroep is die grootste terrestriële (landelike) afsetting in die wêreld, wat ‘n ouderdom van ongeveer 300 mjg. (Laat Karboon Periode) tot 195 mjg. (Jura Periode) verteenwoordig. Hierdie kilometers-dikke laag gesteentes bevat ongeveer 70% van die wêreld se sinapsiede en selfs fossiele van die wêreld se oudste soogdiere. Die Karoo Supergroep is die grootste geologiese eenheid in Suid-Afrika en bedek ongeveer die helfte van die oppervlakte van Suid-Afrika. Dit bevat ook een van die grootste steenkoolreserwes op Aarde. Die lae van die Karoo word, van onder tot bo, deur die Dwyka, Ecca, Beaufort, Stormberg en Drakensberg Groepe verteenwoordig.
Kaseïede – sien Caseidae.
Kefalokordate – sien Cephalochordata.
Kiefsplete is die splete wat in Cephalochordata en alle werweldierembrios se farinkswande vorm. In waterlewende werweldiere soos visse en amfibieë se larwes word die kiefsplete volledig gevorm en perforeer die wand van die farinks wat die binnekant van die farinks met die water, wat die organisme omring, verbind. Die kiefsplete van reptiel-, voël- en soogdierebrios vorm nie verder as induikings in die farinks nie. Die kiefsplete word weerskante deur kiefstafies ondersteun. In Urochordata is daar openinge eerder as splete in die farinks.
Kimeras – sien Holocephali.
Klade is ‘n groepering van organismes wat ‘n sekere stel sinapomorfieë deel en dus nader aan mekaar verwant as ander organismes is. Die hiërargiese klassifikasiestelsel van Linneaus word nie in kladistiek gebruik nie.
Kladistiek is ‘n afdeling van biologiese klassifikasie waarmee organismes in klade, volgens hulle laaste gemene voorouer, gerangskik word, eerder as in die tradisionele hiërargiese metode wat in die binominale klassifikasiestelsel van Linneaus gebruik word. Sinapomorfiese eienskappe word gebruik om die klades te identifiseer. Die doel van kladistiek is om die evolusionêre verwantskappe tussen klades te wys.
Klimaat verwys na die gemiddelde weerpatroon van ‘n streek wat tipies oor 30 jaar waargeneem is. Dit sluit die gemiddelde van die meteorologiese veranderlikes (presipitasie (reën, hael, sneeu), temperatuur, humiditeit, lugdruk, wind) wat oor maande tot miljoene jare bepaal is. Klimaat sluit hierdie elemente in die atmosfeer, hidrosfeer, kriosfeer (gebiede waar sneeu en ys voorkom), litosfeer en die biosfeer, en die interaksie van hierdie elemente tussen hierdie sfere in.
Koglea – sien Slakkehuis.
Konodontiiërs – sien Conodonta.
Konvergerende evolusie is wanneer dieselfde omstandighede (habitat, predatore, prooi) twee groepe organismes dwing om dieselfde evolusionêre aanpassings te verkry. Goeie voorbeelde daarvan is die sterk, grawende arms met lang kloue en die lang tong en vermindering van tande wat in termietvretende miervreters van Suid-Amerika, mieregels van Australië, ietermagôe van die Ou Wêreld en die erdvark van Afrika voorkom. Ondanks die feit dat dolfyne soogdiere is en dat ichthyosauriërs reptiele is, het beide groepe vaartbelynde visvormige lywe ontwikkel, die aanhangsels was tot vinne omskep en hulle het stertvinne ontwikkel. Kaktusse van Amerika en euphorbias van Afrika is doringagtige vetplante, en het ondanks die feit dat hulle nie naverwant is nie, baie soortgelyke aanpassings deurgegaan het om in die woestyne van daardie kontinente te oorleef. Hierdie kenmerke wat so ooreenstem word analoë kenmerke genoem.
Koproliet is versteende mis.
Kordaat – sien Chordata.
Koudbloedig is ‘n eenvoudige term om ‘n verskeie fisiologiese toestande in diere te beskryf. Die term koudbloedig sluit ektotermie, poikilotermie en bradimetabolisme in. Ektotermiese diere kan nie hulle liggaamstemperatuur self handhaaf nie en moet in die son bak om genoeg liggaamshitte op te bou voor sekere funksies uitgerig kan word. Poikilotermiese diere kan onder ‘n wye reeks temperature aktief wees. Bradimetabolisme is die vermoë van sekere diere om hulle metabolisme by spesifieke temperature aan te pas om so te oorleef – soos wat mens in diere wat hiberneer aantref. Diere soos visse, amfibieë en reptiele word tradisioneel as koudbloedig beskou en soogdiere en voëls as warmbloedig. Daar is egter visse soos tuna en reptiele soos kuonodonte en theropood dinosauriërs wat warmbloedig was. Warmbloedigheid, of die vermoë om ‘n liggaamstemperatuur wat hoër as die omgewingstemperatuur is, metabolies te handhaaf, word as teenoorstaande as koudbloedigheid beskou.
Kraakbeen is ‘n tipe bindweefsel wat uit chondrosiete opgemaak is. Anders as been is dit buigbaar en kan druk hanteer maar is nie bros nie, daar is ook nie bloedvate en senuwees in kraakbeen nie. Kraakbeen bedek die eindpunte van langbene en kom in gewrigte tussen bene voor. Dit kom as strukturele elemente in die sternale ribbes van die borskas van tetrapode voor wat die borskas beweeglik maak wat asemhaling bemoontlik. Kraakbeenringe kom in die lugpyp voor en kraakbeenskywe kom tussen die werwels voor. Die neus en oorskulpe van soogdiere bestaan uit kraakbeen. Die inwendige skelette van Agnatha en Chondrichthyes en steurvisse word deur kraakbeen opgemaak. Die embrionale skelet, wat uit kraakbeen bestaan, verbeen soos wat die embrio ontwikkel. Daar is drie tipe kraakbeen: hialiene, elastiese en veselryke kraakbeen.
Kraakbeenvisse – sien Chondrichthyes.
Krokodille hoort aan die orde Crocodilia van die klas Reptilia. Hierdie semi-akwatiese groep predatore het ongeveer 95 Mjg in die Laat Kryt Periode verskyn. Hulle is, na die uitsterwing van die theropood dinosauriërs, die naaste lewende verwante aan voëls. Krokodille en voëls het verskeie kenmerke in gemeen wat hulle van hul gemeenskaplike archosauriër voorsaat geërf het. Beide het bv. ‘n mandibulêre opening en ‘n vierkamer-hart. Die Pseudosuchia, wat die krokodille en hul uitgestorwe verwante insluit, het ongeveer 250 Mjg in die Vroeë Trias ontstaan en gediversifiseer en oorsprong aan die Phytosauria, die Ornithosuchidae en die Suchia gegee. Die orde Crocodilia sluit al die ware krokodille (familie Crocodylidae), die alligators (familie Alligatoridae) en die gharial (familie Gavialidae) in. Alhoewel meeste moderne krokodille semi-akwatiese varswater reptiele is, is daar ook mariene spesies. In die oertyd was daar egter verskeie krokodilspesies wat op land gejag het en lang agterbene gehad het om vinnig te kan hardloop. Die lede van die moderne krokodille behoort aan die subfamilie Crocodylinae van die familie Crocodylidae van die orde Crocodilia en kom hoofsaaklik in tropiese gebiede voor.
Kroongroep is ‘n term wat in filogenetika gebruik word. Dit is ‘n versameling spesies wat die oorspronklike uitgestorwe voorouer, al die uitgestorwe nasate van daardie voorouer en al die lewende nasate van daardie voorouer insluit.
Kryt Periode (145 – 66 Mjg) is die laaste tydperk van die Mesosoïkum Era. Hierdie tydperk was gekenmerk aan ‘n relatiewe hoë temperatuur en hoë seevlakke en talle vlak binnelandse seë bo-op kontinente. Die oseane en seë was deur bevolkings van uitgestorwe mariene reptiele, ammoniete en rudistiese tweekleppiges bewoon terwyl dinosauriërs steeds die land en pterosauriërs die lug oorheers het. Blomplante het in hierdie tydperk ontstaan en soogdiere en voëls het begin diversifiseer. Hierdie tydperk eindig met die K-T massa-uitsterwing toe die Chichilub-meteoriet die Aarde getref het.
K-T massa-uitsterwing staan ook as die Kryt-Paleoseen massa-uitsterwing bekend. K-T is die afkorting vir Kreide-Tertiär wat die Duitse uitrukking vir Kryt-Tersiêr is. Tersiêr is ‘n uitgediende geologiese term wat in die vorige eeu nog in gebruik was wat na die eerste typerk van die Kainosoïkum Era verwys het. Alhoewel die moderne uitdrukking K-Pg deesdae deur sommige geoloë en paleontoloë gebruik word, bly K-T die meer bekende, en algemeen gebruikte, uitdrukking. Dit verwys na die massa-uitsterwing ongeveer 66 miljoen jaar gelede, toe die reuse Chicxulub-meteoriet die Aarde getref het. Hierdie meteoriet wat tussen 10-15 km in deursneë was, het die Atlantiese kus van Noord Amerika getref en ‘n impakkrater van 150 km wyd en 20 km diep op die seevloer langs die Yucatán Skiereiland van Meksiko nagelaat. Die impak van die meteorietbotsing, die giftige iridium stof wat oor die Aarde neergesak het, die duisternis wat gevolg het weens die stof in die atmosfeer wat die son vir lank verdoof het, en die gevolglike klimaatsverandering, het tot die uitwissing van driekwart van plant- en dierspesies insluitende die dinosauriërs, pterosourërs en plesiosauriërs gelei. Met die uitsondering van seeskilpaaie en die krokodil, het geen tetrapode swaarder as 25 kg hierdie massa-uitsterwing oorleef nie. Hierdie gebeurtenis lui die einde van die Mesosoïkum en die aanvang van die Kainosoïkum in. Die Die einde van die Kryt word in die geologiese rekord as ‘n dun iridiumryke moddersteen wêreldwyd aangetref. Iridium is skaars in die oppervlakte van die Aarde maar volop in asteroïede.
Kuehneotheridiërs – sien Kuehneotheriidae.
Kuehneotheriidae is ‘n uitgestorwe familie van mammaliforme soogdieragtige reptiele. Kuehneotheridiërs word slegs deur fossiele van hul tande verteenwoordig, maar dit wat ons het, dui daarop dat die vorm en funksie daarvan baie na aan dié van soogdiere s’n was.
Kuonodontiërs – sien Cynodontia.
Kwadraat is ‘n been agter en aan die kant van die reptielskedel waarmee die artikulêre been van die onderkaak artikuleer. Die kwadraat en artikulêre been kombinasie vorm die kaakskarnier van reptiele, wat van die soogdiere se kaakskarnier, wat deur die dentale been en skwamosum gevorm word, verskil. Die kwadraat van die reptiele word die aambeeld van die soogdierbinne-oor.
Lacertilia is ‘n suborde waarin die akkedisse val. Daar is ongeveer 6000 bestaande akkedisspesies wat in alle kontinente buiten Antarktika voorkom. Dit is ‘n parafiletiese groep wat die naasverwante wurmakkedisse (Amphisbaenia) en slange uitsluit. Sekere akkedisse is nader aan wurmakkedisse, en ander is nader aan slange, as aan ander akkedisse verwant. Hulle wissel in grootte vanaf dwerg-geitjies en verkleurmannetjies wat maar ‘n paar sentimeter lank is tot die drie meter lange Komodo Draak. Meeste akkedisse is vierbenig, maar daar is verskeie groepe waar hulle hul bene verloor het. Akkedisse is hoofsaaklik karnivories en meeste is insektivories. Akkedisse en slange het ‘n beweeglike kwadraat wat hulle van die Rhynchocephalia onderskei. Akkedisse het ook beweegbare tonge wat buite die mond uitgesteek kan word, sommige akkedisgroepe het gevurkte tonge soos die slange. Akkedisse se velle is met skubbe, wat soos dakteëls oor mekaar pas, bedek wat hul velle waterdig maak. Akkedisse sluit groepe soos die geitjies, verkleurmannetjies, koggelmanders, skinke en likkewane in..
