6. Groenwassery
GROENWASSERY
François Durand
Groenwassery (greenwashing) of groenpoetsery1 is bedrog wat deur maatskappye, organisasies en regerings gepleeg word wanneer hulle valse, misleidende of onvolledige verklarings oor die volhoubaarheid van hul aksies, diens, beleid of produkte maak.
Soos wat die mensdom meer bewus raak van Klimaatsverandering en die ineenstorting van die ekologie, spandeer gewetenlose organisasies, besighede en regerings miljarde dollars om deur groenwassery hul produkte, aksies of dienste as omgewingsvriendelik te bemark of word as rookskerm gebruik om kritiek van die publiek of verbruiker af te weer.
‘n Goeie voorbeeld van groenwassery in Suid-Afrika is die regering se sogenaamde kommer oor steenkool-verbrandende kragsentrales en hul skynbare entoesiasme om alternatiewe bronne van energie soos windkrag en fotovoltaïese kragsentrales, terwyl Suid-Afrika een van die grootste uitvoerders van steenkool na Indië en China (die eerste en derde grootste kweekhuisgas-vrystellers ter wêreld) is. Die steenkool wat ons plaaslik in ons kragsentrales verbrand is ‘n fraksie van die hoeveelheid steenkool wat ons na China en Indië uitvoer om daar in kragsentrales verbrand word.
Soms word baie subtiele pogings om produkte as omgewingsvriendelik te bemark aangewend soos om verpakking met ‘n growwe, onverwerkte tekstuur te gebruik of groen blare of ‘n etiket waarop RECYCLED staan iewers op verpakking te sit. Soms verskyn die woorde CARBON NEUTRAL of ENERGY SAVING iewers op ‘n produk of advertensie.
Alhoewel die term “Greenwashing” vir die eerste keen in 1986 deur die Amerikaanse omgewingsaktivis Jay Westerveld gebruik is, kom dié verskynsel reeds vanaf die middel 1960’s voor toe mense hul besorgdheid oor steenkoolverbranding, uitlaatgasse en die vernietiging van die ekologie begin uitspreek het.
Tipes groenwassery2:
Verswygde kompromieë
Hierdie tipe groenwassery kom heel meeste voor (ongeveer 57% van die gevalle). Dit kom voor wanneer maatskappye, organisasies of regerings positiewe uitsprake oor hul produkte, dienste of aksies maak, maar die groter negatiewe impakte daarvan verswyg. ‘n Voorbeeld: vegetariërs glo dat mens nie diere moet eet nie en dus eet hulle groente. Een van hulle grootste besware teen rooivleis is dat beeste as herkouers metaangas uitbraak en dat metaangas ‘n erge kweekhuisgas is en dat vegetariese dieët dus meer volhoubaar is. Maar die groente word ongelukkig op plase verbou waar die ekologie grootskaals uitgewis is en waar gifstowwe en kunsmis gebruik word wat die ekologie nog verder impakteer en ordes meer diere doodmaak as ‘n enkele vry-weidende bees wat eerstens die grasveldekologie vir so lank as wat dit geleef het aan die gang gehou het en met sy dood tientalle mense kon voed en daarby uit die res van die karkas skoene, gom, jellie, verf, kosmetiese produkte ens. vervaardig kon word. Die organiese komponent in afvalhope (wat vir 20% van mensgemaakte metaangas verantwoordelik is) kom hoofsaaklik (97%) van groente, vrugte en graangewasse af. Dan moet mens nog die metaangas van kunsmis en verottende plantmateriaal en rysvelde, wat op plase vrygestel word, bytel. Dus as somme eerder as groenwassery vir jou belangrik is, is dit logies dat jy eerder vleis sal eet (mits dit vrylopende beeste in die grasveld is en nie voerkraal beeste wat mielies gevoer word nie), as jy die ekologie wil red. Onthou dat beeste net soveel metaangas as die bokke en buffels en bisons, wat oorspronklik op die grasvelde gewei het, produseer en terwyl hierdie herkouers ‘n noodsaaklike deel van die graslandeklologie uitmaak, ‘n landery van mielies of broccoli nog nooit voordelig vir die ekologie was nie. (In ‘n volgende artikel sal ek oor die metaangas-probleem gesels).
