Evolusie van die mens 5: Oertjie Ples (Australopithecus africanus)

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Evolusie van die mens 5: Oertjie Ples (Australopithecus africanus)

May 14, 2021 paleontologie 0

DIE EVOLUSIE VAN DIE MENS 5:

 OERTJIE PLES

(Australopithecus africanus)

François Durand

Robert Broom (1866 – 1951) was een van die beste paleontoloë wat Suid-Afrika ooit gehad het.  Hy het letterlik honderde, moontlik selfs duisende, fossiele versamel, benoem en beskryf.  Hy was ook die eerste persoon wat ’n onderverdeling van die geologiese lae van die Karoo Supergroep op grond van die fossielinhoud gedoen het (gaan kyk na die Geologiekaart in die Geologie Afdeling as jy wil weet waar die Karoo Supergroep is).

Robert Broom was ook ‘n mediese dokter wat ‘n praktyk in die Karoo gehad het.  Hy was eksentriek om die minste te sê en hy het in verskeie velde van wetenskap belanggestel, selfs miskien meer as in sy pasiënte.  Hy het selfs geologie gestudeer terwyl hy medies by die Universiteit van Glasgow in Skotland gestudeer het.  Daar word vertel dat hy dikwels op pad na ‘n pasiënt op ‘n plaas eers ‘n interessante plant, of akkedis, of fossiel versamel het en dat wanneer hy uiteindelik by die plaas aankom die pasiënt of reeds dood of gesond was, of dat die baba reeds gebore was.  Dit sou dalk verklaar hoekom hy ook brandarm was.

Hy was ook altyd in ’n driestukpak geklee en daarby meestal nog met ’n opslaanboordjie, selfs toe dit al lankal uit die mode was. Hy het só geklee babas gevang en fossiele opgegrawe.  Dit was egter al wat ingetoë omtrent die man was. Hy het alles op sy eie manier gedoen, wanneer hy wou en hoe hy wou en hy het nie twak van enigeen geduld nie.  Hy het tot sy oudag gewerk en sou iemand wat hom op kantoor kom lastig val het maklik uitgejaag het met: “ek het nie genoeg tyd in my lewe oor om na jou nonsens te luister nie”.

Op 68, ’n ouderdom waarop ander mense gewoonlik alreeds afgetree is, aanvaar die Broom ’n voltydse pos as paleontoloog by die Transvaal Museum in Pretoria in Augustus 1934.  Sy aanstelling was deur Jan Hofmeyr (Minister van Binnelandse Sake, Volksgesondheid en Onderwys) en Jan Smuts (destyds adjunkpremier van Suid-Afrika) bewerkstellig omdat hulle geglo het dat dit ‘n jammerte sou wees as Broom tot op sy oudag as mediese dokter in die Karoo sy brood moes verdien eerder as om sy laaste jare aan die wetenskap te wy. 

Agtien maande na sy aanstelling loods Broom ’n soektog na nog aapmensfossiele om die polemiek, wat rondom professor Raymond Dart se Taung-fonds ontstaan het, op te los.  In 1925 het professor Dart van die Mediese Skool van WITS aangekondig dat die gefossileerde baba-skedel wat in ‘n kalkmyn by Taung, die Vermiste Skakel was (lees die artikel Die Vermiste Skakel).  Dart se aanspraak dat hy die Vermiste Skakel ontdek het was aanvanklik deur ‘n groot deel van die antropologiese gemeenskap verwerp – om nie eens van die publiek te praat nie.  Broom was egter van die staanspoor aan Dart se kant en vasbeslote om voorbeelde van volwasse aapmense uit te snuffel en sodoende finaal die kritici se monde te snoer. 

