Waar kom geld vandaan?
Geld wat stom is maak reg wat krom is – maar wat is dit ooit?
François Durand
Mense het van die staanspoor en vir die langste tyd ruilhandel gehad. Dit is ‘n baie eenvoudige konsep – dit is wanneer mense verskillende items onder mekaar uitruil. Die twee mense kon selfs van verskillende kulture gewees het en nie dieselfde taal gepraat het nie en nog steeds suksesvol ruilhandel bedryf het. Die waarde van die items sal natuurlik van vraag en aanbod afhang, maar daar sal nie rente, devaluasie of inflasie – die siektes van ons tyd – wees nie.
Met die ontstaan van beskawings en die saamgroepering van mense en regerings, het geld ontstaan. Geld is ‘n ruilmiddel wat in plek van goedere gebruik word weens die feit dat dit meer prakties is om met geld in jou sak rond te loop eerder as 10 beeste of 100 hoenders as jy iets wil gaan koop ter waarde daarvan. Dit verwyder ook die moeite om iemand te vind wat spesifiek die items wat jy wil ruil benodig en terselfdertyd die items wat jy benodig kan verskaf. Met geld kan jy gaan koop wat jy wil – mits die ander persoon die waarde – die geldigheid daarvan – aanvaar.
Die onderliggende beginsel van geld is konsensus tussen die betrokke mense. Die konsensus is gegrond op die algemene aanvaardig van die mense van daardie beskawing dat die geld enigsins iets werd is.
Die woord salaris is van die Latynse woord salarium afgelei wat weer van die Latynse woord sal wat sout beteken kom. Die Romeinse troepe was soms tydens hulle kampanjes teen die Kelte en die Germane met sout betaal (en dus so hul salaris ontvang) aangesien hulle, weens die algemeen aanvaarde waarde van sout, dit vir ander goedere soos kos, drank, brandhout en geselskap kon verruil. Die Romeinse munte het niks vir die mense van die verowerde gebiede beteken voor hulle ook deel van die Romeinse Ryk geword het nie.
Net sommer vir interessantheid: pecunia is die Latynse woord vir geld. Dit is van die woord pecus wat “vee” beteken afgelei. Die Engelse woord pecuniary, wat na geld of geldelik verwys, is weer daarvan afgelei. Die woord soldy is die salaris van ‘n soldaat. Die woord soldaat word van die Middeleeuse Latynse woord soldarius afgelei. Dit het oorspronklik letterlik “iemand wat ‘n salaris verdien” beteken en het spesifiek na ‘n soldaat verwys. Soldarius is weer van die woord solidus afgelei wat ‘n Romeinse geldeenheid was. Met ander woorde – diegene wat met solidi (meervoud van solidus) betaal word is ‘n soldarius.
Die solidi is in verwerkte vorm as die Britse shilling behou wat as s afgekort word, maar nie vir shilling nie, maar vir solidi. Die vreemde L teken: ₤ wat die Britse pond simboliseer, staan vir libra, ‘n Romeinse pond (gewig), en die munt met die kleinste waarde, die pennie, word as d uitgebeeld – dit is van die kleinste Romeinse munt die denari afgelei. Met ander letters Lsd staan vir Libra, solidus en denarius en nie wat jy dalk gedink het nie.
Kommoditeitsgeld
Hierdie tipe geld, waar die geld intrinsieke waarde het en gebruik kon word, terwyl dit terselfdertyd as ruilmiddel gebruik was, word kommoditeitsgeld genoem.
Talle beskawings het oor duisende jare kommoditeitsgeld gebruik – dink maar aan die koring van Antieke Egipte en beeste wat nog steeds in Afrika gebruik word. Kommoditeitsgeld was vir langer as enige van die ander tipes geldsisteme gebruik. Die Egiptenare het, soos die ander Midde Oosterse beskawings graan van die boere as belasting gehef wat dan in die staat se graanskure gestoor was. Hulle het dit gebruik om handel te dryf en voedselsekuriteit vir hul mense te bied en so het hulle, soos die ander Midde Oosterse beskawings magtig geword, weermagte kon onderhou en beheer oor groot gebiede uitgeoefen.

Die enigste probleem met kos as betaalmiddel is dat dit soms ‘n vervaldatum het. Gelukkig kan mens graan vir jare stoor en dit sal nog steeds geëet en geplant kan word en dit is hoekom dit so ‘n nuttige bron in tye van droogtes is en hoekom die mense in die nabyheid van Egipte duisende jare gelede soheentoe gegaan het as daar hongersnood in hulle land was.
Die Holodomor is ‘n verskriklike ding wat in 1932-1933 gebeur het, maar amper niemand van weet nie, ten spyte van die feit dat dit in ‘n ontwikkelde land gebeur het, ten spyte daarvan dat daar kameras en koerante was. Die Russe het reeds toe besluit om die Oekraïeniërs uit te moor deur om eenvoudig al hulle koring te konfiskeer as belasting. Met ander woorde hulle het nie die Okraïense koringboere met geld te belas nie maar hulle produk – en in die proses hul saaikoring en hulle kos. Dit het tot die dood van ongeveer 7-10 miljoen Okraïeners gelei – wat niemand buiten Okraïeners herdenk nie.

