Evolusie van die mens 2: Java Man (Homo erectus)
DIE EVOLUSIE VAN DIE MENS 2:
JAVA MAN (Homo erectus)
François Durand
Voor Charles Darwin se boek Descent of Man in 1871 verskyn het, was fossiele van slegs twee groepe oermense bekend. Hierdie fossiele was die Neanderthal oermens (Homo neanderthalensis) en Cro Magnon (‘n Europese variant van Homo sapiens). Neanderthal het vanaf 430 000 jaar gelede voorgekom, maar was teen 40 000 jaar gelede deur Cro Magnon vervang. Hierdie twee groepe was anatomies baie na aan die moderne mens verwant, trouens Cro Magnon was skeletgewys bykans identies aan die moderne Europeër. Aapmens fossiele was eers in die 20ste eeu ontdek. Die groot vraag oor die mens se herkoms was dus nog nie iin Dubois se tyd beantwoord nie.

Eugène Dubois was in 1858, ‘n jaar voor die verskyning van Darwin se boek On the Origin of Spesies by Means of Natural Selection, in die dorpie Eisden op die Maasrivier in Suid-Holland, gebore. Dubois was van jongs af lief vir die natuur en het die velde, woude en rivierbanke naby sy tuisdorp verken. Sy pa, ‘n apteker, het sy belangstelling in wetenskap verder geprikkel deur om vir hom die Latynse name van die bome, struike, grasse, mosse en ligene in die omstreke te leer. Die jong Dubois het selfs ‘n voorliefde vir paleontologie ontwikkel deur om fossiele in die kalksteengroef naby die dorp uit te grawe. Sy sakke was volgens familielede altyd vol interessante voorwerpe soos haasskedels, klippe en klein geraamtetjies gestop. Dubois het as skoolseun in Roermond ‘n lesing van ‘n besoekende Duitse wetenskaplike begewoon. Die lesing was oor die nuwe teorie oor die herkoms van die mens vanaf oerape gehandel. Die lesing het hom aangegryp veral die feit wat daar uitgelig was – naamlik dat daar tot op daardie stadium nog geen fossiele ontdek was om die herkoms van die mens van ape te staaf.
Hy het na skool medies gaan studeer en het daarna ‘n lektor in anatomie by die universiteit in Amsterdam geword. Terwyl hy een na die ander artikel oor die voorgestelde stamboom van die mens en die artikels wat dit teenstaan gelees het, het ‘n wilde droom in sy gemoed begin posvat – hy wou die vermiste skakel gaan soek en vind en vir eens en vir altyd die redekaweling oor mensevolusie stopsit. Hierdie fossiel moes nog veel primitiewer as die, toe reeds bekende, Neanderthal-mens wees en duidelik aapagtige sowel as menslike kenmerke besit om aan die vereistes van die vermiste skakel te voldoen.
Die groot vraag was natuurlik waar om te begin. In sy boek The Descent of Man, and Selection in Relation to Sex (1871) maak Darwin die volgende stelling: “In each great region of the world the living mammals are closely related to the extinct species of the same region. It is, therefore, probable that Africa was formerly inhabited by extinct apes closely allied to the gorilla and chimpanzee; and as these two species are now man’s nearest allies, it is somewhat more probable that our early progenitors lived on the African continent than elsewhere”.
Ten spyte van Darwin se profesie – wat 53 jaar later as waar bewys was (sien artikel oor die Vermiste Skakel), het Dubois sy eie kop gevolg. Dubois se eerste leidraad was die feit dat oermensfossiele in ‘n kalksteengrot in ‘n kloof, plaaslik bekend as die Neanderthal, in Duitsland ontdek is. Neanderthaler-skedels word deur prominente oogbanke en ‘n lae voorkop gekenmerk wat ‘n aanduiding is dat hulle tog ietwat meer primitiewe, aapagtige kenmerke as moderne mense oorgehad het. Die feit dat hulle breinkasvolume o.a. met die moderne mens s’n ooreenstem, dui daarop dat hulle, alhoewel veel ouer, as volwaardig mens beskou kan word. Dubois het geredeneer dat die vermiste skakel heelwaarskynlik, soos die Neanderthalers, ook in kalksteengrotte gehou het. Hy was egter van mening dat die soektog na ouer evolusionêre skakels van die mens elders voortgesit moes word aangesien Europa, voor die Neanderthalers se tyd, te koud vir hulle sou wees om daar te oorleef.
