Sponse (Filum Porifera)

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Sponse (Filum Porifera)

June 28, 2024 Diere 0

Sponse is van die eenvoudigste diere wat ooit bestaan het en besit geen simmitre of organe nie.  Sponse behoort aan die filum Porifera wat “gaatjiedraer” in Antieke Grieks (σπόγγος “spóngos”) beteken.

Van die oudste dierfossiele wat tot dusver ontdek is, is die 760 miljoen jaar oue mikroskopiese sponsfossiele van Namibië, wat veel ouer as meeste ander fossiele van meersellige diere is (Brain et al. 2012).  Die bou van hierdie fossiele is identies aan dié van jong sponsies en sekere mikroskopiese sponsspesies.

Eerstens moet mens die woord “dier” ondersoek en vir jou afvra: wat is ‘n dier?  Dit is maklik om te weet dat ‘n bees ‘n dier is.  Soms sukkel ek om sommige mense te oortuig dat goggas en wurms ook diere is, maar wanneer dit by sponse kom, is dit bykans onmoontlik om almal daarvan te oortuig.  Die eerste struikelblok is dat sommige mense dink dat slegs diere beweeg en dat organismes soos plante en swamme (baie mense dink natuurlik dat swamme ook plante is) nie beweeg nie.

Sponse is natuurlik sessiel of sittend omdat hulle op rotse en koraalriwwe vasgeheg is.  Maar dan is daar ook seepokke (filum Arthropoda), armpotiges (filum Brachiopoda), rotsoetsters (filum Mollsca), korale (filum Cnidaria) en rooiaas (filum Chordata), om maar ‘n paar voorbeelde te noem, wat almal sittende diere is.  Dan is daar slymswamme wat beweeg, eensellige Chromista wat aan bruinwier verwant is, wat beweeg en selfs blomme en blare, wat oop en toe-gaan, wat beweeg.  Beweging is dus nie ‘n nuttige kenmerk om tussen diere en ander organismes te onderskei nie.

Wanneer mens met erg primitiewe organismes soos sponse te doen het, is dit makliker om te vra – watter organismes is nie diere nie?  Dan kan ‘n mens deur die proses van eliminasie bepaal watter organismes diere is.

Plante (konikryk Plantae) is uniek omdat hulle fotosintetiseer en dus kan mens hulle uitskakel.  Plante het ook selwande van sellulose.  Swamme (konikryk Fungi) kan nie fotosintetiseer nie, maar hulle het soos plante selwande, maar uniek aan swamme, bestaan die selwande uit kitien en dus is hulle nie diere nie want dierselle het nie selwande nie – slegs selmembrane.  Die organismes van die koninkryk Chromista, het net soos plante, plastiede, maar anders as plante is hul plastiede met vier membrane omhul en nie twee nie, en aangesien die chromiste plastiede van rooiwier afkomstig is, is die hele chemiese samestelling en fotosintetiseringsproses anders as dié van chloroplaste.  Alhoewel daar protiste is wat baie soos dierselle lyk en optree, is diere per definisie meersellig terwyl die lede van die koninkryk Protista eensellig is, en dus skakel ons hulle ook uit.

Die meersellige organismes, wat dus nie fotosintetiseer nie en nie selwande het nie en wat ander organismes vreet, is dus diere (koninkryk Animalia).  En daar, waar die newels rondom vooropgestelde idees deur definisies gelig word, kry mens sponse van die filum Porifera en die filum Parazoa (Parazoa is ‘n plat skyfie selle wat op mikro-organismes voed en wat eintlik nog primitiewer as sponse is).

Van die 31 dierfilums op Aarde (wat meeste hier en in die oseane rondom Suid-Afrika voorkom) dek die Suid-Afrikaanse skoolkurrikulum slegs 6 filums waarvan sponse een is.  Ongelukkig dek die skoolkurrikulum nie die belangrikste aspek van sponse nie – naamlik dat hulle van die eerste meersellige organismes is wat ontstaan het en dus van die oudste diere op Aarde is.  Die skoolkurrikulum slaag ook nie daarin om uit te wys dat die kraagselle en argeosiete van sponse, bykans identies aan sekere vrylewende enkelsel-organismes, naamlik choanoflaggelate en amebas in die koninkryk Protista is nie, of hoe een seltipe deur sy pluripotensie aan ander kan oorsprong gee, net soos wat kiemselle in hoër organismes dit doen.  Dus, al is die skoolkurrikulum pro-evolusie, faal dit om vir leerders te wys hoe die eerste diere vanuit eensellige organismes ontstaan het.

