Hoe weet jy waar jy is?

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Hoe weet jy waar jy is?

April 30, 2023 Hoekom is dinge so? 0

François Durand

Hoe weet ons waar plekke is?  As iemand jou vra waar iets is, dan wys mens mos sommer in daardie rigting.  Ek kan ook vir iemand sê dat my kantoor by 26°11’03.11″S 27°59’45.99″E geleë is, of ek kan die adres of aanwysings vir iemand gee.  Plekke en rigtings en aanwysings hoe om daar te kom, is diep in ons kultuur, taal, begrip van wiskunde en die vorm van die aarde gewortel.

Ons begrip van die vorm van die Aarde, rigting en ontwikkeling van wiskunde het uiteindelik tot die maak van kaarte gelei.  Kaarte is so deel van ons lewens dat mense nie regtig dit meer waardeer nie.  Net soos skrif en wiskunde, beskou meeste mense kaarte as iets allerdaags.  Tog, het kaarte ‘n reuse bydrae tot die mens se ontwikkeling gelewer en het dit die geskiedenis van die wêreld verander.  Daar was twee tipes mense nadat kaarte ontdek is – die mense wat kaarte gehad het, kon nuwe gebiede ontdek, verken, oorneem en plunder en die mense wat nie kaarte gehad het nie, wat ontdek, oorgeneem en geplunder is.  Kaarte is die belangrikste metode waarmee ruimtelike inligting gekodifiseer, gedokumenteer en in ‘n wye verskeidenheid maniere aangewend word om menslike aktiwiteite regoor die Aarde, die maan en ander planete moontlik te maak.

Dink bietjie na hoe belangrik dit is om ‘n begrip te hê van die ligging van goed en plekke rondom jou – byvoorbeeld: hoe vêr is dit na die werk toe?  In watter rigting moet ek reis om by die werk uit te kom?  Hoe vind ek my huis na werk?  Waar kry ek kos in die hande?  Waarheen hardloop ek as daar ‘n tsunami is?  Waar is die mammoete heen? Ensovoorts.  Later was dit natuurlik belangrik om te weet waar die naburige bendes bly, hoe ver die grens tussen jou en Rusland is, waarheen mens in die winter moet trek om by die rendiere se weiding uit te kom, hoe ver om te seil om Engeland te gaan plunder, en baie belangrik – hoe om daarna weer by die huis uit te kom. Uiteraard het mense oor derduisende jare aanwysings gebruik om hulle weg te vind.  Hulle het sterre, bakens, landmerke, kaarte en vertellings van ander matrose, gebruik.

So het mense dit reggekry om op seisoenale jagtogte te gaan en oor die oseane te vaar om by hul bestemmings te kom.  Die begrip van rigting en plek was sekerlik deel van ons kultuur vanaf die begin van die mensdom.  Ongelukkig het niks van die oertyd oorgebly nie, want die eerste primitiewe kaarte was waarskynlik merke wat jagters in die Steentydperk in die grond gekrap het wanneer hulle jagtogte beplan het.  Dit is ook moontlik dat sekere rotstekeninge wat ons as kunswerke van jagvelde met riviere, berge en sterre beskou eintlik primitiewe kaarte is.  Kaarte wat op papirus, hout en velle geteken is, sou ook oor die duisende jare nie bewaar gebly het nie.

Oorspronklik was kaarte maar redelik eenvoudig.  Die oudste kaart wat ons van weet, is in Çatalhöyük ontdek.  Hierdie kaart is op die muur van ‘n huis 6200 vC geteken en wys onder andere die vulkaniese uitbarsting van die naburige berg Hasan wat in daardie tyd plaasgevind het met talle huisies wat teenaan mekaar gebou is.  Dit is ‘n besonder interessante feit dat kartografie dus ouer as skrif is.

