Mense en weekdiere
Vanaf die oertyd het weekdiere ‘n belangrike rol in mense se lewens gespeel. Van die oudste lede van Homo sapiens wat langs die kus geleef het, het op plekke soos Blombos, Klasiesrivier en Stilbaai weekdiere van die rotse versamel en geëet. Skulphope van meters diep het as kombuisafval oor duisende jare by hierdie plekke opgebou.

Wêreldwyd word weekdiere vanaf mossels, kokkels en oesters, tot tuinslakke en seeslakke soos tolskulpe, wulke, alikreukels en perlemoer, tot tjokka en seekatte deur mense geëet. Die Romeine het reeds twee duisend jaar gelede mossels, wat ‘n geliefkoosde gereg in daardie tyd was, in poele langs die see geteel. Wêreldwyd is daar tans oester-, mossel- en perlemoerplase waar hierdie weekdiere vir menslike gebruik geteel word.
Die perlemoersmokkelhandel is ‘n miljard Rand per jaar besigheid in Suid-Afrika. Stropers, wat bande met dwelmsmokkelnetwerke het, stroop perlemoer van die rotse rondom die Kaapse kus vir Chinese sindikate wat dit oorsee as fynproewerskos verkoop en hulle met bestanddele, om tik te vervaardig, betaal. Ondanks die feit dat perlemoer wettiglik vir die uitvoerbedryf in perlemoerplase geteel word, word die aanvraag vir perlemoer net al hoe groter.
Weekdiere as habitat
Weekdierskulpe word deur kluisenaarskrappe as wonings gebruik. Kluisenaarskrappe is eintlik nie krappe nie maar eerder aan krewe en garnale verwant. Net soos krewe en garnale het hulle verlengde agterlywe, maar in hulle geval is dit weerloos en sag en word dit deur die slakdop beskerm. Elke keer wat ‘n kluisenaarkrap groei en vervel, moet hulle ‘n nuwe dop wat groot genoeg is bekom, maar dikwels is daar ‘n probleem met vraag en aanbod. Dit gee ‘n redelike gestoei onder hierdie krappe wat ‘n nuwe huis soek af. Dit werk gewoonlik die beste as krappie B, wat net kleiner as krappie A is, geduldig wag vir A om ‘n groter verlate dop te vind en sy ou dop verlaat en agteruit in sy nuwe huis te klim. Krappie B gryp dan krappie A se dop en verlaat syne om in die nuwe dop te klim. Krappie C, wat net kleiner as B is, kan dan om die beurt Krappie B se dop gryp en syne verlaat, wat dan na selfs kleiner Krappie D gaan…
Mens kan ook sekere varswaterslakkies as die tuiste van die larwes van die bilharziaparasiet Schistosoma mansoni (die derm bilharziaparasiet), S. haematobium (die blaas en urienweg bilharziaparasiet) en S. mattheei wat normaalweg bokke en beeste parasiteer, beskou (sien ook die afdeling oor weekdiere en siektes hieronder).

Die VOC het in die 17de Eeu besluit om die fort met die Kasteel de Goede Hoop aan die Kaap te vervang om die verversingspos en skeepsroete om die Kaap teen Frankryk en Engeland te beskerm. Ons noem dit maar net ‘n kasteel seker omdat dit die grootste geboude struktuur toentertyd aan die Kaap was, maar die kasteel is eintlik ‘n tipiese bastion fort wat in daardie tyd die beste millitêre fort-ontwerp was. Die kwesbare kantmure kon met voorlaaier- en kanonvuur van die bastions beskerm word.
Al het die oorspronklike fort vier bastions gehad, moes die houtmure met klipmure vervang word en daarvoor het hulle sement nodig gehad. Die sement was plaaslik van ‘n mengsel van kalk en sand gemaak. Die kalk het van onder andere ‘n kalkmyn op Robben Eiland gekom, maar ook van die skulpe van die strandduine rondom die Kasteel. Dan Sleigh vertel in sy boek Eilande hoe die duinsand gesif was om die skulpe wat oor duisende jare daarin opgebou het, te versamel.

