Maak jou eie kompos
Bakterieë:
Meeste bakterieë is nie gevaarlik vir mense en ander organismes nie. Die hele ekologie is trouens van bakterieë afhanklik. Om die punt te illustreer – die meeste lewe op aarde in massa, getal selle en ten opsigte van verspreiding, is bakterieë. Bakterieë en Archaea was die eerste organismes op aarde en sal lank na alles anders op aarde uitgesterf het, nog steeds op aarde voorkom.
Ons hele bestaan is van mikro-organismes soos swamme en bakterieë afhanklik maar ten spyte daarvan, word dit amper nooit in die onderste laag van voedselpiramides uitgebeeld waar hulle hoort nie.
Net om ‘n voorbeeld te noem om die belangrikheid van bakterieë te bewys: ‘n gemiddelde mens bestaan uit 15 triljoen selle waarvan net 10% menslike selle is. Met ander woorde die res (90%) is protosoë, gisse maar hoofsaaklik bakterieë. Meeste van hierdie bakterieë kom in jou derms voor. Die grootste deel van feses bestaan uit water maar die res bestaan uit 25 – 54% dooie en lewende bakterieë. Die rede vir al hierdie bakterieë in jou derms is om jou te help om kos te verteer. Hierdie simbiose tussen die gasheer en intestinale bakterieë is nie uniek aan die mens nie maar kom reg deur die diereryk voor.
Plante het ‘n soortgelyke verhouding met bakterieë en swamme. Swamme en bakterieë stel voedingstowwe aan die plante beskikbaar deur die afbraak van organiese materiaal. Een van die groot verskille tussen plante en diere is dat die fungi en bakterieë buite die plant in die grond rondom die wortels voorkom en nie inwendig soos in die spysverteringstelsel van diere nie. Kortom, meersellige organismes – plante, fungi en diere – sou nie sonder die hulp van bakterieë kon bestaan het nie.
Benewens die organiese voedingstowwe wat bakterieë en swamme aan plante deur die verotting van plantmateriaal beskikbaar stel, is bakterieë en swamme in die vorm van ligene verantwoordelik om minerale uit klip aan plante beskikbaar te stel. Geofagiese bakterieë en ligene verteer letterlik rotse waarna hierdie minerale deur die res van die voedselweb opgeneem word. Geofagiese bakterieë is al so diep soos 3 km onder die oppervlakte in goudmyne ontdek. En om alles te kroon was sianobakterieë vir die suurstof in ons atmosfeer en oseane verantwoordelik. Van hierdie sianobakterieë het in die oertyd aan chloroplaste oorsprong gegee.
Daar is ook ‘n interessante wisselwerking tussen fungi (swamme) en bakterieë want hulle kompeteer dikwels met mekaar vir dieselfde kosbronne. Sommige fungi beveg bakterieë met bakterie-gif soos penisillien wat ons as antibiotika gebruik.
***
Kompostering is die natuur se manier om afval weer as voedingstowwe aan organismes beskikbaar te stel. Kompos word gevorm wanneer organiese materiaal deur die werking van bakterieë, protosoë, swamme en detrivore afgebreek word. Bakterieë en swamme breek organiese materiaal uiteindelik tot op molekulêre vlak af wat hierdie molekules aan ander organismes – veral plante – as voedingstowwe beskikbaar stel. Die kompos of humus wat ontstaan dien ook as groeimedium wat nie slegs voedingstowwe aan die plant verskaf nie, maar ook ‘n tuiste vir die komposterende organismes en swamme wat ‘n assosiasie met plantwortels vorm waardeur voedingstowwe aan die plantwortels oorgedra word. Humus absorbeer en hou ook water wat die plant bevoordeel.

My komposkas – let op die swart kompos wat onder die sinkplaat uitsteek. Die twee sinkplate weerskante van die klipmuurtjie sluit nie dig nie en dus kom daar heeltyd lug in. Die komposkas het ‘n sementblad onder wat keer dat die reënwater wat op dit val nie direk in die grond in dreineer nie, maar ook dat die oortollige water maklik kan uitloop. In droeë tye gooi ek dit weekliks nat om dit klam te hou. Omdat die kompos genoeg lug kry, hoef ek dit nie om te draai nie. Ek gooi eenvoudig opgeharkte blare, grassnysels, groenteskille en opgeskeurde eierkartonne bo-op. Elke jaar haal ek ongeveer 12 kruiwaens kompos uit die onderste deel van die komposhoop.