Die tweede oudste kaart waarvan ons weet, en wat skrif bevat en meer as ‘n dorp uitbeeld, is die Imago Mundi wat uit ongeveer die agste eeu vC uit Babilonië dateer.  Babilon, die Eufraat en verskeie ander stede op ‘n ronde landmassa, wat deur ‘n see omring word, word daarop uitgebeeld.  Agt buitewyke word ook aangetoon maar slegs die beskrywings van vyf van hulle het oorleef: “Die derde streek is waar die gevleuelde voël nie sy vlug onderbreek nie” (met ander woorde nooit kan bereik nie).  “Die vierde streek is waar die lig helderer is as ‘n sonsondergang” (hierdie gebied lê in die noordweste waar die onderganende son tydens Somersonwend op sy helderste is).  “Die vyfde streek is waar die son nie sigbaar is nie en waar mens niks kan sien” (hierdie gebied lê reg noord).  “Die sesde streek is waar ‘n bul bly en ‘n inkommer met sy horings bydam”.  Die sewende streek lê in die ooste en dit is waar die oggendson opkom”.

Kaarte was ook dikwels uitgebeeld in die vorm van skilderye of borduursels.  Enige realistiese uitbeelding van ‘n landskap is eintlik ‘n kaart van ‘n gebied.  Dit het egter nie die perspektief van bo of lengte en breedtegrade, ‘n skaal of rigtingwyser van moderne kaarte nie, maar die kunstenaar het dikwels so akkuraat moontlik die ligging van kenmerke in ‘n landskap uitgebeeld.

Die Mikronesiërs, Melanesiërs en Polinesiërs, wat op honderde eilande in die Stille Oseaan bly, het kaarte van stokkies en toutjies gemaak wat die ligging van eilande met skulpies aantoon.  Die stokkies toon die rigting van seestrome aan.

Hierdie primitiewe kaarte is verbasend akkuraat en toon die ligging en afstande van eilande ten opsigte van mekaar aan.  Hierdie mense het oorspronklik met reuse dubbelkiel seilskepe – katamarans – vanaf Asië met mans, vrouens, kinders en kos soos varke, hoenders, piesangs en madumbi’s, honderde kilometers oor die oop see gevaar en eilande in die Stille Oseaan ontdek wat hulle bewoon het.

Mense in die noordelike halfrond het van die vroegste tye die noorderster, wat amper presies met die as van die Aarde opgelyn is, as rigtingwyser gebruik.  Sterkaarte was ook vir lank vir navigasie gebruik en was tot die fynste detail en akkurraatheid deur die Arabiere met hulle gebruik van algebra en meetkunde in die Goue Era van die Arabiese Ryk (7de-13de eeu nC) opgeteken.

Die vorm van die Aarde

Herodotus (484 – 425 vC) vertel hoe farao Necho II (610-595 vC) ‘n Fenesiese (Filistyne van die Bybel) bemanning aangestel het om rondom Afrika (of Libië soos hulle Afrika oorspronklik genoem het) te vaar om te bepaal of Afrika deur die see omring is of nie.  Hulle moes vanaf die Rooi See suidwaarts vaar, en indien suksesvol moes hulle deur die Pilare van Heracles (die Straat van Gibraltar) deur die Middelandse See terugkeer.

Herodotus 4.42 skryf: “Die Fenesiërs het vanuit die Rooi See suidwaarts deur die suidelike see gevaar.  Hulle het [elke jaar] aan land gegaan met die aanbreek van herfs om [koring] te plant.  Hulle het dan daar gekamp tot hulle die koring kon oes, en het dan verder geseil.  So het twee jaar verbygegaan en in die derde jaar het hulle tussen die Pilare van Heracles deurgeseil en tot Egipte gevaar.  Daar het hulle vertel (wat sommige mense glo, maar ek nie) dat toe hulle rondom [die suidpunt van] Libië gevaar het, dat die son aan hul regterkant was.”

