Evolusie van die mens 4: Die Vermiste Skakel

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Evolusie van die mens 4: Die Vermiste Skakel

June 1, 2021 paleontologie 0

DIE EVOLUSIE VAN DIE MENS 4:

DIE VERMISTE SKAKEL

François Durand

Darwin

In 1871 maak Charles Darwin in sy boek The Descent of Man die volgende profetiese stelling: “In each great region of the world the living mammals are closely related to the extinct species of the same region.  It is, therefore, probable that Africa was formerly inhabited by extinct apes closely allied to the gorilla and chimpanzee; and as these two species are now man’s nearest allies, it is somewhat more probable that our early progenitors lived on the African continent than elsewhere”.

Desondanks Darwin se voorspelling het paleontoloë aanvanklik al hoe meer oermens-oorblyfsels in Europa, Asië en die Midde-Ooste ontdek.  Hierdie oermens-fossiele – Homo erectus, Homo heidelbergensis en Homo neanderthalensis hoort egter almal aan dieselfde genus as die moderne mens en het meer eienskappe met mense as met ander grootape in gemeen.  Die skakel tussen die mens en die res van die mensape soos die gorilla en sjimpansee was tot in die eerste deel van die twintigste eeu nog nie gevind nie.  Met ander woorde ‘n fossiel met ‘n mengsel van mens en chimpanzee-agtige kenmerke was nog nie gevind nie.  Die vreemde Piltdown fonds, wat in 1908 ontdek is, het egter die rol van die “Vermiste Skakel” in sommige paleontoloë – veral Britse paleontoloë – se verwysingsraamwerk tot die vyftigerjare gevul.  Daar was egter baie paleontoloë wat nooit Piltdown Man as die Vermiste Skakel aanvaar het nie aangesien dit met al die beskikbare feite ten opsigte van mensevolusie gebots het. 

Jong Raymond Dart

Raymond Dart het reeds as skoolseun in Ipswich Grammar School in Australië besluit dat hy ‘n dokter wou word.  Hy het sy universiteitsopleiding by die Universiteit van Queensland en daarna by St. Andrew’s College in Sydney ontvang.  Nadat hy sy mediese graad in 1917 behaal het, vertrek hy per skip na Engeland toe, waarvandaan hy tydens die Eerste Wêreldoorlog na Frankryk as lid van die Mediese Korps van die Australiaanse Leër uitgepos is. 

Na die oorlog kry hy ‘n pos as senior demonstrateur (‘n doserings-assistent wat junior studente tydens praktiese demonstrasies bystaan) onder die beroemde anatomie-kenner professor Grafton Elliot Smith van die University College van London.  In 1920 gaan Dart na Amerika as deelnemer aan ‘n akademiese uitruilskema tussen Amerika en Engeland, wat deur die Rockefeller Foundation geborg is.  Dart het vir ses maande by Washington University in St. Louis gedoseer en daarna vir drie maande verskillende mediese skole besoek voordat hy vir drie maande by die Woods Hole Mariene-biologie Stasie navorsing gedoen het.  Kort voor sy terugtog na Engeland in September 1921, trou hy met ‘n mediese student, Dora Tyree, wat hy op sy reise deur die VSA ontmoet het.

Terug by University College, word Dart as hoof van die histologie afdeling aangestel.  Hy word egter verras deur die teenwoordigheid van ‘n nuwe laboratorium-assistent, ene professor Nikolay Konstantinovich Kulchitsky.  Professor Kulchitsky was egter ‘n wêreldberoemde histoloog en neuroloog, oorspronklik van Kharkov Universiteit en die voormalige Minister van Opvoeding van Rusland onder Tsaar Nikolaas.  Vir een of ander rede het die Bolsjeviste hom nie saam met die ander voormalige ministers om die lewe gebring nie en kon hy en sy vrou en dogter na Engeland ontsnap.  Aangesien Kulchitsky nie ‘n woord Engels kon praat nie moes hy en Dart met hul rudimentêre kennis van Frans en Duits oor die weg kom.  Nogtans skryf Dart dat sy kennis van anatomie, wat later so handig te pas gekom het, te danke was aan die blootstelling wat hy aan kennis van hierdie groot kundige gehad het.

