Hoekom is daar ‘n haan op die kerktoring?

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Hoekom is daar ‘n haan op die kerktoring?

June 12, 2023 Hoekom is dinge so? 0

François Durand

Toe ek klein was, was ek onder die indruk dat die hoenderhaan op die kerktoring ‘n Afrikaner ding was.  Daar was nie hoenderhane op die Katolieke Kerk se toring nie, of die Metodiste s’n nie en ook nie op die Apostoliese Kerk se dak nie.  Ek het gedink dat dit maar seker ons verbondenheid aan die land en dus ons afhanklikheid van die weer bewys.  Aangesien die kerktoring die hoogste gebou in die dorp is, kan die boere rondomheen dan mos die hoenderhaan raaksien om te weet in watter rigting die wind waai – vir oes en saai en sulke dinge soos om te weet of dit gaan reën of nie.

Hierdie vreemde verskynsel het my oor die jare bly prikkel en ek het toe daaroor begin oplees.  Volgens meeste bronne het Pous Nikolaas I (800 – 867), ‘n edik uitgereik dat elke kerk ‘n hoenderhaan op die kerktoring moet plaas om mense te herinner aan die hoenderhaan wat gekraai het nadat Petrus Jesus drie keer verloën het.

Toe ek oorsee begin reis het, het ek gemerk dat hoenderhane slegs op die kerktorings van die noorderlike lande in Europa voorkom en nie dié in die suide nie. Met ander woorde hoenderhane kom op ‘n paar kerktorings in Engeland en Frankryk voor, maar is algemeen in Duitsland, Swede, Noorweë, Denemarke en Letland en kom tot my verbasing selfs in Oekraïene voor!  Dit is met ander woorde glad nie ‘n unieke Afrikaanse ding nie.  Ek het egter geen hoenderhane op die kerktorings in Spanje, Italië of Griekeland opgemerk nie.

Duidelik het die mense in Italië, Spanje en Griekeland nie gehoor gegee aan hierdie edik van Pous Nikolaas I nie, maar wat hierdie storie veral bisar maak is dat die vertellers blykbaar nie agtergekom het dat die Pous in die Vatikaanstad in Rome bly nie.  Dus selfs die mense in die Vatikaanstad, direk onder die pous se beheer, het nie gehoor aan hierdie edik gegee nie, want nie een van die 15 kerke binne die mure van die Vatikaanstad, Sint Pieterskerk inkluis, het ‘n enkele hoenderhaan op nie en daar is bitter weining hoenderhane op kerktorings in Italië!  So wat gaan hier aan?

Dit beteken dat ons nog dieper moet delf as om net die storie van Pous Nikolaas I en die hoenderhaan te aanvaar. Die oudste hoenderhaan op ‘n kerktoring sover ons weet is dié van die San Faustino Kerk in Brescia in Italië wat tussen 820-830 op die kerktoring opgerig is – met ander woorde sowat 30 jaar voordat Nikolaas op 24 April 858 as pous aangestel is.

Die hoenderhaan van San Faustino Kerk

Daar word vertel dat Pous Leo IV (790 – 855), die voorganger van Pous Nikolaas I, reeds ‘n hoenderhaan op Sint Pieterskerk aangebring het, maar buiten dat daar geen teken daarvan is nie, is daar ook die ongemaklike bewuswording dat dit dus duidelik nie Nikolaas was wat met die praktyk begin het nie – en dalk dat die hoenderhaan miskien ook nie Petrus se verloëning van Jesus simboliseer nie.  Dit is volgens my ook ‘n lawwe idee om juis die simbool van Jesus se verloëning deur Petrus op die hoogste strukture in dorpe op te rig en uit te basuin eerder as ‘n simbool dat die kerk aan Christus gewy is.  Maar wag, dit is tog die geval – op meeste kerke se torings pryk ‘n kruis wat presies dit simboliseer.  Hoe vreemd dan om ‘n kruis vir ‘n hoenderhaan te verruil.

Op die oostelike hang van Sionsberg net buite die ommuurde Ou Stad van Jerusalem is Sint Peterskerk.  Die gebied word Gallicantu genoem wat in Latyn “hanekraai” beteken, omdat Christene van ouds geglo het dat dit die plek was waar die paleis van Kajafas was waar Petrus vir die derde maal Jesus verloën het en die haan gekraai het.  Die oorspronklike kerk was deur Bisantynse monnike daar in 457 opgerig wat op pelgrimstogte na Jerusalem gegaan het.  Die Mohammedaanse Kalief Al-Hakim bi-Amr Allah het dit in 1010 egter vernietig.  Die kerk was deur die Kruisvaarders in 1102 herbou en die Kerk van Sint Petrus herdoop en ‘n hoenderhaan is bo-op ‘n kruis bo-op die dak, maar nie op die kloktoring, geplaas.

