Waar kom vloekwoorde vandaan?

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Waar kom vloekwoorde vandaan?

June 5, 2023 Hoekom is dinge so? 0

François Durand

Ek het eenkeer iemand hoor sê dat Afrikaans een van die tale is wat die meeste vloekwoorde het.  Toe word die afleiding gemaak dat dit sekerlik is omdat ons so vuilbekkig is, swak smaak het, onopgevoed en platvloers is.  Ek stem nie saam nie – ek dink ons het die teenoorgestelde probleem: weens ons geveinsdheid, bekrompenheid en puritanisme, beskou ons ‘n spul gewone woorde as vloekwoorde terwyl dit nie is nie.

Hierdie stuk gaan nie oor taalkundige kwessies soos die verhandeling van Anna Feinhauer: Die taalkundige gedrag van vloekwoorde in Afrikaans (Stellenbosch Universiteit, 1981) nie.  Hierdie stuk gaan wel oor die sosiopolitiese aard van vloekwoorde – naamlik WIE besluit wanneer ‘n woord ‘n vloekwoord is, en HOEKOM dit as ‘n vloekwoord beskou word.

Kom ons begin egter met die definisie van ‘n vloekwoord – dit is ‘n woord wat godslasterik is, of na ‘n liggaamsdeel verwys wat nie in die openbaar ontbloot moet word nie, of na ‘n liggaamsfunksie wat nie in die openbaar gedoen word nie.

Laat ons met die eersgenoemde kategorie begin – godslastering.  Dit is oënskynlik ‘n maklike kategorie – daar is twee name in die Bybel wat jy nie ydelik mag gebruik nie anders is dit godslastering.  Alhoewel, na daardie besluit geneem is, word mens verswelg met woorde en metafore wat niks aan die verbeelding oorlaat nie, tot woorde soos gonna, allamapstieks en jinne wat sekere mense as herleidings van hierdie name sien.

Ongelukkig is dit nie die einde van die storie nie.  Afrikaans het twee unieke vloekwoorde wat na die weer verwys.  Net om te illustreer: “you thunder, I will lightning you” is absoluut betekenisloos, maar as ek dit na Afrikaans vertaal is dit “jou donder, ek sal jou bliksem!” en dan is die uitdrukking skielik vol betekenis – en die gepaardgaande veroordeling, maar wat op aarde maak hierdie twee allerdaagse woorde vloekwoorde?

Die antwoord is die vergoddeliking van die weer en dus sal verwysings daarna in die kategorie van godslastering val en as vloekwoorde beskou word.  Die vergoddeliking van die weer het ‘n lang aanloop – trouens vir duisende jare het mense van Europa en die Midde-Ooste en tot by Indië geglo dat die weer ‘n aspek of ‘n kenmerk van goddelikheid is.  Die mense wat hier bly is die nasate van die Indo-Europeërs wat ongeveer 6000 jaar gelede deur Europa, die Midde-Ooste en Indië versprei het.  Die nasate van hierdie mense het in ‘n manlike god geglo wat in die lug of hemel gebly het en bliksemstrale en donderweer beheer het, lees onder andere: Exodus 19:9, 16, Exodus 20:18, Job 37:3, Job 36:30-33, Daniël 10:6, Habakkuk 3:11, Sagaria 9:14, 2 Konings 1:10, Openbaring 4:5.

Dan die sleutelvers:  Exodus 33:20: “Jy kan My aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”  Koppel hierdie teks met die aanname dat God en weerlig sinoniem is en dan verklaar dit die feit dat baie mense tot ‘n geslag gelede gordyne toegetrek het, messe en blink voorwerpe in laaie gebêre het en spieëls toegemaak het as donderweer opsteek – sodat hulle nie weerlig in dit sal kan sien weerkaats nie.

Die verhaal van die Vlieënde Hollander was juis so ‘n staaltjie om mense, maar kinders veral, oor die gevaar om die weer te disrespekteer en veral te vloek, te waarsku.  Kaptein van der Decken, het na hy die hele dag teen die wind geworstel het om in die Kaapstad hawe vas te meer, die weer gevloek.  Maar omdat die weer eintlik ook goddelik is, was hy verdoem om die res van sy lewe in sy spookskip oor die waters te vaar.

Hierdie bygeloof het in die Kaap onder Afrikaanssprekendes oorleef terwyl dit in die res van die wêreld verdwyn het en dus is dit slegs hier waar die woorde donder en bliksem nog enige godslasterlike bybetekenis het.

