Die Menslike Dieretuin

Die wêreld - verstaanbaar, kosbaar, noodsaaklik.

Die Menslike Dieretuin

November 25, 2022 Lesings en Publikasies 0

Die Menslike Dieretuin

Klik hier om meer uit te vind oor DIE MENSLIKE DIERETUIN

 

Bestellings:

https://naledi.co.za/product/die-menslike-dieretuin/

Of bel Tertia Swart by Naledi 078 648 8616

Hier is ‘n voorsmakie van die onderwerpe wat in hierdie unieke boek bespreek word:

 

En jy dog jy is alleen

Jou vel krioel van follikelmyte – sowat ʼn miljoen van hulle – en maak nie saak hoe jy daarvoor gril en hoe hard jy van hulle probeer ontslae raak nie, hulle gaan nêrens heen nie.  Dus, voordat jy nou in die stort spring en met ʼn borsel en seep jou lyf begin skrop, weet net dat hulle bloot rondom jou haarwortels wegkruip totdat die aanslag verby is.

Bedags kruip follikelmyte in jou haarfollikels weg en voed op die bakteriebesmette sebum wat deur die sweetkliertjies rondom jou haarwortels afgeskei word en op velselle.  Maar snags, wanneer jy rustig word, kruip hulle uit die haarfollikel uit, en loop stadig op jou gesig rond, waar hulle paar en na nuwe haarfollikels versprei om daar te voed en hul eiers te lê.

Follikelmyte kom hoofsaaklik op die gesig voor en veral op en rondom die neus, die wimpers en die wenkbroue, maar kan ook orals anders op die lyf voorkom waar daar hare is.  Die volwasse myte is slegs sowat ʼn derde van ʼn millimeter lank.

Oorspronklik was die groot getalle follikelmyte wat soms op die gesigte van mense wat aan erge aknee lei, daarvoor geblameer, maar dit blyk dat die follikelmyte waarskynlik bloot hulle bes doen om die bakteriebesmette sebumsekresies vir hul eie, en dus die akneelyer, se voordeel te benut en dat hulle nie die oorsaak daarvan is nie.  Sebum bevat voedsame olies, maar bakterieë bevat noodsaaklike proteïene en ander voedingstowwe wat nodig is vir die follikelmyte se voeding.

Lees meer hieroor en die ander diere wat so gesellig in en op jou leef in Hoofstuk 2 van Die Menslike Dieretuin.

 

Stof is jy …

Oral waar jy loop, sit en lê, val daar vlokkies vel van jou af en bedek alles – jou klere, die beddegoed, stoele, matte, tafels, vloere, kos – letterlik alles.  Velvlokkies maak ‘n groot deel van huisstof uit.  Gelukkig is daar diertjies wat ons help om van al hierdie velle wat oral rondlê ontslae te raak – die stofmyte.

Eintlik verdwyn die velvlokkies nie heeltemal nie – dit word in myte, mytvelle en mytmis omskep.  Stofmyte het selfs ʼn spesiale ensiem wat velvlokkies verteer.

Bykans elke huis op die planeet is met stofmyte besmet, en bykans elke bed wat ʼn paar maande oud is, sal stofmyte in hê.  Enige kontak met mense en huisdiere van buite, sal stofmyte na jou en jou omgewing oordra en hulle sal deur elke oop venster en deur na binne warrel.  Ons het egter ʼn paradys vir verskeie spesies stofmyte geskep toe ons tekstiele ontdek het en klere begin dra het en huise met komberse, matrasse, kussings, matte, meubels en kos begin bewoon het.

Alhoewel stofmyte nie slegs of hoofsaaklik op mense bly nie, krioel hulle onvermydelik oor jou waar hulle op jou velvlokkies wei.  Mens haal ook onvermydelik hul vervellingsdoppe en mis met elke asemteug in.  Wanneer ʼn mens deur ʼn vertrek loop, warrel die mytmis, eiers en vervellingsdoppe in die lug op waar dit vir ure sal ronddryf en mettertyd weer op die vloer en meubels sal neerdaal.  Selfs as mens net iewers op ʼn bank sit, of op ʼn bed lê, of iewers staan, veroorsaak die hittegolwe van jou lyf ʼn stroom warm lug wat opwaarts trek en die vervellingsdoppe, eiers en mis verby jou neus laat warrel waar jy dit dan inasem.

