Weekdiere woordelys
Absorbtiewe selle kom in die lewer (linker spysverteringsklier) van meeste weekdiere voor. Die hoordoel van die absorbtiewe selle is om voedingsdeeltjies intrasellulêr te verteer. ‘n Voedselvakuool word rondom die voedseldeeltjie gevorm en met behulp van lisosome in die sel verteer. Die onverteerde reste word weer deur die sel uitgeskei en na die maag vervoer.
Afferente bloedvate, senuwees, nierbuisies verwys na hierdie strukture wat iets soos bloed, senuweeimpulse of uriene na ‘n orgaan vervoer.
Afskeiding of sekresie verwys na ‘n stof wat deur die liggaam afgeskei word wat die organisme baat – soos ‘n mukuslaag om die liggaam te beskerm of feromone om ‘n maat aan te lok. Dit moet nie met uitskeiding of ekskresie verwar word nie.
Aghulas Seestroom is die warm seestroom wat langs die Ooskus van Suid-Afrika van die trope af vloei. Die Aghulas en Benguela Seestrome, en dus die Indiese en Atlantiese Oseane, ontmoet mekaar by Kaappunt.
Alveolus is die voorste kamer van die belemnietskulp wat deur die pro-ostrakum omring is, waarbinne die liggaam van die belemniet gesetel was.
Amebosiete is selle wat gewoonlik met die bloedsirkulasie geassosieër word en wat in meeste diere as teenliggaampies dien (in werweldiere word dit as een van die witbloedliggaampies geklassifiseer). Amebosiete beweeg tussen weefsel rond om sekere funksies te verrig soos om bakterieë te verorber.
Ammoniet is ‘n tipe uitgestorwe kefalopood (Subklas Ammonoidea, Orde Cephalopoda) wat vanaf die Devoon tot met die K-T uitsterwing in oseane wêreldwyd voorgekom het. Ammoniete het, danksy die gasgevulde kamers in hul doppe, in die oop water van oseane rondgedryf – met ander woorde hulle het ‘n pelagiese bestaan gevoer. Die harde doppe versteen goed en die verskillende spesies word as indeksfossiele in biostratigrafie en geochronologie gebruik.
Analoë kenmerke is kenmerke wat deur konvergerende evolusie ontstaan het wanneer twee verlangs verwante organismes soortgelyke kenmerke ontwikkel het om soortgelyke omgewings-uitdagings te bowe te kom. Soos die vlerke van voëls, vlermuise en pterosauriërs of die liggaamsvorm en vinne van visse, dolfyne en igtiosauriërs (of Ichthyosauria vir die mense wat meer konformisties dink). In hierdie voorbeelde het nie een van hierdie groepe diere die kenmerk by een van die ander of ‘n gemeenskaplike voorouer oorgeërf nie. Met ander woorde vlermuise is nie voëls nie al kan beide vlieg en dolfyne is nie visse nie al kan beide swem.
Annelida – sien Gesegmenteerde wurms.
Aplakofore (Aplacophora) sluit die Klas Caudofoveata en die Klas Solenogastres in. Die aplakofore is weekdiere wat geen skulpe het nie maar huide, wat met kalkagtige stekels bedek is, besit. Die teenwoordigheid van ander unieke weekdieragtige organe soos die radula en genetiese bewyse dui egter op hul verwantskap aan die ander weekdiere. Die eerste weekdiere kon moontlik soos die aplakofore gelyk het.
Aragoniet word uit ‘n spesifieke oriëntasie van kalsiumkarbonaatkristalle (CaCO3) deur biologiese en anorganiese prosesse in ‘n vars- of seewater omgewing gevorm en vorm saam met kalsiumkarbonaat, die belangrikste boustene van die weekdier se skulp. Aragoniet kan, wanneeer dit tot meer as 300°C verhit word, in kalsiet verander.
Arteriële sinusse is oop areas tussen weefsel waarin suurstofryke hemolimf van die slagare ontvang word voor dit na die omliggende weefsel gepomp word.
Aselomaat verwys na bilateraal simmetriese diere wat nie ‘n seloom het nie. Platwurms is die bekendste en grootste groep aselomate.
Asemhaling is ‘n woord wat ek spesifiek gebruik om die werking van longe te beskryf. Soogdiere, voëls, reptiele en amfibieë asem of adem lug met behulp van hul longe in en uit. Dit is wat ek onder asemhaling verstaan. Dit is verwarrend om dieselfde woord vir gaswisseling deur kiewe of deur die blare van plante te gebruik waar diffusie van suurstof en koolsuurgas oor membrane heen (soos wat trouens in die alveoli van longe gebeur) plaasvind. Ek gebruik in hierdie stuk die woord gaswisseling wanneer ek na die waterlewende weekdiere (met kiewe natuurlik) verwys, maar na asemhaling wanneer ek na die lugasemende lede van die landlewende Pulmonata (met ‘n long natuurlik) verwys. Alhoewel ek dit so gebruik, kan mens tog my daarvoor kritiseer omdat daar nie ‘n aktiewe asemhalingsaksie in Pulmonata plaasvind nie, maar eerder diffusie soos wat trouens in alveoli van die soogdierlong gebeur.
Atrium – sien Aurikel. Oorspronklik was die atria van die hart – insluitend dié van die mens aurikels genoem. Later was die woord met atrium (enkelvoud) en die meervoud atria (Latyn) atriums (Afrikaans) vervang wanneer daar na werweldierharte verwys word. Die term aurikel word egter nog steeds vir hierdie struktuur in weekdiere gebruik.
Aurikels kan as ‘n paar of pare, of as ‘n enkele aurikel, in weekdiere voorkom. Dit is soortgelyk aan die atrium in werweldiere. Sommige outeurs gebruik die term atrium (enkelvoud) of atria (meervoud) in plaas van aurikel/aurikels in weekdiere. Die weekdierhart besit een of meer pare aurikels wat die suurstofryke bloed van die kiewe (een aurikel vir elke kief) ontvang en wat dit dan na die ventrikel toe pomp. Die aurikels het ook ‘n uitskeidingsfunksie en help met die uitfiltrering van metaboliese afvalstowwe waarvandaan dit in die seloom as uriene gestort word.
Balanoïed Sone is die sone wat rondom die kuslyn op rotsagtige strande in die intergetysone onder die Littorina Sone en bo die Cochlear-Argenvillei-Sone langs die Suid- en Weskus van Suid-Afrika voorkom, word volgens die tipe seepokke wat daarin voorkom, in ‘n Boonste Balanoïedsone en Onderste Balanoïedsone verdeel. Die Boonste Balanoïedsone word deur die voorkoms van die seepok Chthamalus dentatus gekenmerk. Die Boonste Balanoïedsone is slegs vir ‘n paar uur twee keer per dag onder water gedurende hooggety. Die Onderste Balanoïedsone word deur die voorkoms van die seepok Octomeris angulosa langs die Ooskus van Suid-Afrika gekenmerk. Die Onderste Balanoïedsone is meestal deur water bedek maar word tydens laaggety vir ‘n paar uur twee keer per dag aan lug blootgestel.
Belemniete was ‘n inkvis-tipe kefalopode wat vanaf die Laat Trias tot die Laat Kryt bestaan het. Die belemniete het, anders as ander weekdiere, ‘n interne keëlvormige skulp gehad wat hul liggame ondersteun het en 10 arms met 100-800 hakies aan en twee vinne weerskante van die liggaam gehad. Fossiele van hul skulpe kom wêreldwyd in Mesosoïkum gesteentes voor. Belemniete het saam met die ammoniete met die K/T uitsterwingsgebeurtenis uitgesterf.
Benguela Seestroom is die stroom koue water wat van Antarktika na die Weskus van Suid-Afrika vloei.
Bentiese sone is die ekologiese streek wat in die diepste dele van ‘n watermassa voorkom – met ander woorde die seevloer, die bodem van ‘n meer of rivierbodem. Die organismes wat daarin voorkom word gesamentlik die bentos of bentiese organismes genoem.
Bilaterale simmetrie verwys na organismes (gewoonlik diere) waarvan die linker- en regterhelfte spieëlbeelde van mekaar is.
Bilharzia of schistosomiase is ‘n siekte wat ongeveer 240 miljoen mense in veral Afrika, Asië en Suid Amerika affekteer en vir die dood van derduisende mense jaarliks verantwoordelik is. Dit word veroorsaak deur parasitiese platwurms, of suigwurms, van die genus Schistosoma, wat deur die vel van hul gasheer indring en dan deur die liggaam versprei. Die urienwegstelsel en spysverteringstelsel word meestal deur hierdie parasiet besmet. Simptome van bilharzia sluit buikpyn, maagwerkings, bloed in die ontlasting of in die uriene in. Mense wat vir lank deur schistosome besmet is, kan lewerskade, nierskade, onvrugbaarheid en blaaskanker opdoen. Kinders wat aan bilharzia ly, se groei en neurologiese ontwikkeling kan daardeur belemmer word. Die schistosome gebruik varswaterslakke as tussengashere voordat hulle na soogdiere, insluitende die mens, versprei.
Binnegoed is ‘n goeie Afrikaanse woord vir viserale massa.
Bioindikator is ‘n term wat in omgewingstudies gebruik word waar die aanwesigheid of afwesigheid van sekere organismes in ‘n omgewing of die gesondheidstoestand van sekere organismes gebruik word om die moontlike teenwoordigheid van besoedeling te bepaal voor verdere studies gedoen word.
Bissale drade of bissus is drade van keratien en ander proteïene wat deur die bissusklier van tweekleppiges afgeskei word, word gebruik om die dier aan die rotse vas te heg soos in die geval van mossels. Sommige spesies soos seepenne gebruik dit om hulself in die sand vas te anker. Vanaf duisende tot honderde jare gelede was die bissale drade van die seepenne ge-oes om ‘n baie skaars en duur sy – seesy – van te maak.
Bivalvia – sien Tweekleppiges.
Bloedbotte is parasitiese suigwurms van die genus Schistosoma wat bilharzia veroorsaak en wat varswaterslakkies as tussengashere gebruik.
Blombos Grot naby Stilbaai was ongeveer 80 000 jaar gelede deur oermense bewoon. Hierdie oermense het soos Strandlopers geleef en seekos geëet.
Borselwurms (klas Polychaeta) is waterlewende gesegmenteerde wurms wat baie kitien borseltjies op elke segment het. Borselwurms kom wêreldwyd op elke vlak in die see vanaf die plankton tot in die diepste seetrôe voor. ‘n Handjievol kom ook in varswater voor.
Brachiopode of armpotiges (filum Brachiopoda) is ‘n eienaardige filum wat terselfdertyd as die tweekleppiges in die Kambrium Periode ontstaan het. Hulle het soos die tweekleppiges twee doppe. In meeste spesies is die boonste dop groter as die onderste een. Die twee doppe is met ‘n skarnier of met spiere gekoppel – hierdie verskil word gebruik om die armpotiges in twee groepe te verdeel. Meeste spesies heg hulself met ‘n “arm” wat ‘n pedikel genoem word, aan die substraat vas. Hulle is filtervoeders wat met behulp van ‘n lofofoor voed.
Brachiozoa is ‘n lofotrogosoïese takson wat uit die snorwurms (filum Phoronida) en die lanternskulpe (Brachiopode) bestaan.
Brakwater is ‘n mengsel van vars- en soutwater. Brakwater word onder andere in riviermondings soos in die Groot Brakrivier in die Wes Kaap gevind of in strandmere soos St. Lucia waar die see oorspronklik ingespoel het en met varswater van riviere wat daarin vloei gemeng het.
Bruinwier of kelp is bruin- tot goud-groenkleurige wiere wat in die see en varswater voorkom. Ondanks die oppervlakkige ooreenkomste met plante, is kelp nie plante nie, maar lede van die Chromista en is aan diatome, dinoflagellate en die malariaparasiet Plasmodium verwant. Sekere kelpspesies kan tientalle meter lank word en in ondersese woude groei, waar hulle ‘n tuiste vir duisende spesies skep wat tussen hulle bly en voed. Kelp word ook deur mense as kos, as ‘n bron vir chemikalieë en selfs as bemesting gebruik.
Buikpotige of gastropode (klas Gastropoda) is die grootste groep weekdiere op Aarde en bevat meer as 85 000 spesies wat slakke, rotsmossels, perlemoer en naakslakke insluit. Dit sluit die lede van die Pulmonata, of landslakke, in wat die enigste weekdiere is wat lug kan inasem. Meeste buikpotiges het doppe. Torsie van dop en organe kom voor. Buikpotiges is die volopste groep weekdiere en kom in die see, varswater en op land voor en maak ongeveer 80% van alle weekdiere op. Buikpotiges word op grond van morfologiese en genetiese bewyse die subkasse Caenogastropoda, Heterobranchia, Neritomorpha, Patellogastropoda en Vetigastropoda verdeel.
Caenogastropoda is die grootste en ekologies mees diverse en wydverspreide subklas van die Gastropoda en sluit ‘n groot en diverse groep seeslakke, sekere varswaterslakke en selfs sekere landslakke in. Die Caenogastropoda verteenwoordig die meerderheid buikpotiges (ongeveer 60%).
Caudofoveata – sien Koudofoveate.
Cephalopoda – sien Koppotige.
Chemoreseptore is sensoriese organe wat chemiese verbindings kan waarneem. Reuk- en smaaksintuie is tipiese chemoreseptore wat in algemeen in diere voorkom. Die voorste tentakels op die kop van weekdiere, die arms van koppotiges en die subradula orgaan van monoplakofore en kewerslakke het ‘n chemosensoriese funksie.
Chiton – sien Kewerslakke.
Chromatofoor is ‘n sel in die vel wat verantwoordelik is vir die velkleur en veranderings in die velkleur van koppotiges. Die stervormige chromatofoor bevat ‘n elastiese sakkie met ‘n pigmente van ’n sekere kleur. Die omgewingsomstandighede of die emosionele toestand van die koppotige, veroorsaak dat die selle groter of kleiner word en dat die kleure wat daarbine voorkom, helderder of minder opvallend word. Daar is xantofore (geel pigment), eritrofore (rooi pigment), leukofore (wit pigment), melanofore (swart/bruin pigment), sianofore (blou pigment) en iridofore (weerspieëlende chromatofore) in die vel.
Chromista, wat onder andere bruinwiere, diatome en dinoflagellate insluit, was oorspronklik as deel van die plante (Koninkryk Plantae) geklassifiseer maar nou word dit as ‘n aparte Koninkryk beskou. Die Chromista word in die Heterokonta, Haptophyta en Cryptomonada ingedeel. Die Chromista word gekenmerk aan die feit dat hulle plastiede bevat wat deur vier membrane omhul is. Hierdie plastiede is soortgelyk aan dié wat in Rooialge voorkom. Alles dui daarop dat die Chromista se plastiede verkry is deur die insluiting van enkelsellige Rooialge binne die sel net soos wat sianobakterieë deur die plantvoorouers binne hul selle opgeneem is. Chromista bestaan uit eensellige tot reuse meersellige organismes wat plastiede met chlorofil C besit en gewoonlik twee flagellas besit wat verskillend lyk.
Cochlear-Argenvillei-Sone kom op rotsagtige strande langs die Suid- en Weskus van Suid-Afrika voor en word deur die voorkoms van die klipmossels Scutellastra cochlear en Scutellastra argenvillei gekenmerk. Hierdie sone, wat tussen die Onderste Balanoïedsone en die Subgetysone voorkom, is meestal onder water, buiten tydens spring-laaggety wanneer dit aan lug blootgestel is, wat twee keer per maand, twee keer in 23.5 uur, vir ‘n paar uur duur. Die bruinmossel Perna perna en die swartmossel Choromytilus meridionalis kom ook in hierdie sone voor.
Coleoidea – sien Koleoïdea.
Ctenidiums – sien Kiewe.
Decapodiformes is een van die twee ekstante Coleoidea superordes wat aan hul tien arns of tentakels gekenmerk word. Die Decapodiformes het mettertyd agt korter arms en twee lang arms (armpaar IV) ontwikkel.