Dubois het, soos Darwin en Wallace, gereken dat tropiese woude die aangewese blyplek vir die mens se voorsate sou wees, aangesien ons naaste lewende verwante, die Hominoidea (of mensape) soos die chimpansee, gorilla en orang-oetang en gibbon steeds in hierdie streke voorkom. Die Britse bioloog, Alfred Russel Wallace, wat terselfdertyd as, maar onafhanklik van Darwin, evolusie ontdek het, het vir agt jaar in Maleisië gebly. Dit het hom opgeval dat een van die wêreld se primitiefste ape, die gibbon saam met een van die wêreld mensape, die orang-oetang in Sumatra en Borneo voorkom. Dubois was veral aangegryp deur Wallace se boek: Malay Archipelago, the Land of the Orang-utan and the Bird of Paradise: Narrative of Travel with Studies of Man and Nature (1869) waarin hy opmerk dat dit heel merkwaardig is om so ‘n groot en vreemde mensaap soos die orang-oetang te vind wat slegs tot twee eilande beperk is. Verder noem Wallace dat die grotte van die trope toe nog nie behoorlik verken is nie en dat dit moontlik fossiele kan oplewer wat die ontstaan en evolusie van die mensape sou blootlê. Hoe meer Dubois oor die biologie en geologie van die tropiese Ooste gelees het, hoe groter het sy oortuiging geword dat fossiele van die Vermiste Skakel daar sou voorkom.

Dubois het besluit dat Sumatra die aangewese plek was om met sy soektog te begin, veral omdat dit op daardie stadium ‘n Hollandse kolonie was en dus sy beplanning en verblyf sou vergemaklik. Nadat hy sy pos as lektor bedank het, het hy maande lank gepoog om fondse te bekom om sy fossielsoektog te finansier. Almal, vanaf filantrope tot regeringsamptenare, het hom die deur gewys. Uiteindelik, toe dit duidelik geword het dat hy op geen ander wyse in Sumatra gaan kom nie, het hy as ‘n mediese offisier in die Hollands Oos-Indiese Weermag aangesluit. In Oktober 1887 vertrek Eugène Dubois, vergesel deur sy vrou en pasgebore dogtertjie, op die stoomboot Prinses Amalia na Sumatra.
Vir die eerste twee jaar van sy verblyf in Sumatra was Dubois by ‘n klein militêre hospitaaltjie in die oerwoude van die binneland gestasioneer. Vanweë sy min werksverpligtinge kon hy dikwels die vele naburige kalksteenafsettings en grotte verken. Die fossiele wat hy wél hier ontdek het was vir hom nie van veel waarde nie, aangesien dit van te ‘n jong ouderdom was. Nadat hy malaria gekry het, word hy in 1890 na die naburige eiland Java verplaas om daar onder die droeër omstandighede aan te sterk. Hier kon hy al sy beskikbare tyd aan sy groot passie wy. Die koloniale regering het belangstelling in sy werk begin toon en aan hom ‘n span bandiete en twee Hollandse offisiere, as toesighouers, verskaf. Vanuit sy huis in die dorpie Tulungagung het Dubois verskeie opgrawingsekspedisies tergelykertyd in verskillende plekke bestuur. Dubois het sy tyd tussen besoeke aan die vindplekke en die identifisering van die fossiele verdeel. Die fossiele wat by die vindplekke ontdek is, is in djatiblare toegewikkel en in kratte na sy huis gestuur waarvandaan hy dit ná identifikasie Holland toe verskeep het. Teen 1894 het Dubois reeds 400 kratte fossiele, insluitende dié van vele uitgestorwe en tot daardie stadium onbekende, diere na Holland gestuur.
Tot Dubois se ontsteltenis het hy uitgevind dat die plaaslike inwoners in sekere gebiede vir geslagte al fossiele opgegrawe het en as “draakbene” aan Chinese handelaars verkoop het. Hierdie fossiele is deur die Chinese, saam met tierkloue en -snorbaarde, vlêrmuismis en renosterhoring opgemaal en as ‘n wonderdoepa verkwansel. Erger nog, van hulle eie werkspan het fossiele skelmpies aan die handelaars verkoop. Nadat Dubois se voorman nie die sluikhandel kon staak nie, moes hulle ten einde laaste die koloniale regering se hulp inroep wat die handel in fossiele met Chinese handelaars in Java verbied het.
