Gastropoda – Die Buikpotiges

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Gastropoda – Die Buikpotiges

January 2, 2024 Weekdiere 0

Die buikpotiges of gastropode (klas Gastropoda) is, naas insekte, die grootste klas dierspesies op aarde en word deur ongeveer 85 000 spesies benaamde slakke en naakslakke verteenwoordig.  Die vermoede bestaan dat daar ongeveer 240 000 slakspesies is, waarvan meeste natuurlik nog nie ontdek is nie.  Buikpotiges is die volopste groep weekdiere en kom in die see, varswater en op land voor en maak ongeveer 80% van alle weekdiere op.

Oor honderde miljoene jare het daar talle gevalle van konvergerende evolusie binne die Gastropoda plaasgevind wat veroorsaak het dat taksonome in die verlede analoë kenmerke met homoloë kenmerke verwar het.   Met die koms van DNS-analises, kon die evolusionêre verwantskappe tussen taksa uitgerafel word en is die taksonomie van die Gastropoda drasties daarvolgens hersien (Bouchet & Rocroi, 2005; Bouchet et al., 2017).

Ontstaan en evolusie van buikpotiges

Die eerste buikpotiges was uitsluitlik seelewend en die oudste verteenwoordigers van hierdie groep word in seesedimente van die Laat Kambriese Periode aangetref (Yochelson & Nuelle, 1985).  Daar is nog nie uitsluitsel of ander weekdiere met buikpootagtige skulpe uit die Kambriese Periode soos Helcionella, Barskovia en Scenella gastropode is nie, of bloot verlangs aan gastropode verwant is nie.

Die belangrikste klasse van die buikpotiges kom eers in die Ordovisium Periode te voorskyn.  Oorspronklik was die buikpotiges nie die oorheersende weekdiergroep nie – daar was meer tweekleppige spesies in die Paleosoïkum as buikpotiges.  Meeste van die buikpotige taksons van die Paleosoïkum het reeds uitgesterf.  Teen die Karboon Periode verskyn talle van die ekstante liggaamsvorme wat ons in ekstante buikpotiges aantref, maar ten spyte van die ooreenkomste, is dit duidelik dat dit weens konvergerende evolusie ontstaan het en dat hierdie ooreenkomste oppervlakkig is en nie aandui dat daar werklike nabye verwantskappe is nie.  Die voorouers van die hedendaagse liggaamsvorme het in die Mesosoïkum Era ontstaan (Be’Norr & FnÍon, 1999).

Een van die oudste landlewende slakfossiele is Anthracopupa wat in die Karboon Periode van Europa se steenkoolafsettings ontdek is.

Die getalle en verskeidenheid van buikpotige skulpe het deur die geologiese tydperke algaande toegeneem en in die Mesosoïese Era was hulle volop in beide seewatersedimente en varswatersedimente verteenwoordig.  Teen die Kainosoïkum was buikpotige skulpe baie algemeen in die fossielrekord en talle van die ekstante taksa het toe ontstaan.  Die skulpe van die koppotiges kom baie met dié van die gastropode ooreen.

Buikpotiges het verskeie massa-uitsterwings oorleef, waarskynlik weens hul aanpasbaarheid wat in die verskeidenheid van vorms, gedrag, voedingswyses en metabolismes weerspieël word.  Buikpotiges kom in bykans elke see- en varswaterhabitat voor – mens vind hulle vanaf die oseane, seevloer, die diepste seetrôe, hidrotermale bronne, riviere, mere, moerasse tot riviermondings.  Dit is dan ook juis hierdie groep weekdiere waaruit lugasemende vorme ontstaan het wat landlewend geword het.

Diversiteit van buikpotiges

Die oudste buikpotige fossiele kom in Laat Kambriese Periode rotse voor.  Danksy hul doppe wat maklik versteen, word hulle goed in die fossielrekord verteenwoordig.  Daar is 245 uitgestorwe families uit die fossielrekord bekend en 476 ekstante families wat altesaam 721 families is.