Derdelarwe is die lewenstadium van invertebrate wat die tweedelarwe opvolg. Die derdelarwe in talle vliegspesies vorm die papie. In ander insekte gaan hulle ontwikkeling nog verder en volg ‘n vierdelarwe en vyfdelarwe nog op die derdelarwe. In sekere groepe insekte is daar nog talle ander lewenstadiums wat op die vyfdelarwe volg. In talle parasitiese nematode is dit die aansteeklike lewenstadium wat die gasheer binnedring.
Derm of intestinum is die dun lang buis wat die maag aan die rektum koppel. Dit is vir die vervoer van afvalstowwe wat as mis uitgeskei sal word.
Dermbloedbot (Schistosoma mansoni) is die bloedbot wat die dermkanaal aanval. Die gekoppelde volwassenes van hierdie spesie beweeg binne bloedvate van die lewer tot by dermkanaal, waar die wyfie uit die mannetjie se ginekofoorkanaal kruip om in die klein bloedvate waarin sy kan pas, so naby as moontlik aan die dermwand te kom, waar sy dan haar duisende eiers lê.
Detritus is verrottende organiese materiaal wat onder meer op die bodem van mere, die see, moerasse en op en in die grond aangetref word.
Detritusvoeder of detrivoor is ‘n dier wat verrottende organiese materiaal vreet. Talle weekdiere, erdwurms, kakkerlakke en duisendpote is detrivore.
Devoon Periode (419.2-358.9 Mjg) is die tydperk waartydens die eerste sakswamme, heksapode, tetrapode, wolfskloue, perdesterte, varings en saaddraende plante en bome verskyn. Visse met kake – die plakoderme, lobvinvisse, straalvinvisse en primitiewe haaie – heers in die see terwyl die kaaklose visse en trilobiete al minder word. Die tandskulpe het in die Devoon verskyn.
Diatome of kieselwiere (klas Bacillariophyceae) is ‘n groot groep eensellige mikroalge wat aan die Chromista hoort wat in oseane, varswater en selfs klam grond voorkom. Diatome vervaardig 20-50% van die suurstof in die atmosfeer per jaar terwyl dit ongeveer 6.7 miljard ton silikon uit die water verwyder om hul eksoskelette te vervaardig. Dooie diatome kan lae van tot 800m diep op die oseaanvloer vorm. Die White Cliffs of Dover bestaan uit diatoom eksoskelette wat in die oertyd op die seevloer neergeset was. Die Amasonekom word jaarliks deur 27 miljoen ton diatoomstof, afkomstig vanuit die Saharawoestyn, en wat deur Transatlantiese winde soheentoe gedra word, bemes. Die unieke kenmerke van diatome is dat hul enkelsellige liggaam met ‘n silika eksoskelet – die frustule – bedek word en dat hulle groengeel of goudbruin plastiede besit.
Dinoflagellate behoort tot die filum Dinoflagellata van die infrakoninkryk Alveolata wat deel van die koninkryk Chromista vorm. Dinoflagellate vorm deel van die mariene plankton, maar kom ook algemeen in brak- en varswater voor. Hulle verspreiding en getalle hang van die seeoppervlak-temperatuur, soutgehalte en diepte van die water af. Die meeste dinoflagellate besit plastiede en kan dus fotosintetiseer, maar die meerderheid is miksotropies want hulle verkry voeding van fotosintese en deur die ingestie van prooi deur middel van fagotropie en musokitose. Dinoflagellate is een van die grootste groepe mariene eukariote en vorm ʼn groot deel van plankton. Sommige spesies kom as endosimbionte binne die weefsel van mariene blompoliepe (filum Cnidaria: klas Anthozoa) voor en speel ʼn belangrike rol in koraalbou. Sekere dinoflagellate, veral dié wat hul plastiede verloor het (dit staan ook as ongepigmenteerde dinoflagellate bekend), en dus nie kan fotosintetiseer nie, is predatore van protiste terwyl ander parasiete geword het. Dinoflagellate besit twee flagella wat van mekaar in vorm en grootte verskil. Sekere dinoflagellate kan in groot massas in die see voorkom wat die see rooi verkleur en as rooigety bekend staan. Hierdie tipe dinoflagellaat kan diere soos mossels en ander skulpdiere vergiftig en so mense laat sterf as hulle die vergiftigde skulpdiere eet. Sekere dinoflagellate vervaardig lusiferien wat blou-groen gloei as dit met suurstof verbind en onder sekere omstandighede die see in die nag laat gloei – die verskynsel word bioluminisensie genoem. Soos die meeste ander chromiste het dinoflagellate twee flagellas wat van mekaar verskil. Die twee flagellas kom op verskillende plekke op die dinoflagellaat voor en het verskillende funksies. Die agterste of longitudinale flagellum is rond in deursnee en maak stadige golfbewegings. Die dwars-flagellum of transversale flagellum wat in ʼn groef rondom die sel voorkom, maak vinnige kronkelbewegings al langs die lengte af. Die dwars-flagellum is plat met fyn haartjies aan die een kant.
Diversifiseer verwys na die vermeerdering van taksons (spesies, genusse, families, ordes, klasse) binne ‘n groep wat met aanpassings by nuwe habitatte gepaard gaan.
Dooigety vind plaas wanneer die Son en die Maan ‘n 90° hoek ten opsigte van die Aarde vorm. Die aantrekkingskrag van die Son en die Maan werk mekaar tee en dus styg en daal die seevlak nie so dramaties as tydens hooggety en laaggety nie. Hierdie verskynsel gebeur twee keer per maand tydens halfmaan. Natuurlik gebeur dit nie skielik nie maar geleidelik. Die seevlak sal van springety, wat ongeveer elke 14.5 dae die hoogste en laagste seewatervlakke aandui, stadig styg en daal na die hoog- en laagwatermerke en van daar stadig oorskuif na dooigety waar die styging en daling in seevlak die minste opmerklik is. Van daar word die siklus natuurlik omgekeerd herhaal tot waar dit na 14.5 dae weer omkeer na gelang van die beweging van die maan.
Eenslagtig verwys na spesies waar mannetjies en wyfies as aparte geslagte voorkom. Die teenoorgestelde hiervan is hermafrodities waar die individue beide manlike en vroulike geslagsorgane besit.
Eerstelarwe verwys na die eerste lewenstadium van invertebrate. Dit is die larwe wat uit die eier uitbroei. Soos wat dit ontwikkel en swaarder word en opswel, word sy vel te klein en bars dit uit sy vel om aan die tweedelarwe oorsprong te gee.
Echinodermate of stekelhuidiges (filum Echinodermata) sluit diere soos seesterre, seekastaïngs, slangsterre, seekomkommers en seelelies in. Stekelhuidiges kom op elke diepte van die see, selfs in die abissale dieptes, voor. Alle stekelhuidiges is seelewend. Daar is ongeveer 7 000 spesies – dit is die grootste eksklusief seelewende filum.
Efferente bloedvate, senuwees en nierbuisies verwys na hierdie strukture wat iets soos bloed, senuwee-impulse of uriene weg van ‘n orgaan vervoer.
Ekologie is die studie van die verhouding tussen organismes en hulle omgewing wat biotiese (lewende) en abiotiese (nie-lewende) komponente insluit.
Ekologiese nis is die posisie of status wat ‘n organisme in sy gemeenskap en ekostelsel beklee. Hierdie posisie in die ekologie word gehandhaaf deur die organisme se strukturele aanpassings, fisiologiese reaksies en gedrag. Die ekologiese nis word dus bepaal deur waar die organisme leef en wat dit daar doen. Soos een ekoloog gesê het: die habitat is die organisme se adres en die nis is sy professie.
Ekologiese rol is ‘n soortgelyke begrip as ekologiese nis. Mens gebruik hierdie uitdrukking wanneer mens die ekologiese rol van ‘n organisme as ‘n primêre produseerder (met ander woorde ‘n fotosintetiserende plant), herbivoor, omnivoor, parasiet, predator, ensovoorts wil beskryf.
Ekstante bedoel bestaande. Dit is die teenoorgestelde van uitgestorwe.
Ekstrasellulêre spysvertering verwys na die afbraak van voedseldeeltjies met behulp van ensieme buite die sel soos wat in die weekdier se sekum in die maag plaasvind. Die teenoorgestelde proses in intrasellulêre spysvertering waar die afbraak van voedseldeeltjies binne die sel plaasvind.
Ektakwatiese bevrugting vind plaas wanneer ‘n dier haar eiers in water vrylaat om daar ekstern bevrug te word.
Ektoderm is die buitenste weefsellaag in die vroeë embrio. Dit is die weefsel wat, onder andere, oorsprong aan die vel en die senuweestelsel gee.
Endoderm is die binneste weefsellaag van die vroeë embrio. Dit is die weefsel wat, onder andere, oorsprong aan die epiteel, wat die derm uitvoer, gee.
Ensieme is beide proteïene en biologiese kataliste wat chemiese reaksies versnel. Ensieme verander substrate in produkte. Ensiem-kataliste is noodsaaklik vir die effektiewe funksionering van ʼn sel.
Entakwatiese bevrugting vind plaas wanneer ‘n weekdier haar eiers in die mantelgroef hou om daar bevrug te raak. Daar is monoplakofoorspesies waar die wyfie die larwes in die mantelgroef tot op ‘n sekere stadium van hulle ontwikkeling hou.
Estete is eenvoudige sensoriese orgaantjies wat in die skulpplate en op die gordel van kewerslakke voorkom. Daar is honderde tot duisende estete per skulpplaat en daar was al 4200 estete per vierkante millimeter ontdek. Mikroporieë in die skulpplaat huisves mikrestete en makroporieë huisves megalestete en klein ogies. Sekere gepigmenteerde estete word met mikroskopiese klein aragonietkristal-lensies bedek, terwyl die onderliggende gepigmenteerde selle in ‘n retina-agtige struktuur gerangskik is. Dikwels kom estete in trosse voor met ‘n groot esteet – die megalesteet in die middel met talle kleiner mikrestete wat vanuit ‘n gesamentelike senuwee, wat hulle deel, vertak. Daar heers ‘n groot debat oor die funksie van estete en daar is aanduidings dat dit ook vir meganoresepsie, chemoresepsie en sekresies aangewend word.
Eukariote is organismes wat aan die Domein Eukarya hoort. Eukariotiese organismes se selle bevat dubbelmembraanorganelle (soos mitochondria en plastiede) en ‘n kern wat uit ‘n kernmembraan wat die DNS omhul bestaan. Eukariotiese organismes sluit eensellige organismes soos protiste en sekere lede van die bruinalge en groenalge in en meersellige organismes soos plante, diere en swamme in.
Euselomaat is bilateraal simmetriese diere wat ‘n seloom besit. Dit sluit meeste diere in, maar sluit die pseudoselomate soos rondewurms en aselomate soos platwurms uit.
Euthyneurale senuweestelsel is die toestand voor torsie waar die twee viserale senuwees parallel aan mekaar deur die liggaam loop. Torsie veroorsaak dat ‘n streptoneurale senuweestelsel vorm waar die viserale senuwees oor mekaar in ‘n figuur 8 buig wat veroorsaak dat die pariëtale ganglions op verskillende hoogtes in die liggaam beland. Detorsie veroorsaak dat die senuweestelsel tot ‘n euthyneurale toestand terugkeer.
Fibroblaste is selle wat in die liggaamsholte van weekdiere voorkom. Dit vorm die kollageenvesels wat die hoofbestanddeel van bindweefsel vorm en dus ‘n groot deel van die liggaamstruktuur vorm.
Filum is die klassifikasievlak van organismes onder koninkryk en bo klas. Dit is op dieselfde taksonomiese vlak as divisie wat oorspronklik vir plante en swamme gebruik is. Deesdae word filum in die klassifikasie van alle organismes gebruik.
Fitoplankton is mikroskopiese alge soos diatome en ander eensellige alge wat in die see of varswater voorkom.
Fluweelwurm (filum Onychophora) is wurms wie se lywe met kitienskubbe bedek is wat hulle ‘n fluweelagtige weerskynglans gee. Die ekstante 200 spesies is die laaste oorlewendes van ‘n groep diere wat oorspronklik seelewend was. Dit is die enigste dierfilum wat geen ekstante seelewende lede meer oorhet nie. Die fluweelwurms het kenmerke wat hulle met die geleedpotiges en die gesegmenteerde wurms in gemeen het maar hulle het ook unieke kenmerke soos baie lang slymkliere wat deur die grootste deel van hul lywe strek, die feit dat hulle van die weinige ongewerweldes is wat ‘n uterus het en lewend baar. Hulle het soos die gesegmenteerde wurm metameries-gerangskikte organe, maar nie inwendige segmentasie met septa soos die gesegmenteerde wurms nie. Hulle het pote met kloue op elke poot soos die geleedpotiges, en anders as die geleedpotiges maar soos die gesegmenteerde wurms, het hierdie aanhangsels nie litte nie.
Foraminifere (filum Foraminifera) is enkelsellige organismes wat ‘n dop van kitien of meer dikwels kalsiumkarbonaat het. Meeste leef op die seevloer of rivierbodem, maar sommige swem in die water. Daar is ongeveer 50 000 bekende spesies, waarvan ongeveer 10 000 ekstant is. Hulle is meestal ongeveer 1 mm lank – wat besonder groot vir ‘n ekelsellige organisme is, maar Nummulites het tot 10 cm lank geword!
Fossiele is die versteende oorblyfsels van organismes of dele daarvan soos been, skulpe, eksoskelette, hout, blare, of hul produkte soos spore, tonnels, mis, boomgom, stuifmeel ensovoorts.
Fossielrekord bestaan uit al die fossiele wat ontdek is en hul relatiewe ouderdomme soos bereken van die geologiese lae waarin hul voorkom.
Fotosintese is die proses waardeur plante, sianobakterieë, rooi- en bruinwiere en sekere protiste, ligenergie gebruik om koolsuurgas en water in suiker te omskep met suurstof as neweproduk. Hierdie proses omskep ligenergie in chemiese energie. Fotosintese is sekerlik, naas die ontstaan van lewe, die belangrikste biologiese proses wat ooit op aarde ontstaan het. Plante en ander fotosintetiserende organismes word as primêre produseerders beskou en verskaf voedsel aan ‘n groot deel van die voedselweb asook die suurstof in die atmosfeer as neweproduk.
Fragmokeël is die middelste aragonietbevattende deel van die belemnietskulp waar die luggevulde kamers was.
Geldkaurie (Monetaria moneta) skulpe was vir duisende jare tot in die 19de Eeu in lande en eilande in die Stille Oseaan en Indiese Oseaan as ruilmiddel gebruik. Die piktogram in China vir geld of handel is die teken vir kourie貝.
Geslagsbuis – sien Gonodukt.
Ganglion of senuweeknoop is ‘n bondel senuwees wat op verskeie plekke in die liggaam van ongewerweldes voorkom – in baie gesegmenteerde organismes kom daar ‘n paar ganglions in elke segment – een ganglion op elk van die twee senuweekoorde voor, terwyl die groep ganglions, wat in die kop voorkom, die brein vorm. In ander ongewerweldes kan ganglions op verskeie plekke in die liggaam voorkom waar hulle verantwoordelik is vir die waarneem van prikkels en beheer van daardie deel van die liggaam. Daar kom dikwels groter ganglions of ‘n groter konsentrasie van ganglions in die kop voor waar hulle ‘n belangrike rol in die waarneem van prikkels deur die sintuie speel.
Gasheer verwys na ʼn organisme wat as kosbron of selfs tuiste vir ʼn ander organisme dien. Hierdie verhouding kan óf parasities (soos weeluise en lintwurms in mense), kommensialisties (soos follikelmyte en stofmyte op mense) óf mutualisties (soos dermbakterieë in mens) wees.
Gastropoda, gastropood – sien Buikpotige.
Gaswisseling verwys na die opneem van suurstof en die uitskeiding van koolsuurgas. Dit vind hoorsaaklik deur middel van een of twee kiewe in meeste buikpotiges of ‘n long in landslakke plaas.