Dit was juis tydens sy betrekking by University College dat Dart se belangstelling in fisiese antropologie (die studie van die bou en ontstaan van die mens) ontluik het.  Dart het, wanneer hy moontlik ‘n tydjie kon afknyp, deur die groot vergelykende versamelings in die museum van die Royal College of Surgeons gewerk.  Professor Elliot Smith was toe ook op daardie tydstip besig om die sogenaamde Piltdown Man se skedel te rekonstrueer en Dart het algaande al hoe meer in sy hoof se navorsing begin belangstel.

Professor Dart

Kort voor Kersfees 1922 vertrek Dart en sy vrou per boot na Suid-Afrika waar hy die pos as die hoof van die Anatomie Departement van die Universiteit van die Witwatersrand se nuwe Mediese Skool aanvaar het.  Hulle was nie baie opgewonde hieroor nie want Dart was van mening dat hy nou van die wêreldsetel van medisyne weggeskeur word en boonop moes hy al sy studies en navorsing met van die wêreld se voorste navorsers opgee – en dit alles in ruil vir ‘n professorskap in ‘n swak toegeruste jong universiteitjie in ‘n myndorp in Afrika.  By hulle aankoms in Johannesburg was hulle getref deur skynbare agterlikheid van die plek.  Volgens sy beskrywing was daar ‘n atmosfeer van tydelikheid opgesluit in die rye op rye sinkdakhuisies wat vanuit die delwersdae gedateer het.  Dit het vir hom gevoel dat ‘n ekonomiese terugslag Johannesburg binne ‘n paar dae in ‘n spookdorp sou omskep.  Die twee-verdieping Mediese Skool, wat deur ‘n drie meter hoë baksteenmuur omring was, het oorspronklik as militêre barakke gedien.  In die afwesigheid van tuine, was die gronde met lang gras en bossies gevul.  Weinig van die dorpsmense het eers van die bestaan van die Mediese Skool geweet.

Die toestand van die Anatomie Departement was maar beroerd om die minste te sê.  Die mure van die disseksiesaal was besmeer met merke van studente wat rugby en tennis daarbinne gespeel het.  Daar was geen water, elektriese sokke, gas of druklug in die laboratoriums nie.  Daar was slegs een voltydse assistent – in Dart se woorde: “a simple-minded preparator of material in the mortuary basement underground”.  Die uitgedorde liggaamsdele op die sink-opslaantafeltjies in die disseksiesaal was slegs deur goiingsakke bedek.  Mev. Dora Dart, wat van haar mediese studies in Cincinnati weggeraap is om met Raymond Dart te trou, en aan baie beter gewoond was, het in trane uitgebars toe hulle die haglike toestand van die WITS Mediese Skool vir die eerste maal aanskou. 

Terwyl die universiteitsvakansie nog aan die gang was het die Darts aan die werk gespring.  Dora het onder andere Johannesburg platgeloop om goedkoop maar sterk katoenmateriaal in die hande te kry waarmee sy slope gemaak het om die kadawers op die disseksietafels te bedek en die universiteitsowerhede is oorreed om die disseksiesaal nuut uit te verf.  Hierdie nesskroppery was die begin van groot dinge, nie alleen vir die Universiteit van die Witwatersrand nie, maar vir die hele Suid-Afrika en uiteindelik die wêreld.

Taung

Dart het altyd nog sy belangstelling in antropologie behou en het van hierdie entoesiasme aan sy studente oorgedra.  Voor die wintervakansie in 1924 het hy sy studente aangemoedig om fossiele, geraamtes en ander dele van ieder en elke soort dier vir die Mediese Skool se groeiende anatomie-museum te versamel.  Hy het selfs ‘n beloning van £5 vir die interessantste fonds van die vakansie aangebied.

