Hy is in die konsistorie omgeruil

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Hy is in die konsistorie omgeruil

June 26, 2023 Hoekom is dinge so? 0

François Durand

Die onderwerp waaroor ek hier gaan praat gaan van die diepste geheime van ons Europese volksgelowe ontbloot.  Dit is die verhaal van trolle, dwerge en feë en dit is, anders as wat jy mag dink, ‘n gruwelverhaal en nie ‘n sprokie nie.

Eerstens: wat ons vandag as sprokies beskou, was oorspronklik deel van die Germaanse en Keltiese religieuse verwysingsraamwerk.  Hierdie oer-volksgelowe was eers tot die vlak van sprokies en kinderverhale afgegradeer toe ons in die Middeleeue gekersten is en toe ons daarna met minagting na ons Germaanse kultuur begin terugkyk het.  Gedurende die Germane se kontak met die Romeine het ‘n grootskaalse erosie van die Germaanse kultuur plaasgevind en is ons oorspronklike volksgelowe met Midde-Oosterse, Griekse en Romeinse mitologie vervang tot so ‘n mate dat dit vir meeste Westerlinge ondenkbaar is dat ons aan enigiets anders as wat in die Bybel staan, geglo het.

Hierdie kultuurerosie is deur die Duitse kultuurhistorici die broers Jacob en Wilhelm Grimm in die negentiende Eeu gedokumenteer.

Wilhelm (links) en Jacob (regs) Grimm (1847)

Daar is soveel oor hierdie twee formidabele navorsers te sê dat ‘n hele artikel oor hulle nie genoeg sal wees nie, ek sal dus dit kortliks opsom.  Na hulle universiteitsopleiding het hulle begin om volksverhale te versamel, oorspronklik bloot vir die sentiment en interessantheid daarvan.  Uiteindelik het hulle honderde verhale van Duitse, Deense, Ierse en Noorse herkoms versamel wat in boeke soos Kinder- und Hausmärchen (1812) en Deutsche Sagen in twee volumes (1816 en 1818) waarin 579 Duitse volksverhale voorkom.  Jacob Grimm publiseer die boek Deutsche Mythologie in 1835, terwyl Wilhelm aan die derde uitgawe van Kinder- und Hausmärchen gewerk het.

In hierdie versamelde werke van Grimm vind mens nog oorblyfsels van die oudste gelowe van die Germane en Kelte.  Mens sien egter ook hoe die kultuurerosie plaasgevind het soos die detail in die verhale verander vanaf die oumatjie wat in die Swartwoud woon wat ‘n verhaal vertel van gawe feë en nare trolle, teenoor dieselfde storie wat in die stad vertel word, maar nou met engele en demone wat die goeie en slegte rolle vervul.

Dit is ook allerbelangrik om te onthou dat die kerstening van die Germane oor honderde jare – aan die een kant met die swaard en byl afgedwing is, en aan die ander kant deur sosiale vernedering en verwerping (sien Waar kom vloekwoorde vandaan?).  Dit is ook nie toevallig dat die Grimm Broers hulle groot kulturele dokumentasie ten tye van die Franse ekspansionisme gedoen het nie en hulle die impak van Frans op hul kultuur beleef het.  Dieselfde insig het Snorri Sturluson van Ysland genoop om die Edda op te skryf wat die Noorse volksgelowe gedokumenteer het.  Dieselfde insig het my genoop om hierdie webwerf te begin.

 Standbeeld van Snorri Sturluson (1179-1241) in Reykholt, Ysland

Een van die temas wat weer en weer in Middeleeuse Germaanse en Keltiese volksverhale opduik, is die verhaal van wisselkinders of omruilkinders – Wechselbalg in Duits, changelings in Engels.  Die feit dat hierdie volksgeloof vir so lank en oor so ‘n groot gebied en in beide Germaanse en Keltiese volke voorgekom het, is belangrik.

