Die ware landskap is een van rots (Andries Bezuidenhout)

I
Ons weet julle kan nie Voël praat nie, sê die voëls,
nie enige dialek van Tiptols, Hoogtortel of Hadidees nie.
Nee, al is julle in hoë takke hoor julle nie wat ons fluit-fluit nie
of ons storie nie, want dis nie ons wat uit is nie.
Kyk hoe dans hulle op drum beats. Onbewus van Nonnetjiesuile
wat oorhoofs luister. Dis ‘n tweeter, dis ‘n bass bin
wat skel na bo, stamp na onder en ons nie hoor nie
selfs al bly julle stil, want ons weet
julle kan nie ‘n woord Voël verstaan nie.
II
Ons weet julle kan nie Boom praat nie, sê die bome,
nie Hardekools, Maroelees of Wes-Akasia nie.
Ons waai julle nader, trek ons skouers op
maar julle stel net in skaduwee belang.
Hoor hoe sing en snaar hulle. Daai is ‘n houtkitaar
wat hy sy axe noem. Hy chop en riff, hy saag
maar waag nie om te luister na wat ons sê nie
selfs al bly hy stil, want ons weet
julle kan nie ‘n enkele sin Boom verstaan nie.
III
Ons weet julle kan nie Klip praat nie, sê die klippe,
nie Oergneis, Rotsigs of Platskalie nie.
Ons voel die bass drum beats in ons riwwe.
Julle spring en polka en slaan soms op ons neer
maar ons is nie didaktiese klippe nie
ons praat nie preke nie, maar wou tog waarsku
want ons is die langste al hier en verstaan nou al Voël en Boom.
Voëls lewe die kortste en bome effe langer
met julle iewers tussenin. Gebruik miskien die tyd
om Voël en Boom se woordeskat te leer
want spesies gaan soos tale dood en mettertyd
is al wat aanhou klop maar net ‘n klip en nog ‘n klip
en nog ‘n klip en nog ‘n klip.
– Andries Bezuidenhout –