Die beste vindplek wat hulle in Java ontdek het, is op die oewer van die Solorivier naby die dorpie Trinil geleë. Wanneer die rivier in die droeër maande sak, word die opeenvolgende lae sandsteen en vulkaniese as, waaruit die 15m hoë rivieroewer bestaan, ontbloot. In Augustus 1891, tien jaar na Darwin se dood, begin Dubois se span van bo af deur die lae grawe. Nadat die boonste grondlae verwyder is, het hulle talle fossielbene begin vind. In September van daardie jaar kry hulle toe ook die eerste groot maaltand van een of ander onbekende aap. ‘n Maand later kry hulle ongeveer ‘n meter verder, maar in dieselfde laag, ‘n skedeldak.

Nadat Dubois dit skoongemaak het en lank dit bestudeer het, skryf hy dat hy die eerste bewyse van ‘n groot aapagtige mens ontdek het. Kort na die ontdekking van hierdie fossiele het die reënseisoen aangebreek en die riviervlak het dermate gestyg dat hulle hul werk tot die volgende jaar moes staak. Na die reënseisoen het hulle dadelik met opgrawings op dieselfde plek voortgegaan en die laag verder en verder oopgemaak. In Augustus 1892 ontdek hulle, nadat hulle honderde uitgestorwe bok-, olifant-, renoster-, tier-, vark-, hiëna- en krokodil-fossiele opgegrawe het, ‘n verassende fonds. Ongeveer 16 m van die posisie waar hulle die maaltand gekry het, het hulle ‘n volledige linkerdybeen in dieselfde laag ontdek. Hierdie dybeen het, behalwe dat dit swaarder was, in elke ander opsig met dié van ‘n moderne mens s’n ooreengestem. Die vreemde uitgroeisel aan die binnekant bo is heelwaarskynlik deur ‘n besering veroorsaak. In Oktober daardie jaar vind hulle nog ‘n maaltand, soortgelyk aan die eerste.
Vanuit die skedeldak, maaltande en dybeen het Dubois afgelei dat hierdie wese ‘n kop met aapagtige kenmerke, soos groot oogbanke en ‘n laer voorkop en kleiner breinkas as ‘n moderne mens gehad het, maar dat hy soos ‘n mens regop geloop het. Dit het presies met hoe die Duitse wetenskaplike Ernst Heinrich Haeckel se uitbeelding, van die hipotetiese voorsaat van die mens sou lyjk, oorgeengestem. Haeckel het hierdie wese Pithecanthropus erectus gedoop, wat vanuit die Grieks pithecos (aap) en anthropos (mens) en erectus (regop) afgelei is. Sewe jaar na Haeckel se beskrywing van Pithecanthropus laat weet Dubois per telegram sy vriende in Europa dat hy Pithecanthropus erectus – Darwin en Haeckel se Vermiste Skakel ontdek het.
Nog voordat Dubois en sy gesin in 1895 weer in Europa hervestig het, was hy te midde van ‘n hewige meningsverskil vasgevang wat met hom die res van sy lewe sou bly. Toe hy sy kollegas oorpronklik in 1887 van sy planne om opgrawings in Sumatra te gaan doen meegedeel het, was hulle geskok en wou hom van sy planne laat afsien. Een kollega het selfs beweer dat hy mal geword het. Na hy die ontdekking aangekondig het, het sommige kollegas egter openlik met hom die spot gedryf. ‘n Lid van die Nederlandse Dierkundige Vereniging skryf in 1893 in ‘n Hollandse koerant dat Dubois dalk ‘n nog veel vreemder dier aanmekaar sou kon sit as hy net lank genoeg bly soek het. As hy byvoorbeeld ‘n regter dybeen van ‘n aap gekry het, sou sy mank kreatuur daaruit kon maak met een kort krom been en een lang reguit been. Of in die geval van nog ‘n linkerbeen, ‘n kreatuur met twee linkerbene. As hy ‘n meer mensagtige kop gekry het sou hy dalk ‘n kreatuur met twee koppe, die een aapagtig en die ander mensagtig, daaruit kon skep.
Slegs ses weke na sy aankoms in Europa lewer Dubois ‘n referaat oor sy ontdekking by die Derde Internasionale Dierkunde Kongres op Leiden. ‘n Groot stryery oor die posisie van die fossiele in die stamboom van die mens het dadelik uitgebreek. Die Duitse wetenskaplikes was eens dat die wese ‘n aap met mensagtige trekke was. Die Britse wetenskaplikes daarenteen, was van mening dat dit eerder ‘n mens met aapagtige kenmerke was terwyl die Amerikaanse wetenskaplikes meer simpatiek met Dubois se eie siening was naamlik dat dit die Vermiste Skakel kon wees omdat dit ewe veel aap- as menskenmerke besit het.