Geleedpotige (filum Arthropoda) is spesiegewys die mees diverse groep organismes op die planeet. Dit sluit die honderdpote, duisendpote, skaaldiere, insekte en spinnekopagtiges in. Geleedpotiges speel uiters belangrike ekologiese rolle in elke denkbare omgewing op Aarde.
Geologiese tydskaal is die rangskikking van geologiese lae volgens die kronologiese datering daarvan. Dit dien as rekord van die vormingsgeskiedenis van die Aarde. Die fossielrekord en radiometriese datering vorm deel hiervan.
Gesegmenteerde wurms (filum Annelida) word gekenmerk aan die segmente wat die lyf onderverdeel. Talle organe soos die uitskeidingsorgane, ganglions, spiere en aanhangsels kom herhalend op segmente voor. Anneliede was van die eerste diere wat ‘n geslote bloedvatstelsel gehad het. Erdwurms en bloedsuiers is bekende landlewende voorbeelde van hierdie groep.
Glogidia is varswateroesters se parasitiese larwes. Die vryswemmende glogidium heg vir ‘n tydperk aan visse se kiewe vas. Wanneer hulle verder ontwikkel verlaat hulle die visse en sak na die rivierbodem af waar hulle tot volwasse kamoesters ontwikkel.
Goethiet is van die hardste biologiese materiale bekend – dit is vyf keer sterker as spinnekopsy wat sterker as staal is. Dit bestaan uit ysteroksied-hidroksied en kom in die tande van klipmossels se radulas voor.
Gonade verwys na die versamelnaam vir testes in mannetjies, ovariums in wyfies, of ovotestis in hermafrodiete. Hierdie organe wat geslagselle (sperms of eiers) vervaardig, is binne die mantelholte van weekdiere geleë.
Gonodukt of geslagsbuis is die buisie wat geslagselle (eiers of sperms) van die gonade (ovarium of testis of ovotestis) na die mantelholte vervoer en deur die gonoporie binne die mantelholte vrylaat.
Gonoporie is die opening van die gonodukt.
Gordel is die taai gespierde ring wat rondom die voet van die kewerslakke voorkom. Die gordel het ‘n kitienryke epidermis waarop daar in sekere spesies skubbe, stekels, knoppe of haaragtige uitgroeisels voorkom wat vir verdediging of vertoon gebruik word.
Hektokotilus is die spesiale paringstentakel van ‘n manlike koppotige. Bevrugting vind plaas wanneer die mannetjie pakkies spermselle of spermatofore in die wyfie se mantelhote met die hektokotilus plaas. In sommige gevalle kom die hektokotilus tydens paring vanself los, in ander ruk die wyfie die hektokotilus af en druk dit self in haar mantelholte in, in sommige gevalle, as die mannetjie nie ‘n wyfie vind nie, sal hy sy eie hektokotilus afruk wat dan self deur die water swem en op chemiese seine reageer om ‘n wyfie te probeer vind om te bevrug voor dit vrek. In alle gevalle sal die mannetjie vrek na sy hektokotilus afbreek.
Helispiraal verwys na skulpe wat helispiraal na links of regs opgerol is. Dit is tipies van die skulpe van buikpotiges.
Hemoglobien is die bloedpigment wat in werweldiere maar ook sekere weekdiere soos die lede van die Planorbidae voorkom. Hemoglobien bevat yster wat met suurstof verbind en so deur die liggaam te versprei en wat met koolsuurgas verbind om so dit uit die liggaam te verwyder. Hierdie funksie word met behulp van die gaswisselingsorgane – kiewe of longe – of selfs die vel in sekere diere – uitgevoer.
Hemolimf is die vloeistof wat tussen die weefsels van weekdiere (en talle ander ongewerweldes) met oop bloedvatstelsels voorkom. In hierdie diere meng die bloedpigment hemosianien en amebosiete met die limf en word dus hemolimf genoem.
Hemoseel is die oop bloedvatstelsel wat in alle weekdiere buiten die koppotiges voorkom waar dit geslote is. Die hemoseel omgewe die interne organe en baai dit in suurstofryke bloed. Die hemoseel dien ook as ‘n hidrostatiese skelet. Die hemoseel van weekdiere ontstaan vanuit die seloom.
Hemosianien is die bloedpigment wat in ongwerweldes soos meeste weekdiere en sekere skaaldiere voorkom. Hemosianien bevat koper wat met suurstof verbind en so deur die liggaam te versprei en wat met koolsuurgas verbind om so dit uit die liggaam te verwyder. Hierdie funksie word met behulp van die gaswisselingsorgane – kiewe of longe – of selfs die vel in sekere diere – uitgevoer.
Hemosiete kom in die oop bloedvatstelsel van weekdiere voor. Daar is verskillende tipes hemosiete. Hemosiete speel ‘n rol in wondherstel, skulpherstel, voedselvertering en -vervoer, uitskeiding en immuniteit.
Herbivories – sien Plantvretend.
Hermafrodiet – sien Tweeslagtig.
Heterobranchia – sien Heterobrange.
Heterobrange (“anderster kiewe”) (Heterobranchia) is ‘n weekdiertakson wat seelewende, varswaterlewende en landlewende slakke en naakslakke insluit. Die Heterobranchia word in die primitiewe heterobrange (voorheen bekend as die Prosobranchia) wat meestal twee kiewe het, Opisthobranchia wat een kief het en Pulmonata wat een long het, verdeel. Die kiewe van die buikpoot-voorouer was agter in die liggaam geleë soos dié van die kewerslakke en soos wat mens dit nog steeds in die vroeë ontwikkelingstadiums van die buikpotiges kan sien. Torsie veroorsaak dat interne organe 180° draai en dat die kiewe voor in die liggaam opeindig.
Heteroconchia is ‘n tweekleppige subklas wat talle uitgestorwe ordes en families bevat. Van die ekstante ordes wat aan die Heteroconchia behoort is kokkels (orde Carditada), gieterskulpe (orde Pholadomyida), skeepswurms, swaannekmossels (orde Myida), chemosintetiese mossels (orde Lucinida) en venusmossels (orde Venerida).
Heterotrowe is organismes wat op ander organismes of hul produkte voed. Dit sluit hoofsaaklik diere en swamme in.
Hidroskelet verwys na die verskynsel waar die liggaam van ‘n ongewerwelde dier verstewig word deur die drukking, wat deur die saamtrekking van die spiere van die liggaamswand, rondom die vloeistofgevulde ligaamsholte, uitgevoer word. Die samewerking tussen hierdie twee stelsels veroorsaak dat die liggaam van die dier ferm maar buigbaar is en dat dit met spierbewegings, deur weefsel of die substraat kan dring.
Hidrotermale bron of uitlaat is ‘n opening op die seevloer waaruit verhitte, mineraalryke water stroom. Die hitte en minerale dien as energiebron vir bakterieë wat in dik tapyte rondom hierdie bronne voorkom, wat om die beurt as kos vir ‘n verskeidenheid organismes dien. Minerale slaan dikwels rondom hierdie bronne neer weens die kontak met die baie koue water op die seevloer wat veroorsak dat ‘n pyp uit minerale rondom die hidrotermale bron vorm.
Holtediere of neteldiere verwys na die lede van die Filum Cnidaria. Hierdie diere is van die mees primitiewe diere naas diere soos sponse. Holtediere hoort aan die Filum Cnidaria. Hierdie groep sluit hidras, kwalle en see-anemone in. Van die 11 000 spesies bekend is meeste seelewend maar daar is ook spesies wat in varswater voorkom en dan die Myxozoa wat parasities is. Die Myxozoa is van die kleinste diere bekend omdat van hulle tipies maar 10-300 μm lank word. Daar is meer as 2 000 spesies Myxozoa bekend, maar daar word vermoed dat daar dalk soveel as 30 000 spesies mag wees. Die name Cnidaria en neteldiere is afgelei van die feit dat hulle netelselle of knidosiste in die buitenste sellaag het. Neteldiere is naas sponse die mees primitiewe diere op Aarde en van die eerste diere wat ontstaan het. Hulle is radiaal simmetries, besit ‘n sakvormige spysverteringskanaal wat net ‘n mond het, terwyl geen anus voorkom nie. Die netelselle kom in die vel van hul tentakels voor wat hulle met behulp van die gif daarin, vir beskerming of vir die dood of verlamming van hul prooi gebruik.
Homoloë kenmerke is kenmerke wat oor tyd verander het om by die uitdagings van hulle omgewings aan te pas. Die onderliggende strukture, wat van die gemeenskaplike voorouer geërf is, het in verwante groepe aangepas en verander om nou verskillende funksies in elke groep te verrig en dus verskil hierdie kenmerk van groep na groep. Dit sluit voorbeelde soos ‘n mens se arm, ‘n vlermuis se vlerk en ‘n dolfyn se voorste vin in. In elk van hierdie voorbeelde kan mens selfs nog die skeletelemente, spiere, senuwees en selfs die vyf vingers, wat van die oorspronkike voorouer oorgeërf is, sien, alhoewel die struktuur vir heeltemal verskillende funksies gebruik word en dus in vorm verskil.
Hooggety is die gemiddelde hoogste punt wat die seewatervlak twee keer per dag, elke dag buiten springety of dooigety, langs die kus opstoot. Die styging van seewater is te danke aan die aantrekkingskrag van die maan, en tot ‘n mindere mate die son. Die styging in die watervlak vind op die punt naaste aan die maan plaas, maar ‘n soortgelyke styging in watervlak vind terselfdertyd ook aan die ander kant van die Aarde plaas. Hierdie twee hoogtes in seevlak roteer saam met die beweging van die maan regom die Aarde. Dit is hoekom mens hooggety gewoonlik twee keer per dag ervaar (sien – Laaggety, Dooigety en Springgety).
Hoogwater – sien Hooggety.
Inkvis is afgelei van die verskynsel dat talle koppotiges die vermoë het om ink af te skei wanneer hulle van ‘n roofdier wil ontsnap. Die inksak en ink kom in alle koppotiges, buiten die Nautilidae en sekere lede van die suborde Cirrina, voor. Die ink, wat aanvanklik uit amper suiwer melanien bestaan, word met slym en water gemeng en by die sifon uitgespuit om die roofdier te verblind en te verwar sodat die koppotige kan ontsnap.
Intergetysone is die strook rondom die kus wat tussen die hoog en laagwatermerke lê. Op rotsagtige strande word hierdie strook deur talryke ongewerweldes, hoofsaaklik seepokke en weekdiere en wiere, bewoon.
Intrasellulêre spysvertering verwys na die proses van die afbraak van voedseldeeltjies en die opname van voedingstowwe binne ‘n verteringsel. Dit is die proses wat in die weekdier se lewer plaasvind. Die alternatiewe proses is ekstrasellulêre vertering soos wat in die weekdier se sekum plaasvind.
Irisiderende verwys na die skynsel wat tipies van pêrels is, en die reënboogkleure wat van die binnekant van sekere skulpe soos perlemoen weerkaats. Hierdie verskynsel word deur die breking van lig deur die deursigtige lagies kalsiumkarbonaat veroorsaak.
Kainosoïkum Era (66 Mjg tot vandag) is die era van die Fanerosoïkum Eon waarin ons nou leef. Hierdie tydperk het na die K-T massa-uitsterwing, na die Chicxulub meteoriet die Aarde getref het, aangebreek. Die Kainosoïkum staan ook as die soogdier-tydperk bekend aangesien soogdiere, na die uitwissing van die dinosauriërs, geweldig gediversifiseer en aangewas het. Voëls het ook na die uitsterwing van die pterosauriërs, ‘n soortgelyke diversifisering en aanwas beleef. Die kontinente het in hierdie tydperk na die posisies waar hulle nou is beweeg.
Kalkryk verwys na ‘n voorwerp soos ‘n skulp wat kalk of kalsiumkarbonaat bevat.
Kalsiet is ‘n polimorf van kalsiumkarbonaat (CaCO3) wat baie algemeen in die natuur voorkom.
Kalsiumkarbonaat (CaCO3) of kalk is een van die hoofbestanddele van skulpe.
Kambriese Ontploffing verwys na die skynbaar skielike verskyning van bykans al die dierfilums in die geologiese rekord. Dit is egter net ‘n plaaslike verskynsel in die Europese geologiese rekord waar dit blyk dat die gesteentes, ouer as die Kambriese Periode, redelik fossiel-arm is. Wêreldwyd was daar egter derduisende fossiele (soos die Ediacara fossiele) in gesteentes ouer as die Kambriese gesteentes gevind.
Kambrium Periode (541-485.4 Mjg) was die eerste periode van die Paleosoïese Era en die Fanerosoïese Eon. Die Kambrium word gekenmerk aan die besondere bewaring van ‘n groot diversiteit dierfossiele waarvan nie slegs die doppe en eksoskelette bewaar gebly het nie, maar in sekere gevalle ook van die sagte weefsel. ‘n Mens kan ‘n geweldige vordering in kompleksiteit van liggaamsvorm en diversiteit van diere in die fossielrekord van die Kambrium merk. Hierdie oënskynlik skielike verskyning van verteenwoordigers van al die bekende dierfilums plus ‘n paar vreemdes wat sonder nasate uitgesterf het, word die Kambriese Ontploffing genoem. Alhoewel lewe tydens die Kambrium in die oseane gefloreer het, was daar benewens archaea, bakterieë en swamme op daardie tydstip geen landlewende plante of diere nie. In hierdie tydperk verskyn die eerste monoplakofore, poliplakofore, buikpotiges en tweekleppiges in die fossielrekord.
Kamkwalle (filum Ctenophora) is seelewende diere wat aan die holtediere (filum Cnidaria) verwant is. Een van die opmerklikste kenmerke van kamkwalle, en die rede hoekom hulle so genoem word, is die lengtelopende rye trilhaartjies op hul liggame waarmee hulle swem. Hulle is ook die grootste diere op Aarde wat met behulp van trilhaartjies swem. Volwasse kamkwalle wissel van ‘n paar millimeter tot 1.5 m in lengte. Daar is sowat 150 bekende spesies. Kamkwalle is meestal karnivories en afhangende van hul grootte sal hulle mikroskopiese larwes en rotifere, tot klein skaaldiere, tot ander kamkwalle jag.
Kamoesters of mantels (familie Pectinidae) is tweekleppige weekdiere wat op die oppervlakte van die seevloer leef en nie in die seevloer ingrawe of hulself met bissale drade vasheg nie. Hulle kan vir kort afstande swem deur om hul skulpe woes oop en toe te klap en water uit hul sifon te spuit. Kamoesters het ook talle klein eenvoudige ogies rondom die mantelrand rondom die opening tussen die skulpe. Kamoesters word soos mossels, oesters en kokkels deur mense as seekos geëet.
Kapillêre bed is ʼn netwerk van haarbloedvaatjies wat rondom sekere organe soos die dermkanaal en alveoli van die longe voorkom. Dit is waar suurstof en koolsuurgas tussen die bloedvatstelsel en die longe beweeg en van die dermkanaal na die bloedvatstelsel beweeg.
Kaptakulas is miniatuur tentakeltjies wat op die kop van tandskulpe voorkom waarmee hulle hul prooi vang.
Karboon Periode (358.9-298.9 Mjg) word, veral in die Noordelike Halfrond, in die onderste Mississipium en die boonste Pennsylvanium onderverdeel. Hierdie tydperk word gekenmerk aan die amfibieërs wat op daardie tydstip die dominante landlewende werweldiere was. Geleedpotiges, veral insekte, het gediversifiseer en talryk geword. Reuse woude, wat die steenkoolafsettings in die noordelike halfrond gevorm het, het die land bedek. Die suurstofvlakke was die hoogste ooit – 35% teenoor die 21% van vandag wat veroorsaak het dat geleedpotiges besonder groot kon word. Pangea vorm in hierdie tydperk.
Kauries is predatoriese slakke met besondere gladde doppe wat in meeste spesies gedeeltelik tot heeltemal met die voet bedek word.
Keëlslakke is predatoriese slakke van die familie Conidae. Hierdie slakke gebruik gif om hul prooi te verlam wat hulle met behulp van spesiale harpoenagtige giftande op hul radula, toedien. Die gif van keëlslakke bevat honderde verbindings wat konotoksiene genoem word en van spesie na spesie verskil.