Ontbrekende bewyse
Dit is die tweede grootste tipe groenwassery (ongeveer 26% van die gevalle). Hierdie tipe groenwassery vind plaas wanneer ‘n maatskappy of organisasie verklarings oor volhoubaarheid uitreik wat nie bevestig kan word nie. ‘n Voorbeeld hiervan is die stellings dat ‘n persentasie van ‘n produk uit herwonne materiaal bestaan, terwyl daar geen bewys daarvan is nie.
Plastiek-hout word wêreldwyd verkoop. Daar word beweer dat dit van 100% herwonne plastiek gemaak en omdat dit waterdig is word dit vir dekplanke en tuinmeubels gebruik. As mens aanvaar dat hierdie plastiekhout werklik uit herwonne materiaal gemaak is en nie uit nuwe plastiek nie, dan moet mens die ekologiese koste van die versamelingproses en die prossessering van die plastiek inreken. Maar die werklike probleem is dat die prosesseringsproses die plastiek aan hitte blootstel wat dit verder op mikroskopiese vlak degradeer en in plaas van om daarvan ontslae te raak, hierdie plastiek ‘n tweede kans kry om mikroplastiek in die omgewing versprei.
Vae bewerings
Hierdie tipe groenwassery, wat ongeveer 11% van die gevalle opmaak, kom voor wanneer Soos in die geval van Boeing UK wat beweer het dat hulle 75g koolsuurgas per passasier-kilometer minder vrystel terwyl hierdie getalle slegs waar sou wees as die vliegtuie permanent 100% vol was.
Irrelevante bewerings
Hierdie tipe groenwassery, wat ongeveer 4% van die gevalle opmaak, kom voor wanneer bewerings gemaak word wat op die oog af goed en reg klink, maar eintlik irrelevant en betekenisloos is. Advertensies wat byvoorbeeld beweer dat hulle produkte CFK (chlorofluoorkoolstof)-vry is, maak hulle aan hierdie tipe groenwassery skuldig aangesien CFK’s reeds vir dekades verban is.

Vals etikettering
Meer as helfte van die sg. groen produkte het etikette op wat suggereer dat die produkte omgewingsvriendelik is. Dikwels sal die etikette of verpakking woorde soos ECO-, of ENVIRONMENT, of ENVIRONMENTALLY FRIENDLY ophê. Dit beteken natuurlik niks nie, maar sal liggelowige kopers flous dat die produk omgewingsvriendelik is.
Die mindere van twee euwels
Hierdie tipe groenwassery kom in ongeveer een persent van die gevalle voor waar bewerings gemaak word wat omgewingsvriendelik klink maar wat irrelvant is en wat nie werklik ekologiese voordele inhou nie. Soos om te verwys na omgewingsvriendelike karre, plastiekbottels of gif wat minder giftig as sekere ander karre, plastiekbottels of gif is, maar nog steeds ‘n geweldige groot negatiewe impak op die natuur het.
Blatante leuens
Hierdie tipe groenwassery kom in minder as een persent van die gevalle voor. Verkopers van palmolie beweer dat dit oliepalms meer olie per hektaar kan lewer as sonneblom, soja of grondboontjies en dat dit minder gifstowwe, kunsmis en energie verbruik en dat dit dus die meer volhoubare opsie is. Hulle verswyg egter die verwoestende effek van ontbossing waar duisende vierkante kilometer se reënwoude in Suid-Amerika, Afrika en Suidoos Asië afgekap word om plek te maak vir palmolie-plantasies. Ongeveer helfte van die ontbossing wat in Suidoos Asië plaasvind is vir palmolie-plantasies. Dit bedreig die voortbestaan van talle reënwoud spesies.
Groenwassery is maar net een van die euwels waarmee ons in hierdie tyd van Klimaatsverandering geteister word. Gewetenlose mense misbruik juis die publiek se poging om die regte ding, ten opsigte van volhoubaarheid te doen, om sodoende geld uit hulle te maak.
Bronne:
- Brand, H. (2021). “Groenpoetsery”: Wanneer “groen praat” en “groen doen” nie by mekaar aansluiting vind nie. Litnet, Menings, 2021-05-17.
- TerraChoice (2010) The sins of greenwashing: home and family edition. http://sinsofgreenwashing.org/findings/the-seven-sins/.