Dit is die interessantste en belangrikste aspek van sponse – hulle is van die eerste diere wat uit eensellige organismes ontstaan het en dit is die rede hoekom  choanoflagellaat- en ameboïedselle van sponse soos vrylewende choanoflagellate en amebas lyk en optree.  Mens kan dus nie sommer ‘n spons doodmaak deur om dit in stukkies te versnipper of uitmekaar te trek nie.  Trouens, as mens ‘n spons in die kleinste moontlike deeltjies met ‘n versapper opsnipper en dit ‘n mariene akwarium gooi, sal mens ‘n paar dae later duisende mikroskopiese sponsies op die die binneste oppervlaktes van die akwarium kry.  Die selle het dus die opsnippering oorleef en kon as vrywelende organismes oorleef tot hulle nuwe sponsies kon vorm (Soubigou et al., 2020).

Selle van sponse en hul funksies

Alhoewel die selle wat die spons se liggaam opmaak verskillende funksies verrig, word hulle as ongespesialiseerd beskou want hulle kan oral in die spons rondbeweeg en van vorm en funksie verander soos wat dit nodig is.  Alhoewel sponse weefsel het wat sellae vorm, besit hulle nie organe soos senuweestelsel, spysverteringstelsel of bloedvatstelsel of voortplantingstelsel nie.

Sponse se liggame is vol kanaaltjies en porieë waardeur water in- en uitvloei.  Die buitenste openinge word ostiums genoem. Die kanaaltjies en ruimtes binne die spons word met ‘n sellaag van kraagselle uitgevoer.  Hierdie sellaag word die choanodermis genoem.  Kraagselle of choanosiete is selle met ‘n kraag van trilhare of silia rondom ‘n lang sweephaar of flagellum.  Die beweging van die sweephare veroorsaak die stroom water wat deur die spons se liggaam deur die ostiums en kanaaltjies beweeg, wat uiteindelik in die sentrale holte binne die liggaam, die spongoseel, vloei.

‘n Jellie-agtige stof, genaamd mesohiel, wat uit kollageen bestaan, vul die holtes tussen die buitenste sellaag – die pinakodermis – en die binneste sellaag – die choanodermis – en versterk die spons se liggaam en gee dit vorm.  Die mesohiel bevat ook baie kollageenvesels wat die struktuur nog verder versterk.

Daar is verskeie tipes selle wat in die mesohiel voorkom:

Argeosiete of amebosiete is ameba-agtige selle wat pluripotent is, wat bedoel dat hulle soos die kiemselle van meer evolusionêr-gevorderde diere, in enige ander tipe sel kan verander.  Argeosiete kom oral in die mesohiel voor en speel ook ‘n belangike rol in voeding en om afval, wat die ostiums blokkeer, te verwyder.

Lofosiete is ook ameba-agtige selle maar wat deur die mesohiel beweeg en kollageenvesels afskei.

Rabdifere selle skei polisakkariede af wat deel van die mesohiel vorm.

Kollensiete skei kollageen af.

Sklerosiete skei die gemineraliseerde spikulums, wat die spikulum-skelet van die spons vorm, af.  Die demosponse het nog ‘n seltipe – die spongosiete wat ‘n tipe kollageen afskei wat in spongien omskep word wat ‘n dik veselrige stof is wat die mesohiel nog verder verstewing.

Miosiete dra seine tussen selle voort en veroorsaak dat sekere dele van die spons saamtrek.

