Die vreemde verhaal van die Metrieke Stelsel
François Durand
Pas na ek gebore is, het Suid-Afrika Ponde, sjielings en pennies met Rand en sent vervang, en toe ek op laerskool was, het ons van die imperiale stelsel van myle, jaarts, voete, duime, ponde, onse, greine, galonne en pinte na meters, gramme en liters oorgeskakel. Ek het dus al van kleins af aan hierdie mates gewoond geraak, maar die een ding wat ek tot vandag toe nog oorgehou het, was om mense in voete en duime te meet. Ek kan nou nog nie gewoond raak aan die feit dat 6 voet dieselfde as 1.83 meter is nie, en ek het al agtergekom dat baie mense wat na die 1970’s gebore is, wat maak asof hulle nie voete en duime verstaan nie, glad nie vir jou kan wys hoe lank iemand is van byvoorbeeld 168 cm of 152 cm is nie.
Die Franse Revolusie (14 Julie 1789 – 8 November 1799) was nie sommer net ‘n opstootjie nie – dit was aan die een kant die uiting van ‘n onderdrukte mensdom se aandrang op menseregte, vryheid en gelykheid, maar aan die ander kant was daar ook ‘n herbesinning oor waardestelsels. Die Franse Revolusie het wêreldwyd, maar veral in die Westerse beskawing, ‘n geweldige impak gehad en het wêreldwyd talle sosiale, ekonomiese, politieke en wetenskaplike veranderings ingelui.
Tydens die Franse Revolusie was die feudale monargiese stelsel met ‘n republiek van vrye burgers vervang. Dit het elke burger gelyke regte gegee en ‘n onafhanklike regstelsel, algemene stemreg, ‘n regverdige belastingstelsel en beroepsvryheid in plek gestel. Dis die mooi en edele deel van die storie, die res is nogals afstootlik organies.
Daar was geweldige vergrype, wreedheid en arbitrêre vervolgings wat die Franse Revolusie gekenmerk het. Die aanvanklike geregverdigde gegriefdheid van die grootste deel van die bevolking, was gou deur geweldadige anargie vervang toe bendes bloeddorstige Jakobyne onder leiers soos Maximilien Robespierre ‘n slagting onder enigeen wat as teen-revolusionêr beskou is, uitgevoer het – wat ingesluit het dat ongeveer 2% van die Franse bevolking in hegtenis geneem is en waarvan 17 000 onthoof is. Tydens die Jakobynse skrikbewind het hulle ook die meer gematige leiers van die revolusie soos Brissot, Danton, Hébert en Desmoulins terreggestel. Na die Thermidoriaanse magsoorname was die leiers van die Jakobynse skrikbewind naamlik Robespierre, De Saint-Just en Couthon ook om die beurt onthoof. Hierdie chaos stop eers op 9 November 1799 toe generaal Napoléon Bonaparte homself tot eerste konsul en staatshoof verklaar en die revolusie beëindig het en ironies later homself as keiser verklaar. Die Franse het dus hul koning se kop afgekap en later met ‘n keiser (wat nie behoorlik Frans kon praat nie – want hy was van Korsikaanse herkoms) vervang.
Alhoewel geskiedenisboeke regtig die Franse Revolusie goed dek en diep morele lesse daaruit voorhou, is daar ‘n paar punte wat minder goed gedek word: naamlik dat die Europese lande in afgryse na die gebeure in Frankryk gekyk het en wat tot die Koalisieoorloë (1792-1815) gelei het waartydens talle Europese lande die republikeinse Frankryk van alle kante af aangeval het om onder andere hul gebiedsuitbreiding te keer en om die Franse monargie weer die beheer van die land te stel. Dis dieselfde lande wie se burgers vandag die leuse van: “Vryheid, Gelykheid en Broederskap” aanhang en die Franse Revolusie ophemel.
Aangesien mense geweldig op die sosio-politieke aspekte van die Franse Revolusie fokus, sien hulle maklik die betrokkendheid van filosowe en wetenskaplikes voor en tydens die Franse Revolusie oor die hoof.
