Waar kom name vandaan?

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Waar kom name vandaan?

June 19, 2023 Hoekom is dinge so? 0

François Durand

 

In jagter-versamelaar gemeenskappe, waar mans meestal jag en vrouens meestal versamel, het mense name uit die omgewing of hul gedrag gekry.  Onder die Noord-Amerikaanse inboorlinge is daar name soos: Witwolk, Bewer, Sy wat altyd speel, Daglig, Bloeisel, Eerste wat dans, ens.  Hier in Suid-Afrika was die gebruik dieselfde onder die Khoi-San mense.  Die plekname Pofadder en Springbok was die name van die Khoi kapteins wat daar gebly het.  Soos die Khoi gemeenskap verafrikaans het, het die plekke die Afrikaanse weergawe van hul name verkry.

In talle gemeenskappe kom dit algemeen voor dat ‘n persoon se naam verander as hulle ‘n prestasie bereik het, of volwasse word, of iets onbesonne of braaf doen, of iets voorval wat die persoon bekendheid laat verwerf.  In ons kultuur sal sommige van hierdie name as byname beskou word.  Byname kan egter ook permanent word, tot so ‘n mate dat die persoon dit in pleks van sy oorspronklike naam gebruik.  ‘n Goeie voorbeeld van laasgenoemde is Pik Botha, wie oorspronklik Roelof Frederik Botha geheet het, maar wie, volgens een staaltjie. deur sy ma “Pikkewyntjie” genoem was, en volgens Wikipedia, omdat hy volgens iemand soos ‘n pikkewyn in ‘n pak klare gelyk het.  Daardie iemand het sy lewe so beïnvloed dat hy homself van toe af Pik genoem het.  Natuurlik is daar ook Os (Jacobus Petrus) du Randt, Vleis (Rudi) Visagie, Bakkies (John Phillip) Botha.

Daar is ook ‘n gebruik wat Nom de Guerre – letterlik ‘n oorlognaam – genoem word.  Daar is Eric Bloodaxe van die Viking dorp Jorvik (York vandag) en Richard the Lionheart van Engeland.  Plaaslik het ons Koos (Jacobus Herculaas) de la Rey, die Leeu van die Wes Transvaal, en Breaker Morant (Edwin Henry Murrant), wat hulle byname op die slagveld verkry het.

Selfs konings het hierdie byname nie vrygespring nie.  Daar was natuurlik Karel die Grote (Charlemagne, Keiser van die Heilige Romeinse Ryk) en Ivan die Verskriklike (Ivan IV, Tsar van Rusland) – duidelik het die byname van die perspektief van die naamgewer afgehang.  Daar was ook: Willian the Conqueror, Ethelred the Unready, Edward the Confessor en Bloody Mary van Engeland.

Ethelred the Unready, Koning van Engeland (978-1016)

Byname word soms op die persoon se bou, geaardheid, hare, gedrag of ouderdom gegee.  Daar sal byvoorbeeld op ‘n dorp ‘n Groot Piet en Klein Piet wees, as een of die een besonder groter of kleiner as die ander is; Daar is ook ‘n Groot Giel en Klein Giel – as die een ouer as die ander is.  Ons mense is nie skaam om te laat waai met persoonlike opmerkings nie en dus is daar byname soos Rooi Jan en Swart Jan wat van hul haarkleur afgelei is, en dan is daar ook natuurlik Bles Bridges en Dik Daan en Skeel Koos.  Alhoewel Afrikaanssprekendes baie lief vir byname is, is dit nie uniek aan ons nie en die gebruik kom wêreldwyd voor.  Die Duitse vanne Schwartzkopf (swartkop) laat niks aan die verbeelding oor nie, terwyl die vanne De Swart, Braun, De Bruin/De Bruyn en Weiss, De Wit waarskynlik ook na haarkleur verwys.  Dan is daar vanne soos Gross, De Groot, Klein, Krause (kroes), De Jong/De Jonge en Stark (sterk).  Hierdie gebruik is ook nie uniek tot die Germaanse tale nie, dit kom algemeen wêreldwyd voor.  Ierse vanne wat na fisiese kenmerke verwys is onder andere: Cassidy (krullerig), Duff (swart), Dunn (bruin), Hogan (jonk) ensovoorts.  In hierdie kategorie val daar ook byname soos Blackie Swart en die ironiese benamings soos Tiny vir ‘n groot persoon.