Talle mites word op natuurverskynsels gegrond.  Kulture wat nog op ‘n lae vlak van wetenskaplike ontwikkeling is, het nog nie die insig ontwikkel om te verstaan wat hulle waarneem nie.  Hulle onkunde het ons voorsate egter nie daarvan weerhou om met verduidelikings vorendag te kom om weerlig, aardbewings, droogtes, peste en allerlei ander natuurverskynsels te probeer verklaar nie.

Die drievlakkige kosmiese model van die Midde-Ooste, naamlik die aarde, hemel en die onderwêreld (hel, sheol of hades) onder het na kerstening die Germaanse nege realm model vervang.  Volgens Germaanse mitologie bly mense op Midgard (Middelaarde), die aarde is deur middel van die Bifrost Brug (die reënboog) met Asgard – die woonplek van die Aesir, die Oorloggode, verbind.  Valhalla, die tuiste van Odin is in Asgard.  Gevalle helde – die Einherjar – word deur valküre na Valhalla geneem sodat hulle daar saam met Odin en die ander gode kan feesvier.  Die Bifrost Brug word deur Heimdal en sy hoenderhaan Gullinkambi (sien Hoekom is daar ‘n haan op die kerktoring?) teen aanvallers bewaak.  Die Vanir – die vrugbaarheidsgode – bly in Vanaheim.  Die Aesir het met die Vanir geveg en natuurlik gewen omdat hulle oorlogsgode is.  Frey en Freya is Vanir wat deur die Aesir gevange geneem is en nou in Asgard woon.  Niflheim (“neweltuiste”) is die onderwêreld waar dooies wat nie eerbaar op die slagveld gesterf het nie, beland.  Dit is koud en mislik daar en om alles nog erger te maak is daar ‘n reuse wurmslang Nidhogg wat nou en dan van die dooies kom opvreet – en daardie ongelukkiges is dan dooier as dood.  Niflheim word deur ‘n monsteragtige reusin Hel, die dogter van Loki, geregeer.  Mens kan sommer sien dat daar iets met die vertaling van die Latynse woord inferno verkeerd gegaan  het.

Die ander vyf wêrelde, soos Vanaheim, klink vreemd vir die gekerstende oor en val heeltemal buite die huidige Westerse verwysingsraamwerk.  Hierdie wêrelde is Jotunheim in die noorde waar die Ysreuse, die Jotnar bly.  Die aarde het ontstaan uit Ymir, die ysreus se karkas, nadat Odin hom verslaan het.  Die vuurreuse bly in Muspelheim in die suide.  Dit is maklik om te verstaan hoe die Germane by hierdie indeling uitgekom het, want hoe verder noord hulle gereis het, hoe kouer het dit geword, en hoe verder suid, hoe warmer.  Dan is daar Alfheim na die weste en Swartalfheim na die ooste – Tolkien verwys hierna in Lord of the Rings waar die elwe na die weste verhuis en die swartelwe vir die oorlog in Middelaarde vanuit die ooste opdaag.  Dan is daar ten einde laaste die negende wêreld, Nidavellir, waaroor amper niemand wil praat nie, want dit is waar die ergste bedreiging vir mense gewoon het – naamlik trolle.

Nidavellir word deur verskeie bonatuurlike of magiese wesens bewoon – trolle is sekerlik die ergste van almal, maar dan is daar ook dwerge.  Dwerge is baie hardwerkende myners en smede met ‘n onversadigbare drang na goud en edelstene.

Dwerge soos in ‘n negentien-eeuse uitgawe van die Poëtiese Edda gedig Völuspá uitgebeeld.  Kunswerk deur Lorenz Frølich(1895)

Dwerge word ook beskryf as besonder sterk en vaardig.  Hulle is uitmuntende smede wat wonderbaarlike voorwerpe kan smee soos Thor se hamer Mjölnir, Odin se spies Gungnir, Gullinbursti, die goue vark van Frey en Gleipnir die towerband wat Fenrir tot en met die uitbreek van Ragnarök vasgevange hou.