Hierdie argumente was in ‘n veel ernstiger trant as die oorspronklike draakstekery voortgesit. Benewens die wetenskaplike polimiek was Dubois daarby vanaf publieke platforms tot kansels verdoem as ketter. Dubois het onsuksesvol die publiek en wetenskaplike gemeenskap probeer oortuig dat hierdie wese die Vermiste Skakel was. Ongelukkig het hy al die felle kritiek wat na hom geslinger is, persoonlik opgeneem en het aan die begin van die eeu sy fossiele vanuit die publieke oog onttrek en selfs geweier om besoekers te ontvang. Vanuit kerklike kringe was sy selfopgelegte kluisenaarskap, as boetedoening van die dwaalleer wat hy verkondig het, beskou.
Op 21 Oktober 1907 word die ontdekking van nog ‘n stukkie van die legkaart van die mens se herkoms afgekondig. In ‘n sandgroef naby Mauer in Duitsland was ‘n groot mensagtige kakebeen ontdek. Die eienaar van die myn het ‘n verstandhouding met professor Otto Schoetensack van Heidelberg Universiteit gehad en vir hom al die fossiele, wat hulle daar gevind het, aangestuur. Schoetensack het na die ontdekking hom na die groef gehaas om die fossiel-kakebeen te kry. Nadat hy dit skoongemaak het, kon hy bepaal dat as dit nie vir die mensagtige tande was nie, dit as ‘n groot mensaap se kakebeen sou kon deurgaan. Die laag waaruit hierdie fossielkaak gekom het was ook van besondere belang aangesien die ouderdom daarvan op 500 000 jaar bepaal is. Dit was die eerste aanduiding dat sekere oermense so lank gelede so vêr noord in die koue Europa voorgekom het. Die Mauer fonds was die eerste van tientalle fossiele van die oermens Homo heidelbergensis, ‘n nasaat van Homo ergaster of Homo erectus, wat ontdek sou word.
In 1932, na meer as ‘n kwart eeu van onttrekking, stem Dubois in om weer vir wetenskaplikes sy fossiele te wys. Dit is ook in hierdie tydperk wat hy ‘n uitlating gemaak het wat vandag nog deur fundamentaliste en die paleontologiese gemeenskap teen hom gehou word, nl. dat sy fonds eintlik ‘n naasverwant van die gibbon-ape was. Vanuit sekere oorde word hierdie uitlating moedswillig vertolk naamlik dat Dubois uiteindelik ingestem het dat sy fonds nié die vermiste skakel was nie maar bloot ‘n reuse gibbon.
Henry Morris sê in sy boek Science and the Bible (1988) p.56: “The bones of the original Java man (Pithecanthropus erectus) have since been recognized as belonging to two different creatures – the skull to a gibbon, the femur to a man.”
Kom ons staan nou hier stil vir ‘n oomblik.
Eerstens: slegs Dubois van alle mense het ooit beweer dat die fonds (maaltande, skedeldak en femur ingesluit) aan ‘n reuse verwant van die gibbons behoort het. Geen wetenskaplike het ooit daarmee saamgestem nie, want dit lyk eenvoudig nie soos die bene van ‘n gibbon nie.
Tweedens: daar was nog nooit ‘n reuse gibbon ontdek nie en niemand buiten Dubois het ooit die bestaan van ‘n reuse gibbon voorgestel of dat mensagtiges van gibbons ontstaan het nie.
Derdens: as jy ooit ‘n boek wat deur ‘n fundamentalis geskryf is lees waarin daar ‘n hoofstuk met kritiek oor mensevolusie verskyn word daar uitgemaak asof daar ‘n reuse sameswering tussen wetenskaplikes is om die mensdom te bedrieg en dan word Java Man genoem as voorbeeld daarvan. Dubois se teorie dat Java Man die Vermiste Skakel was en dat dit van ‘n reuse verwant van die gibbons afgestam het was deur alle paleontloë van toe tot nou verwerp.
