Die Endokriene Stelsel

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Die Endokriene Stelsel

May 6, 2024 Fisiologie 0

Die endokriene stelsel bestaan uit endokriene kliere wat hormone in die bloedvatstelsel afskei wat dit na spesifieke teikenorgane toe vervoer om die funksie daarvan te beheer.

Die belangrikste endokriene kliere in mense is die pineale klier, pituïêre klier, skildklier, byskildklier, pankreas, byniere en die testes in mans of ovaria in vrouens.

Die endokriene kliere het nie buisies nie, maar is van bloedvate voorsien wat die hormone wat deur die endokriene kliere afgeskei word, na die teikenorgane vervoer.  Daar is dikwels vakuole of granules in endokriene kliere waarin die hormone gestoor word.  Eksokriene kliere het egter buisies waardeur hul produkte na buite afgeskei word.  Eksokriene kliere sluit sweetkliere, traankliere, speekselkliere, melkkliere en submukosale kliere in die spysverteringstelsel in.

Die hipotalamus-pituïtêre kompleks

Die hipotalamus-pituïtêre kompleks, is die beheersentrum van die endokriene stelsel en beheer die endokriene stelsel / senuweestelsel wisselwerking. Die pituïtêre klier se voorste helfte bestaan uit klierweefsel en die agterste helfte bestaan uit senuwees.  Hierdie kompleks skei verskeie hormone af wat deur die bloedvatstelsel na teikenorgane vervoer word.  Die weefsel binne hierdie organe word geprikkel om sekere funskies uit te voer.  Van die hormone wat die pituïtêre klier afskei, beheer die sintese en afskeiding van hormone in ander kliere wat dan na ander weefsels vervoer word wat daardie weefsels noop om sekere funksies te verrig.

Pineale orgaan

Die pineale orgaan, pineale klier, of epifise, wat tussen die breinhelftes lê, is deur die talamus en hipotalamus aan die pituïtêre klier verbind.

Inligting ten opsigte van dagliglengte en ligintensiteit bereik die pineale orgaan vanaf die retina deur die senuwees van die optiese chiasma.  Die verandering in dagliglengte word so onbewustelik deur die midbrein, waar die pineale orgaan, die pituïterê klier en die limbiese stelsel gesetel is, waargeneem.  Die hormone wat deur die pineale orgaan afgeskei word sluit melatonien in, wat dag/nag of sirkadiese ritmes en slaappatrone beheer.

[Die pineale orgaan word deur die Nederlanders vir een of ander onverklaarbare rede die pynappelklier genoem.  Aelius Galenus (129 – 216 nC), ‘n Griekse dokter het dit konario of keël, soos in dennekeël, genoem.  In die Renaissance was dit formeel na Latyn na pinealis vertaal wat dennekeël beteken.   Pynappels is deur die Spanjaarde ongeveer 500 jaar gelede in Suid-Amerika ontdek.]

 

Hipotalamus

Die hipotalamus, wat deel van die limbiese stelsel is, lê skuins voor en onder die talamus.  Die hipotalamus koppel die senuweestelsel deur die pituïtêre klier (hipofise) aan die endokriene stelsel.  Die hipotalamus het beide senuwee- en endokriene funksies en vervaardig en skei verskillende hormone af.  Talle prikkels wat deur die senuweestelsel waargeneem word, word deur die hipotalamus-pituïtêre kompleks gestuur wat die vervaardiging van hormone inisieër om sodoende ‘n reaksie in sekere organe te bewerkstellig.

Die hormone wat in die hipotalamus vervaardig word:

  • Groeihormoonvervaardigingshormoon beheer groei in die mens.
  • Thiropien-vrystellende hormoon wat die pituïtêre klier stimuleer om die skildklier-stimulerende hormoon te vervaardig sodat dit tiroksien en trijodotironien vervaardig en hormoon prolaktien te vervaardig.
  • Kortikotropienvervaardigingshormoon stimuleer die bynierskors om bynierhormone te vervaardig.
  • Gonadotropien hormoon beheer die funksies van die ovaria en die testes deur om die pituïtêre klier te stimuleer om die follikel-stimulerende en die luteïniserende hormone te vervaardig.
  • Dopamien is ‘n belangrike senuwee-oordragstof en is verantwoordelik vir gedrag wat deur beloning gemotiveer word, maar buite die sentrale senuweestelsel speel dopamien ‘n belangrike rol as bloedvatverslapper en inhibeer norepinefrien-vrystelling in bloedvate en die inhibeer die produksie van prolaktien in die pituïtêre klier.
  • Oksitosien word tydens seksuele aktiwiteit en geboorte afgeskei. Dit speel ‘n rol in melkproduksie en binding tussen ma en baba.
  • Vasopressien is ‘n antidiuretiese hormone wat ‘n rol in die beheer van die osmostiese balans, bloeddruk, natrium homeostase en nierfunksie speel.
  • Somatostatien is ‘n groei-inhiberings hormoon wat ook ‘n rol in die beheer van neurotransmissie en selproliferasie speel en die sekresie van insulien en glukagon inhibeer.