Beweeglike grys selle wat die sponse se weergawe van ‘n immuunstelsel is.  Wanneer ‘n patogeen ‘n spons binnedring sal grys selle in die nabyheid ‘n chemiese middel afskei om die beweging van die sponsselle te staak om te verhoed dat die patogeen die spons se selle en watervervoersisteem gebruik om die spons verder binne te dring.  As die patogeen dit oorleef, sal grys selle rondom dit saamkoek en gifstowwe afskei wat al die selle rondom dit laat vrek om te verhoed dat die patogeen verder versprei.

Oösiete en spermatosiete is die geslagselle van sponse en word deur die argeosiete, of in sommige sponse die kraagselle, gevorm.

Alle sponse het openinge na buite wat ostiums genoem word.  Kanaaltjies strek vanaf die ostiums deur die mesohiel regdeur die spons se liggaam (buiten vir ‘n paar karnivoriese sponse wat hierdie kraagselle en watervervoerstelsel verloor het) en open in die sentrale ruimte – die spongoseel.  Die ostiums word deur porosiete beheer wat sluitbare kleppe oor die ostiums vorm.

Pinakosiete is plaatagtige selle wat ‘n enklelaag selle – die pinakodermis – oor dele van die mesohiel, wat nie deur kraagselle gedek word nie.  Die pinakosiete verteer ook groot voedseldeeltjies wat te groot is om deur die ostia in die liggaam ingeneem te word.  Die pinakosiete onder aan die spons vorm die vashegting van die spons aan die substraat.

Sponse kan nie ‘n beskermende slymlaag soos ander diere rondom hulle liggaam afskei, wat hulle teen mikro-organismes beskerm, nie.  Hierdie rol word deur simbiotiese mikro-organismes vervul, wat tot helfte van ‘n spons se massa kan beslaan.

Meeste sponse neem water deur die ostiums in die liggaamswand in, wat dan deur die kanaaltjies in die wand tot in die middelste ruimte van die spons beweeg.  Van daar word die water deur die gat, of oskulum, wat in meeste sponse bo-op die liggaam open, uitgelaat.  Die beweging van die water word deur die beweging van die sweephare van die kraagselle bewerkstellig.  Die inlaat van die water word deur die saamtrekking of ooprek van die ostiums beheer.

Alhoewel die pinakodermis baie soos ‘n laag epiteel lyk, is daar nie dieselfde digte selmembraandeling wat tussen epiteelselle voorkom nie, en daar is ook nie ‘n dun vesellagie – die basale lamina – onder die sponsselle nie.  Dieselfde geld vir die kraagselle wat saam die choanodermis vorm.  Hierdie losse assosiasie van selle, veroorsaak dat die spons regdeur sy bestaan van vorm kan verander om optimaal storme water, waaruit die spons sy voedsel en suurstof verkry, te kan benut.

Die mesohiel stut die spons en tree as ‘n tipe endoskelet op.  Die fermheid van die mesohiel word veroorsaak deur die gemineraliseerde spikulums, of spongien, of beide daarbinne.  Die spikulums wat deur die sklerosiete in meeste sponsspesies gevorm word, bestaan uit silika of kalsiumkarbonaat en kan as eenvoudige stafie tot drie-dimensionele sterre wat tot ses stekels kan he, voorkom.  Sekere sponse, soos die kalksponse, soos die Calcarea, kan egter ook eksoskelette besit wat uit ‘n dik laag kalsiumkarbonaat bestaan wat deur die pinakosiete afgeskei word.

Liggaamstipes

Die eenvoudigeste liggaamstipe wat in sponse voorkom is ‘n buis- of vaasvorm waarin die kraagselle as ‘n enkele laag rondom die sentrale spongoseel voorkom,   wat die askonoïede liggaamstipe genoem word.  Hierdie liggaamstipe veroorsaak dat die organisme besonder klein (gewoonlik onder 1 mm breed) en eenvoudig is.  Die feit dat die laag selle ‘n beperkte oppervlakke bedek inibeer die organisme se vermoë om groter te word aangesien die voedsel en suurstof wat die organisme nodig het om groter te word en te metaboliseer, deur die kraagselle bepaal word – wat slegs tot die binneste oppervlakte rondom die spongoseel beperk is.

