Die Plastiekvrye Huis

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Die Plastiekvrye Huis

April 21, 2024 Fisiologie 0

Ons leef letterlik binne-in ‘n toksiese landskap van plastiek wat ons geskep het.  Plastiek het ons lewens so oorgeneem dat babas reeds met plastiek binne hul lyfies gebore word.  Die gesondheidsprobleme – kongnitewe ontwikkeling van kinders, neurologiese probleme, vrugbaarheid, kanker en chroniese kwale teister ons al hoe meer en meer – en dit is grotendeels te wyte aan die plastiek rondom ons waarmee ons onsself en ons kinders vergiftig.

Dit gaan onmoontlik wees om plastiek summier te verwyder, want die see en vullishope is reeds vol daarvan, mikroplastiek en chemikaleë van die plastiek syfer in die grondwater in en beland in ons riviere en drinkwater.  Dit kom terug na ons deur kos wat met hierdie besmette water in kontak was en in kosverpakking en selfs deur die pype waardeur ons water na huise vervoer word.

Mens kan en moet eger iewers begin om hierdie geweldige probleem aan te pak.  Hieronder is ‘n klomp voorstelle van hoe mens stap vir stap jou en jou kinders se blootstelling aan plastiek kan verminder.

Kos en drinkgoed

Hierdie is die eerste en belangrikste stap wat mens moet neem – die grootste hoeveelheid toksiese chemikalieë wat mens van plastiek inkry kom deur jou mond, alhoewel sommige chemikalieë ingeasem word en deur mens se vel opgeneem word.

Ongelukkig word jou huis se water deur plastiekpype van poliëtileen (PE) of polivinielchloried (PVC) na jou vervoer en vanaf die munisipale aansluiting word die water gewoonlik deur ‘n plastiekpyp na jou huis vervoer en verder deur plastiekpype deur jou huis versprei.  Jy kan niks aan die plastiekpype van die munisipaliteit doen nie, maar jy kan al die waterpype op jou erf met koperpype vervang.

Ongelukkig is die kwaliteit van munisipale water in dele van die land baie swak en bevat in sommige gevalle fekale bakterieë.  Deur om die water te kook kan mens van die bakterieë ontslae raak en ander onsuiwerhede kan deur middel van ‘n keramiekfilter of ‘n tru-osmose waterfiltreringstelsel uitfiltreer.

Ongelukkig is sekere dele van hierdie filters van plastiek, soos die keramiekfilter se kraantjie.  Die water word egter baie minder aan plastiek blootgestel as die water in die plastiekhouer wat mens in die winkel koop.

Om van die plastiek in jou water ontslae te raak moet jy eerder jou plastiektenk, wat van poliëtileen gemaak is, met ‘n sinktenk (soos wat vir meer as ‘n eeu op plase gebruik is), vervang om reënwater op te vang.

Moenie meer water in plastiekbottels koop nie!  Dit is een van die mees algemene maniere hoe mense plastiek en chemikalieë in plastiek in hul liggame opneem (Qian et al., 2024).  Vervang jou plastiekwaterbottel met ‘n vlekvrye staal waterbottel vir jou drinkwater deur die dag.  Ek gebruik ‘n ou tamatiesousbottel.  Kampeerwinkels verkoop dikwels vlekvrye staal of aluminium waterbottels.  Daar is net een probleem – die proppe van die metaalhouers is dikwels van plastiek.  Kurk of metaal sou beter wees.

Koop los teeblare eerder as tee in teesakkies.  Niemand van die teemaatskappye het ons toestemming gevra of ons in kennis gestel van hul besluit om hulle papiersakkies met nylon en poliëtileen tereftalaat sakkies te vervang nie.  Wanneer mens deesdae ‘n teesakkie in warm water sit, word miljarde mikro- en nanoplastiekdeeltjies vrygestel wat jy saam met jou tee drink (Hernandez et al., 2019).  Koop tee wat losverpak is en gebruik ‘n teesiffie.