Kenmerke

Buikpotiges, wat ook algemeen as slakke bekend staan, word gekenmerk aan ‘n dop of skulp wat in meeste spesies gedraai is.  Daar is egter naakslakke wat verkleinde of interne doppe het en daar is seenaakslakke (orde Nudibranchia) wat heeltemal hul doppe verloor het.  Klipmossels het lae koniese skulpe wat nie gedraai is nie.  Klipmossellarwes se doppe is gedraai maar soos hulle volwasse word, verander dit in die kenmerkende eenvoudige koniese doppievormige skulp.

Alle slakke se lywe is langwerpig en word in drie dele verdeel: die spiervoet, die binnegoed of viserale massa, bo die spiervoet wat meestal deur ‘n dop beskerm word, en die kop.  Buikpotiges het ‘n goed-ontwikkelde kop waarop sekere sintuie soos die twee oë op stele en twee kort tasters voor die oë voorkom.  Onder aan die kop kom die mond met die raspertong of radula voor.

Torsie

Torsie is ‘n unieke kenmerk wat slegs in buikpotiges voorkom.  Torsie is die proses waartydens sekere groepe se interne organe insluitend die hart, derm, kiewe, nefridiums, en senuweekoorde saam met die mantel en die skulp 180˚, linksom of anti-kloksgewys, ten opsigte van die voet tydens larwale ontwikkeling omdraai, sodat die mantelholte en die anus bokant die kop opeindig.  In uitsonderlike gevalle is daar slakke waarin kloksgewyse torsie voorkom.

Torsie kom in alle gastropoda tot ‘n mindere of meerdere mate plaas, maar in ‘n sekere groep slakke, naamlik die Opisthobranchia, vind ‘n sekondêre detorsie, dit wil sê ‘n terugdraai of gedeeltelike terugdraai na die oorspronklike posisie, na torsie in die larwale stadium, plaas.  Torsie is nie dieselfde as die spiraalwinding van die skulp wat in meeste buikpotiges voorkom nie, want torsie kom ook in gastropode soos naakslakke, wat hul doppe verloor het, of grotendeels verloor het voor, en torsie kom ook in klipmossels voor wat  ‘n bakkievormige skulp, in plaas van spiraalskulp het.

Torsie word in twee stappe tydens larwale ontwikkeling voltooi.  Die eerste stap word veroorsaak deur die assimetriese ontwikkeling van die voetspier waarvan die een punt aan die linkerkant van die dop vasgeheg is, terwyl die ander kant aan die linkerkant van die voet en kop vasgeheg is.  Op ‘n sekere tydstip tydens larwale ontwikkeling trek hierdie spier saam en veroorsaak dat die skulp binne ‘n paar minute tot ‘n paar uur, ongeveer 90° anti-kloksgewys draai.  Die tweede stap vind plaas weens die vinniger groei van weefsel aan die linkerkant van die slak in vergeleke met die regterkant wat die interne organe en mantel ‘n verdere 90° laat draai.  Detorsie vind plaas deur die omgekeerde of teenoorgestelde prosesse van bogenoemde stappe.

Voor torsie het die buikpotige ‘n euthyneurale senuweestelsel waar die twee viserale senuwees parallel aan mekaar deur die liggaam loop.  Torsie veroorsaak dat ‘n streptoneurale senuweestelsel vorm waar die viserale senuwees oor mekaar in ‘n figuur 8 buig wat veroorsaak dat die pariëtale ganglions op verskillende hoogtes in die liggaam beland.  Detorsie veroorsaak dat die senuweestelsel tot ‘n euthyneurale toestand terugkeer.

Tydens torsie is daar min veranderings in die verhouding van meeste interne organe ten opsigte van mekaar, terwyl sekere organe, soos die senuweestelsel, radikale veranderinge tydens ontwikkeling ondergaan.  Die verskil tussen die linker- en regterhelftes van die liggaam, veroorsaak dat organe in talle spesies asimmetries ontwikkel.  Dis nie heeltemal duidelik hoe torsie weekdiere bevoordeel nie.  Die omdraai van die organe veroorsaak dat die anus, wat eens agter die dier se liggaam geopen het, nou bo die mond geleë is en oor die mond en van die sintuie spoel.  Aan die ander kant is daar meer spesies buikpotiges as enige ander weekdiergroep.