Die Viking varkrug-grafsteen in Heysham, Lancashire, Engeland (10de Eeu nC) wat die dwerge Norðri, Suðri, Austri en Vestri uitbeeld wat Ymir se skedeldak, wat die uitspansel vorm, vashou (ð is die simbool vir die klank “th” in die middel of einde van ‘n woord).

Dwerge was van die weinige magiese karakters wat die kerstening van die Germane bykans onveranderd oorleef het.  Trolle het nie kerstening oorleef nie en was eenvoudig algaande met demone en hekse in die volksverhale vervang.

Volgens die Germaanse volksverhale is dwerge baie soos mense maar net kort en sterk, terwyl die ander bonatuurlike wesens wat in Nidavellir bly as misvormde wesens beskryf word.  Wanneer mens die verhale van die ondergrondse wesens met Omruilbabas opkoppel, dan maak alles skielik sin.  Daar was nog altyd genetiese afwykings onder mense.  In die verre verlede was ‘n baba met ‘n gebrek deur die volke rondom die Middelandse See eenvoudig buite die stad op die rommelhoop gegooi waar hulle sou sterf en deur rondloperhonde opgevreet sou word.  Gebreke was as veragtellik en as ‘n vloek van die gode beskou.

Die kulture wat in dwerge, trolle, feëtjies geglo het, het ook aan Omruilkinders geglo.  Trouens dit het alles met mekaar te doen en daardie deel van die storie het na die kerstening van Europa verlore geraak.  Die basiese verhaal van Omruilkinders gaan so: daar moet heeltyd waak gehou word oor ‘n pasgebore baba omdat bonatuurlike wesens hul baba met die mensbaba wil omruil.  Die rede hiervoor is omdat die bonatuurlike wesens nie melk het nie en dus genoop word om op mense te parasiteer.  Die bonatuurlike wesens plaas dan ‘n towerspreuk oor hulle baba wat dan verander om soos die mensbaba te lyk.  Nadat hulle hul betowerde baba in die mensbaba se wiegie gesit het, hou hulle die mensbaba gevange wat dan stadig wegkwyn.  Hierdie bonatuurlike wesens bly ondergronds en dit is hoekom mens hulle nie kan sien nie.

Dit is hoe ‘n Omruilbaba, ein Wechselbalg, in Duits beskryf word:

“Ein Wechselbalg ist ein untergeschobener Säugling. Dies ist häufig ein negativ besetzes Synonym für ein Kuckuckskind beim Menschen. Dazu haben sich Mythen herausgebildet, die für den untergeschobenen Säugling böse Geister verantwortlich machen.”

Der Wechselbalg (Johann Heinrich Füssli, 1780)

Die towerspreuk wat die ondergrondse wesens oor hul baba uitgespreek het, verswak na die gelang van tyd en die werklike aard van die Omruilbaba kom mettertyd na vore, sodat almal kan sien dat dit nie die oorspronklike mensbaba is nie.  Ons weet vandag dat dit gebeur omdat die baba se genetiese afwyking algaande meer duidelik manifesteer soos die baba ouer word.  Hierdie volksgeloof in trolle en dwerge en ander ondergrondse wesens was waarskynlik deur die genetiese afwykings soos progeria, sistiese fibrose, hidrokefalie, Downs-, Williams-, Russel Silver-, Hurler-, Hunter- en Prader-Willi-sindrome en regressiewe outisme geïnspireer.  Meeste mense wat hierdie sindrome het is kort en het sekere gelaatstrekke waarop die Germane hul afleidings van hoe die ondergrondse wesens moes lyk en optree, gegrond het.

Fotos van ‘n baba met ‘n skaars genetiese afwyking uit ‘n mediese joernaal van ‘n eeu gelede.  Die baba het net ‘n paar weke geleef.  Sulke babas het die volksgeloof in Omruilbabas geïnspireer.

