Sinapsiede 2: Anomodonte (herbivoriese sinapsiede)

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Sinapsiede 2: Anomodonte (herbivoriese sinapsiede)

June 28, 2021 paleontologie 0

SINAPSIEDE 2: Anomodontia – die herbivoriese sinapsiede

François Durand

 

Anomodonte (Anomodontia) is ‘n groep herbivoriese therapsiede wat wêreldwyd in die Perm en Trias Periodes voorgekom het. 

Die anomodonte het die groepe soos Venyukovioidea, Dromasauria en die Dicynodontia ingesluit.  Slegs die Dicynodontia het tot in die Laat Perm Periode oorleef.  Die Dicynodontia was die volopste landlewende herbivore van die Laat Perm en Trias Periodes en het verskeie herbivoriese nisse gevul.  Hulle het in grootte vanaf seekoei-grootte diere tot klein tonnelgrawers gewissel.  Meeste van die Dicynodontia het tydens die Perm-Trias uitwissing uitgesterf, maar die wat oorleef het, het aan groot bonkinge herbivore oorsprong gegee wat tot die Laat Trias voorgekom het.

Primitiewe anomodonte soos die Anomocephaloidea, Venyukovioidea en Chainosauria het baie tande gehad.  Meeste lede van Dicynodontia het egter al hul tande buiten hul boonste slagtande verloor,  sommige spesies het selfs dit ook verloor, en hulle het snawelagtige bekke soos skilpaaie s’n gehad.  Mens sou dink dat hierdie diere met hulle spoggerige slagtande nogal gedugte karnivore kon wees.  Maar dink bietjie verder – watter dier het die grootste tande op Aarde?  Watter dier is die gevaarlikste landlewende werweldier op Aarde?  Hoe verdedig ‘n vlakvark of ‘n muskushert hulself?  Die antwoord is dat olifante (terloops – hulle lang tande is snytande en nie slagtande nie) die langste tande van enige dier op Aarde het.  Die gevaarlikste landlewende werweldier wat meer mense as enige ander werweldier doodmaak is die seekoei wat onder andere sy slagoffer met beitel-skerp slagtande byt.  Vlakvarke en muskusherte byt diere wat hulle bedreig met hulle lang slagtande.  Al hierdie diere, is herbivore net soos die Dicynodontia, en nie een gebruik hulle tande om hulle kos mee te kou nie, maar vir verdediging. 

Anomodonte het vanuit basale neotherapsiede ontstaan.  Neotherapsida is verlangs verwant aan die dinokefaliërs wat in die Middel Perm Periode die heersende landwerweldiere was.  Dinokefaliërfossiele kom in Rusland, China, Suid-Amerika en in Afrika voor.  Soos in die geval van die basale sinapsiede was daar karnivoriese, omnivoriese en herbivoriese dinokefaliër spesies.  Meeste dinokefaliërs was groot en bonking en sommige het so groot soos renosters geword.  Ongelukkig, weens die skaarsheid van die fossiele in hierdie tydperk, kan ons nog nie presies bepaal hoe die dinokefaliërs en die neotherapsiede aan mekaar verwant is nie en dus is die herkoms van anomodonte nog onduidelik.

Ten spyte van hulle nederige en obskure oorsprong, het anomodonte uiteindelik baie talryk geword en hulle het, as die Dicynodontia, teen die laat Perm die heersende herbivoriese werweldier op land geword.  Daar is baie meer fossiele van anomodonte as wat daar fossiele van die karnivoriese therapsiede – die theriodonte – voorkom.  Dit is natuurlik verstaanbaar, want in enige voedselpiramiede moet daar altyd meer herbivore as karnivore wees om volhoubaar te wees.  Dink maar aan die verhouding tussen luiperds en hulle prooi.  Dit is dus ook die rede hoekom mens altyd meer rooibokke in die wildtuin as luiperds sal sien en dit is ook die rede hoekom mens letterlik honderde fossiele van herivore kry voor mens een karnivoorfossiel kry.  Daar is derduisende anomodont fossiele in fossielversamelings in Suid-Afrika – een so ‘n versameling het oor ‘n duisend Diictodon fossiele.