Kefalopode – sien Koppotiges.
Kelp – sien Bruinwier.
Kewerslakke, poliplakofore of chitons (klas Polyplacophora) word gekenmerk aan die 8 skulpplate wat hul boonste oppervlakte bedek wat dit soos ‘n gesegmenteerde dier laat lyk. Daar is ongeveer 1000 spesies bekend. Meeste kewerslakke wissel van 5 tot 50 mm in lengte en kom wêreldwyd slegs in seewater vanaf die trope tot koue water voor waar hulle op en onder rotse of rotsskeure leef. Hulle kom soms snags uit om op rotse in die onderste deel van intergetysone te voed. Alhoewel meeste spesies in die intergetysone tot die subgetysone voorkom, kom daar ‘n paar spesies in diep water tot so diep as 7 000 m onder seevlak voor.
Kiefharte of brangiale harte is die harte wat by die kiewe van koppotiges voorkom. Koppotiges het ook ‘n sistemiese hart.
Kiemlaag is een van die eerste weefsellae wat tydens die ontwikkeling van ‘n embrio plaasvind. Die bevrugte eier van ‘n euselomaat verdeel eers in ‘n klompie selle wat die blastula genoem word. Aangesien die selle dig opmekaar gepak is word dit die stereoblastula (“soliede blastula”) genoem, daarna ontwikkel ‘n holte binne die blastula (blastoseel) en die selle skuif na die buitekant. Hierdie embrionale stadium wat soos ‘n blasie lyk word die seloblastula genoem. Volgende stulp die buitenste sellaag na binne om die gastroseel te vorm met ‘n opening – die blastopoor – wat die gastroseel na buite laat open. Hierdie embrionale stadium word die gastrula genoem. Die binneste sellaag van die gastrula wat die gastroseel se wand vorm word die kiemlaag genaamd die endoderm genoem. Die buitenste sellaag van die gastrula word die kiemlaag genaamd die ektoderm genoem. Die mesoderm, die derde kiemlaag vorm vanuit selle rondom die blastopoor en beweeg dan na binne tussen die ektoderm en endoderm en word die kiemlaag wat die mesoderm genoem word. Elkeen van hierdie kiemlae – die ektoderm, mesoderm en endoderm gee oorsprong aan spesifieke weefsels en organe.
Kiewe of kieue is die respiratoriese organe wat mens in waterlewende diere vind. Slakke het ook spesiale kiewe wat stenidia (ctenidia) genoem word. In hierdie afdeling het ek die woorde kief en kiewe gebruik eerder as ctenidia, stenidia of kiefkamme om die oordrag van inligting te vergemaklik. Dit is belangrik om te meld dat die kiewe van weekdiere onafhanklik van dié van werweldiere ontstaan het en dat dit dus analoë organe is wat dieselfde funksies verrig. Die kiewe bestaan uit hol buisagtige filamente met dun wande vir gaswisseling. Tweekleppiges gebruik hul kiewe (soos die Urochordata – rooiaas, salpe en ander) om ook kos uit die water te filtreer. Weekdiere se kiewe kom oorspronklik agter in die liggaam voor soos mens in die aplakofore, monoplakofore en poliplakofore (kewerslakke) kan sien, maar het weens torsie in gastropode na vore gedraai.
Klipmossels (subklas Patellogastropoda) is plantvretende buikpotiges met ‘n afgeplatte liggaam wat onder ‘n afgeplatte keëlvormige skulp voorkom. Meeste van hierdie weekdiere kom op rotse in die see voor waar hulle styf teen die rotse met hulle breë mukusbedekte voete vasklou sodat hulle nie met strome en golfaksie van die rotse losgeskeur word nie en om uitdroging tydens laagwater te voorkom. Dit is ook die manier hoe hul hulle lywe teen roofdiere beskerm.
Kloaak is ‘n gemeenskaplike ruimte in die agterste deel van die liggaam waarin die spysverteringskanaal, uitskeidingskanale en gonodukte open wat om die beurt na buite die liggaam open.
Kokkel is ‘n vrylewende tweekleppige van die orde Cardiida wat in die sand op die bodem van sanderige strande wêreldwyd voorkom. Dit het kenmerkende ronde bolvormige geribte skulpe. Kokkels word deur mense geëet.
Koleoïed-koppotiges (subklas Coleoidea van die klas Cephalopoda) word deur seekatte, inkvisse en die uitgestorwe belemniete en ammoniete verteenwoordig. Die voorouers van die Coleoidea, waaraan die meeste ekstante koppotiges hoort, het van die Nautiloidea-tak meer as 470 miljoen jaar gelede in die Ordovisiese Periode afgestam. Die ekstante Coleoidea word in twee superordes – die Decapodiformes wat al die koppotiges met tien arms insluit, en die Octopodiformes wat al die koppotiges met agt arms insluit – verteenwoordig. Die ekstante koleoïed-koppotiges se liggame word nie met skulpe bedek nie.
Kollageen is ‘n proteïen wat in bindweefsel en vel voorkom. Kollageen verskaf ondersteuning aan weefsels en organe en is belangrik in weefselherstel.
Kontinentale bank is die semi-horisontale na effens hellende deel van die kontinentale rand wat deur seewater bedek word. Hierdie gebied word in mariene-ekologie die neritiese sone genoem. Die neritiese sone strek vanaf die hoogwatermerk tot by die kontinentale helling, waarna die oseaniese sone van oopwater van die diepsee begin.
Kontinentale helling is die skerp hellende na vertikale kontinentrand wat vanaf die relatief vlak water van die kontinentale rand na die seevloer (gemiddeld 3-4 km diep) van die diepsee strek. Klipmossels is die slakke wat algemeen op rotse rondom die kus voorkom. Hulle het ‘n kenmerkende lae koniese skulp wat nie gedraai is nie alhoewel hul larwes se doppe soos ander slakke s’n gedraai is. Hierdie windings verdwyn soos wat die larwes in volwassenes verander.
Kombuis-afval op plekke soos Blombos, Klasiesrivier en Stilbaai sien. Argeologiese opgrawings van kombuisafvalhope (“middens” in Engels) gee vir mens inligting van die lewenswyses van die mense wat in daardie tyd geleef het. Kombuisafvalhope bestaan hoofsaaklik uit die as van vuurmaakplekke, maar daar is ook kosreste, insluitende die bene van diere wat gejag of mee geboer is, skulpe van weekdiere wat geëet is en doppe van voëleiers en kleipotskerwe in.
Kongiolien is die komplekse proteïene en polisakkariede waaruit die buitenste buigbare lagie van die skulp of periostrakum van ‘n weekdier opgebou is. Dit verbind met die onderliggende aragoniet van die skulp.
Konotoksiene is die van keëlslakke wat hulle gebruik om hulself te verdedig en om prooidiere te dood. Konotoksiene bevat honderde verbindings wat van spesie tot spesie verskil. Die konotoksiene word deur spesiale tande op die radula, wat harpoentande genoem word, in die ander dier geskiet.
Konvergerende evolusie is wanneer dieselfde omstandighede (habitat, predatore, prooi) twee groepe organismes dwing om dieselfde evolusionêre aanpassings te verkry. Goeie voorbeelde daarvan is die sterk, grawende arms met lang kloue en die lang tong en vermindering van tande wat in termietvretende miervreters van Suid-Amerika, mieregels van Australië, ietermagôe van die Ou Wêreld en die erdvark van Afrika voorkom. Ondanks die feit dat dolfyne soogdiere is en dat igtiosauriërs reptiele is, het beide groepe vaartbelynde visvormige lywe ontwikkel, die aanhangsels was tot vinne omskep en hulle het stertvinne ontwikkel. Kaktusse van Amerika en euphorbias van Afrika is doringagtige vetplante, en het ondanks die feit dat hulle nie naverwant is nie, baie soortgelyke aanpassings ondergaan om in die woestyne van daardie kontinente te oorleef.
Koppotiges of kefalopode (Klas Cephalopoda) word gekenmerk aan 8 tot 10 tentakels of gryparms met suiers wat vir voeding, beskerming, beweging en paring gebruik word. Die koppotiges word deur meer as 800 ekstante en 11 000 uitgestorwe spesies, wat seekatte, inkvisse, nautilus, belemniete en ammoniete insluit, verteenwoordig. Die koppotiges het die grootste brein en van die mees komplekse oë van enige ongewerwelde en kan in kompleksiteit met dié van werweldiere vergelyk word. Buiten vir een spesie wat in brakwater voorkom, kom hulle slegs in die see voor. Koppotiges het meestal ‘n rudimentêre skulp wat binne die liggaam voorkom, alhoewel die Nautilus ‘n skulp het wat die liggaam bedek – soos wat die ammoniete van die oertyd gehad het.
Koudofoveate (klas Caudofoveata) is 0.5 – 140 mm lang doplose wurmagtige weekdiere soos die solenogasters. Maar anders as die solenogasters is die liggaam in drie dele verdeel, terwyl hulle ook ‘n sensoriese mondskild, twee kiewe en ‘n maag besit. Daar is sowat 130 spesies bekend. Hulle begrawe hul liggaam vertikaal in die sediment op die seebodem en voed op foraminifera en organiese detritus wat verbyspoel. Instede van ‘n voet, besit koudofoveate skubbe en kalkryke stekels wat skeriete genoem word, wat hulle vir voortbeweging aanwend.
K-T is die afkorting wat wêreldwyd gebruik word om na die massa-uitsterwing, wat aan die einde van die Kryt Periode plaasgevind het, te verwys toe die dinosauriërs en talle ander dier- en plantgroepe uitgesterf het. Dit is van die woorde Kreide (Duits vir Kryt) en Tersiêr afgelei. Tersiêr is ‘n uitgediende geologiese term wat in die vorige eeu nog in gebruik was wat na die eerste typerk van die Kainosoïkum Era verwys het. Alhoewel die moderne uitdrukking K-Pg deesdae deur sommige geoloë en paleontoloë gebruik word, bly K-T die meer bekende, en algemeen gebruikte, uitdrukking. Dit dui ook die einde van die Mesosoïkum aan. Die uitwissing was na alle waarskynlikheid deur ‘n reuse meteoriet veroorsaak. (Sien https://wereldomons.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Geologiese-Tydskaal-tabel.pdf vir meer inligting oor die Geologiese Tydskaal).
Kwal of medusa (Latyn) is die oorspronklike, korrekte woord vir jellievis. Kwalle is holtediere (filum Cnidaria) wat van die mees primitiewe diere op Aarde, naas sponse, is. Hulle het ‘n holte in die middel van hul liggame wat as spysverteringstelsel dien, met een opening wat daarin open. Hierdie opening word die mond genoem, ondanks die feit dat dit benewens die ingestie van kos, ook die uitskeiding van afvalmateriaal hanteer. Die kwal is gewoonlik ‘n plat of sambreelvormige jellieagtige deursigtige ronde skyf of medusa wat in die see ronddryf, op soek na prooi. Sommige kwalle is maar ‘n millimeter in deursneë, terwyl ander tot meer as 2 m in deursneë kan word. Kwalle is meestal karnivories en vang hul prooi met lang orale arms waarop daar talle netelselle (cnidaria) is. Die gif in die netelselle verlam die prooi.
Laaggety is die gemiddelde laagste punt wat die seewatervlak twee keer per dag, elke dag buiten tydens springety of dooigety, langs die kus daal. Die daling van seewater is te danke aan die aantrekkingskrag van die maan, en tot ‘n mindere mate die son wat veroorsaak dat die watervlak op die punt naaste aan die maan plaasvind en ‘n soortgelyke styging in watervlak vind terselfdertyd ook aan die ander kant van die Aarde plaasvind. Dit veroorsaak dat die watervlak tussen hierdie twee hoogtepunte daal wat die laaggety op hierdie plekke rondom die Aarde veroorsaak. Hierdie laagte in seevlak roteer saam met die beweging van die maan regom die Aarde. Dit is hoekom mens laaggety gewoonlik twee keer per dag ervaar (sien – Hooggety, Dooigety en Springgety).
Landlewend of terrestrieël verwys na ‘n organisme wat op land leef en gewoonlik lugasemend is. Diere wat beide op land en in die water (om die beurt) leef, word amfibies genoem (maar hoef natuurlik nie self ‘n lid van die Amphibia te wees nie).
Larwe verwys na die ontwikkelingstadium tussen die eier en die papie in holometaboliese insekte. Ander diere soos weekdiere en amfibieërs het ook larwes. Larwes lyk meestal glad nie soos die volwassenes van daardie spesies nie en het dikwels heeltemal ander monddele en voedingswyses. Larwes kan ook aangepas wees om in heeltemal ander omgewings as hulle volwassenes te leef – soos byvoorbeeld paddavissies en paddas, muskietlarwes en volwasse muskiete, ruspes en vlinders. In sommige gevalle soos rooiaas en seepokke is die larwes mobiel en die volwassenes sessiel.
Lewer of linker spysverteringsklier in weekdiere is nie homoloog aan werweldiere se lewer nie. Die weekdierlewer speel ‘n baie belangrike rol in spysvertering maar op ‘n heeltemal ander manier as die werweldierlewer want benewens die verteringsensieme wat dit afskei absorbeer die weekdierlewer ook self kos intrasellulêr. Daar is twee verskillende spysvertieringskliere in gastropode wat verskillende funksies verrig. Die linker spysverteringsklier word meestal die lewer genoem terwyl die kleiner opgekrulde regter spysverteringsklier meestal bloot net dit genoem word. Die lewer is met buisies aan die maag gekoppel. Die langwerpige verteringselle in die lewer neem voedingstowwe op om intrasellulêr te verteer. Die lewer is dus die belangrikste plek waar voedingabsorbsie plaasvind. Die verteringselle laat die onverteerde reste deur die lewerbuisies in die maag vry waar dit verder chemies verteer word of aanbeweeg om uitgeskei te word. Die lewer is ook die belangrikste bron van ensieme vir ekstrasellulêre spysvertering. Die regter spysverteringsklier skei verteringsensieme af wat deur middel van buisies na die maag oorgedra word. Ekstrasellulêre vertering vind met behulp van hierdie ensieme in die maag plaas.
Lewerbot (Fasciola hepatica) of skaap-lewerbot is ‘n lid van die suigwurms wat ‘n parasietiese groep platwurms is.
Liggaamsholte is ‘n algemene term wat baie mense gebruik wanneer hulle na die abdominale holte verwys wat die vloeistofgevulde ruimte in die buikarea waarbinne die interne organe, of binnegoed, van diere normaalweg voorkom. Dit is egter ‘n verwarrende term, want liggaamsholte verwys eintlik na die seloom en die seloom is tot die perikardiale ruimte en gonadebuise van weekdiere beperk.
Liggaamswand is ‘n mantel (of pallium) wat in meeste weekdiere ‘n kalkryke dop, stekels of plate afskei.
Littorina-Sone kom op rotsagtige kuste voor en is meestal droog en is slegs tydens springgety onder water. Die organismes wat op hierdie vlak voorkom is baie goed aangepas om uitdroging te hanteer. Hierdie sone, wat tussen die supragetysone (wat nooit onder water is nie) en die Boonste Balanoïedsone geleë is, word langs die Ooskus van Afrika tot by die KwaZulu-Natalse kus deur klein liggrys Littorina africana slakkies en langs die Suid- en Weskus van Suid-Afrika deur Afrolittorina knysnaensis slakkies gekenmerk. Die Littorina-Sone is onder water gedurende springgety wat slegs twee keer per maand plaasvind. Littorina africana en Afrolittorina knysnaensis slakkies voed op mikroskopiese alge.
Lofofoor is ‘n spesiale en baie kenmerkende voedingsorgaan wat in die filums Brachiopoda, Bryozoa, Hyolitha en Phoronida voorkom. Gewoonlik is hierdie diere ook stadig-bewegend of sessiel en voed op klein organismes wat in die water dryf met behulp van die tentakels van die lofofoor. Die lofofoor kom binne die skulpe van die bragiopode voor en is slegs sigbaar as die skulpe oopmaak, in ander soos die foroniede steek dit by die mond uit. Hierdie unieke struktuur word gebruik om die diere van hierdie filums saam in ‘n takson Lophophorata te groepeer want dit dui daarop dat hulle hierdie kenmerk van ‘n gemeenskaplike voorouer oorge-erf is en dat hulle dus verwant is. Die Lophophorate is naasverwant aan die weekdiere en die gesegmenteerde wurms.