Die plastiek wat vir die verpakking van kos gebruik word is ‘n groot bron van ftalate wat die mens se liggaam binnedring en vir geweldige groot gesondheidsprobleme verantwoordelik is (Giuliani et al., 2020).

Koop jou groente en vrugte by die groentewinkel, en kies die items wat nie in kleefplastiek of plastieksakkies verkoop word nie.  Kap jou eie groente op eerder as om klaar opgekapte groente in ‘n plastieksak te koop.

Dieselfde beginsel geld vir vleis – koop jou vleis by ‘n slagter en neem jou eie glas-, keramiek- of vlekvrye staalhouers saam sodat hy dit nie in plastieksakkies hoef te sit nie.

Brood word selfs vandag deur sommige bakkerye in papersakke verkoop – ondersteun daardie bakkerye.

Vermy kaas wat klaar opgesny en in kleefplastiek verkoop word – koop heel kase wat met was bedek is.

Daar nou is daar iets wat totaal ontstellend is wat ek met julle moet deel – kaasmakers verf sogenaamde “food-grade” PVA gom oor die rypwordende kase om swamme af te weer en om die vog in te hou.  Die chemikalieë van hierdie PVA trek dus in die kaas in, nog voor die winkel die kaaswiele in skywe opsny en in plastieksakkies sit of dit met kleefplastiek oortrek.  Wanneer jy die waslagie van die kaas afstroop sal jy ‘n laag rubberige plastiek tussen die kaas en die was vind.

Yoghurt is ook ‘n probleem want dit word altyd en oral in plastiekhouers verkoop.  Daar is egter ‘n maklike oplossing en een wat NIE pimaricin (‘n anti-swammiddel maar wat sekere mense erge allergiese aanvalle kan gee) gebruik nie.  MAAK JOU EIE JOGHURT!  Ek is van plan om binnekort ‘n resep vir tuisgemaakte yohurt op DOEN DIT SELF te plaas.

Gebruik eerder botter wat in waspapier toegedraai is as botter of margarien wat in plastiekbakkies verkoop word.

Sekere melkerye verkoop melk uit vlekvrye staaltenks waaruit hulle vir mens melk in jou eie houer giet.  Kry glasbottels en gaan koop jou melk daar eerder as om melk uit poliëtileen plastiekbottels te gebruik.

Bere jou kos in glas, keramiek en vlekvrye staal houers in die yskas en vrieskas.  Deesdae kry mens reghoekige en vierkantige glasbakke met houtdeksels, waarin mens kos kan vries, in die yskas bêre en waarin mens dit in die mikrogolf kan verhit.  Die rand van die houtdeksels het ‘n silikonseël maar silikon is nie so erg soos die gewone plastiekhouers wat mens algemeen gebruik nie.  En tweedens kom kos nie eintlik in aanraking met hierdie silikonseëls nie.

Hou ‘n mandjie met emaljebekers en vlekvrye staal messegoed in die kar sodat jy nie plastiekbekers of messegoed hoef te gebruik wanneer jy na ‘n buitelug-geleendheid gaan nie.  Moenie plastiekstrootjies gebruik nie.  As jy strootjies wil gebruik, vra vir die restourant vir papierstooitjies.

Gebruik waspapier om toebroodjies in toe te draai eerder as plastieksakkies.  Kry vlekvrye staal kosblikke (waar dink jy kom die naam vandaan?) by ‘n kampeerwinkel vir jou kinders.

Vermy sappe, melk en wyn in bokse en koeldrank in kannetjies en kos uit blikkies – al daardie bokse, kannetjies en blikkies is met ‘n plastiekbedekking aan die binnekant uitgevoer.  Koop drinkgoed in glasbottels, of koop vrugtesappe by dieselfde melkery wat melk uit groot vlekvrye staaltenks verkoop – hulle het dikwels soortgelyke tenks met vrugtesap.