Hierdie skulpe was in oonde gebrand en tot kalkpoeier fyngestamp. Oorspronklik het die see met hoogwater teen die Katzenellenbogen bastion gebreek. Die vernietiging van die plante wat die duine stabiliseer met hierdie skulpmynery het egter veroorsaak dat die duinsand mettertyd in die hawe ingespoel het, en is die rede hoekom die Kasteel daarna honderde meter van die see was en die woude van Houtbaai, waarvan die hout onder andere vir die oonde gebruik was, nie meer bestaan nie. Kalk wat deur bannelinge op Robbeneiland gemyn was, was ook in kalkoonde op Robben Eiland gebrand en verpoeier.
Die versteende doppe van landslakke vorm ‘n groot deel van die kalklaag wat Robben Eiland bedek. As mens die sement in die ouer dele van die Kasteel ondersoek, sal mens stukkies dop van skulpe daarin sien.
Weekdiere as versiering
Weekdiere word egter vanaf die oertyd as versierings gebruik. Die oudste bewys van skulpe wat as krale gebruik is, was in Blombos naby Stilbaai in die Wes Kaap ontdek. Blombos was ongeveer 80 000 jaar gelede deur oermense bewoon wat ook vir ons die Stilbaai Steenwerktuigkultuur gegee het.
Wêreldwyd word skulpe vir versiering gebruik en in plekke soos die Solomon Eilande word krale uit skulpfragmente gemaak deur dit rond te skuur en gaatjies daarin te boor. Stringe van hierdie krale was vir eeue, selfs milennia, en tot vandag nog, as ruilmiddel gebruik.

Dan is daar natuurlik pêrels. Pêrels word weens die indringing van ‘n irritant soos ‘n sandkorrel tussen die mantel en die skulp van sekere tweekleppiges gevorm. Die mantel skei lagies kalsiumkarbonaat af wat die irritant in lagies bedek totdat dit in die geval van pêreloesters ‘n balletjie vorm wat ons ‘n pêrel noem. Die irisiderende stof waaruit die pêrel bestaan is dus dieselfde as wat die binnekant van talle skulpe bedek. Die rede hoekom die binnekant van sommige skulpe en pêrels hierdie reënboogkleure vertoon is omdat die lig deur die lagies kalsiumkarbonaat opgebreek word. Pêrels is natuurlik skaars en is dus baie kosbaar. Vir duisende jare was pêrels gesogte items en was vir versierings, juweliersware en statussimbole soos krone gebruik.

Kleurstof uit slakslym
Vir duisende jare was ‘n purper-blou tot rooipers kleurstof, bekend as Tiriese pers, uit die slymafskeiding van die hipobrangiale kliere van sekere predatoriese seeslakke soos Hexaplex trunculus en Murex brandaris van die familie Muricidae in lande rondom die ooste van die Middelandse See vervaardig. Verskillende kleure vanaf dieprooi, tot pers tot donkerblou word van die slymafskeidings van verskillende spesies van hierdie familie vervaardig.

Tiriese pers was reeds 1570 vC deur Fenisiërs (die Filistyne van die Bybel) vervaardig. Trouens, die naam Fenisiërs was ‘n Griekse naam wat na die bekendste uitvoerproduk van hierdie seevarende handelaars van die Levant, naamlik Tiriese pers, verwys het. Die kleurstof was nog altyd ontsettend duur omdat die proses so arbeidsintensief is en omdat duisende slakkies vir een groot kledingstuk soos ‘n mantel nodig was.

