Allergieë
Allergieë word deur twee goed bepaal: die genetika van die persoon en die omgewingfaktore waaraan die persoon aan blootgestel word. Die allergiese kondisies wat mees algemeen voorkom sluit hooikoors, asma, voedselallergieë, atopiese velontsteking en anafalakse in.
Allergieë kan veroorsaak dat mens se vel jeuk en ontsteek raak, of dat mens se slymvliese ontsteek en opswel wat veroorsaak dat mens se oë traan, brand en jeuk; mens se neus loop, toeswel, niesbuie en nasale poliepe veroorsaak; mens se tong in knoppe opswel, lippe opswel, oorkanale kan laat jeuk en toeswel, keel toeswel; mens laat opgooi of mens se derms laat werk; mens se lugweë toeswel en selfs tot anafalakiese skok kan lei wat mens kan laat sterf.
Allergiese reaksies kan deur ‘n verskeidenheid faktore ontketen word. Blootstelling aan ‘n stof, wat ‘n allergeen genoem word, is die mees algemene oorsaak hiervan, maar spanning kan ook tot ‘n asma-aanval of ekseem lei. Allergene sluit insekgif, sekere kosse, metale, stuifmeel en stofmyte in.
‘n Allergiese reaksie word tipies veroorsaak wanneer immunoglobulien E antiliggaampies, wat deel van die liggaam se immuunstelsel vorm, aan ‘n allergeen koppel wat dan aan ‘n massel of basofiel verbind waar dit die vrystelling van onder andere histamien, ‘n anti-inflammatoriese stof, ontketen. Die hoofrede vir allergiese reaksies is die oorreaksie van die immuunstelsel teenoor andersins skadelose antigene wat deur ‘n TH2-gedrewe immuunrespons gevorm word. Kontak met talle virusse en bakterieë ontketen ‘n TH1-gedrewe immuunrespons wat die TH2 respons teëwerk.
Kinders van groter families, of dié wat op plase grootgeword het, het minder dikwels hooikoors of ekseem, teenoor kinders in stede of in enkel-kind families. Dit is duidelik dat wanneer kinders op ‘n vroeë ouderdom aan natuurlike allergene soos stof, stuifmeel, sekere kosse, bakterieë ens. blootgestel word, dan sal hulle ‘n natuurlike immuniteit daarvoor ontwikkel (Sicherer & Sampson, 2014). Kinders wat in ‘n te steriele omgewing grootword, se immuunstelsel word nie genoegsaam ontwikkel nie wat dikwels tot ‘n oorreaksie teenoor andersins skadelose deeltjies soos stuifmeel veroorsaak. In hierdie kinders het die onderontwikkeling van die TH1 deel van die immuunstelsel tot die ooraktiewe TH2 gelei wat die allergiese reaksie veroorsaak. Mense wat van die platteland na die stede verhuis, sal al hoe meer allergieë begin ontwikkel (Gibson et al., 2003; Zock et al., 2007). Hoe ryker, en dus hoe meer higiënies mense is, hoe groter is die voorkoms van allergieë onder die huismense, veral as daar van antibakteriële skoonmaakmiddels gebruik gemaak word (Addo-Yobo et al., 2007). Dit blyk dat die blootstelling aan antibiotika in die eerste lewensjaar met die voorkoms van asma verbind kan word (Marra et al., 2006). Babas wat met ‘n keisersneë in die wêreld gebring was het ook ‘n groter kans om asma te ontwikkel, waarskynlik omdat hulle nie met derm-mikrobes tydens geboorte geïnokkuleer was nie en die regte dermbiota eers heelwat later na geboorte in hul derms gevestig geraak het (Emanuelsson & Spangfort, 2007; Thavagnanam et al., 2008).
Daar is vreemde verskynsels t.o.v. allergieë – naamlik dat dit meestal ‘n probleem is wat Westerlinge in stede het en al hoe meer mense ly aan allergieë (Platts-Mills et al., 2005; Simons, 2009; Anandan et al., 2010; Pongdee, 2017). Onder Westerlinge ly ongeveer 20% aan allergiese rinitis (Wheatley & Togias, 2015), 20% aan atopiese dermatitis (Thomsen, 2014), 6% het een of meer voedselallergieë (National Institute of Allergy and Infectious Diseases, 2012; Sicherer & Sampson, 2014) en afhangende van die land het 1-18% van die inwoners asma (Global Initiative for Asthma, 2011; 2015). Tot 0.05-2% van Westerlinge kan anafalakse kry (Grammer, 2012).