Sekere sponse het hierdie beperking oorkom deur om die binneste oppervlakte te vou om sodoende die oppervlaktes wat met kraagselle uitgevoer word, te vergroot sodat meer voedsel en suurstof opgeneem kan word.  Sponse met hierdie liggaamstipe kan tot etlike sentimeters groot word.

Die volgende vlak van effektiwiteit word in die sponse met ‘n leukonoïed-liggaamsvorm aangetref waar daar talle klein kamertjies binne die liggaam voorkom wat elk met kraagselle uitgevoer is.  Hierdie kamertjies is met kanaaltjies met mekaar en die ostia aan op die buitewand en die spongoseel aan die binnekant verbind.  Leukonoïed sponse kan tot meer as ‘n meter in deursneë word.  Alle varswater en talle vlak seewatersponse het leukonoïede liggaamstipes.

 

Klassifikasie:

Die filum Porifera word volgens hulle skelette in klasse gedeel:

Archeocyatha is slegs as Kambriese fossiele bekend.

Calcarea of kalksponse het skelette wat uit spikulas van kalsiet of kalk (‘n tipe kalsiumkarbonaat) bestaan wat as enkele spikulas of in groot groepe kan voorkom.  Al die selle het ‘n enkele kern wat met ‘n membraan omhul is.  Die spikulas het gewoonlik drie punte, maar daar is sekere spesies met twee- of vierpuntige spikulas.

Kalksponse het in die Kambriese Periode ontstaan en hul grootste diversiteit in die Kryt Periode bereik.  Daar is maar ongeveer 400 bekende spesies kalksponse vandag bekend.  Alle kalksponse is seelewend en kom wêreldwyd in oseane, maar veral in tropiese gebiede voor.

Al drie bouvorms (askonoïed, sinkonoïed en leukonoïed) kom in kalksponse voor.  Kallksponse is klein en is gewoonlik kleiner as 10 cm lank en is, buiten vir ‘n paar helderkleurige spesies, vaalkleurig.  Kalksponse se liggaamsvorms wissel vanaf vaasvormig, tot kolonies buisvormige individue wat saamgepak is, tot ‘n onreëlmatige massa.

Soos die Homoscleromorpha, is kalksponse vivipaar.  Die kalksponse word in twee subklasse verdeel – die Calcinea en die Calcaronea.  Die Calcinea het ‘n larwale stadium – die parenkiemella – wat ‘n soliede selmassa in die middel en radiale simmetrie besit, terwyl die Calcaronea ‘n larwale stadium – die amfiblastula – het, wat ‘n hol binnekant en semi-bilaterale simmetrie besit.

Demospongiae het spikulas van silika of spongienvesels, of beide, in hul sagte dele.  Sommige het egter groot, dik uitwendige aragoniet (‘n tipe kalsiumkarbonaat) skelette.  Al die selle het ‘n enkele kern wat met ‘n membraan omhul is.

Demosponse of gewone sponse is die grootste en mees diverse klas onder die Porifera en ongeveer 8 800 spesies (met ander woorde meer a 90% van die sponsspesies) is wêreldwyd bekend.  Die oorgrote meerderheid is seelewend, maar daar is ook varswaterlewende spesies.  Omdat demosponse so dikwels op koraalriwwe voorkom word hulle soms ook koraalsponse genoem.

Hierdie sponse het ‘n sagte liggaam wat ‘n harde en dikwels massiewe endoskelet van kalsiumkarbonaat, in die vorm van aragoniet of kalsiet, bedek.  Hul endoskelet bestaan uit spongienvesels, of spikulums van silika, of beide.  Demosponse het meestal ‘n leukonoïed liggaamsvorm.  Demosponse kan besonder oud word (500- 1000 jaar).

Die oudste demosponse bekend word deur fossiele van die Laer Kambriese Periode verteenwoordig.  Die Demospongiae word in drie subklasse verdeel nl.  Verongimorpha, Keratosa en Heteroscleromorpha.