 

Pituïêre klier

Die pituïtêre klier of hipofise, is met behulp van die infundibulum aan die hipotalamus gekoppel.  Hormone word vanaf die hipotalamus na die pituïtêre klier deur die bloedhaarvate van die hipotalamies-hipofiseale portaalstelsel vervoer.  Die ertjie-grootte pituïtêre klier bestaan uit twee lobbe wat elk uit verskillende embrionale weefsel ontstaan – die voorste lob, wat as die adenohipofise bekend staan, bestaan uit klierweefsel wat uit die embrionale spysverteringstelsel ontwikkel, terwyl die agterste lob wat as die neurohipofise bekend staan, vanuit senuweeweefsel ontwikkel.  Die pituïtêre klier beheer deur hormone die funksies van verskeie ander endokriene kliere insluitende die: skildklier, byniere, ovaria en die testes.

Die voorste lob van die pituïtêre klier beheer verskeie fisiologiese prosesse in die liggaam deur die vervaardiging van die volgende hormone:

  • Menslike groeihormoon of somatotropien wat onder die beheer van die groeihormoonvervaardigingshormoon, wat van die hipotalamus ontvang is. Die groehormoon word deur die hormoon somatostatien, wat ook deur die pituïtêr klier van die hipotalamus ontvang is, geïnhibeer.
  • Adrenokortikotropien wat glukokortikoïed-sintese in die byniere beheer.
  • Alfa-endorfien wat melanogenese in die vel vir die pigmentasie van die vel en hare stimuleer, wat ‘n rol in voeding en seksuele aktiwiteit speel en beskerming teen iskemie en reperfusie-besering bied.
  • Beta-endorfien wat pyn in die perifêre senuweestelsel beheer.
  • Melanosiet-stimulerende hormoon word, deur die stimulasie van die kortikotropienvervaardigingshormoon wat die pituïtêre klier van die hipotalamus ontvang het, vervaardig.
  • Skildklier-stimulerende hormoon word in die voorste pituïtêre klier, onder die invloed van die thiropien-vrystellende hormoon van die hipotalamus, vervaardig en word deur somatostatien, wat die pituïtêre klier van die hipotalamus ontvang, geïnhibeer. Hierdie hormoon stimuleer die skildklier om thiroksien en triiodothironien te vervaardig.
  • Luteïeniserende hormoon, wat onder beheer van die gonadotropien hormoon wat van die hipotalamus ontvang is, is verantwoordelik vir eiersel-rypwording en ovulasie in vrouens en die vorming van testosteroon in mans en werk saam met die follikelstimulerende hormoon.
  • Follikelstimulerende hormoon, wat onder beheer van die gonadotropien hormoon wat van die hipotalamus ontvang is, vervaardig word. Hierdie hormoon beheer die ontwikkeling, groei en volwassewording vban die geslagstelsel en beheer die voortplantingsprosesse in die ligaaam.
  • Prolaktien wat verantwoordelik is vir die produksie van melk, word in golwe afgeskei in respons op eet, seks, ovulasie en borsvoeding. Prolaktien speel ‘n belangrike rol in metabolisme, die beheer van die immuunstelsel en die ontwikkeling van die pankreas.  Die produksie van prolaktien word deur die thiropien-vrystellende hormoon en vasopressien van die hipotalamus gestimuleer en word deur dopamien van die hipotalamus geïnhibeer.

Die deel, tussen die voorste en agterste lobbe van die pituïtêre lob, wat die intermediêre lob genoem word, skei die volgende hormone af:

  • Gamma-endorfien hormoon, wat die nier se middelste medulla beheer om so meer natrium in die uriene uit te skei.
  • Melanosiet-stimulerende hormoon wat, deur die stimulasie van die kortikotropienvervaardigingshormoon van die hipotalamus, vervaardig word.

Die agterste lob van die pituïtêre klier vervaardig nie hormone nie, maar stoor die volgende hormone wat van die hipotalamus ontvang is:

  • Vasopressien wat ‘n antidiuretiese hormoon is wat ‘n rol in die beheer van die osmostiese balans, bloeddruk, natrium homeostase en nierfunksie speel.
  • Oksitosien word tydens seksuele aktiwiteit en geboorte afgeskei. Dit speel ‘n rol in melkproduksie en binding tussen ma en baba.