Lagena is die blaasvormige struktuur in visse, die keëlvormige struktuur in amfibieë en reptiele, tot die lang buisie van voëls in die binneoor, waarbinne die gehoorsenuwee-eindpunte geleë is. In soogdiere het hierdie buise dermate verleng dat dit, om in die beperkte ruimte in te pas, opgekrul geraak het om die slakkehuis te vorm. Die gehoorsenuwee strek van die lagena na die brein.
Landlewende werweldiere – sien Tetrapode.
Langbene is tipies die bene wat in ledemate voorkom. Dit sluit hoofsaaklik die boarmbeen, ellepyp, spaakbeen, dybeen, skeenbeen en speekbeen in.
Laurasië is die noordelike superkontinent wat in die Mesosoïkum bestaan het. Dit was op sy suidpunt aan die suidelike superkontinent Gondwanaland vasgeheg. Laurasië het saam met Gondwanaland Pangea opgemaak. Laurasië het 215 tot 175 miljoen jaar gelede opgebreek en oorsprong aan Noord Amerika en Eurasië gegee.
Lepidosauria wat “geskubde akkedisse” in Grieks beteken is ‘n subklas of superorde (afhangende van die klassifikasie wat jy gebruik) waarin die ordes Squamata en Rhynchocephalia ingesluit is. Die Squamata sluit die slange en akkedisse in en die Rhynchocephalia word vandag slegs deur die tuatara van Nieu Seeland verteenwoordig. Die lepidosauriërs word as die sustersgroep van die argosauriërs beskou.
Lepidosauriërs – sien Lepidosauria.
Lewendbarend of vivipaar. Daar is ‘n baie klein groep diere wat viviparie as voortplantingstrategie aanwend. Die voordeel van viviparie is dat die kleintjie wat gebore word, in sekere omstandighede ‘n groter kans vir oorlewing het as wat eiers sou hê. Die getal kleintjies wat so voortgebring word is uiteraard baie minder as wat met eiers kon voortgebring word. Diere soos die stertlose tenrek van Madagaskar kan tot 30 kleintjies op ‘n slag baar, terwyl ‘n mierkoningin tot 300 000 eiers per dag kan lê. Viviparie kom in meeste soogdiere voor (daar is egter nog steeds eierlêende soogdiere soos die mieregel en die eendbekdier).
Lisamfibieë – sien Lissamphibia.
Lissamphibia is ‘n subklas van die Amphibia wat die ekstante amfibieë insluit. Ekstante amfibieë hoort aan die Orde Anura (paddas en skurwepaddas), die Orde Urodela en die Orde Gymnophiona (rubberwurms). Die volgende kenmerke kom in meeste lisamfibieë voor: dubbel oksipitale knobbels, twee tipes velkliere, vetliggaampies wat saam met gonades voorkom, groen stafies in die retina, ribbes wat nie rondom die torso strek nie, vermoë om die oogbal boontoe te lig, pomp-aksie respirasiestelsel, sillindriese sentra van die werwels, verlies van sekere agterste skedelbene.
Litologie verwys na die studie van die fisiese eienskappe van gesteentes – dit sluit die kleur, tekstuur, korrelgrootte en samestelling van die gesteente in.
Lobvinvisse – sien Sarcopterygii
Lycosuchidae was die eerste primitiewe therokefaliërfamilie wie se fossiele in die Middel Perm gesteentes van Suid-Afrika ontdek is. Lykosugiërs was hond-grootte roofdiere het groot slagtande gehad en mens kry dikwels ‘n skedel met twee slagtande in die tandry, maar een is duidelik ‘n plaasvervanger van die ouer en kleiner een.
Lykosugiërs – sien Lycosuchidae.
Maaltande is die tande wat agter die voormaaltande in soogdiere voorkom. Dikwels verwar mense maaltande met kiestande. Kiestande sluit beide voormaaltande en maaltande in. Maaltande is permanente tande wat heel laaste uitkom en het nie melktandvoorlopers wat hulle vervang nie. Maaltande in meeste soogdiere het knobbels wat tussen spesies, genera, families en ordes verskil en dus dikwels in klassifikasie gebruik word. Soos meeste tande is maaltande ook spesifiek by die dier se dieët aan te pas. In meeste gevalle word maaltande gebruik om mee te kou, maar in ander soos in katte word die voormaaltand en maaltand-kombinasie gebruik om deur vleis te sny, terwyl dit klein koniese tandjies in aardwolwe is en skerp knobbels vir die kraak van insek-eksoskelette in skeerbekmuise het.
Maksilla is een van die beenelemente wat die bokaak van werweldiere opmaak. In soogdiere bestaan die bokaak deur ‘n premaksilla wat die snytande huisves en ‘n maksilla wat die slagtand (oogtand in mense) en kiestande (voormaaltande en maaltande) aan elke kant.
Malleus – sien Hamer.
Mammaliformes, wat soogdieragtiges beteken, word gedefinieër as die klade wat die laaste gemeenskaplike voorouer van die Morganucodontidae en Mammalia en al sy afstammelinge bevat. Docodonta en Kuehneotheriidae en moontlik die Haramiyidae word saam met die Morganucodontidae as Mammaliformes geklassifiseer. Die Mammaliformes was die naaste verwante groep aan die soogdiere en het reeds meeste van die soogdierkenmerke buiten vir die getal beentjies in die binneoor en die samestelling van die kaakskarnier gehad. Mammaliformes het slegs een beentjie – die stiebeuel (stapes) in die middeloor gehad terwyl soogdiere drie beentjies in die middeloor het, naamlik die stiebeuel, aambeeld en hamer.
Marsupiale – sien Buideldiere.
Massa-uitsterwing is die uitsterwing van miljoene organismes, en dikwels hele groepe soos families, ordes en selfs klasse en filums wat op ‘n uitwissingsgebeurtenis soos ‘n meteoriet-impak volg. Verskillende geologiese periodes word op hierdie manier deur middel van die verdwyning van sekere fossielgroepe in die geologiese rekord bepaal. Daar het byvoorbeeld geen pterosauriërs, plesiosauriërs, pliosauriërs of dinosauriërs (buiten vir voëls) wat die K/T meteorietimpak oorleef het nie. Die Perm/Trias uitwissing het weer tot die massa-uitsterwing van 57% biologiese families, 83% van genera, 81% van seelewende spesies en 70% van landlewende spesies gelei.
Meckel se kraakbeen is die kraakbeenelement van die skedel wat die oorspronklike onderkaak van die eerste werweldiere gevorm het. Die embrios van alle lede van die werweldiere wat aan die Gnathastomata hoort, het ‘n onderkaak wat uit Meckel se kraakbeen bestaan. Meckel se kraakbeen word tydens emrbionale ontwikkeling van tetrapode gewoonlik deur die bene, wat in die vel van rondom onderkaak vorm, vervang. Hierdie dermale bene sluit die dentale, spleniale, preartikulêre, artikulêre, angulêre, surangulêre en koronoïed bene in. In beenvisse kom daar ook ‘n mentomeckel been voor. In kraakbeenvisse (Chondrichthyes) bestaan dermale bene nie en die Meckel se kraakbeen vorm die onderkaak van die volwasse diere.
Mega-herbivoor is ‘n plantvreter wat 1000 kg of meer weeg. Hierdie diere se grootte maak dit moeilik vir roofdiere om hulle te kan jag. Hedendaagse voorbeelde is die olifant, renoster, seekoei, kameelperd. In die oertyd was daar mammoete, grond-luidiere en die reuse wombat. Oermense het al die megaherbivore buite Afrika gejag tot hulle uitgewis is.
Melkkliere is die kliere wat in soogdiere voorkom wat melk vervaardig. Dit kom gewoonlik vanaf die onderarm tot by die lies voor. Dit is die enigste egte unieke soogdierkenmerk van die vyf sogenaamde soogdiereienskappe. Alle lewende soogdiere het melkkliere – meeste het tepels maar die primitiewe eierlêende soogdiere van Australië het nie tepels soos ander soogdiere nie maar eenvoudige melkkliere op die pens wat melk afskei. Die kleintjies lek en suig aan die melkdeurweekte hare daaromheen. Die eendbekdier het twee sulke melkkliere op die pens en in die pennetjiesmiervreter kom die melkkliere in die broeisak (voorloper van die buidelsak) voor.
Melktande is die eerste stel tande wat ‘n difiodont soogdiere voorkom. Hierdie tande word deur permanente tande vervang. Sekere soogdiere soos olifante, manatees en kangaroes wat regdeur hul lewe hul tande vervang word as polifiodont beskou wat die begrip van melktande oorbodig maak.
Mesosaurus, die oudste Suid-Afrikaanse reptiel-fossiel, het net soos die stamreptiele en skilpaaie geen slaapwyk-openinge gehad nie en word dus as ‘n parareptiel of anapsied geklassifiseer. Mesosaurus het ‘n langwerpige akkedisagtige lyf gehad, maar aangesien dit ‘n seelewende dier was het dit ook lang agterpote, waarskynlik met webbe tussen die lang tone, en ‘n afgeplatte stert gehad om mee te swem. Hulle het talle naaldvorige tande gehad. Mesosaurus-fossiele was in Suid-Amerika en in die Karoo ontdek en was een van die fossiele wat gebruik was om te bewys dat die twee kontinente in die oertyd aanmekaar gekoppel was en dat Gondwanaland bestaan het.
Mesosoïkum Era (Mesozoic Era) (252 – 66 Mjg) word ook soms die Tydperk van Dinosauriërs of die Tydperk van keëlplante genoem. Die Mesosoïkum word in drie dele van oudste na jongste: die Trias, Jura en Kryt Periodes verdeel. Die Mesosoïkum volg op die Perm-Trias massa-uitsterwing en eindig met die K-T massa-uitsterwing. Gondwanaland het in hierdie tydperk opgebreek. Dinosauriërs, plesiosauriërs, igtiosauriërs, mosasauriërs, pterosauriërs, voëls, soogdiere en blomplante het in hierdie tydperk ontstaan.
Metabolisme (metabolism) is die lewensonderhoudende chemiese reaksies in organismes. Metabolisme bestaan uit twee prosesse – katabolisme of dissimilasie wat die afbreek van organiese materiaal is, en anabolisme of assimilasie wat die opbou van nuwe verbindings uit organiese voedingstowwe wat opgeneem is. Die drie hooffunksies van metabolisme is:
- om kos in energie te omskep om sellulêre prosesse te dryf;
- om kos in boustene vir proteïene, lipiede, nukleïensure en sekere koolwaterstowwe te omskep;
- en die eliminasie van metaboliese afvalstowwe.
Hierdie ensiem-gekataliseerde prosesse, wat meestal in die teenwoordigheid van suurstof plaasvind, stel organismes in staat om te groei, voort te plant, struktuurintegriteit te handhaaf en om op hul omgewing te reageer. In kort: metabolisme is die somtotaal van al die chemiese reaksies wat in lewende organismes plaasvind.
Metatheria – sien Buideldiere.
Middeloor is die deel van die gehoorapparaat of oor (in die breë konteks gesien), tussen die oordrom en binneoor. Dit is die ruimte waarbinne die gehoorbeentjies geleë is. In tetrapode buiten soogdiere, kom slegs die stapes in die middeloor voor. In soogdiere kom daar egter ‘n hamer (malleus), aambeeld (incus) en stiebeuel (stapes) voor. Klankgolwe word van die oordrom, deur die gehoorbeentjie of gehoorbeentjies na die ovaal venster van die binneoor, oorgedra. Die eustachiese buis open ook in die middeloor.
Mjg – Miljoen jaar gelede. Dit word soms as Ma vir Mega annum aangedui, maar dit is te verwarrend om Ma in Afrikaans te gebruik en dus verkies ek om Mjg te gebruik.
Mondholte is eenvoudig die holte agter die mondopening voor die farinks. Daar is dikwels strukture soos ‘n tong en tande en openinge van speekselkliere in die mondholte teenwoordig. In meeste tetrapode open die neusgate direk in die mondholte. In krokodille en soogdiere en soogdiere se voorsate – die therokefaliërs en kuonodontiërs – word die mondholte van die neusholte deur ‘n verhemelte geskei wat die dier toelaat om asem te haal terwyl die mondholte vol kos of water is. In diere wat nie ‘n verhemelte het nie, word daar net na ‘n mondholte verwys en nie na die neusholte nie.
Monotremata – sien Eierlêende Soogdiere.
Morganucodon is een van die oudste soogdierfossiele bekend – sien Morganukodontiërs.