Ek moet ‘n paar beginsels uitklaar voor ons verder oor die onderwerp kan praat.  Die eerste beginsel is dat elke woord ‘n betekenis het.  Tweedens – elke liggaamsdeel, liggaamsfunksie, emosie of konsep het ‘n woord.  Sekere van hierdie woorde word egter as vloekwoorde beskou.

Vir diegene wat hiernatoe gekom het om bietjie smet te soek om daardeur geprikkel te word of met selfgeregtigheid te kom veroordeel, gaan ek egter teleurstel, want hier gaan jy niks kry wat een van daardie behoeftes van jou bevredig nie.

Eerstens wil ek met ‘n ware verhaal begin.  Toe sendelinge in Tahiti aanland toe vind hulle tot hulle skok dat die Tahitiane nie ‘n woord vir sonde het nie.  Sonder sonde is daar geen rede vir die bestaan van die Christelike geloof nie en dus moes die Tahitiane eers geleer word wat sonde was, voor hulle kon leer dat hulle verdoem is omdat hulle in sonde ontvang en gebore is, voor hulle die bloedoffer en vergiffenis van die kruisdood kon verstaan en aanvaar, voor hulle sondes vergewe kon word.  Kan jy jou indink hoe daardie priesters deur die eiland gegaan het en vir mense verduidelik dat die dinge wat vir hulle vir duisende jare allerdaags was, eintlik nou sonde is.  Die feit dat hulle kaal rondgeloop het en seks gehad het wanneer hulle dit nodig gehad het, was nou alles sonde.  Die kulturele dissonansie wat toe moes plaasgevind het was waarskynlik net so aanskoulik soos die meer as helfte van die bevolking se afsterwe weens die virussiektes wat hulle van die sendelinge ontvang het wat waarskynlik as die wil en straf van God vertolk is.

Iets soortgelyks het met die Germane gebeur toe hulle deur die Romeine oorgeneem is.  Die Germane het oorspronklik nie hulself so genoem nie.  Germanicus, ‘n Romeinse generaal, wat hul land verower het, het dit Germania na homself vernoem.  Daar was natuurlik weerstand, maar daar was nie ‘n verenigde front teen die Romeine nie, en alhoewel Herman ‘n skitterende oorwinning oor die Romeine in die Teutoburgerwoud in 9 nC behaal het toe hy en sy krygers drie legioene Romeinse soldate totaal uitgewis het, het Germania, vanaf die suide stadig maar seker deur die Romeinse Ryk verswelg geraak en in die proses die Romeinse lewenswyse en kulurele norme en waardes aanvaar.  Dit sluit die aanvaarding van die Christelike geloof in wat in 380 nC die amptelike religie van die Romeinse Ryk geword het.

Uiteindelik stort die Romeinse Ryk ineen – eers in die Weste, en later in die Ooste.  Hierdie ineenstorting is eintlik ‘n grys moeras van politieke en sosiale omwenteling want alhoewel die laaste Romeinse keiser in Romulus Augustulus deur die Germaanse hoofman Odoaker in 476 verslaan is, het die Romeinse kultuur in taal, politiek, kultuur en godsdiens voortgeleef.  Die ineenstorting van die Romeinse Ryk gaan gepaard met die massa migrasie van Germaanse volke na die suide Mongoolse inval vanuit die ooste.  Die Germane wat die Romeinse Ryk oorgeneem het, was reeds in baie opsigte verromeins en het met die Romeinse kultuur voortgegaan.

Ek weet van talle mense wat teen hierdie idee skop naamlik dat ons mak Romeine is, en as jy een van hulle is, antwoord die volgende vrae: vertel my hoeveel kosmiese ryke is daar, vertel my hoe het die aarde ontstaan en verduidelik wat aan die einde van tyd gaan gebeur.  As jou antwoord die woorde drie, derde dag en wederkoms insluit is jy ‘n Romein en as jou antwoord nege, Ymir en Ragnarok insluit, is jy ‘n Germaan.  En dan sommer om my verder te oortuig skryf jou naam op papier.  As jy nog steeds glo dat jy nie ‘n Romein is nie maar steeds jou naam in Romeinse letters skryf en nie die Futhark nie dan verskoon ek jou nou maar want die res van die artikel gaan nog meer ontgogelend en ontstellend wees.

