Evolusie van die mens 3: Die Piltdown Vervalsing
DIE EVOLUSIE VAN DIE MENS 3:
DIE PILTDOWN VERVALSING
François Durand
In 1891, 32 jaar nadat Charles Darwin se boek Origin of Species verskyn het, het die antropoloog Eugene Dubois ‘n skedeldak, dybeen en ‘n paar maaltande van Homo erectus in Java ontdek (lees Java Mens). Die skedel het bonkige aapagtige wenkbroue en ‘n kleiner breinkas as ‘n moderne mens gehad. Die fossiel dybeen is egter identies aan dié van ‘n moderne mens wat ‘n duidelike bewys is dat hierdie oermense soos ons regop geloop het – vandaar die benaming Homo erectus. In 1907 is ‘n Homo heidelbergensis onderkaak by Mauer naby Heidelberg in Duitsland ontdek. Benewens dat dit frisser is en nie ‘n gepunte ken het nie, lyk die kaak baie soos dié van ‘n moderne mens s’n. Ten spyte van hierdie fondse se primitiewe eienskappe, het hulle meer ooreenkomste met die mens as met die ander groot ape getoon. Die skakel tussen die mens en die ander groot ape, was dus aan die begin van die twintigste eeu nog vermis.
Veeltalentige mense is ‘n interessante verskynsel. Alhoewel min mense ooit by Leonardo da Vinci kon kers vashou, is daar verskeie mense wat in wyd-uiteenlopende professionele velde soos die politiek, teologie en letterkunde betrokke was maar wat terselfdertyd ook wetenskaplikes van formaat was. Sir Isaac Newton, die groot wiskundige en fisikus, het na sy toetrede tot die politiek, hoof van die Britse Munt geword. Beide Johann Wolfgang von Goethe en Jan Christiaan Smuts was, benewens vir hul prestasies as regsgeleerdes, skrywers en politici, ook plantkundiges van formaat. Pierre Teilhard de Chardin* was so ‘n veeltalentige man en was net soos Charles Darwin, ‘n opgeleide teoloog en ‘n befaamde natuurwetenskaplike.

Dit is ook opvallend hoe dikwels iemand, wat volgens die algemene menig totaal onbevoeg vir die taak is, nie slegs matige sukses behaal nie, maar die wêreld onherroeplik verander het. Leonardo da Vinci, die seun van ‘n wasvrou, was nooit op skool nie, maar het een van die grootste skilders, navorsers en ontdekkers van sy tyd geword. Jean d’Arc het as ongeletterde dertienjarige boeremeisie, as aanvoerder van die Franse leër, die Engelse leër tydens die Honderjarige Oorlog verslaan. Sokrates se gedagterigtings wat na meer as 2400 jaar nog steeds ‘n diepgaande invloed op ons denkwyse het, was ‘n klipkapper. Thomas Alva Edison, wat sowat 1000 geregistreerde patente op sy naam gehad het (o.a. die gloeilamp, grammofoonplate, platespelers en klankfilms), het slegs drie maande skoolopleiding gehad. Charles Dawson**, ‘n prokureur, het homself as so ‘n onopgeleide kundige in geologie, argeologie, paleontologie en dierkunde voorgedoen.

Ons bekrompenheid lei noodwendig tot bevooroordeeldheid en ‘n diepgaande wantroue in die onkonvensionele. Daarsonder sou die veeltalentige persoon en die suksesvolle onopgeleide kundige nie vir ons so vreemd of selfs bietjie verdag voorgekom het nie. Soos Goethe dit in 1831 verwoord het: “Die publiek … verwag dat ‘n mens wat homself in een vakgebied bewys het, wie se kundigheid en navorsingstyl algemeen gerespekteer en herken word, nie sy navorsingsveld sal verlaat nie en nog minder dat hy homself in ‘n heeltemal ander vakgebied sal begeef. Sou iemand dit waag, selfs as hy homself goed van sy taak kwyt, kry hy geen spesiale erkenning daarvoor nie”. Gewoonlik word slegs ‘n persoon met die nodige akademiese agtergrond as kundige deur die gemeenskap aanvaar en verkieslik, soos Goethe sê ‑ mits hy homself slegs op een vakgebied toespits. Dr. Arthur Smith Woodward was so ‘n persoon. Dr. Arthur Smith Woodward, Geologiese Kurator van die Britse Natuurhistoriese Museum, was presies wat sy titel gesê het. Hy was ‘n puntenerige natuurwetenskaplike wat in geologie en paleontologie gespesialiseer het, en was daarby, volgens tydgenote, ‘n man van onbesproke integriteit. Hy was ‘n gesiene en gerespekteerde persoon in die gemeenskap. Hierdie artikel handel dan ook oor die moeilikheid waarin hierdie vooroordele ons dompel.