 

Skildklier

Die hoofdoel van die skildklier is die vervaardiging van die jodium-bevattende skildklierhormone tri-iodothironien en thiroksien en die peptied hormoon kalsitonien.

Die skildklierhormone beheer talle funksies in die liggaam, onder meer die:

  • Metabolisme van die liggaam – die skildklierhormone verhoog die metaboliese vlakke, energievlakke en liggaamstemperatuur. Dit beïnvloed amper alle weefsels in die liggaam, beheer aptyt en verhoog die absorbsie van kos en water in die dermkanaal en verhoog die afbraak van glukose en vette en die vrystelling van vetsure, terwyl dit cholestrolvlakke verlaag.
  • Karidovaskulêr – die skildklierhormone verhoog die krag en tempo van hartklop, verhoog die tempo van asemhaling en die opneem van suurstof en die mitochondriese aktiwiteit en verhoog dus bloedvloei en liggaamstemperatuur.
  • Ontwikkeling – die skildklierhormone is noodsaaklik vir normale ontwikkeling. Dit verhoog die groeitempo van kinders, breingroei en ontwikkeling.
  • Skildklierhormone speel ‘n baie belangrike rol in die instandhouding van seksuele funksie – insluitende libido en die menstruele siklus, slaap en denkpatrone.

Die paratiroïedkliere is vier aparte klein kliertjies wat op die skildklier voorkom wat die kalsiumvlakke in die bloed beheer deur middel van die vervaardiging van die paratiroïedhormoon.

 

Timusklier (sweserik)

Onvolwasse limfosiete wat in die beenmurg gevorm word, beweeg na die timusklier waar dit in funksionele T-limfosiete omskep word om deel van die immuunstelsel te vorm.  Die timusklier is reeds aktief in die ongebore baba en is mees aktief in kindertjies.  Dit is tussen die borsbeen en die lugpyp, voor die hart geleë.  Die timusklier is aanvanklik ‘n redelike groot tweelobbige struktuur, maar word al hoe kleiner soos wat ‘n mens ouer word en al die T-selle wat mens benodig, gevorm is.  Mettertyd word die ruimte waar die timusklier was, in volwassenes, deur vetweefsel vervang.

Die timus speel ‘n belangrike rol in die vorming van die immunologiese geheue deur die vervaardiging van geheueselle wat in die bloedstroom aanbly om direk, wanneer dit in kontak met ‘n antigeen kom, met die vervaardiging van witbloedselle te begin.

Die timus vorm, soos die mangels, ook deel van die limfatiese stelsel.  Die volwasse T-selle beweeg vanaf die timus na die limfkliere wat deur mens se liggaam versprei is om die immuunstelsel te help om siektes en ontstekings te beveg.

Die timus is egter ook deel van die endokriene stelsel wat hormone vervaardig:

  • Timopoïetien wat die vorming van T-selle beheer en die pituïtêre klier prikkel om hormone vry te stel.
  • Timosien en timulien wat in vir die vervaardiging van spesiale tipes T-selle verantwoordelik is.

 

Pankreas

Die pankreas, wat in die buikholte agter die maag voorkom, is 1% ‘n endokriene en 99% ‘n eksokriene klier en vorm deel van beide die endokriene en spysverteringstelsels.

Die hoofdoel van die endokriene aspek van die pankreas is om die bloedsuikervlakke in die liggaam te beheer.  Die endokriene selle van die pankreas kom in klein groepies, die Eilandjies van Langerhans, voor wat regdeur die pankreasweefsel versprei is.  Elke Eilandjie van Langerhans bestaan uit ongeveer 3000 selle en is met bloedhaarvaatjies voorsien wat dit aan die bloedvatstelsel koppel.  Daar is drie verskillende tipes selle in die Eilandjies van Langerhans:

  • Die buitenste selle, of alfaselle, van die Eilandjie van Langerhans vervaardig glukagoon.
  • Die grootste deel van die Eilandjie van Langerhans bestaan uit betaselle wat insulien vervaardig.
  • Deltaselle wat somatostatien afskei, inhibeer die afskeiding van glukagoon en insulien.

Die eksokriene deel van die pankreas speel ‘n rol in die spysverteringstelsel en skei pankreassap in die deodenum af waar dit die maagsappe neutraliseer en koolhidrate, proteïene en vette afbreek.

Die pankreas skei ook vasoaktiewe intestinale polipeptiede af en die enterochromaffiene selle van die pankreas skei die hormone motilien, serotonien en ‘n neuropeptied (substans P) af.

