Die effek van gifstowwe op die menslike liggaam

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Die effek van gifstowwe op die menslike liggaam

April 29, 2024 Fisiologie 0

Mense word aan insekgiwwe, onkruiddoders en swamgif by hul huise, werk, skole, winkels, vervoermiddels en selfs in die baarmoeder blootgestel.  Amper almal op Aarde, buiten mense wat in die wildernis in die verste uithoeke van die Aarde leef, word bykans daagliks aan gifstowwe blootgestel.  Blootstelling vind plaas deur die inname van gif saam met kos en drinkgoed, deur inaseming en deur die vel.  Tot 50 verskillende gifstowwe is in die bloed van Amerikaners ontdek (Gilden et al., 2010).

Waarteenoor akute (blootstelling aan ‘n groot hoeveelheid oor ‘n kort tydperk) blootstelling aan insekgif dodelik vir ‘n mens kan wees, is chroniese (konstante blootstelling aan klein hoeveelhede oor ‘n lang tydperk) blootstelling aan lae dosisse insekgif net so gevaarlik en kan tot erge siektes en afwykings, veral in die fetus en in kinders, lei.

Choniese blootstelling aan insekgif lei tot miskrame, geboortedefekte, insluitende senuweestelsel-afwykings, kanker en neurologiese probleme soos Parkinsons.  Die effek van die gifstowwe word bepaal deur die tipe gif, die tydperk van blootstelling en die roete waardeur dit die liggaam binnegedring het – deur die mond, vel of deur inaseming.

Die Stockholm Konvensie op Persisterende Organiese Besoedelstowwe (2001) het bepaal dat 9 uit die 12 ergste en gevaarlikste persisterende chemikalieë in die omgewing gifstowwe (insekgif, swamgif en onkruiddoders) is en was deur talle lande intussen verban (Bouwman, 2005).  Die feit dat hierdie chemikalieë leeftye van dekades en selfs eeue het, beteken dat dit nie weggaan nie en dat die natuur, en dus ook die mens, vir daardie tydperk, steeds daaraan blootgestel sal wees, al word daar nie nog daarvan in meeste lande vervaardig nie.

Die gifstowwe waaraan mense meeste blootgestel word

Organofosfate en Karbamate

Hierdie gifstowwe werk soos senugas – hulle val die brein en senuweestelsel aan en belemmer die oordrag van seine deur die senuweestelsel.  Simptome sluit in: hoofpyn, duiseligheid, naarheid, braking, borspyn, maagwerkings, spierpyn en verwarring in.  In erge gevalle sal dit tot stuiptrekkings, asemnood, verlies van blaasbeheer, koma en dood lei.  Kanker en neurologiese skade word veral met die blootstelling aan organofosfate verbind (Alavanja et al., 2004; Kamel & Hoppin, 2004). Jaarliks doen honderde duisende mense wêreldwyd senuweeskade weens blootstelling aan gifstowwe op.

Pirethroïede

Hierdie insekdoders veroorsaak veral skade aan die menslike senuweestelsel en is veral gevaarlik vir ongebore babas.  Simptome van pirethroïedvergiftiging sluit in: bewerasies, rukkings, kwyl, hoofpyn, moegheid, braking en irritasie en jeuk van die vel.  Langtermyn skade sluit, hartprobleme en voortplantingsdisfunksies in.

Organochlorines

Hierdie insekdoders, waarvan DDT (dichlorodifenieltrikloroetaan) die bekendste is, is in meeste lande verban omdat dit ‘n Persisterende Organiese Besoedelstof is.  In Derde Wêreldlande soos Suid-Afrika word dit egter steeds gebruik om malaria te beveg.  Mense word aan die huidige toedienings en dit wat in die verlede gebruik is en wat in die water, grond en organismes opgebou het, blootgestel.  Organochlorines is sterk endokrienversteurders.

Glifosaat is ‘n onkruiddoder wat wyd is Suid-Afrika op geneties-gemodifiseerde gewasse gebruik word.  Hierdie gifstof beland in grondwater, afvoer van landerye, riviere en damme, dit kom in die lug voor wanneer besproeiing plaasvind.  Spore van hierdie gifstof word in urine en borsmelk van mense opgespoor.  Van die siektes wat blootstelling aan glifosaat veroorsaak is limfoom, kanker – veral long-, bors- en kolonkanker, en miskrame in mense veroorsaak (Vazquez et al., 2017; Zhang et al., 2019).