Sint Peterskerk van Jerusalem

Die Sint Peterskerk is volgens my die enigste kerk wat regtig rede vir hierdie hoenderhaan het wat wel as simbool van Petrus se verloëning van Jesus kan dien.  Dit is ook vas bo-op ‘n kruis opgerig en dien nie as windhaan wat in die ronde draai soos die hoenderhane op meeste ander kerktorings nie.  Wat mense egter in hierdie storie miskyk is dat die kerk deur Kruisvaarders herbou is.  Kruisvaarders het van oral in Europa gekom, maar was oorwegend van oer-Germaanse afkoms.

Die Kruisvaarders wat aan die 1101 kruistog deelgeneem het en hierdie kerk herbou het, kom van Frankryk, Duitsland en Italië.  Die mense van hierdie lande het vandag uiteenlopende kulture en tale, maar oorspronklik was hulle van noord Europa waar Germaanse tale gepraat word.

Ons moet die wortel van hierdie vreemde verhaal gaan soek by die inval van Atilla die Hun (406-453) wat in die vyfde Eeu Europa met sy hordes Hunne binnegeval het.  Soos Shaka se impis wat Siklaats en sy mense tydens die Difekane voor hulle uitgedryf het, wat een stam na die ander wat hulle teëgekom het aangeval het en die oorlewendes voor hulle laat uitvlug het en in die proses daardie stamme in ander stamme laat bots het en so die volkere in Suid-Afrika oos en wes en noord laat migreer het, het die Hunne se inval in Europa dieselfde effek gehad.

Groepe van in die tiene van duisende mense het voor die Hunne uitgevlug vandat hulle Oos Europa vanuit Asië binnegeval het.  Dit het veroorsaak dat hierdie mense Germanië binnegestroom het.  Dit het weer veroorsaak dat Germane suid en wes begin vlug het.  In 376 het die Gote die Donau, wat die noordelike grens van die Romeinse Ryk was, oorgesteek.  Aanvanklik het hulle hulself onderderdanig aan Keiser Valens verklaar, maar het in opstand gekom, toe hulle stief behandel was en het toe teen die Romeine begin veg.  Valens self was gedood tydens die Slag van Adrianopel in 378.  In 406 het groot getalle Vandale, Alane, Suebeniërs en Boergondiërs die Ryn oorgesteek om van die Hunne te ontsnap, en sodoende Romeins-Gallië (hedendaagse Frankryk) binnegeval.

Aanvanklik het Atilla vanuit sy vesting noord van die Donau, die rivier twee keer oorgesteek om die Balkan ten suide te plunder, maar het nie geslaag om Konstantinopel te verower nie.  Daarna probeer hy om Romeins-Gallië weswaarts te verower, maar word tydens die Slag van Chalons, naby Orleans, in 451, in wat as die bloedigste oorlog wat ooit in Europa geveg is, verslaan.  Die sukses van die slag was te danke aan ‘n onwaarskynlike samesnoering van kragte tussen die Germaanse koning Theodorus en die Romeinse generaal Aetius.

Na die Slag van Chalons, retireer Atilla en sy oorblywende weermag terug na hul vesting waar hulle hergroepeer en Italië in 452 aanval.  Al het hy die noordelike dele van Italië verwoes, slaag hy nie daarin om Rome te verower nie.  Daar is talle staaltjies wat vertel hoe Atilla omgedraai het toe Pous Leo I met hom gepraat het, maar dit klink alles hoogs onwaarskynlik dat so ‘n ontmoeting werklik plaasgevind het.  Atilla het waarskynlik weens die pes wat in Italië in daardie tyd uitgebreek het, onttrek, sodat hy Rome in die toekoms kon aanval.  Sy planne was egter in 453 gestuit toe hy tydens die gefuif, na sy huwelik met Ildiko, sterf toe sy neus onbeheersd begin bloei het.  Atilla se getroue raadsman, die Germaan Ardarik van die Gepide, het na Atilla se dood ‘n Germaanse teenaanval teen die Hunne gelei waarna die Hunniese Ryk in duie gestort het.

Hierdie Migrasieperiode wat ook die Barbaarse Invalle genoem word, het uiteindelik tot die val van die Westelike Romeinse Ryk gelei.  Die amptelike datum vir die val van die Westelike Romeinse Ryk is 4 September 476 toe die Germaan Odoaker Keiser Romulus Augustulus uit die kussings gelig het.  Romulus Augustulus was maar 12 jaar oud en Odoaker het hom huis toe gestuur met 6000 solidi (goue Romeinse munte) om by sy familie te gaan bly.  Odoaker was egter die aanvoerder van die Germaanse huursoldate in die Romeinse leer.  Germaanse stamme het oral oor dele van die Romeinse Ryk binnegeval en beset.