Morganukodontiërs (Morganucodontidae) het reeds ongeveer 200 miljoen jaar gelede in die Laat Trias verskyn. Hulle was die eerste diere wat ‘n dentale-skwamosum kaakgewrig gehad het wat alleen vir die artikulasie van die onderkaak verantwoordelik was. Die oorspronklike reptiel-kaakgewig, wat deur die artikulêre been en die kwadraat gevorm was, het nie verdwyn nie maar was nou as die hamer en aambeeld slegs vir gehoordoeleindes aangewend.
Naaksadiges (gimnosperme) saadplante wat sade in ‘n verskeidenheid van keëls of ander oop strukture dra. Meeste word deur wind bestuif, alhoewel ander soos die broodboom deur kewers bestuif word. Alle gimnosperme is houtagtig en meeste van hulle kom as bome voor. Gimnosperme het in die Karboon Periode vanuit progimnosperme ontstaan. Die ekstante gimnospermfilums is die Cycadophyta (broodbome), Ginkgophyta (ginkos), Gnetophyta (Welwitschia en verwante) en die Pinophyta (Dennebome, Sipresse, Rooihout, Geelhout en verwante) en die uitgestorwe Pteridospermales (saadvarings) en Cordaitales. Die gimnosperme was tydens die Mesosoïkum die dominante landplante maar is na die K-T massa-uitsterwing deur blomplante as die dominante landplante vervang.
Neotherapsida is ‘n voorgestelde saamgroepering van anomodontiërs en theriodontiërs.
Neusgate (choana in Latyn), is die openinge vooraan die snoet van werweldiere. In meeste diere is daar twee sodat die reukepiteel waarmee die neusgate (of neusholtes in sommige diere) uitgevoer is, die rigting waar ‘n reuk vandaan kom kan bepaal. In sommige werweldiere soos die kaaklose visse (slymprikke en lampreie) en sommige kraakbeenvisse soos die rotvisse is daar egter net een neusgat. In werweldiere soos meeste visse (buiten slymprikke en lobvinvisse) is die neusgate bloot blinde sakkies wat slegs vir reuk aangewend word. Neusgate het egter in lobvinvisse en die tetrapode allerbelangrik vir asemhaling geword. Die verskuiwing van die reukepiteel na die neusholte het met lugaseming gepaard gegaan waar lug deur die neusgate in die mondholte en van daar deur die farinks, lugpyp en longe geadem is.
Neusholte is die holte in die skedel tussen die neusgat en die nasofarinks bo die verhemelte. In die geval van die mens, vorm die voorste deel van die breinkas, die dak van die neusholte. Dit is hier waar die reukepiteel in die dak van die neusholte en die septum, wat die neusholte in twee deel, se epiteel voorkom. In diere is die neusholte in die snoet gehuisves. Die neusholte bevat die turbinate, die gekronkelde dun beenplate wat met klam epiteel bedek is, wat die ingeademde lug verhit en vogtig maak. Die reuksenuwees steek deur die sifbeen, bo in die dak van die neusholte, uit.
Nis verwys na die plek, fisiese omstandighede, die aard, funksie en nut van ‘n organisme binne die ekologie. Sekere diere is byvoorbeeld bestuiwers, maar sommige is nog meer spesifiek – soos ‘n sekere pylstertmot wat spesifiek blomme met lang kelke met ‘n spesiale lang slurptong in die nag besoek en bestuif en soms deur vlermuise gevang word. Daardie pylstertmot vul die nis van ‘n naglewende langkelkblom bestuiwer en kos vir vermuise en het dus vir ‘n baie spesifieke nis. Sekere nisse is selfs meer eksklusief waar sekere organismes net een spesifieke ding kan doen – soos ‘n parasiet wat slegs in een gasheer en een tussengasheer kan leef. Ander diere vul meer algemene nisse soos vlakvarke wat op die savanna leef en alles vreet wat hulle voedsaam vind en deur ‘n verskeidenheid roofdiere gevang en gevreet sal word.
Notokoord is ‘n buigbare stafie van bindweefsel wat in die boonste deel van die liggame van talle waterlewende werweldiergroepe soos kaaklose visse (lampreie en snotvisse of slymprikke) en Cephalochordate soos Amphioxus voorkom. Dit word mettertyd gedurende die evolusie van kraakeen- en beenvisse met die werwelkolom vervang. Die notokoord speel dieselfde rol as die werwelkolom en dien as ondersteuning vir die liggaam en as aanhegtingsplek vir spiere.
Ofiakodontiërs – sien Ophiacodontidae.
Oksipitale knobbels is die knobbels heel agter in die skedel, onder of weerskante van die foramen magnum waardeur die rugstring gaan. In reptiele en voëls is daar slegs een oksipitale knobbel onder die foramen magnum, maar in lisamfibieë en soogdiere is daar twee. Die enkel oksipitale knobbel split na gelang van tyd in twee knobbels gedurende die evolusie van die karnivoriese soogdieragtige reptiele.
Omnivoor verwys na ‘n dier wat ‘n verskeidenheid voedseltipes kan eet, maar hoofsaaklik vleis en plante. Sommige omnivore het egter baie spesifieke diëte en sal byvoorbeeld verskeie tipe vleis maar slegs sekere plante vreet, of andersins ‘n klein verskeidenheid vleisprodukte vreet en ‘n groter verskeidenheid plantmateriaal vreet, of andersins hoofsaaklik vleis vreet en nou en dan plantmateriaal soos vrugte vir vitamiene C inkry. Die woord allesvreter is nie die korrekte sinoniem vir omnivoor nie.
Onderkaak of mandibel het sewe bene (die dentale, spleniale, angulêre, koronoïed, surangulêre, artikulêre en preartikulêre bene) aan elke kant in reptiele. Die onderkaak van soogdiere bestaan uit twee dentale bene aan elke kant.
Oop verhemelte verwys na diere soos amfibieë, reptiele (buiten krokodille en gevorderde soogdieragtige reptiele) en voëls waar die neusgate (interne nares) binne die mondholte open. Diere soos krokodille en eutheriodontiërs, het geslote verhemeltes.
Oorbeentjies of oorossikels is die beentjies in die middeloor van tetrapode wat die klankgolwe van die oordrom na die binneoor vervoer. In meeste tetrapode (amfibieë, reptiele en voëls) is daar net een oorbeentjie in die middeloor, naamlik die stapes of stiebeuel. In soogdiere is daar egter drie oorbeentjies – die hamer (malleus), aambeeld (incus) en die stiebeuel (stapes). Hierdie beentjies is die kleinste beentjies in ‘n werweldier se skelet.
Oordrom of timpanum is die vlies aan die einde van die oorkanaal in amniote, of buite teen die kop van amfibieë, wat met klankgolwe vibreer. Hierdie vibrasies word na die oorbeentjies oorgedra.
Oorkanaal is die buis in skedel, of kraakbeenbuis langs die skedel, wat die ooropening met die trommelvlies in amniote verbind.
Oorossikels – sien Oorbeentjies.
Oorskulpe is die kraakbenige strukture langs die kop waar die oorkanaal open wat algemeen as ore bekend staan. Die oor is egter die hele oorapparaat vanaf die oorskulp en oorkanaal (wat saam as die buite-oor bekend staan), die middeloor en die binneoor.
Ophiacodontidae is ‘n uitgestorwe familie van basale soogdieragtige reptiele wat eens as pelikosauriërs geklassifiseer was. Die ofiakodontiërs het van die Karboon tot die Perm Periode in Laurasië voorgekom. Van die groter spesies kon tot 3.6 m lank word. Hulle liggaamsvorm was soortgelyk aan dié van likkewane met hul wydsbeenstand, maar ofiakodontiërs het groot, langwerpige koppe en baie sterk skouergordels gehad.
Ordovisium Periode (485.4 – 443.8 Mjg). In hierdie tydperk was weekdiere en geleedpotiges die dominante diere in die oseane terwyl visse verder ontwikkel het. Die einde van die Ordovisium Periode word gekenmerk aan die Ordovisium – Siluur massa-uitsterwing. Daar was ‘n groot toename en diversifisering van tweekleppiges in die Vroeë Ordovisium Periode.
Osteichthyes of beenvisse is ‘n diverse superklas wat meer a 28 000 spesies bevat, wat dit die grootste groep ekstante welweldiere maak. Beenvisse se skelette bestaan meestal uit been, maar daar is uitsonderings soos die steurvis waar die skelet (soos dié van die Chondrichthyes of kraakbeenvisse) uitsluitlik uit kraakbeen bestaan. Beenvisse word in die straalvinvisse (Actinopterygii) en die lobvinvisse (Sarcopterygii) verdeel. Beenvisse het ongeveer 425 miljoen jaar gedurende die Laat Siluur Periode ontstaan. Beenvisse het ‘n swemblaas vanuit die slukderm ontwikkel wat uiteindelik aan die longe in tetrapode oorsprong gegee het. ‘n Dekplaat – die operkulum – beskerm die 4-5 paar kiewe daaronder en help om water deur die kiewe te pomp. In kraakbeenvisse is die 5 kiefsplete, weerskante van die kop, oop. Verskillende groepe beenvisse het ook verskillende tipes skubbe (sikloïed, stenoïed en ganoïed) en twee hoofvorms van die stert nl. difiserkaal (in lobvinvisse) of homoserkaal (in straalvinvisse).
Ostracodermi of gepantserde kaaklose visse het wêreldwyd in die oseane tydens die Paleosoïkum Era voorgekom. Die term Ostracodermi word nie meer in moderne klassifikasie van visse gebruik nie want dit het duidelik geword dat hierdie groep parafileties of polifileties is en dus nie in klassifikasie gebruik kan word nie. Die benaming bly egter populêr maar dit word net informeel gebruik. Die gepanserde kaaklose visse was die eerste diere wat nie hul kiewe vir filtervoeding gebruik het nie, maar vir respirasie. Die kop van hierdie visse was omhul met ‘n beenplaat vir beskerming en die res van die lyf was met harde beenskubbe bedek wat as beweeglike pantser gedien het. Alhoewel die lyf buite-om met ‘n beenpantser bedek was, was daar ‘n buigbare notochoord in plek van ‘n kraakbeen of benige rugstring. Hulle het in die Siluur Periode ontstaan en teen die einde van die Devoon Periode uitgesterf, waarskynlik omdat hulle nie teen die kaakvisse (Gnatostomata) kon kers vashou nie.
Paleontoloog is ‘n fossielkenner en ‘n persoon wat die anatomie van fossiele, die prosesse van fossilering en die verspreiding van fossiele bestudeer.
Pangea beteken “alle Aarde” in Grieks. Dit is die naam wat ons vir die superkontinent gee wat vanaf 335 miljoen tot 175 miljoen jaar gelede bestaan het toe al die huidige kontinente in een landmassa saamgesnoer was. Pangea het later in die superkontinente Gondwana en Laurasië opgebreek.
Paraves (voorheen Eumaniraptoria) is ‘n groep theropood dinosauriërs wat in die Middel Jura Periode ontstaan het. Dit sluit die dromaeosauriërs, troodontiërs, angiornitidiërs en die avalaniërs in. Die avalaniërs sluit die meer as 10 000 spesies ekstante voëls en al hul uitgestorwe verwante in. Basale lede van die paraviërs het ‘n groot slagklou op die tweede toon gehad, wat in die lug gehou was (om dit skerp te hou), wanneer hulle (soos wat mens in versteende voetspore kan sien) op die derde en vierde tone geloop het. Soos in ander theropood dinosaurërs was die eerste toon rudimentêr en het in onbruik verval en was dus baie kleiner as die ander tone en het nie aan die grond geraak nie, later in die evolusie van die boomlewende voëls het dit weer nuttig geword en agtertoe geroteer om die agtertoon van voëls te vorm wat gebruik word om aan takke vas te klou. Soos alle theropood dinosauriërs het paraviërs op hul agterbene geloop. Paraves was meestal roofdiere alhoewel van die eerste paraviërs omnivories kon wees. Soos baie theropood dinosauriërs het paraviërs vere gehad. Meeste paraviërs het lang vlerkagtige arms met drie-vinger hande gehad. Mettertyd het die vingers smaller geword, verstyf en vergroei soos wat die arms in sekere gevorderde groepe meer vlerkagtig geword het. Die vermindering van gewrigsbeentjies het daartoe gelei dat slegs een halfmaanvormige gewrigsbeentjie oorgebly het wat toegelaat het dat die hand deur ‘n baie groot rotasie tot teen die voorarm kan terugbeweeg. Die lang vlugvere op die arms en in Microraptor, ook op die agterbene dui daarop dat sekere klein Paraves kon vlieg.
