Ons Fossielerfenis
Suid-Afrika is wêreldberoemd vir sy unieke fossielerfenis. Daar word soms na Suid-Afrika as die geboorteplek van die mens, dinosouriërs en soogdiere verwys. Dit is hier waar van die oudste en dikwels meeste fossiele van hierdie organismes gekry is. Dit bedoel nie noodwendig dat hierdie diere in die oertyd slegs hier voorgekom het nie, maar wel dat die fossiele van hierdie organismes die beste in die Suid-Afrikaanse fossielrekord bewaar is.
Die fossiele van die voorouers van die soogdiere, die sogenaamde sinapsiede, of soogdieragtige reptiele, kom in hulle derduisende in die Karoo Supergroep voor. Die Karoo Supergroep is een van die grootste afsettings van die Perm tot Trias Periode ter wêreld. Dr. Robert Broom het gesê dat mens storie van die ontstaan van die soogdiere soos in die blaaie van ‘n boek kan lees as mens deur die verskillende lae, wat die Karoo Supergroep opmaak, gaan. Danksy die fossiele van die sinapsiede, waarvan meeste in Suid-Afrika voorkom, weet ons hoe en wanneer die soogdiere tot stand gekom het.
Danksy die navorsing van die Suid-Afrikaanse geoloog Alex du Toit en die paleontoloog James Kitching op die wêreldwye verspreiding van Karoo-fossiele, weet ons dat die Duitse geograaf Alfred Wegener se teorie van Kontinentale Drywing waar is. Die verspreiding van fossiele van die uitgestorwe plante Dicroidium zuberi, sekere Glossopteris spesies, die akwatiese reptiel Mesosaurus en die soogdieragtige reptiele Cynognathus en Lystrosaurus bewys dat Suid-Amerika, Antarktika, Indië, Australië en Afrika in die oertyd aan mekaar gekoppel was om die suidelike superkontinent Gondwanaland te vorm.
In ons Suid-Afrikaanse fossielskatkamer is daar egter nog baie ander skatte, sommige daarvan sluit die thekodontiërs in – hierdie indrukwekkende reptiele was die voorsate van die krokodille, dinosouriërs en voëls. Volgens die beskikbare inligting lyk dit ook, na alle waarskynlikheid, dat die dinosouriërs in suiderdelike deel van Gondwanaland ontstaan het, want die oudste dinosouriërs ter wêreld kom in Suid-Afrika en Suid-Amerika voor.
Dit is egter nie al nie. Van die heel oudste fossiele ter wêreld kom ook in Suid-Afrika voor. Die fossiele van oer-bakterieë word in dun chertlae in die berge rondom Barberton gevind. Hierdie lae is as ongeveer 3 miljard jaar oud gedateer. Daar is slegs twee ander plekke op aarde wat soortgelyke fossiele opgelewer het, die een is in Groenland en die ander in Australië, lg. is selfs ietwat ouer. Die sedimentêre gesteentes waarin hierdie mikroskopiese fossiele ontdek is, was oorspronklik deel van die oer-aardkors.
Daar is ook stromatoliete van verskeie groottes en soorte in Suid-Afrika. Hierdie sedimentêre strukture is deur sianobakterieë gevorm wat die eerste fotosinterende organismes in die wêreld is, en wat ook die suurstof in die water en die atmosfeer vrygestel het.
Om alles te kroon word Suid-Afrika ook as die Wieg van die Mensdom beskou. Ons het in Suid-Afrika ‘n ongeëwenaarde erfenis van kalksteenafsettings waarin die geskiedenis van die ontstaan van die mens bewaar is. Ons hominien-skatte sluit in alles vanaf die eerste aapmens (die Taung skedel) wat naby Norlim in Noordwes ontdek is, tot die eerste volwasse aapmens-skedel en die volledigste aapmens-skelet wat ooit ontdek is by Sterkfontein. Benewens die duisende steenwerktuie wat by Sterkfontein ontdek is, is die oudste bewyse vir die gebruik van vuur by Swartkrans naby Krugersdorp ontdek. Die eerste oermense Homo habilis – die direkte nasate van die aapmens Australopithecus africanus, het vanaf hier deur die Slenkdal na Oos Afrika versprei waar hulle oorsprong aan Homo ergaster gegee het. Homo ergaster het in Eurasië inbeweeg waar hulle aan Homo erectus gegee het. Homo ergaster het aan Homo antecessor wat weer oorsprong aan Homo heidelbergensis gegee het wat vanaf Europa, deur Afrika tot in Suid-Afrika versprei het. Homo heidelbergensis het aan Homo neanderthalensis in Europa en aan Argaïese Homo sapiens in Afrika oorsprong gegee. Selfs die oudste fossiele van Homo sapiens is in Suid-Afrika ntdek. Die hoeveelheid en verskeidenheid van aapmens en oermens fossiele wat in Suid-Afrika oor die afgelope 75 jaar ontdek is, het Suid-Afrika die bynaam “Wieg van die Mens” gegee.