Eerstens is dit ‘n ongelooflik belangrike feit dat mense reeds vir twee en ‘n half duisend jaar geweet het hoe groot Afrika was en dat dit deur die see omring was.  Daardie Fenesiërs sou vir die Boesmans (die Khoi was nog nie in Suider-Afrika met hulle beeste en skape nie) gewaai het soos hulle verby die suidpunt van Afrika gevaar het.  Vir diegene wat wonder: die Fenesiërs het die koring nodig gehad om brood, wat hul stapelvoedsel was, te bak, anders sou hulle van honger omgekom het.

Die tweede en nog belangriker feit is dat die laaste sin van Herodotus juis bewys dat dit werklik gebeur het.  Die son skyn altyd suid van die Kreefskeerkring, net soos die son altyd noord van die Steenbokskeerkring skyn.  Op Somersonwend in die Suidelike Halfrond op 21 of 22 Desember, skyn die son reg van bo op die Steenbokskeerkring en op Somersonwend in die Noordelike Halfrond op 20, 21 of 22 Junie skyn die son reg van bo op die Kreefskeerkring.  Gedurende die res van die jaar ossileer die posisie van die son tussen hierdie twee punte.  Dit is waar die begrip van die skeerkringe vandaan kom.  Die enigste moontlike manier hoe die Fenesiërs kon sien dat die son aan hulle regterkant (met ander woorde noord van hulle) was, terwyl hulle weswaarts verby die suidpunt van Afrika vaar, was as dit regtig gebeur het, want niemand noord van die Kreefskeerkring het ooit so iets gesien nie en dus bewys Herodotus se skeptisisme juis dat dit gebeur het.

Dit was egter Eratosthenes wat ‘n reuse bydrae gelewer het ten opsigte van ons begrip van die vorm van die Aarde.  Hy het ongeveer 2250 vC bewys dat die Aarde rond is, hy het die omtrek van die Aarde met verstommende akkuraatheid bepaal en hy het die helling van die as van die Aarde bepaal.  Daarbenewens het hy met basiese ruitverwysingstelsel begin waarmee hy die afstand en posisie tussen verskillende landmerke, dorpe en stede gekarteer het en sodoende een van die eerste bruikbare wêreldkaarte geskep het.

Nadat Eratosthenes geografie as wetenskap gevestig het, het talle Griekse en Romeinse wetenskaplikes in sy spore gevolg.  ‘n Nuwe era van kartografie het in die Romeinse era ontstaan.  Akkurate kaarte was uiters belangrik vir die ekspanionistiese, millitêre, logistiese, administratiewe en ekonomiese behoeftes van die Romeinse Ryk wat van Europa, na die Midde Ooste en Noord Afrika gestrek het.

Claudius Ptolemeus (90-168 vC), was ‘n Griekse wetenskap-filosoof wat in Alexandrië gebly het.  Hier, in die Groot Biblioteek van Alexandria het hy sy 8 volume Geographica geskryf, waarin hy ‘n stelsel soortgelyk aan ons lengte- en breedtegrade gebruik het, om die ligging van meer as 8000 plekke te karteer.  Alhoewel sy oorspronklike geskrifte die vernietiging van die Groot Biblioteek nie oorleef het nie, was sy bydraes deur talle ander geograwe gekopieër en was dit moontlik om sy wêreldkaart weer te herskep.

Na die val van die Romeinse Ryk en die vestiging van die teokrasie wat die Middeleeue in Europa gekenmerk het, is die geskrifte en kaarte van die Klassieke Grieke en Romeine vernietig.  Europa fanaties-fundamentalistiese uitkyk het veroorsaak dat Europa in ‘n gat van wetenskaplike ongeletterheid verval het.  Die kaarte wat deur Middeleeuse Europeërs geskep is het die Aarde as ‘n plat skyf met ‘n sirkel water daaromheen uitgebeeld.  Daar was ook uitbeeldings van die Tuin van Eden, die ark op Berg Ararat en die Aarde wat uit drie dele bestaan waarop die nasate van Noag se drie seuns bly.  Vergeleë streke was dikwels as die blyplek van monsters en demone uitgebeeld (hic sunt dracones op Middeleeuse kaarte beteken: “hier bly drake”).