Die kledingstukke wat daarmee gekleur was kon dus slegs deur die rykste mense in die samelewing, soos keisers, konings, belangrike staatsmanne, generaals, geloofsleiers en ryk handelaars, bekostig word. Julius Caesar word byvoorbeeld in ‘n pers mantel uitgebeeld, terwyl hooggeplaastes wit togas met ‘n pers streep op dra. Dit was ook duidelik nog die geval eeue later in die tyd van Keiser Justinianus.
Een van die eienaardige eienskappe van die kleurstof is dat dit nie vinnig verbleik nie, maar eerder in kleur verdiep wanneer dit aan sonlig blootgestel word.
Weekdiere as ruilmiddel
Skulpe van slakke was in talle gemeenskappe in Asië, Australië, Afrika, Amerikas, en die eilande in die Stille Oseaan en Indiese Oseaan oor duisende jare as geld gebruik. Hierdie skulpe is dikwels ook as versiersels gedra, en in sommige gevalle is dit verwerk om byvoorbeeld krale te maak wat ook as waardevol deur daardie gemeenskappe beskou is, en dus as ruilmiddel gebruik kon word.

Die skulp wat vir die langste en mees wydverspreid vanaf lande rondom die Stille Oseaan en Indiese Oseaan gebruik is, is die geldkaurie Monetaria moneta. Hierdie heldergeel kaurie, wat mettertyd tot roomkleurig verblyk, kom in die Indiese Oseaan voor en is van die Afrika Ooskus vanaf Ras Hafun tot in Mosambiek en die Malabar kus van Indië en eilande soos Sri Lanka, Borneo en ander Oos Indiese eilande versamel. Dit kom terloops ook langs ons ooskus voor. Die geldkaurie was wydverspreid in die handelsnetwerke van Afrika, Suid-Asië en Oos-Asië en was tot in die middel van die 19de eeu gebruik. Die gebruik van geldkouries was so belangrik in China dat die piktogram wat hulle vir geld of handel gebruik, die teken vir kourie貝 is. Alhoewel skulpe deur geld vervang is, word skulpkrale vandag nog in die Solomon Eilande as baie waardevol beskou en word steeds gebruik om onder andere bruidskatte te betaal.
https://www.ancient-origins.net/history-ancient-traditions/shell-money-0011793

Weekdiere as peste
Aangesien meeste weekdiere plantvreters is, sal hulle uiteraard in konflk met mense wat gewasse verbou leef, net soos wat jakkalse lammers vang. Wat mens natuurlik in gedagte moet hou is dat die slak daar voor die landbouer was. Slakke sal, soos ander diere nie normaalweg peste word nie, omdat die ekologie normaalweg in balans sal wees – buiten wanneer die mens dit versteur. Slakke versprei ook dikwels saam met plante wat mense van een land na die ander uitvoer, wat dan ernstige ekologiese probleme kan veroorsaak wanneer daar nie natuurlike vyande is wat hulle getalle onder beheer kan hou nie en hulle dan pesspesies word. So ‘n pesspesie is die Reuse Afrikaslak Lissachatina fulica wat na die VSA as troeteldier ingevoer is en daarna na die Karibbiese Eilande en Hawaii waarskynlik onwetend uitgevoer is. Die Reuse Afrikaslak vreet ongeveer 500 tipes plante en is tussengasheer van die rotlongwurm wat mense kan parasiteer. Dit word as een van die 100 ergste pesspesies in die wêreld beskou en is ‘n erge landbouplaag in Florida, die Karibbiese Eilande en Hawaii.

Weekdiere as kwesbare groep
Varswater en landslakke blyk egter baie kwesbaar te wees en talle spesies word wêreldwyd deur uitsterwing bedreig. Die IUCN Rooidata lys van Bedreigde Spesies het ongeveer 2 000 varswater en landslakke geïdentifiseer wat bedreig word, terwyl slegs 41 seelewende spesies op die lys verskyn. Weekdiere verteenwoordig ongeveer 42% van uitsterwings wat vanaf die jaar 1500 opgeteken is (Lydeard et al., 2004).
Weens hulle sessiele aard en hul fisiologiese sensitiwiteit ten opsige van besoedeling word tweekleppiges as bio-indikators in die monitering van die gesondheid van varswater en seewateromgewings gebruik. Hierdie studies kyk na die struktuur, fisiologie en gedrag van tweekleppiges as aanduiding om die ekologiese toestande van die studiearea te bepaal.
Slakke en siektes