Die ensiem wat stofmyte gebruik om jou velvlokkies te verteer – tropomiosien – kom in die mis voor – wat mens inasem en waarvoor mens allergies kan word.  Stofmyte word ongeveer twee tot drie maande oud en in daardie tyd sal ʼn wyfie ongeveer 60 tot 100 eiers lê (gemiddeld twee per dag) en 2 000 verteringsensiembevattende misbolletjies vervaardig en nog baie meer half-verteerde verteringsensiembedekte velvlokkies nalaat.  Hierdie verteringsensieme word vrygestel sodra dit met ʼn nat oppervlakte kontak maak – soos jou neus, keel en longe.

Tropomiosien kom ook in garnale voor en dit blyk dat mense wat allergies vir stofmyte is, moontlik vir seekos ook allergies word.  Jarelange blootstelling aan stofmyte sensitiseer sekere mense se immuunstelsel vir tropomiosien en wanneer daardie persoon skielik aan reusehoeveelhede hiervan blootgestel word, wanneer hulle seekos eet, kan dit ʼn hewige allergiese reaksie tot gevolg hê wat selfs die persoon se dood kan veroorsaak.

Lees meer hieroor en ander lewensbedreigende organismes wat in en op jou woon in Hoofstuk 3 van Die Menslike Dieretuin.

Die oudste geskrewe sin bekend

Skrif het ongeveer 5200 jaar gelede in Mesopotamië en Egipte ontstaan.  Skrif was oorspronklik beperk tot piktogramme – met ander woorde prentjies wat woorde gesimboliseer het soos ‘n prentjie van ‘n huisie of ‘n mannetjie ens.  Dit was eers later wat alfabette soos wat ons dit ken waar die simbole klanke, of foneme, simboliseer ontstaan het.

Presies wanneer die prentjies na simbole van klanke oorgeskakel het is nog onseker omdat daar so min argeologiese bewyse van hierdie spesifieke relatief kort tydperk bestaan.  Een van die bewyse hiervan is die Egiptiese heriogliewe wat van piktogramme na simbole vir klanke heraangewend was.  Aanvanklik was daar gereken dat dit so ongeveer 3800 jaar gelede gebeur het, maar mettertyd het argeoloë ontdekkings gemaak wat daarop dui dat alfabette reeds rondom 4300 jaar gelede in gebruik was.  Ongelukkig is hierdie geskrewe letters wat ontdek is baie kort en kripties en niemand kon bepaal wat dit eintlik beteken het nie.

Dit is hoekom die ontdekking van ‘n hele sin, so belangrik is.  Die lettertjies van die sin, wat tussen 1 en 3 mm breed is, wat versigtig op die kant van hierdie ivoorkam uitgekrap is, lui: “Mag hierdie tand van die luise in jou hare en baard ontslae raak”.  Hierdie ontdekking wat deur Yosef Garfinkel van die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem en sy kollegas by Tel Lachish in 2016 gemaak is, is na berekening ongeveer 3700 jaar oud.  Dit wys ook vir mens hoe belangrik parasiete en die bestryding daarvan, vir die mensdom van die vroegste tye was.

Lees meer oor luise in Hoofstuk 7 van Die Menslike Dieretuin.

Die wêreld se voorste vlooikenner: Charles Rothschild

Baron Charles Rothschild (1877 – 1923) was ‘n Britse bankier

Charles Rothschild en sy befaamde bankmagnaat-familie word voorgehou in regse, anti-Semitiese kringe as deel van die Illuminati – ‘n sinistere groep mense wat die sogenaamde geldmag opmaak wat die wêreld se ekonomie, politiek, oorloë en selfs die weer beheer (Nirappil, F. & Schwartzman, P. (2018). “D.C. lawmaker who said Rothschilds control the climate also said they control the federal government”. The Washington Post. Retrieved March 19, 2018).

Maar as mens verby die spekulasie en anti-Semitisme kyk staan daar ‘n feit soos ‘n paal bo water – Charles Rothschild was sekerlik die wêreld se grootste vlooi-kenner!  Hy het onder meer: die grootste vlooiversameling ter wêreld opgebou met ‘n versameling van meer as ‘n kwart miljoen vlooie – wat meer as driekwart van die bekende vlooispesies ter wêreld ingesluit het.  Hy het meer as 500 vlooispesies ontdek en benoem en hy het die oorsaak van Builepes ontdek wat die dood van 75 miljoen tot 200 miljoen mense veroorsaak het – die Builepes-vlooi (Yersinia pestis).