Grondgifgasse

Hierdie gifstowwe wat in gasvorm in die grond toegedien word, word vir die beheer van bakterieë, rondewurms, swamme, insekte en plante aangewend.  Omdat dit in gasvorm toegedien word, ontsnap dit uit die grond in die lug in en word deur mense ingeasem.  Simptome van blootstelling aan grondgifgas sluit in: vel-, oog- en longirritasie, kanker, vroeë geboortes en voortplantingsdisfunksies.

Roete van blootstelling

Meeste kos wat jy eet, veral groente en vrugte bevat gifstowwe, selfs nadat jy dit gewas en afgeskil het, bevat nog spore van gifstowwe.  Die Verenigde Volke het riglyne daar gestel vir die maksimum residuvlakke (maximum residue limits MRL) van gifstowwe op kos (Verenigde Nasies, 1979).  Ongelukkig was slegs die maksimum vlakke van enkele gifstowwe bepaal en daar is nog min van die gesamentelike effek van verskeie gifstowwe waaraan ‘n persoon tergelykertyd blootgestel word, bekend (Olgun et al., 2004).

Die U.S. Environmental Protection Agency (EPA) bepaal in die VSA die vlakke van gifstofresidue op kos wat aanvaarbaar vir menslike gebruik is.  Die EPA kyk na die volgende faktore: die toksisiteit van die gifstof, die hoeveelheid en gereeldheid van gifstowwe wat toegedien word en die hoeveelheid van gifstowwe wat op die kos oorbly teen die tyd wat dit op die mark verkoop word (U.S. Environmental Protection Agency, 2007).

Meganisme van gifstowwe

Verskillende meganismes word deur verskillende gifstowwe gebruik om organismes te dood.  Van die mees algemene gifstowwe wat gebruik word is organochlorines (OCPs) (wat van die mees gevaarlike Persisterende Organiese Besoedelstowwe (POBs) insluit), organofosfate, karbamate, piretroïede en triazienes.

Alle gifstowwe het ‘n negatiewe impak op menslike gesondheid, maar die POBs se impak is die ergste aangesien dit maklik in vet opgeneem word en so oor ‘n lang tydperk in mens se liggaam kan opbou.

Sekere POBs se molekulêre struktuur is soortgelyk aan estrogeen en verbind dus aan estrogeen reseptors in die liggaam (Kim et al., 2017).  Hierdie gifstowwe versteur die hormonale homeostasis van die liggaam en veroorsaak hormoondisregulasie wat tot abnomale groei en ontwikkeling van weefsel in die voortplantingstelsel lei, die ontwikkeling van die geslagstelsel van die fetus kan belemmer, kanker veroorsaak en onvrugbaarheid kan veroorsaak (Yilmaz et al., 2020).

Alhoewel sekere van hierdie POB’s soos DDT in meeste lande verban is, word dit steeds in China vervaardig, en word dit in Derde Wêreldlande soos Suid-Afrika gebruik om malaria en Denguekoors te bestry (Kim et al., 2017). DDT bou, soos ander POB’s, in die grond en water op en beland so in kos en water sonder dat mense daarvan bewus is (Kalyabina et al., 2021).  Ten spyte daarvan dat DDT reeds in 1972 in die VSA verban is, toon meeste mense wat in die VSA getoets word, nog steeds vlakke van DDT in hul weefsel.  Dit is waarskynlik nog veel hoër in Suid-Afrika waar DDT selfs in moedersmelk in sekere dele van die land gevind word (Bouwman et al., 1990).

Gifstowwe het ook ‘n negatiewe impak om menslike gesondheid deurdat dit die selreseptors en ioonkanale van die sel impakteer en sodoende die chemiese reaksies en die werking van die DNS versteur wat geenuitdrukking en sellulêre funksies belemmer, gifstowwe versteur die werking van histone en rig skade aan selorganelle (Mostafalou & Abdollahi, 2013; Kalyabina et al., 2021).

Akute blootstelling

Mense wat aan ‘n wolk gifstof blootgestel word as die wind skielik draai, mense wat aan gif blootgestel word as hulle nie die regte beskermingsdrag gebruik wanneer hulle gifstof hanteer nie, of as gif nie versigtig toegedien word nie, of as gifstofhouers onverantwoordelik weggegooi word, kan akute blootstelling aan gifstof ondervind.

