Die geskiedenis van eetgewoontes
François Durand
Ons het van kleins af grootgeword met die idee dat daar drie etes is – ontbyt, middagete en aandete. Dit was, toe ek ‘n kind was, bloot deel van die normale roetine van die dag. Sondae was meer spesiaal en ons het dan dikwels lamsboud of ‘n gebraaide hoender vir ete gehad. In daardie tyd was ‘n gebraaide hoender nogals iets spesiaal. Ons het ook dikwels nagereg op Sondae gehad – asynpoeding, malvapoeding, souskluitjies, ons eie ingelegte perskes (alles met vla), apfelstrudel, of my geliefkooste: gestoofde pruime en roomys. Ons het klomp vrugtebome gehad en my ma en ouma het perskes en pruime gestoof en appelkoos-, snipperperske- en pruimkonfyt gemaak. Nagereg was net vir Sondae, maar as dit koud en trietsig was en ons pateties gevoel het, was daar sommer vir tussen-in pannekoek of melkkos.
Ontbyt was ‘n stewige affêre met eiers en spek of boerewors en natuurlik mieliepap. Ons het bokspap net oor die naweek kon eet – maar ook net aan die begin van die maand want my ma moes haar inkopiebegroting knyp tot “Jan van Riebeeck se oë traan”. Skoolkos was maar effentjies – in die jare voor snoepies was dit maar twee (of vier – as jy gekla het dat jy die vorige dag honger was) snye brood met regte botter (ons het van die staanspoor teen margarien standpunt ingeneem) met Marmite, Bovril, Fray Bentos, Redro of tuisgemaakte konfyt en ‘n vrug – ‘n appel, lemoen, of ‘n perske uit die tuin, maar geen koeldrank nie – daar is water in die Vaaldam en dit kom uit die kraan.

Middagete tuis was meestal vleis en groente en soms miskien een keer ‘n kwartaal – macaroni en kaas of ‘n dis (waarskynlik uit Kook en Geniet) wat my ma Spaanse rys genoem het – dit was speserygegeurde rys en met gebraaide maalvleis en uie deurgemeng is wat ons met mayonaisse geëet het. Daar was nie pizzas, lasagnes of wegneemetes nie. Die naaste wat ons aan wegneemetes gekom het was toe my ma siek was en my pa vir ons vis en skyfies by die kafee gekoop het. Ek was seker 16 jaar oud toe ek vir die eerste keer pizza by ‘n maat se huis geëet het.
Aandete was gewoonlik ‘n bakkie sop, toebroodjies met koue vleis, vetkoek of beskuit met koffie. As kind het ek maar altyd aanvaar dat ander mense ook soos ons geëet het en dit was sekerlik waar vir baie middelklas mense in Suid-Afrika aan die einde van die vorige eeu. Mens het gehoor van arm mense wat sukkel om die mas op te kom en wat pap elke dag van hul lewe met al hulle etes moet eet omdat hulle nie eens brood kon bekostig nie en dat daar selfs mense is wat nie weet wanneer hulle weer kos in die hande sal kry nie. Later in my lewe het ek die ander deel van die wêreld gesien toe ek met arm mense, van Staatsdorp in Germiston, deur die kerk te doen gekry het. Toe was ek nie meer verwyterig oor die bokspap slegs oor die naweek, mieliepap op ander dae-reël nie. Ook nie oor die opgekookte groente en vaal vleis soos wat ons dit genoem het nie (Spaanse rys was my ma se gewaagste eksotiese kook-poging) – en onthou Sondag is daar weer nagereg!
