Hoekom het die week 7 dae?
François Durand
‘n Mens kan ‘n hele klomp vrae hieraan koppel soos:
Hoekom is daar nie ‘n tien-dag of ‘n vyf-dag week nie?
Is daar iets in die natuur wat in sewes kom?
Wie was die eerste mense wat die sewe-dag week gebruik het?
Hoekom is die dae van die week na heidense gode vernoem?
Die getal sewe is ‘n rare getal wat mens nie sommer in die natuur teëkom nie. Die eerste mense wat die sewe-dag week gebruik het was die Sumeriërs – waarskynlik dink ons so omdat hulle bloot die eerste kultuur was wat skrif gebruik het, wat ons in staat stel om daaroor te lees, maar dalk was daar mense voor hulle, wat reeds die sewe dag week gebruik het, maar wat dit nooit opgeskryf het nie.
Hoe dit ook al sy, die Sumeriërs het maande van 28 dae elk gebruik– en 28 gedeel deur 4 volgens die fases van die maan (nuwe maan, halfmaan, volmaan, halfmaan) gee mens natuurlik 7 dae (min of meer, want ‘n maanmaand is 29.5 dae lank en ‘n kwart daarvan is 7.375 dae).
Natuurlik het die Sumeriërs ook skeppingsdae en gode gehad. Hulle het baie gode gehad, maar die hoofgode in hulle pantheon was:
Utu – god van die son en geregtigheid,
Nanna – godin van die maan en wysheid,
Anu – god van die uitspansel,
Enki – god van water en menslike kultuur,
Enlil – die hoofgod wat ook die lug en storms beheer,
Inanna – godin van voortplanting, skoonheid,
Ninurta – god van vrugbaarheid en die aarde en oorlog – wat baie interessant is. Om land te hê om op te boer (wat alles met die aarde en vrugbaarheid te doen het), moet jy dit vir jouself kan vat en teen ander verdedig – wat natuurlik alles met oorlog te doen het. Die woord vir oorlog in Sanskrit (‘n ander ou Antieke taal wat van 1200 vC dateer) is gavisti, wat letterlik “die begeerte vir meer koeie” beteken.
Sewe speel ‘n baie belangrike simboliese rol in die kultuur van die Antieke Midde Oosterse volke. Sewe word met die goddelike verbind, wat dan natuurlik die rede is hoekom elke weeksdag na ‘n god vernoem is. In die Gilgamesh Epos word daar vertel dat Utnapishtim ‘n boot gebou het om die saad van alle lewe te neem om hulle teen ‘n vloed wat die gode gestuur het om die Aarde te vernietig, te red. Dit het vir ses dae en ses nagte aanmekaar gereën en op die sewende dag opgehou. Alles buiten die wesens op die boot het verdrink. Die boot het op die berg Nisir (in Irak) gestrand waar hulle vir ses dae gewag het. Op die sewende dag het Utnapishtim eers ‘n duif uitgestuur, maar dié het teruggekeer, want daar was nog geen land wat bo die water uitgesteek het nie. Daarna het hy ‘n swaeltjie uitgestuur, maar dié het ook teruggekeer. Eers toe hy ‘n raaf uitgestuur het, en dié nie teruggekeer het nie, het die wesens die skip verlaat. Utnapishtim het ‘n offer ter ere van die gode in sewe plus sewe (of sewe maal sewe) potte gebring. Daarna het die godin Inanna (Ishtar in Assiriese en Babiloniese weergawes van die storie) vir die mens haar halssnoer van lapis lazuli, ametis en amber, wat daarna die reënboog genoem is, as geskenk gegee. En dis maar een van die baie Sumeriese, Akkadiese en Babiloniese stories waar die getal sewe in voorkom.
Ishtar (mens spreek dit terloops soos easter uit), wat die Assiriese en Babiloniese eweknie van die godin van fertiliteit was, was in die lente van die noordelike halfrond (gewoonlik op Sonewening op 20 Maart) herdenk. Haar simbole was heel verstaanbaar eiers en hasies. Sjokolade kom egter van Meso-Amerika en was eers na Columbus die Amerikas ontdek het, na Europa uitgevoer, maar dis ‘n storie vir anderdag.