Die ontstaan van die skulp was egter duidelik tot voordeel van slakke want die kwesbare organe word daardeur beskerm en tweedens kan meeste slakke hulself heeltemal met die dop bedek of hul liggaam daarin optrek.  Slakke met gedraaide doppe het ook dikwels ‘n operkulum wat hulle oor die opening kan sluit om uitdroging te verhoed en vyande uit te sluit.

Slakke het ook, waarskynlik weens die beperkte ruimte binne die dop, slegs een primitiewe nier of nefridium in vergeleke met ander weekdiere waar daar meestal twee voorkom.  Weens torsie is die ctenidiums of kiefkamme, die osfradieë (wat reuke waarneem), die hipobranchiese slymklier en die aurikel van die hart óf enkel óf groter ontwikkeld aan die een kant van die liggaam as aan die ander kant.  Die geslagsopening is aan dieselfde kant as die anus geleë.

‘n Sifon kom in meeste waterbewonende buikpotiges voor, veral in dié wat ‘n grawende lewenswyse het.  Dikwels kom daar ‘n sifonkanaal in die skulp voor waarin die sifon geleë is.  Die sifon stel die buikpotige in staat om water in hul mantelkanaal op te suig en die water oor die kief of kiewe te laat spoel.  Die sifon word ook gebruik om die water te “proe” wat hulle in staat stel om tussen kos of roofdiere te onderskei.  Sifondraende buikpotiges is gewoonlik roofdiere of aasvreters.

Voeding en die spysverteringstelsel

‘n Groot verskeidenheid voedingswyses kom onder buikpotiges voor en hulle wissel van karnivore, herbivore, aasdiere, detritus-voeders, suspensie-voeders en parasiete.  Hulle spysverteringstelsels is by elke spesie en lewensstadium se unieke voedingsbehoeftes aangepas.

Soos in meeste ander weekdierklasse kom daar ‘n radula of raspertong op die vloer van die buikpotiges se farinks, net agter die mondopening, voor.  Die radula is egter volgens die dieët en voedingswyse van die spesifieke spesie aangepas en wissel van die eenvoudigste radulas wat in klipmossels en perlemoer, wat alge op rotse vreet, voorkom, tot die gespesialiseerde radulas waarmee wulke deur die skulpe van hul prooi boor om op die sagte, weerlose weefsel van hul prooi te voed en die gifdraende harpoentande van die keëlslakke.

Die radula is met tande toegerus wat vanaf 16 tot duisende in verskillende spesies kan wissel.  Hierdie tande is so uniek in elke spesie dat dit dikwels vir klassifikasiedoeleindes aangewend word.  Hierdie tande kom in rye op die radula voor en verskil in meeste gevalle in vorm, afhangende van die posisie op die radula waar dit voorkom.  In sommige buikpotiges is daar 6 tande in ‘n ry, terwyl daar tot 750 mikroskopiese tande in ‘n ry op die radula van ander spesies kan voorkom.  Die tande van keëlslakke is omvorm in giftige harpoenagtige pyle waarmee hulle hul prooi steek.

Die farinks word deur middel van die dun buisagtige slukderm of esofagus met die groot krop verbind.  Weerskante van die krop kom twee lang speekselkliere voor wat hul inhoud deur pypies na die farinks oordra.  Die krop ledig in die sakvormige maag waarin die groot linker spysverteringsklier (ook bekend as die lewer) en opgekrulde regter spysverteringsklier verteringsensieme deur middel van buisies spysverteringsensieme na die maag oordra.  Ekstrasellulêre vertering vind met behulp van hierdie ensieme in die maag plaas.