Drie plekke in Suid-Afrika is onlangs voorgestel vir oorweging as Wêrelderfenis-gebiede nl: Robbeneiland, iSimangaliso en die sogenaamde Sterkfontein-Vallei naby Krugersdorp. UNESCO, die Verenigde Volke se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele-Organisasie is verantwoordelik vir die keuring en befondsing van wêrelderfenis-plekke. Die Sterkfontein Vallei bevat al die belangrikste hominied-fossielvindplekke in die Kromdraai Bewaringsgebied nl: Sterkfontein, Swartkrans, Kromdraai, Bolt’s Farm, Coopers, Minnaars, Plover’s Lake, Drimolen (of Driemeulen), Gladysvale, Haasgat en Gondolin.
Die grootste gedeelte van die huidige paleontologie uitstallings in die iZiko Museum (voorheen die Suid-Afrikaanse Museum) in Kaapstad, die Port Elizabeth Museum, die Oos London Museum, die Albany Museum in Grahamstad, die Nasionale Museum in Bloemfontein, die MacGregor Museum in Kimberley, die Natal Museum in Pietermaritzburg en die Ditsong Museum (voorheen die Transvaal Museum) in Pretoria was tydens die vorige regering se bewind opgerig en dan praat ek nie eens van al die kleiner munisipale museums wat vanaf Museumdienste ondersteuning ontvang het nie.
‘n Mens kan dus aflei dat, ongeag die feit dat evolusie en paleontologie nie in skoolleerplanne voor 1994 voorgekom het nie, daar nie ‘n vendetta teen paleontologie was, soos wat sommige mense beweer nie en dat die vorige regering letterlik miljoene uitgegee het op paleontoloë se salarisse en die ontwikkeling van paleontologie in die land. Indien enigeen nog hieraan twyfel, dink ‘n bietjie hieroor na: die Staatspresident P.W. Botha het die Orde van die Suiderkruis op 13 Februarie 1987 aan professor Raymond Dart toegeken vir sy bydrae tot die ontwikkeling van paleoantropologie in ons land!
Maar dit laat ons nog steeds met die dilemma: waarom weet bykans niemand van hul Suid-Afrikaanse fossielerfenis nie? As ek met laerskoolkinders praat, verstom hulle my telkens met hulle kennis van oorsese (gewoonlik Amerikaanse) dinosouriërs maar ek het nog nie een teëgekom wat ‘n Suid-Afrikaanse fossiel ken nie. Klaarblyklik kommunikeer oorsese paleontoloë beter met die Suid-Afrikaanse publiek as die plaaslike paleontoloë.
Daar is sekerlik niks meer opwindend as om self ‘n fossiel te ontdek en op te grawe nie. Die onbeskryflike gevoel om te weet jy is die eerste mens op aarde om hierdie oerdier te sien en hom van sy rots-graf te bevry! Dat jou oë die eerstes is wat hierdie oerdier in miljoene jare aanskou! Dat dit aan ‘n spesie mag hoort wat nog nooit voorheen ontdek is nie! En dat hierdie wonderlike ervaring jou vir twee jaar in die tronk kan laat sit en jou op die koop toe selfs R10 000 uit die sak kan jaag!
Die wet op nasionale gedenkwaardighede lui as volg:
Fossils and fossil sites in South Africa are, however, regarded as national treasures and are protected by law. Fossils do not belong to individuals but are the property of the State. The National Monuments Act (Act No. 28 of 1969, as amended) states that:
“No person shall destroy, damage, excavate, alter, remove from its original site or export from the Republic:
(a) any meteorite or fossil, … or
(f) any . . . palaeontological finds, material or object, except under the authority of and in accordance with a permit issued under this section.”