Gelukkig was honderde duisende geskrifte van regoor die bekende wêreld gedurende die Arabiese Goue Tydperk in hul biblioteke opgeneem.  Die Huis van Wonders in Baghdad het dieselfde rol as die Groot Biblioteek van Alexandria gespeel.  Hier het geleerdes van die bekende wêreld bymekaargekom om die versamelde kennis van die mensdom te bestudeer, te bespreek en navorsing te doen.  Hierdie reuse biblioteke was die voorlopers van universiteite.  Ongelukkig het die Hunne, wat ongeletterde barbare was, die biblioteek totaal op 13 Februarie 1258 vernietig.  Gelukkig was 400 000 manuskripte gered, waarvan sommiges hul weg na Europa gevind het.  Hierdie manuskripte het ‘n reuse bydrae tot die Renaissance, 150 jaar later, gemaak en ek glo dat die Renaissance sonder hierdie geskrifte nie moontlik sou gewees het nie of baie eeue later eers sou begin het.

Ptolemeus se wêreldkaart was tydens die Reinaissance (14de tot 17de eeu) weer herontdek.  Hierdie kaart het verbasend akkurate detail oor die posisie van stede, berge, riviere en kuslyne bevat.  Dit het ook gekurfde breedtegrade en konvergerende lengtegrade gehad wat die ronding van die Aarde uitgebeeld het.  Uiteraard is daar ook foute op – veral van verafgeleë plekke waarvan die inligting maar min was.  Die skaal van die kaart is ook verkeerd en die lengtegrade was op geskatte posisies.

 

Ongelukkig het Ptolemeus die berekening van die omtrek van die Aarde op dié van Posidonius in plaas van Eratosthenes s’n gegrond.  Dit is dan ook die rede hoekom Columbus gedink het dat die Verre Ooste heelwat nader was as wat dit in werklikheid was en hoekom hy oorspronklik onder die indruk was dat hy Indië ontdek het toe hy in werklikheid die Amerikas ontdek het.  Dit is ook dan die rede hoekom ons inboorlinge van die Amerikas Indiane noem.

Die Europeërs het vanaf die Renaissance weer uitwaarts begin kyk en die tydperk van groot ontdekkingsreise het aangebreek.  Akkurate kaarte het dit vir mense moontlik gemaak om regoor die planeet plekke te ontdek, verken, te plunder en daar te gaan bly.  In hierdie tydperk het Portolan kaarte die lig gesien.  In die afwesigheid van betroubare lengtegrade het kartograwe kompasrose op kaarte geteken met lyne wat uit elk straal.  Vir honderde jare het skeepsvaarders hierdie rigtings gebruik om met behulp van magnetiese kompasse oor die oseane te navigeer en so by hul bestemmings uit te kom.

Die Portugees Ferdinand Magellaan (1480-1521) het in 1519 met drie skepe en 270 bemanningslede vanaf Spanje vertrek met die doel om ‘n westelike roete na die Speseryeilande te vind.  Hulle het oor die Atlantiese Oseaan na Suid-Amerika gevaar en toe suidwaarts al om die kus van Suid-Amerika gevaar op soek na ‘n weg na die weste.  Uiteindelik het hulle deur die seestraat tussen die suidpunt van Suid-Amerika en die eiland Terra del Fuego ontdek wat daarna die Seestraat van Magellaan genoem is.  Magellaan was onder die indruk dat die reis van die suidpunt van Suid-Amerika en China slegs sowat vier dae per skip sou wees, maar dit was toe drie maande en 20 dae ver.  Talle bemanningslede het van honger en skeurbuik op hierdie tog gesterf.

Tydens die slag van Maktan in die Filippyne, waar hulle teen ‘n oormag van meer as 5500 krygers geveg het, is Magellaan gedood.  Die tergugtog na Spanje is van daar deur talle rampe getref en uiteindelik het een skip onder die kapteinskap van Juan Sebastián Elcano met 18 bemanningslede na Spanje teruggekeer.  Hierdie mense was die eerste Europeërs wat oor die Stille Oseaan gevaar het en rondom die Aarde gevaar het en sodoende finaal fisies bewys het dat die Aarde rond is.