Na die vakansie kom een van sy studente Josephine Salmons terug met die nuus dat sy ‘n fossielskedel op die kaggel van ‘n familievriend, mnr. E.G. Izod, ‘n direkteur van die Northern Lime Company, gesien het.  Sy noem toe ewe terloops dat die skedel van die kalkmyn by Taung naas Buxton in Betsjoeanaland (tans deel van Noordwes Provinsie) afkomstig is waar daar dikwels fossielskedels en bene ontdek word.  Dart se belangstelling was nog meer geprikkel toe sy noem dat dit moonlik ‘n bobbejaanskedel kon wees. 

Die eens skeptiese houding van Dart het gou in entoesiasme verander toe hy ontdek dat mnr. Izod se fonds wél die skedel van ‘n onbekende oer-bobbejaanspspesie in kalksteen was.  ‘n Paar minute later is hy en die fossiel in sy model-T Ford na sy vriend die gesoute geoloog dr. R.B. Young.  Tot Dart se verbasing het Young nie slegs van die bestaan van Taung kalkmyn geweet nie, maar was selfs deur die eienaars van die myn genader om ‘n naburinge kalksteenneerslag by Thoming te ondersoek.  Young het aangebied om die mynbestuurder by Taung, mnr. A.E. Spiers, te vra om al die beendraende rotse wat daar gevind word, aan prof. Dart te stuur.

De Bruyn en Spiers

By Taung kalkmyn het daar in daardie tyd ‘n ou mynwerker, ene meneer M. de Bruyn gewerk. De Bruyn het deur die jare ‘n groot belangstelling in die fossiele van die Taung kalkmyn ontwikkel en het toe al vir jare reeds hierdie fossiele wat plek-plek in die pienk tot rooibruin breksie in die kranswand voorkom, versamel.  Talle van hierdie fossiele was oerbobbejaanskedels.  Nadat hy ‘n nuwe gedeelte van die rotswand met dinamiet, iewers tussen 3 en 21 November 1924, weggeskiet het, het hy iets gevind wat heeltemal anders as die ander fossiele voorgekom het.  Hy het hierdie nuwe fonds saam met talle ander fossieldraende rotse, ‘n week voor dr. Young se koms, aan die mynbestuurder, mnr. Spiers, oorhandig.  Volgens een vertelling het ‘n spesifieke fossiel-brein wat De Bruyn gevind het as papiergewig op Spiers se lessenaar gedien!  Nadat Young vir Spiers oortuig het van Dart se belangstelling in hierdie fossiele, het Spiers opdrag gegee dat alles verkrat en aan Dart gestuur moes word.

Alhoewel Dart in spanning vir die aankoms van die fossiele gewag het, het dit op ‘n baie onvanpaste tyd opgedaag.  Op Vrydag 28 November 1924, was die Darts onderbreek terwyl hulle besig was om vir die troue van hul vriend Christo Beyers voor te berei, wat nogal in hulle huis in Melrose, Johannesburg sou plaasvind.  In hulle rylaan het hulle twee Spoorwegwerkers gesien wat onder die gewig van twee kratte instrompel.  Sy vrou se vermanings ten spyt, kon Dart sy nuuskierigheid nie bedwing nie.  Nadat hy sy gestyfde boortjie verwyder het, het hy vir sy bediendes gevra om die kratte van die stoep na die prieël te dra terwyl hy vir iets gaan soek het om dit mee oop te maak.

Die Breinkasgietsel

Met groot afwagting het Dart die deksel van die eerste krat oopgemaak, maar tot sy teleurstelling was daar slegs rotsblokke met stukkies been, skilpaddoppe en eierdoppe sigbaar.  Afgehaal het hy die tweede krat oopgemaak met die verwagting dat hy dieselfde tipe rotse daarin as in die eerste krat daarin sou kry.  Heel bo-op die hoop rotse in die tweede krat het daar egter ‘n breinkasgietsel gelê (‘n breinkasgietsel lyk nes die brein wat die breinkas gevul het). 

