Diere 1: Inleiding
DIERE 1: DIE DIVERSITEIT VAN DIERE
François Durand
Elke jaar vra ek die eerstejaars: “noem vir my vyf diere – maar so verskillend van mekaar as moontlik”. Dan volg daar ‘n geskokte stilte – miskien omdat almal bietjie skaam is. Dit gee vir my die geleentheid om te sê: “maar julle het Dierkunde gekies as ‘n vak op universiteit – julle moet tog sekerlik ‘n idee hê van wat ‘n dier is!” Dan voeg ek bemoedigend by: “die eerste persoon wat antwoord het dit die maklikste, want ek het net enige dier as voorbeeld nodig!”
Dan 9 uit die 10 keer kom die antwoord: “’n hond!”
Natuurlik is dit reg! ‘n Hond is ‘n dier! Hoera! Dit lyk asof ons wel ten minstens een voornemende dierkundige in die klas het!
Dan begin die studente ontdooi na die ys gebreek is en voorbeelde word uitgeroep: “’n kat, ‘n olifant, ‘n muis, ‘n bok, ‘n mens!” Laasgenoemde voorbeeld kom gewoonlik van ‘n student wat baie braaf en gewaagd voel en so bietjie kontroversieël probeer wees.

Maar hier is die ironie – een hond is die tuiste van derduisende diere – meeste waarvan die Dierkunde student nog nooit eens gehoor het nie. Eintlik is die ironie veel groter – die student is ook die tuiste van derduisende diere – insluitende sommige spesies wat hy met sy hond deel!
Maar hier is nog ‘n groter ironie – al 5 voorbeelde wat die studente jaar na jaar vir my noem is soogdiere, wel meestal, want soms is daar ‘n dapper herhaler wat hierdie lessie van die vorige jaar onthou wat wel met iets anders soos ‘n kakkerlak vorendag kom!
Soogdiere is maar een van die agt klasse wat die Subfilum Vertebrata of te wel die werweldiere opmaak. Die Vertebrata is maar een van drie subfilums wat die Filum Chordata opmaak. Maar daar is 30 filums diere! Met ander woorde Dierkunde studente kan gewoonlik slegs verteenwoordigers van een klas van een subfilum van een filum noem. Maar tog word goed soos sprinkane van die filum Arthropoda en erdwurms van die filum Annelida op skool behandel. En as ek hier na behandel verwys bedoel ek dat die erdwurm, sprinkaan, padda, akkedis, haas en duif wat uit 1 200 000 bekende spesies gekies is, oppervlakkig behandel word. Dit verteenwoordig 4 van die 30 dierfilums. Deesdae leer hulle ook van sponse (filum Porifera) en stekelhuidiges (filum Cnidaria) maar nie meer van slakke en verwante (filum Mollusca), soos toe ek op skool was, nie.

So wat het tydens daardie Desembervakansie na matriek gebeur wat die voornemende studente se breins skoongevee het?
Maar nee, liewe leser, daardie Desembervakansie was nie die rede vir ons studente se vreemde gedrag nie – ons kultuur is. Mens leer praat op jou moederskoot en jy was van kleins af grootgemaak met die idee dat honde, katte, muise, olifante, kameelperde, leeus, bokke, koeie, skape en varke diere is terwyl die res met gif gespuit word. Ons sit ook met allerhande ander struikelblokke in ons kultuur wat definisies beduiwel soos verwysings na rein en onrein diere, diere met gesplete hoewe en diere wat volgens hulle soorte geskape is.
‘n Mens moet studente deur hierdie taalstrikke en gedagteknope lei voordat hulle oë oopgaan en hulle die natuur onbevange en objektief kan aanskou. Net om ‘n paar voorbeelde te noem om te wys hoe diep hierdie wanpersepsies in ons taal en kultuur ingedring het: daar is byvoorbeeld nie ‘n ding soos ‘n gesplete hoef nie. Spesies wat aan die genus Equus hoort (perde, donkies en zebras ens.) het een hoef aan elke poot, terwyl bokke twee hoewe op elke poot het en varke en seekoeie het weer 4 hoewe op elke poot en renosters het 3 hoewe op hul drie tone op elke poot. Niks is gesplete nie.