Simptome soos abdominale pyn, duiseligheid, hoofpyn, braking, maagwerkings, vel- en oogirritasies, die verlies van bewussyn en dood is simptome van akute blootstelling aan gifstowwe.  Mense wat aan asma ly, kan geweldige sterk reaksies toon as hulle aan pirethriene, pirethroïede, organofosfate of karbamate blootgestel word.  Akute blootstelling aan gifstowwe kan tot permanente neurologiese skade lei (Kalyabina et al., 2021).  Ongelukkig kan gifstofblootstelling griepagtige simptome veroorsaak, of met ander siektes verwar word, wat tot misdiagnoses kan lei.

Chroniese blootstelling

Chroniese blootstelling aan gifstowwe veroorsaak kankers en tumors, brein en senuweeskade, skade aan die lewer, niere, longe en ander organe, geboortedefekte, onvrugbaarheid en ander voortplantingstelselprobleme.  Die gevolge van chroniese blootstelling aan gifstowwe mag eers weke, tot jare na blootstelling tevoorskyn kom.

Kanker

Talle studies het die verband tussen chroniese blootstelling aan gifstowwe en kanker bepaal.  Dit sluit leukemia, limfoma, brein-, nier-, bors-, prostaat-, long-, pankreas-, lewer-, maag-, slukderm- en velkanker in (Kalyabina et al., 2021).  Die risiko van chroniese blootstelling is natuurlik hoër in mense wat met gifstowwe op plase en in fabrieke werk (McCauley et al., 2006).  Longkanker word dikwels in plaaswerkers wat gifstowwe toedien gevind terwyl die blootstelling aan karbamate met glioma en meningioma verbind word, die blootstelling aan glyfosaat met limfoma verbind word en die blootstelling aan alachlor aan larinkskanker verbind word (Curl et al., 2020).

Swanger vrouens en vrouens wat borsvoed se blootstelling aan gifstowwe kan ‘n negatiewe effek op hul ongebore baba of borsvoedende baba he, wat leukemia, limfoom, tumors en breinkanker kan ontwikkel (Bassil et al., 2007; Van Maele-Fabry et al., 2010).

Neurotoksisiteit

Daar is oorweldigende bewyse dat gifstowwe ‘n geweldige nadelige effek op die menslike senuweestelsel het (Balachandar et al., 2022).  Neurodegenerasie en siektes soos Parkinsons en Alzheimers word met chroniese blootstelling aan gifstowwe verbind (Sanborn et al., 2007; Mostafalou & Abdollahi, 2013; Rani et al., 2021).  Van die siektes wat met die blootstelling aan organofosfate veral onder plaaswerkers verbind word sluit ADHD, depressie, angstigheid, duiseligheid, hoofpyne en reukverlies in (Curl et al., 2020).

Swanger vrouens se blootstelling aan gifstowwe is veral gevaarlik vir hul ongebore babas wat neurologiese skade daarvan kan opdoen.  Die swanger vrou se blootstelling aan organofosfate is veral gevaarlik vir die neurologiese ontwikkeling van ongebore babas (Sanborn et al., 2007; Fucic et al., 2021; Rani et al., 2021).

Voortplantingsdisfunksies

Blootstelling aan gifstowwe teiken die geslagstelsel en veroorsaak kankers in die prostaat, testes en ovaria en veroorsaak miskrame, spontane aborsies en steriliteit.

Talle gifstowwe tree as endokrienversteurders op en belemmer die produksie, afskeiding en opname van hormone (Zlatnik, 2016).  Sekere gifstowwe mimiek menslike hormone, soos estrogeen, met verwoestende gevolge.  Meer as ‘n honderd gifstowwe was reeds in 2013 as endokrienversteurders geïdentifiseer.  Langdurige blootstelling aan hierdie gifstowwe word verbind met steriliteit (veral in mans), ‘n afname in spermproduksie, en -funksie, genetiese veranderings in die sperms, skade aan die spermvormende epiteel in die testes en hormoondisfunksie.  Insekgif met triaziene, organochlorine en karbamate het veral ‘n negatiewe impak op manlike fertiliteit, testesgrootte, spermproduksie en androgeen hormoonproduksie (Mostafalou & Abdollahi, 2013).  Gifstowwe met dibromochlorofaan en 2,4-D word met steriliteit in mans verbind (Sheiner et al., 2003).  Vrouens se voortplantingsfunksies word ook aangetas weens die langdurige blootstelling aan gifstowwe.  Van die simptome sluit in ‘n afname in vrugbaarheid, ‘n toename in miskrame en versteurings in geslagsontwikkeling van babas (Yao et al., 2023).