Nou hier is ‘n gedagte: wat daarvan as Zimbabwe van hulle geldstelsel, wat hulle duidelik nie verstaan of kan beheer nie, oorskakel na kommoditeitsgeld toe?

Die Honderd triljoen Zimbabwiese Dollar noot was ten tye van die uitreik daarvan omtrent R5 werd. Mens kan nie rykdom skep deur om meer geld te druk nie – iets wat die Zimbabwiese regering nie verstaan nie. Meer hieroor later.
Wat daarvan as hierdie kommoditeitsgeld op mielies gebasseer is? Een mieliepit is dan bv. 1 Mieliesent werd en ‘n 100 pitte gelykstaande aan die Nuwe Zimbabwiese Mieliedollar. Banke sal dan natuurlik soos pakhuise lyk – en jy kan verseker dit onder jou bed bêre. Natuurlik sal jy dan van die euwels soos rente en inflasie en die devaluasie van die geldeenheid uitskakel. Mens sal selfs vir invoere en uitvoere deur middelmanne wat natuurlik hul kommissie sal vra, met ander lande handel kan dryf, want mielies word wêreldwyd as ‘n gesogte item beskou en het dus ‘n monetêre waarde. En die beste deel daarvan is dat jy letterlik jou geld in jou tuintjie of plasie kan kweek – en eet en berg en ruil. Jou rykdom sal dus dan ook gelykstaan aan jou werksywer. En voor jy vir die idee lag – onthou dat die ekonomieë van wêreldryke op vee en graan as kommoditeitsgeld van 8 000 jaar gelede tot onlangs, gebasseer is.
Metale was nog altyd waardevol aangesien dit moeilik was om die erts te myn, fyn te maal, in ‘n oond te smelt en die onsuiwerhede uit te hamer en dit dan in vorms te hamer of te smelt. Metale soos koper, brons (‘n allooi van koper en tin) en yster was altyd handig want mens kon goed soos êe, sekels, byle, hamers, spiese, messe, swaarde, pylpunte, skilde, wawielbande, skarniere, slotte en nog baie meer daaruit vervaardig. Metaal in die vorm van lingots of -stawe of as vervaardige goedere soos messe, byle, swaarde of sekels, was algemeen in die Vroeë Bronstydperk in handel tussen lande rodom die Middelandse See gebruik en so het metale as ruilmiddel, vee en koring as ruilmiddel begin vervang.

Metale wat in handel gebruik was, was as ‘n lingot of in die vorm van ‘n staaf in ‘n vorm in nat sand of klei gegiet. Van die oudstes van hierdie metaalplate het die vorm van ‘n oopgevlekte huid wat uitgedroog is. Dit was as belasting, geskenke en vir groot transaksies tussen volke, wat uitgevind het hoe om metale te ontgin, vanaf die sewende eeu vC voor munte gebruik. Edelmetale in hierdie onverwerkte rou vorm word muntmetaal (bullion in Engels) genoem.
Edelmetale soos goud en silwer en nuttige metale soos koper, brons en yster was vir lank voor munte in die Antieke tyd in Egpite, Babilonië, Indië en China as ruilmiddel gebruik.
Verteenwoordigende geld

Die vestiging van ryke en stabiele ekonomieë, groter wordende samelewings en handel met ander lande, het tot die ontwikkeling van verteenwoordigende geld gelei. Dit was net soveel makliker om goed te kon koop en verkoop met geld as ruilmiddel as om die sakke koring vir beeste of ander goed te moet verruil. Daar was
egter een belangrike beginsel wat gehandhaaf moes word vir hierdie stelsel om te werk naamlik dat al die deelnemers in hierdie ekonomiese stelsel moes saamstem oor die waarde van die ruilmiddel. Dit gaan niemand help as die kind uitroep: “die keiser se kroon is vol waardelose klippies!” nie.
Maar dink bietjie hieroor – wat gee enigiets waarde? Slegs mense! ‘n Bees is egter regtig iets werd, mens kan dit as trekdier gebruik waar dit die sleep-, trek- of drawerk van 10 mense kan doen, mens kan dit eet, die leer, been, gelatien, bloed en melk gebruik. Maar ‘n blink klippie is slegs mooi. So hoekom bejeen ons nie kwartskristalle met dieselfde respek as diamante nie? Die antwoord is dat diamante baie skaarser as kwarts is. Diamante is egter baie meer algemeen as wat mense dink. Dit is dus in De Beers, wat die wêreldmonopolie op diamante het, se belang om elke liewe diamant ter wêreld in stoorkamers te berg, sodat die bietjies bietjies diamante wat hulle beskikbaar stel enigsins iets werd is. Die oomblik wat mense besef dat dit eintlik, soos Bitcoin, inherent niks werd is nie, sal dit onmiddelik niks werd wees nie.
Dieselfde punt geld vir goud (verskoon die woordspeling). Dit is net soveel werd as mense se opinie daarvan. Goud staan bo ander metale uit weens die feit dat dit chemies baie inert is en omdat dit nie maklik oksideer nie dit blinker as ander metale bly en weens die feit dat dit baie swaar is, dit baie moeilik is om te vervals – en soos ons nou al weet hou mense van goed wat blink al kan jy niks daarmee doen nie.
Verteenwoordigende geld het saam met die eerste stede in Sumerië ongeveer 3000 vC ontstaan. Boere het van hulle surplus gars of lewende hawe in die tempel, wat eintlik as ‘n skuur en mark gedien het en wat deur priesters bestuur is, gaan berg. In ruil het hulle ‘n kleitabletjie ontvang waar die waarde van hulle deponering aangeteken is. Hulle kon dan hierdie kleitabletjie gebruik om van hulle skuld aan die tempel (basies belasting) te vereffen of iets daarmee te koop of skuld te betaal. Aangesien gars die belangrikste boerderyproduk was, wat ook as stapelvoedsel gedien het, het dit die monetêre eenheid geword.