Longe is organe wat vir gaswisseling in lug as medium gebruik word. Kiewe word meestal vir gaswisseling in water gebruik. Die binnewand van longe is ryklik met bloedvate voorsien om gaswisseling oor die membrane tussen die binneste oppervlak van die longweefsel en die haarvatwande moontlik te maak.
Lophotrochozoa is ‘n groep verwante ongewerweldes wat dieselfde kenmerke deel wat hulle van ‘n gemeenskaplike voorouer oorgeërf het. Die lofotrogosoïese filums het almal ‘n lofofoor – ‘n gespesialiseerde voedingsorgaan met ‘n kroon tentakels met trilhare op wat rondom die mond gerangskik is, en ‘n trogofoorlarwe. Die Lophotrochozoa sluit die Bryozoa (filums Brachiopoda en Phoronida), weekdiere (filum Mollusca), gesegmenteerde wurms (filum Annelida saam met die slurpwurms (voorheen filum Echiura), spuitwurms (filum Sipuncula), wat deesdae by die Annelida ingesluit word), kelkwurms (filum Entoprocta), en snoerwurms (filum Nemertea) in.
Lumen is die ruimte wat binne ‘n orgaan voorkom – soos die ruimte in ‘n bloedvat, derm, nierbuis, spermbuis ens.
Maagskild is ‘n keratienplaatjie wat langs die stilussak in die maag van weekdiere voorkom. Die kosbevattende slym op die stilus draai en skuur teen die maagskild om dit verder meganies af te breek.
Magnetiet is ‘n geoksideerde ysterverbinding wat algemeen in diere voorkom. Dit word met die vermoë om die Aarde se magneetveld waar te neem, verbind. Dit is bekend dat weekdiere wat magnetiet besit, kan rondbeweeg en na hul tuiste kan terugkeer.
Malakologie is die studie van weekdiere (filum Mollusca).
Manglietslakke is slakke wat in manglietwoude voorkom. Hulle eet tussen getye detritus en mikroalge materiaal op die grond wat die wortelbed van die manglietwoud bedek. Net voor die gety opstoot en die grond bedek, klim hulle teen die stamme van die manglietbome op om nie te verdrink nie.
Manglietwoude kom in riviermondings voor waar varswater van riviere met seewater wat tydens hooggety in die riviermonding instoot, meng om brakwater te vorm. Manglietbome is aangepas om die hoë soutvlakke en permanente onderdompeling van hul wortelbed te oorleef deurdat hulle die sout in spesifieke blare of takke konsentreer en dit dan afwerp, en dat hulle spesiale pneumatofore of lugwortels ontwikkel het om soos snorkels bo die water uit te steek om sodoende lug deur die wortels op te neem.
Mantel of pallium is die gespesialiseerde klierryke liggaamswand van weekdiere wat in meeste weekdiere ‘n kalkryke dop, stekels of plate afskei. Die mantel bestaan uit ‘n huidplooi wat die boonste deel van die liggaam bedek en ‘n palliale of mantelholte omsluit. Die kiewe van meeste weekdiere kom in die mantelholte voor en in landlewende slakke is die mantelholte se wand met bloedvate voorsien om as long te dien.
Mantelgroef is ‘n geutvormige struktuur wat tussen die voet en die skulp van weekdiere soos monoplakofore en kewerslakke voorkom. Sekere strukture en organe is met die mantelgroef geassosieër – in die geval van die monoplakofore is dit waar die kiewe gehuisves word en die voering van die mantelgroef dien as bykomstige respiratoriese orgaan. Die nefridia open bo elke kief in die mantelgroef. Die geslagbuisies open ook in die mantelgroef.
Mantelholte word deur ‘n plooi in die mantel gevorm. Dit beslaan ‘n redelike groot ruimte tussen die dop en die liggaam van die slak. In die geval van tweekleppiges kom die hele liggaam binne die mantelholte voor. Die mantelholte is deur epidermis belyn en word, afhangende van die slak se habitat, deur ‘n opening aan seewater, varswater of lug blootgestel. In die landlewende Pulmonata is dit ryklik met bloedvate voorsien en word dit as long vir gaswisseling gebruik. In die res van die weekdiere kom die kiewe binne die mantelholte voor. Die gonades kom in die mantelholte voor en die nefridia open in die mantelholte.
Meganoreseptore neem vibrasies en verwringing van die vel van ‘n organisme waar. Dit stel ‘n dier in staat om sy omgewing te verken en om aanraking te vermy.
Mesoderm is die middelste kiemlaag in die vroeë embrio waaruit spiere, bloedvate en bloed, kliere, uitskeidings- en geslagsorgane ontwikkel. In werweldiere ontwikkel die skelet ook uit hierdie laag.
Mesosoïkum Era (252 – 66 miljoen jaar gelede) word ook soms die Tydperk van Dinosauriërs of die Tydperk van keëlplante genoem. Die Mesosoïkum word in drie dele van oudste na jongste: die Trias, Jura en Kryt Periodes verdeel. Die Mesosoïkum volg op die Perm-Trias massa-uitsterwing en eindig met die K-T massa-uitsterwing. Gondwanaland het in hierdie tydperk opgebreek. Dinosauriërs, voëls, soogdiere en blomplante het in hierdie tydperk ontstaan.
Metamerisme verwys na die metameriese rangskikking van organe. Dit gaan gewoonlik gepaard met segmentale rangskikking van organe, waar die organe in opvolgende segmente herhaal word. Wanneer die skotwande of septums wat die segmente verdeel verdwyn, kom metameriese rangskikking van organe in talle diere steeds voor. Voorbeelde hiervan is die spiere, senuwees, kiewe en nefridia van monoplakofore en die kop- en rugsenuwees, maagspiere en werwels van werweldiere.
Miksotrofie is ʼn voedingswyse wat die benutting van verskillende bronne vir energie en koolstof insluit eerder as om energie en koolstof met behulp van óf heterotrofie, óf outotrofie, soos wat die geval in die meeste ander organismes is, te bekom. Meer as die helfte van die organismes in plankton is miksotrowe wat voedingstowwe met behulp van fotosintese en predasie of aas bekom. Miksotrofiese organismes sluit beide prokariote en eukariote in.
Mirasidium is die tweede ontwikkelingstadium in die lewenskilus van trematode soos die bloedbot Schistosoma. Wanneer trematood-eiers in water kom, broei dit uit om mirasidiums in die water vry te stel. Die mirasidium is bedek met ‘n dik laag silia waarmee hulle in die water rondswem op soek na ‘n geskikte gasheer, naamlik ‘n varswaterslakkie van ‘n sekere spesies. Die mirasidium tonnel deur die slak se vel met behulp van ‘n apikale papilla en die ensieme wat hulle afskei. Die mirasidium werp die silialaag af en groei ‘n nuwe vel en gee oorsprong aan die volgende ontwikkelingstadium – die sakagtige sporosist.
Mjg – Miljoen jaar gelede. Dit word soms as Ma vir Mega annum aangedui, maar dit is te verwarrend om Ma in Afrikaans te gebruik en dus verkies ek Mjg.
Molekulêre studies verwys na analises van DNS, proteïene en ander organiese molekules om die verwantskappe tussen organismes te bepaal.
Mollusk is van die Latyn molluscus afgelei wat van die Griekse woord μαλακός (malakós) afgelei is. Aristoteles, die beroemde Griekse filosoof en wetenskaplike, wat dierkunde as studiegebied gevestig het, het weekdiere as volg beskryf: τὰ μαλάκια (ta malákia) of te wel “die sagtes”. Sien – Weekdiere.
Monoplakofore (klas Monoplacophora) is ‘n relatief onbekende groep wat tans 31 bekende spesies bevat – dis die rede hoekom hierdie groep nie ‘n algemene naam het nie. Die rede vir hierdie groep se relatiewe onbekendheid is omdat dit net in die diepsee op die seebodem voorkom en eers in 1952 ontdek is. Monoplakofore het ‘n oop skulp soos sekere rotsmossels maar met geen torsie van interne organe soos in buikpotiges nie. Soos alle weekdiere het monoplakofore geen segmente maar het wel segmentaal (metameries) gerangskikte organe.
Mosasauriërs is ‘n groep uitgestorwe mariene reptiele wat aan akkedisse verwant was. Na die uitsterwing van die igtiosauriërs en die pliosauriërs het die mosasauriërs as top mariene werweldiere oorgeneem. Die mosasauriërs verskyn in die fossielrekord van die Laat Kryt en sterf uit met die K-T massa-uitsterwing. Die mosasauriërs se ledemate het soos dié van die plesiosauriërs in vinne verander.
Mukus is die gladde waterige afskeiding van slymvliese. Mukus bestaan uit musien wat anorganiese soute, antimikrobiese ensieme, immunoglobuliene en glikoproteïene bevat. Mukus beskerm die epiteelweefsel deurdat hulle dit moeilik maak vir patogeniese bakterieë, swamme en virusse om tot die epiteelweefsel deur te dring.
Nautiloïede hoort aan ‘n groot en diverse groep van mariene koppotiges – die Subklas Nautiloidea van die Cephalopoda. Hulle skulpe kom vanaf die Laat Kambrium in die fossielrekord voor. Hulle het in die Vroeë Palaeosoïkum gediversifiseer en gedy – en word saam met ammoniete goed in die fossielrekord verteenwoordig. Anders as die ammoniete het die nautiloïede die K-T massa-uitsterwing oorleef, maar hulle getalle en diversiteit het deur die Mioseen en Plioseen afgeneem. Daar is ongeveer 2 500 nautiloïed-fossielspesies bekend terwyl daar net ‘n handjievol spesies van die genusse Nautilus en Allonautilus vandag nog bestaan
Nefridium of primitiewe nier is die uitskeidingsorgaan wat in alle weekdiere buiten die aplakofore voorkom. Dit is nie heeltemal dieselfde as die niere wat in werweldiere voorkom nie aangesien die perikardiumwand ‘n groter rol in die vorming van die uriene speel as die nefridium. Die nefridium is egter verantwoordelik vir die uitskeiding van die uriene wat van die perikardium deur renoperikardiale buisies ontvang word. Nefridiums speel ook ‘n belangrike rol om die osmotiese balans en waterdruk van weekdiere te handhaaf. Varswaterlewende buikpotiges herabsorbeer sout deur middel van die nefridium om die buikpotiges se osmotiese balans te handhaaf.
Nekton is die kategorie seediere, soos visse, wat sterk genoeg kan swem om, anders as plankton, onafhanklik van waterstrome te kan beweeg.
Nematode – sien Rondewurms.
Neritiese sone of sublittorale sone is die vlak deel van die see op die kontinentale bank tot op die oorgang na die kontinentale helling tot ‘n diepte van 200 m. Die neritiese sone strek vanaf die hoogwatermerk tot by die kontinentale helling, waarna die oseaniese sone van oopwater van die diepsee begin. Weens die feit dat lig tot op ‘n sekere vlak in die neritiese sone kan deurdring, is dit ook ‘n gebied wat wemel van lewe en wat plante, diere, chromiste, fungi en talle eensellige mikro-organismes huisves. Dit is waar mens kelp-woude, korale, skole visse en ‘n groot verskeidenheid van spesies kry.
Neritimorpha is ‘n subklas van ongeveer 2000 spesies wat ‘n wye verskeidenheid liggaamsvorme besit wat in die kleine die hele buikpotige liggaamsdiversiteit eggo – daar is dié wat soos slakke lyk, ander lyk weer soos klipmossels en daar is selfs ‘n naakslak-tipe onder hulle. Hulle kom ook in seewater, varswater en op land voor.
Neurone of senuweeselle is elektries-geaktiveerde selle wat elektrone deur ‘n neurale netwerk van aaneengekoppelde senuweeselle stuur. Neurone is die boustene van die senuweestelsel.
Octopodiformes is een van die twee ekstante Coleoidea superordes wat aan hul agt arms of tentakels gekenmerk word. Die voorouerlike Octopodiformes het hul armpaar III verloor, wat veroorsaak het dat hul nasate slegs agt arms het.
Ongewerwelde diere verwys na diere wat nie skelette het nie, m.a.w. alle diere buiten die werweldiere van die Subfilum Vertebrata. Dit is egter ‘n baie lukrake en onwetenskaplike term en is eintlik betekenisloos buiten vir werweldiere, soos ons, vir wie dit op subjektiewe vlak baie beteken. Om te illustreer: daar is 36 filums diere op Aarde waarvan almal invertebrate is, buiten vir EEN van drie subfilums binne die Filum Chordata waarvan die ander twee subfilums invertebrate bevat. Dan moet jy nou ook in gedagte hou dat drie visklasse binne die Subfilum Vertebrata – die lampreie, slympalings en rotvisse, ten spyte daarvan dat hulle nie werwels het nie, as werweldiere geklassifiseer word. As mens die ongeveer 70 000 werweldiere sover bekend, met die ongeveer 1.5 miljoen bekende spesies ongewerweldes vergelyk, en in gedagte hou dat daar tussen 6-10 miljoen tot dusver onontdekte insekspesies mag wees, moet mens erken dat ons eintlik maar net van diere moet praat. Trouens, daar is meer slakspesies as werweldierspesies op Aarde – en dit is ‘n nederige gedagte.
Ontwikkelingstadium verwys na ‘n spesifieke stadium binne die lewensiklus van ‘n organisme. Dit gaan meestal met vervelling en selfs anatomiese en fisiologiese veranderings gepaard.
Oop bloedvatstelsel – sien Hemoseel.
Operkulum is ‘n deksel wat talle slakke – veral dié met gedraaide skulpe besit, om die skulpopening te sluit om uitdroging te verhoed en vyande uit te sluit.
Opisthobranchia is buikpotiges wat een kief het. Die Opistobranchia sluit hoofsaaklik seelewende slakke in, wat een kief besit en detorsie ondergaan het en alhoewel meeste doppe besit, is sommige doploos.
Opportunistiese roofdiere vreet enige ander dier wat hulle kan vang en doodmaak. Dit is die teenoorgestelde van spesialis roofdiere wat net ‘n sekere tipe prooi sal jag.
Ordovisium Periode (485.4 – 443.8 Mjg). In hierdie tydperk was weekdiere en geleedpotiges die dominante diere in die oseane terwyl visse verder ontwikkel het. Die einde van die Ordovisium word gekenmerk aan die Ordovisium – Siluur massa-uitsterwing. Daar was ‘n groot toename en diversifisering van tweekleppiges in die Vroeë Ordovisium Periode.
Oseaniese sone is die deel van die oop seewater vanaf die kontinentale helling op ‘n diepte van 200 m tot die diepsee en wat deur die seevloer op ‘n gemiddelde diepte van 3 km onderlê word.
Osfradieë is die chemiese sensore wat binne die mantelholte van weekdiere voorkom wat heeltyd die water wat in die mantelholte inkom toets. Wanneer ‘n chemiese irritant die mantelholte indring, neem die osfradium dit waar wat die beweging van die trilhaartjies binne die mantelholte staak tot die irritant verdwyn.
Ovariums is die vroulike gonades wat eiers vervaardig. Dit kom in wyfieorganismes en hermafroditiese organismes voor.
Ovotestis is die gonades wat om die beurt eiers en sperms in hermafroditiese spesies vervaardig.
Palaeoheterodonta is ‘n tweekleppige subklas wat talle uitgestorwe ordes en families bevat. Dit bevat ook twee ekstante ordes naamlik die varswatermossels (orde Unionida) en seemossels van die orde Trigoniida.