Demosponse se spermatosiete word vanuit die kraagselle terwyl oösiete vanuit die argeosiete ontwikkel.  Die parenkiemella-larwe ontwikkel uit die bevrugte eier.  Hierdie larwe bestaan uit ‘n klompie groter interne selle wat deur ‘n laag klein geflagelleerde selle omring word.  Wanneer die larwe deur ‘n kanaaltjie tot in die spongoseel kom, sal die sterk stroom water, wat die spons intern deur die beweging van die kraagselle se sweephare,vorm, die larwe by die oskulum uitspuit.

Demosponse kan ook ongeslagtelik met behulp van afknopping of die vorming van gemmules voortplant.  Tydens afknopping word selaggregate in klein sponsies omvorm wat vanaf die oppervlakte afknop of, wanneer dit binne die spongoseel vorm, word dit by die oskulum uitgespuit.  Gemmules word in die mesohiel as klompe argeosiete, omring deur ‘n laag spongosiete, gevorm.  Hierdie voortplantingswyse word veral deur die varswater sponse benut.

Homoscleromorpha het ‘n skelet wat uit silika spikulas bestaan en baie spesies bevat ook spongien, maar anders as die glassponse het elke sel een kern wat met ‘n membraan omhul is.

Daar is slegs 117 bekende spesies mariene sponse wat aan die Homosclerophorida hoort.  Hulle kom dikwels in donker plekke in die see voor soos onder rotse of in ondersese grotte.

Meeste van die spesies besit spikulas, maar die lede van twee genera het nie.  Hierdie sponse het ‘n baie eenvoudige liggaamsvorm en kom as selmassas of as ‘n bedekking op rotse voor.  Hulle spikulums is eenvoudig en baie klein.

Hulle is die enigste ander sponse, benewens die kalksponse, wat vivipaar is.  Hul larwes staan as amfiblastulas bekend en word gekenmerk deur ‘n hol binnekant en semi-bilaterale simmetrie.

Glassponse sluit die sponse van die seelewende klas Hexactinellida (Hyalospongiae) in.  Hulle word uitgeken aan hul 3 of 6 stralige silika-bevattende spikulas wat aanmekaar gekoppel word om buisvormige skelette met komplekse wande, van tot ‘n meter in lengte, te vorm.

Die lewende selle van glassponse (wat die meeste selle wat mens in sponse vind, bevat) is binne hierdie raamwerk soos ‘n spinnerak uitgestrek, met die verskil dat dit as ‘n sinsitium voorkom.  Selle in ‘n sinsitium deel die buitenste membraan terwyl die sitoplasma daarbinne aaneenlopend is wat al die kerne en organelle, van die oorspronklike losstaande selle, daarbinne bevat.  Die sinsitiumstringe tree soos sitoplasma riviere op waarbinne die organelle en ander stowwe vervoer word.  Die mesohiel van glassponse is afwesig of baie verklein en in plaas van kraagselle kom daar choanosinsitiums voor wat klokvormige kamertjies vorm wat water deur perforasies deurlaat.  Hierdie kamertjies is met kraagliggaampies uitgevoer wat baie soos die oorspronklike kraagselle lyk, buiten vir die feit dat elkeen nie ‘n individuele kern bevat nie.

Glassponse se embrios se ontwikkeling is dieselfde as wat mens in meeste meersellige diere kry, tot en met die 32ste sel stadium.  Wanneer die glassponslarwe hierdie ontwikkelingsstadium bereik, ontwikkel dit vinnig in ‘n eiervormige vryswemmende larwe met ‘n ring trilhare rondom.  Die interne organisasie van selle is dieselfde as dié van die volwassenes met ‘n spinnerakvormige sinsitium wat deur die liggaam strek.  Die larwes verlaat die liggaam van die ouer.

 

Voeding en respirasie en uitskeiding

Sponse, soos alle diere, moet kan respireer, voed, afvalstowwe uitskei en die respiratoriese gasse, voedingstowwe en afvalstowwe deur die liggaam beweeg.  Sponse besit egter nie ‘n bloedvatstelsel, respiratoriese stelsel, spysverteringstelsel of uitskeidingstelsel om hierdie take te verrig nie, maar het in die plek daarvan die kanaaltjies wat die vloei van water deur die spons se liggaam moontlik maak en sodoende meeste van hierdie funksies verrig.