Deesdae eet min mense so. Selfs mense wat dit kan bekostig, eet selde drie maaltye op hierdie tradisionele manier. Daar is nou goed soos joghurt ,wat ek nie as kind geken het nie, al het dit vir duisende jare bestaan, allerlei bokspappe anders as graanvlokkies, energiedrankies en stafies en goed wat ek nie eers se name ken nie. Mense pak dit sommer in om dit by die werk of oppad werk toe te eet. Oor middagete is daar allerlei versnaperinge en kitsopsies. Saans eet mense meestal hulle groot ete – die ete wat Engelse dinner noem. Daar is talle opsies daarvoor – omdat meeste middelklas vrouens werk is daar nie nou meer tyd om voor die stoof te staan en haar af te sloof nie. Dus stop die man, of die vrou, by die winkel oppad huis toe en kry kos by die deli, of sommer ‘n lekker kitsmaal in die vrieskas wat net in die mikrogolf ontdooi moet word. Dan kan almal in stilte voor die TV sit en eet sonder om mekaar in die rede te val met ‘n gekletsery.
Hoe was dinge in die verlede – nog lank voor ons in stede gebly het en by tafels geëet het? Ons sal by hedendaagse mense wat in die wildernis bly moet gaan kers opsteek. Eerstens sal jy agterkom dat hulle nie vrieskaste, yskaste, stowe, mikrogolwe of ketels het nie. Eintlik ook nie eetgerei en kookware nie. Dus val ons hele verwysingsraamwerk hier plat – buiten vir die wete dat as jy nie eet nie, jy sekerlik sal sterwe.
Mense wat in die natuur leef moet elke dag uitgaan om kos en water te soek. Almal sal eet wanneer hulle honger is wanneer hulle iets kry om te eet. Dit kan ‘n vruggie, skerpioen, weekdier, uintjie of voëleier, so uit die dop, wees. Wanneer iemand egter op ‘n groot bron kos afkom, sal hulle vir die res van die groep ook versamel. Hierdie kos kan uintjies, vrugte, heuning, mossels, sprinkane, visse, wildsbok, of wat ookal wees. Die versamelaar sal natuurlik deurgaans tydens die versamelproses ook maar eet aan hierdie kosse, wat in meeste gevalle nie gaargemaak of koel gehou hoef te word nie. Wanneer die jagters egter ‘n groot bok plattrek en dit kamp toe vat, word dit ‘n feesmaal wanneer ‘n groot vuur gemaak word en die hele groep saamkom om saam te eet.
Die saamkom om saam te eet is een van die belangrikste beginsels van ‘n maaltyd en ek is bevrees dat in vandag se gejaagde lewe, ons hierdie aspek van ons bestaan erg afskeep en in baie gevalle dit verloor het. Die samesyn tussen mense, veral kinders en hul ouers, is ‘n verskriklike belangrike deel van ons menswees en sosialisering en die opvoedingsproses. Vandag het ons TV – wat ironies wys hoe mense om tafels sit en saam eet, maar sonder ‘n TV by hulle! Gaan kyk maar – meeste advertensies wat kos adverteer, het nie ‘n TV nie!
Die ontdekking van gras as voedselbron, ongeveer 10 000 jaar gelede, het ‘n groot impak op ons bestaan gehad. Hierdie grasse was ongeveer 8 000 jaar gelede as graan gedomestiseer en ons eerste stede het in daardie tyd ontstaan. Stede het ontstaan waar ‘n groot groep mense reg bymekaar ‘n bestaan kon maak omdat hulle hul eie voedselsekuriteit kon skep deur middel van koring, gars, hawer, sorghum en tef in die Midde-Ooste, rys in China en mielies in die Amerikas.
Graan was eers as ‘n slap sopagtige pap voorberei en geëet, daarna was dit as plat koekies op warm klippe gebak (soos nachos), daarna soos wat erdewerk ontstaan het, was grane gekook en het mense dit in korrelvorm soos rys en gort geëet. Daarna het mense brood van sekere van hierdie grane begin bak. Allerlei tipes kos het van grane voortgespruit – pap, koekies, beskuit, brood en nog baie meer. Dit het vinnig die stapelkos van mense geword wat dit soggens, smiddae en saans kon eet. En daar het ons die mieliepap, bokspap, toebroodjies, melkkos, vetkoek, malvapoeding, beskuit ens. ens. van my kindertyd. Die Chinees kan dit eggo met sy kluitjies, noedels en rys en nog tientalle ander disse. Die Asteek kan dit eggo met sy nachos, tacos en tortillas om maar ‘n paar van die tientalle mieliedisse van die Amerikas te noem.