Daar is honderde verwysings na Omruilbabas in die literatuur.  Ek het hier net ‘n paar aangehaal om die mense van die tyd se sienings te illustreer.  Waar dit oorspronklik in Engels is het ek dit net so gelos, van die Duitse aanhalings het ek vertaal.  Die reghoekige hakies is my insetsels:

A Pisky [Pixy] Changeling

“A woman who lived near Breage Church [op Man Eiland] had a fine girl baby, but the piskies came and took it and put a withered child in its place. The withered child lived to be twenty years old, and was no larger when it died than when the piskies brought it. It was fretful and peevish and frightfully shriveled. The parents believed that the piskies often used to come and look over a certain wall by the house to see the child. And I heard my grandmother say that the family once put the child out of doors at night to see if the piskies would take it back again.”

Bron: W. Y. Evans-Wentz, The Fairy Faith in Celtic Countries (1911), p. 171.

Ek het besluit om in hierdie artikel voorbeelde te gebruik van die Onkambare Haar Sindroom (OHS) om genetiese afwykings wat aanleiding tot mites gegee het, te illustreer.  Uit respek en empatie vir mense en ouers met kinders wat aan ander sindrome ly wat verskriklike hartseer en ontbering veroorsaak, het ek besluit om nie voorbeelde van hierdie genetiese afwykings te plaas nie.  Talle genetiese afwykings gaan gepaard met groei en kognitiewe belemmering en beperkte lewensverwagting en gesondheidsprobleme, in die geval van OHS is dit nie die geval nie.

Omruilbabas word ook in sommige volksverhale as baie ou wesens uitgebeeld wat deur towery verander is om soos mensbabas te lyk.  Die raad wat gegee word vir ‘n ouer wat vermoed dat sy kind nie ‘n mens is nie, is om iets belagliks voor die Omruilbaba te doen wat hom sal noop om onwillekeurig te lag en so die towerspreuk te breek en dus homself so te ontmasker.  Na die ontmaskering verander die Omruilbaba terug na sy oorspronklike vorm en verdwyn.

Und das Wechselkind sagst:

“Ik bün so olt as Böhmer Gold,
doch dat seih ik taum irsten Mal,
dat man Bier brugt in Eierschal.”

In hierdie geval het ‘n man bier gebrou in ‘n eierdop, waarna die Omruilbaba uitgebars het van die lag en gesê het: “ek is so oud soos Böhmer goud, maar dit is die eerste keer wat ek sien dat iemand bier brou in ‘n eierdop”.

Die voorveronderstelling dat dwerge en ander ondergrondse wesens baie oud moet wees, kom van die verhaal van die ontstaan van die aarde toe Odin die Ysreus Ymir gedood het en die maaiers in sy vleis in dwerge verander het, wat nie slegs verduidelik hoekom hulle ondergronds in Nidavellir bly nie, maar ook dat hulle so oud soos die aarde self is.

Ek vermoed dat hierdie afleiding van die ouderdom van sekere Omruilbabas met die voorkoms van progeria te doen het.  Alhoewel dit ‘n baie skaarser sindroom as Downs is, sou slegs een so ‘n verskynsel vir generasies onthou word en in die volksverhale oorleef.

Kinders met progeria word selde volwasse en sterf gewoonlik in hul kindertyd.  Hulle ly aan ‘n versnelde verouderingsproses wat veroorsaak dat hulle hul hare verloor, gerimpelde vel, arteriosklerose, bloedvatsiektes soos ou mense ontwikkel en klein tenger liggaampies met groot koppe en klein gelaatstrekke met skerp neusies het.

Raad met Omruilbabas

Daar was raad vir mense met Omruilbabas en hoe hulle die bonatuurlike wesens kon noop om hulle baba terug te bring of self weg te vlug.  Hierdie deel is grusaam en sensitiewe lesers moet maar die volgende stuk oorslaan.  Ek haal die literatuur woordeliks aan en dit is dus nie my interpretasie nie – hierdie onderstaande gedeelte is wat mense werklik geglo het.

