Evolusie van die mens 1: Inleiding
DIE EVOLUSIE VAN DIE MENS 1:
INLEIDING
François Durand
Hierdie stuk is bloot om jou ‘n vinnige inleiding te gee tot mensevolusie. Hierdie deel van die werk stem hoofsaaklik ooreen met die inligting wat in die skoolleerplan verskyn. Ek gaan in die artikels wat hierop volg ‘n historiese oorsig van die ontdekkings van sekere belangrike fossiele gee en meer detail oor sekere aspekte van die evolusie van die mens en mensagtiges gee. Ek gaan egter nie hier hoofsaaklik op die debat oor evolusie fokus nie, maar net om die fundamentaliste wat hierdie artikel lees gerus te stel, ek het nie van julle vergeet nie, daar sal spesiaal vir julle artikels oor evolusie in die Evolusie onderafdeling in die Biologie afdeling wees.
In hierdie artikel, en ander oor mensevolusie, gaan ek na aapmense en oermense verwys. Aapmense volgens my definisie verwys na lede van Australopithecus en Paranthropus bloot omdat bykans niemand Australopithecus of Paranthropus kan spel of uitspreek nie en omdat die woord aapmens baie mooi die begrip beskryf. Ek gebruik die term oermens om na alle spesies wat aan die genus Homo hoort, wat die moderne mens – Homo sapiens – voorafgegaan het, te verwys. Al hierdie spesies vanaf die gemeenskaplike voorouer wat ons met chimpansees deel, tot die moderne mens en al die ander aapmens- en oermensspesies wat uitgesterf het, staan as hominiene, of mensagtiges, bekend.
Aangesien ek die artikel maklik en verstaanbaar wil aanbied gaan ek die evolusionêre geskiedenis van die mens vanaf rondom 4 miljoen jaar gelede met die ontstaan van Australopithecus dek, maar glo my die storie gaan verder terug tot by die ontstaan van die Primata en as jy wil, selfs verder terug in tyd.
Australopithecus was ‘n genus wat in Oos Afrika ongeveer 4 miljoen jaar gelede ontstaan het. Australopithecus anamensis het aan Australopithecus afarensis in Oos Afrika oorsprong gegee en dié het weer aan Australopithecus africanus in Suid-Afrika en Paranthropus – die robuuste aapmense in Suid-Afrika en Oos Afrika -oorsprong gegee.
Die morfologiese verskille tussen aapmense en chimpansees is subtiel en gaan meer oor liggaamspostuur, vorm van die gebit en die lengte van hul aanhangsels (arms en bene), maar hulle breinkapasiteit en liggaamsvolume kom baie ooreen.
Aapmense het in ‘n korridor van savannas en grasvelde, wat al langs die Slenkdal vanaf Ethiopië, deur Oos Afrika tot in Suid-Afrika ontstaan het, voorgekom. Afrika het vanaf 5 miljoen jaar stadig begin uitdroog en savannas het die oerwoude verplaas en soos die uitdroging voortgegaan het, het van die savannas in plekke aan graslande oorsprong gegee. Aapmense het ongeveer 5 miljoen jaar gelede vanuit ‘n gemeenskaplike voorouer, wat ons met die chimpansees deel, ontstaan toe ‘n groepie uit die oerwoude beweeg het en aangepas geraak het om op die savanna, wat in die Slenkdal ontstaan het, te oorleef terwyl hul naasverwante, die chimpansees en bonobos, in die woude daarnaas agtergebly het.
Bipedalisme (die vermoë om op twee bene te loop) en die gepaardgaande regop ligaamspostuur en plat gesig (om hulle in staat te stel om tot by hul voete met behulp van perifere sig te sien terwyl hulle regop staan), was spesiale aanpassings wat hominiene ontwikkel het om op die savanna en grasvelde te oorleef want dit het ons in staat gestel om bo-oor die lang gras te sien.