Broom het begin deur om oor grotte en kalkmyne in die omgewing navraag te doen.  Gou het sy speurwerk vrugte opgelewer.  Dr. Robert Lang, ‘n bekende Amerikaanse reisiger en natuurkundige, het vroeër fossielryke grotbreksie by ‘n ou kalkmyn suidwes van Pretoria gevind.  Broom het hierdie vindplek, naby Hennopsrivier, besoek en binne ‘n paar weke kon hy die skelette van ses nuwe oer-rot en -mol spesies, ‘n sabeltandkat en reuse bobbejaan eien.  Broom se ontdekkings by Hennopsrivier was in die koerant gepubliseer en het só onder die aandag van twee van prof. Dart se studente gekom.  Hierdie studente, menere G.W.H. Schepers en H. le Riche, het vir Broom van die fossielbene gegee wat hulle by die Sterkfonteingrotte ontdek het.

Die Sterkfonteingrotte in Krugersdorp-distrik was toe reeds vir dekades as kalkmyn benut waar travertyn, stalagtiete, stalagmiete en selfs fossielryke breksie opgebreek en in die kalkoonde verbrand is.  Hierdie fossielryke grotkompleks was eerste in 1897 deur mnr. M.E. Frames beskryf.  Ironies het geen enkele geoloog, of paleontoloog van die Geologiese Opname in Pretoria, dosente van die Geologie en Mynbou Departemente van WITS Universiteit, of die Johannesburgse Tegniese Kollege, of lede van die Monumentekomissie tussen 1897 en 1935 die terrein besoek nie, terwyl fossiele in hulle derduisende in die kalkoonde vernietig is.

Op Sondag, 9 Augustus 1936, besoek Broom en sy twee jong vriende, Schepers en le Riche, die grotte.  Hier ontmoet hulle mnr. G.W.Barlow wat tydens die week die steengroefbaas was en oor naweke, wanneer die grotte vir die publiek oop was, terreinopsigter gespeel het.  Kort voor lank het Broom vasgestel dat Barlow voorheen op Taung gewerk het en iets van fossiele af weet.  Trouens, mnr. Barlow het beken dat hy selfs al soortgelyke fossiele by Sterkfontein teëgekom het as dié by Taung.  Barlow het hulle na ‘n rondawel, wat as ‘n teekamer gedien het, geneem waar hy vir hulle ‘n klomp fossiele op die tafel gewys het.  Broom was aanvanklik onder die indruk dat dit ‘n tipe museumpie was, maar het tydens sy tweede besoek, die volgende Maandag, gemerk dat van die fossiele weg is.  Toe hy Barlow daaroor uitvra, was sy ongeërgde antwoord dat hy nie weet wie dit nou het nie, maar as Broom in van die fossiele belang gestel het, hy dit eerder moes gekoop het toe hy die geleentheid gehad het.   Heelwaarskynlik het verskeie onvervangbare, waardevolle fossiele ook op hierdie wyse verlore gegaan.

Broom het egter daarin geslaag om Barlow se inhaligheid in opregte belangstelling te verander.  Broom het tydens dié ernstige gesprek hom laat verstaan dat hy op soek is na aapmens-fossiele soos die wat by Taung ontdek is.  Op Maandag 17 Augustus 1936 oorhandig Barlow aan Broom ‘n pragtig bewaarde breinkasgietsel wat daardie oggend in die steengroef met dinamiet uitgeskiet is.  Broom het onmiddelik besef dat hierdie breinkasgietsel, wat ongeveer die voorste twee derdes van die breinkas gevul het, slegs aan ‘n grootaap kon hoort.  Ondanks ‘n urelange soektog kon Broom slegs die afdruk van die bokant van die aapmens-skedel waaruit die breinkasgietsel gekom het dié dag opspoor.

Broom was egter nie iemand wat gou tou opgegooi het nie – die volgende dag keer hy terug met dr. Herbert Lang, menere FitzSimons, White en drie arbeiders van die Transvaal Museum – en toe soek hulle eers.  Dieselfde dag nog ontdek Broom verskeie stukke van die aapmens-skedel in die mynpuin.  Broom het dus binne drie maande van die aanvang van sy soektog en binne nege dae op Sterkfontein, die eerste volwasse aapmens skedel gevind!  Op 19 September 1936 verskyn artikels oor die nuwe fonds in The Illustrated London News en die wetenskapjoernaal Nature.  Oorspronklik het Broom die aapmens Australopithecus transvaalensis gedoop en later het hy dit na Plesianthropus transvaalensis verander.  Met die ontdekking van talle ander fondse was genoegsame getuienis mettertyd opgebou om te bewys dat hierdie twee eintlik aan dieselfde spesie hoort en was Plesianthropus transvaalensis ten gunste van die ouer sinoniem Australopithecus africanus gesink.