Die Oostelike Romeinse Ryk het met die inval van die Ottomane in 1453 en die oorgawe van Konstantinopel, tot ‘n einde gekom.  Al die Romeine het nie met die val van die Romeinse Ryk verdwyn nie, maar het met hul lewens aangegaan en talle het met Germane ondertrou.  Die Romeinse kultuur het sodoende oraloor oorleef en was algaande deur die Germaanse stamme in daardie gebiede aangeneem en hul eie gemaak.

Italië was in 489 deur Theodorus, die koning van die Osgtrogote, binnegeval en nadat hy Odoaker in 493 uit die kussings gelig het, as heerser van Italië oorgeneem.  Theodorus was egter ook in 483 as die aanvoerder van die Oostelike Romeinse magte aangestel en in 484 was hy as konsul van die Oostelike Romeinse Ryk aangestel.  Ten spyte van sy Germaanse herkoms het Theodorus tydens sy heerskappy ‘n Romeinse administrasie, Christelike godsdiens en Latynstalige skolastiese kultuur gehandhaaf en sy bes gedoen om ‘n nuwe toekoms te bou deur om Gotiese lewenskrag in die ou waardes van die ou Romeinse Ryk in te blaas.

Theodorus het egter ook gesê: “’n Vermoënde Goot sal altyd soos ‘n Romein wil wees, en slegs ‘n armlastige Romein sal soos ‘n Goot wil wees” – en daardie afwysende hovaardigheid is waaroor die artikel Waar kom vloekwoorde vandaan? gaan.

Die samesmelting van hierdie twee groot kulture – die Romeinse en die Germaanse het egter nie sonder haakplekke gegaan nie, en oral was daar vervolging van die een groep deur die ander.  Die Jode het sekerlik as gemene buitestaander, die meeste die spit afgebyt.  Tog, ten spyte van hierdie brutale en blatante vergrype, het die samesmelting van die twee kulture tog voortgegaan en in baie gevalle baie subtiel.

Die gesegde lui: “die een hand was die ander skoon”.  Maar in hierdie geval is een vuil en een skoon en het so ‘n mengsel tussen die twee ontstaan.  Een van die resultate van hierdie samesmelting was ‘n tipe sinkritisme waar die twee gelowe saamgesmelt het.  Alhoewel Europese heidene vanaf Charlemagne of Karel die Grote se tyd wreed vervolg is, het talle van hulle geloofsitems ‘n merkbare afdruk op die Christelike geloof gelaat.  Om net ‘n paar te noem: vroulike engele, hoenderhane op kerktorings, krygerpriesters en Kersfees.

‘n Noorweegse staafkerk

Die noordelike Germaanse stamme – die Noorweërs en Swede het na hul kerstening ongeveer 800 jaar gelede die mooiste kerke uit hout gebou.  Hierdie kerke word staafkerke genoem.  Staafkerke bestaan geheel en al uit hout met ‘n paar ysterafwerkings soos die hoenderhaan heel bo.

Staafkerke verskil van ander kerke in verskeie opsigte: Daar is slegs een groot deur met verskeie vreemde kenmerke.  Die raam van die deur is met geweldig baie detail afgerond wat uitstaan omdat die res van die kerkgebou redelik onversierd is.  Daar is ‘n deurdrempel van etlike sentimeters hoog waaroor jy moet trap om in die kerk in te gaan.  Die deur kan van binne, maar nie buite gesluit word nie.  Die details van die deurraam en die skuifbalk binne bevat talle heidense simbole van oorlogshelde, dwerge, drake en selfs die Yggdrasil boom wat volgens Germaanse legendes voor die skepping bestaan het en na Ragnarök, die oorlog aan die einde van tyd, nog steeds sal bestaan.

Verder is daar geen vensters nie.  Dit is stikdonker binne die kerk wanneer die deur wat soos ‘n portaal na ‘n magiese plek is, agter die mense gesluit word.  Natuurlik was daar lanterns wat aangesteek sou word.

Daar is kruise op die dakke van die staafkerke – maar heel onder.  Die ander strukture wat van die nokke van die dakke uitsteek is draakkoppe.  En dan, natuurlik, is daar op elke staafkerk ‘n hoenderhaan – wat in die wind in die rondte kan draai, maar in baie gevalle nie noord, oos, suid of weste-tekens onderaan het nie.