Australopithecus afarensis

Australopithecus afarensis het van ongeveer 3.9 miljoen tot 2.9 miljoen jaar gelede in Oos Afrika voorgekom. Die eerste fossiele van hierdie spesie was al in die 1930’s ontdek maar die belangrikste fondse was eers in die 1970’s ontdek.
Die International Afar Expedition wat deur Maurice Taieb, Donald Johanson en Yves Coppens gelei is, het honderde hominien fossiele in Hadar in Ethiopië ontdek. Die mees bekendes is die gedeeltelike skelet wat Lucy gedoop is en die sogenaamde “Eerste Familie” wat uit die oorblyfsels van verskeie individue van verskillende ouderdomme van Australopithecus afarensis bestaan (Johanson, D. & Maitland, E. (1981). Lucy, the Beginnings of Humankind. St Albans: Granada).
Die voetspore wat in 1974 by Laetoli in Tanzanië deur Mary Leaky ontdek is, word ook aan Australopithecus afarensis toegeskryf. Hierdie voetspore, wat 3 miljoen jaar gelede in afgekoelde vulkaniese as gemaak is, toon dat aapmense bekwame bipedale organismes was (Puech, R (2017) Ce qui était le pied du marcheur devient le chemin de la lignée humaine avec Lucy https://www.academia.edu/12344895).
Hierdie aapmense het in ‘n wye verskeidenheid habitatte voorgekom – vanaf oop grasvelde, bosveld, bossieveld en oewerbosse. Daar was ook merkbare geslagsverskille in Australopithecus afarensis – wyfies was ongeveer 105 cm lank en mannetjies was ongeveer 165 cm lank.
Australopithecus africanus

Die eerste Australopithecus africanus fossiel was in die begin van die vorige eeu deur ‘n mynwerker – ene De Bruyn – by Norlim Kalkmyn in Taung in Noordwes Provinsie ontdek. Prof. Raymond Dart het dit in 1924 uit ‘n stuk kalksteen gehaal en dit as die Vermiste Skakel geïdentifiseer (Dart, R. (1925) Australopithecus africanus The Man-Ape of South Africa. Nature 115: 195–199).
Daarna was honderde Australopithecus africanus fossiele in die Wieg van die Mensdom (noord van Krugersdorp) en by Makapansgat naby Makopane (Potgietersrus) ontdek. Bekende fossiele van hierdie spesie sluit Oertjie Ples en Little Foot in.
Australopithecus africanus se arms en bene is amper dieselfde lengte. Chimpansees se arms is langer as hul bene en mense se bene is langer as hul arms. Australopithecus se breinkapasiteit is soorgelyk aan dié van die chimpansee maar hul tande is meer mensagtig as dié van ‘n chimpansee.
Australopithecus africanus het ongeveer 3 miljoen tot 2 miljoen jaar gelede in die savanna, wat in daardie tyd tussen die woude wat die noordelike deel van Suid-Afrika bedek het, voorgekom.
Paranthropus robustus

Paranthropus robustus (ook bekend as Australopithecus robustus in sekere publikasies) is ‘n aapmensspesie wat in Suid-Afrika ongeveer 2 miljoen tot 1 miljoen jaar gelede voorgekom het. Honderde van hulle fossiele is in die Wieg van die Mensdom ontdek. Paranthropus bedoel “naas mens” en robustus bedoel robuust.
Die eerste Paranthropus robustus skedel was in 1938 deur Gert Terblanche, destyds ‘n skoolseun, by Kromdraai, noord van Krugersdorp ontdek. Dit was deur Robert Broom as ‘n nuwe aapmensspesie beskryf (Broom, R. (1938). The Pleistocene Anthropoid Apes of South Africa. Nature. 142 (3591): 377–339).
Hierdie aapmensspesie wat jonger en groter as Australopithecus africanus is, stem baie met die ander robuuste aapmense van Oos Afrika, soos Paranthropus boisei, ooreen. Paranthropus word algemeen as die afstammeling van Australopithecus africanus beskou.
Die grootte van hul kiestande en die verplatting van hul slagtande, sodat dit soos voormaaltande lyk, dui daarop dat hulle herbivories was. Die skuurmerke op die bytvlakke van die verdikte emalje op die kiestande dui daarop dat hulle ‘n dieet bolle en wortels ingesluit het. Die sandkorrels daarop was vir die skraapmerke en die verwering van die emalje verantwoordelik.
Paranthropus boisei
Hierdie robuuste aapmensspesie staan as Australopithecus boisei in die Amerikaanse publikasies bekend maar in sommige Europese publikasies en in Suid-Afrika word daar meer dikwels na hulle as Paranthropus boisei verwys.
Paranthropus boisei het in Oos Afrika vanaf 2.3 miljoen tot 1.34 miljoen jaar gelede geleef. Mary Leaky het in 1959 die eerste skedel van hierdie spesie ontdek. (Leakey, L.S.B. (1959). A new fossil skull from Olduvai. Nature. 185 (4685): 491)
Paranthropus boisei was die grootste en mees robuuste aapmens van alle tye en het die grootste maaltande met die dikste emalje van alle primate gehad.
Die grootteverskil tussen fossiele dui op geslagsdimorfisme – die wyfies was ongeveer 124 cm lank en mannetjies was 156 cm lank. Die manlike skedels het ook ‘n saggitale rif in die middel bo-oor die skedeldak soos wat mens in mannetjie chimpansee-, gorilla- en orangoetangskedels sien terwyl wyfies se skedeldakke bo rond is.
Die tande en tandverwering dui daarop dat Paranthropus harde kosse soos neute of ondergrondse bolle en wortels met sand op geëet het. Hulle het hoofsaaklik in klam bewoude omgewings saam met ander hominiene soos Homo habilis, Homo rudolphensis en Homo ergaster voorgekom.
Homo habilis