Die naam Ples is deur die pers van die naam Plesianthropus afgelei.

Maandelank het Broom een of twee keer ‘n week Sterkfontein besoek en selde sonder fossiele teruggekeer.  Benewens aapmensfossiele het hy begin om fossiele van die verwante fauna, wat o.a. ‘n sabeltandkat, ‘n gouemol, bobbejane, jakkalse en knaagdiere ingesluit het, te versamel.  Broom het terselfdertyd met opgrawings op Bolt’s Farm, ongeveer twee kilometer wes van Sterkfontein, begin.  Daar het hy ook ‘n verskeidenheid fossiele ontdek, o.a. dié van ‘n tweede tipe sabeltandkat, ‘n ander spesie gouemol en ‘n reuse wildevark, maar geen aapmense nie.  Laasgenoemde ontdekkings het Broom tot die gedagte laat kom dat die twee grotafsettings tydens verskillende tydperke plaasgevind het.

In Januarie 1937 vertrek Broom op ‘n oorsese lesingtoer en om ‘n ere-doktorsgraad te ontvang.  Voor sy vertrek na Amerika, gee Broom eers ‘n lesing oor sy fossielfondse aan die Zoological Society van London.  Op 20 Maart 1937 gee Broom as gaspreker ‘n lesing by die antropologiekongres in Philadelphia.  Hy verwyl April in New York en besoek o.a. Harvard, New Haven en Amhurst en onderneem daarna ‘n lesingtoer wat vir hom gereël is na Chicago, Berkeley, Los Angeles, Salt Lake City, Lincoln en Cleveland.  Alhoewel hy aanvanklik onder die indruk was dat Amerikaners maar bra gekant teen evolusie was, het sy gehore hom aangenaam verras – in New York het hy ‘n gehoor van 2000 entoesiastiese mense toegespreek.  In Junie ontvang hy ‘n ere-DSc graad van Columbia Universiteit.

Vanaf Augustus 1936 tot 1938 werk Broom op en om Sterkfontein en ontdek hy nog verskeie aapmensreste en honderde ander dier-fossiele.  In 1938 breek die Tweede Wêreldoorlog uit waartydens opgrawings in die Krugersdorp-distrik gestaak is.  In hierdie tydperk maak Broom ‘n restourasie van die eerste aapmens-skedel wat hy in 1936 ontdek het en spandeer meeste van sy tyd deur om die soogdier fossiele wat in Krugersdorp-distrik versamel is, skoon te maak en te beskryf.    Daarbenewens het Sidney Rubidge van die Graaff Reinet-distrik ‘n spul Karoo reptiel-fossiele aan hom gestuur wat hy moes bestudeer.  Hy werk ook gedurende 1944 en 1945 saam met G.W.H. Schepers (nou self ‘n dokter) aan ‘n boek getiteld: The South African Fossil Ape-Men – the Australopithecinae.

Hierdie boek, wat op 31 Januarie 1946 die lig gesien het, was die eerste druppel van die groot gety wat ten gunste van Broom en Dart gedraai het.  Sir Arthur Keith (een van die oorspronklike vier antropologie-kenners wat Dart afgeskiet het – sien die artikel Die Vermiste Skakel) skryf op 12 Maart 1946 aan Broom: ” I now agree with you that piece of humerus, the lower end of the femur, the astralagus, metacarpal … are parts of Paranthropus and Plesianthropus; that the teeth have all the characters of human teeth, that the hands were free and that the posture was bipedal; and yet I call even Paranthropus a man but an anthropoid.  Whatever theory one holds of human evolution, man as we know him, must have passed through such a stage as is represented by the Australopets!  I agree they [may] be direct descendants of such a stage.” In ‘n daaropvolgende brief skryf Keith egter:”No doubt the South African anthropoids are much more human than I had originally supposed.”