Die maag van buikpotiges het gewoonlik ‘n sorteerarea wat met trilhaartjie-bedekte epiteel uitgevoer is, daar is ook gewoonlik ‘n sekum, maagskild en ‘n stilussak met ‘n protostilus of stilus in die maag.  Die protstilus van baie buikpotiges is sommer ‘n stuk onverteerde afval wat met slym gemeng is, in ander is daar ‘n gelatienagtige stilus en in ‘n paar soorte kom die stilus as ‘n verharde kristallyne struktuur voor.  Die kristallyne stilus kom algemeen in tweekleppiges voor, maar selde in buikpotiges.  Die stilus trek die string slym, waaraan voedseldeeltjies vasplak, uit die voorste deel van die spysverteringselsel in die maag in.  Die stilus draai in die stilussak in die rondte danksy die beweging van trilhaartjies.  Die maagskild bestaan uit keratien en dien as oppervlakte vir die slymbedekte stilus om teen te skuur om die voedseldeeltjies fisies verder af te breek.  Tiflosole skei van hierdie stukture van mekaar in die maag.  ‘n Paar soorte buikpotiges soos heterobrange besit nie ‘n stilus en stilussak nie.

Die sorteerarea van die maag sorteer die fynste kosdeeltjies na die lewerbuisies, sodat dit na die lewer kan gaan vir intrasellulêre vertering.  Die lewer is die grootste orgaan in die buikpotige se spysverteringstelsel.  Die lewer bestaan uit ‘n netwerk blind-eindigende buisies of divertikulums wat aan die buisies tussen die maag en lewer gekoppel is.

Die epiteel van die divertikulums bestaan hoofsaaklik uit verterings en basofiliese selle.  Die langwerpige verteringselle, wat ook die meerderheid van die selle in die divertikulum-wande uitmaak, is verantwoordelik vir intrasellulêre vertering.  Kosdeeltjies word deur die verteringsel se membraan in endositiese vesikels opgeneem wat met lisosome versmelt en so intrasellulêr verteer word.  Die onverteerde deeltjies word weer in die lumen van die divertikulums uitgeskei en terug na die maag vervoer (Lobo da Cunha, 2019).

Die groter, onverteerde kosdeeltjies word in die sorteerarea van die maag uitgesorteer en na die derm gestuur. Die derm of intestinum kronkel deur die skulp voor dit in die rektum oorgaan.  Die afvalstowwe beweeg van die derm na die rektum en word na buite deur die anus, wat langs die uitskeidingsopening waardeur vloeibare afvalstowwe afskei word geleë is, uitgeskei.

Gaswisseling

Gaswisseling vind deur middel van een of twee kiewe in waterslakke of ‘n long in landslakke plaas.  Die kiewe van waterlewende buikpotiges lyk baie soos dié van ander waterlewende weekdiere, terwyl die long van die landlewende orde Pulmonata uniek onder die weekdiere is.  Die long is inderwaarheid die mantelwand van die landslakke waarin afferente en efferente bloedvate voorkom.  .

In meeste gevalle vind gaswisseling deur middel van die hemosianien, ‘n koperbevattende molekule, plaas terwyl een groep waterlewende pulmonate, die familie Planorbidae, die bloedproteïen hemoglobien, wat yster bevat, vir gaswisseling aanwend.  Die seelewende naakslakke, die Nudibranchia, se kiewe, wat soos pluimvere lyk, kom op hul rue voor wat ook die inspirasie vir hul naam “naakkiewe” is.  Sekere klein naakslakspesies het egter hul kiewe verloor en gaswisseling vind deur hul velle plaas.

Gaswisseling vind deur middel van een of twee kiewe in waterlewende buikpotiges of ‘n long in landlewende buikpotiges plaas.  Die organe wat met hierdie drie verskillende wyses van gaswisseling gepaard gaan, word gebruik om die ontstaan en ontwikkeling van die drie verskillende hoofgroepe van die buikpotiges te verstaan.

Buikpotiges word op grond van morfologiese en genetiese bewyse in vyf of ses subklasse verdeel: die Caenogastropoda, Heterobranchia, Neritomorpha, Patellogastropoda en Vetigastropoda (Uribe et al., 2022).

Caenogastropoda is die grootste en ekologies mees diverse en wydverspreide subklas van die Gastropoda en sluit ‘n groot en diverse groep seeslakke, sekere varswaterslakke en selfs sekere landslakke in.  Die Caenogastropoda verteenwoordig die meerderheid buikpotiges (ongeveer 60%).  Torsie kom in die Caenogastropoda voor wat veroorsaak dat die kiewe vorentoe gerig is.  Hulle word ook verder gekenmerk deurdat daar slegs ‘n enkele aurikel in die hart en ‘n enkel paar kiefblaaie in die kief voorkom.