Mense maak asof hulle nie kan raai hoekom hulle allergieë het nie, terwyl ons eintlik al lankal weet wat die oorsake is. Ons sal eerder die oorsake en oplossings so goed as wat ons kan ignoreer, en eerder in ons snot verdrink of van asma verstik as wat ons ons Westerse lewensstyl sal prysgee.
Die sintetiese en steriele omgewing wat die Westerling vir homself geskep het, dra grootliks by tot sy vatbaarheid vir allergieë by. Boesmans wat op die grond slaap, geen lugverfrissers, yskaste, preserveermiddels, plastiek en skoonmaakmiddels het nie, het nie allergieë nie. Kan jy jouself indink hoe vreemd dit sou wees as ‘n Boesman asma, hooikoors of kosallergieë sou gehad het? Hoe sou jy dit daar uitgehou het sonder jou asmapompie, anti-histamiene en koskeuses?
Hier is die hoofredes vir jou allergieë:
- Die mensgemaakte chemikalieë soos skoonmaakmiddels, plastiek, gifstowwe, verf, preserveermiddels, ens. waaraan ons blootgestel word, dra tot ons sensitiwiteit aan normale goed soos stuifmeel, sekere kossoorte en stof by (lees meer daaroor in die hoofstuk oor Plastiek en jou gesondheid, Skade aan die Derm-mikrobioom en Dit is in die lug).
- Die steriele huise waarin ons leef veroorsaak dat jy nie genoeg blootstelling as baba aan bakterieë gehad het nie en dus het jou immuunstelsel nie behoorlik ontwikkel nie (lees meer daaroor hieronder).
- Disbiose (die versteuring van die derm-mikrobioom) deur die inname van te veel suiker, stysel, antibiotika, plastiek, alkohol en preserveermiddels, dra tot kos-allergieë by (lees meer hieroor in die hoofstuk Skade aan die Derm-mikrobioom).
- Jy het nie dermrondewurms en sambokwurms in jou derms soos wat die mensdom van die begin van sy ontstaan gehad het nie (rondewurms het natuurlik ook in al die mens se voorsate voor die ontstaan van Homo voorgekom). Die Westerling is die bevolkingsgroep met minste rondewurmbesmetting op Aarde (lees meer hieroor hieronder).
- Ons het ‘n sintetiese habitat geskep wat met velvlokke en vesels gevul word wat die ideale tuiste vir stofmyte bied (lees meer hieroor hieronder).
- Die Westerse individualistiese ideaal moedig ekonomiese en sosiale onafhanklikheid van individue aan. Dit lei tot ‘n wanfunskionele samelewing waarin ‘n groot persentasie mense as kerngesinne of alleenlopers leef. Die emosionele behoeftes wat in ‘n drie-generasie familiegroep bevredig sou word, word nou dikwels deur geselskapsdiere vervul. Die hare, vere, mis en skilfers van hierdie diere, wat in noue verbintenis met mense leef, dra tot allergieë en siektes by.
Die toename in allergieë onder mense met ‘n Westerse lewensstyl kan nie aan genetiese vatbaarheid toegeskryf word nie – alles dui eerder op omgewingsverwante redes (Bloomfield et al., 2006). Aan die een kant word mense met ‘n Westerse lewensstyl blootgestel aan mensgemaakte chemikalieë in geprossesseerde kosse, preserveermiddels, gifstowwe, plastiekverpakking, lug- en waterbesoedeling; terwyl vetsug en onfiksheid toeneem weens hul sessiele bestaan. Aan die ander kant is daar, weens die Westerling se binneshuise bestaan, ‘n verminderde blootstelling aan algemene allergene in die natuur wat vererger word deur die Westerling se oorbeheptheid met higiëne terwyl daar ‘n groter-wordende blootstelling aan bg. mensgemaakte allergene, stofmyte en dierskilfers is (Platts-Mills et al., 2005).
Die Westerling se oorbeheptheid met higiëne veroorsaak dat kinders aan minder virale, bakteriële en parasitiese besmettings blootgestel word. Dit veroorsaak dat die kind se ontwikkelende immuunstelsel weg van die TH1 tipe response gestuur word wat tot onbeheersde TH2 repsonse lei, wat tot ‘n toename in allergieë lei (Bloomfield et al., 2006; Renz et al., 2006; Casas et al., 2020).