Generaal Jan Smuts, wat ‘n wetenskaplike in eie reg was, het self baie in evolusie belanggestel en het veral die soeke na die voorsaat van die mens ondersteun.  Hy het ook ingestem om die voorwoord vir Broom en Schepers se boek te skryf.  Kort voor Smuts se vertrek na die VVO byeenkoms in New York in Augustus 1946, het hy Broom na sy kantoor ontbied.  Hy het Broom meegedeel dat dit van uiterste belang is om sy soektog na nog voorbeelde van die “Vermiste Skakel” voort te sit.  Volgens Smuts het hierdie navorsing nie slegs ‘n uiters belangrike bydrae tot die uitbreiding van kennis gelewer nie, maar sou dit veral ‘n belangstelling in Suid-Afrikaanse wetenskap aanmoedig.  Smuts het met Jan Hofmeyr, die waarnemende Eerste Minister, afgespreek dat die regering enige fondse wat Broom vir sy navorsing sou benodig, sal voorsien.

Toentertyd was die Historiese Monumentekommissie (die voorloper van die hedendaagse Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede) reeds funksioneel.  Hierdie liggaam se hooffunksie was om toe te sien dat die Suid-Afrikaanse geskiedkundige, argeologiese en fossielerfenis vir die nageslag bewaar moet word.  Uiteindelik bepaal die Monumenteraad wie mag waar en op wat werk.  As jy byvoorbeeld nie ten minste ‘n Honneursgraad in Argeologie het nie, kan jy nie ‘n permit by die Monumenteraad kry om op ‘n argeologiese terrein te werk nie.  Ongelukkig veroorsaak die burokratiese gerondslomp dat die terrein soms totaal vernietig is voordat ‘n permit aan iemand, met of sonder die regte kwalifikasies, uitgereik word.

Net toe Broom weer met sy opgrawings wou begin, steek die Monumentekommissie ‘n stokkie daarvoor.  Terwyl fossiele op ‘n astronomiese skaal deur mynbouaktiwiteite vernietig is, verbied die Historiese Monumentekommissie Broom om met fossielversameling voort te gaan alvorens iemand “bekwaam” hom vergesel.  Hierdie persoon moes volgens hulle ‘n bevoegde geoloog wees.  Die ironie is skreiend – hier was die man wat die volle potensiaal van die vindplek ingesien het, wat alles in sy vermoë gedoen het om Sterkfontein se fossiele van vernietiging te red, wat meer fossiele as enige van sy tydsgenote versamel het, wat meer vir Suid-Afrikaanse paleontologie as enigiemand anders gedoen het, wat as beste student in Geologie by Glasgow Universiteit aangewys is, wat vir sewe jaar as Professor in Geologie by Victoria College (die voorloper van Stellenbosch Universiteit) gedoseer het – en die Monumentekommissie is ontevrede dat hy volgens hulle nie bevoeg is nie!  Aan die ander kant was die professionele geoloë – wat vir dekades lank reeds van Sterkfontein geweet het, maar hulself so min daaraan gesteur het dat onberekenbare skade aan ons fossielerfenis deur die mynbouaktiwiteite aangerig is – maar die Monumentekommisie het hulle as gepaste oppassers vir Broom beskou!

Broom het die Monumentekommisie se voorskrifte as ‘n opperste belediging beskou en ondanks hul dreigemente met fossielversameling by Sterkfontein voortgegaan.  Die situasie was naderhand so gespanne dat Broom ‘n advokaat aangestel om hom in die hof te verdedig indien nodig.  Uiteindelik het Broom selfs homself op generaal Jan Smuts beroep om die situasie te probeer ontlont.  Druk van o.a. die Transvaal Museum se beheerraad het Broom genoop om maar vir tyd en wyl sy aandag elders te vestig en het hy begin om fossiele op ‘n plaas genaamd Kromdraai (ongeveer ‘n kilometer van Sterkfontein), op te grawe.  Toe die Monumentekommissie dit uitvind, stuur hulle aan Broom ‘n permit om hom te verwittig dat hy maar kon aangaan met sy navorsing op Kromdraai – sonder enige verwysing na ‘n toesighoudende geoloog.  Hulle het egter steeds geweier om vir hom toestemming te gee om op Sterkfontein te werk.