Dit was egter belangrik dat ‘n ruilmiddel gevind moes word om met ander lande handel te dryf wat nie aan die plaaslike politieke en sosiale rituele gekoppel was nie. Dit bedoel dat ‘n ruilmiddel gevind moes word wat opsigself iets vir beide lande iets werd was en die ruilmiddels wat mees algemeen gebruik was, was koper, goud en silwer. Die priesters van die tempel het ‘n sisteem uitgewerk wat die garsstandaard, wat die grondslag van hulle ekonomie in Sumerië gevorm het, met die prys van koper en later silwer laat oplyn. Dit was dus moontlik vir mense van die Midde Ooste om van ongeveer vier duisend jaar gelede goedere met gars of silwer te koop. Selfs na die ontstaan van munte was gars nog steeds die monetêre standaard. Die shekel van Sumerië byvoorbeeld het ‘n sak gars van ‘n sekere gewig verteenwoordig.
Van die oudste munte bekend, was deur die koning Aliattes van Lidië (deel van hedendaagse Turkye), gedurende die einde van die 7de Eeu vC gebruik. Hierdie tipe munt wat uit elektrum, ‘n natuurlike allooi van silwer en goud vervaardig is, staan as die Lidiese Leeu bekend weens die feit dat die leeu wat die simbool van die koningshuis van Lidië was op die een kant van die munt uitgebeeld word.
Die gebruik van munte het stadig deur Griekeland van stad na stad versprei en was ook deur die Persiese Ryk aanvaar na die oorname van Lidië deur die Perse in 547 vC.

Een van die talle deïteite in die Romeinse Era was die godin Moneta en daar was ‘n tempel in Rome vir haar in die vierde Eeu vC gebou. Hierdie tempel het die munt van Rome gehuisves. Die woorde munt en monetêre stelsel is van die godin se naam afgelei.
Danksy die algemene aanvaarding van die waarde van goud, was goud ‘n gesogte edelmetaal, vanaf die ontstaan van beskawing en was algemeen in handel as ruilmiddel gebruik.
Die gebruik van papiergeld in die vorm van bankwaarborge het in die Middeleeue ontstaan. Mense het nie met hul goud en silwer wou rondloop of in hul huise hou nie, mits dit gesteel word. Hulle het dus dit na banke geneem waar dit bewaar kon word. Die bank het dan vir hulle ‘n rekening oopgemaak waar die hoeveelheid goud of silwer opgeteken is. Wanneer iemand ‘n bedrag geld aan ‘n ander moes oorbetaal het hy dan ‘n nota aan die bank gestuur waarin hy dan vra dat daardie bedrag in die vorm van goud of silwer na die rekening van die ander oorgedra moes word. Hierdie is nog steeds ‘n vorm van verteenwoordigende geld, want die notas het die waarde van die goud of silwer verteenwoordig.
As ‘n land se geldstelsel op die goudstandaard gebasseer is, is banknote nie werklik geld nie, maar eerder ‘n dokumentjie wat waarborg dat dit eintlik soveel goud werd is. Oorspronklik, kon mens, daardie noot vir dieselfde waarde in goud by die Reserwebank omruil – of goud koop en verkoop – net soos wat dit die geval was van Kublai Khan se tyd.
Al die lande wat oorspronklik goue munte en die goudstandaard gebruik het, het na 1933 daarmee weggedoen aangesien mense in krisisse goud opgepot het en so dit uit die sisteem verwyder het, wat die ekonomie nog meer skade gedoen het. Tydens die Groot Depressie van 1933 in die VSA, het die regering ‘n wet afgekondig wat die oppot van goud verbied het.
Sommer ‘n lekker vreemde feit: Sparta wat seker een van die mees gevreesde en gehate volke in Griekeland was, het juis munte in yster geslaan om hul burgers te keer om met ander volke besigheid te doen.
Die volgende stap in die evolusie van geld was om die waarde van die muntstuk van sy sigwaarde te skei. Met ander woorde regerings kon vir goedkoper die munte skep as wat die sigwaarde aandui (wat terloops die teenoorgestelde vir goue munte vandag is). Die verskil tussen die produksiekoste en die sigwaarde van die munt word die Sleiskat (seigniorage in Engels) genoem en daardie wins gaan reguit na die regering toe.
Inflasie, vervalsings en muntsnoeiery
Net soos wat mense goedere vervals deur om dit met iets anders wat goedkoper is te vervang, versny of te verdun, net so was geld op allerhande maniere verander om nog meer waarde uit dit te kry. Oorspronklik was munte van edelmetale soos goud en silwer van ‘n spesifieke gewig vervaardig. Die munt se intrinsieke waarde was letterlik soveel werd as die goud en silwer wat dit bevat het. Daar is ook ‘n sigwaarde op die munt uitgedruk naamlik hoeveel die munt volgens die regering wat dit uitgereik werd is.
Sonder die sigwaarde is die goue of silwer skyfie net dit, dit mag soveel werd as die goud- en silwerinhoud wees, maar dit is nie ‘n munt nie. Dit is die rede hoekom goue en silwermunte wat as versamel- en beleggingsitems verkoop word, ‘n sigwaarde het, terwyl die intrinsieke waarde wat heeltemal van die sigwaarde verskil soveel as die goud- en silwerprys van vandag is. Dit het nou niks weer met die versamelwaarde van die munt, wat deur vraag en aanbod bepaal word, te doen nie.