Hoe om rigting te bepaal

Wat bedoel die term: “om jouself te oriënteer”?  Mens kan ook jou oriëntasie vind of ‘n kaart oriënteer.  Oriënt verwys na die Ooste (terloops die Weste is die Oksident).  Voor die kompas ontdek is, was kaarte van ouds na die Ooste georiënteer, want dit was maklik om te bepaal waar die Ooste is, omdat die son daar opkom.  Kaarte het oorspronklik ‘n groot pyl gehad wat dus na die Ooste gewys het, eerder as na die Noorde.

Later, toe die kompas in gebruik geneem is, was beide die Noorde en die Ooste (uit tradisie) op kaarte aangetoon.  Nog later was Noord op kaarte aangedui en nie meer Oos nie, maar die woord oriëntasie het gebly.

Sommige mense maak ‘n groot storie uit die feit dat Noord bo op kaarte is en dat die Mecator-projeksie alles in die Noorde groter laat lyk as wat dit in werklikheid is.  Eerstens, glo ek dat die persoon wat iets ontdek het, geregtig is om dit in sy taal op te skryf en dat dit deel van sy kultuur is en dat die res van ons net ons sterre moet dank dat daardie mense gaaf genoeg was om ons toe te laat om dit in ons eie taal te kan vertaal.

So waar dink jy moet Noord wees?  Ons kon enige plek Noord genoem het.  Ons kon ook Noord enigiets genoem het soos Lemoen of Watsenaam of Dinges.  So hoekom pla dit mense?  Kan jy dink hoe stupid dit sou wees om te kla dat Lemoen eerder as Piesang bo aan ‘n kaart verskyn?  Wie se kaarte sou ons eerder wou gebruik het as die kaarte wat oor derduisende jare deur tientalle kulture ontwikkel is?  Uiteraard sal die mense wat die eerste kaarte gemaak het gedink het dat hulle bo-op die Aarde staan eerder as wat hulle aan die kant staan of onderaan hang.  Onthou dat daar eerstens geen op of af, of bo of onder, of Noord of Suid in die ruimte is nie.  Ons het heelwat later, na ons kaarte begin teken het, gravitasie ontdek en uitgevind dat die Aarde rond is.

Die magnetiese kompas

Dit is natuurlik baie belangrik om, nadat mens ‘n kaart geskep het, te weet hoe om dit te oriënteer.  Soos ek genoem het, was die son oorspronklik gebruik om die kaart te oriënteer, maar dinge het heelwat makliker geraak toe die kompas ontdek is.

Die magnetiese kompas was reeds ten minstens 202 vC – 220 nC in die Han Dinastie in China gebruik.  Die eerste kompasse was uit magnetiet, wat ‘n natuurlik-magnetiese gesteente is, gemaak.  Hierdie kompasse het soos boepenslepeltjies gelyk.  Wanneer dit in die rondte gespin is, het dit uiteindelik tot rus gekom met die steeltjie wat na die Suide wys.  Natuurlik het die groter deel na die Noorde gewys, maar dit geef nie, want mens kan die Suid-wysende steeltjie steeds gebruik om rigting te bepaal.

Later was ysternaalde met behulp van magnetiet gemagnetiseer en as kompasnaalde gebruik.  Die magnetiese kompas was oorspronklik nie deur die Chinese vir navigasie gebruik nie, maar eerder vir voorspellings en geomantiek gebruik – soos om te besluit waar om huise te bou, landerye uit te lê of waar om vir edelstene te soek.  Magnetiese kompasse was eers met die Song Dinastie in die elfde eeu vir navigasie gebruik.  Hierdie kompasse het uit ‘n magnetiese naald wat in ‘n bakkie water gedryf het bestaan.