Vlermuise is nie voëls nie en walvisse is nie visse nie. Mens wonder hoe is dit moontlik dat na duisende jare se gejag, slag en etery, mense nie agtergekom het dat walvisse soogdiere is en nie visse is nie. Miskien omdat hulle taal en kultuur hulle so teruggehou het dat hulle nie tussen longe en kiewe kon onderskei nie (visse het kiewe en soogdiere het longe mos). Sommige mense sal dink dat so ‘n punt beuselagtig is, tot hulle agterkom dat mense regtig longe en kiewe eet en dus, al het die woorde hul skynbaar ontgaan, het ons voorsate vir duisende jare lank mondevol van die naamlose goed gekou, en hulle het embrios uit die moederwalvisse geslag (beenvisse lê mos eiers), en hulle het walvisharte met vier hartkamers geëet net soos hulle bees- en skaap- en bokharte geëet het (visse se harte het mos net twee hartkamers).
So het ons tallose walvisse deur ons spysverteringstelsels gestuur maar sonder ‘n enkele gedagte dat dit dalk nie ‘n vis is wat ons so lustig verorber nie, maar ‘n dier! (Ek weet dat ‘n walvis eintlik ‘n soogdier is, ek gebruik maar net Bronstydperk terminologie om ‘n punt te maak sodat jy kan sien hoe agterlik die manier van denke is). Mens sou dink dat iemand, ten minstens een van daardie duisende walvisjagters en hul families iets sou opgelet het! Maar dit was Edward Tyson, ‘n mediese dokter van Brittanje wat diere gedissekteer het, wat die eerste persoon was wat in 1680 ontdek het dat dolfyne eintlik soogdiere is. Hy het ook terloops in 1698 ontdek dat die chimpanzee naasverwant aan die mens is en dat dit die evolusionêre skakel tussen stertape (monkeys) en die mens is. Vir die mense wat glo dat Charles Darwin “die vader van evolusie is” moet dit sekerlik as ‘n skok kom om te ontdek dat Darwin ‘n eeu na Tyson gesterf het, gebore is.
En nou is ons in diep vaarwater, want as ‘n walvis ‘n dier is, wat is ‘n vis dan? Soos ons in die volksmond sê: “nog vis nog vlees!” want sien, volgens Genesis is visse en voëls nie diere nie! Volgens Genesis 1: 20-25 was die visse en alles wat in die see wemel en die gevleuelde voëls van die hemele op die vyfde dag geskape en die diere en kruipende diere op die sesde dag! Dit het natuurlik ramifikasies en implikasies soos jy nie kan glo nie! Bv. toe Noag al die diere op die ark moes neem, het hy dus nie opdrag gekry om visse, voëls of kruipende diere op die ark te neem nie. Maar wag nou, waar het die voëls dan vandaan gekom wat Noag moes vrylaat om te sien of daar land is? Natuurlik is dit net Bronstydperk stories wat mens nie ernstig hoef op te neem nie, al wat mens baie ernstig moet opneem is mense wat hierdie stories vandag nog steeds ernstig opneem, want hulle is die rede vir die onkunde van derduisende mense – gewoonlik hul eie.
Met ander woorde in die volksmond bestaan daar vyf tipes dieragtiges (waarvan diere verder in rein en onrein diere verdeel word) en plante. Maar swamme en chromiste en protiste en bakterieë was nooit volgens volkskennis geskape nie. Geen wonder dat daar ou mense was wat na sampioene as duiwelsbrood verwys het en na koudbloedige diere, selfs paddas, as die addergeslag verwys het nie!
Nou moet die arme student met daardie taal- en kultuuragterstand skielik besef dat ‘n spons ‘n dier is. “Hoe kan dit wees?” vra die verwarde student, “‘n spons kan mos nie beweeg nie!” Maar die arme studente het blykbaar nog nooit agtergekom dat talle diere nie rondbeweeg nie – soos rooiaas, brachiopode, seepokke, mossels, oesters en nog talle meer vanaf hengelvismannetjies tot lintwurms!