Goue munte is nie meer in sirkulasie is nie, want hul intrinsieke waarde is soveel groter as hul sigwaarde. Mens kan dit steeds gebruik om goedere vir R100 in die winkel te koop en die winkeleienaar sal al die pad na die Reserwebank glimlag waar hy dit vir R37 871 sal inruil.
Dit is interessant om te weet, maar kom nie as verrassing nie, dat dit meestal die regering is wat vir muntontwaardiging verantwoordelik is. Natuurlik het kriminele dit ook gedoen deur om gaatjies in silwermunte te boor en ‘n proppie van yster of tin, wat dieselfde kleur as die silwermunt het in die plek daarvan te sit, of om die gaatjie toe te hamer. ‘n Nog meer ingewikkelde en vindingryke metode was om ‘n munt in twee te saag, die middelste deel uit te boor en ‘n skyfie van ‘n goedkoper metaal daarin te sit en die helftes weer aanmekaar te soldeer. Die gewig van ‘n munt sal bepaal of dit op hierdie wyse ontwaardig is of nie.
Maar moenie te veel hieroor bekommerd wees nie, want die regering doen dit nou sommer oop en bloot. Oorspronklik was munte van goud, silwer en brons gemaak. Mens het goue ponde, silwer sjielings en koper pennies gekry. Wanneer ‘n land op sy hoogtepunt van ekonomiese welvaart en administratiewe bestuur is, word munte dikwels uit edelmetale vervaardig. Net soos wat die Britse Ryk goue ponde gehad het, het die Romeinse Ryk silwer munte gehad, maar soos die Romeinse Ryk begin verval het, het die persentasie silwer van hul munte vanaf bykans 100% suiwer silwer tydens die heerskappy van Julius Caesar na 2% in die derde Eeu nC verminder.
Muntontwaardiging is die vermindering van die edelmetaal in muntstukke terwyl dit teen die oorspronklike sigwaarde deur die regering uitgereik word. Muntontwaardiging word deur regerings gepleeg in ‘n doelbewuste poging om meer geld te vervaardig maar teen ‘n verminderde koste – wat die beginsel van inflasie is – dit bedoel letterlik dat die edelmetaal waaruit munte oorspronklik vervaardig was, met al hoe groter persentasies minderwaardige metaal vervang word en so die volume waaruit munte vervaardig word, vergroot. Dit bedoel dat meer geld vervaardig kan word, maar die intrisieke waarde daarvan verminder, terwyl die sigwaarde dieselfde bly. Die vermeerdering van geld in die sisteem is geen aanduiding van ‘n verbetering in die welvaart van die land nie, maar die teenoorgestelde, want die werklike waarde van die geld verminder aangaande.
Daar is ‘n lelike ding wat sy kop nou hier uitsteek – wat van die moontlikheid dat die intrinsieke waarde van die metaal van ‘n munt meer werd word as die sigwaarde van die munt? Voor die huidige allooie wat in ons munte gebruik is, het ons nikkel gebruik, en voor dit silwerallooie, en voor dit silwer. Soos wat die ekonomie agteruitgegaan het, het ons ‘n punt bereik waar die nikkel in die munt meer werd was as die sigwaarde van die munt. Dit beteken dat nikkelmyners eenvoudig bank toe kon gaan om munte daar te kry wat hulle dus kon gesmelt het om te verkoop teen meer as wat hulle vir die munte betaal het. Dit is wanneer die regering besluit om die munte of kleiner te maak, of om die munte eenvoudig van sirkulasie te onttrek soos wat met ons 5, 10 en 20 sente gebeur het.
Vra jouself af: hoeveel kos ‘n knoop? As ‘n knoop R1 kos en ek kan gaatjies in ‘n 10 sent boor, kan ek mos vir heelwat goedkoper knope uit muntstukke maak as wat ek knope in ‘n winkel koop. En dan is die knope ook sommer onbreekbaar sterk eerder as plastiekknopies wat kan breek. Maar is dit wettig? O nee, dit is nie! Daar is allerhande wette in die land wat mens keer om enigiets met geld te doen wat anders is as om dit as ruilmiddel te gebruik.
Die wette rondom die vernietiging van geld wissel van land na land, maar in meeste is dit onwettig om geld op enige manier te verniel en dit dan daarna as ruilmiddel te gebruik. Interessant genoeg is dit in baie lande nie onwettig om note te vernietig nie, mits dit heeltemal uit sirkulasie gevat word. Die waarde van die somtotaal van die res van die note wat in sirkulasie is, word inderwaarheid verhoog met die waarde van die note wat jy vernietig het. Nootvernietiging het die teenoorgestelde effek as inflasie. Maar wees versigtig voor jy jou altruïsme uitleef deur om jou geld te verbrand – vind eers uit wat die betrokke land se wette daaroor is.
Een van die meer bisarre geldbedrogmetodes was om stukkies van munte se rante af te kerf of te knip wat muntsnoei genoem is. Die skelm het dit gedoen om sodoende die afknipsels saam te smelt om silwerbolletjies te maak wat verhandel kon word. Hierdie metode sal uiteraard net werk as die munt van ‘n edelmetaal gemaak is en die afsmeltsels self iets werd is.
Die geknipte munt is dan nog steeds gebruik met die oorspronklike sigwaarde, terwyl die intrinsieke waarde van die munt verminder het. Natuurlik dra hierdie tot inflasie by, want daar is nou dieselfde hoeveelheid geld in sigwaarde in omloop maar met die byvoeging van die silwer wat van dit afgesteel is.
Iets wat meeste mense nie weet nie, is dat die beroemde fisikus en wiskundige Sir Isaac Newton vir 30 jaar die Meester van die Britse Munt was. Muntontwaardiging (deur individue, nie die staat nie) en geldsnoei was deur die wet oor dieselfde kam geskeer as geldvervalsing en het in sekere lande die doodstraf verdien. Een van Newton se grootste irritasies was vervalsers en hy het verskeie mense galg toe gestuur daarvoor. Voor Newton by die Britse Munt in 1696 aangestel is, het Britse munte erg onder muntsnoeiery deurgeloop. In 1698 het Brittanje nuwe munte met riffelrande uitgereik wat die muntsnoeiers in hul spore gestuit het. Riffelrande (milled edges in Engels) word van daardie tyd wêreldwyd in munte gebruik.

