Dit is in die water
Boere en bosbouers is die grootste watergebruikers in Suid-Afrika
Ongelukkig is daar ‘n groot probleem met die manier hoe ons na water kyk en gebruik. Eerstens is daar die geloof dat elke mens vrye toegang tot water mag he en dat hy dit mag benut soos hy wil. Tans word 63% van ons bogrondse water vir boerdery en plantasies gebruik. Op hierdie stadium is die situasie so beroerd dat voor die onlangse tropiese siklone en vloede, een derde van riviere nie meer by die see uitgekom het nie. Dit het ‘n geweldige negatiewe impak op die ekologie van binnelandse vleilande, riviermondings en strandmere wat tans onder groter bedreiging as enige ander ekostelsel in Suid-Afrika is. Tans word 99% van ons riviermondings en strandmere en 88% van ons vleilande bedreig (National Biodiversity Assessment, 2018).
Ongelukkig is die waterkwaliteit in die bietjie water wat nog in die riviere voorkom, in groot dele van ons rivierstelsels hoofsaaklik deur landbouchemikalieë ondrinkbaar gemaak. Rondom nedersettings is die watergehalte verder verswak deur die toevoeging van rou riool en farmaseutiese middels en naby myne deur die instroom van suurmynwater en swaar metale.

Landbouchemikalieë in riviere en vleilande
In ‘n poging om produksie op te stoot gebruik boere kunsmis en gifstowwe, soms tot so ‘n mate dat dit in die afloopwater in die naasliggende riviere land en in vleilande en damme opbou en wat ‘n geweldige negatiewe impak op varswaterekologie het (Horak et al., 2021). In damme soos die Hartbeespoortdam is die water grasgroen van die alge en daar kom onder andere giftige blougroen bakterieë daarin voor. In die water van ons damme, selfs dié wat vir huishoudelike gebruik aangewend word, is die konsentrasie van landbouchemikalieë in plekke so hoog dat die visse steriel is en vind ons dat visse beide testis- en ovariumweefsel in dieselfde individu voorkom (Barnhoorn et al., 2011). Die toestand van water in ons riviere, vleilande en mere het hoofsaaklik danksy ons boerderypraktyke so agteruit gegaan dat meeste riviere se water oor die laaste paar dekades ondrinkbaar geword het.
Suurmynwater besmet riviere en grondwater
Myne op die Witwatersrand en in Mpumalanga is ‘n groot bron van besoedeling en het in sommige plekke die water ondrinkbaar gemaak. Swaelsuur vorm wanneer water en lug in kontak met swaelverbindings in die steenkool en piriet in die goudmyne kom. Die swaelsuur maak die water ondrinkbaar suur, maar los ook sand en rotse op en stel sodoende metale, insluitende radioaktiewe en giftige swaarmetale in die water vry. Hierdie metale het selfs teen lae konsentrasies ‘n geweldige groot impak op die gesondheid van diere en mense, waar dit as endokrienversteurders optree. Talle siektes, insluitende kanker en neurologiese ontwikkelingsprobleme in babas, kan deur hierdie swaarmetale veroorsaak word (Durand, 2012).
Mikroplastiek in die water
Die grootste bron van mikroplastiek in ons riviere en damme kom van wasgoedwater wat in die rioolstelsels beland en nie deur watersuiweringswerke uit die water gehaal word nie. Die mikroplastiek is afkomstig van motorbande, padtekens, skoonmaakprodukte, skoonheidsprodukte en tekstiele wat nylon en poliëster bevat soos ons klere, handdoeke, beddegoed wat deur wasgoedwater in riviere beland (Gao et al., 2024).
Medisyne in die water
Die chemiese afbraakprodukte van medisyne en van die medisyne self, word deur uriene uitgeskei. Selfs in lae konsentrasies, het hierdie chemikalieë ‘n geweldige negatiewe impak op die mens se fisiologie en die ekologie. Farmaseutiese afvalstowwe wat algemeen in Suid-Afrikaanse kraanwater aangetref word sluit pynstillers, beta blokkeerders, antiretrovirale middels, steroïede, anti-inflammatoriese medisyne en antibiotika in.