Breinkasgietsels word gevorm deurdat modder of sand deur die openinge van die skedel binnestroom en mettertyd daar versteen.  Meeste fossielskedels het versteende breinkasgietsels binne-in maar fossielskedels is normaalweg te skaars en kosbaar om oop te breek om sodoende die natuurlike breinkasgietsel te ontbloot.  ‘n Navorser kan wel ‘n skedel versigtig oopsaag en dan met verdunde suur of met instumente die breinkas skoonmaak.  Tydens hierdie skoonmaakproses word allerlei besonderhede soos die afdrukke wat die breinlobbe, bloedvate en breinkronkels op die breinkaswand nagelaat het en die openinge vir die kopsenuwees en bloedvate ontbloot.  Hierna kan die navorser bv. silikonrubber in die breinkas giet.  Die gestolde rubberproduk word ook ‘n breinkasgietsel of endogietsel genoem.  Nadat die breinkasgietsel versigtig uit die breinkas gehaal is, kan mens ‘n goeie aanduiding kry van hoe die dier se brein oorspronklik moes gelyk het.  Allerlei fyn besonderhede soos die breinlobbe, oppervlakkige bloedvate, kopsenuwees, ens. is onderskeibaar op so ‘n breinkasgietsel.  Deesdae kan mens, afhangende van die digtheid van die fossiel en die versteende breinkasgietsel, met behulp X-strale die breinkas verken sonder om die skedel oop te saag of die binnekant skoon te maak.

Die gesig in die klip

Opgewonde het Dart die afdrukke van die bloedvate, kronkels en groewe op die oppervlakte van die unieke breinkasgietsel aanskou.  Hy was veral opgewonde toe hy let dat die breinkasgietsel veel groter as dié van ‘n bobbejaan maar tog kleiner as dié van ‘n primitiewe mens s’n is.  Dart het naarstigtelik tussen die rotsblokke in die krat begin rondkrap op soek na die fossiel waaruit die breinkasgietsel gekom het.  Uiteindelik het hy ‘n blok gekry met ‘n holte waarin die breinkasgietsel perfek ingepas het.  Die buitelyn van die oopgebreekte skedel en die agterste deel van die onderkaak was duidelik sigbaar in die rots.  Dart het dadelik besef dat die skedel se gesig binne-in die rots moes wees.  Allerlei gedagtes het deur sy kop gemaal toe die voornemende bruidegom hom uit sy dagdromery wakkerskud en aanjaag om betyds te wees vir die troue waar hy veronderstel was om as strooijonker op te tree.  Teësinnig het hy alles in die kratte teruggepak buiten vir die breinkasgietsel en die blok waaruit dit gekom het wat hy in sy klerekas toegesluit het.  Hy het ongeduldig gewag vir die huweliksseremonie om te eindig en die gaste om huis toe te gaan sodat hy na sy fossiele kon terugkeer.

Die eerste ding wat Dart moes doen was natuurlik om die skedel uit die rotsblok te verwyder.  Hy het geen kennis van fossielpreparasie (die uithaal en skoonmaak van fossiele) gehad nie en daar was daar niemand in Suid-Afrika om by kers op te steek nie.  Al instrumente wat hy tot sy beskikking had was ‘n hamer en klein beiteltjies wat hy by die plaaslike hardewarewinkel gekoop het.  Tydens die preparasie van die fossiel het Dart dit op sandgevulde tabaksakkies gestut.  Nadat hy die ligging van die skedel bepaal het, het hy gevind dat een van sy vrou se skerpgemaakte breinaalde die beste prepareerinstrument was.