Charles Dawson, was plomp, joviaal en het ‘n onblusbare belangstelling in oudheidkunde getoon. In 1909 was hy juis besig om sy stokperdjie te beoefen toe hy ‘n Rooms Katolieke priester, ene Pierre Teilhard de Chardin, wat ook op soek na fossiele was, in die Piltdown steengroef raakgeloop het. Teilhard de Chardin was toentertyd ‘n student aan die Jesuïtiese kweekskool in Hastings, naby Piltdown, maar was ook toevallig ‘n begaafde wetenskaplike wat veral in oudheidkunde belanggestel het. Hulle twee het vriende geword.
Dawson daag toe in 1912 by die British Museum for Natural History met ‘n klompie werktuie, skedelfragmente en soofgdierfossiele op wat hy aan Dr. Arthur Smith Woodward, die Kurator van die Geologie Afdeling oorhandig. Volgens Dawson was die skedelfragmente en steenwerktuie deur die steengroefwerkers by Piltdown Steengroef in Sussex in 1908 ontdek, maar het beweer dat hy self die soogdierfossiele daar ontdek het***.
Die bewering dat die mensagtige breinkas saam met soogdierfossiele gevind is, het reuse implikasies gehad en Smith Woodward het vir Dawson vermaan om, totdat die inligting gepubliseer is, die ontdekking ten strengste geheim te hou. Hy het verder vir Dawson aangesê om nie weer van sy vriende na die vindplek te neem alvorens die publikasie die lig gesien het nie. Slegs een van Dawson se vriende, Teilhard de Chardin, het met Smith Woodward se toestemming, hulle na die vindplek vergesel. Die jaar 1912 was vol opwinding vir die drie helde van ons storie. Dit was die jaar waarin Teilhard de Chardin as priester bevestig is en dit was die jaar toe hulle verskeie nuwe fondse, waaronder die beroemde onderkaak en slagtand, by die Piltdown steengroef ontdek het.

Smith-Woodward, oorstelp van opgewondenheid, het ‘n rekonstruksie vanuit die breinkas en die kaakfragment wat hulle ontdek het geskep. Hierdie rekonstruksie, wat Piltdown Man gedoop is, het ‘n eienaardige mengsel van aapagtige en menslike kenmerke getoon. Dit was veral uitsonderlik omdat dit presies teenoorgestelde was van wat paleontoloë van ’n aapmens verwag het. Piltdown Man se kakebeen was soortgelyk aan dié van ‘n aap, maar die breinkas was weer soos dié van ‘n moderne mens. Dit was presies teenoorgestelde van wat van die Java en Heidelberg fondse waargeneem was; naamlik dat tande en kake voor die breinkas mensagtige afmetings ontwikkel het. Tog het die gepaardgaande fossiele van oerdiere wat in die steengroef ontdek is, gedui op ‘n hoë ouderdom van die gesteentes.
