3. Suksesse en Mislukkings

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

3. Suksesse en Mislukkings

October 16, 2022 Klimaatsverandering 0

DIE SUKSESSE EN MISLUKKINGS VAN

KLIMAATSVERANDERING-VERGADERINGS

François Durand

 

Nadat wetenskaplikes met ‘n mate van sukses hulle waarnemings en bevindinge ten opsigte van Klimaatsverandering met die wêreld gedeel het, het al hoe meer regeringsamptenare deur middel van die Verenigde Nasies by gesprekke rondom Klimaatsverandering betrokke geraak.

Vanaf die 1990’s het die Verenigde Nasies se Konfensie van Partye (COP) Klimaatsverandering-vergaderings aangebied wat verskeie invloedryke dokumente soos die Kioto Protokol en die Parys Ooreenkoms opgelewer het.

Ongelukkig was hierdie vergaderings net gedeeltelik susesvol en het beperkte suksesse opgelewer.  Dit is opvallend dat hierdie vergaderings dikwels deur die bydraes of ontrekkings deur groot moonthede soos die VSA en China – die wêreld se grootste kweekhuisgasvrystellers gemanipuleer is, wat in sommige gevalle die onderhandelinge ontspoor het.  Dit is ook duidelik dat sekere ontwikkelende lande slegs by die vergaderings betrokke is om geld van ontwikkelde lande vir sogenaamde groen projekte te kry.  Daar is ook ‘n groot geredekawel oor watter lande vir kweekhuisgasvrystellings verantwoordelikheid moet neem, watter lande vrystellings moet kry en wie geldelik ondersteun moet word.

Talle wetenskaplikes is mismoedig oor hierdie burokratiese gerondslomp wat nie die probleme na behore aanspreek nie en wat versoorsaak dat beoogde doelstellings, om kweekhuisgasvrystellings te beperk, faal.

Intussen gaan kweekhuisgasvrystellings, aardverhitting, versengende droogtes, vernietigende storms en die ineenstorting van ekostelsels onverpoosd voort.

Belangrikste besluite:

Montreal Protokol (Montreal Protocol) (1987)1

Alhoewel die Montreal Protokol nie ten doel het om Klimaatsverandering aan te spreek nie, het dit die grondslag vir diplomatieke ooreenkomste oor Klimaatsverandering tussen lande gelê.  Elke land in die wêreld het uiteindelik die Montreal Protokol bekragtig wat onder andere die verbanning van gasse, wat die osoonlaag afbreek, insluit.  Dit het tot die verbanning van tot 99% van vrystellings soos ichloorfluoorkoolstofverbindings (CFK’s) gelei.

Die Verenigde Nasies se Konfensie oor Klimaatsverandering (UN Framework Convention on Climate Change (UNFCCC)) (1992)2

Die Verenigde Nasies se Konfensie oor Klimaatsverandering was deur 197 lande, insluitende die VSA, bekragtig.  Dit was die eerste wêreldwye ooreenkoms wat spesifiek Klimaatsverandering aangespreek het.  Die forum genaamd die Konferensie van Partye (Conference of Parties (COP)), wat jaarliks sou vergader om sake rondom Klimaatsverandering te bespreek, was as uitvloeisel van hierdie vergadering gestig.  Die Kioto Protokol en die Parys Ooreenkoms was uitvloeisels van hierdie vergaderings.

Kioto Protokol (Kyoto Protocol) (2005)3

Die Kioto Protokol was in 1997 bekragtig en in 2005 in werking gestel.  Dit was die eerste wettig-bindende klimaatsooreenkoms.  Dit het bepaal dat ontwikkelde lande hul kweekhuisgas-vrystellings met 5% onder 1990 moet verminder, maar dit het ontwikkelende lande soos China en Indië, wat van die grootste kweekhuisgas-vervaardigers is, nie ingesluit nie.  Die VSA het die protokol in 1998 onderteken maar het dit nooit in werking gestel nie en later onder die Bush regering hul steun onttrek.