Terwyl die onderkaak geleidelik vanuit die rots vrygekom het, het Dart al hoe meer opgewonde geraak.  Hy was nou oortuig daarvan dat die hele gesig binne die rots moes wees.  Snags het hy slapeloos rondgerol, terwyl hy ongeduldig op die nuwe dag gewag het.  Hy het die dorp se boekwinkels gefynkam op soek na boeke wat vir hom van hulp kon wees aangesien daar toentertyd nie eens ‘n universiteitsbiblioteek by die Universiteit van die Witwatersrand was nie en nog minder ’n mediese of selfs ’n anatomie-biblioteek.  Buiten vir die boeke en gietsels wat hy van Engeland saamgebring het, het hy geen ander verwysings gehad nie.

Die Vermiste Skakel

Alhoewel Dart elke beskikbare oomblik van die dag en nag aan die preparasie van die fossiel gewy het, het die voorste gedeelte van die rots eers na 23 dae oopgebreek sodat die gesig van die wese sigbaar was.  Hierdie wese was toe al die tyd nie ‘n volwasse mensaap soos ‘n gorilla of sjimpansee nie, maar ‘n baba met ‘n volledige stel melktande en eerste permanente maaltande wat net-net begin uitkom het.  Dart skryf dat hy oortuig is dat hy trotser op sy baba was as wat enige ander ouer op syne op daardie Kersfees van 1924 kon wees.

Volgens die perfek-bewaarde 20 melktande en die vier permanente maaltande in hul kaste kon Dart aflei dat die skedel van ‘n mensaap-kind van tussen 3 tot 5 jaar oud was.  Die groot uitdaging wat Dart nou in die gesig gestaar het was om te bepaal tot watter tak van die mensaap-stamboom hy die skedel moes voeg (die Famliie Hominidae, of grootape, bestaan uit die ekstante mens, sjimpansee, bonobo, gorilla en orangoetang en die uitgestorwe aapmense en oermense).  

Alhoewel die Taung-kind se skedel nie heeltemal so ‘n plat snoet as ‘n mensekind het nie, steek sy verkorte bo-en onderkake by verre minder vorentoe uit as dié van sjimpansee- en gorilla-kleintjies.  Die Taung skedel se wangbene is ook baie meer delikaat en nie so breed uitgestek as dié van die ander mensape nie.  Daar is geen teken van wenkbrou-riwwe nie, wat selfs op ‘n baie jong ouderdom in sjimpansee en gorilla-kleintjies teenwoordig is.  Die voorhoof kurf boontoe bo-oor die oogkaste soos in die mens, i.p.v. agtertoe soos in die geval van die ander mensape s’n.  Alhoewel die Taung-kind se snoethoeke (die bokaak bokant die slagtande) sterker as in mense ontwikkel is, is die slagtande self baie kleiner as dié van die ander mensape en bykans identies aan mensekinders se oogtande.  Die res van die gebit is ook, buiten vir die ietwat groter kiestande, soortgelyk aan dié van mensekinders.

Die breinkas- en breingietsel-kenmerke wissel ook tussen wat jy in ‘n aap en ‘n mens sou verwag.  Die ronding van die skedel en vorm van die breingietsel dui daarop dat die foramen magnum (die opening van die skedel waardeur die rugstring met die brein verbind is) direk onder die skedel geleë was soos in die mens, i.p.v. skuins na agter soos in die geval van ander mensape.  Die Taung-kind het dus regop geloop.   Die Taung-kind se brein was 405cm³ groot terwyl die gemiddelde volwasse sjimpansee s’n ongeveer 300-500cm³ groot is, dus vergelykbaar in grootte met dié van ‘n sjimpansee en veel kleiner as die van ‘n mens.  

Nog nooit voorheen in die geskiedenis was daar ‘n soorgelyke fossiel ontdek nie.  Die unieke mengsel van mens- en ander mensaap-eienskappe het Dart oortuig dat hierdie wese iewers tussen die mens en die ander mensape op die evolusionêre stamlyn geplaas moes word en het dit die Missing Link, of te wel daarna as die Vermiste Skakel verwys.  Hy het die fossiel Australopithecus africanus gedoop of te wel “Suidelike aap van Afrika”. 