Dit is nie duidelik hoe die kompas in Europa beland het nie.  Ek dink dat dit waarskynlik deur die Arabiere, wat met China en Europa handel gedryf het, en wie juis oor die Indiese Oseaan moes vaar het, ingevoer gewees het.  Die oudste verwysing na ‘n magnetiese kompas in Europa vind mens in die boek van Alexander Neckam De naturis rerum wat in 1190 nC geskryf is.

Binne ‘n ommesientjie het die mense van Europa en die Midde-Ooste die magnetiese naald op die 360° gradeboog met die windrigtings op geplaas en so het die magnetiese kompas wat ons ken ontstaan.  Dit is aanvaarbaar as ‘n kaptein op ‘n skip sê dat die skip in ‘n wes-suidwestelike rigting vaar, of as die aanbieder na die suidooster in ‘n weervoorspelling verwys, maar in kaartlees gebruik ons eerder wiskunde terme soos dat iets ‘n posisie van 345º het.  Dit is belangrik om te let dat mens met hierdie metode rigting kloksgewys van Noord, of 0º lees, of as 15º Wes van Noord wat ewe aanvaarbaar is.

Twee tipes kompasrose: Links is ‘n kompasroos waar slegs die rigtings aangedui word en Regs is ‘n kompasroos met grade

Daar is egter ‘n groot verskil tussen die ware of geografiese Noordpool en die magnetiese Noordpool.  Die geografiese Noordpool en Suidpool is die plek wat letterlik in die middel van die spin van die Aarde om sy eie as is.  Dit is egter nie waar die magnetiese pole is nie.

Die magnetiese Noordpool is tans iewers in die Noordsee, maar dit beweeg heeltyd stadig teen ongeveer 55 km per jaar rond.  Die magnetiese Noordpool was vir ‘n lang tyd in Kanada en dalk sal dit in Groenland of Siberië wees.  Daar is ook ‘n magnetiese Suidpool wat ook so rondbeweeg en nie presies op die teenpool van die magnetiese Noordpool geleë is nie.

Die magnetiese kompas reageer op die magneetveld van die Aarde en as mens weet waar die magnetiese Noord op ‘n gegewe oomblik geleë is, kan mens ‘n kompas gebruik om die presiese ligging van ware Noord te bepaal en dan kan mens jou daarvolgens oriënteer.  Die verskil tussen die posisie van magnetiese Noord en ware Noord wat op 0° geleë is, word Magnetiese Deklinasie genoem.  Dit is ook belangrik om te weet dat die Aarde se ysterdraende rotse tot ‘n mate gemagnetiseer was toe dit in die oertyd gevorm het.  Dit veroorsaak dat die Magnetiese Deklinasie effens van plek na plek kan verskil, wat die rede is hoekom elke 1:50 000  topografiese kaart die Magnetiese Deklinasie van daardie spesifieke gebied aantoon.

Die sonkompas

Die Vikings het die storie van die skepping van die Aarde so vertel: Odin het Ymir die grootste Ysreus verslaan.  Ymir se liggaam het oor die Giggunungap (die gaping tussen Jotunheim – die tuiste van die Ysreuse en Muspelheim – die tuiste van die Vuurreuse geval.  Uit sy verottende vlees het die Aarde ontstaan, sy skelet het die berge gevorm, sy baard en hare die woude, sy bloed het die oseane gevul en sy skedeldak het die uitspansel geword.  Die maaiers in sy vlees het dwerge geword, wat verklaar hoekom daar net manlike dwerge is (want hulle maak nie hulself nie), dat hulle so oud soos die aarde self is, hulle steeds ondergronds boer (die tuiste van die dwerge is ondergronds in Nidavellir) en hulle uitstekende myners is wat ‘n obsessie met edelstene en goud het.  Sy skedeldak word deur vier besondere sterk dwerge vasgehou om die hemelruim te vorm – hulle name is Nordri, Sudri, Austri en Vestri.  Dieselfde Vikings wat in hierdie lawwe legende geglo het, het egter ‘n metode ontdek om van Denemarke tot in Engeland te vaar sonder om van koers te gaan.  Hulle het ook Ysland, Groenland, die Hebridies en Orkney Eilande gaan bewoon – en reggekry om heen en weer tussen hierdie nuwe plekke en Denemarke en Noorweë te vaar.  Vikings het selfs Noord Amerika (Vinland) vir ‘n ruk lank gaan bewoon voordat hulle daar deur die inboorlinge uitgedryf is (deur wie?) en na Noorweë teruggekeer het.