Heterobranchia bedoel “anderster kiewe” en die groep sluit seelewende, varswaterlewende en landlewende slakke en naakslakke in.  Die Heterobranchia word in die primitiewe heterobrange (voorheen bekend as die Prosobranchia) wat meestal twee kiewe het, Opisthobranchia wat een kief het en Pulmonata wat een long het, verdeel.  Die kiewe van die buikpoot-voorouer was agter in die liggaam geleë soos dié van die kewerslakke en soos wat mens dit nog steeds in die vroeë ontwikkelingstadiums van die buikpotiges kan sien.  Torsie veroorsaak dat interne organe 180° draai en dat die kiewe voor in die liggaam opeindig (sien afdeling oor torsie).

Die primitiewe heterobrange bevat seelewende en varswaterlewende slakke met doppe.  Die Opisthobranchia en die Pulmonata het vanuit een van die primitiewe heterobrange, wat een kief besit het, ontstaan.   Die Opistobranchia sluit hoofsaaklik seelewende slakke in, wat een kief besit en detorsie ondergaan het en alhoewel meeste doppe besit, is sommige doploos.

Die Pulmonata sluit varswaterlewende slakke, die meeste landlewende slakke en naakslakke, en ‘n klein groepie seeslakke in.  Die mantelholte van die pulmonate is aangepas om as long te dien.  Detorsie het ook in hierdie groep plaasgevind wat veroorsaak het dat die senuweestelsel simmetries gerangskik is en nie oormekaar gevou is nie.  Meeste pulmonate het nie ‘n operkulum nie en is hermafrodities.

Neritimorpha is ‘n subklas van ongeveer 2000 spesies wat ‘n wye verskeidenheid liggaamsvorme besit wat in die kleine die hele buikpotige liggaamsdiversiteit eggo – daar is dié wat soos slakke lyk, ander lyk weer soos klipmossels en daar is selfs ‘n naakslak-tipe onder hulle.  Hulle kom ook in seewater, varswater en op land voor.  Die landlewende Neritimorpha sluit die Helicinidae en die Hydrocenidae in.  Voorheen het hierdie groep as die Neritopsina bekend gestaan.

Die kenmerkende eienskap wat hierdie subklas van ander buikpotiges onderskei is dat die binneste wand van die protoconch (die oorspronklike embrionale skulp) geabsorbeer word en, in die spesies wat operkulums besit, die operkulum gekalsifiseer is.

Die ryk diversiteit van die Neritimorpha word in geologiese rekord vanaf die Ordovisium Periode aangetref.

Patellogastropoda

Die patellogastropode, wat allerweë as klipmossels bekend staan, het ‘n afgeplatte liggaam wat onder ‘n afgeplatte keëlvormige skulp voorkom.  Meeste van hierdie weekdiere kom op rotse in die see voor, waar hulle styf teen die rotse met hulle breë mukusbedekte voete vasklou, sodat hulle nie met strome en golfaksie van die rotse losgeskeur word nie en om uitdroging tydens laagwater te voorkom.  Dit is ook die manier hoe hul hulle lywe teen roofdiere beskerm.

Verskeie spesies maak ‘n voedingsspoor op die algbedekte rotse waar hulle die alge van die rots afgevreet het.  Elke dag beweeg hulle met die spoor langs, eet nuwe alggroeisels af, tot hulle by die endpunt van die voedingspoor kom en daar verder vreet en sodoende die voedingspoor uitbrei.  Talle van hulle is met alge bedek wat dit moeilik maak om hulle raak te sien of uit te ken.

Die tande op die klipmossel se radula bestaan uit van die hardste biologiese materiale bekend – en is 5 keer sterker as spinnekopsy wat sterker as staal is! Hierdie materiaal bestaan uit vesels van die ysterbevattende mineraal goethiet, wat in dik ineengeweefde bondels voorkom.

 Vetigastropoda is ‘n groot groep primitiewe seeslakke wat honderde miljoene jare gelede ontstaan het.  Hulle kom wêreldwyd vanaf die intergetysone tot diepsee voor.  Hierdie subklas van ongeveer 18 000 spesies sluit die tulbandskulpe (familie Trochidae), gathorings (familie Fissurellidae) en perlemoen (familie Haliotidae) in.