Natuurlik het elke volk op aarde woorde vir geslagsorgane, en organiese funksies – watter woorde dink jy moes die Bybelskrywer eerder as ואצי gebruik het?  So watter woorde moes hulle of enige ander volk op aarde gebruik om dit te beskryf?  Dit was die enigste woorde vir die voorwerp en daad in Hebreeus.  Latyn het nie in daardie tyd bestaan om dit daarmee te vervang nie.

Gelukkig het ons Latyn.  Dus kan ons nou die Latynse woorde (vir die wat nie weet nie – Latyn was die taal van die Romeine) in plaas van ons oorspronklike Germaanse woorde gebruik.  Maar dan is daar die magdom eufimismes wat die Afrikaanse taal by uitnemendheid gebruik om alles wat ontvroom is toe te smeer en met metafore te verdoesel.  Kom ons kyk wat Afrikaners met Jesaja 36:12 doen:

et dixit ad eos Rabsaces numquid ad dominum tuum et ad te misit me dominus meus ut loquerer omnia verba ista et non potius ad viros qui sedent in muro ut comedant stercora sua et bibant urinam pedum suorum vobiscum

 “Maar die hoofadjudant antwoord: ‘Dink julle my koning het my net na julle koning en na julle toe gestuur om dié dinge te sê, en nie ook na die manne wat op die muur sit nie? Hulle sal hulle eie חַרְאֵיהֶם moet eet en hulle eie שֵׁינֵיהֶם moet drink, net soos julle!’”

Sjoe, dis so erg, mens kan nie eers oorweeg om hierdie teksvers oor die radio te lees nie!  Is dit OK om dit van die kansel te lees dan?  Of wat van om die tafel met huisgodsdiens?  Is sekere dele van God se Woord sosiaal meer aanvaarbaar as ander?  Kan dit wees dat die Afrikaner puritein nog meer moreel is as die Bybelskrywer self?  Hoe kan die Bybelskrywer in Hebreeus en Latyn dan blatant sulke woorde gebruik maar ons sal eerder metafore of self die Latynse woorde gebruik voor ons ons eie Germaanse woorde mag gebruik?  Wat maak Latyn meer aanvaarbaar as Afrikaans?

Nou sit die Calvinistiese ma met ‘n groot probleem – sy is baie lief vir haar baba wat sy moet leer op die potjie te gebruik maar sy mag nie enige van die woorde gebruik wat haar volk reeds vir duisende jare gebruik nie want dis skielik te kru, vieslik, sosiaal onaanvaarbaar – al die woorde wat hiermee te doen het is nou volgens haar Latynsprekende mentor, die priester, VLOEKWOORDE!  Dus kom die liewe slim ma met ‘n eufimisme, ‘n metafoor, om die orgaan of daad te beskryf.  Sy gaan nie die ou Germaanse woord gebruik nie, wat buiten die naam vir die geslagsorgaan is, vir eeue vir niks anders gebruik word nie, en dus heeltemal onskuldig is.  Nee sy gaan haar dogtertjie se geslagsorgaan na ‘n sinoniem vir katjie noem.  O wee! En net daar skep sy onwetend in onskuld en liefde die vieslikste woord in die Afrikaanse taal.  Natuurlik is daar ‘n ‘n paar eeue later ‘n Afrikaanse moeder wat nooit ooit só na haar dogtertjie se geslagsorgaan sal verwys nie en toe gebruik sy uit onskuld en liefde ‘n ander metafoor – sy gaan dit ‘n kartonhouertjie noem.  En net daar skep sy die tweede vieslikste woord in die Afrikaanse taal – bloot deur assosiasie met die orgaan en nie sy funksie as kartonhouer nie.

Die arme Afrikaanssprekende wat vasgevang is tussen Calvinisme aan die een kant en Victorianisme aan die ander kant, skaak konstant onskuldige woorde uit ons woordeskat om as eufemismes vir geslagsorgane en liggaamsdade te dien wat ons dan weer deur assosiasie weens ons dweepsieke puritanisme om daardie onskuldige woorde nou as vloekwoorde te beskou.

Nou word die res van die Afrikaanssprekendes deur hul die vrome selfaangestelde hekwagters van moraliteit geforseer om vir die res van tyd kartonhouers bokse te noem omdat ons eenvoudig domonnosel is.  Regtig – so dom soos grond.  Ons skep ons eie demone waarvoor ons dan skrik.  Afrikaans het besonder baie vloekwoorde gemeet teenoor ander tale juis weens ons dweepsieke puritanisme en juis nie omdat ons so vuilbekkig is nie.  Hierdie siekte sal aanhou bly wegvreet aan ons woordeskat tot iemand braaf genoeg is om hierdie gekkerny te stop deur om te sê – daar is net die ses oorspronklike woorde in ons taal vir geslagsorgane en liggaamsdade en basta met die res!  En as die oorspronklike woorde jou inhibeer om normale liggaamsfunksies te verrig, wel, dan is dit eenvoudig jou probleem en los ons ander uit.

