4. DIE BESKERMERS EN DIE PLUNDERAARS

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

4. DIE BESKERMERS EN DIE PLUNDERAARS

April 14, 2023 Klimaatsverandering 0

Die Beskermers en die Plunderaars

Hoe regerings op Klimaatsverandering-inperkings reageer

François Durand

 

In die 1980’s het wetenskaplikes ontdek dat die konsentrasie van ander gasse, benewens koolsuurgas, soos metaangas, chlorofluoorkoolstowwe en stikstofoksiede besig was om vinnig toe te neem.  Daar was ook verder bevind dat hierdie gasse selfs erger kweekhuisgasse is as koolsuurgas en dat dit ook tot Klimaatsverandering bydra.

Die ontdekking dat chlorofluoorkoolstowwe (CFK’s) die osoonlaag ernstig degradeer, het mense ernstig laat bekommer oor die kwesbaarheid van die atmosfeer.  Teen 1988 het die temperatuur ook wêreldwyd rekordhoogtes bereik.  Die publiek het teen die einde van die vorige eeu al hoe meer van Klimaatsverandering bewus geraak.  Wetenskaplikes wêreldwyd het hul stem dik gemaak dat as daar nie dringend gekyk word na die inperking van kweekhuisgas-vrystellings nie, dat die negatiewe impakte van Klimaatsverandering op die natuur onomkeerbaar gaan word.

Die reaksie van talle regerings, veral van die lande wat die meeste kweekhuisgasse vrystel en die lande wat steenkool uitvoer was heftig.  Korporasies en magnate wat miljarde dollars sou verloor as kweekhuisgas-inperkings ingestel sou word, het miljoene dollars in ‘n disinformasie-veldtog gepomp om die navorsing en gevolgrekkings van klimaatkundiges te diskrediteer en om hul politieke verteenwoordigers te beïnvloed.  Omgewingsgroepe, wat minder geld het, maar meer invloed uitoefen, het van hulle kant af besluitnemers en politici getakel om kweekhuisgas-inperkings in te stel.

Regerings was tussen twee opponerende pole vasgevang – die publiek wat algaande meer bewus van Klimaatsverandering geraak het en al hoe meer bekommerd oor die omgewing geraak het en die geldmag wat dit probeer verdoesel.  Aangesien regerings die een groep nodig om vir hulle te stem en die ander groep nodig het om hulle te finansier, het ‘n siniese kompromis in baie lande ontstaan waar politici groen praat terwyl steenkoolbesmeerde hande geld onder die tafel verwissel.  Die COP’s is die ideale plek waar honderde, selfs duisende afgevaardiges praat, dreig, afwys, smeek, spog, water trap, dialoog, afpers, diplomatiek en nonsens praat terwyl die kweekhuisgasse wêreldwyd styg en die effek van Klimaatsverandering die wêreld beetpak.  Soos Greta Thunberg dit perfek opsom: “blah blah blah”. https://www.youtube.com/watch?v=UryIL4kUcx8

Terwyl hierdie impotente redekawelry aangegaan het, was ‘n ontdekking in die yskerne van Antarktika gemaak wat die wetenskaplikes se ergste vrese bewaarheid het1.  Bewyse van sneeuvalle, smelting, atmosferiese gasse en stof word word in die pool yskappe gevind.  Lagies ys word jaar na jaar op die pole afgeset met leidrade van die atmosfeer en die klimaat van daardie tyd word so in die ys vasgevang.  Die bewyse dui duidelik daarop dat kweekhuisgasse in die atmosfeer en temperatuur aan mekaar gekoppel is.  Die bewyse het ook daarop gedui dat ‘n verdubbeling in koolsuurgas in die atmosfeer met ‘n 3°C temperatuurstyging gepaard gaan.  Al hoe meer bewyse van die impak van Klimaatsverandering op die omgewing het van geoloë, paleontoloë, ekoloë ingestroom wat die bewyse en gevolgrekkings van die klimaatkundiges bevestig het.

Die wêreld se regerings het deur die Verenigde Nasies ‘n paneel van duisende wetenskaplikes en amptenare bymekaar gebring wat vir hulle die mees relevante en akkurate inligting oor Klimaatsverandering kan gee.  Hierdie liggaam: die Interregeringspaneel oor Klimaatverandering (Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC)) is in 1988 deur die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (United Nations Environmental Program (UNEP)) en die Wêreld Meteorologiese Organisasie (World Meteorological Organization (WMO)) op die been gebring.

Die Verenigde Nasies se Klimaatsverandering Konferensies word jaarliks deur die Verenigde Nasies se Raamwerk Konfensie oor Klimaatsverandering (United Nations Framework Convention on Climate Change (UNFCCC)) aangebied om die vordering met Klimaatsverandering-inperkings te bespreek.  Hierdie vergaderings wat as die Konferensie van Partye (Conference of the Parties (COP)) genoem word word vanaf 2005 ook as die Conference of the Parties Serving as the Meeting of Parties to the Kyoto Protocol (CMP)) benut (sien: 2 Belangrike Klimaatsverandering-Vergaderings).