Paleosoïkum Era (541 – 251.902 Mjg) is die eerste van die drie geologiese eras wat die Fanerosoïkum opmaak. Dit word, van oud na jonk, in die Kambrium, die Ordovisium, Siluur, Devoon, Karboon en Perm verdeel. Meersellige lewe het gediversifiseer en al die dierfilums het in hierdie tydperk ontstaan. Lewe het van see tot op land versprei en teen die einde van hierdie tydperk was daar amfibieërs en reptiele, groot insekdiversiteit en woude op land. Die Paleosoïkum eindig met die grootste uitwissing van lewensvorme op Aarde wat veroorsaak het dat diversiteit van terrestriële organismes eers 30 miljoen later herstel het. Die tweekleppiges was die volopste filtervoeders in die oseane tydens die Paleosoïkum soos wat die 12 000 fossielspesies van daardie tydperk getuig.
Pallium – sien Mantel.
Parafiletiese takson is ‘n kunsmatige takson wat nie al die nasate van ‘n groep insluit nie. Dit is soos om na die reptiele as groep te verwys maar sonder om die voëls, wat ‘n onderafdeling van die reptiele is, in te sluit nie (voëls het van die dinosauriërs afgestam).
Paralarwes is koppotige larwes se larwes wat baie soos miniatuur-weergawes van volwassenes lyk en wat van kleins af met hul piepklein tentakels, bekke en gifkliere jag.
Parasiet verwys na ‘n organisme (plant, dier, swam of eensellige organisme) wat op ‘n ander organisme voed terwyl die organisme leef, of op sy nageslag voed of op produkte, wat vir homself of sy nasate bestem is, voed. Die term parasiet word dikwels met patogeen gesinonimiseer. Die parasiet leef in of op sy gasheer en is meestal spesiaal aangepas om hierdie lewenswyse te handhaaf. Dit is ‘n tipe simbiotiese verhouding waar die parasiet slegs baat en gewoonlik tot die gasheer se nadeel is. Ongeveer 80% van alle bekende spesies op aarde is parasiete.
Patellogastropoda – sien Klipmossels.
Patogeen is enigiets wat ‘n siekte kan veroorsaak. Siektes kan ook deur virusse en ‘n groot verskeidenheid organismes veroorsaak word – vanaf bakterieë, protiste, swamme tot ‘n groot verskeidenheid diere. Patogeniese diere word meer dikwels parasiete genoem.
Patogenies bedoel siektevormend.
Pelagies bedoel bloot die oop see vanaf die hoogwatermerk van die Neritiese sone tot die Oseaniese sone wat tussen die kontinente strek.
Pêrel is die struktuur wat gevorm word wanneer ‘n weekdier se liggaam deur ‘n parasiet aangeval word of ‘n irritant, soos ‘n sandkorrel of skulpfragment, tussen die dop en die liggaam beland, en dit met lagies irisiderende kalsiet bedek word.
Perikalimma larwe is kenmerkend van die solenogasters. Die trogofoorlawe gee oorsprong aan die sampioenvormige perikalimma larwe wat later in die wurmvormige solenogaster verander.
Perikardiale kliere, wat bokant die hart in die liggaamsruimte van meeste gastropode buiten landslakke voorkom en in die maag open, speel ook ‘n rol in ekskresie.
Perikardiale ruimte word gebruik om gefiltreerde stikstofbevattende afvalstowwe te vervaardig. Saamtrekkings van die perikardium dra waarskynlik tot eksresie van metaboliese afvalstowwe by deurdat dit die perikardiale vloeistof rondspoel en die ultragefiltreerde stowwe daarin deur die nefrostome weerskante van die perikardium deur die renoperikardiale buise na die nefridiums vervoer word.
Periostrakum is die buitenste lagie van die skulp of periostrakum wat uit kongiolien bestaan.
Perlemoer is die binneste deel van die skulp wat in talle slakke, tweekleppiges en koppotiges voorkom. Die irisiderende pêrelagtige kleur word perlemoer (die moeder van pêrels) genoem omdat dit soos die irisiderende kleur van pêrels lyk. Dit bestaan natuurlik uit dieselfde stof waaruit pêrels gevorm word. Die afskeiding van hierdie lagies kalsiet is om die binneste deel van die skulp, naaste aan die liggaam, glad te hou om wrywing te voorkom, maar dit het ook ‘n verdedigingsfunksie.
Perm Periode (251.9 – 251,9 miljoen jaar gelede) is die tydperk wat na die Karboon Ystydperk volg en wat met die uitsterwing van 95% van alle plant- en dierspesies op Aarde eindig. Dit was die grootste uitwissing van lewe ooit. Die tipiese plante wat tydens die Karboon Periode op land geheers het, word nou deur keëldraende gimnosperme (die eerste ware saadplante) en eerste ware mosse verplaas. Brachiopode, tweekleppiges, foraminifere en ammoniete kom volop in die oseane voor. Vlieë en kewers verskyn. Primitiewe reptiele en soogdieragtige reptiele kom wydverspreid op die superkontinent Pangea voor.
Piktogram is ‘n prentjie of ‘n teken wat ‘n woord of uitdrukking verteenwoordig. ‘n Smiley is ‘n moderne piktogram terwyl die piktogram vir kameel Λ in Fenesies was. Dit was ‘n prentjie van die homp van ‘n kameel. Dit word nog steeds ghimel in Hebreeus genoem en wat nog steeds kameel beteken. Dit het ג in Hebreeus geword, Γ in Grieks geword en die letter G in die Latynse alfabet geword.
Planispiraal verwys na skulpe wat op ‘n vertikale vlak opgerol is. Dit is tipies van die skulpe van kefalopode.
Plankton is die wye verskeidenheid van organismes wat in die vars- of seewater voorkom (deesdae verwys mense ook na lug-plankton) wat te klein of swak is om teen die strome in die water, soos nekton, te kan voortbeweeg. Plankton sluit bakterieë, alge, protosoë en drywende diere (dikwels larwes) en kwalle (wat nie onafhanklik van strome kan beweeg nie) in.
Plantvretend verwys na ‘n organisme (gewoonlik ‘n dier) wat plante vreet. Natuurlik doen baie ander organismes soos swamme en bakterieë dit ook, maar dan verwys mens gewoonlik na saprofiete (in die geval van swamme) en patogene (in die geval van bakterieë). As mens dieper in biologie, dierdiversiteit, diergedrag, anatomie en ekologie begin belangstel kom mens agter dat daar verskillende tipes herbivore soos vrugtevreters, grasvreters, blaarvreters, vrugtevreters, saadvreters ens. is
Platwurms (filum Platyhelminthes) is ‘n groep primitiewe meersellige organismes wat vrylewende en parasitiese spesies bevat. Hulle het nie asemhalingsorgane of bloedvatstelsels nie. Dit veroorsaak dat die diere baie plat moet wees, sodat hulle suurstof en koolsuurgas deur die vel met die omgewing kan wissel. Hierdie plat vorm help die parasitiese platwurms wat nie spysverteringstelsels het nie, om kos deur hulle liggaamswand te kan absorbeer. Die spysverteringstelsel van dié platwurms wat wel een het, bestaan uit ‘n vertakkende sak, en die mond word vir voeding en ekskresie gebruik.
Platyhelminthes – sien Platwurms.
Plesiomorf verwys na ‘n voorouerlike of primitiewe ontwerp.
Podosietselle kom in die peredikardiumwand voor. Podosiete speel ‘n belangrike rol in die ultrafiltrasie van die hemolimf om uriene te vorm. Podosiete het lang voetprosesse wat pedikels genoem word. Die pedikels kronkel om bloedhaarvate met klein gapings tussen die windings wat ‘n sif vorm waardeur die hemolimf gefiltreer word.
Polyplacophora – sien Kewerslakke.
Predator – sien Roofdier.
Predatories verwys na ‘n lewenswyse van ‘n roofdier wat ander doodmaak om te eet (sien Roofdier).
Primitiewe heterobrange (voorheen bekend as die Prosobranchia) is buikpotiges wat meestal twee kiewe het. Die primitiewe heterobrange bevat seelewende en varswaterlewende slakke met doppe wat sekondêre openinge besit. Voorbeelde van primitiewe heterobrange sluit die perlemoen en gathorings in. Die Opisthobranchia en die Pulmonata het vanuit een van die primitiewe heterobrange, wat een kief besit het, ontstaan.
Proglottiede is die “segmente” wat konstant onder aan die kort nek van die skoleks van die lintwurm gevorm word. Die lang string van duisende proglottiede wat so in die gasheer se dermkanaal gevorm word, word die strobila genoem. Elkeen van hierdie plat, reghoekige proglottiede bevat ʼn manlike en vroulike voortplantingstelsel en is in werklikheid ʼn individuele organisme. Die bevrugte proglottiede breek van die strobila af en word met die ontlasting van die gasheer uitgeskei.
Prokariote is mikroskopiese eensellige organismes wat geen dubbelmembraan organelle of selkern bevat nie – die genetiese materiaal dryf in los stringe in die sitoplasma rond en in die afwesigheid van organel-membrane vind die meeste biochemiese reaksies op die selmembraan plaas. Die prokariote is die oudste en primitiefste organismes op aarde en sluit die domeine Archaea en Bacteria in.
Pro-ostrakum is die voorste tongvormige deel van die belemnietskulp waar die kop en tentakels van die belemniet uitgesteek het.
Protobrange (voorheen bekend as die subklas Protobranchia) is die mees primitiewe ekstante tweekleppiges bevat wat eenvoudige kiewe besit. Sekere lede van hierdie klas vang kos met tentakeltjies. Die baie klein primitiewe seemossels van die ordes Nuculanida, Nuculida en Solemyida.
Protoconch is die oorspronklike embrionale skulp wat mens in veliger larwes kan sien.
Protosoön is die enkelvoud van die woord Protosoë (Protozoa in Latyn). Dit is die algemene naam vir eensellige eukariotiese organismes, veral dié wat mense meer met diere as met plante of swamme assosieer weens die feit dat hulle rondbeweeg en predatories is en nie, soos plante en swamme, nie selwande rondom hul membrane besit nie. Protozoa was tot in die vorige eeu as ʼn onderafdeling van die koninkryk Protista beskou, maar deesdae word dit as algemene benaming gebruik om na eensellige eukariotiese organismes wat op ander organismes voed, te verwys.
Pseudoseel is die vloeistofgevulde ruimte tussen die liggaamswand en die spysverteringstelsel wat in pseudoselomate soos rondewurms voorkom. Pseudo beteken skyn of vals en seloom of -seel verwys na ʼn liggaamsholte. Die pseudoseel speel ʼn belangrike rol as deel van die hidroskelet en, in die afwesigheid van ʼn bloedvatstelsel, vir die vervoer van voedingstowwe, respiratoriese gasse en afvalstowwe.
Pseudoselomaat is ʼn dier met ʼn pseudoseel. Diere van die filum Nematoda, Rotifera, Gastrotricha, en die klas Sipunculida van die filum Annelida het peudosele
Pteriomorphia is ‘n tweekleppige subklas wat die arkskulpe (orde Arcida), ware oesters (orde Ostreida), kamoesters (orde Pectinida), vylskulpe (orde Limida), mossels (orde Mytilida) en pêreloesters (orde Pteriida) bevat.
Pulmonata sluit varswaterlewende slakke, die meeste landlewende slakke en naakslakke, en ‘n klein groepie seeslakke in. Die mantelholte van die pulmonate is aangepas om as long te dien. Detorsie het ook in hierdie groep plaasgevind wat veroorsaak het dat die senuweestelsel simmetries gerangskik is en nie oormekaar gevou is nie. Meeste pulmonate het nie ‘n operkulum nie en is hermafrodities.
Radiolarieë (subfilum Radiolaria) is protosoë van 0.1-0.2 mm in deursnit. Soos diatome het hulle mineraalskelette van silika. Radiolarieë word egter as soöplankton geklassifiseer terwyl diatome as fitoplankton geklassifeer word. Alle diatome fotosintetiseer terwyl radiolarieë heterotrofies is. Sommige radiolarieë het egter fotosintetiese endosimbionte en word as miksotropies beskou.
Radula of raspertong is uniek aan die weekdiere. Die radula is aan die beweeglike odontofoor vasgeheg. Die radula se oppervlakte bevat rye van skerp chitientandjies wat van agter af vervang word soos die voorstes verweer. Die radula is egter volgens die dieët en voedingswyse van die spesifieke spesies aangepas en wissel van die eenvoudigste radulas wat in klipmossels en perlemoer, wat alge op rotse vreet, voorkom, tot die gespesialiseerde radula waarmee wulke deur die skulpe van hul prooi boor om op die sagte, weerlose weefsel van hul prooi te voed. Die radula is met tande toegerus wat vanaf 16 tot duisende in verskillende spesies kan wissel. Hierdie tande is so uniek in elke spesie dat dit dikwels vir klassifikasiedoeleindes aangewend word. Hierdie tande kom in rye op die radula voor en verskil in meeste gevalle in vorm, afhangende van die posisie op die radula waar dit voorkom. In sommige buikpotiges is daar 6 tande in ‘n ry, terwyl daar tot 750 mikroskopiese tande in ‘n ry op die radula van ander spesies kan voorkom. Die tande van keëlslakke is omvorm in giftige harpoenagtige pyle waarmee hulle hul prooi steek.
Raspertong – sien Radula.
Renoperikardiale kanaal is ‘n klein buisie wat die nefridium aan die veneuse sinus van meeste buispotiges koppel.
Renoperikardiale stelsel van weekdiere is in werklikheid die uitskeidingstelsel van weekdiere, waarvan die nefridia net ‘n onderdeel van is. Suurstofarm hemolimf met metaboliese afvalstowwe versamel in die veneuse sinusse in die voet van die weekdier en word van hier na die perikardium vervoer waar die urienfiltraat gevorm word. Die urienfiltraat word deur die ultrafiltrasie van die hemolimf deur die podosietselle in die epikardiale wand van die aurikel in die perikardiale ruimte gevorm. Die urienfiltraat word dan na die nefridia deur renoperikardiale buisies vervoer waar oortollige water geherabsorbeer word. Die uriene word deur nierbuisies na die mantelholte vervoer en deur nefridioporieë, wat in die mantelholte open, uitgeskei. Die hemolimf dreineer van die nefridia deur are na die kiewe of long.
Retina is ligsensitiewe selle wat agter in ‘n oog voorkom. Oë van verskillende ontwerpe en verskillende vlakke van effektiwiteit kom in ‘n verskeidenheid diere voor. Van die mees komplekse oë in die diereryk kom in werweldiere en in koppotiges voor. Dit is een van die beste voorbeelde van konvergerende evolusie waar amper identiese ontwerpe in twee onverwante groepe ontstaan het, maar met verskillende bouplanne. Die werweldierretina is ‘n uitstulping van die brein, met ander woorde die ligsensitiewe selle van die werweldier se retina lê onder lae van ander ondersteunende selle wat mens elders in die senuweestelsel kry terwyl die senuweevesels, wat uit elke senuweesel spruit, bo-oor die retina lê. Die lig moet met ander woorde deur hierdie ander selle en senuweevesels skyn om by die retinaselle uit te kom. Al die senuweevesels versamel in die oogsenuwee by die blinde vlek waar daar nie retinaselle is nie – en dus blind is. In ongewerweldes is die retinaselle direk aan die lig blootgestel en die senuweevesels versamel agter die retina as die oogsenuwee. Die retina van ongewerweldes is dus ook baie sensitief vir lig en kan onder lae ligintensiteit funksioneer.
Rinofore is chemoreseptoriese organe wat in seelewende opistobrange voorkom.
Rondewurms of nematode is die volopste diertjies op aarde (80% van alle diere is rondewurms) en hoort aan die Filum Nematoda. Hulle kom in bykans alle habitatte op aarde voor – vanaf woestyne tot die diepste trog op die seevloer waar hulle spesie- en getalgewys meeste ander organismes oorheers. Volgens een berekening is daar sowat 60 miljard nematode vir elke mens op aarde. Hulle lewenswyses wissel vanaf parasities tot vrylewend. Daar was onlangs nematode in ‘n Suid-Afrikaanse myn (een van die diepstes op aarde), op ‘n diepte van 3.6 km ontdek. Meeste rondewurmspesies wissel van mikroskopies klein tot sowat een millimeter lank, maar sommige is egter sentimeters lank en ‘n paar tot meters lank. Die kortste bekende nematood, Greeffiella oxycaudata, is 0.08 mm lank, terwyl die langste, Placentonema gigantissima, wat walvisse parasiteer, agt meter lank, of 100 000 keer groter is. Dit is die grootste grootteverskille binne ‘n filum waarvan ons weet, en dit is bloot ‘n aanduiding van hoe groot die diversiteit van hierdie filum is, wat weer ‘n aanduiding is van hoe groot en belangrik hulle ekologiese rol is.