Een van die mikpunte van die revolusie was om die kerk se inlvoed op die gemeenskap te verminder. Weens die meer as ‘n duisend jaar-lange sameswering tussen die kerk en monargie om die massas te onderdruk en te manipuleer, was daar was ook met die revolusionêre verwerping van die Ancien Regime, ‘n skeiding van die staat en kerk ingestel. Een van die dorings in die vlees was dat kerklikes, wat tot op daardie tydstip bo die wet verhef was, gedwing was om aan die grondwet trou te sweer. Die Jakobyn Jacques Hébert het egter Christene begin vervolg en kerke gesluit. In Mei 1794 word die Christelike geloof in Frankryk verban en met die “Kult van Rede” vervang.
In daardie tyd was daar ‘n skeikundige wat ‘n groot bydrae tot chemie en biologie gelewer het, naamlik Antoine-Laurent de Lavoisier (1743-1794). Hy het die elemente waterstof en suurstof ontdek en benoem, en het die eerste lys van chemiese elemente saamgestel. Hy het die rol van suurstof in verbranding ontdek en die element silikon se bestaan voorspel, bewys dat swael ‘n element en nie ‘n verbinding is nie en dat water ‘n verbinding is en nie ‘n element nie.

Lavoisier het ook fisiologie-eksperimente gedoen wat met asemhaling en die opname van suurstof en die uitaseming van koolsuurgas te doen gehad het. Hy het bewys dat die hitte wat ‘n organisme vervaardig, met die hoeveelheid koolsuurgas wat hy vervaardig, vergelyk kan word en dat asemhaling ‘n tipe verbrandingsproses is.

Lavoisier het die beginsel van allotropie ontdek wat beteken dat elemente in verskillende vorme kan voorkom soos toe hy onder andere ontdek het dat diamante ‘n vorm van koolstof is. Hy was ook die eerste persoon wat ontdek het dat, alhoewel materie van vorm kan verander, die massa altyd dieselfde bly. Lavoisier was in 1792 as die Direkteur van die Akademie van Wetenskappe van Frankryk aangestel waar hy deel van die kommitee was wat met die metrieke stelsel begin het.

Ongelukkig was Lavoisier ook ‘n lid van die adel en die gehate Ferme générale wat belasting vir die monargie ingesamel het. Hy was op 8 Mei 1794 onthoof na die regter Jean-Baptiste Coffinhal gesê het: “La République n’a pas besoin de savants ni de chimistes; le cours de la justice ne peut être suspendu.” (“Die Republiek het nie geleerdes of chemici nodig nie, die gang van geregtigheid kan nie langer uitgestel word nie”) en so het Lavoisier sy kop verloor drie maande voor die Coffinhal self, na die Thermidoriaanse magsoorname, syne verloor het. Die Italiaanse wiskundige en astronoom Joseph-Louis Lagrange het melankolies opgemerk: “Dit het die Franse net ‘n oomblik geneem om hom van sy kop te ontneem, maar ek twyfel of Frankryk binne die volgende eeu weer so ‘n kop sal voortbring”. Hy het nie na Coffinhal verwys nie.

Aan die ander kant van die politieke spektrum was Jean-Paul Marat (1743-1793). Hy was ‘n Franse politieke teoretikus, joernalis, dokter en ook ‘n wetenskaplike. Hy was een van die Jakobynse leiers tydens die Franse Revolusie. Marat se filosofiese publikasies sluit in Essay on the Human Soul (1771), A Philosophical Essay on Man (1773) en The Chains of Slavery (1774) (hierdie boeke was almal in Engels geskryf) en Plan de législation criminelle (1780).
Hy het navorsing op die behandeling van gonorree gedoen, en ‘n navorsingsreferaat: Enquiry into the Nature, Cause, and Cure of a Singular Disease of the Eyes in Engels gepubliseer. Hy was as hofdokter deur die Comte d’Artois, Louis XVI se jongste broer, aangestel. Marat het ‘n laboratorium in die Markies de l’Aubespine se huis ingerig waar hy wetenskaplike eksperimente kon doen. Hy het onder meer navorsing op elektrisiteit, lig, vuur en hitte gedoen wat gepubliseer is as: Découvertes de M. Marat sur le feu, l’électricité et la lumière (1779), Recherches Physiques sur le Feu (1780), Découvertes sur la Lumière (1780), Recherches physiques sur l’électricité (1782).