Op 6 Julie 1912 vertrek Teilhard de Chardin na Frankryk waar hy onder die beroemde antropoloog Marcellin Boule studeer het. In Augustus 1913 keer hy op vakansie na Engeland terug en spandeer ‘n paar dae saam met Dawson en Smith Woodward by Piltdown steengroef om opgrawings te doen. Terwyl die drie mans besig was om ‘n diep sloot te grawe, ontdek Teilhard de Chardin ‘n onderkaak-oogtand wat baie aapagtig voorkom maar mensagtig verweer is****. Smith Woodward beskryf die ontdekking as volg: “We were excavating a rather deep and hot trench in which Father Teilhard, in black clothing, was especially energetic; and, as we thought he seemed a little exhausted, we suggested that he should leave us to do the hard labour for a time while he had comparative rest in searching the rain-washed spread gravel. Very soon he exclaimed that he had picked up the missing canine tooth…”
In Desember 1914, tydens die Eerste Wêreldoorlog, word Teilhard de Chardin vir diensplig na Frankryk opgeroep. By sy aankoms was hy summier na die front toe gestuur waar hy as draagbaardraer opgetree het. Tydens Teilhard de Chardin se vertoef op die vasteland, maak Dawson in 1915 ‘n tweede fossielvindplek bekend. Hierdie vindplek was in ‘n geploegde land ongeveer 2 km van die Piltdown steengroef geleë (Piltdown 1) en was Piltdown 2 gedoop. Verskeie fragmente wat aapagtige en mensagtige kenmerke toon, soortgelyk aan dié van Piltdown 1, was hier gevind.
Verskeie wetenskaplikes het destyds reeds die Piltdown Man op grond van die onversoenbare aapagtige en mensagtige kenmerke verwerp. Niemand was toentertyd egter onder die indruk dat dit ’n vervalsing is nie. Die skeptici het eerder vermoed dat twee verskillende wesens se oorblyfsels by die vindplek deurmekaar geraak het en dat Smith Woodward ’n fout begaan het deur om dit bymekaar te sit. Smith Woodward het egter sy hele loopbaan op Piltdown Man gebou en as bejaarde in 1948 ’n boek getiteld: “The Earliest Englishman”, wat oor sy lewenswerk op die Piltdown Man handel, gepubliseer. Hy is, danksy Piltdown Man, tot ridder van die Britse Ryk vir sy bydrae tot Britse antropologie, geslaan.
Die Piltdown vervalsing het egter die aandag van die eerste Australopithecus africanus fossiele wat ontdek is, afgetrek en antropologie vir bykans veertig jaar gekniehalter. Bykans niemand wou aanvanklik professor Raymond Dart van WITS se aanspraak in 1924, dat die Vermiste Skakel by die Taung kalksteenmyn in Suid-Afrika ontdek is, aanvaar nie. Die minder vyandige kritici het Dart se aanspraak verwerp op grond daarvan dat hierdie fossielskedel dié van ‘n kind is en dus nog nie die volwasse kenmerke ontwikkel het, wat nodig is om verwantskappe tussen verskillende spesies te bepaal nie.
In 1936 ontdek Robert Broom van die Transvaal Museum die eerste volwasse Australopithecus africanus fossiele by Sterkfontein. Ongelukkig was dit slegs skedelfragmente. In 1947 ontdek Broom ‘n volledige, onverwronge skedel van die aapmens Australopithecus africanus by Sterkfontein kalksteenmyn naby Krugersdorp. Hierdie ontdekkings het algaande meer aandag in die wetenskaplike wêreld getrek en die aanhangers van die Piltdown teorie genoop om hulle “bewyse” weer in oënskou te neem. (Net vir interessantheid: beide Raymond Dart en Robert Broom was mediese dokters voordat hulle paleontoloë geword het.)
In 1953 kondig Kenneth Oakley aan dat die Piltdown Man ‘n vervalsing is. Tydens ‘n reeks ondersoeke het hy, J.S. Weiner (oorspronklik van Suid-Afrika) en Sir Wilfred le Gros Clarke van Oxford Universiteit, bevind dat die rekonstruksie uit ‘n gedokterde orangoetang onderkaak en die breinkas van ‘n mensskedel bestaan. Die besondere dik skedeldakbene van die Piltdown Man is klaarblyklik van ‘n oermens-skedel afkomstig, waarteenoor die kakebeen en slagtand van ‘n orangoetang afkomstig is. Die onderkaak was gekleur om dieselfde kleur as die breinkas te hê. Die mensskedel en oerangoetang onderkaak en tande was op so ‘n wyse beskadig dat dit soos natuurlik verbrokkelde fossielreste moes lyk.
