Die vel
Die waarneming van tas, temperatuur, druk, vibrasies, pyn en strekking – talle sintuie dus en nie slegs een sintuig nie!
Tas, of die vermoë om aanraking te voel, en die vermoë om chemikalieë waar te neem (in meer gevorderde diere word laasgenoemde sensoriese vermoë in smaak en reuk verdeel) is die oudste sintuie in die diereryk. Dit is skokkend om te weet dat meeste diere op aarde slegs hierdie twee sintuie het. Diere soos nematode (wat 80% van alle diere op aarde opmaak) en holte- of neteldiere (filum Cnidaria) het slegs tas en chemosensitiwiteit en kan glad nie sien of hoor nie – wat dit nog meer onverstaanbaar maak dat die tassuintuig, soos die reuk en smaaksintuie, om nie eens van nematode wat, soos ek genoem het, die talrykste groep diere op aarde is, nie in die Suid-Afrikaanse hoërskoolleerplan ingesluit is nie.
Die heel eenvoudigste senuweestelsel kry mens in die holtediertjie Hydra wat drie aparte netwerke van aaneengekoppelde senuweeselle besit. Hierdie diertjie besit slegs twee sellae wat die hele liggaam opmaak – die buitenste ektoderm wat die liggaam beskerm en gevoelig vir prikkels van buite is en die binneste endoderm wat vir vertering en die opname van voedsel verantwoordelik is.
Die gevoeligheid van die vel, bestaan uit baie meer sintuie as bloot die tassintuig. Diere se velle besit meganoreseptore wat meganiese druk en vervorming in die vorm van fyn en growwe vibrasies, druk en strekking van die vel kan voel. Daar is ook sensore in die vel wat pyn, termoreseptore wat temperatuur en chemoreseptore in sommige diere wat die teenwoordigheid van chemikalieë kan waarneem. Die sylynorgaan, wat in die vel op die sye van visse voorkom, kan selfs statiese elektrisiteit, wat rondom die liggame van diere opgewek word wanneer hulle deur die water swem, waarneem.

Die meganoreseptore in vel bestaan uit: vrye senuwee-eindes, Merkel se selle, Meissner se liggaampies, Pacini se liggaampies, Ruffini se liggaampies en die senuwees rondom haarskedes. Elkeen van hierdie ses tipes meganoreseptore het ‘n unieke funksie en kan dus as ‘n aparte sintuig beskou word. Die gevoelshaartjies in die buise van die binneoor is inderwaarheid ook uiters gevoelige meganoreseptore wat vibrasies in die lug, water of grond kan voel.
Merkel se selle word in die basale epidermis van die vel en slymvliese aangetref. Hulle is sensitief vir lae-frekwensie vibrasies (5-15 Hz) en diep statiese aanraking soos om vorms en hoeke waar te neem. Merkel se selle kom meestal op die vingerpunte van primate, onder die riffies wat die vingerafdrukke maak en in die melkkliere van soogdiere voor en sal op tekstuur en druk, wat oor langer tydperke duur, reageer. Merkel selle se senuwee-eindes kom ook in gevoelsknoppies of haarskywe rondom haarfollikels voor. Merkel se selle word as stadig-aanpasbare reseptors geklassifiseer.
Meissner se liggaampies kom tussen die dermale papillas net onder die epidermis van lippe, vingers, palms en sole voor. Meissner se liggaampies bestaan uit senuwee-eindpunte wat sensitief is vir fyn aanraking en lae-frekwensie vibrasies (10-50 Hz) en ligte aanraking. Anders as die Merkelselle sal Meissner se liggaampies op kortstondige stimuli soos ligte aanraking reageer. Dit is die senuweeselle wat die lees van Braille moontlik maak. Meissner se liggaampies word as vinnig-aanpasbare reseptors gekassifiseer.
Die Pacini liggaampies en Ruffini se senuwee-eindes word dieper in die vel as die Merkel selle en Meissner se liggaampies in die subkutaneuse weefsel aangetref.