Daar is egter ook ‘n donker kant aan weekdiere. Varswaterslakkies in tropiese en subtropiese gebiede word deur parasitiese suigwurms soos bloedbotte en lewerbotte as tussengashere gebruik. Bilharzia, wat veroorsaak word deur bloedbotte is, naas malaria, die grootste parasitiese siekte ter wêreld. Ongeveer 240 miljoen mense wêreldwyd word deur bloedbotte besmet. Ongeveer 50 miljoen mense wêreldwyd, is tans deur lewerbotte besmet.
Daar is 13 bekende bloedbotspesies in Afrika waarvan drie menspatogene in Suid-Afrika voorkom: Schistosoma mansoni (die derm bilharziaparasiet), S. haematobium (die blaas en urienweg bilharziaparasiet) en S. mattheei wat normaalweg bokke en beeste parasiteer, maar wat ook soms mense kan besmet.

‘n Besmette soogdier stel bloedboteiers deur sy ontlasting of uriene vry. Bloedbotlarwes, of mirasidiums, broei uit wanneer die eiers in water beland en besmet talle varswaterslak-spesies wat in verskillende tropiese en subtropiese gebiede wêreldwyd voorkom. Die blaasbloedbot (S. haematobium) sal in Suid-Afrika slakkies van die genus Physopsis parasiteer, terwyl die dermbloedbot (S. mansoni), Bomphalaria slakkies uitsoek.
Die mirasidium, wat met ‘n dik siliumlaag bedek is, swem aktief rond op soek na die regte slak om te parasiteer. Die mirasidium moet binne 24 en 48 uur ‘n gasheer vind anders raak sy energie op en sal dit vrek. Wanneer die mirasidium die geskikte tussengasheer vind, word gom by die voorste punt – die apikale papilla – afgeskei terwyl die apikale papilla binnetoe stulp om ‘n suier te vorm wat saam met die gom aan die gasheer se vel vassuig. Ensieme word dan rondom die aanhegtingspunt afgeskei, wat die gasheer se weefsel begin verteer en ‘n gat in die slak se vel vorm.
Die mirasidium dring die slak deur hierdie gat binne, beweeg na die sak se lewer en werp die siliumlaag af. Binne die sak se lewer verander die mirasidium in ‘n langwerpige sporosist. Die primêre sporosist verdeel in baie sekondêre sporosiste wat weer en weer verdeel om altesaam tot ‘n halfmiljoen serkarieë te vorm. Na ‘n maand bars die sporosist oop en stel die serkarieë vry. Die serkarieë verlaat die slak en swem in die water met behulp van hulle gevukte sterte rond op soek na ‘n soogdiergasheer wat hulle binne vier tot ses dae moet vind voor hulle vrek.
Die mirasidium dring die slak deur hierdie gat binne, beweeg na die slak se lewer en werp die siliumlaag af. Binne die slak se lewer verander die mirasidium in ‘n langwerpige primêre sporosist. Die primêre sporosist verdeel in baie sekondêre sporosiste wat weer en weer verdeel om altesaam tot ‘n halfmiljoen serkarieë te vorm. Na ‘n maand bars die sporosist oop en stel die serkarieë vry. Die serkarieë verlaat die slak en swem in die water met behulp van hulle gevurkte sterte rond op soek na ‘n soogdiergasheer wat hulle binne vier tot ses dae moet vind voor hulle vrek.

Op hierdie stadium van besmetting sal die gasheer se vel, na ongeveer 12 ure of dae, begin jeuk en ‘n uitslag ontwikkel. Die gejeuk en uitslag sal veel erger wees as die gasheer reeds ‘n allergiese sensitiwiteit teen die bloedbotte, weens ‘n vorige besmetting, opgebou het. Soms sal die gasheer 1-3 cm breë erg-jeukende galblase ontwikkel.
(Lees meer oor hierdie parasiete en nog talle ander in Die Menslike Dieretuin).