Daar is duidelike bewyse dat besmettings met siektes en parasiete wat van feses na die grond, water en kos oorgedra word, soos Hepatitis A, Toxoplasma gondii en Helicobacter pylori, ironies tot ‘n afname van tot soveel as 60% in atopie (‘n tipe allergiese reaksie) kan lei (Matricardi et al., 2020), terwyl die besmetting met sekere parasiete tot ‘n afname in allergieë soos asma lei (Masters & Barrett-Connor, 1985). Dit blyk dat die besmetting met hierdie patogene en parasiete ‘n kritieke rol in die verandering van die TH1/TH2 regulering in die liggaam speel – soos wanneer ‘n mens in ‘n landelike gebied of op ‘n plaas eerder as in ‘n stad grootword (Sheikh & Strachan, 2004).
Die verhaal van stofmyte en rondewurms en hul rol in allergieë
Die Stofmyt (Durand, 2022a)
Die mens het nie in huise ontstaan of geëvolueer nie – ons het vir honderde duisende jare as Homo sapiens in hutte, takskerms en grotte geleef. Die eerste stede was maar 9 000 jaar gelede gebou. Ons het ook ongeveer daardie tyd tekstiele ontdek en sakke, lappe, klere en tente van plantvesels gemaak en so het ons onwetend met die beskutte habitat gevul met ‘n magdom vesels en mens- en dier velvlokkies die ideale habitat vir die stofmyt geskep.
Huisstof bestaan uit verkrummellende insekte, vesels van klere, matte, gordyne en beddegoed, kos-krummeltjies, plastiekstukkies, stof wat van buite deur mense en diere ingetrap word of deur die vensters en deure inwaai, rookpartikels, swamme en mens- en diervelvlokkies. Oral waar jy loop, sit en lê, val daar vlokkies vel van jou af en bedek alles – jou klere, die beddegoed, stoele, matte, tafels, vloer, kos – letterlik alles.
Stofmyte eet hierdie velvlokkies want wie anders sal dit doen? Hulle werk dag en nag om jou en jou troeteldiere se velle wat alles besoedel, op te vreet. Hulle het selfs ‘n spesiale ensiem wat velvlokkies verteer. Stofmyte eet ook stuifmeel en swamme wat tussen die stof voorkom. Mikroskopiese velvlokkies sink tussen die vesels van jou kussingsloop en beddegoed in jou kussing en matras in. Na jare weeg ‘n matras etlike kilogramme meer danksy jou velle, die myte, die myte se vervellingsdoppe, hulle mis en eiers.

Stofmyte behoort aan die spinnekopagtige familie Pyroglyphidae – ‘n groep nie-parasitiese myte. Hulle kom baie algemeen in voëlneste en soogdiertonnels voor waar hulle op veer en velreste voed. Ander lede van hierdie groep eet ook stuifmeel, swamme en brokstukkies van dooie diere, gestoorde graan, kaas en hondekos. Ons het egter ‘n paradys vir verskeie spesies stofmyte geskep toe ons tekstiele ontdek het en klere begin dra het en huise met komberse, matrasse, kussings, matte, meubels en kos begin bewoon het (Colloff, 2009).
Alhoewel stofmyte nie slegs of hoofsaaklik op mense bly nie, krioel hulle onvermydelik oor jou waar hulle op jou velvlokkies wei. Mens haal ook onvermydelik hulle vervellingsdoppe en mis met elke asemteug in. Wanneer mens deur ‘n vertrek loop, warrel die mytmis, eiers en vervellingsdoppe in die lug in op waar dit in die lug vir tot ure sal ronddryf en mettertyd weer op die vloer en meubels sal neerdaal. Selfs as mens net iewers op ‘n bank sit, of op ‘n bed lê, of iewers staan veroorsaak die hittegolwe van jou lyf ‘n stroom warm lug wat opwaarts trek en die vervellingsdoppe, eiers en mis verby jou neus laat warrel waar jy dit dan inasem.
Mense kan allergies vir stofmyte word en dit kan tot ekseem en asma lei. Sekere verbindings in die mis en die vervellingsdoppe, spesifiek die ensiem peptidase en die proteïen tropomeiosien is van die hoofoorsake vir stofmytallergie. Stofmyte word ongeveer twee tot drie maande oud en in daardie tyd sal ‘n wyfie ongeveer 60 tot 100 eiers lê (gemiddeld twee per dag) en 2 000 verteringsensiembevattende misbolletjies vervaardig en nog baie meer half-verteerde verteringsensiembedekte velvlokkies nalaat. Hierdie verteringsensieme word vrygestel sodra dit met ‘n nat oppervlakte kontak maak – soos jou neus, keel en longe.