Nou terug na Latyn – die taal van die Romeine.

Mens hoor op die nuus: “Die atleet se urinetoets het verbode opkikkers opgelewer” of: “Cholera in die water was waarskynlik deur fekale bakterieë veroorsaak”

So dit is aanvaarbaar om urine en feses, selfs in ordentlike gesprekke te gebruik?  Hoekom is dit aanvaarbaar om die Latynse woorde te gebruik en nie die Germaanse woord nie?  Waar kom hierdie skisofrenie vandaan dat sekere woorde aanvaarbaar in ‘n sekere taal is, maar nie in ‘n ander taal nie?

Die antwoord is eenvoudig: rassisme en diskriminasie op so ‘n skaal dat die slagoffer in die waardes en norme van sy oorwinnaar en onderdrukker begin glo en dit as sy eie aanneem en dat hy self in sy verontmensliking begin glo en daaraan deelneem – ter wille van oorlewing en vir sosiale aanvaarding.  Soos wat Afrikaners gewillig en angstig is om oor te slaan na Engels toe – mits hulle die ander persoon beledig of ongemaklik laat voel, net so het die Germane teenoor hul Romeinse oorheersers opgetree.

Hierdie finale oorgawe van die Germane aan die Romeine het na die slag van Verden in Oktober 782 gebeur.  Op hierdie dag het Karel die Grote, of Charlemagne in Frans of Carolus Magnus 4500 Saksers onthoof – na hulle oorgegee het.  Daarna hul Karel die Grote die Saksiese leier Wedukind gedwing om ‘n Christen te word of om die lewe gebring te word.  Lees meer oor hierdie gruwelverhaal in Hoekom het die week 7 dae?  Dit was die begin van die einde van die Germaanse kultuur in Europa wat so diepgaande is dat dit slegs bevestig kan word elke keer wat jy walg in ‘n Germaanse woord en genoop word om dit met ‘n Latynse een vervang.

Die verswelging van die Germaanse kultuur deur die Romeinse kultuur word goed deur die Grimm broers in hulle opskrywe van Germaanse sprokies vasgevang.  Die Grimm broers wou die Germaanse verhaleskat dokumenteer voor dit verdwyn het.  Hulle het honderde onderhoude met veral ouerige dames gedoen vanaf die donker dieptes van die Swartwoud, die platteland tot in die stede.  Dit is opvallend hoeveel verhale dieselfde tema het maar as die verteller van die Swartwoud was, is die storie vol trolle en feëtjies en dwerge en as die verteller van ‘n stad soos Saltzburg was, dan is die storie vol demone en engele.

Dieselfde kulturele erosie kan oor ‘n groter speelveld gemeet word as mens na die verloop van kerstening van die Germaanse volke kyk.  Saksonië wat deel van die latere verenigde Duitsland geword het was deur Karel die Grote na jare se oorloë gekersten.  Christelike Duitsland wat nou deel van die Heilige Romeinse Ryk is, het druk op die Dene gesit tot hulle in 965 gekersten is.  Die Dene het toe daarna op hulle heidense Noorse en Sweedse neefs druk uitgeoefen totdat dié in die 11de tot 12de Eeu gekersten is.

Ysland was verder weg van hierdie kultuurverswelger en gelukkig het Snorri Sturluson (1179-1241), van Reykjaholt in Ysland dit sien aankom en het ternouernood die Edda opgeteken waarin die Noorse oerreligie en verhaleskat verewig is.  Slegs deur Sturlusson se skrywes weet ons enigsins van die nege kosmiese ryke, Ymir uit wie se karkas die wêreld ontstaan het, die Yggdrasil, Mittgard, Thor, Odin, Frey, Asgard, Loki en Ragnarok – wat alle Germane vir honderde jare geglo het.  ‘n Paar geslagte later sou daar niks van oor wees nie.  Van al die Germaanse sagas het slegs die Nibelungenlied in Duitsland oorleef en Beowulf in Engeland, die res het verdwyn te wyte aan hul nabyheid aan Rome.  Verder weg in Noorweë en Ysland is daar tientalle verhale en sagas wat hierdie kulturele erosie oorleef het.