“Maar ons het nog nooit hengelvismannetjies of rooiaas gesien nie!” roep ‘n student onthuts uit, maar ek kon nie mooi uitmaak wat hy sê nie want sy mond was so vol mossels gestop. So tussen ons twee, ek wed jou dis die tipe ou wat onder die indruk verkeer dat swamme plante is en dat ‘n lintwurm ‘n enkele dier is en dat vlermuise in mense se hare vlieg en dat slange kan praat!

Om te kan beweeg is nogals ‘n algemene kenmerk in baie diere, maar daar is slymswamme, chromiste en plante wat ook kan beweeg! Ons moet miskien nie na beweging as kenmerkende eienskap kyk om te bepaal of ‘n organisme ‘n dier is of nie. Die kenmerke wat ons wel kan gebruik om te bepaal of ons met ‘n dier, plant of swam te doen het is of die selle chloroplaste het of nie, en tweedens of daar selwande is of nie. Dis baie eenvoudig – plante het chloroplaste in hulle selle en hulle het selwande van sellulose. Swamme daarenteen het geen chloroplaste in hul selle nie en hulle het selwande van kitien. Dierselle het nie chloroplaste of selwande nie.
Terug na die student se dilemma: daar is maar 6 400 soogdierspesies op aarde (waarvan die eerstejaarstudent terloops gemiddeld 40 ken). Maar dan is daar meer as 10 000 reptielspesies en tussen 9 000 en 10 000 voëlspesies en meer as 8 000 amfibieërspesies en meer as 25 000 visspesies. Met ander woorde soogdiere vorm die kleinste groep van die omtrent 40 000 werweldierspesies wat dit tog so eienaardig maak dat studente jaar na jaar op hierdie amper onbenullige groepie só fokus!
Wat anders is daar? Wel 4 uit elke 5 diere op Aarde is ‘n rondewurm of nematood! So logies, moes die eerste student elke jaar ‘n rondewurm as ‘n voorbeeld van ‘n dier genoem het. Maar ongelukkig word rondewurms nie in die skoolkurrikulum gedek nie. Hoe vreemd tog! Rondewurms is van die mees algemene plantpatogene en is van algemeenste parasiete in diere en mense. Ongeveer 2.5 miljard mense is tans met rondewurms besmet, selfs van my studente, maar meeste is heeltemal onbewus daarvan. Alhoewel daar maar ongeveer 15 000 rondewurmspesies bekend is, mag daar moontlik tot soveel as 500 000 rondewurmspesies op Aarde wees.
Maar dit is nie die einde van die storie nie. Rondewurms mag wel die mees algemene diere op land wees (‘n enkele teelepel grond mag honderde rondewurms bevat terwyl tot 90% van die diere op die seebodem rondewurms is), maar hulle is nie die spesierykste groep op aarde nie. Daardie eer kom natuurlik die geleedpotiges (filum Arthropoda), waaronder die insekte val, toe. Tans is daar ongeveer ‘n miljoen bekende insekspesies met nog ‘n beraamde 5 miljoen insekspesies wat nog nie ontdek is nie. Met ander woorde daar is meer bekende insekspesies as die bekende plante, fungi, chromiste en ander dierspesies tesame. En as ons beraming korrek is naamlik dat daar 6 miljoen spesies insekte op Aarde is, dan sal omtrent 80% van alle spesies insekte wees!
‘n Mens sou nou dink dat die student logies ‘n geleedpotige sou noem wanneer ek vir hulle vir voorbeelde van diere vra bloot omdat daar oor ‘n miljoen follikelmyte in die sweetgaatjies op sy vel leef en oor sy vel snags krioel, en dan wil ek nie eens aan die moontlikheid van luise of vlooie op die student dink nie! Mens sou nou dink dat studente sou onthou het dat hulle hul hond met ‘n vlooi-sjampoe gewas het, gif op die hond se rug teen bosluise gesit het en ‘n anti-wurm pil ingegee het.