Met die koms van graan was daar nie meer rede vir mense om dou voor dag op te staan om te begin kos soek nie. Nou kan mense rustig opstaan en sommer by die huis eet voordat hulle hul dagtake aanpak en dit was die ontstaan van ontbyt. Meeste stadsbewonende mense was oorspronklik vakmanne, handelaars of het ‘n amp gehad soos dié van ‘n heerser, soldaat, boekhouer, priester ens. Rondom die stad en die markplein, was daar kleinboere en in kusgebiede was daar vissers. Vakmanne het mense ingesluit wat onder meer met leer en tekstiele gewerk het, ystersmede, pottebakkers, skrynwerkers, kuipers, wynmakers en bierbrouers, bakkers en slagters. Hierdie mense het meestal hul werkswinkels by hul huise gehad en dus het meeste mense van die huis of naby hul huise gewerk en kon ook dus eet wanneer ookal hulle honger geword het.

Vanaf 6000 jaar gelede het elke huis ‘n oondjie gehad waar mense hulle brode kon bak. Brood het van die vroegste tye van graanboerdery, deel van ons etes geword en die uitdrukking om “brood te breek” was sinoniem met ete. Die ronde brood was in stukke gebreek en aan die mense om die tafel uitgedeel. In die Romeinse Tydperk was brode selfs voor dit gebak is gegroef sodat dit in ewe groot segmente gebreek kon word. Romeinse stede het ook bakkerye gehad waar mense hul brood kon koop.

Die frekwensie, hoeveelheid en inhoud van etes was ook van die staanspoor deur mens se sosio-ekonomiese stand bepaal. Arm mense soos slawe of arbeiders, het waarskynlik een maal per dag kon eet, terwyl ryk mense waarskynlik aanmekaar kon eet. Dit was ook dan natuurlik maklik vir die mense in die Antieke Tydperk tot die Middeleeue om te eet wanneer ook al hulle honger geword het, want hulle was mos by hul huise. Dit blyk dat reeds vanaf die Klassieke tyd mense in Griekeland en Rome, en later ook in die Middeleeue, hul groot maaltyd iewers in die laatoggend tot middag geëet het en dan ‘n kleiner maaltyd aan die einde van die werksdag genuttig het.
Wat my laat dink aan die tye wat ek opgrawings in die platteland doen. Soms bevind ek myself oor middagete op ‘n dorpie waar daar net een kafee is en meer as een keer was die deur toe met ‘n kennisgewing teen die ruit: GESLUIT VIR ETE. Hoekom sou die winkeleienaar winkelkos eet as hy ‘n perfekte goeie huis het waar hy ‘n behoorlike ete kan gaan eet?

Soos wat mense se lewens egter verander het en stede groter geword het, het daar in die Industriële Tydperk groot fabrieke ontstaan waar tientalle mense gewerk het. Mense moes dus hul huise verlaat om elders te werk en mense het dikwels ‘n ligte vooraf-voorbereide ete saam werk toe gevat. Dit was die begin van die kleiner ete wat spesifiek in die middag geëet is en wat die naam middagete (oorspronklik luncheon in Engels) gekry het. Die werksomstandighede het ook gesorg dat mense op ‘n geskeduleerde tyd moes eet en nie sommer wanneer hulle honger word nie.
Een van die oulikste voorbeelde van ‘n klein middagete is die pastei. Pasteie is natuurlik so oud soos meel, brode en bakoonde en was waarskynlik reeds vir duisende jare in verskillende vorms in verskillende wêrelddele deur verskillende volke gemaak. Die oudste pasteie waarvan ons weet, was deur die Egiptenare gemaak. Die konsep is nie so ingewikkeld nie – dit is bloot twee lae deeg – die onderste een in die vorm van ‘n bak en die boonste een in die vorm van ‘n deksel met ‘n vulsel van vleis, groente of vrugte of ‘n kombinasie daarvan daarbinne.