Die aankondiging

Teen ongeveer die sesde Januarie 1925 het Dart ‘n referaat met ‘n gedetaileerde beskrywing van die Taung skedel aan die Britse wetenskaptydskrif Nature vir publikasie gestuur.  Hy het ook die volledige artikel en fotos aan die nuusredakteur van The Star oorhandig met die voorwaarde dat hulle dit nie mog publiseer voordat die Nature referaat verskyn het nie.  Uiteindelik het The Star vir Nature ’n telegram gestuur om te verneem wat hulle van plan was om met Dart se referaat te doen.  Nature het geantwoord dat hulle al die inligting ontvang het maar dat die onderwerp so kontroversieël is dat hulle dit aan van die mees gerespekteerde antropoloë in Engeland gestuur het vir hul advies of dit gepubliseer moes word of nie.  The Star het vir Nature in kennis gestel dat hulle slegs tot 3 Februarie 1925 sal wag voordat hulle die storie publiseer.  Nature publiseer die referaat uiteindelik in hulle 7 Februarie uitgawe wat The Star toe hulle “scoop” op 3 Februarie gee.

Die Reaksie

Die reaksie was oorweldigend.  Uit New York kom die volgende nuusberig: “Professor Dart’s theory that the Taungs skull is a missing link has evidently not convinced the legislature of Tennessee, the governor of which state has signed an ‘Anti-Evolution’ Bill which forbids the teaching of any theory contrary to the Biblical story of the creation, or that man is descended from the lower orders of animals.  Similar legislation which is at present before other state legislatures marks the growth of a strict biblisist movement represented by so-called fundamentalist churches whose leading propagandist is the silver-tongued orator, William Jennings Bryan”.

Gelukwensinge het o.a. van Jan Hofmeyer, oud-rektor van WITS en destyds Administrateur van die Transvaal gekom.  Generaal Jan Smuts skryf in sy brief aan Dart dat die fonds: ”…epoch-making discovery, not only of far-reaching importance from an anthropological point of view, but also calculated to concentrate attention on South Africa as the great field for scientific discovery which it undoubtedly is.”

Die algemene publiek het ook met oorgawe gereageer op die nuus.  Dart het persoonlik talle briewe van die publiek ontvang en die koerante was oorstroom met korrespondensie.  Ongelukkig was ‘n groot persentasie van die briewe van fundamentaliste wat hom met godsiens-haatspraak toegegooi het.  Een korrespondent het hom gewaarsku dat hy op die “brink of the eternal abyss of flame” sit, ‘n Franse persoon het geskryf dat Dart sal “roast in the quenchless fires of hell”, ‘n Brit het geskryf dat hy “hope that you will be placed in an institution for the feeble-minded” en ‘n ander korrespondent het geskryf dat hy hoop dat Dart deur God gestraf sal word met “being unblessed with a family which looks like this hideous monster with the hideous name”.

Daar ‘n gemengde maar hoofsaaklik negatiewe reaksie vanuit wetenskaplike kringe.  ‘n Mens sou dink dat meeste wetenskaplikes baie opgewonde oor die nuus sou wees, maar dit was nie die geval nie.  Vir die grootste gedeelte van 1925 was die korrespondensierubriek van Nature gevul met striemende aanvalle teen Dart en sy fonds.