Dit is met sy navorsing op vuur waar hy ‘n stel met Lavoisier afgetrap het. In daardie tyd moes wetenskaplikes hul navorsingspublikasies voor die Akademie vir Wetenskappe voorlê om hul goedkeuring en dus institusionele en publieke aanvaarding daarvoor te kry. Mense kon natuurlik enigiets self publiseer, maar dit was as kredietwaardig beskou eers nadat die Akademie dit goedgekeur het. Marat het met 166 eksperimente gedink dat hy bewys dat vuur deur ‘n gewiglose, onsigbare, kleurlose, reuklose tipe vloeistof, wat in brandbare voorwerpe voorkom, veroorsaak en onderhou word (die flogiston teorie).
Die Akademie het hom met al sy goeie en vindingryke eksperimente gekomplimenteer, maar nie sy bevindinge goedgekeur nie. Marat het nogtans voortgegaan om sy bevindinge te publiseer met die stelling dat die Akademie sy navorsing goedgekeur het. Die direkteur van die Akademie, Antoine Lavoisier, het daarop aangedring dat die Akademie Marat se werk afkeur, wat die verhouding tussen Marat en Lavoisier versuur het, wat uiteindelik tot Lavoisier se teregstelling gelei het. Marat was uiteindelik in sy bad deur ‘n politieke opponent, die vyf-en-twintigjarige Charlotte Corday, met ‘n mes doodgesteek. Sy was nie ‘n wetenskaplike nie.

Alhoewel die Akademie vir Wetenskappe met die metrieke stelsel onder die direkteurskap van Lavoisier begin het, het die Franse Republiek met groot entoesiasme die metrieke stelsel ondersteun en uitgebrei, want dit het ‘n breuk met die imperiale stelsel en die Ancien Regime verteenwoordig. Hierdie entoesiasme met die wegdoen van die oue en die ophemeling van die nuwe het belaglike hoogtepunte bereik.
So is die ou kalender gedurende die Franse Revolusie uitgegooi en met hulle eie Calendrier Républicain Français as deel van die L’âge de raison (“Era van Rede”), vervang. Hulle het ook sommer besluit om alles so ver moontlik van Christelike verwysings te stroop en het toe met die Anno Domini jaartelling weggedoen en dit met die l’ère républicaine (“Republikeinse Era”) vervang. Hulle het besluit dat die Era van Vryheid op 14 Julie 1789 begin het toe die revolusionêres die Bastille bestorm het. Toe was daar afgekondig dat jaar 1 van die Era van Vryheid eintlik op 1 Januarie 1789 begin het. Die Eerste Franse Republiek was op 21 September 1792 gestig en toe was dit besluit dat dit eintlik Jaar 1 van die Franse Republiek sou wees. Toe die nuwe kalender deur die Konfensie van die Republiek in Oktober 1793 vergader het, het hulle egter besluit dat 22 September 1792 eintlik die eerste dag van Jaar 1 van die Era van Vryheid moes wees. Al was dit so bietjie verwarrend, was elke nuwe voorstel met entoesiasme aanvaar, want die alternatief was gesien as teen-revolusionêr en ons weet wat het met mense, wat as teen-revolusionêres beskou is, gebeur het.
Die nuwe Franse Republiek het toe selfs die kalender, dae, ure en tyd gedesimaliseer – die sewe- dag week is vervang met ‘n tien-dag week! Hulle het toe ook die kalender oorgeskryf en 12 maande van 30 dae elk geskep. Elke 30 dag maand was in 3 weke van 10 dae verdeel. Al klink dit hoe vergesog, was hierdie kalender deur die Franse regering en plekke onder Franse beheer soos in België, Luxemburg en dele van Nederland, Duitsland, Switserland, Malta en Italië, vir 12 jaar (1793 tot 1805) lank gebruik. Hierdie tien dag week het natuurlik ten doel gehad om onder andere ook die geloofskonnotasies met die weke van die dag te verwyder. Die dag was ook toe in 10 ure opgedeel met 100 minute per uur en ‘n honderd sekondes per minuut. Natuurlik was die ure, minute en sekondes langer as die wat ons ken.
Voor die Franse Revolusie was Romeinse eenhede vir gewig en lengte deur Europeërs gebruik. Die eenheid vir gewig wat gebruik was die pond van 16 onse, maar in sommige plekke 12 onse. Die eenheid van lengte was die voet wat in 12 duime gedeel was, waarvan elke duim verder in twaalfdes gedeel was. Die Engelse het die jaart gebruik wat 3 voet was, terwyl die Franse die toise gebruik wat 6 voet was.