Een van die belangrikste fokuspunte van hierdie vergaderings is om lande so ver te kry om hul kweekhuisgasse te verminder.  Maar dit is makliker gesê as gedaan want elke land se ekonomie, en dus lewensstandaard van sy mense en sy politieke mag hang van sy rykdom af en daardie rykdom was in ontwikkelde lande meestal deur industrialisasie bekom.  Natuurlik is daar ook lande wat rykdom op ander maniere bekom het soos deur kolonialisme en onderwerping van ander mense vir goedkoop arbeid, of deur plundering van ander lande, of om ‘n ekstraktivistiese ekonomie te ontwikkel (dikwels al drie op ‘n slag).

Weens die aanname dat die Westerse geïndrustialieerde ekonomie die ideale sosio-polities-ekonomiese opsie is, dring ontwikkelende lande daarop aan dat hulle ten minstens dieselfde regte en voorregte as die ontwikkelde lande kry en tot op diesefde vlak van industrialisasie mag ontwikkel voordat hulle kweekhuisgas-inperkings toepas.  Ontwikkelde lande het ook die blaam gekry vir hul historiese aandeel tot die kweekhuisgas-probleem en die verwagtig was dus geskep dat hulle vir die leeue-aandeel van kweekhuisgas-inperkings moes betaal.  Dit het ‘n diplomatieke mynveld van aantygings, beloftes, verontskuldiging, beskuldigings en politieke opportunisme geskep waar meer oor sosiopolitieke kwessies as oor daadwerklike aksies om kweekhuisgasse in te perk gepraat is.  Ontwikkelde lande het baie gehad om te verloor en ontwikkelende lande het baie gehad om te wen – dit was die wêreld van politiek en kompromieë (sien: 3 Suksesse en mislukkings van die Klimaatsverandering-vergaderings).       

VSA

Die VSA, die rykse land ter wêreld, die voorloper van industrialisasie en tegnologiese ontwikkeling, die grootste verbruiker van vervaardige goedere en die naasgrootste vervaardiger van kweekhuisgasse was ook van die begin van die klimaatskrisis een van die voorlopers van klimaat-bewustheid en het gereeld leiding geneem in ooreenkomste om kweekhuisgasse te verminder.

Die VSA is verantwoordelik vir ongeveer 15% van die kweekhuisgas-vrystellings (wat 28% van die koolsuurgasvrystellings insluit) wat jaarliks tans in die wêreld plaasvind.  Dit was altesaam 5,981 GT (gigaton) in 2020.2  Aangesien die VSA die derde grootste bevolking (naas China en Indië) het, dui dit ook daarop dat die gemiddelde Amerikaner per persoon vir meer kweekhuisgas-vrystellings as enige ander mens op Aarde is.  Die gemiddelde Amerikaner se jaarlikse bydrae tot koolsuurgas in die atmosfeer is 16.56 ton, teenoor die gemiddelde Chinees se 7.77 ton en die gemiddelde Indiër se 2.16 ton.

Die voormalige Vise-president van die VSA, Al Gore, het vir meer as 40 jaar gewerk om mense van Klimaatsverandering bewus te maak en mense aangemoedig om verantwoordelikheid daarvoor te neem.

Al Gore (VSA Vise-President: 1993 – 2001)

“I am convinced that we will solve the climate crisis, but the longer we take, the more grave the risks we are taking with humankind.”

Al Gore het regdeur sy politieke loopbaan Klimaatsverandering geprioritiseer en het reeds in 1981 voorleggings in die Huis van Verteenwoordigers, en daarna talle voorleggings oor die onderwerp in die Senaat belê.  Hy was vir dekades ‘n voorstaander van die ontwikkeling van petrollose voertuie en het die GLOBE program op die been gebring om omgewingsbewustheid in skoolleerplanne te bevorder.  In 1998 het hy saam met die Amerikaanse Nasionale Akademie van Wetenskap NASA genader om ‘n satelliet te bou wat die aarde van die Lagrange Punt 1 kan dophou om vir mense ‘n beter perspektief op Klimaatsverandering te gee.  Hierdie projek was gedurende die Bush tydperk gestaak en dus kon DSCOVR eers op 11 Februarie 2015 geloods word.

Al Gore het internasionaal ‘n leidende rol gespeel om lande sover te kry om saam te werk in hul pogings om Klimaatsverandering hok te slaan.  In 1992 het Al Gore die afvaardiging van die VSA by die eerste Aardberaad gelei.  Hy het ‘n groot aandeel gehad in die bemiddeling van die Kyoto Protokol in 1997 – die belangrikste en grootste internasionele ooreenkoms om Klimaatsverandering hok te slaan.  Daarna het hy talle internasionale Klimaatsverandering kongresse – COP 13 (2009), COP 20 (2014) en COP 21 (2015) toegespreek.  Hy het op verskeie maniere sy bes gedoen om mense wêreldwyd (na beraming 2 miljard mense) deur konserte, boeke (Earth in the Balance, An Inconvenient Truth, The Assault on Reason, Our Choice: A Plan to Solve the Climate Crisis en The Future: Six Drivers of Global Change) en dokumentêre films soos An Inconvenient Truth van Klimaatsverandering bewus te maak.

Al Gore het die Nobel Vredesprys saam met die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering in 2007 ontvang.

Een van die eerste aksies, nadat President George W. Bush in Maart 2001 aan bewind gekom het, was om aan te kondig dat die VSA van die Kyoto Protokol onttrek.  Die redes wat hy hiervoor aangevoer het was dat die ooreenkoms om kweekhuisgas-vrystellings te verminder, die Amerikaanse ekonomie gaan beskadig en dat dit tot hoër energiepryse gaan lei.  Reeds tydens sy 2000 presidensiële veldtog het George W. Bush die volgende gesê: “The Kyoto Treaty would affect our economy in a negative way,” en: “We do not know how much our climate could or will change in the future. We do not know how fast change will occur, or even how some of our actions could impact it.”