 

Die heterobrange blyk die mees primitiewe groep ekstante gastropode te wees.  Hulle het gepaarde kiewe en hul fynvertakte kiewe lyk en werk soos dié van ander weekdiergroepe.  Talle heterobrang-spesies besit skulpe met sekondêre openinge.  Van hul ander kenmerkende eienskappe is die primitiewe oorkruiste kristaltruktuur van hul skulpe (Hedegaard, 1997).  Meeste vetigastropode het ook ‘n sekere vlak van bilaterale asimmetrie van hul orgaanstelsels.

Die mantelholte van die perlemoen, waarin die kiewe voorkom, is soos in die geval van meeste ander opistobrange, aan die een kant aan die voorkant van die liggaam geleë.  Hierdie verskuiwing van voor in die middel na die kant van die liggaam was waarskynlik ‘n aanpassing om die water wat uitvloei, van die kop af weg te lei.  Die perlemoen gebruik die voorste twee gate in die dop om suurstofdraende water in die kiefkamer, met behulp van die stroom wat deur die trilhaartjies op die kiewe gevorm word, in te suig en oor die kiewe te spoel.  Die water spoel daarna deur die drie gate agter die voorste twee gate uit.  Die anus en nierbuis open onder een van die agterste gate in die dop.  Hierdie reeks gate ontstaan een vir een gedurende die ontwikkeling van die perlemoen – oorspronklik as ‘n keep op die rand van die dop heel voor en dan, soos die skulp op die rand groei, word die gleuf deur skulpmateriaal afgesnoer en verander dit van ‘n keep na ‘n gat in die skulp, terwyl ‘n nuwe keep voor die nuutgevormde gat vorm.

‘n Soortgelyke ontwikkelingsproses kom in die gathorings voor – die gat vorm oorspronklik as ‘n gleuf op die voorste rand van die skulp en word ook soos skulpmateriaal op die rand afgeset word, afgesnoer.  Verdere ontwikkeling van veral die voorste deel van die skulp wat vinniger as die agterste deel groei veroorsaak dat die gat agtertoe skuif, totdat dit op die kruin van die skulp te lande kom.  Water word van voor af deur ‘n opening van die mantelholte oor die gepaarde kiewe gepomp en by die gat uitgespuit.

Daar is egter ‘n hele klomp primitiewe heterobrange soos die tulbandskulpe wat die regterkief verloor het en net die linkerkief behou het.

Bloedvatstelsel

Soos in die res van die weekdiere is die buikpotige bloedvatstelsel oop en met hemolimf gevul.  Die hemolimf vloei deur sinusse na verskillende plekke in die liggaam waar dit die weefsel baai.  Die hemolimf bevat hemosianien wat koper bevat en is dus blouerig in kleur (en nie rooi soos wat ek dit in die prente uitbeeld nie – ek gebruik bloot die verskillende kleure soos groen vir die spysverteringstelsel, blou vir die senuweestelsel, bruin vir spiere en rooi vir die bloedvatstelsel om die verskillende orgaanstelsels uit te beeld – in werklikheid is meeste van die orgaanstelsels deursigtig of wit-grys in kleur).  Aangesien hierdie weekdiere ‘n oop bloedvatstelsel het, meng die hemosianien met die limf en dus word dit hemolimf genoem en nie bloed nie.

Die gespierde hart is in die voorste deel van die binnegoed geleë.  In meeste buikpotiges besit die hart twee kamers – die aurikel wat die suurstofryke hemolimf van die kief of long ontvang, en ‘n ventrikel wat die bloed deur die aorta in die liggaam inpomp.  In die geval van primitiewe buikpotiges wat twee kiewe het, is elke kief met sy eie aurikel toegerus en die hart het dus drie kamers in hierdie geval.

Vanaf die aorta vertak daar twee hoofslagare – die een voorsien die binnegoed en die ander die kop en voet van bloed.  In sommige buikpotiges ontspring hierdie twee slagare direk uit die hart en dan verwys mens na twee aortas.  Hierdie slagare lei na arteriële sinusse van waar die hemolimf die weefsel van suurstof en voedingstowwe voorsien.