Die kraagselle tree soos die epiteel, wat die spysverteringstelsel van hoër diere uitvoer, op en neem kosdeeltjies deur fagositose op en absorbeer sekere voedingstowwe deur die membraan.  Die kraagselle is verantwoordelik vir ongeveer 80% van die spons se kosinname. Die pinakosiete, wat die liggaam bedek, fagositeer kosdeeltjies wat groter as 50 mikrometer in deursneë is wat te groot vir die ostiums is.  Kosdeeltjies wat in die ostiums vassit en dit blokkeer, word deur argeosiete, wat soos amebas lyk en optree, gefagositeer.  Argeosiete ontvang die halfverteerde voedseldeeltjies deur middel van fagosome vanaf die choanosiete en verteer dit verder.  Die argeosiete versprei die verteerde voedingstowwe deur die res van die liggaam waar dit na ander selle oorgedra word.

Die kraagselle tree ook soos die epiteel wat die alveoli in hoër diere se longe uitvoer en laat gaswisseling toe waar suurstof deur die selmembraan geabsorbeer en koolsuurgas uitgeskei word.  Die kraagselle tree ook soos die epiteel wat die nierbuisies van hoër diere uitvoer en afvalstowwe word daardeur uitgeskei.

Sekere varswatersponse bevat groen alge wat as endosimbionte saam met argeosiete en ander selle binne die spons se liggaam leef.  Die spons baat by die fotosintetiese produkte wat hierdie alge lewer.  Sekere seelewende sponse het egter sianobakterieë of soms dinoflagellate wat ook fotosintetiseer en op dieselfde wyse in hul liggame voorkom.  Simbiotiese sianobakterieë kan tot ‘n derde van die weefselmassa van hierdie sponse opmaak.  Hierdie endosimbionte kan tot ongeveer 48-80% van ‘n spons se energiebehoeftes voorsien.

 

Immuniteitsrespons

Die immuniteitrespons in sponse word gedeeltelik deur die beweeglike grys selle van sekere seelewende spesies uitgevoer.  Hierdie selle vervaardig ‘n chemikalië wat die beweging van selle in ‘n geïnfekteerde plek in die spons verhoed en sodoende die verspreiding van ‘n infeksie vermy.  As die besering of infeksie voortduur, vervaardig die beweeglike grys selle genoeg van die gifstof om al die selle in die aangetaste gebied vrek te maak.

Koördinasie van bewegings

Sponse besit nie neurone of enige tipe senuweeweefsel nie, maar tog reageer sponse op prikkels in hul omgewing.  Sekere sponse kan stadig oor die seevloer of rotse beweeg.  Die pinakosiete kan ook saamtrek en sodoende die water in die kanaaltjies na buite uitforseer om sand wat die ostiums blokkeer skoon te spoel.  Sekere spesies kan hul oskulum laat toetrek.  Die hele spons kan saamtrek om roofdiere te vermy.  Dit is waarskynlik dat die miosiete vir ie sluiting van die oskulum verantwoordelik is en dat dit seine na verskillende dele van die liggaam kan oordra.

 

Voortplanting

Ongeslagtelike voortplanting

Sponse kan op drie verskillende ongeslagtelike maniere voortplant naamlik deur verbrokkeling of fragmentasie, of deur om gemmules te vorm, of in enkele spesies deur afknopping.

Brokstukkies van ‘n spons word deur seestrome versprei.  Wanneer ‘n brokstuk op ‘n gepaste oppervlak te lande kom, word die brokstuk deur middel van die pinakosiete en kraagselle aan die oppervlak vasgeheg terwyl die mesohiel omvorm sodat die brokstuk binne die volgende dae in ‘n klein funskionele sponsie verander.

Gemmules is oorlewingsstruktuurtjies wat vorm veral wanneer die omstandighede vir die voortbestaan van die ouer-spons agteruit gaan.  Dit kom veral in varswaterspesies maar ook in ‘n paar seelewende spesies voor.  Derduisende van hierdie gemmules kan gevorm word wanneer ‘n spons besig is om dood te gaan.  Die gemmule bestaan uit ‘n klompie argeosiete wat met ‘n laag spongosiete, wat dikwels met spikulums versterk word, bedek is.  Die spongosiete aan die buitekant vorm ‘n beskermende doppie rondom die gemmule.  In varswater sponse kom daar dikwels selle van hul fotosintetiese simbionte ook binne hul gemmules voor.

