Pineale klier

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Pineale klier

October 16, 2023 Sintuie 0

Aangesien sintuie spesiale organe of strukture is wat inligting van die omgewing na die brein oordra, moet mens noodwendig die pineale klier en natuurlik die gepaardgaande pariëtale oog, wat in talle werweldiere voorkom, ook as ‘n sintuig klassifiseer.

Meeste werweldiere het ‘n pineale klier of epifise.  Daar is egter ‘n paar tropiese soogdiere wat oor tyd hul pineale klier verloor het, maar meer daaroor later.

Mense het al van die Klassieke Grieke se tyd, met ander woorde vir meer as 2000 jaar lank, geweet van die pineale klier.  Die Grieksprekende Romein Galen van Pergamon (129 – 216 nC), noem in sy boeke De usu partium corporis humani, libri VII (Oor die funksie van liggaamsdele, Deel 8) en De anatomicis administrationibus, libri IX (Oor anatomiese prosedures, Deel 9) dat Herophilus (325-280 vC) reeds in die derde eeu vC die pineale klier beskryf en gereken dat dit ‘n tipe klep is wat die brein in verskillende funksionele dele verdeel.  Galen het egter nie met Herophilus saamgestem nie, omdat die pineale klier buite die breinweefsel geleë is en onbeweeglik is.

René Descartes, die 17de eeuse filosoof en wetenskaplike het die menslike pineale klier in sy boek L’Homme (1662) beskryf.  Hy was van mening dat die pineale klier die setel van die siel is en waar al ons gedagtes ontspring.  In die boek Passions verdeel hy die mens in ‘n liggaam en ‘n siel.  Hy lei dan af dat die siel aan die liggaam deur middel van die klein klier wat in die middel van die brein voorkom (die pineale klier) die vloei van die gees tussen die voorste deel van die brein en die agterste deel beheer.

Franz Leydig, van die Universiteit van Tübingen, in Duitsland het vier akkedisspesies in 1872 gedissekteer en in elk ‘n klein koppievormige orgaan in ‘n gaatjie – die pariëtale foramen – in die middel van die skedeldak, bo die midbrein ontdek.  Hy het aangeneem dat dit ‘n tipe klier is en dit die sternorgan genoem wat later in ander tale na die frontale orgaan vertaal is.  In 1886 het Walter Baldwin Spencer van die Universiteit van Oxford 29 akkedisspesies gedissekteer en hierdie orgaan pineale of pariëtale organe genoem, omdat dit in die pariëtale foramen geleë is en met ‘n senuwee aan die pineale bult van die dak van die midbrein gekoppel is.  In 1918 het Nils Homgren van Swede pineale of pariëtale organe in paddas en haaie ontdek en ontdek dat dit ligsensitiewe selle besit – soortgelyk aan dié van die retina.  Van toe af het mense dit pineale, pariëtale of selfs die derde oog genoem.  In hierdie artikel sal ek dit die pariëtale oog noem, sodat mens dit nie met die pineale klier verwar nie.

Die pariëtale oog kom in skilpaaie, meeste akkedisse en slange voor, maar nie in krokodille nie.  Die pariëtale oog wat in akkedisse voorkom is ‘n hoogs gespesialiseerde struktuur wat ‘n lens, horingvlies en retina het.  Beide die pariëtale oog en die pineale orgaan skei melatonien af.

Alle amfibieë het ‘n pineale orgaan en iets wat ‘n frontale orgaan genoem word, maar wat nes die pariëtale oog funksioneer.  Die pariëtale oog het in talle werweldiere soos krokodille, voëls en soogdiere verdwyn, alhoewel die pineale klier behoue gebly het.  In visse en reptiele word die pariëtale oog met ‘n deursigtige skub bedek.  In skublose visse soos die lamprei en amfibieë word die pariëtale oog met deursigtige vel bedek.

Die pariëtale foramen is duidelik sigbaar in talle fossiele en so kan mens aflei dat die voorouers van die soogdiere – die soogdieragtige reptiele, tot net voor die soogdiere se ontstaan, ‘n paiëtale oog gehad het (as jy meer oor die ontstaan van soogdiere wil uitvind, lees Theriodontia – die karnivoriese sinapsiede).

Die pariëtale foramen, en dus die pariëtale oog, het mettertyd al hoe kleiner in die theriodontiërs geword soos wat hulle al hoe meer soogdieragtige kenmerke ontwikkel het, totdat dit in die kuenodontiërs, die direkte voorsate van die soogdiere, verdwyn het.