Die Builepesvlooi (Yersinia pestis)

Mens wonder waar hierdie man, wat so ‘n uitmuntende bioloog, entomoloog en parasitoloog was, nog die tyd gekry het om die bose poppemeester te wees wat die wêreld se banke, ekonomie, politiek, oorloë en selfs die weer te beheer – en dit alles voor die ouderdom van 46.

(Lees meer oor vlooie en hul dinge in Hoofstuk 11 van Die Menslike Dieretuin)

 

Die mikrobioom

Daar is sowat 100 triljoen bakterieë, fungi en ander goed wat in ‘n persooon se spysverteringstelsel leef, en die diversiteit van hierdie organismes is verstommend:  daar is byvoorbeeld tussen 500 en 1000 bakteriespesies in jou dermkanaal!  Daar is egter ‘n voortslepende oorlog tussen veral die bakterieë en gisse vir lewensruimte en toegang tot voedingstowwe.  Dan is daar ‘n miljoene virusse in jou derms wat spesifiek die bakterieë teiken en sodoende help om hulle in toom hou.

Hierdie spul mikro-organismes en dié wat op jou vel leef, vorm saam die mens se mikrobioom.  Hierdie mikrobioom kan uit maklik soveel, indien nie meer, selle bestaan as wat jou liggaam opmaak.  ‘n Mens is dus so half mens en half mikro-organismes, maar hierdie mikro-organismes is nie normaalweg skadelik nie, hulle leef bloot binne jou en doen hulle eie ding.  Of so het ons oorspronklik gedink.

Dit het egter onlangs aan die lig gekom dat die dermmikrobioom nie slegs voordelig vir ons is nie, maar lewensnoodsaaklik is.  Die dermmikrobioom vervaardig vitamien B en vitamien K, hormone en senuweeoordragstowwe.  Ongeveer 90% van die liggaam se serotonien en die helfte van die liggaam se dopamien word deur die dermmikrobioom gevorm!

Maar wanneer die dermmikrobioom met preserveermiddels, medisyne, alkohol, suiker en stysel, veral koring, beduiwel word, kan mens disbiose ontwikkel.  Die simptome van disbiose is diarree, maagkrampe, hardlywigheid, gasserigheid en slegte spysvertering.  Vetsug, suikersiekte, veelvuldige sklerose, kolorektale kanker, outisme, depressie, angs en beroerte word deesdae aan disbiose verbind.

Oorspronklik, toe mense nog jagter-versamelaars was, was mense se dermmikrobiota baie meer divers as wat dit vandag is.  Die groot agteruitgang van ons dermmikrobiota het plaasgevind toe ons 10 000 jaar gelede grane as stapelkos begin eet het.  Dit het aanleiding gegee tot ʼn groot klomp siektetoestande wat die Westerse lewenswyse kenmerk, onder andere suikersiekte, vetsug, depressie en allergieë.

Uiteindelik, wanneer jy doodgaan, skakel jou immuunstelsel af en onderdruk nie meer die mikrobioom nie.  Die mikrobioom wat jou oorspronlik aan die lewe gehou het, tree dan as die lyksbesorger op wat vir die aftakeling en die vrystelling van jou molekules, verantwoordelik is, en dit dan so weer vir die res van die ekologie beskikbaar stel.

Lees meer hieroor en die ander lewensbelangrike organismes wat in en op jou leef in Hoofstuk 13 van Die Menslike Dieretuin.

Die parasiet wat meeste in mensbreins voorkom

Toxoplasma dring onder andere selle in rotte en muise se breins binne en veroorsaak dat hulle gedrag jeens katte verander.   Die parasiet veroorsaak dat rotte en muise hulle vrees vir katte verloor en nie deur die reuk van katuriene afgesit is en plekke waar katte voorkom vermy nie.  Die rotte en muise sal dan vreesloos voor katte rondloop wat dan hulle maklik vang.  Die onderliggende rede hiervoor is dat die parasiet slimmer as die knaagdiere of die kat is.  Die parasiet moet weer binne die kat se dermkanaal kom om daar geslagtelik voort te plant terwyl hulle ongeslagtelik in die knaagdiere voortplant.