Organiese materiaal
Kompostering van plantmateriaal begin met ‘n hoop dooie organiese materiaal soos grassnysels, blare, takke, houtsaagsels of kosreste.
Die hoofrede vir die keuse van materiaal vir kompostering is dat mens sekere bestanddele nodig het om die organismes, wat vir kompostering verantwoordelik is, te onderhou. Blare, grassnysels (wat eintlik ook maar net bare is) en vrugte het volop koolstof, stikstof en selfs water wat ideaal vir kompostering is. Daar is egter ander organiese materiaal wat ook vir kompos gebruik kan word – sien later.
- Koolstof vir energie. Die mikrobiese oksidasie van koolstof verskaf hitte aan die komposhoop wat ‘n baie belangrikse stap van kompostering en die verwydering van patogeniese mikrobes vorm.
- Stikstof om die organismes, wat die koolstof oksideer, te onderhou.
- Suurstof om die koolstof te oksideer.
- Water om die komposterende materiaal klam te hou en sodoende al die organismes, wat vir kompostering verantwoordelik is, te onderhou.
Organismes betrokke by kompostering
Bakterieë en veral aerobiese bakterieë speel ‘n belangrike rol op verskeie vlakke van kompostering. Die grootste persentasie van organismes in ‘n komposhoop is bakterieë. Mesofiliese of termofiliese bakterieë domineer die komposhoop op verskillende stadiums van kompostering. Sekere bakterieë het ‘n baie spesifieke rol in die komposteringsproses – aktinobakterieë bv. breek bas en papierprodukte af.
Alhoewel aerobiese bakterieë regdeur die proses van kompostering ‘n belangrike rol op verskeie vlakke vervul, speel swamme ‘n allerbelangrike rol in die afbraak van plantmateriaal. Swamme se hoofkenmerk is dat hulle hoofsaaklik op dooie plantmateriaal leef en ensieme vervaardig om sellulose op te los om sodoende by die voedsame selinhoud uit te kom. Aerobiese bakterieë en swamme produseer ammonium, koolsuurgas en hitte tydens verotting.
Protosoë doen hulle deel deur om van die bakterieë en swamme en organiese afbraakprodukte te voed om sodoende te help om die ekologie van hierdie mikro-habitat te beheer.
Rotifere vorm die volgende trofiese vlak in die komposhoop voedselpiramide deur om op protosoë en bakterieë te voed.
Erdwurms voed op die organiese materiaal en die mikro-organismes daarin en in die proses dra hulle verder by tot die afbraak van die organiese materiaal maar dra ook by tot die chemiese kenmerke van grond deur middel van kalkkliere wat in hulle spysverteringskanaal voorkom wat tot die alkaliniteit van die grond bydra. Daarbenewens belug hulle ook die komposhoop deur om tonnels deur die materiaal te maak. Hierdie tonnels dra ook daartoe by dat water ook makliker deur die hoop kan dring.
Water
Hierdie hoop organiese materiaal moet natgehou word sodat die afbrekers daarin kan funksioneer. Beide swamme en bakterieë het ‘n klam omgewing nodig om in te funksioneer. Hierdie afbrekers vrek as die hoop uitdroog en mens moet dus heeltyd dophou om te sien dat dit klam is maar ook nie te nat nie.
Lug
Jou komposhoop moet belug word. Swamme is eukariotiese organismes en het dus suurstof nodig. Daar is akwatiese swamme en daar is suurstof in water, maar die meeste swamme is landlewend en benodig suurstof in lug om te kan funksioneer. Vir hierdie rede moet ‘n komposhoop belug word sodat die swamme kan oorleef en hul werk doen. Wanneer ‘n komposhoop te nat is of nie behoorlik belug word nie, verrot die materiaal hoofsaaklik deur die werking van bakterieë. Daar is egter wel aerobiese bakterieë wat suurstof benodig maar die meeste bakterieë kan nie in suurstofryke omgewings bestaan nie en neem dadelik die verrottingsproses oor as die swamme nie meer die werk kan doen nie. So ‘n bakterie-gedomineerde komposhoop stink en word ‘n slymerige swart massa soos die aanpaksels binne ‘n rioolpyp. Die enigste manier om dit te vermy is of om jou komposhoop in ‘n bogrondse houer te bou waar lug kan deurvloei of om jou kompos weekliks om te dolwe om die komposterende materiaal aan lug bloot te stel. Mens wil die omdolwery nie te dikwels doen nie want dit dood erdwurms en breek die hifes van die swamme onnodig.