Die ander meer subtiele metode van muntontwaardiging was om silwermunte in ‘n sak te sit en hard en lank te skud, sodat silwerpoeier van die munte afverweer. Die munte lyk dan asof dit weens gebruik natuurlik afverweer het en die krimineel sit met die silwerstof wat hy kan saamsmelt en as betaalmiddel kan gebruik.
Natuurlik is daar ook die feit dat munte wat lank in omloop is mettertyd heeltemal glad word, mens nie meer die inskripsies daarop kan lees nie en dat dit inderwaarheid al hoe ligter word en hul intrinsieke waarde stadigaan verminder. Dit is hoekom munte vandag uit goedkoop yster, nikkel en brons allooie gemaak word, wat eerstens harder is en moeiliker verweer en wat min intrinsieke waarde het.
Terwyl munte gesnoei en geld vervals was, inflasie en teregstellings in ander dele van die wêreld plaasgevind het, het beskawings rondom die Atlantiese Oseaan en die westelike deel van die Stille Oseaan vir duisende jare skulpe as ruilmiddel gebruik om handel mee te dryf. Mens kan nie juis skulpe vervals en snoei en ontwaardig nie.

Hierdie skulpe is skaars genoeg dat dit nie die mark oorstroom nie en dus die waarde daarvan sal laat afneem nie. Die belangrike punt hier is dat die geldskulp intrinsiek net so nutteloos as diamante en goud en Bitcoin is, maar weens konsensus tussen die mense wat dit gebruik, dit net so waardevol as diamante en goud en Bitcoin is.

Die geldkaurie was van ten minstens 2 070-1 200 vC as ruilmiddel gebruik, maar dit was in die verafgeleê suidwestelike streek van China tot so onlangs as die 17de Eeu nC as ruilmiddel gebruik. Trouens die simbool wat vir geld of handel in Chinees gebruik word is: 貝 wat skulp beteken. Weens die tekort aan werklike skulpe het China onder die Shang Dinastie (1600-1046 vC) dit met brons replikas vanaf 1 200 vC BCE vervang. Dit was inderwaarheid die eerste metaal ruilmiddel in China en kan eintlik as die eerste munte beskou word, alhoewel dit nie soos die tradisionele plat, ronde skyfie wat ons met munte assosieër lyk nie.