Vervang jou teflon-bedekte pan met een van vlekvrye staal of gegote yster.  Teflon-bedekte panne stel groot hoeveelhede mikro- en nanoplastiekdeeltjies in jou kos vry (Luo et al., 2022).  Dan hoef jy ook nie meer die plastieklepels en spane wat jy saam met die teflonpan gekoop het, te gebruik nie en dan kan jy dit met vlekvrye staalinstrumente vervang.

Vervang jou elektriese ketel van plastiek met een van metaal want die plastiekketel is ‘n groot bron van mikro- en nanoplastiek (Shi et al., 2022).  Moenie warm water in plastiekhouers gooi of kos in plastiekhouers in die mikrogolf verhit nie en maak jou kos in porselein en glashouers warm.  Plastiek word veral met hitte opgebreek en mikro- en nanoplastiek word so vrygestel (Zangmeister et al., 2022; Hussain et al., 2023).

Daar is baie produkte soos olie, asyn, tamatiesous, mosterd, blatjang en mayonnaise wat in glasbottels en plastiekbottels verpak word – kies die produkte in glasbottels.

Meeste droeë produkte soos rys, droë bone, lensies kom in plastieksakke en kits-ontbytpappe kom in kartondose met ‘n plastieksak binne-in.  As ‘n plastieklose alternatief nie te vinde is nie, gooi die inhoud van hierdie plastieksakke in groot glashouers met metaalskroefdeksels sodat die kos nie langer in die plastieksak sit en verder plastiekdeeltjies en chemikalieë absorbeer nie.

Koop suiker en pasta en ander kosse in papier- en kartonhouers en nie dié in plastieksakke nie.

Eet roomys in horinkies wat vir jou ingeskep word, eerder as roomys in plastiekverpakking of horinkies met ‘n plastiekdekseltjie op.

Vermy kougom – meeste kougom word van polivinielchloried (PVC) plastiek gemaak wat met sintetiese chemikalieë en versoet en gegeur word! (Estruch, 2008).

En kan jy glo – daar is ftalate in medisyne!  Ftalate is een van die ergste kankervormende mensgemaakte chemikalieë wat algemeen in plastiek as plastiseerder bygevoeg word om dit soepel te hou.  Ftalaat-bevattende plastiek word algemeen in pilverpakking en spuitbotteltjies en selfs in medisynes self gebruik (Betts, 2009; Ahern et al., 2022).  Sal dit nie ironies wees as daar ftalaat-bevattende medisyne is wat vir kankerbehandeling voorgeskryf word nie?

Neem jou eie lapsakke saam wanneer jy inkopies doen.

Mens moet poog om al hoe meer vars produkte te koop en kos in plastiekverpakking te vermy.  Oorspronklik was almal verheug oor die asblikkrappers wat as “herwinnaars” beskryf is.  Ongelukkig sorteer hierdie mense jou gemors langs spruite om die plastieke wat hulle kan verkoop uit te haal en dit wat hulle nie kan verkoop nie, net daar te los of in die spruit te gooi.

So, hoe is dit nie jou probleem nie?  Daardie plastiek land uiteindelik in die riviere, damme en rommelhope waar dit die grondwater besoedel.  Uiteindelik kom hierdie plastiek deeltjie vir deeltjie en molekule vir molekule weer terug na jou in jou drinkwater en kos sodat jou liggaam dit kan absorbeer.

Skoonmaakmiddels

Sekere chemikalieë in plastiek word deur die vel geabsorbeer en ingeasem.  Dit bedoel dat die seep, sjampoe, tandepaste, lappe, tandeborsels, handdoeke ens. ook ‘n gesondheidsgevaar inhou.  Ek gaan nog navorsing oor hierdie onderwerp doen en later hierdie afdeling verder toelig.