Roofdier of predator is ‘n dier soos ‘n koppotige, kauries, wulke en keëlslakke, wat ander diere (prooidiere) vang, doodmaak en vreet. Dit verskil van parasiete wat gewoonlik nie die gasheer doodmaak nie en dit lewendig vreet. Dit verskil ook van ‘n aasdier wat nie sy prooi doodmaak nie. Die woord karnivoor (vleisvreter) en predator is nie sinoniem nie. Alle predatore is vleisvreters, maar alle vleisvreters is nie predatore nie – soos aasvreters byvoorbeeld.
Rooigety word veroorsaak deur die skielike aanwas van sekere dinoflagellate wat so talryk rondom die kuslyn word dat die see rooi verkleur. Weens die gifstowwe wat hulle vervaardig, vergif hulle miljoene der miljoene seediere – vanaf weekdiere en skaaldiere tot visse. ’n Mens kan sterf as hulle hierdie vergiftigde diere eet.
Rostrum is die agterste spiesvormige deel van die belemnietskulp. Hierdie kalsietryke deel van die skulp wat meestal in die fossielrekord behoue gebly het.
Rotlongwurm Angiostrongylus cantonensis is ‘n parasitiese rondewurm wat eosinofiliese breinvliesontsteking in Suidoos Asië en die Stille Oseaan Eilande veroorsaak. Die rondewurm woon in die lugweg-slagare van rotte wat aanleiding tot die algemene naam gegee het. Slakke is die tussengashere waarin die rotlongwurmlarwes huisves. Rotte is die hoofgashere van hierdie parasiet terwyl mense is die insidentele gashere is. Mense word deur larwes van die rotlongwurm geparasiteer wanneer mense rou of half-rou slakke eet, water drink waarin die parasiet voorkom of rou groente. wat met die besmette water natgelei is. eet.
Salp is ‘n vrylewende lid van die filum Urochordata (subfilum Thaliacea). Salpe is deursigtig en lyk soos deursigtige vaatjies met ‘n oop voor- en agterkant. Die voorste of boonste opening is die inlaatsifon en die agterste of onderste sifon is die uitlaatsifon. Salpe beweeg deur die water deur om water deur hul liggame met behulp van hierdie sifons te stroom. Hulle wissel van ‘n paar millimeter tot etlike sentimeter in lengte. Sekere spesies kom as enkellopende individue voor terwyl ander in meters lange kolonies deur die seewater dryf. Hulle is filtervoeders wat hul kiefmandjies gebruik om kos uit die water te filtreer.
Scaphopoda – sien Tandskulpe.
Schistosoma is ‘n genus van platwurms wat aan die Klas Trematoda van die filum Platyhelminthes behoort. Hulle word ook bloedbotte genoem. Hierdie groep parasitiese platwurms veroorsaak schistosomiase of bilharzia wat miljoene mense besmet en, naas malaria, die ernstigste parasitiese siekte op aarde is.
Schistosoma haematobium – sien Urienwegbloedbot.
Schistosoma mansoni – sien Dermbloedbot.
Schistosoma mattheei, die wild- en veebloedbot wat in Afrika voorkom, parasiteer ook soms die mens.
Schistosomiase – sien bilharzia.
Seekatte is koppotiges wat tot die orde Octopoda hoort. Hulle het soos die ander lede van die superorde Octopodiformes agt tentakels of gryparms, maar ook die grootste breins van alle ongewerweldes en komplekse oë wat met dié van soogdiere vergelyk kan word. Hulle het gif en inkkliere soos ander koppotiges. Hulle gebruik hul sifon waardeur hulle water spuit om te swem, maar andersins loop hulle met behulp van hul tentakels. Die Nederlanders noem die Sepia inkvis ‘n seekat en wat ons die seekat noem, noem hulle ‘n octopus. Seekatte kom op koraalriwwe, rotsagtige kuste, pelagies in die seewaters en op die seevloer voor waar hulle skaaldiere, weekdiere en visse vang en vreet.
Seekomkommers is lede van die klas Holoturoidea van die filum Echinodermata. Seekomkommers is stadig-bewegende detritus-voeders wat op die seevloer in alle oseane voorkom. Hulle het ‘n langwerpige liggaam met ‘n dik leeragtige vel.
Seelewend verwys na organismes wat in die see leef (mense hou daarvan om die woord marien vir seelewend te gebruik),
Seenaakslakke (orde Nudibranchia) het heeltemal hul doppe verloor. Meeste seenaakslakke het kiewe, wat soos pluimvere lyk, op hul rue.
Seesy was ‘n gesogte item duisende tot honderde jare gelede – dit was van die bissale drade van tweekleppiges – spesifiek die penskulp (Pinna nobilis) gemaak. Weens oorgebruik van hierdie skaars bron het dit die bevolkings van seepenne erg benadeel.
Seetrôe is diep, lang induikings in die seevloer. Dit kan dikwels vanaf 50 tot 100 km breed en tot tiene van duisende kilometers lank wees. Seetrôe vorm waar tektoniese plate subduksie ondergaan. Die diepste seetrog wat tot dusver ontdek is is dele van die Marianatrog wat meer as 11 km onder seevlak is (Mount Everest is 8.8 km bo seevlak in vergelyking).
Segmentasie is die verdeling van die liggaam in ‘n reeks segmente. Septas of skotwande skei die segmente van mekaar. Daar is ‘n herhaling van organe in naasliggende segmente. Die eerste organismes wat segmetasie getoon het was die Annelida.
Sekresie is die afskeiding van nuttige stowwe soos vloeistowwe en olies. Dit verskil van ekskresies wat die uitskeiding van afvalstowwe is. Speeksel wat ons gebruik om kos in nat pasta te verander, sodat dit deur die slukderm kan beweeg sonder om vas te sit, trane wat die oë benat, sodat die ooglede pynloos daaroor kan gly, mukus wat die neusholte bevogtig en goggawerende was in die oorkanaal is voorbeelde van sekresies.
Sekum is deel van die spysverteringskanaal en lê langs die maag en derm. Dit is waar meeste van die ekstrasellulêre vertering in weekdiere plaasvind.
Seloom is die liggaamsholte tussen die epiteelweefsel wat die dermkanaal omring (die viserale peritoneum) en die epiteellaag wat die binnekant van die liggaamswand (die pariëtale peritoneuem) uitvoer. Die peritoneale ruimte van werweldiere is ‘n oorblyfsel van die oorspronklike embrionale seloom. Die seloom kom in diere soos gesegmenteerde wurms, weekdiere, geleedpotiges en werweldiere voor.
Senuweeknoop is die Afrikaanse woord vir ganglion (sien – Ganglion).
Serialia is die voorgestelde takson waaronder die monoplakofore en poliplakofore val.
Serkarieë is die vyfde ontwikkelingstadium van die Schistosoma parasiet wat die slak verlaat en in die water, met behulp van ‘n gevurkte stert, rondswem op soek na ‘n soogdiergasheer om binne te dring.
Sessiel of sittend verwys na ‘n dier wat permanent, veral as volwassene, op ‘n rots of koraalrif of in ‘n tonnel vasgeanker is en nie daarvandaan kan wegbeweeg nie. Voorbeelde van sessiele diere is sponse, anemone, rooiaas, buiswurms en korsmossels. Hulle larwes is gewoonlik mobiel of motiel – dit bedoel beweeglik.
Sifons kom in meeste waterbewonende buikpotiges voor, veral in dié wat ‘n grawende lewenswyse het. Dikwels kom daar ‘n sifonkanaal in die skulp voor waarin die sifon geleë is. Die sifon stel die buikpotige in staat om water in hul mantelkanaal op te suig en die water oor die kief of kiewe te laat spoel. Die sifon word ook gebruik om die water te “proe” wat hulle in staat stel om tussen kos of roofdiere te onderskei. Sifondraende buikpotiges is gewoonlik roofdiere of aasvreters. In- en uitlaatsifons kom in meeste tweekleppiges voor en die sifon wat in koppotiges voorkom word vir spuitaandrywing gebruik.
Siluur Periode (443.8 – 419.2 Mjg) was deel van die Paleosoïkum. Die onderste grens van die Siluur word bepaal deur die reeks uitsterwings aan die einde van die voorafgaande Ordovisium Periode waartydens ongeveer 60% van seediergenusse verdwyn het. Die Siluur word gekenmerk aan die diversifisering van kaakvisse en beenvisse. Meersellige lewe word op land gevestig. Die eerste landplante verskyn – hierdie klein mosagtige plantjies groei langs mere, strome en strande. Geleedpotiges verskyn in hierdie tydperk ook op land.
Simbiose verwys na enige nabye en langtermyn interaksie tussen twee verskillende organismes of simbionte. Dit sluit mutualistiese, kommenialistiese of parasitiese verhoudings in. Die organismes of simbionte in hierdie verhouding kan aan dieselfde of verskillende spesies hoort.
Skaaldiere of krustaseë is lede van die klas Crustacea. Voorbeelde sluit in: krappe, krewe, garnale en seepokke. Hulle word gekenmerk deur tweetakkige aanhangsels en kiewe. Meeste skaaldiere is seelewend, alhoewel daar ook varswaterspesies en selfs landlewende skaaldiere, soos die houtluis, voorkom. Skaaldiere se larwes verskil ook van ander geleedpotiges s’n. Meeste skaaldiere is vrylewend, maar sommige, soos die seepokke, is sessiel of sittend.
Skeermes-oesters (familie Pharidae) het lang, effe krom, reghoekige skulpe wat mens aan ‘n outydse skeerlem laat dink en kom in seesand voor.
Skeepswurms is van die vreemdste tweekleppiges wat hul wurmagtige lywe in hout of ander materiaal inboor met behulp van hul klein halfmaanvormige beitelagtige skulpe. Die skeepswurms gebruik die organiese verbindings wat die simbiotiese bakterieë in hul kiewe uit waterstofsulfied vervaardig. Die ensieme wat die bakterieë vervaardig word deur die skeepswurm gebruik om die houtweefsel in sy spysverteringskanaal te verteer. Skeepswurms voed ook op plankton wat hulle deur hul inlaatsifon saam met water insuig en met hul kiewe uitfiltreer. Sekere spesies bly in en voed op sandsteen (Shipway et al. 2019).
Skleriete is die kalkryke stekels wat op aplakofore se lywe voorkom wat vir voortbeweging gebruik word. Die skleriete wat solied of hol is, kom plat teen die vel in sekere spesies voor, kan regop soos borsels staan of kan binne die vel, reghoekig teenoor mekaar gerangskik wees om ‘n tipe skelet te vorm.
Skulp of dop is een van die opvallendste kenmerkende eienskappe van weekdiere. Die skulp bestaan uit kitien en kongiolien (‘n proteïen wat met kalsiumkarbonaat verhard is) en die periostrakum van kalsiet of kalksteen. Die buitenste deel van die skulp (dikwels gekleur), bestaan uit kitien, die middelste laag bestaan uit kolumnêre kalsiet en die binneste laag, bestaan uit lagies kalsiet. Sekere (maar die minderheid) weekdiere het sekondêr die dop verloor (dit bedoel dat hul voorouers doppe gehad het), terwyl ander soos die Aplacophora se liggame met kalkryke stekels eerder as ‘n kalkryke dop bedek is. Die vorm van die dop en die manier hoe die kalsietlagies van die dop neergelê is, word in weekdierklassifikasie gebruik. Die skulp word deur die mantelrand afgeskei.
Slagaar is ‘n bloedvat wat suurstofryke bloed van die hart na die liggaam pomp, maar kan ook na ‘n bloedvat verwys wat suurstofarme bloed van die hart na die longe of kiewe pomp.
Sluitspiere is die twee sterk spiere – die voorste en agterste sluitspier – wat die twee skulpe of kleppe van die tweekleppiges saamtrek om die skulpe dig teenmekaar te laat sluit om die weekdier teen roofdiere te beskerm of om uitdroging te voorkom. Wanneer die sluitspiere ontspan trek die ligament van die skarnier die twee skulpe oop. Dit gebeur wanneer die dier voed, suurstofryke water vir gaswisselingdoeleindes inneem, eiers of sperms vrystel of afvalstowwe uitskei. In sekere tweekleppiges is net een van die twee sluitspiere behou.
Slukderm of esofagus is die buis wat die farinks met die maag verbind.
Snoerwurms (filum Nemertea) is smal wurms wat op die seevloer bly. Snoerwurms het ‘n proboskis wat bo die mond uitstulp om hul prooi met gif te verlam. Hulle wissel van ‘n paar millimeter lank tot omtrent 1 m lank. Die meerderheid is ongeveer 20 cm lank en ‘n paar millimeter breed.
Solenogaster is ‘n lid van die klas Solenogastres wat onder die Aplakofore val. Hierdie wurmagtige molluske leef op die seevloer waar hulle op detritus voed. Hulle het geen dop nie maar eerder stekels op die vel.
Spongivories verwys na die vermoë om sponse te eet.
Sponse behoort aan die Filum Porifera. Sponse is die primitiefste diere wat bestaan en hulle was die eerste diere wat in die Ediacarium verskyn. Hulle is meersellig maar hulle liggame bevat geen weefsel nie en bestaan uit massas saamgepakte selle. Daar is porieë en kanale wat deur die liggaam strek waardeur water met kospartikels en klein organismes vloei waarop die spons voed.
Springety vind plaas wanneer die Son en die Maan saam in die ruimte ten opsigte van die Aarde lê, wat tydens Nuwemaan gebeur, maar dit gebeur ook wanneer die Son en die Maan teenoor mekaar ten opsigte van die Aarde lê, wat tydens Volmaan gebeur. Die gesamentlike aantrekkingskrag van hierdie twee hemelliggame veroorsaak dat die seevlak elke 14.5 dae tot op die hoogste punt styg en 6 ure later tot op die laagste punt daal. Die proses word gedurende die volgende 12 ure weer herhaal. Tydens spring-hooggety wat twee keer per maand plaasvind, word die Littoria Sone vir ‘n paar uur twee keer per dag met water bedek en tydens spring-laaggety word die Cochlear-Argenvillei-Sone (en natuurlik die Balanoïed Sones bo dit) aan die Suid- en Weskus van Suid-Afrika twee keer per dag ontbloot (sien ook – Hooggety, Laaggety en Dooigety).
Statosist is ‘n orgaan wat in ongewerweldes voorkom wat swaartekrag gaan waarneem. In sekere weekdiere kom dit in die voet voor.
Stilus is ‘n langwerpige struktuur agter in die maag wat in ‘n stilussak in meeste weekdiere voorkom. Die vorm en funksie van die stilus verskil tussen weekdiergroepe afhangende van hul lewenswyse en voedingsmetodes. Die stilus is smal en langwerpig en dien as spindel waarop slym uit die voorste deel van die spysverteringskanaal opgerol word. Die rol-beweging van die stilus word deur die beweging van trilhaartjies veroorsaak. Die stilussak is langs die maagskild wat in meeste weekdiergroepe voorkom geleë. Die rolbeweging van die stilus veroorsaak dat die kosdeeltjies, wat in die slym vasgevang is, teen die maagskild fyngemaal word. In sekere weekdiere soos van die tweekleppiges is die stilus merkbaar verhard en word ‘n kristallyne stilus genoem.
Strandmeer of estuarium is ‘n meer langs die kus waarin ‘n rivier of riviere uitmond maar wat op tye ‘n verbinding na die see het. Strandmere het gewoonlik brakwater, of op tye brakwater, hang af of die verbinding met die see toegespoel het, of die vlak van die water in die strandmeer te laag is om oor die sandbank tussen die strandmeer en die see te spoel.