Een van die mees praktiese maniere van naamgewing kom van die Romeine waar hulle hul kinders eenvoudig genommer het: Primus, Secundus, Tertius, Quartus, Quintus, Sextus, Septimus, Octavius, Nonus en Decimus – en verder as dit het ek nog nie teëgekom nie.  Prima, Secunda, Tertia, Quarta, Quinta, Sexta, Septima, Octavia, Nonna en Decima is die vroulike weergawes van hierdie name.  Alhoewel daar talle bewyse is dat veral die eerste name in die reekse vir kinders gegee is wat in daardie orde gebore is, is dit ook moontlik dat veral die laaste stel name eerder van die maand waarin die baba gebore is, afgelei is.

Grafsteen van Gaius Julius Quartus (5de Eeu nC)

Die gebruik van meervoudige name – voorname, middelname en familiename (vanne) het reeds met die Romeine begin en was deur hulle die trinomen genoem.  Dit is natuurlik ‘n praktiese besluit veral toe stede tot honderde duisende mense begin huisves het en mense al hoe meer dieselfde name en vanne gedeel het.  Dit is baie soortgelyk aan nommerplate wat al hoe meer getalle en letters moet kry, hoe meer motors daar is.

Die volgende kategorie vanne het met mense se beroepe te doen en daar is baie daarvan.  Hierdie vanne het eers ontstaan toe landbou ontstaan het, mense in dorpe begin bly het en  spesialisasie van beroepe ontstaan het, want voor dit was mense jagter-versamelaars en almal het basies dieselfde ding gedoen.  In ‘n dorpie sou daar ‘n smid, wewer, bakker, pottebakker, slagter, bouer ensovoorts gewees het.  Talle van ons vanne kom van hierdie tradisie af – Visser, Bouwer, Den Boer, Kuiper, Bakker, Smit, Schagter, Jager (“jagter”), Koopman/Koopmans. De Kok/De Kock, Dekker (Du Toit in Frans en Thatcher in Engels), Akkerman (‘n landbouer), Venter (verkoper), Moolman/Meulenare (meulenaar), Potgieter, Krüger (herbergier – kroeg kom van dieselfde stamwoord), Snyman en Schneider (kleremaker), Wagenaar (wabouer) ensovoorts.

Vanne soos Maarschalk (‘n millitêre rang), Scholz/Schulze (sien hieronder), Meijer/Meyer (geregsdienaar), De Ruiter en De Ridder dui op ‘n rang in die gewapende magte of geregtelike rang.  Die vanne Botha en Botes val in hierdie kategorie – dit is afgelei van die woord Botho wat bevelvoerder in Frisies beteken.  Die van Pretorius is die gelatiniseerde weergawe van die van wat in Germaanse lande Scholz, Schultz, Schultze, Schulz, Schulze ensovoorts verteenwoordig word wat hoofman, regter of leier beteken.  Dit was baie algemeen in die Middeleeue en tot in die Renaissance vir mense om hul vanne te latiniseer as hulle op universiteit, waar die voertaal Latyn was, gaan studeer het.  Alhoewel vanne soos Earl, De Koning en Keyser op sosiale status dui, weet ek nie van ‘n koning met die van De Koning, of ‘n hertog met die van Earl en nog minder van ‘n keiser met die van Keyser nie.  Aangesien priesers selibaat moet wees, moes die De Priesters ontstaan het voor die patriarg ‘n priester geword het, maar dit is eerder meer waarskynlik dat hierdie van na die priester se werknemers verwys het.  Dieselfde geld vir Engelse vanne soos Monk, Bishop, Abbot en Pope.

Daar is nog ‘n interessante tradisie wat hieruit voortspruit.  Vrouens het tradisioneel gespin en geweef en kon genoeg geld verdien om vir haarself te sorg, wat iets seldsaam eeue gelede was toe daar nie werke vir vrouens was nie.  So ‘n selfversorgende vrou wat besluit om nie te trou nie was eeue gelede al in Engelstalige lande ‘n spinster genoem, en wanneer ‘n vrou sterf en die man die weefwerk oorneem om huis en haard aanmekaar te hou is hy ‘n wewenaar in die Afrikaanse kultuur.

