Die storie van die kalender
Hoekom weet ons wanneer Kersfees is maar nie Paasfees nie?
François Durand
Kalenders is eintlik vreemde verskynsels, al is ons hoe gewoond daaraan. Na ‘n leeftyd van verwyte oor vergete verjaarsdae, gemiste afsprake, boetes vir laat belastingopgawes, wens ek soms dat ek ‘n Boesman is. Ek vermoed dat Boesmans nie verjaarsdae vier nie, nie afsprake het nie en nie belastingopgawes moet inhandig nie, en ek vermoed dat dit altyd Vrydag in Boesmanland is, of Woensdag, of watter dag van in die week hulle geliefkooste dag is.
Maar nou is ons vasgevang in ‘n web van kompleksiteit wat ons om onsself gespin het en moet ons maar ons lewens daarvolgens probeer inrig. Ek moet bieg – tot vandag toe weet ek nie hoeveel dae enige maand, buiten Februarie en Desember, het nie. Dan sukkel ek ook om sommer outomaties te weet dat Mei die vyfde maand, Julie die sewende maand is – ek moet maar in my kop deur die maande gaan en op my vingers aftel om dit uit te werk en selfs dan is dit baie moeilik vir my want omdat ek hier en daar Latyn verstaan weet ek dat Septem sewe beteken, Okto agt beteken, Novem nege beteken en Decem tien beteken en dat September, Oktober, November en Desember dus eintlik die sewende, agste, negende en tiende maande is.
Die Sumeriërs, wat die eerste mense was (sover ons weet), wat ‘n kalender gehad het en die Franse, wat die laaste mense was wat ‘n sê oor die kalender gehad het, het beide ‘n makliker oplossing gehad – die Sumeriërs en die Franse het ‘n jaar van 12 maande van 30 dae elk gehad. Die Franse het natuurlik geweet dat die jaar 365 en ‘n kwart dae lank was, maar die eerste Sumeriërs het nie en dus terwyl die Franse ‘n ekstra paar dae aan die einde van die jaar bygetel het, was ‘n Sumeriese jaar 360 dae lank. Dit is ook terloops waar hoekom daar 360° in ‘n sirkel is. Sumeriërs en die Akkadiërs en die Babiloniërs na hulle, het die grondtal 60 vir hulle telstelsel gebruik en dus was 360 seker vir hulle ‘n magiese getal, aangesien die ruimte en hemelliggame – veral die son en die maan – wat hulle as gode gesien het, in die sfeer van die magiese geval het. Dit sou regtig moeilik wees om ‘n oud-Sumeriër te probeer oortuig dat die kosmos maar redelik slordig aanmekaar gesit is en dat die jaar eintlik 365.242196 dae lank is, soms 365.242190 dae, en soms ander getalle vanaf die sesde desimale plek. Dit sou net so moeilik wees om hulle te oortuig dat die bewegende hemelligame nie gode is nie of dat die aarde rond is en om die son wentel eerder as wat Utu, die god van geregtigheid, elke dag opstaan om oor die Aarde te waak (sien Hoekom het die week sewe dae?).