Die Omruilbaba van Mecklenburg

Die Ondergrondse Mense het een keer ‘n vrou van Rövershagen se ongebore baba vir een van hul eie omgeruil.  Sy het toe die raad van ‘n wyse man ingewin wat haar aangesê het om die Ondergrondse Mense se kind op die kapblok te sit en dan te maak asof sy die baba met ‘n byl gaan opkap.  Sy het dit gedoen en die dwergkind het dadelik verdwyn en haar eie kind het weer verskyn.

Bron: Karl Bartsch (1879), Sagen, Märchen und Gebräuche aus Meklenburg (Vienna, Wilhelm Braumüller), vol. 1, p. 62. Die bron wat Bartsch hier aanhaal is Pastoor Dolberg van Hinrichshagen.

The smith and the fairies from Scotland

“Well, now,? said the sage to the smith, “did I not tell you that it was not your son you had: your son is in Brorra-cheill in a digh [fairy hill] there. Get rid as soon as possible of this intruder, and I think I may promise you your son.

“You must light a very large and bright fire before the bed on which this stranger is lying. He will ask you, “What is the use of such a fire as that?’ Answer him at once, ‘You will see that presently!” and then seize him, and throw him into the middle of it. If it is your own son you have got, he will call out to save him; but if not, this thing will fly through the roof.”

The smith again followed the old man’s advice; kindled a large fire, answered the question put to him as he had been directed to do, and seizing the child flung him in without hesitation. The Sibhreach gave an awful yell, and sprung through the chimney hole in the roof.

Bron: J. F. Campbell (1901), In: George Douglas (red.) Scottish Fairy and Folk Tales (London: Walter Scott Publishing Co.), pp. 125-128

Die Omruilbba van Lausitz

Daar moet altyd iemand by ‘n baba wees tot dit ses weke oud is, anders sal ‘n ou vrou uit die woud of die berge kom en die baba met ‘n sieklike en verstandelike vertraagde, misvormde Omruilbaba vervang.  As dit nie anders kan nie, moet mens ten minstens ‘n gesangeboek naby die kind se kop los voor mens die kamer verlaat.

Mens moet vinnig optree as die ergste weens nalatigheid gebeur en die baba tog omgeruil word.  Dan moet mens ‘n wilgerlat kry en die Omruilbaba verskriklik hard daarmee slaan.  Die ou vrou sal die gille van haar kind hoor en jou baba terugbring en haar monsterbaba terugvat.  Jy moet haar toelaat om ongehinderd te vertrek en haar nie slegsê of met haar baklei nie, anders los sy die Omruilbaba by jou vir altyd.

Bron: Karl Haupt (1862), Sagenbuch der Lausitz. Erster Theil: Das Geisterreich (Leipzig, Verlag von Wilhelm Engelmann), p. 69. Haupt se bron is Leopold Haupt en J. E. Schmale (1841), Volkslieder der Wenden in der Ober- und Niederlausitz (Grimma), vol. 2, p. 267.

Die Omruilbaba van Breslau

Die volgende ware verhaal het in die jaar 1580 plaasgevind. Naby Breslau het daar ‘n waardige edelman gebly wat elke jaar ‘n groot opbrengs van hooi gehad het en wat sy knegte dan moes oes.  Een jaar was daar ‘n nuwe moeder onder sy maaiers, wat skaars ‘n week vantevore haar baba gehad het.  Sy het die baba saamgebring en eenkant gesit om te oes.  Na sy ‘n goeie lang ruk gewerk het, het sy na haar baba teruggekeer om dit te soog.  Sy het skielik in wanhoop gegil want dit was nie haar baba wat so vraatsig aan haar gesoog het en op ‘n onmenslike manier geskree het nie.

Sy het die kind vir ‘n paar dae gehou, maar sy gedrag was so steurend dat sy uiteindelik ineen gestort het.  Sy het toe haar storie aan die edelman vertel en hy het toe vir haar die volgende raad gegee: “Vrou, as jy oortuig is dat hierdie nie jou kind is nie, dan is daar net een ding wat jy kan doen.  Vat dit na die land waar jy jou baba oorspronklik gelos het toe jy gewerk het en slaan dit genadeloos met ‘n sweep.  Dan sal jy ‘n wonderwerk aanskou.”