George W. Bush (VSA President: 2001 – 2009)

The Kyoto Treaty would affect our economy in a negative way,”

Dit is egter ook belangrik om te weet dat Bush die volgende op 13 Januarie 2015 gesê het: “First, we know the surface temperature of the Earth is warming. It has risen by 0.6 degrees Celsius over the past 100 years. There was a warming trend from the 1890s to the 1940s; cooling from the 1940s to the 1970s; and then sharply rising temperatures from the 1970s to today.

There is a natural greenhouse effect that contributes to warming. Greenhouse gases trap heat and thus warm the earth because they prevent a significant portion of infrared radiation from escaping into space.

Concentration of greenhouse gases, especially CO2, have increased substantially since the beginning of the industrial revolution. And the National Academy of Sciences indicates that the increase is due, in large part, to human activity. Yet, the academy’s report tells us that we do not know how much effect natural fluctuations in climate may have had on warming.” 3

Met ander woorde die Republiekeine weet presies wat aangaan en om voor te gee dat regse politici in die VSA nie Klimaatsverandering aanvaar nie, of dat hulle nie deeglik besef dat kweekhuisgasse daarvoor verantwoordelik is, en dat die mens die oorsaak daarvan is, is bedrog om die minste te sê.  Dit bedoel ook dat politici en industrialiste in die VSA wat hiervan weet en tog met kweekhuis-vrystellende tegnologieë voortgaan en help om wetgewing in plek te stel om met hierdie vernietigende gedrag voort te gaan, hulself aan die grootste kriminele aktiwiteit op aarde denkbaar skuldig maak en wat die Holodomor in Ukraïene en die Groot Hongersnood van China in skaal en omvang oorskadu.

Die krisis rondom Klimaatsverandering en maatreëls om dit teen te werk, was die belangrikste prioriteit van Barack Obama se tydperk as president van die VSA (2009-2017).  Obama het sy Climate Action Plan (CAP) op 25 Junie 2013 aangekondig.4  CAP het drie hoofdoele gehad: die vermindering van koolsuurgasbesoedeling, om die VSA vir die impak van Klimaatsverandering voor te berei en om leiding te neem in pogings om Klimaatsverandering wêreldwyd hok te slaan.  Dit was ook die eerste ernstige poging om China, wat die grootste kweekhuisgasvrysteller op Aarde, deel van die onderhandelings te maak.

Barack Obama (President VSA: 2009-2017)

Climate change isn’t just some little problem — it’s a major, civilization-ending threat.”

Die eerste doel van die CAP is om kweekhuisgas-vrystellings in die VSA met 26-28% onder 2005 vlakke teen 2025 te verminder.  Dit sluit die vermindering van kweekhuisgasse van die kragsektor en die bevordering van volhoubare energiebronne in.  Die vermindering van ligte voertuie se kweekhuisgas-vrystellings is deel van hierdie plan.

Die tweede doel is om die VSA voor te berei vir die impak van Klimaatsverandering deur om federale agentskappe en gemeenskappe met die hulpbronne toe te rus sodat hulle die styging in seevlakke, ekstreme weer toestande, droogtes ens. kan trotseer.

Die derde doel is om ‘n leidende rol te speel in internasionale pogings om Klimaatsverandering te bekamp.  Die VSA doen ‘n beroep om internasionale ooreenkomste in plek te sit sodat lande wêreldwyd fossielbrandstowwe met volhoubare energiebronne kan vervang en deur om internasionale beleggings in volhoubare energie tegnologieë te bevorder.  Die leidende rol wat die VSA by die Verenigde Nasies se Klimaat Kongres in Parys gespeel het, was deel van hierdie doel.

Benewens die groot vordering wat die Obama administrasie, ten spyte van die weerstand van die Senaat, gemaak het om die vrystelling van kweekhuisgasse in die VSA te bekamp en gemeenskappe se paraatheid teen ekstreme weersomstandighede te versterk, was die grootste bydrae van Obama sy vermoë om ander lande te inspireer om ‘n gesamentlike poging aan te wend om kweekhuisgasse te beperk.  Obama het ook vir die eerste keer in geskiedenis, ooreenkomste met China, Indië en Brasilië – drie van die wêreld se grootste kweekhuisgas-vervaardigers – beding om hulle kweekhuisgasse ook in te perk.  China het ingestem om hulle kweekhuisgas-vrystellings met 26-28% teen 2025 te verminder.  Die Indiese en Brasiliaanse regerings het ooreengekom dat hulle in volhoubare energiebronne, in samewerking met die VSA, gaan belê.  Brasilië het ingestem om teen 2030 12 miljoen hektaar se reënwoud te rehabiliteer.  Hierdie onderhandelings was deel van Obama se bydrae by die COP 21 vergadering in Parys voorgelê.

Die Parys Ooreenkoms (Paris Agreement) (2015) of COP 21 is die eerste wêreldwye klimaatsooreenkoms wat sonder die leierskap van Obama nooit bereik sou word nie.  Alhoewel die beplande uitkomstes van die Parys Ooreenkoms redelik nederig is, is dit die eerste ooreenkoms wat lande wêreldwyd hulself daaraan verbind het om hul kweekhuisgas-vrystellings te beperk.  Ongelukkig was dit die teenkanting van die VSA Senaat, wat geweier het om die Parys Ooreenkoms te bekragtig, wat veroorsaak het dat die Parys Ooreenkoms bloot ‘n onderneming deur lande is en nie wettig-bindende kontrak is nie.