Die herkoms van die maand was eenvoudig op die fases van die maan gegrond. Die Sumeriërs was moontlik die eerste mense wat met die maanmaand opgekom het – maar dan, wanneer mens in ag neem dat hulle die eerste mense was wat skrif gebruik het, moet ons eerder in ag neem dat hulle bloot die oudste rekord van maanmaande opgeteken het terwyl die konsep reeds onder die kulture wat hulle voorafgegaan het, kon ontstaan het.
‘n Mens moet ook in ag neem dat die Sumeriërs alles vereenvoudig en afgerond het om hulle geloofsvoorwaardes of kulturele vooroordele te pas. Net soos wat hulle gemaak het of die jaar 360 dae lank was, het hulle voorgegee dat die maand 28 dae lank was, terwyl ‘n maanmaand in werklikheid 29.5 dae lank is. Natuurlik is dit maklik om 28 in vier weke van sewe dae elk te deel – en hoe toevallig – daar is dan ook sewe hemelligame (buiten sterre) wat uit die son, maan en vyf planete wat met die blote oog sigbaar is bestaan. Hierdie hemelliggame was die Sumeriërs, Akkadiërs, Babiloniërs, Grieke en Romeine se hoofgode wat hul name natuurlik ook aan die weeksdae gegee het. Ek vermoed dat die sewe hemelliggame (weereens – sonder die sterre) wat mens met die oog kan waarneem, juis die rede is hoekom dit getal sewe vir hierdie mense van die Midde Ooste so ‘n magiese betekenis gehad het en dat dit vanuit hulle perspektief ‘n magiese bestiering was dat die maanmaand met so bietjie wiskundige gekroekery amper 28 dae lank is wat dan natuurlik in vier weke van sewe dae gedeel kan word.
Vanuit hierdie kulture het daar oor duisende jare twee sisteme ontstaan – ‘n sonkalender wat uit 365.25 dae bestaan het en ‘n maankalender wat uit 12 maanmaande bestaan het, wat tot ‘n verskriklike verwarring gelei het en wat veroorsaak het dat die jaar en maande verskeie kere gekorrigeer en aangepas moes word. Die grootste probleem is dat hierdie kulture die hemele so opgehemel het en gode daar gesien het wat perfek moes gewees het, dat hulle die imperfeksie van die werklikheid nie kon insien nie. Dit was geweldig moeilik, eintlik onmoontlik, om die kosmiese sfere van die sterre, die beweging van die son, die beweging van die maan en planete te laat sinchroniseer. Astrologie het ontstaan uit hierdie pogings van sterrekykers van verskeie kulture wat oor duisende jare sin hieruit probeer maak het.
Die grootste behoefte wat mense gehad het, en die hoofrede vir die ontstaan van kalenders, was om tred te hou met die seisoene sodat landbouers kon weet wanneer om te ploeg, te saai en te oes. Aangesien hierdie aksies alles te doen het met die gode van landbou, vrugbaarheid, reën en die oes, was die kalender ook van vroegs met godsdienstige vakansiedae en rites besprinkel.
In die noordelike lande van ys en sneeu en midwinternag, was dit natuurlik verskriklik belangrik om te weet hoe lank nog voor die somerson terugkom voor hulle hul kosvoorrade en brandstof, uitgeput het. Dit is die rede ook hoekom mense in Europa duisende jare gelede sonkalenders gebou het en hoe hulle in die eerste plek uitgevind het dat daar 365 dae in die jaar is. In die Neolitiese en Bronstydperke was daar mense in Europa wat groot betekenis geheg aan vier dae van die jaar – Wintersonwend op 21 of 22 Desember wanneer dit die kortste dag en langste nag is, Somersonwend op 21 of 22 Junie wanneer dit die langste dag en kortste nag is, Lente-sonewening op 20 April en Herfs-sonewening op 20 September wanneer die dae en nagte ewe lank is. Dit was baie maklik om hierdie dae met behulp van ‘n sonkalender soos die een by Stonehenge te bepaal. Daar is verskeie sulke sonkalenders in Europa ontdek, meeste daarvan het uit ‘n sirkel houtpale bestaan waarvan die skaduwees op ‘n sentrale merker geval het, waarvolgens hulle met verbasende akkuraatheid die jaarlikse Sonwende en Sonewenings kon bepaal.

Stonehenge – ‘n sonkalender wat tussen 3000-2000 vC op Salisbury Plein in Engeland gebou is.

Sonkalenders was nie uniek aan Europa nie, daar is byvoorbeeld ‘n indrukwekkende sonkalender by Chankillo in Peru ontdek.

‘n Ry van 13 reghoekige kliptorings staan op die kruin van ‘n heuwel in Chankillo in Peru. Die mense wat hierdie klipstrukture ongeveer 2300 jaar gelede, gebou het, het voor die Inkas geleef. Hierdie mense kon met verbasende akkuraatheid die datum met behulp van hierdie sonkalender bepaal. Hierdie sonkalenders was veral deur landbougemeenskappe gebou omdat dit vir hulle so belangrik is om te weet wanneer om te ploeg, te saai en te maai.