Tropomeiosien kom ook in garnale voor en dit blyk dat mense wat allergies vir stofmyte is, moontlik vir seekos ook allergies word (Wong et al., 2016). Navorsing dui daarop dat jarelange blootstelling aan stofmyte sentitiseer sekere mense se immuunstelsel vir tropomeiosien en wanneer daardie persoon skielik aan reuse hoeveelhede hiervan blootgestel word, kan dit ‘n hewige allergiese reaksie tot gevolg hê wat selfs die persoon se dood kan veroorsaak (Prester, 2016; Wong et al., 2019).
Bykans elke huis op die planeet is met stofmyte besmet, en bykans elke bed wat ‘n paar maande oud is, sal stofmyte in hê. Enige kontak met mense en huisdiere van buite, sal stofmyte na jou en jou omgewing oordra en hulle sal deur elke oop venster en deur na binne warrel.
Dermrondewurm (Durand, 2022b)
Die dermrondewurm of dermspoelwurm (Ascaris lumbricoides) is die rondewurm wat, van al die nematode, die mees algemeen mense parasiteer – ongeveer een miljard mense wêreldwyd is tans met dermspoelwurms besmet! Een van die interessante verskynsels is dat ondanks die hoeveelheid mense wat met dermspoelwurms besmet is, daar relatief min mense daarvan doodgaan (Wang et al, 2016).
Die dermrondewurm is besonder groot in vergeleke met ander rondewurms en kan tot 49 cm lank word. Die wyfies is gewoonlik groter as die mannetjies. Die wyfie se uterus kan tot soveel as 27 miljoen eiers bevat. Die mannetjie kan uitgeken word aan die afwaartse haakvormige kurwe van sy stert en die twee spikulas weerskante van sy kloaak waarmee hy binne die wyfie se vulva vasklamp wanneer hulle paar.

Die volwasse dermrondewurm drink nie bloed of voed op mens se vleis nie, maar leef bloot in jou derms en eet jou feses. In hierdie gesellige dermhuis paar die mannetjie met die wyfie. Sy stel ongeveer 200 000 eiers per dag, vir 12 tot 18 maande van haar lewensduur, vry. Hierdie eiers word saam met die gasheer se feses na buite uitgeskei.
Ongelukkig is die bron waarvan jy die oorspronklike wurm of twee ingekry het, waarskynlik nog steeds daar en die kans dat jy weer en weer met wurms besmet sal word, of met baie wurms op ‘n slag besmet gaan word, is nogals groot. Die besmette persoon voeg, in elk geval, nog 200 000 eiers per dag, per wyfierondewurm, tot die omgewing by. Rondewurmeiers, wat tot tien jaar in die grond kan oorleef, is ongeveer 0.05 mm groot en dit is onmoontlik om hulle raak te sien. Mens kan dus maklik dermrondewurmeiers inkry as jy kos eet of water drink wat daarmee besmet is, of wanneer mens kos met vuil hande hanteer en eet.
Alhoewel ongeveer 85% van mense wat met dermrondewurms besmet is, nie enige simptome toon nie, kan daar ernstige probleme ontstaan, veral in immuun gekompromiteerde mense, en dit is wanneer daar ‘n massiewe wurmlading in die gasheer se derms posvat. Die siektetoestand wat deur dermrondewurmbesmetting veroorsaak word, word ascariose genoem. Die simptome van erge dermrondewurmbesmetting is bloederige speeksel, hoes, koors, buikpyn en dermsere. ‘n Groot lading van dermrondewurms kan ook tot dermobstruksie, braking en hardlywigheid lei en galbuisies en die pankreasbuis verstop wat tot verdere komplikasies kan lei (Read & Sharping, 1995).
Die dermrondewurmeiers broei in mens se derms uit en dan boor die eerstelarwes deur die dermwand om in die bloedvate of limfvatstelsel langs die dermkanaal te kom. Die rondewurmlarwes word met die bloedstroom deur die hart tot in die longe vervoer. Die larwe boor dan, gewoonlik snags, deur die alveoli van die longe van waar hulle met die lugpyp tot in die keel opgehoes word. In die keel word hulle gewoonlik dan weer in die slukderm afgesluk, maar dikwels kom van die verdwaalde dermrondewurmlarwes by mens se neus uit.