Obama het oor ‘n miljoen vierkante kilometer op land en see as beskermde nasionale reservate (monumente) verklaar waar ontginning van olie, gas en steenkool en mynbou verbied word.  Nog nooit was daar ‘n president wat so ‘n groot gebied as natuurerfenisgebiede verklaar het nie.  Hy het daardeur ook mariene bewaringsgebiede geskep waar talle visspesies, wat op die rand van uitsterwing is, nou in veiligheid kan aanteel.

Die kragsektor is die tweede grootste bron van kweekhuisgas-vrystellings in VSA.  Obama se Clean Power Plan, het beoog om die koolsuurgas-vrystellings van die kragsektor met 32% onder 2005 vlakke teen 2030 te verlaag.  Obama se Clean Power Plan was nooit geïmplementeer nie want Republikeinse state se prokureur generaals het die implementering daarvan geblok.

Op Donald Trump se eerste dag as president het hy aangekondig dat Barack Obama se Climate Action Plan geskrap is omdat dit skadelik en onnodig is.  Op 28 Maart 2017 teken Trump ‘n bevel om Obama se Clean Power Plan te skrap om sodoende die steenkoolsektor te laat herleef en om goedkoop energie aan Amerikaners te verskaf.

Donald Trump (VSA President: 2017 – 2021)

“The concept of global warming was created by and for the Chinese in order to make U.S. manufacturing non-competitive.” (Donald Trump, 6 November 2012)

Trump het op 1 Junie 2017 die VSA se ontrekking van die Parys Ooreenkoms aangekondig: “as of today, the United States will cease all implementation of the Paris Accord and the draconian financial and economic burdens the agreement imposes on our country.  This includes ending the implementation of the nationally determined contribution and, very importantly, the Green Climate Fund which is costing the United States a vast fortune.” 5

Trump het Obama se Climate Action Plan met sy Affordable Clean Energy (ACE) rule6 vervang.

Trump beweer dat onder sy administrasie (2017-2021) die VSA hul koolstofvrystellings meer as enige ander land wat die Parys Ooreenkoms geteken het, verminder het.7  Dit is maklik om na te gaan en soos talle van sy ander wilde stellings, is dit ‘n leuen.8,9  Ander lande soos die Europesie Unie en Japan het vinniger hul koolstofvrystellings in daardie tydperk verminder.  Die VSA is, naas China, nog steeds die tweede grootste kweekhuisgas-vervaardiger ter wêreld.  Waarteenoor die gemiddelde mens se koolstofvoetspoor 4 ton per individu is, is die koolstofvoetspoor per Amerikaner 16.56  ton per jaar wat die hoogste ter wêreld is.10

Die tweede en meer fassinerende punt is dat daar ‘n groot gewag gemaak word oor hoe onder Trump se leierskap die VSA hulle koolsuurgasvrystellings met 12% verminder het.  Onthou dat Klimaatverandering-ontkenners voorhou dat Klimaatsverandering nie plaasvind nie, of dat indien dit plaasvind dit deur natuurlike oorsake is en nie deur mensgemaakte kweekhuisgas-vrystellings nie.  Dit is dan uiters ironies dat Trump spog dat onder sy administrasie, koolsuurgasvrystellings verminder is, wat beteken dat hy ‘n manier gevind het om natuurlike koolsuurgasbronne te verminder of mensgemaakte koolsuugas verminder het.

Klimaatverandering-ontkenners glo ook dat die yskappe nie smelt nie – tog het Trump se Staatsekretaris Mike Pompeo gesê dat die verlies van die yskappe nuwe seeroetes sal open en dat die ongetapte rykdom van Antarktika met sy oliereserwes, gas, uraan, goud, vis en rare-aardmetale sal ontsluit.

Hierdie idiotiese sinisisme is verstommend – eers ontken hulle dat Klimaatsverandering plaasvind, en dat die yskappe nie smelt nie, maar hulle staan reg om te plunder wanneer dit gebeur.  Eers ontken hulle dat die koolsuurgas in die atmosfeer deur mense veroorsaak word en dat dit vir Klimaatsverandering verantwoordelik is, maar dan spog hulle dat hulle reggekry het om dit te verminder.  En hoekom sal dit dan ‘n prioriteit vir hulle wees om oor te spog as koolsuurgas nie ‘n probleem is nie?

