Chromista 4: Filum Myzozoa

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Chromista 4: Filum Myzozoa

January 12, 2024 chromista 0

Filum Myzozoa (voorheen Miozoa):

Dinoflagellata en Apicomplexa – die selvampiere

Die Alveolata sluit die Ciliophora en die Myzozoa in.  Musositose kom in die Myzozoa en in sommige Ciliophora spesies voor.  Die Myzozoa en die Ciliophora besit ‘n liniêre mitochondriese genoom terwyl meeste ander eukariote se mitochondria sirkelvormige genome het.

Musositose verwys na die vermoë van hierdie eensellig organismes om die selinhoud van ander organismes uit te suig.  Die woord is van die Grieks (μυζεῖν, uitgespreek: muzein) vir “suig” afgelei.  Musositose word ook sel-vampirisme genoem en die protosoë wat met behulp van musisitose voed, word soms sel-vampiere genoem.  Sel-vampiere gebruik ‘n voedingsbuis – die konoïed – om die selinhoud van prooi-organismes uit te suig en daarop te voed.

Een van die kenmerkende eienskappe van die Alveolata is die voorkoms van kortikale alveoli wat plat sakkies is wat net onder die buitenste membraan geleë is en wat saam met die selmembraan die buigbare pellikel vorm.  Harde plate kom in die gepantserde dinoflagellate soos Lingulodinium polyedra se alveoli voor.  Alveolata bevat die enigste giftige spesies onder die eensellige eukariote.  Talle fotosinterende mariene alveolaatspesies soos die dinoflagellate wat rooigety veroorsaak, versamel of vervaardig gifstowwe as ʼn verdedingingsmeganisme.

Die Myzozoa is ‘n takson binne die Alveolata wat of deur musositose voed of oorspronklik deur musositose gevoed het.1

Die filums wat onder die Myzozoa ingesluit word is:

  • Filum Apicomplexa – parasitiese protosoë wat, buiten vir die gamete, aksonemiese aandrywingstrukture (flagellas) besit.
  • Filum Dinoflagellata – meestal mariene flagellate waarvan meeste chloroplaste besit.
  • Filum Chromerida – ‘n groep mariene fotosintetiserende protosoë.
  • Filum Perkinsozoa – ‘n groep van intersellulêre parasiete van akwatiese weekdiere en fitoplankton.

Die naam Myzozoa vervang die vorige naam – Miozoa – vir hierdie groep.

Dit blyk dat die Chromerida oorspronklik musositose beoefen het en dit toe sekondêr verloor het, aangesien die chromeried Vitrella brassicaformis nog steeds musositose toepas.2

Die parasitiese chromiste wat diere, plante en swamme en selfs eensellige protiste parasiteer, kan egter tot tien keer meer as dié wat reeds bekend is wees, aangesien chromiste soos Apicomplexa klaarblyklik meeste dierspesies op aarde parasiteer en oor miljoene jare aan derduisende gasheerspesifieke spesies oorsprong sou gegee het.  Tans is daar reeds meer as 180 000 chromiste bekend, maar dit is waarskynlik net die oortjies van die seekoei wat beteken dat daar meer chromiste as al die dier- en plantspesies saam mag wees as elke spesies sy eie Myzozoa parasiete het.

Die Myzozoa, of sel-vampiere, sluit die Dinoflagellata en Apicomplexa in.  Wanneer mens na al die verskillende parasiete kyk, kan mens min of meer verstaan hoe bytende vliegagtiges in vlooie verander het, hoe platwurms parasities kon word en hoe roofwantse mettertyd bloed begin drink het, maar wanneer mens egter by die Apicomplexa kom, staan mens verstom met hoeveel agterbakse gemeenheid hierdie eensellige bruinwier-verwante die diereryk verpes – veral omdat mens dit nie van bruinwiere sou verwag het nie.  Dis egter nie kelp wat die probleem is nie, nee, dis eerder die dinoflagellate, die Apicomplexa se naasverwante, wat vir ons die verduideliking sal gee van hoe hierdie eens fotosintetiserende chromiste sulke wilde parasiete geword het.

Dinoflagellate (Filum Dinoflagellata) maak ʼn groot persentasie van plankton op.  Sommige dinoflagellate is fotosintetiserend, sommige is heterotrowe, terwyl ander beide fotosintetiseer en op ander organismes jag maak of parasiteer.  Soöxantellas is dinoflagellate wat simbioties in korale, kwalle en see-anemone leef en, met behulp van fotosintese, energie aan hul gasheer verskaf.