Dit is egter in die ontwikkeling van babas wat die grootste impak weens die swanger ma se blootstelling aan gifstowwe gesien kan word (Zlatnik, 2016).  Van die ergste gevolge van gifstofblootstelling sluit in fisiese en neurologiese gestremdheid, onderontwikkeling, miskrame en belemmering van die groei van die ongebore baba en sterftes onder ongebore babas (Sanborn et al., 2007; Mostafalou & Abdollahi, 2013; Rani et al., 2021).

Daar is bewyse dat langdurige blootstelling aan gifstowwe tot longkwale en lugwegprobleme kan lei (Doust et al., 2014; Curl et al., 2020), dit sluit in hygende bors, hoes, kortasem, loopneus, keelontsteking, krapperige keel en asemnood (Ye et al., 2013).

Daar is al hoe meer bewyse dat selfs diabetes 2 deur die chroniese blootstelling aan gifstowwe en hul metaboliete veroorsaak kan word (Yilmaz et al., 2020).

Kinders is veral vatbaar vir blootstelling aan gifstowwe omdat hulle organe, senuweestelsel en immuunstelsel nog besig is om te ontwikkel.  Kinders is ook minder in staat om gifstowwe the metaboliseer en uit te skei.  Kinders kan permanente skade opdoen weens blootstelling aan gifstowwe.  Kinders is kleiner as volwassenes en dus is die verhouding van hul veloppervlakte teenoor hul liggaamsvolume groter as dié van volwassenes, en dus vir hul grootte kan hulle meer gif absorbeer as volwassenes.  Kinders se asemhaling is vinniger as dié van volwassenes wat hulle ook meer kwesbaar vir die inaseming van gif maak.  Kinders eet meer kos per liggaamsvolume as volwassenes wat hulle veral kwesbaar vir gifstowwe in besmette water en kos.  Gedragsgewys word die kinders ook meer blootgestel aan gif op grasperke, vloere en speelgronde.

Verwysings

Alavanja, M.C.; Hoppin, J.A. & Kamel, F. (2004). Health effects of chronic pesticide exposure: cancer and neurotoxicity. Annual Review of Public Health. 25: 155–197.

Balachandar, V.; Mamatha, C.; Sabari, S.S.: Gopalakrishnan, A.V.; Narayanasamy, A.: Venkatesan, D.: Iyer, M.; Kesari, K. & Dey, A. (2022). Neurotoxicity of pesticides – A link to neurodegeneration.  Ecotoxicology and Environmental Safety 2022 Sep 15:243:113972.

Bassil, K.L.; Vakil, C.; Sanborn, M.; Cole, D.C.; Kaur, J.S. & Kerr, K.J. (2007). Cancer health effects of pesticides: systematic review. Canadian Family Physician, 53 (10): 1704–1711.

Bouwman, H. (2005). Die Stockholm Konvensie: Wisselwerking tussen wetenskap en beleid. Journal for Transdisciplinary Research in Southern Africa, 1 (1): 1-36.

Bouwman, H.; Cooppan, R.M.; Reinecke, A.J. & Becker, P.J. (1990). Levels of DDT and metabolites in breast milk from Kwa-Zulu mothers after DDT application for malaria control. Bulletin of the World Health Organization, 68 (6): 761-768.

Curl, C.L.; Spivak, M.; Phinney, R. & Montrose, L. (2020). Synthetic Pesticides and Health in Vulnerable Populations: Agricultural Workers. Current Environmental Health Reports, 7 (1): 13–29.

Doust, E.; Ayres, J.G.; Devereux, G.; Dick, F.; Crawford, J.O.; Cowie, H. & Dixon, K.  2014. Is pesticide exposure a cause of obstructive airways disease?. European Respiratory Review. 23 (132): 180–192.

Fucic, A.; Duca, R.C.; Galea, K.S.; Maric, T.; Garcia, K.; Bloom MS, et al. (2021). Reproductive Health Risks Associated with Occupational and Environmental Exposure to Pesticides. International Journal of Environmental Research and Public Health. 18 (12): 6576.