Die vrou het die edelman se raad gevolg.  Sy het die kind na die veld gevat en met ‘n sweep geslaan tot dit hard gegil het.  Toe bring die Duiwel haar gesteelde kind terug en sê: “Hier vat dit” en vat toe sy kind terug.

Bron: Wilhelm en Jacob Grimm (1816), Wechselkind met Ruten gestrichen, Deutsche Sagen, no. 88. Hierdie storie was ook opgeteken deur J.G.T. Grässe (1871), Sagenbuch des Preußischen Staats, vol. 1 (Glogau: Verlag von Carl Flemming), no. 171, p. 183.

Natuurlik kom kinders wat met genetiese afwykings gebore word wêreldwyd voor en is nie uniek tot ‘n sekere streek nie. Die stories van magiese wesens wat kinders omruil het egter baie dieper wortels as die Germaanse kultuur.

Omruilbabas na kerstening

Natuurlik het genetiese afwykings nie verdwyn nadat mense gekersten geraak het nie.  Die bose karakters wat kinders in die stories omgeruil het, het nou van ondergrondse wesens na demone, hekse of die duiwel in die stories verander.  Martin Luther die Reformator was reg voor met die veroordeling van hierdie arme mense en bewerings dat meisies omgang met die duiwel gehad het en toe Omruilbabas voortgebring het.

“Kilkrop [‘n ou Duitse woord wat na ‘n vraatsugtige tipe Omruilbaba verwys] Omruilbabas word deur Satan in die plek van regmatige kinders gelê om die mensdom te verpes.  Hy sal dikwels sekere meisies in die water trek, hulle swanger maak, en hulle by hom hou tot hulle geboorte skenk en dan sal hy hierdie babas in mensbabas se wiegies sit en die mensbabas wegvat.  Daar word gesê dat sulke Omruilbabas nie langer as agtien of negentien jaar leef nie.

Bron: Martin Luther, Werke, kritische Gesamtausgabe: Tischreden (Weimar: Böhlau, 1912-1921), v. 4, p. 357.

Dr Martin Luther (1483-1546)

Die Omruilbaba van Dessau

“Ek, Dr. Martin Luther, het agt jaar gelede [1532]  in Dessau ‘n Omruilbaba gesien en aan dit gevat.  Dit was twaalf jaar oud en van die Omruilkind se oë kon ek sien dat dit die gebruik van al sy sintuie gehad het en mens sou sweer dat dit ‘n regte kind is.  Dit het niks anders gedoen as om te eet nie.  Trouens, al wat dit gedoen het was om te eet, te *** en te *** (lees: Waar kom vloekwoorde vandaan? om te verstaan hoekom ek nie die woorde van Martin Luther kan vertaal sonder om metafore te gebruik of na Latyn oor te skakel nie.  Ek sit die oorspronklike geskrif hier sodat jy self kan lees wat hy gesê het), en wanneer iemand dit aangeraak het, het dit gehuil.  Wanneer slegte goed in die huis gebeur het het dit gelag en was gelukkig en wanneer dinge goed gegaan het, het dit gehuil.

Ek het vir die Prinse van Anhalt gesê: “As ek die prins of die heerser hier was, sou ek hierdie kind in die water gegooi het – in die Molda Rivier wat verby Dessau vloei. Ek sou hom vermoor het!”  Maar die heerser van Sakse, wat saam met my in Dessau was, en die Prinse van Anhalt, wou nie my advies volg nie.

Ek het dus vir hulle gesê: “Dan moet julle al die Christene aansê om die Onse Vader in die kerk op te sê sodat julle die duiwel kan uitdryf.”  Hulle het toe so daagliks in Dessau gedoen en die Omruilbaba het die volgende jaar gesterf…. So ‘n Omruilbaba is net ‘n massa vleis, want dit het geen siel.”