Hierdie sonkalenders was regoor die wêreld gebruik om die jaargang te bepaal. Meeste van hierdie sonkalenders dateer uit die Brons- en Ystertydperke, maar daar is sommiges wat selfs van die Neolitiese Tydperk dateer.
Die gebruik van die sonkalender het oorsprong aan ander kalenders gegee. Die eerste kalenders waarvan ons weet, was deur die Sumeriërs ontwikkel waarop die Assiriërs en Babiloniërs hul kalenders gebasseer het. Die Persiese Kalender was weer daarop gebasseer en dit het weer om die beurt, aan die Zoroastriese en Hebreeuse kalenders oorsprong gegee.
Die Romeinse kalender was deur Julius Caesar in 45 vC reggestel. Dit het eerstens weggedoen met die gebruik om die jaar met die eerste nuwemaan na die wintersonwend te laat begin. Die ou Romeinse kalender het ook nie name vir die wintermaande gehad nie en die res van die jaar het amptelik eers in Maart begin en het uit 10 maande en uit 304 dae bestaan. Maart, wanneer die lente in die noordelike halfrond aanbreek, was die eerste maand van die jaar met ‘n naam en dit was Martius – na die oorloggod Mars – genoem. Dit is nie heeltemal duidelik hoe die maand van April (Aprilis in Latyn) aan sy naam gekom het nie. Dit is moontlik dat dit van die naam Aphrillis, ‘n Latynse korrupsie van die naam van die godin van Liefde Aprhodite, die Griekse ekwivalent van Venus af kom. April, wat met lente geassosieër word, was tradisioneel deur Romeine as Venus se maand beskou. Maius was waarskynlik na die godin Maia vernoem en Junius is na die godin Juno vernoem.
Die res van die maande – die vyfde tot die tiende was bloot genommer: Quintilis (die vyfde maand), Sextilis (die sesde maand), September (die sewende maand), October (ek maak nie ‘n spelfout nie – ek skryf nou Latyn – die agste maand), November (die negende maand) en Desember (tiende maand).
Die maande Ianuarius en Februarius was mettertyd vir die wintermaande geskep. Ianuarius (Januarie) was na die tweegesig Romeinse god Janus vernoem wat een gesig gehad het wat in die toekoms kyk en een wat na die verlede kyk. Februarius het na ‘n reinigingsritueel verwys. Hierdie twee maande was aan die begin van die jaar in 713 vC gevoeg wat die gevolg gehad het dat al die maande met twee opgeskuif het. Dit is dan die rede hoekom die sewende maand September, nou die negende maand is, die Romeinse agste maand Oktober nou die tiende maand is, die negende maand November nou die elfde maand is en Desember nou die twaalfde maand is.
Julius Caesar het, soos die ander kulture voor die Romeine en baie ander kulture van daardie tyd, geweet dat daar 365 dae in die jaar is, maar niemand het van die bykomende kwart dag geweet nie. Mense wat sonkalenders gebruik het, het bloot net die jaar met Wintersonstilstand begin, ongeag of daar 365 of 366 dae in die jaar is. Nog ‘n rare verskynsel in die vroeë Romeinse tydperk was dat hulle weke van 8 dae gehad het – die sewe dae wat almal ken, plus een dag, wat hulle Markdag genoem het.
In Julius Caesar se tyd het die Anno Domini (A.D./nC) sisteem nog nie bestaan nie en die Romeine het datums volgens die ab urbe condita (AUC) sisteem, die datum waarop hulle gereken het Rome gebou was, gegrond. In die jaar 709 AUC (46 vC), het Julius Caesar die kalender in reggestel deur om te bepaal dat die jaar op 1 Januarie begin en nie meer met die eerste nuwemaan na wintersonwend nie, dat die jaar 365 dae lank is en op 31 Desember eindig en dat die maande ‘n vasgestelde getal dae het en nie volgens maanstande bepaal word nie. Na Julius Caesar se dood is die maand Quintilis in 44 vC ter ere hom, Julie herdoop.

Julius Caesar (100 – 44 vC)
In Augustus Caesar se tyd het die Romeine agtergekom dat die 365 dag kalender stadig begin agteruitgaan. Met ander woorde die seisoene het mettertyd nie meer presies reg by die kalender gepas nie.
Dit was waar die skrikkeljaar ingekom het. Keiser Augustus het in 757 AUC (4 vC) die skrikkeljaar ingestel wat die bytel van ‘n ekstra dag elke vierde jaar behels sodat die kalender weer met die sonwende kon inpas.
Hierdie aangepaste kalender van Augustus was tot 1582 in Europa in gebruik, en in sekere lande was dit tot en met die 20ste Eeu gebruik. Die maand Sextilis was in 8 vC na Augustus vernoem.