Dieselfde lot het Afrikaans getref.  Eers was dit die Nederlandse hovaardigheid jeens Afrikaans.  Hier wil ek van die staanspoor die stelling maak dat Nederlands NIE Afrikaans goedgesind was nie.  Afrikaans was die Lingua Franca – inderwaarheid die Fanagalo van die Nederlandse VOC-tydperk – die vereenvoudigde pidgin Nederlands, deurspek met Maleis, en later Khoi, wat met die arbeiders, matrose en slawe en die plaaslike Khoi gepraat was.  Die Nederlanders het Hollands met mekaar gepraat en nie Afrikaans nie!  Daar was nooit tydens die VOC se beheer oor die Kaap enige erkenning aan Afrikaans gegee nie.  Die eerste Afrikaans was inderwaarheid deur ‘n Moslem imam in ‘n traktaatjie opgeskryf in ARABIES.  Lees en luister en leer – in Arabies.  Het jy gedink Afrikaans kan net in ROMEINSE letters geskryf word?  Wanneer die Nederlander Afrikaans beskryf as ‘n “erg leuke taaltje” verstaan jy nou beter wat hy regtig van jou dink.

Dit was egter nie die ergste en enigste belediging nie.  Vanaf die koms van die Engelse in 1795 was daar ‘n aanslag spesifiek op Afrikaans.  Somerset het uit sy pad gegaan om Afrikaans te vernietig en Afrikaanssprekendes te dwing om Engels te praat.  Nadat Afrikaansprekendes ondanks Hierdie terugslae het veroorsaak dat alhoewel Afrikaans se wortels al reeds in Maleisië en op die VOC skepe, seker al vir meer as vier eeue gepraat is, selfs voor die Hollanders aan die Kaap gekom het, dit eers in 1925 as taal erken is.

Vir meer as twee eeue moes Afrkaanssprekendes onder die hovaardigheid van Engelssprekendes deurloop – en dis nog nie klaar nie.  Die aanslag op Afrikaans op skole en universiteite is blatant en absoluut.  Dit is so erg dat Blade Mzimande, die Minsiter van Hoër Onderwys, aanvanklik geweier het om Afrikaans as ‘n inheemse taal te erken.  Die retoriek word heeltyd deur die regering en hul meelopers gebruik dat Afrikaans die taal van die onderdrukker is waarmee hulle twee goed herken – eerstens dat hulle glad nie die geskiedenis van die land verstaan nie en blykbaar nie besef dat Engelse veel langer hulle onderdruk het as die 40 jaar wat Afrikaners aan bewind was nie, en tweedens dat die meerderheid Afrikaanssprekendes nie blank is of aan die Nasionale Party gehoort het nie.

Die strydkreet “Afrikaans must fall” het Afrikaans uit meeste universiteite gedryf.  Tog weet ons dat Afrikaans gaan oorleef.  Afrikaans is die 69 ste grootste taal van die meer as 7000 tale op aarde.  Daar is meer as 8 miljoen sprekers en ongeveer 17 miljoen mense wat dit kan praat.  Afrikaans word wêreldwyd as ‘n groot taal beskou.  Afrikaans is ook die jongste taal op aarde en groei nog op die koop toe.  Maar hier kom die diskriminasie – die feit dat die meerderheid Afrikaners nie in Afrikaans onderrig kan kry by die universiteit van hulle keuse nie – en die feit dat skoliere deur Afrikaanssprekende onderwysers opgelei word wat hul opleiding in Engels gehad het nie en dus nie die vaktaal in Afrikaans ken nie.  Dit versterk die waan dat Engels beter, slimmer of meer gevat as Afrikaans is, die gebruik van Engelse terme terwyl daar goeie Afrikaanse woorde daarvoor is, die gebruik van slentertaal, ensovoorts.

Ek het hierdie hele stuk geskryf sonder om een keer die oorspronklike Germaanse woorde vir liggaamsdele en funksies te gebruik.  Glo my, my ingetoëndheid in hierdie opsig is net so groot soos die renons wat ek teenoor elke vrome sedebewaker voel wat meedoen in die vermurwing van ons taal en kultuur.  Enige kultuur kan net voortbestaan as dit in elke opsig funksioneel kan wees – wat die benaming van liggaamsdele en -funksies insluit.

Ek wil afsluit met Sagmoedige Neelsie se woorde: “Die taal van die oorwinnaar in die mond van die oorwonne is die taal van ‘n slaaf”.

error: Content is protected !!