Pariëtale of pineale oog is in die pariëtale foramen in die middel van die skedeldak van visse, amfibieë en meeste reptiele geleë. Die pariëtale foramen, en dus die pariëtale oog, het mettertyd al hoe kleiner in die theriodontiërs geword soos wat hulle al hoe meer soogdieragtige kenmerke ontwikkel het, totdat dit in die kuonodontiërs, die direkte voorsate van die soogdiere, verdwyn het. Diesefde het met die archosauriërs gebeur wat sal verklaar hoekom krokodille en voëls ook nie ‘n pariëtale oog het nie. Soogdiere, krokodille en voëls het egter nog steeds ‘n pineale klier al het hulle nie ‘n pariëtale oog nie. Die pariëtale oog stuur inligting oor die intensiteit van die son en die lengte van daglig na die pineale orgaan deur middel van ‘n senuwee wat die twee strukture verbid. Die pinele klier is verantwoordelik vir die metaboliese reaksies en gedrag wat die sirkadiese ritmes van die dier beheer.
Pelikosauriërs – sien Pelycosauria.
Pelvis of heupbeen bestaan oorspronklik uit drie bene aan elke kant van die heupgebied of sakrale deel van die ruggraat. In die amfibieë en reptiele is hierdie bene – die ileum, ischium en pelvis – nog drie individuele bene aan elke kant van die ruggraat. In soogdiere en voëls is hierdie bene nog in die embrio sigbaar, maar vergroei tydens ontwikkeling om een enkele been aan elke kant van die pelvis te vorm.
Pelycosauria was die eerste soogdieragtige reptiele of sinapsiede. Die term Pelycosauria word nie meer in klassifikasie gebruik nie omdat dit polifileties is, maar word nog steeds informeel gebruik om na die basale sinapsiede te verwys. Soogdieragtige reptiele was die eerste groep reptiele wat in die Laat Karboon van die stamreptiele gestam het en het verskeie baie primitiewe kenmerke behou soos ‘n klierryke vel en ‘n lae, wydsbeen-stand soortgelyk aan wat ons in amfibieë vind. Die pelikosauriërs het die amfibieë as die dominante werweldiere op land in die Laat Karboon Periode en Vroeë Perm Periode verplaas. Teen die Laat Perm Periode was die pelikosauriërs deur hul nasate die therapsiede as dominante landlewende werweldiere verplaas. Pelikosouriërfossiele word in die noordelike kontinente gevind wat te verwagte is aangesien Gondwanaland tydens die Karboon Periode baie ver suid geleë was en Suid-Afrika, as deel van die suidelike deel van Gondwanaland, was reg op die suidpool geleë. ‘n Groot yskap het dus ‘n groot deel van Gondwanaland tydens die Karboon Periode bedek. Die noordelike deel van Pangea was op die ekwator geleë en die pelikosauriërs het in die tropiese woude daar voorgekom. Ten spyte van hulle relatiewe primitiewe aard, het pelikosauriërs sekere soogdieragtige kenmerke gehad soos die enkele temporale venster in die slaapwyk van die skedel en sommige karnivoriese pelikosauriërs het ‘n vergroting van die tweede tand op die maksilla waar die soogdierslagtand later sal voorkom.
Perdesterte is plante wat aan die genus Equisetum hoort wat lede van die Familie Equisetaceae is. Die perdesterte is die enigste oorlewende genus van die Orde Equisetales. Die Equisetales was ‘n ekologies belangrike groep in die Devoon en van die spesies het as groot bome in woude voorgekom. Die stamme van hierdie oer-perdesterte het lengtelopende ribbes vir versterking gehad net soos wat mens op die ekstante perdestertstingels vind.
Permanente tande is die stel tande wat die melktande in difiodonte soogdiere vervang. In polifiodonte soogdiere soos olifante, manatees en kangaroes word die tande regdeur die dier se lewe vervang en daar word dus nie na permanente tande in hierdie diere verwys nie.
Perm Periode (251.9 – 251,9 Mjg) is die tydperk wat na die Karboon Ystydperk volg en wat met die uitsterwing van 95% van alle plant- en dierspesies op Aarde eindig. Dit was die grootste uitwissing van lewe ooit. Die tipiese plante wat tydens die Karboon Periode op land geheers het, word nou deur keëldraende gimnosperme (die eerste ware saadplante) en eerste ware mosse verplaas. Brachiopode, tweekleppiges, foraminifere en ammoniete kom volop in die oseane voor. Vlieë en kewers verskyn. Parareptiele, temnospondiele en soogdieragtige reptiele kom wydverspreid op die superkontinent Pangea voor.
Perm-Trias uitwissing wat 250 miljoen jaar gelede deur massiewe vulkanisme in Noordelike Pangea veroorsaak is, uitgesterf. Reusagtige hoeveelhede kweekhuisgasse is deur die vulkane in die atmosfeer ingestuur. Die gevolglike 8-10°C styging van die temperatuur by die ekwator het veroorsaak dat die Aarde uitgedroog het. Daar sou weens die vulkaniese gasse in die atmosfeer suurreën met ‘n pH van 2 tot 3 tydens uitbarstings uitgesak het en die pH wêreldwyd tot so laag soos 4 laat daal het. Dit het tot die agteruitgang van die woude wêreldwyd vir die volgende 10 miljoen jaar gelei. Gedurende hierdie tyd het die Glossopteris flora wat die dominante terrestriële plante gedurende die Perm was uitgesterf. Daar was gereëlde veldbrande weens die hoë temperatuur en die uitdroging van die plante en ‘n moontlikheid dat die osoonlaag in hierdie tydperk vir ‘n kort tyd vernietig was, wat veroorsaak het dat die Aarde aan massiewe hoeveelhede UV bestraling blootgestel was.
Pineale orgaan of epifise is ‘n sensoriese orgaan wat in werweldiere bokant die midbrein voorkom. In meeste werweldiere vanaf visse, amfibieë en meeste reptiele is daar ‘n senuweeverbinding tussen die pineale orgaan en die pariëtale oog wat in die pineale foramen van die middel van die skedeldak voorkom. In voëls en soogdiere het die foramen gesluit maar die pineale orgaan kom nog steeds tussen die twee breinhelftes bokant die midbrein voor. Daar is senuweevesels van die optiese chiasma in voëls en soogdiere wat met die pineale orgaan verbind is. Wanneer die pineale orgaan deur prikkels van die pariëtale oog of senuweevesels in visse, amfibieë en meeste reptiele vanaf die optiese chiasma van soogdiere of voëls geprikkel word, word ‘n reeks hormone binne die pineale klier afgeskei wat sirkadiese ritmes van die dier beheer wat met seisoene en dagligintensiteit en -lengte te doen het, soos seisoenale paringsgedrag, hitteregulering en aktiwiteit.
Placodermi of gepantserde kaakvisse was die eerste visse met kake. Placodermi het, soos Ostracodermi, vanaf die Siluur tot die Devoon in oseane wêreldwyd voorgekom. Hulle koppe was met geartikuleerde beenplate bedek en sekere spesies het skubbe gehad terwyl ander naakvellig was. Gepanserde kaakvisse was die eerste visse wat ook pelviese vinne en tande ontwikkel het.
Plantvretend of herbivories verwys na ‘n organisme (gewoonlik ‘n dier) wat plante vreet. Natuurlik doen baie ander organismes soos swamme en bakterieë dit ook, maar dan verwys mens gewoonlik na saprofiete (in die geval van swamme) en patogene (in die geval van bakterieë). As mens dieper in biologie, dierdiversiteit, diergedrag, anatomie en ekologie begin belangstel kom mens agter dat daar verskillende tipes herbivore soos vrugtevreters, grasvreters, blaarvreters, vrugtevreters, saadvreters ens. is.
Plasentale soogdiere of Eutheria hoort aan die Superorde Placentalia van die Klas Mammalia. Die plasentale soogdiere verskil van die ander soogdiersuperordes Marsupialia en Monotremata omdat hulle embrios slegs in die plasenta ontwikkel terwyl die ander buidelsakke en eiers gebruik. Die fetus van plasentale soogdiere word tot op die finale stadium van embrionale ontwikkeling in die plasenta gedra terwyl die marsupiale hul fetusse ook in plasentas dra, maar net tot op ‘n baie vroeë ontwikkelingsvlak, waarna dit gebore word. Die marsupiaalbaba moet self sy weg na die buidel vind om daar die res van sy ontwikkeling te voltooi. Die plasentale soogdiere het waarskynlik in die Laat Kryt, ongeveer 90 Mjg verskyn maar die oudste fossiele dateer van die Vroeë Paleoseen ongeveer 66 Mjg. Die plasentale soogdiere het in die Paleoseen in die verskillende moderne vorme gediversifiseer om die ekologiese nisse, wat deur die uitgestorwe dinosauriërs nagelaat is, te vul. Soogdierfossiele is nuttig om die vorming en verdwyning van landbrue, wat hulle interkontinentale verspreiding moontlik maak of verhoed, te bestudeer.
Plesiosauria is ‘n uitgestorwe orde wat onder die superorde Sauropterygia van die Klas Reptilia val. Plesiosauriërs verskyn in die fossielrekord in die boonste deel van die Laat Trias, ongeveer 203 Mjg en het baie volop in die Jura geword. Hulle was nog volop tot die einde van die Kryt maar het toe saam met die res van die reuse reptiele tydens die K-T massa-uitsterwing verdwyn. Plesiosauriërs het ‘n breë plat lyf gehad met ledemate wat in vier groot en sterk verlengde vinne verander het. Sommige plesiosauriërs het besondere lang nekke en klein koppe gehad terwyl ander – die pliosauriërs – korter nekke en groter koppe gehad het.
Plesiosauriër – sien Plesiosauria.
Pliosauria is ‘n uitgestorwe orde wat onder die superorde Sauropterygia, onder die klas Reptilia val. Lede van die genus Pliosaurus word in die Laat Jura gesteentes van Europa en Suid Amerika gevind is. Pliosauriërs was die vinnigste en gevaarlikste reptiele wat in die see geleef het. Pliosauriërs het besondere groot koppe met groot kake en groot driehoekige tande gehad en was die top seeroofdiere wat op vis, koppotiges en seelewende reptiele jag gemaak het.
Pliosauriër – sien Pliosauria.
Polifiodont verwys na diere soos olifante, manatees en kangaroes wie se tande regdeur hul lewens vervang word. Dit verskil van difiodonte soogdiere wie se melktande met ‘n stel permanente tande vervang word.
Postkaniene tande is die keëlvormige kiestandjies agter die slagtand van primitiewe soogdieragtige reptiele. In die kuonodontiërs neen kiestande die plek van die postkanine tande in.
Predator – sien Roofdier.
Premaksilla is die been wat gewoonlik heel voor op die snoet, voor die maksilla voorkom. Die snytande van die bokaak kom op die twee premaksillas voor.
Probainognathidae is ‘n uitgetorwe familie van skeerbekmuis-grootte (6-7 cm) kuonodontiërs wat vanaf die Middel tot Laat Trias Periode geleef het. Die gebit van probainognathiërs soos Diarthognathus en Probainognathus dui daarop dat hulle insekvretend was. Hulle het besondere groot slaapwyk-openinge gehad en maksillêre bydrae tot die benige verhemelte is groter as dié van die palatine bene. Hulle kiestande het trikonodont krone gehad.
Probainognathiërs – sien Probainognathidae.
Proterosuchidae is ‘n uitgestorwe familie van basale argosauriformes wat van die Laat Perm tot die Vroeë Trias Periode. Proterosugiërs het langwerpige, vaartbelynde krokodilagtige liggame gehad en was medium tot groot (1.5 – 4 m). Hulle het ‘n primitiewe wydsbeenstand gehad en ‘n kenmerkende haakvormige ondertoe-gebuigde premaksilla.
Proterosugiërs – sien Proterosuchidae.
Prototheria – sien Eierlêende Soogdiere.