Ongelukkig was dit ook nie die enigste verskille nie. Die Franse voet was langer as die Engelse voet! Die standaarde van mates was reeds in die 16de Eeu in Engeland vasgestel, maar in Frankryk was daar baie plaaslike verskille in mates wat ‘n nagmerrie was, wanneer handel tussen verskillende lande gedryf was – veral as daar in twaalfdes, sestiendes of watter breuke ookal gereken moes word, wanneer mense van een stelsel na die ander moes omskakel.
Die metrieke stelsel het slegs die desimale stelsel gebruik en daarvoor was die Arabiese posisionele getalstelsel gebruik. Die omskakeling van die grondtal twaalf na die grondtal tien het egter eers behoorlik in Europa in gebruik gekom nadat die Flaamse wiskundige Simon Stevin in sy boek De Thiende (1585) gewys het hoe om deur middel van die desimale punt die telstelsel en breuke wat in Europa in gebruik was, na die grondtal tien om te skakel en hoe om desimale getalle te gebruik. Hierdie boek was in Frans en Engels vertaal as Disme: The Art of Tenths (1608). Stevin het ook in die boek die omskakeling na ‘n desimale stelsel vir gewig, mates en geldeenhede aanbeveel.
Gabriel Mouton, ‘n priester van Lyon in Frankryk, wat ‘n kenner van astronomie en wiskunde was, het die verwarring in mates veroordeel en in 1670 voorgestel dat ‘n natuurlike maatstaf vir lengte, wat op die grootte van die Aarde gebasseer is, aangeneem moet word. Hy het voorgestel dat ‘n myl die lengte van ‘n geografiese minuut (‘n sestiende van ‘n lengtegraad) moet wees en dat dit in tiene, honderde, duisende ens. verdeel moet word vir die meer bruikbare allerdaagse mates wat mens gebruik om lengte te meet. ‘n Duisendste van so ‘n geografiese myl sal dan ‘n geografiese voet wees. Na ‘n aanvanklike aanvaarding en eksperimentering met hierdie nuwe eenheid het die entoesiasme daarvoor afgeneem toe daar nie tot ‘n besluit gekom kon word oor die onderverdeling van die eenheid in desimale teenoor breuke nie.
In 1789 publiseer Lavoisier die boek Traité élémentaire de chimie wat as die hoeksteen van moderne analitiese chemie beskou word. In die Engelse vertaling van Lavoisier se boek: Elements of Chemistry (1790), het die vertaler Robert Kerr, ‘n tabel vir die omskakeling van Franse mates na Engelse mates geplaas waar hy onse en greine na desimale van ‘n pond omskakel.

Voor die Franse Revolusie het die sosio-politieke misnoë van die mense, Koning Louis XVI genoop om die Nasionale Vergadering in Mei 1789 bymekaar te roep. Dit was die eerste keer in 175 jaar wat die Nasionale Vergadering vergader het. Een van die baie klagtes wat hulle moes aanhoor was dat die mense ongelukkig was, omdat daar nie een nasionale standaard vir gewig en lengte was nie. Die Akademie vir Wetenskappe het mense in 1789 aangestel om in die Kommissie van Gewigte en Mates te dien en in 1790 het die Nasionale Vergadering vir hulle die fondse geskenk om met hul werk voort te gaan.
Een van die lede van die Nasionale Vergadering wat met die projek bemoeid was, was Charles Maurice Talleyrand wat die konsep van lengte wat op die geografiese maatstaf gegrond is ondersteun het en dat die standaard vir volume op ‘n kubus van ’n breuk van daardie lengte gegrond moet wees. Hy het egter nie die desimale weergawe van daardie mates ondersteun nie. Tallyrand het egter voorgestel dat hierdie lengtemate iewers halfpad tussen die noordpool en die ewenaar geneem moet word, sodat dit ook internasionale steun sou kry.