Die Jode het ook op hierdie kulturele druk van al die beskawings om hulle gereageer. Die een kenmerk wat die Jode bo al die ander volke laat uitstaan het, was die feit dat hulle ‘n enkele, onsienbare deïteit aanbid het eerder as ‘n pantheon van deïteite. Niks kan dit beter uitbeeld as die menorah wat volgens die voorskrifte in die Bybel ‘n kandelaar is wat sewe kerse het nie. Die menorah is die simbool wat hulle religie kenmerk – in plaas van sewe belangrike gode wat alles in die skepping beheer, het hulle een.

Een van die goed wat my die meeste van hierdie storie fassineer is dat vanaf die Sumeriërs se tyd hierdie gode wat hul name aan die weeksdae verleen het, ook met die hemelligame binne die sonnestelsel, wat mens met die blote oog gesien kan word – met ander woorde die Son, Maan, Venus, Mars, Mercurius, Jupiter en Saturnus – verbind word. Dus was Utu die god geregtigheid die son. Nanna, die godin van wysheid, was die maan. Anu, die god van die uitspansel, was deur Mars verteenwoordig. Mercurius was Enki, die hoofgod, wat ook die lug en storms beheer. Venus was Inanna die godin van voortplanting en skoonheid. Satrunus was Ninurta die god van vrugbaarheid, die aarde en oorlog.
Deur die millenia het tale en kulture en religieë met mekaar meegeding vir oorlewing en heerskappy, maar regdeur almal van Sumerië, Akkadië, Babilonië, Persië, Grieks, Romeins, tot Germaans het almal hul gode met hul spesifieke en meestal dieselfde kenmerke in hierdie hemelligame en weeksdae gesien. Hierdie konneksie tussen die gode, die dae en die planete laat my dink – hoeveel weeksdae sou ons gehad het as daar ses in plaas van vyf planete met die blote oog sigbaar van die Aarde was?
In die berge en woude van die noorde van Europa het die Germane ook natuurlik hulle eie gode gehad. Die invloed van die Romeine het aan die grense van hulle gebied en kultuur oor ‘n duisend jaar weggeknaag. Die naam van Germanië kom juis van die Romeinse veroweraar Germanicus wat die oorwonne gebied na homself vernoem het. Oor die eeue heen het die Germaanse stamme een na die ander uiteindelik onder die Romeinse druk geswig al was daar grootse veldslae waar hulle die Romeine ‘n afgedankste loesing gegee het – soos die slag van die Teutoburgerwoud in 9 nC, waar Herman drie legioene Romeine (22 000 soldate) in ‘n enkele veldslag uitgewis het.
Uiteindelik het hierdie Germaanse stamme een vir een Romeins geword in gewoontes, godsdiens en soms selfs taal – soos in die geval van die Franke. Vandat die Germaanse stamme verslaan is, het hulle Romeinse burgers geword. Dit beteken ook dat hulle mans, van die ouderdom van 20 tot 40 jaar oud, Romeinse soldate moes word en het Germane langs hul Latynsprekende Italiaanse en Spaanse ewenknieë in oorloë geveg – Herman was juis so ‘n soldaat wat uiteindelik teen sy meesters gedraai het.
Daar was dus ‘n kulturele kontinuum geskep waarlangs baie van die Romeinse taal, gebruike en godsdiens (naamlik die Christendom) na die Germane deurgevloei het. Die laaste strooi wat die Westelike Romeinse Ryk as politieke mag, se rug gebreek het, was die skielike instroming van honderde duisende Germane van die noorde wat voor die Hunne van die ooste, weggevlug het. Die Romeinse kultuur, taal, waardestelsel en Christelike geloof het egter oorgebly en het in die Germane wat die Romeinse Ryk binnegeval het oorleef.
Die groep wat die langste teen die Romeinse druk kon uithou was natuurlik die Germaanse stamme van die Skandinawiese lande, want hulle was die verste weg van Rome. Hulle het tog uiteindelik geswig – eers die Dene, toe die Swede en laastens die Noorweërs. ‘n Samesmelting van gedagtes het egter in hierdie proses van akkulturasie plaasgevind. Die name van die weeksdae is ‘n voorbeeld van hierdie samesmelting – al die weeksdae het baie spesifieke name, waarvan sommige soos Sondag en Maandag reeds vir duisende jare in gebruik is. En wat van die ander – veral ‘n naam soos Saterdag? Saterdag is na Saturnus, ‘n god in die Romeinse pantheon vernoem. Maar wat van die ander weekdae? Hulle is na die Germaanse gode vernoem!