Daar is reeds 23 verskillende soorte antibiotika, 13 antiretrovirale middels, 12 anti-inflammatoriese middels, 23 kalmeermiddels en pynstillers, 8 steroïed hormone, 27 tipes onwettige dwelms en 2 beta blokkeerders in die kraanwater in Gauteng opgespoor. Die meeste farmaseutiese middels (108) is in die kraanwater van Gauteng opgespoor, gevolg deur 40 in KwaZulu Natal, 14 in Noordwes, 12 in die Oos Kaap, 6 in Limpopo en die Wes Kaap, 4 in Limpopo en Mpumalanga met geen wat sover in die Noord Kaap aangemeld is nie.
Antidepressante en pynmedikasie, insluitende opoïede word in kraanwater aangetref.
Steroïede soos estrogeen, testosteroon en progresteroon word in kraanwater aangetref. Selfs in klein hoeveelhede het hierdie hormone ‘n geweldige groot impak op die gebruiker se hormoonbalans.
Suid-Afrika is een van die lande met die meeste VIGS-lyers in die wêreld wat veroorsaak dat daar veral in KwaZulu Natal en Gauteng groot hoeveelhede van antiretrovirale medisyne en antibiotikas in die kraanwater aangetref word. Dit lei tot die ontstaan van anti-biotika-bestande bakterieë (Munzhelele et al., 2024).
Fekale bakterieë
Die watersuiweringswerke in Suid-Afrika is in ‘n haglike toestand en landwyd stroom rou onverwerkte riool in die riviere en damme in – insluitende van ons groot damme soos die Vaaldam. Die Departement van Water en Sanitasie het in 2021 openlik erken openlik dat 56% (maar eintlik is dit baie meer) van die 1150 van die land se watersuiweringswerke in ‘n swak toestand is (Krezmann et al., 2021). Honderde van hierdie watersuiweringswerke word nie bloot slegs sleg bestuur nie maar is in ‘n vervalle toestand wat veroorsaak dat daar daagliks miljarde liter bakterie-, farmaseuties- en landbougifbesmette water deur ons rivierstelsels stroom.

As mens egter na die Departement van Water en Sanitasie se inligting wat hulle in 2021 op hul webwerf gehad het, kyk, sal mens sien dat die 56% van wanbestuur en verval, ‘n gruwelike wanvoorstelling is. By verre die meerderheid van watersuiweringswerke werk volgens hulle nie soos mens op die kaart hierbo wat hulle self op hul webwerf geplaas het, kon sien.
Water wat met fekale bakterieë besmet is kan mens baie siek maak of selfs dood. Hoë ladings van E. coli fekale bakterieë kom in ons riviere en damme voor. Soms is dit so erg dat die strande langs die Suidkus gesluit word omdat mense in die stede en dorpe se rioolwater, wat net so onverwerk in die see gepomp word, swem. In 2023 was daar selfs cholera sterftes in Suid-Afrika wat aan swak sanitasie toegeskryf was (Kretzmann, 2023).
Bronne:
Barnhoorn, I.E.J.; Bornman, M.S.; Van Dyk, J.C.; Genthe, B. & Pieterse, G.M. (2011). Edibility of Selected Freshwater Fish from the Rietvlei Dam. WRC Report No. KV 281/11, Water Research Commission of South Africa.
Durand, J.F. (2012). The impact of gold mining on the Witwatersrand on the rivers and karst system of Gauteng and North West Province, South Africa, Journal of African Earth Sciences 68:24–43.
Gao, S,; Orlowski, N.; Bopf, F.K. & Breuer, L. (2024). A review on microplastics in major European rivers. WIREs. 06 January 2024.
Horak, I.; Horn, S. & Pieters, P. (2021). Agrochemicals in freshwater systems and their potential as endocrine disrupting chemicals: A South African context. Environmental Pollution, Jan 1; 268: 115718.
Kretzmann, S.; Mtsweni, N.; Luhanga, P. & Damba, N. (2021). South Africa’s rivers of sewage: More than half of SA’s treatment works are failing. Daily Maverick, 26 April 2021.
Kretzmann, S. (2023). Scientists sound alarm on failing water systems amid deadly cholera outbreak. News 2024, 22 Jun 2023.
Munzhelele, E.P.; Mudzielwana, R.; Ayinde,W.B. & Gitari, W.M. (2024). Pharmaceutical contaminants in wastewater and receiving water bodies of South Africa: a review of sources, pathways, occurrence, effects and geographical distribution. Water 16 (6): 796.
National Biodiversity Assessment (2018). The status of South Africa’s ecosystems and biodiversity.