Die 45ste lengtegraad, wat gerieflik (vir die Franse) oor die Franse kus naby die dorp Bordeaux strek, was toe gekies. Die Britte het geen belangstelling in hierdie voorstel getoon nie. Intussen het die VSA in 1785, pas na hulle van Brittanje onafhanklik geraak het, ‘n desimale geldstelsel aanvaar. Thomas Jefferson, wat soos Benjamin Franklin, ‘n groot belangstelling in wetenskap gehad het, het die voorstel om oor te skakel na ‘n desimale stelsel van lengte en gewig by die Kongres van die VSA in 1790 voorgelê, maar na ‘n lang bespreking het die Kongres besluit om by die Britse imperiale mates te bly. Uiteindelik was dit net Spanje wat aan die einde van die agtiende eeu die Franse hierin ondersteun het.
Jean Charles Borda, ‘n Franse ingenieur, navigator en ervare seeman, het op 16 Februarie 1791 met ‘n nuwe voorstel gekom, naamlik dat die eenheid van lengte ‘n een tienmiljoenste van die afstand van die noordpool tot die ekwator moet wees, eerder as ‘n sestiende van ‘n lengtegraad. Die beginsel was nog steeds dieselfde naamlik om die aarde as maatstaf vir lengte te gebruik, maar in sy voorstel gebruik mens van die begin af die desimale stelsel eerder as breuke van die geografiese lengtegraad wat op die grondtal sestig gebasseer is. Die Akademie het die voorstel op 19 Maart 1791 aanvaar asook die voorstel dat volume en gewig van hierdie mate afgelei moet word.

Die Franse meridiaan (wat deur die Franse voor die Engelse nulmeridiaan gebruik is) loop noord-suid deur Duinekerke op die noordkus van Frankryk, deur Parys en deur Barselona in Spanje. Die presiese breedtegradelesings tussen Duinekerke en Barselona was al vir lank bekend en as die afstand tussen hierdie twee punte presies gemeet kon word, kon mens die afstand van die noordpool tot die ekwator bereken – net soos wat Eratosthenes dit gedoen het toe hy die omtrek van die Aarde meer as twee duisend jaar vroeër bepaal het – maar hierdie keer met hoogs akkurate instrumente. Hierdie afstand, wat oorspronklik in lignes (‘n voor-revolusionêre Franse lengte) gemeet is, is deur 10 miljoen gedeel om vir ons die meter te gee. Die afstand van die ekwator tot by die Noordpool is dus 10 000 kilometer en die omtrek van die Aarde is dus 40 000 kilometer. Eratosthenes se berekening van 250 000 stadia, wat 40 008 kilometer is, was toe met 8 kilometer uit!

Die opmetery van hierdie afstand van bykans 1000 kilometers deur ‘n span landmeters, wat langer as ses jaar geduur het, was nie sonder voorval nie. In die aanloop en gedurende die Franse Revolusie, was hulle verskeie kere deur mense in veral landelike gemeenskappe geteister en soms selfs gevang en in die tronk gegooi en as teen-revolusionêre spioene aangekla. Een van hulle spanlede het van geelkoors, wat hy tydens sy opmeetwerk in Spanje opgedoen het, omgekom.
Die meter was van die Griekse woord metron (“mate”) afgelei, daarna was die voorstel van Claude Antoine Prieur, dat Griekse voorvoegsels deka-, kilo- ensovoorts vir meervoude van die meter, terwyl Latynse voorvoegsels soos desi- en milli- vir breuke van die meter, aanvaar is.
Daarna was ‘n kubieke desimeter as die eenheid van ‘n liter aanvaar en die gewig van ‘n kubieke sentimeter van water, met maksimum digtheid, was as ‘n gram aanvaar. Een liter water weeg dus een kilogram – en so is die drie hoofmates van volume, gewig en lengte van die omtrek van die Aarde afgelei.
Die aanvaarding van die nuwe sisteem van mates was in die wiele gery deurdat die Akademie van Wetenskappe in Julie 1793 onder revolusionêre beheer gekom het wat hul met hul bestuur en bevondsing ingemeng het. Nog ‘n ramp het die Akademie geskud toe hulle direkteur Levoisier saam met Borda en ander wetenskaplikes wat konneksies met die Ancien Regime gehad het, van die Kommissie vir Gewigte en Mate verwyder is, en veral toe Levoisier die jaar daarna terreggestel is. Die feit dat ‘n groot deel van Europa in oorlog met revolusionêre Frankryk vir jare daarna gewikkel was, het ook die aanvaarding van die metrieke stelsel vertraag.