Die dinoflagellate se selkern verskil baie van ander eukariote sʼn, want dit bevat baie meer DNS as die meeste eukariotiese selkerne – selfs die mens sʼn – en word soms die dinokarion genoem.

Soos die meeste ander chromiste, het dinoflagellate twee flagellas wat van mekaar verskil.  Die twee flagellas kom op verskillende plekke op die dinoflagellaat voor en het verskillende funksies.  Die agterste of longitudinale flagellum is rond in deursnee en maak stadige golfbewegings.  Die dwars-flagellum of transversale flagellum wat in ʼn groef rondom die sel voorkom, maak vinnige kronkelbewegings al langs die lengte af.  Die dwars-flagellum is plat met fyn haartjies aan die een kant.

Dinoflagellate kom in die see en varswater voor en ongeveer die helfte van hulle fotosintetiseer.  Daar is baie meer seelewende dinoflagellate (ongeveer 90%) as varswaterlewende dinoflagellate (ongeveer 10%).  Sekere dinoflagellate is berug daarvoor dat hulle rooigety veroorsaak wat tot die vergiftiging en die dood van duisende tonne vis en mariene invertebrate kan lei.  Hierdie vergiftigte diere is dan ook dodelik vir mense en talle mense het al gesterf nadat hulle rooigety-besmette diere geëet het.

Die Apicomplexa is die sustersgroep van dinoflagellate en vorm ʼn groot filum van eensellige eukariote.  Daar is reeds meer as 5 000 spesies benoem, maar daar is waarskynlik honderde duisende wat nog nie ontdek is nie.  Lede van die Apicomplexa het vanuit dinoflagellate ontstaan wat hul chloroplas verloor het en verpligte of obligate selparasiete geword het.  Hulle kan met ander woorde nie sonder die teenwoordigheid van ʼn gasheer se selle voortbestaan nie.  Hierdie groep parasiteer ʼn groot verskeidenheid werweldiere en ongewerweldes, maar toon gasheer- en selvoorkeure.

Van hulle unieke kenmerke sluit poolringe (apikale en basale ringe) met mikrotubules onder die selmembraan, die apikale kompleks, roptrieë en mikroneme in.  Die apikale kompleks wat dikwels ʼn konoïed insluit, roptrieë en mikroneme stel hierdie parasiete in staat om gasheerselle binne te dring.  Die meeste Apikomplexa het die komplekse plastied wat hulle van hul Chromista voorouers geërf het, behou, maar wat nie meer fotosintetiseer nie en nou vir ander belangrike metaboliese funksies aangewend word.

Apicomplexa het ʼn hoogs-gespesialiseerde metode ontwikkel waarmee hulle die gasheersel binnedring en het sodoende van die mees gedugte parasiete op aarde geword.  Eerstens vervaardig die parasiet se selmembraan ʼn proteïen wat die apikale membraan antigeen genoem word.  Wanneer die parasiet teenaan die gasheer se selle met behulp van afskeidings van die proteïen aktomiosien, verbygly, herken dit die chemiese identiteit van die gasheer.  Die parasiet vervaardig dan net al hoe meer van die apikale membraan antigeen en koppel dan met die apikale kompleks teenaan die gasheersel.

Die volgende stap vind plaas wanneer die klein staafvormige mikroneme binne die parasiet vorentoe na die apikale kompleks beweeg en oopbars om proteïene vry te stel, wat die gasheer se selmembraan oplos.  Daarna begin die roptrieë hul inhoud deur die konoïed afskei.  Roptrieë kom in amper al die lede van die Apicomplexa voor en bestaan uit langwerpige spuitvormige buise wat spesiale proteïene bevat.  Die punte van die roptrieë is in ʼn ring rondom die apikale kompleks gerangskik.  Die getal roptrieë verskil van spesie tot spesie.  In Plasmodium falciparum kom daar twee roptrieë voor, terwyl daar in Toxoplasma gondii tussen agt en twaalf roptieë voorkom.  Die roptrie-afskeidings koppel die parasiet teen die gasheer vas en vorm dan ʼn beweeglike koppeling tussen die parasiet en die gasheer, en inhibeer die gasheersel se eerste verdedigingsmeganismes wat geaktiveer word om die integriteit van die selmembraan te beskerm.