Die tropiese groen elsslakkie Allopeas clavulinum is wêreldwyd saam met plante versprei. Hulle dien as die tussengashere van die rotlongwurm Angiostrongylus cantonensis. Die larwes van hierdie parasitiese rondewurm ontwikkel in die slak tot die derdelarwestadium die slak verlaat en deur ‘n rot ingesluk word. Die rondewurm dring die longslagare van die rot binne. Eerstelarwes word in die rot se mis uitgeskei waarvandaan die slakkies dit inneem.
Mense kan deur hierdie parasitiese rondewurm besmet word wanneer hulle die slakkies of hul mis op groente en in water inkry. Die larwes word deur die bloedstroom na die sentrale senuweestelsel vervoer. Mense kan daarvan doodgaan of permanente breinskade en senuweeskade kry.
Skulpe in die fossielrekord
Aangesien skulpe maklik fossileer word skulpe in die fossielrekord vanaf die Kambriese Periode tot in afsettings wat maar ‘n paar duisend jaar gelede afgeset is, gevind. Aangesien weekdiere wêreldwyd voorkom en goeie omgewingsindikatore is, is dit verstaanbaar dat hulle volop in die fossielrekord sal voorkom.

Fossielskulpe is ook ‘n goeie aanduiding van wanneer sekere groepe ontstaan het en wanneer sekeres uitgesterf het. Aangesien spesies net vir ‘n beperkte tydperk leef en in ‘n sekere geografiese gebied voorkom, kan hulle gebruik word om gesteentes volgens ‘n chronologiese volgorde te rangskik met die oudste lae onder en die jongstes bo. Hierdie skakel vat jou na die Geologiese Tydskaal tabel waar jy vanaf die Kabrium Periode inskrywings van die mees algemene weekdierfossiele van die verskillende tydperke sal sien.

Vir ‘n meer onlangse weergawe van die fossielrekord, maar sonder prente, klik op hierdie skakel: https://wereldomons.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Geologiese-Tydskaal-tabel.pdf
Skulpversameling
Skulpe is ook een van die gewildste items om te versamel en daar is versamelaars wat groot versamelings van tiene duisende skulpe opgebou het. Alle natuurhistoriese museums het versamelings skulpe. Ongelukkig is daar, benewens enkele skulpe, nie ‘n weekdieruitstalling in die grootste natuurhistoriese museum, die Iziko/Suid-Afrikaanse Museum, in Kaapstad nie. Ten spyte daarvan dat dit die grootste skulpversameling in Suid-Afrika in sy stoorkamers het en dat dit die oudste museum in die land is.
Mens kan verstaan hoekom die Nasionale Museum in Bloemfontein nie ‘n weekdieruitstalling het nie, want dit is ver van die see af, maar dit is onbegryplik dat die Suid-Afrikaanse Museum en Port Elizabeth Museum, wat by die see geleë is, nie weekdieruitstallings het nie.
Die Ditsong Museum in Pretoria het 5 kaste waarin weekdiere uitgestal word. Vanaf die 1980’s het niks, buiten vir die ligte wat intussen geblaas het, verander nie. Toe ek hierdie elektroniese boek in 2023 saamgestel het, is ek deur die sekuriteitswag ingelig dat mens R500 moet betaal om jou kamera in die museum te gebruik. Ek het dus nie fotos van die Ditsong Museum se uitstalling hier ingesluit nie.