Die Franse regering was egter entoesiasties om internasionaal aanvaarding vir hierdie bevindinge en aanbevelings te kry en het in 1798 ‘n uitnodiging na ander lande gestuur om hul wetenskaplikes te stuur om hierdie nuwe maatstawwe te kom inspekteer. Slegs Frankryk se vennote naamlik Spanje, Denemarke, Nederland, Switserland en sekere Italiaanse state se wetenskaplikes was verteenwoordig. Groot Brittanje, Rusland, Swede, al die Duitste state en die VSA het Frankryk egter geboikot. Ongeag die politieke tweespalt, kan dit nog steeds as die eerste internasionale wetenskapkonferensie beskou word. Die verteenwoordigers van die verskillende lande het akkurate ystermates van die nuwe metrieke stelsel saam met hulle na hul onderskeie lande geneem. Dit was egter lank voor die metrieke stelsel wêreldwyd aanvaar is, en selfs vandag nog is daar lande soos die VSA, Liberië en Myanmar (Burma) wat steeds die imperiale stelsel van myle, voete, duime, gallon, pond en die simpelste van alles – Farenheit – gebruik.
Die standaarde van die metrieke stelsel – die meter en die kilogram van platinum – was op 22 Julie 1799 met ‘n groot seremonie aan die Franse Nasionale Afgiewe oorhandig en op 10 Desember 1799 was ‘n wet afgekondig dat dit van dan af die enigste wettige mates vir lengte en massa sal wees wat in Frankryk aanvaar sal word. Ongelukkig het alles nie uitgewerk soos wat mense gedink het dit sou nie. Daar is ‘n groot verskil tussen sosiaal-politieke ideale en die werklikheid.
Die regering onder Napoleon se leiding het uiteindelik die onwerkbaarheid van die desimale kalender ingesien en na die oorspronklike kalender teruggeskakel, net soos wat hy uiteindelik moed opgegee het om die metrieke stelsel op die mense van Frankryk af te dwing, wat ondanks hulle geteem en geklaery daaroor, vir lank na al die pogings om die metrieke stelsel in te stel, nog steeds die Ancien Regime se maatstawwe gebruik het – net soos wat mense in Suid-Afrika nog steeds die ou straatname en dorpsname gebruik en mense in Namibië nog steeds Afrikaans praat.
Miskien moet ek my argaïese manier van die lengtebepaling van mense heroorweeg. Dit is nogals iets om vir iemand te kan sê dat hy of sy 1.84 veertig miljoenstes van die Aarde se omtrek is.
Naskrif:
Die Franse regering het ‘n jaar en ‘n half na sy teregstelling Lavoisier onskuldig verklaar en sy besittings aan sy weduwee terug oorhandig met ‘n nota: “Aan die weduwee van Lavoisier, wie onskuldig vervolg was.”
Die Rooms Katolieke Kerk het by monde van die Pous na 359 jaar die volgende gesê:
“Thanks to his intuition as a brilliant physicist and by relying on different arguments, Galileo, who practically invented the experimental method, understood why only the sun could function as the centre of the world, as it was then known, that is to say, as a planetary system. The error of the theologians of the time, when they maintained the centrality of the Earth, was to think that our understanding of the physical world’s structure was, in some way, imposed by the literal sense of Sacred Scripture….”
(Pous Johannes Paulus II, L’Osservatore Romano N. 44 (1264) – November 4, 1992)
Op die 400ste herdenking van die marteldood van Giordano Bruno, ‘n veelweter en Rooms Katolieke Priester wat gesê het dat die son ‘n ster is en dat daar ander planete rondom sterre wentel en dat daar lewe op daardie planete sal wees, het Kardinaal Sodano, die tweede hoogste ampsdraer in die Katolieke Kerk, erken dat Bruno aan die hand van die Inkwisisie ‘n verskriklike dood gesterf het wat voorafgegaan is deur marteling, en dat alhoewel die Katolieke Kerk dit vandag erg berou, ons moet verstaan dat dit die aanvaarbare gebruik van daardie tyd was. Hy het ook bygevoeg dat mense vandag nie die mense wat in daardie tyd Bruno veroordeel het, moet veroordeel nie, want die inkwisiteurs “had the desire to serve freedom and promote the common good and did everything possible to save his life.”
(Aangehaal uit: Seife, C. (2000). Vatican Regrets Burning Cosmologist. Nature, 1 Maart 2000)