Oorloë tussen krygshere van verskillende streke het China van 770 vC tot 221 vC in verskillende koninkryke opgebreek en elkeen van hierdie agt streke het hul eie ruilmiddels van brons vervaardig wat onderskeidelik as die graaf, die mes, die ring, die neus en die banliang bekend gestaan het. Ek gaan dit hier munte noem want, ongeag die vorm daarvan, het dit basies dieselfde rol as munte gespeel.

Nadat Keiser Qin Shi Huang hierdie aparte koninkryke in 221 vC in China, soos ons dit ken, verenig het, was ‘n gestandardiseerde geldstelsel in plek gesit wat die taak van belastinggaarders en handelaars vergemaklik het. Hierdie geldstelsel was op die banliang of “half tael” gebasseer. Die banliang was ‘n bronsmunt met ‘n vierkantige gat in die middel wat ongeveer 8g geweeg het. Die simboliek daaragter is dat die Chinese geglo het dat die Aarde vierkantig is en dat die hemel rond is. Die gat in die middel van die munt het mense ook in staat gestel om die munte op stringe te ryg. Munte met ‘n gat in die middel was tot onlangs nog in China gebruik.
Hierdie geld op ‘n string laat mens dink aan die skulpkrale wat in stringe op toutjies geryg was wat as betaalmiddel gebruik was. Hierdie gebruik het op baie lande en eilande rondom China voorgekom en word selfs vandag nog op Solomon Eiland as betaalmiddel gebruik.
Die Tang Dinastie het die sogenaamde Kasj munt vervaardig wat vir bykans 8 eeue amper onveranderd gebruik is. Die woord kasj is nie van die Engelse woord cash wat van die Franse woord caisse kom, afgelei nie. Dit kom van die Portugese woord caixa wat van die woord karsa wat die Sanskrit eenheidsgewig vir goud en silwer is, afgelei is.

Anders as in Europa en die Midde-Ooste was die bronsmunte van die Chinese gegiet en nie geslaan nie. Hier is ‘n sogenaamde “muntboom” waarvan die munte dan een vir een, nadat dit in een soliede stuk gegiet is, afgebreek word. Mens kan die plat plekke op die rande van sekere van die ou munte sien waar dit van die res van die muntboom afgebreek is.
Die populariteit van munte het die lande rondom China soos Japan, Korea en Viëtnam geïnspireer om met hul eie bronsmunte vorendag te kom. Ondanks die populariteit van die munte, of dalk weens die populariteit daarvan, het koper in 960 nC skaars in China geword en die bronsmunte was toe tydelik met ystermunte vervang. Die ystermunte se sigwaarde was baie minder as dié van die bronsmunte. Mens moes dus baie meer ystermunte as bronsmunte gebruik om iets te koop. ‘n Stuk lap sou byvoorbeeld meer as 60kg ystermunte werd wees. Dit het die Song Dinastie van China genoop om papiergeld in 1023 te begin druk. Die Jiaozi was die eerste papiergeld ter wêreld. Die papiergeld was, saam met die munte wat nog steeds in omloop was, gebruik.