Verkeie navorsers, insluitend Teilhard de Chardin, het opgemerk dat al die raakvlakke tussen die skedelreste en onderkaakreste “toevallig” vermis is. Die onversoenbaarheid tussen die skedel en onderkaak sou vinnig duidelik geword het indien daar wel raakvlakke tussen die tande of onderkaak en jukboog van die skedel teenwoordig was. Die deurslaggewende leidraad wat die hele spul op die lappe laat kom het, was egter die duidelike vylmerke op die orangoetang slagtand wat afgevyl om soos menslike slagtand te lyk. Daarbenewens was werklike fossiele van soogdierde in die steengroef geplant om die indruk te skep dat die skedelfragmente baie oud is. Daarbenewens was die fragmente wat by Piltdown 2 ontdek is, van presies dieselfde oermens- en orangoetangindividue as die fragmente wat by Piltdown 1 ontdek is, afkomstig.
Baie is oor Piltdown geskryf en gesê en vele moontlike skuldiges is, en word nog steeds, uitgewys. Dit word egter algemeen aanvaar dat Dawson die skuldige was. Hy het meeste van die gedokterde onderkaak, nagebootste steenwerktuie en soogdierfossiele by Piltdown steengroef “ontdek”. Hy het ook die eerste fossielfragmente van Piltdown 2 in Januarie 1915 “ontdek” terwyl Teilhard de Chardin op die vasteland tydens die hele Eerste Wêreldoorlog was.
’n Mens sou moontlik dink dat dié feit Teilhard de Chardin van korrupsie vryskeld, buiten dat Teihard skynbaar reeds die fossiele van Piltdown 2 gesien het voordat Dawson dit amptelik “ontdek” het. Teilhard de Chardin skryf aan Kenneth Oakley op 28 November 1953: “He [Dawson] just brought me to the site of Locality 2 and explained me [sic] that he had found the isolated molar and the small pieces of skull in the heaps of rubble and pebbles raked at the surface of the field”. Maar dit kan ongelukkig nie waar wees nie want Teilhard de Chardin was vanaf Desember 1914 en vir die res van die Eerste Wêreldoorlog op die vasteland en aangesien Dawson in 1916 gesterf het, het hulle mekaar na 1914 nie weer gesien nie.
As Teilhard de Chardin onskuldig was, is dit uiters vreemd dat hy in later jare, as gerespekteerde paleoantropoloog in eie reg en mede ontdekker van die Piltdown Man – die gewaande “Vermiste Skakel”, bykans nooit in sy eie navorsingsartikels daarna verwys het nie. En wanneer hy wel oor Piltdown Man geskryf het, was dit elke keer ‘n verskuilde waarskuwing. Hy skryf reeds in 1920: “We must suppose that the Piltdown skull and jaw belong to two different subjects”. Ook: ”Since the glenoid fossa [dis die holte in die skedel waarin die kaakknobbel skarnier] exists in perfect state on the temporal bone, we could simply have tried to articulate the pieces, if the mandible had preserved its condyle: we could have learned, without possible doubt, if the two fit together. As if on purpose, the condyle is missing!”
Dit is jammer dat meeste mense eerder na Sir Arthur Smith Woodward as na Teilhard de Chardin en later Dart en Broom geluister het. Klaarblyklik het Smith Woodward, as enkel-vak spesialis, meer gesag in die Britse gemeenskap afgedwing as sy wetenskaplike opponente.
Die Piltdown vervalsing het vir groot verleentheid in paleontologiese kringe en vir groot leedvermaak in fundamentalistiese kringe gesorg. Bykans elke boek oor die skepping/evolusie-debat, wat deur fundamentaliste geskryf is, vermeld ‘n weergawe van die Piltdown saga. Soos Senator Bill Keith van Amerika in sy boek Scopes II – the Great Debate (1983) sê:”…Piltdown Man was uncovered in a gravel pit at Piltdown and used in combination with comparatively recent skeletal remains of various animals in the development of an elaborate fraud. Some evolutionists will go to great lengths to try to find proof for their theory.”