Die plek waar mense bly was ‘n ander bron van ‘n hele klomp vanne.  Daar is byvoorbeeld die Van Deventers wat van die stad Deventer af kom, ander vanne in hierdie kategorie sluit Bronkhorst, Van Breda, Van As, Van Buren ensovoorts in.  Soms is vanne ontleen van provinsies of lande soos De Vries (“van Friesland”), My naam François bedoel van die Franke/Frankia of Frankryk.  Soms was dit ‘n geografiese kenmerk wat die oorsprong van die vanne was – soos Van der Merwe wat van Merwede een van die riviere in die Ryn Meuse Delta afgelei is.  Ander soortgelyke name is: Bach (“stroom”), Du Bois, Bosch en Van der Walt (“van die bos” of woud), Van der Poel, Van den Berg, Van Dijk, Van Dalen, Van der Linde/Linden (verwys na lindebome), Van Veen/Van der Veen (verwys na ‘n veenmoeras), Achterberg, Marais/Maré/Maree (“van die see” in Frans) ensovoorts.  Die voorvoegsel Von verwys na ‘n adelike titel in Duits.  ‘n Van soos Baron von Richthofen verwys na die landstreek Richthofen waaroor hy die Baron was.  Die voorvoegsel “Van” in Hollands en “Du” in Frans verwys egter meestal bloot na die plek waar iemand vandaan kom.  Dit is nie toevallig dat ons familiename vanne in Dietse tale genoem word nie.

Godsdiens het ook ‘n groot rol gehad in naamgewing, veral in die godsdiens-onverdraagsame Europa waar mense in die Middeleeue vir die geringste geloofsoortreding om die lewe gebring is.  Na Karel die Grote se wurggreep op Germania gesluit het, het die Germaanse volk oor hul voete geval het om hul Romeinse oorheersers te oortuig dat hul oorspronklike religie afgesien het waar name soos Thorvald (“Thor se heerser”), Thorsten (“Thor se steen”), Thorulf (“Thor se wolf”) algemeen was en waar na hul kerstening name en vanne soos Gottlieb (“God se liefde”), Gottschalk (“God se ridder”), Gottwin/Godwin (“God se vriend”), Gotthart (“God se hart”), Götz/Goetz (“geseënd deur God”) ensovoorts oral opgeduik het.  Hierdie Theofoniese naamgewing sluit name soos Theo (“God”), Theodore (“God se gawe”), Amadeus (“God se beminde”), Christoffel/Christopher (“Christusdraer”), Engelbrecht (“Engel van die lig”), Marius, Markus en Martin (“afgelei van Mars”) en Jonathan (“Jaweh se gawe”) in.  Joodse name was deel van die kersteningsproses en name soos Michiel/Michael (“wie is soos God?”), Gabriël (“krag van God”), Nathaniël (“gawe van God”) en Daniël (“God is my regter”), Samuel (“God het gehoor”) het algemeen na die kerstening van Wes Europa geword.  Van Niekerk bedoel ironies die teenoorgestelde van hoe dit klink – dit is van die van Van Nieuwkerk (van nuwe kerk) afgelei.

Die tyd of maand van die persoon se geboorte het ook ‘n rol in sekere bevolkings se naamgewing gespeel.  Daar is name soos June, April en May wat algemene vrouename in die Noordelike Halfrond is (en nie September tot January nie) en die name en vanne September, October, Januarie/January en February is algemeen in Suid-Afrika, maar nie Maart tot Augustus nie.  Dit is nie toevallig dat beide groepe se name in daardie halfrond se lente tot somermaande val nie, want daar is ‘n piek in kindergeboortes in daardie tydperk in elke halfrond.

Die grootste bron van name en vanne is dié wat ‘n persoon se voorouerlike herkoms verteenwoordig.  Die een waarmee ons meeste vertroud is, is die patroniem wat die vaderlike stamlyn verteenwoordig.

Dikwels word ‘n voorvoegsel gebruik wat “seun van” beteken soos: Benjamin (Hebreeus vir “seun van Jamin”), Ibn (Arabies vir “seun van”), FitzSimon (Iers vir “seun van Simon”), Mac/McDonald (Skots vir “seun van Donald”), O’Hardy (Iers vir “seun/afstammeling van Hardy”).