Pacini se liggaampies is baie sensitief en is verantwoordelik vir die waarneming van tas in die vorm van vibrasies van ongeveer 250 Hz, wat veroorsaak word as vingerpunte byvoorbeeld oor teksture met riffels of knoppies van minder as 200 μm in deursnee gevryf word. Pacini se liggaampies speel ook ‘n belangrike rol in propriosepsie en word geprikkel wanneer litte en ledemate van posisie verander. Pacini se liggaampies word regoor die liggaam aangetref, maar is volopste op die hande en voete waar hulle in digte groepe voorkom. Pacini se liggaampies is vinnige-reaksie reseptore en reageer slegs op skielike prikkels, maar ignoreer langdurige prikkels soos die drukking van klere op mens se lyf.
Ruffini se liggaampies is stadig-aanpasbare meganoreseptore wat in haarlose vel en subkutaneuse weefsel voorkom. Hierdie spindelvormige reseptor is verantwoordelik daarvoor om te voel wanneer die vel rek en speel ‘n belangrike rol in die kinestetiese sensasie en beheer van die vingerposisie en -beweging. Dit word gebruik om die beweging van voorwerpe oor die vel waar te neem om die manipulasie van voorwerpe te beheer. Ruffini se liggaampies kom in die diep lae van die vel voor en registreer die meganiese vervorming van die litte, en spesifiek die hoek van beweging binne die lit. Dit neem ook volgehoue druk waar.
Ruffini se liggaampies kan hitte hoër as normale liggaamstemperatuur voel, terwyl die Krause se liggaampies koue onder normale liggaamstemperatuur voel. Krause se liggaampies kom meer oppervlakkig in die vel voor as Ruffini se liggaampies.
Krause se liggaampies kom ook in die bindvlies (konjunktiva) van die oog, in die slymvlies van die lippe en die tong, in die epineureum van senuweebondels, en in die penis en klitoris, en in die sinoviale membrane rondom sekere litte voor.
Pynreseptore of nosiseptore in die vel, periosteum (die vlies wat been bedek), oppervlakte van gewrigte en in sekere interne organe, waarsku die liggaam teen skadelike meganiese, termiese en chemiese prikkels. Sommige pynreseptore is ongespesialiseerde senuwee-eindpunte, terwyl ander gespesialiseerde strukture in die vel soos nosiseptiewe Schwannselle. Pynreseptore het ‘n drumpel wat oorskry moet word voordat dit afgevuur word. Kapsisien, wat in brandrissies voorkom, is ‘n voorbeeld van ‘n chemiese verbinding wat pynsensore prikkel. Ekstreme koue en hitte is termiese prikkels en ‘n sny of ‘n steek is voorbeelde van meganiese prikkels wat die pynsensore aktiveer wat elektrone via die rugmurg na die brein sal stuur. Die dier sal dan gewoonlik hierop reageer en die pynprikkel probeer vermy. Pyn kan ook bleekheid, sweet, hartkloppings, lighoofdigheid, naarheid en bewusteloosheid in mense veroorsaak.
Hare het oorspronklik as tasstrukture ontstaan en was later aangepas om as huidbedekking, in die vorm van pels, te dien. Rondom die haarwortel van elke haar is daar ‘n haarwortelpleksus wat uit ‘n spesiale groep senuwee-eindes bestaan wat die haar in ‘n uiters sensitiewe gevoelsorgan omskep. Sodra die haar beweeg, stuur dit ‘n sein na die brein dat iets op die vel rondloop of dat daar ‘n windjie is wat waai.
As jy twyfel aan die stelling dat hare eintlik gevoelstrukture is, doen die volgende eksperiment: plaas ‘n mier op jou handpalm of vingerpunt en voel bietjie of jy haar kan voel rondloop – waarskynlik sal jy nie, maar tog is mense onder die indruk dat hul hande spesiaal sensitief vir tas is. Nou herhaal die eksperiment maar plaas nou die mier op jou voorkop (waar van die kortste en kleinste haartjies op jou liggaam is) en jy sal dadelik agterkom dat daar iets op jou voorkop rondloop soos die mier in die klein haartjies op jou voorkop vasloop.
Lees meer oor die vel en sintuie van die vel in Afrikaans:
Wêreldspektrum (1982), Volume 27, pp. 80-81.