Die Toxoplasma tagisoïet druk homself tussen 24 tot 40 sekondes deur die opening van die beweeglike koppeling, binne die gasheer in.  Wanneer die parasiet die gasheersel binnedring, vervaardig die parasiet met behulp van die beweeglike koppeling en proteïene van die digte granules vanuit die gasheer se selmembraan, ʼn omhulsel rondom homself.  Hierdie beskermende membraan (die parasitoforiese vakuoolmembraan) is daar om die gasheer te flous deur te verhoed dat die gasheer se verdedigingsmeganismes die parasiet kan identifiseer en aanval.  Hierdie truuk stel die parasiet in staat om, soos sekere organelle soos die plastiede en mitochondria en die flagellum wat oorspronklik vanuit bakterieë ontstaan het, binne die sel te oorleef en daar te voed en voort te plant.  Plastiede, mitochondria en die basaalkorrel word juis deur ʼn soortgelyke gasheermembraan omring wat hulle in staat stel om binne die sel te oorleef.

Die siekte toksoplasmose word deur Toxoplasma gondii veroorsaak.  Toxoplasmose kan ernstige neurologiese probleme in sekere mense veroorsaak.  Dit begin met griepagtige simptome soos spierpyne, koors en seer limfkliere, maar dit kan vererger in mense wat ʼn swak senuweestelsel het en hoofpyn, swak koördinasie, stuiptrekkings en longprobleme kan volg.

Mens kan toksoplasmose kry deur kos te eet waarin Toxoplasma oösiste voorkom en wat nie goed voorberei is nie, of as ’n mens met katmis in aanraking kom, en as ʼn besmette persoon dit aan ʼn baba tydens swangerskap oordra.3, 4  Toxoplasma kan in die meeste warmbloedige diere voorkom, maar kan slegs in katte geslagtelik voortplant.  Alhoewel mens hierdie gevreesde siekte kan vermy deur om bloot nie met katmis of grond waarin katmis voorkom, in aanraking te kom nie, is omtrent die helfte van die wêreldbevolking daarmee besmet, alhoewel die meeste mense geen simptome toon nie.

Toxoplasma parasiete kom in verskillende vorms in hul insek- en werweldiergashere voor.  ’n Mens word gewoonlik met Toxoplasma oösiste in katmis, of op rou, ongewaste groente, of deur Toxoplasma bradisoïete in rou vleis, besmet.  Toxoplasma bradisoïete gee aan tagisoïete oorsprong wat baie vinnig die gasheer se selle binneval, verdeel en versprei.  Tagisoïete verander in bradisoïete wanneer dit hoofsaaklik die spiere en brein binnedring.  Bradisoïete maak dan baie kopieë van hulself deur tweedeling en enkisteer dan in die gasheer se spier- en senuweeweefsel en kan vir die res van die gasheer se lewe daar bly, maar soms weer in mobiele tagisoïede omskakel.  ’n Mens kan nie bradisoïete met antibiotika beveg nie. Gelukkig sal gesonde mense se immuunstelsel korte mette met die tagisoïede maak, maar in die geval van immuungekompromitteerde mense en fetusse kan dit onherroeplike neurologiese skade aanrig.5, 6

Alhoewel Toxoplasma gondii 30% tot 50% van die mensdom besmet, is dit bloot toevallig.7   Die rede vir die ontstaan en sukses van hierdie parasitiese organisme is dat die geslagtelike voortplanting-deel van sy lewensiklus in die liggaam van die kat voltooi, terwyl dit die ongeslagtelike voortplanting-deel van sy lewenskiklus in die liggaam van die kat se prooi – rotte en muise – voltooi.  Die mens was bloot toevallig bygetrek omdat ons met of naby katte wil leef en toelaat dat hulle in ons huise (meestal in sandbokse) en tuine (waar die kinders se sandput of groentetuin is) poef, op ons beddens slaap en ons gesig en hande lek, nadat hulle hulself, insluitende hul alies, “gewas” het.