Die pynlikste kritiek het egter van die wêreld se voorste antropoloë soos Sir Arthur Keith, Sir Arthur Smith Woodward, Sir Grafton Elliot Smith (Dart se mentor) en W.L.H. Duckworth gekom.  Hierdie vier kenners was deur die redakteur van Nature genader om hulle kommentaar oor die aanvaarbaarheid van Dart se artikel te lewer.  Keith was van mening dat die Taung-kind ‘n mensaap, naasverwant aan die gorillas en sjimpansees was.  Woodward het aangedring op nog fossiele van dieselfde soort en het die mening uitgespreek dat hierdie nuwe fossiel uit Afrika in elk geval niks tot die ontsluiting van die herkoms van die mens kan bydra nie.  Smith het daarop aangedring dat Dart bowenal die geologiese bewyse vir die ouderdomsbepaling, die presiese ligging waarin die fossiel gevind is en die presiese vorm van die tande moes verskaf. W.L.H. Duckworth, die enigste van die viermanskap wat nie met ‘n ridderskap of Fellowship van die Royal Surgeons bekroon was nie, of ‘n double-barrel van gehad het nie, was ook die gematigste in sy uitspraak.  Duckworth het erken dat hy verskeie gevorderde mensagtige kenmerke op die Taung-skedel kon raaksien maar het bespiegel of dit aan werklike evolusionêre gevorderheid of aan die jeugdigheid van die wese toegeskryf moes word.

Daar was selfs ‘n hele polemiek rondom Dart se keuse van Australopithecus as naam vir die fossie aangesien dit volgens sommige, ‘n onaanvaarbare vermenging van die Latyn austral (suidelik) en die Grieks pithekos (aap) sou wees.  ‘n Korrespondent aan Nature (28/3/1925) skryf: “It is generally felt that the name Australopithecus is an unpleasing hybrid as well as etymologically incorrect”.  F.A. Bather betig Dart in Nature (20/6/1925): “If you want to join in a game, you must learn the rules” en: “Professor Dart does not yet realise the many-sidedness of his offences”. 

Robert Broom

Daar was wel ‘n handjievol wetenskaplikes wat Dart in die vroeë Taung-jare ondersteun het soos dr. Aleš Hrdlička van die Smithsonian Instituut in Washington, prof. William Johnson Sollas van Oxford en die bekendste Suid-Afrikaanse paleontoloog dr. Robert Broom.  Daar word vertel dat Broom een dag, kort na die bekendstelling van die Taung-skedel, sonder seremonie die Anatomie Departement binnegestorm het, verby die verdwaaste Dart en sy kollegas geloop het en op sy knieë voor die vertoonkas waarin die skedeltjie gestaan het “in eerbetoon vir ons voorouer” neergeval het.  Nadat Broom die fossiel vir ‘n naweek lank (21-22 Februarie 1925) bestudeer het, skryf hy aan die Cape Times (25 Februarie 1925): “The skull is … probably the most important ancestral human skull found.  In fact, I regard it as the most important fossil ever discovered.”

Broom skryf in sy boek Finding the Missing Link (1950): “It makes one rub one’s eyes.  Here is a man who had made one of the greatest discoveries in the world’s history – a discovery that may yet rank in importance with Darwin’s Origin of Species; and English culture treats him as if he had been a naughty schoolboy.” Hy voeg by:”I was never able to discover what were Prof. Dart’s offences: Presumably the most serious was that when he found a very important skull he did not immediately send it off to the British Museum, where it would have been examined by an ‘expert’, and probably described ten years later, but boldly described it himself, and published and account within a few weeks of discovery.” 

Die geldigste beswaar teen die aanvaarding van die Taung-kind as die Vermiste Skakel, was dat sekere kenmerkende eienskappe eers in volwassenes volledig ontwikkel is.  Volgens sommige wetenskaplikes is die Taung-kind te jonk om met sekerheid sy ligging in die stamboom van die mensape te bevestig.  Dart moes eenvoudig gaan soek vir volwasse aapmense om hierdie skeptici te oortuig.  Dart som dit op met: “criticism rather than adoration of their potential ancestry seemed to be the overseas reaction”.

Danksy Broom se volgehoue ondersteuning en Dart se volgehoue werk, het die wêreldopinie uiteindelik in Dart se guns geswaai, maar baie water moes eers in die see loop voor dit gebeur het.  Lees meer hieroor in die artikel Oertjie Ples.

 

 

error: Content is protected !!