Dit is jammer dat Senator Bill Keith, soos baie ander fundamentaliste, twee groot foute begaan. Die eerste fout is om Smith Woodward, die groot kampvegter vir Piltdown as die Vermiste Skakel, van bedrog te beskuldig. Ons weet vir ‘n feit dat die fossiele nie deur Smith Woodward in die steengroef geplant is nie. Daarbenewens leef elke wetenskaplike met die wete dat sy foute onvermydelik deur die nageslag ontbloot sal word. Dit is moeilik om te dink hoe ‘n trotse en gerespekteerde man soos Smith Woodward, sy nalatenskap aan die wêreld doelbewus op hierdie wyse sou vertroebel. Ons kan Smith Woodward hoogstens verkwalik vir sy subjektiewe oorangstigheid om die Vermiste Skakel te kry wat hom, soos vir baie ander, vir die slinkse set laat val het. Ons kan hom ook verkwalik vir sy naïwiteit omdat hy nooit Dawson en Teilhard de Chardin van bedrog verdink het nie. Ons kan hom selfs verkwalik vir sy gebrek aan mensekennis omdat hy nie besef het dat sy neerbuigendheid moontlike weerwraak kon ontlok nie. Dit is egter foutief om ‘n man se naïwiteit, oorgretigheid, verwaandheid, neerbuigendheid met kwaadwillige bedrog te verwar.
Die tweede algemene fout wat sommige mense maak is om te dink dat die wetenskaplike gemeenskap, en veral die evolusionêre bioloë, saamspan om die publiek te bedrieg. In die geval van Piltdown, blyk dit dat die grootste slagoffer van die poets Smith Woodward was en nie die algemene publiek nie. Elke antropoloog en paleontoloog wie die Piltdown Man as die Vermiste Skakel voorgehou het, se loopbaan en reputasie was onherroeplik daardeur beskadig.
Derdens is dit absoluut waansinnig om te dink dat die wetenskaplikes uiteindelik saam met die fundamentaliste stem wat intuïtief geweet het dat daar iets fout met ‘n sekere aanname was. Dit is elke keer die wetenskaplike gemeenskap self, wat deur middel van goeie, objektiewe wetenskaplike navorsing, foute uitsnuffel en dit regstel en nie fundamentaliste nie. Afkrakers van evolusie eis dadelik die morele hoë grond op nadat ‘n wetenskaplike flater (deur wetenskaplikes) opgespoor is, met ’n houding van: “ons het dit ook nog altyd verwerp”. Voorspelbaar ignoreer die fundamentaliste heeltemal die plaasvervangende hipotese, soos in hierdie geval dat die Australopithecus-fossiele wel die sogenaamde Vermiste Skakel is.
Voetnotas:
* Pierre Teilhard de Chardin was ‘n Franse Jesuïtiese priester, wetenskaplike, paleontoloog, filosoof en lektor. Hy was die skrywer van verskeie filosofiese en teologiese boeke. En is bekend vir sy filosofieë oor die noösfeer en die Omega Punt. Hy was ‘n bekende paleoantropoloog was een van die span, onder leiding van Davidson Black, was wat die Peking Man (Homo erectus) ontdek het.
** Daar is geen twyfel by my dat die Charles Dawson die boef van die storie is nie en dat Teilhard de Chardin sy vindingryke samesweerder was. Alhoewel De Chardin sekerlik geglo het dat boetedoening hom van sy menigvuldige sondes sou vergeef, was Dawson se probleem meer sielkundig van aard. Dit blyk my dat hierdie man een of ander grootheidswaan-afwyking gehad het.