Toxoplasma gondii verskil egter heeltemal van ander bedeesde parasiete soos lintwurms en rondewurms wat ons met ons gedomestiseerde diere soos honde, varke en beeste deel, want anders as die meeste ander parasiete, gaan bly hierdie intersellulêre parasiet onder andere in jou brein waar dit jou gedrag kan manipuleer.  Oorspronklik was dit bedoel om die gedrag van die muis te manipuleer deur die natuurlike vrees wat muise vir katte het, af te skakel, sodat die muis vreesloos in die teenwoordigheid van ʼn kat sal rondloop.  Dit laat die kat toe om die muis te vang en te eet wat lewensnoodsaaklik vir die parasiet is om sy lewensiklus binne die kat se weefsels te voltooi.  Die kat mis dan natuurlik die oösiste uit wat weer muise besmet en so word die siklus herhaal.8

Wetenskaplikes het al vir dekades vermoed dat toksoplasmose ook ʼn negatiewe effek op mense se breins en gedrag het.  Ongelukkig is daar vroeër nog nie die tegnologiese vordering gemaak wat nodig is om genoegsame bewyse vir hierdie hipotese in te samel nie en was hierdie voorlopige bevindings soms met skeptisisme bejeën en het sekere navorsers ook die steekproefgrootte en data-insameling en gevolgtrekkings gekritiseer.

Oor die laaste dekades stroom die bewyse egter in van navorsing wat op groot studiegroepe in verskeie lande gedoen is wat toon dat daar ʼn besliste verband tussen toksoplasmose en ernstige neuropsigiatriese afwykings soos skisofrenie, Altzheimers, bipolêre steuring, depressie, epilepsie, dwelmverslawing, selfmoordneigings en obssesief- kompulsiewe gedrag is.9, 10, 11  Dit blyk dat hierdie versteurings as gevolg van die disregulering van senuwee-oordragstowwe deur die parasiet veroorsaak word.

Toxoplasma het die vermoë om die produksie en oordrag van verskeie senuweeoordragstowwe soos dopamien, gamma-aminobottersuur, glutamaat, serotonien en noradrenalien van sy gasheer te manipuleer.12  Toxoplasmose-besmetting van die brein veroorsaak ʼn oormaat en ongelyke verspreiding van dopamien in die brein.1  Die disregulering en oormaat van dopamien word verbind met depressie, skisofrenie, aggressie, swak impulsbeheer, verslawende gedrag en obsessief-kompulsiewe gedrag.13, 14, 15, 16 Toxoplasma veroorsaak ook ʼn verdubbeling in glutamaatvlakke in soogdierselle.  Glutamaat-disregulasie word met angs, posttraumatiese versteuring, obsessief-kompulsiewe gedrag, psigose en skisofrenie in mense verbind.16, 18, 19  Toxoplasma het ook ʼn negatiewe impak op serotonienproduksie in die brein.  Wisselvallige vlakke van serotonien speel ʼn belangrike rol in erge depressie en bipolêre gedragsversteuring en selfmoord.16, 19, 20  Toxoplasma-besmetting word ook met Alzheimersiekte21 en sekere tipes epilepsie13 verbind.

Ons was dus heeltemal verkeerd met ons aanvanklike gevolgtrekking dat die Toksoplasma bradisoïete bloot net dormant in ons breinselle leef, terwyl hulle al die tyd besig is om ons gedrag te manupileer.  In die lig van die feit dat bykans die helfte van die mensdom met Toksoplasma besmet is, en die geweldige impak wat dit op ons senuweestelsels en gedrag het, word dit algaande duideliker dat toksoplasmose waarskynlik een van die grootste gesondheidsprobleme is wat die mensdom ooit geteister het.

Plasmodium

Plasmodium is verpligte of obligate parasiete van bloeddrinkende insekte en hul werweldiergashere.  Daar is reeds meer as 200 Plasmodium spesies bekend en daar sal waarskynlik mettertyd baie meer ontdek word.  Plasmodium word vanaf die besmette Anopheles wyfiemuskiet na die werweldier oorgedra wanneer hul speeksel tydens ʼn bloedmaal in die werweldier inspuit.  Die siekte wat volg ná die besmetting met Plasmodium word malaria genoem.  Onbesmette muskiete word weer om die beurt deur malaria-lyers besmet wanneer hulle ʼn bloedmaal kom geniet.

Plasmodium het, nes ander Apicomplexa, strukture soos roptrieë, mikroneme, mikrotubuli en gespesialiseerde proteïene wat hulle in staat stel om die gasheerselle te herken, aan dit vas te heg en dit binne te dring, en poolringe, ʼn enkele groot mitochondrion en mikrotubules onder die selmembraan.

Die digte granules binne die Plasmodium sel bevat proteïene wat hulle in staat stel om die gasheer se selmembraan in ʼn beskermende membraan te omskep om sodoende die parasitoforiese vakuool te vorm.