Reptiele hoort aan die klas Reptilia van die subfilum Vertebrata van die filum Chordata. Die moderne reptiele (skilpaaie, akkedisse, slange, krokodille, wurmslange en die Tuatara) en verskeie uitgestorwe reptielgroepe (pterosauriërs, plesiosauriërs, igtiosauriërs, dinosauriërs en die res van die nie-skilpad parareptiele, sinapsiede en stamreptiele) hoort aan hierdie groep. Volgens kladististiese beginsels moet al die nasate van reptiel-voorouers ook in hierdie groep ingesluit word en dit sluit dus soogdiere in wat van die sinapsiede ontstaan het en die voëls wat uit die dinosauriërs ontstaan het. Sommige werweldierkenners is van mening dat die woord reptiel sy taksonomiese betekenis verloor het en dat ons eerder na die amniote moet verwys om hulle van die nie-amniotiese tetrapode – die amfibieë te onderskei. Die reptiele is die grootste groep landlewende werweldiere en alhoewel hulle op land ontstaan het en vir meer as 300 miljoen jaar die dominante werweldiere op land was, het hulle ook die lug as pterosauriërs en die see in die vorm van ichthyosauriërs, plesiosauriërs en mosasauriërs oorheers. Reptieldiversiteit het sy hoogtepunt in die Mesosoïkum bereik toe reptiele die mees diverse vorms en groottes bereik het en diverse habitatte bewoon het. Selfs vandag na die K-T massa-uitsterwing is daar steeds amper twee keer meer ekstante reptielspesies (10 700) as soogdierspesies (5 400), en as jy die ongeveer 10 000 spesies voëls, as die nasate van dinosauriërs by tel, is soogdiere as een vyfde van die amniote en glad nie meer die dominante groep werweldiere op land nie. Die eerste reptiele het ongeveer 312 Mjg in die Karboon uit reptieliomorfe tetrapode ontstaan (sien stamreptiele). Die amnioneier was die belangrikste evolusionêre innovasie wat werweldiere van hul afhanklikheid van water gespeen het. Die reptieliomorfe tetrapode was reeds goed vir lewe op land aangepas en was amper identies in liggaamsvorm en gedrag aan reptiele buiten vir hul afhanklikheid van water vir voortplanting wat hulle dan as amfibieë klassifiseer. Die openinge in die slaapwyk van die reptielskedel word gebruik om reptiele as Anapsiede, Sinapsiede en Diapsiede en Eurapsiede te klassifiseer.
Reptiel-kaakgewrig is die skarnier wat deur die artikulêre been wat agter op die onderkaak, en die kwadraat wat op die onderkant agter op die skedel voorkom, gevorm word. In die oorgang na soogdiere sien mens hoe die artikulêre been en die kwadraat van die soogdieragtige reptiele in die hamer en die aambeeld van die binneoor omvorm word.
Reptiliomorpha is die tetrapode wat die Antracosauria en hul nasate, die Amniota, insluit. Met ander woorde, die reptiliomorfe sluit alle tetrapode buiten die basale tetrapode in. Dit is belangrik om in ag te neem dat, alhoewel die antrakosauriërs in meeste opsigte soos reptiele (wat die grootste deel van die amniote opmaak) lyk, hulle akwatiese larwes gehad het en dus as amfibieë geklassifiseer word. Die amniote het nie larwes gehad nie, maar lê eiers met doppe buite die water. Die amnioot-embrio ontwikkel binne die eier.
Rhynchocephalia is ‘n bykans uitgestorwe orde, wat saam met die orde Squamata, die superorde Lepidosauria vorm. Die ringokefaliërs het in die Middel Trias Periode ongeveer 240 miljoen jaar gelede ontstaan. Daar is net een spesie van hierdie primitiewe akkedisagtige reptiele oor en dit is die Sphenodon punctatus of tuatara van Nieu Seeland. Gedurende die Mesosoïkum was die ringokefaliërs baie meer divers en talryk en het in talle vorms, geskik vir verskeie ekologiese nisse, voorgekom. Met die opkoms van akkedisse in die Kryt Periode, het die ringokefaliërs se getalle en diversiteit erg begin afneem. Daar is talle sinapomorfiese kenmerke wat hulle met akkedisse in gemeen het, en op ‘n tyd was die ringokefaliërs as ‘n akkedisfamilie beskou. Daar is egter kenmerke soos die volledige onderste beenstafie (jugale, kwadratojugale en die kwadraat) in tuatara, wat die onderste slaapwykvenster afbaken, wat die Squamata verloor het. Ander kenmerke wat in die ringokefaliërs voorkom, maar nie in die Squamata nie, is die gastralia in die buikgebied, versmelte frontale bene en ‘n dubbel tandry in die bokaak met een ry tande op die maksillêre been, en ‘n tweede, parallel daaraan, op die palitiene been. Kenmerke wat in Squamata, maar nie in die tuatara voorkom nie, is die spleniale been in die onderkaak, die lakrimale been voor en op die rand van die oogkas en tandwortels. Die tuatara het van die oudste ouderdomme van geslagsrypheid onder reptiele – ‘n individu word eers geslagsryp na 9 tot 13 jaar. Aan die ander kant kan hulle tot ongeveer 100 jaar oud word. Die tuatara is ongeveer 35 cm (wyfies) en 43 cm (mannetjie) lank. Oer-rigokefaliërs het tot 1.5 m lank geword.
Richard Owen (1804-1892) was ‘n Britse bioloog, vergelykende anatoom en paleontoloog. Hy het geweldig baie navorsing gedoen en gepubliseer en het onder andere die terme Dinosauria en Synapsida geskep. Hy was ook ongelukkig een van Darwin se grootste teenstanders en alhoewel hy evolusie aanvaar het, hy nie die nuwe gedagtes rondom die meganisme van evolusie aanvaar nie. Hy was ook onpopulêr onder sy kollegas omdat hy blykbaar krediet vir ander mense se werk geneem het. Owen was egter ook die dryfveer om die Britse Natuurhistoriese Museum op die been te bring en om dit vir die publiek in 1881 oop te stel.
Ringokefaliërs – sien Rhynchocephalia.
Robert Broom (1866-1951) was ‘n Skot wat in 1897 Suid-Afrika toe gekom het. Hy het as mediese dokter in 1895 gekwalifiseer en ‘n DSc in geologie in 1905 van die Universiteit van Glasgow verwerf. Hy was as professor in dierkunde en geologie by die Victoria College in Stellenbosch (wat later die Universiteit van Stellenbosch sou word) van 1903-1910 aangestel. Daarna was hy as werweldierpaleontoloog in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad werksamig. Hy het later as dokter in die Karoo gewerk waar hy ook fossiele opgegrawe het. Hy het die eerste studie van die biostratigrafie van die Karoo Supergroep gedoen en gepubliseer. Een van sy belangstelligs was die soogdieragtige reptiele wat die evolusionêre oorgang van reptiele na soogdiere boekstaaf. Hy het in sy leeftyd duisende fossiele opgegrawe en het meer soogdieragtige fossielspesies as enige ander paleontoloog ontdek en benoem. Hy was in sy 60’s toe hy ‘n pos as paleontoloog in 1934 by die Transvaal Museum in Pretoria aanvaar het. Tydens sy tyd by die Transvaal Museum het hy talle aapmensfossiele ontdek, waaronder Paranthropus robustus in 1937 en die eerste volwasse Australopithecus africanus fossiele, en onder andere Oertjie Ples (“Mrs. Ples”) in 1947.
Roofdier of predator is ‘n dier wat ander diere (prooidiere) vang, doodmaak en vreet. Dit verskil van parasiete wat gewoonlik nie die gasheer doodmaak nie en dit lewendig vreet. Dit verskil ook van ‘n aasdier wat nie sy prooi doodmaak nie. Die woord karnivoor (vleisvreter) en predator is nie sinoniem nie. Alle predatore is vleisvreters, maar alle vleisvreters is nie predatore nie – soos aasvreters byvoorbeeld.
Rotvisse – sien Holocephali.
Saadvaring word ook die spermatofiete of Spermatophyta genoem. Daar is vyf filums (of divisies as jy ‘n plantkundige is) van ekstante saadplante. Hulle is die: gimosperme of naaksadiges – Cycadophyta (broodbome), Ginkgophyta (ginkgo), Pinophyta (denne, sipresse en verwante), die Gnetophyta (Wilwitschia en verwante) en die Magnoliaphyta (angiosperme of blomplante). Die fossielrekord van saadplante dateer van ongeveer 360 Mjg maar hulle was klein plantjies wat aanvanklik ‘n klein ekologiese rol in die woude van die Devoon en Karboon gespeel het. Saadplante het eers in die Perm, toe die klimaat droeër geword het, die dominante plantgroep geword. Verskeie uitgestorwe saadplantgroepe word in die fossielrekord gevind. Die uitgestorwe saadvarings (Pteridospermae) was een van die eerste suksesvolle groepe landplante wat in woude in die Laat Paleosoïkum voorgekom het. Glossopteris, ‘n saadvaring-genus, was die dominante plantgroep in Gondwanaland en het reuse woude van bome en struike in die Perm Periode gevorm. Die saadvarings het grotendeels in ekologiese belangrikheid teen die Trias Periode afgeneem en was ekologies deur perdesterte en sekere gimnosperme vervang. Moderne gimnosperme het gediversifiseer en was dominant tot teen die einde van die Kryt waarna die blomplante gediversifiseer en dominant geword het. Saadplante word van primitiewe spoorvormende plantgroepe onderskei op grond van hul vermoë om sade te vorm. ‘n Saad is ‘n embrio wat deur voedingsweefsel omring is en deur ‘n saadomhulsel omring is. Die embrio is ‘n diploïede sporofiet wat uit die sigoot ontwikkel het terwyl ‘n spoor ‘n haploïede sel is wat aan ‘n gametofiet oorsprong gaan gee.
Sagte verhemelte is die deel van die verhemelte wat agter die harde verhemelte voorkom en uit sagte weefsel bestaan.
Sakkulus is ‘n sakagtige struktuurtjie in werweldiere se binneoor. Op die binnewand van die sakkulus kom ‘n vertikaal-georiënteerde langwerpige kol gevoelshaartjies voor wat met die otolitiese membraan bedek is. Kalsiumfosfaatkorreltjies word op die oppervlak van die otolitiese membraan vasgelym wat die membraan swaarder maak. Die verhoogte gewig dra tot die inersie (traagheid om te versnel) daarvan by, sodat die gevoelshaartjies tydens vertikale beweging weg van die rigting van beweging sal ombuig en sodoende inligting na die brein stuur ten opsigte van die vertikale rigting van beweging.
Sarcopterygii of lobvinvisse is ‘n subklas in die klas Osteichthyes of beenvisse. Die lobvinvisse het vlesige, gelobde vinne met spiere en bene in teenstelling met die straalvinvisse (subklas Actinopterygii) wat dun stafies van been en kraakbeen in hulle vinne het. Lobvinvisse het ook ‘n difiserkale stert waarin die ruggraat tot agter in die stertvin voorkom eerder as wat dit soos in straalvinvisse in ‘n kaudale pedunkel eindig waaraan die stertvin vasgeheg is. Die pektorale vin in die lobvinvisse is met ‘n enkele been (die humerus) proksimaal aan die skedel vasgeheg en die pelviese vin is met ‘n enkele been (die femur) proksimaal aan die liggaam vasgeheg. Die humerus is distaal aan twee bene – die ulna en radius – vasgeheg wat om die beurt distaal aan beenelemente wat verder in die pektorale vin uitsprei, vasgeheg is. Die femur is distaal aan twee elemente – die tibia en fibula – vasgeheg wat om die beurt distaal aan beelelemente wat verder in die pelviese vin uitsprei, vasgeheg is. Die skeletelemente in die basale tetrapode se aanhangsels het vanuit dié van die lobvinvisse ontwikkel. Lobvinvisse het twee dorsale vinne teenoor die een wat in straalvinvisse voorkom. Die oudste lobvinvisfossiele kom in die boonste lae van die Siluur, wat ongeveer 416 Mjg oud is, voor. Lobvinvisse het in die Vroeë tot Middel Devoon (416-385 Mjg) in varswaterhabitatte gevestig geraak terwyl die gepanserde kaakvisse die oseane as top-predatore oorheers het. Die vroeë lobvinvisse het tydens die Vroeë Devoon (385-299 Mjg) aan twee hoofgroepe, die selekante en die rhipidistiërs, oorsprong gegee. Die rhipidistiërs sluit twee hoofgroepe in: die Poroleptiformes en die Dipnoi. Die Poroleptiformes het aan die tetrapode oorsprong gegee terwyl die Dipnoi aan die longvisse oorsprong gegee het. Die diversiteit van lobvinvisse het na die Mesosoïkum afgeneem en daar is vandag slegs twee selekantspesies en ses longvisspesies oor.