Homo habilis (“handige man”) was ‘n oermensspesie wat tussen 2.33 miljoen en 1.44 miljoen jaar gelede van Oos Afrika tot Suid-Afrika voorgekom het. Daar was oorspronklik ‘n groot debat oor die klassifikasie van hierdie fossiele totdat daar oortuigend bewys is dat hierdie fossiele tot ‘n aparte spesie behoort wat uit Australopithecus africanus ontstaan het en wat aan Homo egaster (die Afrika-ekwivalent van Homo erectus) oorsprong gegee het (Leakey, L.; Tobias, P.V.; Napier, J.R. (1964). A New Species of the Genus Homo from Olduvai Gorge. Nature. 202 (4927): 7–9).
Homo habilis se breinkapasiteit het tussen 500 – 900 cc gewissel. Homo habilis was ook die eerste hominiene sover bekend wat werktuie vervaardig het eerder as om soos chimpansees en aapmense bloot klippe en stokke opportunisties te gebruik om iets uit te krap of oop te breek. Die steenwerktuie wat deur Homo habilis vervaardig was staan as die Oldowan Steenwerktuigindustrie bekend. Die werktuie was spesifiek vir die verwerking van vleis aangewend. Dit dui daarop dat vleis algaande ‘n groter rol in die oermens se dieët gespeel het.
Homo habilis was ‘n tydgenoot van Homo rudolfensis, Homo ergaster, Paranthropus robustus en Paranthropus boisei.
Homo rudolfensis

Die skedel KNM-ER 1470 was in 1986 in Koobi Fora naby die Turkana Meer (voorheen Rudolph Meer) in Kenia deur ‘n plaaslike inwoner, Bernard Ngeneo, ontdek.
Soos wat algaande meer hominien fossiele in Oos Afrika ontdek is, was daar besluit om die hierdie skedel, wat heelwat groter as die ander Homo habilis skedels van dieselfde 2 miljoen jaar oue fossiellaag is, as Homo rudolfensis te herdoop en was dit toe as ‘n aparte spesie geherklassifiseer (Alexeev, V.P., 1986. The Origin of the Human Race. Moscow, Progress Publishers).
Baie paleontloloë, ek inkluis, stem nie hiermee saam nie en dink dat die skedel KNM-ER 1470 wat hierbo uitgebeeld is, dié van ‘n mannetjie is, terwyl die een wat in die Homo habilis afdeling uitgebeeld is (KNM-ER 1813) ‘n voorbeeld van ‘n wyfie is (Argue, D. (2017). Homo rudolfensis. Encyclopedia of Evolutionary Psychological Science. Springer International Publishing. pp.1-4). Dit is waarskynlik ‘n geval van geslagsdimorfisme wat baie algemeen in die grootape, inslutende mensagtiges, voorkom.
Homo ergaster