In teëreaksie begin Broom moedswillig weer met sy fossielversameling by Sterkfontein op 1 April 1947, uiteraard sonder die veelbewoë permit, net om vir die Monumentekommissie te wys wat hy van hulle dink.  Broom was soos altyd op sy stukke – binne slegs ‘n paar dae ontdek hy nog verskeie aapmense se oorblyfsels.  Op 18 April 1947, skiet hulle ‘n groot rotsblok, ongeveer een meter onder die vindplek waar hulle in 1936 die eerste volwasse aapmens gekry het, uit.  Toe die stof gaan lê, kry hulle ‘n aapmens-skedel wat in twee gebreek is – die boonste deel in die los rotsblok en die onderste deel in die rotswand.  Broom het die waarde van sy fonds besef en besluit om die skedel in situ af te neem.  Aangesien hulle nie ‘n kamera by hulle had nie en hulle 48km van Johannesburg en 64km van Pretoria was, het hulle telefonies ‘n fotograaf van The Star vanaf ‘n naburige plaasboer uitgenooi om fotos te kom neem.  Hierdie fotos en van Broom se illustrasies het in The Star, Nature, Illustrated London News en in die Amerikaanse Museum se tydskrif, Natural History, verskyn.

Broom het hierna die skedel versigtig uit die rots verwyder en na die Transvaal Museum vervoer waar hy dit skoongemaak het.  Hierdie tydsame proses het die eerste onverwronge, bykans volledige skedel van ‘n aapmens ontbloot.  Hy was van opinie dat dit die skedel van ‘n wyfie aapmens was omdat dit ietwat kleiner as die eerste aapmens-skedel was wat hy gevind het – hieruit is die bynaam “Mrs Ples” afgelei.  Ek het besluit dat die naam Oertjie Ples beter sal pas omdat daar onsekerheid oor die geslag van hierdie skedel is.  X-strale van die skedel het gewys dat die verstandtande nog nie uitgekom het nie – met ander woorde dit is die skedel van ‘n sub-volwassene.  Dit bedoel dat as die individu nie so vroeg doodgegaan het nie, dit nog groter sou word, en dus waarskynlik ‘n jong mannetjie is.  Ek gebruik die woord Oertjie soos mens die woord Grootjie sou gebruik want dit dui op die ouderdom, ons verwantskap en dis ongeslagtelik. 

Broom het besef dat dit een van die belangrikste wetenskaplike ontdekkings in die geskiedenis van die mensdom was. Hy was inderdaad reg – nog selde in die geskiedenis het ‘n enkele ontdekking sulke vêr-reikende gevolge gehad.  ‘n Kettingreaksie van gebeure het gevolg – die wetenskaplike, maatskaplike en godsdienstige sfere het gesteier onder die nuwe inligting.  Die Taung skedeltjie kon moontlik as ‘n lastige anomalie onder die mat ingevee word, maar Broom het nou die onomstootlike, onignoreerbare bewys van die bestaan van aapmense gehad.  Die aapmens-skeletfragmente wat hy vir bykans ‘n dekade opgegrawe het, het nou skielik nuwe betekenis gekry en mense wat weinig notisie daarvan geneem het, het nou skielik regop gesit.

Broom se ontdekkings het finaal Piltdown Man onttroon en daarmee saam ‘n hele generasie dogmatiese antropoloë op hulle plek gesit (lees die artikel Die Piltdown Vervalsing).  Die ou man se bewyse was oortuigend genoeg dat Dart se reputasie uiteindelik gewreek is.  Joseph Birdsell skryf in sy boek Human Evolution (1972) dat Dart se bevindings oorspronklik “by four of the most eminent authorities in the English-speaking world, and for some years his find remained in a suspense account…[in] time Dart was able to prove that his original judgement was entirely correct and that the jury of experts was totally wrong.”

