Prof Francois Durand is ‘n dierkundige, paleontoloog en ekoloog.
Hy het vir tien jaar as paleontoloog by die Raad vir Geowetenskap gewerk voor hy as dosent in die Dierkunde Department van die Randse Afrikaanse Universiteit aangestel is. By RAU, later die Universiteit van Johannesburg, het hy vir meer as 20 jaar kursusse in dierdiversiteit, vergelykende morfologie en embriologie, evolusie, paleontologie, ekologie en wetenskapfilosofie aangebied. Sy navorsing sluit onderwerpe soos grot- en grondwaterekologie, ekologie van vleilande, paleontologie, evolusie, filosofie, onderwys, klimaatsverandering en die impak van mynwater op die ekologie in.
Dit is sy passie om wetenskap vir die algemene publiek te ontsluit en verstaanbaar aan te bied en hy was as beste lektor in die Fakulteit Natuurwetenskappe en die Universiteit van Johannesburg aangewys. Hy het vir jare die rubriek Fossielfokus in die wetenskaptydskrif Archimedes geskryf en was vir meer as 25 jaar op die radio ‘n deelnemer aan die wetenskapprogramme Hoe verklaar u dit op Afrikaans Stereo en later Ek wil weet op Radio Pretoria en Pretoria FM. Mens kan hom gereeld op TV en die radio hoor waar hy oor dierkunde, ekologie, paleontologie en klimaatsverandering gesels. Hy is ook ‘n wêreldbekende kunstenaar wie se kuns onder andere op posseëls en goue en silwer munte van die SA Munt verskyn het.