Die suurstofarm bloed dreineer om die beurt weer in groot veneuse sinusse in die kop en die voet, waar die nefridium voorkom.  Die nefridium ontvang die hemolimf vanaf die voetsinus waarvandaan die hemolimf na die bloedvate van die kief of long aangestuur word, waar dit koolsuurgas afgee en suurstof opneem.

Daar is witbloedliggaampies in die hemolimf wat daarop dui dat die hemolimf deel van die immuniteitstelsel is.

Uitskeidingstelsel

Die belangrikste uitskeidingsorgane in buikpotiges is die nefridium wat stikstofryke afvalstowwe in die vorm van of ammoniak of uriensuur uitskei.  Nefridiums speel ook ‘n belangrike rol om die osmotiese balans en waterdruk in veral landslakke en varswaterslakke te handhaaf.

Daar is twee nefridiums in die heel primitiewe buikpotiges, maar in die meerderheid van buikpotiges is slegs die linker nefridium behou wat in die voorste deel van die binnegoed voorkom waar dit in die hoof veneuse sinus wat in die buikpotige se voet gesetel is.  Die stikstofryke afvalstowwe word deur die hemolimf opgeneem en na die veneuse sinus vervoer waar dit deur die nifridium opgeneem word.

Ander organe soos perikardiale kliere wat bokant die hart in die liggaamsruimte voorkom, en verteringskliere wat in die maag open, speel ook ‘n rol in ekskresie.  Hierdie kliere kom egter nie in die Pulmonata voor nie en dus is die nefridium die enigste uitskeidingsorgaan in hierdie buikpotiges.

In sommige buikpotiges open die nefridium direk in die veneuse sinus, maar gewoonlik is daar ‘n klein buisie – die renoperikardiale kanaal – wat die nefridium aan die veneuse sinus koppel.  Die nefridium van waterlewende buikpotiges word deur ‘n ureter, wat naby die agterkant van die mantelholte open, geledig, terwyl die Pulmonata ‘n baie langer ureter het wat naby die anus open.

Daar is egter ook uitskeidingselle in die verteringskliere wat in die maag open.  Hierdie verteringskliere het ‘n metaboliese funksie soortgelyk aan die lewer en skei afvalstowwe binne die spysverteringskanaal uit waar dit saam met die mis uitgeskei word.

Waterlewende buikpotiges skei hoofsaaklik ammoniak, wat vinnig in die omringende water oplos, uit.  Varswaterlewende buikpotiges herabsorbeer sout deur middel van die nefridium om die buikpotiges se osmotiese balans te handhaaf.  Landlewende Pulmonata skei onoplosbare uriensuur uit wat hulle in staat stel om hul waterbalans te behou.

Voortplantingstelsel en paring

Buiten vir die Opisthobranchia, is meeste seeslakke enkelslagtig en kom of as mannetjies of as wyfies voor, terwyl meeste Pulmonata tweeslagtig of hermafrodities is en is dus manlik en vroulik tergelykertyd.  Bevrugting kan inwendig of uitwendig voorkom, en wissel van spesie tot spesie.   Bevrugting kom dikwels inwendig in landslakke voor terwyl uitwendige bevrugting algemeen onder varswaterslakke en seeslakke voorkom.

Sekere families landslakke het ‘n unieke paringsgedrag.  Pylties van kitien, wat aan ‘n string slym aan die slak gekoppel is, word van een slak na ‘n ander uitgeskiet.  Die pyltjies dring die liggaamswand van die ander slak binne, en dan oor die volgende minute begin die slymstringe van die pyltjies krimp soos wat die slym uitdroog.  Die uitdroging van die slym veroorsaak dat die slakke na mekaar toe getrek word totdat hulle geslagsopeninge, in die liggaamswand agter die kop, by mekaar kan uitkom.

Aangesien meeste landslakke hermafrodiete is, dring die penisse van elk die vaginas van die ander binne en bevrugtiging geskied in beide slakke terselfdertyd.  In sekere slakke, soos die piesangslak, sal die slak wat eerste klaar gekopuleer het, die ander se penis afkou en wegseil.