Streptoneurale senuweestelsel is die toestand wat tydens torsie plaasvind wanneer die twee viserale senuwees, wat oorspronklik parallel aan mekaar is (die euthyneurale toestand), oormekaar gebuig word wat veroorsaak dat die viserale senuwees in ‘n figuur 8 buig wat veroorsaak dat die pariëtale ganglions op verskillende hoogtes in die liggaam beland.
Subgetysone is die deel van die kusgebied onder die intergetysone wat altyd onder water is.
Substraatvoeding vind plaas wanneer ‘n dier grond, sand of modder inneem en op die voedingstowwe, wat daarin voorkom, voed.
Suigwurms of botte is endoparasiete wat aan die klas Trematoda van die filum Platyhelmithes behoort. Suigwurms parasiteer weekdiere en werweldiere deur middel van verskillende lewenstadiums. Die mirasidium dring weekdiere, gewoonlik ‘n slak binne waar dit mettertyd in ‘n sporosist verander, wat honderdduisende serkarieë vervaardig. Die serkarie dring die werweldier binne en verander in ‘n schistosomuul wat later in ‘n volwasse bot verander. Die suigwurm gebruik die slak as tussengasheer vir ongeslagtelike voorplanting en die werweldier as eindgasheer vir die geslagtelike voortplanting. Suigwurms sluit long-, lewer- en bloedbotte in.
Supragetysone is die deel van die kuslyn wat net bo die intergetysone voorkom en dus bykans nooit onder water is nie.
Suspensievoeder is ‘n dier wat voedseldeeltjies of klein organismes wat in water dryf vang om te eet. Daar is verskeie meganismes wat deur verskillende diere aangewend word om hierdie voedsel te vang wat wissel van sifons wat water met die voedsel insuig, mukusbedekte kiewe om dit mee vas te vang, spesiaal aangepaste borselagtige tentakels tot die tentakels van lofofoor voedingsapparate.
Takson is ‘n informele groepering van organismes wat verwant aan mekaar is. Dit het nie ‘n spesifieke status nie en word gebruik wanneer daar nog nie op ‘n taksonomiese status van ‘n groepering besluit is nie of wanneer die bioloog bloot na die verwantskap tussen organismes wil verwys eerder as na die klassifikasie van die organismes.
Tandskulpe (klas Scaphopoda) is bodembewonende organismes wat op foraminifere en ander ongewerweldes in die modder met behulp van miniatuur tentakeltjies – die kaptakula – voed. Die lang, smal liggaam is in ‘n buisvormige skulp, wat aan beide kante oop is, omhul. Die kop- en voetgedeeltes van die liggaam is in die modder begrawe terwyl die agterste deel van die skulp bo die modder uitsteek. Daar is sowat 500 spesies tandskulpe bekend.
Tentakel of arm is ‘n lang sensoriese aanhangsel wat op die kop van talle ongewerweldes voorkom. In sekere gevalle kan dit ook vir beweging en vir die hantering van kos gebruik word soos in die geval van koppotiges en word dit dikwels ‘n arm genoem.
Testes is die manlike gonade wat sperms vervaardig.
Tetraneurale uitleg van die senuweestelsel kom in die primitiewe weekdiere soos die Aplacophora, Monoplacophora en Polyplacophora voor. Dit is die uitleg waar vier hoofsenuwees (die gepaarde ventrale (onderste) en laterale (sy) senuwees) van die gepaarde serebrale ganglions na agter deur die weekdier se liggaam loop. Dit is die oorspronklike uitleg van die senuweestelsel wat mens steeds in weekdierembrios en in primitiewe weekdiere soos Aplacophora, Monoplacophora en Polyplacophora kan sien.
Tiflosool is ‘n trilhaar-bedekte rif wat binne tweekleppiges se derm voorkom. Die tiflosool vergroot die binneste oppervlakte wat die absorpsie van voedingstowwe bevorder.
Tiriese pers is die purper-blou tot rooipers kleurstof wat vir duisende jare gebruik was om klere te kleur. Dit was egter so skaars en gesog dat dit geweldig duur was en net die rykstes of hooggeplaasdes kon dit bekostig. Die kleurstof kom uit die slymafskeiding van die hipobrangiale kliere van sekere predatoriese seeslakke soos Hexaplex trunculus en Murex brandaris van die familie Muricidae.
Tjokka (Loligo reynaudii) is ‘n 20-30 cm lange pylinkvis wat aan die familie Loliginidae hoort. Dit kom in Suid-Afrikaanse seewaters voor en word gevang. Dit is die bron van meeste van die kalamari wat in Suid-Afrika geëet word.
Trias Periode (251,9 – 201,3 Mjg) was ‘n geologiese tydperk in die Mesosoïkum. In hierdie tydperk diversifiseer die archosauriërs wat in die Perm ontstaan het. Primitiewe archosauriërs, die thekodontiërs, vervang die karnivoriese sinapsiede as top-predatore op land en gee later oorsprong aan die krokodille en dinosauriërs wat belangrike nisse op land oorneem en aan pterosourërs wat die lug oorheers. Ander reptielgroepe wat in hierdie tydperk ontstaan en diversifiseer, is die igtiosauriërs en nothosauriërs wat die top-predatore in die see word. Ammoniete kom in al die oseane voor. Moderne korale, teleost visse en meeste insekordes verskyn ook in hierdie tydperk. Aan die einde van hierdie tydperk begin Pangea om op te breek. Die ekologiese ontwrigting wat met die massa-uitsterwing aan die einde van die Trias plaasgevind het, het veroorsaak dat talle spesies verdwyn wat die weg vir die dinosauriërs gebaan het en hulle die geleentheid gegee het om nog groter en meer gediversifiseerd te word. Die naam Trias is afgelei van die feit dat hierdie geologiese stratigrafiese eenheid in drie duidelike lae in Europa verteenwoordig word – rooi rotslae onder, mariene kalksteen in die middel en ‘n laag van modder en sandsteenlae bo dit.
Trilhaartjie of silium is klein membraanomhulde haaragtige uitsteekseltjie wat op die buitenste membraan van meeste eukariotiese selle voorkom. Sekere tipes siliums beweeg en word gebruik om ‘n stroom in die water of mukus, wat langs die sel voorkom, te vorm. Dit word gebruik om water, geslagselle en uitwerpsels in en uit die weekdier te pomp en dus word dit vir voeding, voortplanting en respirasie gebruik deurdat dit vir die beweging van kos en mis deur die dermkanaal, die beweging van eiers en sperms deur die geslagsbuise en die beweging en uitwerping van uriene in die nierbuise verantwoordelik is.
Trogofoor larwe is ‘n tipe vryswemmende larwe met rye trilhaartjies wat in die see voorkom. Dit was al vir honderde jare as ‘n vrylewende diertjie in plankton waargeneem en eers toe dierkundiges dit in mariene akwariums begin aanhou en hul ontwikkeling bestudeer het, is daar ontdek dat hulle nie volwasse organismes is nie maar die larwale stadiums van weekdiere, gesegmenteerde wurms en verwante ander ongewerweldes wat aan die Lophotrochozoa hoort.
Tussengasheer is ʼn gasheer wat ʼn parasiet huisves voor dit na die eindgasheer oorgedra word. In baie gevalle voltooi die parasiet sekere lewensstadiums binne die tussengasheer voor dit na die gasheer oorgedra word en waar die parasiet se ontwikkeling voltooi word. Tipies is die gasheer die dier waarbinne die parasiet geslagtelik voortplant en die tussengasheer is die dier waarbinne ongeslagtelike voortplanting plaasvind. Tussengashere sluit talle geleedpotiges, weekdiere en werweldiere in. Tussengashere is dikwels ook die vektor van die parasiet.
Tweedelarwe is die tweede lewensstadium van invertebrate. Hierdie is die lewenstadium wat op die eerstelarwe volg. Die tweedelarwe sal uiteindelik groot, swaar en dik word en uit sy vel bars om aan die derdelarwe oorsprong te gee.
Tweekleppiges (klas Bivalvia) het twee skulpe, geen kop en meestal nie ‘n radula nie. Voorbeelde van die meer as 20 000 spesies sluit oesters, kokkels, kamoesters en mossels in. Tweekleppiges het twee skulpe of kleppe wat in meeste spesies die liggaam heeltemal bedek, terwyl die skeepswurms hulle gereduseerde kleppies as grawe gebruik om ‘n tonnel vir die wurmagtige lyf in hout in te grawe. Tweekleppiges kom hoofsaaklik in mariene omgewings voor, maar daar is ook varswaterlewende spesies. Hulle het afgeplatte liggame wat weerskante deur skulpe (ook kleppe genoem) bedek is. Die tweekleppiges is filtervoeders en hul skulpe is met ‘n skanier van buigbare bindweefsel aanmekaar gekoppel sodat dit oop en toe gemaak kan word om hulle in staat te stel om te voed. Die kiewe word vir respirasie maar ook as ‘n sif vir voeding gebruik. Meeste tweekleppiges sement hulself aan ‘n substraat vas, of begrawe hulself in die sand, of wig hul voet in die substraat in, maar daar is sommiges wat deur die water kan beweeg en sommige wat selfs kan swem. Die Klas Bivalvia is die tweede grootste taksonomiese groep van die Filum Mollusca naas die Klas Gastropoda.
Tweeslagtig of hermafrodities is wanneer ‘n organisme beide manlike en vroulike geslagsorgane besit. Voorbeelde hiervan kom onder andere onder weekdiere, gesegmenteerde wurms en platwurms voor.
Uitskeiding of ekskresie is die proses waardeur afvalstowwe uit die liggaam verwyder word. Dit is nie dieselfde begrip as afskeiding of sekresie nie.
Uriene is ‘n waterige metaboliese afvalproduk wat deur die urienwegsgstelsel uitgeskei word. Uriene bevat o.a. water, urea (afvalproduk van die afbraak van proteïene), kreatinien (afvalproduk van spierwerking), urokroom en ammoniak.
Urienwegbloedbot (Schistosoma haematobium) is die bloedbot wat mense se urienwegstelsel, en spesifiek die blaas aanval. Die gekoppelde volwassenes van hierdie spesie beweeg binne bloedvate van die lewer tot by blaas waar die wyfie uit die mannetjie se ginekofoorkanaal kruip om in die klein bloedvate waarin sy kan pas, om so naby as moontlik aan die blaaswand te kom, waar sy haar duisende eiers dan lê.
Varswater verwys na enige natuurlike liggaam van bevrore of vloeibare water wat lae konsentrasies opgeloste soute bevat. Dit sluit seewater en brakwater uit.
Varswaterhabitatte sluit moerasse, riviere, mere, vleie en klam habitatte op land in.
Varswaterlewend of akwaties verwys na ‘n organisme wat in ‘n varswaterhabitat woon.
Veliger larwe is die planktoniese larwe wat in verskillende tipes waterlewende slakke, tweekleppiges en tandskulpe voorkom. Die trogofoor larwe gee oorsprong aan die veliger larwe. Die veliger larwe het ‘n velum met trilhare waarmee dit swem en kos insamel en ‘n skulp wat die binnegoed omhul.
Veneuse sinusse is die oop ruimtes tussen die weefsel van die kop en die voet van weekdiere waar die suurstofarm bloed vanuit die weefsel heen dreineer om na die nefridium te vloei om van hier deur are na die kief of long gestuur word.
Ventrikel is die hartkamer wat bloed van die are, wat die liggaam van suurstofarm bloed dreineer, ontvang en dit na die suurstofverskaffende organe (kiewe of longe) pomp. Die ventrikel (enkel in meeste diere) ontvang om die beurt suurstofryke bloed van die longe of kiewe en pomp dit dan na die ligaam deur slagare en/of die hemoseel.
Versteen is die woord wat ons gebruik om die proses van fossielvorming te beskryf. Die organiese materiaal word oor duisende jare heeltemal of gedeeltelik deur minerale in die grondwater vervang totdat ‘n versteende weergawe van die oorspronklike oerorganisme se been of stomp of skulp oorbly.
Vetigastropoda is ‘n groot groep primitiewe seeslakke wat honderde miljoene jare gelede ontstaan het. Hulle kom wêreldwyd vanaf die intergetysone tot diepsee voor. Hierdie subklas van ongeveer 18 000 spesies sluit die tulbandskulpe (familie Trochidae), gathorings (familie Fissurellidae) en perlemoen (familie Haliotidae) in.
Voedselweb is die aaneengeskakelde voedselkettings wat in ‘n gebied voorkom. Dit bestaan gewoonlik uit plante, plantvreters, roofdiere en aasvreters.
Voet – die spieragtige voet is een van die kenmerkende eienskappe van weekdiere en word deur meeste weekdiere gebruik om hulself aan oppervlaktes vas te heg, om mee rond te beweeg en om mee te grawe. In koppotiges het dit tot tentakels omvorm.
Vrylewend verwys na ‘n dier wat nie binne ‘n ander organisme leef nie en wat ook nie sessiel (sittend) is nie. Sekere diere soos die korsmossel en die rooi-aas, het ‘n vrylewende larwe, maar ‘n sessiele volwassene.
Waterkolom is ‘n term wat in oseanografiese studies gebruik word om die fisiese eienskappe (temperatuur, soutgehalte en ligvlak) en chemiese eienskappe (pH, opgeloste suurstof en soute) wat sekere dieptes van seewater kenmerk, te beskryf. Sekere organismes kan slegs op sekere vlakke in die waterkolom voorkom.
Weekdier is die oorspronklike Afrikaanse woord vir mollusk (filum Mollusca). Weekdiere besit ‘n seloom en word dus as Euselomate geklassifiseer. Die weekdiere is die grootste dierfilum naas die geleedpotiges en daar is reeds ongeveer 85 000 ekstante spesies bekend, terwyl daar ongeveer dieselfde hoeveelheid in die fossielrekord voorkom. Daar is egter talle ekstante spesies wat nog nie beskryf is nie. Weekdiere kom hoofsaaklik in mariene omgewings voor maar daar is talle spesies wat aangepas het om in varswater en terrestriële habitatte te oorleef. Die ekstante weekdiere word in 8 klasse opgedeel: slakke (Gastropoda), tweekleppiges (Bivalvia), kewerslakke (Polyplacophora), koppotiges (Cephalopoda), tandskulpe (Scaphopoda), primitiewe Monoplacophora wat op die seevloer leef en die doplose, wurmagtige Aplacophora. Daar is ook drie uitgestorwe klasse wat ons uit die fossielrekord ken. Die weekdiere het in die Kambriese Periode verskyn.
Werweldiere of vertebrate hoort aan die Subfilum Vertebrata van die Filum Chordata. Meeste van hierdie diere het werwels, Die kaaklose visse of Agnatha (lampreie en slympalings) en die rotvisse van die subklas Holocephali van die klas Chondrichthyes het nie werwels nie, maar ‘n notochoord wat die liggaam ondersteun. Hulle het egter kraakbeenelemente in die kop en kiewe wat as skelette beskou word. Die Vertebrata bevat die kaaklose visse, kraakbeenvisse, beenvisse, amfibieërs, reptiele (insluitende die voëls) en soogdiere. Daar is na beraming meer as 66 000 werweldierspesies, maar as mens dit met die ongeveer 1.5 miljoen bekende spesies ongewerweldes vergelyk, en in gedagte hou dat daar tussen 6-10 miljoen, tot dusver onontdekte insekspesies, mag wees, moet mens erken dat ons eintlik maar net van diere moet praat. Trouens, daar is meer slakspesies as werweldierspesies op Aarde.
Wortelbedding in hierdie stuk verwys na die ineengestrengelde wortels van ‘n manglietwoud. Grond en slik en blaarmolm word daarop neergelê. Dit is so dig inmekaargestrengel dat mens bo-oor dit kan stap.
Xylofories verwys na die vreet van hout. Inderwaarheid is dit verottende hout en die gepaardgaande mikrobiese biofilm wat deur die dier gevreet word.
Ysplate is die ys wat rondom Antarktika en Groenland voorkom wat vanaf die landmassa tot oor die see strek. Die stukke ys wat rondom die rand van die ysplate afbreek vorm ysberge.