Dawson word in 1889 die medestigter van die Hastings en St Leonard’s Museum Assosiation wat een van die eerste vrywilliger-groepe was wat museums bygestaan het. Dawson het veral in oudhede belanggestel en hy het ‘n gewaande bo-menslike vermoë ontwikkel om uitsonderlike argeologiese fondse te maak wat hom, volgens The Sussex Daily News, die titel “Wizard of Essex” verwerf het.
Dawson het byvoorbeeld ‘n prehistoriese vuursteen-myn in Lavant, naby Chichester ontdek wat nie net vol prehistoriese voorwerpe was nie, maar terselfdertyd ook Romeinse en Middeleeuse voorwerpe bevat het! Hy het ook ‘n Romeinse beeldjie in Beauport Park in London ontdek wat van gegote yster gemaak is – ‘n tegniek wat eers in die Middeleeue in Europa ontwikkel is. Hy het ander megalomaniese take verrig soos om te beweer dat hy die mees gedetailleerde studie van Hastings Kasteel te doen en die Beyeaux Tappiserie herbestudeer het. Hy het ook sogenaamde bewyse van die laaste fase van Romeinse heerskappy in Brittanje in Pevensey Kasteel in Sussex gevind, wat eintlik vervalsings was. Hy het ook na bewering ‘n nuwe mensspesie ontdek en ‘n reuse seeslang in die Engelse Kanaal ontdek. Dan was daar die tande van ‘n onbekende dier wat ter ere van hom as Plagiaulax dawsoni vernoem is – hierdie dier was deur hom voorgehou as ‘n skakel tussen reptiele en soogdiere. Ongelukkig was dit nog ‘n vervalsing en die tande is afgevyl om aan sekere aannames met betrekking tot soogdierevolusie te voldoen.
Ondanks die feit dat die Britse Museum van Natuurwetenskap hom as Ereversamelaar benoem het, en die Geologievereniging van Brittanje hom as lid benoem het en die Vereniging van Oudhede van London (Society of Antiquaries of London) benoem het, het die een ding waarna hy gesmag het hom ontwyk – hy was nooit as ridder van die Britse Ryk geslaan nie, ondanks die feit dat talle van die mense wat by die Piltdown Man betrokke was tot ridders geslaan is.
In 2003 het Miles Russell van Bournemouth University die resultate van sy navorsing op Dawson se ontdekkings gepubliseer waarin hy bewys dat ten minstens 38 van Dawson se fondse, insluitende die Piltdown fondse, vervalsings is. Hy noem dat Dawson het geen universiteitsgraad gehad nie en sy hele akademiese loopbaan was op bedrog gebasseer en was gemik daarop om hom internasionale erkenning te gee. Inderdaad, Dawson se bedrog het talle mense gefnuik en dus was hy as lid van die Society of Antiquaries van London in 1895 verkies. Alhoewel baie ander mense wat by die Piltdown Man betrokke was, tot ridders geslaan is, het Dawson dit nooit te beurt geval nie.
*** Daar was nog nooit fossiele by Piltdown steengroef ontdek nie. Al die fossiele wat daar “ontdek” was was daar deur Dawson en De Chardin geplant, maar in die geval van die meerderheid van die fossiele het Dawson bloot beweer dat hy of die steengroefwerkers dit daar gevind het. Na Dawson se dood was geen meer fossiele by Piltdown steengroef gevind nie.
**** Grootape soos chimpanzees, gorillas en orangoetangs se slagtande is so lank dat daar nie okklusie tussen die bytoppervlaktes plaasvind nie – anders sou hulle slagtande mos stomp geword het. Die slagtande van elke kaak pas in ‘n ruimte tussen die tande van die teenoorstaande kaak in sodat hulle nie op mekaar sluit en afweer nie. Daar is okklusie tussen hominiene (aapmense en oermense en anatomies moderne mense) se slagtande en die tande in die teenoorstaande kaak omdat hulle korter as dié van die ander grootape s’n is. Die slagtand wat Teilhard de Chardin by Piltdown “ontdek” het was ‘n orangoetang slagtand wat afgevyl is sodat dit soos ‘n menstand lyk.