Homo ergaster (“werkende man”) het wydverspreid op die savannas van Afrika tussen 2 miljoen en 1.5 miljoen jaar gelede voorgekom. Oorspronklik was dit, weens hul talle morfologiese ooreenkomste met Homo erectus, as die Afrika weergawe van Homo erectus geklassifiseer.
Sommige paleontoloë reken egter dat hierdie groep oermense in twee aparte, dog naasverwante spesies verdeel moet word, nl. Homo ergaster wat slegs in Afrika voorkom en wat eerste ontstaan het, en Homo erectus wat in Eurasië voorgekom het en vanuit Homo ergaster ontstaan het (Groves, C.P. & Mazak, V. (1975). An approach to the taxonomy of the Hominidae: Gracile Villafranchain Hominids of Africa. Časopis pro mineralogii a geologii. Vol. 20(3): 225-247). Baie paleontloë verwys egter na die hele groep as Homo erectus (Tattersall, I. (2013). Homo ergaster and Its Contemporaries. In Henke, Winfried; Tattersall, Ian (eds.). Handbook of Paleoanthropology. Springer).
Alhoewel Homo ergaster fossiele vanaf Oos Afrika tot Suid-Afrika voorkom, kom die meerderheid van hierdie fossiele van die Turkana Meer-kom in Kenia vanuit lae wat tussen 1.8 miljoen tot 1 miljoen jaar oud dateer. Homo ergaster was merkbaar groter as sy voorsaat Homo habilis en het ‘n gemiddelde breinkapasiteit van 1 000 cc gehad. Buiten vir hul breinkasgrootte en sekere unieke skedelkenmerke het hulle liggaamsproporsies en grootte met moderne mense s’n oorgeengestem. Hulle gebit, verspreiding en die dierfossiele wat saam met hulle voorkom wat werktuigskade toon, dui dat hulle ‘n jagter-versamelaar bestaan op die savanna gevoer het.
Homo ergaster se koms lui ‘n nuwe tydperk van meer gesofistikeerde steenwerktuie in wat as die Acheuliese Steenwerktuigindustrie bekend staan. Handbyle is die kenmerkende eienskap van die Acheuliese Steenwerktuigindustrie en daar word vermoed dat Homo ergaster die eerste oermense was wat vuur gebruik het.
Homo erectus

Homo erectus (“regop man”) het ongeveer 1.75 miljoen jaar gelede uit Homo ergaster ontstaan. Homo erectus fossiele kom in Eurasië vanaf Spanje tot in Java voor. Homo erectus het vir bykans 1.75 jaar bestaan wat hulle ook die hominien spesie maak wat die langste bestaan op Aarde gehad het. Dit is waarskynlik dat Homo antecessor en/of Homo heidelbergensis vanuit of Homo erectus of Homo ergaster ontstaan het maar weens die ooreenkomste tussen laasgenoemde twee is dit moeilik om te bepaal watter een van die twee die waarskynlike voorouer van die jongste groep hominiene was.
Die eerste Homo erectus fossiele was in 1892 deur Eugene Dubois in Java ontdek (sien die volgende artikel getiteld Java Man) en was, naas Homo neanderthalensis, die eerste hominien wat gevind en as sulks beskryf is.
Die fossiele wat in Dmanisi ontdek is, wat deur sommige paleoantropoloë Homo georgicus genoem word, is volgens my mening net ‘n streeksvariant (ras) van Homo erectus. Homo floresiensis wat op Flores Eiland gevind is, het vanuit Homo erectus, wat op naasliggende eilande voorgekom het, ontstaan. Homo erectus het tot ongeveer 117 000 – 108 000 jaar gelede in Java voortbestaan.
Homo erectus was buiten vir die kleiner breinkas en sekere skedelkenmerke, in alle opsigte mensagtig – dit sluit liggaamsgroote (146-185 cm lank en 40–68 kg swaar) en liggaamsproporsies in. Homo erectus word beskou as die werktuigmaker van die Acheuliese Steenwerktuigindustrie in Eurasië. Hulle was verantwoordelik vir die slag van grootwild, insluitende olifante in Eurasië. Tekens van vuurmaak word algemeen in afsettings met Homo erectus fossiele gevind.
Die kompleksiteit van hul gedrag en die anatomie van die brein dui daarop Homo erectus in staat sou gewees het om te praat.
Homo antecessor