Die struktuur en funksies van die Plasmodium sel ondergaan veranderings tydens elke stadium van sy lewensiklus.  Plasmodium sporosoïete word vanuit die muskiet se speekselkliere saam met speeksel in die bloedstroom van die werweldier gespuit wanneer die muskiet ʼn bloedmaal nuttig.  Die sporosoïete reis met die bloedstroom tot by die werweldier se weefsels (meestal die lewer) waar hulle die selle binnedring en ʼn skisont binne die lewerselle vorm.

Die skisont vervaardig hordes piepklein merosoïete deur ongeslagtelike tweedeling of mitose.  Die besmette lewersel bars oop en stel honderde tot duisende merosoïete vry wat weer in die bloedstroom beland en waar hulle ander lewerselle of rooibloedselle gebruik om verder op te voed en in voort te plant.

Die merosoïete plant verder ongeslagtelik in die rooibloedselle van die werweldiergasheer voor.  Die merosoïet verander eers in ʼn groter sel, die trofosoïet en vorm dan ʼn ringvormige struktuur wat aan ʼn skisont binne die rooibloedsel oorsprong gee.  Net soos met die lewersel, vorm die skisont in die rooibloedsel honderde merosoïete en net soos met die lewersel, bars die rooibloedsel oop om hulle vry te stel van waar hulle weer ander rooibloedselle kan binneval.

Slegs ʼn klein persentasie van merosoïete gee oorsprong aan manlike en vroulike gametosiete wat geslagtelik voortplant.  Die Plasmodium gametosiete word deur muskiete tydens hul bloedmaal tot in hul dermkanaal opgesuig.  Die manlike gametosiete bevrug die vroulike gametosiete en vorm sigote binne die muskiet se dermkanaal.  Die sigote verander vorm en gee oorsprong aan oökinete wat die wand van die muskiet se dermkanaal deurdring en dan aan die buitekantste deel van die dermkanaal vasheg en in ʼn oösist verander.

Die oösist verdeel verskeie kere om aan baie smal verlengde sporosoïete oorsprong te gee.  Die sporosoïete migreer na die speekselkliere van die muskiet waar hulle reg is om saam met speeksel in die gasheer gespuit te word.

Die vernietiging van die rooibloedselle in die gasheer veroorsaak bloedarmoede wat die Plasmodium-besmette persoon moeg en tam laat voel.  Die rooibloedselle wat oopbars en die besmetting van nog duisende nuwe parasiete veroorsaak ʼn koors van tot 40°C en griepsimptome in die besmette persoon.  Hierdie simptome word dan as malaria geïdentifiseer en word dan deur die opsporing van die parasiet in die bloed bevestig.  Die malaria-lyer se niere, lewer en milt kan so deur gifstowwe, wat deur die afbreek van bloed- en lewerselle vrygestel word, aangetas word, dat die persoon daarvan sterf.

Die meer as 200 bekende Plasmodium-spesies besmet ʼn wye reeks reptiele, voëls en soogdiere wêreldwyd.  Die vyf Plasmodium spesies wat mense besmet en malaria veroorsaak, is: P. falciparum, P. vivax, P. malariae, P. ovale, en P. knowlesiP. falciparum en is verreweg die ergste parasiet onder die spul wat jaarlliks die dood van honderde duisende mense veroorsaak.  P. falciparum kan ook ape besmet en P. knowlesi word dikwels deur muskiete van ape na mense oorgedra. Daar is reeds meer as 150 Plasmodium-spesies in voëls ontdek en 90 Plasmodium-spesies in meer as 3 000 reptielspesies ontdek.

(Lees meer oor hierdie en ander interessante parasiete wat mense teister in: Die Menslike Dieretuin).

 

Verwysinigs:

  1. Cavalier-Smith, T. & Chao, E.E. (2004). Protalveolate phylogeny and systematics and the origins of Sporozoa and dinoflagellates (phylum Myzozoa nom. Nov.). European Journal of Protistology 40(3):185–212.
  2. Moore, R.B. (2006) Molecular ecology and phylogeny of protistan algal symbionts from corals. Ongepubliseerde tesis: School of Molecular and Microbial Biosciences, Sydney University.
  3. Hill, D. & Dubey, J.P. (2002). Toxoplasma gondii: transmission, diagnosis and prevention. Clinical Microbiology and Infection 8(10):634-640.
  4. Cook, A.J.; Gilbert, R.E.; Buffolano, W.; Zufferey, J.; Petersen, E.; Jenum, P.A.; Foulon, W.; Semprini, AE. & Dunn, DT. (2000). Sources of toxoplasma infection in pregnant women: European multicentre case-control study. European Research Network on Congenital Toxoplasmosis. BMJ 321(7254):142-147.
  5. Robert-Gangneux, F. & Darde, M-L. (2012). Epidemiology of and diagnostic strategies for toxoplasmosis. Clinical Microbiology Reviews 25(2):264-296.
  6. Milne, G., Webster, J.P. & Walker, M. (2020). Toxoplasma gondii: An underestimated threat? Trends in Parasitology 36(12) 959-969
  7. Flegr, J., Prandota, J., Sovičková, M. & Israili, Z.H. (2014). Toxoplasmosis – a global threat. Correlation of latent toxoplasmosis with specific disease burden in a set of 88 countries. PLoS One 9(3):e90203.
  8. Berdoy, M.; Webster, J.P. & Macdonald, D.W. (2000). Fatal attraction in rats infected with Toxoplasma gondii. Proceedings of the Royal Society B: Biological Sciences 267:1591-1594.
  9. Sugden, K.; Moffitt, T.E.; Pinto, L.; Poulton, R.; Williams, B.S. & Caspi, A. (2016). Is Toxoplasma gondii infection related to brain and behavior impairments in humans? Evidence from a population-representative birth cohort. PLoS One 11(2):e0148435.
  10. Pearce, B.D.; Kruszon-Moran, D. & Jones, J.L. (2012). The relationship between Toxoplasma gondii infection and mood disorders in the Third National Health and Nutrition Survey. Biological Psychiatry 72(4):290-295.
  11. Milne, G.; Webster, J.P. & Walker, M. (2020). Toxoplasma gondii: An underestimated threat? Trends in Parasitology 36(12):959-969.
  12. Chaudhury, A. & Ramana, B.V. (2019). Schizophrenia and bipolar disorders: the Toxoplasma connection. Tropical Parasitology 9:71-76.
  13. McConkey, G.A.; Martin, H.L.; Bristow, G.C. & Webster, J.O. (2013). Toxoplasma gondii infection and behaviour – location, location, location? Toxoplasmosis 216(1):113-119.
  14. Kalivas, P.W.; & Volkow, N.D. 2005. The neural basis of addiction: a pathology of motivation and choice. American Journal of Psychiatry 162:1403-1413.
  15. Koo, M.S.; Kim, E.J.; Roh, D. & Kim, C.H. (2014). Role of dopamine in the pathophysiology and treatment of obsessive-compulsive disorder. Expert Review of Neurotherapeutics 10(2) https://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1586/ern.09.148
  16. Sutterland, A.L.; Fond, G.; Kuin, A.; Koeter, M.W.J.; Lutter, R.; Van Gool, T., Yolken, R.; Szoke, A.; Leboyer, M. & De Haan, L. (2015). Beyond the association. Toxoplasma gondii in schizophrenia, bipolar disorder, and addiction: Systematic review and meta-analysis. Acta Psychiatrica Scandinavica 132:161-179.
  17. Sanacora, G.; Treccani, G. & Popoli, M. (2012). Towards a glutamate hypothesis of depression: an emerging frontier of neuropsychopharmacology for mood disorders. Neuropharmacology 62(1):63-77.
  18. Coyle, J.T. (1996). The glutamatergic dysfunction hypothesis for schizophrenia. Harvard Review of Psychiatry 3(5):241-253.
  19. Kishi, T.; Yoshimura, R.; Fukuo, Y.; Okochi, T.; Matsunaga, S.; Umene-Nakano, W., Nakamura, J.; Serretti, A.; Correll, C.U.; Kane, J.M. & Iwata, N. (2013). The serotonin 1A receptor gene confer susceptibility to mood disorders: Results from an extended meta-analysis of patients with major depression and bipolar disorder. European Archives of Psychiatry and Clinical Neuroscience 263:105-118.
  20. Kamal, A.; Kamal, M.; Abd El-Fatah, A.S.; Rizk, M.M. & Hassan, E.E. (2020). Latent toxoplasmosis is associated with depression and suicidal behavior. Archives of Suicide Research 9:1-12.
  21. Flegr, J. (2013). How and why toxoplasma makes us crazy. Trends in Parasitology 29:156-163.

error: Content is protected !!