Hierdie parasiete het die vermoë om binne sekondes in jou selle in te dring en hulle is so klein dat hulle binne ‘n sel soos selorganelle kan leef.

Oorspronklik het ons gedink dat Toxoplasma net knaagdiere se gedrag so affekteer, tot navorsers ontdek het dat Toxoplasma wat die breinselle indring waar dit met die produksie van senuweeoordragstowwe erg beïnvloed.   Alhoewel meeste mense nie duidelike simptome toon nie, word daar bereken dat tussen ‘n derde tot helfte van die mensdom daarmee besmet is.

Daar is nou ‘n verband tussen toksoplasmose en depressie, skisofrenie, aggressie, swak impulsbeheer, verslawende gedrag, angs, posttraumatiese versteuring, obsessief-kompulsiewe gedrag, psigose, bipolêre gedragsversteuring, selfmoord, Alzheimers en sekere tipes epilepsie gevind.   Swanger vrouens wat toksoplasmose opdoen kan die baba verloor of dit kan veroorsaak dat die baba met brein-, oog-, oor- en velskade gebore word.  Daar is nie ‘n manier hoe mens al hierdie probleme kan regverdig omdat mens katjies oulik vind nie.  En die ergste is dat die kateienaar nie haar kat se patologiese gedrag vir haarself hou nie, maar dat sy dit vrylik met almal om haar deel want Toxoplasma kom in katmis voor en katte loop rond.  ‘n Mens kry egter dit nie net van katsand in katbokse nie, maar ook in die grond, of van ongewaste groente uit jou groentetuin en die kinders se sandput wat die buurvrou se kat as toilet gebruik.

(Lees meer van hierdie enkele grootste parasietprobleem wat die mensdom teister in Hoofstuk 14 van Die Menslike Dieretuin).

Rondewurms: vriend of vyand?

Miljarde mense is met een of ander rondewurm besmet.  Die mees algemene rondewurmspesies wat mense parasiteer is die dermrondewurm, die sambokwurms en haakwurms.

Mens sluk maklik dermrondewurmeiers wat orals in die grond voorkom waar besmette mense bly.  Die eiers is maar ‘n vyf honderste van ‘n millimeter in deursnee, so niemand sal jou blameer dat jy dit nie raakgesien het nie.  Natuurlik sal mens nie net een eier op ‘n slag inkry nie – ‘n wyfie dermrondewurm kan soveel as 27 miljoen eiers in haar uterus hê waarvan sy ongeveer 200 000 per dag lê.

Na die eiers in jou derms beland het ontwikkel hulle tot larwes wat deur jou dermwand boor, in jou bloedstroom tot by jou longkapillêrbed reis, deur die selle en tot in jou longe boor, waar jy dan dit tot in jou keel ophoes en dan hulle weer insluk waar hulle tot volwassenheid in jou derms ontwikkel.

En hier kan hulle tot amper ‘n halfmeter lank word.  Dit is erg om te dink dat daar ‘n honderd van hierdie wurms in jou derms rondkrioel waar hulle poef eet en paar en eiers lê en self poef.  Trouens dit is so erg dat ons dadelik ‘n anti-wurm pilletjie drink sodat ons met rustige gemoed aan ons allergieë kan verstik.

Want sien, dermrondewurms wat meeste mense geen werklike skade doen nie, skei ook ‘n proteïen af wat mens teen allergieë beskerm.  Allergieë kom meeste onder mense met ‘n Westerse lewenswyse voor, wat ook die bevolking met die minste rondewurmparasiete is.  Mense wat in die wildernis leef het rondewurmparasiete maar geen allergieë nie.

Erge rondewurm-besmetting

Ons dermsappe hou dermrondewurm-populasies in toom.  Dermrondewurms, soos enige ander parasiet, word eintlik slegs ‘n probeem wanneer ons immuunstelsel weens siekte verswak raak, en dan kan mens die stryd teen hulle verloor.  En dis nie asof hulle jou opvreet of iets soos dit nie, maar bloot so aanwas dat hulle die pasiënt se derms so verstop dat kos nie kan deurvloei nie.

(Lees meer oor dermrondewurms in Hoofstuk 18 van Die Menslike Dieretuin)

error: Content is protected !!