Landslakke lê hul eiers onder die blaarmolm of in sagte grond in stringe slym wat hulle aanmekaar koppel wat mens aan stringe pêrels herinner.  Waterslakke lê hul eiers in die water, maar talle spesies sal dit aan rotsoppervlaktes of plante vasheg.  Trogofoor larwes kom te voorskyn uit die eiers.  In sommige spesies sal hierdie trogofoor larwes in veliger larwes ontwikkel.  Na dae of weke verander die larwe in ‘n klein volwasse slak.

Senuweestelsel en sintuie

Die senuweestelsel van buikpotiges sluit die perifere en die sentrale senuweestelsel in.  Die sentrale senuweestelsels bestaan uit ganglions (ganglionsons) wat met senuwees verbind is.  Die ganglions kom in pare voor – daar is serebrale-, pedale-, pariëtale-, viserale-, kief- of longganglions en soms mondganglions.

Die sintuie wat mees algemeen in die buikpotiges voorkom is oë, reuksintuie, statosiste en meganoreseptore.  Buikpotiges kan glad nie hoor nie.  Die reuksintuig wat vir chemoresepsie gebruik word, is die belangrikste en mees gebruikte sintuig in alle buikpotiges.  Dit kom gewoonlik op die punte van die vier tentakels voor en is die belangrikste en mees gebruikte sintuig.  Die chemoreseptoriese organe van seelewende opistobrange word rinofore genoem.

Meeste buikpotiges het eenvoudige sigorgane wat gewoonlik as oogvlekke, of op die punt, of op die basis van ‘n sekere stel tentakels (gewoonlik die tweede stel) voorkom.  Die vorm en kompleksiteit van buikpotiges se oë wissel van eenvoudige oë (ocelli) wat slegs lig en donker kan waarneem, tot bakkievormige put-oë, tot komplekse lensdraende oë wat op voorwerpe kan fokus en detail kan waarneem.  Oë is van minder belang vir landlewende slakke wat hoofsaaklik naglewend is om die hitte van die son en uitdroging in die dag te vermy en hulle oë is gewoonlik baie eenvoudig.

Die meganoreseptore stel die slak in staat om sy omgewing te verken en om aanraking te vermy.  Die statosiste stel die buikpotige in staat om aantrekkingskrag waar te neem wat gebruik word om die liggaam te oriënteer.

Habitat en ekologiese rol van buikpotiges

Alhoewel landslakke en varswaterslakke die bekendste buikpotiges is, is die oorgrote meerderheid buikpotiges seelewend.  Buikpotiges kom van die arktiese en antarktiese gebiede tot in die trope voor en vanaf berge op land tot op die bodem van die see voor.  ‘n Paar slakspesies kom selfs in woestyne voor.  Die grootste verskeidenheid buikpotiges kom rondom die kuslyn van kontinente op die kontinentale plat voor, waar daar ook ‘n groot verskeidenheid organismes insluitende fotosintetiserende plante is. Varswaterslakke kan deur voëls (veral watervoëls) van een habitat na die ander vervoer word deurdat eiers byvoorbeeld in die modder op hulle pote kan vassit.

Buikpotiges het kalk vir hul doppe nodig en dié wat in kalkryke omgewings voorkom kan sterk doppe bou.  In habitatte, waar die grond byvoorbeeld suur is, en kalsiumkarbonaat nie vrylik voorkom nie sal die buikpotiges eerder deur naakslakke of slakke met dun deursigtige doppe wat hoofsaaklik uit kongiolien bestaan, verteenwoordig word.

Die dieët van buikpotiges wissel van groep na groep en van habitat na habitat.  Seelewende buikpotiges sluit herbivore, afvalvreters (detritusvoeders), roofdiere, aasdiere en parasiete soos Thyonicola doglieli in.  Landlewende spesies sluit in: herbivore (wat bas, blare, vrugte vreet), afvalvreters (wat verottende plantmateriaal vreet), aasdiere (wat dooie diere vreet) en omnivore wat opportunistiese roofdiere insluit wat andersins plante sal vreet.

 

 

 

 

error: Content is protected !!