Scylacosauridae of skylakosauriërs soos Pristerognathus, was van die eerste primitiewe therokefaliërs wat in die Perm Periode in die suide van Gondwanaland voorgekom het. Hierdie primitiewe karnivoriese soogdieragtige reptiele was so groot soos honde en het lang skerp slagtande gehad.
Seisoenale riviere of nie-standhoudende riviere is riviere wat slegs in die reënseisoen water in het.
Senuweekoord of rugstring is ’n buisvormige versameling senuweevesels en steunselle van die breinstam tot die pelvis- of lendestreek strek. Die brein en rugmurg vorm die sentrale senuweestelsel. Die senuweekoord strek van die breinstam deur die foramen magnum, deur die neurale kanaal van die nek-, bors-, lende en heupwerwels. Die senuweekoord eindig in die heupwerwels en strek nie so ver soos die stuitjiewerwels nie.
Seymouria sien Basale amniote.
Sfenakodontiërs – sien Sphenacodontidae.
Siluur Periode (443.8 – 419.2 Mjg) was deel van die Paleosoïkum. Die onderste grens van die Siluur word bepaal deur die reeks uitsterwings aan die einde van die voorafgaande Ordovisium Periode waartydens ongeveer 60% van seediergenusse verdwyn het. Die Siluur word gekenmerk aan die diversifisering van kaakvisse en beenvisse. Meersellige lewe word op land gevestig. Die eerste landplante verskyn – hierdie klein mosagtige plantjies groei langs mere, strome en strande. Geleedpotiges verskyn in hierdie tydperk ook op land.
Sinapomorfiese kenmerke is unieke kenmerke wat slegs deur twee of meer verwante groepe gedeel word wat hulle van ‘n gedeelde voorouer geërf het.
Sinapsied – sien Soogdieragtige reptiele.
Skildklier is ‘n endokriene klier wat in die farinks of die keel van werweldiere aangetref word. In mense is die skildklier ‘n tweelobbige struktuur net onder die larinks en daarby die grootste endokriene klier van die liggaam. Die skildklier skei drie hormone af: tri-joodtironien, tirosien en kalsitonien. Die skildklierhormone beïnvloed die metaboliese tempo en proteïensintesie en groei en ontwikkeling in kinders. Kalsitonien beheer die kalsium homeostase in die liggaam. Die skildklier is homoloog aan die endostiel van die urokordate en kefalokordate en die larwes van visse en amfibieë.
Skwamate – sien Squamata.
Skwamosums is breë bene wat onder en weerskante van die breinkas voorkom. In reptiele huisves dit die kwadraat waarmee die onderkaak artikuleer, maar in soogdiere artikuleer die skwamosum direk met die dentale been van die onderkaak. Daar is ‘n uitsteeksel van die skwamosum na die kant en vorentoe, wat deel van die jukboog vorm.
Slaapwykopening of temporale venster is die opening in slaapwyk van die skedel agter die oogkas waarin die kaaksluitspiere vasgeheg word. Sinapsiede het een paar slaapwykopeninge gehad, diapsiede het twee pare slaapwykopeninge gehad en anapsiede het geen slaapwykopeninge nie.
Slagtande is een van die eienskappe wat reptielagtige soogdiere kenmerk. Die ontstaan van slagtande lui die differensiëring van die gebit in. Tande word in reptiele agter in die tandry gevorm en groei algaande groter. Reptieltande het hoofsaaklik eenvoudige koniese vorms en nie die ingewikkelde krone wat mens in soogdiere aantref nie. ‘n Reptiel se tande skuif, vanaf die tandvormingsarea in die agterkant van die tandry, vorentoe en wanneer ‘n tand uitbreek, word dit eenvoudig met die opvolgende tand vervang wat in die ou tand se plek inskuif. Hierdie metode werk goed vir reptiele wat ook aanhoudend groei en nie ‘n beperkte grootte het nie, want daar sal altyd meer en meer tande wees om die tandry te vul en die tande word al hoe groter saam met die dier wat groter word. Tanddifferensiëring het met drie tandvervangingssentrums onstaan – een vir die postkanine tande agter die slagtand, die een vir die slagtand en een vir die snytande. Slagtande het besonder groot en sterk in sekere reptielagtige soogdiere geword en het in beide plantvreters en vleisvreters voorgekom.
Slakkehuis of koglea van soogdiere ontstaan uit die kort keëlvormige lagena van die soogdieragtige reptiele. Soos wat soogdiere se gehoorvermoë verskerp het, het die lagena al hoe langer geword tot dit begin oprol het omdat daar min ruimte in die skedel vir ‘n lang (tot 34 mm lank in mense) lagena is. Die opgerolde buis lyk soos ‘n slak se dop wat die rede is hoekom dit ‘n slakkehuis (cochlea in Latyn) genoem word. Vibrasies word deur middel van die gehoorbeentjies na die lagena of slakkehuis oorgedra. Die vibrasies beweeg deur die stapes se voet, wat die ovaal venster bedek, deur na die slakkehuis waarbinne die Orgaan van Corti, waarbinne die gehoorsenuwee-eindes voorkom, geleë is.
Slange (suborde Serpentes) vorm saam met die akkedisse (suborde Lacertilia) en die wurmakkedisse (suborde Amphisbaenia) die orde Squamata. Ekstante slange het nie bene nie, maar daar is sekere fossiele van oerslange wat nog rudimentêre beentjies gehad het. Slange het uit akkedisagtige voorouers ontstaan. Slange het talle unieke kenmerke wat nog veel interessanter as hulle gif is – eerstens het alle slange nie gif nie en tweedens is gif nie uniek aan slange nie. Slange se ooglede het deursigtig geword sodat hulle daardeur kan sien en mettertyd versmelt. Dus lyk dit asof slange net staar en nie hul oë knip nie, maar eintlik is hul oë permanent geknip. Die deursigtige ooglid, wat in grawende akkedisse voorkom, wat ‘n venster genoem word, het ontstaan om die die se oë teen die skuur van sandkorrels oor die oogbal te beskerm. Slange het ook nie ore nie maar hulle kan die vibrasies in die grond hoor as hulle met hul kop op die grond lê. Slange se reukorgaan is baie klein maar hul vomeronasale orgaan is aan die ander kant baie goed ontwikkel. Slange tel molekules in die lug op die klam oppervlakte van hul gevurkte tong op en druk dan die punte van die tong in die holtes van die vomeronasale orgaan in die dak van die mondholte, wat soortgelyke funksies as ‘n reukorgaan vervul. Meeste slange kan hul onderkake disartikuleer sodat hulle prooi kan insluk wat breër as hul lyf is.
Snorbaarde kom op die snoet van soogdiere voor. Van die foramina op die snoete van soogdieragtige reptiele soos kuonodontiërs en therokefaliërs kan mens aflei dat hulle ook snorbaarde gehad het. Dit dui daarop dat hare reeds 260 jaar gelede ontstaan, lank voor soogdiere ontstaan het. Die senuwees wat die snorbaarde se basisse van gevoel voorsien het sou deur hierdie foramina gestrek het. Snorbaarde dien spesifiek as sensoriese organe waarmee diere soos robbe, katte, skeerbekmuise hul weg deur die donker kan vind.
Snytande is die tande voor die slagtande in soogdieragtige reptiele en soogdiere. Snytande kom in die bokaak op die premaksilla voor. Snytande het verskillende vorms in verskillende diere. In soogdieragtige reptiele is dit gewoonlik skerp gepunt. In soogdiere kan dit in verskeie vorme voorkom en kan dit van gepunt tot beitelagtig in vorm wees.
Soogdieragtig verwys na kenmerke wat mens met soogdiere verbind soos warmbloedigheid, melkkliere, hare en lewendbarendheid. Die term word gewoonlik gebuik om ‘n dier wat nie ‘n soogdier is nie, maar sekere kenmerke wat soogdieragtig is, besit, te beskryf.
Soogdieragtiges – sien Mammaliformes.
Soogdieragtige reptiele – sien Synapsida.
Soogdiere hoort aan die klas Mammalia van die subfilum Vertebrata van die filum Chordata. Die eerste soogdiere het in die Laat Trias Periode ongeveer 227-201 Mjg ontstaan. Daar was oorspronklik verskeie groepe soogdiere waarvan meeste (o.a. Morganucodonta, Docodonta, Kuehneotheria, Symmetrodonta, Multituberculata) uitgesterf het tot net drie groepe die plasentale, marsupiale en eierlêende soogdiere oorgebly het. Soogdiere word van die ander sinapsiede onderskei op grond van die feit dat alle soogdiere drie oorbeentjies (hamer, aambeeld & stiebeuel) in die middeloor het. Soogdiere het ook ‘n geslote verhemelte wat die mondholte van die neusholte skei, ‘n kakebeen wat uit twee dentale bene bestaan (die oorspronklike reptielkaak bestaan uit tot soveel as 14 bene) en dat die dentale been met die skwamosum been van die skedel artikuleer, die breinkaswand is verbeen en nie meer kraakbeen nie, hulle het ‘n diafragma en daarom het hulle nie buikribbes nie en hulle het twee oksipitale knobbels waarmee die skedel met die ruggraat artikuleer. Dit is ‘n hele klomp kenmerke wat jy nie op skool geleer word nie – op skool leer mens dat soogdiere gekenmerk word aan warmbloedigheid, lewendbarendheid, soging, uitwendige oorskulpe en hare. Ongelukkig is dit amper alles nonsens of ten minstens baie misleidend. Wanneer mens kenmerkende eienskappe vir ‘n groep organismes uitsoek dan moet al die organismes daardie kenmerk hê en dit moet uniek aan daardie groep wees. Voëls is nie slegs warmbloedig nie maar handhaaf ‘n meer konstante temperatuur en teen hoër temperature as soogdiere. Daar is eierleêende soogdiere en lewendbarende nie-soogdiere. Dolfyne en walvisse het grootliks (buiten vir gespesialiseerde snorbaardjies op die snoet as tassintuie) hul hare verloor terwyl pterosauriërs met hare bedek was. Talle soogdiere soos dolfyne en walvisse, molle, echidnas, eendbekdiere en walrusse het nie uitwende oorskulpe nie. Maar soogdiere en slegs soogdiere soog – vandaar die naam soogdier. Ongelukkig fossileer melkkliere nie en kan dit nie in die fossielrekord opgespoor word nie. Aangesien soogdiere in die oertyd ontstaan het is dit baie beter om skeletkenmerke as kenmerkende eienskappe te kies wanneer ons moet besluit of mens van soogdiere praat aldan nie. Daar is ongeveer 5 400 ekstante soogdierspesies bekend.
Sphenacodontidae is ‘n uitgestorwe familie van basale soogdieragtige reptiele wat oorspronklik as die Pelycosauria geklassifiseer is. Hierdie karnivore van Laurasië was oorspronklik klein (60 cm) in die Karboon Periode toe hulle ontstaan het en het algaande groter geword tot hulle teen die Middel Perm Periode langer as 3 m was. Die slaapwykopening van hierdie basale soogdieragtige reptiele was klein en die tande op die premaksilla wat as snytande geklassifiseer word was lank en gepunt. Die tande op die maksilla begin klein en dan word dit skielik baie lank en slagtandagtig en van daar word dit algaande kleiner agtertoe. Hierdie lang tande op die maksilla word die slagtand in die nasate van die sfenakodontiërs. Die sfenakodontiërs het ook ‘n primitiewe wydsbeenstand gehad. Van die groot Perm Periode verteenwoordigers het groot seile, wat deur verlengde neurale spinas van die rugwerwels ondersteun is, op die rug gedra. Hierdie seile, wat soortgelyk aan dié van die edafosauriërs was, was vir termoregulasie gebruik.
Spitsroofdier, ook bekend as toppredator of apekspredator, is die spesie wat heel bo-aan die voedselpiramide voorkom. Spitsroofdiere het geen natuurlike vyhande nie en sal enige ander roofdier kan doodmaak, verplaas om sy prooi ook te eet, of selfs vreet. Voor de mens opgedaag het was moordvisse, leeus, bruinbere en ysbere voorbeelde van spitsroofdiere.