Jeffreysbaai het ‘n pragtige skulpmuseum met duisende skulpe wat in 1998 geopen is dit op weekdae en op Saterdae van 9:00 tot 14:00 oop is. Die Jeffreysbaai Skulpmuseum is rondom die versameling van Charlotte Kritzinger, wat lewenslank skulpe versamel het, gebou. Vrywilligers en museumpersoneel sorg dat hierdie uitstalling in ‘n welversorgde toestand verkeer en uitmuntend in goed-beligte kaste uitgestal word.
‘n Skulpkenner word ‘n konkoloog genoem. Daar is selfs ‘n konkologiese vereniging in Suid-Afrika: die Conchological Society of South Africa (https://www.scsa.co.za/) vir enigeen wat in weekdiere of skulpe belangstel en Engels verstaan.
Weekdiere en die Skoolkurrikulum
Dit is ‘n groot tragedie dat weekdiere nie meer in die skoolkurrikulum behandel word nie. Ses van die 31 dierfilums word in die skoolkurrikulum behandel – insluitende sponse. Alhoewel sponse geweldig belangrik is om die evolusie van meerselligheid vanuit eensellige voorouers te verstaan (wat terloops nie op die enkel bladsy in die handboeke, wat aan sponse afgestaan word, bespreek word nie), het weekdiere by verre ‘n groter impak as sponse op die mens se voedselsekerheid (vanaf peste in groentetuine tot voedsel), siektes (verskeie slakspesies is tussengashere van bilharzia en lewerbotte), ekonomies (al bogenoemde voorbeelde het ‘n reuse bydrae tot die wêreldekonomie, en dan is daar pêrels en skulpgeld wat tot vandag nog op plekke as ruilmiddel gebruik word), paleontologies (verskeie biosones in die fossielrekord word gekenmerk aan die weekdierspesies wat daarin voorkom) en dan natuurlik het hulle ‘n reuse bydrae tot die ekologie op see, varswater en land. Dit is dus onverstaanbaar hoekom weekdiere, wat naas insekte, die grootste diertakson op aarde is, uit die skoolkurrikulum verwyder is.
Maar dan, aan die ander kant word die hele diereryk in 20-30 bladsye van die skoolhandboeke in Graad 11 gedek. Dit is darem beter as die 6-10 bladsye in die skoolhandboeke wat die fungi dek. Die diversiteit van lewe vorm nie deel van die skoolkurrikulum buiten die Graad 11 sillabus nie.
Net vir diegene wat tot hier gelees het en nie weet hoekom ek hieroor so ontsteld is nie: Lewe op Aarde word in 6 koninkryke verdeel:
- Monera (bakterieë en archaea),
- Protista (eensellige eukariote),
- Chromista (bruinwier en verwante) – wat nie in die skoolkurrikulum gedek word nie,
- Swamme – wat 6-10 bladsye in skoolhandboeke beslaan, en in sommige handboeke as plante geklassifiseer word!
- Plante
- Diere waarvan slegs 6 uit die 31 filums gedek word
Slegs stukkies van die diversiteit van lewe op aarde word in maar net 50-60 bladsye in die Graad 11 skoolhandboeke gedek. Die apatie van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel is skokkend as mens besef dat miljoene Suid-Afrikaners werke in ekotoerisme, boerdery en natuurbewaring het en sodoende miljarde Rand in die land inbring. Lewenswetenskappe is dus relevant en belangrik. Dink net hoeveel meer sou ons kon regkry as meer mense nog meer van biologie geweet en verstaan het.
Dit is dus ironies dat tiene van duisende mense in die Suid-Afrikaanse seekosbedryf werk, miljoene mense op Suid-Afrikaanse strande vakansie hou, en daar ‘n miljard Rand per jaar perlemoersmokkelbedryf in Suid-Afrika is, terwyl meeste mense nog nooit van seepokke, tjokka of kokkels gehoor nie, of weet waar lewerbotte en bloedbotte vandaan kom nie, weekdiere nie in die skoolkurrikulum gedek word nie en 80% van die jeug, waarvan talle Lewenswetenskappe op skool gedoen het, werkloos is.
Is daar dalk ‘n korrelasie tussen die grootskaalse oningeligtheid van ‘n land se mense en die grootte van die korrupsie, misdadigheid, werkloosheid en verval van ‘n land?
Tans verloor ons wêreldwyd meer as 200 spesies per dag weens die mens se impak op die natuur en uit ervaring het ek agtergekom dat meeste mense nie verstaan as ek probeer verduidelik wat dit is wat ons verloor nie, want hulle het nie die verwysingsraamwerk of woordeskat om dit te verstaan nie.
Nou sien jy dalk ook die waarde van tuisonderrig in.