Dit is egter in die steenkoolmyne van Brittanje waar die pastei as maaltyd tot sy reg gekom het. Een van die beroemdste pasteie – die Cornish pastei – was so deur mynwerkers vir bykans ‘n duisend jaar in die donker, steenkool- en tinmyn geëet. ‘n Pasgebakte pastei sal vir ure lank warm bly – veral as dit in ‘n lap toegedraai is, en as dit koud geword het, kon mens natuurlik ‘n vuurtjie onder die emmer of onder ‘n graaf maak om dit te verhit. Dit is ook hoekom die vrouens oorspronklik ‘n knoppie deeg van verskillende vorms bo-op die pastei gesit het (wat in elke huis ‘n unieke betekenis gehad het) sodat haar man kon voel of dit die vleis- en groentepastei is, of die een met gestoofte bessies, appels of kwepers en rosyntjies vir nagereg, wat sy vir hom in sy emmer gepak het. Daar was nie badkamers of krane waar die mynwerkers hulle hande ondergronds kon was nie en hulle pastei was vuil besmeer wanneer hulle dit hanteer het. Die mynwerker het eenvoudig die pastei van sy keuse uit sy emmer gevat en dan die deegdeksel afgetrek en die vulsel uit die onderste deegbakkie uitgeëet en die deeg weggegooi waar die rotte dit gevreet het (dit wil sê as hy nie honger genoeg was om self sy vuil degie te eet nie). Die deegomhulsel van die pastei was soos die Tupper van die tyd.

Tydens die Industriële Revolusie vanaf die 1700’s tot die agtienhonderds, het die hoofmaal van die dag na aandete verskuif. Dit het ook die daaglikse opsplit van die gesin in alle windrigtings weerspieël. Die gesin het na die werksdag rondom die tafel bymekaargekom vir die hoofmaal van die dag – naamlik aandete. In Engeland, wat die leiers van die Industriële Revolusie was, het die maaltyd dinner geword wat die kleiner supper vervang het. Oorspronklik was aandete maar iets klein – soos sop of ‘n broodjie met kaas, maar nou was dit met die hoofmaal van die dag vervang – en dit is hoe dit vir meeste stadsmense nog steeds is.
Ek praat hier bloot oor geneigdhede en gewoontes wat oor tyd verander het en nie van hoe dinge veronderstel is om te wees nie. Mens moet onthou dat etes deur kultuur, die tydperk en die sosiale stand van die persoon bepaal word. Niks illustreer beter die klasseverskil tussen mense as etes nie. Daar was mense van dieselfde land en dieselfde kultuur wat ontbyt, elfuurtee, middagete, middagtee, aandete en selfs nog voor slapenstyd, ‘n laaste versnapering genuttig het, terwyl daar ander mense was wat, as hulle gelukkig was, een behoorlike ete per dag gekry het. Niemand het dus die reg om te sê dat ‘n sekere manier van doen reg of korrek is of beter is of meer sosiaal aanvaarbaar as ‘n ander is nie.
Terwyl ek oor die onderwerp van klasseverskille en hovaardigheid tob: hoekom dink jy noem die Engelse varkvleis pork, beesvleis beef en skaapvleis mutton? Dit is omdat die Franssprekende Normandiërs Engeland in 1066 oorgeneem het en hulle wil, kultuur en taal op die Engelse afgedwing het. Die Franssprekende meester van die huis eet natuurlik dan porc, bœuf en le mouton en sy Engelse kneg boer met pigs, cattle en sheep. Soos onse Neelsie gesê het: “Die taal van die oorwinnaar in die mond van die oorwonne, is die taal van ‘n slaaf” so laat ons maar nie van fish and chips praat nie – en nog minder van pie en Coke.