Maar daar was ‘n rede hoekom Dubois dit gesê het. Op daardie stadium het niemand geweet hoe die stamboom van die mens lyk nie, niemand het byvoorbeeld geweet dat hominiene ‘n gemeenskaplike grootaap voorouer met chimpanzees deel nie en dit was op daardie stadium ewe waarskynlik, ten spyte van Darwin se voorspelling, dat alle grootape (die mens, chimpanzees, gorillas en orangoetangs) onafhanklik van mekaar van die kleinape soos gibbons gestam het. En dit was die beginsel van Dubois se teorie, nl. dat die mens, en ander grootape onafhanklik van mekaar van kleinape soos gibbons gestam het, met natuurlik ‘n reeks tussengangers wat oor tyd al groter geword het.
Dubois was anders as wat meeste mense dink, baie aktief tydens sy tydperk van onttrekking en het toe navorsing gedoen en verskeie referate oor die ontwikkeling van die brein en die verhouding tussen liggaamsgrootte en breingrootte geskryf. Die onderliggende rede vir sy navorsing was om genoeg inligting bymekaar te kry om te probeer verstaan waar sy Java-fonds, brein-grootte-gewys, inpas. Die grootste probleem waarmee hy gekonfronteer is, was die feit dat Homo erectus se breinvolume te groot is om hom halfpad tussen die ander grootape en die mens te plaas. Die Britse wetenskaplikes was toe korrek – Homo erectus is baie nader aan die mens as aan die aapmense verwant en hul breinkapasiteit van 1000 cc is (so groot soos dié van ‘n tweejarige kind) terwyl ‘n chimpanzee se breinkapasiteit ongeveer 400 cc is en ‘n volwasse mens s’n ongeveer 1260 cc is.
Dubois het toe aan ‘n vindingryke oplossing gedink, naamlik dat as die liggaamsvolume van sy fonds ietwat groter was, sou dit brein/liggaamsvolume-gewys presies halfpad tussen die grootape en dié van die mens val, en sou dit volgens hom finaal bewys dat sy fonds die Vermiste Skakel is. As die liggaam ietwat langer arms en torso gehad het, soos ‘n hipotetiese reuse gibbon, sou dit presies aan sy vereistes voldoen. Hy skryf in Nature (1932) 130:20: “Pithecanthropus was not a man but a gigantic genus allied to the gibbons, however superior to the gibbons on account of its exceedingly large brain volume and distinguished at the same time by its faculty of assuming an erect attitude and gait. It had the double cephalization of the anthropoid apes in general and half that of man….I still believe that the Pithecanthropus of Trinil is the real ‘missing link’.”
Dubois het dus nooit ooit van sy mening dat Pithecanthropus die Vermiste Skakel was, afgesien nie. Honderde Homo erectus fondse soortgelyk aan Dubois se fonds was egter daarna in Java, China, Europa gevind. Vandag weet ons dat Homo ergaster, waarvan daar reeds honderde fossiele ontdek is, in Afrika vanaf ongeveer 2 miljoen jaar voorgekom het en dat dit ongeveer 1.75 miljoen jaar gelede aan Homo erectus in Eurasië oorsprong gegee het. Niemand wat iets van paleoantropologie weet, twyfel in die bestaan van Homo erectus nie en almal is eens dat Java Man bloot ‘n lid van Homo erectus is. En alle paleontoloë is eens dat Homo erectus baie nader aan die mens as aan die aapmense verwant is en dus nie die Vermiste Skakel is nie – soos wat trouens baie paleontoloë reeds van 1895 af gedink het.
Dit is baie jammer dat baie wetenskaplikes hulself in Dubois se foutiewe siening, dat Homo erectus die Vermiste Skakel was, vasstaar en dat baie fundamentaliste hulself in Dubois se foutiewe stelling, dat hy die fossiele van ‘n reuse gibbon-afstammeling ontdek het, vasstaar en erger nog dat hy volgens hulle erken het dat sy fonds bloot dié van ‘n gibbon was.
Volgens my moet ons eerder hierdie baanbreker vir sy suksesvolle speurwerk en ongelooflike deursettingsvermoë bewonder, wat sterk aan Marco Polo en Columbus se prestasies herinner wat hulle, ook ten spyte van die teenkanting van invloedryke mense en ongelooflike struikelblokke, tog bereik het. Hy het miskien nie dié Vermiste Skakel ontdek nie maar hy het wél die eerste fossiele van die eerste oermense wat ooit in Eurasië geleef het ontdek en dít kan niemand van hom wegneem nie.