Daar is regtig baie agtervoegsels wat in Europa en die Midde-Ooste gebruik word om aan te dui dat die persoon die seun, dogter of afstammeling van ‘n vader is.  ‘n Paar waarmee ons bekend is, is -sen/-ssen/-ssens/-zen, -son en -zoon wat “seun van” beteken soos wat mens in vanne soos Petersen, Pieterzoon en Peterson en nog baie ander sien.  Om net nog een voorbeeld te noem – in Oos Europese lande en Rusland word die agtervoegsel -vich/-vych/-wicz gebruik wat dieselfde beteken.  Natuurlik word daar soms na die seun van die familie of stam van verwys.  Dit is wanneer mens vanne soos Wilkinson (“Wil se familie se seun”) en Parkinson kry.

In die Skandinawiese lande is daar die gebruik waar mense nie familiename (vanne) het nie, maar wel ‘n patroniem wat na ‘n persoon se pa verwys. Vir ons voorbeeld is daar ‘n man met die naam Magnus Gunnarson, sy vrou is Astrid, hul seun is Bjorn en hul dogter se naam is Helga.  Bjorn se volle doopname is Bjorn Magnusson en sy suster se doopname is Helga Magnusdotter.  Natuurlik het Astrid haar eie patroniem en omdat sy nie dieselfde pa as Magnus deel nie, is haar van nie Gunnarson nie, maar byvoorbeeld Leifsdotter.  Dus het almal in hierdie familie verskillende vanne.

Daar is ‘n interessante verskynsel in Spaanse name.  Dikwels sien mens dat ‘n man se tweede naam Jesus of Maria is, soos in: Juan María Vicencio de Ripperdá.  Dit verwys natuurlik na Jesus en Maria van die Bybel.  Die Spaanse benamingstradisie is anders as elders in die wêreld en mense kry twee vanne – een van die ma en een van die pa.  Die sanger Enrique Iglesias se volle name is Enrique Iglesias Preysler. Hy is die seun van Julio José Iglesias de la Cueva en María Isabel Preysler Arrastia.  Sy van is dus die dubbeldoor Iglesias (wat hy van sy pa se pa gekry het) en Preysler (wat hy van sy ma se pa gekry het).  Die vanne De la Cueva (sy pa se ma se pa se van) en Arrastia (sy ma se ma se pa se van) val weg.

In die verre verlede het baie volke diere as hulle familie se totem of magiese beskermer gekies.  Natuurlik was daar nie dikwels kakkerlakke en otters gekies nie, maar meestal diere wat as groot, sterk, brawe of edele diere beskou was.  Dus het name soos Arnold (“sterk soos ‘n arend”), Adler, Arendz ontstaan.  Ander vanne in hierdie kategorie sluit name soos Leon/Louw/Singh wat “leeu” beteken.  Vanne en name wat  na bere verwys sluit in: Arthur, Barnard/Bernard/Bernardt en Bernardo (“so braaf soos ‘n beer”), Bjørn, Ursula, De Beer, dalk ook De Bruin/Bruyn, want in sekere Noord Europese lande was bere Brun (“bruin”) genoem uit respek vir wat as die magiese en onuitspreeklike woord beskou was.  Daar sou ernstige gevolge wees as mens die woord beer gebruik en dus moes hulle ‘n metafoor vind om na beer te verwys.  Dieselfde respek vir die onuitspreeklike woord vir beer word in Rusland gevind waar hulle bere medved noem wat “heuning-eter” beteken.  Soos met vloekwoorde (sien Die ontstaan van vloekwoorde) het hierdie gebruik veroorsaak dat die oorspronklike woord vir beer verdwyn het, terwyl die metafoor dit vervang het.  Medved is ook terloops ‘n Russiese van.  Vanne wat aan totemdiere gekoppel word is wêreldwyd baie algemeen.  Die van Tau wat leeu beteken is algemeen onder Tswanas en Ndlovu wat Olifant beteken is ‘n algemene van onder Zoeloes.  Dit is in hierdie kategorie wat Springbok en Pofadder val.  Totempale vertoon die stamboom van families deur middel van hul totemdiere wat opmekaar gestapel is.

Totempaal in Vancouver, Kanada

‘n Matrilineale van is ‘n van wat mens van mens se ma, en mens se ma se ma ensovoorts geërf het.  ‘n Kind word deel van sy of haar ma se afstammingsgroep.

Daar is ‘n paar antieke Chinese vanne (Ji, Jiang, Yao, Gui, Si, Ying en Yun) waaruit ten minstens 20 000 vanne, maar waarskynlik meer, uit die matriagale tydperk ontstaan het.   Vanuit die vroegste tye was die reël dat mense van dieselfde familiegroep nie met mekaar mag trou nie.