Die Vikings se geheim was die gebruik van ‘n sonkompas waarmee hulle tydens die middel van die dag, wanneer die son op sy hoogste is, ‘n peiling met behulp van die skaduwee van die pen in die middel kon neem.  Deur om die skaduwee op dieselfde merk te hou kan hulle dag na dag presies oos of wes vaar.  Natuurlik sal hulle ook noordwes, suidoos of in enige ander rigting kan vaar deur om die skaduwee van die pen op van die merkies bo of onder die vorige dag se lesing te laat val.

Eratosthenes was die eerste persoon wat ‘n tipe ruitverwysing op kaarte gebruik het wat ons vandag as lengte- en breedtegrade ken.  Daarvolgens kon hy verskillende landmerke, dorpe en stede in die regte posisies ten opsigte van mekaar aanteken.

Die posisie van die son om 12:00 kan gebruik word om die breedtegraad, waar die waarnemer is, te bepaal.  Selfs vandag gebruik ons nog steeds die son om breedtegrade te bepaal.  Ons het ver gekom van die sonkompas van die Vikings.  Ons gebruik sekstante reeds vanaf die 18de eeu.  Die sekstant word saam met tabelle wat die hoogte van die son op ‘n spesifieke datum aandui gebruik om die presiese breedtegraad te bepaal.

Daar is ‘n paar plekke op Aarde wat mens as vaste verwysingspunte kan gebruik soos die geografiese Noordpool en Suidpool, die Ewenaar wat rondom die middel van die Aarde geleë is – presies halfpad tussen die Noord- en Suidpool.  Laastens is daar die Steenbokskeerkring en die Kreefskeerkring.  Die Aarde kon dus relatief maklik in breedtegrade (of parallelle) opgedeel word en hierdie kennis was van die begin deur ontdekkingsreisigers en navigators gebruik om roetes oorland of oor die see te bereken.

Die kaarte van eeue gelede wys dat ontdekkingsreisigers en kartograwe presies kon bepaal wat die breedtegraad van ‘n landmerk was, maar hulle het nog geen manier ontdek om lengtegrade te bepaal nie en dus was die proporsies van sekere kontinente en oseane verkeerd.

Lengtegrade

Al vaste gegewe wat ons het is dat die Aarde een maal per dag omwentel.  Dit beteken dat die Aarde 360° in 24 uur om sy eie as draai.  Die Aarde se oppervlakte kan dus lengtegewys in 24 tydsones ingedeel word.  Met ander woorde mens deel 360° deur 24 wat mens 24 segmente van 15° elk gee.  Die groot vraag is egter – van waar begin mens te meet?

Daar was toe ‘n reuse debat tussen Engeland en Frankryk hieroor, omdat elke land geglo het dat hulle die reg het om die Nulmeridiaan (Prime Meridian) of Rooslyn of te wel die 0° lyn deur hulle land te laat strek (die Rooslyn verwys na die kompasroos wat soos ‘n blom lyk).  Die Franse wou dit natuurlik deur Parys laat gaan – veral omdat hulle die voorlopers van metrisasie was en geglo het dat hulle die setel van wetenskaplike innovasie was.  Die Engelse wou egter gehad het dat die Nulmeridiaan deur London moes gaan.