Sambokwurm (Durand, 2022b)
Die sambokwurm of sweepwurm (Trichuris trichiura) is ‘n endoparasiet wat in mense se dikderm bly. Hierdie rondewurms word gekenmerk aan die besondere lang, dun voorste deel van die lyf.
Sambokwurmeiers word deur die mond ingeneem en beweeg in die dermkanaal af. Kontak met die mikrobioom van die dunderm, stimuleer die larwes om uit te broei (Read & Sharping, 1995). Die larwes boor in die villi van die dunderm in en bly daar om te voed en te groei. Die jong sambokwurm verlaat die dunderm en migreer na die sekum van die dikderm waar hulle in die mukosa met hulle lang voorlywe binnedring en bly daar totdat hulle volwasse wurms word. Die sambokwurm voed op die weefselafskeidings eerder as op bloed (Hayes et al., 2010)
Die mannetjies se agterlywe is soos ‘n horlosieveer opgekrul terwyl die wyfie ‘n ongekrulde agterlyf het. Die wyfies is effens groter as die mannetjies en word 35-50 mm lank teenoor die mannetjie se 30-45 mm. Die wyfies leef vir ongeveer ‘n jaar en lê in daardie tyd tussen 2 000 tot 20 000 eiers per dag wat met die gasheer se feses uitgeskei word.

Ongeveer een miljard mense is wêreldwyd met sambokwurms besmet. Die grootste konsentrasie van sambokwurmbesmetting kom in die tropiese gebiede van Asië, Afrika en Suid Amerika voor. Sambokwurmeiers, word nes dermrondewurmeiers, na mense oorgedra wanneer hulle met ongewaste hande eet, of rou en ongewaste kos eet. Meeste mense toon geen newe-effekte van sambokwurmbesmetting nie, maar sommige mense ontwikkel siektesimtome wat trichuriose genoem word. In erge gevalle sal mense met trichuriose kroniese disenterie, buikpyn, naarheid, hardlywigheid, winderigheid en netelroos ontwikkel. Sekondêre bakteriële infeksies kan kolitis en rektale prolaps veroorsaak (Oberholzer & Ryke 1993).
Alle organismes op aarde word deur iets anders geparasiteer en aangesien daar vier keer meer parasitiese spesies as nie-parasitiese spesies is nie, word meeste spesies logies deur meer as een parasiet geparasiteer. Daar is selfs parasiete wat parasiete parasiteer, wat parasiete parasiteer. Dit is uiters vreemd om organismes, soos sommige Westerlinge, te vind wat parasietvry is.
Die parasiete en simbionte wat in en op ons leef, het oor miljoene jare saam met ons voorouers ontwikkel. Die ko-evolusie tussen gasheer en parasiet vind oor miljoene jare plaas – vanaf beide voorouers se oorspronklike bymekaarkoms af. Gashere is gewoonlik net so teen parasiete bestand as wat plante teen die aanslag van herbivore bestand is, of ‘n trop bokke teen die aanslag van ‘n leeu bestand is. Dit is gewoonlik slegs in die geval wanneer die gasheer in ‘n verswakte toestand is, of immuungekompromiteerd is, dat die parasiet oorneem en die dood van die gasheer kan veroorsaak. Parasiete het ‘n belangrike, dog ongewaardeerde en onderskatte rol in die ekologie (Wood & Johnson, 2015).
Dit is opvallend dat meeste van ons parasiete en simbionte nie lewensbedreigend vir die mens is nie. In baie gevalle wys mense geen simptome van die parasietbesmetting wat hulle onder lede het nie, en die rede daarvoor is dat dit normaal is om parasiete, selfs van verskeie spesies, op en in jou te hê. Die mensdom het nie ‘n paar duisend jaar gelede of twee eeue gelede met Louis Pasteur ontstaan nie, ons was as Homo sapiens ten minstens 300 000 jaar reeds op Aarde, en nog langer hier, trouens vir miljoene jare, as primitiewe mense, en nog langer as soogdiere. Ons verhouding met ons simbionte en parasiete strek oor miljoene jare en in hierdie tyd het beide die gasheer en die parasiet en simbiont tot ‘n onderhandelde medebestaan gekom. Dit is opvallend dat ondanks die feit dat miljarde mense met een of ander rondewurm besmet is, relatief min mense daarvan sterf, in vergeleke met ander parasiete soos malaria.