Natuurlik het die Chinese regering presies dieselfde probleem as al die ander regerings wat geld gebruik het, in die gesig gestaar, naamlik vervalsings. Die Chinese het hierdie probleem aangespreek deur om elke Jiaozi noot met spesiale kleure wat van verskillende plantpigmente gemaak is, te stempel en met die waarskuwing daarop dat vervalsers onthoof sal word.
Die fidusiêre geldstelsel
Alhoewel die Song Dinastie die eerste banknote vervaardig het, was dit nie die enigste ruilmiddel nie want munte was nog wyd in gebruik en was eintlik nog steeds die ruilmiddel wat meeste in gebruik was. Dit was eers met die oorname van die Mongole onder Geghis Khan se kleinseun die Kublai Khan, wat die eerste heerser van die Yuan Dinastie was, wat papiergeld die hoofgeldeenheid geword het.
Marco Polo was totaal verstom toe hy hierdie gebruik van papiergeld vir die eerste keer in China gesien het. Hy beskryf dit so:
“Al hierdie stukkies papier word met dieselfde erns en outoriteit oorhandig asof dit van suiwer goud of silwer gemaak is. Op elke stukkie papier moet die amptenare wat hiervoor verantwoordelik is, hul name en seëls aanbring, waarna die hoofamptenaar die Khan se rooi seël op die noot afdruk om dit outentiek te maak. Enigeen wat hierdie note vervals sal om die lewe gebring word. Die Khan laat elke jaar ‘n groot hoeveelheid van hierdie geld, wat hom niks kos nie, maar wat seker gelykstaande aan al die skatte op Aarde is, vervaardig.
Met hierdie stukkies papier, doen hy al sy betalings in al die koninkryke, provinsies en gebiede waaroor hy heerskappy het. En niemand, ongeag hoe belangrik hy homself ag nie, mag hierdie papiergeld, uit vrees vir pyn of dood, weier nie. Inderdaad, almal aanvaar hierdie papiergeld met graagte, en waarookal mens in die Groot Khan se ryk reis, sal mens hierdie stukkies papier in gebruik sien en mens sal enigiets hiermee kan koop asof dit munte van suiwer goud is.
Verder, alle handelaars van Indië en ander lande wat goud, silwer, edelstene of pêrels saambring, word verplig om dit aan geeneen buiten die Keiser te verkoop nie. Hy het twaalf kenners wat hy vir hierdie taak aangewys het – uitgeslape manne met talent en ervaring wat hierdie items waardeer waarna die Keiser hulle mildelik met daardie stukkies papier vir hulle ware betaal. Die handelaars aanvaar sy betaling met dank, want hulle sal nêrens anders so ‘n goeie prys vir hulle ware kry nie, en tweedens, is daar geen wagtydperk nie. Hulle is ook verseker dat hulle met die keiser se papiergeld enigiets enige plek in die Keiser se ryk kan koop, terwyl dit soveel ligter as muntstukke is om op hul reise te vervoer.
Die Keiser koop so ‘n magdom kosbare goed elke jaar dat sy rykdom eindeloos groot is, terwyl die geld wat hy vir die ware betaal hom in werklikheid niks kos nie. Daarbenewens kondig die Keiser verskeie kere per jaar in die stad af dat mense wat goud, silwer, juwele of pêrels het, dit na die munt kan bring waar hulle ‘n goeie prys daarvoor sal kry. Mense is angstig om dit te doen, want hulle weet dat niemand anders vir hulle so ‘n goeie prys sal kry nie. Die mense verkoop groot hoeveelhede skatte op hierdie wyse en diegene wat verkies om nie hul skatte te verkoop nie, word nie vervolg nie. Op hierdie wyse kom bykans al die skatte in die land in die besit van die Keiser.
Wanneer die stukkies papier op een of ander manier beskadig word of van al die gebruik uitgerafel raak, hoef die eienaar dit slegs na die munt te neem en, as hy bereid is om 3% van die waarde daarvan in te betaal, kry hy ‘n nuwe een in ruil. En as enige baron of enigeen anders ‘n behoefte het om goud of silwer of edelstene of pêrels te bekom om vir homself plate of gordels of so iets te laat maak, hoef hy net na die munt te gaan waar hy dan daardie items met sy papiergeld kan koop.
Nou weet jy hoe en hoekom die Groot Khan meer skatte as al die ander konings in die wêreld het.”
Dit was ook die begin van die fidusiêre geldstelsel (en maggies, moes ek soek om hierdie term op te spoor! Orals kom ek op die term Fiat Money en in Nederlands Fiduciair Geld af, maar die enigste Afrikaanse verwysings na fidusiêr wat ek op die internet kon opspoor was in regsdokumente en kennisgewings. Selfs in die Wikipedia-artikels oor geld en die ontstaan van geldstelsels is daar geen verwysing hierna nie en in HAT en tweetalige woordeboek verskyn slegs die betekenis van die woord Fidusiêr en verwys nie spesifiek na ‘n geldstelsel nie).
Die fidusiêre geldstelsel word nie deur ‘n kommoditeit soos silwer of goud of gars gerugsteun nie. Dit is ‘n geldstelsel wat ongeag die feit dat dit geen intrinsieke waarde het nie, deur die regering as die enigste amptelike ruilmiddel verklaar word. Die waarde van fidusiêre geld hang heeltemal van die geloof daarin en mekaar en die regering af. Jy glo basies dat die stuk papier (of geweefde plastiek deesdae) soveel werd is as wat dit sê, jy glo dat ander mense in jou land ook so sal dink en laastens glo jy dat die regering nie besig is om jou te verneuk nie – soos om die waarde daarvan agter jou rug te verander.
Die eerste banknote wat in die sewende Eeu nC in China gebruik was, was ook die eerste fidusiêre geld in die wêreld. Hierdie tipe geldstelsel het eers in die 20ste eeu die verteenwoordigende geldstelsel wêreldwyd vervang.