Die Filum Chordata (waaronder die Subfilum Vertebrata (werweldiere) val waarop mense fikseer), die Filum Nematoda (wat die mees algemene diere op Aarde bevat), die Filum Arthropoda (wat die Klas Insecta bevat wat die spesierykste groep op Aarde is). Maar onthou daar is 30 dierfilums op Aarde waarvan ons nou maar 3 so vlugtig genoem het!
Kom ons begin by die begin – diere behoort aan die Koninkryk Animalia (animalia is Latyn vir diere). Diere, wat ook as die Metazoa (wat meersellige diere beteken, om hulle van Protozoa, die eensellige organismes, te onderskei) bekend staan, word eerstens volgens die rangskikking van selle verdeel. Diere soos sponse (filum Porifera) en plakosoë (filum Placozoa) bestaan net uit ‘n losse assosiasie van selle en word onder die Subkoninkryk Parazoa geplaas. Die res van die diere wat weefsel besit, word in die Subkoninkyk Eumetazoa geplaas.
Die Eumetazoa word weer volgens hulle simmetrie in die Radiata en die Bilateria verdeel. Die Radiata word deur die kwalle verteenwoordig (filum Cnidaria). Oorspronklik was die kamkwalle (filum Ctenophora) ook as deel van die Radiata geklassifseer, maar deesdae word dit as deel van die Bilateria beskou.

Die meerderheid diere resorteer onder die Bilateria. Die Bilateria is bilateraal simmetries en is triploblasties en het dus drie kiemlae. Dit bedoel dat hulle ‘n voorkant en agterkant het en dus ‘n bo- en onderkant het en dus ‘n linker- en regterhelfte het wat spieëlbeelde van mekaar is.
Die Bilateria word tradisioneel volgens die afwesigheid of teenwoordigheid van ‘n liggaamsholte of seloom (dis ‘n holte weerskante van die dermkanaal en die buitenste liggaamswand) in drie groepe verdeel. Die lede van die filum Platyhelminthes (soos lintwurms) het nie ‘n liggaamsholte nie en hulle staan as die Acoelomata bekend.
Die diere van die filums Nematoda, Nematomorpha, Rotifera, Kinorhyncha, Acanthocephala, Loricifera en Gastrotricha het ‘n ligaamsholte wat net gedeeltelik deur mesoderm uitgevoer word en staan as die Pseudocoelomata bekend.
Die diere van die filums Nemertea, Priapulida, Annelida, Onychophora, Tardigrada, Arthropoda, Mollusca, Phoronida, Ectoprocta, Brachiopoda, Echinodermata, Chaetognatha, Hemichordata en Chordata is voorbeelde van die Coelomata of te wel diere wie se liggaamsholte heeltemal met mesoderm uitgevoer is.
Deesdae word Bilateria eerder op grond van hulle embrionale ontwikkeling in die Protostomia en Deuterostomia opgedeel met die kamkwalle (filum Ctenophora) as sustersgroep van die Protostomia en Deuterostomia.
Die Protostomia word verder in die Spiralia en die Ecdysozoa verdeel. Die Spiralia sluit die dierfilums in waarin tipiese spiraalkliewing tydens die embrionale ontwikkeling plaasvind. Die Ecdysozoa sluit weer die invertebrate wat vervel in.
Hierdie inligting is belangrik om te weet wanneer ons later oor evolusie gaan gesels want ek gaan regtig nie net oor soogdiere praat nie. Sommer vir interessantheid – vir mense wat glo dat Darwin “die vader van evolusie is” omdat hy die boek The Origin of Species geskryf het – Darwin het baie meer oor erdwurms en korsmossels geskryf as oor die herkoms van die mens. Moenie my glo nie – gaan lees dit self: https://ia803002.us.archive.org/0/items/onoriginofspecie1859darw/onoriginofspecie1859darw.pdf

Al hierdie filums sal in die volgende hoofstukke in hierdie afdeling bespreek word.