Bron: Martin Luther (1483-1546), Werke, kritische Gesamtausgabe: Tischreden (Weimar: Böhlau, 1912-1921), v. 5, p. 9.

‘n Baba word deur ‘n demoon omgeruil.  ‘n Skildery uit kanselstukke “Die legende van Sint Stephen” deur Martino di Bartholomeo (15de Eeu).

“Nog ‘n vreeslike ding wat deur God toegelaat word wat met mense gebeur is wanneer hulle eie kinders van hulle weggeneem te word en in hul plek ‘n vreemde kind deur duiwels geplaas word.  Daar is drie tipes van hierdie kinders, wat Omruilbabas, of in die Duitse taal Wechelkinder, genoem word.  Al drie tipes het die volgende kenmerke in gemeen – hulle is baie swaar, hulle is traag om te groei en hulle kan nie genoeg melk drink om hulle dors te slaak nie en sterf dikwels daarvan.

(Malleus Maleficarum (“Hamer van die Hekse”), Deel 2, Vraag 2, Hoofstuk 8).

Skildery op die muur van die Undløse kerk in Denmarke wat uitbeeld hoe Laurentius na sy geboorte deur die duiwel met ‘n Omruilbaba vervang is (1430-50 nC).

Die kerstening van die Germane het hulle nie genoop om kinders met genetiese afwykings met meer empatie te behandel nie.  Omruilbabas was steeds verbrand en verniel met die hoop dat die mensbaba deur die demone teruggebring sou word.

Die terugkeer van St. Stephen en die verbranding van die Omruilbaba (n Skildery uit kanselstukke “Die legende van Sint Stephen” deur Martino di Bartholomeo (15de Eeu).

Die doop as beskerming teen omruiling

Na die Germane gekersten is, het hulle die doop as die oplossing teen die bose wesens, wat hul babas wou omruil gesien.  Die pasbekeerde Germane het vas geglo dat ‘n baba wat gedoop is, nie meer deur die wesens van die onderwêreld gesteel sou kon word nie en die meer Christelike gelowiges het geglo dat die doop die kind deur omruiling deur hekse en demone sou beskerm.

Die Ondergrondse Mense steel ‘n kind in Witzin

Volgens ‘n ou vrou van Witzin, daar is ‘n gebruik in haar dorpie en in die hele distrik van Sternberg, om ‘n lig by ‘n pasgebore baba te laat brand totdat die baba gedoop is.  Daar was ‘n vrou wat nagelaat het om dit te doen en haar kind was deur die Ondergrondse Mense gesteel en een van hul babas was in die plek van die mensbaba gelê.  Die ma het eers die volgende dag agtergekom dat haar baba omgeruil is en het raad by ‘n buurvrou gevra.  Die buurvrou se raad was om “bier in ‘n eier te brou.” Die ma het haar raad gevolg en die baba, wat tot op daardie stadium geen geluid geuiter het nie, het uitgebars met: “Ek is so oud soos Boheemse goud, maar ek het nog nooit sulke brouery gesien nie!”  Daar was ‘n skielike geroesemoes en die Omruilbaba het verdwyn en haar eie baba het in die plek daarvan verskyn.

Bron: Karl Bartsch (1879), Sagen, Märchen und Gebräuche aus Meklenburg (Vienna, Wilhelm Braumüller), vol. 1, pp. 64-65. Bartsch se bron was ‘n teologiestudent van Zarrentin.

Omruilbabas onder die Duitssprekendes in die Iglauer Spraakeiland in hedendaagse Jihlava (Tjeggië)

’n Ou vroedvrou het my hierdie storie vertel en dus moet dit die waarheid wees: voor ‘n baba gedoop is, sal vreemde wesens poog om dit te steel en ‘n Omruilbaba in sy plek te sit.  So ‘n Omruilbaba het ‘n groot kop met steenkool-swart hare, en ‘n klein lyfie met dun beentjies, wat nooit leer om te loop nie.  Wanneer so-iets gebeur moet mens die Omruilbaba sonder genade slaan tot die dief die regte kind terugbring.