Daar is egter ook geen plafon nie.  As mens opkyk, kyk mens in die reeks dakke, wat opmekaar gestapel is op, tot heel bo waar die hoenderhaan sit.  As mens in so ‘n kerk staan begin mens besef dat dit nie ‘n kerk is soos ons daaraan dink nie.  Daar was ‘n priester wat goed in Latyn uit die Bybel gelees en gepreek het, maar die Noormanne sou nie ‘n snars daarvan verstaan het nie.  Hulle moes egter op Sondae volgens die koning se dekreet aanbid of om die lewe gebring word.  Die kerk was egter volgens hulle eie religie en waardes opgerig wat gelukkig vir hulle genoeg met die Christelike geloof oorvleuel het dat dit nie agterdog verwek het nie – soos die hoenderhaan in die Bybel en die hoenderhaan in hul eie geloof.  Die kerk is basies soos ‘n buis gebou wat simbolies deur die hoenderhaan met Asgard gekoppel is en waardeur hulle gode met hulle kon kommunikeer.

As nie een van die kerke in die Vatikaanstad ‘n hoenderhaan op hul torings het nie, maar al die staafkerke in die verafgeleë land van die Noormanne hoenderhane op het, klink dit vir my asof die storie van Pous Nikolaas I se hoenderhaan-edik vergesog is.

Die Germane het geglo dat daar eendag ‘n finale oorlog sou wees wat tot die vernietiging van elke mens, dier, monster en selfs al die gode sou lei.  Die oorlog se naam is Ragnarök.  Volgens die legende staan die god Heimdal wag bo-aan die Bifrost brug (die reënboog) wat Mitgard (Middelaarde) met Asgard (die hemel) verbind.  By hom staan die hoenderhaan Gullinkambi (goue kam) wat getrou saam met hom waak hou.  Die haan was in alle rigtings op die uitkyk vir gevaar en sou die haan ‘n bedreiging vir die heiligdom sien aankom, sou hy kraai en so die gode en die gevalle helde (die Einherjar) waarsku.  Uiteindelik word Asgard uit die noorde deur die Ysreuse aangeval, vanuit die suide deur die Vuurreuse, deur Jormungand, die aardserpent en Fenrir die kosmiese wolf van oos en wes aangeval en natuurlik deur Hel en die eerlose dooies van onder.

En dit is die rede hoekom daar ‘n haan op die kertoring staan – vir ‘n baie dringender behoefte onder Germaanse stamme as ‘n herninnering aan Petrus se verloëning van Jesus.

Detail van die Bayeux tapisserie wat die plasing van ‘n haan op die Westminster Abdy toon (links)

In 1066 val die Normandiërs Engeland binne.  Engeland was toe geregeer deur afstammelinge van Saksers en Deense Vikings en het hulself Engelse genoem.  Normandiërs was die afstammelinge van ‘n groep Deense Vikings wat onder Rollo in Frankryk gaan vestig het, met die voorwaarde dat hulle Christene sou word en Frans sou leer praat.

Die Franssprekende Normandiërs was erg hovaardig jeens hul Engelse onderdane (lees daaroor in: Die geskiedenis van eetgewoontes).  Die Bayeux Tapisserie, wat een van die bekendste kunswerke van die Middeleeue is, dokumenteer die Normandiese oorname van Engeland.  Hierdie verstommende kunswerk, wat 70 meter lank en 50 cm breed is, bevat 58 tonele insluitende een waar ‘n Normandiër ‘n hoenderhaan op Westminster Abdy se dak, ten tye van Koning Edward se begrafnis, plaas.

Die Oorlog-mausoleum in Johannesburg met ‘n vroulike engel

Alle engele in die Bybel word as manlik beskryf.  Die valkure van die Germane was egter vroulik.  Valkure sou gevalle krygers op die slagveld kom haal en na Valhalla toe neem waar hulle in die geselskap van Odin en Thor en ander helde sou feesvier tot met Ragnarok.

Hierdie geloof aan die dapper kryger wat hemel toe gaan, is een van die sterk temas van die kruisvaarder.  Talle Middeleeuse mans het by kruistogte aangesluit met die idee dat as hulle op die slagveld sterf, hul sondes vergewe sou wees en dat hul hemel toe sal gaan.  Dit het aan die kruisvaarder – ‘n priesterkryger – oorsprong gegee.  Daar was geen sprake van om ‘n visser vir mense te word of ‘n skaapwagter wat skape oppas nie, jou heil was op die slagveld verkry – iets wat baie vreemd in Jesus se tyd sou gewees het, maar wat die morele kern van die Viking se veglustigheid gevorm het.

Natuurlik is dit onsinnig om soos die Germane te dink dat alle krygers outomaties na die hemel sou gaan bloot omdat hulle dapper krygers was, maar tog daar sit die valkure op die gebou met die name van die gevalle krygers van die Anglo-Boereoorloë en die Eerste en Tweede Wêreldoorlog en niemand knip ‘n oog nie want die versmelting van die twee kulture was soomloos.

error: Content is protected !!