Squamata bedoel skubagtig en sluit die grootste ekstante groep reptiele naamlik die meer as 11 500 spesies slange en akkedisse in. Skwamate het horingagtige skubbe en moet gereeld vervel. Skwamate het ook beweeglike kwadraatbene wat hulle in staat stel om hulle kake baie groot oop te maak. Hulle groottes wissel van die dwerggeitjie wat 16 mm lank is, tot die uitgestorwe mososaurs van 14 m. Die Squamata vorm saam met die Rhynchocephalia die Lepidosauria.
Stamreptiele – sien Basale amniote.
Stapes is ‘n middeloorbeentjie wat vir die oordrag van klankgolwe na die binneoor verantwoordelik is. In alle tetrapode buiten soogdiere, met ander woorde in amfibieë, reptiele en voëls kom slegs die stapes in die middeloor voor. Ander terme soos kolumella word vir die stapes in voëls en amfibieë gebruik, maar ek dink dit is nonsens net soos om ‘n hand ‘n voorpoot en ‘n arm ‘n voorbeen te noem. Die woord stiebeuel is miskien aanvegbaar vir die stapes in alle diere buiten soogdiere, want die stapes in reptiele, voëls en amfibieë is letterlik ‘n stafie en lyk nie soos die stapes van soogdiere nie, wat wel soos ‘n stiebeuel lyk en dus so genoem is. Die stapes is die kleinste beentjie in die ekstante tetrapoodskelet. Die stiebeuel van soogdiere vorm die skakel tussen die aambeeld (inkus) en die ovaal venster van die slakkehuis. Die stiebeuel vorm saam met die aambeeld en hamer die drie oorbeentjies van die middeloor van soogiere.
Stiebeuel – sien Stapes.
Suborbitale venster is die unieke openinge wat onder die oogkaste agter en weerskante van die verhemelte van meeste therokefaliërs voorkom.
Synapsida of soogdieragtige reptiele of sinapsiede word as die evolusionêre brug tussen reptiele en soogdiere beskou, omdat hulle beide soogdieragtige en reptielagtige eienskappe het. Oor ‘n 100 miljoen jaar verander hulle vanaf diere met baie primitiewe reptielagtige kenmerke tot diere, wat mens beswaarlik van ‘n soogdier kan onderskei, ontwikkel en uiteindelik het hulle oorsprong aan soogdiere gegee. Strenggesproke is soogdiere, volgens kladistiese beginsels, steeds deel van die Synapsida. of te wel die soogdieragtige reptiele, word as die evolusionêre brug tussen reptiele en soogdiere beskou omdat hulle beide soogdieragtige en reptielagtige eienskappe het. Oor ‘n 100 miljoen jaar verander hulle vanaf diere met baie primitiewe reptielagtige kenmerke tot diere wat mens beswaarlik van ‘n soogdier kan onderskei en uiteindelik gee hulle oorsprong aan soogdiere. Sinapsiede word gekenmerk aan die enkele temporale venster (slaapwyk-opening) agter die oogkas. Sinapsiede was die eerste reptielgroep wat in die Karboon Periode uit die basale amniote (stamreptiele) ontstaan het en die dominante landlewende werweldiere in die Perm Periode maar was stelselmatig deur die argosauriërs tydens die Trias Periode as dominante werweldiere vervang. Sinapsiede word in die basale sinapsiede (oorspronklik die Pelycosauria genoem) en therapsiede verdeel. Uiteindelik onstaan die eerste soogdiere uit die gevorderde therapsiede in die Jura Periode. Strenggesproke is soogdiere volgens kladistiese beginsels steeds deel van die sinapsiede.
Tanddraende been – sien Dentale been.
Temnospondyli is ‘n uitgestorwe subklas van die Amphibia. Die temnospondiele was groot basale tetrapode wat volop van die Karboon tot die Trias Periodes wêreldwyd voorgekom het. ‘n Paar spesies het egter tot in die Laat Kryt Periode oorleef. Hulle fossiele was op elke kontinent – selfs Antarktika – ontdek, maar hou in gedagte dat al die kontinente in hul leeftyd aanmekaar vas was om die superkontinent Pangea te vorm. In die ongeveer 210 miljoen jaar van hulle bestaan het hulle aangepas om in ‘n verskeidenheid habitatte te oorleef vanaf die land, varswater en tot kusgebiede. Aangesien hulle eiers in water gelê en ‘n larwale lewensstadium gehad het, was hulle genoop om naby water te bly. Meeste spesies was egter ten volle terrestrieël en het waarskynlik net na die water gekom om te drink en hul eiers daar te lê. Temnospondiele het, anders as ander amfibieë, skubbe en pantserplate op hul liggame gehad. Temnospondiele kon baie groot word en was krokodilagtig in vorm en was duidelik roofdiere. Hulle het skerp tande gehad en sommige spesies het tande gehad wat so groot was dat dit deur gate in hul skedel aan die bokant van die skedel uitgesteek het.
Temporale venster – sien Slaapwykopening.
Tetrapode word ook dikwels landlewende werweldiere genoem en dit is meestal die geval, maar die term kan ook misleidend wees want dit sluit gewoonlik (bloot omdat mense nie daaraan dink nie) die varswatervisse uit. Strenggesproke moet varswatervisse by die landlewende diere ingesluit word as mens alle diere in seelewende en landlewende diere wil opdeel. Daarbenewens het talle tetrapode al hul aanhangsels verloor (soos slange) of hul bene (soos walvisse en sekere skinke en rubberwurms) maar word nog steeds as tetrapode beskou. Dan is daar natuurlik tetrapode soos doegongs, manatees, walvisse en dolfyne wat permanent na die see teruggekeer het maar word nog steeds as tetrapode beskou, al is hulle nie landlewend nie. Al hierdie uitsonderings trek die aandag af van die bedoeling agter die skepping van die woord tetrapood om tussen visse en die werweldiere wat aangepas het om op land te bly te onderskei. Tetrapode het, soos die naam aandui, hul vinne vir vier aanhangsels (arms en bene) ingeruil waarmee hulle op die land kon rondloop. Daar was natuurlik ‘n hele klomp ander aanpassings soos die ontwikkeling van longe en die verdwyning van kiewe, ‘n klierryke vel i.p.v. skubbe, ‘n versterkte skelet om die gewig van die dier buite die water te hanteer, ens. Die eerste tetrapode wat uit die lobvinvisse ontstaan het, staan ook bekend as basale tetrapode of stamtetrapode. Tetrapode vorm die Superklas Tetrapoda wat die landlewende werweldiere met vier bene insluit. Dit sluit die amfibieë, reptiele (en dus dinosauriërs, en dus voëls) en soogdiere in.
Therapsida vorm die grootste en meer evolusionêr gevorderde groep soogdieragtige reptiele het ongeveer 275 Mjg in die Vroeë Perm uit die primitiewe pelikosauriërs ontstaan en het hulle as dominante terrestriële werweldiere verplaas. Soogdiere vorm deel van hierdie groep. Die naam is afgelei van die Grieks “therio” wat gedierte beteken en “aps” wat boog beteken. Die boog verwys na die jukboog in die skedel wat die temporale venster van die skedel se onderste deel vorm. Baie van die kenmerke wat ons met soogdiere assosieër het reeds in die therapsiede ontstaan. Therapsiede word in die anomodonte (Anomodontia) en die theriodonte (Theriodontia) verdeel. Die archosauriërs het grootliks die therapsiede as die dominante landlewende werweldiere in die Trias vervang maar nie voordat die soogdiere vanuit die gevorderde therapsiede – die kuonodontiërs – ontstaan het nie. Die laaste oorlewende therapsiede het in die Vroeë Kryt, ongeveer 100 Mjg uitgesterf.
Therapsiede – sien Therapsida.
Theriodontiërs – sien Theriodontia.
Theriodontia het in die Middel Perm ontstaan. Die theriodontiërs bestaan hoofsaaklik uit die gorgonopsiërs (Gorgonopsia), therokefaliërs (Therocephalia) en die kuonodontiërs (Cynodontia). Die theriodontiërs het algaande deur die Perm, Trias, Jura en Kryt al hoe meer soogdieragtige kenmerke ontwikkel todat hulle aan die soogdiere oorsprong gegee het. Buiten vir ‘n paar groot theriodontiërs, het die meerderheid theriodontiërs al hoe kleiner tydens die Trias geword totdat dié wat in die Jura en Kryt voorgekom het, so groot soos rotte en skeerbekmuise was. Die theriodontiërs het waarskynlik hare gehad aangesien die snoetbene met klein foramina geperforeer was. Hierdie foramina was vir senuwees wat die snorbaarde sou geïnnerveer het. Hare was ook in koproliete (versteende mis) in Perm gesteentes ontdek wat aandui dat sekere prooidiere hare gehad het, of dat die diere hare sou ingekry het as hulle hulself gelek het.
Therocephalia (“dierkoppiges”) het reeds in die Middel Perm, uit ‘n gemeenskaplike voorouer wat hulle met die gorgonopsiërs deel, ontstaan. Die fossielrekord van hierdie tydperk is maar baie effentjies en dus weet ons nie presies hoe hierdie voorouer gelyk het nie. Die eerste primitiewe therokefaliërs, die Scylacosauridae (soos Pristerognathus) en die Lycosuchidae, verskyn ongeveer op dieselfde tyd as die gorgonopsiërs. Die meeste en grootste verskeidenheid therokefaliërs kom in die gesteentes van die Karoo Supergroep van Suid-Afrika voor. Therokefaliërfossiele kom egter ook in Rusland, China, Tanzanië, Zambië en Antarktika voor. Therokefaliërs was waarskynlik spesialiste terwyl hulle tydgenote, die gorgonopsiërs, meeste ander karnivoriese nisse in die Perm gevul het. Die kleiner spesies soos Olivieriasuchus en Ictidosuchops was waarskynlik insektivore, maar ander soos Theriognathus en Moschorhinus kon so groot soos bere word en was waarskynlik aasdiere of predatore van spesifieke groot prooispesies.
Therokefaliërs – sien Therocephalia.
Timpaniese ring is die beenring waarbinne die oordrom van soogdiere vasgeheg is. Die timpaniese ring het vanuit die angulêre been van die onderkaak van soogdieragtige reptiele ontstaan. In gevorderde soogdiere versmelt dit met die bulla wat weerskate onder op die skedel, agter die kaakskarnier, voorkom.
Top predator – sien Spitsroofdier.
Trias Periode (251,9 – 201,3 Mjg) was ‘n geologiese tydperk in die Mesosoïkum. In hierdie tydperk diversifiseer die archosauriërs wat in die Perm ontstaan het. Primitiewe archosauriërs, die thekodontiërs, vervang die karnivoriese sinapsiede as top-predatore op land en gee later oorsprong aan die krokodille en dinosauriërs wat belangrike nisse op land oorneem en aan pterosourërs wat die lug oorheers. Ander reptielgroepe wat in hierdie tydperk ontstaan en diversifiseer, is die ichthyosauriërs en nothosauriërs wat die top-predatore in die see word. Ammoniete kom in al die oseane voor. Die karnivoriese soogdieragtige reptiele word al hoe kleiner en meer soogdieragtig in hierdie tydperk totdat die eerste soogdiere verskyn. Groot temnospondiele (primitiewe amfibieë) en Dicroidium saadvarings kom wydverspreid voor. Moderne korale, teleost visse en meeste isekordes verskyn ook in hierdie tydperk. Aan die einde van hierdie tydperk begin Pangea om op te breek. Die ekologiese ontwrigting wat met die massa-uitsterwing aan die einde van die Trias plaasgevind het, het veroorsaak dat talle spesies verdwyn wat die weg vir die dinosauriërs gebaan het en hulle die geleentheid gegee het om nog groter en meer gediversifiseerd te word. Die naam Trias is afgelei van die feit dat hierdie geologiese stratigrafiese eenheid in drie duidelike lae in Europa verteenwoordig word – rooi rotslae onder, mariene kalsteen in die middel en ‘n laag van modder en sandsteenlae bo dit.