Fases van kompostering
Onder perfekte toestande is daar drie fases van kompostering:
Die aanvanklike mesofiliese fase waartydens die kompostering onder matige temperature deur mesofiliese mikro-organismes uitgevoer word.
Soos die termperatuur van die komposhoop styg, breek die termofiliese fase aan waartydens kompostering deur ‘n verskeidenheid termofiliese bakterieë onder hoë temperature (54–71° C) uitgevoer word.
Die temperatuur binne die komposhoop begin daal soos die voorraad van hoë-energie materiaal begin afneem en mesofiliese organismes weer beheer oorneem in die laaste fase van kompostering.
Verwydering van patogene
Patogene is organismes wat mense, diere en plante siek maak – dit sluit bakterieë, swamme en protosoë in. Meeste van hierdie patogene word soos plantsade tydens die verhoging van die temperatuur tydens die termofiliese fase van kompostering vernietig. Dit is veral belangrik as daar mis in ‘n komposhoop is. Gedurende die laaste fase van kompostering verwyder swamme die fitotoksiene (plantgif) wat nog moontlik in die kompos mag voorkom.
Gerbruik kompos in jou groentetuin of wanneer jy nuwe bome en struike plant
Wanneer jy ‘n nuwe groentetuin voorberei moet jy kompos in die grond inwerk om sodoende die grond met voedingstowwe te verryk voor jy jou sade plant. Dit is belangrik dat die kompos goed met die grond ingemeng moet word sodat die suur van die kompos nie die plantworteltjies of sade beskadig nie. Dieselfde beginsel geld vir die inwerk van kompos in grond waar jy ‘n boompie wil plant. Kompos word deesdae selfs op die grootste tamatieplaas in die wêreld eerder as kunsmis gebruik. As dit goed genoeg is vir hulle – moet jy weet dat kompos ook die regte ding is vir jou groentetuin.

Kompos uit my komposhoop
WOORDELYS
Alkaliniteit (alkalinity) is water se vermoë om suur te neutraliseer.
Archaea (archaea) lyk op die oog af soos bakterieë, maar het hul eie unieke genetika en biochemiese prosesse. Hulle kom in ‘n wye verskeidenheid anaerobiese habitatte voor, vanaf die menslike kolon tot habitatte wat gevaarlik vir ander organismes is en hoekom sommige navorsers hulle ekstremofiele noem.
Bakterieë (bacteria) is mikroskopiese enkelselle organismes wat in verskeie habitatte oorleef vanaf grond, oseaan tot in diere se derms. Bakterieë en Archaea, is van die kleinste en mees primitiewe organismes op aarde – hulle vorm saam die prokariote.
Detritivore is organismes soos bakterieë, swamme, vliegmaaiers en erdwurms wat dooie organiese materiaal vreet.
Ekstremofiele (extremophiles) is organismes wat bo of onder die mesofiliese standaard (20°- 45° C) bestaan. Dit sluit ook organismes in wat in omgewings met uiterste suur of alkaliese toestande, droogte, ioniese radiasie en sout leef.
Eukariotiese organismes (eukaryotic organisms) is enkelsellige of meersellige organismes wat ‘n kern en dubbelmembraan organelle besit.
Geofagiese bakterieë (geophagic bacteria) dit is bakterieë wat voedingstowwe uit rots verkry.
Hifes (hyphae) of swamdrade is die netwerk van selstringe wat tesame die miselium of die vegetatiewe deel van ‘n fungus opmaak.
Humus (humus) is ‘n ander (Latynse) woord vir kompos.
Kompos (compost) is die afbraakproduk van die verotting van plantreste. Hierdie verotting word deur bakterieë en swamme bewerkstellig. Die voedingstowwe word sodoende aan die grond terugbesorg en kan weer deur plante opgeneem word.
Kompostering (composting) is die proses van komposvorming.
Mesofilies (mesophilic) dit is organismes wat matige temperature (20°- 45° C) benodig om te leef.
Patogeen (pathogen) is enigeen van ‘n wye verskeidenheid organismes wat ander organismes siek maak.
Penissilien (penicillin) is ‘n bakterie-gifstof wat oorspronklik deur die Penicillium skimmel vervaardig is en wat nou as antibiotika gebruik word.
Protosoë (protozoa) is eensellige eukariotiese organismes soos Amoeba.
Termofilies (thermophilic) is organismes wat in warm habitatte (41°- 122° C) leef. Baie termofiele is Archaea en dit is hoogs waarskynlik dat die eerste organismes op aarde termofieliese Archaea was.
Toksien (toxin) is ‘n gifstof wat deur ‘n organisme vervaardig word.