Augustus Caesar (27 vC – 14 nC), die eerste Romeinse keiser.
In die Elfde Eeu nC het ene Khayyam van Persië, die lengte van die jaar met groot akkuraatheid bepaal as 365.24219858156 dae. As mens in ag neem dat die lengte van die jaar in die sesde desimale plek in mens se eie leeftyd verander, is dit ‘n ongelooflike akkurate waarneming. Om hierdie punt te illustreer: aan die einde van die Negentiende Eeu was die jaar 365.242196 dae lank, terwyl dit aan die einde van die Twintigste Eeu 365.242190 dae lank was.
Die Gregoriaanse kalender, wat vandag nog in meeste lande in die wêreld gebruik word, was in 1582 as ‘n verbetering op die Juliaanse kalender (met die bydrae van die skrikkeldag van Augustus) ingestel. Die dae en die lengte van die maande van die Gregoriaaanse kalender en dié van die Juliaanse kalender is dieselfde. Die enigste verskil is dat die Gregoriaanse kalender ‘n skrikkeldag elke 400 jaar uitlaat want die Juliaanse kalender het verkeerdelik aangeneem dat ‘n jaar 365 en ‘n kwart dag lank is, terwyl ‘n jaar volgens die Gregoriaanse kalender eintlik 365.2425 dae lank is en dus moet 0.0075 van ‘n dag, per jaar afgetrek word om te keer dat die kalender stadig weg van die Sonwende en Soneweninge dryf.
Die Lente-sonwening, wat veronderstel is om op die 21ste Maart te wees, is allerbelangrik vir die Christelike kerk om te bepaal wanneer Paasfees is. Die groot beweegrede in hierdie aanpassing van die kalender is dat vanaf die Eerste Konsilie van Nicea, in 325 nC, waar Konstantyn die Grote die Christelike Kerk tot stand gebring het, die kalender so ver vooruit gedryf het dat in die Sestiende Eeu, die Lente-sonewening in die noordelike halfrond, dae voor die kalenderdatum van 21 Maart plaasgevind het. Die herstel van die kalender wat in Gregorius XIII se tyd plaasgevind het, et die jaar met 10 dae aangeskuif: Donderdag 4 Oktober 1582 was deur Vrydag 15 Oktober 1582 gevolg.
Die rede hoekom Christene Sondae as die dag van aanbidding beskou eerder as Saterdag wat die Sabbatdag is, het ook met Konstantyn die Grote, wat die Songod Mtihras aanbid het, te danke. Tydens die Konsilie van Nicea, het Konstantyn ‘n edik afgekondig dat Sondae voortaan die dag van aanbidding sal wees, en nie meer die Saterdae nie, en dat besigheid nie op Sondae gedoen mag word nie. Sondag was nog altyd as die eerste dag van die week beskou en Saterdag die laaste dag. Die konsep van ‘n naweek is ‘n baie onlangse konsep wat in die Westerse wêreld ontstaan het.
Paasfees val op die Sondag na die eerste volmaan op of na Lente-sonewening in die Noordelike Halfrond, en aangesien die aarde en die maan se wentelbane nie gesinchroniseer is nie, val die soneweninge en maanstand nie ooreen nie en aangesien die Joodse tradisies – soos Paasfees – op die maankalender gegrond is, sal Paasfees elke jaar op ‘n ander datum val, want die kalender is op die Aarde se omwenteling rondom die son bereken. Kersfees kom egter van die Germane se fees wat met Wintersonwend gepaardgaan en sal dit dus altyd op dieselfde dag, naamlik 25 Desember plaasvind.

Pous Gregorius XIII (1502 – 1585)
Die Anno Domini sisteem was vir die eerste keer in die Sesde Eeu gebruik. In die Agste Eeu het die Anglo-Saksiese monnik-geskiedkundige Bede die Eerbiedwaardige, die uitdrukking: ante uero incarnationis dominicae tempus (“die tyd voor ons Heer se ware vleeswording” gebruik wat dieselfde as Voor Christus beteken. Dit het egter lank geneem voor mense hierdie sisteem aanvaar het en selfs pouse het na die heerstydperke van hul voorgangers of landsheersers verwys wanneer hulle na ‘n gebeurtenis in die verlede verwys het. Die gebruik van die Anno Domini sisteem het eers in die Elfde tot die Veertiende Eeu algemeen in Europa geword. Portugal was in 1422 die laaste Europese land wat die Anno Domini sisteem aanvaar het.

Bede die Eerbiedwaardige (672 – 735)
Alhoewel die Gregoriaanse Kalender wêreldwyd gebruik word, is daar nog steeds ‘n hele paar kalenders wat vir religieuse seremonies en redes deur verskillende gelowe en kulture gebruik word. Dit sluit die Juliaanse, Hebreeuse, Koptiese, Islamitiese, Zoroasterse en verskeie Hindu kalenders in. Een van die vreemdste verskynsels is dat die Berbers van Noord Afrika, die mense wat vir die Europeërs die Arabiese getallestelsel en posisionele telstelsel gegee het (lees: Hoekom doen ons wiskunde agterstevoor?), nog steeds die Juliaanse kalender gebruik.