Homo antecessor (“voorourerlike man”) was ‘n voorouer van die moderne mens en waarskynlik die ander naasverwante van Homo sapiens soos Homo heidelhergensis en Homo neanderthalensis. Ongelukkig is die fossielfondse van hierdie hominien spesie baie beperk en is die verwantskappe tussen hierdie laaste groep hominien spesies nog nie so duidelik nie.
Fossiele van Homo antecessor is in Wes Europa (Spanje, Engeland en Frankryk) in lae van tussen 1.2 miljoen en 0.8 miljoen jaar oud gevind. Die spesie is as ‘n oermens beskryf wat ‘n mengsel van primitiewe en moderne kenmerke besit het (Bermudez de Castro, J.M.; Arsuaga, J.L.; Carbonell, E.; Rosas, A.; Martinez, I.; Mosquera, M. (1997). A Hominid from the Lower Pleistocene of Atapuerca, Spain: Possible Ancestor to Neandertals and Modern Humans. Science. 276 (5317): 1392–1395).
Paleontoloë wat nie hierdie fossiele as ‘n unieke spesie aanvaar nie, beskou dit as ‘n vroeë vorm van Homo heidelbergensis of ‘n Wes Europese variant van Homo erectus. Sekere van die gesigskenmerke en die tandontwikkelingspatroon is soorgelyk aan dié van die moderne mens. Van die skedelkenmerke wat van moderne mense s’n verskil is die vergrote oksipitale bol, die laer voorkop en die afwesigheid van ‘n prominente ken wat sterk herinner aan Homo ergaster se gesigskenmerke
Homo heidelbergensis

Homo heidelbergensis het in Afrika en Eurasië tussen 600 000 en 400 000 jaar gelede voorgekom. Die eerste Homo heidelbergensis fossiel was ‘n kakebeen wat by Mauer suidoos van Heidelberg in Duitsland ontdek is (Schoetensack, O. (1908) Der Unterkiefer des Homo Heidelbergensis: Aus den Sanden von Mauer bei Heidelberg. Verlag von Wilhelm Engelmann, Leipzig).
Homo heidelbergensis het moontlik vanuit Homo antecessor, Homo ergaster of selfs moontlik Homo erectus ontwikkel. Homo heidelbergensis is die direkte voorouer van Homo sapiens en Homo neanderthalensis maar het vir lank as tydgenoot saam met Homo neanderthalensis voorgekom.
Homo heidelbergensis het ‘n soortgelyke liggaamsgroote (158 – 170 cm lank), liggaamsproporsies en breinvolume (1 200 cc) as die moderne mens gehad maar nes Homo neanderthalensis, het hulle breë borskaste gehad en was sterk gebou. Hulle skedels was egter baie swaar en hulle het reuse oogbanke gehad en hulle het nie ‘n skerp ken soos moderne mense gehad nie.
Homo heidelbergensis word verbind met die Laat Acheuliese Steentydperkindustrie wat die gebruik van spiese insluit.
Homo neanderthalensis

Homo neanderthalensis het in Eurasië vanaf ongeveer 430 000 jaar tot ongeveer 40 000 jaar gelede voorgekom. Die laaste groot migrasie van Homo sapiens vanuit Afrika na Europa rondom 40 000 jaar gelede, lui die doodsklok vir Homo neanderthalensis. Dit is moontlik dat hulle nie met Homo sapiens, wat beter wapens en tegnologie gehad het, vir kos en ander hulpbronne kon meeding nie, maar siektes of die klimaatsverandering wat daardie tyd plaasgevind het, kon ook tot hulle ondergang gelei het.
Philippe-Charles Schmerling, ‘n Hollandse natuurkundige, het in 1829 die eerste Neanderthal oorblyfsels in die Grottes d’Engis in België ontdek. Hy was egter onder die indruk dat dit bloot oeroue oorblyfsels van ‘n anatomies moderne mens was.
Die eerste skedel wat as Homo neanderthalensis herken was, was in die 1856 in die Neander Vallei in Duitsland ontdek en deur Karl Vogt in 1864 beskryf (Vogt, K.C. (1864). Lectures on Man: His Place in Creation, and in the History of the Earth. London: Longman, Green, Longman and Roberts. pp. 302, 473).
Homo neanderthalensis was ‘n susterspesie van Homo sapiens en hulle het gekruisteel. As jy van Europese oorsprong is, dan het jy ongeveer 1.5 – 2.2 % Homo neanderthalensis gene. Rooi hare is blykbaar van hulle afkomstig. Hulle was korter maar sterker as moderne mense gebou (mans was gemiddeld 166 cm lank en vrouens geiddeld 154 cm lank) en het korter ledemate as moderne mense gehad. Hulle het ook ’n groter breinkapasiteit as moderne mense gehad (1 600 cc teenoor die mens se gemiddelde 1 400 cc breinkapasiteit). Hulle skedels was ietwat langer as dié van ‘n moderne mens en hulle het prominente oogbanke gehad, hulle kenne was vertikaal en het nie soos ons s‘n met ‘n punt uitgestaan nie. Hulle het ook groot neuse en ronde oogkaste gehad.
Die Mousterien Steenwerktuigindustrie word met Homo neanderthalensis verbind. Hulle het klere gedra en berkepik as lym gebruik en met spiese gejag. Hulle het waarskynlik kano’s gehad en kon vir kort ente oor die see vaar. Hulle kon wonde versorg en het ou mense versorg. Hulle het ritualistiese (religieuse) gedrag getoon wat die stoor en uitstal van beerskedels en begrafnisse ingesluit het.
Homo sapiens (argaïes)