Die gemmule word dan gewoonlik dormant om ongunstige omstandighede (wat in sommige gevalle die ouerspons laat vrek het) wat koue, droogte, tekort aan suurstof of hoë soutvlakke insluit, te kan oorleef.  In die geval van varswatersponse, wat in koue streke voorkom, is dit ‘n oorlewingstrategie wat die spesie laat voortbestaan wanneer die ouerspons in die winter vrek.  Hierdie varswatersponse se gemmules moet ‘n tydperk van koue deurgaan en dan later weer opwarm voor hulle uit hul dormansie ontwaak.

Waneer die gemmule ontwaak verander die argeosiete aan die buitekant van die klompie in pinakosiete.  Die doppie aan die buitekant bars oop en die klompie selle kom uit terwyl die oorblywende argeosiete in allerande ander tipes selle verander na gelang van die behoeftes van die spons.  Selle van verskillende gemmules van dieselfde spesie kan bymekaar aansluit om een groter sponsie te maak.

Geslagtelike voortplanting

Meeste sponse is hermafrodiete en, alhoewel hulle nie gonades het nie, vorm die spons beide manlike en vroulike geslagselle deur die transformasie van kraagselle of argeosiete.  Eierselle vorm vanuit argeosiete terwyl kraagselle meestal die spermselle vorm, alhoewel in sekere spesies spermatosiete vanuit die argeosiete ontstaan.  Meestal word kraagselkamers gevorm wat in die mesohiel insink en spermsiste vorm waarbinne die spermatosiete ontwikkel en wat oopbars om deur die waterstroom wat deur die liggaam vloei, na buite, deur die spongoseel en dan die oskulum na buite vervoer word.  Die eiers kannibaliseer van die omliggende selle om dooier op te bou.  Die eiers word ook in die spongoseel vrygestel van waar dit deur die waterstroom deur die oskulum na buite vervoer word.  Wanneer die spermsel met ‘n ander individu van dieselfde spesies in kontak kom, word die eiersel deur ‘n choanosiet omhul maar, in plaas van om dit te verteer, verander die choanosiet in ‘n amebeagtige sel wat deur die mesohiel na die naaste eier toe kruip om dit te bevrug.  Die eierselle bly gewoonlik binne die spons waar hulle bevrug word, maar in sekere spesies word die eiers ook, soos die sperms, deur die oskulum in die water vrygestel.

Daar is vier tipes larwes wat in sponse voorkom, maar uiteindelik bestaan almal uit klompies selle met ‘n buitenste laag selle waarvan die sweephare na buite wys wat die larwe in staat te stel om rond te swem.  Na ‘n paar dae se rondswemmery, sak die larwe na die seebodem en kruip stadig met silliêre aksie rond om ‘n plek te kry om aan vas te heg.  Meeste van die larwe se selle verander in argeosiete en dan, soos wat die larwe in ‘n sponsie omskakel, verander die argeosiete in die ander tipes selle soos wat die ligaam benodig.

Verwysings:

Brain, C.K.; PraveII, A.R.; Hoffmann, K.-H.; Fallick, A.E.; Botha, A.; Herd, D.A.;  Sturrock, C.; Young, I.; Condon, D.J. & Allison, S.G. (2012). The first animals: ca. 760-million-year-old sponge-like fossils from Namibia. South African Journal of Science 108(1-2):83-90.

Soubigou, A.; Ross, E.G.; Touhami, Y.; Chrismas, N. & Modepalli, V. (2020). Regeneration in the sponge Sycon ciliatum partly mimics postlarval development.

Lees meer oor sponse in Afrikaans:

Sponsdiere https://af.wikipedia.org/wiki/Sponsdier

Wêreldspektrum (1982), Volume 26, bl. 102 – 103.

error: Content is protected !!