Daar word met groot trots verklaar dat onder Trump se administrasie hulle die volgende vermag het:15

  • The Trump Administration led the United States to become the number one producer of oil in the world while maintaining America’s position as the number one natural gas producer.
  • Canceled the previous administration’s Clean Power Plan, and replaced it with the new Affordable Clean Energy rule”8
  • Approved the Keystone XL and Dakota Access pipelines
  • Opened up the Arctic National Wildlife Refuge (ANWR) in Alaska to oil and gas leasing
  • Repealed the last administration’s Federal Coal Leasing Moratorium, which prohibited coal leasing on Federal lands
  • Reformed permitting rules to eliminate unnecessary bureaucracy and speed approval for mines
  • Fixed the Environmental Protection Agency’s (EPA) steam electric and coal ash rules
  • The average American family saved $2,500 a year in lower electric bills and lower prices at the gas pump
  • Signed legislation repealing the harmful Stream Protection Rule
  • Reduced the time to approve drilling permits on public lands by half, increasing permit applications to drill on public lands by 300 percent
  • Expedited approval of the NuStar’s New Burgos pipeline to export American gasoline to Mexico
  • Streamlined liquefied natural gas (LNG) terminal permitting and allowed long-term LNG export authorizations to be extended through 2050
  • The United States is now among the top three LNG exporters in the world
  • Increased LNG exports five-fold since January 2017, reaching an all-time high in January 2020
  • LNG exports are expected to reduce the American trade deficit by over $10 billion
  • Granted more than 20 new long-term approvals for LNG exports to non-free trade agreement countries
  • The development of natural gas and LNG infrastructure in the United States is providing tens of thousands of jobs and has led to the investment of tens of billions of dollars in infrastructure
  • There are now 6 LNG export facilities operating in the United States, with 2 additional export projects under construction.

Hierdie klink meer soos ‘n klagstaat as ‘n inskripsie op ‘n monument, want soos wat enige rasionele mens kan sien, word die gas, olie en steenkool wat tydens Trump se administrasie tot rekordvlakke van ontginning en uitvoer gestyg het, verbrand, en dra dus tot kweekhuisgas-vrystellings by.

Ter opsomming ‘n paar aanhalings van Trump:

“We should be focused on magnificently clean and healthy air and not distracted by the expensive hoax that is global warming!”- Donald Trump, 6 Desember 2013.

“Ice storm rolls from Texas to Tennessee – I’m in Los Angeles and it’s freezing. Global warming is a total, and very expensive, hoax!” – Donald Trump, 6 Desember 2013.

“Climate change is very important to me. I’ve done many environmental impact statements in my life, and I believe very strongly in very, very crystal clear clean water and clean air.” — Donald Trump, 3 Desember 2019.

Op 9 Januarie 2020 vra ‘n verslaggewer Trump of hy nog steeds dink dat Aardverhitting ‘n klug is en Trump se antwoord was: “No, not at all. Nothing’s a hoax. Nothing’s a hoax about that. It’s a very serious subject.”11

Met sy eie woorde bewys dat Trump dat hy óf waansinnig is, of as hy besef het hoe ernstig Klimaatsverandering is, en hy desnieteenstaande gesorg het dat die VSA die grootste olieprodusent en gasverskaffer ter wêreld geword het, dat hy nog skuldiger as Mao Sedong aan die Groot Hongersnood en Stalin aan die Holodomor is – want hy het nie net die welstand van sy eie mense benadeel nie, maar dié van die wêreldbevolking.

Op Trump se laaste dag op kantoor het ‘n federale hof Trump poging om Obama se regulasies om Klimaatsverandering in te perk, ondaan te maak, ongeldig verklaar en was Obama se Clean Power Plan weer in werking gestel.

Die hof het Trump se Affordable Clean Energy (ACE) rule wat die VSA se kragsektor se koolsuurgas-vrystellings met 11 ton, of ‘n skamele 0.7-1.5%, teen 2030 sou verlaag het, geskrap.  Obama se Clean Power Plan wat beoog om die kragsektor se koolsuurgas-vrystellings met 32% onder 2005 vlakke teen 2030 te verlaag, was deur ACE vervang.  Obama se Clean Power Plan was nooit geïmplementeer nie want Republikeinse state se prokureur generaals het die implementering daarvan geblok.

Die skrap van Trump se Affordable Clean Energy (ACE) rule het Joe Biden ‘n skoon blaadjie gegee om nuwe regulasies in plek te stel om kweekhuisgasse te beperk.

Joe Biden was op 20 Januarie 2022 as die nuwe president van die VSA verkies.

Joe Biden (VSA President: 2022)

“Look, this executive order I’m signing today also makes it official that climate change will be at the center of our national security and foreign policy”

Biden het onmiddelik nadat hy as president verkies is, die VSA weer aan die Parys Ooreenkoms, wat danksy die Obama administrasie tot stand gekom het, verbind en die Keystone XL Pyplyn gestaak.

Die Keystone XL Pyplyn, wat deur die Kanadese oliereus TC Energy (oorspronklik TransCanada) gebou is, vervoer teersandolie – die vuilste en mees omgewingskadelike olie op die planeet – van onder ‘n woud in Alberta in Kanada, oor duisende kilometer, na olierafinaderye in die middel van die VSA, vanwaar dit na oorsee uitgevoer word.  Obama se administrasie het die uitbreiding en vergroting van die pyplyn geblok, Trump se administrasie het dit weer die groen lig gegee sodat TC Energy die 168 miljard vate teersandolie onder die Alberta woud kon ontgin en teen ‘n tempo van 830 000 vate per dag na die VSA kon pomp.  As Biden nie hierdie uitbreiding van die pyplyn gestaak het nie, sou dit tot een van die grootste omgewingsrampe in geskiedenis gelei het.

Biden het op 28 Januarie 2022, nege dae na sy verkiesing as president, ‘n reeks uitvoerende aksies, wat Klimaatsverandering aanspreek, onderteken en gesê dat dit sal: “supercharge our administration’s ambitious plan to confront the existential threat of climate change.”