Koning Karel die Grote (Charlemagne in Engels en Frans, Carolus Magnus in Latyn, Karl der Große in Duits) was deel van die Karolingiese dinastie wat oor die Frankiese Ryk van die 8ste tot die 10de eeu regeer het. ‘n Belangrike feit om te onthou is dat die Franke Germane was! Alhoewel hierdie dinastie van Germaanse herkoms is, het hulle halsoorkop die Romeinse kultuur aangeneem, aangehang en op die mense waaroor hulle geregeer het, afgedwing. Sodoende het hulle van die belangrikste kulturele bydraes van die Romeine, eeue na die val van die Westelike Romeinse Ryk, laat herleef en oorleef. Karel was so Romeins-behep dat hy selfs as ‘n Romeinse keiser – kaalgesig, met lourierblaar-kransie en al op munte uitgebeeld is. Die vulgêr-Latyn wat hulle gepraat het en behoorlik opgemoesh het met hulle Frankiese dialek, het mettertyd in Frans ontwikkel.

Karel se loopbaan het as koning van die Franke vanaf 768 begin, hy word toe ook koning van die Lombarde (of Langobards – “Lang Baarde”, ‘n Germaanse stam wat Italië oorgeneem het) vanaf 774nC en toe die keiser van die Romeine vanaf 800 nC. Sodoende het hy die westelike en sentrale deel van Europa onder sy heerskappy verenig. Die Arabiese Peninsula of al-Andalus (Andalusië) was egter in daardie tyd nog onder Arabiese beheer. Karel die Grote was die eerste keiser in Europa na die val van die Westelike Romeinse Ryk en aangesien hy ook die eerste Christelike keiser in westelike Europa was, het sy ryk as die Heilige Romeinse Ryk bekend gestaan.

In die noorde van die ryk was daar egter heidense Germaanse barbare – die Saksers – wat nog in Odin, Donar, Freyr, Heimdal, Tyr (verskoon my Laelandse aksent) en baie ander gode geglo het. Hulle het niemand gepla nie en het hoofsaaklik as boere, jagters en vissers hul bestaan gemaak. Daar was ook nie ‘n hoofstad of belangrike konings nie en die gehuggies wat daar was, was deur heemrade of ‘n stamhoof bestuur. Hulle was egter baie gesteld op hulle vryheid en het vanaf die eerste eeu reeds teen die Romeine geveg, en vanaf die 6de eeu met met die Franke wat hulle heeltyd bedreig het. Hulle was gedugte vegters – trouens hulle stamnaam is van hulle wapen, die saks, afgelei.

Die struwelings oor grondgebied tussen die Saksers en die Franke was op die spits gedryf toe Karel die Grote besluit het om finaal Saksonië in die Frankiese Ryk in te sluit. Die doelgerigtheid van Karel die Grote om sy wil op die Germane af te dwing moet nie onderskat word nie. Dit het die gewonge kerstening van die heidense Germane ingesluit. Na dekades se militêre optredes besluit hy om die Irminsul – ‘n heilige boom in die Teutoburgerwoud wat vir die Germane ‘n belangrike geloofsimbool was – in 772 nC af te kap. Die hoogtepunt van die Frankies-Saksiese oorlog was toe duisende Saksers na ‘n lang en bloedige slag in Verden in Oktober 782 nC uiteindelik hulself aan die heelwat groter Frankiese weermag oorgegee het. Karel die Grote het beveel dat 4 500 Saksers onthoof word en dat die verslane leier van die Saksers Widukind gedoop moet word – en so het die Saksers deel van die Heilige Romeinse Ryk, of te wel Christene, geword.
Die Saksers het egter vanaf die vyfde eeu ook in Engeland gaan vestig. Hier kon hulle hul man teen die inheemse stamme van Engeland staan en uiteindelik oor groot dele van Engeland heers. Hierdie Angelsaksers was egter deur Deense Vikings vanaf die negende eeu binnegeval en later deur die Normandiërs (Franssprekende Viking-nasate) in 1066 oorgeneem. Al hierdie groepe was uiteindelik geassimileer in wat ons die Engelse volk ken. Deens en Frans het egter nie in hierdie smeltkroes die oorhand gekry nie – die hooftaal was steeds Oud-Engels wat uit Saksies ontstaan het. Oud-Engels het uiteindelik in Engels ontwikkel en alhoewel Engels erg deur Latyn beïnvloed is, is meeste van hulle woorde en grammatika nog steeds Germaans.