 

Byniere

Die byniere, wat bo die niere voorkom, is verantwoordelik vir die liggaam se paniekrespons, bloeddrukbeheer en metabolisme.  Die bynier het ‘n buitenste korteks en ‘n binneste medulla.

Die buitenste korteks wat steroïedhormone vervaardig, word in drie lae opgedeel:

  • Die glomerulosa-sone wat mineraalkortikoïede soos aldosteroon vervaardig wat vir die beheer van bloeddruk en elektrolietbalans verantwoordelik is.
  • Fasciculata-sone wat glukokortikoïede soos kortisol en kortisoon vervaardig wat metabolisme en die onderdrukking van die immuunstelsel beheer.
  • Reticularis-sone wat androgene vervaardig wat in geslagshormone in die gonades en ander organe omskep word.

Die medulla vervaardig die katekolamienes wat belangrike neurotransmitters is wat vir ‘n verskeidenheid funksies in die sentrale senuweestelsel verantwoordelik is; onder andere motoriese kontrole, begrip, emosie, geheueprosessering en endokrienmodulasie.  Die katekolamienes sluit adrenalien, noradrenalien en dopamien in.  Adrenalien is verantwoordelik om tydens stresvolle omstandighede, ‘n vinnige respons regdeur die liggaam te ontketen.

 

Testes

Die testes vervaardig sperms onder beheer van die follikelstimulerende hormoon van die pituïtêre klier en testosteroon wat deur die testes vervaardig word.  Die testes vervaardig ook hormone wat vir puberteit verantwoordelik is en wat vir voortplanting benodig word soos:

  • Androgeen hormone – hoofsaaklik testosteroon, word in die testes onder beheer van die luteïeniserende hormoon van die pituïtêre klier gevorm.
  • Anti-Müller hormoon wat die verdere ontwikkeling van die vroulike voortplantingstelsel in manlike embrios onderdruk sodat die fallopiese buise, die uterus en die agterste deel van die vagina nie ontwikkel nie terwyl die embrionale vagina waarmee alle embrios toegerus word, in manlike embrios toegroei.   Die anti-Müller hormoon reguleer geslagshormone en is betrokke by die aanvang van puberteit.
  • Estradiool word in klein hoeveelhede in die testes gevorm waar dit apoptose (seldood) van spermselle voorkom.
  • Inhibien B inhibeer die hormoon aktivien wat vir die vervaardiging van die follikelstimulerende hormoon verantwoordelik is.

 

Ovaria

Die ovaria vervaardig eierselle en stel hulle vry en vervaardig hormone wat vir puberteit verantwoordelik is en vir voortplanting benodig word.  Die hormone wat die ovaria vervaardig is:

  • Estrogeen steroïed hormone, soos estradiool, is verantwoordelik vir al die sekondêre geslagskenmerke wat tydens puberteit ontwikkel, vir die ontwikkeling en werking van die voortplantingsorgane en die ovulasie-siklus.  Dit speel ook ‘n belangrike rol in die onderhoud en werking van been, vet, vel, lewer en die brein.
  • Progesteroon berei die uterus voor vir swangerskap en die melkkliere vir melkvervaardiging.  Progresteroon en estrogeen is verantwoordelik vir die verandering in die endometrium tydens die maandelikse ovulasie-siklus.
  • Androgeen (insluitende testosteroon).  In volwasse vrouens word helfte van die testosteroon deur die ovaria vervaardig terwyl die ander helfte in ander dele van die liggaam vanuit die byniere se pre-androgene voorlopers (dehidroëpiandrosteroon en androstenedioon) gevorm word.
  • Anti-Müller hormoon word reeds in 36 week oue mensemrbios aangetref waar dit betrokke is in die ontwikkeling van die follkels.  Dit is betrokke by die ontwikkeling van die vroulike geslagsorgane en geslag-spesifieke gedrag.
  • Inhibien A en inhibien B inhibeer die pituïtêr-vervaardigde hormoon aktivien wat vir die vervaardiging van die follikelstimulerende hormoon verantwoordelik is.

Kliere wat in ‘n sekere orde hormone na mekaar stuur word ‘n spil genoem – soos die hipotalamiese-pituïtêre-bynier spil.

Die endokriene kliere wat hierbo bespreek word is bloot die belangrikste kliere wat die endokriene stelsel opmaak.  Talle sekondêre endokriene funksies word egter ook deur ander organe soos die niere, lewer en hart en weefsel soos beenweefsel in die liggaam uitgevoer.

error: Content is protected !!