Hy het tydens die ondertekening opgemerk: “It’s about coming to the moment to deal with this maximum threat that is now facing us, climate change, with a greater sense of urgency,” en: “In my view, we’ve already waited too long to deal with this climate crisis and we can’t wait any longer. We see it with our own eyes, we feel it, we know it in our bones.

Biden het beklemtoon dat die Amerikaanse volk dringend ‘n verenigde respons op die klimaatskrisis moet hê en dat die VSA die leiding in globale verband moet neem.  Die direktiewe sluit in beperkings op olie en gasontginning op publieke grond en in die see, die bewaring van ten minstens 30% van die land- en seeoppervlakte teen 2030 en die inwerkingstelling van inperkings op kweekhuisgas-vrystellings en die oprigting van ‘n klimaatsfinansieringplan.  Biden het die White House Office of Domestic Climate Policy en die National Climate Task Force wat uit amptenare van 21 staatsorganisasies en -departemente bestaan, in die lewe geroep.  Biden het ook ‘n presidensiële memorandum geteken wat wetenskaplikes, wat by regeringsinstansies werk, van politieke inmenging vrywaar.

Teen 21 Julie 2022 het die Biden adminstrasie 54 nuwe omgewingsbeleide in werking gestel en beplan nog 43 nuwes wat onder meer die VSA se kweekhuisgas-vrystellings gaan inperk, sodat die VSA teen 2030 hul kweekhuisgas-vrystellings met 50% kan verminder en teen 2050 tot op ‘n Zero vlak van kweekhuisgas-vrystellings kan vorder.12

Weens die teenstand van die Senaat wat weier om hulle samewerking te gee, het Biden talle van hierdie klimaat-aksieplanne in werking gestel.13  Biden gaan nog verder ‘n opdraande stryd voer aangesien die regstelsel nog vol Trump-aangestelde amptenare sit en ‘n Hooggeregshof wat nog erger teen omgewingsregulasies is as in die tyd van Obama se administrasie.

Die werklike kabaal wat die wêreldekonomie en wêreldmag buite die Oosblok beheer is die Senaat en die regstelsel van die VSA.  Hierdie mense, wat in baie gevalle miljoenêrs en besigheidsmanne is, en met groot besighede verbind word is meestal Klimaatsverandering-ontkenners in die openbaar.  Dit beteken natuurlik nie dat hulle nie Klimaatsverandering aanvaar nie, na als hul leiers Bush en Trump het beide uiteindelik in die openbaar erken dat hulle Klimaatsverandering aanvaar, dit beteken dat ondanks Klimaatsverandering en die bewys dat mensgemaakte kweekhuisgasse daarvoor verantwoordelik is, hulle nog steeds die fossielbrandstof-industrie ondersteun.  In die openbaar sal hulle egter ‘n ander deuntjie sing en steeds verkondig dat Klimaatsverandering, en veral die mens se aandeel daarin, ‘n klug is om hulle besigheidsbelange te beskerm.

 

China

Ek gaan dit onomwonde stel: China is die land wat by verre die grootste bydrae tot klimaatsverandering lewer en in vergeleke met China se reuseaandeel tot die probleem kan mens die VSA se wipplankryery as ‘n tragi-komiese sirkus beskou.

Dit is egter nie so maklik om China as hoofbeskuldige uit te wys nie.  China, met ‘n bevolking van 1.4 miljard mense, is verantwoordelik vir ‘n allemintige 28% van die wêreld se koolsuurgas-vrystellings wat in 2018 op 10.06 gigaton te staan gekom het.  Waarteenoor die gemiddelde Chinees jaarliks slegs vir 7.77 ton koolsuurgas-vrystellings verantwoordelik is, is die gemiddelde Amerikaner jaarliks vir 16.56  ton koolsuurgas-vrystellings verantwoordelik!14

Hierdie punt word telkemale in debattering oor die onderwerp tussen die VSA en China geopper.  Dus as ons appels met appels vergelyk, moet mens by die punt uitkom waar jy besef dat sekere mense se leefwyse by verre minder volhoubaar is as ander s’n.  Net om hierdie punt verder te illustreer: Indië, met 1.3 miljard mense, vervaardig minder as 7% van die wêreld se koolsuurgas-vrystellings.  Dit beteken dat die gemiddelde Indiër vir 1.96 ton koolsuurgas per jaar verantwoordelik is, wat baie baie minder as die koolstofvoetspoor van meeste mense op Aarde is en as ons almal by daardie punt kon uitkom, sou die wêreld nooit in hierdie krisis gewees het nie.  Die gemiddelde Suid-Afrikaner se koolsuurgas-vrystelling is 6.95 ton per jaar (2016)15.  Dus moet ons nie slegs vrot appels met vrot appels vergelyk nie maar ook balke met splinters.

China word as ‘n ontwikkelende land beskou en dus word sekere toegewings aan hulle ten opsigte van koolsuurgas-beperkings toegestaan. Die probleem met hierdie benadering is dat die Westerse lewensstandaard as model vir ontwikkeling en welstand beskou word.  As almal op Aarde soos die gemiddelde Amerikaner leef, het ons die hulpbronne van 3 Aardes daarvoor nodig!  As almal soos die gemiddelde Indonesiër leef, is daar genoeg hulpbronne om die mensdom vir nog ‘n hele ruk te laat oorleef.