Trikonodont is ‘n tipe kiestand wat in insektivoriese kuonodontiërs voorgekom het. Die krone van trikonodonttande was langwerpig en het drie knobbels in ‘n ry gehad, nl. ‘n groot middelste knobbel en ‘n kleiner voorste en agterste knobbel.
Tuatara (Sphenodon punctatus) is akkedisagtige reptiele wat endemies aan Nieu-Seeland is. Die tuatara is die laaste oorlewende spesie van die orde Rhynchocephalia wat in die Trias Periode ongeveer 250 miljoen jaar gelede ontstaan het. Teen 60 miljoen jaar gelede het al die Rhynchocephalia buiten die voorsate van die tuatara uitgesterf. Rhynchocephalia is die naaste lewende verwante van die akkedisse en slange. Tuatara mannetjies word gewoonlik ongeveer 61 cm lank terwyl die wyfies ongeveer 45 cm lank word. Hulle het ‘n unieke kenmerk naamlik twee rye tande in die onderkaak wat bo-oor die enkele ry tande in die onderkaak pas. Hulle het ook nie eksterne oorkanale nie maar kan hoor.
Turbinate is die gekrulde fyn beenplate in die neusholte wat met slymvliese bedek is wat die lug verwarm wat ingeasem word.
Urochordata is ‘n subfilum onder die filum Chordata wat in drie klasse verdeel word, naamlik: Ascidiacea, Thaliacea en Appendicularia of Larvacea. Die urokordate het al die kenmerke van die kordate naamlik ‘n postanale stert, kiefsplete, endostiel, hol dorsale senuweekoord en ‘n notokoord – op ‘n sekere stadium van hulle lewe. In die geval van die Appendicularia en tot ‘n meerdere mate in die Thaliacea of salpe, kom hierdie kenmerke regdeur hul lewe voor, maar in die Ascideacea nie. Mens kry egter al hierdie kenmerke in die Ascideacea, soos rooiaas, se larwe wat soos ‘n paddavissie lyk, maar wanneer die larwe met kleefkliere homself aan ‘n rots vasheg verander die liggaam heetemal en verloor hy sy stert, brein, sintuie, senuweekoord en notochoord terwyl die kiewe vergroot tot dit ‘n kiefmandjie omvorm met die endostiel wat onderaan voorkom. Anders as Cephalochordata wat kopkordaat beteken, beteken Urochordata stertkordaat omdat die notokoord duidelikste in die stert van hierdie diertjies voorkom.
Urodela is ‘n amfibieërorde wat die salmanders en molge insluit. Die urodele het ‘n akkedisagtige voorkoms en lyk glad nie soos paddas nie. Paddas oorheers tans die amfibeë-diversiteit en getalle, maar is heeltemal uniek in hul voorkoms. Oorspronklik het die basale tetrapode baie meer soos urodele gelyk. Hierdie liggaamsvorm was deur die basale amniote oorgeërf en dus moet mens eerder sê dat akkedisse ‘n urodeelagtige voorkoms het, as andersom. Urodele se larwes lyk soos paddavissies, maar wat dan natuurlik nie hul sterte verloor nie. Meeste urodele word landlewend, maar sekeres soos die Axolotl behou hul kiewe as volwassenes en is permanent waterewend.
Utrikulus is ‘n sakagtige struktuurtjie in die binneoor van werweldiere waar die ampullas bymekaarkom. Die binnewand van die utrikulus bevat ‘n horisontaal-georiënteerde kol gevoelshaartjies wat met die otolitiese membraan bedek is. Kalsiumfosfaatkorreltjies word op die oppervlak van die otolitiese membraan vasgelym wat die membraan swaarder maak. Die verhoogte gewig dra tot die inersie (traagheid om te versnel) daarvan by, sodat die gevoelshaartjies tydens beweging weg van die rigting van beweging sal ombuig en sodoende inligting na die brein stuur ten opsigte van die rigting van horisontale beweging.
Varanopidae is ‘n uitgesorwe familie van klein tot medium-grote primitiewe soogdieragtige reptiele wat voorheen onder die Pelycosauria ingedeel was. Varanopiërs het baie soos likkewane gelyk het en het waarskynlik dieselfde ekologiese nis as likkewane gevul. Hulle het in die Laat Karboon ontstaan en het tot die Middel Perm regoor Pangea voorgekom. Die groter spesies was duidelik roofdiere terwyl die kleiner spesies insekvreters was.
Varanopiërs – sien Varanopidae.
Venjukovioïede – sien Venyukovioidea.
Venyukovioidea is ‘n uitgestorwe infraorde van anomodontiërs wat aan die dikuonodontiërs verwant was. Venjukovioïede kom in die Perm-gesteentes van Rusland voor. Die venjukovioïede se skedels met hul kort snoete, groot oogkaste en groot slaapwykopeninge lyk oppervlakkig soos dikuonodote s’n. Hulle het egter ‘n kenmerkende beenpypie rondom die pineale foramen. Anders as die dikuonodontiërs het die venjukovioïede baie tande gehad. Hulle het nie duidelike slagtande gehad nie, maar hulle snytande was langer as die ander tande wat daarop dui dat hulle plantvreters was.
Verhemeltes kom slegs in krokodille en soogdiere voor. Die verhemelte sluit die mondholte van die neusholte af. In krokodille laat dit die dier toe om met sy neusgate bo die water asem te haal terwyl sy bek met water gevul is (krokodille het nie lippe om die mondholte te seël nie). ‘n Sagte verhemelte ontstaan reeds in die therokefaliërs. In die kuonodontiërs kan mens sien hoe die benige verhemelte mettertyd die sagte verhemelte vervang. Die verhemelte was reeds ten volle gevorm nog voor die soogdiere ontstaan het. Die verhemelte word deur die maksilêre bene en palatiene bene gevorm. Die belangrikste rede vir die ontstaan van die verhemelte in die therokefaliër – kuonodont – soogdier groep is om soging moontlik te maak. Sonder ‘n verhemelte sou dit nie moontlik wees om ‘n vakuum vir soging te vorm nie.
Vertebrate – sien Werweldiere.
Vestibulêre stelsel vorm saam met die slakkehuis die binne-oor. Die vestibulêre stelsel bestaan uit die drie halfmaanvormige kanale, ampullas, utrikulus en sakkulus. Die vestibulêre stelsel word deur die vestibulêre senuwee bedien. Die slymprik het net een halfmaanvormige, die lamprei het twee halfmaanvormige kanale en die res van die werweldiere het drie halfmaanvormige kanale in elke binneoor. Die halfmaanvormige kanale, wat in verskillende rigtings georiënteer is, is verantwoordelik vir die waarneming van gravitasie en word dus vir balans gebruik. Elke halfmaanvormige kanaal sluit by ‘n ronde blasie, dubbel die deursneë van die kanaal, aan. Hierdie blasies wat as die voorste, agterste en horisontale ampullas bekend staan, neem die rotasie van die kop waar. Die utrikulus en sakkulus neem versnelling en rigting van versnelling waar.
Vleisvretend – sien Karnivories.
Vleisvreter – sien Karnivories.
Vloedvlakte is ‘n plat stuk grond langs ‘n rivier. Tydens ‘n vloed spoel modder in die vloedvlakte in wanneer die rivier oor sy banke stroom.
Voëls het in die Jura Periode vanuit die warmbloedige, geveerde Paraves ontstaan. Daar is meer as 11 000 ekstante voëlspesies waarvan die sangvoëls (Passeriformes) ongeveer 60% daarvan opmaak. Voëls is een van die min diergroepe wat op alle kontinente voorkom aangesien pikkewyne selfs op Antarktika voorkom. Aangesien sangvoëls saadvretend is, kan mens aflei dat meeste voëls saadvretend is, maar dan vergeet mens soms dat hulle insekte en ander ongewerweldes vang wat hulle vir hul kuikens tydens broeityd voed. Meeste van die ander voëlspesies is omnivories, insekvreters of vleisvreters. Sien – Eerste voëls.
Voormaaltande is die eerste stel tande agter die slagtand. In baie diere soos knaagdiere en olifante lyk die voormaaltande en maaltande eenders, maar in baie buideldiere en primate lyk die voormaaltande anders as die maaltande. In sekere diere is die voormaaltande kleiner en het in sommige spesies skerper krone as die maaltande. Voormaaltande van sekere spesies het een minder wortel as die maaltande. Die voormaaltande in sekere spesies soos mense en ander grootape is wisseltande, terwyl die maaltande slegs as permanente tande uitkom. Meeste soogdiere is difiodonte en het slegs een stel melktande wat deur volwasse tande vervang word. Daar is egter polifiodont diere soos manatees en kangaroes, wat soos reptiele en die voorouers van soogdiere – die soogdieragtige reptiele, regdeur hul lewe tande wissel. Omdat die getal tande in meeste ordes en families soodiere van mekaar verskil, word dit vir klassifikasiedoeleindes aangewend. Die eerste plasentale soogdiere het 4 voormaaltande en 3 maaltande in elke kaak aan elke kant van die skedel gehad, wat mens nog in die groot haaregel van Suidoos Asië kan sien, terwyl in die eerste buideldiere daar 3 voormaaltande en 4 maaltande in elke kant in elke kaak van die skedel was, wat mens vandag nog in die opossum van Noord-Amerika aantref. Voormaaltande en maaltande word saam kiestande genoem.
Warmbloedigheid, homeotermie of endotermie verwys na sekere diere wat ‘n liggaamstemperatuur hoër as dié van hulle omgewing kan handhaaf. Die diere wat bekendheid hiervoor verwerf het is die soogdiere en voëls, maar dit is nie waar die storie eindig nie. Daar is sekere reptiele soos die Argentynse swart en wit tegu en visse soos die tuna en haringhaai wat ook warmbloedig is. Dinosauriërs en gevorderde soogdieragtige reptiele was ook warmbloedig.
Werweldiere of vertebrate hoort aan die Subfilum Vertebrata van die Filum Chordata. Meeste van hierdie diere het werwels. Die kaaklose visse of Agnatha (lampreie en slympalings) en die rotvisse van die subklas Holocephali van die klas Chondrichthyes het nie werwels nie, maar ‘n notochoord wat die liggaam ondersteun. Hulle het egter kraakbeenelemente in die kop en kiewe wat as skelette beskou word. Die Vertebrata bevat die kaaklose visse, kraakbeenvisse, beenvisse, amfibieës, reptiele (insluitende die voëls) en soogdiere. Daar is na beraming meer as 66 000 werweldierspesies, maar as mens dit met die ongeveer 1.5 miljoen bekende spesies ongewerweldes vergelyk, en in gedagte hou dat daar tussen 6-10 miljoen, tot dusver onontdekte insekspesies, mag wees, moet mens herken dat ons eintlik maar net van diere moet praat. Trouens, daar is meer slakspesies as werweldierspesies op Aarde.
Wurmakkedisse – sien Amphisbaenia.
Wurmsalamanders (orde Gymniophiona van die subklas Lissamphibia) of Apoda is ‘n groep pootlose, wurmagtige amfibieë wat ondergronds in klam grond of in die water in tropiese gebiede in Suid-Amerika, Afrika en Asië voorkom. Wurmsalamanders het ‘n verkleinde linkerlong en ‘n groot regterlong soos slange. Sommige wurmsalmanders het kleintjies wat met kiewe respireer maar dit word vroeg al in hul ontwikkeling verloor soos wat die longe ontwikkel. Sommige spesies se oë is baie klein en in ander het dit heeltemal verdwyn. Hulle velle is klam en voel rubberig. Daar is spierringe rondom die lyf soos in die wurmakkedisse s’n. Sommige spesies het ook skubbe wat uniek onder die amfibieë is.
Wydsbeenstand tref mens in basale tetrapode, amfibieë soos salamanders en reptiele soos akkedisse aan. In hierdie diere wys die knieë en elmboë van die dier na buite met die tone skuins vorentoe en na binne gedraai is. Die skouergordels is massief groot om die gewig van die dier te stut en om as aanhegtingspunt vir die spiere wat die dier regop te hou te dien.
Yskap of poolkap is die ysbedekking wat mens op die pole van ‘n planeet kry. Dit kan, soos in die Noordpool op die seewater vorm met geen landmassa daaronder nie, of soos in die Suidpool waar die yskap op die kontinent Antarktika voorkom. Die yskappe word geweldig groot tydens ystydperke en die noordelike yskap het dan groot dele van kontinente soos Noord Amerika en Eurasië bedek.