Die weeksdae se name is ‘n duidelike voorbeeld van hierdie samesmelting van kulture:
| Sumerië | Grieks | Romeins | Angelsaksies | Deens | Afrikaans | Hemelliggaam |
| Utu | Helios | Sol | Sunnandæg | Sondag | Sondag | Son |
| Nanna | Selene | Luna | Mōnandæg | Mandag | Maandag | Maan |
| An | Ares | Mars | Tīwesdæg | Tirsdag | Dinsdag | Mars |
| Enki | Hermes | Mercurius | Wōdnesdæg | Onsdag | Woensdag | Mercurius |
| Enlil | Zeus | Jupiter | Þūnresdæg | Torsdag | Donderdag | Jupiter |
| Inanna | Aphrodite | Venus | Frīgedæg | Fredag | Vrydag | Venus |
| Ninurta | Cronos | Saturnus | Sæturnesdæg | Lordag | Saterdag | Saturnus |
In 1793, het die Franse revolusionêre magte besluit om alle imperialistiese nonsens, wat hulle die Ancien Régime genoem het, by die deur uit te gooi – soos voete, duime, jaarts en sommer ook hierdie sewe-dag week twak. Die voete, duime en jaarts was op een of ander koning se voet, duim en treë gegrond, en soos almal weet, was adel na die Franse Revolusie so ‘n voet korter as meeste mense en was hulle nuttigheid as maatstawwe verby.
En so sommer terwyl die Franse revolusionêre die baba met die badwater uitsmyt, gooi hulle sommer die ou kalender uit wat volgens hulle ook deel van die Ancien Régime was en vervang dit met hulle eie Calendrier Républicain Français ook bekend as die Calendrier Révolutionnaire Français.
As deel van die Franse revolusionêre waan dat hulle besig was om die wêreld te herskep en die L’âge de raison (Age of Reason) daar te stel het hulle begin om alles so ver moontlik te verontchristelik en het toe weggedoen met die Anno Domini jaartelling en dit met die ‘l’ère républicaine’ of die Republikeinse Era vervang. Hulle het besluit dat die Era van Vryheid op 14 Julie 1789 begin het toe die revolusionêres die Bastille bestorm het. Toe was daar afgekondig dat jaar 1 van die Era van Vryheid eintlik op 1 Januarie 1789 begin het. Die Eerste Franse Republiek was op 21 September 1792 gestig en toe was dit besluit dat dit eintlik Jaar 1 moet wees. Toe die nuwe kalender deur die Konfensie van die Republiek in Oktober 1793 vergader het, het hulle egter besluit dat 22 September 1792 eintlik die eerste dag van Jaar 1 van die Era van Vryheid moes wees. Dit was so bietjie verwarrend, maar mens wil nie juis met revolusionêres stry nie.
Aangesien die revolusionêres alles vars en nuut, vry van die smet van die Ancien Régime se reëls en waardes, wou oordoen, is die desimale stelsel op die been gebring. Hulle het toe selfs die kalender, dae, ure en tyd gedesimaliseer – die sewe- dag week is vervang met ‘n tien-dag week! Hulle het toe ook die kalender oorgeskryf en 12 maande van 30 dae elk geskep. Elke dertig-dag maand was in 3 weke van 10 dae verdeel.
Hierdie lawwe kalender was deur die Franse regering en plekke onder Franse beheer soos in België, Luxemburg en dele van Nederland, Duitsland, Switserland, Malta en Italië, vir 12 jaar (1793 tot 1805) lank gebruik. En net so wispelturig as wat hierdie revolusionêres se besluite was, so relevant was hulle kalender. Die regering onder Napoleon se leiding het uiteindelik die onwerkbaarheid van hierdie kalender ingesien en na die oorspronklike kalender terug geskakel.
Die punt van hierdie storie is dat daar wel op ‘n tyd ‘n tien dag kalender was. Die sewe dag kalender het egter gewen en dit is hoekom ons na duisende jare nog steeds ‘n week met sewe dae het wat na allerande gode vernoem is, ons het nog steeds hemelligame wat na daardie gode vernoem is (en omdat ons Romeins is, het die planete nog steeds Romeinse name) – want al verander tale, kulture en religieë bly die mens maar net ‘n mens wat tussen sentiment en vrees vir die onbekende vasgevang is.