Die vrystelling van stikstofdioksied (NO2), ‘n baie gevaarlike kweekhuisgas, in die atmosfeer oor die indrustrieë van Wuhan Provinsie in China.  Links – voor die COVID-19 inperkings, Regs – tydens COVID-19 inperkings, toe die fabrieke gesluit was.

As mens net na die effek van die kweekhuisgasse wat in China vrygestel word kyk is dit skrikwekkend.  Mens kan gewoonlik nie die landoppervlakte in sekere dele van China vanuit die ruimte sien weens die rookwolk wat permanent daaroor hang nie.  Hierdie dele het eers weer sigbaar geword nadat die fabrieke tydens die Covid-inperking gesluit was en die rookwolk begin opklaar het.  Die kweekhuisgasse wat China vrystel bly natuurlik nie oor China hang nie – dit versprei na die res van die atmosfeer waar dit Klimaatsverandering aandryf.  Hierdie kweekhuisgasse word hoofsaaklik deur die verbranding van steenkool veroorsaak.  Wanneer Australië, VSA en Suid-Afrika steenkool aan China verskaf is hulle dus ook aanspreeklik vir die vrystelling van hierdie kweekhuisgasse.  Dan moet mens ook in ag neem dat China nie moedswillig kweekhuisgasse vervaardig om Klimaatsverandering te veroorsaak nie.  Hulle fabrieke, wat die goedere vervaardig wat die res van die wêreld van hulle koop, stel kweekhuisgasse vry.  Dit is dus baie oneerlik om agter die stelling weg te kruip dat China die sondebok is as jy China help om die sondebok te wees.

 

Brasilië

“It’s enough to eat a little less. You talk about environmental pollution. It’s enough to poop every other day. That will be better for the whole world,”

Die ergste omgewingsvernietiging in die onlangse geskiedenis van Brasilië het plaasgevind toe Jair Messias Bolsonaro, ‘n gewese millitêre offisier in 2019 die president van Brasilië geword het.  Daar word dikwels na hom as die Brasilaanse eweknie van Donald Trump verwys.  Hy het van die staanspoor beloof om Brasilië uit die Parys Ooreenkoms te onttrek, die Brasiliaanse Departement van Omgewingsake af te dank en sekere natuurbewaringsgebiede se beskerming op te hef sodat dit vir boustowwe geplunder kan word as hy tot president verkies sal word.

Alhoewel hy nie aan al sy beloftes gestand gedoen het nie, het hy van die staanspoor met Brasilië se wetenskaplike gemeenskap en omgewingsbewarings-organisasies plaaslik en wêreldwyd gebots.  Hy het selfs staatsamptenare wat sy vernietiging van oerwoude en maatreëls om die COVID-19 pandemie in te perk, afgedank en staatsbefondsing vir wetenskaplike navorsing erg ingekort en natuurbewaringsregulasies vir groot gebiede in die Amasone Oerwoud opgeskort om mynbou en landbou daar toe te laat16.  Dit het aanleiding gegee tot ‘n ontploffing in houtstropery, ontbossing, ongereguleerde mynbou en besetting van staatsgrond wat deur inheemse gemeenskappe bewoon word, wat tot groot sosiale konflik gelei het.  Ontbossing met behulp van brande het tot talle onbeheerde bosbrande gelei wat Bolsenaro aan sabotasie deur natuurbewaringsorganisasies en inheemse volke wat in die Amasone leef, toegeskryf het.17

Ongeveer helfte van die aarde se reënwoude kom in die Amasone Oerwoud voor.  Oorspronklik het die Amasone Oerwoud ongeveer 4% van die koolsuurgasvrystellings uit die atmosfeer gehaal en in organiese materiaal omskep.  Weens die grootskaalse vernietiging van die Amasone Oerwoud oor die laaste 20 jaar en die proses waarmee dit gedoen word naamlik kap en brand, wat nog meer koolsuurgas vrystel as wat die Oerwoud kan absorbeer, het veroorsaak dat die Amasone Oerwoud nou 13% meer koolsuurgas vrystel as wat dit absorbeer18.  Die gevaar is dat as die ontbossing van die oerwoud verby ‘n kantelpunt kom, die oerwoud vanself sal degradeer en nie meer self kan herstel nie wat tot ‘n onomkeerbare inploffing van die oerwoud, wat ook van die hoogste biodiversiteit op aarde bevat, kan lei. Die vernietiging van die Amasone Oerwoud is een van die grootste ekologiese rampe van ons tyd.

Regse politiek en wetenskap is soos olie en water.  Nes Trump het Bolsonaro die gevaar van COVID-19 as ‘n “klein griepie” en ‘n “fantasie” afgeskryf en dat middels wat die verspreiding van COVID-19 sou inperk nonsens is19.  Hy het alle raad van gesondheidswerkers en viroloë geïgnoreer en selfs die minister van Gesondheid Luiz Henrique Mandetta, wat sosiale distansiëring voorgestel het en vir mense verduidelik het hoe die virus versprei, in April 2020 afgedank.  Brasilië het meer as 700 000 COVID-19 sterftes gehad wat per kapita van die hoogste sterftesyfers ter wêreld was.

Soos mens kan verwag verwerp Bolsonaro, soos Trump, konsekwent die wetenskaplike konsensus oor Klimaatsverandering en het herhaaldelik gedreig om van die Parys Ooreenkoms te onttrek en het selfs die afdeling in die ministerie en twee departemente in die Departement van Omgewingsake, wat met Klimaatsverandering gemoeid was, gesluit.