Groot was mediese navorsers se verbasing toe hulle uitvind dat sekere siektes hoofsaaklik in mense met Westerse gewoontes voorkom. Die gewoontes waarvan ek praat is ons dieët en ons beheptheid met reiniging. En die siektes waarvan ek praat is allergieë soos asma en hooikoors, suikersiekte, veelvuldige sklerose en Crohn se siekte – siektes wat bykans nooit in primitiewe parasiet-draende gemeenskappe voorkom nie (Weinstock et al., 2002; Okada et al., 2010).
Hierdie navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat die oorsaak van hierdie siektes die gevolg was dat die mense wat aan hierdie outo-immuun siektes en allergieë nie aan parasiete – spesifiek rondewurms – blootgestel was toe hulle klein was nie. Die eksperimente wat oor die laaste twee dekades gedoen is om mense, met dermontsteking, Crohn se siekte en veelvuldige sklerose, met rondewurmparasiete te besmet, het geweldige positiewe resultate gelewer (Summers et al., 2005; Summers et al., 2003; Correale & Farez, 2007; Alexandre-Silva et al., 2018). Navorsers wat op die dermbioom se samestelling en funksie werk, het tot dieselfde gevolgtrekking gekom, naamlik dat die Westerse lewenswyse vir disbiose en die siektes wat daaruit voortvloei, verantwoordelik is (Versini et al., 2015; Murdaca et al., 2021; Stiemsma et al., 2015).
Dit is duidelik dat die wurms deur miljoene jare se ko-evolusie met die hominiene, die mens se immuunstelsel help vorm het. Die mukus wat deur ons dermkanaal afgeskei word is toksies vir wurms wat natuurlik weerstand teen dit ontwikkel het, net soos wat insekte en werweldiere wat plante vreet, weerstand teen die gifstowwe van plante ontwikkel, en predatore moet koes en duik vir die kloue, tande en horings van hulle prooi. Alles is in ‘n fyn balans en as iets versteur word, stort die hele kaartehuis in duie, soos wanneer iemand ‘n gekompromiteerde immuunstelsel het en die persoon se weerstand teen die wurms verswak.
Navorsers het die proteïene ontdek wat die rondewurms vervaardig om hulle teen die mens se immuunstelsel te beskerm, wat terselfdertyd die menslike immuunstelsel stimuleer en van jongs af help vorm (Yazdanbakhsh et al., 2002). Deesdae gebruik medici eerder hierdie proteïene om pasiënte met sekere allergieë en ander outo-immuunsiektes te behandel as met die wurms self (Shi et al., 2022).
Net soos wat die bakterieë op mens se vel en dié binne mens se dermkanaal ons immuunstelsel aanskakel en van kleins af help vorm, en deur ons lewens in stand hou, net so speel die parasiete wat in en op ons bly, ‘n soortgelyke rol. Hierdie organismes speel ‘n lewensbelangrike rol om ons toe te laat om by die res van die natuur in te skakel sodat ons daarbinne kan funksioneer. As ons daarin slaag om die res van die natuur uit ons liggame verwyder, sal ons nie verder kan voortbestaan nie. Die enigste rede hoekom ons nog steeds hier is, ongeag hoe siek ons lewenswyse ons reeds maak, is omdat ons gelukkig nog nie daarin geslaag het om die natuur heeltemal uit ons liggame te verwyder nie.
Verwysings:
Addo-Yobo, E.O.; Woodcock, A.; Allotey, A.; Baffoe-Bonnie, B.; Strachan, D. & Custovic, A. (2007). Exercise-induced bronchospasm and atopy in Ghana: two surveys ten years apart. PLOS Medicine 4 (2): e70.
Alexandre-Silva, G.M.; Brito-Souza, P.A.; Oliveira, A.C.S.; Felipe, A.; Cerni, F.A.; Zottich, U. & Pucca, M.B. (2018). The hygiene hypothesis at a glance: Early exposures, immune mechanism and novel therapies. Acta Tropica 88:16-26.
Anandan, C.; Nurmatov, U.; Van Schayck, O.C. & Sheikh, A. (2010). Is the prevalence of asthma declining? Systematic review of epidemiological studies. Allergy. 65 (2): 152–67.