Ons het reeds derduisende sinapsiedfossiele, veral dié van die Dicynodontia, in die Beaufort Groep van die Karoo Supergroep ontdek.  Aangesien hierdie fossiele in spesifieke lae voorkom, kan ons hulle gebruik om ‘n biostratigrafie van die Beaufort Groep van die Karoo Supergroep op te stel.  Dit beteken dat as mens ‘n Cistecephalus fossiel kry, dan weet jy dat daardie geologiese laag in die Perm Periode afgeset is, terwyl Cynognathus en Kannemeyeria fossiele net in Trias-ouderdom lae voorkom.  Fossiele soos dié van Lystrosaurus was gebruik om te bewys dat Gondwanaland bestaan het, omdat dit so wydverspreid in Suid-Afrika, Indië en Antarktika voorkom (lees artikel oor Gondwanaland).

Cistecephalus, wat in die Laat Perm van Suider-Afrika voorgekom het, was een van die kleinste lede van die Dicynodontia.  Hulle verlengde, sillindervormige lywe het tot sowat 60 cm lank geword.  Hulle het ook ‘n platterige, wigvormige kop met kort, sterk beentjies gehad.  Cistecephalus was die heel eerste lid van die Dicynodontia, en een van die heel eerste sinapsiedspesies wat benoem is.  Richard Owen, ‘n tydgenoot van Charles Darwin, en die persoon wat die Dinosauria benoem het, het Cistecephalus en trouens die Synapsida self benoem. 

Cistecephalus het kurktrekker-vormige tonnels gegrawe waarin hulle van predatore kon wegkruip.  Sommige navorsers het die lawwe idee dat  hulle dieselfde lewenswyse as molle gehad het, maar duidelik ken hierdie mense nie molle nie.  Hoekom sê hulle nie dieselfde ding van die kuifkopvisvanger wat tonnels in rivierbanke grawe nie?  Die kuifkopvisvanger se tonnel eindig ook met ‘n kamer op die verste punt wat as nes dien.  Molle vang goggas en erdwurms ondergronds en kom selde ooit uit hul tonnelsisteme met latrine-kamers, spense en voedingstonnels wat hulle grawe om kos te soek.  Molrotte bly ook ondergronds en kou met hul lang voortande tonnels op soek na bolle en wortels om te eet.  Cistecephalus het plante buite hulle tonnels gevreet.  Hul tonnels was duidelik net daar vir een doel – om van predatore weg te kom en om hul eiers in die veiligheid van hulle ondergrondse kamer te lê en daar hul kleintjies vir ‘n ruk groot te maak sonder dat predatore hulle in die hande kry.  

Die res van die Dicynodontia was heelwat groter as CistecephalusKitchinganomodon se skedel byvoorbeeld is bykans ‘n meter lank en diere soos Kannemeyeria van Suid-Afrika en Placerias van Noord-Amerika het tot sowat 3 meter lank geword. 

Die grootste lid van die Dicynodontia waarvan ons weet, is Lisowicia van die Laat Trias van Poland en was so groot en swaar soos ‘n olifant.  Die eerste groot herbivoriese dinosauriërs het in hierdie typerk verskyn en Lisowicia was waarskynlik so groot om suksesvol met hulle te kan kompeteer.

Alhoewel die meerderheid sinapsiede anomodonte is, kan mens die evolusie van soogdiere hoofsaaklik in die skelette van die karnivoriese theriodonte sien (lees meer hieroor in Sinapsiede 3: Theriodonte). 

– 0 –

As jy anomodont fossiele en rekonstruksies wil sien, besoek gerus die: Transvaal Museum in Pretoria (wat nou as die Ditsong Museum bekend staan); die Nasionale Museum in Bloemfontein en die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad (wat nou die Iziko South African Museum genoem word).

Andersins kan jy na die uitstekende rekonstruksies van Diictodon en Lystrosaurus en hul tydgenote op Episode 3 van Walking with Monsters (BBC) kyk:  https://www.dailymotion.com/video/x5j0tj7

.

 

error: Content is protected !!