In die sewentiende Eeu was bewerpelse as ruilmiddel in die Franssprekende deel van Kanada gebruik. Franse munte was al hoe meer in aanvraag soos wat die kolonie uitgebrei het, maar munte was skaars. Uiteindelik het hulle ‘n geldkrisis in 1685 bereik toe soldate hul lone moes ontvang, maar daar nie genoeg geld was om hulle te betaal nie. Jacques de Meulles, die hoof van finansies in die kolonie het toe ‘n slim plan beraam. Hy het al die speelkaarte van die soldate gekonfiskeer ‘n geldwaarde agterop geskryf en sy naam daar geteken. Hierdie kaartgeld is deur almal vanaf soldaat tot kruidenier aanvaar. Vir jare daarna, wanneer munte skaars geword het, het die kolonie weer na kaartgeld teruggekeer. Die kaartgeld was eers teen 1757 met banknote vervang.
Mens moet egter onthou dat meeste van die geld in die ekonomie veronderstel is om deur banke geskep te word wanneer hulle geld uitleen, en nie deur die Notemaatskappy se drukpers nie. Soos wat jy die geld wat die bank jou geleen het (met rente) terugbetaal, verdwyn die elektroniese geld wat die bank geskep het.
Hiperinflasie
Die aanvaarding van die fidusiêre geldstelsel gaan gepaard met sekere gevare en een daarvan is hiperinflasie. ‘n Fidusiêre geldstelsel verloor sy waarde as die regering nie meer die waarde van die geldeenheid kan waarborg nie.
Hiperinflasie het al verskeie kere in verskeie lande gebeur – die een waarmee ons meer algemeen bekend is, is Zimbabwe, maar Zimbabwe moet tweede plek in die hiperinflasie-kompetisie tevrede wees.
Hongarye het die ergste geval van hiperinflasie ter wêreld, na die Tweede Wêreldoorlog, ervaar. Die regering het note met net al hoe groter sigwaarde gedruk soos wat die situasie vererger het. Die Hongaarse geldeenheid in daardie tyd was die Pengő. Naderhand was banknote gedruk met woorde soos Milpengő, of M.Pengő wat ‘n miljoen Pengő was, Bilpengő, of B.Pengő wat ‘n biljoen Pengő was, net sodat hulle nie al die nulle op die papier hoef te gedruk het nie.

Die honderdmiljoen Bilpengő is ‘n noot van 100 000 000 000 000 000 000 Pengő werd was – kyk – daar is ‘n hele ses nulle meer as in die Zimbabwiese honderd triljoen dollar noot en is die Zimbabwiese honder triljoen dollar noot nie die noot met die grootste sigwaarde wat ooit gedruk is soos wat baie mense dink nie. Natuurlik het die Hongare geweet dat ‘n biljoen 1 000 000 000 000 is, en nie 1000 000 000 nie, want soos almal buiten Amerikaners en Zimbabwiërs weet, is 100 000 000 ‘n miljard en nie ‘n biljoen nie en dan is ‘n triljoen mos 1 000 000 000 000 000 000 en nie 1 000 000 000 000 wat ‘n biljoen is nie.
Die hiperinflasie het so hand uit geruk dat pryse binne 15 uur verdubbel het en dat die Pengő 90% van sy waarde in vier dae verloor het. Uiteindelik was daar note van tot soveel as 100 miljoen biljoen, of 100 quintiljoen, of 1020 Pengő uitgereik wat ongeveer 20 Amerikaanse sent werd was. Ek weet nie waar die storie vandaan kom dat die honderd triljoen Zimbabwiese dollar die noot met die grootste sigwaarde is wat ooit gedruk is nie.
Hiperinflasie het ook in 1932-1933 in Duitsland onder die Weimar regering plaasgevind. Ironies is dit nie die ergste voorbeeld van hiperinflasie nie, maar daar was baie fotos ten tye van hierdie ramp geneem en dit is hoekom ek dit hier gebruik. Die hoofrede vir die hiperinflasie in Duitsland het reeds in 1921 na die Eerste Wêreldoorlog begin. Duitsland was verarm na die oorlog maar hulle moes ‘n bykomstige 132 biljoen goue mark aan die lande wat die oorlog gewen het as skadevergoeding betaal. Terselfdertyd was hulle deur hierdie lande gebiokot en het gesukkel om geld te kry om hulle skuld te betaal. Duitsland het toe oorsese geld teen enige prys aangekoop om hul skuldlas te delg wat hulle swak geldeenheid net verder verswak het. Soos hulle geldeenheid waarde verloor het, het die regering eenvoudig net nog meer note gedruk en sodoende hul geldeenheid net nog verder verswak.

Op die hoogtepunt van die hiperinflase was een Amerikaanse dollar een triljoen Mark werd. In Januarie 1932 het ‘n brood 250 Mark in Duitsland gekos, teen die einde van die jaar het dit 200 miljoen Mark gekos, uiteindelik in 1933 het ‘n brood een biljoen (of soos die foto sê ‘n duisend miljard) Mark gekos.

Die Mark het so verwater dat die papier waarop dit gedruk was, meer werd was as die sigwaarde daarop. Dit beteken dat mens die note as papier kan gebruik – met ander woorde mens gebruik minder papier om die note op jou mure te plak as wat jy met note muurpapier kan koop. Met ander woorde die volume papier in die note is meer as die volume van muurpapier wat jy daarmee kan koop. Wat mens natuurlik laat dink aan toiletpapier. Dit sal goedkoper wees om hierdie verwaterde note as toiletpapier te gebruik as wat jy daarmee toiletpapier moet gaan koop.

Die hiperinflasie het eers gestop toe die Papiermark met die Rentenmark vervang is.
Kinders gebruik bondels note as boublokkies tydens die hiperinflasie wat die Weimar Republiek in 1932-1933 getref het.

‘n Vrou in Duitsland in 1932 koop ‘n kool met die note wat sy in ‘n mandjie daar aangedra het.

‘n Vrou gebruik waardelose papiergeld om haar koolstoof aan die gang te kry.
Nou klink daardie mielie-idee vir Zimbabwe se geldkrisis skielik nie meer so simpel nie, nê?