Bloomfield, S.F.; Stanwell-Smith, R.; Crevel, R.W. & Pickup, J. (2006). Too clean, or not too clean: the hygiene hypothesis and home hygiene. Clinical and Experimental Allergy 36 (4): 402–25.
Casas, M.L.; Esteban, Á.; González-Muñoz, M.; Labrador-Horrillo, M.; Pascal, M. & Teniente-Serra, A. (2020). VALIDA project: Validation of allergy in vitro diagnostics assays (Tools and recommendations for the assessment of in vitro tests in the diagnosis of allergy). Advances in Laboratory Medicine 1 (4). Walter de Gruyter GmbH.
Colloff, M.J. (2009). Dust Mites. Dordrecht: Springer Science+Business Media.
Correale, J. & Farez, M. (2007). Association between parasite infection and immune responses in multiple sclerosis. Annals of Neurology 61 (2): 97–108.
Durand, F. (2022a). Stof is jy… Die verhaal van die stofmyt. Die Menslike Dieretuin, Naledi, pp. 26-29.
Durand, F. (2022b). Een vir almal en almal vir een: Die verhaal van rondewurms. Die Menslike Dieretuin, Naledi, pp. 156-177.
Emanuelsson, C. & Spangfort, M.D. (2007). Allergens as eukaryotic proteins lacking bacterial homologues. Molecular Immunology. 44 (12): 3256–60.
Gibson, P.G.; Henry, R.L.; Shah, S.; Powell, H. & Wang, H. (2003). Migration to a western country increases asthma symptoms but not eosinophilic airway inflammation. Pediatric Pulmonology 36 (3): 209-215.
Global Initiative for Asthma (2011). Global Strategy for Asthma Management and Prevention.
Global Initiative for Asthma (2015). Global Strategy for Asthma Management and Prevention.
Grammer, L.C. (2012). Patterson’s Allergic Diseases (7 ed.). Lippincott Williams & Wilkins.
Hayes, K.S.; Bancroft, A.J.; Goldrick, M.; Portsmouth, C.; Roberts, I.S. & Grencis, R.K. (2010). Exploitation of the intestinal microflora by the parasitic nematode Trichuris muris. Science 328 (5984): 1391–1394.
Marra, F.; Lynd, L.; Coombes,. M; Richardson, K.; Legal, M.; Fitzgerald, J.M. & Marra, C.A. (2006). Does antibiotic exposure during infancy lead to development of asthma?: a systematic review and metaanalysis. Chest 129 (3): 610-618.
Masters, S. & Barrett-Connor, E. (1985). Parasites and asthma–predictive or protective?. Epidemiologic Reviews 7: 49–58.
Matricardi, P.M.; Rosmini, F.; Riondino, S.; Fortini, M.; Ferrigno, L.; Rapicetta, M. & Bonini, S. (2000). Exposure to foodborne and orofecal microbes versus airborne viruses in relation to atopy and allergic asthma: epidemiological study. British Medical Journal 320 (7232): 412-417.
Murdaca, G.; Greco, M.; Borro, M. & Gangemi, S. (2021). Hygiene hypothesis and autoimmune diseases: A narrative review of clinical evidences and mechanisms. Autoimmunity Reviews 20(7): 102845.
National Institute of Allergy and Infectious Diseases (2012). Food Allergy An Overview.
Oberholzer, G., & Ryke P.A.J. (1993). Medies belangrike parasiete, draers en gifdiere van Suider-Afrika, HAUM, Pretoria.
Okada H, Kuhn C, Feillet H & Bach JF (2010). The ‘hygiene hypothesis’ for autoimmune and allergic diseases: an update. Clinical and Experimental Immunology 160 (1): 1–9.
Platts-Mills, T.A.; Erwin, E.; Heymann, P. & Woodfolk, J. (2005). Is the hygiene hypothesis still a viable explanation for the increased prevalence of asthma?. Allergy 60 (Suppl 79): 25–31.
Pongdee, T. (2017). Increasing Rates of Allergies and Asthma. American Academy of Allergy, Asthma & Immunology.
Prester, L. (2016). Seafood Allergy, Toxicity, and Intolerance: A Review. Journal of the American College of Nutrition 35 (3): 271–83.
Read, A.F. & Sharping, A. (1995). The evolution of tissue migration by parasitic nematode larvae. Parasitology 111 (3): 359–371.
Renz, H.; Blümer, N.; Virna, S.; Sel, S. & Garn, H. (2006). The immunological basis of the hygiene hypothesis. Allergy and Asthma in Modern Society: A Scientific Approach. Chemical Immunology and Allergy 91: 30-48.