‘n Vrou het een keer haar ongedoopte baba op ‘n bed neergelê.  Net buite die kamervenster was ‘n kersieboom waarvan die kersies pas rypgeword het.  Sy kon dit nie weerstaan nie en het net vir ‘n oomblik wou uitgaan om van die kersies te pluk.  Sy het skaars oor die drumpel getrap toe sy met angs oor haar slapende kind oorval is en het dadelik omgedraai en na haar baba teruggehaas.  Reg daar, langs die bed het ‘n wese gestaan.  Die vrou het gegil en die wese het verdwyn.  Die afdruk van sy klou waar hy na die kind gegryp het was nog sigbaar op die bed.

Bron: Anton Altrichter (1920), Sagen aus der Iglauer Sprachinsel (Iglau: Druck von J. Rippel und Sohn), p. 100.

‘n Man skiet pyle na die nok van die dak.  In die Middeleeue het mense geglo dat hekse op huise se dakke bymekaarkom om nuutgebore en ongedoopte babas te steel.  Die pa sou dan pyle oor die dak skiet om so die (meestal onsigbare) hekse te verwilder (Pieter Bruegel die Ouere (1559) Breughel Nederlandse Spreekwoorden).

Die Bybel beskerm teen Omruilbabas in Altmark

Mens moet ‘n nuutgebore baba heeltyd oppas tot dit gedoop is, om te voorkom dat die Dikkoppe die kind kom omruil.  Die doop moet dus so gou as moontlik plaasvind.

In die gebied tussen Salzwedel en Disdorf word dwerge nie Dikkoppe genoem nie maar eerder Ondergrondse Mense.  Die geloof in Omruilbabas is baie sterk in hierdie gebied.

Die mense in hierdie gebied vrees dat die misvormde dwerge wat onder die grond bly, bitter graag die mense se pragtige, goed-geboude kinders wil hê en dus sal hulle hul eie misvormde kinders – die Omruilkinders – in die plek van die menskinders, wat hulle dan steel, los.

Dus is daar altyd ‘n geweldige haas om die nuutgebore baba te laat doop en tot dit gebeur sal ma en kind nie rus vir hul lewens kry nie.  Verder, totdat die baba gedoop is, moet daar altyd ‘n lig naby hulle brand, selfs gedurende helder daglig, omdat die Ondergrondse Mense bang vir die lig is.

‘n Kind moet sorgsaam en aanmekaar beskerm word teen ‘n omruiling deur die Ondergrondse Mense totdat die baba gedoop is.  Dus moet mens die Bybel, of selfs net ‘n bladsy van die Bybel, of Gesangeboek saam met die kind in ‘n kombers toegewikkel word of in sy wiegie gesit word.

Bron: J.D.H. Temme (1839), Die Volkssagen der Altmark (Berlin: In der Nicolaischen Buchhandlung), pp. 74, 82, 86.

Doopklere en wiegies wat deur Swede ‘n paar eeu gelede gebruik was.  Daar is patrone en simbole in die naaldwerk wat bose wesens afweer en sodoende die kindjie sal beskerm tot hy gedoop is.

Dit is duidelik dat mense geglo het, en ek is seker daar is nog steeds mense vandag wat dit glo, dat totdat ‘n baba gedoop is, dit deur demone omgeruil kan word.  Die laaste plek waar ‘n babas is, net voor hulle gedoop word, is in die konsistorie van die kerk.  Dit is waar die peetma, ouer sussie, ouma of tante met die baba wag totdat sy die baba vir die ouers voor die kansel moet bring om gedoop te word.  Die konsistorie is dus die heel laaste plek waar die baba deur die duiwel omgeruil kon word.

Lees meer oor Onkambare Hare Sindroom:

Basmanav, FBÜ, et al. (2016). Mutations in Three Genes Encoding Proteins Involved in Hair Shaft Formation Cause Uncombable Hair Syndrome. American Journal of Human Genetics. 99(6):1292-1304.

 

error: Content is protected !!