Klere

Probeer om klere wat uit natuurlike vesels soos katoen en wol en leer in die hande te kry.  Poliëster, ryon, nylon ens. is plastiek en een van die grootste bronne van mikroplastiek in ons riviere (Šaravanja et al.,  2022)..  En ja, die kwaliteit van die water in die riviere is jou probleem, want waar dink jy kom die water vandaan wat die boer gebruik om jou kos te besproei en waar kom die water in die kraan vandaan?  Aangesien die disfunsionele watersuiweringsaanlegte in die land nie eens fekale bakterieë uit die water kan verwyder nie, wat dink jy is die kanse dat hulle chemikalieë van plastiek en mikroplastiek uit die water gaan verwyder?

Verwysings

Ahern, T.P.; Spector, L.G.; Damkier, P.; Esen, B.O.; Ulrichsen, S.P.; Eriksen, K.; Lash, T.L.; Sørensen, H.T. & Cronin-Fenton, D.P. (2022). Medication–Associated Phthalate Exposure and Childhood Cancer Incidence Journal of the National Cancer Institute, 114 (6): 885–894,

Betts, K.S. (2009). Phthalates in Prescription Drugs: Some Medications Deliver High Doses. Environ Health Perspect. 2009 Feb; 117(2): A74.

Estruch, R.A. (2008). Gum base.  In: Fritz, D. (red.). Formulation and Production of Chewing and Bubble Gum (2de uitgawe). Essex: Kennedy’s Publications Ltd., pp. 93-118.

Giuliani, A.; Zuccarini, M.; Cichelli, A.; Khan, H. & Reale,  M. (2020). Critical Review on the Presence of Phthalates in Food and Evidence of Their Biological Impact. Int J Environ Res Public Health. 17(16): 5655. doi: 10.3390/ijerph17165655

Hernandez, L.M; Xu, Hans, E.G.; Larsson, C.E.; Tahara, R.; Maisuria, V.B. & Tufenkji, N. (2019). Plastic Teabags Release Billions of Microparticles and Nanoparticles into Tea. Environmental Science & Technology 53 (21): 12300-12310.

Hussain, K.A.; Romanova, S.; Okur, I; Zhang, D.; Kuebler, J.; Huang, X.; Wang, B.;  Fernandez-Ballester, L.; Lu, Y.; Schubert, M. & Li, Y. (2023), Assessing the Release of Microplastics and Nanoplastics from Plastic Containers and Reusable Food Pouches: Implications for Human Health. Environ. Sci. Technol. 57, 26, 9782–9792.

Luo, Y.; Gibson, C.T.; Chuah, C.; Tang, Y.; Naidu, R. & Fang, C. (2022). Raman imaging for the identification of Teflon microplastics and nanoplastics released from non-stick cookware. Science of The Total Environment 851(2), 10 December 2022, 158293.

Qian, N.; Gao, X.; Lang, X.; Deng, H.; Bratu, T.M.; Chen, Q.; Stapleton, P.; Yan, B &  Min, W. (2024). Rapid single-particle chemical imaging of nanoplastics by SRS microscopy. PNAS, 121 (3) e2300582121.

Šaravanja, A.; Pušić, T. & Dekanić, T. (2022). Microplastics in Wastewater by Washing Polyester Fabrics. Materials (Basel), 15(7): 2683.

Shi, Y.; Dunzhu Li, D.; Xiao, L.; Sheerin, E.D.; Mullarkey, D.; Yang, L.; Bai, X.; Igor V. Shvets, I.V; Boland, J.J. & Wang, J.J. (2022). The influence of drinking water constituents on the level of microplastic release from plastic kettles.  Journal of Hazardous Materials 425, 5 March 2022, 127997.

Zangmeister, C.D.; Radney, J.G.; Benkstein, K.D. & Kalanyan B. (2022). Common Single-Use Consumer Plastic Products Release Trillions of Sub-100 nm Nanoparticles per Liter into Water during Normal Use. Environ. Sci. Technol., 56 (9): 5448–5455.

 

error: Content is protected !!