Om hieroor te redekawel het niemand iets in die sak gebring nie, want mens moes ‘n praktiese manier kry om op see tyd te kon hou om die lengtegrade te kon afmeet.  Tot op daardie stadium was daar geen uurwerk wat op see behoorlik kon tydhou nie.  Uiteindelik was dit die Engelse wat met die eerste maritieme horlosie vorendag gekom het en die argument gewen het.  Dit is dan ook hoekom die Nulmeridiaan deur die sterrewag van Greenwich, ‘n klein dorpie suid van London, loop.

Dit is ook hoekom die tydsones vanaf Greenwich gemeet word en word as GMT plus of minus soveel uur uitgedruk (GMT staan natuurlik vir Greenwich Mean Time).  Vir elke 15° Oos van die Nulmeridiaan moet mens ‘n uur bytel.  Suid-Afrika is tussen 16° 27′ (Oranjeriviermonding) en 32°53′ (die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek langs die Indiese Oseaan) geleë.  Daar was toe besluit om 30° (wat toevallig deur Ermelo loop) as tydlyn te kies.  Dit is twee ure later as Greenwich en word dus as GMT+2 uitgedruk.  As dit 12:00 in Ermelo is, is dit 10:00 in Greenwich.  Onthou dat ‘n kleinerige land soos Suid-Afrika een tydsone het om dinge makliker te maak, maar ‘n groot land soos Kanada het ses tydsones en Rusland het elf!

Lengtegrade word soos tyd vanaf die Nulmeridiaan gemeet.  Die ligging van lengtegrade word uitgedruk as oos of wes van die nulmeridiaan tot by 180° wat iewers in die Stille Oseaan geleë is.  So ook word tyd as GMT plus of minus uitgedruk.

Die maritieme horlosie het seevaarders, navigators en kartograwe in staat gestel om vir die eerste keer baie akkurate kaarte op te stel. Die storie is egter nie so eenvoudig nie.  Die ontwerp van ‘n maritieme horlosie wat die aanslag van die skommeling van die skip, die humiditeit en seewater kon weerstaan en nog steeds akkuraat tyd kon hou was ‘n groot uitdaging.  Vir jare het mense probeer om horlosies vir seevaart te kon ontwerp, maar het elke keer daarin gefaal.  Die Britse Regering het toe in 1714 ‘n beloning van ₤10 000 tot ₤20 000 (dit is ongeveer 23-46 miljoen Rand vandag) uitgeloof vir die ontwerp van ‘n maritieme horlosie wat akkuraat tyd kon hou.

John Harrison, ‘n skrynwerker van Yorkshire, het in 1730 hierdie projek aangepak en het in 1735 twee ontwerpe voorgelê.  Sy innoverende ontwerp het ‘n veer ingesluit wat mens moes opwen sodat aantrekkingskrag en die beweging van die skip nie ‘n invloed daarop sou hê nie.  In 1759 lê hy ‘n nuwe ontwerp voor wat ronde gewiggies, ‘n dubbelmetaal strook en spesiale rollaers ingesluit het, wat die effek van die rotasie van die Aarde sou teenwerk.  Harrison was nog steeds nie met die akkuraatheid van sy horlosie tevrede nie en het ‘n vierde ontwerp in 1761 ingehandig wat ‘n vinnig-tikkende vliegwieletjie, wat deur ‘n temperatuur-gekompenseerde veer aangedryf is, ingesluit het.  Ten spyte van sy harde werk en die effektiwiteit van sy briljante ontwerpe en die polulariteit daarvan, het hy vir jare en jare gesukkel om sy beloning van die regering te kry.  Hy het net bietjies, bietjies van die geld oor die jare gekry en nooit die hele bedrag vir sy werk ontvang nie.

Uiteindelik, na die koms van die maritieme horlosie kon lengtegrade, nes breedtegrade, korrek bepaal word, wat kartograwe in staat gestel het om kaarte met groot akkuraatheid te skep.

En so, met behulp van skaduwees, ‘n magnetiese mineraal, ‘n spesiale horlosie en ‘n paar goeie breins, het die Aarde rond en navigeerbaar geword.

 

error: Content is protected !!