Soogdiere se pineale kliere verskil in vorm en funksie.  Knaagdiere s’n is byvoorbeeld meer kompleks as dié van ander soogdiere.  Sommige tropiese soogdiere soos luidiere, gordeldiere, die sirenia (dugongs en manatees) en sekere buideldiere het egter ook die pineale klier verloor, terwyl poollewende diere soos walrusse, sekere robbe besondere groot pineale kliere besit.  Dit is duidelik aanpassings vir die beskikbaarheid van sonlig.

Die son ossileer deur die jaar van Steenbokskeerkring na Kreefskeerkring weerskante van die ewenaar en dus is diere wat in die trope bly meeste aan sonlig blootgestel.  Daarteenoor is die pole egter vir tot ses maande op ‘n slag in donker gehul en dan weer vir ses maande aan konstante daglig blootgestel en dus is die diere wat daar moet oorleef aan uiterste lig/donker omstandighede onderwerp.  Die res van die werweldiere word aan matiger seisoenale veranderinge onderwerp waarmee hul voortplantinggedrag gesinkroniseer moet word sodat die kleintjies gebore word wanneer daar genoeg kos vir hulle beskikbaar is.

Wanneer die pineale orgaan deur prikkels van die pariëtale oog of senuweevesels vanaf die optiese chiasma van soogdiere of voëls geprikkel word, word ‘n reeks hormone binne die pineale klier afgeskei wat sirkadiese ritmes van die dier beheer.  Dit vind plaas deur middel van die pituïtêre klier of hipofise wat net onder die pineale klier in die midbrein van diere lê en waaraan die pineale klier gekoppel is.  Die pituïtere klier kom voor die pineale klier voor in mense want die mens loop mos regop en dus is die kop 90° vorentoe gedraai sodat ons vorentoe kyk en nie regop in die lug nie.

Alhoewel soogdiere en voëls nie meer ‘n pariëtale oog het nie, het meeste hul pineale organe behou.  Inligting ten opsigte van dagliglengte en ligintensiteit bereik nou die pineale orgaan vanaf die retina deur die senuwees van die optiese chiasma.

Die verandering in dagliglengte word so onbewustelik deur die midbrein, waar die pineale orgaan, die pituïterê klier en die limbiese stelsel gesetel is, waargeneem.  Die hormone wat deur die pineale orgaan afgeskei word sluit melatonien in, wat dag/nag of sirkadiese ritmes en slaappatrone beheer.

In reptiele speel dit ‘n belangrike rol in hittebeheer deur om die reptiel inligting te verskaf ten opsigte die duur van sy blootstelling aan sonlig, sodat dit nie oorverhit nie, maar onder ‘n rots in die skadu kan wegkruip as dit te warm begin word.

Prikkels vanaf die pineale klier wat na die pituïtêre klier gestuur word, ontketen die afskeiding van ‘n reeks hormone wat die gedrag van daardie dier beheer, veral ten opsigte van seisoenale gedrag wat die opgaar van kos in die herfs ter voorbereiding van die winter, migrasie van voëls en sekere soogdiere voor die aanbreek van winter, hibernasie tydens winter en territoriale gedrag, paringsgedrag en nesmaakgedrag wanneer die lente aanbreek.

Die negatiewe aspek van die funksies van die pineale klier word deur mense wat in die noordelike halfrond bly beleef.  Hoe verder noord mens bly, hoe langer is die winters en hoe donkerder is dit.  In die noorde van die Skandinawië en Kanada, in Alaska en Siberië (afhangende van hoe ver noord jy is) duur die winternag tot twee maande lank en in die maande daarvoor en daarna, sal die son so net net bo die horison rys voor dit weer ondergaan.  Die gevolg is dat baie mense aan winterdepressie in hierdie lande ly.  Hierdie depressie wat deur donker veroorsaak word is nog meer opmerklik onder mense wat van sonnige lande soos Suid-Afrika en Australië kom en hul in die verre noorde gaan vestig.  Navorsers het toe uitgevind dat hierdie winterdepressie met ‘n eenvoudige lig, wat dieselfde ligspektrum as die son uitstraal, teëgewerk kan word.

Nou weet jy sommer waar daardie onbeheerbare drang om op te ruim en skoon te maak en nuwe dinge in die lente aan te pak, vandaan kom.

Lees meer oor die pineale klier in Afrikaans:

https://hdl.handle.net/10520/AJA00382809_4610

error: Content is protected !!