Maar was die Kioto Protokol suksesvol?

Alhoewel die begingsels van die Kioto Protokol goedbedoeld was, het daar weinig daarvan gekom want die grootste produseerders van kweekhuisgasse, naamlik VSA en China en die grootste uitvoerder van steenkool naamlik Australië, het geweier om die verdrag te teken.  Ten spyte van die feit dat die 36 lande wat die verdrag onderteken het, wel hul kweekhuisgas-vrystellings verminder het, was daar ‘n 32% toename in kweekhuisgasvrystellings wêreldwyd tussen 1990 en 2010.

Die Parys Ooreenkoms (Paris Agreement) (2015)4

Die Parys Ooreenkoms is die belangrikste Klimaatsverandering-ooreenkoms tot dusver wat alle lande verplig om te onderneem om hul kweekhuisgasvrystellings te beperk.  Regerings moet mikpunte in plek stel wat as Nasionael Bepaalde Bydraes (Nationally Determined Contributions (NDCs)) bekend staan.  Hierdie mikpunte word gebruik om lande se kweekhuisgas-vrystellings in te perk om te verhoed dat die gemiddelde temperatuur wêreldwyd nie hoër as 2°C bo voorindustriële vlakke styg nie.  Volgens die Parys Ooreenkoms moet alle lande alles in hul vermoë te doen om die temperatuurstyging onder 1.5°C bo voorindustriële vlakke te hou.  Die ooreenkoms beoog dat wêreldwyd uiteindelik net soveel kweekhuisgasse uit die atmosfeer verwyder word as wat mense vervaardig – dit word Zero Vrystelling genoem.

Maar was die Parys Ooreenkoms suksesvol?

Meeste klimaatkundiges is van mening dat die Parys Ooreenkoms nie sy doel bereik het nie.  Die lande se voornemens was nie ambisieus genoeg om hul kweekhuisgas-vrystellings noemenswaardig in te perk nie.  Dit gaan te lank neem om kweekhuisgas-inperkings in plek te sit om ‘n 1.5°C styging van die aarde se temperatuur te voorkom.

Die huidige gemiddelde temperatuur van die Aarde is 1.2°C bo voorindustriële vlakke.  Die reuse bosbrande, versengende droogtes, vernietigende vloede en opdroging van riviere en mere wat tans wêreldwyd voorkom, sal teen 1.5°C kataklismies vererger.

Dosyne lande het nog voor die COP26 beraad in 2021 in Glasgow, waar lande terugvoer op hul Nasionale Bepaalde Bydraes moes gee, nog groter voornemings ter tafel gelê.   Nadat President Trump in 2020 die VSA (wat die tweede grootste koolsuurgas-vrysteller ter wêreld is) se ondersteuning van die Parys Ooreenkoms onttrek het, het President Biden in April 2021 aangekondig dat die VSA gaan poog om teen 2030 hul kweekhuisgas-vrystellings met 50-52% onder hul 2005 vlakke te verminder.  In die Glasgow Klimaatsooreenkoms word ‘n dringende beroep aan lande gerig om nog meer ambiseuse pogings teen 2022 aan te wend om kweekhuisgas-vrystellings so gou moontlik te beperk eerder as wat dit slegs elke 5 jaar bespreek word en die mikpunte nie bereik word nie.  Al pas al die lande hulle kweekhuisgas-inperkings ten volle vanaf 2030 toe sal die Aarde se temperatuur teen 2100 reeds met meer as 2°C gestyg het.  As egter meer as ‘n honderd lande, wat hul voornemens gegee het om uiteindelik Zero-Vrystellingstatus te bereik, daarin slaag, dan sal die Aarde se temperatuur teen 2100 slegs met 1.8˚C gestyg het.

1 Montreal Protocol

2 UN Framework Convention on Climate Change

3 Kyoto Protocol

4 Paris Agreement 

error: Content is protected !!