Die matrilineale tradisie is baie skaars, maar kom nog steeds onder die Minangkabau volk in Indonesië, Die Mosuo volk van China en die Akan volke van Ghana voor.

Laastens is daar die moedswillige name en vanne.  Durand is so een.  Durand kom van die Latynse woord durere wat weerstandig of weerstandbiedend beteken.  Die Du van Durand bedoel nie “van” soos in die geval van du Toit (“van die dak”) of du Bois (“van die woud”) nie en dit is hoekom dit een woord is wat aanmekaar geskryf moet word.  Die skrywe van Du Randt en Du Rand kom slegs in Suid-Afrika voor waar die Hollandse amptenare wat mense se name moes opskryf deurmekaar met al die ander Franse vanne soos Du Plessis, Du Toit, Du Pisanie geraak het.  In Frankryk waar die van Durand so algemeen soos Botha in Suid-Afrika is, word dit nou nog steeds as Durand geskryf, terwyl die Durands wat tydens die vervolging van die Hugenote Engeland toe gevlug het hul van mettertyd as Durrant geskryf het.

‘n Goeie voorbeeld van hierdie hardkoppigheid is Marie Durand wat op die ouderdom van 21 in die Tour de Constance tronk in 1730 opgesluit was, omdat sy ‘n Protestantse vergadering bygewoon het.

Marie Durand (1711–1776)

Die Katolieke het besluit om van haar ‘n voorbeeld te maak, omdat haar broer Pierre Durand, ‘n Hugenote predikant was.  Haar pa was vir 14 jaar opgesluit oor sy geloof en eers op die ouderdom van 92 vrygelaat en het twee jaar later gesterf.  Haar broer was in 1732 deur die Katolieke by Montpeliier gevang en opgehang.  Marie sou onmiddelik vrygelaat gewees het as sy Protestantisme afgesweer het en die Katolieke geloof aangeneem het.  Sy het geweier en was eers in 1768 na 36 jaar in die tronk, op die ouderdom van 57, vrygelaat.  In daardie tyd het sy die woord RESISTER (“weerstand”) in die klip van ‘n trap met metaalvoorwerpe soos breinaalde oor die jare uitgekrap.

Ander name en vanne wat van weerstand of oorlog afgelei is sluit Krieger (“kryger”), Harms, Herman/Herrman (“soldaat”), Kemp (“oorlog”) in.

In 1811 het Napoleon Nederland binnegeval en onder Franse heerskappy geplaas. Hulle moes die Hollanders, waarvan talle vanloses, veral in die platteland, gedwing het om vanne te kry, sodat hulle vir belastingdoeleindes geregisteer kon word.  Natuurlik het die Nederlanders nie van die Franse gehou nie en nog minder van hul dwingelandy en baie het met minagting daarop gereageer, veral omdat hulle onder die indruk was dat hierdie onaangenaamheid maar net tydelik was.  Talle van hierdie opstandelinge het toe vir die pret met belaglike vanne vorendag gekom, wat ongelukkig toe glad nie so tydelik was as wat hulle gedink het nie.  Hierdie vanne sluit in Poggenpoel (paddapoel) en Koekemoer (paddamoeras), Boudewijn, Borst, Naaktgeboren, Poepjes en Piest (wat ek nie kan vertaal nie – lees Waar kom vloekwoorde vandaan?), Paardebek, Zonderkop, Kaasenbrood, Rotmensen (“vrot mense”), Spring in ‘t Veld, Uittenbroek, Van Stootgaring, Zonderbroek, Zeldenthuis en Zondervan.  Daar is selfs die van Van`t Zelfde wat “dieselfde van” beteken.  Dit het waarskynlik in die tou ontstaan waar die volgende persoon in die ry vir die Fransman wat nie Hollands verstaan het nie, moes hoor dat hy dieselfde van as die vorige persoon gehad het.  Die Fransman het toe ewe gedweë Van`t Zelfde neergeskryf.  Ten minstens het dit hierdie brawe mense nie teruggehou in die lewe nie (dalk omdat in die Romaanssprekende wêreld niemand anders as ons hierdie vanne verstaan nie).

Die van Boudewijn beteken egter glad nie soos wat dit klink nie, dit is die Dietse vorm van Baldwin wat “dapper vriend” beteken.

Boudewijn Albert Karel Leopold Axel Marie Gustaaf koning van België (1951-1993)

error: Content is protected !!