Sonder om in te veel besonderhede in te gaan rondom die negatiewe reaksie van sommige sektore van die samelewing kan ek met groot waardering noem dat die Gereformeerde Ekumeniese Sinode van 1949 uiteindelik evolusie aanvaar het.  Vir die eerste maal het hierdie kerkgenootskap in die openbaar verkondig dat evolusie aanvaarbaar is en nie in konflik met die Bybel is nie.  Dit is my oorwoë mening dat die klimaat wat deur die ontdekking van Oertjie Ples geskep is, bygedra het tot die kerkgemeenskap se paradigmaverskuiwing. 

Dit is ook interessant dat direk na die aankondiging van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode se aanvaarding van evolusie, het die Katolieke Kerk by monde van Pous Pius XII die dokument “Humani Generis” uitgereik waarin hy teen die “doktriene van evolusie” waarsku en dat dit net ‘n onbewysbare hipotese is.  Hy skryf:“if such conjectural opinions are directly or indirectly opposed to the doctrine revealed by God, then the demand that they be recognized can in no way be admitted.”

Oor die studie van die herkoms van die mens het Pous Pius XII gesê: “Some however, rashly transgress this liberty of discussion, when they act as if the origin of the human body from pre-existing and living matter were already completely certain and proved by the facts which have been discovered up to now and by reasoning on those facts, and as if there were nothing in the sources of divine revelation which demands the greatest moderation and caution in this question”.

So laat ons ‘n bietjie hier stilstaan – met ander woorde die drie susterskerke het evolusie reeds in die middel van die vorige eeu aanvaar en die Katolieke Kerk – die grootste Christelike kerk in die wêreld nie?  Vreemd tog dat ek so dikwels hoor dat die Afrikaners so bekrompe is!  Maar toe nou nie.

Maar Clarence van Riet Lowe, die voorsitter van die Nasionale Monumentekommissie, was nie tevrede nie, trouens, hy was ontstoke.  Ongeag Broom se wêreldwye roem, sy groot wetenskaplike deurbrake, sy deursettingsvermoë, sy vêrsiendheid – volgens die Monumentekommissie het Broom die wet oortree deur om homself nie aan hulle voorskrifte te onderwerp nie en basta.  Die Monumentekommissie het tydens ‘n vergadering Broom eenparig verdoem en ‘n “sterk” afvaardiging is na generaal Jan Smuts gestuur.  Hulle grootste aantyging was dat hy die stratigrafie (opeenvolging van geologiese lae) in die grotte geignoreer het en dat hy sodoende waardevolle inligting, wat vir die datering van die lae en fossiele aangewend kon word, in die proses vernietig het.  Broom het die aantygings verwerp. 

Die Monumentekomissie het Broom nogtans verbied om met sy werk by Sterkfontein aan te gaan totdat ‘n ondersoek op die terrein afgehandel is.  Professor Lombaard van Pretoria Universiteit is toe na Sterkfontein gestuur vir die ondersoek.  In sy verslag meld hy egter dat geen stratigrafie hoegenaamd bespeur kon word in die gebied waar Broom gewerk het nie en dat hy geen skade kon aanrig nie.  Die Nasionale Monumentekommissie het toe uiteindelik ‘n permit vir Sterkfontein aan Broom oorhandig. Maar kom ons staan bietjie stil hier vir ‘n oomblik – Robert Broom het geologie by Glasgow Universiteit gestudeer en selfs die medalje as beste geologie student vir sy jaargroep gekry.  Hy het geologie by Victoria College (later Stellenbosch Universiteit) gedoseer.  Broom het honderde publikasies geskryf waarvan talle oor geologie gehandel het.  Dus is dit volgens my erg ironies dat die Nasionale Monumentekommisie wat deur die argeoloog Clarence van Riet Lowe bestuur was, iets oor Broom se kennis van geologie te sê gehad het.

Broom maak in sy boek Finding the Missing Link (1950) die volgende diepsinnigste stelling:”The public, it seems to me, should know what is going on, and as a rule they are only too delighted to be of assistance.  When we remember that the majority of palaeontological discoveries are made by amateurs, and it must always be so, then it is much better to have the public educated and interested than kept in ignorance, or to treat them as possible criminals”.

 

error: Content is protected !!