Gilden, R.C.; Huffling, K. & Sattler, B. (2010). Pesticides and health risks. Journal of Obstetric, Gynecologic, and Neonatal Nursing (Review). 39 (1): 103–110.

Kalyabina, V.P.; Esimbekova, E.N.; Kopylova, K.V. & Kratasyuk, V.A. (2021). Pesticides: formulants, distribution pathways and effects on human health – a review. Toxicology Reports, 8: 1179–1192.

Kamel, F. & Hoppin, J.A. (2004). Association of pesticide exposure with neurologic dysfunction and disease. Environmental Health Perspectives. 112 (9): 950–958.

Kim, K.H.; Kabir, E. & Jahan, S.A. (2017). Exposure to pesticides and the associated human health effects. The Science of the Total Environment, 575: 525–535.

McCauley, L.A.; Anger, W.K.; Keifer, M.; Langley, R.; Robson, M.G. & Rohlman, D. (2006). Studying health outcomes in farmworker populations exposed to pesticides. Environmental Health Perspectives, 114 (6): 953–960.

Medardo Avila Vazquez, M.A; Maturano, E.; Etchegoyen, A.; Difilippo, F.S. & Maclean, B. (2017). Association between Cancer and Environmental Exposure to Glyphosate. International Journal of Clinical Medicine, 8 (2): 73-85.

Mostafalou, S. & Abdollahi, M. (2013). Pesticides and human chronic diseases: evidences, mechanisms, and perspectives. Toxicology and Applied Pharmacology, 268 (2): 157–177.

Olgun, S.; Gogal, Jr. R.M.; Adeshina, F.; Choudhury, H. & Misra, H.P. (2004). Pesticide mixtures potentiate the toxicity in murine thymocytes. Toxicology, 196 (3): 181–195.

Rani, L.; Thapa, K.; Kanojia, N.; Sharma, N.; Singh, S.; Grewal, A.S., et al. (2021). An extensive review on the consequences of chemical pesticides on human health and environment. Journal of Cleaner Production. 283: 124657.

Sanborn, M.; Kerr, K.J.; Sanin, L.H.; Cole, D.C.; Bassil, K.L. & Vakil, C. (2007). Non-cancer health effects of pesticides: systematic review and implications for family doctors. Canadian Family Physician. 53 (10): 1712–1720.

Sheiner, E.K.; Sheiner, E.; Hammel, R.D.; Potashnik, G. & Carel, R. (2003). Effect of occupational exposures on male fertility: literature review. Industrial Health, 41 (2): 55–62.

Van Maele-Fabry, G.; Lantin, A.C.; Hoet, P. & Lison, D. (2010). Childhood leukaemia and parental occupational exposure to pesticides: a systematic review and meta-analysis. Cancer Causes & Control, 21 (6): 787–809.

Verenigde Nasies (1985). Codex Alimentarius Commission Code of Ethics for International Trade in Food.  Archived 2012-02-29 at the Wayback Machine. CAC/RCP 20-1979 (Rev. 1-1985).

U.S. Environmental Protection Agency (2007). Setting tolerances for pesticide residues in foods. epa.gov.

Yao, X.; Liu, W., Xie, Y.; Xi, M. & Xiao, L. (2023). Fertility loss: negative effects of environmental toxicants on oogenesis. Front Physiol. 2023; 14: 1219045.

Ye, M.; Beach, J.; Martin, J.W. & Van Senthilsel, A, (2013). Occupational pesticide exposures and respiratory health. International Journal of Environmental Research and Public Health, 10 (12): 6442–6471.

Yilmaz, B.; Terekeci, H.; Sandal, S. & Kelestimur, F. (2020). Endocrine disrupting chemicals: exposure, effects on human health, mechanism of action, models for testing and strategies for prevention. Reviews in Endocrine & Metabolic Disorders, 21 (1): 127–147.

Zhang, L.;  Rana, I.; Shaffer, R.M.; Taioli, E. & Sheppard, L. (2019). Exposure to glyphosate-based herbicides and risk for non-Hodgkin lymphoma: A meta-analysis and supporting evidence. Mutat Res Rev Mutat Res. 781:186-206.

Zlatnik, M.G. (2016). Endocrine-Disrupting Chemicals and Reproductive Health. Journal of Midwifery & Women’s Health, 61 (4): 442–455.

error: Content is protected !!