Sheikh, A. & Strachan, D.P. (2004). The hygiene theory: fact or fiction?. Current Opinion in Otolaryngology & Head and Neck Surgery 12 (3): 232–36.
Shi, W.; Xu, N.; Wang, X.; Vallée, I.; Liu, M. & Liu, X. (2022). Helminth therapy for immune-mediated inflammatory diseases: current and future perspectives. Journal of Inflammation Research 15: 475-491.
Sicherer, S.H. & Sampson, H.A. (2014). Food allergy: Epidemiology, pathogenesis, diagnosis, and treatment. The Journal of Allergy and Clinical Immunology 133 (2): 291-308.
Simons, F.E. (2009). Anaphylaxis: Recent advances in assessment and treatment. The Journal of Allergy and Clinical Immunology. 124 (4): 625–638.
Stiemsma, L.; Reynolds, L.; Turvey, S. & Finlay, B. (2015). The hygiene hypothesis: Current perspectives and future therapies. ImmunoTargets and Therapy 4: 143–157.
Summers, R.W.; Elliott, D.E.; Urban, J.F.; Thompson, R. & Weinstock, J.V. (2005). Trichuris suis therapy in Crohn’s disease. Gut 54 (1): 87–90.
Summers, R.W.; Elliott, D.E.; Qadir, K.; Urban, J.F.; Thompson, R. & Weinstock, J.V. (2003). Trichuris suis seems to be safe and possibly effective in the treatment of inflammatory bowel disease. American Journal of Gastroenterology 98 (9): 2034-2041.
Thavagnanam, S.; Fleming, J.; Bromley, A.; Shields, M.D. & Cardwell, C.R. (2008). A meta-analysis of the association between Caesarean section and childhood asthma. Clinical and Experimental Allergy. 38 (4): 629-633.
Thomsen, S.F. (2014). Atopic dermatitis: natural history, diagnosis, and treatment. ISRN Allergy. 2014: 354250.
Versini, M.; Jeandel, P-Y.; Bashi, T.; Bizzaro, G.; Blank, M. & Shoenfeld, Y. (2015). Unraveling the Hygiene Hypothesis of helminthes and autoimmunity: origins, pathophysiology, and clinical applications. BMC Medicine 13 (1): 81.
Wang, H.; Naghavi, M.; Allen, C.; Barber, R.M.; Bhutta, Z.A.; Carter, A.; et al. (2016). Global, regional, and national life expectancy, all-cause mortality, and cause-specific mortality for 249 causes of death, 1980-2015: a systematic analysis for the Global Burden of Disease Study 2015. Lancet 388 (10053):1459–1544.
Weinstock, J.V.; Summers, R.W.; Elliott, D.E.; Qadir, K.; Urban, J.F. & Thompson, R. (2002). The possible link between de‐worming and the emergence of immunological disease. Journal of Laboratory and Clinical Medicine 139 (6): 334-338.
Wheatley, L.M.; Togias, A. (2015). Clinical practice. Allergic rhinitis. The New England Journal of Medicine. 372 (5): 456–463.
Wong, L.; Huang, C.H. & Lee, B.W. (2016). Shellfish and House Dust Mite Allergies: Is the Link Tropomyosin?. Allergy Asthma Immunology Research Journal 8 (2): 101–6.
Wong, L.; Tham, E.H. & Lee, B.W. (2019). An update on shellfish allergy. Current Opinion in Allergy and Clinical Immunology 19 (3): 236–42.
Wood, C.L. & Johnson, P.T.J. (2015). A world without parasites: Exploring the hidden ecology of infection. Frontiers in Ecology and the Environment 13: 425–434.
Yazdanbakhsh, M,; Kremsner, P.G. & Van Ree, R. (2002). Allergy, parasites, and the hygiene hypothesis. Science 296 (5567): 490-494.
Zock, J.P.; Plana, E.; Jarvis, D.; Antó, J.M.; Kromhout, H.; Kennedy, S.M.; Künzli, N.; Villani, S; Olivieri, M.; Torén, K.; Radon, K.; Sunyer, J.; Dahlman-Hoglund, A.; Norbäck, D. & Kogevinas, M. (2007). The use of household cleaning sprays and adult asthma: an international longitudinal study. American Journal of Respiratory and Critical Care Medicine. 176 (8): 735–41.