Die eerste lede van Homo sapiens het ongeveer 300 000 jaar gelede in Afrika verskyn. Hierdie eerste lede van ons spesie, of te wel Argaïese Homo sapiens, het in elke opsig soos ons gelyk (liggaamsgrootte, breinkasvolume, liggaamsproporsies) buiten vir die feit dat hulle skedels dikker as ons s’n was en hulle oogbanke ietwat meer prominent as dié van modern mense was.
Gelukkig is dit maklik, weens hulle relatiewe jong ouderdom, om hulle genetika met moderne mense s’n te vergelyk. Volgens die genetiese inligting, verpreiding en datering van die fossiele dui dit daarop dat Homo sapiens in Afrika ontstaan het en van daar na die res van die wêreld versprei het. En omdat hierdie onderwerp baie mense wat ek ontmoet fassineer noem ek dit hier – ALLE hominiene wat in Afrika ontstaan het en dié wat uit Afrika gekom – Homo ergaster, Homo heidelbergensis en Homo sapiens was swart. Dit is net soos mense van Afrika, Indië en Australië, alhoewel hulle nie naasverwant is nie, vandag swart is – elkeen van hierdie groepe het onafhanklik swart velle ontwikkel en daar is verskillende gene daarby betrokke. Die enigste manier hoe mense in tropiese en subtropiese gebiede kan oorleef is as hulle donkervellig is om te verhoed dat hulle soos blankes in Afrika en Australië velkanker kry. Homo neanderthalensis was die eerste witvellige mensspesie sover ons weet en interessant genoeg – noordelike Homo sapiens rasse het nie hulle wit velle van Homo neanderthalensis weens intelery van hulle geërf nie, maar dit onafhanklik ontwikkel.
Argaïese Homo sapiens fossiele, wat tussen 200 000 en 300 000 jaar oud is, was in die Horing van Afrika, Morokko en Suid-Afrika gevind. Volgens genetiese bewyse het Homo sapiens in Eurasië met die oermense Homo neanderthalensis in Europa en Denisoviërs in die Ooste gekruisteel. Moderne Homo sapiens in Eurasië het Homo neanderthalensis en Denisoviër gene terwyl moderne Homo sapiens van Afrika dit nie het nie.
Daar was verskeie golwe van emmigrasie van Afrika na Eurasië – die oudste wat sover opgespoor kon word het 270 000 jaar gelede plaasgevind en toe ongeveer 215 000 jaar gelede en weer 130 000 jaar gelede toe daar massiewe droogtes in Afrika was wat mense van die binneland na die kusgebiede gedryf het. Daar was toe ‘n hiaat tot ongeveer 70 000 na 50 000 jaar gelede toe daar weer ‘n migrasie van mense van Afrika langs die suidelike roete allangs die kusgebeid van Eurasië tot in Australië plaasgevind het. Die mense wat in die Midde Ooste en Europa gevestig het, het van ‘n groep mense uit Afrika minder as 55 000 jaar gelede gestam.
Homo sapiens het die grootste verskeidenheid steenwerktuie van alle hominiene vervaardig, onder andere pylpunte, omdat hulle onder andere met pyl en boë gejag het. Een van die nuwe werktuie wat mense in Europa gebruik het was ‘n spieswerper wat hulle in staat gestel het om hul spiese baie verder en meer akkuraat en met meer krag te werp.

Hierdie stamboom van die mens wys die hominienspesies soos wat dit aan ons teen die einde van die vorige eeu bekend was. Intussen was daar verskeie nuwe fossiele soos Australopithecus sediba, Homo naledi, Homo floresiensis en Homo georgicus ontdek. Die hominienspesies in die stamboom en die nuwe fondse sal in opvolgende artikels bespreek word.