Soos met Trump was Bolsenaro se doppie met ‘n verkiesing in 2022 geklink, maar Bolsenaro se nalatenskap van omgewingsvernieting sal nie uitgewis word nie.  Net soos in die geval van Trump, het die ondersteuners nie die verkiesingsresultate aanvaar nie en oral amok gesaai toe Luiz Inácio Lula da Silva (of Lula soos hy algemeen bekend staan) as president op 2 Oktober 2022 verkies is.  Luiz Inácio Lula da Silva het onmiddelik na sy verkiesing onderneem om ontbossing te staak en dat Brasilië homself weer aan Klimaatsverandering-inperkings verbind20,21.

Laat dit die les wees – leiers soos Trump, Bolsenaro en Zuma – is bloot die spreekbuise van die mense wat vir die maatskappye wat hulle gesteun het en die mense wat vir hulle gestem het.  Laat ons oordeel op daardie mense val en hulle aan die pen laat ry, want hulle is aanspreeklik vir die vernietiging van die natuur en die mensdom wat reeds begin het.

 

Verwysings:

1. Lorius, C.; Jouzel, J.; Raynaud, D.; Hansen J. & Le Treut, H. (1990). The ice-core record: climate sensitivity and future greenhouse warming. Nature 347:139–145.

2. United States Environmental Protection Agency (2022). Climate Change Indicators: U.S. Greenhouse Gas Emissions. https://www.epa.gov/climate-indicators/climate-change-indicators-us-greenhouse-gas-emissions#%20

3. Fox News. 13 Januarie 2015. Transcript: Bush on Climate Change. https://www.foxnews.com/story/transcript-bush-on-climate-change

4. The President’s Climate Action Plan (2013).

https://obamawhitehouse.archives.gov/sites/default/files/image/president27sclimateactionplan.pdf 3

5. Statement by President Trump on the Paris Climate Accord. June 1, 2017. https://trumpwhitehouse.archives.gov/briefings-statements/statement-president-trump-paris-climate-accord/

6. EPA’s Affordable Clean Energy Rule: In Brief (2020). https://www.epa.gov/stationary-sources-air-pollution/affordable-clean-energy-rule

7. Energy and Environment. https://trumpwhitehouse.archives.gov/issues/energy-environment/

8. Reuters (Desember 10, 2021). Japan’s greenhouse gas emissions drop to record low in year to March 2021. https://www.reuters.com/markets/commodities/japans-greenhouse-gas-emissions-drop-record-low-year-march-2021-2021-12-10/

9. Tiseo, I. (2022). Emissions in the EU – Statistics & Facts. Statista. https://www.statista.com/topics/4958/emissions-in-the-european-union/

10. The Nature Concervancy (2022). Calculate your carbon footprint.

https://www.nature.org/en-us/get-involved/how-to-help/carbon-footprint-calculator/#:~:text=A%20carbon%20footprint%20is%20the,highest%20rates%20in%20the%20world.

11. Bump, P. (2020). This is perhaps Trump’s most cynical comment about the environment yet. Washington Post. 9 Januarie 2020. https://www.washingtonpost.com/politics/2020/01/09/this-is-perhaps-trumps-most-cynical-comment-about-environment-yet/

12. Executive Order on Protecting Public Health and the Environment and Restoring Science to Tackle the Climate Crisis. January 20, 2021. https://www.whitehouse.gov/briefing-room/presidential-actions/2021/01/20/executive-order-protecting-public-health-and-environment-and-restoring-science-to-tackle-climate-crisis/

13. FACT SHEET: President Biden’s Executive Actions on Climate to Address Extreme Heat and Boost Offshore Wind 20 Julie 2022.

https://www.whitehouse.gov/briefing-room/statements-releases/2022/07/20/fact-sheetpresident-bidens-executive-actions-on-climate-to-address-extreme-heat-and-boost-offshore-wind/

14. https://www.worldometers.info/co2-emissions/co2-emissions-per-capita/

15. Worldometer. South Africa CO2 emissions

https://www.worldometers.info/co2-emissions/south-africa-co2-emissions/

16. Rodrigues, M. (2022). Brazilians will choose their new president on 2 October and Jair Bolsonaro is running for a second term. Critics say he has damaged the country’s science, people’s well-being and its threatened ecosystems. Nature 609: 890-891.

https://www.nature.com/articles/d41586-022-03038-3#:~:text=Four%20years%20ago%2C%20scientists%20across,protected%20areas%20if%20he%20won.

17. Boadie, A. (2020). Brazil’s Bolsonaro blames indigenous people for Amazon fires in U.N speech. Reuters: World News, 22 September 2020.

18. The Economist (2022). The Brazilian Amazon has been a net carbon emitter since 2016. The Economist, 21 Mei 2022.

19. Phillips, T. (2022). Police call for Bolsonaro to be charged for spreading Covid misinformation. The Guardian, 18 Augustus 2022.

20. Greenfield P. & Harvey F. (2022). Lula vows to undo environmental degradation and halt deforestation. The Guardian, 16 November 2022.

21. Freedman, A. (2022). Bolsonaro’s defeat is a climate turning point. Axios, 31 October 2022.

Soms kry ek navrae van Klimaatsverandering-ontkenners wat datastelle oor onderwerpe soos koolstof-vrystellings eis.  Hier is die skakel daarvoor: https://ourworldindata.org/co2-emissions

error: Content is protected !!