Anyone found guilty of an offence in terms of the Act is liable for a fine of up to R10 000 or two years’ imprisonment, or both”.
Permitte om fossiele te versamel word deur die South African Heritage Resources Agency gewoonlik slegs aan professionele paleontoloë uitgereik wat by museums, universiteite of navorsingsinstansies werk. Alle fossiele word dan die eiendom van die instansie waar dit geberg word, wat dan verplig word om namens die nasie daarna om te sien. Die fossiele mag nie verkoop of weggegee word nie. Selfs ‘n boer wat grond besit waarop fossiele voorkom moet eers ‘n permit kry voordat hy dit van hul oorspronklike ligging verwyder en mag dit nie aan enigiemand verkoop of gee behalwe om dit aan ‘n museum, universiteit of navorsingsinstansie te gee nie.
Meeste mense weet nie dat Suid-Afrika die eerste land buite Wes-Europa was wat paleontologie beoefen het (die vyfde ter wêreld) en dat daar nou reeds vir rondom twee eeue fossiele in Suid-Afrika opgegrawe word. Vir die eerste eeu hiervan was paleontologie amper eksklusief deur amateurs bedryf. Met die totstandkoming van die National Monuments Commision, in die veertigerjare van die vorige eeu, het dinge begin verander. Dit was hierdie liggaam wat eers Robert Broom verbied het om by Sterkfontein opgrawings te doen en toe later stappe teen hom geneem het nadat hy hul edik verbreek het deur om onwettig Oertjie Ples daar in 1947 op te grawe.
Maar meer hieroor en baie ander dinge later…
WOORDELYS
Aapmens (ape man) word hier op dieselfde manier gebruik as wat Raymond Dart en Robert Broom, die pioniers van paleoantropologie, daarna verwys het. Aapmense van die genus Australopithecus het aan mense van die genus Homo oorsprong gegee.
Dinosouriër (dinosaur) is ‘n lid van die Archosauria wat tussen 200-65 miljoen jaar gelede geleef het.
Evolusie is die verandering van organismes oor tyd om by hulle omgewing aan te pas (dit is die heel eenvoudigste definisie).
Geoloog (geologist) is iemand wat gesteentes en die prosesse wat dit vorm bestudeer.
Gondwanaland (Gondwana) is die suidelike superkontinent wat vanaf 550 en 180 miljoen jaar bestaan het. Dit het uit die gekombineerde landmassas wat vandag bekend staan as Afrika, Suid-Amerika, Indië, Madagaskar, Antarktika en Australië bestaan. Gondwanaland was in die noorde, naby die ewenaar aan die noordelike superkontinent Laurasië gekoppel om tesame die superkontinent Pangea te vorm.
Hominien (hominin) is enige spesie wat op die stamboom vanaf die gemeenskaplike voorouer wat ons met die chimpansee deel, tot by die moderne mens strek. Dit sluit ook verskeie verwante maar uitgestorwe spesies in.
Karoo Supergroep (Karoo Supergroup) is die grootste terrestriële (landelike) afsetting Perm Periode tot Jura Periode gesteentes in die wêreld. Hierdie kilometers-dikke laag gesteentes bevat ongeveer 70% van die wêreld se sinapsiede en selfs fossiele van die wêreld se oudste soogdiere.
Kontinentale Drywing (Continental Drift) was ‘n teorie wat eerste deur Abraham Ortelius geopper is op grond van die vorm van die kontinente en later deur Alfred Wegener voortgebou is op grond van die verspreiding van fossiele. Die geologiese gemeenskap (met uitsondering van mense soos Dr Alex du Toit van die Geologiese Opname van Suid-Afrika) dit grootliks verwerp terwyl die paleontologiese gemeenskap dit grootliks aanvaar het. Arthur Holmes het voorgestel dat konveksie van magma in die mantel die kontinentale plate laat beweeg en dit was die kern van die gedagte waarom die teorie van plaattektonika, wat vandag algemeen deur wetenskaplikes aanvaar word, gebou is.
Oertjie Ples (Mrs. Ples) is die wêreldbekende aapmens skedel wat Robert Broom in 1947 by Sterkfontein Grotte ontdek het. Dit was die eerste onverwronge bykans-volledige volwasse aapmens skedel wat tot op daardie tydstip ontdek is. Ek het die naam Oertjie geskep wat ek hier in die plek van Grootjie gebruik. Dit is ook ‘n ongeslagtelike verwysing omdat ons nie seker van die geslag van hierdie aapmens is nie. Oertjie Ples was ‘n lid van Australopithecus africanus wat nog slegs in Suid-Afrika gevind is.
Paleontoloog (palaeontologist) is ‘n fossielkenner en ‘n persoon wat die prosesse van fossilering en die verspreding van fossiele bestudeer.
Paleoantropoloog (palaeoanthropologist) is iemand wat die herkoms van die mens en die anatomie, evolusie en verwantskappe van die mensagtiges bestudeer (en as jy ooit vir ‘n goeie voorbeeld van ‘n triftong gesoek het kyk weer na die woord paleoantropoloog).
Perm Periode (Permian Period) (251.9 – 251,9 Mjg) dit is die tydperk wat na die Karboon Ystydperk volg en wat eindig met die uitwissing van 95% van alle plante en diere. Dit was die grootste uitwissing ooit. Die tipiese plante wat in die Karboon Periode op land oorheers het, word nou deur keëldraende gimnosperme (die eerste ware saadplante) en eerste ware mosse verplaas. Brachiopode, tweekleppiges, foraminifere en ammoniete kom algemeen in die oseane voor. Vlieë en kewers verskyn. Parareptiele, temnospondiele en sinapsiede kom wydverspreid op die superkontinent Pangea voor.
Sianobakterieë (cyanobacteria) was die wêreld se eerste fotosinterende organismes wat die vermoë ontwikkel het om suiker (glukose) uit koolsuurgas en water deur middel van sonlig te vervaardig.
Sinapsiede (synapsids) staan ook as die soogdieragtige reptiele bekend. Hulle word as die evolusionêre brug tussen reptiele en soogdiere beskou omdat hulle beide soogdier en reptiel eienskappe het. Oor ‘n 100 miljoen jaar verander hulle vanaf diere met baie primitiewe reptielagtige kenmerke tot diere wat mens beswaarlik van ‘n soogdier kan onderskei.
South African Heritage Resources Agency (SAHRA) is ‘n regeringsliggaam wat die taak het om die fossiel- en argeologiese erfenis en meteoriete van die land te bewaar en toegang tot fossiel en argeologiese terreine te beheer.
Stromatoliet (stromatolite) is ‘n sedimentêre struktuur wat dikwels met kalksteen en dolomiet geassosieër is. Dit was deur sianobakterieë-matte op die seevloer gevorm.
Superkontinent (supercontinent) is die reuse kontinentale massa wat gevorm word wanneer twee of meer van die huidige kontinente teen mekaar vasgedruk is.
Thekodontiërs (thecodonts) was reptiele wat in die Trias Periode geleef het. Hulle was voorouers van die dinosouriërs en dus ook voëls en die krokodille en ‘n paar ander uitgestorwe groepe. Een van hulle kenmerkende eienskappe is die feit dat hulle tande in tandkaste in die kake vasgeheg is – vandaar hulle naam.
Trias Periode (Triassic Period) (251,9 – 201,3 Mjg): Archosouriërs soos dinosouriërs op land en pterosouriërs in die lug, word dominant in hierdie tydperk terwyl reptiele soos ichthyosouriërs en nothosouriërs in die see heers. Ammoniete kom in al die oseane voor. Die karnivoriese soogdieragtige reptiele word al hoe kleiner en meer soogdieragtig in hierdie tydperk totdat die eerste soogdiere verskyn. Die moderne krokodille verskyn ook in hierdie tydperk. Groot temnospondiele (basale tetrapode) en Dicroidium saadvarings kom algemeen voor. Moderne korale, teleost visse en meeste isekordes verskyn ook in hierdie tydperk.
Wieg van die Mensdom (Cradle of Humankind) is ‘n dolomitiese gebied noord van Krugersdorp in Gauteng wat die grootste versameling hominien-fossiele in die wêreld het. UNESCO (die Verenigde Volke se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele-Organisasie) het die gebied in 1999 as ‘n wêrelderfenisgebied verklaar. Van die belangrikste fossielvindplekke wat ingesluit word is: Sterkfontein, Swartkrans, Kromdraai, Bolt’s Farm, Coopers, Minnaars, Plover’s Lake, Drimolen, Gladysvale, Haasgat en Gondolin. Later was Taung in Noordwes en Makapansgat in Limpopo bygevoeg.
